|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2013
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
“Soos ’n wildsbok smag na
waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God.”
(Ps. 42:2-3) As mens honger is na iets, as jy iets baie graag wil hê, as jy
’n “craving” het na iets, dan oorheers dit jou gedagtes en maak jy allerlei
planne om daai begeerte te bevredig. Op dieselfde manier behoort ons ’n
hunkering en smagting na die Here te hê. Soos wat ’n dorstige persoon in die
woestyn net begaan is daaroor om water in die hande te kry, behoort ons
alles in die stryd te werp om die Here “in die hande te kry”, om meer van
Hom te weet, om ’n dieper belewenis van Sy teenwoordigheid te hê. Wees
honger daarvoor om Hóm die eerste en belangrikste plek in jou gedagtes,
begeertes, planne en keuses te maak. ~ Wilna |
|
Van Abraham word daar in Rom 4:20 gesê: “No unbelief or
distrust made him wafer concerning the promise of God, but he grew strong
and was empowered by faith as he gave praise and glory to God. ”Ek het
besluit om hierdie as my 2014 vers aan te neem. Ek sien hierin ’n drie-punt
plan waarvolgens ek die nuwe jaar wil aanpak: (1) bly glo en vertrou God
100% met elke aspek van my lewe, my gesin, my werk en bediening (2) moenie
ophou om God te prys en te eer met woorde, lied en lewenswyse nie (3) laat
my geloof in God drie-enig my krag, sterkte en hoop wees en mag dit elke dag
toeneem. ~ Wilna |
|
E-kerk
se Kernkrag vandag:
My ma
het graag gesê:
“Dis nie aldag Kersfees nie.”
Sy was reg. Nou lê daar weer ’n volle 365 dae voor onderweg na die volgende
een. Inderdaad, maar ons het nie regtig 25 Desember nodig om die boodskap
van Kersfees te vier nie. Jesus is die ware inhoud van hierdie dag... en van
elke ander dag wat God ons hier op aarde gun. Ons is nie van amptelike
godsdienstige feesdae afhanklik om God se reddingsdade in herinnering te
bring nie. Anders gestel, Kersfees gebeur ook op 26 Desember, en op elke
ander dag. Jesus is die Kind uit die hemel wat die Here is van elke fees wat
ons aanlê. Ook is Hy aanwesig by elke doodgewone dag in ons lewe. Ons mag
Jesus nie wegpak saam met al die Kersversierings en Kersmusiek tot en met
volgende feesgety nie. Jesus laat Hom in elk geval nie wegpak nie. Hy laat
Homself nie tem of makmaak tot ’n Kersfees-Jesus nie. Hy is die Here. Daarom
is Hy aanwesig by elke dag wat die naam vandag dra. ~ Wilna |
|
“Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by
haarself daaroor nagedink.” (Luk. 2:19) Toe ek weer die Kersverhaal in Luk.
2 lees, het hierdie my opgeval. Ek het besluit dis wat ek hierdie Kersfees
wil doen. Alles wat gesing en gesê word oor die geboorte van Jesus, oor die
rede vir sy koms, oor die wonder van sy liefde, ens. wil ek in my hart
bewaar en vir lank nog daaroor nadink. Al die Kersfees wense wat mense vir
my gee, wil ek oordink en bewaar in my gedagtes, sodat dit my die hele jaar
met vreugde en blydskap kan bly vul.
~ Wilna |
|
“Jesus
kind, lank verwag ... word uit liefde aan mense gelyk” – mooi woorde uit die
ou bekende Kersfeeslied, Stille Nag. Jesus het mens geword! Hy het sy troon
en sy kroon in die hemel prysgegee en Homself verneder, die gestalte van ’n
slaaf aangeneem, onder ons kom woon, gelyk geword aan ons (vergelyk Fil.
2:6-8). Hy het dit gedoen, sodat Hy in óns plek die straf vir die sonde kon
dra, sodat ons verlos, vrygespreek en vergewe kan wees. Sodat ons die lewe
in oorvloed kan hê, nou en vir ewig. Juig die Redder is dáár!
~ Wilna |
|
“Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan
ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees:
Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. Sy
Koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring.” (Jes.
9:5-6, Die Boodskap) Hoe wonderlik is hierdie boodskap nie. ’n Profesie wat
in vervulling gegaan het toe Jesus gebore is. ’n Profesie wat elke Kersfees
opnuut weer ’n realiteit in ons as Christene se lewe word. ’n Waarheid wat
my elke dag van die jaar moed en hoop gee. Daar is vir ons ’n Kind gebore!
~ Wilna |
|
Dis amper Kersfees en oral is skitterende liggies wat
ons daaraan herinner. Daai liggies herinner my ook aan Joh. 1:9 wat sê: “Die
ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Ja, dis Jesus
se geboorte waarvan hier gepraat word. Die ware Lig het mens geword sodat Sy
strale vir ewig op ons kon val, sodat ons nooit weer in die donker hoef te
wees nie. Die ware Lig het die duisternis finaal kom oorwin. “Voor U ryk
moet die duisternis swig,” sing ons in Stille Nag. “Op ’n ander keer het
Jesus vir die mense gesê: Ek is die lig vir die wêreld, wie My volg, sal
nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh.
8:12) Hy ís nie net die Lig nie, Hy het Sy lig ook vir ons gegee, sodat ons
soos ’n lamp op ’n hoë lampstander in die middel van ’n vertrek kan wees wat
Jesus se lig, warmte en liefde kan uitstraal. “Julle is die lig vir die
wêreld,” sê Jesus in Matt. 5:14. Kom ons skitter saam met die
Kersfeesliggies.
~ Wilna |
|
Baie keer beleef mense skuldgevoelens en
selfveroordeling oor sondes en verkeerde besluite van die verlede. Ons hoef
nie perfek te wees om vergewe te wees nie. As jy jou sondes bely en daarvan
wegdraai, sal die Here die res doen. Jesus het reeds die volle prys betaal
en Sy volkome vergifnis maak jou volkome vry. Verruil vandag jou
skuldgevoelens vir Sy onvoorwaardelike liefde en vind totale vryheid en
vrede. “Daarom steur ek my nie meer aan die verlede en al die dinge wat toe
skeef geloop het nie.” (Fil. 3:13, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“Ek weet wat ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat
goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle
hoop vir die toekoms moet hê.” (Jer. 29:11, Die Boodskap) Ten spyte van wat
hierdie teks sê, ervaar ons tog in ons lewe dat daar slegte goed met ons
gebeur. Ons hoop moet egter op Jesus Christus gevestig wees dat alles
nogtans vir ons ten goede sal uitwerk. Ons moet vertrou dat Hy in beheer is
van ons lewens. Ons moet glo dat daar met alles wat met ons gebeur wel ’n
hoër, Goddelike doel is. Ons moet met vertrou sê: Here, ek onderwerp my aan
die planne wat U vir my het.
~ Wilna |
|
“Ons word al meer verander om aan die beeld van
Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds
toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18) Ai, ontspan tog ’n
slag oor jou tekortkominge, jou foute en gebreke. Die Here het sy werk in
jou begin en Hy sal dit klaarmaak. Sy beeld en Sy heerlikheid sal al hoe
meer uit jou weerkaats word. Wees oorgegee aan Hom, geniet dit om jouself te
wees en vertrou Hom om jou te verander en te vernuwe.
~ Wilna |
|
“I will not in any way fail you nor give you up nor
leave you without support.” (Heb. 13:5) So dikwels oorval ’n gevoel van
moedeloosheid, van alleenheid, van swakheid, van vrees ons. Dit gebeur veral
wanneer ons op eie krag staatmaak of na mense kyk vir hulp en uitkoms.
Verskuif opnuut weer jou vertroue na die Almagtige Helper. Hy is daar vir
jou. Wanneer jy nie kan nie, kan Hy. Wanneer jy nie weet hoe nie, weet Hy.
Wanneer jy swak is, is Hy sterk. Wanneer jy raadop is, het Hy die wysheid.
Wanneer jy siek is, is Hy die Geneesheer. Wanneer jy klein en alleen voel
is, is Hy die ewige Vader wat versorg en voorsien. Hy sê: “I will not, I
will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let
you down.” (Heb. 13:5) Ek glo Hom!
~ Wilna |
|
“That I may have knowledge of Him.” (Fil. 3:10) Nadat
ek Sondag hierdie teks agterop iemand se T-hemp gesien het, het dit net in
my gedagtes bly maal. Al wat ek wens is om Christus te ken. Een ding wat ek
nou regtig wil hê, is om Christus te ken. Dit behoort my lewensdoel te wees,
alles behoort daarop ingestel te wees om Hom beter, dieper, intiemer, meer
persoonlik te ken. Ek wil ’n groter verstaan hê van die wonderlikheid van
Hom as Persoon, ’n duideliker beeld van Hom as Almagtige God, ’n dankbare
verwondering oor Hom as Verlosser, as Immanuel, as ewige Koning. “... om
Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8)
~ Wilna |
|
“... na waters waar rus is” (Ps.
23:2) Ons moet seker maak dat ons dikwels na die rustige waters van die Here
se teenwoordigheid gaan. Ons moet dit as ’n stil rusplek opsoek, sodat ons
die Here daar kan ontmoet, sodat ons daar ál ons aandag net aan Hom kan gee.
Sorg vir stilword-oomblikke deur die dag waarin jy jou gedagtes op die Here
kan rig. Lees miskien ’n Bybelgedeelte of inspirerende stukkie, bid, sing ’n
loflied, luister na ’n mooi aanbiddingslied of sit net in stilte. Só sal jou
siel verkwik word, sal vrede oor jou daal, sal jy wysheid en krag vind vir
die volgende tree van die dag. Iemand het gesê: “Silence can teach us more
in a moment than all the noise in the world ever could.”
~ Wilna |
|
Ek het dié vandag op e-kerk gelees:
“Na my man se dood het my lewe geen sin gemaak nie,”
vertel die tannie my. Toe gaan sy voort:
“Later
het ek ophou kosmaak en mooi aantrek. Op ’n dag loop ek deur ’n
winkelsentrum en kyk lusteloos na nuwe stowe wat mense by ’n stalletjie
verkoop. Uit die bloute vra die jong verkoopsman of ek van die stoof hou.
Toe ek begin wegstap, loop hy agter my aan,” vertel sy.
“Tannie,
hierdie stoof is tannie s’n.”
“Hoekom?”
“Tannie,
dit voel of die Here wil hê ek moet dit vir tannie gee,” antwoord hy.
Toe is die dame daar weg met n gratis, peperduur stoof. Asof uit die bloute
het die Here se vreemde genade daardie oggend haar lewe met nuwe hoop gevul.
"Nou lag ek weer," sê sy.
Soms is die lewe so hard soos klip. Dan maak niks meer sin nie. Tog vergeet
die Here nooit sy aardse eiendom nie. Hy ken ons diepste seer en grootste
alleenheid. Dan stuur Hy sy genade in verskillende vorms en verpakkings na
ons toe. Dikwels is ander mense die sigbare uitdrukkings hiervan. Wil jy nie
ook toelaat dat die Here jou as sy lewende noodhulp gebruik nie? Hy wil
graag iemand anders deur jou seën.
~ Wilna |
|
“Wees volmaak soos julle Hemelse Vader volmaak is.”
(Matt. 5:48) Hoe hard ek ook al probeer om volmaak te wees, maak ek steeds
die hele tyd foute. Om voortdurend te probeer om God en mense tevrede te
stel is ’n nimmereindigende stryd en kan frustrerend wees. “Teoreties” is ek
volmaak en heilig omdat Jesus vir my sondes gesterf het en ek Sy
volmaaktheid geërf het. Maar ”prakties” is ek nog daagliks op ’n groeipad,
“... growing into complete maturity of godliness in mind and character,”
(Matt. 5:48, The Amplified Bible). Gelukkig stap die Here die pad saam met
my en lei Hy my trappie vir trappie om meer en meer volmaak soos Hy te wees.
~ Wilna |
|
“Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees,
hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op
groen gras” (Miga 5:6) Ons weet hoe verfrissend ’n reënbui kan wees wanneer
alles vaal en vuil en verdor is. Ons weet watter groot verskil ’n lente-reën
aan ons hoëveldse winter-grasperke kan maak. Ons weet hoeveel vreugde ’n
kleurvolle blomtuin kan bring. Net so moet ons as Christene die wêreld om
ons verfris en verfraai en verbly. Ons kán, want ons het die Gees in ons,
die Gees wat ons geduldig, vriendelik, goedhartig, nederig en liefdevol maak
... mag jy vandag soos dou en ’n stortreën wees!
~ Wilna |
|
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot
volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:9) Heel dikwels fokus ons op
ons swakhede en tekortkominge. Dan hou ons sommer nie van onsself nie en
voel minderwaardig, onvergenoeg en kwesbaar. Geen menslike swakheid is egter
vir die Here ’n verassing nie. Die Bybel sê hy weet waarvan ons gemaak is.
Die positiewe ding van ons swakhede is dat dit ons dwing na Christus as
kragbron; dit leer ons om op Sy krag staat te maak en nie op ons eie krag
nie. Dit gee ons ’n nuwe lewens motto: as ek swak is, is ek sterk!
~ Wilna |
|
“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal
God sien.” (Matt. 5:8) Jesus was gewillig om die prys te betaal sodat ek
vergewe en vrygemaak en rein kan wees. Is ek nou gewillig om die prys te
betaal, keuses , aanpassings en opofferings te maak om ’n suiwer en rein
hart en opregte lewenswyse na te streef? Dit sál wel uiteindelik ’n seën
inhou. Skep vir my ’n rein hart, o God...
~ Wilna |
|
Wees bly op die dag van
voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het
God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie
(Pred 7:14)
~ Wilna |
|
Rom 8:37 - “Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Baie keer dink mens om oorwinnaar
te wees beteken om allerlei probleme en moeilike omstandighede te omseil, of
om die beste of eerste te wees. Ware oorwinning kom eintlik wanneer jy
stil-tevrede in jou binnekant kan wees te midde van ’n storm wat buite om
jou woed. Wanneer jy ten spyte van siekte, tragedie of terugslag steeds kan
sê: it is well with my soul. Dit is net moontlik as jy op die Here fokus en
nie op jou omstandighede nie. Ons is oorwinnaars “deur Hom”. Laat die Here
toe om jou innerlike te vernuwe en sterk te maak, dan sal jy “al hierdie
dinge” kan trotseer en oorwin.
~ Wilna |
|
In Matt. 11:29 sê Jesus dat ons Sy juk op ons moet neem.
Dit beteken dat ons bereid moet wees om langs Hom te loop, om vasgemaak te
wees aan Hom, om oorgegee te wees aan Sy leiding en Sy wil. Dit beteken dat
ons ons eie reg moet prysgee en Hom toelaat om die stuur oor te neem. Kyk
net wat sal die opbrengs vir ons wees as ons dit doen: “... you will find
rest (relief and ease and blesses quiet) for your souls” (Matt. 11:29,
Amplified Bible)Dis beslis die moeite werd!
~ Wilna |
|
Ps. 42:9 “U het golf na golf oor my laat slaan. Tog sal
die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied
vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe.” Al gaan dit hóé moeilik is
die Here steeds dáár, al lyk dinge hoe donker, is Hy steeds in beheer. Daar
is soveel voorbeelde van mense in die Bybel wat ten spyte van hulle
omstandighede nie opgehou het om lof aan die Here te bring nie. Dink maar
aan Job wat sê: “Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die Naam van
die Here.” Dink aan Paulus en Silas wat half doodgeslaan in die tronk sit en
steeds ’n loflied sing. Of Jona wat in die diepte van die see afgesak het en
terwyl golwe om hom slaan, sing hy ’n loflied tot God (Jona 2:9). Of Habakuk
wat ten spyte van groot onsekerheid sê: nogtans sal ek in die Here jubel!
Kom ons leer by hulle en laat nie toe dat ons omstandighede ons loflied aan
die Here uitdoof nie. Verbly jou in die Here!
~ Wilna |
|
“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook
moes rondtas om Hom te vind.” (Hand 17:27) Alle mense soek God! Hulle weet
daar is ’n Skepper, ’n Mag groter as hulleself, ’n groter rede en doel om
voor te leef. Ongelukkig soek baie mense op die verkeerde plek om hierdie
leemte te vul en beland hulle in vreemde gelowe, aanbid hulle dooie afgode,
maak hulle staat op hulle self of hulle dade om hulle soeke te bevredig.
Hulle tas as’t ware in die duister rond, sonder om God te vind. Kyk vandag
om jou rond wie dit is wat so rondtas om die Here te vind, en stel hulle
voor aan die ware Koning, die ware Verlosser, die liefdevolle Vriend, Jesus.
Help hulle om van hulle blinddoeke ontslae te raak, skakel die lig vir hulle
aan, sodat hulle ware volheid, vrede en rus by Jesus kan vind.
~ Wilna |
|
“Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.”
(Hand 17:25) Die Here het ons lewe vooruit beplan, ons liggame
aanmekaargeweef, ons is die werk van Sy hande, Hy het Sy asem in ons geblaas.
Daarom sal Hy ons nie los nie, Hy sal vir ons sorg, Hy sal vir ons voorsien.
Dit is Hy wat elke asemteug voorsien, die daaglikse brood, die krag om te
werk, die lewe! Aanvaar dit vandag uit Sy hand en leef voluit.
~ Wilna |
|
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof
met alle vreugde en vrede vervul” (Rom 15:13) Vreugde en vrede is die
uitvloeisel van my verhouding met die Here, ’n noodwendige gevolg van my
geloof. Sy teenwoordigheid in my lewe bring “oorvloedige blydskap”, aldus
Ps. 16:1. Toe ek Jesus aangeneem het as Verlosser en Here van my lewe, het
Hy, as Prins van Vrede, in my kom woon en hou sy vrede wag oor my hart en
gedagtes. Hy belowe in Joh. 14:27: “Vrede laat ek julle na; my vrede gee Ek
julle.” Mag jy vandag vervul wees met dié vrede en vreugde wat alle verstand
te bowe gaan!
~ Wilna |
|
“Waarlik, golwe van die dood het my omsluit, strome van
onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van
die dood het my bedreig. In my nood roep ek na my God. In sy paleis hoor Hy
my geroep. Ek roep na Hom om hulp en Hy luister na my.” (2 Sam 22:5-7)
Hierdie lys goed wat verkeerd geloop het in Dawid se lewe laat my dink aan
die uitdrukking: it never rains, but it pours. Baie keer voel dit mos vir
mens of alles net skeef loop, die een na die ander probleem duik op en
uiteindelik vole jy só depressief, paniekerig en moedeloos dat jy sommer die
Here begin blameer of bevraagteken. Wanneer ek hierdie loflied van Dawid in
2 Sam 22 lees, dan wéét ek dat ek myself moet “programmeer” om in die
moeilikste omstandighede nie te kla of te mor nie, maar na die Here uit te
roep. Hy sál hoor. Niks is buite Sy beheer nie, Hy sál Sy arms onder my
inskuif sodat ek staande sal bly, Hy sál sorg vir ’n uitkoms, Hy sál my
uitlig uit die “golwe van die dood”. Dan kan ek maar begin om die loflied te
sing...
~ Wilna |
|
“Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle
slaap.” (Ps. 127:2) Dit beteken tog seker nie dat ons nie hard hoef te werk
en skouer aan die wiel sit om ons dagtaak verrig te kry nie? Dit beteken tog
seker nie dat ons al slapende kan wag op die Here se voorsiening en seëninge
nie? Ek dink dit beteken eerder dat ons die Here blindelings kan vertrou om
op die regte tyd en die regte plek vir ons te gee wat ons nodig het (LW, wat
ons nodig het en nie wat ons begeer of wat óns dink ons nodig het nie) “Laat
jou lewe aan die Here oor ... Hy sal sorg.” (Ps. 37:5)
~ Wilna |
|
“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat
daaraan bou, tevergeefs.” (Ps. 127:1) Die woord “tevergeefs” word nóg twee
keer in die res van dié Psalm genoem. Dit beklemtoon dat die Here die rede
en die middelpunt van alle aspekte van ons lewe moet wees. Sonder Hom is
alles nutteloos, waardeloos en vrugteloos. Hy moet die spil wees waarom ons
werkslewe, gesinslewe, ons kerk, ons stad, ons sport ens. draai. Ons kan
geen krediet vir ons prestasies en vermoëns vir onsself vat nie – alles wat
ons het en waartoe ons in staat is, is ’n gawe en seën uit Sy hand. Ek erken
vandag weer Sy beheer oor elke aspek van my lewe en wy alles in
afhanklikheid en vertroue aan Hom toe.
~ Wilna |
|
Ons is besig met die laaste voorbereidings vir ons 11e
kamp vir gestremdes wat hierdie naweek plaasvind. Ons is baie opgewonde
daaroor en voel so geseënd dat die Here dié geleentheid vir ons gee om
betrokke te wees by persone met gestremdhede. Ons sien uit om weer ’n
klompie nuwe mense te ontmoet, saam met almal te kuier, pret te hê en baie
te lag (... ons sal seker maar weer huil ook!). Ons sien ook uit daarna om
deur ons tema, “Die moed van ’n leeu”, te ervaar dat die Leeu van Juda se
krag in ons teenwoordig is. Ons hoop dat almal weer die lewe met leeue-moed
in die oë sal kyk en ten spyte van tekortkominge of probleme oorwinnaars sal
wees in die daaglikse lewe. Bid asb. vir ons almal se veiligheid en
gesondheid, vir ontvanklikheid en groei. Bid asb. dat al die reëlings-drade
suksesvol bymekaar sal uitkom en dat die Here die kamp sal seën.
~ Wilna |
|
Ek het dié vandag op e-kerk gelees:
Die bekende komponis, Joseph Haydn (1732-1809) se orkes was doodmoeg. Hulle
hertog het hulle ’n vakansie beloof, maar hy het dit aanhoudend uitgestel.
Haydn se oplossing was toe om sy bekende Afskeid-Simfonie te skryf in 1792.
Soos wat hierdie musiekstuk ontvou, raak een musiekinstrument na die ander
stil. Haydn het toe vooraf gereël dat elke musikant ’n kers voor hulle
neersit en dit doodblaas en afstap as hulle stukkie musiek klaar gespeel is.
So het dit aangehou totdat die verhoog leeg was. Die hertog het dadelik die
boodskap gekry en hulle vakansieverlof toegestaan. Dit klink vir my al te
veel na Spreuke se soort wysheid. Soms is daar ’n beter manier as woorde om
iets gedoen te kry. Stilbly is beter. Wegstap ook, selfs al weet jy dat jy
reg is. Die grootste oorwinnings wat die Here se kinders behaal is juis om
’n ander wang te draai en ’n tweede myl te loop, soos wat Jesus ons in
Matteus 5 leer. Vra die Here om jou met sy soort wysheid te oorlaai sodat jy
sal weet hoe om in elke situasie reg op te tree. Dan gebeur jou grootste
oorwinnings in Jesus se Naam woordloos, mooi en sag!
~ Wilna |
|
“As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg
in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer
sy bes om dit reg te kry.” (2 Kor. 2:11, Die Boodskap) Sjoe, dis darem maar
baie reguit gesê en dit laat my sommer koud word van skrik as ek besef dat
bakleiery in Satan se speelveld hoort. Rusies en verdeeldheid is praktyke
van die sondige natuur, sê Gal 5:20. Bakleiery en onmin pas nie by Christene
nie en dit kan boonop jou verhouding met die Here vertroebel en keer dat Hy
jou gebede beantwoord. “As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe
moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle
nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie.” (1 Tim 2:8) Is dit
nie dalk nou die tyd om te vergewe en die onmin uit die weg te ruim nie?
~ Wilna |
|
“Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom. Ons glo in
Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat.” (2 Kor. 4:13, Die
Boodskap) Wanneer ons Jesus leer ken het, wanneer ons sy genade beleef en sy
voorsiening en versorging geproe het, kan ons nie daaroor stilbly nie. Dan
sal lof aan Hom oor ons lippe borrel. Dan sal ons skaamteloos van sy liefde
getuig, tydig en ontydig. Dan sal ons Sy getuies wees, Sy woord verkondig,
Sy storie vertel. Dan sal die Heilige Gees vir ons vrymoedigheid en die
regte woorde gee. Dan is stilbly nie ’n opsie nie ...
~ Wilna |
|
Die Bybel praat in 2 Kor. 3:3 daarvan dat ons lewende
briewe van Christus is en dat mense met wie ons elke dag te doen het, dié
brief kan (en moet) lees. Hulle moenie raaksien hoe mooi of kosbaar of duur
die papier is waarop die brief geskryf is nie, hulle moet die woorde en die
Skrywer, Christus, raaklees. Hy kan in elk geval enige verfrommelde
papiertjie vir Sy boodskap gebruik. Dit gaan nie oor ons wat die brief is
nie, maar oor Hom wat die woorde van die brief geskryf het. Mag ons lewe
vandag ’n getuigskrif wees van die Here se liefde en goedheid en mag ons
lewe ’n aanbevelingsbrief wees wat die mense om ons bekend stel aan die
Skrywer, Jesus Christus.
~ Wilna |
|
Die dominee sê nou die dag by die Bybelstudie ons, as
volgelinge van Christus, moet dié prentjie van onsself hê: as ons in ’n
plek instap moet dit wees asof die ligte so pas aangegaan het. Dit is só
waar, want die Woord sê tog dat ons die lig van Christus in ons het en dat
ons ’n aangename geur versprei wat mense van Jesus bewus maak. Wanneer ons
in ’n vertrek inkom moet mense ’n verskil ervaar. Ons positiewe woorde,
warmte, vriendelikheid, geduld, nederigheid, deernis, ens. moet soos ’n
helder lig uitstraal en soos ’n wonderlike aroma in die vertrek bly hang. Dis
’n voorreg en ’n opdrag wat ons het ... hoe vaar jy daarmee? “Ons is soos ’n
aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die
wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen
het, weet daarvan...” (2 Kor. 2:15)
~ Wilna |
|
“Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God
het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes
daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou
herstel is” (2 Kor. 5:21, Die Boodskap) Aan die kruis het Jesus hierdie
wonderlike uitruiling bewerk. My sondes is op Hom gestapel, Sy sondeloosheid
het oorgeskuif op my. Hy het sonde geword, ek het rein geword. Hy het
gesterf, ek lewe. Dis mos nou goeie nuus vir dié wat glo! ~
Wilna |
|
“Wat julle sê moet altyd vriendelik wees en van goeie
smaak getuig.” (Kol 4:6) Hier is nou ’n duidelike opdrag tot vriendelikheid.
Dit behels nie net ’n vinnige, oppervlakkige glimlag nie. Dit beteken dat
ons hoflik moet wees, ander met respek moet behandel, dat ons liefdevol en
gaaf en gasvry moet wees. Dit beteken dat ons mededeelsaam en toegeeflik
moet wees. Die moeilike toets lê natuurlik daarin dat ons vriendelik sal
wees met vriend én vyand, dat ons hoflik sal wees al word ons sleg behandel,
dat ons gaaf sal wees met mense wat dit nie verdien nie. Ongelukkig moet ek
bely dat ek vêr te kort skiet op vriendelikheid, maar dat ek dit weer as ’n
doel voor my stel en die Heilige Gees vra om my te help daarmee.
~ Wilna |
|
Nog iets oor vriendelikheid:
“Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die
koning tot vriend.” (Spreuke 22:11) Mense vermy iemand wat altyd kla en mor
en met ’n lang gesig rondloop. ’n Vriendelike persoon trek mense na hom toe
aan. Mense wíl in sy geselskap wees. Vriendelikheid maak vir jou deure oop
na mense, dit skep vir jou geleenthede om naby aan hulle te kom. Jou
vriendelikheid bring mee dat mense Jesus in jou kan sien en dit sal meewerk
dat hulle ontvanklik sal wees wanneer jy met hulle oor Hom wil praat.
Gebruik elke geleentheid om vriendelik te wees!
~ Wilna |
|
“Ons het onberispelik opgetree, met begrip,
verdraagsaamheid en vriendelikheid” (1 Kor. 6:6) Dit is darem maar baie
lekker om aan die ontvangkant hiervan te wees. As ons met met begrip en
verdraagsaamheid hanteer word maak dit die lewe vir ons sommer baie makliker.
As mense ons met vriendelikheid ontvang in hulle huise, kantore of besighede
laat dit ons welkom voel. Kom ons draai dit dan om en doen aan ander soos
wat ons aan onsself gedoen wil hê. Kom ons betoon vandag begrip,
verdraagsaamheid en vriendelikheid – dít is die onberispelike optrede wat
God van ons verlang. ~ Wilna |
|
“Meneer, u bewys my ’n guns, u laat my goed voel, u is
vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.” (Rut 2;13) Dit
maak ’n groot verskil aan mens se selfwaarde as iemand vriendelik is met jou
en jou laat goed voel oor jouself. Doen dit bietjie vandag met jou huismense,
kollegas en selfs vreemdelinge en kyk hoe hulle blom. Vriendelikheid word
per slot van rekening in Gal 5:22 genoem as ’n vrug van die Gees – dis seker
dié dat vriendelikheid vir jou deure kan oopmaak na mense se harte – probeer
dit gerus!
~ Wilna |
|
Dit gebeur nogal heel dikwels dat Christene van mekaar
verskil oor die betekenis van sekere geloofswoorde of Bybelfrases, of oor
iets wat kwansuis ’n dwaling is al dan nie. Hulle kan dan vir ure in ’n
stryd en rusie gewikkel wees en “is”, “is nie” heen-en-weer slinger. Dikwels
staaf elkeen nog sy mening uit die Bybel uit ook en kraak die ander een
sommer af as on-Christelik omdat hy die saak anders sien. In 2 Tim 2 lees
ek meer as een waarskuwing hieroor. Vers 14 sê bv. dat hierdie soort stryery
einde moet kry omdat dit nêrens heen lei nie en nie opbouend is nie. Vers
16 sê dat sinlose praatjies vermy moet word omdat sulke woorde “sal
voortvreet soos kanker”. Vers 23 weer sê: “moenie in belaglike argumente
betrokke raak en met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle
aan die baklei raak”. ’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie! Kom
ons neem dit ter harte.
~ Wilna |
|
My liewe wederhelfte het gister met gróót pyn,
veroorsaak deur ’n niersteen, in die hospitaal beland. Ek glo daaraan om in
elke omstandigheid iets positief te probeer uithaal, daarom het ek vir
myself hierdie 5 “lesse” neergeskryf wat ek geleer het tydens dié storie:
(1) jou planne kan in ’n oogwink omgekrap word – weet dit kan gebeur en maak
vrede daarmee. (2) waardeer elke gesonde dag wat sonder voorvalle verloop
meer intens. (3) wanneer jy in ernstige pyn verkeer, of as jy die een is wat
die sieke se hand moet vashou, ontbreek die krag en woorde om te bid. Hoe
wonderlik om dan te weet jy het vriende en familie wat namens jou bid en wie
se SMS’e jou hande hoog hou en jou gemoed kalmeer. (4) Dokters werk baie
hard, vir baie lang ure en dra groot verantwoordelikheid. Bid meer vir hulle
vir wysheid en krag en bemoedig hulle. (5) Byt vas, die pyn sal wel skiet
gee en dit sal weer beter gaan. Dis met groot dankbaarheid dat ek kan sê
manlief is nou weer tuis en lyk sommer stukke beter!
~ Wilna |
|
2 Kor. 5:20 praat daarvan dat ons gesante van Christus
is, sy ambassadeurs, sy verteenwoordigers, sy medewerkers. Paulus sê in
hierdie teks: “Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom.” Die Here wil
Homself aan die wêreld bekendstel deur ons. Ons moet namens Hom praat en
namens Hom doen. Na my mening is die wêreld op soek na iets tasbaar, na
bewyse dat God vir hulle omgee. Mense soek liefde en omgee en dit is op
hierdie praktiese, hande-en-voete-wees-vlak waar ons Sy verteenwoordigers en
medewerkers moet wees. Dink daaraan as jy met mense te doen het vandag.
~ Wilna |
|
Ek het dié gister in
die kerk gehoor: die Here is agter my om die foute, die ongehoorsaamheid,
die versuim van my verlede uit te vee. Hy moedig my aan by die wenstreep met
die oorwinnaarskroon in sy hand. “...laat
ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop” ( Heb 12:1)
~ Wilna |
|
“Moet asseblief nie die genade wat God aan julle bewys,
ignoreer nie. Hoor net wat sê Hy in die Bybel: “Op presies die regte oomblik
het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy my bitter nodig gehad het,
het Ek jou gehelp.” Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding
is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers
laat glip nie.” (2 Kor. 6:1-2, Die Boodskap) God se hand van genade is
uitgesteek, Hy bied dit vandag weer vars aan almal – nou, hier, op hierdie
oomblik. Elkeen wat dit glo en aanvaar en dit nie ignoreer nie, is gered, is
’n kind van God en ontvang die ewige lewe. Dit alles is verniet! Moenie dit
deur jou vingers laat glip nie – vat dit, dis vir jóú!
~ Wilna |
|
“Here help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om
versigtig te wees met wat ek sê.” (Ps. 141:3, Die Boodskap) Dis vandag maar
weer my gebed ook, want ek weet woorde wat te vinnig uitborrel kan seermaak,
afbreek, verkleineer of beledig. Ondeurdagte woorde kan negatiewe gevolge
vir jou inhou, of kan verhoudings vertroebel en vriendskappe opbreek. Skerp
woorde kan nie teruggetrek word nie, al is jy hóé spyt daaroor. Wysheid is
om jou woorde te oordink en te weeg voordat jy dit sê. Ons woorde moet ander
bemoedig en opbou. Dit moet hulle beter laat voel. Dit moet hulle laat
glimlag. Dit moet vir hulle vrede bring. Daar is baie geleenthede hiervoor –
sien dit raak en doen dit. Mag die Here ons help!
~ Wilna |
|
“Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike
bouwerk op enige ander fondament help niks nie.” (1 Kor. 3:11, Die Boodskap)
Ek wil net weer seker maak dat my geestelike huis op die Rots, Jesus, gebou
is. Dit is die enigste manier om staande te bly wanneer storms, vloedwaters
en winde aankom. Dit is makliker om ’n huis op sand te bou as om hard te
werk om ’n goeie, stewige fondasie te bou. Die huis op die sand sal bly
staan solank die omstandighede goed is, maar die oomblik as daar bietjie
wind van voor is, of as daar ’n storm opsteek, gaan die huis nie bly staan
nie, al was die bouwerk hoe mooi. Wanneer die storms van die lewe opsteek
sal die fondasie van my geloof getoets word. Ek wil nie onkant gevang word
nie ... ek wil soos die wyse man wees, hard werk en my huis op die Rots bou!
~ Wilna |
|
Meer en meer soos Jesus – dis baie van ons se begeerte
en strewe in ons Christelike lewe. Wanneer Jesus in Matt. 11:29 sê: “...
leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart”, dan is dit ook
eienskappe waarna ons moet strewe. Om sagmoedig te wees beteken nie dat jy
swak is, of ’n vloermat moet wees nie. Dit beteken dat jy saggeaard, minsaam
en vriendelik sal wees en dat dít respek by ander sal afdwing. Hierdie
aanhaling sê dit vir my so mooi: “Nothing is so strong as gentleness.
Nothing is so gentle as real strength.” Die Bybel sê mos ook: geseënd is die
sagmoediges!
~ Wilna |
|
“You can’t calm the storm ... so
stop trying. What you can do is calm yourself. The storm will pass.” So lui
’n aanhaling wat ek nou die dag êrens gelees het. Om kalm te bly in moeilike
tye vra dat jy die Here ten volle moet vertrou, dat jy met alles in jou sal
bly glo dat Hy alles weet en in beheer is, dat jy rustig sal raak ten spyte
van die golwe wat om jou slaan, dat jy jou oë op die Here sal hou en nie op
die storm nie. “Jou krag lê in stilwees en vertroue hê” (Jes. 30:15)
~ Wilna |
|
Iemand het hierdie week weer my aandag gevestig op Ps.
116:15. “Vir die Here is die dood van sy getroue dienaars geen geringe saak
nie.” Dit is seker hoekom Jesus gehuil het toe Hy gehoor het van die dood
van sy vriend, Lasarus (Joh. 11:35). Of hoekom Hy Hom gaan afsonder het op
’n stil plek nadat Hy van Johannes die doper se dood gehoor het (Matt.
14:13). Wanneer een van ons geliefdes sterf, is dit nie vir die Here ’n
geringe saak nie. Hy is nie onbetrokke nie, Hy staan nie eenkant nie, Hy
draai nie sy rug nie. Wanneer ons huil en treur oor die dood van iemand, glo
ek die Here huil saam met ons. Hy sien ons trane, Hy weet van ons pyn. Mag
jy ervaar dat die Here saam met jou treur, mag jy ervaar dat Hy jou trane
afdroog, mag jy ervaar dat Hy sy hand na jou uitsteek en jou weer uitlig uit
die donker van jou rou-tyd.
~ Wilna |
|
“Niemand kan in ’n geheime plek wegkruip sonder dat Ek
hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die
Here.” (Jer. 23:24) Ek is altyd oorweldig wanneer ek aan God se
alomteenwoordigheid dink. Alles gebeur in Sy teenwoordigheid. Daar is nie ’n
plek so diep of so donker, so vêr of onheilig dat Hy nié daar teenwoordig is
nie. Alles is oop voor Hom, niks kan vir Hom weggesteek word nie. “All of
what He is, can be found in every place,” het iemand dit gestel. Sy krag, Sy
liefde, Sy helpende hand is beskikbaar in elke plek en in elke situasie
waarin jy jou mag bevind.
~ Wilna |
|
“Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat en
hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en
nie water hou nie.” (Jer. 2:13). Sonder die Here en sonder die
teenwoordigheid en werking van Sy Gees in ons is ons doelloos en nutteloos,
soos ’n waterbak wat nie water kan hou nie. Draai weer na die Bron van
lewende water, laat toe dat Sy Gees jou volmaak en soos ’n stroom lewende
water uit jou binneste vloei. Here, maak ons soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jes. 58:11)
~ Wilna |
|
“He foreordained us (destined us,
planned in love for us) to be adopted as His own children through Jesus
Christ” (Ef. 1:5) “Hy het dit besluit om geen ander rede as dat Hy dit graag
vir ons wou doen nie” (so lees hierdie teks in Die Boodskap). Die Here neem
ons aan as Sy kinders, Hy ontvang ons as lede van Sy familie en Sy huisgesin.
Dit is Sý keuse van altyd af, Hy doen dit omdat Hy wil, Hy doen dit omdat Sy
liefde vir ons oneindig groot is. Jy hoef nooit weer eensaam, alleen of
verwerp te voel nie – jy het ’n ewige plek as een van God se kinders.
~ Wilna |
|
Uit 1 Joh. 5:18-20 lees ek hierdie
drie goeie nuus feite: Jesus het gekom, ons behoort aan God, die duiwel kry
nie ’n houvas op ons nie. Ek kies maar net weer vandag om my gedagtes op
hierdie goeie nuus te fokus en nie afgetrek te word deur die wêreld se
slegte nuus nie. Ek kies om myself te programmeer op grond van hierdie goeie
nuus en nie op grond van dit waaroor die koerante skryf en die mense praat
nie. Hierdie is die beste nuus – ek hoop jy vat dit ook vir jou dag, jou
week en jou lewe!
~ Wilna |
|
“The 10 commandments are not a multiple choice”, so
lees ek nou die dag êrens. Ons kan nie kies watter van die Here se gebooie
en voorskrifte ons wil nakom nie. Hy vra gehoorsaamheid, Hy vra dat ons ons
rug moet draai op die verkeerde dinge, dat ons sonde moet haat, dit van ons
afgooi, daarteen moet veg, dat ons nie slawe van die sonde moet wees nie.
“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie ... Iemand wat ’n kind
van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly.” (1
Joh. 3:6,9)
~ Wilna |
|
Ek lees nou die dag dié aanhaling: “What you think of
yourself is much more important than what others think of you.” Ek dink die
meeste van ons steur ons heeltemal te veel aan ander so opinie van ons. Ek
wil sommer hierdie uitdrukking oorskryf en sê: wat die Here van jou dink is
belangriker as wat jy van jouself dink. Glo eerder wat Hý oor jou sê en hoe
Hý oor jou voel as wat jy ander mense se mening glo of op jou eie gevoel oor
jouself staatmaak. Hier is wat Hy van jou dink: “Hy
is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig
oor jou.” (Sef 3:17).
~ Wilna |
|
“Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker
mag voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede”
(1 Joh. 3:20) Gelukkig weet God alles. Hy weet wanneer ek twyfel, of wanneer
my gewete my aankla, Hy weet van die tye wanneer ek voel ek is nie goed
genoeg, of wanneer ek voel dat ek Hom nie lief genoeg het, of gehoorsaam
genoeg is nie. Hy weet natuurlik ook dat Jesus betaal het vir elke
tekortkoming van ons kant af, daarom kan ons rus in die sekerheid dat Hy ons
vergewe het en dat ons aan Hom behoort. Ons kan met vrymoedigheid in sy
teenwoordigheid kan wees, want “daar is dus nou geen veroordeling vir dié
wat in Christus Jesus is nie. “ (Rom 8:1)
~ Wilna |
|
“He chose us (actually picked us out for Himself as His
own) in Christ before the foundation of the word.” (Ef. 1:4, Amplified
Bible). Ons is elkeen individueel deur God uitgekies om aan Hom te behoort.
Dit was sy plan reg van die begin af. Nog voor die skepping het Hy my
redding in gedagte gehad, toe al het Hy my gekies om aan Hom te behoort. Hoe
wonderlik is dit nie? Dis alles eintlik net te groot vir my om te verstaan
of te probeer beredeneer. Ek vat dit maar net as ’n waarheid en laat dié
sekerheid in my hart en gedagtes kom lê dat ek spesiaal en belangrik is vir
Hom. As Hy my lankal uitgekies het as sy eiendom, sal Hy my nooit ooit weer
los nie!
~ Wilna |
|
Lees bietjie hierdie reguit opdrag / raad wat ons in 1
Pet. 2 vind: “Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie
werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle
verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle
julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is.
Wat regtig saak maak, is dat julle liewers maar hierdie onbillike optrede
van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die
skande gesteek word nie.” (1 Pet. 2:18-19, Die Boodskap). Sjoe, dis nie so
maklik om hierby te hou nie, maar sekerlik tog die moeite werd, want
uiteindelik gaan dit oor God se eer en nie oor ons gevoelens nie. Kom ons
probeer maar weer ...
~ Wilna |
|
Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is
die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar
geheime.” (Dan 2:47) Dit is wat koning Nebukadnesar oor God sê. ’n
Hoogmoedige koning wat God nie ken en aanbid nie, wat God se volk onderdruk,
wat wil oordeel oor lewe en dood, wat mense se Godsdiens wil beheer. Hy eer
God op grond van wat Daniël gedoen en gesê het. Mag ek en jy ook maar so
praat en lewe dat goddeloses sal neerbuig en ons God eer; mag ons ook
gedurig liefde en wysheid uitleef en met sekerheid van ons geloof getuig
sodat dit ’n invloed in ons leefwêreld sal hê.
~ Wilna |
|
Ek lees in 1 Pet. 2:17 van vier
dinge wat ons kan doen om die Here bly te maak: (1) behandel almal beleefd
en gemanierd (2) wees liefdevol en lojaal teenoor mede-Christene (3) erken
God as die groot en magtige Heerser (4) respekteer die leier van ons aardse
regering. Dis redelik reguit gesê en vir my is dit nie vier dinge wat sommer
net natuurlik kom nie. Kom ons streef daarna, kom ons vra die Heilige Gees
om ons gedagtes en woorde en optrede te beheer sodat ons elke dag meer en
meer van hierdie vrug sal dra.
~ Wilna |
|
“Die Here het ’n plan daarmee as
julle elke dag so positief leef” (1 Pet. 2:15, Die Boodskap) Om positief te
leef beteken nie net dat jy altyd opgeruimd en tevrede is nie. Dit beteken
nie net dat jy die glas as halfvol en nie halfleeg sien nie. Dit beteken ook
nie dat jy jou probleme net ontken en maak of alles net goed is nie. Om
positief te lewe beteken dat jy kies om die regte dinge te doen, al doen
niemand anders dit nie. Om positief te lewe beteken dat jy sal uitstyg bo
jou moeilike omstandighede. Om positief te lewe beteken dat jy die Here se
hand in alles sal raaksien. Om positief te lewe beteken dat jy na die goeie
in elke mens en in elke situasie sal soek. So ’n positiewe lewe sal die Here
se Naam eer en ’n invloed op die mense om jou hê. Ek hoop jou “-“ kan vandag
’n “+” word!
~ Wilna |
|
Om die Here te prys beteken om aan Hom bekend te maak
dat ek Hom bewonder en respekteer, om Hom te vertel hoe goed, groot en
wonderlik Hy is, om met dankbaarheid uit te jubel wat Hy vir my beteken en
vir my gedoen het. Dit kan ek doen in gebed, in ’n lied, met ’n gedig, met
’n dans of met ’n sagte versugting. Ek kan dit in stilte doen of met ’n
groot gejuig, met uitroep of die speel van instrumente. Ek kan dit doen met
hande klap, met ’n eerbiedige neerbuig en kniel of in stille verwondering.
Hoe jy ook al vandag kies om dit te doen ... “laat alles wat asemhaal, die
Here prys!” (Ps. 150:6)
~ Wilna |
|
“My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder
of keer om God voluit te dien.” (1 Joh. 5:21) Ek bid maar net weer dat die
Heilige Gees my bewus en sensitief sal maak vir dié verkeerde optrede,
gesindhede, gedagtes en dinge wat tussen my en Hom kan kom staan, dat ek
doelbewus daarteen sal kies, dit sal vermy en eerder my gedagtes sal rig op
dít wat waar, edel, reg, rein en mooi is (soos wat Fil. 4:8 sê).
~ Wilna |
|
Ek lees hierdie aanhaling: “In the business world, the
rearview mirror is always clearer than the windshield.” Dis blykbaar gesê
deur ene Warren Buffett. Ek dink dis nie net waar in die besigheidswêreld
nie, maar oral in die lewe. Ons kan nie die toekoms voor ons sien nie, maar
ons weet wat in die verlede lê (dis nou as jou geheue jou nie in die steek
laat nie!) en dikwels moet ons krag en wysheid vir die toekoms uit die
verlede put. Dawid het dit ook gedoen in Ps. 143:4-5: “Ek het alle moed
verloor, ek is verslae. Ek dink aan die verre verlede, ek peins ook alles
wat U gedoen het en oor die werk van U hande dink ek na”. Wanneer jy bang,
moedeloos of depressief oor die toekoms voel, dink terug aan die goeie tye
wat jy beleef het, tye toe jy sterk en vol moed was en dinge vir jou
uitgewerk het. Oordink die Here se goedheid, onthou alles wat Hy in die
verlede vir jou gedoen en beteken het. Wanneer jy dít doen, sal hoop weer
opvlam in jou hart en sal jy kans sien om met wysheid en deursettingsvermoë
voort te gaan.
~ Wilna |
|
“Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons
in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak
wat ons sien nie... Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God..” (1 Kor. 13:9,
Die Boodskap) Ons almal het al geworstel met onbeantwoorde vrae in ons lewe,
vrae oor God en sy wil en sy weë. Daar is nie fout met jou as dit ook waar
is vir jou nie – 1 Kor. 13:9 bevestig tog dat ons nie alles kán verstaan nie.
So sê Spr. 25:2 ook dat die eer van God lê in wat Hy verborge hou. Al wat
ons kan en moet doen, is om op die Here te vertrou en hierdie vertroue vra
dat ons ten spyte van onbeantwoorde vrae oor die lewe en oor God, steeds ons
harte op Hom sal rig en ons oë op Hom sal hou, Hom steeds sal volg en dien
en steeds doelbewus ons gedagtes met positiewe dinge sal vul. Doen dit – een
dag op ’n slag, een tree op ’n keer.
~ Wilna |
|
“He who dwells in the secret place of the Most High
shall remain stable and fixed under the shadow of the Almighty” (Ps. 91:1)
Hierdie “secret place” is in God se teenwoordigheid. Besef dat Hy
alomteenwoordig is. Raak bewus daarvan dat jy by Hom is, só naby dat sy
skaduwee oor jou val. Só naby dat jy jou hand kan uitsteek en genesingskrag
uit Hom kan tap. Só naby dat jy maar net kan fluister: “Here, wees my
sondaar genadig.” Só naby dat Sy liefde oor jou kan spoel. Só naby dat jy sy
hand op jou skouer kan voel en sy sagte, gerusstellende stem kan hoor ...
stable and fixed under the shadow of the Almighty.
~ Wilna |
|
Ek het ’n lysie ontdek wat ek ’n paar jaar gelede vir
myself gemaak het om my te help om staande te bly in moeilike omstandighede.
Hier is ’n paar punte daarvan: moenie verbaas wees daaroor nie; hou my oog
op Jesus; luister na en leer uit ander se getuienis oor hoe hulle dit
hanteer het; moenie verbitterd of opstandig word nie; bid en sing soos
Paulus en Silas in die tronk gedoen het; onthou dit sal weer verbygaan;
spandeer tyd met die Here ten spyte van my gevoelens; behou ’n
ewigheidsperspektief. “...as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm
Hy Hom weer, want Sy liefde is groot” (Klaagliedere 3:31)
~ Wilna |
|
“Wat julle sê moet
altyd vriendelik wees,” sê Kol 4:6. Dit beteken dat ons met ’n liefdevolle,
sagte, gawe, hoflike stemtoon moet praat. Vriendelikheid is nie net ’n
aangeplakte glimlag nie. Dit is ’n innerlike vrolikheid en jou
gesigsuitdrukking, lyftaal en jou gesindheid moet dit weerspieël. Sjoe, ek
weet dis moeilik en ek is self nie aldag baie goed daarmee nie. Ek vat dit
maar net vandag as ’n opdrag van die Here af en weet dat as ek vriendelik
is, is ek besig om te doen wat die Here wil hê ek moet doen. Daar word mos
gesê: vriendelikheid kos niks ...kom ons probeer dit!
~ Wilna |
|
Gretha Wiid skryf
nou die dag die volgende, wat ek graag hier wil deel, want ek stem
heelhartig daarmee saam: God se tyd is altyd perfek, al verstaan ons nie
altyd waarom als nie gebeur soos wat ons dit vra nie. Wat ek wel weet ...
ons gebed bring ons harte nader aan God, gee vir ons berusting en maak ons
geestelike ore ook oop vir dit wat die Heilige Gees aan ons wil sê en
openbaar. Bid daarom sonder ophou ... op Sy tyd sal Hy Sy planne tot uiting
laat kom, maar tot dan sal Hy jou hart verander, beskerm en versag.
~ Wilna |
|
“The most wasted of all days is one without laughter”.
Toe ek dié aanhaling lees, het ek begin wonder of dit regtig so is. Ek dink
darem nie dit sal die “most wasted” dag wees as ek nie gelag het nie, maar
dit sal wel ’n droewige dag wees. Dit is tóg lekker om te lag en nog
lekkerder om saam met iemand te lag. Omring jou met vrolike, opgeruimde,
positiewe mense en beleef minder stress en depressiewe gevoelens en meer
vreugde en ’n lekker gevoel oor jouself en jou omstandighede. Spr. 17:22 sê:
“’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput.”
Moet tog nou nie so frons en so ernstig wees nie ... lag ’n slag! Onthou:
dis ook nie ’n skande om vir jouself te lag nie :-)
~ Wilna |
|
“... die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand
wat in Hom glo.” (2 Kor. 3:14) Mens sien dikwels mense wat deur die lewe
gaan asof hulle geblinddoek is, asof hulle ’n sluier oor hulle gesig het.
Hulle oë is leeg en dof en leweloos. Dit kan bitterheid,
onvergewensgesindheid, bekommernis, selfbejammering, negatiwiteit of ’n
verharde hart wees wat daardie sluier oor hulle oë trek. Agter die sluier is
dit gewoonlik donker, leeg, hooploos en doelloos. Daar ervaar mense vrees,
koue en eensaamheid. Die Woord sê dat Christus daardie sluier wegtrek
wanneer iemand na Hom toe draai. Wanneer die sluier opgelig is, kan jy God
sien en kom daar vernuwing en verandering in jou lewe. Wanneer Jesus die
sluier wegneem, kom daar vrede, lig en hoop in die oë van die wat in Hom glo.
~ Wilna |
|
“In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed:
Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33) Ongelukkig is alles in die
lewe nie net maanskyn en rose nie. Alles verloop nie altyd net perfek,
foutloos en glad nie. Rampspoed, bekommernisse, beproewing, frustrasies,
nood, ellende, droefheid, gevaar, ens. is ongelukkig ook dikwels deel van
die gelowige se lewe. Is jy in enige van hierdie situasies? Wel, die beste
wat jy kan doen, is om met alle mag vas te klou aan dié een wat reeds die
oorwinning oor alles behaal het – Jesus Christus. In Hóm is ons ook
oorwinnaars en kan ons rustig raak oor al die moeilikhede wat oor ons pad
mag kom. Bly kalm en vind jou rus en vrede in Hom!
~ Wilna |
|
“May Christ, through your faith, dwell (settle down,
abide, make His permanent home) in your hearts.” (Ef. 3:17) Die intieme
binnekant van jou hart, gedagtes, emosies, gemoedstoestand en ingesteldheid
is waar die Here sy intrek in jou lewe wil neem. Hy wil ons binnekant sy
permanente adres kom maak. Hy wil tuis kom by ons. Raak net weer vandag ’n
slag rustig en oordink hierdie groot waarheid. Ek nooi Hom weer vandag
opnuut om Sy intrek by my te kom neem en my binnekant Sy tuiste te maak – ek
hoop jy sal dieselfde doen.
~ Wilna |
|
Dit is belangrik vir ons as kinders van die Here om te
waak teen versoekinge en verleidings wat oor ons pad mag kom. Onthou die
satan is ’n verleier en kan ons maklik ’n rat voor die oë draai met dinge
wat reg mag klink en goed mag lyk, maar wat in stryd is met wat God van ons
verwag. Die Bybel sê mos die vyand loop rond soos ’n brullende leeu, altyd
op soek na prooi om te verslind. As jy in sy strik getrap het, of as jy die
deur op ’n skrefie vir hom oop los, sal hy met jou maak wat hy wil. Nee,
vriende, staan die duiwel tee en hy sal van jou wegvlug. “Dan sal hulle weer
tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee
hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam” (2 Tim. 2:26)
~ Wilna |
|
Wil jy ook soos Moses, Abraham en Dawid, ’n vriend van
God genoem word? Wel, hier is die “resep” : “Abraham believed in (adhere to,
trusted in, and relied on) God, and this was accounted to him as
righteousness and he was called God’s friend.” (James 2:23, Amplified
Bible). Gee jouself oor aan die Here, nooi Hom in jou lewe, jou hart en jou
kop in. Klou vas aan Hom, bly in Hom, vertrou op Hom, maak staat op Hom, glo
Hom, glo ín Hom – dit is wat jou ’n vriend van God sal maak. Kyk wat sê
Jesus vir jou: “As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles” (Joh.
16:33, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek het volgende raakgelees wat Max Lucado geskryf het:
Reddende genade red ons van ons sonde. Onderhoudende genade ontmoet ons by
ons behoefte en rus ons toe met moed, wysheid en sterkte. Dit verras ons ...
met oorvloedige geloofshulpbronne. Onderhoudende genade beloof nie die
afwesigheid van worsteling nie, maar die teenwoordigheid van God.
~ Wilna |
|
Dis vir my so kostelik as Spreuke 6:6 sê “Gaan kyk na
die mier ..” Die mier is so klein ou dingetjie (wat ons baie keer nogal
groot frustrasie besorg!) en die Bybel sê ons moet bietjie stilstaan en by
die mier leer. Ons word aangemoedig om self-gemotiveerd en self-gedissiplineerd
te wees. Ons moet doen wat reg en goed is. Ons moet ons dagtaak met ywer en
toewyding doen, nie omdat iemand sien wat jy doen of jou dwing om dit te
doen nie, nie omdat jy ’n beloning of erkenning of applous daarvoor gaan kry
nie, maar omdat dit die regte ding is om te doen. “Gaan kyk na die mier ...
hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy
kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd” (Spr.
6:6-8)
~ Wilna |
|
“Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar
wees dom wanneer dit by sonde kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in
julle lewe gee nie”. (Rom 16:19, Die Boodskap). Ons moet ons aandag en
energie fokus op die goeie, die regte, die mooi dinge waarmee ons onsself
kan besig hou. Vind uit wat God se wil is en dóén dit. Aan die ander kant
moet ons ons rug draai op die slegte en die verkeerde dinge wat ons om elke
hoek en draai wil intrek en verlei. Daardie dinge is nie vir God aanvaarbaar
nie en ons moet as’t ware daarvan weghardloop. Staan sterk, sê nee vir sonde.
Wees slim, doen goed.
~ Wilna |
|
As jy treur, as jy siek is, dalk in nood verkeer, of
vasgeketting is in die tronk van jou omstandighede of in die donker van
depressie is, kyk op en sien voor jou die die Here as die Geneesheer, die
Trooster, die Bemoediger. Jou Geneesheer is gereed met sy olie om jou
stukkende plekke te behandel. Die Trooster het ’n bos blomme in sy hand om
jou mee te bederf. Die Bemoediger wil jou hart kom aanraak en heelmaak met
sagte woorde. Hy wil vir jou gee: “... flowers in place of their sorrow,
olive oil in place of their tears, joyous praise in place of broken hearts”
(Jes. 61:3, Contemporary English Version)
~ Wilna |
|
“Ek sal self my kleinvee se Herder wees ... Ek sal dié soek wat weggeraak
het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat
seergekry het, die swakkes help.” (Eseg. 34:15-16) Hierdie is een van my
gunsteling tekste, want dis altyd vir my ’n troos en ’n aanmoediging om te
weet dat al het ek wát verkeerd gedoen, al het ek hoe vêr afgedwaal, al het
ek my eie koers ingeslaan en hoeveel keer versuim om te glo en te bid, die
Here sal my weer kom soek en op sy skouers terugdra. Hy sal my weer vergewe,
my weer skoonmaak, my weer versorg en vertroetel. Sy genade en vergifnis sal
altyd beskikbaar wees vir my. Ek dank en prys Hom sommer net weer daarvoor.
~ Wilna |
|
“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die
oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor. 5:17) Toe ek Jesus aangeneem het
as Verlosser en gekies het om Hom te volg, het ek ’n splinter nuwe mens
geword. Ek het ’n nuwe naam, nuwe hart, nuwe doel, nuwe gesindheid en ’n
nuwe toekoms gekry. Ek het ’n “extreme make-over” gekry – verniet! Ou
gewoontes en lewenswyse het nuut geword, ek kon ’n nuwe blaadjie omslaan,
danksy die Here se genade! “Dit alles is die werk van God!” (2 Kor. 5:18)
~ Wilna |
|
“Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding
hardloop ... hou Hom voor oë ... dan sal julle nie geestelike moeg word en
uitsak nie” (Heb. 12:1-3). Om moeg te word, op te gee en uit te sak in die
lewenswedloop is maklik en vereis geen spesiale talent of vermoë nie. Maar,
as Jesus jou afrigter en aanmoediger is, dan stort Hy krag, energie en
uithouvermoë in jou in. Hy keer dat jy tou opgooi wanneer die opdraandes kom
. Maak nie saak hoe moeg jy is, of wat vir jou voorlê nie, hou Hom voor oë
en druk deur.
~ Wilna |
|
“Gaan vier fees, eet en drink... Hierdie dag word gewy
aan ons Here. Moenie bedroef wees nie.” (Neh. 8:11) Ons kan en moet ons lewe
geniet en nie die tyd net ongemerk laat verby gly, of opgevreet word deur
die swoeg en sweet van ons werkslewe nie. Al kan jy nie elke dag iets nuuts
of opwindend of buitengewoon doen nie, kan jy steeds alledaagse klein
dingetjies geniet en waardeer. Gee bv. die voëltjies in jou tuin kos en hou
hulle dop; luister musiek en sing of dans saam; deel ’n koppie koffie met
iemand spesiaal; staan vroeg op en verwonder jou aan die sonsopkoms of
wolkformasies; lê ’n paar minute langer in die warm bad, gaan eet vanmiddag
jou toebroodjies in die tuin en nie sommer terwyl jy aanhou werk nie; kyk
deur ou foto-albums ... en so kan die lys aangaan! Joyce Meyer het iewers
gesê: “You are supernaturally equipped with the power of God to live
everyday life in an extraordinary way.”
~ Wilna |
|
“Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbygaan.”
(Ex 33:19) Die Here wil iets van sy grootheid en sy goedheid en sy liefde
aan ons vertoon. Hy wil hê dat ons moet sien dat Hy die God is wat mense
help, wat jammer is vir mense en geduldig met hulle is. Hy wil hê ons moet
ervaar dat Hy altyd getrou bly, dat Hy altyd sondes vergewe en vergeet, dat
Hy ons aanvaar en aanneem as sy kinders. ... mag jy Hom vandag só voor jou
sien verbygaan.
~ Wilna |
|
“Tot U, Here, rig ek my” (Ps. 25:1). Met hierdie woorde
gee Dawid sy lewe, sy hart, sy gees oor aan die Here. Ek wil dit ook vandag
vir die Here sê en daarmee as’t ware myself na Hom toe oplig. Dit is nie net
’n tydelike draai van my gedagtes en my hart na Hom nie, maar ’n permanente
rig van my hele wese op Hom. Al my fokus is op hom ingezoem, ek stel al my
gawes en talente en tyd tot Sy beskikking, ek plaas my vertroue op Hom, ek
stel my verwagtinge in Hom. Ek tel myself op na die Here toe en ek soek hulp
by Hom, ek leun op Hom, ek reken op Hom en ek bely: “Unto thee, O Lord, do
I lift up my soul.”
~ Wilna |
|
“Moet ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?”
So vra die Here vir Moses in Eks 33:14. Asseblief, Here, sou ek antwoord as
Hy dít vir my gevra het vandag. Ek kan nêrens gaan en niks doen as die Here
nie saamgaan nie. As Hy saamgaan, sal ek nie verdwaal nie, sal ek nie val
nie, sal ek nie in die verleentheid kom nie. As Hy saamgaan sal ek nie
honger en dors wees nie, sal ek nie bang te wees nie, sal ek nie alleen wees
nie. As Hy saamgaan sal Hy my help, sal Hy vir my die pad verlig, sal Hy vir
my wysheid gee, sal ek gemoedsrus en vrede hê. Dink vandag doelbewus daaraan
dat die Here oral saam met jou is: as jy bestuur is Hy saam met jou in die
motor, as jy ’n kliënt sien, sit Hy ook daar in die vergadering, as jy
inkopies doen, staan Hy saam met jou in die tou, as jy in die dokter se
spreekkamer sit, hou Hy jou hand vas. Dink doelbewus daaraan en voel hoedat
jou hart rustig word en krag en selfvertroue en hoop jou kom vul.
~ Wilna |
|
“Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld
navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat
God beloof het” (Heb 6:12). Ons wil almal so graag deel hê aan al die
beloftes van God waarvan ons in die Bybel lees, of wat Hy persoonlik vir ons
gegee het. Dit is nie altyd vir ons maklik om te gló dat ons werklik sal
ontvang wat God belowe het nie, dis egter nog moeiliker om geduldig daarop
te wag. Hierdie teks beklemtoon vir my dat beloftes, geloof en geduld hand
aan hand loop in ons lewens. Ons moet leer om te wag, ons moet besef dat God
se tyd nie ons tyd is nie, ons moet minder haastig wees vir dinge om in plek
te val. Geduld word in Gal 5:22 genoem as ’n vrug van die Gees en daarom kan
ons die Gees toelaat om groter geduld in ons te bewerk. Ek het hierdie êrens
gelees: “’n Geduldige persoon straal kalmte uit soos een wie se voete stil
is terwyl hy gewillig op God wag om te beweeg”
~ Wilna |
|
“Maar hier by My is ’n plek waar
jy op die rots kan staan” (Eks 33:21). Sjoe, wat ’n uitnodiging bied die
Here nie vir ons nie. Hy steek sy hand uit om ons op te lig en ons voete op
’n stewige plek, naby Hom te laat staan. Miskien is jy vandag in ’n situasie
of ’n plek in jou lewe waar dit voel of jou knieë knak, waar jy raad-op voel,
waar jy onseker en onvas op jou voete voel. Kom staan op die Rots. By Hom is
daar sekuriteit, vastigheid en skuiling. Daar is geen rots soos ons God nie!
“U het my ’n ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie” (Ps.
18:37)
~ Wilna |
|
“Do not conform yourselves to the standards of this
world, but let God transform you inwardly by a complete change of your mind.
Then you will be able to know the will of God---what is good and is pleasing
to Him and is perfect.” (Rom 12:2, Good News Bible) Ons moet nie en hoef nie
aan te pas by mense se verwagtinge, eise, standaarde en idees nie. Ons hoef
nie in dieselfde boksie te pas as die res van die wêreld nie. Die Here se
wil is dat ons van binne af vernuwe en verander sal word deur die werking
van die Heilige Gees, sodat ons dít kan dink, doen, sê en leef wat vir Hóm
aanvaarbaar is en vir Hóm plesier verskaf. Transformed, not conformed!
~ Wilna |
|
Ten spyte daarvan dat Samuel van
die Here afgesmeek is en sy ouers toewy was aan die Here en hom op ’n jong
ouderdom gevat het om ’n dienaar in die tempel te wees; ten spyte daarvan
dat hy opgegroei het by die profeet Eli, lees ons in 1 Sam 3:7: “Maar Samuel
het nog nie die Here geken nie.” En ek wonder: “Hoe is dít moontlik?” Is dit
moontlik dat iemand Godsdienstig grootword, een of meer Bybels het, weekliks
kerk toe gaan, die dominee persoonlik ken, werk op die kerkbasaar,
kerk-seminare en kursusse bywoon en nog nie die Here ken nie? Dit is
moontlik, want ek was self lank gelede so iemand, totdat ek ook, soos
Samuel, gehoor het dat die Here my naam roep en ek kon antwoord: “Praat,
Here, U dienaar luister”. Ek het ’n persoonlike ontmoeting met Hom gehad en
ek kon die beheer van my lewe aan Jesus oorgee, hom in my hart innooi as my
Here en as my Verlosser en ek kon vervul word met die Heilige Gees. “Samuel
het grootgeword. Die Here was by hom...” (1 Sam 3:19). Wat van jou?
~ Wilna |
|
“Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees” (Jes.
42:21). Hy ís getrou. Dit beteken dat Hy altyd dieselfde is, onwrikbaar,
onveranderlik in sy liefde en genade. Ons kan staatmaak daarop dat Hy sy
beloftes sal hou en nakom, dat Hy nooit van plan sal verander nie. Ons kan
reken daarop dat die woorde van die Getroue ook eg en waar is en
onvoorwaardelik geglo kan word. Sy Naam is die Getroue en Betroubare (aldus
Op 19:11), daarom plaas ek weer al my vertroue op Hom.
~ Wilna |
|
“Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” So stel
Jesus in Matt. 14:27 sy dissipels gerus toe Hy in die storm na hulle toe
geloop het op die water. Noudat Hy by hulle opgedaag het, kan hulle ontspan
en die sekerheid hê dat alles okei gaan wees. Die Here sê vandag vir my en
jou ook: “Ék is hier”. Daarom kan jy gerus wees en kalm word. Gister en al
sy probleme kan jy nou maar by die Here los; môre en sy onsekerheid sal die
Here voor sorg. Lééf vandag met oorgawe, geniet die oomblik, ontspan, wees
gerus, want Hý is hier.
~ Wilna |
|
“Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam” (Ex
33:17). So het die Here vir Moses gesê. Dit geld egter vir my en vir jou ook
en ons kan dit vandag persoonlik vir onsself vat. Die Here ken my naam! Dit
beteken Hy ken my só goed dat Hy ook weet wat my behoeftes, my verlange,
probleme, vrese en vreugdes is. Hy is my goedgesind, soos vir Moses. Dit
beteken dat Sy liefde en genade op hierdie oomblik om my gevou is. Dit
beteken dat Hy wil my help, optel, red en bemoedig. Dit beteken dat Hy my
hand vashou en saam met my die dag instap om my te lei en te beskerm.
~ Wilna |
|
“Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle
werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om
nader aan die Here te leef.” (Jak 1:3, Die Boodskap) Wanneer beproewing,
toetse of swaarkry oor ons pad kom, moet ons vashou aan ons geloof, moet ons
volhard in ons vertroue op die Here. Ons moet bly glo dat Hy in beheer is.
Behou ’n “Godly-attitude”, bly fokus op wie God is en oordink sy karakter
van liefde, genade, barmhartigheid. Moenie ophou glo dat daar ’n hoër doel
is met die moeilike omstandighede waarin jy jou bevind nie en hou vas aan
die wete dat alles ten goede sal uitwerk. “You know that under pressure,
your faith-life is forced into the open and shows its true colours”
~ Wilna |
|
“Waarvoor is jy bang? As die bang vanaand kom kuier en die rus jou uitnooi
weier en die ure en sekondes vrees die donkerte se sondes. En in jou swart
komberse, dig die nag sy onheilsverse. En die doemprofetebendes preek van
hartseer en ellendes. En ongeloof se koue steel stuk-stuk jou vertroue.
Waarvoor is jy bang?” Dit is die woorde van ’n Prophet-liedjie. Daar is
duisende gelyste fobies – dinge waarvoor mense bang is. Party daarvan is
werklik, ander is sommer ’n klomp onsin, soos bv. Arachibutyro-phobia, die
vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte vasklou! Waarvoor is jy
vandag bang? Watter vrese oorweldig jou? Is jy dalk bang om jou werk te
verloor, om ’n fout te maak, ernstig siek te word, aangerand of verkrag te
word? Of is jy bang vir fisiese pyn, verlies van ’n geliefde, verwerping, of
die dood? Is jy bang vir armoede, alleenheid, of om gespot te word? Onthou,
vrees is ongesond, dit veroorsaak maagsere, migraine en depressie, dit
verlam jou en maak jou onproduktief. Dit is seker hoekom die frase “moenie
bang wees nie” so dikwels in die Bybel voorkom. Raak rustig, haal diep asem
en sê vir jouself:
Moenie bang wees nie, die Here is by my, moenie bekommerd wees nie. Die Here
versterk my, Hy help my, Hy hou my vas, met Sy eie hand red Hy my. (volgens
Jes. 41:10)
~ Wilna |
|
Ek lees nou die dag: “Don’t just talk about love, walk
in love.” Liefde is beslis nie net ’n teorie of ’n gevoel of ’n paar mooi
woordjies nie. Liefde is dade. As mens dít besef, is dit bietjie makliker om
jou “naaste” van wie jy dalk nie hou nie, lief te hê. Liefde is om in enige
situasie te doen wat nodig is. Liefde is om ander met respek te behandel, om
geduldig en vriendelik te wees, om ’n helpende hand uit te steek. Liefde is
eenvoudig om goed te wees vir ander. “... let us not love (merely) in theory
or speech, but in deed and in truth (in practice and in sincerity).” 1 Joh.
3:18. Moet sê: ek sukkel nog ...
~ Wilna |
|
“Maria het die beste deel gekies en dit sal nie van
haar weggeneem word nie.” (Luk. 10:42). Maria het gekies om by Jesus se
voete te sit en na Sy woorde te luister. Jesus sê dit is die één ding wat
nodig is, die beste plek om te wees. Ek kies ook weer om by Jesus se voete
tot bedaring te kom en perspektief te kry. Ek kom rus weer by sy voete om Sy
liefde en goedheid te ervaar. Ek kom leer weer by sy voete en begeer om
gevul en geïnspireer te word deur Sy Woord. Ek kom kniel weer in aanbidding
by Sy voete en wag op Sy aanraking. “The most important thing a Christian
will ever do is worship Jesus, and the best place to do that is at His feet”
– maak soos Maria!
~ Wilna |
|
“As U my dan goedgesind is, maak my U wil bekend, sodat
ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag.” (Ex 33:13) Dank die Here vir Sy
Woord wat ons tot ons beskikking het en wat presies dit doen waarvoor Moses
hier in Ex 33 pleit. Die Bybel spel God se wil uit, dit maak Sy
verlossingsplan bekend, dit teken vir ons ’n prentjie van wie Hy is, dit gee
vir ons instruksies vir ons optrede in elke moontlike situasie. “U Woord is
die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” (Ps. 119:105) Hoe bevoorreg
is ons nie!
~ Wilna |
|
“But you shall receive power (ability, efficiency and
might) when the Holy Spirit has come upon you ...” (Hand 1:8). Ability,
efficiency and might! Ek vra weer vandag die Heilige Gees om my vol te maak
en beheer te neem van my lewe, my gedagtes, my woorde en my dade. Ek vra
opnuut vir die krag van die Heilige Gees om my in staat te stel om effektief
te wees in alles wat ek doen, om toegerus te wees vir elke situasie, om met
gesag en outoriteit te optree. Die Woord sê: “Hy sál die Heilige Gees gee
vir dié wat vra.” (Luk. 11:3)
~ Wilna |
|
Die nag voordat Jesus gekruisig is, het hy na die tuin
van Getsémané gegaan saam met sy dissipels. Daar het Hy op sy knieë
neergeval en doodsbenoud ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels
geword wat op die grond val, lees ons in die Bybel. Hy het gebid en die
Vader gesmeek vir uitkoms omdat Hy geweet het wat die volgende paar ure vir
Hom voorlê. Tydens Sy gebed het ’n engel gekom om Hom te versterk. Vir Sy
dissipels het Hy gesê: “Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie”.
(Luk. 22:40) Dit is vandag ook vir ons belangrik om te waak en bid. Ons moet
bid dat die Here ons krag sal gee sodat ons dit wat vir ons voorlê kan
hanteer. Ons weet nie wat môre op ons wag nie, ons weet nie watter toetse,
versoekings of probleme môre gaan oplewer nie, daarom moet ons onsself
vandag versterk met die Woord en met gebed.
~ Wilna |
|
Luk. 24:13 -35 vertel van die twee volgelinge van Jesus
wat na Sy kruisiging op pad was na Emmaus. Jesus het aan hulle verskyn, maar
hulle kon Hom nie herken nie. Nadat Hy die Skrif vir hulle uitgelê het, het
hulle Hom genooi om saam met hulle oor te bly en saam te eet. Toe Jesus die
brood breek en vir hulle gee om te eet, het hulle oë oopgegaan en het hulle
Hom herken. Dit herinner my aan die nagmaal waar Jesus ook brood gebreek
het, dit herinner my aan Jesus wat gesê het dat Hy die brood is wat lewe
gee. As ons glo, sal ons “eet” en sal ons oë oopgaan om Hom te sien. As ons
“eet” sal ons versadig word. As ons “eet” sal ons lewe! Dit herinner my ook
daaraan dat Jesus die Woord is en as ons die Woord “eet” en bestudeer en
toepas in ons lewens, sal ons oë oopgaan om Hom te herken en te beleef. Hy
sê: “Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig
kan word met die beste wat daar is.” (Jes. 55:2)
~ Wilna |
|
“Kom ondervind en sien sélf dat die Here goed is”. (Ps.
34:9) Mense kan vir jou vertel van die Here se goedheid, jy kan daarvan
lees, maar wanneer jy dit sélf ervaar het, dit self gesien en self geproe
het, dan sal jy daardie ware, diep oortuiging hê dat Hy goed is. Ons moet
vir onsself ontdek, ervaar, besef dat Hy goed is, dan sal dit maklik wees om
in alle omstandighede te wéét dat Hy daar is en die beste vir jou wil hê.
“Certainly you have tasted that the Lord is good!” (1 Pet. 2:3)
~ Wilna |
|
“... our first duty is to be faithful to the One we
work for” (1 Kor. 4:2). Wanneer jy vir die Here werk, of ’n bedieningstaak
doen, dan verwag Hy betroubaarheid van jou. Hy verwag dat jy die taak
deeglik en met toewyding sal doen. Daar is baie mense wat gou opgee wanneer
dinge moeilik raak, of wanneer hulle dalk bietjie teenkanting ervaar. Party
raak moedeloos en gooi tou op wanneer daar nie gou genoeg resultate is of
wanneer hulle nie genoeg erkenning kry nie. Ander raak weer gou verveeld en
soek na iets meer opwindend om te doen. Nee, wanneer jy in diens van die
Here is, moet jy volhard, vasbyt, deur druk totdat jy in jou hart die
oortuiging het dat die werk afgehandel is en die doel bereik is. “Gee jou
aandag aan die taak wat jy in diens van die Here aanvaar het, sodat jy dit
kan voltooi” (Kol 4:17)
~ Wilna |
|
Op ’n paar plekke in die Evangelies lees ek dat
Jesus mense “innig jammer” gekry het. (He was moved with compassion, sê die
Engelse vertalings). Elke keer wanneer Hy mense só jammer gekry het, het
Jesus iets gedoen om hulle nood te verlig. Hy het siekes gesond gemaak
(Matt. 14:14), Hy het skares gevoed (Matt. 15:32), Hy het blindes laat sien
(Matt. 20:34), Hy het hulle onderrig (Mark 6:34), Hy het getroos (Luk.
7:13), Hy het gereinig (Mark 1:40). Hy het nooit weggekyk nie, Hy het nie
omgegee of dit Sabbat was en Hy reëls sou oortree nie, Hy het nie omgegee of
Hy self moeg was nie, Hy was nie bang dat Hy sou “aansteek” of vuil word nie
– nee, elke keer reik Hy uit en raak Hy aan en maak Hy ’n verskil. Vandag
wil en sal Hy nog steeds dieselfde doen vir jou en vir my! ~
Wilna |
|
“Voed jouself met die woorde van die geloof en die
goeie leer” (1 Tim 4:6). Ons het kos nodig om te groei. Gesonde, voedsame,
gereelde etes. Ons kan nie vir ander wag om ons te voed nie, jy moet self
sorg vir jou kos en jy moet jouself voer! So het ons ook die
verantwoordelikheid op geestelike gebied om onsself te voed. Ons dieet moet
“woorde van geloof” insluit: waarheid-woorde uit die Bybel, belofte-woorde
van God, lering-woorde van geestelike boodskappe, Bybelstudies en boeke.
Sulke woorde sal ons laat groei en ons geloof opbou. Dit sal ons krag en
rigting gee vir elke dag. Dis egter belangrik om nie alles wat aan ons
opgedis word vir soetkoek op te eet nie – ons moet altyd toets dat dit
woorde van “die goeie leer” is. Lees die fynskrif op die “Nutritional
Information”-etiket voor jy eet en maak seker van die voedingswaarde en die
krag van dít wat jy inneem. “Die woord van God is lewend en kragtig” (Heb
4:12) – voed jouself daarmee!
~ Wilna |
|
Nadat Lasarus dood is en Jesus by sy susters, Maria en
Martha se huis opgedaag het, laat Jesus vir Maria roep. Sy het gou opgestaan,
na Hom toe gegaan, by Sy voete gaan kniel, gehuil en haar hart voor Hom
uitgestort. So lees ons in Joh. 11:17-32. Hierdie is vir my ’n “resep” om na
te volg in hartseer- en swaarkry-tye. Die Here roep jou en wil hê dat jy jou
hart by Hom kom uitstort; jy mag en moet by Hom gaan huil. Die beste plek om
in jou hartseer tyd te wees, is by Sy voete. Ek lees nou die dag dat iemand
dit die “weeping zone” noem. Lees verder vanaf vers 33 en sien Jesus se
reaksie: Hy was aangedaan, sy gemoed het vol geskiet, Hy het gehuil en Hy
het ’n wonderwerk gedoen! Ek weet dat Jesus vandag net soveel medelye en
simpatie met jou het, dat Hy saam huil wanneer jy huil, dat Hy Sy hand op
jou skouer sit en vir jou ’n uitkoms wil voorsien. Ek hoop jy kan dit glo?
~ Wilna |
|
“...casting the whole of your care (all your anxieties,
all your worries, all your concerns, once and for all) on Him, for He cares
for you affectionately and cares about you watchfully” (1 Pet. 5:7,
Amplified Bible). As liefdevolle Vader wat omgee en jammer is vir ons, wil
die Here nie hê dat ons moet swaardra aan bekommernisse en onder spanning
knak nie. Eens en vir altyd kan ons al daai kwellinge, sorge, onrustigheid,
angs en laste op Hom kom afpak. Hy weet wat om daarmee te doen; Hy sal
daarvoor sorg, Hy sal alles tot ons beswil laat uitwerk.
~ Wilna |
|
“As draer van daardie naam
(Christen) moet hy God verheerlik.” (1 Pet. 4:16 ) Wanneer ons in die
huisgesin van Jesus inkom, word ons die draer van die familienaam
“Christen”. Om ’n familienaam te dra bring verantwoordelikheid mee. Ek dink
daar is té veel mense wat hulleself Christen noem, maar nie waardige draers
van die Naam is nie. Wat ons doen, dink en sê moet pas by ons naam en moet
God eer. Om die naam “Christen” te hê is ’n voorreg wat ons nooit mag
vergeet nie en nooit mag misbruik nie.
~ Wilna |
|
Gisteraand het baie mense van oor die wêreld heen na
die maan opgekyk, dit bewonder en dit gefotografeer omdat dit ’n spesiale,
super, volmaan was, groter en helderder as gewoonlik. Die maan op sigself is
nie ’n ligbron nie en weerkaats maar net die lig vanaf die son. Is dit nie
hoe ons ook is nie? Energieloos, kragteloos, lig-loos as die lig van Jesus
nie op ons skyn nie. Toe ek gisteraand (en vanoggend) so na die maan opkyk
het ek vir die Here gesê dat ek ook ’n super maan wil wees wat Sy lig kan
weerkaats na die wêreld, ’n skitterende maan wat “super” vol is van Sy krag,
Sy lig, Sy glans, Sy skoonheid - “Hy wat ... die maan en sterre beveel om
snags te skitter” (Jer. 31:35)
~ Wilna |
|
“Walk straight, act right, tell the truth” (Ps. 15:2).
Drie basiese riglyne vir die lewe. Drie dinge waarna ons moet streef. Drie
dinge wat ons daaglikse besluite en keuses moet beheer en ons gesprekke moet
beïnvloed en ons optrede moet bepaal . Drie dinge wat ons sal onderskei as
volgelinge van Jesus. Drie dinge wat die wêreld ’n beter plek sal maak. Wie
hierdie dinge doen, sal altyd vas bly staan, sê die Woord.
~ Wilna |
|
“Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud
aanvaar word: Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te verlos”
(1 Tim 1:15). Hierdie is die heel beste nuus wat daar is. Dit is seker ook
hoekom die Bybel die “goeie nuus” of die “blye boodskap” genoem word! Ons
is vry en vergewe, gewas en geheilig, skoon en nuut gemaak deur Jesus. Ons
moet nie daaraan te twyfel nie, ons hoef nie daaroor te redeneer of te
wonder of te stry nie. Dis nie nodig dat ander boeke of profete dit te
bevestig nie. Dié boodskap is vas en waar en seker. Glo en aanvaar jý dit
sonder voorbehoud?
~ Wilna |
|
“He renews your youth – you’re always young in His
presence” (Ps. 103:5 Message). Dit maak nie saak hoe oud jy in jare is nie,
in die Here se teenwoordigheid sal jy vernuwe en versterk word. Hy gee
vermoeides krag, Hy genees gebrokenes van hart, Hy droog trane af, Hy
spesialiseer in tweede kanse, Hy maak alles nuut. Mag jy vandag vernuwe en
jonk voel in Sy teenwoordigheid en met ’n huppel in jou stap die dag aanpak.
~ Wilna |
|
The heaviest thing you can carry is a grudge... so lees ek nou die dag êrens.
Miskien is vandag die dag om daardie ou koeie finaal te begrawe, om te
vergewe én te vergeet, om die minste te wees en eerste jou hand uit te steek
na die persoon wat jy nou al so lank vermy. Ek besef dis nie maklik nie en
ek voel self ook nie eintlik lus om dit te doen nie, maar ek besef dit is
tog wat die Here van my verwag. “Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n
ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin
verkeerd doen nie. Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie
met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel
vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee.” (Lev. 19:17-18, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“He wraps you in goodness” (Ps. 103:5). Hierdie is vir
my sulke bemoedigende woorde om te lees, dit laat my binnekant so gerus en
warm voel. Hoe ongelooflik om te weet dat die Here se goedheid meer as
genoeg is om my vandag staande te hou, om my deur elke krisis en elke
moeilike keuse te dra. Sy goedheid is vandag soos ’n warm, dik, snoesige
kombers om jou gevou. Trek daai kombers so bietjie hoër op en draai dit so
bietjie stywer om jou sodat jy Sy nabyheid kan beleef en Sy goedheid vir jou
kan vóél. Mag Hy jou seën.
~ Wilna |
|
As mens die verhaal van
Manasse lees in 2 Kron. 33, sien jy ’n prentjie van ’n goddelose man, ’n
rebelse koning wat God se volk verlei het met afgode, wat die tempel
ontheilig het met Baäl-altare en ’n naakte Asjera-beeld. Verder hou Manasse
hom op met goëlery, toordery, waarsêery en die oproep van geeste. Hy het
boonop sy eie seuns as offers aan afgode verbrand. Die Bybel sê: “Hy het
gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart”. Hy is
seker loshande die ou in die Bybel met die langste lys gruwelike sondes teen
hom. Maar wat só wonderlik is, is toe Hy berou betoon en terugdraai na die
Here en tot Hom uitroep en bid vir vergifnis, het God hom gehoor en aan hom
genade bewys. (2 Kron. 33:12-13). Sjoe, hoe genadig is ons God nie. Geen
sonde is te erg of te groot nie, geen sondaar te sondig vir Sy genade nie.
“But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the
aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins
hands down”. (Rom 5:20)
~ Wilna |
|
Soms dink mens dit is net as jy besig is met geestelike
dinge soos Bybellees, kerkbywoning, of die een of ander bedieningswerk of
sendingwerk dat jy die Naam van die Here eer. Ek het net besef dat my
alledaagse werk, selfs sleurwerk, tot Sy eer kan wees. Dit gebeur wanneer ek
dit met blymoedigheid doen, wanneer ek bewus is daarvan dat Hy daar langs my
is, wanneer ek met Hom praat terwyl ek dit doen en Hom dank vir my vermoëns
om te doen wat ek doen, wanneer ek dit wat ek doen só doen asof ek dit vir
Hóm doen. “Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle
praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe
moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles
doen asof Jesus elke tree saam met julle gee”. (Kol 3:17, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke
geleentheid vrygewig te kan wees” (2 Kor. 9:11). Ek glo dat die Here ons
seën met besittings, gawes en vermoëns sodat ons weer vir ander ’n seën kan
wees. Hy maak jou “ryk” sodat jy vrygewig met jou rykdom kan wees. Wat het
jy vandag waarmee jy iemand anders kan seën? Miskien brood of ’n kombers vir
’n arme? Dalk bietjie tyd om ’n sieke te besoek en ’n blommetjie of pot sop
saam te neem? Dalk het jy woorde van aanmoediging vir ’n ryke of bemoediging
vir ’n moeë geestelike werker of dominee? Het jy dalk trooswoorde vir iemand
wat in sak en as is oor die een of ander verlies? Onthou: jy het áltyd iets
wat iemand anders nodig het. Wees vandag op die uitkyk vir geleenthede om
die Here te dien met jou vrygewigheid.
~ Wilna |
|
“Die Here julle God gaan voor julle uit ...” (Deut. 1:
30). Hy is ons Voorloper, ons Leidsman, ons Gids. Hy lei en ons kan met
vertroue volg. Jy hoef niks te vrees vandag nie, jy hoef nie bekommerd te
wees vir dit wat dalk vir jou wag nie, vir die probleme, siekte of swaarkry
wat jou dalk kan oorval nie. Die Here ken die toekoms, Hy is reeds dáár, Sy
lig skyn reeds om daai donker kronkel in die pad. Hy gaan voor jou uit, Hy
maak dit pad gelyk, Hy veg vír jou en Hy sê nou vir jou dat jy vol moed kan
wees en met vertroue vorentoe kan gaan. Kyk op na jou Gids en volg Hom. ~
Wilna |
|
“As for you, be calm and cool and steady” (2 Tim 4:5).
Ek vra vandag die Here om my te help om hieraan gehoorsaam te wees. Dit
beteken dat ek nie opgewerk sal raak nie, nie onrustig sal wees nie, dat ek
my emosies onder beheer sal hou, dat ek stil en rustig en bedaard sal wees.
Dit beteken dat ek ontspanne sal wees, selfbeheersing aan die dag sal lê en
vreedsaam sal wees. Dit beteken dat ek ordelik, standvastig en gelykmatig
sal wees, dat mense en situasies my nie sal “skud” nie. Ek sal maar vandag
gereeld moet stilbly, diep asemhaal en dié drie woorde kort-kort vir myself
herhaal... ek glo dat my strewe om dit reg te kry wel ’n verskil in my lewe
sal maak.
~ Wilna |
|
“Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye
is in u hand” (Ps. 31:15-16). Om die Here te vertrou vir die uitkoms van ’n
saak beteken dat ek nie weet hoe Hy dit gaan doen en wanneer Hy dit gaan
doen nie. Om nie die “hoe” en die “wanneer” te weet nie, maak dinge vir my
moeilik, maar dit strek en toets my geloof. Dit dwing my om in geloof en
afhanklikheid alles oor te gee met “let go.. and let God..”. Ek moet “let
go” van my eie planne, my eie begeertes en ego en ek moet toelaat dat die
Here die stuurwiel van my lewe oorneem. Hy sál my lei, Hy sál vir my wysheid
gee, Hy sál die regte deure vir my laat oopgaan, Sy vrede sál my kom toevou.
~ Wilna |
|
Ek het weer die gedeelte in die Bybel gelees oor die
reiniging van die tempel. Ek sien dat Jesus erg ontsteld was omdat sy huis
’n “rowersnes” en ’n “besigheidsplek” gemaak is, terwyl Hy dit as ’n huis
van gebed bedoel het. My liggaam is mos nou Sy tempel waar Hy deur sy Gees
woon, daarom moet ek sorg dat hierdie tempel ook ’n skoon en heilige plek
is. Ek moet my liggaam, my hart, my gedagtes skoonmaak van geldgierigheid,
van drome wat nie in lyn is met God se wil nie, van gewoontes wat nie pas by
’n kind van God nie, van woorde wat nie opbouend is nie. Mag Jesus vandag
tuis voel in my as sy tempel en mag hierdie tempel ook vandag eerder ’n huis
van gebed wees.
~ Wilna |
|
The best care for anger is delay –
’n aanhaling wat ek lees onderaan my dagboek se bladsy. Dis seker nie
verniet dat ons vir ons self sê: tel liewer tot 10, nie! Wanneer mens kwaad
of vies is, verneder is of te nagekom voel, dan is mens geneig om ’n vinnige,
snerpende, woedende antwoord te gee. Jy gryp gou daai selfoon om ’n SMS te
tik, of reageer impulsief met ’n epos wat presies sê hoe jy voel en wat jy
van die ander persoon dink – net om dalk later spyt te wees daaroor, en te
voel jy wil daardie woorde terugtrek. Die slegte nuus is: jy kán nie. Wat
gesê is, is gesê, wat geskryf is, is geskryf. Ek wil myself net weer vandag
herinner om maar my woorde te tel, om die Here te vra om ’n wag voor my mond
te plaas, om te dink voor ek sê, om bietjie te wag voor ek reageer. “Here,
help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek
sê” (Ps. 141:3, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Wat doen jý wanneer jy in
vertwyfeling is, wanneer jy wanhopig voel, wanneer jy swak is, wanneer jy in
nood verkeer of in ellende gedompel is en voel of jy vergaan, wanneer jy
vasgedruk en magteloos voel? Gee jy dalk op, verloor jy dalk jou geloof of
draai jy dalk jou rug op die Here? Óf roep jy na die Here, dink jy aan Hom
in sulke tye? Kom ek gee vir jou ’n paar tekste van mense wat uit hulle
vertwyfeling, in hulle wanhoop, onder hulle ellende na die Here geroep het:
Ps. 42:7 Uit my vertwyfeling roep
ek na U ...
Ps. 61:3 ... in wanhoop roep ek na U ...
Jona 2:1 In my nood het ek na die Here geroep ...
Jona 2:7 Toe ek wou vergaan het ek aan die Here gedink ...
Ps. 88:10 My oë is al dof van ellende, die hele dag deur roep ek na U, Here
...
Roep na Hom, want Hy sál luister,
Hy sál jou gebed verhoor, Hy sál antwoord. “Toe ek so magteloos en bang was,
het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het Hom gevra om my asseblief te help
... en my God het my gehoor!” (Ps. 18:6-7, Die Boodskap) ~
Wilna |
|
Spiritual maturity isn’t measured by how high you jump in praise, but how
straight you walk in obedience. Ek het hierdie op iemand se Facebook gesien
en toe ek die oorsprong daarvan probeer navolg, het ek agtergekom dis nogal
’n gunsteling sêding op Twitter en as Facebook-status – dit word oor en oor
ge-“share” en ge-“retweet”. Ek het gewonder hoekom so baie mense van dié
uitdrukking hou. Miskien is dit omdat hulle ook moeg is daarvan dat hulle
geestelikheid en verhouding met die Here deur mense beoordeel word op grond
van rituele en goetertjies, van geestelike praatjies en aksies. Al daardie
dinge is niks werd as mens se lewe nie die vrugte dra wat wys dat jy ’n kind
van God is nie, as die liefde, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
selfbeheersing en al daai Gal 5:22-goed nie bewys dat die Heilige Gees in
jou woon nie ... anders is jy tog maar net ’n stuk klinkende metaal.
~ Wilna |
|
Ps. 139 is een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel.
Dit is my troos, my hoop, my vrede om daaruit te weet dat die Here alles
sien, alles weet, alles verstaan en alles beheer. Hy is alomteenwoordig,
alwetend en almagtig. Ek is altyd onder sy oog en onder sy hand – Hy is naby,
Hy hou my vas, Hy sorg vir elke aspek van my lewe. Alles wat ek dink en doen,
is bekend aan Hom. “U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan
dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend.” (Ps.
139:4-5, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“... as jy
deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie
brand nie, want Ek is die Here jou God” (Jes. 43:2) Daniel se drie vriende
het dít direk beleef toe hulle in die brandende vuuroond gegooi is. Die Here
was as die “vierde man” saam met hulle in die vuur om hulle te beskerm. Daar
staan in Dan. 3 dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie, hulle hare het
nie geskroei nie, hulle klere het niks makeer nie, hulle het nie eens na
vuur geruik nie. As ons deur ’n vuurtoets moet gaan vandag, of onsself in ’n
warm, ongemaklike situasie bevind, kan ons troos daarin vind en krag put uit
die wete dat ons nie alleen is nie. Die “vierde man” is by jou om jou te
help en te red, om vir jou wysheid en insig en deursettingsvermoë te gee.
Niks is vir God onmoontlik nie – vertrou dat die “vierde man” sal opdaag in
jou vuuroond.
~ Wilna |
|
Daar
word gesê: Of all the things you wear, your expression is the most
important. Watter gesigsuitdrukking het jy vandag “aangetrek”, of opgesit
saam met jou grimering? ’n Kil, afsydige kyk in jou oë, of ’n sagte,
vriendelike kyk? ’n Neus-in-die-lug hooghartigheid, onverbiddelike stywe
lippe of nederige diensbaarheid? ’n Frons of ’n glimlag? Voordat jy ’n frons
opsit, moet jy eers doodseker maak daar is nie dalk ’n glimlag êrens
beskikbaar nie. Die goeie ding van ’n glimlag is: one size fits all! Boonop
is ’n glimlag die goedkoopste manier om jou voorkoms te verander. “Wees
altyd beskeie, vriendelik en geduldig”, sê die Bybel in Ef. 4:2. “You're
never fully dressed without a smile” – ek gaan gou seker maak ek is reg
aangetrek!
~ Wilna |
|
Ek lees in Ex 27:20 dat daar in die verbondsark lampe
geplaas is wat gevul was met besondere suiwer olyfolie, sodat die lig
voortdurend daar kon brand as simbool van die Here se teenwoordigheid. Hoe
lyk die olievlakke van jou lewe vandag? Is jy gevul en gesalf met die suiwer
olie van die Heilige Gees, sodat God se lig in en deur jou skyn, sodat God
se teenwoordigheid voltyds sigbaar is in jou optrede, jou woorde en dade?
Steek vandag daai lamp aan vriend, sit dit hoog op ’n lampstander, sodat die
donker uitgedoof kan word en God verheerlik kan word. “Julle is ’n lig vir
die donker wêreld rondom julle” (Matt. 5:14)
~ Wilna |
|
Whatever tomorrow may hold, He holds tomorrow. Hoe waar
is dié uitdrukking nie. Die Here ken alreeds môre se probleme en vreugdes.
Sy planne vir môre is reeds gemaak. Daarom kan ons Hóm vertrou vir môre se
wysheid, algehele voorsiening, gesondheid, beskerming, oplossings, ens. As
Hy dit alles vir jou gee, dan weet ons dis ’n seën en genade uit sy hand. As
jy egter nié môre al hierdie dinge ontvang nie, sál Hy jou deur die dag dra
en sál Hy vir jou genoeg genade gee vir die pakkie wat jy moet dra,
inteendeel, Hy sal sy skouer onder jou pakke insit en dit vír jou dra. “Werp
al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. (1 Pet. 5:7)
~ Wilna |
|
As jy
in die een of ander stryd gewikkel is, hetsy fisies of emosioneel, neem die
Here vandag as jou skild. Hy is ’n skild wat jou aan alle kante beskerm teen
aanvalle van kritiek, verwerping, sonde, siekte, mislukking, ens. Sy
beskerming is bokant jou, onder jou, voor, agter en binne-in jou. God
beskerm jou nie van vêr af nie. As jou skild is Hy by jou en is jy as’t ware
aan alle kante toegemaak deur sy almagtigheid. ’n Soldaat moet egter sy
skild in sy hand neem en fisies gebruik om die beskerming daarvan te hê. So
moet jy ook in geloof die Here as jou skild aanneem en verklaar: “Die
Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting” (Ps. 18:3).
~ Wilna |
|
Don’t confuse your path with your destination, just
because it’s stormy now, doesn’t mean you aren’t headed for sunshine. Ai,
mense kan so vaskyk in vandag se moeilikheid en probleme en dan dink hulle
die hele toekoms is donker en sonder hoop. Probeer verder kyk, vriend, en
glo dat die donker wolke sal opklaar en dat die son weer sal skyn. Die Here
sal vir jou uitkoms gee, jou trane sal afgedroog word, jy sal weer blydskap
ervaar. Hy gee vir jou: “... flowers instead of sorrow, olive oil in place
of tears, joyous praise in place of broken hearts” (Jes. 61:3). Ons swaarkry
in hierdie lewe is maar gering en gaan verby (2 Kor. 4:17) - ek hoop jy kan
dit glo?
~ Wilna |
|
Fault finding is like window washing. All the dirt
seems to be on the other side. Toe ek dié aanhaling lees, het ek gedink dis
mos presies wat Jesus vir ons geleer het oor die splinter in my broer se oog.
Ons is tog so gou om mense te oordeel en veroordeel, selfs medegelowiges.
Dit lyk partykeer vir my of mense nie kan wag dat die ander een ’n ou
foutjie maak sodat hy uitgevang kan word nie. Ons kyk met ’n vergrootglas en
snuffel deur ander se lewens en optrede om te kyk of ons ’n sondetjie kan
kry. En die hele tyd sit die die vuil kolle eintlik aan óns kant van die
venster! Jesus sê : “Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie
oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit
jou vriend se oog te haal” (Matt. 7:15, Die Boodskap). Ek wil minder oordeel,
meer aanvaar, meer toegee en groter liefde betoon. Ek sal liewer konsentreer
om mý kant van die venster skoon te hou.
~ Wilna |
|
Dis tog vir ons ou nuus dat ons ons naaste moet liefhê.
Dit kan partykeer net só moeilik wees! Ek dink wat belangrik is, is om te
besef dat liefde nie ’n gevoel is nie, maar ’n keuse om mense se behandel
soos Jesus hulle sou behandel. Hy het gesê: wees lief vir mekaar soos wat ek
julle lief het; vergewe, soos wat Ek julle vergewe; aanvaar mekaar soos wat
Ek julle aanvaar; dien mekaar soos wat Ek julle dien. Liefde is natuurlik
ook net liefde as dit in dade bewys word, so kom ons sit maar daai
voorskootjie aan! “And all of you must put on the apron of humility, to
serve one another” (1 Pet. 5:5)
~ Wilna |
|
As jy moeg en moedeloos is, net mooi genoeg gehad het
van al die nonsens om jou, raadop is of hand-in-die-hare sit oor jou
situasie is hierdie boodskap vir jou: “Weet jy dan nie, het jy nog nie
gehoor nie ... Hy gee vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie
... dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes.
40:28-31). Kom uit die vinnige baan uit, stop ’n bietjie by Sy krag-stasie.
Hy belowe om jou te verkwik en te verfris, om jou krag en deursettingsvermoë
te gee vir daai moeilike situasie waarin jy is. Vertrou en wag op die Here
en vlieg met arendsvlerke!
~ Wilna |
|
“As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh. 14:14). Kan ek dus
maar net my gebed afsluit met “in die Naam van Jesus” en dan is dit die
waarborg dat ek sal kry wat ek gevra het? Natuurlik nie, want die Woord sê
ook dat ons moet bid volgens God se wil, nie vir ons eie selfsugtige
begeertes nie, ons moet in geloof bid en ons moet deur die krag van die
Heilige Gees bid. As ons in Jesus se Naam bid, dan gebruik ons as’t ware Sy
gesag. Ons kan egter nie sy Naam as “towerwoord” misbruik om te kry wat ons
wil hê nie. Ons moet bid vanuit ’n opregte verhouding met Hom, dan sál ons
volgens Sy wil bid en dan sál ons kry wat ons vra. Sodoende sal Hy die eer
kry en my geloof sal versterk word. “Gebed is eerder bedoel om jou by God
aan te pas, as om God by jou te laat aanpas” (so lees ek in die boek Beleef
God).
~ Wilna |
|
“Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat
julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uitgestuur om lewens te
red ... Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God” (Gen.
45:5-8). Dit is hoe die verhaal van Josef eindig. Inplaas daarvan dat hy
kwaad is vir wat sy broers aan hom gedoen het en hulle verwyt of verwerp,
sien hy God se plan met sy lewe, hy erken dat die Here sy slegte
omstandighede ten goede gebruik het, vir Sý doel. Dit klink ook soos die
verhaal van Ester: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos
hierdie dat jy koningin geword het” (Ester 4:14). Daar is altyd ’n groter
prentjie as die realiteit waarin jy jou bevind. Die lewe is soos ’n legkaart
wat stukkie vir stukkie gebou word en dit is net God wat die hele prentjie
sien. Vertrou dat Hy in beheer is en dat alles ten goede sál meewerk, al lyk
dit glad nie op die oomblik so nie.
~ Wilna |
|
“Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer
van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam
bely”. (Heb. 13:15). Lofprysing is om respek en dankbaarheid te uiter (te sê
of te sing) teenoor die Here. Dit is om Hom te bewonder vir wie Hy is en om
sy eienskappe en sy werke te verkondig; om ons waardering uit te spreek vir
wie Hy is, vir wat Hy gedoen het en wie Hy ons gemaak het. “Ek wil die Here
loof, met alles wat in my is, wil ek Sy heilige Naam loof....” (Ps. 103:1).
Is daar vandag lof vir Hom op jou lippe?
~ Wilna |
|
Iemand sê nou die dag:
“Behoefte trek God aan”. Uit die Bybel en uit die lewe weet ek dis ’n waar
stelling. Die Here is altyd aan die kant van die onbelangrikes, dié wat oor
die hoof gesien word, dié wat verwerp word, dié wat nie hulleself kan help
nie. Hy het ’n hart vir die weduwees, weeskinders, armes en verontregtes. Hy
reik uit na die sondaars, siekes en swakkes. Waar daar ‘n nood en ’n
behoefte is, daar steek God sy hand uit. “Hy laat die geringes uit die stof
opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te
laat sit; Hy skenk hulle ’n ereplek” (1 Sam 2:8). As ons ook deur mense se
nood en behoeftes aangetrek word, sal ons God daar in aksie sien!
~ Wilna |
|
Ek lees hierdie in ’n boek van Joyce Meyer: "Many
people love things and use people to get them. But God intends for you to
love people and use things to bless them". Ek dink die Here verwag van ons
om dié liefde wat Hy in ons harte sit onvoorwaardelik uit te deel, om dié
vermoëns wat Hy ons gegee het aan te wend om te help, om nie net van ons
goed nie, maar ook van ons tyd en onsself aan ander te gee. Dit hoef nie
groot, georganiseerde bedienings te wees nie, dit kan ook net daardie beker
koue water wees waarvan Jesus praat. Hy sê: “Sê nou ’n vriend van My is dors.
Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie,
omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap
nader met ’n beker houe water in sy hand. Hy gee dit vir My vriend. Saam met
die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As
die dors man vra: “Waarom doen jy dit?” antwoord die ander man: “Omdat jy
Jesus se vriend is.” Wel, vir so iemand sal God ook sorg”. (Matt. 10:42, Die
Boodskap)
~ Wilna |
|
Die meeste van ons hardloop elke dag op die “treadmill”
van die lewe. Ons moet uithaal om by te bly en die doelwitte te haal. Jy
word net gemeet aan jou prestasies. As die liggie op die treadmill groen
flikker is jy okei. Indien jy nie die teiken haal nie, of nie die pas kan
volhou nie, voel jy skuldig, ontoereikend, minderwaardig, verwerp en
verneder. Dit is egter nie die plek waar die Here jou wil hê nie. Hy wil hê
dat jy moet goed voel oor jouself, of jy perfek presteer of nie. Hy wil nie
hê dat jy jouself haat oor foute en tekortkominge nie. “Die Here weet hoe
swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is”
(Ps. 103:14). Jou selfvertroue en waarde moet gesetel wees in wie jy in
Christus is en nie in hoe goed jy presteer nie. “Maar in al hierdie dinge is
ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37).
~ Wilna |
|
Ek hoor nou die dag ’n liedjie en dié sinnetjie daarin
tref my: “I love my beautiful life”. Die sanger sê haar lewe is wonderlik
oor al die partytjies en plesiere wat sy het, oor die liefde en vryheid wat
sy beleef. Sy sê egter ook dat haar lewe mooi is te midde van elke “high and
low”. Wat maak jóú lewe beautiful? Is dit dalk die gewone, alledaagse dinge,
soos ’n onverwagse glimlag, ’n skaterlag, ’n liefdevolle aanraking ? Of is
dit dalk om die Here se grootheid in Sy Skepping raak te sien? Is jou lewe
mooi omdat jy dit deel met spesiale mense? Is jou lewe mooi omdat jy
suksesvol is en groot drome droom, omdat jy beleef dat alles glad verloop
en elke plan mooi uitwerk? Is jou lewe ook mooi al worstel jy deur swaar tye?
Is jou lewe mooi al is jy siek en alleen? Ek bid dat jy vandag iets sal
raaksien wat jou kan laat sing: I love my beautiful life. “By Hom sal julle
die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!”
(Joh. 10:10, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“But you, o Lord, are a shield to me, my glory and the
lifter of my head” (Ps 3:3). Miskien is jy in ’n situasie waar jy verneder
en verwerp is en dit voel of jy nie jou kop kan oplig om die wêreld in die
oë te kyk nie. Miskien voel jy so minderwaardig dat jy jouself wil isoleer
en eenkant in ’n hoekie wil wegkruip. Dan wil ek jou aanmoedig om krag uit
hierdie teks te put en te wéét dat die Here jou wil en sal beskerm aan alle
kante. Hy plaas ’n skild van aanvaarding rondom jou. Hy sal jou eer en
aansien herstel. Hy ís die “lifter of my head”.
~ Wilna |
|
“U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd
gedoen word” (Hab. 1:13). Dit lyk vir my partykeer of ons vergeet dat die
Here heilig is, dat Hy verkeerde dinge haat. Ons dink ons kan maar doen wat
ons wil, soos ons wil. Ons dink ons kan ons eie wet maak van wat reg en
verkeerd is. Dan wonder ons hoekom die Here vêr voel, of hoekom ons nie Sy
seën ervaar nie. Hy draai as’t ware sy kop weg wanneer daar verkeerd gedoen
word, nie omdat Hy dit oorsien nie, maar omdat Hy té heilig is om toe te kyk.
Ons is geroep om heilig te lewe, afgesonder vir God, ánders as die wêreld.
Die Bybel sê: beywer julle vir ’n heilige lewe (Heb 12:14); “Dit is die wil
van God dat julle heilig moet lewe” (1 Tess. 4:3). Ek wil daarna streef ....
~ Wilna |
|
“Waar is die Here dan”?, is nogal ’n vraag wat baie
mense vra wanneer dit swaar gaan, wanneer daar nie antwoorde vir die vrae is
nie, wanneer die stormwind sterk is en die golwe vernietigend slaan. Ek lees
in Mark 6:45-51 dat die Here “sien” hoe swaar sy dissipels kry wanneer hulle
teen die stormwind roei. Waarmee is Hy besig? Hy bid eenkant op die berg! Hy
het nie onmiddellik opgedaag om hulle te help nie. Hulle het die hele nag
lank swaar geroei teen die storm in en tóé eers het Jesus op bo-menslike
wyse verskyn en die wind en die golwe aangespreek om te bedaar. Tóé eers het
Hy gesê: Moenie bang wees nie. Vandag weet ek dat Jesus sien wanneer ons
swaarkry, Hy is teenwoordig, Hy kyk, Hy tree in vir ons en Hy sál
uiteindelik oor die golwe na ons toe aankom om ons gerus te stel. Ons sal
nié ondergaan in die storm nie. Hy sê: “Wees stil en weet, Ek is die Heer,
Ek spreek en wind en golwe bedaar, Ek sal ook jou getrou bewaar”.
~ Wilna |
|
Joh. 6:47 (Die Boodskap) - “Die ewige lewe behoort aan
daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is”. Hoe word
ek Jesus se vriend? Deurdat ek die deur van my hart vir Hom oopmaak en Hom
innooi in my lewe. Deurdat Hy deel is van my daaglikse bestaan en ek Hóm
vertrou met elke aspek van my lewe. Ek blý ’n vriend van Jesus deur Hom
beter en beter te leer ken, deur na Sy woorde te luister, deur met Hom ’n
opregte verhouding te hê. Hoe word ek ’n volgeling van Jesus? Ek stap in sy
voetspore, ek gaan waar Hy gaan, ek doen wat Hy doen. Jesus sê: “Ek ken
hulle en hulle volg My. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie” (Joh.
10:28, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek lees so ’n mooi getuigskrif van Filemon, vriend van
Paulus. Daar word in Filemon 1:5-7 van hom gesê dat hy liefde en trou aan
die Here en aan al die gelowiges bewys het. Hy het die harte van die
gelowiges verkwik, hy het hulle in liefde gehelp en hulle moed ingepraat. Hy
was toegewy aan die Here en diensbaar teenoor sy mede-gelowiges. Hy het ’n
verskil gemaak ... ek wil ook so bruikbaar wees.
~ Wilna |
|
“My genade is vir jou genoeg” (2 Kor. 12:9). Die Here
se genade is genoeg. Genoeg waarvoor? Dis genoeg om my sonde heeltemal toe
te maak. Dis genoeg om my te beskerm teen gevaar. Dis genoeg om my te help
om te onderskei tussen reg en verkeerd. Dis genoeg om my moed te gee om
voort te beur. Dis genoeg om my in staat te stel om aan Hom vas te hou, al
het ek pyn en probleme. Dis genoeg om vrees en bekommernis teen te werk. Dis
genoeg om my hoop te gee vir môre. Dis genoeg om my naaste mee te bedien.
Mag die Here se genade genoeg wees vir jou.
~ Wilna |
|
“Take steps of faith even though you have feelings of
fear”. Woorde wat ek êrens gelees het. Ons moet partykeer loop waar daar nie
genoeg lig is nie, waar daar onsekerheid is oor die volgende tree wat jy
moet gee. Dis soos as mens deur digte mis ry en jy probeer jou oë groter
ooprek, of jy trek dit op skrefies, net om te probeer uitmaak waar die pad
is. Dan ry jy mos stadiger, wring jou hande op die stuurwiel en kyk net hier
reg voor jou. Dis ook soos om met ’n flitslig in die donker te loop. As jy
doer voor in die paadjie lig, gaan jy struikel, want dan is daar nie lig by
jou voete vir die volgende tree nie. Jy kyk dan mos maar net hier voor jou
op die grond, sonder om die res van die pad te sien en loop treetjie vir
treetjie met die bietjie lig wat jy het. Dit vergelyk vir my met die “steps
of faith” van die lewe. Al weet jy nie waarheen die pad lei nie, kan jy in
geloof vandag se treetjie gee met vandag se lig wat die Here vir jou gee,
met vandag se beskerming en voorsiening wat Hy vir jou gee. Êrens sal die
miswolke weer oplig en sal alles weer helder en lig word en sal alles weer
sin maak. Glo dit.
~ Wilna |
|
Blessed are all those
who wait for Him
(Jes. 30:18) –
nadat ek gister hierdie teks oordink het, het ek onthou dat ek êrens die
verskillende Hebreeuse woorde gelees het wat almal met “wag” of “vertrou”
vertaal is in die Afrikaanse Bybel. As mens daarna kyk dan maak dit eintlik
vir ’n mens ’n duideliker prentjie van hóé ons op die Here moet wag.
Qavah: to wait hopefully, to wait eagerly. Yachal: to wait in
hope, to trust. Damam:
to be dumb, grow
silent, be still, tarry, rest.
Chakah:
to wait,
tarry, or long for. Chul/Chiyl: to swirl down, to make no progress
for a period of time. So, chill bietjie vandag by die Here!
~ Wilna |
|
Blessed are all those who wait for Him, who expect
and look and long for Him (for His victory, His favour, His love, His peace,
His joy, and His matchless, unbroken companionship). (Jes. 30:18, The
Amplified Bible). Wag op die Here, soek na Hom, smag na Sy teenwoordigheid,
dors na die vervulling van die Heilige Gees. Verwag sy guns, sy liefde, sy
vrede, sy teenwoordigheid. As jy daarna soek, dan sal jy dit vind.
~ Wilna |
|
Kyk na die kontras in hierdie prentjie: ’n kaal, droë
bossie wat in ’n klipwoestyn groei en nooit water kry nie, teenoor ’n boom
wat by water geplant is, wat nie verwelk as die son fel is nie, wat altyd
groen blare het en voortdurend pragtige vrugte dra, selfs al kom daar ’n
droogte. As jy op mense vertrou sal jy soos daardie kaal bossie wees, as jy
op die Here vertrou sal jy die lieflike boom wees. So sê die Bybel in Jer.
17:5-9. Die Here is dáár vir jou, hardloop altyd eerste na Hom toe vir hulp
en raad, vir beskerming en voorsiening. Hy wil hê dat ons harte só op Hom
gefokus is, dat ons gedagtes só vol van Hom is dat dit vir ons die logiese
eerste plek sal wees om te soek vir krag en raad en uitkoms. “... dit sal
goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die
toekoms”. (Jer. 17:7, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Ons is so geneig om net op mense staat te maak vir hulp,
raad, wysheid en leiding. As daar probleme of moeilikheid kom, gaan ons
dikwels eerste na mense toe vir oplossings. As ons ’n nood van die een of
ander aard het, kyk ons na mense om ons te red. Die probleem is dat mense
jou kan en sal teleurstel. Jy sal dalk ’n paar keer geholpe raak wanneer jy
na mense opkyk vir hulp, maar op ’n dag gaan jy met ’n skok agterkom dat
hulle nie betroubaar is nie, dat hulle foute maak, dat hulle jok, dat hulle
nie opreg is nie, dat hulle dalk bybedoelings het, dat hulle die rug op jou
draai. Die Bybel sê keer op keer vir ons om ons vertroue in die éérste plek
op die Here te plaas en waarsku ons dat mense feilbaar is. “Moenie op mense
staatmaak nie; hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd”
(Jes. 2:22)
~ Wilna |
|
Ek sien partykeer mense wie se hande so swak en slap
hang. Dit teken ’n prentjie van wanhoop, van terneergedruktheid, van opgee,
van ek-kan-nie-meer-nie. Wat maak daai hande so slap? Ek dink dis miskien
bekommernis of swaarkry of vrees of eensaamheid. Die woord sê vir ons in Sef.
3:17: “Moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou”.
Moenie jou hande moedeloos laat hang nie, lig hulle op na die Here in gebed
– Hy is langs jou. Hy is lief vir jou. Gló dit. Ek het hierdie êrens gelees:
fear makes the hands slack, but faith and hope make them vigorous. Mag jy
vandag “vigorous” hande hê!
~ Wilna |
|
“Hy (Moses) het volhard soos iemand wat die onsienlike
God sien”. (Heb. 11:27) Toe ek hierdie teks lees het ek besef dat ek baie
keer twyfel en verflou in my toewyding aan die Here omdat my geloofsoë blind
geword het. Geloof is mos juis om oortuig te wees van dit wat jy nie kan
sien nie. Ek wil opnuut weer vir die Here sê soos die blinde in Mark 10:51:
“Ek wil asseblief graag sien, Meneer”. Ek bid dat my geloofsoë altyd helder
en oop sal wees om die Here in geloof te sien: om te sién dat daar hoop in
Hom is, om die geestelike rykdom te sién wat Hy vir my gee, om Sy krag te
sién werk in my lewe. Ek wil volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.
~ Wilna |
|
Het jy ook al in moeilike tye gekom waar jy die Here
bestook met jou vrae. Vrae soos bv. “Gaan die Here my altyd van Hom af
wegstoot? Sal Hy ooit weer vir my goed wees? Gaan Hy sy troue liefde altyd
van my af wegvat? Het sy belofte om sy kinders in hulle swaarkry te help,
nou eens en vir altyd tot ’n einde gekom? Het die Here so kwaad geword dat
Hy sy kinders nooit weer met sy liefde gaan toevou nie?” Jy is nie alleen
nie! Baie voor jou het ook al hierdie vrae gevra – lees maar Ps. 77:8-10!
Miskien kan hierdie teks jou help om rustig te word in daardie vrae-tye:
“When life is heavy and hard to take, go off by yourself. Enter the silence.
Bow in prayer, Don’t ask questions. Wait for hope to appear.” (Lam 3:28-29,
The Message)
~ Wilna |
|
“God is liefde”, is die woorde wat
ek as kind herhaaldelik op die kanselkleed in die kerk gelees het. Sulke
mooi, goud geborduurde letters. Ek dink nie ek het toe eintlik verstaan wat
dit beteken nie, ek weet nie of ek dit nou eers regtig kan begryp nie. Die
Bybel sê: “Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie; dit is te groot en
wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is
baie groter as wat ons as mense is” (Ef. 3:18, Die Boodskap). Wat ek wel
weet is dat liefde God se karakter is, dit is nie iets wat Hy het nie, dis
iets wat Hy IS. Hy kan nie anders as om ons lief te hê nie, onvoorwaardelik!
Ons hoef nie eers te presteer of sondeloos te wees voordat Hy ons liefhet
nie. Sy liefde is op Hom gebaseer, nie op jou nie. Daar is geen twyfel nie:
niks kan Sy liefde keer nie. “Letterlik niks in hierdie skepping kan ons
ooit van God se liefde skei nie” (Rom 8:39)
~ Wilna |
|
Habakuk 3:17-19 is vir my ’n lied van geloofsvertroue.
Dit impliseer dat al kan ek nog níks sien van die uitkoms nie, kan ek te
midde van enige moeilike omstandighede in geloof jubel en ’n loflied sing.
Ek kan glo dat die Here vir my krag sal gee en dat ek in staat sal wees om
bokant my moeilike omstandighede uit te styg. “Hy maak my voete soos dié van
’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop”. Nogtans sal ek in die Here
jubel ....
~ Wilna |
|
Hierdie is iemand wat ek as vriend wil hê: “Barnabas
was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ’n vaste geloof” (Hand
11:24). In Hand 4:36 lees ek dat hy Barnabas genoem is omdat hy altyd mense
moed ingepraat het. Ons het almal die een of ander tyd ’n Barnabas in ons
lewe nodig. Iemand wat vir jou perspektief kan gee op jou situasie en jou
kan aanmoedig om te volhard, iemand wat net die regte woorde op die regte
tyd vir jou gee. Iemand wat standvastig is, vol wysheid en vol van die
Heilige Gees. Vermy die pessimiste, die kritiese en swartgallige mense en
spandeer liewer tyd in die geselskap van die Barnabasse in jou lewe. Dit sal
jou opbou en versterk. Ek dank die Here vir elke Barnabas!
~ Wilna |
|
Ek leef partykeer so “back to the future” – óf ek haak
vas by gister of ander “goeie ou dae”, óf ek beplan en droom oor toekomstige
dinge. Dis egter onmoontlik vir ons om onsself emosioneel en verstandelik te
verplaas na ’n ander tydperk as die hede. As ons dit voortdurend probeer
doen, is dit verwarrend vir ons binnekant en raak ons paniekerig, moedeloos,
hooploos, uitgeput en verloor ons ons vreugde oor vandag. Ek wil nie meer
die huidige oomblik mis nie, ek wil sin en vreugde in elke “nou” vind en
hierdie oomblik benut, ek wil Ps. 118:24 sing: Dit is die dag wat die Here
gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
~ Wilna |
|
“Die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag
kry. Maar jy moet oor hom heers”. (Gen. 4:7) Ons moet voortdurend stry teen
ons sondige natuur en gewaarsku wees teen ons sondige begeertes. Ons is
egter NIE uitgelewer aan die die mag van die sonde nie en ons kán weerstand
bied. Ons het die Gees van God in ons wat ons in staat stel om ’n einde te
maak aan ons sondige praktyke, wat ons help en leer om te onderskei tussen
reg en verkeerd. Ek bid opnuut weer Ps. 19:14 & 15: Weerhou my van
opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie... Mag wat ek sê en wat ek
dink tog vir U aanneemlik wees.
~ Wilna |
|
Om alles te probeer
verstaan en verklaar wat in my lewe gebeur (of in die lewe van ander mense,
of in ons land, of die wêreld), steel dikwels my vrede en my krag. Ek besef
maar net weer, dis nie nodig om so verward soos ’n verkleurmannetjie in ’n
Smartie-boxie te voel nie en daarom sê ek vandag vir myself: laat jou lewe
aan die Here oor, Hy weet wat Hy doen, Hy ís in beheer, vertrou Hom, Hy sál
sorg. “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.
Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid
gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” (Ps. 131:2)
~ Wilna |
|
Tetelestai. Dit is wat Jesus aan die kruis sê
voordat Hy sterf. Vir my is dit die hoogtepunt van die kruisgebeure, want
hiermee sê Jesus dat Hy dít waarvoor Hy gekom het, voltooi het, sy werk is
afgehandel. Hy het met Sy liggaam en Sy bloed betaal vir die sonde van die
mensdom, vir mý! Tetelestai is ’n rekenkundige term wat op ’n rekening
aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit
beteken dat die rekening van opgestapelde sonde wat ons teen God het, nou
deur Jesus ten volle betaal is. Daar is geen skuld meer teen ons nie. “Hy
het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die
kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kol 2:14). Ek glo dit!
~ Wilna |
|
Om die Here te aanbid is ’n baie intieme en persoonlike
saak. Of dit nou met musiek, met my woorde, of met my lewe is, my aanbidding
moet met eerbied en nederigheid geskied, met opregtheid, eerklikheid en
algehele oorgawe aan Hom. “Give worship to the Lord with fear, kissing his
feet and giving him honour” (Ps. 2:11).
~ Wilna |
|
Mag die Here se teenwoordigheid elke dag so ’n
realiteit vir jou wees dat Ps. 17:15 vir jou waar sal wees: “ Ek sal
versadig word met U beeld as ek wakker word”. Beleef Hom elke oggend as ’n
werklike teenwoordigheid wanneer jy jou oë oopmaak, verwelkom Hom opnuut in
jou lewe saam met elke nuwe dag. Versadig jouself met sy beeld, met wie Hy
is, met Sy karakter van liefde, genade, omgee, geduld, barmhartigheid,
regverdigheid en ontferming.
~ Wilna |
|
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” So
sê die Bybel mos in Fil. 4:4. Ek voel nie altyd ewe bly of vrolik nie, maar
ek wéét egter dat ek nie my vreugde en blydskap in omstandighede moet soek
nie, maar dat dit in die Here lê. Om Hom te ken, om sy nabyheid te beleef,
gee “joy”, ongeag my omstandighede. Ek moet doelbewus daardie soort bly-wees
soek en begeer en as ek dit het, moet ek dit uitleef. Iemand het eendag gesê:
as jy bly is, vertel tog jou gesig ook daarvan! So: smile and be happy!
~ Wilna |
|
Die Here vul álles met Sy teenwoordigheid. Dit beteken
dat alles wat Hy IS, in elke plek op die aarde en in die heelal gevind kan
word. Daar bestaan nie iets soos ’n Godverlate plek nie! Dit beteken dat
enige plek waar jy jou mag bevind, al is dit hoe eensaam, donker, leeg ,
verdorwe of vreesaanjaend, gevul is met God se teenwoordigheid. Jy is dus
nooit alleen nie, Hy is altyd langs jou, Sy arms is altyd hier naby om jou
te vang, Sy hand digby om jou te help en lei. Hy weet alles en sien alles.
Hy hoor as jy roep, Hy hoor as jy sug of as jy huil. “U is oral. Daar is nie
’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.... Al kan ek so vinnig soos
lig beweeg of al gaan ek na die vêrste plek toe, U is daar.... Oral hou U my
vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my” (Ps. 139:7-11, Die
Boodskap)
~ Wilna |
|
God is …. incredibly incredible, extravagantly extravagant. He is awesomely
awesome in His awesomeness. He is outrageously outrageous, fantastically
fantastical, amazingly amazing and infinitely infinite. Our God is
indescribably indescribable. God CAN! God IS! God is able to do exceedingly
abundantly beyond all that we ask or think!
~ ek het hierdie woorde by iemand geleen; ek kan ongelukkig nie meer onthou
wie nie! |
|
“Baie dankie Vader, dat U boodskap so duidelik en
eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale
kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar
skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat
die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles, nie U
boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde
redenasies laat net hulle eie kop draai. Uiteindelik begryp hulle minder van
U boodskap as die kindertjies. Dankie Vader, dat U besluit het om so
duidelik en eenvoudig met ons te praat” (Matt. 11:25-26, Die Boodskap)
Moenie dat jou redenasies, jou verstand en kennis jou blinddoek wanneer jy
die Bybel lees nie. Aanvaar dit met kinderlike openheid en geloof.
~ Wilna |
|
Wanneer mens so deur Ps. 119 lees is dit opvallend dat
die digter God se Woord baie lief het, dit ernstig opneem en daarvolgens
lewe. Hy sê God se woord is vir hom soos ’n lied, soeter as heuning, hy het
dit liewer as goud (selfs baie goud, sê Ps. 19:11); hy is so bly daaroor
soos iemand wat ’n groot skat gekry het. Nou wonder ek of ons dalk té
gewoond is daaraan om ’n Bybel beskikbaar te hê? Meeste van ons het meer as
een Bybel op die rak (ek koop self ook kort-kort weer nóg ’n Bybel). Maak
God se Woord jou nog só opgewonde dat dit vir jou belangriker is as enige
ander besitting? Glo jy nog dat dit God se persoonlike woorde aan jou is? Ek
verklaar dat dit vir my betroubaar en volmaak is, dat dit altyd vasstaan en
lewe en blydskap in my lewe bring, dat dit vir my soos druppels uit ’n
heuningkoek is (Ps. 19:11). Ek sê saam met Ps. 119:131: “In my desire for
your commands I pant with open mouth”
~ Wilna |
|
Miskien het jy vandag ’n groot probleem voor jou. Jy
het dalk jou werk verloor, miskien het jy iemand aan die dood afgestaan,
dalk is jy met ’n groot siekte gediagnoseer, dalk vir ’n egskeiding
gedagvaar, miskien het jy uitgevind jou kind stap op verkeerde paaie of dalk
klop die balju aan jou deur. Jy staan met jou hande in die hare en vra: waar
sal my hulp vandaan kom? Dan bid ek vir jou dat jy jouself sal kan versterk
met die bemoediging en aanmoediging en vrede wat net die Here kan gee. “But
David encouraged and strengthened himself in the Lord his God “ (1 Sam
6:13). Sê vir jouself: die Here se genade sal genoeg wees, môre sal ’n beter
dag wees
~ Wilna |
|
Iemand
het gesê: Faith is the ability not to panic. Geloof is nie die manier om
dinge te laat gebeur wat óns graag wil hê nie, dis ’n oorgawe aan wat God
wil. Geloof is om te erken dat God in beheer is, dat Hy die beste weet en
alles ten goede sal laat meewerk. Geloof vra dat ek die stuurwiel van my
lewenskarretjie aan Jesus sal oorgee en sal oorskuif na die passasiersitplek.
Laat jou
lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps. 37:5)
~ Wilna |
|
Ps. 115:12: “Die Here
dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot”. Seën is
om God se guns te ontvang, om lewensgeskenke van Hom af te kry, om deur Hom
bederf te word met voorspoed en geluk, om Geestelik te ontvang wat Hy belowe
het. “Hy (Jesus) het ‘n oorvloed van
geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan die goeie
dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.” (Joh. 1:16 Die
Boodskap). Mag die Here jou vandag seën!
~ Wilna |
|
“We do not touch people so lightly that it doesn’t
leave a trace” – ’n aanhaling wat ek gelees het en wat ek glo waar is. Watse
“merk” gaan ons vandag agterlaat in die mense met wie ons in aanraking kom?
Gaan ons skrape en wonde agterlaat omdat ons verneder, verkleineer, haat,
uitskel, mishandel en misbruik, of gaan ons mense opbou met ons glimlag, met
ons vriendelikheid, aanvaarding, behulpsaamheid, positiewe ingesteldheid en
Christelike liefde? Jesus sê in Matt. 25:45 : “As julle een van my vriende,
al lyk hulle vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie
brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal,
wie my vriende help, help My” (Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek het een keer iemand hoor sê: Die Here het nog níks
vir my gedoen nie. Sjoe, as jy die Here dien, net sodat Hy iets vir jou moet
doen, dan het jy Hom ernstig misbruik. Baie van ons dien die Here maar ons
kyk net vir sy hand, ons verwagting is net op wat Hy vir ons kan gee. As die
Here net vir my goeters gesorg het, en Hy nog nie vir hart gesorg nie, dan
is ek nog Geestelik leeg. Dien die Here vir wie Hy ís en nie vir wat Hy vir
jou kan doen nie.
~ Wilna |
|
“As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte
daaroor na as jy gaan lê en laat dit daarby” (Ps. 4:5). Is dit nou nie goeie
raad nie? Wanneer mens jou ontstel, of as jy kwaad word vir iemand, is die
natuurlike volgende stap om ’n oorvloed onvleiende woord te laat stroom, om
die persoon sleg te maak, jouself te verontskuldig, om te skree,
haatgedagtes te koester, jy sal miskien selfs vloek. Die raad in Ps. 4 is om
bietjie eenkant toe te gaan, rustig te word (ja, gaan lê bietjie op die
bed!), oordink die situasie en laat dit daarby. “Keep calm and carry on”!
~ Wilna |
|
Voel jy dalk verstoot, verag,
verwerp? Stap jy ’n pad van lyding en swaarkry? Ervaar jy pyn? Vermy mense
jou en draai hulle rug op jou? Is jy dalk mishandel? Miskien voel dit asof
mense niks van jou dink of jou nie ernstig opneem nie. Volgens Jes. 53:3-5
ken Jesus elkeen van daardie emosies; Hy het dit immers sélf ook ervaar op
sy kruispad. Aan die kruis het Hy nie net in ons plek gesterf vir ons sondes
nie, Hy het ook in ons plek gesterf vir elkeen van hierdie emosies. Hy het
die prys betaal wat herstel, heling, vrede en vryheid in elke aspek van ons
lewens kan bring. “Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die
prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer
gesond kan word.” (Jes. 53:5, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“Peace I leave with you; My (own) peace I now give and
bequeath to you” (Joh. 14:27, Amplified). Kan ons as kinders van God, as
volgelinge van Jesus, ook staatmaak daarop dat Hy hierdie soort vrede vir
ons sal gee? Ja, verseker! Hy gee ons Sy Gees en daarmee saam Sy vrede. Sy
éie vrede, Sý sagmoedigheid, sagtheid, tevredenheid, rustigheid, kalmte wat
alle verstand te bowe gaan. “Bequeath” beteken dat Hy Sy vrede “wetlik” vir
ons as erfporsie gee! Mag Sy vrede vandag oor jou hart en gedagtes waghou
sodat jy oor niks ontsteld of bang sal wees nie.
~ Wilna |
|
“Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar ... “ (Heb
10:24, NLV) Daar is mos ’n uitdrukking wat sê: no man is an island; dit
beteken dat mense nie hulle beste kan wees of bereik as hulle geïsoleer is
van ander mense nie. Ons het mekaar nodig: ons het nodig dat mense tyd en
aandag ons skenk en aan die ander kant het ons het nodig om iets van onsself
aan iemand anders te gee. Dit gee sin en betekenis aan ons lewe. Seker ook
dié dat daar ’n oorvloed “mekaar”- Bybeltekste is. Julle moet mekaar liefhê,
bid vir mekaar, troos mekaar, praat mekaar moed in, wees goedgesind en
hartlik teenoor mekaar, aanvaar mekaar, help mekaar, dra mekaar se laste,
wees ’n voorbeeld vir mekaar, deel met mekaar, dien mekaar, wees geduldig
met mekaar, vergewe mekaar, verdra mekaar, bewys eerbied aan mekaar, wees
eensgesind onder mekaar, leef in vrede met mekaar ... om ’n paar op te noem.
Kom ons gee aandag aan mekaar.
~ Wilna |
|
“Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou
moed!” So sê Paulus in Hand 27:22. Wat is die omstandighede waarvan hy praat?
Daar was ’n klomp manne in ’n skip op ’n stormagtige see. Die skip is
meegesleur deur ’n sterk wind. Die matrose het opgegee en die skip windaf
laat dryf en die vrag oorboord gegooi. Daar staan dat hulle baie swaar gekry
het in die storm, hulle het niks geëet nie, die son en sterre was nie eers
te sien nie. Die storm het 14 dae lank aangehou en hulle het alle hoop laat
vaar. Klink dit dalk soos die lewenstorms waarin ons onsself partykeer
bevind ... storms wat net aanhou en aanhou totdat jy alle hoop en moed
verloor? Ek vind bemoediging in die “raad” wat hier in Hand 27 gegee word.
Onder andere staan daar: moenie bang wees nie, vertrou op God se beloftes /
Sy Woord (ja, glo maar daardie bemoedigende teksversie wat iemand vir jou
SMS), hou moed. En hoor hier: “Niemand van julle sal ’n haar van sy kop
verloor nie” (vers 34). Hou moed ten spyte van die omstandighede.
~ Wilna |
|
In my Bybel is daar voor elke Bybelboek ’n stukkie oor
die agtergrond, kernverse, belangrike stellings en karakters van die boek.
Ek het die volgende gelees by Jesaja en ek is oortuig daarvan dat dit nie
net ’n belangrike stelling in Jesaja is nie, maar ook vandag in ons lewe:
“God loop ’n pad met sy volk. Die pad mag skommel tussen die uiterstes van
oordeel en redding, swaarkry en vreugde, wanhoop en hoop, maar God is by
elke uiterste teenwoordig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee”. Ek glo dit!
~ Wilna |
|
Ek wil nog iets (vir die laaste keer) sê oor “veracity”
(liefde vir die waarheid). Die Bybel sê vir ons dat die duiwel die Vader is
van die leuen, daar is geen waarheid in hom nie, hy was nog altyd téén die
waarheid. Onthou dat die vyand baie keer sy leuens kamoefleer om soos
waarheid te lyk. Wanneer ons die waarheid verdraai en kamoefleer staan ons
aan sy kant. Wanneer ons vir Jesus kies, kies ons die Waarheid, want Hy is “die
Weg en die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6). Ek kies vandag liefde vir die
Waarheid en liefde vir die waarheid.
~ Wilna |
|
Nog iets oor “veracity” (liefde vir die waarheid): Die
Here haat leuens en ons moet dit ook haat. Spreuke 6:16 sê dat die Here ’n
afsku het aan ’n tong wat lieg. Kom ons sit elke oomblik die waarheid as
gordel om die heupe (Ef. 6:14). Mag dié gordel ons weerhou van enige vorm
van leuen wat oor ons lippe mag kom, laat ons vandag kies vir
waarheidsliefde. Êrens het iemand gesê: "You
cannot change the truth, but the truth can change you.”
~ Wilna |
|
Ek dink steeds oor die woord “veracity” (liefde vir die
waarheid). Dis tóg beter om altyd net die waarheid te praat; die waarheid
het ’n manier om uit te kom en partykeer word mens se leuens op die mees
ongeleë tye uitgevang. As jy jok oor iets, moet jy aanhou jok en jy moet
onthou vir wie jy watter storie vertel het. Wanneer iemand eers eenmaal vir
jou gejok het, dan bevraagteken jy daarna alles wat hy sê. Ons almal haat
dit as iemand vir ons jok, of ’n halwe waarheid vertel – laat ons dan nie
dié een wees wat die leuens vertel nie. Leuens laat verhoudings verbrokkel,
leuens breek mense, leuens is onregverdig en wreed, dit mislei en bedrieg
mense. Weerhou altyd jou tong van kwaadpraat en jou lippe van leuens (1
Pet. 3:10)
~ Wilna |
|
Die dominee het nou die dag by ons Bybelstudiegroep vir
ons ’n nuwe woord geleer: veracity. Volgens die woordeboek beteken dit
“adherence to the truth, truthfulness, accuracy, precision, something that
is true”. Dit beteken om ’n liefde vir die waarheid te hê, dit beteken jou
“ja” is “ja” en jou “nee” is “nee”. Ek moes toe maar vir myself vra: hoe
lief het ek die waarheid? Praat ek altyd die waarheid, of is daar partykeer
so ’n sousie om die storie bietjie beter te laat klink? Oordryf ek, of las
dalk ’n stertjie by as ek iets sê? Dalk vertel ek so nou en dan ’n ou
witleuentjie? Miskien word die waarheid partykeer verswyg sodat ek nie
moeilikheid kom nie? Ek besef die Here verwag 100% veracity van my; Hy sê:
“... let false lips be far from you” (Spr. 4:24)
~ Wilna |
|
Ek probeer so dikwels om die Here en sy dade te
verstaan en te verklaar en te verdedig. Tog sê die Bybel dat wat Hy dink en
hoe Hy optree baie vêr is van hoe ons dink en optree. “Kan jy begryp wie God
werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?” (Job 11:7). Die
antwoord is natuurlik nee. So sê Rom 11:33 ook dat ons nie sy planne kan ken
of verstaan nie, ons kan nie sy oordeel bevraagteken nie, ons kan Hom nie
raadgee nie. Dat ek min van God se weë kan verstaan laat my nie uitgelewer
of moedeloos voel nie, inteendeel, dit vervul my met ontsag en verwondering
en ek wil ook uitjubel: “Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe
magtig hulle almal. As ek hulle sou wou opnoem, hulle is meer as wat daar
sand is en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê”(Ps.
139:17-18)
~ Wilna |
|
As ek in die Bybel lees dat die Here sê: “Wees heilig,
want Ek is heilig”, dan wil ek alles in my vermoë doen om gehoorsaam te wees.
Ek wil hard werk en daarna streef, ek wil my inspan om meer heilig te wees,
om God te behaag, om volgens Sy voorskrifte te lewe, om onberispelik te wees.
Dis egter maar ’n opdraande paadjie! Gelukkig lees ek toe hierdie gebed met
’n belofte daarby in 1 Tess 5:23 - 24: “Mag God julle volkome aan Hom
toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam so bewaar dat
julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.” En
hier kom die belofte: “Hy sal dit ook doen....”. Hý sal my heilig maak, Hý
sal my aan Hom toewy, Hý maak my onberispelik, Hý maak my skoon, Hý maak my
nuut – ek vertrou Hom om my oomblik vir oomblik meer heilig te maak.
~ Wilna |
|
“Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder
hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle
’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my
bepalings nakom en daarvolgens optree” (Es 11:19-20). ’n Kliphart is
afgestomp en hard en geslote. God se stem kan nie deurdring na so ’n hart
nie. ’n Kliphart luister nie na die Here nie, hy volg sy eie verharde weë.
’n Vleishart is sag, sensitief en ontvanklik vir die aanraking van die Here.
’n Vleishart voel die Here se hartklop en luister na sy sagte, teer stem.
Kom, doop vandag jou hart in die stroom van lewende water by die Here, sodat
dit weer sag kan word.
~ Wilna |
|
“Jy moet die
Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele
verstand en met al jou krag”. (Mark 12:30). Met jou héle siel. Die siel van
die mens word baie keer beskryf as die samevatting van gedagtes, wil en
emosies. Om die Here met my hele siel te dien en lief te hê, vra daaglikse
bekering in al drie hierdie areas van my lewe. Die Bybel sê: “Julle gees en
gedagtes moet nuut word” (Ef. 4:23). Kry nuwe gedagtes wat op God se dinge
gefokus is. My wil moet buig, my eie ek moet uitskuif, sodat ek wil wat God
wil. Ek moet die beheer van my emosies oorgee aan die Heilige Gees, sodat
selfbeheersing, geduld, vreugde, vrede, vriendelikheid, liefde, ens. sal
seëvier oor woede, haat, naywer, jaloesie en alle ander negatiewe emosies.
Ek gee my hele siel.....
~ Wilna |
|
Wat beteken dit om geestelik volwasse te wees? Dit
beteken om alles oor jouself en oor God te weet wat jy behoort te weet; dit
beteken dat jy jou Goddelike doel bereik het (dis die afleiding wat ek maak
wanneer ek Kol 1 :28 in Die Boodskap lees). Is enige een van ons al daar? Ek
glo nie. Die lewe word immers in die Bybel met ’n wedloop vergelyk – die
wenstreep lê nog voor. Ek moet my egter inspan in my deelname aan dié resies.
Dit kan net plaasvind as my wegspringblokke ’n intieme, persoonlike
verhouding met Jesus is. Ek kan net vorder op die pad as ek die Woord as my
basis het, as ek die kennis wat ek daaruit kry in my lewe toepas, as ek my
lewe daarby aanpas en as ek gehoorsaam is aan God se opdragte. Ek kan net
vorder op die pad as die Heilige Gees my lewe só beheer dat Sy
teenwoordigheid sigbaar is in liefde, vrede, vreugde ... ens. Ek sal net by
die wenstreep van geestelike volwassenheid kom as ek volhard. Aanhouer wen!
~ Wilna |
|
... ek kom niks kort nie, sê Ps. 23:1. Nou wonder ek
soms: wat moet ek alles hê om niks kort te kom nie? Kol 2:11 (Die Boodskap)
vra dieselfde vraag: “Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle
sodat julle niks kortkom nie?” Dis nie ’n lekker nuwe kar nie, nie ’n
pragtige huis nie, nie ’n stewige bankbalans nie, nie ’n meelewende gemeente
nie, nie ’n kragtige bediening nie, nie ’n belangrike posisie nie, nie ’n
eksotiese bord kos nie. Lees ek vêrder in Kol 2:11-17 kry ek hierdie lysie
goed wat ons by Jesus kry en dit is wat maak dat ons waarlik niks kortkom
nie:
Christus neem om sondige natuur weg, Hy gee ons ’n nuwe begin, ons was
geestelik dood, maar nou léwe ons saam met Jesus, Jesus het al ons skuld
weggeneem (ons rekening hang nou aan die kruis), Christus het die geestelike
magte verslaan, ons mag maar vergeet van alle onnodige reëls. Ons het lewe
in oorvloed!
~ Wilna |
|
“Believe in the Lord Jesus Christ (give yourself up to
Him, take yourself out of your own keeping and entrust yourself into His
keeping) and you will be saved.” (Hand 16:31, Amplified Bible). Ek kies
sommer net weer vandag om myself uit my eie sorg uit te haal en my aan die
Here se sorg toe te vertrou. Ek vertrou dat Hy alles ten goede sal laat
meewerk vir my. Ek wéét Sy plan vir elke oomblik van my lewe is beter as my
eie planne. Ek laat my lewe aan Hom oor, Hy sal sorg.
~ Wilna |
|
Jesus groot bo almal...
so begin ’n liedjie wat ons graag sing en vandag is dít ook my lofsang en
eerbetoon aan Hom. Hier is ’n klompie tekste wat daardie waarheid bevestig
en wat my met absolute verwondering laat oor Jesus se grootheid:
Hy is verhewe bo alles (Rom 9:5), Hy het die eerste plek in die heelal (Kol
1:18), sy Naam is bo elke naam (Fil. 2:9), Hy is die Eerste, verhewe bo die
skepping (Kol 1:15), voor alles was Hy al daar (Kol 1:17), alles is deur Hom
en vir Hom geskep (Kol 1:16), Hy is die Koning van die konings en die Here
van die heersers (Op 19:16). “Die
grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan
U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy;
U is bo almal verhewe”. (1 Kron. 29:11).
~ Wilna |
|
“Hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die
opregtes” (Ps. 112:4). As mens in die donker loop, dan rek jy mos sommer jou
oë groter in die hoop om ietsie te kan uitmaak. Ek wil vandag vir jou sê dat
daar nie ’n plek so donker is dat die Here se lig nie daar kan inskyn nie.
Kyk en soek, vriend, daar ís ’n ligstraal om vir jou die pad aan te wys –
miskien verlig dit die pad net vir jou een volgende tree, maar gee daardie
tree in geloof en glo die Here wanneer Hy sê: “Ek verander die donker paaie
voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk” (Jes. 42:16)
~ Wilna |
|
Dit is nie verniet dat die woord “vrede” deel is van
die woord “tevrede” nie. As ek ware vrede in my hart het, sal ek vrede hê
oor my omstandighede, dan sal ek tevrede kan wees met wat ek het, en nie
meer en meer begeer, of onvergenoegd wees oor my lewensomstandighede nie. Ek
sou graag ’n getuienis soos Paulus wou hê hieroor: “Ek is en bly altyd
tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie
kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek
net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir
my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die
slegte, sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is” (Fil. 4:12-13, Die
Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek dink ons almal begeer die een of ander tyd meer
wysheid. Ons wil mos graag weet wat die regte manier is om op te tree en hoe
om die beste besluite te maak; ons wil die lewe verstaan, ons wil mense
verstaan, ons wil die kuns om te lewe bemeester. Spreuke 2 sê dat ons ons
moet inspan om wysheid te bekom. Ek lees dat Einstein gesê het: “Wisdom is
not a product of schooling, but a lifelong attempt to acquire it”. Hy was
reg, want ons kan nie wysheid in ’n boek of universiteitskwalifikasie kry
nie. Ons kan wysheid net by die Here kry – so sê Jak 1:5 “As een van julle
wysheid kortkom moet hy dit van God bid”. Wanneer Goddelike wysheid sy plek
in jou lewe ingeneem het, sal oordeelkundigheid jou vergesel en
verstandigheid sal oor jou wag hou (volgens Spreuke 2:10-11). Dit gaan goed
met die mens wat wysheid gevind het!
~ Wilna |
|
Om sonder die Here te lewe is soos om op ’n dun
draadjie te vertrou, of op ’n spinnerak staat te maak (aldus Job 8:14) –
daar is geen sekuriteit of vastigheid, geen hoop of vooruitgang, geen
verwagting of toekoms. Sonder die Here kan jy nie regop bly nie, sal jy
verskroei in die hitte van die stryd, of verdrink in die lewenstorms. Moenie
van die Here vergeet nie! Dien Hom, volg Hom, loof Hom ....
~ Wilna |
|
Ek is maar net weer vandag diep bewus daarvan dat niks
wat ek besit of kan doen aan myself te danke is nie. Dit is genade en
geskenke van God. Ek kan nie op my eie krag, eie vermoëns, dit wat ek bereik
het, of selfs op my gesondheid roem nie. “Jy kan dalk dink: my krag en my
sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God
nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te
verwerf.” (Deut. 8:17-18), of soos die liedjie se woorde sê : “wat ek is, is
net genade, wat ek het, is net geleen ....”
~ Wilna |
|
Selfs al gaan ek deur donker dieptes .... so sê Ps.
23:4. Ek wil so graag glo dat ons as kinders van die Here nooit deur donker
dieptes hoef te gaan nie, maar die realiteit is tog dat baie van ons wel een
of ander tyd daardie donker dal sien, daardie diep put beleef, daardie
stormwaters teen ons voel slaan. Wat vandag vir my uitstaan in hierdie vers
is dat die donker dieptes slegs ’n deurgang is – miskien iets soos ’n tonnel,
en aan die ander kant is daar beslis lig. Die Here laat NIE sy kinders
alleen deur die donker dieptes gaan nie – weet verseker dat Hy jou daardeur
dra, dat Hy sáám met jou daarin is én dat die moeilike pad weer sal
verbygaan, daar sal ’n einde kom aan die donker tonnel. Hoe sê die
spreekwoord? This too shall pass.
~ Wilna |
|
“Faithful is He who is calling you and utterly
trustworthy” (1 Tess 5:24, Amplified Bible). Wat ’n mooi byvoeglike
naamwoord om te beskryf hoe betroubaar en vertroubaar en vertrouenswaardig
ons Here is: “utterly”. Dit sê Hy is volkome, heeltemal, totaal, absoluut,
voluit, eenhonderd persent, sonder voorbehoud, geheel en al, ten volle, in
oortreffende mate betroubaar. As jy vandag hoor dat Hy jou roep, dan kan jy
heeltemal, eenhonderd persent, sonder voorbehoud jou vertroue in Hom stel en
jouself aan Hom oorgee – Hy sál jou nie teleurstel nie.
~ Wilna |
|
“Open your mouth and taste, open your
eyes and see – how good God is. Blessed are you who run to Him” (Ps. 34:8
The Message). Dié wat in die Here se arms inhardloop, is geseënd en gelukkig,
want dis daar dat jy sy goedheid tasbaar sal beleef. Dis daar waar jy Sy
versorging sal kan proe, waar jy die sagtheid van Sy vaderhart sal voel en
die liefde in Sy oë sal sien. Hardloop self ... proe self ... sien self!
~ Wilna |
|
“Worry often gives a small thing a big shadow” – ek het
dit êrens gelees. Om jou te veel te bekommer oor iets is soos om ’n eierwit te klits. Dit wat min en kleurloos is, word dik, skuimerig en wit. Nou ja,
van opgeklitste eierwit kan jy darem lekker skuimpies bak, maar as jy
opgeklits is van bekommernis raak jy knorrig en depressief, kry jy hoofpyn
of dalk ’n maagseer, dan lyk die skaduwee oor jou probleem groot en donker,
dan raak dit vir jou onmoontlik om enige silwer randjie raak te sien en jy
weier om sê: môre sal die son weer skyn. “... wie van julle kan deur hom te
bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt. 6:27) Moenie jou
bekommer nie, want jou Vader in die hemel weet wat jy nodig het, Hy sal sorg.
“Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg” (Ps. 55:23). So eggo
1 Pet. 5:7 en Fil. 4:6 ook. Mag die rus en vrede van die Here vandag oor jou
bekommernis kom lê.
~ Wilna |
|
Ek lees in Ps. 31:10-16 van Dawid se swaarkry. Miskien
voel jy dalk ook soos hy: jou oë is moeg van al die huil, jy is totaal
uitgeput, jy word al hoe maerder van bekommernis, jou krag neem af, jy voel
oud van al die swaarkry wat jy al beleef het, mense spot met jou, mense
vermy jou. Probeer Dawid se raad: stel jou vertroue in die Here, erken dat
Hy jou God is wat in beheer is van alles en bely: My tye is in U hand, U beheer my lewe van kop tot tone. “Wees dus sterk en hou goeie moed, julle
almal wat julle vertroue in die Here stel” (Ps. 31:25)
~ Wilna |
|
"Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag
om ons te red uit die brandende oond en Hy sal ons ook red uit u mag" (Dan
3:17). Dit klink mos soos die onwrikbare geloof van ’n kind van God. Dit is
’n kragtige getuienis oor God se mag en sy reddende krag. Maar ... dan voeg
Daniël by: "selfs as die Here dit NIE doen nie.....". Laat hy dalk so
agterdeurtjie oop vir ingeval God nie opdaag om sy vriende uit die brandende
oond te red nie, vir ingeval God nie sy gebede beantwoord nie, vir ingeval
God nie magtig genoeg is nie? Nee! Hy gee erkenning dat God soewerein is en
dat Hy kan en sal maak wat Hy wil. As die Here nie gaan doen wat Daniel
verwag nie, beïnvloed dit glad nie sy geloof en vertroue in die Here nie,
dit laat hom nie verslap in sy toewyding aan die Here nie. Ek wil ook so in
totale oorgawe vir die Here sê: doen slegs U wil Heer, U Pottebakker, met my
die klei...
~ Wilna |
|
Ek dink nie daar is iemand wat kan sê dat hy nog nooit
’n fout gemaak het nie. Dis nou maar die realiteit van die lewe. Onthou
egter dat jou foute nie bepaal wie jy is nie; wat jy leer uit jou foute, sal
baie meer oor jou karakter sê as die feit dat jy ’n fout gemaak het. Moenie
in sak en as gaan sit en depressief raak oor jou foute nie, erken dit, bely
dit voor die Here. Geen fout is vir die Here ’n verassing of ’n skok nie, Hy
weet reeds daarvan. Dit troos my ook om te weet dat Hy begrip het vir my
foute. “Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net
klein en swak mensies is” (Ps. 103:14, Die Boodskap). Staan maar weer op as
jy geval het, draai maar weer terug as jy verdwaal het, Sy genade sal vir
jou genoeg wees. Jy is ’n wenner as jy een keer meer opstaan as wat jy geval
het.
~ Wilna |
|
“Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al
weer” (Ps. 30:6). Het jy dit ook al ervaar dat dinge saans net te donker lyk
en wanneer jy gaan slaap voel jy bedruk en depressief, maar die volgende
oggend lyk dinge sommer net beter en sien jy weer kans vir die lewe? Dis
asof die Here deur die nag alles kom nuut maak het, asof Hy met opstaantyd
net weer ’n groter porsie genade en liefde op jou kom uitstort het. So sê
Klaagliedere 3:22-23 ook: “Daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is
elke môre nuut”. Mag jy elke dag saam met die nuwe sonsopkoms ervaar dat sy
teenwoordigheid vars en nuut en seker is in jou lewe.
~ Wilna |
|
“In U hande gee ek my lewe oor”, so bely Dawid in Ps.
31:6. So bely ek ook opnuut vandag. Ek kan net my lewe aan die Here oorgee
as ek ten volle op Hom vertrou. Ek kan Hom net vertrou as ek Hom regtig ken.
Ek ken Hom as my rots, my bergvesting, my toevlug; ek ken Hom as ’n getroue
God wat hoor as ek roep, wat my nooit sal teleurstel nie (soos wat Ps.
31:1-6 sê). Ek kan altyd op Hom reken, Sy hand dra my veilig deur ’n krisis,
Sy hand hou my styf vas, Sy hand lei my op die regte pad. Ek kén sy
Vaderhand, daarom gee ek my lewe oor in Sy hande.
~ Wilna |
|
“’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy
gee, sien Hy” (Spr. 5:21). Wanneer ek hierdie teks lees, voel ek so skaam om
te dink dat die Here alles weet wat ek dink en sê en doen. Hy sien alles wat
ek dalk verkeerd doen, alles wat ek versuim om te doen, al my negatiewe
gedagtes. Dis dán vir my ’n aansporing om ’n heilige lewenswandel na te
streef en te vra: wat sou Jesus doen? Aan die ander kant gee hierdie teks
ook vir my so ’n verligting, want ek weet dat niks wat met my gebeur, niks
wat oor my pad kom vir die Here ’n verrassing is nie. Alles is oop voor Hom,
Hy wéét daarvan, Hy sien dit raak. Ek het die versekering dat Hy sién en dat
sy hand daar is om my te help en te lei en te beskerm.
~ Wilna |
|
Iemand skryf nou die dag dié drie woorde oor die
kinders van die Here: geken, gekies, geweef. Hoe waar is dit nie! Die Here
sê mos dat Hy elkeen van ons se naam ken, Hy roep ons op ons naam, Hy
graveer ons naam op sy handpalms en dan sê Hy dat Hy ons nooit sal kan
vergeet nie. Hy het ons voor ons geboorte al geken, elke stukkie detail,
want dit is Hý wat ons met ’n plan aanmekaar geweef het daar in die
baarmoeder. Dáár het Hy ons al gekies as die kroon van sy skepping, as die
mense oor wie Hy sy liefde en genade wil uitstort, vir wie Hy sy Seun sou
gee, in wie Hy sy Gees sou uitstort. Ai man, glo tog nou dat jý die appel
van Sy oog is!
~ Wilna |
|
Ek het lank gewonder wat dit beteken as Ps. 23:3 sê dat
die Here ons op die regte paaie lei “tot die eer van sy Naam” (for His Name
sake, om Sy Naam ontwil). Ek weet steeds nie, maar ek dink dat ’n lewenswyse
wat volgens die Woord is en wat die vrug van die Gees openbaar, vir die
mense om ons wys wie die Here is. Dit gaan daaroor dat Sy roem en Sy
reputasie (dit wat mense van Hom dink) groter word, wanneer ons die regte
paaie loop. Dat ons die regte pad loop gaan nie oor ons nie, maar oor Hóm.
Daarom wys Hy die pad, Hy leer ons die regte pad, Hy leer ons om die regte
pad te kies.... om Sy Naam ontwil.
~ Wilna |
|
Daar is ’n geheime plek, ’n
wegkruipplek, ’n plek waarvan net God se kinders weet. ’n Plek waar ons
veilig is, waar ons krag ontvang, waar ons gevoed en opgebou word, waar ons
die lewe in oorvloed kan ervaar. ’n Plek waar ons kan tuisgaan en tuis wees.
Daardie plek is by die Here, naby Hom, in Sy teenwoordigheid. Ken jy dié
geheime plek? Maak dit jou permanente blyplek, vriend, want “He who dwells
in the secret place of the Most High, shall remain stable and fixed under
the shadow of the Almighty” (Ps. 91:1).
~ Wilna |
|
“Die Here kyk nie na dieselfde
dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die
innerlike”. (1 Sam 16:7). Wie jy uiterlik is en wat jy uiterlik doen, bepaal
jou goeie naam by mense, maar jou innerlike lewe bepaal jou aansien by die
Here. Mense kyk buite, die Here kyk binne. Wat gaan aan in my binne-lewe? Is
daar afguns en hoogmoed of sagtheid en liefde? Woede en haat of
selfbeheersing en vriendelikheid? Vyandskap en verdeeldheid of geduld en
goedhartigheid? Wat die hart van vol is, sal wel oorloop na die buitekant.
Skep vir my ’n rein hart, o God ....
~ Wilna |
|
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen .... (Jes. 43:19). Glo jy
dat die Here iets nuuts in jou lewe kan doen? Dat Hy droë bene weer lewe kan
laat kry? Dat Hy uit skerwe weer iets mooi kan maak? Dat Hy ’n rivier kan
laat ontspring, affodille kan laat groei in die woestyn van jou lewe? Glo
dit asseblief, want dit ís die waarheid. Kom na Jesus, vertrou Hom; Hy
spesialiseer daarin om nuut te maak, om te vergewe, om skoon te was, om ons
te “reset” en te “restart”. Hy kyk nie terug na jou slegte verlede nie, jy
hoef ook nie! “Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk
van God” (2 Kor. 5:17)
~ Wilna |
|
“Always keep our words soft and sweet, just in case we
have to eat them”. Dis ’n aanhaling wat ek êrens gelees het en toe maar net
weer besef het hoeveel ons regtig moet let op wat ons sê. Ons woorde kan
soos dolksteke wees, dit kan mense afbreek, haat aanwakker, verderf saai. Of
ons woorde kan ’n bruisende stroom wees, ’n bron van wysheid, dit kan soos
heuning wees, soet en geneeskragtig, dit kan lewe en geluk bring, dit kan
soveel werd wees soos die fynste silwer. (Volgens verskillende tekste in
Spreuke). Laat ons maar vandag weer ons woorde tel ....
~ Wilna |
|
My broer se 6-jarige kleindogter sê nou die dag vir hom:
Sjoe, Oupa, jy het al baie blaaie omgeblaai. Dié kostelike wysheid het my
verstom. Dit het vir my so ’n mooi prentjie laat sien van ons lewensboek
waarvan ons elke dag ’n nuwe bladsy kan omblaai, elke jaar ’n nuwe hoofstuk
kan begin. Vandag het ons vandag se bladsy. Wat skryf jý op vandag se bladsy?
Daar is net vandag om vandag se bladsy te skryf. Ons kan nie nou al omblaai
na môre of volgende jaar nie, ons kan nie die storie se einde vooruit lees
nie. Daarom sê ek vir myself: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid”
(Ef. 5:16), skryf vandag wat jy moet skryf, tipex vandag uit wat dalk jou
lewensboek sal ontsier. Dis ’n nuwe jaar, dis ’n nuwe dag, ’n geleentheid om
die volgende hoofstuk mooi te skryf!
~ Wilna |
|
“Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U dra
my deur die lewe.” (Ps. 63:8, Die Boodskap). Dis so dubbel-uitdrukking: ek
klou, Hy dra my. Dit laat my dink aan hoe ’n baba-apie verbete onder aan sy
ma se pens vasklou, maar terselfdertyd tog ook so gemaklik en tevrede daar
kan hang, omdat hy weet hy is veilig en sy sal hom nie laat val nie. Ek kan
met vertroue aan die Here vasklou met dié wete dat Hy my dra. Selfs al sou
my vasklou-greep verswak, sal ek nie val nie, want die ewige God se arms is
onder my, Sy hand ondersteun my.... ALTYD!
~ Wilna |
|
Een van my gunsteling Bybelverse is Matt.
11:28. Dit is die uitnodiging van Jesus om by Hom te kom rus en asem skep.
In die Amplified Bible sê dit: “I will cause you to rest ( I will ease and
relieve and refresh your souls)”. As Hy ons binnekant wil “ease”, dan
beteken dit dat Hy dit wil losmaak, wil laat ontspan, dat Hy ons wil
gerusstel en dinge vir ons wil vergemaklik. As Hy ons wil “relieve”, dan
beteken dit dat Hy ons wil opbeur, wil help en wil ondersteun. As Hy ons wil
“refresh”, dan beteken dit dat Hy ons wil verfris, wil laaf, verkoel en
verkwik. “Kom na My toe .... en Ek sal julle rus gee”. Kom, Sy uitnodiging
is vir jóú ook bedoel.
~ Wilna |
|
Kindness is the language which the deaf can hear and
the blind can see – ’n aanhaling wat ek êrens gelees het. Kindness is mos
barmhartigheid en goedhartigheid, om ’n hand na iemand uit te steek om hom
te help, om met empatie en simpatie te luister na iemand se probleme, om ’n
stukkie brood of ’n glas water te gee, om ’n sieke te besoek, om jou goed en
jou tyd te deel. Jesus sê vir ons in Matt. 9:13: Gaan leer wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie” en in Luk. 6:36: “Wees
barmhartig soos julle Vader barmhartig is”. Hoeveel “kindness” wil jý
ontvang? Dit is hoeveel jy moet gaan uitdeel.
~ Wilna |
|
Dit is nou maar eenmaal ’n feit dat ons as kinders
van God ook in lewenstorms kan beland. Ons het egter die versekering dat ons
nie sal ondergaan in die storm nie, ons skip sal nié sink nie. Ons kan val,
struikel of verdwaal, maar ons het die versekering dat die Here ons altyd
weer sal optel en terugbring. Hier is drie beloftes vir ons:
Ps. 34: 20: “ Al word die regverdige deur hoeveel rampe getref, die Here red
hom uit almal.”
Spr. 10: 25: “ As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die
regverdige bly altyd staan.”
Spr. 24:16: “Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die
goddelose word deur rampe getref.”
~Wilna |
|
Ek het vandag my verjaardag
gevier. Ek was só bevoorreg om hordes SMS’e, telefoonoproepe en
facebook-boodskappe te kry met gebede en goeie wense. Dit sluit in wense vir
strome seëninge, liefde, genade, vrede, vreugde, gesondheid, geluk,
voorspoed en bederf. Dan was daar gebede vir wysheid, goeie besluitneming,
vermeerdering van kennis, geestelike verdieping, groter diensbaarheid en
impak in die lewens van ander. Met soveel opbouende seënwoorde wat oor my
uitgespreek is, gaan ek hierdie nuwe lewensjaar in met groot vrymoedigheid,
baie hoop en ’n buitengewone verwagting. Vir myself is my verjaardaggebed
dat ek die innerlike skoonheid van blywende beskeidenheid en kalmte van gees
sal hê. “Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie! Of ’n
vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af
wegvat nie. In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra”
(1 Pet. 3:4, Die Boodskap) .... ek soek van daardie juwele vir my
verjaardag!
~ Wilna |
|
As iemand sê: “Ek het ‘n voëltjie
hoor fluit….”, dan sit ek mos sommer so bietjie vorentoe om te hoor wat is
die nuutste, en ek is dadelik gereed om saam te twiet en tjirp! En so
versprei onnodige stories, onnodige opswepery, onnodige skinder! Ai, wees
maar versigtig as jy saampraat, want: “Loose talk has a way of getting
picked up and spread around. Little birds drop the crumbs of your gossip far
and wide”. (Ecc 10:20, The Message)
~ Wilna |
|
Ek lees hierdie aanhaling op die
eerste bladsy van my nuwe 2013 dagboek: “If you plan for one year, plant
rice. If you plan for ten years, plant trees. If you plan for 100 years,
educate mankind”. Dit klink vir my na ‘n goeie idee om in mense te belê, ‘n
“legacy” na te laat, om ‘n verskil te maak in mense se lewens wat kan
uitkring van geslag tot geslag en dalk vir ’n paar jaar ’n invloed kan hê.
Dis alles goed en wel, maar daar is iets wat nog beter is: as jy wil beplan
aan iets wat ewige waarde het, bring mense by Jesus uit. Vertel hulle van Sy
liefde, vertel hulle van sy genade, vertel hulle van sy uitnodiging, nooi
hulle uit om Hom as Verlosser aan te neem en hulle harte vir Hom oop te maak
– dan sal hulle die ewige lewe hê. Beplan dit en doen dit - tydig en ontydig,
soos wat 2 Tim 2:4 sê.
~ Wilna |
|
“U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook gaan,
is daar oorvloed!” (Ps. 65:12) Ek is oortuig daarvan dat die Here ons elkeen
se jaar ook só sal kroon en dat sy goeie gawes in oorvloed op ons as sy
kinders sal neerreën in hierdie nuwe jaar. Mag jy dit druppel vir druppel
raaksien en op jou vel voel.
~ Wilna |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|