|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2016
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
“Maar toe die volheid
van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou ...
sodat ons die aanneming tot kinders kon ontvang.” (Gal. 4:4) Toe dit tyd was
... op presiés die regte tyd, God se tyd, het Jesus na die aarde toe gekom.
Wat ’n ongelooflike oomblik in tyd was dit nie. Op daardie oomblik is al die
profesieë oor die verwagting van ’n Messias vervul. Op daardie oomblik het
nuwe koers en ewige lewe vir die mensdom moontlik geword. Op daardie moment
het redding en verlossing vir my en jou ’n realiteit geword. Dit was die
tydstip toe ons God se kinders kon word. Dit was die draaipunt van alles. As
2016 vir jou ’n uitdagende jaar was, dan hoop ek dat Kersfees vir jou die
“volheid van die tyd” sal wees, wanneer nuwe deure sal oopgaan en nuwe
geleenthede sal opdaag. As dit vir jou ’n hartseer jaar was, dan hoop ek dat
Kersfees vir jou die “volheid van die tyd” sal wees wanneer Jesus jou trane
sal afdroog. As dit vir jou ’n onseker jaar was, dan hoop ek dat Kersfees
vir jou die “volheid van die tyd” sal wees wanneer die Here jou oorvloedig
sal seën, jou sal genees en nuwe hoop en vrede in jou hart sal plant.
... die tyd het nou
ook vir my en Willem vol geword en die oomblik waarop ons ons jaar se
werksaamhede vir 2016 kan afsluit het aangebreek! Ons gaan ook nou ’n breek
neem met die skryf van ons gereelde Heuning-stukkies. Dankie vir almal wat
dit gelees en daarop gereageer het. Mooi loop, tot volgende jaar. ~ Wilna
Botha, 20/12/16 |
|
Aksies en reaksies
Newton se derde wet verklaar : "Vir elke aksie is daar 'n gelyke en
teenoorgestelde reaksie."
Dis so waar in ons lewe, want elke ding wat gebeur, word deur die
teenoorgestelde uitgedaag. En so is dit ook in ons Geestelike lewe. Probeer
iets goed doen en die onaangename dinge probeer inmeng. Dis nou maar eenmaal
so dat min dinge volmaak verloop in die lewe en soms noem ons dit sommer ou
Murphy.
Maar dit lyk my waar die Here werk word so paar natuurwette verander.
1)Lig sal ALTYD donkerte oorwin, want ons kan nie donkerte skep nie, dis
bloot donker weens 'n gebrek aan lig. So oorwin God se lig ook ALTYD die
donker.
2) God se genade sal ALTYD ons sonde oorwin. Sonde het nie 'n kat se kans
teen die "aggressiewe aanslag" van genade nie.
3) God se liefde sal ALTYD groter as Sy toorn wees, want Hy IS liefde.
4) Al lyk dit nie so in die wêreld nie, sal die kwaad altyd die goeie oorwin,
as ons ons energie op die regte manier aanwend. In ons eie land is die
lewe(vir die meeste van ons) steeds lekkerder as slegter, of hoe?
5) Daar is baie pyn in die wêreld, maar daar is steeds meer genesing.
6)Daar is baie trane, maar steeds meer lag.
7) Daar is baie oorloë, maar steeds meer vrede.
8) Daar is baie hartseer, maar tog meer vreugde.
Hoe sien jy die lewe se glas? Half-vol of half-leeg? Ek kies bewustelik om
eerder die goeie as die slegte te sien. Dan kom hierdie opdrag vir ons uit
Romeine :-
Rom 12:21 "Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die
kwaad deur die goeie." ~ Willem Botha, 19/12/2016 |
|
“Maar die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees
nie. Ek het baie goeie nuus vir julle, nuus waaroor julle nog baie lank gaan
feesvier.” (Luk. 2:10, Die Boodskap) Hierdie woorde geld sommer vandag ook
weer vir my en vir jou op die vooraand van nóg ’n Kersfeesviering. Moenie
bang wees nie! Die Herders was bang omdat daar skielik ’n engel aan hulle
verskyn het. Vrees en bang wees klop gereeld aan ons almal se deur. Waarvoor
is jý bang? Aanvalle deur rowers? Siekte? Oudword? Alleen wees? Om sonder
geld te wees? Om jou werk te verloor? Dat jou kinders iets oorkom? Dis
interessant dat die eerste bang by Adam en Eva begin het. Hulle het sonde
gedoen, bang geword en gaan wegkruip. Maar hier is die goeie nuus waarvan
die engel vertel het: Jesus het mens geword. Hy het ons sonde en ons bang
wees op Hom gevat. Hy het Immanuel geword – God met ons. Hy is in jou en
langs jou en Hy sê self: moenie bang wees nie. “Daarom kan ons met vertroue
sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie.”
(Heb. 13:6) Dis mos nou goeie nuus waaroor ons kan feesvier! ~ Wilna Botha,
18/12/2016 |
|
Die
linkerkantste Bybel is ons Botha familie Bybel
2 Tim 3 : 14 - 17 "Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy
weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif.
Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in
Christus Jesus. Die HELE SKRIF is deur God geïnspireer en het groot waarde
om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel
en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan,
volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk."
GLO JY DIT REGTIG NOG? ~ Willem Botha |
|
Dis amper Kersfees en oral is skitterende liggies wat
ons daaraan herinner. Daai liggies herinner my ook aan Joh. 1:9 wat sê: “Die
ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Ja, dis Jesus
se geboorte waarvan hier gepraat word. Die ware Lig het mens geword sodat Sy
strale vir ewig op ons kon val, sodat ons nooit weer in die donker hoef te
wees nie. Die ware Lig het die duisternis finaal kom oorwin. “Voor U ryk
moet die duisternis swig,” sing ons in Stille Nag. “Op ’n ander keer het
Jesus vir die mense gesê: Ek is die lig vir die wêreld, wie My volg, sal
nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh.
8:12) Hy ís nie net die Lig nie, Hy het Sy lig ook vir ons gegee, sodat ons
soos ’n lamp op ’n hoë lampstander in die middel van ’n vertrek kan wees wat
Jesus se lig, warmte en liefde kan uitstraal. “Julle is die lig vir die
wêreld,” sê Jesus in Matt. 5:14. Kom ons skitter saam met die
Kersfeesliggies. ~ Wilna Botha, 13/12/2016 |
|
Goeie
nuus
Ek is seker elkeen van ons hou NET van goeie nuus, maar ons word elke dag
gebombardeer met slegte nuus. As jy die radio of TV aansit is dit bykans al
wat jy hoor, en dis hoofsaaklik politiek en misdaad wat alles oorheers.
Ek wonder hoekom is daar niks meer oor om na uit te
sien nie. Het al ons verwagtinge in teleurstelling uitgeloop, of is daar net
nie meer lig in die tonnel nie? Maar selfs die slegste van slegte nuus skok
ons nie meer nie want ons het dit gewoond
geraak.
In die tyd van Jesus se geboorte het die mense
maar dieselfde probleem gehad want hulle was onderdruk deur die regering van
die dag en hulle het ook gesmag na verlossing.
En toe word Jesus gebore! Daar was skaapwagters
in die veld en 'n engel het vir hulle die goeie nuus gebring.
Luk 2:10-11 "Toe sê die engel vir hulle: Moenie
bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot
blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die
stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!"
Wonderlik! Hulle het nie noodwendig alles
verstaan nie, maar as 'n engel skielik aan jou verskyn sal jy seker ook
besef iets groots het gebeur. Dis natuurlik nadat jy jou in 'n ander
bloedgroep geskrik het! Jy sien, hulle het die profesieë geken en het in
verwagting geleef dat iets beter aan die kom is. Maar wat het ons?
Het ons nie ook al gewoond geraak aan die idee
dat Jesus vir ons gebore is nie? Het ons dalk gewoond geraak aan die
grootste wonderwerk, nl dat ons verlos is van die boosheid van hierdie
wêreld en vir die hemel bestem is? Het ons al gewoond geraak aan dinge wat
daagliks rondom ons gebeur, wat niks anders as wonderwerke nie. Genesing,
geboorte van 'n baba, ongelukke wat ons nie tref nie, en duisende ander goed.
Kersfees is vir my opnuut 'n herinnering hieraan,
en dit beklemtoon elke jaar vir my hierdie ongelooflike goeie nuus. Kom ons
wees opnuut dankbaar daarvoor. ~ Willem Botha, 12/12/2016 |
|
“It’s the most
wonderful time of the year ...”, so hoor ons gereeld dié tyd van die jaar.
Maar is dit regtig so? Ek kom nogal agter dat baie mense tranerig en
depressief raak soos wat Kersfees nader kom. Ek dink dit het te doen met
vooropgestelde idees oor tradisies, oor dit wat flieks en advertensies dié
tyd van die jaar vir ons opdis. Kersfees is mos die “Season of joy”, maar
niks is vir jou lekker nie en jy wil net huil en wens die tyd om. Kersfees
word voorgehou as familietyd en dis ook goed so, maar wat van dié wat nie
familie het nie, wat familie dié jaar aan die dood afgestaan het, wat geskei
is, wie se kinders oorsee woon ... hulle wil wegkruip of onder ’n bos gaan
sit soos Kersfees nader kom. Verder hoor ons die hele tyd dat Kersfees “a
time of giving” is en dis ook ’n mooi gedagte en goed so, maar wat van dié
wat niks het om te gee nie, wat niks ontvang nie ... hulle voel onvergenoegd
en jammer vir hulleself. Kersfees word voorgehou as ’n feestelik tyd en dit
is ook goed en lekker so, maar wat van hulle wat moet werk oor daai tyd of
wat siek is of wat vêr is, wat nie kan meedoen aan die groot fees nie en nie
saam kan aansit by die tafel wat kreun van die kos nie ... hulle voel
uitgelaat en eensaam. My gevoel is ook dat die feestyd groter en meer
opwindend opgedis en voorgehou as wat dit werklik is. Onthou dis maar net
jou vriende wat iets eksoties doen wat dit op Facebook sal uitblaker, dié
wat stil en beskeie Kersfees vier sal nie foto’s daarvan oplaai en ’n bohaai
maak nie. Dis my mening dat baie meer mense daai gematigde, stil Kersfees
vier, gewone kos eet by ’n tafel gedek met gewone eetgerei, as wat ons dink.
Ag moet tog nie dat Kersfees jou onderkry nie. Skaal jou verwagting af, dan
sal jy nie teleurgesteld en bedruk voel nie. Hou jou eie fees. Vind jou
vreugde in die Here. Spandeer jou tyd met Jesus, vier fees saam met Hom en
vír Hom. ~ Wilna Botha, 11/12/2016 |
|
Het jy
geweet Maria?
Lukas 1:31 "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet
Hom die naam Jesus gee."
Lukas 1:38 "Maria sê toe: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my
gebeur wat u gesê het.”
Kersfees is vir ons 'n wonderlike herdenking van Jesus se geboorte en hier
lees ons van die engel wat aan Maria verskyn het. Sy is verstom deur hierdie
besoek en wat van haar verwag word, maar sy sê: "Ek is tot beskikking van
die Here."
Maar ek wonder Maria, het jy geweet dat die Koning, die Skepper en die
Redder uit jou liggaam gebore sal word?
Het jy geweet dat die wêreld nooit ooit weer dieselfde sal wees nie, en dat
bykans die hele mensdom tot met die wederkoms daardie Naam sal ken?
Het jy geweet Maria, dat jy by sou wees met Sy eerste wonderwerk toe Hy
water in wyn verander het? Jy moes stom verbaas gewees het. Dalk het jy
gevra: "Wie is Hy?"
Het jy geweet dat jy die bomenslike wonders van genesing sou sien ? Het jy
geweet dat Hy die hoogheilige Fariseërs op hulle plek sou sit sonder enige
geleerdheid? Het jy geweet dat Hy dooies sou opwek, blindes laat sien en
melaatses genees?
Hoe het jy gevoel toe mense kom vertel dat Hy op water geloop het? Het jy
die mense dalk nie geglo nie?
Maria, het Jy geweet dat jy by daardie wrede kruis sou staan en sien hoe Hy
sterf, sodat ook JY kon LEWE? En ek...
Dis iets wat ek SO graag met Kersfees vier! ~ Willem Botha, 08/12/2016 |
|
Chains
shall He break ... dis wat ons sing in daai mooi Kersfeesliedjie “O holy
night.” Dis wat ons glo oor ons Verlosser wat gebore is. Hy het gekom “...
om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit
is.” (Jes. 60:1) Geestelike boeie en kettings breek Hy oop deur sy genade.
Die slotte is gebreek en kan nie weer toegesluit word nie. Die las van sonde,
die juk van skuldgevoelens lig Hy van ons skouers af. Onderdrukking,
veroordeling, verwerping, val voor Sy liefde. Harde, sondige harte word
verkrummel en die gees van liefde neem oor. Skeidsmure word afgebreek. Wat
is dit wat jou vashou of terughou om waarlik vry te wees? Watse kettings
sleep jy in stilte saam met jou? Dis Kersfees. Jesus het gekom. Hy het
vrylating vir die gevangenes aangekondig. Aanvaar Sy vryspraak. Leef uit Sy
vergifnis. Glo Joh. 8:36. “As
die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” ~ Wilna
Botha, 07/12/2016 |
|
My aanklag
As ek vandag in die Here se hof sou staan, sou hierdie dié aanklag teen my
wees, en ek sou absoluut GEEN verweer hierteen gehad het nie. Geen prokureur
sou enigiets in my guns kon sê nie, en ek sou doodeenvoudig moes skuldig
pleit as die klagstaat teen my uitgelees word. Geen verskoning, geen
versagting, niks.
Openbaring 2:4 "Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief
soos in die begin nie."
Die woord "julle" kon vervang word met "jou/jy".
Wat het
gebeur? Waar het die agteruitgang begin? Hoekom het dit gebeur? Ek leef tog
steeds in geloofsekerheid en ek glo tog ek gaan hemel toe.
Maar ek
weet hoekom. So bietjie minder besig wees met die Here, minder tyd in Sy
Woord spandeer, bietjie minder getuig, bietjie meer krities teenoor ander
Christene en teenoor die kerk, bietjie meer Sy Woord in twyfel trek. En dan
word hierdie volgende teks ook waar.
Openbaring 3:15-16 "Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud
is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou,
omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my
mond uitspoeg."
Dis net deur genade wat ek hierdie oordeel kan vryspring.
"Here, dit is vandag my belydenis, help my om terug te kom." ~ Willem Botha,
06/12/2016 |
|
Ag dis vir my sommer net baie lekker om weer al die ou
Kersfeesliedjies te sing. Dit bring altyd so ’n warm gevoel om die hart,
baie keer hoendervleis en sommer heel dikwels ’n traan ook. Ek maak ’n punt
daarvan om nie net die oorbekende woorde outomaties te sing nie, maar om
stukkie vir stukkie daarvan mooi te oordink. So het hierdie frase uit “O
Holy night” my nou weer geraak: “A thrill of hope, the weary world rejoices
...” Ons mense is uitgeput en uitgebrand, moeg en sonder hoop, dwalend soos
skape sonder ’n herder, vasgevang, verlangend en sugtend na uitkoms ... “in
sin and error pining.” Mag jy daai “thrill of hope” ervaar wanneer jy besef:
Jesus het gekom! Hy het die lig kom aansit. Die duisternis kom uitdoof.
Afgereken met die sonde. Ons kan jubel. Ons kan opgewonde wees. Ons kan buig
in aanbidding. Die Hoop het gekom en ek is weer van voor af verwonderd en
ontroer. ~ Wilna Botha, 05/12/2016 |
|
Dán sal jy gelukkig
wees.
Die aarde word bewoon deur mense waarvan die meeste ongelukkig is. Wel, dis
nou seker nie deur slim mense bewys nie, maar dis verseker my opinie. Ek
dink jy hoef maar net om jou rond te kyk en jy sal dit sien.
Toe begin ek nou wonder hoekom dit so is. Ek dink toe dis omdat mense nie
geld het nie en sukkel om kop bo water te hou. Maar ek dink toe ook aan VELE
mense wat in oorvloed leef, maar bitter ongelukkig is.
Ek dink toe dis seker omdat mense nie gelukkig is met hulle liggame nie. Of
te vet of te maar of te wat ookal. Maar toe kom 'n klompie mense in my
gedagtes wat hoegenaamd nie 'n probleem het met hulle gestaltes nie en ook
bitterlik ongelukkig is.
Man, toe glo ek dat ek die antwoord het. Dit moet wees omdat mense nie die "volmaakte"
werk het nie. Jy weet mos, iets soos 'n lewensredder op 'n plesierboot. Maar
o wee, daar is mense met die mees ideale werksomstandighede wat bitter
ongelukkig is.
Toe dink ek nee, dis omdat hulle kinders nie die toppresteerders is en
vreeslike fancy werk het nie. Maar o tog, selfs dit het nie gewerk nie. Jy
vind daar ook 'n paar ongelukkiges.
Okay, toe besef ek, dis ons land en sy misdaad en ekonomiese probleme wat
die skuld moet dra. Ons moet landuit. Maar na bietjie oplees oor die
statistieke, besef ek dat vele mense elders geluk gaan soek het, en toe
besluit om terug te kom en eerder hier op eie bodem ongelukkig te wees. Want
die ongelukkigheid het saam gereis.
Jong, ek wou net opgee, toe dink ek aan hierdie teks:
Ps 37 : 3 - 4 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk
rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart
begeer." Toe weet ek...
Kyk maar bietjie minder oor die draad na Mnr en Mev Jones se duur huis en
motors met die baie skuld, hulle stout kinders, hulle huweliksprobleme wat
hulle so goed wegsteek en die vakansiehuis waar hulle elke vakansie moet
gaan werk, en gaan doen om Vadersnaam iets lekker. Gaan fliek toe en eet 'n
chocolate. ~ Willem Botha, 04/12/2016 |
|
In Joh. 1:43-51 lees ons hoedat Natanael een van Jesus
se dissipels geword het. Hy het onder ’n vyeboom gesit en twyfel gehad oor
wat hy gehoor het van Jesus. Ons is ook maar baie keer so vol onsekerheid:
vergewe Hy regtig alle sondes, is Hy regtig die Seun van God, is Hy regtig
die Redder van die wêreld, het Hy mý regtig onvoorwaardelik lief, sal Hy
regtig ’n verskil in my lewe kan maak, ens. Fillipus was oortuig van wie
Jesus is en hy het Natanael uitgenooi om sy twyfel te oorkom deur sélf te
kom kyk, sélf te kom ervaar wie Jesus is. As jy oortuig wil wees, sal jy
moet opstaan daar onder jou twyfelboom en deur eie ontmoeting, eie ervaring,
eie belewing, eie studie kom uitvind wie Jesus is. Ek hoop jy kan ook met
sekerheid sê: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel.” (Joh.
1:49) Kom ondervind en sien self ... ~ Wilna Botha, 01/12/2016 |
|
Dis so
jammer...
... dat die lewe, die lewe uit ons geneem het. Dis so jammer dat ons, ten
spyte van soveel kennis, so min wysheid het. Dis so jammer dat ons agter
soveel verkeerde strominge aandraf, dat ons net nie meer
onderskeidingsvermoë het nie. Dis to so jammer dat ons ALLES glo wat ons
sien op sosiale media, maar nie die Woord meer kan neem as God se Woord vir
vandag nie. Dis so jammer dat ons mentors bymekaar maak wat vir ons vertel
net wat ons wil hoor, maar die
waarheid van die Woord het ondraaglik geword.
Dis so jammer dat ons kan sien, maar nie God se visie het nie. Dis so jammer
dat ons ore het wat hoor, maar ons hoor nie meer God se stem nie. Dis so
jammer dat ons kan voel, maar gevoelloos geword het teenoor ander kinders
van die Here. Dis so jammer dat ons kinders het (selfs van God afgebid) ,
maar ons het nie tyd om hulle ten volle te geniet nie. Dis so jammer dat ons
werk het, waar God selfs vir ons deure oopgemaak het, maar daardie selfde
werk vernietig soms ons gesinne. Dis so jammer dat materiële voorspoed maak
dat ons die klein dingetjies wat regtig saak maak, miskyk.
Dis so jammer dat ons ons huweliksbeloftes so maklik tot niet maak, en dink
oorbegin raak soos 'n nasionale sport. Dis so jammer dat ons ons bekering
gewoond geraak het, en vergeet hoe duur daardie bloed was. Dis so jammer dat
ons God probeer vorm soos 'n pottebakker sy klei, in plaas daarvan dat God
ONS vorm, soos 'n Pottebakker SY klei.
Dis so jammer dat al die kennis van die lewe, gemaak het dat ons nie meer
lewe nie. Dis SO jammer... ~ Willem Botha, 30/11/2016 |
|
“God laat die goeie en die slegte gebeur. Of dit goed
of sleg gaan, onthou, albei kom van God af. Niemand weet wat môre or oormôre
gaan gebeur nie.” (Pred. 7:14, Die Boodskap) Vir dié dae, dié projekte, dié
geleenthede waar alles voorspoedig loop, kan ons die Here dank en prys, want
ons weet dis Sý seën en voorsiening. Vir dié dae, dié projekte, dié
geleenthede waar dinge skeef loop, nie uitwerk nie, hartseer eindig, kan ons
steeds die Here prys, want ons weet Hy was daar teenwoordig, Hy het vooruit
geweet hoe dit sou wees, Hy het daai omstandighede toegelaat en Hy het saam
met jou daardeur gegaan. Daardie tye weet jy die Here het jou regop gehou
toe dit voel of jou voete gly. Daardie tye weet jy die Here het jou trane
gesien. Daardie tye weet jy Sy arms was jou skuilplek en Sy liefde jou krag.
Daardie tye kon jy die ou gesang met geloof en diep oortuiging sing: “Op
berge en in dale en oral is my God ... waar alles
my begewe, of waar ek ly is God; waar troue vriendehande nie red nie, daar
is God; selfs in die dood se bande, ja, oral is my God.” ~ Wilna Botha,
29/11/2016 |
|
Skepping
Gen 1:1-2 "In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was
heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van
God het oor die waters gesweef."
Na 'n naweek in die pragtige Golden Gate Nasionale Park kan ek net eenvoudig
nie anders as om absoluut verstom te staan oor God se handewerk nie. Soos
wat 'n beeldhouer 'n stuk klei neem en elke stukkie klei wegkerf om iets te
vorm presies soos wat hy dit wil hê, het God hierdie aarde
gevorm met Sy eie hande, soos in Genesis beskryf.
Hoe
langer mens net kyk en kyk na hierdie onbeskryflike skoonheid, en jy ruik
die veld, voel die grassies teen jou bene en sien hoe die natuur in
volmaaktheid deur God onderhou word, hoe meer besef jy hoe klein die mens
is. 'n Nietige wese, maar tog die kroon van die skepping.
Hoe wonderlik om te kan sien, hoor, ruik, proe en voel. Hoe wonderlik om te
ervaar hoe God jou as't ware in Sy heilige eiendom toelaat en jou met elke
treë ietsie wys wat jou asem wegslaan.
Hoe kan 'n mens wie se sintuie reg funksioneer nie glo in hierdie
oppermagtige God nie? Hoe kan 'n mens hierdie dinge sien en dink dit het
toevallig gebeur? Hoekom het die mens so afgestomp geraak dat hierdie
onbeskryflike skoonheid by hom verbygaan? Of het ons net te gewoond geraak
hieraan? Dalk het die mens by 'n punt gekom dat hy glo hy is groter as God.
Hierdie naweek het my eenvoudig van voor af omgeboul.
Daarom kan ek uitroep:
"Ek glo in God die Vader, die almagtige, die Skepper van hemel en van aarde,
en in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, gebore uit die maagd Maria... En
in die Heilige Gees."
Ek kan nie anders nie. ~ Willem Botha, 27/11/2016 |
|
Die
finalé van die hekelblokkie-les: wanneer jy deurgedruk het en ry na ry
volgehou het, en die blokkie is klaar, kom daar ’n oomblik wanneer jy
afeindig en die draad afsny, terugkyk sê: dit was goed, die blokkie lyk mooi.
Ons was vandag by ’n begrafnis waar ons met hartseer trane moes afskeid neem
van een van ons gestremde vriende. Die draad is afgesny, soos dit in Pred.
12:6 sê: “ ... die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die
goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek ... die tyd
wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God
terugkeer wat dit gegee het.” Ons moet deurdruk en volhard met ons
lewensblokkie sodat ons dit mooi kan klaarmaak. Ons moet gereed wees want
ons weet nie wanneer ons lewensdraad afgesny gaan word nie. Die Bybel sê dié
een wat volhard tot die einde, se naam is in die boek van die lewe, hy
ontvang die môrester, hy sit saam met Jesus op die troon. ~ Wilna Botha,
24/11/2016 |
|
Ek
wil nog iets vertel oor die hekelbokkies wat uiteindelik ’n trooskombers
word: Al is die blokkies wat gehekel word elkeen uniek, moet dit egter in ’n
groter geheel inpas om uiteindelik ’n bruikbare kombers te wees. Wanneer die
blokkie klaar is, word dit natgemaak en op ’n sg. spanblok gestrek. Dit trek
en vorm die vesels van die wol sodat enige oneweredigheid verwyder kan word
en die patroon mooi kan wys. Verder help dit om al die verskillende blokkies
ewe groot en hulle randjies mooi gelyk te kry sodat dit maklik aanmekaar
m
gewerk kan word. Seker maar ’n “pynlike” affêre vir die ou blokkie. Jy weet
mos, die lewe vra ook soms van ons om ’n bietjie te “stretch” en so ietsie
van jou karakter of jou voorkeure prys te gee (al is dit nie lekker nie, al
is dit selfs pynlik) sodat jy kan inpas in die groter groep of in spesifieke
omstandighede. Dikwels moet mens ’n stukkie van jou eie begeerte en jou eie
drome opoffer ter wille van eenheid en eensgesindheid – soos bv. in ’n
familie of in jou werkplek en selfs in jou gemeente of bedieningsgroep. Saam
werk, saam streef en saam leef vir dieselfde doel is nie ’n individuele saak
nie en daarom is dit nodig dat ons bereid moet wees om aanpassings te maak
sodat ons sáám met mekaar ’n verskil kan maak ... soos die blokkies in die
veelkleurige kombers. “Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Daar
moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor
die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man
saam.” (1 Kor. 1:10, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 23/11/2016 |
|
Nog
iets geleer by my hekelblokkie: stop gereeld en kyk terug. As mens kort-kort
die hekelwerk neersit en na die totale prentjie kyk, sal jy gou sien as daar
’n onooglike steek of ’n foutjie is. Dan kan jy maklik genoeg lostrek en
regmaak. Die Bybel sê in 2 Kor. 13:5 ons moet dieselfde doen in ons
geloofslewe. “Stel
julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.”
Stop. Kyk of jy op die regte pad is. Draai terug. Maak reg, voor die fout té
vêr weg is en jy niks meer kan doen om dit reg te stel nie.
Soms moet
mens egter tog maar jouself vergewe vir ’n fout wat in die verlede lê
waaraan jy nie meer kan verander nie. Aanvaar dit. Verwerk dit. Beweeg aan.
Moenie daarop bly tob nie.
Moenie té hard op jouself wees nie! 'n Blokkie kan mooi lyk, sonder dat elke
liewe steek perfek is – soos die blokkie op die foto ... ~ Wilna Botha |
|
'n
Maerte in die siel
In Ps 106 lees ons van die volk wat in die woestyn begin murmureer het oor
alles. God het hulle verlos uit Egipte, Hy het elke dag kos en water
voorsien, en ons lees selfs dat hulle skoene nie verslyt geraak het nie.
Aanvanklik het hulle gejubel oor alles en Sy Naam geprys, maar gou was hulle
tevrede met niks. Hulle wou net meer en meer hê en gekla oor alles, soos ons
vandag nog doen.
Ps 106 : 13 - 15(1953 vertaling) "Maar hulle het gou sy werke vergeet,
op sy raadsbesluit nie gewag nie. En hulle het baie begerig geword in die
woestyn en God versoek in die wildernis. Toe het Hy hulle gegee wat hulle
gevra het, maar in hulle siel ’n maerte gestuur."
Sjoe, dit klink so bekend, as die muis dik is, is die meel bitter. Treffende
woorde ; "... maar in hulle siel 'n maerte gestuur."
So 'n goor gevoel van onvergenoegdheid wat oor jou kom. Vertel iemand my
eendag dat hy en sy eerste vrou naderhand niks gehad het om vir mekaar te sê
nie, maar die mooi vroutjie by die werk het hom so mooi verstaan. Hulle kon
URE praat. Toe skei hulle beide hulle wederhelftes en trou met mekaar. En
nou het ook hulle niks om vir mekaar te sê nie! En hulle gesinne was verwoes.
'n Maerte in die siel...
So is mense ontevrede oor hulle werk, maak 'n verkeerde skuif net om agter
te kom dit was 'n reuse fout, en om met 'n maerte in die siel oor te bly. En
weet jy wat? Hulle het dikwels gekry waarvoor hulle so voor die Here
geweeklaag het. Dit lyk my dus of die Here daardie gebede "verhoor", maar
ingesluit in die pakkie, is 'n maerte in die siel. Het jy al gesien dat die
woorde "vrede", voorkom in die woord "tevrede"? ~ Willem Botha, 20/11/2016 |
|
Nog
iets oor my hekelbokkie: waar ’n nuwe rondte begin, sien mens die stekies
wat die nuwe ry aankondig. Hulle sit daar soos ’n onooglike letsel. Die
blokkie kan nie groei na die volgende vlak sonder dat mens kan sien waar die
lasplek is nie. Ek het besef: dit is oukei as die letsels wys, want so
vorder die blokkie na wat ek wil hê hy moet wees. In die lewe is dit ook
maar so – ons dra almal allerlei letsels. Die letsels van die lewe is die
teken dat die Here jou deurgedra het. Die letsel is die teken dat die slegte
tye verby is. Die letsel sê daar was pyn en trane, maar dis nou iets van die
verlede. Die letsel is die teken dat jy deur jou swaarkry en trauma gegroei
het en dat jy nou sterker is. My letsels herinner my om meer op die Here te
vertrou, om vas te hou aan die hoop wat daar in Jesus is, om te volhard in
my geloof. “Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te
vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ’n
sterk Christelike karakter te vorm.” (Rom 5:3-4, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 17/11/2016 |
|
Valse
Woordverkondiging
Het jy ook al na 'n prediker / spreker geluister en gewonder hoekom jou gees
so in opstanding kom teen sy leringe? Ek het al so geluister na mense wat
die Woord verkondig, en dan gedink óf ek óf hy moet die pad heeltemal byster
wees, en as dit wat hy/sy verkondig waar is, is ek heeltemal verlore. Dit
het my al so laat twyfel in myself dat ek hard moes soek na antwoorde.
Nou sien ek dat Paulus hier in Titus daaroor skryf en nogal uitgesproke is
hieroor.
Titus 1:10-11 "Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom,
wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei. Hulle mond
moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te
leer wat nie toelaatbaar is nie, en dít net om skaamteloos geld te maak."
Mens wonder nogal wat om te doen as jy jouself in so 'n spreker se
teenwoordigheid bevind. Moet jy uitstap, of maar net die dinge aanhoor? Ek
was al meer as een keer in so 'n gesprek wat my regtig in 'n moeilike
situasie geplaas het, maar Paulus voel egter dat jy moet optree.
Fil 1:13b "... Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan
word in die geloof." Dis baie moeilik, maar dit lyk my mens moet maar jou
vrees opsysit as jy agterkom dat God se Woord totaal verdraai word.
Dis natuurlik net belangrik dat jy self goed genoeg in die Skrif onderlê is
om dit te kan beoordeel. Hierdie tipe "lering" is uiters gevaarlik en laat
goedgelowige mense maklik struikel. Bid maar net gedurig vir goeie
onderskeidingsvermoë. ~ Willem Botha, 16/11/2016 |
|
Hier
is ietsie wat ek geleer het toe ek begin het om blokkies te hekel: volg die
patroon noukeurig. As jy wil hê jou hekelblokkie moet uitwerk móét jy die
patroon getrou volg, glo my! Ek vang myself dat ek dink: nou weet ek wat om
te doen. Dan sit ek die patroon eenkant en volg my eie kop. Die gevolg? Kort
voor lank moet ek ’n paar rye lostrek want dan is die hele storie ’n gemors.
(kyk bv. die blokkie op die foto. Ha ha!) Soms kyk ek net vir die prentjie
en trek dan weg met my eie idees. Ai, gewoonlik eindig my blokkie dan glad
nie soos die prentjie nie. Vir die lewenspad het die Here vir ons sy Woord
as die volmaakte patroon gegee. Ps. 119:105 sê: “U woord is die lamp wat my
die weg wys, die lig op my pad.” Ons moet maar stekie vir stekie Sy patroon
volg. As mens dit nié doen nie, beland jy kort voor lank in ’n
doodloopstraat. Dis nie altyd maklik om die patroon te ontsyfer nie! Hoeveel
keer sit ek letterlik met die hand in die hare bo-oor die patroon: wát
bedoel julle? Hoe wil julle nou hê moet ek dít regkry? Het jy ook al so oor
die Bybel se aanwysings gevoel – hoe Here? Ek verstaan nie Here? As ek egter
aanhou probeer en weer en weer lees, dan begin die patroon sin maak. As ek
nog sukkel vra ek iemand wat al meer blokkies as ek gehekel het - gewoonlik
weet hulle hoe. Daar is mede-Christene, daar is dominees en leermeesters wat
al ’n verder pad as jy gestap het, wat meer wysheid het – vra hulle raad,
luister na hulle insig. Die Here het ons Sy gees gegee om die Woord vir ons
oop te breek – vra Hom altyd om jou geestesoë oop te maak, om die waarheid
van die Woord vir jou duidelik te maak en jou te help om dit in jou lewe toe
te pas. “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig.” (Ps. 119:130) ~
Wilna Botha, 15/11/2016 |
|
'n Ongemaklike Boek
Dit is nou maar so, die Bybel is 'n uiters ongemaklike Boek. Daar is SOVEEL
tekste wat lekker is om te lees, om aan vas te hou, om aan te haal in tye
van nood, om vir mekaar versies aan te stuur en om met die hele hart te glo.
Maar die teendeel is ook waar; daar is tekste wat ons nie pas nie, wat nie
lekker is om uit te leef nie, wat ons gewoontes en lewensstyl hoegenaamd nie
pas nie en wat ons dwars in die krop steek. En dan besluit ons eenvoudig dat
God 'n fout gemaak het, of dat dit nie meer van toepassing is in vandag se
lewe nie.
Maar dis nie so maklik nie.
2 Tim 3 : 16 - 17 "Die HELE Skrif is deur God geïnspireer en het groot
waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg
te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God
staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk."
Die Bybel word egter ook SO uit konteks gebruik dat dit verstommend is wat
mense daarin raaklees. Die Woord van God soos dit geskryf is, is net
eenvoudig by die dag minder gewild. Maar daarvoor het mense egter ook 'n
oplossing.
2 Tim 4 : 3 "... want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer
nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle
leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor."
Ek het besluit dat ek my nie meer kan steur aan mense se opinies en
afleidings nie, ek sal eerder bly by dit wat God self gesê het. Ek vra ook
vir die Here om te openbaar wat Sy hart is met elke ding wat Hy in Sy
lewensboek geskryf het. Dan moet ek maar net eenvoudig staan by Sy Woord, of
ek daarvan hou of nie. Maar ek gaan dit doen. ~ Willem Botha, 14/11/2016 |
|
Ek
het so paar maande gelede begin om blokkies te hekel vir die Anja
trooskomberse-projek. Ek is nou nie eintlik ’n vreeslike kranige hekelaar
nie, maar die idee van die projek en die mooi eindproduk het my geïnspireer.
Nou het die gogga my so gebyt, dat ek elke geleentheid wat ek het doenig is
met die hekelpen en die wol. Die idee van die projek is dat mense van
oraloor blokkies hekel, dit word aangestuur na ’n sentrale persoon wat dit
in komberse indeel. Dié spulletjie word nou gestuur aan iemand wat die
blokkies vaswerk in ’n mooi kombers. Die kombers word gegee aan iemand wat
’n geliefde aan die dood afgestaan het en help dan op ’n tasbare wyse om
troos te bring vir die ontvanger (om nou nie eens te praat van lekker
terapie wat dit inhou vir die een wat dit gemaak het nie!)
Terwyl ek nou só doenig is met die blokkies, het dit my laat dink aan die
teks in Ps. 139:13-18 wat sê hoedat die Here ons aanmekaar geweef (lees “hekel”)
het. Hoe Hy ons uitgedink en beplan het en kunstig aanmekaargesit het. Ons
is nie net ’n lang, los, doellose draad wol nie, nee, Hy het ons met ’n
patroon en ’n plan vasgewerk tot iets mooi en besonders, iets wat ’n groter,
sinvolle doel het.
“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U
loof, want U het my op wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het vervul
my met verwondering.” (Ps. 139:13) Mag jy ook vandag van vooraf verwonderd
wees oor jou unieke lewensblokkie. ~ Wilna Botha, 13/11/2016 |
|
Ons het aan die einde
van ons voetpad deur Spreuke gekom en wil sommer net dankie sê dat jy die
pad saam met ons gestap het. Hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe
akkuraat Salomo (en enkele ander skrywers), hierdie lewenslesse vasgevat het
nie. En as jy dink die Bybel is eeue terug geskryf vir die mense van eeue
terug, maak jy 'n fout. Elke enkele spreuk is van toepassing vandag. Die
Here het darem maar mooi beplan toe Hy mense die Bybel laat skryf het,
hierdie kosbare Boek
saamgestel het en op 'n bonatuurlike manier vir ons agtergelaat het.
Die wyshede wat ons in Spreuke raakgelees het, is baie meer werd as baie "selfhelp"
boeke, waarvan vele op winkelrakke pryk. Die raad is meer werd as dié van
baie sielkundiges, geleerdes en mentors. Boonop is hierdie raad gratis
beskikbaar. Dis interessant dat die Here se naam nie so dikwels gebruik word
in Spreuke nie, maar die raad en opdragte kom duidelik van Hom af. Ek twyfel
of daar enige situasie in hierdie lewe is waarvoor daar nie antwoorde in
Spreuke is nie, en boonop is dit nogal kostelik en humoristies geskryf. Ek
dink nou sommer aan "Liewer bo-op dak woon as saam met 'n wispelturige vrou".
Vat soms die Bybel en blaai sommer deur Spreuke en Prediker, en pas die
waarhede toe, dan sal jy baie wysheid bekom en beter lewe. Geniet dit! ~
Willem Botha, 10/11/2016 |
|
“’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.” So
sê Spr. 31:10 en dan word daar nou behoorlik uitgebrei oor die wonderlike
dade van dié knap vrou. Sjoe, ek is skoon uitgeput net om deur dit alles te
lees. Waar kry die vrou die tyd en energie om al daai dinge te doen, wonder
ek by myself. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, haar lamp bly die
heelnag brand. Sy is ’n steunpilaar vir haar man, sy maak geld, sy verkoop
produkte, sy is doenig met kos, met eiendom aankoop, met wingerde plant,
met klere maak, met welsynswerk en so gaan die lys aan. Sjoe, ek skiet ver
te kort as ek myself met haar probeer vergelyk. Gelukkig kan ek sê: my man
bewonder my en my kinders prys my, al het ek nie ’n CV soos dié vrou nie.
Dit gaan nie vir hulle oor wat ek vir hulle doen nie, maar oor wie ek is.
Net so, vir die Here: “... as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om
geprys te word.” (vers 30) So het Jesus ook vir Marta gesê: “My liewe Marta,
jy hardloop aanmekaar rond. Jy bekommer jou of alles gereed is. Laat staan
dit! Dis mos nie waaroor die lewe gaan nie. Daar is net een ding wat regtig
saak maak: om God te ken.” (Luk. 10:41) Natuurlik moet ons vroutjies vlytig
wees en doen wat ons hand vind om te doen, natuurlik moet ons ons mans
ondersteun en ons gesinne en ons huis versorg, maar ons moet altyd die regte
prioriteite voor oë hou. Mag die Here ons hiermee help. ~ Wilna Botha,
09/11/2016 |
|
'n
Gekarring
Spr. 30:33 "As jy melk karring, kom daar botter; as jy iemand op die neus
slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak, kom daar rusie."
Hierdie is baie waar woorde. Ek wonder of hierdie
spreekwoord wat sê "hou op om aan my te karring" nie uit hierdie teks kom
nie. Is dit nie waar dat 'n skewe woord sommer 'n hele dag bederf nie? Of
kyk tot watter uiterstes padwoede mense kan laat gaan, en wat nog van so
stukkie skindernuus wat uitlek wat families vir jare van mekaar vervreem.
Ja kyk, ons as mense is maar fyngevoelig en
mens moet maar met mekaar geduldig wees, anders kom daar rusie. Ek dink dis
maar net eie aan ons as nasie en ons moet mekaar maar bietjie ruimte gee,
want ons nerfies kan maar dun wees.
Aan die ander kant is 'n strelende woord goud
werd en kan maar gereeld gespreek word want dit bou mekaar op. 'n Mooi
kompliment laat mense blom en hou verhoudinge aan mekaar, en vriendelikheid
kan nie genoeg bewys word nie. G'n wonder die Bybel praat so baie van die
tong nie! ~ Willem Botha, 08/11/2016 |
|
Mens lees baie keer in die Bybel hoedat nietige, swak,
klein, onbenullige en onbelangrike mense deur die Here gebruik word. Ons kan
maar weet dat ons ook elkeen uniek is en op ’n spesiale manier die Here se
plan en doel vir ons kan uitleef – wanneer ons dít doen, word Hy as ons
Skepper verheerlik. Ek sien daai toepassing ook in Spr. 30:24-28 waar vier
klein, nietige gediertetjies genoem word as buitengewoon slim en met
leefwyses wat ons kan inspireer. Dit is die mier, dassie, sprinkaan en
geitjie. Al is hulle klein, swak en dikwels lastig, lééf hulle hul doel uit
waarvoor die Here hulle gemaak het. Hulle skuil nie agter hulle swakheid nie,
maar gebruik hulle Godgegewe wysheid op ’n besondere manier – wanneer hulle
dít doen, word die Here as hulle Skepper verheerlik. Nou ja, kom ons leer
vandag by die miere oor hard werk en ietsie bêre vir die swaar tye, by die
dassies om onwaarskynlike geleenthede gebruik, by die sprinkane oor
samewerking en eensgesindheid en by die geitjies om vreesloos enige plek te
betree. ~ Wilna Botha, 07/11/2016 |
|
Genoeg
Die "slim" mense reken dat ons almal ongeveer 10% te min inkomste het en dat
net daardie klein bietjie meer al my probleme sal oplos. Net 'n ou klein
bietjie, en wanneer ons daarby uitgekom het sal ons doodgelukkig wees, niks
meer stres of dinge najaag nie en totaal in harmonie leef. Dolgelukkig. Maar
nou ja, dis wat "hulle" sê en dis totaal onwaar. Ek hoor eendag 'n praatjie
van 'n baie bekende sakeman wat daardie tyd onder die mees welaf mense in
Suid-Afrika getel het. Hy is 'n wedergebore Christen en het met 'n klomp
manne kom gesels by 'n ontbyt. Hy het vir ons gevra dat mense wat finansieel
swaarkry moet opstaan en natuurlik het ons gedink hy gaan daardie "magic"
gebed bid wat maak dat ons almal die volgende dag finansieel sterk sal staan.
Hy het dit egter glad nie gedoen nie, Hy het bloot die volgende vir ons gesê
: "Ek weet nie hoe min of hoeveel jy besit of verdien nie of hoe swaar jy
kry nie, maar ek wil vandag vir julle goeie raad gee. Leer om tevrede te
wees met wat jy het, al is dit hoe min, want ek beweeg tussen die rykstes
van die rykes in die wêreld, en ek ken nie een enkele een wat genoeg het nie."
Daardie woorde het my geskud, want daardie een sin het realiteite vir my
opgebreek wat ek nooit regtig besef het nie, want ons glo nie net ons het
meer nodig nie, ons glo sommer dat dit ons toekom. Ons glo mos dat ons alles
wat ons in Sy naam vra sal kry, of hoe?
In Spreuke is daar 'n teks wat hierdie hele gedagte wonderlik opsom, en dis
nie Salomo se woorde nie, dis 'n spreuk van Agur.
Spr 30:7-9 Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie;
daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie
arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te
veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm
word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.
Sjoe, kan jy dit doen? Of weet jy dalk (soos ek), nie waar om die streep te
trek nie? Ek sukkel daarmee en my 10% te min is eintlik 20% te min, maar ek
weet ook dat statistiek bewys dat jy wat hier lees, waarskynlik onder die
top 10% van "rykstes" in die wêreld is, bloot as jy vanaand onder 'n dak
slaap, 'n goeie bord kos het om te geniet en iets so eenvoudig soos 'n
spoeltoilet het.
Sterkte, ek hoop jy kan ook glo dat jy genoeg het. ~ Willem Botha,
06/11/2016 |
|
“Elke belofte van God is betroubaar.” (Spr. 30:5) Wat
God belowe sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Elke woord van die Here
is waar en suiwer en het die toets van die tyd deurstaan. “Die Ewige van
Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens
dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam 15:29) Hy is gister, vandag en
môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word
gesê dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense
maal dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag
van die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is
net God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding,
verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak jou Bybel oop en soek
daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál Sy
beloftes waar maak. ~ Wilna Botha, 03/11/2016 |
|
'n Goddelose regeerder
Spr 28:15-16 "'n Brullende leeu, 'n beer wat wil
rondstorm, so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk. As 'n heerser
verstandigheid kortkom, is daar baie verdrukking; wie uitbuiting haat, lewe
lank."
Spr 29:2 "'n Volk juig as regverdige mense die mag kry; 'n volk sug as 'n
goddelose mens regeer."
Spr 29:4 " 'n Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig; een wat net
belastings oplê, ruïneer 'n land."
Spr 29:14 "As 'n koning reg aan arm mense
laat geskied, sal hy lank regeer."
Spr 29:16 "As goddelose mense regeer, regeer die sonde ook, maar die mense
wat die wil van die Here doen, sal sien hoe die goddeloses ondergaan."
Dit voel of ek net niks verder hieroor hoef te skryf nie. Hierdie tekste
beskryf presies die situasie waarin Suid-Afrika tans vasgevang is en al maak
ons HOE mooi praatjies, is dit eenvoudig hoe dit is. Maar voel almal in die
land dieselfde? Gewis nie, maar dit staan soos 'n paal bo water dat ons tans
in diep waters verkeer en ons moet vinnig daaruit kom! Maar hoe? Dit lyk net
onmoontlik!
Wel, dit is baie duidelik dat hierdie tipe leierskap teen die Here se wil
is, en ons mag alles in ons vermoë doen om op 'n wettige manier daarteen te
staan deur die regte kanale te gebruik, waarvan die stembus die eerste en
belangrikste is. Maar, ons mag steeds nie die landswette verbreek nie, ons
moet steeds aan die keiser gee wat hom toekom (hierdie verwys nie na 'n
persoon nie maar na 'n bestel) en ons moet steeds aktiewe burgers wees wat
werk vir 'n beter lewe vir almal.
Vriend, al wil ek dit dalk nie raaksien nie, die Here is steeds in beheer.
Laat die deurbraak aan Hom oor en bly bid vir die herstel van ons land.
Laastens glo ek ook dat die Here wil hê dat ons as land moet terugdraai na
Hom toe. Kom ek en jy begin daarmee in ons eie huise. ~ Willem Botha,
02/11/2016 |
|
Die moeilikste teks
'n Vriend het eendag gesê, die moeilikste opdrag in die Bybel
om te onderhou is: Moenie jou bekommer nie.
Maar as daar een ander opdrag is wat onmoontlik is (vir my
ten minste), is dit: Laat staan jou sonde! Hoe hard ek ook al probeer het,
dit is net bykans onmoontlik!
Spr. 28:13 "Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte
wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang."
Sjoe, kyk met watter woorde hierdie teks eindig : "Wie sy
sonde bely EN DAARVAN AFSIEN, sal genade ontvang!" Die bely gedeelte is baie
makilik, ons weet tog wat reg en verkeerd is, maar die AFSIEN...! Ek kan my
natuurlik beroep op Paulus se woorde waar hy sê in Rom 7:15 "Ek begryp self
nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat,
juis dit doen ek", maar dis steeds nie 'n goeie verskoning nie. Beteken Spr
28:13 dan dat jy eers genade ontvang as jy daarvan afsien? Totaal, heeltemal,
vir ewig en onherroeplik?
Wel, ek stoei met hierdie een, want ons verstaan tog dat ons
na bekering in vergifnis leef, onder die vaandel van die nuwe verbond. Dit
maak egter nie hierdie teks in Spreuke tot niet nie. Ek verstaan dit dat die
stryd teen sonde 'n daaglikse, ewigdurende stryd is. Dit beteken om elke
keer weer op te staan as ons geval het, om oorwinning te beleef elke keer
wat ons dit kon afweer, al gly ons more weer. Om nooit op te gee in hierdie
oorlog nie en om DAN vergifnis met dankbaarheid te aanvaar, al is selfs DIT
baie moeilik.
Onthou net, die Here haat ons nie, Hy haat wel sonde. ~
Willem Botha, 01/11/2016 |
|
“As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal
die Here ‘n afsku hê van so ‘n man se gebed.” (Spr. 28:9) Ai vriende, ons
kan nie lewe soos ons wil en verwag die Here moet spring as ons roep nie.
Ons kan nie maak soos ons wil en dan sê: “die Bybel sê vra en jy sal kry”
nie. As jy onverskillig is teenoor die Here en sy Woord, kan jy niks goeds
te wagte wees nie. Gebed is nie die ou noodwieletjie as niks anders werk nie,
of die lekkergoedmasjien waar jy ‘n knoppie druk en jy kry wat jy versoek
het nie. Nee, die Woord sê ons moet in Jesus bly, sy woorde moet in ons bly,
dan kan ons bid en Hy sal antwoord. Gebed is gegrond in ‘n opregte
verhouding met die Here. Gebed is die voorreg van God se kinders. Gebed is
die uitvloeisel van genade. Gebed is God se geskenk aan ons. Het jy geweet
dat daar heelwat “voorwaardes” in die Bybel is vir gebedsverhoring? Hier is
‘n paar daarvan:
·
As julle geloof het en nie twyfel nie...(Matt.21:21-22).
·
As julle in My bly en My woorde in julle ... (Joh.15:7).
·
As ons iets vra volgens Sy wil...(1 Joh.5:14-15).
·
As twee of drie in gebed saamstem...(Matt.18:19-20).
·
As julle iets in My Naam vra... (Joh.14:13-14).
·
As ons Sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy
goedvind ... (1 Joh.3:22) ~ Wilna Botha, 31/10/2016 |
|
Bederf
Spr 27:7 "As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as
jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet."
Sjoe kyk hiervan kan ek getuig. Ek staan in die winkel en wil lekkergoed
koop, maar net niks lyk lekker nie. Hoekom op aarde is daar so baie keuses?
As daar net twee was om van te kies was dit makliker. Maar toe ek destyds
drie dae in die weermag was en SO gesmag het na ietsie lekker, bied 'n
vriend gewone droë koekies vir my aan en dit was die lekkerste
goed op aarde. So lekker dat ek dit 39 jaar later steeds onthou.
Dit laat my dink aan Adam en Eva wat SOVEEL pragtige vrugtebome gehad het om
van te kies, maar daardie een enkele boom wat buite perke was, was net een
te veel. Hulle het gereageer op die hier en nou, en nie dit wat
ewigheidswaarde gehad het nie. Die "heuning" waaraan hulle gewoond was, was
net nie meer genoeg nie.
Ek dink ons het dieselfde probleem, ons honger nie meer genoeg na die beste
van die beste nie want ons raak so bederf met sinnelose dinge in die
Geestelike wêreld. Ons mis daardie intimiteit met God omdat daar te veel "geestelike
lekkergoed" beskikbaar is.
Ek gebruik die woord "ons", maar dit moet eintlik wees "ek". Dis vreeslik
hoe afgestomp ek kan raak en hoe krities ek raak teen alles wat net nie meer
"geestelik lekker" is nie. Ek hou van geestelike "sweeties", maar die
voedsame kos raak afgesaag. Maar weet jy wat? Dis ook nie meer vir my lekker
om SO te wees nie! Daardie sweeties smaak ook maar na niks. ~ Willem Botha,
30/10/2016 |
|
“Laat dit aan ander oor om jou te prys, moet dit nie
self doen nie; laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie.” (Spr.
27:2) Moenie jou eie beuel blaas nie, so sê die spreekwoord mos. Was jy ook
al in geselskap waar die ander een net oor homself praat, oor wat hy het,
waar hy al oral was, wat hy al alles bereik het? Of nog erger: wat hy alles
vir armes doen, op hoeveel uitreike hy al was, hoeveel gebedsgroepe hy
bywoon of waarby hy alles in die kerk betrokke is. Baie keer word daai beuel
so subtiel geblaas ... die probleem van 'n beuel is, dit maak 'n groot lawaai en kan nie sag geblaas word nie. Hierdie beuelblasery gaan gewoonlik
gepaard met selfsug, eiegeregtigheid, beterweterigheid en hoogmoed. Dis mos
dinge wat teenoor die vrug van die Gees staan. Dis mos dinge wat, volgens
die Bybel, nie pas in die Christen-prentjie nie. As jy werklik goed presteer,
gaan dit nie nodig wees om dit uit te basuin nie, mense sal dit weet. As jy
werklik lof verdien, gaan jy nie nodig hê om eer by mense te soek nie. En as
niemand jou prys of bedank vir wat jy gedoen of bereik het nie, weet
verseker dat die Here dit sien en dat Hý jou daarvoor sal eer en beloon.
(Lees maar weer Matt. 6:1-4) ~Wilna Botha, 27/10/2016 |
|
Dwase se woorde
Dis verstommend hoeveel opinies mense van ander deesdae hoor, wat regtig
geen waarde het nie. Wat my egter meer verstom, is die dinge wat mense
deesdae glo en deel op sosiale media, wat net eenvoudig totaal betekenisloos
is. Hoeveel goed lees jy wat sê dat jy voorspoed en seën sal ontvang as jy
die goed "like" en "share en amen". Dit gaan my verstand te bowe.
Spr. 26:9 " 'n Doring in 'n dronk man se hand, so is 'n spreuk in die mond
van 'n dwaas." Ons lees in Spreuke dat Salomo pertinent noem dat die spreuke
wat opgeteken is, is woorde van wysheid wat vir ander betekenis moet hê ,
maar daar is soveel van hierdie "dorings" waarvan Salomo praat, maar mense
besef dit nie.
Mense word so meegesleur deur hierdie selfaangestelde "profete" se woorde
wat na bewering die Woord van die Here verkondig, maar dit moet baie goed
oordink en ondersoek word. Voordat jy blindelings glo wat mense sê, vra eers
die vraag: Sê wie? Miskien kan ons ook 'n spreuk met 'n aanhaling vergelyk,
en daarvan kom daar daagliks vreeslik baie op sosiale media voor saam met
een of ander prentjie , en dan loop dit soos 'n veldbrand want dit klink so
mooi, maar dit beteken gewoonlik nie veel nie.
Nee, daar is 'n beter manier, deel eerder iets wat
die Here direk vir jou gesê het uit die Bybel, of onder gebed, of op 'n tyd
toe jy stilgeraak het, dit het waarde want dis 'n eerstehandse getuienis.
Dis 'n waardevolle "spreuk".
Sosiale media is besig om van ons "puppets" te maak wat net agter ander kan
saampiep en ons verloor eintlik 'n stukkie van ons eie kosbare getuienis. Ek
is ten gunste van goeie mentors na wie ek nogal graag luister en wie se
menings my Geestelik vorm. Hulle "spreuke" beteken baie, maar daardie "doring
in 'n dronk man se hand" kan nogal gevaarlik wees. ~ Willem Botha,
26/10/2016 |
|
“'n
Seer tand, 'n voet wat meegee, so is dit om in gevaar staat te maak op 'n
onbetroubare mens.” (Spr. 25:19 ) Dit is verseker so dat mense jou een of
ander tyd sal teleurstel. Mense is menslik. Mense maak foute. Mense is
feilbaar. Dikwels dink mens iemand is betroubaar, dan word ons erg
teleurgestel wanneer hulle nie dáár is as ons hulle nodig het nie, wanneer
hulle nie hulle woord hou nie, wanneer hulle nie opdaag as ons 'n krisis het
nie, wanneer hulle pleinweg selfsugtig is en altyd hulle eie belange eerste
stel. Nou ja, Spreuke sê dis soos op 'n vrot tand of 'n seer voet – jy kan
nie op hulle staatmaak nie. Die Bybel sê verder ook: “Moenie
op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is
min werd.” (Jes. 2:22) en “Moenie
op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem
verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen” (Ps. 146:3-4)
Maar tog, het ons mense nodig, nie waar nie? Ons moet maar die kans vat en
op ons vriende en kolegas en familie staatmaak, maar wees realisties en
onthou dat dit moontlik is dat dinge nie kan uitwerk soos jy gehoop het nie.
En ons - hoe betroubaar is ons? Is ons 'n seer tand en 'n swak voet vir ons
mense? Kom ons sorg dat ons
betroubaar is – in groot en
in klein dingetjies. Laat jou ja ja wees en jou nee nee. Doen wat jy beloof.
Help as jy gesê het jy gaan . Bid as jy gesê het jy gaan. As iemand op jou
staatmaak, sorg dat jy beskikbaar is; wees 'n pilaar in die storm, 'n lig in
die donker. Maak só 'n verskil. ~ Wilna Botha, 25/10/2016 |
|
As jou
vyand val
Toe ek in die weermag was, was daar 'n sersant wat deur sy troepe gehaat en
eintlik verafsku was oor die tipe mens wat hy was, en wat hy aan hulle
gedoen het. Hy is egter een naweek in 'n motorfiets ongeluk oorlede en die
mense het uit volle bors gejuig oor sy dood. Die ouens se woorde was "ons
kan nie wag om vir hom te gaan slow-march nie". Op 'n militêre begrafnis het
jy stadig marsjeer uit eerbied vir die afgestorwene en dit is slow-march
genoem. Dis skokkend,
want die persoon was nie hulle vyand nie, hy het aan dieselfde kant geveg.
Net so het ek myself al heimlik verheug oor 'n besigheidsman se val wat
oneerlik te werk gegaan het en mense ingedoen het. My gevoel is, as jy mense
verneuk behoort jy nie in die besigheid wêreld nie. Wel, ek is nie trots
hierop nie, want ek wonder of ek self altyd heeltemal eerlik te werk gaan in
alles wat ek doen. Nou lees ek die volgende in Spreuke.
Spr 24:17 "Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie, moenie juig
wanneer hy ondergaan nie."
Toe ek hierdie lees het ek half gewonder hoekom dit so duidelik uitgespel
word en ek het dit nie verstaan neie, want wat moet my gesindheid dan wees?
Wel, die verse wat daarop volg stel dit duidelik dat dit niks met ons te
doen het nie, dis 'n saak tussen daardie persoon en die Here. Hy sal nie
slaag in sy verkeerde dade nie, hy sal nie seën beleef nie en hy sal nie
vreugde hê nie. Die wêreld is maar 'n verdorwe plek en mense bly maar mense.
Maar nou ja, nou gaan ek iets skryf wat ek op hierdie oomblik glad nie lus
is om te skryf nie, maar ek gaan dit doen, want dit is wat die Here van ons
verwag.
Romeine 12 :20-21 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy
dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom
vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar
oorwin die kwaad deur die goeie." ~ Willem Botha, 24/10/2016 |
|
“'n Gelowige staan elke keer na 'n terugslag weer op.
Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om
weer van vooraf te begin nie.” (Spr. 24:16) Om die Here se kind te wees is
nie jou vrywaring dat daar nooit terugslae, probleme en krisisse oor jou pad
sal kom nie. Om die Here se kind te wees is egter jou versekering dat jy wel
déúr die swaar tye sal kom, weer sal opstaan en weer sal aangaan; dat jy
moed sal hê om selfs weer van voor af begin. Hoekom is dit so? Omdat jy weet
die Here los jou nie alleen nie, omdat jy ervaar Hy gee jou krag, omdat jy
voel die Here dra jou deur en lig jou op, omdat jy verder kyk as die hier en
nou en jou oog hou op dit wat ewige waarde het. Miskien is jy op die oomblik
platgeslaan, weet dan dat jy nié deur God verlaat is nie, dat jy nié
vernietig sal word nie. Hou moed. Jy sal dit oorleef. Jy sal weer kan
aangaan. This too shall pass! “Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op
teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ons staar
ons glad nie blind op alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al
ons probleme en teenslae verby. “ (2 Kor. 4:17) ~ Wilna Botha, 23/10/2016 |
|
“Moet niks van slegte
mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie.
Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle sê verskriklike goed.” (Spr. 24:1)
Hierdie teks laat my dink aan Ps. 1 wat sê dat dit goed gaan met dié een wat
nie met sondaars omgaan en nie goddeloses se raad volg nie. Elders sê die
Bybel ook nog dat ons nie saam met ongelowiges in dieselfde juk moet trek
nie. Dit lyk vir my of ons ons moet distansieer van Godslasteraars,
dronkaards, skindertonge, boewe, boelies en korrupte skelms. Al daai slegte
dinge wat hulle doen en sê kan dalk op ons afvryf, hulle sonde kan dalk
“aansteek” en ons besmet. Maar, as ons nie met hulle meng nie, hoe gaan ons
'n invloed op hulle uitoefen? Hoe gaan ons hulle wys en sê van Jesus se
liefde en genade? Hoe gaan ons hulle kan help as ons nie in hulle kring
inbeweeg nie? Jesus sê ons is die sout vir die aarde. Maar hoe kan ons smaak
gee aan die wêreld as ons sout in die soutpot bly? Jesus sê ons is die lig
vir wêreld. Maar hoe gaan ons skyn as die lig onder 'n emmer neergesit word?
Nee, dit lyk vir my ons moet ons maar begeef tussen die “slegtes”, maar
sonder om soos hulle te word, sonder om ons eie waardes en gewoontes prys te
gee. Hier is wat ons moet doen: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en
opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte
mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld.” (Fil. 2:15) ~ Wilna
Botha, 20/10/2016 |
|
Wonderlike kinders
Spr 23:24 " 'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig; 'n wyse
seun verskaf sy vader groot vreugde."
Sjoe, is hierdie nie ongelooflike waar woorde nie? Hierdie woorde is
natuurlik waar vir vaders en moeders, van seuns en dogters. Ek glo elke ouer
wroeg maar wanneer kinders deur hulle tienerjare stoei en ons almal hoop en
bid maar vir die beste.
Ek het eendag gehoor dat iemand 'n kind se tienerjare vergelyk met iemand
wat in sogenaamde "white
water" deur woeste stroomversnellings meegesleur word. Soms is die kop bo en
soms is die boude bo, en die ouer hardloop langs die rivier af en wil
kort-kort inspring om hulle te red. Sy raad was egter die volgende: "Just
gently guide them through it, they will most probably grow up to be
wonderful, responsible young adults."
Vir ons kinders het dit absoluut waar geword en ek dank die Here vir kinders
wat ons net verskriklik baie plesier gee. Hoe wonderlik is dit dat die
wysheid wat jy deur al die jare probeer inbou het, vrug afwerp. Dus, moenie
'n jongmens verdoem as hulle deur hulle storm en drang jare gaan nie, lei
hulle net kalm daardeur. Dis wonderlik om die vrug van daardie geduld te
pluk. ~ Willem Botha, 19/10/2016 |
|
“Wees
altyd ywerig om die Here te dien; dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal
jou nie ontneem word nie.” (Spr. 23:17-18) En daar gee Spreuke sommer ook
vir ons die belangrikste ding wat ons moet doen, dit waarvoor ons gemaak is,
dit wat sin, rigting en hoop in alle aspekte van jou lewe en bestaan kan
gee: wees ywerig om die Here te dien. Wat beteken dit om die Here te dien?
Dit is beslis nié 'n klomp leë, godsdienstige rituele nie. Om die Here te
dien beteken sekerlik in die eerste plek dat jy moet glo dat Hy bestaan, dat
jy glo dat Hy is wie Hy sê Hy is en dat jy glo ín Hom. Dit beteken dat jy
Hom lief het, eer, respekteer en aanbid. Dat jy Hom eerste stel in alles,
dat niks vir jou belangriker is nie. Dit beteken dat jy Hom gehoorsaam en
leef volgens sy woord. Dit alles moet jy met oorgawe doen, met jou hele
hart, siel en verstand. Die gevolg? Daar wag vir jou 'n ewige toekoms saam
met God. Daar is vir jou hoop. “...you
won't be left with an armload of nothing,” sê Spr. 23:18 in die Message
vertaling! “Moenie
vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat
die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.” (Rom 12:11, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 18/10/2016 |
|
'n
Slaaf van skuld
Ek luister na 'n gesprek met Dave Pepler, die bekende natuurkenner wat al
verskeie programme op televisie en radio aangebied het. Hierdie man het 'n
kostelike manier van praat en ek het nogal baie agting vir die dinge wat hy
kwytraak. In een so gesprek op televisie sê hy dat hy bykans niks besit nie,
behalwe natuurlik 'n motor en 'n horlosie (sy woorde), en hy woon in 'n
skuur (ook sy beskrywing) met drie vertrekke. Voorts het hy gesê hy het vier
borde, vier
koppies en vier stelle eetgerei, en as een ding breek vervang hy dit. Hy het
hierdie gesprek afgesluit met "ek is vry".
Sjoe, hoe lekker sal dit wees om te kan sê "ek is vry" van 'n skuldlas, en
nog meer, van 'n begeerte om mooi dinge soos van my vriende te besit. Dis
nogal intimiderend as ek kyk na mense se mooi motors (myne is al 13 jaar oud),
en hulle vakansiehuise en addisionele eiendomme. Toe lees ek hierdie teks in
Spreuke raak.
Spr 22:7 "Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by
wie hy leen." Ek het spesifiek hierdie tweede gedeelte raakgesien, "... die
lener is die slaaf van die een by wie hy leen." Vir hoeveel jare is ek die
slaaf van die banke vir wie ek geld skuld, en wie weet hoeveel keer het ek
al my huis afbetaal, en ek betaal hom steeds af. Hoe lank het ek aan motors
afbetaal wat óf die hele dag in die son staan by die werk, óf die hele dag
in die motorhuis staan. Hoeveel mense stres hulle half dood oor die ekstra
eiendomme wat betaal moet word in die naam van "belegging", net om uit te
vind dat dit al die tyd net 'n enorme las was. Hoeveel mense verloor hulle
werk lank voor aftrede, kry nie ander werk nie en word finansieel geknak oor
daardie ekstra laste? Hoeveel mense begin met 'n klein onderneming met die
oog op finansiële vryheid, maar gaan skaf onmiddelik 'n duur motor aan, net
om deur daardie skuld die onderneming te verloor nog voordat hy aan die gang
kon kom?
Die punt is, ja dis lekker om daardie besittings te koop as jy dit regtig
kan bekostig, maar as dit op skuld is raak jy onmiddelik die slaaf van 'n
ander, want dan moet jy nog harder werk om eers die skuld te betaal voor jy
jouself kan betaal.
As ek my lewe sou oorhê , sou ek totaal minimalisties geleef het en steeds
net soveel lewenskwaliteit gehad het. Dalk nog baie meer! Wie se lewe sou ek
wou hê? Die mense met die baie besittings , of iemand soos Dave Peper wat
kan sê hy is totaal vry?
Mense verskil, en sal verseker ook van my verskil oor hierdie stukkie, maar
mense leef hulle eie lewe met dit wat die lewe vir hulle die moeite werd
maak, maar ek sou graag ook "vry" wou wees. Dalk is ek op pad, hang net af
watse motor die buurman aanskaf... ~ Willem Botha, 17/10/2016 |
|
“Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter.
'n Wyse bly ver weg van sulke dinge af.” (Spr. 22:5) Dit sou darem maar
lekker wees as mens nooit verkeerde keuses gemaak het nie, die vernedering
en pyn van verkeerde besluite gespaar kon bly. Baie van ons het seker al
daai bitter uiteinde van 'n verkeerde optrede, verkeerde besluit geproe en
gewens jy het nooit geval vir daai versoeking nie, of gou genoeg omgedraai
op daai vernietigende pad. Die Bybel help ons in 1 Kor. 6:12 en 1 Kor. 10:23
met drie vrae wat jou kan help om keuses te maak, om te weet wanneer om ver
weg te bly van sekere paaie. Stop gereeld waarmee jy besig is en oordink dié
drie vrae:
(1) is wat ek wil doen heilsaam (m.a.w. is dit goed vir my, sal dit my
gelukkig maak, is dit werklik nuttig?)
(2) kan dit lei tot verslawing?
(3) is dit werklik opbouend?
As jou antwoorde ja, nee, ja is, kan jy met ‘n geruste hart daardie pad vat
en die Here sal jou seën! Indien nie, weet jy dis ‘n rooi lig en as jy nie
daarby stilhou nie, sal die uiteinde bitter wees. ~ Wilna Botha, 16/10/2016 |
|
Shame
Salomo
Kyk man, Salomo was lief vir vrouens, maar of hy lief was vir sy vrouens
soos ek lief is vir my vrou, en of hy "lief was vir vrouens" sal ek nou nie
weet nie. Nietemin, hy is 700 keer kansel toe, en of dit nie genoeg was nie,
neem hy toe nog 300 byvroue vir homself net om seker te maak dat dit 'n mooi
ronde getal is. Maar ai, die arme man neem toe nie in ag dat daar 'n skoonma
saam met elkeen kom nie, gratis free en verniet. Shame!
Anyway, soos wat hy toe nou sy harem geniet het (daar was blykbaar 'n
klompie bitter aanvallige dames), het hy saans in sy studeerkamer gaan sit
en vir hulle die mooiste goetertjies geskryf en dit toe vir ons in 'n mooi
bundel saamgevat. Dis later uitgegee as die boek Hooglied en dis steeds op
die winkelrakke. Lekker om te lees, baie romanties en soms effe stout.
Elkeen in 'n huwelik moet die boek aanskaf, daar is goeie raad daarin.
Maar jong, wat toe op een goeie dag (of eerder slegte dag) gebeur het kan
ons net oor bespiegel. Ek vermoed maar dit het gegaan soos in elke huwelik
as vroulief 'n bietjie druk op manlief plaas, soos wanneer sy dingetjies
gedoen wil hê in en om die paleis, en dalk het hy ook maar vergeet (gebeur
immers met my ook). Nou ja, die storie loop dat een vroutjie 'n nuwe rakkie
in haar kamer soek, 'n ander nuwe gordyntjies, daar was 'n kraan wat gedrup
het in 'n ander se stort en nog een het gewag vir 'n lekker rug kielie. En
so aan en so aan... Man, maar 'n man het ook 'n net soveel tyd en hy het
seker gesê hulle hoef hom nou regtig nie elke ses maande te herinner nie, en
die klompie het onder mekaar begin murmereer. Die skoonmoeders klim toe ook
op die bandwagon, hulle roep toe 'n samekoms uit en daar sit die arme man se
turf. Net 'n getroude man sal weet hoe diep jy in die sop kan wees sonder
dat jy weet hoekom. Jy weet mos, jy vra: "Skattie wat is fout?", en sy sê
baie beslis: NIKS!!! Eish..
Salomo het maar net daardie aand moedeloos in sy studeerkamer gaan sit en
geskryf:-
Spr 21:9 "Liewer bo-op 'n dak woon as saam met 'n twisgierige vrou onder een
dak."
Spr 21:19 "Liewer in 'n woestyn woon as by 'n twisgierige vrou wat aanhou
neul."
Spr 27:15 "Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag, so is 'n vrou wat
aanhou kyf."
Nou ja, ek weet nie of dit presies so gebeur het nie, maar so loop die
storie.. ~ Willem Botha, 13/10/2016 |
|
“Die Here gee aan die mense die lewe. Die Here sien
deur die hele mens.” (Spr. 20:27) Iemand het eendag vir my gesê: die Here
doen níks vir my nie. Sjoe, dis darem maar harde woorde van 'n verbitterde
persoon, iemand wat dink dat sy nie die Here nodig het nie of wat net die
Here wil misbruik vir eie gewin. En ek het gedink: wat van jou lewe en die
suurstof wat jy inasem? Dat ons lewe is 'n gawe van God af. Dit is Hý wat
sy lewensasem in Adam ingeblaas het en dis Hý wat sy lewensasem in ons
inblaas. Dis Hý wat ons gemaak het en ons kunstig en uniek en in die fynste
detail aanmekaar geweef het in die moederskoot, soos wat Ps. 139 sê. Omdat
Hy ons gemaak het, hou Hy in gedagte dat ons stof is, dat ons swak en nietig
is. Daarom het Hy medelye met ons, daarom ontferm Hy Hom oor ons, daarom
help Hy ons, daarom vergewe Hy ons keer op keer. Die Here sien deur die hele
mens, sê die teks. Hy ken jou deur en deur, Hy het selfs die hare op jou
kop getel, daarom weet Hy sekerlik wat jy nodig het. Die Here sorg vir die
hele liggaam (Ps. 34:21), geen been is vir Hom verborge nie, daarom weet Hy
sekerlik van elke pyn en skeet; het Hy meegevoel daarmee en kan jou aanraak
en genees. Die Here sién jou, vriend. Ek hoop jy sién Hom ook raak in jou
lewe. ~ Wilna Botha, 12/10/2016 |
|
Mams
en paps
Ek verlang deesdae nogal baie na my ouers, wat reeds lankal oorlede is . Ek
verlang spesifiek na my ma se stem, en die dinge wat sy altyd kwytgeraak
het, en na my pa se manier van dinge doen, want hy het vir my vreeslik baie
lewenswaarhede geleer sonder om veel te sê. Gelukkig het ek 'n goeie
verhouding met my ouers gehad, maar ek sien sulke lelike goed tussen ouers
en kinders gebeur. Die Here plaas so 'n groot klem op hierdie verhouding,
dat dit in die Wet opgeneem
is. Eer jou vader en jou moeder... Ek vind dit interessant dat daar nie ook
staan "Eer jou kinders" nie. My mening is maar net dat ouers baie deurloop
onder hulle kinders.
Spr 20:20 "As jy jou vader en moeder vervloek, is jou lewe daarmee heen en
bly net die pikdonker oor." Ai, hoe sleg is dit nie. Op 'n mannekamp vertel
'n man my hoe sy seun hom vloek, terwyl hy die volwasse seun totaal onderhou
en vir hom selfs 'n motor gekoop het, wat hy ook onderhou. Hoe tragies is
dit nie. Maar dit gaan verder.
Spr 19:26 " 'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot, is skaamteloos en
veragtelik." Het jy al gesien hoe kinders hulle ouers op hulle ou dag
verstoot? Hoe bejaardes onder hulle kinders se wrede tonge deurloop? Dis
inderdaad veragtelik. En voorts het ek al soveel gehoor hoe kinders hulle
ouers blameer vir hulle eie tekortkominge. Interessant dat soveel van
hierdie mense dan ook uiters slegte verhoudinge het met hulle eie kinders.
Hoe wonderlik sou dit nie wees as ek my ouers net hierdie EEN aand by my kon
hê, en hoe dit sou wees om hulle nog net EEN keer weer te kon vashou, en net
weer EEN keer vir hulle te sê dat ek vir hulle lief is, want ek het dit te
min gedoen. Ek is voorts so ongelooflik dankbaar dat my kinders nie
aspirasies het om die land te verlaat nie, hoewel ek dit vir hulle 100% gun.
Ons het hulle by die dag meer en meer nodig in ons lewe, en hulle is vir ons
so 'n ongelooflike seën !
Eer jou vader en jou moeder, as jy hulle nog het. En wees goeie ouers vir
jou kinders, as jy hulle nog by jou het. Jy sal nie glo hoe dit is as hulle
weg is nie.~ Willem Botha, 11/10/2016 |
|
“Iemand wat loop en skinder lap geheime uit ...” (Spr.
20:19) Dis nou net mooi die derde keer dat daar in Spreuke iets gesê word
oor skinder en nou sal ek ook iets móét sê. Ek wil nie eintlik nie, want ek
is self ook maar lekker skuldig daaraan. As iemand sê: het jy gehoor ...,
dan sit ek sommer vorentoe op my stoel en spits my ore, want hier kom nou
iets sappig, iets wat ek gou-gou weer kan gaan oorvertel en aanbied met my
eie gesigsuitdrukking, stemtoon en ander speserye en sousies. Kyk, Spr.
26:22 sê nie verniet: “'n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so
maklik” nie. Ai, as mens maar net kyk na die gevolge van 'n sappige ou
skinderstorie, die dolksteke wat dit kan inhou vir die arme een oor wie daar
geskinder word, die vernedering en vernietiging van sy reputasie, dan sal
ons twee maal dink en baie meer bid vir 'n wag voor ons mond. As jy in besit
is van iemand se geheim, doen die eerbare ding en hou die geheim, moenie dat
jou gepraat 'n veldbrand laat ontstaan nie. “Loose talk
has a way of getting picked up and spread around. Little birds drop the
crumbs of your gossip far and wide”. (Pred. 10:20, The Message) ~ Wilna
Botha, 10/10/2016 |
|
Planne
planne planne
Jare gelede verloor ek my werk en ons besluit om 'n klein besigheid te
begin, maar o wee, toe die werklikheid inskop dat daar nie meer 'n salaris
is nie, is my "geloof" woerts warts by die agterdeur uit. Jy sien, die "Here
se versorging", gekombineer met standvastigheid voel lekker, maar wanneer
die standvastigheid verdwyn en net die geloof oorbly dat die Here sal
versorg, voel daai fondasie nie meer so stewig nie.
Wel, planne moet ons maak en alles doen wat ons kan. Dis nodig, maar die
Here bepaal die uitkoms. Ek wonder egter nogal hoe my lewe sou wees as die
Here elke gebed wat ek gebid het sou verhoor. Dit sou 'n ramp wees! Goddank,
Hy weet beter en laat die beste vir ons gebeur, al is dit nie altyd die
lekkerste nie. Soms, (soos in my geval), vat dit jare om dit te besef.
Dus: bid, vra, beplan, probeer en gaan vorentoe terwyl jy soms hard
neerslaan, maar weet dat die Here die uitkoms bepaal.
Hierdie volgende woorde is 'n groot deel van my lewens uitkyk: Moenie dink
dat as dit nou goed gaan, dat dit altyd goed sal gaan nie. Maar meer nog,
moenie dink dat as dit nou sleg gaan, dat dit altyd sleg sal gaan nie. Die
Here bly in beheer.
Spr 19:21 "Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas." ~
Willem Botha, 06/10/2016 |
|
Ek wonder nogal hoekom word humeur en vergewensgesind
in een asem genoem in Spr. 19:11? “''n Verstandige mens beteuel sy humeur en
stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.” As jy kan vergewe voor jy
kwaad word, sal dit nie nodig wees om jou humeur verloor nie. Dis eervol.
Dis beter. Dis verstandig. Dis eintlik vernederend om jou humeur te verloor
en te kere te gaan, arms te swaai, die deur hard toe te klap en lelike
woorde te skreeu en dan moet jy weer jouself nog verder verneder om te gaan
jammer sê. 'n Vriend sê nou die dag hy het in sy werkplek 'n reël ingestel:
daar is twee goed wat niemand mag verloor nie – hulle humeur en hulle humor.
Jy is slim en wys as jy jou humeur in toom kan hou, as jy tot 10 tel en nie
ontplof nie. Hoe kry mens dit reg? Wel, ek dink as mens in gedagte hou dat
dit is wat die Here van jou verwag, behoort dit makliker te kom; of as jy
miskien weer daaraan dink dat die Here óók luister na jou uitbarsting, sal
jy dalk volgende keer rustiger kan wees. Hoor hoe klink dié teks in die
Engelse vertaling: “If you are sensible, you will control your temper. When
someone wrongs you, it is a great virtue to ignore it.” Let’s do it! ~ Wilna
Botha, 05/10/2016 |
|
'n
Goeie vriend
... is darem maar goud werd, of hoe? Ek is seker jy kan ook aan 'n paar
mense dink sonder wie jy nie kan klaarkom nie, al sien jy hulle nie eers
gereeld nie. Dawid en Jonathan was so aan mekaar verbind dat jy amper kan sê
dat hulle nader aan mekaar was as broers. In Spreuke is etlike tekste
daaroor en Salomo het so 'n vebintenis nogal belangrik geag.
Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na
jou broer se huis toe as jy moeilikheid
het nie. 'n Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is."
Hierdie teks sê nie dat jou broer onbelangrik is nie, dit sê bloot dat
iemand naby aan jou dieselfde rol as jou broer kan speel.
Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend." Hierdie teks is
'n toets vir ware vriendskap. Kan jy werklik jou eerlike mening vir 'n
vriend gee sonder om bang te wees dat die vriendskap skade sal lei, en
daarmee saam, kan jy dit hanteer as 'n vriend jou tereg wys as jy fouteer
het? Ek sukkel nogal hiermee, maar hierdie teks maak dit duidelik dat
vriende openlik en reguit met mekaar moet kan wees.
Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat nader is
as 'n broer." My ma het altyd teen verkeerde maats gewaarsku, maar hierdie
teks praat van onderskeidingsvermoë .
Spr 27 : 17 "Yster slyp yster, vriende vorm mekaar." Sjoe, hierdie is 'n
kosbare teks en sê so verskriklik baie 'n hierdie paar woorde. Hoef dit
verduidelik te word?
Spr 27 : 6 "Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken, iemand wat jou haat,
is oordadig met sy soene." Hierdie teks vul die een hierbo oor eerlikheid
onder vriende mooi aan. Dit kom ook daarop neer dat ware vriendskap gepaard
sal gaan met opbouende konflik.
Vriende is kosbaar, pas daardie verhoudinge mooi op. ~ Willem Botha,
04/10/2016 |
|
“Moed laat mens sy lyding dra; as hy moed verloor het,
kan niemand hom dit weer gee nie,” aldus Spreuke 18:14. Skep moed vriend!
Volgens die HAT beteken “skep” om met ’n holding iets op te neem en oor te
bring (jy weet, soos met ’n lepel uit ’n pot). Dit impliseer daar moet iets
wees waarvan jy kan skep. Daar is baie mense wat moed verloor het en sonder
moed kan hulle nie die lewe in die oë kyk nie, kan hulle nie hulle probleme
en swaarkry dra nie. Hoe kan ons vir hulle sê: skep moed, vriend, as daar
niks is waarvan hy kan skep nie? As die pot leeg is, kan hy nie skep nie! ’n
Ander betekenis van skep is natuurlik om iets uit niks te vorm, om iets
voort te bring wat nie daar was nie (“create”/maak).Miskien moet ons die
moedeloses help om moed te skep ( te “create”) en die enigste manier is as
die Here dit vír hulle skep. Kom staan by die Here, kom skuil is sy skaduwee,
kom lê teen sy bors en Hy sal nuwe moed vir jou skep. “Ek maak die
moedeloses weer vol moed”; so sê die Here in Jer. 31:25. ~ Wilna Botha,
03/10/2016 |
|
Ek het
al baie gesê, as ek my lewe moet oorhê gaan ek standerd 5 uit die skool uit
en trou en kry klaar. Mits dit met my vroulief is! Ek dink ek het net te
veel tyd gemors aan onbenullighede soos skool, weermag en naskoolse
opleiding. Ja wel, dis natuurlik maar net my storietjie omdat vroulief my
beste maat, sielsgenoot, kollega in ons besigheid en kameraad is. En
natuurlik die ma van ons pragtige kinders.
Kyk net hoe mooi som hierdie teks in Spr 18:22 dit op. "Wie 'n vrou kry,
vind geluk en geniet die goedheid van die Here ." Ai, hoe wonderlik is dit
nie as dit waar is in 'n huwelik nie!
Ongelukkig is dit nie vir almal waar nie, maar
vir diegene wat ook op hierdie manier die huwelik ervaar is dit verseker so
dat die Here die huwelik ingestel het, en dat dit Sy bedoeling is dat 'n
huwelik so moet wees. Ek glo egter dat dit vir die meeste mense beskore is
wat hard daaraan werk.
Paulus se siening is dat die huwelik nie vir
almal beskore is nie en ek sien dat dit so waar is, want liewer alleen deur
die lewe gaan as wat mense mekaar vernietig. Maar vir diegene wat hierdie
stukkie hemel op aarde beleef is dit die beste van die beste. Dus, as die
Here vir jou hierdie voorreg gegun het, sê gereeld vir Hom dankie en geniet
mekaar voluit.
Vir die manne, so stukkie uit Willempie se
"huwelik101" :-
* Sê elke dag vir haar dat jy lief is vir haar
* Respekteer haar vir wie sy is
* Sê elke dag vir haar dat sy mooi is, en jy
sal sien sy word net by die dag mooier
* Moet NOOIT kwetsende woorde gebruik of haar
verkleineer nie
* Doen vir haar lekker dingetjies (jip, gaan
shop maar soms saam)
* Dank die Here elke dag vir haar. Dis immers
Sy geskenk aan jou. ~ Willem Botha, 02/10/2016 |
|
“Hoflikheid bring 'n mens ver. Respek vir ander maak
jou gewild.” (Spr. 18:16) As mens hierdie teks lees, kan jy dalk vir jouself
sê: dis mos logies, algemene kennis, jou ma het dit vir jou al van kleins af
geleer. Dis mos sommer net plein goeie maniere. Maar ai, kyk nou maar net
hoe ongeduldig, selfverheffend, eiegeregtig kan sommige van ons nie optree
nie, veral as ons voel ons is te nagekom. Luister maar met hoe min respek
praat party mense met ondergeskiktes. Kyk net watter aaklige kommentare
mense op Facebook kan lewer. Jesus self het vir ons 'n goue lewensreël gegee:
Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. (Luk. 6:31) Wil jy
gewild wees by mense (én by God)? Behandel álle mense met respek, onthou jou
maniere, wees beleefd, praat mooi en beskaafd ... En nou het ek lekker vir
myself gepreek! ~ Wilna Botha, 29/09/2016 |
|
Die
Bybel is darem maar 'n boek vol ongelooflike wyshede en alles wat daarin
opgeteken is, word daagliks steeds korrek bewys. Die inhoud van die Bybel
weerstaan die toets van die tyd, selfs op mediese gebied.
Spr 17:22 raak 'n ongelooflike stukkie waarheid aan as dit sê: " 'n Vrolike
mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput." Is dit nie So
waar nie? Ons weet dat stress en bekommernis een van die groot oorsake van
hartsiektes, beroertes en ander kwale is en deur
dit uit te skakel het jou liggaam 'n onmiddelike positiewe reaksie.
Hierdie teks sê dieselfde, dit sê dat 'n vrolike gemoed 'n positiewe invloed
het op jou gesondheid. Ja, inderdaad is mense wat heeldag lag nie gewaarborg
om nooit siek te word nie, maar dit lyk tog vir my of vrolike mense net meer
immuun is teen ipekonders. Gaan kyk maar hoe gaan dit met mense wat altyd
lag en die positiewe in die lewe raaksien, jy hoor hulle net nie kla nie, en
boonop het hulle nog 'n goeie invloed op die mense om hulle se gesondheid.
Dalk het jy ook al vir so iemand gesê: Sjoe, jy is darem maar 'n tonic. Wel,
dit is so, iemand wat jou opbeur is tog 'n duisend maal meer werd in jou
lewe as iemand wat jou afrem. Daarom, omring jouself met hierdie positiewe
mense en jou lewe sal ook baie meer aangenaam wees. 'n Klakous wat net die
sleg in alles sien moet maar verby hou, ek is nie lus om 'n pilletjie te
drink omdat iemand anders my gesondheid aantas nie. Dus, as jy af voel, kry
iets (of iemand) om jou op te beur en jou dag sal sommer baie beter verloop.
'n Vrolike mens is 'n gesonde mens... ~ Willem Botha, 28/09/2016 |
|
“Silwer word in 'n smeltkroes gelouter en goud in 'n
oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.” (Spr. 17:3) Daar is
allerlei toetse wat oor ons pad kom – toetse vir ons geloof, toetse vir ons
geduld, toetse vir ons gehoorsaamheid, toetse vir ons deursettingsvermoë,
ens. Toe ek hierdie teks in Spreuke lees kon ek nie help om te wonder of dit
vandag nog só is dat die Here vir ons toetse gee, ons op die proef stel,
soos wat Hy met Abraham gemaak het toe Hy vir Isak moes offer, soos wat Hy
met die Israeliete in die woestyn gemaak het, of soos wat Hy toegelaat het
dat die duiwel Job se getrouheid aan die Here toets. Die rede vir Sy toetse
was om die volk nederig te maak, om te toets of hulle Hom sal gehoorsaam al
vra dit 'n prys, te toets of swaarkry hulle van Hom sal laat vergeet, om vas
te stel of Sy mense Hom lief het met hart en siel. (lees gerus Deut. 8:2,
8:16, 13:3) Dis vir my moeilik om te oordeel watter dinge sommer net gebeur
en watter dinge werklik toetse van die Here af is. Die oorsprong van die
toets is eintlik minder belangrik as die uitkoms van die toets. Die vraag in
die eksamentyd van die lewe is: gaan ek 'n beter, sterker mens anderkant
uitkom, gaan ek groei in afhanklikheid van die Here, gaan ek positiewe
geloofstreë gee, of gaan ek uitmekaarval en dalk selfs my rug op die Here
draai. Gaan die uiteinde wees dat daar meer van die vrug van die Heilige
Gees in my sigbaar sal wees, of gaan die uiteinde wees dat ek net meer
ongeduldig, hoogmoedig, selfgerig, haatdraend, geldgierig, ens. gaan wees?
“Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here
vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here
te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat
dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil.” (Jak 1:3-4, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 27/09/2016 |
|
Ou Skollie
Ons sien nou die dag die fliek : "Noem my Skollie." 'n Skitterende plaaslike
fliek wat ongelooflik goed gemaak is, en wat op 'n eerlike en harde manier
die bendegeweld op die Kaapse vlakte uitbeeld. Die fliek het vir my 'n nuwe
blik gegee op die lewenswyse daar en die probleme wat met bende bedrywighede
gepaard gaan en ek het ook verstaan hoekom kinders daarin betrokke raak.
Hulle word groot in haglike omstandighede waar die pa in hierdie wêreld van
dwelms betrokke is om kos op die tafel te hou, en dan sit die kinders
hierdie lewe maar net voort, met tragiese gevolge. 'n Lewenswyses wat
letterlik lei tot die dood.
Kyk wat staan in Spr. 16:25
"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde
daarvan is die dood."
Hierdie voorbeeld van
Skollie spreek eintlik vanself, maar daar is so baie mense wat in een of
ander lewenswyse vasgevang is wat dalk nie lei tot fisiese dood nie, maar
dalk emosionele dood, of Geestelike dood. Dis wanneer die mens stadig maar
seker ingetrek word in verkeerde dinge, of dalk 'n huwelik wat stadig maar
seker sterf, of selfs verhoudinge met geliefdes wat lei tot die "dood" van
verhoudinge.
Ek het ook al gesien hoe
mense besigheid op die verkeerde manier doen, maar in die proses vernietig
hulle nie net hulleself nie, maar ook mense om hulle. Die ergste is dat dit
soms diep gelowige mense is wat so perspektief verloor, en steeds glo dat
die Here hierdie lewenswyse moet seën.
Ek wil vandag weer kyk na my eie lewe en dit meet aan die Woord van God,
waar al die antwoorde opgeskryf is. Ek wil kyk na eerlikheid in my besigheid,
na my verhoudinge in my gesin en ook met my medemens. Mag die Here my
hiermee help.
Skollie het op 'n stadium weggedraai van hierdie lewe af en sy lewe is
letterlik gered, terwyl sy maats op die galg gesterf het. Die fliek is
gebaseer op 'n ware verhaal. ~ Willem Botha, 26/09/2016 |
|
Die nuwe week lê voor en ons beplan en reël en
skeduleer alles wat gedoen moet word. Ons is mos baie tevrede met onsself as
ons in beheer van ons dagboeke is. Ons is vies as onvoorsiene omstandighede
ons planne kom deurmekaarkrap en dinge nie uitwerk soos ons dit voorsien het
nie. Daar is 'n uitdrukking wat sê: “Life is
what happens
while you
are busy making
other plans.” Ek besef maar net weer dat ek in my beplanning moet rekening hou
daarmee dat die Here die laaste sê sal hê oor die uitkoms en sukses daarvan.
Ek wil Hom meer raadpleeg oor my skedules
en my planne aan Hom opdra en Sy seën daaroor vra. Ek wil minder op my eie
program fokus en meer op wat die Here vir my beplan. Spreuke 16 praat drie
maal hieroor. “'n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit
suksesvol sal wees of nie.” (Spr. 16:1); “Ken die Here in alles wat jy wil
doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer.” (Spr. 16:3); “Elke mens
beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af.” (Spr. 16:9) Die Here ís in
beheer, vertrou jou lewe en jou planne aan Hom toe. ~ Wilna Botha,
25/09/2016 |
|
Mentors
Spr 15:22 "Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag
wanneer daar baie raadgewers is."
Goeie raadgewers is onontbeerlik vir ons in die lewe, en ek maak graag vir
my mentors bymekaar. Geestelike mentors, besigheids mentors en ook
lewensmentors, en almal is verseker nie ouer as ek nie, maar eerder wyser as
ek. Dis vir my baie leersaam as ek sien hoe ander mense dinge doen, en ook
hoor wat hulle glo.
Dis verstommend dat mense deesdae sommer eensklaps
nuwe gelofies aanhang. Dinge wat kwansuis aan hulle openbaar is en wat dan
boonop saamgaan met tekste uit die Bybel, wat al wat 'n Christen is nog al
die jare misgekyk het. Jy sal merk dat dit gewoonlik kom van mense wat jonk
in hulle geloofslewe is, en boonop nogal voortvarend in hulle beoefening van
hulle geloof is. Daar is nie noodwendig altyd iets daarmee verkeerd nie,
maar dis waar ek graag by my mentors gaan aanklop, by mense wat die pad al
lank stap, baie naby aan die Here leef en wat goeie lewenservaring het.
Daar is mense vir wie ek al gesê het dat hulle versigtig moet wees wat hulle
sê want ek glo alles wat hulle uitspreek. Dís 'n ware mentor en wie vir mens
goeie, sinvolle raad kan gee. Ek glo nie sommer goedsmoeds wat elke Jan Rap
en sy maat kwytraak nie, dis eers as my raadgewers vir my insig gee in 'n
saak, wat ek dit my eie maak. ~ Willem Botha, 22/09/2016 |
|
“.. Hy hoor die gebed van die regverdiges.” (Spreuke
15:29) As Sy kinders bid, hoor die Here! En Hy hoor nie net nie, Hy luister
en Hy antwoord. Hierdie teks klink baie soos die een in Jak 5:16 wat sê:
“Die gebed van die gelowige het 'n kragtige uitwerking.” Of daai gebed nou
'n stille versugting is, of dit 'n sagte geprewel is, of dit in pragtige
woorde geuiter word, of dit met trane gepaard gaan, of met krete van
dankbaarheid die Here hoor dit! “Die Here sal julle help as Hy hoor julle
roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat
Hy dit hoor.” (Jes. 30:19, Die Boodskap) Het jy ook al gedink dis nutteloos
om te bid, of gevoel jou gebede kom nie by God uit nie? Bid weer! Hy hoor! ~
Wilna Botha, 21/09/2016 |
|
Die
Here sien oral...
Spr 15:3 "Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop."
Hierdie teks het my dadelik aangegryp toe ek hom raaklees. Sjoe, aan die een
kant is dit skrikwekkend vir jou en my, want dit sê vir ons as Christene dat
ons nie maar net kan maak wat ons wil nie want die Here sien letterlik oral,
alles en ja ook as ons stoksielalleen is.
Maar dis nie net ons wat so fyn "dopgehou" word nie, ook die "slegte mense"
word dopgehou, al dink die goddelose
dat daar nie 'n God is nie en hulle kan doen wat hulle wil. Wel, al glo
hulle dit nie, kom nie net die genade wat hulle ontvang steeds uit God se
hand nie, maar ook die nagevolge van verkeerde dinge kom uit God se hand.
Hierdie teks is egter nie net negatief nie, want die Here hou ons ook dop as
Hy ons teen gevare beskerm, Hy weer elke enkele dag slegte goed van ons af,
en Hy gee ook elke dag vir ons leiding en ons weet dit gewoonlik nie eers
nie.
Ek hou sommer baie van die idee dat God my elke dag dophou want dit stel my
gerus dat Sy oog op my is. ~ Willem Botha, 20/09/2016 |
|
“Kalmte en vrede is baie
goed vir jou gesondheid.” (Spr. 14:30, Die Boodskap) Ek geniet dit só om te
sien hoe akkuraat en prakties al die gesegdes in Spreuke is. Kyk nou maar
dié ene. Ons weet almal dat stres, negatiwiteit, bekommernis en onvrede
allerlei skete soos maagsere, hoofpyne, stywe nek en selfs tandpyn (ja,
tandpyn want jy kners!) kan veroorsaak, dat argumente en wedywering jou
bloeddruk kan laat styg en jou hart ongesond vinniger kan laat klop. Om nie
eens te praat van grys hare, frons-plooie en voortydige veroudering nie. Kalmte
en vrede is wat ons moet najaag, ons moet soek na rustigheid – nie net
uiterlik nie, nee, veral aan ons binnekant. 1 Pet. 3:4 noem dit “kalmte van
gees.” As ons hierdie kalmte en vrede aan ons binnekant dra, sal dit ons ook
sag en vriendelik laat optree, met deernis en empatie, met groter geduld en
verdraagsaamheid. Ek weet die lewe is vinnig en vol druk en spanning, so hoe
gaan ons daai kalmte en vrede kry? Ek dink ons moet doelbewus stop, stilhou
en die Here laat werk. Hy sê: “Bedaar en erken dat Ek God is....” (Ps.
46:11), “Kom
na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”
(Matt. 11:28) . Dan
kan jy mos jou bekommernisse op Hom afskuif, dan kan jy jou sorge vir Hom
gee – in ruil sal jy Sy vrede ontvang wat alle verstand te bowe gaan. Hy wíl
hê dat ons gesond moet wees, dat ons nie moet knak onder al die druk en eise
van die lewe nie, daarom sal Hy uiteindelik alles tot ons beswil laat
uitwerk. Vertrou Hom daarvoor. ~ Wilna Botha, 19/09/2016 |
|
Kort
van draad
Ai, kom ek steek gou 'n prekie vir myself af. Ongeduld bring jou nêrens nie.
Ek is nie trots op my gedrag as ek alleen is en geïrriteerd raak met iets
nie, en boonop so paar knope los.
Spr 14:29 “'n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is,
stel sy dwaasheid ten toon.”
Ek weet dat vroulief onmiddellik vir my bid vir
rustigheid as dit gebeur en dit lyk my daardie gebede werk nogal! Dis egter
een ding as dit gebeur as jy by jouself is, maar
as jy dit voor ander doen, of jou frustrasie op ander uithaal, wys dit
eintlik maar net hoe dwaas jy is.
Was jy ook al in iemand se geselskap tydens 'n
uiteet uitstappie en die persoon raak ongeskik met die kelner? Dit plaas
mens in 'n ongelooflike ongemaklike situasie. En nie eers te praat van
padwoede nie.
Ek dink Jesus het 'n geweldige sagte gees gehad
en mens sien dit raak as jy lees in die Evangelies waar Hy aan die woord
was. Ek glo hy het selfs die Fariseërs berispe op 'n kalm en bedaarde manier
en dikwels met 'n glimlag. Ek glo ook dat Hy selfs tydens ons eie
uitbarstings met deernis na ons kyk en sê: Rustig vriend, die lewe is te
kort vir hierdie gedrag.
Daardie truuk wat sê jy moet tot 10 tel voor jy
negatief reageer werk goed. Miskien moet ek iets byvoeg by my eie tien
tellings, nl om net te bid “Here, help my om net vir 'n oomblik kalm te raak.”
~ Willem Botha, 19/09/2016 |
|
“Die Here se liefde is soos 'n borrelende fontein. Dit
maak van jou 'n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning.” (Spreuke
14:27, Die Boodskap) Ken jy daai borrelende, bruisende gevoel van die Here
se liefde in jou hart? Daai gevoel wat jou nie net hoendervleis gee nie, wat
nie net 'n emosionele ervaring is nie, maar wat ook jou verstand oorneem en
jou rustig en tevrede maak, wat jou laat glo dat Hý waarlik God is, dat Hy
jou sy kind gemaak het, dat Hy in beheer is. As die Here se liefde soos 'n
fontein in jou opborrel, gaan jy nie kan keer dat dit oorborrel nie. Dit
gaan van jou 'n sprankelende mens maak wat ook liefde na jou naaste sal laat
uitvloei. Met Sy fontein van liefde in jou hart, gaan jy weet Hy is aan jou
kant, gaan jy weet Hy sal jou nie alleen los nie, gaan jou angs, spanning en
bekommernis vervang word met vrede en rus. Ek hoop die waarheid van hierdie
teks sit vandag 'n huppel in jou stap. ~ Wilna Botha, 15/09/2016 |
|
A quick buck
Spr. 13:11 "Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir
bietjie bymekaarmaak, word ryk."
Ek is seker dat jy (nes ek en elke mens op aarde) begeer om vinnig 'n
miljoen of twee te maak, sonder om daarvoor te werk. Maar o wee, hierdie
teks in Spreuke is so skrikwekkend waar en niemand wil daarop ag slaan nie,
al sien ons elke dag rondom ons die verskrikking van hierdie stukkie
waarheid. Ek is ook doodseker dat jy, nes ek, mense persoonlik ken wat
hulle swaarverdiende pensioen of spaargeld vir iemand gaan gee het om dit
teen 'n enorme "opbrengs" te gaan belê, net om alles te verloor. Wel, die
geld is belê, in die skurk se sak! Maar wie moet blameer word?
Wel, solank as wat mense met handsakke en skootrekenaars op hulle sitplekke
rondry, sal daar mense wees wat dit "smash and grab". En solank mense vir
bedelaars by die robot geld gee, sal daar bedelaars by die robot wees. En
solank mense so gulsig is na vinnige geld, sal daar "finansiële kenners"
wees wat daardie geld vat. Jy sien, dis ons self wat hierdie goor praktyke
aan die lewe hou, en dis gewoonlik omdat ons soveel waarskuwings in die
Bybel verontagsaam.
"Eendag is eendag..." Ja jy ken die Lotto advertensie wat vir jou vertel dat
jy maar net moet aanhou om jou randjies vir die verkeerde mense te skenk,
dan gaan jy iets terugkry. Volgens die Lotto webblad is jou kans een uit 14
miljoen om te wen, want dis hoeveel kombinasies daar is. Nou is die som
maklik. Indien jy dus dieselfde kombinasie elke enkele dag van die week
speel, behoort jy die lotto iewers binne die volgende 39 325 jaar te wen. En
dit sal jou R49 miljoen kos, om dalk R1 miljoen te wen.
Ai, hoekom slaan ons nie maar ag op die Here se voorskrifte nie? Hoeveel
verhoudinge is nie tot niet oor gevegte oor erfporsies nie? Hoeveel mense
het nie naderhand in misdaad verval oor daai drang na vinnige geld nie?
Hoeveel huwelike is nie tot niet oor die spandabelrigheid van een (of albei)
van die partye nie?
Nee wat, hierdie teks sê jy moet maar bietjie vir bietjie bymekaarmaak, deur
harde werk. Daarteen het die Bybel niks. ~ Willem Botha, 14/09/2016 |
|
Spreuke praat baie oor ons woorde, die betroubaarheid
en die krag daarvan. Hier in Spreuke 12 is 'n hele paar van dié
woorde-spreuke. Lees bv. vers 6, 14, 18 en 25. Vers 17, 19 en 22 het iets
te sê oor die egtheid van ons woorde, oor die gevaar van leuens en die
belangrikheid van die waarheid. “Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie
... Leuentaal is waardeloos.” (Spr. 12:19, Die Boodskap) Die Here haat
liegstories en mense ook. Dis mos nie lekker as jy uitvind iemand het vir
jou gejok nie, so hoekom jok ons dan vir mense? Dink mooi voor jy die
waarheid verdraai, daai witleuentjie vertel of sommer net blatant lieg – dit
gaan nou-nou boemerang en jou in die sop laat beland. Wyse mense bring
genesing met wat hulle sê, hulle positiewe woorde is soos salf vir mense wat
pyn en hartseer beleef, hulle vriendelike woorde bemoedig mense en bring vir
hulle hoop, dit vrolik die teneergedruktes op en dáárby kan wyse woorde
mense se lewens red omdat dit hulle op die regte pad kan help en by die Here
kan uitbring. Weeg jou woorde ... dit kan dolksteke of salf wees. ~ Wilna
Botha, 13/09/2016 |
|
'n
Goeie huishouding
Spr. 11: 29 "Wie sy huishouding verwaarloos, sal naderhand net wind oor hê..."
Ek dink vroulief gaan nou vir die manne sê hoe hulle moet skottelgoed was en
Saterdae daai ongemaklike lysies sonder teëpraat wegwerk. Daai takies wat hy
so uitstel dat hy naderhand vir haar sê "jy hoef my darem nie elke ses
maande te herinner nie...".
Hierdie kan seker deel van die bedoeling van hierdie teks uitmaak, maar dit
gaan veel verder as dit. 'n Klompie jare gelede
was ons in verskeie bedieninge betrokke wat my dikwels van die huis af
weggeneem het in die aande, en ek het net een dag besef dat jy selfs met
Geestelike werk jou huishouding kan afskeep. Die beginsel van "almal in 'n
bediening", beteken nie "sommiges in al die bedieninge" nie. Jou huis is tog
ook 'n bedieningsveld en deel van die huishouding wat nie verwaarloos moet
word nie.
Om tyd saam
met jou gesin te spandeer, is deel van die instandhouding van 'n goeie
huishouding, so ook tyd vir jouself om van stres ontslae te raak, maar dan
ook tyd saam met die Here, om daai Geestelike waarhede terug te ploeg in die
huis in. Dis 'n groot seën om 'n huislike atmosfeer te beleef wat aangenaam
is om in te woon. ~ Willem Botha, 12/09/2016 |
|
Wanneer mens vir so 'n rukkie besig bly met Spreuke,
dan begin dit voel of dit 'n klomp reëls is, moets en moenies, voorskrifte
wat sê maak seker jy doen dit en dat en vermy 'n groot klomp ander dinge. In
Spreuke 11:20 is daar een van die redes hoekom ons gerus maar hierdie
lewensreëls ter harte moet neem; dit sê: “Die Here hou van mense wat
onberispelik lewe” en vers 27: “Wie reg leef, verheerlik God.” As volgelinge
van die Here behoort dit een van ons diep begeertes te wees om Hom te behaag,
om Sy Woord ernstig op te neem en sy voorskrifte in ons daaglikse lewe toe
te pas. Dit behoort ons strewe te wees om seker te maak ons gedagtes is
suiwer, ons woorde vol lof teenoor Hom en ons dade 'n uitdra van Sy liefde
teenoor ander. Dit gaan boonop die lewe vir jou makliker en aangenamer maak
as jy weet wat die regte ding is om te doen en jy dóén dit. Dit gaan jou
verhoudings baat, jou sosiale vaardighede gee, jou help in jou werkslewe en
jou finansies. Luister na die Spreuke en jy gaan die kuns van die lewe ken!
~ Wilna Botha, 11/09/2016 |
|
Geweeg en te lig gevind
Ek lees vandag hierdie volgende teks in die Bybel raak.
Spr 11:1 "Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weg nie, net die
regte gewig dra sy goedkeuring weg"
Wel, die Here haat sekerlik nie die skaal nie, Hy haat wel dit wat die mens
doen om ander te benadeel deur verkeerd te "weeg". Ek onthou in die ou dae
die skaal wat in die winkel gebruik was - daar was 'n groot aluminium
skottel aan die een kant om meel of suiker of ander goedere in
te plaas om geweeg te word. Aan die ander kant van die skaal is die korrekte
gewig geplaas waarteen geweeg is. My een oom het destyds in die Kaap 'n
winkel gehad waar alles van die spreekwoordelike muistand tot 'n dooie
poliesman verkoop is. Agter in die winkel was groot streepsakke met
allerhande goed wat per gewig verkoop was, en daardie skaal het my vreeslik
gefassineer.
Nou ja,
die skelm handelaar het met daardie teengewigte gepeuter om jou te verneuk.
Daar is natuurlik baie in hierdie vergelyking in Spreuke vasgevang en van
toepassing in vandag se lewe. Ek dink dit kan nogal goed toegepas word in
die ure wat ons daagliks aan ons werkgewers "verkoop". Jy weet mos, pas by
o
die werk gekom dan gaan maak ons eers 'n draai op die stoep, daar waar almal
vars lug gaan insuie deur so 'n koddige wit strooitjie. En dan vertel ons
vir mekaar hoe pragtig Sannie in haar vreemde rokkie lyk, en hoeveel ons die
baas waardeer vir sy goeie behandeling en ruim salaris wat hy ons betaal.
Ons herhaal daai oefening sommer 'n paar keer 'n dag.
In besigheid weeg ons gereeld verkeerd deur nie die waarde te lewer waarvoor
ons betaal word nie.
Dis ook nogal waar in ons Geestelike lewens, waar ons ook die skaal bietjie
aanpas as ons God se opdragte uitvoer. Lewer so bietjie minder as dit wat Hy
verwag. Ek self is verskriklik skuldig hieraan en dis nie lekker om dit te
erken nie. Hierdie teks handel eintlik maar net oor totale eerlikheid, deur
presies te lewer wat ons sê ons gaan. Moeilik né? ~ Willem Botha, 08/09/2016 |
|
“As die
stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd
staan.” (Spr. 10:25) Toe ek dié teks (en 'n klomp ander in Spreuke) lees,
het ek sommer net weer vir myself gevra: wie is die regverdiges waarvan die
Bybel praat, want ek wil seker wees ek is een van hulle, ek wil bly staan in
die wind, ek wil 'n anker hê in die lewenstorms, ek wil weet ek gaan
anderkant uitkom. Gen. 6:9 gee 'n definisie van iemand wat regverdig is as
dit van Noag praat: 'n onberispelike persoon wat naby aan God leef. Hy was
eintlik die enigste een wat onberispelik genoem word, al die ander het een
of ander sonde of fout gehad, net soos ons vandag. Die Engelse woord help
mens bietjie met die betekenis van regverdige – dit verwys nie na “fair”
nie, maar na “righteous”. Iemand wat geregverdig is (lees Rom 8:30 in die
1953 Afrikaanse vertaling), is iemand wat in die regte verhouding met God
is, iemand wat deur Hom vrygespreek en vergewe is, iemand wat God persoonlik
ken, iemand wat homself Sy kind en volgeling noem, iemand wat deur geloof
lewe. Toe Jesus, dié sondelose een, dié regverdige een in ons plek gesterf
het, het Hy ons sonde op Hom geneem en in ruil Sy regverdigheid vir ons
gegee. En lees maar bietjie in Spreuke wat die regverdige as 'n geskenk van
God ontvang. Hier is 'n paar:
- Spr. 10:6 Die regverdige word geseën.
- Spr. 10:16 Die regverdige ontvang die lewe as beloning.
- Spr. 10:13 Die regverdige wankel nooit.
- Spr. 11:8 Die regverdige word uit sy nood bevry.
- Spr. 14:32 Die regverdige het 'n toevlug, ook in sy dood.
- Spr. 18:10 Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind
daar skuiling.
- Spr. 24:16 Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op. ~ Wilna
Botha, 07/09/2016 |
|
Gehoorsaam
Kyk, in die weermag is daar een ding waaraan jy voldoen, sonder teëpraat, en
dis om bevele te gehoorsaam, hetsy of jy daarmee saamstem of nie. En as jy
dit nie doen nie brul jy. Om bevele te gehoorsaam en opdragte uit te voer is
die kern van dissipline en selfdissipline. Soms is dit nie lekker nie, maar
as die mens versuim om dit te doen, moet hy sy pak vat soos 'n man.
Spr 10:8 "Die mens met verstand aanvaar bevele. Wie aanhou onsin praat, kom
tot 'n val."
Kort en kragtig, die mens met verstand aanvaar bevele. Punt. Ongelukkig woon
ons in 'n samelewing waar menseregte een van die grootste euwels denkbaar
geword het, en tot op die hoogste vlak van die leierskap van ons land word
dit totaal geminag. Mense het net eenvoudig nie meer respek vir reëls,
bevele en 'n waardestelsel nie.
Hoe ongelooflik is die Bybel nie, want dit gee elke enkele riglyn wat die
mens nodig het om 'n sinvolle en mooi lewe te ly. Hoekom sien die mense die
Here as die "kwaai Omie daar bo" (dis godslasterlik) terwyl Hy net die beste
bedoelinge denkbaar vir ons het?
Is die nie waar dat basiese waardes tot niet gaan, net omdat jy bykans geen
reëls meer op die mens kan afdruk nie. Die riglyne van die Bybel is nie 'n
klomp kwaai strafmaatreëls nie, dis riglyne vir 'n goeie lewe. 'n Lewe wat
nie net vir God behaag nie, maar ook die beste vir ons in gedagte het. Die
Wet is nie 'n stel wrede reëls nie, dis wonderlike riglyne vir 'n goeie lewe.
Dus, as ons verwag dat ons kinders gehoorsaam moet wees aan ons reëls, moet
ons dieselfde doen deur die Bybelse reëls en riglyne na te volg, en ook die
land se reëls.
Ons beste voorbeeld van gehoorsaamheid sien ons in Fil 2:8b "Hy was
gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis." ~ Willem Botha,
06/09/2016 |
|
“Van 'n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy
dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se harte.” (Spreuke
10:7, Die Boodskap) Ons was in die afgelope rukkie by twee begrafnisse in
een week. Sleg nè! Daar het ek net weer besef, as mens weg is, is jy weg en
het jou geliefdes en vriende en kollegas net herinneringe oor. Dit was
lekker om by albei dié begrafnisse die mooi, die inspirerende, die impak wat
dié persone gemaak het te oordink, om met 'n traan in die oog te sê: onthou
jy sy het altyd .... Die wonderlikste van albei is dat ons kon sê: sy was 'n
gelowige. En wat sê Spreuke elders: as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou
om geprys te word. Daai twee vrouens sal nog lank onthou en gemis word. En
ons wat nog lewe? Is ons besig om 'n verskil te maak? Is ons besig om woorde
te spreek wat nog lank in mense se harte sal voortlewe? Terwyl jy lewe kan
jy nog jou foute regmaak, kan jy slegte gedrag uitvee, kan jy die negatiewe
vervang met positiewe, inspirerende dade, kan jy verhoudings herstel en
jammer sê. Gebruik die tyd wat jy het – leef en maak 'n verskil. ~ Wilna
Botha, 05/09/2016 |
|
Reg en
verkeerd
Is dit nie verskriklik hoe afgestomp die mens al vir reg en verkeerd geword
het nie? Om musiek te steel deur kopieë by ander te maak, om onwettige
flieks by die robot by straatverkopers te koop, of om gesteelde goedere by
iemand te koop, welwetende dat iemand dalk in die proses sy lewe verloor
het. Ja ek dink jy dink ook nou by jouself: Ons almal doen dit mos. Maar dis
'n gruwel in die oë van die Here.
Spr 10:2-3 "Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te
lewe volgens die wil van God, red 'n mens van die dood. Die Here laat die
mens wat reg doen, nie honger ly nie, die Here laat die begeerte van dié wat
verkeerd doen, nie bevredig word nie."
Hierdie voorbeelde spreek dinge aan wat maklik identifiseerbaar is en
openlik verkeerd is, maar dit gaan veel verder as dit. Ek dink anderdag aan
beroepe wat as totaal aanvaarbaar beoefen word. Ons is dalk self daarin
betrokke, of slagoffers daarvan, en sonder om enige beroep te noem, kan jy
dink aan die volgende. Beroepe waar jou geld geneem word deur
wanvoorstellings van kwaliteit of waarde voor te hou. Daar is beroepe wat
geensins beoefen kan word sonder dat daar daagliks blatant gelieg word nie,
en gewoonlik ten koste van ander wat verkeerdelik benadeel word. Daar is
beroepe waar vals beloftes gemaak word of inligting weerhou word en mense
benadeel word sonder om dit te weet. Daar is maniere om mense se
swaarverdiende geld in te palm deur mense se vrees, skuldgevoelens of
"greed" uit te buit. Fynskrif in kontrakte, omkopery om kontrakte te bekom
en dan boonop persoonlik voordeel daaruit te kry, is al meer die reël as die
uitsondering.
Ons kla oor die korrupte regering, maar dit strek veel verder as dit. Die
wêreld het 'n lelike plek geword. En wat die ergste is, is dat die eerlike
persoon dikwels verwoes word, en die skuldige party deur die wet, of sisteme
beskerm word. Dit maak mens siek!
Dis nie wat die Here wil hê nie. Die Here wil hê ons moet ALLES wat ons doen,
met eerlikheid en opregtheid doen. Ek het al baie gewonder hoe slaap mense
in die nag. Die ergste is dat mense opgelei word om hierdie dinge uiters
effektief oneerlik te doen. Ai, waar gaan ons heen? En ek, waar staan ek in
my besigheid? Goeie vraag... ~ Willem Botha, 04/09/2016 |
|
In Spreuke 8 is die Wysheid self aan die woord met 'n
uitnodiging om meer wysheid te bekom sodat jy die regte raad, kennis en
insig vir 'n gelukkige en sinvolle lewe kan hê . Spreuke 8:5 sê: “Dié wat
ervaring kortkom, kan verstandig word, dié wat dwaas optree, kan insig kry.”
Ons is nie net so gemaak en so gelaat staan nie – ons kán groei, ons kán
vorder op ons Geestelike pad, ons kán wysheid bekom en meer insig verkry. Ek
lees dat Einstein gesê het: “Wisdom is not a product of schooling, but a
lifelong attempt to acquire it”. Hy was reg, want ons kan nie wysheid in ’n
boek of universiteitskwalifikasie kry nie. Ons kan wysheid net by die Here
kry. Ons kán wysheid bekom, soms gee die Here dit vir mens in jou slaap,
ander kere is dit deur ervaring van probeer en misluk, weer probeer en groei,
dikwels deur die bestudering van die Bybel en altyd deur die leiding van die
Heilige Gees. Meeste van die tyd verg dit doelbewuste inspanning, maar dis
altyd die moeite werd, want: “Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind
het.” (Spr. 3:13) ~ Wilna Botha 01/09/2016 |
|
Oppas!
Die wyse Salomo het nou maar eenmaal 'n manier om met woorde te toor, en
daar is plekke in Spreuke wat hy dinge ongelooflik raakvat. In Spr 6 en 7
waarsku hy ernstig teen owerspel. Hier praat hy van die owerspelige vrou wat
met uitlokkende klere en mooi woordjies 'n man in haar strik in verlei en
dan sy lewe verwoes. Nou wil ek dit tog duidelik maak dat nie Salomo, of ek,
besig is om die vrouegeslag sleg te maak nie, want "It takes two to tango",
maar hy waarsku ons
as mans om baie versigtig te wees.
Spr 6 :
24-26 "My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou
met haar gladde tong wil verlei. Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek
nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. Jy kan 'n prostituut kry vir 'n
stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos."
Ek glo
ons het al almal die vernietiging hiervan gesien en my vraag is, hoe sterk
is ons? Of ek? Sal ek regtig "daardie dag" kan weerstaan? Kan ek so
selfversekerd wees dat ek kan sê "NOOIT NIE"? Ek bid dat dit nooit op my pad
sal kom nie!
Maar dis
juis hoekom Salomo hier ernstig waarsku teen omstandighede wat daartoe kan
lei. Daardie leë oppervlakkige praatjies met poppie by die werk, daai een
dop te veel waar vroulief nie by is nie, maar waar ander vrouliefies
teenwoordig is, daardie praatjies met 'n ander vrou wat jou probleme so goed
verstaan, want sy gaan ook mos deur dit, jy weet?
En dan,
as poppie se man uitvind! O wee...
Spr 6: 34
- 35 "Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie
perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie."
En dan, daai blatante
verleiding...
Spr 7 : 18 - 20 "Kom ons drink van die liefde tot die môre toe, ons gee ons
oor aan die liefdeslus. My man is nie tuis nie, hy is op 'n lang reis; hy is
weg met 'n vol beurs en kom eers met volmaan terug.”
Ek het by 'n maatskappy gewerk waar ons dit eerstehands gesien het, en waar
die lyke van hierdie ding gesaai gelê het. En weet jy wat? Niemand het
hierdie mense gewaarsku nie! Ek ook nie.
Mens loop nie sommer net tussen 'n trop leeus in nie, want jy sal sleg
tweede kom! En dis waarteen Salomo hier waarsku. Bly liewer weg, los liewer
die praatjies, drink uit jou eie fontein soos wat Salomo in Spr 5 : 15 noem.
"Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome
uit jou eie fontein." ~ Willem Botha, 31/08/2016 |
|
Spreuke 6:16-19 noem sewe dinge wat die Here haat,
waaraan Hy 'n afsku het. Vêrder aan in Spreuke kom daar nog 'n hele paar
ander dinge by. As ek dit lees voel ek skaam, want ek weet daar is van dié
goeters wat kop uitsteek in my lewe. Kom ons lees dié sewe sonder om te dink
aan Piet en Sannie en hoe hulle skuldig is hieraan; nee, kom ons maak dit 'n
selfondersoek, 'n belydenis van ons eie foute en 'n strewe om die Here te
behaag met ons lewenswyse. Sewe dinge wat die Here haat, volgens Spreuke 6:
(1) oë wat hoogmoed weerkaats – daai neerkyk op ander, “ek is beter as
jy”-gesindheid, “wat het die kat nou weer hier ingesleep” - houding; (2) 'n
tong wat leuens vertel – daai alewige verdraai van die waarheid, wit leuens,
verneukery; (3) 'n hand wat ander se ondergang bewerk – vernietiging van
ander se menswaardigheid deur jou optrede en jou wrede woorde; afbreek van
jou huismense of kollegas se selfbeeld; (4) 'n hart wat slegte dinge dink –
en dan loop die mond daarvan oor en word dié om jou ook vergiftig met jou
negatiewe praatjies, afbrekende kritiek en swak grappies; (5) voete wat
haastig na die kwaad toe hardloop – verkeerde prioriteite, geldgierigheid,
swak keuses; (6) 'n vals mens wat na elke asemteug net leuens uitasem –
iemand wat jy glad nie kan vertrou nie, sy ja is nie ja nie en sy nee is nie
nee nie; (7) 'n rusverstoorder wat die liefde tussen mense wegvat – iemand
wat stories aandra, wat “stir” en familie rusies laat opvlam. Sjoe, wat 'n
lys! Ek wil opnuut kies téén elkeen van hierdie sewe en liewer my “lewe
inplant op die terrein van die Heilige Gees.” (Gal 6:8) Mag die Here ons
elkeen hiermee help. ~ Wilna Botha, 30/08/2016 |
|
Luiaard
Die Bybel praat vreeslik baie van vrygewigheid, hulp aan ander, dra mekaar
se laste en hulpvaardigheid. Maar waarsku ook teen ander wat bedel, uitbuit
en jou goedhartigheid misbruik. Ek is seker jy is ook al moeg gevra om jou
swaarverdiende geld af te staan aan sommiges wat net eenvoudig te lui is om
vir hulleself te sorg. Salomo het ook 'n kleintjie dood aan mense wat in
ander se oë kyk terwyl hulle baie lief is vir rondlê.
Spr 6 :6-11 "Gaan kyk na die mier, luiaard,
kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of
'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy
sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy
opstaan? Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie
handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar
oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker."
Ek word so ruk gelede
in een week 'n paar keer gekonfronteer deur mense wat geld wil hê (nie eers
leen nie), bloot omdat hulle dink ek het en hulle kort. In een geval 'n
persoon wat homself bankrot geleef het deur oordadig weelderig te lewe, en
dan een wat net eenvoudig nog nooit geld verdien het deur te werk nie en van
bakboord na stuurboord swerf.
Dit is verseker nie die Here se wil dat ons hierdie tipe lewenswyse moet "borg"
en ondersteun nie. Eers as 'n persoon alles in sy vermoë gedoen het om
homself te help, kundig met sy middele omgaan en nie in die moeilikheid
beland deur onverantwoordelik te leef nie, of as dit tydelik van aard is
deur bv werkverlies, kan ons dit oorweeg om te help.
Partykeer is daar meer van die Here se geld in jou sak as in 'n ander s'n,
en dan moet ons mededeelsaam wees, maar omdat alles eintlik maar aan die
Here behoort, moet ons tog ook goeie rentmeesters wees. Gee liewer 'n
visstok as 'n vis. ~ Willem Botha, 29/08/2016 |
|
“'n
Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy.” (Spreuke
5:21) Hierdie teks beklemtoon vir my die Here se alomteenwoordigheid en
alwetendheid. Niks kan vir Hom weggesteek word nie. Adam en Eva het dit ook
uitgevind toe hulle probeer het om vir die Here weg te kruip nadat hulle
oortree het. Ons natuurlike reaksie wanneer ons sonde gedoen het, wanneer
ons op plekke is waar ons nie hoort nie, wanneer ons besig is met onheilige
dinge, is om dit te probeer wegsteek of met verontskuldiging onder die tafel
te probeer invee. Ons kan dit miskien vir mense wegsteek, maar nie vir die
Here nie. Ps. 139 beskryf ook die Here se alwetendheid: “Here, U sien
dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit.” (vers 1-2)
U ken my gedagtes ... U is met al my paaie goed bekend ... of ek reis of
oorbly, U bepaal dit. Dis natuurlik nie net asof die Here sit en kyk wat ons
verkeerd doen en waar Hy ons kan uitvang nie, sy alomteenwoordigheid en
alwetendheid beteken ook dat Hy ons behoeftes, ons vrese en ons probleme
sien, dat Hy bewus is van ons pyn, swaarkry en trane.
Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle
hele hart op Hom vertrou, sê die Woord in 2 Kron. 16:9. Hoe gerusstellend
is dít nie? ~Wilna Botha, 28/08/2016 |
|
Iets vir die manne
Ai, 'n man is darem maar 'n vreemde wese. My skoonpa het gesê 'n man is 'n
jagter en hy sal alles in sy vermoë doen om sy prooi te vang. En ja, dis
inderdaad so, ek het ook gesorg dat ek my "prooi" vang, en ek sal alles doen
om haar te hou. Die groot probleem kom as 'n man sy "prooi" vang, en dan die
vangs verwaarloos en selfs vernietig. En dan is sy eie nie meer goed genoeg
nie. Kyk hoe mooi stel Salomo dit.
Spr 5:15 "Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self
'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein."
Hoe moeilik is dit? Drink van jou eie strome,
dis volop en volmaak. Maar vir baie manne is dit nie en gou gou is die
volgende prooi in die oog, en dan dikwels nog en nog en nog. Dis interessant
dat die slim mense sê dat dit wat jou in die eerste plek na 'n persoon
aantrek, is juis dit wat jou later grensloos irriteer. En ja, hoewel Salomo
hier met mans praat, werk dit uit die aard van die saak weerskante toe.
Maar wat is dan die sukses? Natuurlik is daar
miljoene faktore, maar 'n vrou sien haarself soos wat haar man van haar
reflekteer, soos 'n spieël. Kritiseer en verkleineer die hele tyd, en dan
glo vroulief dit en binnekort verloor sy haar fleur.
Spr 5:18 "Sing die lof van jou eie fontein,
verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n
ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm."
Ongelooflike goeie raad. Besing gereeld jou
vrou se skoonheid, verheug jou oor haar, voor haar, voor ander, besing haar
lof voor ander en kyk hoe sy blom. En ja sy word ook ouer, laat jou oë ook "ouer"
word. Daar is niks wat 'n vrou so laat blom as dat haar man haar skoonheid
besing nie. En mag ek effe stout wees? Dan sal daar ook meer liefkosings
wees soos wat vers 18 beskryf.
Jou eie vars, borrelende fontein, wat 'n
voorreg. Wel, ek kan spog dat dit in ons huwelik waar is en na 35 jaar raak
dit net beter en beter. Probeer dit gerus. ~ Willem Botha, 25/08/2016 |
|
Spreuke 3:33-35 het 'n paar van die tipiese
teenstellings wat mens oral in die Spreuke boek vind. Goddeloses vs dié wat
die Here dien, hooghartiges vs nederiges, dwase vs wyses. As ek hier lees
lyk dit vir my of die Here aan die kant van die nederiges en die wyses is,
aan die kant van dié wat Hom dien. Daar word gesê hulle sal geseënd wees,
hulle sal die Here se goedheid ontvang en geëer word, terwyl dié aan die
ander kant vervloek en gespot sal word en in die skande sal kom. As mens
egter in die wêreld om jou kyk, lyk dit baie keer juis andersom. Die
goddeloses leef in weelde, is voorspoedig en gesond. Hulle leef sorgeloos en
dit lyk of hulle geen teëspoed ervaar nie, terwyl dié wat die Here dien
dikwels swaarkry, sukkel en talle struikelblokke op hulle pad het. Mens voel
amper so stilweg jaloers op die goddeloses se voorspoed. Asaf, die skrywer
van Ps. 73 het ook daai gevoel gehad en hy sê hy het amper ophou glo omdat
dit gevoel het of sy toewyding aan die Here nutteloos is. Die Here het hom
egter laat sien wat die uiteinde van die goddeloses is – daar kom 'n dag wat
die Here hulle planne laat skeef loop, wanneer hulle lewe in chaos verval,
wanneer alles vir hulle inmekaartuimel. Dán sal hulle verneder word, in die
skande kom en gespot word, soos wat die Spreuke teks sê. Ons het die Here in
ons lewens en dit is al wat tel. Dit is mos veel belangriker as aardse
besittings, kortstondige voorspoed en oppervlakkige geluk. “Al is ek
afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir
altyd... Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.” (Ps.
73:26, 287) Ons kan maar net rustig voortgaan om die Here te dien, Hy sal
self met die skelms en skurke afreken. ~ Wilna Botha, 24/08/2016 |
|
Weldade
Is dit vir jou ook lekker as jy iets vir iemand kon doen wat sommer net
skielik 'n verskil maak? Daardie "dankie" uit die hart uit , die glimlag of
dalk selfs 'n traan wat sê: Jy het 'n verskil in my lewe gemaak! Jy kan
seker ook daarvan getuig. En dan meer nog, die lekker as iemand 'n weldaad
aan jou bewys het en dit voel of mense nog omgee. Ons as mense is nou maar
gemaak om vir mekaar om te gee.
Spr 3:27 - 28 Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,
terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan
eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.
Die spreekwoord "Wat jy saai sal jy maai", word dikwels deur die voorspoed
teoloë gebruik om te sê: Hoe meer jy weggee, hoe meer kry jy. Dis nie wat
hierdie teks sê nie, hierdie teks sê ons moet gee en doen sonder om terug te
verwag, onvoorwaardelik. Eintlik is dit 'n direkte opdrag van die Here af.
Maar, hoewel hierdie teks se konteks nie bedoel dat jy moet gee of doen om
terug te kry nie, is dit tog 'n universele reël wat op 'n onverklaarbare
rede so werk. Mense wat graag gee of doen, sien op een of ander manier die
vrugte van hulle arbeid. Dit werk maar net so. Iemand met 'n toe hand, kan
net eenvoudig nie ontvang nie, want die hand is toe.
'n Weldaad maak 'n verskil, soms 'n baie groter verskil as wat jy dink, en
soms eers in ons volgende geslag of na 'n lang tydperk. En ja, jy sal
verseker BAIE dikwels teleurgestel word, maar, dis nie jou probleem nie.
Doen net wat goed is, wys omgee en liefde en geniet ook dan maar daardie
lekker gevoel. Jy doen dit tog immers vir die Hom. ~ Willem Botha,
23/08/2016 |
|
“My seun, behou die takt en oorleg; moet dit nie uit
die oog verloor nie, dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker en soos 'n
pragtige halssnoer vir jou wees.” (Spr. 3:21-22) Takt en oorleg, (“clear
thinking” en “common sense” sê die Message vertaling) is die pêrels waaruit
ons lewenshalsnoer moet bestaan. Hoe aangenaam is dit nie as iemand dink
voordat hy praat of optree, as hy opbouende opmerkings maak, as hy 'n
aanvoeling, begrip en meegevoel het vir jou situasie, as hy weet wat om te
doen wanneer daar 'n probleem opduik. Watter plesier is dit nie om met
iemand saam te leef of te werk wat jou raadpleeg en jou inlaat op besluite
nie. Watter goeie gevolge het dit nie as iemand vir jou mooi perspektief
kan gee in 'n krisistyd en jou kan help om by oplossings uit te kom nie. Só
iemand dra takt en oorleg as 'n halssnoer om sy nek en dis mooi! Dis lekker
om aan die ontvangkant hiervan te wees, nie waar nie? Kom ons ryg ook vir
ons so 'n halssnoer sodat ons dié om ons met takt en oorleg kan bedien.
Miskien dink jy: maar dis nie een van my karaktereienskappe nie, ek is nou
maar eenmaal nie 'n taktvolle persoon nie, ek wíl my opinie gee wanneer en
soos ek wil, ek het nie ander se insette nodig nie, ek is 'n hardekop wat my
eie ding wil doen en ek gee nie eintlik om wat ander van my dink nie. Onthou
2 Kor. 5:17 sê dat diegene wat aan Christus behoort 'n nuwe mens is – al
daai ou gewoontes kan uitgevee word en die Here kan vir jou 'n nuwe
halssnoer omhang met die allermooiste pêrels om jou lewe te versier. Vra Hom
daarvoor. ~ Wilna Botha, 22/08/2016 |
|
Die reguit pad
Hoe moeilik is dit nie om altyd net die reguit pad
te stap nie! Ons was vir jare in die vroue gevangenis betrokke met bediening
en het baie dinge gehoor en gesien in daardie tyd. Dit ergste was die
hartseer van die kinders nadat hulle die ma op 'n Sondag besoek het. Voorts
het daardie vroue met die ergste skuldgevoelens denkbaar geleef want hulle
gesinne was uitmekaar geskeur oor daardie groot misstap. Ons het dan ook
gehoor hoe dit was die dag toe die polisie by
die werk of huis die arrestasie kom doen het, en dan daardie verdoemende
uitspraak van die regter. Ek vonnis jou tot...
Spreuke 2 maan
ernstig teen die verkeerde paaie, die paaie wat mense se lewens vernietig.
Die onwettige plesiertjies van die lewe, die slegte gewoontes en die dade
wat selfs net skielik uit woede gepleeg word. Dan is daar die gewoontes wat
ons kinders vandag aanleer, wat later rampspoedige gevolge het. Salomo gee
die regte raad kort en kragtig.
Spr 2:20-22 "Loop jy
liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges,
want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal
ongehinderd gelaat word, maar slegte mense sal weggevee word uit die land,
bedrieërs sal uitgeroei word."
Ons almal weet
presies waar ons van die pad afdwaal, almal ken die basiese van die
landswette, almal van ons kan onderskei tussen reg en verkeerd, dit vra net
om waaksaam te wees. ~ Willem Botha, 21/08/2016 |
|
Spreuke 2:2-4 sê hoedat ons na wysheid moet soek en ons
moet inspan om te luister na lewenswaarhede. Hierdie wysheid is om te weet
hoe om te lewe, hoe om rég te lewe, hoe om die lewe werklik te geniet;
hierdie wysheid gaan oor emosionele stabiliteit en oor geestelike kennis en
'n verhouding met die Here. Wysheid begin met die dien van die Here, sê
Spr. 9:10. As ek deur die
boek Spreuke lees, dan sien ek dat ’n persoon met wysheid God eerste plaas,
die Here vertrou, instinktief weet wat reg en verkeerd is en die regte dinge
doen. ’n Persoon met wysheid respekteer ander mense en hulle goed, is
liefdevol en getrou. ’n Persoon met wysheid aanvaar teregwysing en is bereid
om te leer en te groei. Verder sien ek dat persone met wysheid guns by mense
geniet, vrede ervaar en gesond en lewenslustig is. Hierdie tipe
wysheid kom nie deur boekekennis, universiteitsgrade en geleerdheid nie,
dis insig en kennis wat van die Here afkom, wat ons van Hom moet afbid.
“Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af.
Kennis en insig is net by Hom te kry. Hy gaar arms vol wysheid vir die
gelowige op.” (Spr. 2:6-7, Die Boodskap) Daarom sê die Bybel ook: As een van
julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee. (Jak
1:5) Hy het arms vol daarvan! ~ Wilna Botha, 18/08/2016 |
|
Luister en leer
Spr 1:8 - 9 "My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee;
moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier
soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals."
Salomo het lering gegee oor bykans enige onderwerp
waaraan jy kan dink, maar een wat nogal uitstaan is sy passie om jong mense
op die regte pad te kry en te hou. In hierdie gedeelte lees ons dat hy
kinders aanmoedig om na hulle ouers te luister, om dan later die vrugte
daarvan te pluk.
My mening is dat Salomo van die veronderstelling
uitgaan dat ouers wel hulle kinders leer, en dat ouers self so lewe dat
hulle lewens navolgenswaardig is. Dit is so hartseer dat mense kinders in
die lewe bring, en dan die totale opvoedingstaak in ander se hande oorlaat.
Wie se dade, aksies en lering sal 'n kind eerder najaag? Sekerlik die een in
wie se geselskap hy/sy die meeste tyd deurbring.
Ja, dis inderdaad so dat moeders deesdae moet
werk om die pot aan die kook te hou, maar verseker nie almal nie. Daar is
soveel mense wat nie bereid is om met minder te leef nie, en eerder die
gerief en weelde van geld en goed kies as die harde pad om self kinders
groot te maak.
Wel, dis is nou maar eenmaal 'n realiteit, maar
die groter probleem kom wanneer die kinders groter word en ouers eerder vir
die kinders vol geld stop, net sodat hulle onder die voete kan uitkom, en
dis waar die probleme begin. Dis skokkend hoeveel geld party kinders
maandeliks as sakgeld kry, waarmee soveel verkeerde dinge gekoop word.
Nou, terug na die teks wat hierbo aangehaal is.
Luister na die onderrig wat jou vader en moeder vir jou gee. Kinders kan tog
net luister as hierdie onderrig wel gegee word, as daar tyd daaraan spandeer
word, as daar outoriteit van die ouers (vernaam die pa) is, en as die
kinders die ouers respekteer. Ons bly in 'n wêreld waar "menseregte" nou al
tot so 'n mate toegepas word, dat dit al onwettig raak vir ouers om selfs
Bybelse opvoedingsmetodes toe te pas! Bid jou dit aan.
Wel, ons moet maar besluit wie se voorskrifte
ons najaag, die wêreld s'n of die Here s'n. Salomo het baie goeie raad, ons
kan dit maar gerus toepas, want dis beproef en dit werk. ~ Willem Botha,
17/08/2016 |
|
Ons gaan vir die volgende rukkie bietjie stilstaan by
die boek Spreuke. Net soos die res van die Bybel, is die doel van Spreuke om
ons te lei en te onderrig in die regte lewenswyse. Dis deur God gegee en
deur die Gees geïnspireer. Daar is deesdae so baie selfhelp boeke, mense
betaal vir kursusse in lewensvaardighede en spandeer ure aan sessies by
“life coaches”. Dit alles is goed, maar vat sommer 'n slag die 31 hoofstukke
van Spreuke en werk dit deur (en pas dit toe!) en jy sal verbaas wees oor
die lewenswysheid wat jy daar sal vind. Jy sal praktiese moets en moenies
vir die lewe vind. Jy sal begelei word in besluitneming. Jy sal 'n
aanvoeling ontwikkel vir reg en geregtigheid, die vermoë ontvang om te
onderskei tussen waarheid en leuen. Jy sal raad kry vir verhoudings. Jy sal
selfs 'n paar besigheidsbeginsels teëkom. As jy weet hoe om te lewe en as jy
boonop die sekerheid het dat wat jy doen binne die Here se wil is, is die
uitvloeisel daarvan geluk en vrede. “Al die Spreuke wil ons wysmaak hoe om
te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke
moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: dit wil jou die kuns
van die lewe aanleer, jou met 'n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil
jou insig gee. Dan sal jy 'n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in
elke omstandigheid waarin jy beland.” (Spreuke 1:2-4, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 16/08/2016 |
|
Ontevrede
Ons het die afgelope ruk deur die boek Jona gewerk en goeie lewenslesse
hieruit geleer. Jona, hierdie koddige man wat eers wegvlug van die Here, toe
amper verdrink, toe terugkeer nadat hy deur 'n vis ingesluk was, toe tog sy
werk gaan doen en 'n hele stad word gered. En toe is hy kwaad vir die Here.
G'n mens weet hoekom nie. Hy het net eenvoudig nie die mense gegun om gered
te word nie.
En hier op die einde, in Jona 4 lees ons hoe hy dikbek buite die stad in die
son sit en skroei. Die Here laat toe 'n komkommerplant opkom.
Jona 4:6
"Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona
gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona
was baie bly oor die komkommerplant."
En toe laat die Here 'n wurm kom wat die plant opvreet en laat vrek, en Jona
is briesend!
Jona 4:9-11 Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die
komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te
sterf!” Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant
waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag
opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot
stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend
mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
Dis maar presies hoe ons as mense leef, ons werk nie vir die genade wat God
oor ons uitstort nie, maar ons is kwaad as die Here handel volgens Sy eie
wil. Ons sien so baie die skadu van die lewe se "komkommerplante" mis, maar
is kwaad as dit wegraak. Ons verval so maklik in "U skuld my", ons verval in
'n lewe van: As die kerk nie maak soos ek wil hê nie loop ek sommer. Hoekom
gun die Here 'n ander persoon ook genade want hy leef nie so mooi soos ek
nie, maar intussen werk ek nie saam om daardie genade moontlik te maak nie?
Vriend, die Here se "komkommerplante" is Sy eie, Hy maak daarmee wat Hy wil,
Hy is soewerein en skuld ons nie 'n verduideliking nie. Dus, solank daai
komkommerplant vir jou skadu gee, verlustig jou in daardie stuk genade. Dis
dalk more weg, maar wees dankbaar elke dag as dit daar is. ~ Willem Botha,
14/08/2016 |
|
'n Hele stad kom tot bekering en word gered. Dis mos
goeie nuus, iets om oor fees te vier en dankliedere te sing, maar nee, nie
Jona nie! Hy is kwaad vir die Here daaroor, só kwaad dat hy sommer wil
doodgaan. (lees Jona 4:1-3) Jona wou nie hê dat die mense van Nineve gered
word nie, hy erken nou dis eintlik die rede hoekom hy eerder na Tarsis toe
gevlug het. Hy gun nie hierdie volk om die Here se genade, barmhartigheid en
liefde te ervaar nie. Hy laat my so bietjie dink aan die oudste broer van
die verlore seun. Hy was ook kwaad vir sy pa wat sommer net so die
wegloopkind vergewe en terugverwelkom het met 'n vetgemaakte kalf, 'n nuwe
uitrusting en selfs 'n ring. Is daar dalk iemand wat jy dink nie die Here
se genade werd is nie? Iemand wat na jou mening té sleg is om gered te word?
Iemand met wie jy nie eens oor die Here wil praat nie? Dalk voel jy so oor
gevangenes – moordenaars en misdadigers. Dalk voel jy so oor daai vuil
bedelaar of daai skelm wat jou van jou goed beroof het of daai bedrieër wat
jou te nagekom het. Ek wil maar net weer probeer om na mense te kyk soos wat
die Here na hulle kyk, met jammerte en met bekommernis oor hulle
verlorenheid. Ek wil met genadige oë en gewillige hande kyk en almal 'n
porsie van die Here se genade gun. ~ Wilna Botha, 11/08/2016 |
|
“Die mense van Nineve het toe in God geglo.” (Jona 3:5)
Net een sin, geen wonderwerke, geen verduidelikings, geen teologiese
ontledings, geen bespreking en die mense van Nineve glo! Geen groot
byeenkoms, geen beroemde evangelis nie, net 'n eenvoudige (ongehoorsame)
profeet en die hele stad verander en word gered. Hulle stel nie eers gou 'n
kommissie aan of hou nie eers gou 'n kerkraadsvergadering nie, hulle glo en
hulle word bewus van hulle verlore toestand voor die Here. Vandag is daar
groot kerke met wonderlike predikers, honderde Bybelskole, duisende
geestelike boeke, groot samekomste, maar so baie mense glo nie meer die
eenvoudige boodskap van die evangelie nie, hulle wil nie meer “gewone” preke
uit die Bybel hoor nie. Miskien dink ons ons kan onsself red, dalk is ons so
tevrede met onsself dat ons dink ons hoef nie voor die Here te buig nie,
dalk is ons so vêr weg van die Here dat ons ons glad nie steur aan sy
vermanings en sy oproep tot bekering en verootmoediging nie. Dalk maak ons
só staat op ons intellek en redenasievermoë dat ons nie meer die eenvoudige
Woord wíl aanvaar nie. Luister vandag as die Here jou roep om terug te draai,
om verkeerde dinge te laat staan, om berou te hê oor waar jy dalk beland
het, om net weer die eenvoud van die evangelie te glo. Die Here se genade is
groot en sy vergifnis is beskikbaar vir elkeen wat glo. Draai terug en kies
Jesus. ~ Wilna Botha, 10/08/2016 |
|
'n Een sin preek
Wie kan preek? Wie kan die Woord van God verkondig? Wie is goed genoeg
toegerus? Of heilig genoeg? Wie kwalifiseer regtig, en wie is waardig genoeg
in God se oë? Dalk het jy ook al gewonder of jy dit kan doen. Jona word
eventueel op land uitgespoeg, maar ons weet nie waar nie, want hy moes toe
weer "klaarmaak" en Nineve toe gaan, wat hy toe wel doen.
Jona 3:2-4 “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan
met die boodskap wat Ek jou sal
gee. ”Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel
het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur
te stap. Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe
roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!"
Ons lees hier dat die Here
vir Jona sê Hy sal vir hom die boodskap gee en Jona roep net uit: "Nog net
veertig dae en Nineve word verwoes!" 'n Enkel sin preek. Dalk het hy meer
goed gesê, hoewel ons dit nie lees nie, maar die hele stad word gered.
Weet jy hoeveel enkel sin preke jy kan preek, sonder opleiding of toerusting?
Deur net bedag te wees op mense se omstandighede kan ons 'n groot impak maak
met sulke gedagtes, bv
Die Here is lief vir jou
Moenie bekommerd wees nie, die Here gee uitkoms
Roep uit tot Hom, Hy sal jou red
Moenie hierdie ding doen nie, dit gaan jou vernietig
Byt vas, slegte dinge hou nie vir altyd aan nie
Hou aan bid, ons moet soms wag vir 'n antwoord
Die Here is nie weg nie, al voel dit so
Nou ja, Jona se kort
boodskap het gemaak dat die Here nie meer die stad vernietig het nie. Ek en
jy kan dalk ook so 'n reuse verskil maak. ~ Willem Botha, 09/08/2016 |
|
Daar in die diepste donkerte, toegesluit in die vis se
maag, omring deur die watermassa met golwe wat oor hom slaan, het Jona drie
dinge gedoen: Hy het gebid (Jona 2:1), aan die Here gedink (Jona 2:7) en 'n
loflied gesing (Jona 2:9). Wat maak jý wanneer jy in donker en swaar tye
is? Raak jy opstandig en bevraagteken jy dalk die Here? Of dink jy dat die
Here vêr van jou af is en dat jou gebede teen die plafon vasslaan? Of nog
erger, draai jy dalk sommer jou rug op die Here? Onthou asb. dié drie dinge
wat Jona gedoen het. Bid en hou aan bid, want die Here hoor en verhoor. Dink
aan die Here. Dink aan sy grootheid en krag en almag. Dink aan sy
alomteenwoordigheid. Dink hoedat Hy jou al voorheen gered en gehelp het.
Dink aan sy liefde, sy genade en sy beskerming. Dink daaraan dat Hy getrou
is. En al voel jy nie so nie, sing! Sing 'n loflied want dit laat jou fokus
op die Here en wie Hy ís en dit vul jou hart met vertroue en geloof. Dit gee
jou hoop en help jou om weg te kyk van jou onmiddellike swaarkry. So het
Paulus en Silas in die tronk, al was hulle amper doodgeslaan, lofliedere
gesing en die tronkdeure het oopgegaan (lees Hand 4:25-26). So het Habakuk
bly jubel, al was tye onseker en al het uitkoms onmoontlik gelyk en die Here
het vir hom krag gegee (lees Hab. 3:17-19). So het Jona, terwyl hy in die
diep, donker golwe was ’n loflied gesing en bely dat hulp net van die Here
af kom en die Here het tot sy redding gekom (lees Jona 2:7-10) “And even
though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing
on my tongue but Hallelujah.” ~ Wilna Botha, 08/08/2016 |
|
Diep in die vis se maag
Jona 1:17 - 2:2 "Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en
hy was drie dae en nagte in die vis se maag.Toe bid Jona daar binne-in die
vis tot die Here sy God. Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here
geroep, en Hy het my gebed verhoor. "
Jona was die rede dat die skip amper vergaan het en die matrose hom oorboord
gegooi het, en hy sak weg in die dieptes van die see. En toe gebeur die ding
wat ons nou so laat wonder oor die verhaal
van Jona: 'n vis sluk hom in. Wel ek het reeds te kenne gegee dat ek glo dat
dit werklik so kon gebeur en dat dit nie net 'n verhaal was nie, maar al was
dit net 'n verhaal, dis 'n kosbare verhaal met baie lewenslesse wat direk op
ons van toepassing is.
Soms
gooi die Here ons in die spreekwoordelike vis se maag as ons ongehoorsaam
is. Soms moet dit maar bietjie ongemaklik wees in ons "vis se maag", soms
voel dit of die wêreld ons ingesluk het en ja gewoonlik doen ons dit aan
onsself. Maar moenie vir Jona te veel veroordeel nie, Hy is maar soos ons.
Die punt is, toe hy in daardie dieptes wegsink, roep hy uit na God toe. En
die wonderlikste deel lees ons in vers 2: "... en Hy het my gebed verhoor ."
Dit
klink nogal snaaks dat ons lees hoe hy in opstand kom teen God, Hy dan
toegelaat word om in die see gewerp te word deur God, en dan gered word deur
dieselfde God. Net so moet ek en jy ook soms bietjie swaarkry, selfs die
dood in die oë kyk, en dan weer deur Hom gered te word.
Dus,
al het jy slegte dinge oor jouself gebring en jy dink dalk dat dit jou
verdiende loon is, bid steeds tot God vir redding. Hy laat slegte dinge toe
en red ons soms dan weer daaruit, juis omdat Hy ons liefhet en ons op
hierdie manier leer. ~ Willem Botha.07/08/2016 |
|
In Jona 1:13 lees ons hoedat die arme matrose 'n rowwe
tyd in die seestorm beleef en dit alles net as gevolg van die ongehoorsame
profeet, Jona, wat aan boord is omdat hy van die Here probeer wegvlug. Nou-nou
net het hulle vir Jona gevra om tot sý God te bid vir hulp. In vers 14 lees
ons hoe hulle nou in benoudheid sommer sélf na die Here uitroep vir redding
en hoe hulle erken en bely dat Hy die Here is en dat Hy doen wat Hy wil. Om
na die Here uit te roep is so 'n logiese ding om te doen wanneer mens in 'n
lewensstorm beur teen die golwe en teen die wind in en jy sien hoedat dinge
net al hoe meer buite beheer raak. Dis wanneer mens besef jy kan nie jouself
red nie, dis wanneer mens wéét daar is Iemand groter en sterker, Iemand wat
alles weet en alles sien, Iemand wat jou sal help al lyk jou situasie ook
hoe verlore. Moenie wag totdat jy amper vergaan in die storms van die lewe
voordat jy na die Here draai vir hulp en redding nie. Doen dit sommer nóú
sodat jy in die storm tye stewig geanker kan wees. Jy kan egter weet, al het
jy dalk weggedwaal of weggevlug van die Here af, is Hy altyd net 'n uitroep
vêr. “U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed,
Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U
sal my gebed verhoor. Daar is geen god soos U nie, Here.” (Ps. 86:5-8) ~
Wilna Botha |
|
Vir
elke aksie...
... is daar 'n teenoorgestelde reaksie. Jona vlug weg van God af en as
gevolg van sy ongehoorsaamheid beland die skip in die moeilikheid en al die
matrose se lewens is in gevaar. Jona erken egter wat hy gedoen het.
Jona 1:11-12 Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer
rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.
Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm
word rondom julle, want
ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”
As ons teen God se wil optree, is dit nie altyd net ons wat onsself skade
aandoen nie, maar soms doen ons ook ander mense skade aan. Buite-egtelike
verhoudings, drankmisbruik, dobbel en vele ander dinge het 'n impak op die
hele familie en saai verwoesting, soms wyer as wat ons kan dink. Dalk het ek
ook al weens 'n roekelose aksie onwetend iemand se dood veroorsaak, en ek
weet dalk nie daarvan nie want dit het 'n indirekte invloed.
Daar is egter 'n ander kant ook. Jare gelede was ek by 'n radiostasie
betrokke met 'n geestelike program en 'n man het my gevra om sy seun te bel
om hom te ondersteun, maar ek het nie want ek het gevoel hy moet my eerder
kontak. Ek het hulle glad nie geken nie. 'n Paar maande later het die seun
se ma gebel en gesê dat hy selfmoord gepleeg het, en dat ek dit kon verhoed
het en dat ek en die stasie saam skuldig is aan sy dood. Ek het lank
gesukkel om dit te verwerk, totdat ek besef het dat elke mens
verantwoordelik is vir sy eie wel en weë en dat ek nie almal se probleme kan
oplos nie.
Daar is 'n fyn lyn te trek tussen my eie aksies wat mense skade aanrig, en
situasies waar mense ons as Christene beskuldig daarvan dat ons
verantwoordelik is vir hulle probleme. Hoe baie het ek gehoor: "Dis
Christene wat my al so seergemaak het, en daarom wil ek nie een wees nie."
Wat 'n belaglike stelling!
Ons moet egter bedag wees op ons aksies en dade sodat ons nie ander laat
struikel, of hulle benadeel nie.
Jona het egter sy dade erken en verantwoordelikheid daarvoor gevat en hy was
selfs bereid om sy lewe te verloor. Nou ja, ons sal waarskynlik nie so ver
hoef te gaan nie, maar laat ons maar eerder dit verhoed en God se wil doen.
~ Willem Botha, 03/08/2016 |
|
Wie is
jy? Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is
jy? Hierdie is seker vrae wat jy ook al moes geantwoord het. Dis nogal
logiese vrae wat mens iemand vra wat jy pas ontmoet het en met wie jy 'n
gesprek wil aanknoop. Dis dié goed wat mens iets van 'n persoon sal kan sê
en jou 'n kykie in sy agtergrond en sy lewe kan gee. Jona was ook gepeper
met hierdie vrae (lees Jona 1:8). Die matrose op die skip was van die
oortuiging dat Jona die rede was dat hierdie woesste seestorm hulle getref
het, daarom probeer hulle uitvind wie en wat hy is. Hulle het geweet daar is
iets “anders” aan hom. Is dit nie so dat wanneer mens met Christene in
aanraking kom mens sommer net kan aanvoel dat daar iets anders is wat hulle
motiveer, dat hulle iets anders in hulle binnekant het, dat hulle iets
anders uitstraal met hulle woorde en dade. Die Bybel sê ons moet gereed wees
met 'n antwoord as iemand vir ons vra waarom ons “anders” is. “Wees
altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n
verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3:15) Kyk wat het Jona gesê: “Ek dien die Here die
God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” (Jona 1:9) Ten
spyte daarvan dat hy van die Here probeer wegvlug het en al sou sy antwoord
hom in die moeilikheid laat beland het, het hy steeds onbeskaamd sy
getuienis gegee. Is jy gereed met jou antwoord? ~ Wilna Botha, 01/08/2016 |
|
'n Sterker God
En so vat
ou Jona toe die verkeerde skip om weg te kom van die Here af, en hy kry
koers Tarsis toe, net om in die mees verwoestende storm te beland wat dreig
om die skip te laat vergaan. Die matrose moes van die vrag afgooi, maar Jona
besluit hy gaan sommer slaap onder in die skip.
In Jona 1:6 lees ons die volgende: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap?
Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie
vergaan nie.”
Absolute paniek
en vrees pak daardie mense beet en elkeen van daai matrose roep uit tot sy
god, maar dit help nie. Uit desperaatheid beveel die kaptein vir Jona om tot
sy God ook te bid, maar vir hom was dit dalk net nog 'n god. Dalk het hy
geweet dat Jona die enigste ware God aanbid en dalk nie, maar hulle het
besef net ('n?) God kon hulle help.
Ek sien so iets van ons lewens hier raak. Soms is daar paniek dan wil ons
uitroep na ons geld-god om ons te help, of dalk ons eiewaan-god, of ons eie
mensgemaakte oplossings-god. Maar daar is net een God wat kan help, en Sy
arm is nie te kort om te help nie. So moet ons ook die ware God vir ander
mense aanbeveel wat net nie meer die mas kan opkom nie. Dalk moet ons net
vir die wat moeg en oorlaai is vertel van die Een wat die wêreld in sy hand
het.
Hoewel Jona so steeks soos 'n donkie was, het hy darem steeds geweet wie die
ware God is, hy het steeds sy dinge gedoen soos hy beveel is, al was hy
teësinnig en moes hy terug gehelp word op die regte pad. Ai, dit klink net
soos ek. ~ Willem Botha, 31/07/2016 |
|
In Jona 1:1-3 lees ons dat die Here vir Jona 'n opdrag
gee waaraan hy hom glad nie steur nie. Om die waarheid te sê hy spring
sommer op 'n skip en slaan heeltemal 'n ander rigting in om weg te kom van
die Here af. Die opdrag klink nie vir my té moeilik nie. Hy moet maar net na
Nineve toe gaan en die mense gaan aanspreek oor hulle slegte lewenswyse. O
nee wag, dit ís 'n moeilike opdrag. Wie van ons het waagmoed en
vrymoedigheid om iemand anders aan te spreek oor hulle sonde, afdwaling en
'n lewenswyse wat in stryd is met die Here se Woord en wet? Ons is mos bang
hulle sê vir ons: wat preek jy nou weer vir ons, dink jy jý is heilig, wat
loop jy nou weer so met die Bybel onder die arm, wie is julle Christene om
ons te oordeel? Dis makliker om anderpad te kyk en jou met jou eie sake te
bemoei as om jou gemaksone te verlaat en God se oproep tot bekering te
verkondig; dis egter 'n relevante boodskap vir ons tyd en iemand móét dié
boodskap uitbasuin. Is daar dalk 'n opdrag van die Here waarvan jy nog
wegvlug? Dalk is dit daai sieke wat jy moet besoek, dalk daai skenking wat
jy aan 'n sendingorganisasie moet maak, dalk daai biduur wat jy moet bywoon,
dalk daai versoening met jou broer wat jy so lankal uitstel? Jona het gedink
dat 'n mens kan wegvlug van die Here af. Mens kan nie. Die Here is oral. Die
Here sien alles en weet alles. “Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die
hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg en na die
ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my.” (Ps.
139:7-10) Moenie uitstel nie, dóén wat jy moet doen. ~ Wilna Botha,
28/07/2016 |
|
Jona -
feit of fiksie
O jitte, met die lees van hierdie opskrif staan party mense se hare seker
klaar regop! Ons gaan vir die volgende klompie dagstukkies stilstaan by die
boek Jona, en ek wil graag by die gedagte kom van hoe ek die boek sien. Ek
geniet die boek Jona vreeslik baie omdat ek 'n prentjie kry van 'n koddige
mannetjie wat sommer vol draadwerk is en 'n ding teen sy sin gaan doen, deur
snaakse situasies worstel, dan tog die regte resultate kry, maar op die einde
vies is vir God. Gaan lees groot asb. die boek van voor tot agter deur, dit
gaan baie min tyd neem en jy gaan dit regtig geniet.
Wel, feit of fiksie? Ek dink daar is hoofsaaklik drie groeperinge. Groep een
sou sê "God said it, I believe it, that settles it." Dit het so gebeur en
basta! Groep twee sê dis nie moontlik nie want hy sou nie kon oorleef in die
vis se maag nie, maar God gee vir ons wonderlike lewenslesse deur hierdie
boek en ons kan onsself daarmee vereenselwig. Groep drie sê dis alles
nonsens, en omdat dit in die Bybel opgeteken is gooi ons sommer die hele
Bybel in die asblik.
Wel, jy wat hier lees is waarskynlik een van hierdie drie, en my pleidooi is
dat ons nie ander veroordeel wat anders as ons dink nie. Natuurlik steur ek
my nie aan die opinies van groep drie nie, maar binne die eerste twee groepe
sal jy wonderlike, opregte, wedergebore Christene vind, wat hopelik nie
mekaar sal veroordeel nie.
Die boek Jona is vol van gebeure wat ons daagliks in ons eie lewens ervaar.
Daardie opstand teen God, wegvlug van hom af, weer terugkeer, wonderwerke
ervaar maar Hom steeds miskyk, teësinnig ons opdragte uitvoer en dan
ongemaklik is met Sy besluite. Jona was maar eenvoudig 'n tipiese wêreldling
en het ook maar voete van klei gehad. Soos party van ons.
Maar tog het hy gedoen wat hy moes, al moes die Here hom so bietjie terug
help op die regte pad. En voorts is een van die wonderlikste boodskappe van
die boek die feit dat die Here vir jou en my gebruik net soos ons is, al
voel ons hoegenaamd nie opgewasse vir die taak nie. Ons moet maar net
beskikbaar wees.
Dus, ek weet nie of dit feit of fiksie is nie, want ek verstaan ook nie hoe
hy kon oorleef in die vis se maag nie. Ek verstaan egter ook nie hoe 'n baba
in sy ma se baarmoeder in vloeistof leef, dan gebore word en "oorskakel"
suurstof toe nie, en onmiddellik 'n bonatuurlike suigaksie uitvoer sodra hy
by sy ma se bors kom nie.
Jona is 'n goeie boek, gaan lees dit en besluit watse betekenis dit vir jou
het. ~ Willem Botha, 27/07/2016 |
|
Die laaste woorde
Ek het
onlangs na 'n film genaamd Flight 93 gekyk, wat gebaseer is op die 911
gebeure in Amerika in 2001. Hierdie vliegtuig was ook gekaap, maar die
passasiers het probeer om die terroriste te oorrompel. Ongelukkig het die
vliegtuig geval en almal is oorlede. Terwyl die drama afgespeel het, het van
die passasiers oproepe na hulle geliefdes by die huis gemaak deur middel van
radiotelefone op die vliegtuig.
Die laaste woorde van elkeen was: "Ek is lief vir jou." Dit lyk vir my
hierdie is die grootste behoefte wat die mens het, en dis ook die heel
belangrikste element van ons menswees en eintlik wil almal dit hê en gee.
Ons het die afgelope tyd deur 1Johannes gewerk en die een deurlopende
boodskap was: God is lief vir jou, en julle moet mekaar liefhê. Dit laat my
ook dink aan die grootste gebod wat opgeteken is, asook "Nou bly geloof,
hoop en liefde, en die grootste hiervan is die liefde."
Terug na
die vliegtuig storie. Almal wou hulle geliefdes agterlaat met die sekere
wete van hulle liefde. Ek het nog nooit ooit in my lewe gehoor dat iemand se
laaste woorde aan 'n sterwende was: Dankie vir die baie geld wat jy vir ons
gemaak het, of dankie vir die groot hoogtes wat jy by die werk bereik het,
of dankie vir die mooi goeters wat jy vir ons gegee het, of dankie vir die
vet erfporsie wat wag nie. Nee, die woorde "Ek is lief vir jou", het meer
betekenis as enigiets op hierdie aarde.
Sê jy dit gereeld genoeg? Hoor jy dit genoeg? Hoor jou kinders, man, vrou,
pa en ma, vriende, broer en suster dit genoeg? En hoor die Here dit genoeg?
As jy die Woord lees sal jy sien Hy sê dit genoeg vir ons. Goeie laaste
woorde, maar beter as dit gereeld gebeur. ~ Willem Botha, 26/07/2016 |
|
“Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer
sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom en die duiwel kry geen houvas
op hom nie.” (1 Joh. 5:18) Dit is so dat elke sonde by 'n gedagte begin wat
jou aanlok en saamsleep totdat dit uiting vind in 'n verkeerde woord of daad.
Soms gebeur dit in 'n oogwink, ander kere broei dit lank. “Soos 'n kind wat
agter 'n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al
hoe dieper in die moeilikheid in.” (Jak 1:14-15, Die Boodskap) Sonde maak
as’t ware 'n klein krakie oop waardeur ons heiligheid uitsypel en die duiwel
sy vatkans kan kry. Ons moenie met verkeerde gedagtes of woorde of dade vir
die duiwel 'n deur oopmaak nie. Ons is skoongewas deur die bloed van Jesus
en ons is in staat om die bose weerstaan, sodat hy van ons sal wegvlug. Hoe
gouer jy die keuse teen daai verkeerde gedagte maak, hoe minder skade en
gevolge sal daar wees. Jesus het ons lewe kom skoonmaak – Hy sal ons help om
ons lewe aan die kant te hou. ~ Wilna Botha, 25/07/2016 |
|
'n Wonderlike uitnodiging
Dis vir my 'n reuse voorreg om só 'n verhouding met my kinders te kan hê dat
hulle enige tyd kan kom aanklop vir hulp en raad, en ons is daar vir mekaar.
Dit spruit uit 'n hegte verhouding wat oor jare in ons gesin tot stand gekom
het. Kyk nou net hierdie pragtige uitnodiging wat die Here aan ons rig.
1 JOH 5:14 - 15 "En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons
gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat
Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons
van Hom vra."
Toe Jesus sterf aan die
kruis en die voorhangsel skeur, het ons hierdie oop deur verwerf, en kan ons
enige enige tyd met vrymoedigheid by die Here gaan aanklop, en Hy sal al ons
behoeftes en gebede aanhoor. Hierdie stukkie sê dat Hy vir ons sal gee wat
ons volgens Sy wil vra.
Wel, weens ons en ons
kinders se verhouding het hulle nooit dinge gevra wat hulle geweet het nie
goed of heilsaam vir hulle sou wees nie, en indien dit dinge was wat wel
volgens ons nie goed sou wees nie, het hulle 'n "nee" aanvaar, al het hulle
soms dit moeilik verstaan.
So kan ons enige tyd by God
gaan aanklop, en Hy sal met groot liefde ons aanhoor en ons gee wat ons
nodig het. Dus, gaan praat met die Here, stel jou saak, vra wat jy moet en
weet dat Hy net sal toelaat wat tot jou heil is. En dít is hoe ons in 'n
liefdevolle verhouding met Hom kan staan. Die deur is oop. ~ Willem Botha,
24/07/2016 |
|
“Elkeen
wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat vir die
Vader lief het, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.” (1 Joh.
5:1) Noudat ons so stukkie vir stukkie deur 1 Johannes werk, is dit só
opvallend dat hierdie boodskap oor en oor herhaal word: ons is kinders van
God, Hy het ons lief het en daarom moet ons ook mekaar moet liefhê. As mens
vir iemand vra watter Bybelgedeelte by uitstek oor die liefde praat, sal
hulle dalk sê 1 Kor. 13. Ons kan beslis 1 Johannes daarby voeg. Ons hoor
hier oor en oor hoe lief die Here ons het en weer en weer word ons
aangespoor en vermaan om mekaar lief te hê, om ons liefde prakties sigbaar
te laat word, om sodoende vir die wêreld te wys dat ons kinders van God is.
Die vers wat egter wat vir my uitstaan is 1 Joh. 4:8: “God is liefde”. Dis
die kern van die boek en die kern van die evangelie en ook die kern van ons
lewe. God het nie net lief nie, Hy ís liefde. Dit is sy karakter en niks kan
dit verander nie. Sy liefde is onbegrens en onbeperk en oneindig. Sy liefde
is onafhanklik van jou prestasie en Hy het jou lief, ongeag jou sonde,
gebreke en liefdeloosheid. Hy het jou lief en jy kan niks doen om dit te
keer nie!
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar My liefde vir jou sal nooit
verdwyn nie.” (Jes. 54:10) ~ Wilna Botha, 21/07/2016 |
|
'n Ewige woonplek
Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Wie sê die Christene is alleen reg
en dat net hulle hemel toe sal gaan? Wel, daar kan lank daaroor geredeneer
word want baie van die ander gelowe praat ook van 'n plek wat hulle dan
hemel of hiernamaals noem. Voorts moet ons natuurlik vra wat 'n Christen is
en of alle mense wat hulleself Christene noem hemel toe sal gaan. Hieroor
kan ons nogal lank redeneer want mense se definisie verskil, maar kom ons
begin by die gedagte
dat 'n werklik wedergebore Christen, wie sy hart vir Jesus gegee het en glo
dat die bloed van Jesus vir hom verlossing bring, wel na sy aardse afsterwe
hemel toe gaan.
Maar wat is hemel? Is daar net een? Is daar
dan 'n hiernamaals vir verskillende gelowe, of is daar maar net een "hemel"
met verskillende paaie daarheen, soos wat jy 'n koppie kan klim, bo kan
uitkom, maar een van verskeie paadjies daarheen kan neem? Hierdie is egter
'n baie gevaarlike ding om te glo en hoegenaamd nie in lyn met die Bybel nie.
Voorts maak die Bybel net voorsiening vir een so 'n plek en dit is waar
Christus heers en vir ons plek berei. Ongelukkig probeer baie ander gelowe,
of selfs "christene" hierdie konsep te kaap. Die Bybel is baie duidelik
daaroor dat geen pad soontoe moontlik is behalwe deur Jesus Christus nie.
1Joh5:10-13 "Wie in die Seun van God glo,
besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar,
omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die
getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur
sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie,
het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan
weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo."
Wie sê die Christene is dan alleen reg? God sê so, die hemel is Sý woning,
dis Hý wat die pad soontoe moontlik maak sodat ons vir altyd by Hom kan woon,
die deur na die Lewe is Sy Seun Jesus Christus en Hy maak dit vir ons
moontlik deur geloof in Sy Seun. En God self is die getuie daarvan. Daar is
geen agterdeur om in te glip nie, geen plek vir mense wat dit wederegtelik
"claim" nie en geen toegang deur 'n ander "model" nie. Dis 'n Heilige plek
wat jy nie deur verdienste kry nie, maar daar is onbeperkte plek en toegang
vir mense wat Jesus aangeneem het. ~ Willem Botha, 20/07/2016 |
|
“...
for the Spirit in you is far stronger than anything in the world,” so sê 1
Joh. 4:4. Niks, maar níks, is groter en sterker as God nie. God woon ín ons,
Hy is aan ons kant en daarom hoef ons geen ander krag, mag of gesag te vrees
nie. God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Wie of wat kan ons onderkry?
Die krag wat alles oortref kom van God af en daai krag is in ons beskikbaar
– dít is die skat wat ons in ons het waarvan 2 Kor. 4:7 praat. Dit is die
krag wat jou oor 'n muur laat spring, wat jou enige reus laat oorwin, wat
jou op die water laat loop. Dit is die krag waardeur ek en jy tot alles in
staat is. Dit is die krag
wat ons vrymoedigheid en
deursettingsvermoë gee. Dit is die krag wat ons regop laat bly, laat moed
hou en ons energie gee om te volhard. Dit is die krag wat ons die geduld en
hoop en geloof gee om in alle omstandighede vorentoe te beweeg en die groter
prentjie, God se prentjie, te sien. “Verder bid ek ook dat julle sal
agterkom dat die krag van God wat in ons werk sterker as enigiets anders is.
Ons het gesien hoe geweldig groot daardie krag regtig is toe God Jesus uit
die dood laat opstaan en vir Hom die belangrikste plek in die hemel gegee
het. Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.” (Ef. 1:19-20, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/07/2016 |
|
“Liewe vriende, moenie enige persoon glo wat beweer hy
sê dit of dat onder die invloed en leiding van die Gees nie. Ondersoek en
toets eers hierdie “geestesuitsprake”. Kyk of die oorsprong daarvan regtig
by God lê; die wêreld is vol vals profete.” (1 Joh. 4:1, Die Boodskap) In
ons dag en tyd met onbeperkte internetbronne, hordes boeke in 'n
verskeidenheid boekwinkels, Christelike TV-kanale en duisende DVD’s en CD's
met preke op is ons baie blootgestel aan mense se menings en uitsprake. Ons
moet leer om nie alles wat ons hoor en lees vir soetkoek op te eet nie. As
iemand sê: “Die Here het gesê ...”, dan moet ons dit toets aan die Woord en
om dit te kan toets aan die Woord, moet ons seker die Woord ken en bestudeer
en moet ons by betroubare, standvastige predikers leer. Vals profete se
boodskap is dikwels baie gewild, dit sê wat mense graag wil hoor, dit roep
hulle nie op tot bekering en berou nie, dit paai hulle en praat hulle
wêreldse lewenstyl goed, dit spreek nie mense se sonde aan nie, dit laat
hulle net goed voel oor hulleself. Die vals profete sal dikwels “nuwe”
openbarings verkondig, iets wat vars en nuut klink, maar wat dalk sy eie
verdigsels is en vir sy eie gewin (dikwels finansieel) verkondig word. Vertrou
gerus maar daai sagte stemmetjie aan jou binnekant wat jou ongemaklik maak
wanneer iemand sê die Here het dit of dat vir hom gesê. As kind van God hét
jy Sy Gees in jou wat vir jou hierdie onderskeidingsvermoë kan gee. Bid
gedurig en vra die Here vir geestelike wysheid en insig. “... so kan ons
weet wanneer ons met die Gees van waarheid te doen het en wanneer die gees
van bedrog en misleiding aan die werk is.” (1 Joh. 4:6) ~ Wilna Botha,
18/07/2016 |
|
The mind of Christ
Jare gelede vertel 'n vriend dat hy op 'n teks in 'n Engelse vertaling
afgekom het wat met hom gespreek het. 1 Kor 2:16 "Who knows the mind of the
Lord? Who is able to give Him advice? We, however, have the mind of Christ"
In 1 Joh 3:24 staan "Wie Sy gebooie gehoorsaam bly in God en God in hom.
Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee." 1Joh 3:18 sê
dat ons liefde nie net lippetaal moet wees nie, maar dat dit met dade bewys
moet word.
Maar hoe kry ons dit reg? Die teks in 1 Kor 2:16 sê: "We have the mind of God", en 1 Joh 3:24 sê "Hiéraan weet ons dat Hy
in ons bly: Hy het ons sy Gees gegee."
Wanneer ons vervul
is met die Heilige Gees, dink ons soos wat Hy wil hê ons moet dink, en doen
ons soos wat Hy wil hê ons moet doen. Sy hele wese is liefde en dit lees ons
in 1 Joh 4:8 "... God is liefde."
As ons Jesus dan aangeneem het, en ons het die Heilige Gees ontvang, kan ons
mos glo dat Hy ons sy Gees gegee het, en kan ons leef vanuit die gedagte
van: "We have the mind of God."
Die grootste gebod is die liefde, liefde vir God, liefde vir ons naaste en
ja ook liefde vir onsself. As God aan ons dink, dink Hy nie aan ons sondes
nie, maar aan Sy liefde vir ons. Hierdie deel herinner my dat ek nie aan
ander op enige ander manier moet dink as met liefde nie. As ek dan die Gees
van God het, moet ek so optree en met ander handel soos wat Hy dit doen. Ek
moet my menslike brein programmeer om altyd eers te dink hoe "God's mind"
sou dink voor ek handel. Mag die Here op hierdie manier ons denkwyses totaal
oorheers, en mag ons in enige insident hiervolgens handel. ~ Willem Botha,
17/07/2016 |
|
Pay it forward
Daar was 'n klompie jare gelede 'n film met die titel "Pay it forward". Dit
het daaroor gegaan dat mense aan wie 'n goeie daad bewys is, ook 'n goeie
daad aan 'n volgende persoon moes bewys. Die gedagte is so pragtig en ons
samelewing het dit so nodig. Kan jy dink hoe wonderlik dit sal wees as almal
op aarde dit sou doen? Daar sou geen armoede wees of slegte verhoudinge wees
nie. Deel net die bietjie seëninge wat jy ontvang met ander. Nou kyk nou hoe
mooi word dit
in die Bybel uitgespel met twee tekste wat op 'n verrassende manier met
mekaar verbind kan word. Let op die plekke waar dit geskyf is, nl Joh 3:16
en 1Joh 3:16. Toevallig?
Joh 3:16 “God het die wêreld
so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie
verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê". Hier staan dit duidelik
dat Jesus Sy lewe vir ons afgelê het, sodat ons nie verlore sal gaan nie.
Kyk nou wat staan in 1Joh 3:16 "Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy
lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê".
Wow! Sien jy die "Pay It forward" gedagte? Jesus het dit vir ons gedoen, kom
ons doen dit nou aan ander.
Gelukkig hoef ons nie vir ander aan 'n kruis te sterf nie want dis nou klaar
gedoen, maar hierdie teks vra opoffering, en om iets van jouself te gee.
Dalk tyd, geld, ondersteuning, dalk om vir ander te bid, maar om te doen en
gee tot 'n mate dat ons dit sal voel.
En hier kom die uitvloeisel waarvan Johannes hier praat.
1Joh 3:17 "Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen
gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?"
Sien jy dat die wêreld sommer 'n baie beter plek sou wees as ons almal die
"Pay It forward" beginsel sou toepas? Al wat dit vra is liefde, wat immers
'n keuse is. ~ Willem Botha, 14/07/2016 |
|
“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie.” (1
Joh. 3:6) Die Bybel is hier in 1 Joh. 3 baie duidelik daaroor dat ons moet
wegbly van sonde, dit moet uitroei in ons lewe en dat ons 'n rein lewe moet
lei. Ons liggaam is mos nou die tempel waar die Here deur Sy Gees woon en
daarom moet ons skoon, rein en heilig wees sodat Hy tuis en welkom kan wees
by ons. Iemand wat 'n kind van God is, mag nie meer 'n gewoonte van sonde
maak nie. Ons moet alles in die stryd werp om daarteen te kies, om weg te
draai van enige versoekings, om goeie keuses te maak en om ons gedagtes
liewer te vul met alles wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig
is. Luister vandag as Jesus vir jou sê: “... gaan maar en moet van nou af
nie meer sonde doen nie.” (Joh. 8:11) ~Wilna Botha, 13/07/2016 |
|
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:
Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook.” (1 Joh. 3:1) Ons is nóú
reeds kinders van God, sê vers 2! Jesus se bloed het verseker dat ons
bloedfamilie van God geword het. Net soos die pa van die verlore Seun,
ontvang die Here ons met oop arms, net soos ons is, vuil en besmet met sonde.
Net soos die pa van die verlore Seun vergeet Hy van ons oortredinge, bedek
Hy ons met 'n kleed van liefde, gee Hy vir ons die beste. Net soos die pa
van die verlore Seun berei die God van die heelal vir ons 'n feesmaal voor
en sê Hy: hierdie seun van my was dood en hy lewe weer; hy was verlore en ek
het hom teruggekry. Dis God se liefde vir my en jou wat dit alles doen. Dis
God se liefde wat onbeperk en onbegrens en onvoorwaardelik is wat ons Sy
kinders maak. Ons is uit God gebore (sê Joh. 1:13), daarom is ons fisies Sy
kinders. Ons is deur God aangeneem (sê Gal 4:5) daarom is ons wetlik Sy
kinders. Ons ís Sy kinders met al die regte en voorregte wat daarmee
saamgaan! “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hóm glo, het Hy
die reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) ~ Wilna Botha,
12/07/2016 |
|
Die antichris
As ek van die Antichris hoor voel dit elke keer of my bene so effe lam wil
word want dit voel of die wêreld verby is as hy die dag opdaag. Lees 1 Joh
2:18 - 27 en jy sal sien dat Johannes so effe van 'n ander hoek op hierdie
saak sit.
1 Joh 2:18 "Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n
antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat
dit die laaste uur is."
Johannes noem inderdaad dat dit reeds die laaste uur is en dat daar 'n
Antichris gaan kom, maar dan vat hy dit verder as hy sê dat daar reeds baie
antichriste tussen ons is. Hierdie gedagte is meer skrikwekkend as die dag
wat die Antichris, soos in Openbaring beskryf word, gaan kom.
Dan gee hy in vers 22-23 'n beskrywing van die Antichris wat my eintlik bang
maak: "Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik
die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun
wil erken nie. Wie nie die Seun erken nie, verwerp ook die Vader; wie die
Seun erken, erken ook die Vader."
Sjoe, hulle is tussen ons, ons rolmodelle, dalk 'n broer of suster, jou
gunsteling sanger, miskien 'n goeie vriend, dalk jou kind, of selfs 'n
geestelike na wie jy op 'n tyd opgekyk het. En weet jy, dis dan wat ek hard
in my diepste binneste gaan rondkrap of dit nie dalk ek self is nie. Glo ek
werklik nog dat Jesus nie net 'n historiese figuur was nie? Erken ek werklik
die Vader en die Seun? Is ek seker dat ek nog glo dat ek vir Jesus as
Saligmaker nodig het? Of het ek dalk al so gewoond geraak aan genade en aan
my Christenskap dat ek eintlik weggedryf het van Hom af? Het sondes dalk al
so maklik en gemaklik geword dat ek okay is om nie daarteen te veg nie?
Hierdie is vir my skrikwekkende gedagtes, en dit laat my sommer nou, terwyl
ek hier skryf, weer selfondersoek doen. Daarom bid ek sommer nou: "Here,
vergewe my dat ek so lou geword het, en help my om opnuut weer nader aan U
te kom, en dankie dat U my met op arms
verwelkom." ~ Willem Botha, 11/07/2016 |
|
“Julle is egter deur
die Heilige Gees gesalf en julle ken almal die waarheid.” (1 Joh. 2:20) Wie
is só bevoorreg om met die Heilige Gees gesalf te wees? Dis ek en jy, liewe
vriend, ons wat Jesus in ons lewe ingenooi het, ons wat Hóm as Here en
Verlosser aanvaar het, ons wat Sy kinders geword het omdat ons in Hom glo.
Baie mense wag en verlang en bid vir 'n besondere salwing met die Gees, maar
ons kan vir seker weet dat ons dit alreeds ontvang het. Vers 27 sê ook dat
die Gees waarmee ons gesalf is, IN ons bly – God self het sy intrek in ons
gemaak. Dís groot en heilig. Om gesalf te word beteken om heeltemal
ingesmeer en ingevryf te word met salf of olie; só is die salwing van die
Heilige Gees ook – dit deurtrek ons hele lewe, dit versprei 'n heerlike geur
en dit vul ons met vreugde, vrede, kennis en insig. Die Boodskap se
vertaling van vers 27 is: Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in
alles wat waar is. Omdat die Heilige Gees ons vol maak met God se
teenwoordigheid ontvang ons die onderskeidingsvermoë, die natuurlike
aanvoeling om die verskil te ken tussen reg en verkeerd, tussen goed en sleg,
om te weet wat God se wil is en om die wysheid te hê om daarvolgens te lewe.
Die Bybel sê ons moenie die Gees se werking in ons lewe weerstaan nie. Kom
ons leef as gesalfdes, as gelowiges wat 'n lieflike geur versprei, as
gereddes wat weet dat die Heilige Gees sy hand spesiaal op ons gelê het. ~
Wilna Botha, 10/07/2016 |
|
Die
wêreld en sy dinge.
Ek wonder soms of ons besef hoe verkeerd dinge geloop het met die sondeval.
Die Here het die heelal geskep met die bedoeling dat dit 'n plek moet wees
waar die mens in liefde en harmonie moet bly, 'n plek van volmaaktheid. Toe
kom die mens en verwoes alles met sonde. En laat ons nou maar nie vir Adam
en Eva die skuld gee nie, as dit nie hulle was nie, was dit ek en jy.
Die lewe op aarde het verander van 'n volmaakte speelpark, na 'n plek van
verderf.
Soveel so dat God sê ons moet nie lief word vir die dinge van hierdie wêreld
nie.
1 Joh 1:15-17 "Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê
nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.
Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien
en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit
die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die
wil van God doen, bly ewig lewe."
Sjoe, dis bitter moeilik, en elke dag sal 'n stryd wees om deur te worstel,
want ons kan nie net doen wat ons wil nie. Dis ironies dat so baie dinge wat
lekker is om te doen, soveel moeilikheid veroorsaak. Dit is nou maar so, die
lewe van 'n Christen is nie altyd maklik nie, want ons moet leef volgens
ander standaarde, maar die beloning is so groot.
Vers 17 b sê dit duidelik:... maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.
~ Willem Botha, 07/07/2016 |
|
Wie is
my broer?
Ek kan jou nie sê hoe ek met hierdie woorde in 1Joh 2:11 sukkel nie. "Maar
wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet
nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het."
Ek wil graag vandag bely dat ek nie hoop dat elke mens wat my pad kruis, of
in my leefwêreld inkom, of aan wie ek blootgestel word, as "my broer"
geklassifiseer kan word nie, want dan is ek in die verdoemenis. Want dan
word ek veroordeel
elke keer as ek die nuus kyk, of op die pad ry, of as ek in die winkels
loop.
Ek dink ek het selektief begin raak oor wie ek wil liefhê, want dit is
vreeslik maklik om sommige mense lief te hê en ander is vir my baie moeilik.
Jy sien, God stel nie hier net voor dat ons ander moet liefhê nie, dis 'n
opdrag, en 'n bykans onmoontlike een daarby. Miskien wil Hy vir ons sê: Wees
vir almal lief vir wie Ek lief is. In vers 10 staan daar "Wie sy broer
liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie".
Ek lees hier tussen die lyne dat dit baie moeilik sal wees, maar dis steeds
wat God van my verwag, al hou ek nie daarvan nie. Mag die Here hierdie hart
van klip uitpluk en vervang met 'n hart van vlees. ~ Willem Botha,
06/07/2016 |
|
Ek onthou so klompie jare gelede was die armbandjies
met “WWJD” daarop geborduur baie gewild. What would Jesus do? Almal het dit
gedra sodat dit hulle gereeld kon herinner om hulleself in elke situasie af
te vra hoe Jesus in daai omstandighede sou optree. Baie het die bandjie
gedra en dit het ‘n verskil in hulle lewens gemaak. Baie het die bandjie
gedra en vergeet wat die betekenis daarvan was. Die bandjie-gier het verdwyn,
miskien omdat mense bewus geraak het van hulle tekortkominge in hierdie
opsig, of dalk het hulle moeg geraak om altyd goed en reg op te tree, of
dalk het iemand hulle “uitgevang” dat hulle nie volgens die “WWJD”- beginsel
opgetree het nie. Ons as Christene moet egter daai “wat sou Jesus doen?”-
vraag op ons harte gegraveer hê en in ons gedagtes ingeprent hou. Dit
behoort die outomatiese riglyn van ons lewens te wees. 1 Joh. 2:6 sê: “Ons
moet dus nie net praat oor wat Hy wil hê nie. Ons moet elke dag daarvan werk
maak om presies so te leef soos Jesus geleef het.” Dis wat die Here van ons
verwag en dis ’n lewenswyse wat Hóm sal behaag. Kom ons streef daarna met
hart en siel en verstand. ~ Wilna Botha, 05/07/2016 |
|
Jammer
Here
Hierdie volgende teks is een van die bekendste tekste in die Bybel, en het
geweldig impak, maar tog 'n teks waarin soveel opgesluit is dat ons vir eeue
daaroor kan redeneer. Ek dink ek verstaan sy volle impak seker minder as 1%.
1 Joh1:9 "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy
vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."
Ek dink daar is egter net soveel wat mens verkeerd kan verstaan en ek het
lank hieroor geworstel. Wat gebeur
met iemand wat sy eie lewe neem? Is hy dan verdoem, want hy kan nie vir
oulaas vergifnis vra vir sy daad nie? Nee, inderdaad is dit nie waar nie. As
ons tot bekering kom, is ons vir ewig gereinig van alle ongeregtigheid, soos
vers 9 vir ons sê, nie net vir die insident nie want Jesus se belofte van
vryspraak geld lewenslank.
Dink so daaraan, ek en vroulief is donkiejare getroud en leef onder ons
huweliksbelofte wat ons aan mekaar beloof het. Maar kom ons sê ek maak more
droog en sy is vies vir my, dan bly ons steeds getroud. Geen insident kan
dit breek nie. Maar as ek vir haar sê ek is jammer, trou ons nie gou weer
nie, die verhouding word net herstel.
Net so met sondevergifnis. As ek vergifnis vra vir die Here kom ek nie weer
tot bekering nie want dit staan reeds vas, maar die verhouding word herstel.
Nee, Hy was nie kwaad vir my nie, maar ek kan weer met vrymoedigheid in Sy
troonkamer voor Hom verskyn. Die wonderlike is dat Hy altyd, vir ewig
daardie verskoning aanvaar. Hy hou niks ooit teen jou nie.
Laat my dink aan my ma wat graag gesê het dis sleg as sy en my pa woorde
gehad het, maar die opmaak daarna was altyd so lekker. ~ Willem Botha,
04/07/2016 |
|
“As ons beweer dat ons nie sonde het nie,
mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.” (1 Joh 1:8)
Die Bybel sê elders ook dat ons almal gesondig het (Rom 3:23), dat die hele
wêreld vasgevang is in die greep van die sonde (Gal 3:22), dat almal
ontaard het en dat daar niemand is wat goed doen nie (Rom 3:12). Ons sonde
maak ‘n muur tussen ons en God, want God se standaard vir ons is dat ons
volmaak moet wees. Hy sê: wees heilig, want Ek is heilig. Ons kan nie op ons
eie daarby uit kom om heilig te wees nie, ons kan nie onsself red nie, ons
natuur is om te sondig. Selfs Paulus sê in Rom. 7:17-23 hoedat hy sukkel
teen sonde. Ek hoor partykeer dat mense sê ons as Christene moet onsself nie
sondaars noem nie, want Jesus het ons vergewe. Dis waar, maar as ons nie
besef hoe groot ons sonde was en is nie, dan sal ons nie besef hoe nodig ons
Jesus het nie, hoe nodig ons Sy verlossing en vergifnis het nie, hoe nodig
dit was dat Hy die offer vir ons sonde moes bring nie, hoe nodig dit was dat
Hy die prys vir ons oortredinge moes betaal nie. Ons moet soos die tollenaar
in Luk. 18:13 uitroep: “Wees my sondaar genadig,” en soos Paulus: “Ek,
ellendige mens! Wie sal my van my doodsbestaan verlos?” Dan kan ons in
dankbaarheid uitjubel: “ Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus
ons Here.” (Rom 7:25) ~ Wilna Botha, 03/07/2016 |
|
Die
Woord wat die Lewe is
Hierdie is die opskrif van die eerste perikoop in 1 Joh1: 1-4 en ons lees in
vers 1-2 "Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom
met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom
geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en
is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die
Vader was en aan ons geopenbaar is."
Wat 'n onbeskryflike getuienis: Ons het Hom self
gehoor, Hom gesien en aan Hom gevat. In enige hof sal so 'n sterk
eerstehandse getuienis geweldig baie gewig dra, want dis nie gebaseer op
hoorsê, of woorde op 'n afstand nie. Johannes het selfs aan Hom gevat, en
daarom hierdie dringende getuienis wat hy ten alle koste wil uitdra. Hy
probeer sê, al het jy nie aan Hom gevat, of Hom gesien nie, ék het en daarom
kan jy dit glo. Dan sê hy "Hy is die Woord, die Lewe".
Ek en jy het Hom dalk nie gesien nie maar ons sien elke dag Sy werke, ons
ervaar Sy nabyheid deur die Heilige Gees, ons word aangeraak en verander,
ons Geestesoë gaan oop as ons die Bybel lees, en ons word by die dag meer en
meer bewus van Sy aanraking. Daarom is ons ook eerstehandse getuies en dra
ons woorde ook geweldig baie gewig. Kom ek en jy skree dit ook uit met ons
lewens, met ons leefstyl en met ons woorde: Hy is die Woord, die Lewe! Dan
lees ons in Vers 4: "Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees".
Die wêreld het hierdie woorde SO nodig. ~Willem Botha, 30/06/2016 |
|
“Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle
wees,” so groet Paulus aan die einde van sy brief in Fil. 4:23. Om die
waarheid te sê ons lees hierdie seëngroet aan die einde van elkeen van sy
briewe. Dit is ook hierdie groet waarmee ons gewoonlik uit ’n kerkdiens
uitgestuur word. As jy weer hierdie seëngroet hoor, ontvang dit met ’n oop
hart en oop hande, want as jy die Here se genade ontvang het, het jy alles
wat jy nodig het. As jy die Here se genade ontvang, ontvang jy ’n volledige
porsie van Sy goedheid. As jy Sy genade ontvang, maak Hy jou sy kind,
vergewe Hy jou sondes, verlos Hy jou uit die boosheid van die wêreld en vul
Hy jou met Sy Heilige Gees wat jou lei en help. Onthou Sy genade is genoeg
vir jou. Ontvang opnuut Sy genade en ervaar dit diep in jou binneste en in
jou daaglikse lewe. ~ Wilna Botha, 29/06/2016 |
|
Het jy dalk ook al êrens langs die pad moeg geword om
geldelike bydraes vir die kerk of sendelinge of welsynsorganisasies te gee?
Het jy dalk ook al opstandig gevoel as jou dominee nóg ’n keer oor geld
preek en jou aanmoedig om vrygewig te wees vir die werk van die Here?
Wanneer ek in Fil. 4:17 lees: “Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie,
maar om die vrug daarvan,” voel ek skaam oor my eie onwilligheid om ’n
finansiële bydrae te maak. Ek besef maar net weer dat daar ’n baie groter en
hoër doel en nut is vir my rande wat ek bydra. Wat is die vrug daarvan
wanneer ons vrygewig is ten bate van geestelike werk? In die eerste plek is
dit natuurlik dat die Woord van die Here versprei en verkondig kan word en
mense deel van God se koninkryk kan word. Verder is dit sekerlik ook dat dié
wat alles opoffer vir diens aan die Here ’n lewe kan maak. Nog ’n vrug van
ons mededeelsaamheid is dat dié wat aan die ontvangkant daarvan is God sal
eer en prys en dank (lees 2 Kor. 9:11-13). ’n Vrug waaraan mens nie dikwels
dink nie, is een wat hier in Fil. 4:17 genoem word: “... daardeur word julle
self ryker.” Hoe kan jy ryker word wanneer jy van jou goed en jou geld
weggegee het? Die Bybel sê: “God het die blymoedige gewer lief” en “om te
gee is beter as om te ontvang” en “wat jy saai sal jy maai.” Wanneer jy van
jou besittings en jou geld weggee, weet jy dat die Here dit as ’n offer
aanvaar en dat Hy jou daarvoor sal beloon. Mag die Here ons “altyd in alles
ryk genoeg maak om by elke geleentheid vrygewig te wees.” (2 Kor. 9:11) ~
Wilna Botha, 28/06/2016 |
|
Ek
is tot alles in staat...
Hierdie is vir ons as Christene baie bekende woorde en ons haal dit graag
aan. Dit kom uit die gedeelte in Fil. 4:10-14 waar Paulus dankbaar is
teenoor die gemeente wat hom bystaan. Maar Paulus het regtig swaargekry vir
sy bedieningswerk.
Kyk wat skryf hy in Fil. 4:12-13 "Ek weet wat armoede is en ek weet wat
oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel
as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek
is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee."
Net soos ons vandag, het Paulus moeilike uitdagings in die gesig gestaar en
hy noem dat hy weet van swaarkry en armoede. Soms was dit swaar en ander tye
weer beter, want by tye het hy kos gehad en dinge selfs in oorvloed gehad,
maar dit het verseker nie altyd goed gegaan nie. Dan sê hy hierdie woorde: "Ek
is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". Wat is hierdie krag wat hy
van God ontvang? Dis om vas te byt, voort te beur, uit te hou en aan te hou,
totdat die deurbrake weer kom.
Onthou hierdie stelling: As dit nou goed gaan, moenie dink dit gaan altyd
goed gaan nie. Maar aan die ander kant, moenie dink as dit nou sleg gaan,
dat dit vir altyd gaan sleg gaan nie. Daar kom weer tye van oorvloed soos
vir Paulus, byt net vas.
Hou ook in jou swaar tye aan hierdie woorde van Paulus vas: Ek is tot alles
in staat deur Hom wat my krag gee. Willem Botha, 27/06/2016 |
|
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil.
4:4) Mense sê dikwels dat dit ’n onmoontlike vers is om te doen. Hoe kan
mens altyd net bly wees? Hoe kan mens altyd net positief wees? Ek dink
hierdie tipe blydskap is nie iets wat deur omstandighede bepaal word nie,
dit word nie bepaal deur jou bui of hoe lekker jou dag is nie. Dit is ’n
blydskap wat diep in jou hart lê, ’n blydskap wat jy kies deur ’n
wilsbesluit. Dis ’n blydskap wat jy nie kan keer nie, wat opborrel selfs al
lyk dinge om jou donker en selfs al is die lewe nie ’n grap nie. Dis ’n
blydskap wat spruit uit die Here se teenwoordigheid in jou lewe, wat
ontstaan omdat jy weet dat Hy by jou is, wat gesetel is in wie die Here is
en nie in wie jy is en wat om jou aangaan nie. Dis nie noodwendig ’n
blydskap wat gepaard gaan met ’n skaterlag nie, maar wel met ’n tevredenheid
en ’n rustige wete dat God in beheer is. Dis beslis ook ’n aansteeklike
blydskap wat sal afvryf op diegene met wie jy in die loop van die dag te
doen sal kry. Dis ’n blydskap wat ’n aangename geur in die wêreld sal
versprei en ’n positiewe omgewing sal skep waarin mense kan ontspan omdat hulle
hul sorge aan die Here kan oorgee. ~ Wilna Botha, 26/06/2016 |
|
Burgers van die hemel
Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Nou van watter Botha's is jy? Mmm..
wel, sommer net van die Botha's, ons is so baie, dit help nie ek sê van die
Vrystaat of van die Transvaal nie, ons wemel orals. Toe ek in die weermag
was noem ek dat ek familie het van die een korporaal se tuisdorp en vra toe
of hy my klomp neefs ken. Sy antwoord was : O jitte ja die vervlakste klomp
messtekers! Sjoe, ek het skaam gekry want dit was so effe waar.
In Fil 3:18
- 4:1 praat Paulus van die vyande van die kruis van Christus, en hy noem dat
hulle tuiste eendag die verderf sal wees. In vers 20 sê hy egter: "Maar ons
is burgers van die hemel, vanwaar ons ook die Here Jesus Christus as
Verlosser verwag".
Jou
herkoms sê iets van jou en baie mense leef tog volgens 'n lewenstyl wat
daarmee geassosieer kan word, soos my neefs met hulle vreemde reputasie.
Maar ons hoef nie gevangenisse te wees van ons herkoms nie, ons moet eerder
'n lewenstyl handhaaf wat pas by ons toekoms. Ons is burgers van die hemel,
en mense moet dit in ons manier van lewe sien. Wat 'n wonderlike getuienis
is dit nie as iemand van jou sê: "Daardie ou gaan reguit hemel toe". Dan sal
dit ander mense ook kan saamsleep.
Natuurlik
is dit nie ons dade wat ons red nie, maar ons dade is immers ons getuienis,
en daarom moet ons lewe soos burgers van die hemel. Ons kan, want as ons
Christus as Saligmaker aangeneem het, het ons reeds die paspoort ontvang. ~
Willem Botha, 23/06/2016 |
|
Ek voel sommer skaam as ek in Fil. 3:7-16 lees hoedat
Paulus sê dat hy geheel en al uitverkoop is aan Jesus en alles opoffer en
inspan om Hom te volg en te dien. Hy sê dat alles wat eers vir hom belangrik
was, nou heeltemal waardeloos geword het, dat om Jesus te ken nou sy eerste
en enigste prioriteit is. Ek vra myself af of dit vir my persoonlik ook my
nommer een prioriteit is, of ek voluit daarna streef en my inspan om meer en
meer van die Here te leer en meer en meer te word soos wat Hy van my verwag
en meer en meer gehoorsaam is en doen wat Hom behaag. Ek weet ek skiet te
kort en ek kan saamstem met vers 13: “... ek verbeel my nie dat ek dit alles
al het nie.” Maar, ek wil graag probeer: “... ek span my in om dit alles
myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (:12) Ek moet
doelbewus vorentoe beur en streef en glo dat êrens op daai pad sal die Here
my ontmoet en my sleep en trek en my help om die wenpaal te bereik. Hy het
my rééds syne gemaak. Hy het rééds sy intrek in my hart geneem. Hy het rééds
die begeerte in my geplant om Hom nommer een te maak. Dis genade! ~ Wilna
Botha, 22/06/2016 |
|
Aan die einde van hierdie dag van opstande en brande en onrus is die teks
wat in my hart opkom Rom 8:31: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie
dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” God is vír ons! Ons
kan nét na Hom kyk vir hulp en raad en beskerming. Ons kan nét na Hom
uitroep vir vrede en rus en veiligheid. “Waarvandaan sal daar vir my hulp
kom?” vra Ps. 121. “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”
Fokus vir ’n oomblik op elke woord van die teks: “God is vir ons.”
“GOD” – Hy is dié een wat alles gemaak het, dié een met alle mag, dié een
wat alles weet en oral teenwoordig is, dié een wat genees, vergewe, optel en
trane afvee. Dit is Hý wat vir ons is.
“IS” - Hy was en sal wees, maar vandag IS Hy vir ons. Hy lewe, Hy bestaan,
Hy is werklik God en Hy leef in ons.
“VIR” - Hy is aan ons kant, Hy kom op vir ons, Hy help ons, Hy red ons, Hy
tree in vir ons soos ’n advokaat, Hy skryf ons naam in sy handpalm. Hy is
VIR ons.
“ONS” – Ja, ek en jy! Ons is spesiaal vir Hom, die appel van sy oog, gekroon
met eer en heerlikheid, sy kind! Niks kan ons uit Sy hand ruk nie.
Mag Sy genade met ons almal wees. ~ Wilna Botha, 21/06/2016 |
|
Al
daai fieterjasies
Mense hou nou maar eenmaal van goetertjies, goetertjies op die kaggel,
goetertjies in 'n glaskas in die sitkamer en goetertjies op vensterbanke.
Tot 'n grasperk op die dashboard in die ou dae. En ongelukkig, net so hou
mense van goetertjies in hulle geloofslewe. Nuttelose uiterlike dinge wat
dikwels gedoen word om ander te beïndruk en om hulle geloofslewe (of sal ek
dit eerder godsdiens noem), ten toon te stel. In Fil 3:1-6 waarsku Paulus
vir die mense in Fillipi teen dit en noem hierdie aanstigters dwaalleraars
wat net loop en kwaad stig. Ek lei af dat die gemeentelede na hierdie mense
toe gestroom het om ook aan hierdie dinge blootgestel te word, en Paulus
noem dan ook hierdie betekenislose besnydenis by die naam.
Dan sê hy in vers 4: "Tog sou ek ook op hierdie uiterlike dinge kon vertrou.
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer". Dan
vertel hy van sy besnydenis, sy herkoms, sy opleiding in die wet, en selfs
dat hy die kerk vervolg het.
Ons moet regtig baie versigtig wees waaraan ons onsself blootstel, want nie
almal wat geestelik voorkom, of klink na kundiges, of so openlik roem op
hulle kennis van God, is regtig waardig om na te volg nie. Paulus noem hulle
prontuit dwaalleraars en kwaadstigters. En weet jy, die aarde wemel van
hulle!
Luister na hierdie stukkie wysheid van Paulus in vers 3: "Ons het die ware
besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Jesus Christus
beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie".
Dis eenvoudig, daar is nie plek vir Jesus én die "aanbidding" van die
nuttelose uiterlike dinge in ons lewens nie. ~ Willem Botha, 20/06/2016 |
|
Vadersdag
Vandag was
'n verskriklike lekker dag vir ons gesin, want ons het heerlik saam gekuier
vir Vadersdag. Ek was intens bewus van die voorreg om my twee kinders fisies
in my arms te kon neem, hulle te soen, saam met hulle te eet en gesels en
mekaar se teenwoordigheid voluit te geniet. Dit alles nie net omdat ons 'n
hegte gesin is nie, maar omdat hulle beide so naby ons bly. Dit was vir my
hartseer om te dink dat soveel mense se kinders nie meer hierdie voorreg het nie
omdat hulle nie meer in die land bly nie. Wat egter nog meer hartseer is, is
dat daar ouers is wat hulle deure vir hulle kinders toegemaak het, of
andersom. Ons kinders het sleutels vir die huis en kan enige tyd kom en gaan
soos hulle wil.
Toe Jesus aan die kruis sterf, het 'n
ongelooflike belangrike insident plaasgevind, want die voorhangsel het van
bo tot onder geskeur, en het ek en jy nou fisies toegang tot die Vader. Geen
afspraak is nodig, geen sleutel, geen "wag Ek is bietjie besig" en geen tou
om in te wag nie.
Vadersdag is dus nou elke dag, elke oomblik en
glad nie aan tyd en beskikbaarheid onderwerp nie. Jy sien vriend, as Hy ver
voel moet jy Hom soek, en Hy is altyd daar. Hy is nie meer afgesonder in die
Allerheiligste nie, Hy wag om gevind te word. Dis my en jou keuse. Stap
sommer nou in vir 'n kuiertjie, en gaan geniet Vadersdag saam met Hom, ek
dink Hy sit op die punt van die stoel en hou die deur dop. Gaan geniet Sy
wonderlike teenwoordigheid, dis nou die tyd.
Hand 17:27 "God het hulle gemaak om Hom te soek,
al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van
ons af nie" ~Willem Botha, 19/06/2016 |
|
In Fil. 2:19-30 lees
ons van twee geestelike werkers wat vir Paulus en die gemeentes ondersteun
het, nl. Timoteus en Epafroditis. Timoteus was ’n jong man, ’n getroue
werker, hy was nie bang vir vervolging en moeilikhede nie, hy het die
belange van die gemeente bo sy eie belange gestel. As jy ’n geestelike werker is, of êrens ’n groep mense bedien met die evangelie of met
liefdesdade wéét jy maar al te goed dat dit nie altyd maklik is nie, dat dit
baie keer voel of jy nie waardeer word of nie erkenning kry vir wat jy doen
nie. Die beste troos is om te onthou dat jy dit vir die Here doen, dat jou
eie belange nie tel nie, dat die Here sien wat jy doen en jou daarvoor sal
beloon. Gaan voort om te doen wat jou hand vind om te doen, doen dit met
liefde en oorgawe en toewyding. “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle
werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het
deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.” (Heb. 6:10)
Die ander van ons wat aan die ontvangkant staan van ’n geestelike werker se
bediening, luister wat Paulus sê: “Ontvang hom met oop arms as ’n broer in
die Here en bejeën manne soos hy met agting.” (Fil. 2:29) Sê vir slag dankie
vir jou dominee, bid vir hom, bederf hom met ’n ete, verseker hom van jou
ondersteuning en aanvaar hom soos wat hy is – nes jy, is hy ook nie volmaak
nie, word hy ook moeg, het hy dalk ook probleme met sy kinders en het hy
dalk ook bietjie aanmoediging nodig. ~ Wilna Botha, 16/06/2016 |
|
Ligdraers
Dit is
darem maar aaklig om in stikdonkerte te loop, wanneer jy nie jou hand voor
jou oë kan sien nie, en destemeer as jy jouself in 'n plek bevind wat jou
boonop bang maak, soos 'n grot. O jitte, en wat nog van 'n stappie deur 'n
begraafplaas as dit in die donker is. Dis in sulke tye wat jy naarstiglik
soek na selfs die kleinste bron van lig. Die oomblik wat lig donkerte
verdryf tree kalmte en gemoedsrus in, en dit kan gebeur deur die kleinste
klein flitsie, of 'n vuurhoutjie.
Paulus skryf in Fil 2:12-18 dat die mense gehoorsaam, eerbiedig en
onberispelik moet lewe, te midde van ontaarde en korrupte mense. In Fil 2:15
- 16 staan "Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld, deur die woord
van die lewe uit te dra".
Jy sien,
korrupsie en slegte dinge was al in Paulus se tyd aan die orde van die dag
en ons moet dit soveel te meer te wagte wees. As ek en jy meedoen aan
verkeerde praktyk, raak ons net soos die wat in die donkerte lewe, en het
ons 'n totaal destruktiewe invloed. Maar as ons daardie ligdraers is waarvan
Paulus praat, oorwin ons daarmee die donkerte. Onthou, enige plek op aarde
is donkerte outomaties aan die orde van die dag, maar 'n klein bietjie lig
verander alles en verdryf die donkerste van donker in 'n oogwink. Die draer
van lig loop altyd voor, want dan sien almal voor hulle uit. Daardie draer
se lig moet 360 grade om hom uitsprei en nie soos 'n laserliggie wees wat
net 'n klein kolletjie verlig nie. Daardie vorm van lig beteken nie veel nie.
Lig lok mense, kom ek en jy word daardie bron van hoop vir ander, deur die
woord van die lewe uit te dra.
Christus is die Woord, en ek en jy het die taak om die draer van die goeie
nuus te wees. ~ Willem Botha, 15/06/2016 |
|
“Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy
gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword.” (Fil.
1:7, Die Boodskap) Jesus was bereid om sy status, eer en posisie prys te
gee, as’t ware sy kroon neer te sit en sy troon te verlaat om mens te word.
“The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood,” sê Joh.
1:14. Hy het nie sy Godwees prysgegee nie – Hy was stééds God, maar Hy het
Homself beperk tot ’n menslike liggaam, met menslike behoeftes; Hy was
beperk t.o.v. tyd en plek. Hy het Homself verneder om mens te word ter
wille van ons, Hy het homself vrywillig aan lyding onderwerp, vrywillig as
’n vervloekte aan die kruis gesterf sodat ons kinders van God kan word. Dít
was die offer wat Hy as Verlosser vir ons gebring het: vervloekte in ons
plek, geslaan in ons plek, gely in ons plek, gesterf in ons plek. “Oor óns
oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat
vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý wonde het daar vir ons
genesing gekom.” (Jes. 53:5) Aanvaar dit. Glo dit. Bely dit. ~ Wilna Botha,
14/06/2016 |
|
Eensgesindheid
Kyk, ons
boerenasie sukkel met hierdie ding. Soos die mense sê, sit twee van onse
manne alleen op 'n eiland en binnekort het jy twee (of meer) politieke parte
en kerke. Paulus skryf hierdie woorde aan die Fillipense.
Fil 2:1-4 "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die
aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige
meegevoel en meelewing –maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te
wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of
eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as
homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan
dié van ander."
Dink vir 'n oomblik hoe die wêreld sou wees as almal op die hele planeet in
eensgesindheid kon leef. Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, geen
misdaad, geen konflik in die werkplek, geen oorloë, geen egskeidings en geen
armoede. Die wêreld sou werklik 'n volmaakte plek wees. Nou ja, dit is seker
'n droom wat net eenvoudig nie waar kan word nie.
Maar dis
nie waarna Paulus verwys nie, hy praat nét met die gemeente in Fillipense,
nét met mense wat in liefde saamgebind behoort te wees, en meer nog, hy
praat met kinders van die Here! Hoe verskriklik is dit nie dat ons as mense
al so selfsugtig geword het nie. Bure teen bure, broer teen broer, Christen
teen Christen kan maar net nie die knie voor die ander buig nie!
Ai, hoe kan ons die wêreld daar buite verander as ons nie eers hierdie
eenvoudige beginsel van eensgesindheid kan toepas nie. Mag die Here ons
help. ~ Willem Botha, 13/06/2016 |
|
“Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir
Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen.” (Fil. 1:27) Hierdie is
nie so ’n maklike opdrag nie en ’n “preek” wat ons dalk nie meer wil hoor
nie. Ons kan nie net sê dat ons Christene is sonder dat ons lewenswyse dit
bevestig nie, sonder dat ons anders lyk en praat en dink en doen as die res
van die wêreld nie. As ek Fil. 1:27-30 reg verstaan lyk dit my dat dit
inspanning van ons sal verg en dat dit dikwels ’n stryd sal wees. Ons moet
onsself gereeld “toets” of ons in die geloof lewe (2 Kor. 13:5) en of ons
vrugte dra wat bewys dat ons bekeer is (Matt. 3:8). Glo jy onwrikbaar in God
se genade, glo jy vas dat Jesus vir jou sonde betaal het, glo jy beslis dat
jy gered is en die ewige lewe as erfenis het, of word jy maklik van stryk af
gebring deur ongelowiges se siening? Begin jy twyfel aan God se goedheid as
dinge om jou moeilik gaan? Bevraagteken jy God se bestaan en die waarheid
van die woord wanneer sg. geleerdes dit begin betwyfel? As jy volhardend bly
glo, as jy met moed en hoop jou oë op die Here hou dán is jy ’n advertensie
vir Christus. As jy vrede en vreugde behou ten spyte van moeilike
omstandighede dán sal die mense om jou sien dat jy “iets” anders het en dit
ook begeer. As jy kan aanhou om die regte dinge te doen, keuses te maak teen
sondes en teen ’n leefstyl wat vir die wêreld aanvaarbaar geword het maar
wat teen God se woord en wet is, dán sal jy uitstaan as ’n ambassadeur van
Christus. Maatskappye doen baie moeite en gaan baie advertensie koste aan om
hulle produk te bemark en bekend te laat word. Ons moet ook alles in die
stryd werp sodat ons lewenswyse ’n groot advertensiebord vir Christus en vir
die evangelie sal wees. ~ Wilna Botha, 12/06/2016 |
|
Om te
lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins.
Paulus uiter hierdie woorde in Fil 1:21 terwyl hy in die tronk is ter wille
van die Evangelie van Christus. As jy lees in Fil 1:12 - 26 sien jy sy
wroeging omdat hy graag sy Geestelike werk wil voorsit, maar nou is hy
opgesluit. Aan die een kant is hy bly want sy gevangeskap het 'n groot
getuienis uitgedra omdat almal besef het dat sy geloof in Christus sy "misdaad"
was. Aan die ander kant wil hy graag by ander
uitkom om verder te getuig oor Christus.
Maar dan kom hierdie vreemde woorde: "Om te lewe is vir my Christus, en om
te sterwe is vir my wins".
Ek lei af dat Paulus dalk moeg was vir die swaarkry, want hy was in sy tyd
opgesluit, hy was 5 keer die gebruikelike 39 houe (195 sweephale op sy lyf)
toegedien deur die Romeine, hy was met stokke bygedam deur die Jode, hy het
amper op see omgekom, hy het baie baie kilometers gestap en hy is verguis
waar hy gekom het. Ek neem hom nie kwalik dat hy gevoel het dat sy werk maar
kan stop nie, en dat hy nou maar kan Huistoe gaan.
Maar dan sê hy in vers 25 dat hy maar eerder sal bly, ter wille van die
mense wat moet hoor van Jesus. Ai, wat weet ons van vervolging? Wat weet ons
van swaarkry vir ons geloof? Hoekom glo ons dat dit altyd moet goed gaan
omdat ons Christene is? Hoekom glo ons dat ons bonatuurlike seën moet geniet,
en dit nogal in terme van die materiële? Hoekom het die Here hierdie goed in
Paulus se lewe toegelaat, maar hy behoort dit nie nou in ons lewens toe te
laat nie? Ek vermoed ek verstaan 'n paar dinge heeltemal verkeerd.
Here, vergewe my dat ek nie Paulus se passie en deursettingsvermoë het nie.
~ Willem Botha, 09/06/2016 |
|
“Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al
my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.” (Fil. 1:3-4) Dis darem
maar lekker as mens hoor iemand bid vir jou, nie waar nie? Dit moet vir ons
ook ’n opdrag en vreugde wees om vir medegelowiges te bid. Ek leer hier in
Fil. 1:3-11 by Paulus wat ons vir ons geestelike familie kan bid: bid dat
hulle sal volhard, dat hulle onberispelike lewens sal lei wat vir die Here
aanneemlik sal wees; bid dat die Heilige Gees meer en meer goddelike liefde
in hulle harte sal uitstort sodat hulle ’n verskil in hulle omgewing kan
maak; bid dat hulle onderskeidingsvermoë sal hê tussen reg en verkeerd,
waarheid en leuen, goed en sleg. Jak 5:16 sê ook dat ons vir mekaar moet bid
en gee ons die versekering: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige
uitwerking.” Rom 12:12 sê “volhard in gebed” – nie net vir onsself, ons eie
behoeftes en begeertes, ons eie mense nie, nee, kom ons volhard ook in gebed
vir mekaar. Ek kan jou verseker daar is vandag mense wat jou gebede nodig
het en staatmaak op jou voorbidding. Baie keer het hulle nie woorde en
innerlike krag om self te bid nie en dit is dan wanneer ons vir hulle kan
intree en hulle na die Here kan oplig met ons voorbidding. “Wat is dit met
jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou God.” (Jona 1:6) ~ Wilna
Botha, 08/06/2016 |
|
Soekend
Die mens bly maar 'n soekende wese en ons almal wil graag alles van God weet
en dis reg so. Ons as Christene moet inderdaad onsself met kennis toerus,
maar ons moet verseker ook onderskeidingsvermoë hê om te weet wat regtig
waar is en wat nie. Ons probleem is dat al die vorms van media ons aan net
te veel opinies blootstel.
Die Here het die mens egter met verskeie gawes toegerus en ons moet dit
gebruik, maar o wee, ons moet oppas vir mense, en wat hulle in die Naamvan
die Here doen, want dit kan ook vir eie gewin wees.
Kyk bietjie na hierdie
waarskuwing en neem dit ter harte.
Ef 4:11-14 "En dít is die
“gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en
leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en
vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom
tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van
God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en
volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie
meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van
dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë
wil wegvoer nie."
Die Here waarsku vir ons hier dat ons ons nie
heen en weer moet laat slinger deur die duisende opinies wat op ons pad kom
nie. Hy maan ons om by die waarheid te bly, wat Hy reeds is die Bybel
opgeteken het. Hoor ander se menings, gaan toets en beproef dit, maar moenie
toelaat dat mense jou geloof in twyfel trek as jy nie alles vir soetkoek
opeet nie. Die beste is, gaan vra self vir die Here, en al wat jy moet doen
is om Sy Woord te lees, alles is reeds daar, dan sal jy geanker wees in Hom,
en sal die winde jou nie kan rondslinger nie. ~ Willem Botha, 07/06/2016 |
|
Wanneer daar in Heb. 11 gepraat word van al die
geloofshelde by wie ons moet leer wat geloof is, is Henog ook een van hulle.
Daar word gesê dat hy geglo het en dat hy geleef het soos God wou hê. In
ander vertalings word gesê hy het God behaag en hy het met God gewandel. Om
met God te wandel beteken letterlik dat ons saam met Hom stap, dat ons Hom
ken soos ’n vriend en dien soos ’n volgeling, dat ons gehoorsaam is en volg
waar Hy gaan. Dit beteken ons is elke oomblik bewus van Sy teenwoordigheid,
ons hou Hom letterlik die hele tyd in die oog, ons is sensitief vir sy stem
en ons is wakker en waaksaam om te reageer op sy opdragte. “Sal twee met
mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” vra Amos 3:3. Was daar ’n
dag of ’n geleentheid waar jy met die Here afgespreek het om saam met Hom te
loop, om Hom te aanvaar as die Koning en Verlosser in jou lewe, waar jy
doelbewus gekies het om Hom te volg en saam met Hom op Sy pad te wandel? Genadiglik
is die Here altyd daar, altyd gereed om op ’n nuwe pad saam met jou te stap
– spreek vandag met Hom af om saam met Hom te wandel. ~ Wilna Botha,
06/06/2016 |
|
Treinrit
Ek deel graag met jou 'n pragtige beeld van die lewe, wat ek by iemand
gehoor het.
My pa was 'n treindrywer en ek het heerlike herinneringe van treinritte wat
ek gehad het saam met my familie. Ons was dikwels al ses saam op 'n trein en
dit was so lekker.
So is die lewe ook soos 'n treinrit. As jy nou hierdie kan lees is jy besig
met jou treinrit en jy is dalk ook al geruime tyd op hierdie trein. Dalk het
jy kinders wat ook tans met die rit besig
is. Daar is in sommige gevalle selfs vier generasies tegelykertyd op die
trein, en jy het geen keuse gehad wanneer julle opgeklim het, of hoe hierdie
rit vir jou begin het nie, maar dit hang in 'n mate van jouself af hoe die
rit vir jou verloop. Jou ouers het voor jou opgeklim, maar myne se
afklimstasie stasie is reeds agter my. So ook dié van my skoonouers, maar
Goddank my kinders is nog op die trein. Wanneer kom my stasie? Ek weet nie,
maar ek bid uit selfsug dat my stasie kom voor my kinders s'n kom.
Daar klim baie ander mense
op en sommige raak vriende en maak die rit aangenaam. Sommige klim soms
vinnig weer af en dis dan bitter hartseer. So ook met ander familie, en dan
het ons dikwels nie veel van die rit saam met hulle geniet nie.
Hierdie trein is God se trein. Hy besluit waar, wat en hoe dinge sal gebeur,
maar laat vir ons toe om die beste van die rit te maak. Hy bestuur hom en Hy
besluit op die rigting, en ook wanneer wie opklim en wie afklim.
Ek geniet my rit ten volle, en ek geniet ook diegene wat saam met my op die
trein is. Die spasie op die trein is te min om slegte verhoudinge te hê want
jy moet kort kort by iemand verbyskuur.
Moenie jou bekommer oor jou afklimstasie nie, geniet net die rit. En laat
die Drywer toe om die trein te ry. Hy weet wat Hy doen en ry die trein al
van die begin van tyd af.
Geniet die rit. ~ Willem Botha, 05/06/2016 |
|
“Ek het U innig lief, Here,” sê Dawid in Psalm 18:2 vir die
Here. Dis vir my só mooi, maar wat beteken dit regtig om die Here innig lief
te hê? Die Bybel sê ons moet Hom liefhê met ons hele hart, ons hele siel en
verstand en al ons krag. Innige liefde vra die hele binnekant, dit kom uit
die diepste innerlike, dis intens, opreg, dis die grootste liefdesemosie wat
mens kán hê. Ander vertalings sê: ek het U hartlik lief, ek het U baie lief.
Die Here het ons eerste liefgehad, daarom is dit maklik om Hom lief te hê.
1 Joh. 4:19 sê: “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad
het.”
Sy liefde vir ons is so diep en wyd en hoog dat ons dit nie kan beskryf nie,
dis só groot dat Hy sy Seun as offer gegee het. En ons ... kan ons Sy liefde
beantwoord en vir Hom in soveel woorde sê: ek het U innig lief? Ek dink die
Here wil en moet hoor dat ons dit in opregtheid hardop sê en dat ons dit
sing in ons lofprysingsliedere. Dink ook aan die rede vir jou liefde – het
jy Hom net lief vir wat Hy vir jou kan doen, of het jy Hom waarlik lief net
omdat Hy God is en omdat Hy jou liefde werd is? “I love You, Lord, and I
lift my voice to worship you...” ~ Wilna Botha, 02/06/2016 |
|
Die hoof van die huis
Hierdie is 'n onderwerp wat baie kontroversie veroorsaak. Die Bybel sê die
man is die hoof van die vrou, maar vele mense hou niks daarvan nie. Baie
vrouens sien dit as 'n bedreiging want dit gee die man die reg om haar te
onderdruk, en baie mans hou nie daarvan nie want dan hoef hulle nie die
verantwoordelikheid te neem nie. Altwee hierdie groeperinge verstaan hierdie
ding heeltemal verkeerd.
Daar is
geen enkele plek in die Bybel wat die man die reg gee
om 'n tiran te wees nie en dis laakbaar. Die Bybel se bedoeling is
hoegenaamd nie dat daar 'n ongelykheid moet wees nie, maar die man het 'n
geweldige verantwoordelik in die huis en mans skram óf weg daarvan óf die
vrou gee die man nie die voorreg om sy rol te vervul nie.
Ef 5:21- 25 "Wees uit eerbied vir Christus aan
mekaar onderdanig. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle
aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus
die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy
kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles
aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos
Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het."
Kan jy sien dat dit begin met: "Wees uit eerbied
vir Christus aan MEKAAR onderdanig...?" Hoe moeilik is dit om DIT te
verstaan? Maar hier kom die kruks:" Die man is die hoof van die vrou, soos
Christus die hoof van die kerk is".
Wil jy as vrou 'n beter hoof hê as Christus?
Onthou jy dat Hy gesê het "Ek het nie gekom om gedien te word nie maar om te
dien?" Meneer, sien jy dat die rol eintlik 'n onderdanige rol is? 'n
Dienende rol beteken om uit jou gesagsposisie voor te stap, te beskerm, te
koester en lief te hê, sonder om dit 'n magspel te maak. Jesus het Sy lewe
vir die kerk afgelê, so moet 'n man sy gesin bo homself stel. Dit kan jy net
vermag as dit uit onvoorwaardelike liefde gedoen word.
Die man moet sy sokkies optrek en hierdie rol
ten volle uitleef, en die vrou moet die man weer toelaat om haar held te
wees, dan het jy 'n funksionele gesin. Ongelukkig is daar huise waar die
kinders ook nie meer die pa as hoof ag nie, want hulle swaai die septer. Nee
meneer, neem jou rol in en verdien die gesag deur te dien, te lei en te
koester. Dis jou Godgegewe taak. ~ Willem Botha, 01/06/2016 |
|
My dogter (nou al 25 jaar oud) “ontdek” nou die dag
weer haar skopfietsie in die garage. Sy het hóéveel kilometers op en af in
die straat voor ons huis op daai ding gery toe sy klein was. Sy merk toe op
dat daar ’n dag moes gewees het dat sy vir die laaste keer die fietsie
geskop het en toe in die garage parkeer het, sonder om te dink of te besef
dat dit die laaste keer is. Toe is ek sommer hartseer, want hoeveel keer
doen mens iets vir die laaste keer, sien mens iemand vir die
laaste keer, besoek jy ’n plek vir die laaste keer en die meeste van die tyd
weet jy nie dis die laaste keer nie. Ek het daar en dan besluit ek wil meer
bewustelik besig wees met dinge, mense en gebeurtenisse, “mindful” my
gedagtes dwing om die huidige oomblik meer intens, met groter deernis en
waardering te benader en te geniet. Die woorde van die liedjie “If tomorrow
never comes” spreek vir my boekdele hieroor. “So I made a promise to myself,
to say each day how much she means to me and avoid that circumstance where
there’s no second chance to tell her how I feel ... So tell that someone
that you love, just what you’re thinking of, if tomorrow never comes.” “Wees
baie versigtig hoe julle leef ... maak die beste gebruik van elke
geleentheid wat jy kry.” (Ef. 5:15-16) ~ Wilna Botha, 31/05/2016 |
|
Daar is geen god nie
Wel, dis kortweg die definisie van ateïsme. Ateïsme kom van die vroegste tye
af en ek het al gewonder wat die verskil is tussen 'n ateïs en 'n ongelowige,
maar ek dink dis maar dieselfde ding. Dit is egter baie duidelik dat dit
vandag openlik in Suid-Afrika toeneem en dat mense baie uitgesproke is
daaroor.
Die bekende Prof Richard Dawkins in Engeland kan waarskynlik vandag dié
aartsateïs genoem word en het in 2009 'n veldtog geloods waar die volgende
woorde op 200 busse, en baie ander plekke, aangebring is: "There's probably
no God. Now stop worrying and enjoy your life".
Ek was uiters
gefassineerd deur die feit dat die professor die woord "probably" gebruik
het. Is dit dan hoe sterk sy ongeloof is? 'n Vriend van my het egter 'n
ander siening oor ateïsme, hy voel jy kan nie sê jy glo nie in God nie, want
jy glo verseker. Sy woorde is: "You believe in the non-existence of God".
Wel, vir my is dit maklik, want ek het heeltemal te min geloof om 'n ateïs
te wees. Hulle sê hulle glo net in dinge wat hulle kan sien, en ek voel ek
sien te veel om nie te glo nie. Dis net onmoontlik, sien jy nie die wonders
van die natuur nie? Wat van die wonderwerk van die geboorte van 'n baba?
Sommer net jou vinger wat gesond word as jy hom sny, of wat van mense wat
ongelooflik baie versterking put uit hierdie onsigbare God in tye van nood?
Ons sien onlangs 'n baie goeie film met die naam: "The man who knew
infinity". Die briljante wiskunde student vertel vir die professor dat hy
God in elke faset van wiskunde raaksien, waarop die professor sê dat hy 'n
ateïs is en nie glo in God nie. Die student sê toe die volgende: "No
professor, I think you believe in God, you just don't think He likes you".
So is daar dalk baie ateïste wat skuil agter "ongeloof", omdat hulle nie kan
glo dat God vir HULLE lief kan wees nie. Die punt is, Hy is lief vir almal,
al dink jy nie so nie. En almal het in hierdie lewe 'n kans om tot bekering
te kom, al glo jy dit nie. God is lief vir jou, en jy kan absoluut niks doen
om dit te verander nie. ~ Willem Botha, 30/05/2016 |
|
“Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die
Rooisee getrek soos oor droë grond.” (Heb. 11:29) Met die uittog uit Egipte
moes Moses in opdrag van die Here en in geloof sy kierie oplig en sy hand
oor die see steek sodat daar ’n pad van redding vir die Israeliete oopgemaak
het deur die see. Die Israeliete moes in geloof dié pad volg om gered te
word en veilig te wees. Hulle moes kies om geloofstreë te gee sonder om die
uitkoms te sien, hulle moes teen alle logika in die pad volg om gered te
word en uiteindelik die beloofde land te ontvang. Dit laat my dink daaraan
dat Jesus vir ons met Sy liggaam aan die kruis ’n pad na God gemaak het, ’n
genade-pad wat vir ons redding verseker. Hy sê Hy is die weg, die waarheid
en die lewe. Elkeen wat kies om in geloof, sonder om te sien, sonder om
alles te verstaan, dié pad stap, sal gered word uit die kloue van die vyand,
sal veilig deurstap en gered wees, sal die ewige lewe ontvang. “Ons het dus
nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom en dit op ’n weg
wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die
voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.” (Heb. 10:19-20) Die Here se pad
van redding is oop vir ons, is jy gereed om in geloof deur te stap? ~ Wilna
Botha, 29/05/2016 |
|
Spreuke
Die boeke wat die beste verkoop in Suid-Afrika, is sogenaamde selfhelp boeke,
dws boeke wat jy lees wat een of ander iets aanspreek waarvan jy meer wil
leer, soos 'n vakgebied wat jou interesseer, of iets waarmee jy sukkel soos
depressie of boeke oor dieet. Dan kry jy boeke waar iemand beweer dat hulle
hierdie ontdekking gemaak het en dan het hulle die geheim ontrafel om goed
te lewe en skryf die wonderlikste geheimenisse neer en mense oe en aa
vreeslik daaroor. Ek
het egter 'n ding agtergekom en dit is dat hierdie slimmighede van mense
alreeds jare gelede in Spreuke opgeskryf is. Kyk, Salomo was regtig 'n wyse
man en hy het die lewe geken. Eintlik behoort ons Spreuke elke jaar deur te
lees en alles ter harte neem. Hier is net enkele van hierdie dinge.
Spr. 16:30 "Wie met sy oog knik, wil die
waarheid verdraai; wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid."
Klink dit nie bekend nie? Het jy ook so ‘n wit
leuentjie vertel, maar “orrels op die maan” gehou? Hoe waar is dit nie dat
daar soveel mense is wat altyd daarop uit is om kwaad te doen.
Spr. 10:26 Soos asyn teen die tande, soos rook
in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee.
Spr. 19:15 Luiheid laat 'n mens diep slaap; 'n
lui mens ly honger
Spr. 20:13 As jy nie wil arm word nie, moenie
lief wees vir slaap nie; staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet.
Spr. 22:13 Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu
daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!”
Salomo het nie gehou van lui mense nie.
Spr. 11:22 Die skoonheid van 'n vrou sonder
oordeel is soos 'n goue ring aan 'n vark se snoet.
Kostelik! Laat mens nogal dink. Ons weet mos
dat iemand eerder mooi van binne moet wees as mooi van buite.
Spr. 15:16-17 Liewer min hê en die Here dien
as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net 'n bietjie groente en
liefde daarby as 'n vetgemaakte os en haat daarby.
Spr. 17:1Liewer 'n stukkie droë brood met
vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.
Mooi woorde oor vreedsaamheid.
Spr. 17:22 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,
'n neerslagtige mens raak uitgeput.
Glimlag gerus meer!
Spr. 18:8 Skinderstories word gretig verslind;
mense sluk dit so maklik.
Daai tong!
Ja kyk, lees hierdie boek maar gereeld, pas
hierdie waarhede toe en jy sal baie gelukkiger wees. ~ Willem Botha,
26/05/2016 |
|
Mens lees op ’n hele paar plekke in die Nuwe Testament
dat Jesus by mense aan huis was. Bv. in Luk. 4:38 waar Jesus na Simon se
huis toe is. Daar aangekom het Hy Simon se skoonma gesond gemaak, asook die
hele stroom siekes wat toe daar opgedaag het. In Luk. 5:29 word weer vertel
hoe Jesus by Levi se huis saam met tollenaars en ander mense saam was vir ’n
groot feesmaal en in Luk. 18:5 saam met Saggeüs vir wie Jesus gesê het: “...
Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Dan is daar natuurlik nog die
spesiale ete wat by Lasarus-hulle se huis vir Jesus gegee is, waarvan ons
lees in Joh. 12. Marta het kos voorberei en aangedra, terwyl Maria Jesus se
voete gesalf het met duur olie. Nou dink ek: sou dit nou nie lekker gewees
het as ek Jesus as gas in my huis kon ontvang nie? Watse kos sou ek vir Hom
gee? Hoe sou ek die gastekamer vir Hom ingerig het? Wie sou ek nog genooi
het om te kom saam kuier? Sou ek Hom ook vra om iemand gesond te maak? Sou
ek Sy voete gesalf het? In geloof weet ek dat Hy wél by ons teenwoordig is,
dat Hy saam met ons in ons huis woon, dat Hy met elke ete saam aansit, dat
Hy aanraak en genees wanneer iemand siek is, dat Hy troos en trane afdroog
wanneer iemand hartseer is, dat Hy raad gee wanneer ons nie weet wat om
volgende te doen nie. Ek hoop met my hele hart dat enige iemand wat by ons
aan huis kom, ook van Sy teenwoordigheid bewus sal word. ~ Wilna Botha,
25/05/2016 |
|
Pa
Is dit nie skokkend hoeveel enkelouers daar is nie, oftewel hoeveel kinders
net deur een ouer grootgemaak word nie, gewoonlik 'n ma, en baie dikwels (natuurlik
nie altyd nie) die pa wat totaal afwesig raak. Goeiste, kan ons ons jeug
kwalik neem vir al die slegte dinge wat gebeur? Toe ons eie kinders in die
laerskool was het hulle al vertel dat daar hordes kinders is wat net deur
een ouer grootgemaak word. Sonder om hoegenaamd te veroordeel wil ek sê die
wêreld het siek geword, terminaal siek! Hoekom op aarde trou mense nog met
'n huweliksbelofte voor God? Wie trou nog binne gemeenskap van goedere? Want
die redenasie is eenvoudig, mense trou met die agterdeur oop, en begin met
'n gesin binne daardie raamwerk. Ek het baie begrip dat daar egskeidings
plaasvind en wil geensins iemand probeer slegmaak wat daardeur gaan nie,
maar ek pleit dat ouers nie hulle kinders vernietig nie. Die vet weet, dis
'n slagveld daarbuite!
Kan 'n pa nie maar ten minste 'n goeie pa wees as daar wel skeiding
plaasgevind het nie? Kan bloed nie maar dikker as water wees nie? Kan die
woorde "Ek is lief vir jou" nie maar bedoel word nie?
Ek is seker jy ken hierdie stukkie maar ek deel dit graag weer.
1 Kor 13 vir pa's:
Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry, maar
my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is
ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente kan
swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die liefde om na
my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al besit ek
al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al die geloof dat ons
hierdie land met gebed kan verander, maar ek het nie die liefde om my
kinders die gevare van baie geld te leer, langs die baan te staan as hulle
speel of hulle te leer bid nie, dan het ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek in elke
liefdadigheids raad op my dorp dien en vakansies my gesondheid opoffer om in
malariagebiede sendingwerk te doen, en ek is te moeg om saans vir my kinders
boeke te lees of naweke in die veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut
niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel nie,
Hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders nie,
Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
Is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper hulle
nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot hulle eie
nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
In hulle glo,
Die beste vir hulle hoop,
En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n
kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou skryf
sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en besittings
gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en my
geleerdheid,
Maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde, balans
en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
Maar eendag as hulle groot is,
Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
En wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde! ~Willem Botha,
25/05/2016 |
|
Iemand het eendag gesê daar is vyf onvermydelike
elemente in die lewe: geboorte, dood, liefde, lyding en boosheid. Dis goed
wat jy êrens in jou lewe gaan teëkom; miskien het jy in hierdie jaar reeds
al vyf beleef. Drie uit die vyf klink maar heel swaarmoedig, dit klink of
ons hulle dalk liewer wil vermy, nie waar nie? Ongelukkig is dit elemente
wat die een of ander tyd oor elkeen van ons se pad sal kom – dis deel van
die lewe. Die vraag is nie hoe kan ek dit vermy nie, die vraag is eerder hoe
gaan ek dit hanteer? Daar is mos ’n uitdrukking wat sê: “smee die anker
terwyl die water glad is.” Soos wat ’n skeepvaarder in stil tye sorg dat sy
anker sterk en in ’n goeie toestand is, so moet ons ook in die “liefde en
geboorte”- tye van ons lewe die anker in plek kry, sodat as die storms van
dood, lyding en boosheid kom, ons nie rondgeslinger en verpletter sal word
nie. Die Bybel sê dat hoop ons anker is en dat Jesus die onsigbare,
onbeweegbare ankerpunt is waarop ons kan vertrou en waarin ons kan glo.
“Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter
die voorhangsel vas is.” (Heb. 6:19) Moenie die swaar tye vrees nie, vriend,
die Here is aan jou kant! Hy sal jou deurdra, Hy sal jou oplig uit die stof,
Hy sal jou trane afdroog, Hy sal in die storm na jou toe aangestap kom op
die water en weer vir jou rus gee. ~ Wilna Botha, 23/05/2016 |
|
Kla kla kla
Goeiste maar ons is 'n klaerige nasie, net niks is goed genoeg nie en daar
is soms so min sprake van dankbaarheid. Ek het nou die dag 'n pragtige,
inspirerende boodskap van die aktrise Angelina Jolie gehoor waar sy 'n
toekenning gekry het. Sy het gesê dat sy glo daar is nog baie potensiële
aktrises, wat baie meer talent as sy het en wat 'n baie groter verskil in
hierdie lewe kan maak, en wat baie groter hoogtes in hierdie lewe kan bereik,
maar, sonder dat sy dit
hoegenaamd verdien, is sy die een wat die geleenthede gekry het en sy is
innig dankbaar daarvoor.
Ek
glo daar is hordes beter "Willem Botha's" as ek, mense wat werklik sou kon
uitstyg, maar ek is die een wat die geleenthede gekry het. Maar hoekom kla
ek meer as die "ander een" wat dalk krepeer van armoede, maar in vreugde en
vrede leef? Dis omdat ek ophou tel het aan seëninge, en ophou om die
swaarkry van ander om my raak te sien.
My
buurman sê nou die dag die volgende waar woorde: As ek en jy meer tyd
spandeer aan die tel van ons seëninge, sal ons minder tyd hê om te kla. Dis
eenvoudig, jy kan net een op 'n slag doen, dis onmoontlik om jou seëninge te
tel terwyl jy kla. Hoekom sien ons nie meer die goeie raak nie? Weet jy
hoekom nie, want ons het te bederf geraak. Niks is meer genoeg nie, nog nog,
meer meer! Dis hoekom ons vir die Here dinge vra, maar dan nie kan wag nie.
Alles moet NOU gebeur! Maak opnuut 'n nuwe keuse, en sien die Here se genade
in jou lewe raak.
Fil 4:4-7 "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik
teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar
maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan
God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor
julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." ~ Willem Botha,
22/05/2016 |
|
“Those who put everything in God’s hand will eventually
see God’s hand in everything.” Dis ’n aanhaling wat ek nou die dag êrens
gelees het en dis mos waar! As ek die Here genoeg vertrou met my lewe, my
familie, my goed, my toekoms, my drome, dan sal ek gewillig wees om álles in
Sy bekwame hand oor te gee. As ek glo Hy is in beheer en Hy weet wat Hy doen,
dan sal ek wag vir Sy hand om in my lewe en my eie omstandighede in beweging
te kom en te doen wat Hy goed dink om te doen. Die gevolg van só ’n uitkyk
en só ’n geloof sal wees dat ek sal beleef dat Hy betrokke is in elke aspek
van my lewe – nie net die goeie en die seëninge nie maar ook die swaarkry en
die probleme en die uitdagings. Hy sê mos: “Met My eie hand red ek jou” (Jes.
41:10), “Ek vat jou hand” (Jes. 41:13), “Niemand sal hulle uit My
versorgende hand ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.” (Joh. 10:28). Ons
Here se hand is magtig, sterk en kragtig (sien Ps. 89:14), jy kan met volle
geloofsvertroue jou lewe oorgee in Sy hand ... en as jy Sy hand in jou lewe
sien werk, sal jy merk dat jou naam daarin gegraveer is! (Jes. 49:16) ~
Wilna Botha, 19/05/2016 |
|
White
noise
Dis verseker nie die geluide wat jy hoor as die boere op Loftus rugby kyk
nie! Dis 'n term wat in verskillende kontekste gebruik word, maar spruit uit
die elektronika waar dit as 'n gesuis deur elektroniese instrumente opgewek
word. Dit word egter ook losweg gebruik waar agtergrondgeraas steurend op 'n
mens inwerk.
Nou ja, baie mense vra hoe mens God se stem kan hoor en wend hulle tot
allerhande maniere om te hoor wat God vir hulle wil sê . Sommige mense soek
lukraak
Bybelverse om hulle eie behoeftes te "bevestig", en ander wend hulle tot
ander mense wat daarop aanspraak maak dat hulle God se stem op 'n
bonatuurlike manier hoor, namens jou.
Daar is sekerlik plek vir baie van hierdie dinge, maar God praat met elkeen
van ons direk, op 'n unieke manier en in 'n stem wat jy kan erken. Ons
probleem is egter hierdie "White noise" effek, wat teweeggebring word deur
so baie geestelike "agtergrondgeraas", dat ons nie meer weet wanneer God
praat en wanneer die wêreld praat nie. So baie opinies, sogenaamde kennis,
openbarings en aansprake word gemaak, dat dit bitter moeilik raak om God se
stem te hoor, en dan voel dit naderhand of God jou verlaat het of jou
ignoreer.
Daar is net een manier, kom uit die geraas uit, hou op om jou ore uit te
leen, gaan raak stil en luister hoe God praat terwyl jy bid. Soms kom dit
deur met 'n skrifgedeellte, soms 'n gedagte wat by jou opkom, soms inderdaad
deur iets wat iemand vir jou sê, maar jy moet dit toets. Daar is ook 'n
verskil tussen hoor en luister. Hoor is maklik, maar luister vra dat jy
woorde ter harte moet neem, dat jy moet verander en dat jy ernstig moet wees
oor wat God vir jou wil sê. Ons luister heeltemal te maklik vir ander,
vernaam as hulle sê wat jy graag wil hoor, of as dit vir jou persoonlike
voordeel inhou.
Nee, die stem van die Heilige Gees kom deur as jy uit die geraas van die
wêreld uitkom en daarna soek. Hoe wonderlik is dit nie as die Here vir jou
eerstehands woorde in die oor fluister nie, en wanneer jy so seker is dat
die Hy is wat praat nie.
Joh 10:4 "Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en
die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken"
Dis die geheim, raak stil en luister. Dit neem oefening, want naderhand ken
jy Sy stem so goed dat jy dit dadelik herken. ~ Willem Botha,
18/05/2016 |
|
Toe ek verlede week een oggend my dagboek omblaai, lê
Woensdag en Donderdag so mooi langs mekaar en onderaan elke bladsy is daar
’n aanhaling oor geluk. Dit sê: “Happiness is not determined by what’s
happening around you, but rather what’s happening inside you” en “Most
people depend on others to gain happiness, but the truth is, it always comes
from within.” Almal is op soek na geluk, maar ek dink dis uiteindelik tog
vrede en tevredenheid waarna ons soek. Ek hoor mense sê: as ek net eers ’n
groter huis het, dan ..., as ek net ’n ander werk kan kry, dan ..., as ek
net meer geld het, dan ..., as my kinders net eers groot is, dan ..., as ek
net eers op pensioen is, dan ..., as die eksamen net eers verby is ... en so
kan die lys aanhou. Ons wag altyd vir omstandighede om te verander, of vir
mense om te verander, of vir die een of ander beter “eendag”. As jy nie nóú
gelukkig kan wees nie, gaan jy ook nie dán gelukkig wees nie. As jy nie nóú
tevrede is nie, gaan jy ook nie dán tevrede wees nie. Die innerlike
onvrede gaan oral met jou saam. Probeer om jou binnekant en jou uitkyk op
dinge om jou te “reset”, laat die Here daai gedeeltes van jou bestaan
oorneem, vra Hóm om vir jou nuwe, positiewe gedagtes te gee, laai jou hart
met aangename herinneringe, met Skrifwoorde, met insette van goeie en
inspirerende mense. Pak die probleme en die swaarkry en die negatiewe
gedagtes op die Here af en ontvang Sy vrede. “Gaan praat met God daaroor.
Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie
dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die die beste weet. Jy sal dan
verlig en tevrede (en gelukkig) voel.” (Fil. 4:6, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 17/05/2016 |
|
Rotresies
Prediker 2 : 1 - 11 "Ek het by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier,
laat ek die lewe geniet! Maar ook dit het niks opgelewer nie. 2 Van lag moes
ek sê: dis sinloos, en van plesier: wat bring dit? 3 Ek het gewonder wat sal
gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na wysheid, as ek
soos 'n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is waarmee 'n mens
hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou. 4 Ek het groot
ondernemings aangepak: ek
het vir my huise gebou en wingerde geplant. 5 Ek het vir my tuine en parke
aangelê en allerhande soorte vrugtebome daarin geplant. 6 Ek het vir my
damme gemaak om die lappe jong bome nat te lei. 7 Ek het slawe en slavinne
aangeskaf, en hulle het kinders gekry wat ook my slawe was. Ek het baie
beeste en kleinvee gehad, meer as almal voor my in Jerusalem. 8 Ek het vir
my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies. Ek
het vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die
lewe kon geniet. 9 Ek was magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem.
My wysheid het my goed te pas gekom. 10 Alles wat ek begeer het, het ek my
veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie. Alles waarmee ek my besig
gehou het, het my plesier verskaf. Dit was my beloning vir al my inspanning.
11 Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee
ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n
gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie."
Waarheen jaag ons almal? Ons kinders is nou albei uit die
huis uit en ek kry hierdie prentjie van ons lewens siklus. Trou en besit
niks, koop jou eerste meubels en 'n motor, alles op skuld. Begin
goetertjies bymekaarmaak, koop 'n klein eiendom, dan 'n groter een.
Begin met 'n gesin, en soos die kinders grootword, word die huis groter
gebou. Nog meubels, nog 'n motor, 'n swembad, nog huis verbeteringe,
leen geld dat die kinders kan studeer, koop vir hulle motors en dan
uiteindelik, die GROOT uitgawe: troues. En toe jy dink jy tree jonk af,
is jy meer bankrot as ooit!
Nou is die huis te groot, die meubels te veel. Jy gaan in trurat. Koop
'n kleiner plekkie , verkoop van die meubels en die groot motor. Swoeg
om van die laaste skuld af te betaal, beland in 'n aftreeoord, en dan
een of ander tyd, bly daar net een van julle oor, wat waarskynlik sy /
haar laaste jare in 'n klein plekkie of selfs kamertjie oorbly. Verlang
na die kinders, wat dalk te min kom kuier. En dan, eendag, is ook jou
lewe verby en nie een enkele ding word saamgeneem na die hiernamaals nie.
Dis alles 'n gejaag na wind.
Beswaard, soos ou Genis sou sê. ~ Willem
Botha, 16/05/0216
|
|
Herinnering aan self: die gawes wat die Here my gegee
het, is nie vir eie gebruik, geldmaak of eie eer nie. Uit Ef. 4:12 verstaan
ek dat ek my gawes tot eer van God en tot opbou van my naaste moet aanwend.
Die gawes wat jy ontvang het, moet gebruik word vir goeie dade aan jou
naaste, moet fokus op die opbou van ander en moet uiteindelik net gaan oor
die eer van die Here. Wat jy doen, moet die lig op die Here laat val, nie
op hoe goed en oulik jy is en hoe baie jy vir die koninkryk beteken en
hoeveel mense jy bereik nie. Onthou die Bybel sê as jy eer ontvang en mense
jou loof vir wat jy doen het jy klaar jou beloning weg. (Lees Matt. 6:1-4)
As jy mense help moet jy dit nie uitbasuin nie, die linkerhand moet nie weet
wat die regterhand doen nie; doen dit stilweg en so goed as wat jy kan. Doen
wat jy doen uitmuntend en met toewyding asof jy dit vir die Here doen, dan
sal Hý eer ontvang. Vra jouself af of jy sou doen wat jy doen al het
niemand geweet jy doen dié goeie daad nie, of al sien niemand wat jy doen
nie. As jy ’n eerlike “ja” kan sê, dan sal die Here raakgesien word en die
eer ontvang! ~ Wilna Botha, 15/05/2016 |
|
Respek vir God
Iets wat wat op 'n skokkende manier besig is om te verdwyn. Ons sien hoe
mense van oor die wêreld, maar net soveel in ons eie land, nie net wegdryf
van die Here af nie, maar op 'n absolute arrogante en uitdagende manier met
die Here omgaan, so asof Hy 'n hierjy is wat jy met een skoot van die tafel
kan afvee.
Een van die mees skryende en Godslasterlike frases wat jy daagliks hoor en
sien, en lees op Facebook is "OMG" . Ek het al besluit ek wil elkeen van my
vriende
op Facebook wat stukke deel waar dit voorkom, summier afgooi. Voorts is daar
sêgoed wat heel onskuldig lyk, wat net so sleg is, bv as mense praat van
"Die ouman daarbo". Hoekom op aarde Hom nie op Sy naam noem nie?
Maar die
Bybel praat baie hard en duidelik oor hierdie goed, en as mens hierdie
tekste lees sien jy hoe God ook uitgesproke kan wees, want hierdie God van
liefde sê dat Hy jou in die hel sal werp! So eenvoudig soos dit.
Heb 10:29
- 31"Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God
verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en
die Gees van genade beledig het? Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit
is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” en verder: “Die Here sal oor sy volk
oordeel.” Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val."
Mense speel hierdie speletjie met God en dis 'n duur speletjie. Jy sien
vriend, daar is 'n verskil tussen mense wat bietjie koud raak, (of dalk nog
nooit regtig sy hart vir die Here gegee het nie), en hierdie mense wat hulle
geloof verloor en op hierdie uitdagende pad gaan. Die Bybel sê dan ook dat
hierdie mense nie weer sal terugdraai nie.
Heb 6:4-6a "Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe
ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer
ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan
nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te
bring."
Ek het al baie gedink dat mense wat minagtend met ander omgaan, geen
selfrespek kan hê nie, want ek hoef nie van iemand anders te hou om hom te
respekteer nie, maar as iemand sy Maker minag en openlik uitdaag, is daar
geen salf aan hom te smeer nie.
Lees weer Heb 10:31 "Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God
te val."
'n Predikant het tereg gesê: As jy soek na 'n definisie van die
onvergeefbare sonde teen die Heilige Gees, is dit hierdie openlike minagting
van God. ~ Willem Botha, 12/05/2016 |
|
Skaakmat
Ek is self nie 'n goeie skaakspeler nie, maar dis nogal 'n interessante spel
wat met uiterse vernuf gespeel word. Elke speler moet die hele tyd probeer
uitmaak wat in die opponent se kop aangaan en hy moet hom vernuftig uitoorlê.
Deur die loop van die spel word die een speler naderhand soos 'n jagter wat
net wag om die doodskoot te gee. Dis nogal 'n oorwinning as die een
triomfantelik kan uitroep "SKAAK".
So sien ek in my geestesoog hoe hierdie "skaakspel" tussen Jesus
en die duiwel afgespeel het. Toe Satan Jesus versoek het, het hy allerhande
skuiwe gemaak om Jesus te uitoorlê en het Hom selfs die wêreld aangebied as
Jesus sou neerkniel en hom aanbid. Maar Jesus se skuiwe was nie op nie en Hy
het die aanslag teengestaan. Deur die tyd wat Jesus met Sy openbare lewe met
mense omgegaan het, was die skaakspel soms fel. Johannes die Doper se kop is
afgekap, Lasarus het doodgegaan, die Fariseërs het die lewe vir Hom moeilik
gemaak en Sy eie mense het Hom verwerp, maar daar was nog altyd 'n skuif oor.
Totdat Pontius Pilatus Hom die doodstraf oplê en laat kruisig. Toe Jesus Sy
laaste asem uitblaas, het Satan waarskynlik triomfantelik uitgeroep "SKAAK"!
Die Een wie hy so gehaat het, was uit die weg geruim en hy het waarskynlik
soos 'n oorwinnaar sy hande in die lug gegooi en gejuig. Nou was al Jesus se
volgelinge net so verlore soos Hy.
Maar toe staan Hy op. Ek dink dis die één skuif wat Satan nie verwag het nie!
Wie op aarde staan per slot van rekening uit die dood uit op? Wel, die
laaste woord in hierdie spel was nog nie gespreek nie, want Jesus het
geantwoord met :- SKAAKMAT!!!
Daardie term beteken net een ding, die spel is verby.
Kol 2:13-15 "Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle
sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met
Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die
skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te
spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het elke mag en gesag ontwapen en
hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van
Christus mee te voer."
Vandag kan ek en jy ook uitroep: SKAAKMAT, as dit vir jou voel of die Satan
die oorhand oor jou kry. ~ Willem Botha, 10/05/2016 |
|
’n Hele paar
keer in die Nuwe Testament lees mens dat iemand in die “diepste duisternis
daarbuite” gegooi gaan word waar hulle sal “huil en op hulle tande kners”.
Dit klink darem baie neerdrukkend, baie streng en erg veroordelend. Dis
egter ’n realiteit dat baie mense in die diepste duisternis daarbuite sal
beland, in ’n plek waar God nié is nie – die hel, die ewige verdoemenis, die
poel van vuur en swael. Moenie sê dat ’n God van liefde dit nie sal doen nie.
Hy sal! Die Bybel sê daar sal ’n dag kom wanneer die Here regverdig sal
oordeel – hetsy met die wederkoms of wanneer jy eendag te sterwe kom. Volgens
Matt. 8:12 sal diegene
wat die Here se genade weggewys het, mense wat Jesus se klop aan hulle harte
gehoor het, maar dit geïgnoreer het, mense wat Hom verwerp het, onder dié
wees wat met gekners en gehuil in die diepste duisternis gegooi word.
Volgens Matt. 13:41-42 sal dit mense wees wat ander in sonde laat val het,
ook almal wat God se riglyne en voorskrifte ignoreer. Volgens Matt. 13:49-50
sal dit slegte mense wees wat onbruikbaar is in die koninkryk van God.
Volgens Matt. 22:12-13 en Matt. 24:50-51 sal dit almal wees wat onvoorbereid
is op die wederkoms van Jesus, dié wat moed opgegee het om te wag, dié wat
met hulle eie, selfsugtige dinge voortgegaan het terwyl hulle wag, dié wat
gedink het die hemel en die ewige lewe is net ’n “pie in the sky”. Volgens
Matt. 25:30 is dit dié wat nie die gawes/geleenthede/middele wat die Here
aan hulle toevertrou het gebruik het nie, maar dit begrawe het of net vir
eie gewin aangewend het. Nou ja, die logiese vraag vandag is: waarheen is jý
op pad? Is jy op daardie breë pad wat na die diepste duisternis lei, of op
die smal weg wat na die ewige lewe lei? Die goeie nuus is dat Jesus jou roep
en dat sy genadige hand jou wil oorlei op die smal pad – jy kan op hierdie
oomblik weer kies om Hom te glo en te volg en deur die nou poort te stap! ~
Wilna Botha, 09/05/2016 |
|
Moedersdag
Hier is 'n
foto van my moeder, en my kinders se moeder. Twee ongelooflike kosbare mense
in my lewe en wat vir my baie na aan die hart lê, hoewel ek nie meer die
voorreg het om my ma in my lewe te hê nie, maar sy bly in my hart.
Moedersdag is 'n spesiale dag om die voorreg van 'n moeder in my huis te
vier.
Vir my
begin Moedersdag op 'n manier aan die kruis, waar Jesus sy moeder aan
Johannes toevertrou.
In Joh 19:26-27 sê Jesus vir sy moeder: “Daar is u seun. En vir die dissipel
vir wie Hy baie lief was, Johannes, sê Jesus: “Daar is jou moeder.”
'n Ongelooflike toneel wat afspeel van Iemand wat omgee.
Deut 5:16 “ ‘Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel
het, dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land wat
die Here jou God vir jou gee."
'n Groot
opdrag, wat heerlik is om na te kom.
Dankie aan al die onbaatsugtige moeders! ~ Willem Botha, 08/05/2016
|

 |
|
Ek het vandag weer die Bybelgedeeltes wat oor Jesus se
hemelvaart handel gelees. Luk. 24:50-51 is vir my besonders: “Daarna het Hy
hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en
hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy
in die hemel opgeneem.” Jesus laat sy volgelinge met ’n seën en met groot
beloftes agter voordat Hy opvaar na die hemel. Daai seën en daai beloftes is
vandag vir ons ook van toepassing. Kyk op na die wolke en weet en glo dat
Jesus weer gaan terugkom en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt.
28:20). Kyk op na die wolke en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige
Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer. Kyk op na die wolke
en weet dat Jesus vir ons ’n plek in die hemel gaan voorberei het . Hy sê
in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook!
Kyk op na die wolke en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy
daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die wolke
en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na
die wolke en aanbid en eer en prys Hom! ~ Wilna Botha, 05/05/2016 |
|
So
hard soos 'n klip
Job 41:15 "Sy hart is so hard soos klip, so hard soos 'n maalklip"
Ek het vandag met ons bediende politiek gepraat, 'n gesprek waarvoor ek lank
my tande geslyp het nadat sy so paar maande gelede aangekondig het dat sy
nou die rooi party ondersteun. Hoe op aarde? Wie soek hierdie geweld? Hoe
kan ek haar vertrou in my huis as ek glo dat die party regtig daarop uit is
om my te benadeel? Sy ondersteun dan sekerlik ook hierdie geweldadige idees
en waar los dit my en my gesin?
Ek het haar gevra hoekom sy haar besluit in daardie rigting gemaak het en sy
het net eenvoudig gesê dat hulle hoop op 'n beter lewe. Ek het ook tong in
die kies gevra of sy ons geweld sal wil aandoen en sy het lekker gelag en
gesê nee, waar op aarde sal sy dan werk? Sy geniet die werk by ons baie want
ons handhaaf goeie verhoudinge. Na die gesprek het ek besef dat hulle ook
graag voorspoed wil beleef en vrede najaag.
Maar hier is my belydenis. Ek is so moeg vir die sirkus in die parlement,
die misdaad, die magteloosheid wat ek beleef as ek sien hoe ons land
ekonomies verwoes word, die onvermoë van mense in senior posisies wat net
eenvoudig nie hulle werk doen nie en hoe van my vriende hulle werk verloor
as gevolg van regstellende aksie. En dis hier wat my hart kliphard word
teenoor die mense op straat en selfs mense wat bitter swaarkry, want hulle
wil mos stem soos hulle stem!
Ek glo egter die Here het vandag vir my net so bietjie bewus gemaak van wat
in my mede-burgers se harte omgaan, en in besonder toe sy vir my vertel hoe
swaar dit is om met hulle geld deur te kom, die kinders versorg en laat
skooltoe gaan, die kostes van vervoer en die dag tot dag se gestoei om te
oorleef. Ek het so effe skaam gekry oor die weelde waarin ek leef.
So wat is my punt? Ek moet my uitkyk verander.
Eerstens, hou op nuus kyk want die pers skets nie altyd 'n gebalanseerde
prentjie nie want sensasie verkoop beter. Tweedens, sien opnuut die mens
agter die mens raak en probeer om deernis te hê met hulle omstandighede.
Derdens, besef dat die Here ook vir hulle 'n plekkie in die son gun.
Vierdens, moenie almal oor dieselfde kam skeer nie, almal soek nie geweld
nie, inteendeel.
Laastens, wees regverdig. Ek sien op Facebook hoe mense altyd werkers soek
teen die laagste moontlike prys, en ek sidder dikwels as ek sien hoe min
vergoeding mense bereid is om die werkers te betaal. Na transport betaal is,
is daar gewoonlik bitter min oor om van te lewe. Ja natuurlik kan almal dit
nie bekostig om goeie lone te betaal nie, maar uitbuitery is nie reg nie. Ek
is moeg vir die hardheid wat ek in my eie hart toelaat, want dit verbitter
my en maak absoluut geen verskil nie, ek benadeel net myself.
Mag die Here vir my/ons help om in harmonie saam te leef, want hierdie land
het baie meer om te bied as wat ons dink. En kom ons bid vir mekaar en bou
liewer op as om af te breek.
My gebed vir myself is die volgende:
Esegiël 36:26 "Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die
kliphart uit julle liggaam uithaal en julle 'n hart van vleis gee." ~ Willem
Botha, 04/05/2016 |
|
“Daar is niks
vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ’n
oond gesuiwer is.” (Ps. 12:7) Ek en jy het vandag die Here se geskrewe woord
as hierdie silwer skat vrylik tot ons beskikking. Elke woord, frase en
hoofstuk van jou Bybel is kosbaar, betroubaar, gesog, onmisbaar, maar boweal
eenhonderd persent eg en waar. Dis vir my so mooi as daar in 2 Tim 2:9 staan
dat die woord van die Here nie geboei kan word nie en in Jes. 55:11 dat dit
nie onverrigter sake sal terugkeer nie. Niemand sal kan keer dat die Bybel
se inhoud mense verander nie, niemand sal kan verhinder dat dit verkondig
word nie, niemand sal kan verhoed dat daar nog en nog kopieë gedruk word en
dat dit in al hoe meer tale vertaal word nie. Die woord staan vir altyd vas,
dit sal nie vernietig kan word of ooit ongeldig verklaar kan word nie. Maak
jou hart oop sodat die Here sy woord ook in jou hart kan inskryf, sy suiwer
silwer kan deponeer, sodat dit nuwe lewe en nuwe hoop vir jou kan gee, sodat
jy ook daarvan kan uitdeel oral waar jy gaan. ~ Wilna Botha, 03/05/2016 |
|
Wie GLO nog?
Ek het al baie met hierdie vraag geworstel. Ons sien baie verskillende
uitgangspunte oor geloof deesdae. Party sê jy moet glo soos 'n kind (soos
die Bybel ook sê), ander sê hulle glo net wat hulle sien, nog ander sê hulle
het geglo maar kan nie meer nie. Sommige gaan ondersoek alles en kan dan net
nie meer glo nie, en ander ondersoek alles en hulle geloof word geweldig
daardeur versterk. Ek vind myself nogal tuis in laasgenoemde.
Dan kry jy 'n ander groepering
wat nie meer die inhoud van die Bybel kan aanvaar nie, maar baie tyd
spandeer om met diegene wat kinderlik glo, te redeneer en stry, asof hulle
hard probeer om gelowiges oor te haal om ook nie meer te glo nie. My mening
is eenvoudig, as iemand nie meer die gesonde leer kan verdra nie, los dit en
gaan aan met jou lewe. Maar ongelukkig kry jy dan ook mense wat glo dat
geloof is vir oningeligtes, of mense wat intellektueel agtergeraak het en te
dom is om te verstaan dat die Bybel nie meer vandag relevant is nie. So iets
van: Geloof in Jesus is vir dom mense.
Ek het probeer agterkom of mense in
spesifieke beroepe makliker glo as ander en gesien dat dit hoegenaamd nie
waar is nie, hoewel ek dit nie verstaan nie. Ek het geglo dat wetenskaplikes,
wat met die mees ongelooflike wonders van die skepping en die wetenskap werk
makliker sal glo, maar helaas nee, ook nie sterrekundiges nie, of
ruimtevaarders of mediese spesialiste nie. Opregte, diepe geloofsoortuigings
kom ook nie onder alle teoloë voor nie. Ek verstaan dit nie.
Ek het egter wel gesien dat daar BAIE BAIE van hierdie hoogs intelligente,
geleerdes is wat kinderlik alles glo, soos wat die Bybel dit beskryf. Net
soos motorwerktuigkundiges, tiksters en straatsmouse.
Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat slegs mense wat toegelaat het dat
die Gees hulle vervul, en Jesus as Saligmaker aanneem, werklik kan glo. Die
volgende is al meer as 2000 jaar opgeskryf en vandag perfek van toepassing.
Jes 44 : 25b "... Ek weerlê die geleerde mense, Ek ontmasker hulle kennis as
dwaasheid".
1 Tim 6:20 "Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige
en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit
verkeerdelik genoem word."
2 Tim 4:3 "... want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer
nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle
leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor."
Hoe baie van hierdie leermeesters kry jy nie!
Daar is selfs vele wat steeds hulle brood en botter met die Bybel (se
buiteblaaie?) verdien, maar nie die inhoud aanvaar nie.
Die waarheid wat in hierdie tekste opgeteken is verstom my. Laastens lees ek
die kruks van die hele ding in hierdie teks:
1 Kor. 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die
dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie
verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word."
~ Willem Botha, 02/05/2016 |
|
Die Bybel sê dat ons hartlike broederliefde teenoor
mekaar moet betoon, nie hooghartig moet wees nie, dat ons eensgesind moet
wees en in vrede met mekaar moet leef. Dit word op verskillende plekke
herhaal, maar lees bv. Rom 12:9-21 wat hieroor praat. Iets wat ek deesdae
raaksien wat nogal teenproduktief vir die bogenoemde kan wees, is mense se
kompeterende houding. In die werkplek, tussen vriende, tussen susters en
broers en ja, selfs tussen huweliksmaats. As ons altyd aan die kompeteer is,
altyd die beste wil wees, die beste wil hê, die beste wil presteer, die
rykste, mooiste, maerste, fiksste wil wees, gaan onvrede en struweling
vinnig intree en gaan tweespalt volg. As ons altyd opweeg en opmeet teen
ander, gaan óf minderwaardigheid óf meerderwaardigheid ’n lelike,
afbrekende uitwerking op ons verhoudinge hê. Fokus liewer net op jou eie
vermoëns, wees die beste jý wat jy kan wees, oefen en beoefen dit waarmee jý
goed is en laat dit jou motiveer. “A creative man is motivated by the desire
to achieve, not the desire to beat others.” ~Wilna Botha, 01/05/2016 |
|
Vrugte
Jy ken mos die sêding:- Wat is erger as 'n wurm in 'n appel? 'n Halwe wurm!
Dis nou as jy hom gehap het. Eish! Wel, daar is min dinge wat 'n vrug so kan
bederf, want die appel mag pragtig lyk van buite, maar vrot wees van binne.
Matt 12 : 33 "As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is
goed, en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n
Boom word tog aan sy vrugte geken."
Hierdie teks is vir my persoonlik 'n vreeslike aanklag,
want die Here sê hier dat dit wat jy uitstraal, jou binneste weerspieël en
om eerlik te wees is ek nie altyd gelukkig met my binneste nie, hoewel ek
myself nogal kan voorhou as 'n pragtige skoon, gesonde vrug. Het jy al
gehoor dat mense so graag sê dat Christene skynheilig is? Wel, ek moet dit
erken, ek stal nie maklik die vrot dele uit nie.
Dis nogal mooi as jy 'n mooi gesonde, rooi appel so blink poets met 'n lap
want hy kan nogal pragtig blink as jy so bietjie met hom werk. Nou ja, so
kan jy jou beeld wat jy na buite voorhou ook pragtig blink poets, maar net
die Here, en die wat naby jou is, sien die ongesonde binnekant. Maar as jy
die Here toelaat om jou blink te poets, is dit anders, want Hy begin nie
buite nie, Hy werk van binne af. En hoe mooier Hy die binneste vorm, hoe
mooier word dit van buite.
Dis wat Hy wil hê, 'n gesonde binnekant wat goeie vrug dra in hierdie wêreld,
maar ons kan nie as Hy nie eers die wurms verwyder het nie. Dit hang maar
net van onsself af.
En as die wêreld ons dan beskuldig van skynheiligheid is dit okay, want die
Here gebruik nie volmaakte mense nie, Hy gebruik skoongewaste mense. ~
Willem Botha, 28/04/2016 |
|
Op hierdie Vryheidsdag het ek kort-kort gewonder oor
vryheid, oor vry wees. Ek het myself afgevra: wie is nou eintlik vry? Die
HAT noem o.a. dat vryheid onafhanklikheid en ongebondenheid is, dat dit
afwyking van die reël insluit en jou toelaat om gewone grense te oorskry.
Wie van ons is dan regtig vry? Jy is tog altyd êrens afhanklik van iets of
iemand, jy is nooit vry van reëls nie, jy kan tog nie sê en doen wat jy wil
en aanvaarde grense van die samelewing links en regs oorskry nie. Vryheid
stel jou nooit vry van verantwoordelikheid nie. Vryheid sê nie jy gaan nooit
verantwoordbaar gehou word vir jou dade nie. Vryheid wat wél belangrik en
noodsaaklik is en wat ’n viering werd is, is die vryheid wat Christus ons
gee. Die vry wees van die knellende bande van sonde wat Hy deur sy kruisdood
kom breek het. Die vry wees van Satan se oorheersing in ons lewe wat Hy
vernietig het. Die vry wees van nuttelose rituele en ondraaglike laste van
die wet wat Hy kom ophef het. Die vry wees van geestelike dood – Jesus lewe
en Hy gee aan ons die ewige lewe. Die vry wees van God se oordeel en
veroordeling – Jesus het in ons plek daarvoor betaal. Ons vryheid gee vir
ons vrymoedigheid en vrypostigheid in God se teenwoordigheid. Ons is vry om
God te dien. Die woord sê: “Oral waar die Gees van die Here aan die werk is,
word mense regtig vrygemaak.” (2 Kor. 3:17, Die Boodskap) en “Christus het
ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid...”
(Gal 5:1) ~ Wilna Botha, 27/04/2016 |
|
Lewende lyke.
Jy het sekerlik ook al langs die liggaam van 'n afgestorwe persoon gestaan,
en jy sal saamstem dat dit baie onaangenaam en hartseer is. Ek het die
voorreg gehad om by albei my ouers te wees toe hulle oorlede is en dit was
baie hartseer, maar tog was daar 'n groot stuk vrede om daar te wees toe
hulle hulle aardse lewe op 'n mooi en positiewe manier afgesluit het. Daar
was ook 'n geleentheid wat ek afgestorwenes gesien het, waarvan ek die gesig
eerder wil vergeet, maar ek kan nie. Dit was na 'n missielaanval op die
grens waar 11 jong manne hulle lewens op 'n aaklige manier verloor het, en
daardie gesig is verskriklik en ek wil nooit weer sien nie.
Daar is
egter 'n ander gesig wat baie meer traumaties is, en dis om lewende mense te
sien wat deur woorde vermoor is. Die volmaakte moord. Die skuldiges kom
letterlik met moord weg en kan nie vervolg word nie, hulle dra geensins die
gevolge nie en is dikwels reeks-moordenaars. Dit word gewoonlik oor lang
tydperke gepleeg en dikwels weet niemand buite daardie misdaad-kring van die
toedrag van sake nie. Is ek reg as ek sê dat die manlike geslag meer hieraan
skuldig is as andersom?
Daisey De Melker het haar slagoffers oor 'n lang tydperk vergiftig, en dit
het met geweldige lyding gepaard gegaan, net soos met mense wat hulle
slagoffers met woorde vernietig. Stadig, dag vir dag, bietjie vir bietjie,
woordjie vir woordjie. Soms is dit deur beledigings wat bitter seermaak,
baie keer oor die uiterlike van die persoon wat veronderstel is om gekoester
te word "till death do us part". Maar die genade van die fisiese dood wil
net nie kom nie. Die ergste is dat dit dikwels gebeur dat die party wat in
die dag afgekraak word, in die nag beskikbaar moet wees vir die
huweliks-voorregte. Dis laakbaar!
Die magtige sweepslae van die tong word nie net ingelê met gifpyle van
woorde nie, maar ook met stilte. Daardie tye waar die ander persoon totaal
geïgnoreer word en dis net so erg, want dit breek die waardigheid van die
persoon net soveel af. Om die woorde "ek is lief vir jou" te weerhou, is net
so sleg soos slegsê woorde. Om erkenning en woorde van bemoediging te
weerhou, het al menige kinders tot selfmoord gedryf. Deur niks te sê nie,
beteken dat die ander nie waardig is om erkenning te kry nie.
Vriend, het jy al ooit vir jou kinders (in gesproke woorde) gesê dat jy
trots is op hulle? Is slegsê en afkraak makliker as aanmoediging? Of werk
die verskoning dat jou ouers jou nie geleer het om dit te doen nie baie
gerieflik?
G'n wonder die Bybel sê die volgende so prontuit nie:-
Jak 3:6 "Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van
die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die
geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel
aan die brand gesteek." ~ Willem Botha, 26/04/2016 |
|
“I've learned by now to be quite content whatever my
circumstances. I'm just as happy with little as with much, with much as with
little. I've found the recipe for being happy whether full or hungry, hands
full or hands empty. Whatever I have, wherever I am, I can make it through
anything in the One who makes me who I am.” Toe ek hierdie verse uit
Filippense 4:11-13 lees, het ek maar net besef dat mens nie sommer net
tevrede, dankbaar, gelukkig en positief is nie. Dit is ’n ingesteldheid wat
mens moet (en kan) aanleer. Dit help om te weet dat selfs iemand soos Paulus
sê dat hy dit moes leer. Hy het nie alles maklik gehad net omdat hy ’n
Christen was nie. Die Here se genade was vir hom genoeg en dít het hom
tevrede en vergenoeg gemaak. Nie sy besittings, geld en huis nie, nie die
aanvaarding van mense nie, nie sy gesondheid nie, nie sy werksomstandighede
nie, nie sy aansien en posbeskrywing nie, net Jesus. Het jy al dié resep
vir geluk ontdek en is jy bereid om daarvolgens te lewe? ~ Wilna Botha,
25/04/2017 |
|
Die ryk ou blikskottel!
Kyk, as
daar nou woorde is wat my warm onder die kraag kry is dit hierdie bogenoemde
woorde. Dit verstom my dat mense so nydig kan wees teenoor mense wat iets
bereik het in die lewe.
Ek dink
dit het so effe van 'n siekte geword om te dink mense met meer besittings,
skuld dit aan ander met minder besittings. Natuurlik praat die Bybel van
mededeelsaamheid, versorging van die weduwees, om 'n oop hand te hê en om
dit wat jy uit genade ontvang het te deel.
Dis alles waar en verseker 'n Bybelse opdrag.
My probleem is dat
mense nie ander se vrug op hulle arbeid, vir hulle gun nie. Hierdie teks vat
dit baie mooi vas as hy sê dat luiheid sal lei tot armoede. En weereens ja,
ek sê nie dat arm mense almal lui is nie, maar dat luiheid tot armoede ly.
Spr 20:4 " 'n Luiaard
ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na iets wat nie daar is"
Nou kyk, suinigheid
is 'n lelike ding, maar dis die suinige persoon se eie probleem. Die punt
is, hy skuld my niks, en my welvaart is nie veronderstel om van syne
afhanklik te wees nie. Daar is baie tekste in die Bybel wat daarna verwys
dat ons hard moet werk, en dan tevrede wees met wat jy kan bekostig. Maar
moet nie 'n ander ou wat hard gewerk het, baie risiko's geneem het en wat al
sy talente gebruik, verkwalik as hy meer besit nie.
Moenie 'n ander ou se
weelde beny nie, want dit bring dalk probleme waarsonder jy kan klaarkom.
Leer eerder om tevrede te wees met wat jy het, en gun ander die vrug op
hulle arbeid. Hier lê 'n werkweek voor ons wat óf 'n vreeslike straf is, óf
wat vir jou plesier gaan gee.
Gaan werk om te leef,
moenie net leef vir werk nie. Geniet die week. ~ Willem Botha, 24/04/2016 |
|
Ek weet nie of jy ook al van hierdie baniere of “bumper
stickers” of Facebook-prentjies gesien het wat vra: “Is Matt. 18:11 in jou
Bybel?” Toe ek dit die eerste keer gesien het, móés ek net dadelik kyk of my
Bybel dit in het. En sowaar, my gewone Afr. vertaling en die NIV gaan van
vers 10 reguit na vers 12, geen vers 11! Ek het gou-gou in nog 10
verskillende vertalings gekyk en net 2 het vers 11 in gehad. Dit sê: “Want
die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is.” Ek het nou die
dag weer so ’n reuse banier van ’n brug sien afhang en toe wonder ek wie is
dit wat die vraag vra en hoekom word dit nou éintlik gevra. Ek hoop regtig
nie hulle gebruik dit om Bybelvertalings en Bybel vertalers te bevraagteken
en af te skiet nie. Dié vers was in werklikheid nooit deel van die
oorspronklike teks nie. Êrens het een van die “scribes” wat verantwoordelik
was om die Bybel te kopieer dit as ’n nota bygeskryf, amper soos wanneer jy
vir jouself kruisverwysings neerskryf in jou Bybel. Die volgende kopieerder
het dit toe ingeskryf as deel van die teks. Ek hoop ook nie hulle wil met
hulle banier sê as dit nie in jou Bybel is nie, is Jesus se verlossing uit
jou Bybel uitgeskryf nie. “Want die Seun van die mens het gekom om te red
wat verlore is”, is waaroor die evangelie gaan en dié goue draad loop
regdeur die Bybel. Dis mos nou nie asof Matt. 18:11 die enigste plek in die
hele Bybel is waar ons hierdie boodskap kan lees nie. Lees sommer bv. Matt.
9:13 en Luk. 19:10 wat dié woorde herhaal. Ek hoop hulle wil júís hê jy moet
gou-gou jou Bybel gryp (soos ek) en sien die teks is nié daar nie en dan
die onderskrif lees wat sê: “Want die Seun van die mens het gekom om te red
wat verlore is.” Ek hoop dís die rede, want sodoende lees jy eintlik ’n
samevatting van die hele evangelie! Jesus het gekom. Hy het ons kom red! ~
Wilna Botha, 21/04/2016 |
|
Deurdruk
Finishing strong - 'n boek van Steve Farrer wat vir my baie beteken, wat
handel oor die probleem wat mense het om sterk te staan in die lewe tot die
einde toe. Die boek handel oor mense wat iewers in hulle lewens die pad
byster raak nadat hulle goed begin het.
Ek het tot die besef gekom dat mense wat die Comrades hardloop na die einde
van die wedren moeg raak en uitsak, nie sommer vroeër nie. Mense wat Mount
Everest uitklim gee nie op aan die begin van die tog nie, dis gewoonlik
mense wat op die einde, wanneer hulle probeer "Summit", wat dit te erg raak.
Net so gaan huwelike soms tot niet na jare se sakke sout eet en dit maak net
nie sin nie. Hoekom op aarde skei wanneer die kinders uit die huis is, en
dan alleen oud word? Ek het baie hieroor gewonder en tot die volgende
slotsom gekom:
Mense verval in 'n gemak zone en glo alles gaan maar net vir altyd goed gaan,
maar dis nie waar nie. Hoe verder die atleet hardloop, hoe harder moet hy
werk en op sy stamina staatmaak. Die bergklimmer se moeilikste tyd is op die
heel laaste dag, wanneer suurstof min raak, sneeustorms woed en wanneer
niemand anders die krag het om jou ook te help nie.
Ek dink baie mense sak uit omdat drome nooit waar geword het nie en
teleurstellings hulle spoed breek. Baie mense glo hulle gaan op 40
finansieel onafhanklik wees, maar dis die tyd wanneer jy die armste ooit is
want die kinders se dinge slurp al die geld op. Mense glo hulle huwelike sal
met die tyd "regkom", maar na jare se swak kommunikasie en harde woorde eis
dit sy tol en lyk ander weivelde beter. Na jare in mense se lewe raak hulle
gewoond aan die lewe soos dit is, maar die lewe verander en mense pas nie
aan nie. Soos die lewe aangaan word te veel slegte gewoontes gevoed en dit
vorm die mens tot 'n mate dat jy nie meer kan onderskei tussen reg en
verkeerd nie. Met tyd word daar opinies gevorm oor dinge en kan die mens al
hoe minder die dinge verdra waarmee hulle nie saamstem nie. Met tyd word
daar te lank weggekom met goed, ons raak mak oor dinge en soos die bult
steiler raak , word dit al hoe moeiliker om by te bly.
Ongelukkig is daar ook Geestelike verwering, want ons raak te verstrengel in
ons eie, selfgemaakte gelofies wat al weggedryf het van die Woord af, en
raak ons ook teleurgesteld in die Here as ons dink Hy laat nie Sy beloftes
waar word nie, want ons het al te lank gewag. Aan die ander kant maak ons
eie "suksesse" ons onafhanklik van die Here, en dan kan ons nie aan Hom
vasklou as moeilike tye kom nie.
Die lewe raak hard, en vra by die dag meer vasbyt.
PREDIKER 12:1 "Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom,
die jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” ~ Willem
Botha, 20/04/2016 |
|
Ek dink een van die grootste worstelinge wat ons as
kinders van die Here het, is wanneer ons nie verstaan nie, wanneer dit lyk
of daar meer vrae as antwoorde is, wanneer ons in sirkels redeneer en weer
by die vraag eindig. Wanneer ons nie verstaan hoe die Here werk, waarmee Hy
besig is, hoe Sy planne gaan uitspeel, wanneer Hy gaan opdaag om uitkoms te
bring, wanneer Hy gaan ingryp om die goddeloses en die vervolgers van die
Christene finaal te vernietig nie. Daar is baie mense wat maak asof hulle al
die antwoorde het, asof hulle die Here kan verklaar, maar niemand kan nie.
So, ongelukkig het ek ook nie vandag vir jou ’n antwoord nie. Die Here sê
dat sy eer lê in dit wat Hy verborge hou. (lees Spr. 25:2) Dit raak nou
herfs en die blare val van die bome af. Dink bietjie hieroor: Wie se skuld
is dit as ’n blaar van die boom afval? Is dit die wind wat dit afgewaai het?
Is dit die boom wat die blaar laat gaan het? Is dit die blaar wat moeg
geword het om vas te hou? Wie weet? “Net so min as wat jy kan verstaan hoe
gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ’n swanger vrou, net so
min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles.” (Pred. 11:5) “Wie
is in staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand
wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Is daar iemand wat vir God ’n guns
bewys het, sodat Hy iets aan Hom moet terugdoen? Van God af kom alles wat
bestaan. Hy hou alles in stand.” (Rom 11:33-36, Die Boodskap) Al wat ek kan
doen, is om Hom te vertrou, om Sy hand in alles raak te sien en te wéét en
te gló en te bely dat Hy in beheer is. ~Wilna Botha, 19/04/2016 |
|
Sing
Ek is seker jy het ook al gesien hoe 'n klein kindjie kan sing en neurie as
hulle speel. Dis so pragtig as hulle rondhardloop en huppel, sommer so op
hulle eie, en sing. Dit lyk so of sing 'n teken is by mense (en kinders),
dat daar net geen sorge in die lewe is nie. So is dit ook vir baie
volwassenes, as hulle nog 'n lied in die hart het, maar dis nie vir almal
nie.
Ek dink elke kind sing as hulle klein is, maar nie elke volwassene sing meer
nie, want die lewe het hulle liedjies gesteel. Wat het dan intussen gebeur?
Op watter ouderdom, of watter insident, of watter terugslag het mense se
liedere gesteel? Ek ken mense wat dit nie meer regkry nie, die note het
weggesterf. Maar my ma, wat in 2011 oorlede is, het altyd gesing. Selfs toe
sy op haar sterfbed was en so deurtrek was van kanker, toe sy nie eers meer
kon eet nie, het sy nog met haar hortende asempie gesing. In haar laaste dae,
wanneer ons vir haar gaan kuier het, het my seun op die bed langs haar gaan
lê en begin om 'n liedjie te sing, dan het sy moedig saamgesing. Dit sal my
vir die res van my lewe bybly, dat my ma gesterf het met 'n lied in die
hart, want die lewe, of selfs die dood, kon haar nie onderkry nie.
Ek dink ek het so ietsie daarvan van my ma gekry en loop graag en sing,
hoewel ek besef dat dit nie altyd lekker is vir die aanhoordes nie.
Inteendeel, die Bybel het selfs iets daaroor te sê .
SPREUKE 25:20 "Iemand wat jou klere van jou afvat op 'n koue dag, of asyn op
bytsoda, so is iemand wat vir jou liedjies sing as jy treurig voel." Dus
beur dit nie nie vir almal altyd op nie!
Dan lees ons van Paulus en Silas wat in die tronk sit, nadat hulle uitmekaar
geslaan is ter wille van hulle Geestelike werk. Ek sien in my geestesoog hoe
Paulus stukkend geslaan is en dalk selfs bloed wat uit sy mond kom.
Hand 16: 23 - 25 "Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi,
en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Op hierdie
bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die
houtblok vasgeklem. Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en
tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.
Goeiste, ek sou nou regtig
nie baie lus gewees het vir sing as ek ter wille van die Evangelie so
gestraf is nie, maar Paulus en Silas het dit anders beleef. Die wêreld se
swaarkry het nie hulle liedjies gesteel nie.
Wat van my en jou? Wat het gebeur tussen jou sorgelose kleintyd en nou, wat
die musiek uit jou binneste uitgesteel het? Is daar nog genoeg "lewe" oor om
dit te vier met 'n lied in die hart? Ja, ons kry maar almal ons af dae so
nou en dan, maar moenie dat die note wegsterf nie. Ek glo my ma lofprys uit
volle bors in haar Hemelse tuiste, en daarom kan ek ook sing.
Ek het sekerlik 'n goeie kans om hierdie nag te oorleef, en sover ek weet is
ek honderd persent gesond, hier is genoeg kos in my huis vir baie dae, my
kinders is wonderlik en ek het 'n wonderlike vrou. Dit verdien 'n lekker
gejubel en gejuig. Maar die politiek en die ekonomie laat my nie juis te
lekker voel nie, maar vriend, weet verseker, hierdie mense met hulle dinge
gaan nie my note uit my sisteem uitkry nie, dis verseker. Dan moet die lied
in my hart maar liewer vir hulle soos asyn of bytsoda wees.
Sing sal ek sing. Ek hoop regtig dat jy nog 'n lied in die hart het, en dit
soms kliphard uitbasuin. ~ Willem Botha, 18/04/2016 |
|
“In hierdie wêreld sal
julle dit moeilik hê ... maar hou moed ...” (Joh. 16:33) Dit is Jesus self
wat vir sy dissipels en vir ons só moed inpraat. Ons moet moedig bly ten
spyte van omstandighede, ons moet hoopvol bly al lyk dit of dinge na die
verkeerde kant toe gaan uitwerk, ons moet standvastig bly al voel dit of die
wêreld wankel. Die Here gee vir ons Sy genade, dit maak ons sterk. Die Here
gaan oral met ons saam, dit maak ons vasberade. Die Here veg vir ons, dit
gee ons krag vir die stryd waarin ons mag wees. Die Here het reeds oorwin,
dit gee ons sekerheid van ons eie oorwinning. Só praat die Here ons moed in,
vat dit in geloof en wees sterk:
“Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek,
die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Jos 1:9)
“Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die
Here!” (Ps. 27:14)
“... staan vas in geloof, wees manmoedig, wees sterk!” (1 Kor. 16:13)
“... wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het.” (2 Tim 2:1)
~ Wilna Botha, 17/04/2016 |
|
Ek hou
nie van myself nie.
Of liewer, dikwels nie, want ek voel soms hoe ek al hoe verder wegbeweeg van
dit wat God vir my bedoel het om te wees. Ek probeer soms bietjie skilder en
raak uiters gefrustreerd met myself as my hand nie doen wat my kop wil hê hy
moet doen nie en dan gooi ek amper my kwaste rond. Met my menslike brein glo
ek dis dieselfde hoe die Here oor my voel as ek nie doen wat Hy wil hê ek
moet doen nie.
Ek het al
baie keer op mannekampe vir ouens gevra of hulle
vir hulle vrouens lief is, en dan steek elke enkele getroude man sy hand op.
Dan vra ek die ouens moet eerlik sê wie van hulle vrouens HOU. Gewoonlik
steek net die helfte van die ouens hulle hande op. Wel, ek weet God het my
lief want Hy het my immers gemaak, maar hy het my nie gemaak soos ek geword
het nie. Daarom is my grootste strewe om terug te beweeg na DIT wat Hy my
gemaak het en bedoel het om te wees. Ek sien in my geestesoog 'n skildery
wat met pragtige hale in sagte pastelkleure geverf is waar die kleure
pragtig inmekaar vloei en aangenaam op die oog is. Dit is hoe ek glo die
Here my geskep het.
Maar as ek na myself kyk sien ek 'n goor
skildery wat harde kwashale het, met botsende kleure wat vir mekaar skreeu
en boonop halfklaar neergesmyt is.
Wel vriend, dis die beeld wat die duiwel graag
vir jou voorhou, want hy hou jou sondespieël voor jou en wys elke lelike
kwashaal vir jou. Moenie dit glo nie, dis nie hoe die Here jou sien nie. Kyk
gerus na hierdie beeld wat die Here van jou sien.
Sef 3:17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die
krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde.
Hy jubel en juig oor jou" ~ Willem Botha, 14/04/2016 |
|
“... to
give unto them ... the garment of praise for the spirit of heaviness.” (Jes.
61:3) Die Here kan, Hy wil en Hy sal dinge in jou lewe omdraai. Daar is baie
sulke “heilige uitruilings” waarvan die Bybel praat. Donker word lig.
Gevangenes word vry mense. Sondaars word verlostes. Moordenaars word vriende
van God. Gebroke harte word verbind. Nederiges word verhoog. As jy vandag ’n
swaarmoedige, donker, verlore gevoel in jou hart het en jou gedagtes
oorheers word deur negatiewe selfgesprekke en jou hart vol pyn en letsels
is, bid ek dat die Here spoedig die swaar, die trane, die gebrokenheid sal
vervang met ’n kleed, ’n kombers van blydskap en vrede en genade. “He
sent me to give them flowers in place of their sorrow, olive oil in place of
tears, and joyous praise in place of broken hearts.” (Jes. 61:3) ~ Wilna
Botha, 13/04/2016 |
|
Ek verstaan nie
God. ‘n
Baie bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon. Die mees
bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom aan, mense het
verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom uit verskillende
verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy naam word soms as ‘n
skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan, ander word kwaad vir Hom.
Party soek hulle lewe lank na Hom, en kry Hom nooit. Ander beweer Hy het Hom
aan hulle openbaar,
hulle kry drome waarin Hy met hulle praat .... maar ek nooit. Waar kom Hy
vandaan? Hoe lyk sy woonplek?
Job 23:1-9 "Toe het Job weer gepraat: “Ek kla
nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie. As ek maar geweet
het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom
lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer
verstaan wat Hy vir my wil sê. Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n
saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens
wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek
word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek
kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar
nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie."
Ek voel so baie dae soos Job, maar tog gee ek
graag antwoorde as mense my vrae vra en ek bely dat ek myself vreeslik slim
kan hou, en ja, ek ryg soms sommer die tekste uit sonder om twee keer te
dink. Ek ken reseppies vir elke probleem.
Maar soms, as ek stil word en dink, weet ek dat
ek min verstaan. Hoe kan ek Hom verstaan? Hoe kan ek Sy werke verstaan as ek
dit beredeneer met my klein breintjie? Hoe kan ek 'n saak teen Hom maak en
hoe kan ek hom verduidelik? Wat is Sy formule? God = wat?
Ek verstaan Einstein se bekende formule nogal so
effe: E=MC(kwadraat). Einste het dit mooi beskryf en ons kan Energie
verklaar volgens die formule. Maar waaraan is God gelyk?
Hy het 'n antwoord gegee vir Moses toe Hy gesê
het "Ek is...". Dus is Sy formule net "God =..." Is gelyk aan wat? Heilig?
Soewerein? Regverdig?
Wel, dis seker goed genoeg. Maar dinge wat ek
nie verstaan nie maak my moedeloos. Hoekom sterf 'n jong kind? Hoekom
bestaan kanker? Hoekom is ek nie 'n klein seuntjie in Zimbabwe wat sterf van
honger nie? Hoekom gee ons kinders ons soveel plesier, en ander mense sukkel?
Wat is die geheim van God? Hoekom sukkel ek nie
om te glo nie, maar soveel ander kan net nie? Ek verstaan nie.
So baie dinge is bokant my verstand, maar tog is
ek SO lief vir Hom. Dan staan ek net in verwondering en sê: Dankie Here! ~
Willem Botha, 12/04/2016 |
|
“Wie ’n gat vir ’n ander grawe, val self daarin; die
klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom,” so sê Spreuke 26:27. Die
spreekwoord sê mos “what goes around, comes around”. Haman is nogal ’n
voorbeeld in die Bybel van iemand met wie dít gebeur het. Hy het ’n galg
laat bou om Mordegai, Ester se oom, te laat hang. Uiteindelik het hy self
aan dié galg gesterf. (Lees Ester 7:9) Sy wraak het geboemerang en Ps. 7:17
het waar geword vir hom: “Sy boosheid tref homself en die geweld wat hy
beplan het, kom op sy eie kop af.” Die Bybel sê: wat jy saai sal jy maai
(Gal 6:7) en ek dink dis hoekom Jesus ons leer om aan ander te doen wat jy
wil hê hulle aan jou moet doen (Luk. 6:31). As jy hulp soek, wees diensbaar.
As jy aanvaarding soek, aanvaar onvoorwaardelik. As jy geregtigheid soek,
wees regverdig. As jy vergifnis soek, vergewe. Dis hoekom Jesus vir die
Fariseërs gesê het die een wat sonder sonde is, kan die eerste klip gooi.
Die klippe wat hulle sou gooi, sou na hulle toe teruggekom het. Ons moet ook
maar daai klippe van veroordeling neersit en liewer ’n brug van vergifnis,
aanvaarding en medelye daarmee bou, sodat ons nie ’n gat van verbittering
en afguns en hoogmoed grawe en dalk self daarin val nie. ~ Wilna Botha,
11/04/2016 |
|
Die
"
ander seun
Ons ken die verhaal van die verlore seun baie goed. Die jongste verlaat sy
ouerhuis en gaan verkwis sy hele erfporsie, en toe dit baie sleg gaan, gaan
hy hoed in die hand terug na sy pa toe.
Luk 15:18 "Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het
teen God en teen Pa gesondig!"
Kyk, ek sal daai arrogante snuiter al sy dae gee, hy sal elke sent terugwerk
en hy sal enige toekomstige erfgeld totaal verbeur, maar hierdie pa was
anders. Hy verwelkom
hom met ope arms, slag die vetgemaakte kalf en hou 'n groot partytjie.
Maar daar was nog 'n seun, die een wat elke dag getrou gebly het en hard
gewerk het, nooit 'n lekker partytjie gekry het nie, en nou moet hy
waarskynlik sy erfporsie weer met hierdie klein losbol deel. Ek dink ons
almal sien net die een kant van die saak, die kant van die pa se liefde en
verlange, en ek het nog altyd gevoel hierdie ouer broer is gevoelloos.
Luk 15:29 "Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek
'n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers 'n bokkie
gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie."
Maar weet jy, hy het 'n punt beet en ek verstaan sy woede. Dis net nie fair
nie! Hy kry nie 'n blou duit vir sy getrouheid nie! Maar hierdie is 'n
gelykenis en dit verwys na die afvalliges, rowers, moordenaars, bedrieërs en
diewe wat hul lewe lank "lekker" leef en alles wat sleg is geniet, en dan
eendag kamtig tot bekering kom. Ons hoor mos baie van tronkbekerings wanneer
mense in die sop is. En dan wil hulle in al die wonderlike voordele van die
hemel kom deel. Nee man, dis nie fair nie.
Wel vriend, dis hoe dit werk en daar is meer gelykenisse wat daarna verwys,
soos die werkers wat net 'n paar ure werk en dan 'n hele dag se loon kry.
Dis God se genade, of ons daarvan hou of nie, want een siel wat tot bekering
kom laat die hemele juig!
Was daardie ouer broer dan benadeel om altyd die reguit pad te stap? Nee,
verseker nie, want wat kan beter wees as om jou lewe lank 'n pad saam met
die Here te stap? Ek kry mense wat nie daardie voorreg het nie bitter
jammer! Gun genade aan ander, want dis presies daardie selfde genade wat my
en jou gered het. ~ Willem Botha, 10/04/2016 |
|
Ek onthou ’n liedjie wat Prophet gesing het: “As die
bang vanaand kom kuier en die rus jou uitnooi weier, waarvoor is jy bang?”
Is daar iets waarvoor jy bang is vandag? Wat maak jou beangs? Dalk is daar
iets wat jy vrees dat dit met jou kan gebeur – dit hét nog nie gebeur nie,
maar jy is bang jy kry kanker, of een van jou kinders kom iets oor, of jy
verloor jou werk, of jy dop jou eksamen, of jy word aangeval deur rowers.
Dis hierdie soort goed wat vanaand in jou bed groter en meer vreesaanjaend
lyk en soos die liedjie sê, jy nooi die rus uit, maar dit ontwyk jou en jy
lê wakker en jy is bang en jy word al hoe banger. Toe my kinders klein was,
het ons ’n bang-boksie vir hulle gemaak wat langs hulle bed gestaan het.
Binne-in dié boksie was ’n klomp Bybeltekste waar die Here sê: moenie bang
wees nie. As hulle enige tyd bang sou wees het hulle enige kaartjie uit die
boksie gehaal, dit oor en oor gelees en dit geglo. Gewoonlik het die bang
verdwyn, want dis mos asof die Here sélf langs jou kom staan en vir jou sê:
“Moenie bang wees nie, Ek is
by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help
jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10);
“... my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” (Hag. 2:5);
... Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en
moenie bang wees nie.” (Matt. 17:7);
Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.(Luk.
12:7);
Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie,
want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek
laat nie, julle nie alleen laat nie.” (Deut. 31:6) ~Wilna Botha, 07/04/2016 |
|
Vir wat?
... leef
jy?
Ek en
vroulief raak seker nou oud want ons besef hoe ons tyd uithardloop. Iemand
sê eendag die lewe is soos 'n rolletjie toiletpapier, hoe nader aan die
einde, hoe vinniger rol hy af. Sjoe dis waar, dit voel al of ek drie keer
per dag bad en gaan slaap! Toe ek 'n kind was, was 'n jaar SO lank, vandag
vlieg dit verby in 'n oogwink, soveel so dat ek besef dat te veel
verjaarsdae mens doodmaak! Dus, moenie my meer gelukwens nie, simpatiseer
eerder.
Ongelukkig
sien ek ook hoe mense vir oulaas fanaties werk, ten koste van hulle gesinne,
om net soveel moontlik weg te sit vir die oudag (ja natuurlik is dit ook
belangrik). Maar ongelukkig is dit soms juis daardie werk en stres wat maak
dat hulle nooit daardie oudag sien nie. Vir wat???
'n Vriend van my het sy vrou so jaar en 'n half gelede
verloor en sy raad was: Willem, sorg dat julle soveel dinge saamdoen as wat
julle kan, bou memories op en geniet mekaar, want die finaliteit van die
dood is ondraaglik. Ek sien hoe mense SOVEEL bymekaarmaak, maar dit wat die
belangrikste is, afskeep. Eendag sê 'n multimiljoenêr vir ons by 'n manne
ontbyt: Ek beweeg tussen die rykstes van die rykes, maar ek ken nie EEN wat
genoeg het nie. Skrikwekkende woorde! En dan word soveel van hulle alleen
oud, omdat hulle mense tweede gekom het.
Ja, werk moet jy werk, spaar moet jy spaar, maar LEWE tog net
ook. Lewe eers, dan doen jy die res.
Pred 3:12-13 "Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens
niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.
Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet,
ook dit is 'n gawe van God."
... onder al sy arbeid! Vriend, moet groot asb nie leef ter
wille van jou werk en geld nie, LEEF ter wille van jou geliefdes, en ook
jouself. Eet soms daai stuk koek, gaan op daai wegbreek naweek, smul soms
aan 'n hamburger, gaan sien 'n fliek, loop in die veld, gaan neem 'n mooi
foto, hou jou wederhelf se hand vas, lag onbedaarlik, gee jou kinders 'n
drukkie, pas jou vriendskappe op en hou op om te leef om ander plesier te
gee.
Ek hoop regtig jy doen vandag iets lekker. ~ Willem Botha,
06/04/2016 |
|
1 Kor. 13:5 sê die liefde hou nie boek van die kwaad
nie. Ek weet ek is nou bietjie uit verband uit, maar die “hou nie boek” het
die afgelope tyd in my kop vasgesteek want ek het agtergekom dat ek nogal ’n
boekhou-sisteem in my hart aan die gang hou. Ek sal sommer dink (en sê): ek
maak elke aand die kos, nou kan jy mos die skottelgoed was; ek bring elke
oggend vir jou koffie in die bed, nou kan jy die mos bed opmaak; ek het
harder gewerk as jy, nou kan jy mos iets doen om my te bederf; ek is moeër
as jy, nou kan jy gaan brood koop, dis bietjie jou beurt om te dit of te dat,
ens. ens. Dis heeltyd ’n balansstaat van sommetjies maak en weeg en meet,
dis heeltyd kyk wat skuld die ander een my. Die boekhou-sisteem het
natuurlik ook ’n kolom waar al die ou koeie ingeskryf kan word – in volkleur
en met detail! Ek het maar net weer besef om so ’n boekhoustelsel aan die
gang te hou en te laat balanseer gou-gou die teelaarde van onmin en die
broeiplek van struweling en wedywering kan word. Dis maar weer nodig om die
boeke en die lysies uit te vee en op te skeur, om skuld af te skryf en ’n
nulstaat te gee – dis immers wat Jesus vir ons gedoen het (…
I don't keep a list of your sins, sê Jes. 43:25) en dis wat ons vir
mekaar moet doen. Doen en gee, help en dien sonder om iets terug te verwag –
jy sal beter voel oor jouself en jy sal beslis meer vrede ervaar. Ek gaan
weer harder probeer ... ~ Wilna Botha, 05/04/2016 |
|
Handtekening
Ongelooflik hoeveel in 'n Naam is! My name is Willem Lucas Botha. Dis eie
aan my, hoewel daar baie mense is met dieselfde name, maar ons ID nommers
onderskei ons van mekaar. Maar as daar een ding is wat my verbind aan
transaksies of kontrakte, is dit my handtekening, hoe simpel hy ook al mag
lyk. 'n Vriend sê eendag ek het 'n belaglike handtekening!
So 34 jaar gelede beloof ek trou aan my pragtige bruid deur "Ja" te sê voor
die kansel, maar die woord ja was
net 'n hardop bevestiging voor getuies, dit was toe ek my hand op papier sit
wat ek my "vasgeteken" het. Goddank! 'n Aksie wat waarskynlik 2 sekondes
geneem het, het 'n lewenslange verbintenis tot gevolg gehad, en solank
daardie dokument bestaan, is daardie belofte bindend. So hoor ek van
duisende mense wat lewenslank in tyddeelskemas vasgevang is deur een enkele
handtekening. Oppas watse beloftes jy met 'n handtekening verseël!
So het God hordes beloftes oor en aan jou gemaak in die Bybel.
Beloftes wat Hy lank voor jou geboorte gemaak het, wat vir ewig bindend sal
wees. Beloftes van versorging, beskerming, Sy liefde, Sy Vaderskap, maar
belangriker as die aardse dinge , dat Hy jou red met Sy eie hand. Daardie
beloftes sal nooit tot niet gaan nie! En Jesus (die Woord) is die
bevestiging van hierdie beloftes. Joh 1:1 "In die begin was die Woord daar,
en die Woord was by God, en die Woord was self God."
2 Kor. 1: 19 - 20 "... want Jesus Christus, die Seun van God,
wat ons, dit is ek en Silvanus en Timoteus, aan julle verkondig het, is nie
“ja” en “nee” tegelyk nie. Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die
beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God
daarop “Amen” sê."
Numeri 23:19 "God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie, ’n mens
dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,
iets belowe en dit nie uitvoer nie?"
Jy sien vriend, God se beloftes staan vas en Hy het dit
neergeskryf, die HELE BYBEL VOL! Lees dit, glo dit en maak dit jou eie. ~
Willem Botha, 04/04/2016 |
|
Verlede jaar het ek en Willem deelgeneem aan ’n
massakoor van so 340 stemme. Elkeen oefen vooraf op sy eie en dan kom ons
bymekaar vir ’n naweek met net twee oefeninge gevolg deur twee optredes. Dit
was ’n wonderlike belewenis en hoendervleis-oomblikke toe instrumente en
stemme bymekaarkom om die mooiste musiek te maak. Ons oefen nou weer vir ons
volgende koornaweek wat oor ’n paar weke plaasvind. Ek moet bely ek sukkel
maar so bietjie met die musiek se ritmes, die inpas van die woorde, die hoë
note ens. ... maar dan hoor ek so in my gedagtes die dirigent sê: “Follow
my lead...”; “Watch me...”; “I will show you...”; “Trust me...” Dan doen ek
maar net my bes met die oefen en die leer van die musiek en ek weet alles
sal wéér bymekaarkom en wéér wonderlik klink want die dirigent is daar om
ons te lei. Ek moet net fokus op sy leiding en nie my oë wegvat nie, anders
kan ek dalk in die verleentheid kom. Ek kon nie help om te dink hoeveel te
meer dit in my geestelike lewe geld nie. Ek het die Woord, ek het
Bybelstudies, geestelike boeke, preke ens. waar ek kan leer hoe die Here wil
hê ek moet lewe, daarná moet ek my oë op Hom as dirigent van my lewe hou, ek
moet op Hom gefokus bly, ek moet reageer op Sy instruksies, ek moet vertrou
op Sy leiding. As ek wegkyk, gaan ek beslis in die verleentheid kom met ’n
skewe noot of ’n verkeerde inval. “Kyk reguit vorentoe, bly gefokus op wat
voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy
gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie.” (Spr. 4:25-27) ~Wilna
Botha, 03/04/2016 |
|
Dit was BAIE goed
Gen
1:31 "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was BAIE GOED.
Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag".
Nadat
God alles geskep het, was dit Sy waarneming: DIT IS BAIE GOED!
Inderdaad,
en die kroon van Sy skepping was natuurlik die mens, JY! Ek wonder of ek en
jy weet hoe spesiaal ons geskep is, hoe wonderbaarlik ons gevorm is, en hoe
ongelooflik kompleks ons ontwerp en gebou is. Maar ek kan hierdie dinge in
my liggaam
waarneem, en dit laat my in verwondering, maar hoe was Adam as die eerste
mens geskep? Evolusie? Nee wat, daar is nie 'n manier nie! Geen enkel ding
rondom makro evolusie kon nog ooit verder as 'n hipotese vorder nie. Dis 'n
gesprek vir 'n ander dag. Maar hoe dan?
Gen 2:7 "Die Here God het
toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas,
sodat die mens 'n lewende wese geword het."
Weet jy, van al die modelle
wat ons kan indink, lyk hierdie een die mees waarskynlik. Ons weet tog stof
tot stof is waar, net soos die Bybel sê, voorts moet ons ongelooflik dom
wees om te dink ons is nie perfek ontwerp nie, en daarom moet daar 'n
ontwerper en Skepper wees, net soos die Bybel sê, waar Hy God genoem word.
"Die Here God het toe die
mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat
die mens 'n lewende wese geword het."
Ek sien in my geestesoog 'n
beeld waar God wandel in die tuin en dink aan Sy finale skepping (skepsel),
Hy buk grond toe en skraap stof bymekaar en vorm dit in die vorm van 'n mens
(soos 'n pop?) en kyk met genot na Sy handewerk. Dan lê Hy vorentoe, sit Sy
lippe op hierdie beeldwerk en blaas asem in die mond in. Die beeld begin
asemhaal, die hart begin klop, bloed pomp deur die liggaam en Adam maak sy
oë oop. Hy kyk met absolute verwondering na sy Maker wie hom ophelp en hom
styf teen Sy bors vasdruk, en sê:- "Ek het jou by die naam geroep, jy is
Myne"
Inderdaad was dit BAIE goed.
~Willem Botha, 31/03/2016 |
|
Toe Jesus vir die laaste maal
saam met sy dissipels geëet het, het Hy geweet die intense lydingspad kruis
toe gaan binne enkele ure begin. Nogtans sing Hy ’n loflied saam met sy
dissipels. “Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is
hulle saam Olyfberg toe.” (Matt. 26:30) Dit laat my ook dink aan Paulus en
Silas wat geslaan en in die tronk gegooi is. Ten spyte van dié haglike
omstandighede besluit die twee om lofliedere tot eer van God te sing. “Die
ander gevangenes was verstom dat hierdie twee “gevaarlike gevangenes” nog
kans gesien het om God te loof.” (Hand 16:25) Mens dink ook onwillekeurig
aan Habakuk wat sing: nogtans sal ek in die Here jubel. (Hab. 3:18) Al
sou daar ’n tekort gewees het aan oeste en al sou daar niks in die skure
opgegaar wees nie en alles verlore lyk, is daar steeds ’n wysie in sy hart
en lofbetuiging vir die Here op sy lippe. When all is gone, God is not gone!
En ons? Voel jy ook soms of jy nie eintlik rede het om ’n loflied te sing
nie? Voel jy ook soms so bedruk dat daar glad nie eens ’n deuntjie in jou
hart is nie? Om ’n loflied te sing verg baie keer ’n wilsbesluit. Wanneer
jy die Here loof wek dit geloof, wanneer jy die Here se Naam grootmaak word
Hy groot in jou gedagtes, wanneer jy die Here eer met ’n gesang neem Hy die
ereposisie in jou lewe in. Ek hoop daar is ’n lied in jou hart - breek uit
in lofgesang, breek uit in vreugdedans .... ~ Wilna Botha, 30/03/2016 |
|
Ontnugtering
Ek dink
elke een van ons is al geskok, verstom, verbaas en ontnugter deur mense. Ai,
het jy nie ook al bloutjies geloop en sleg tweede gekom teen ander mense nie?
Die mens is maar 'n snaakse ding, en boeta, doen besigheid met mense en jy
sien wat hulle aanvang, en kyk maar hierdie klomp skynheiliges met hulle
vroom gesigte in die kerk, nie eers te praat van hierdie geestelikes wat
sommer die kat in die donker knyp nie. Regte jakkalse, hierdie mensdom van ons.
En o koek, vennote! Hulle sê mos 'n partnership is a sinking ship!
Maar toe wonder ek
eendag so: Ek het al HORDES besigheidsmanne hoor kla dat die vennoot hulle
sleg verneuk het uit alles uit. Maar hoekom ontmoet ek nooit daai skelm
vennoot nie? Die volgende het ek nog nooit gehoor nie: Man, ek het hierdie
vennoot van my lekker ondergekry, toe hy weer kyk het ek hom leeggetap!"
Nou waar op aarde
is daai skelms? Bly hulle op 'n ander planeet? En wat van hierdie woorde: "Christene
het my SO seergemaak, ek wil nie meer met hulle assosieer nie, ek los liewer
hierdie kerk-dinge as om tussen hierdie skynheiliges te gaan sit!" Wel
vriend, vir wie het ek en jý al seergemaak, en waar pas dit in bekering in?
Dit is 'n baie
jammerlike mens wat sy saligheid laat berus op ander mense se optredes, en
ander Christene se sondes. Ek verstom my dat mense die ewige dood sal kies
omdat ons as Christene ook maar voete van klei het. Maar ja, ons moet hard
probeer om nie ander te laat struikel nie.
Die Bybel het
nogal iets te sê oor mense.
Jes 2:22 "Moenie
op mense staatmaak nie: Hulle blaas so maklik die asem uit. Hulle is min
werd."
Wat is dan die
antwoord?
Ps 118:8 "Om by
die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou." ~ Willem Botha,
29/03/2016 |
|
“... al het ek tot ’n val gekom, ek sal weer opstaan,
al sit ek in die donker, die Here is my lig.” (Miga 7:8) As jy geval het, of
afgedwaal het, of alleen in die donker dieptes sit, wil ek by jou pleit om
nog een maal op te staan, om nog een maal terug te draai na die Here toe, om
Hom nog een maal toe te laat om vir jou ’n Lig te wees, om nog een maal Sy
genadige hand vas te gryp. As jy geval het, kan jy altyd weer opstaan.
Onthou: as jy een keer meer opstaan as wat jy geval het, dan staan jy! As
jy afgedwaal het, kan jy altyd weer terugdraai. As jy gaan wegkruip het, kan
jy altyd weer uitkom na die lig toe. Die Here is dié enigste een wat ware
herstel vir ’n mens moontlik kan maak, maar ons moet die keuse maak vír
opstaan, vír terugdraai. “As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy
herstel word.” (Job 22:23), “nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jak
4:8) “God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig en jou op ’n
ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan” (Jak 4:10, Die Boodskap) ~Wilna
Botha, 28/03/2016 |
|
Jesus het nie vir ons
opgestaan nie.
Maak nie
saak wat jy in die Bybel lees nie. Harde woorde? Maak dit jou warm onder die
kraag? Dit behoort. Dis egter gelukkig net waar as ons die Bybel selektief
lees, vir eie gewin, wanneer ons die punt heeltemal mis en kyk wat ons alles
uit hierdie gebeurtenis kan tap.
Daarom herhaal ek: Jesus het nie vir ons opgestaan nie, as:-
* Ons voel
dat Jesus ons iets skuld omdat ons die moeite doen om te glo nie.
* Ons glo
dat die Here ons moet
seën met aardse dinge wat nie vir ander beskore is nie.
* Ons glo dat
Christene nie ook swaarkry en sukkel met hulle finansies nie.
* Ons glo dat
Christene nie siek word en sterf aan kanker of in ongelukke nie.
* Ons glo dat ons
kinders nooit 'n voet verkeerd kan sit nie en engeltjies sal wees.
* Dat bonatuurlike
wonderwerke gaan gebeur omdat ons "like" en "amen" op ander se woorde en
prentjies op Facebook nie.
Jy sien vriend, ten
spyte van wie Jesus is en waartoe Hy in staat is, is Johannes die Doper
steeds onthoof, Petrus steeds onderstebo gekruisig, het al die dissipels
steeds vir hulle geloof gesterf, Stefanus is doodgegooi met klippe, Sy
volgelinge het in armoede geleef, en het Paulus steeds geworstel met die
doring in sy vlees en amper vegaan in 'n storm.
Wel, ek glo jy voel
dalk so bietjie ontsteld op hierdie stadium, maar lees asb verder. Ek het
tientalle kere bonatuurlike ingryping van die Here beleef in my finansies,
ek weet van BAIE gevalle van bonatuurlike genesing, ek het baie gesien hoe
die Here mense se lewens dramaties omdraai nadat hulle tot bekering gekom
het. Hierdie is absolute feite, en ja, bid daagliks vir jou finansies, jou
gesondheid en vir al jou behoeftes. Maar dis nie die kruks van ons
verhouding met Hom nie.
Waarom het Jesus dan
opgestaan?
* Om Sy beloftes waar
te maak dat Hy die Satan sal oorwin.
* Om die ewige dood
namens jou en my te oorwin.
* Sodat ek en jy vry
kan wees van die magtelose bindinge van die wet (hoewel die wet in alle
opsigte goed is, en deur Jesus tot vervulling kon kom).
* Sodat Hy vir my en
jou 'n plek kon gaan voorberei in ons ewige tuiste.
* Hy is die enigste
Wese wat ooit 'n leë graf agtergelaat het, en dit bewys Sy Godheid.
Die probleem kom
wanneer dit "Jesus en..." word. Jesus EN gesondheid, Jesus EN rykdom, Jesus
EN byvoordele. Dis eers as Jesus se lyding en opstanding vir ons genoeg is
sonder die "bell's and whistle's", dat dit vir ons werklikheid is en kragtig
geword het.
Dan kan ons juig en
uitroep: Hy het WAARLIK opgestaan! ~ Willem Botha, 27/03/2016 |
|
Die kruisies wat ons op Palmsondag van palmblare gemaak
het, is alreeds besig om te verdroog en te verkleur. Is dit dalk simbolies
van Jesus se ywerige navolgers wat Hom op Palmsondag met die gewaai van
palmtakke en uitbundige eerbetuigings in Jerusalem verwelkom het en teen
Vrydag toe skree hulle: “Kruisig Hom!”? Dit het my bietjie tot selfondersoek
gedwing: het ek die Here ook êrens in die verlede in my hart en lewe
verwelkom, prysliedere vir Hom gesing, myself aan Hom toegewy, net om later
te verlep en te verdroog in my toewyding aan Hom? Dors my siel nog na Hom,
verlang ek nog na Sy teenwoordigheid, eer ek nog Sy heerskappy, waardeer ek
nog Sy genade-offer en vergifnis? Of het ek aan die slaap geraak soos die
dissipels in die tuin van Getsémané, of weggehardloop toe dinge nie uitwerk
nie; of het ek Hom verraai met ’n kus, soos Judas, of Hom verloën soos
Petrus en gesê ek ken Hom nie? Miskien is Paastyd juis dié geleentheid om
Hom weer te begin dien met dieselfde liefde en ywer as vroeër, om onsself
opnuut weer voor Hom neer te lê as lewende en heilige offer, om weer ál ons
hoop en vertroue net op Hom te vestig. ~ Wilna Botha
 |
|
Doodstraf
Ek was vir baie lank sterk ten gunste van die doodstraf en sommige dae voel
ek steeds dat dit baie probleme sal oplos. Totdat ek eendag met 'n persoon
praat wat vir lank by die galg gewerk het, en ek was absoluut geskok oor die
realiteit daarvan as dit jou werk is om iemand se lewe te neem wat niks aan
jou gedoen het nie. Dit het hierdie persoon tot sy dood gery en dit het by
hom gespook om iemand lewendig reg te maak vir die galg, en minute later
dood af te haal. Hy
het ook vir my skokkende dinge vertel van wat met 'n mens gebeur in daardie
paar minute. 'n Galg is egter nog amper menslik, maar Jesus se kruisdood was
'n wrede, genadelose dood waar 'n persoon homself leeg gebloei het, versmoor
het, sommiges se bene was gebreek terwyl hulle nog lewe, en daar is 'n spies
in Jesus se sy gesteek. Ons het 'n paar dae gelede die nuwe film "Risen"
gesien , en die kruistoneel het my diep geraak.
Iemand wat
onskuldig gesterf het? Nee, Hy was absoluut skuldig! Hy was skuldig aan
moord, verkragting, diefstal, owerspel, en alles waaraan ek en jy kan dink.
Maar Hy het nie
daardie goed gedoen nie, want hy het ons skuld (aan al hierdie aaklige dinge)
op Homself geneem. En 'n galg sou nie deug nie want daar is nie bloed nie.
Sy bloed moes vloei in die plek van die offerlam sodat die finale offer
betaal kon word. En voorts, wie was die laksman? Die soldaat wat gesê het:
Hierdie man was waarlik onskuldig? Of was Pontius Pilatus die een wat die
blaam moes dra? Op wie kan ons die skuld pak? Dalk Judas wat Hom verraai
het?
Nee my vriend,
nie een van hulle nie. Niemand hoef die blaam te dra nie, eintlik ook nie ek
en jy nie, dit was die Vader se wil, en niemand kan of hoef die blaam te dra
nie, dit was GENADE! Hierdie goed MOES net eenvoudig gebeur, anders sou ons
almal sterf aan die ewige dood.
Maar toe speel
hierdie aangrypende laaste toneel af:
Joh 19:30 Nadat
Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!” Toe het Hy sy
kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas
En daarom kan ons
lewe. Ek is innig dankbaar daarvoor. ~ Willem Botha, 23/03/2016 |
|
Ons nader Paasfees en die herdenking van dáárdie Vrydag
toe hulle ons Jesus geslaan, gespoeg, gespot en gekruisig het. Met die
oordenking hiervan het ’n reëltjie: “Jesus, rots vir my geslaan...” uit ’n
ou gesang in my kop begin draal. “Hy
is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die
getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” (Deut. 32:4)
Jesus, die volmaakte een, sonder sonde, sonder gebrek. Hy word in my plek
geslaan en verwerp, in my plek deur God verlaat. Toe Moses in die woestyn
die rots geslaan het, het lewegewende water uitgevloei vir Israel. Toe Jesus
geslaan is, het ons lewende water ontvang wat ons skoon was, wat ons lewe in
oorvloed gee en vir ons die ewige lewe verseker. “Jesus rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan, laat U lyding, sonder maat, my tot heil wees en
tot krag teen die sondeskuld en mag.” (uit Gesang 92) ~ Wilna Botha,
22/03/2016 |
|
Wat nou?
Ek is seker dat jy, net soos ek, eindeloos gefrustreerd is met die politieke
situasie in die land, en dalk is jy, net soos ek, maar uitgelewer om hier te
bly. Maar goeiste, wat nog? Hoeveel kan ons nog verduur, en hoeveel
verassings wag daar nog op ons, en ons wil sekerlik almal hard uitroep: Waar
sal ons hulp vandaan kom? Weet jy, ek is eerlik as ek sê dat ek uiters
mismoedig raak met die situasie. En ja, dalk wil jy gou vir my 'n prekie
afsteek en sê ons moet
net hoop, bid en vertrou , want die Here is in beheer. Natuurlik doen ek dit,
weet ek dit en glo ek dit, maar intussen soek ek wysheid oor alles.
Hierdie tekste is
nogal akkuraat in die tye wat ons nou leef:-
Spr 19:6 "Almal
soek die goedgesindheid van 'n man met mag, elkeen is die vriend van iemand
wat geskenke uitdeel."
Spr 29:4 " 'n
Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig; een wat net belastings
oplê, ruïneer 'n land."
Spr 29:14 "As 'n
koning reg aan arm mense laat geskied, sal hy lank regeer."
Ek en jy moet egter 'n paar besluite neem en
vra wat ons te doen staan in hierdie onseker tye. Wel, hier is 'n paar van
myne en ek hoop jy kan ook 'n paar positiewe dinge byvoeg:-
* Two wrongs doesn't make a right. Moenie dieselfde dinge doen as diegene
wat die verkeerde pad kies nie. As ons onsself skuldig maak aan verkeerde
dinge soos omkopery, verkeersreëls oortree, en belasting weerhou, verloor
ons die "reg" om hierdie dinge te kritiseer.
* Moenie ophou om goed te doen aan ander nie.
* Te veel negatiewe praatjies maak geen verskil nie, konsentreer liewer op
die positiewe dinge wat nog oorgebly het.
* Wees lief vir almal, al is dit soms baie moeilik.
* Moenie dink dat die Here geïmmigreer het nie, Hy is steeds hier en in
beheer.
* Bid steeds vir ons land.
* Moet verseker nie jou liefde vir Suid-Afrika verloor nie, dit bly steeds
'n wonderlike plek.
* Sien raak dat mense van alle kulture steeds baie goed met mekaar oor die
weg kom op straatvlak.
* Moenie jou getuienis verloor deur ander te benadeel nie, ons is steeds
Christene en moet so optree.
* Ons voorvaders sou nie die berge kaalvoet oorgesteek het as hulle wanhopig
was nie. Werk liewer hard aan 'n beter Suid-Afrika vir almal.
* In hemelsnaam, gaan stem tog net, anders het jy niks te sê nie.
* Laastens, doen wat reg is, dis wat die Here van ons verwag. ~ Willem
Botha, 21/03/2016 |
|
Vandag is dit
Palmsondag – die laaste Sondag voordat ons die kruisiging van Jesus herdenk.
Dit is dié Sondag toe Hy Jerusalem binnegery het op ’n donkie, dié Sondag
toe sy volgelinge met palmtakke gewaai het en Hom as Koning geëer en Sy lof
besing het. Ons het vandag sommer van palmblare kruisies gevou om ons te
herinner aan die kruispad wat Jesus vir ons gestap het, vir die prys wat Hy
aan die kruis betaal het sodat ons verlos en vergewe en vry kan wees. Ons
het saam gebuig en saam gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die
Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk. 19:
38) Toe Jesus gebore is, het die engele koor gesing: “Eer aan God in die
hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” (Luk.
2:14). Toe Hy Jerusalem inry het die skare Hom toegejuig: “Vrede in die
hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (Luk. 19:38) Vrede op aarde het
nou vrede in die hemel geword want deur Jesus het daar vrede tussen ons en
God gekom; “Deur die bloed van
sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die
aarde en in die hemel met Homself versoen.” (Kol 1:20) Pluk ’n
palmtak en verwelkom vandag dié Vredeskoning in jou lewe. ~ Wilna Botha,
20/03/2016 |
 |
|
... 8..9..10..UIT!
Ek is
seker hierdie paar woorde het jou onmiddelik laat dink aan 'n boksgeveg,
waar die een bokser die ander ou platslaan en dadelik begin die skeidsregter
te skreeu: 1...2...3 en dan, as die ander ou bly lê: 8...9...10...UIT! En
die geveg is verby. Nou ja, ek dink menige van ons word soms ook platgeslaan
deur een of ander situasie, soms ons eie toedoen en soms dinge buite ons
beheer. En boeta, as jy val spring Satan in die kryt en begin tel, net soos
die skeidsregter, en dan kyk hy vir Jesus meewarig in die oë en skree
kliphard... 8...9...10...UIT!!! Oorwinning vir hom! Jesus se kind lê!
Of liewer, so dink hy. Maar dan staan Jesus nader, stamp hom
weg en terwyl Hy sy hand na jou toe uitsteek tel Hy verder: 11...12...Kom
staan op... 13...14...Kom staan op, vat My hand... 15...16... Ek is by jou...
17...18... Ons stap saam vorentoe...
Jy sien vriend, presies dieselfde toneel het afgespeel toe
Jesus sterf aan die kruis. Satan het ook getel... 8...9...10...UIT! Maar toe
staan Hy na die derde dag op, letterlik! En toe is die gort gaar, want toe
verwoes Hy Satan se mag eens en vir altyd. En daarom hoef ek en jy nie te
bly lê nie. Jesus gee tweede kanse, en derdes, en vierdes, ONTELBARES! Hy
steek Sy hand uit as jy lê: vat dit net en staan op. Hoeveel keer? Die
formule is eenvoudig: eenkeer meer as wat jy geval het. ~ Willem Botha |
|
Ek het dié aanhaling êrens gelees: “When something bad
happens you have three choices: you can let it define you, let it destroy
you, or you can let it strengthen you.” As iets sleg, swaar of vernederend
oor jou pad kom, al is dit deur jou eie toedoen, deur jou eie fout, deur jou
eie verkeerde keuse, bly hierdie aanhaling geldig. Lig jou kop op, skep
moed, kyk die probleem in die oë en beur vorentoe. Sien in jou geestesoog
dat dinge uiteindelik gaan uitwerk en dat die swaarkry pad van jou ’n beter,
sterker, wyser mens gaan maak, iemand met ’n getuienis oor die liefde en
reddende hand van ’n groot, lewende God. Moenie dat jou swaarkry verander
wie jy is nie, moenie dat dit jou ’n negatiewe of verbitterde mens maak nie,
moenie dat dit jou selfwaarde afbreek nie, moenie dat dit jou vernietig en
platvee nie. “Troubles are round us on every side, but we are not shut in;
things are hard for us, but we see a way out of them; we are cruelly
attacked, but not without hope; we are made low, but we are not without
help; in our bodies there is ever the mark of the death of Jesus, so that
the life of Jesus may be seen in our bodies.” (2 Kor. 4:9-10) ~ Wilna Botha,
16/03/2016 |
|
Ek stem nie saam nie!
Sjoe ons as Christene kan darem maar mekaar se hare trek ook onbelangrike
goed, en ek glo dat jy jou wil wil gaan vervies vir my voor jy veel verder
gelees het. Jy sien, ons lees dieselfde Bybel, kom dalk uit dieselfde
kerklike denominasie en is selfs in dieselfde gemeente, maar laat ons nou
oor 'n paar dinge wat ons glo begin praat, dan waai die hare!
1) Grootdoop vs kleindoop 2) Ses dag skepping vs ‘n ou heelal 3) Die eind
tye – sal daar ‘n wegraping
wees of nie? 4) Is rockmusiek boos of nie? 5) Wat mag geëet word en wat nie?
6) Sabbats onderhouding op ‘n Saterdag vs geloofs viering op ‘n Sondag? 7)
Gebruik van sekere rituele al dan nie 8) Mag ek Kersfees vier of nie?
Dalk het jy
ook nou gou 'n paar tekste in jou kop laat rondrol, want jy glo mos wat jy
glo, volgens die Skrif. En die oomblik wat mense van ons verskil trek ons
hulle Saligheid in twyfel.
Ai, sit twee
boere bymekaar en chop-chop het jy twee politieke partye en twee kerke. Wel,
is dit normaal? Ek dink so, dit hang net af hoe ons daarmee omgaan.
Rom 14:1-6 "Aanvaar
die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting
van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die
geloof, en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net
groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander
wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om
oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy
goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg. Vir die
een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe
belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.
Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van
die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank
God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook
hy dank God."
Hierdie goed maak nie
saak nie, al wat tel is of ons gered is deur die bloed van Jesus. Solank ons
saamstem oor die weg na saligheid, kan ons maar met mekaar saamleef oor die
res. ~ Willem Botha, 15/03/2016 |
|
Soms wil ons hê die tyd moet stadig verby tik. Ander
kere wens ons die tyd om. Meeste van die tyd het ons te min daarvan. Té
dikwels sê ons: ek het nie tyd nie. Die Here is die skepper van tyd. Hy
bepaal oggend en aand, Hy reël die seisoene en laat elke ding op ’n bepaalde
tyd gebeur. Hy word genoem “Ancient of days” - Hy was al daar nog voordat
tyd bestaan het, Hy bestaan van ewigheid tot ewigheid. In een van die
kerkliedjies sing ons: “time is in His hands” – Hy hou al die tyd, van
altyd af, tot in ewigheid in Sy hand. Hy word genoem “Head of days” – Hy is
in beheer van die tyd, elke minuut en elke sekonde. “You’ve got all the
time in the world ...,” sê Ps. 90:4 en daarvan gee Hy elke dag vir ons
almal 24 uur, Hy gee vir ons almal 60 minute in elke uur. Daar kan dus nie
so iets wees soos: ek het nie tyd nie. Ontvang elke nuwe uur jou 60 minute
en gebruik dit wyslik, moenie dit verbywens of ongebruik laat uitloop soos
deur ’n uurglas nie; geniet dit, waardeer dit en maak die beste gebruik
daarvan. ~ Wilna Botha, 14/03/2016 |
|
SLEG SLEG!
SPREUKE
20:14 “Sleg! Sleg!” sê die koper, maar as hy weg is, spog hy met sy
winskopie"
Van
ons kliënte probeer gereeld om minder te betaal vir ons produkte as dit wat
ons kwoteer en dan sien ons hoe groot maatskappy die kleiner verskaffers tot
bankrotskap boelie. En die man op straat doen dieselfde, kyk hoe sukkel
mense wat musieklesse of ekstra wiskunde klasse aanbied, om hulle geld te
kry, en dan is dit dikwels van kliënte wat glad nie tekort het nie.
Ek
noem hulle sommer professionele bedelaars want hulle vat ander mense se kos
uit hulle monde uit. Dan sien ek ook hoe mense op Facebook diensverskaffers
soek om werk vir hulle te doen, maar hulle wil nie " 'n arm en 'n been"
betaal nie, maar soek die werk gister gedoen, wil die beste kwaliteit hê en
kom dan nie tot betaal nie.
Nee
jong, die Bybel praat dikwels van hierdie tipe inhaligheid en dis nie reg
nie. Moenie dienste gebruik waarvoor jy nie betaal nie, gun ander ook 'n
broodjie op die bord en betaal die goed wat jy wel bekom betyds. ~ Willem
Botha, 13/03/2016 |
|
“Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes
se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige
besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus
was.” (Hand 4:13) Petrus en Johannes het sonder om te skroom en met groot
vrymoedigheid oor Jesus gepraat. Hoewel hulle doodgewone mense, sonder
geleerdheid was, was hulle mense wat ’n verhouding met Jesus gehad het, was
hulle vervul met die Heilige Gees en dít het vir hulle die vrymoedigheid en
waagmoed gegee om voor die Joodse Raad (deur wie hulle alreeds in die tronk
gegooi is) oor Jesus, oor Sy kruisdood, Sy opstanding en die verlossing wat
Hy gee, te praat. En ons, is ons ook bereid om tydig en ontydig, al weet ons
ons gaan uitgelag word of in die moeilikheid beland, oor Jesus te getuig? Of
is jy skaam vir Hom? Of is jy bang? Of weet jy nie wat om te sê nie? Onthou,
net soos Petrus-hulle het jy nie eers ’n kursus of opleiding nodig nie, al
wat jy hoef te doen, is om te vertel wie Jesus vir jóú is, wat Hy in jóú
lewe beteken, wat Hy vir jou en vir die wêreld kom doen het. Die Here maak
ons bekwaam om hierdie boodskap te verkondig, Hy gee vir ons die moed.
Daarby weet ons dat die Gees vir ons die regte woorde sal gee: “Dan is dit
nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.”
(so sê Matt. 10:20) Glo dat die Here jóú wil gebruik om Sy boodskap te deel
en gaan doen dit met vrymoedigheid en oorgawe. ~ Wilna Botha, 10/03/2016 |
|
Ek is
lief vir jou
Sjoe, is daar mooier woorde as dit? Dit weerspieël die diepste, mees intieme
gevoel wat jy vir 'n ander mens kan hê en ek dink daardie woorde in jou ore,
kan jou deur enige moeilikheid dra, want dit maak nie saak wat met jou
gebeur nie, hierdie woorde sê dat daar iemand is wat daar is vir jou, ongeag
die wêreldse sorge. 'n Dame sê onlangs dat sy nie glo in liefde nie en sjoe,
dit het my inmekaar laat krimp, want hoe op aarde gaan jy deur die lewe sonder
dit?
My pa het dit nooit reggekry om dit te sê nie, maar sy dade het dit gewys.
Toe ek ouer word het ek besef dat ek dit graag sou wou hoor ook, maar die
ouer mense het dalk anders grootgeword. Maar ek en jy kan maar daardie
verskonings los. Dis so jammer dat daar mense is wat dit dalk maklik vir
kietsie of woefie sê, maar die kinders moet dit maar op Facebook lees. Jy
ken mos daardie "banners" wat mense "like en share" wat sê : If you have a
beautiful son or daughter... ens ens ens, like and share. Niks daarmee
verkeerd nie hoewel dit so effe tweedehands is want dis iemand anders se
woorde. Maar HOOR, in iemand se eie, gesproke woorde, is eerste prys! Dis
vir my so ongelooflik mooi as my kinders mekaar groet na 'n kuier met die
woorde: luv you!
Ons sê dit daagliks vir mekaar in ons huis, en nee dis nie net 'n gewoonte
nie, maar selfs as dit was, is dit in elk geval 'n wonderlike gewoonte. Sê
dit vriend, gereeld, en jou kinders sal dit vir die res van hulle lewe met
hulle saamdra. ~ Willem Botha, 09/03/2016 |
|
Iemand sê nou die dag: ’n kreupele kan loop as hy
gehelp word. As iemand ondersteuning en aanmoediging het, kan hy meer doen
as waartoe hy op sy eie in staat is. Daar is só baie mense wat op hulle eie
aansukkel. Daar is só baie mense wat struikel omdat daar niemand is wat ’n
stewige hand na hulle uitsteek nie. Daar is só baie mense wat nêrens kan kom
in die lewe nie omdat hulle nie ’n lewenskruk het nie. Wil jy nie vandag om
jou rondkyk waar jy ’n helpende hand kan wees vir iemand nie, waar jy
bietjie van jou wysheid en raad kan uitdeel nie, waar jy ietsie van jou
besittings of geld kan weggee nie? Begin sommer daar in jou eie huis, by jou
eie familie en tussen jou eie vriende! Pred. 4: 9 en 12 sê “Twee
vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets ... Een alleen kan
oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie
maklik nie.” Doen gerus dié praktiese eksperiment en vat 3 garingdrade
bymekaar en kyk of jy dit met die hand kan breek. As jy iemand ondersteun
maak dit hom (en vir jou) sterker, as jy iemand aanmoedig gee dit hom (en
vir jou) hoop. Wanneer jy deel is van daai driedubbele tou, gaan jy op die
koop toe voel dat jou lewe sin en betekenis het. Jesus sê: “Ek sal jou leer
dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat
dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.” (Matt. 11:28,
Die Boodskap) ~Wilna Botha, 08/03/2016 |
|
Noemname, byname en
troetelname
Het jy ook 'n bynaampie? Een waarmee jy grootgeword het wat jy HAAT! Daai
ding los jou nooit en hy spring agter elke tweede bos uit. So het ek ook 'n
noemnaam gehad in my ouerhuis en hoe ek ook al probeer, kan my familie net
nie verby dit kom nie en dit laat my voel of ek 5 jaar oud is as ek dit hoor.
Maar dis nog NIKS! Kry ek toe in die weermag 'n bynaam wat my volg soos 'n
skaduwee en as ek in 'n openbare plek is vrees ek die uitskree hier agter
my van: &@^%+$>!!! (dis nou daai gewraakte bynaam). Wel, my gesin ken dit
nie en ek deel dit met niemand! Vervlakste korporaal!
Ons ken almal hierdie
bekende teks:
Jes 43 : 1 "Luister,
so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie
bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne."
Hierdie teks wys vir
my hoe belangrik my naam is, dis eie aan my, my identiteit, my menswees is
daaraan gekoppel, dit is EK!
Maar ek lees toe
HIERDIE pragtige teks raak:-
Openbaring 2:17 "Elkeen
wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen
wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal
Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat
niemand anders ken nie, net hy wat dit kry."
Wow! My hemelse
noemnaam wat net die Here ken, my nuwe troetelnaam wat NET ek gaan dra. Daar
sal baie Willems wees, maar net ek wat daardie besondere naam gaan hê. Die
Here weet reeds wat dit is, maar ek sal in hierdie lewe nooit weet nie. Om
te weet moet ek die oorwinning behaal, wat ek eintlik reeds met bekering
behaal het, maar die nuwe naam sal ek hoor as ek daar kom. En boeta, daardie
bynaam gaan ek nie haat nie. Dit sal in elk geval in 'n hemelse alfabet
geskryf word. Sien nogal uit na daardie naampie. ~ Willem Botha, 07/03/2016 |
|
Iets wat my deesdae opval is die kru en kras
taalgebruik van mense - hulle sinne is vol kragwoorde en vloekwoorde en
skelwoorde en om nie eens te praat daarvan dat die Here se naam links en
regs as vloekwoord gebruik word nie. Dis nie net slegte mense, of growwe
mans of afvalliges nie, dis ordentlike mense, verfynde vrouens en oulike
kinders. Dis, moet ek bely, selfs partykeer ek. Is dit regtig nodig om te sê
iets is “daai 3-letterwoord”, as daar soveel mooi beskrywende woorde in die
Afrikaanse taal is? Is dit nodig om te sê dit is f*** warm/moeilik/hoog ens.
as daar honderde verskillende byvoeglike naamwoorde is wat jy eerder kan
gebruik? Vir party mense is dit sommer net ’n gewoonte, ander gee nie om of
hulle enige iemand aanstoot gee met hulle taalgebruik nie; party praat so
omdat almal om hulle so praat en ander doen dit om “in” te wees. Die Here
hou beslis nie van dié tipe taalgebruik nie. Ef. 4:29 sê: “Vuil
taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend
is.” “Moenie God in die skande steek deur die manier waarop jy praat
nie. Moenie vloek nie; nee, selfs al laat jou woorde mense net ongemaklik
voel, moet jy dit nie eens gebruik nie.” (Kol 3:8, Die Boodskap) – nou ja,
dis genoeg rede om jou woorde te tel! Onthou as jy daai lelike woord gooi,
kan dit dalk net ’n streep deur jou Christelike getuienis trek. Praat liewer
net wat goed en opbouend is. ~ Wilna Botha, 06/03/2016 |
|
Stof
Ps 90 : 2-6 "Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring
het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God! U laat die mens sterwe: U sê
net: “Word weer stof!” Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is,
soos een enkele wagbeurt in die nag. U maak 'n einde aan 'n mens, hy gaan
die doodslaap in. Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre
is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en
dit verdroog."
Ps 90:10 "Ons
lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol
swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe."
29 200 dae, dis al. Dis wat jy het as jy sterk is, as jy
jouself oppas en as jy die genade van God ontvang om dit reg te kry. Dit
laat my dink: wanneer begin jy lewe? Sekerlik in die moederskoot, maar aards
gesproke seker maar met jou geboorte. Maar... wanneer begin jy sterwe? Word
jy al hoe sterker na geboorte (lewe jy al meer?) en gaan jy deur 'n
draaipunt, en verswak jy dan tot by die einde? Waar is die draaipunt?
Sjoe nee ek kan nie hierdie goed verklaar nie. Of begin jy
sterwe die oomblik wat jy begin lewe? Of dalk lewe jy "meer en meer" tot een
dag wat die kersie skielik uitgeblaas word? Ek hoop die laaste geval is
eerder waar, dit voel of dit eerder vir my sal werk.
Punt is, oudword is nie lekker nie, maar wees baie baie
dankbaar daarvoor, dis nie vir almal beskore nie. Maar, solank jy dit het:
* Laat elke dag tel *Maak 'n verskil * Geniet jou mense *
Moenie twv werk jou familielewe afskeep nie * Dien die Here en sorg dat jou
saak met die Here reg is *Lag baie *Stel jou wysheid wat saam met die
ouderdom kom, beskikbaar vir ander * Moenie "regrets" hê oor dinge wat nooit
gebeur het nie * Vergewe waar jy moet * LEWE elke dag wat aan jou geskenk
word. ~ Willem Botha, 03/03/2016 |
|
As ek Joh. 16:33 lees waar Jesus sê: “Ek het die wêreld
klaar oorwin,” dan weet ek dat Hy almagtig en alomteenwoordig is, dat Hy
totaal en al in beheer is en dat ek rustig by Hom kan wees en agter Hom kan
skuil. Sy lewe op aarde wys dat Hy die wêreld oorwin het: Sy kalmte en
onselfsugtigheid, die feit dat Hy hom nie steur aan die “belangrike” mense
van die wêreld nie, Hy is nie bang om standpunt in te neem en hulle te
konfronteer nie, Sy woorde en dade ondersteun mekaar altyd. Sy dood wys
veral dat Hy die wêreld oorwin het: Hy gee Homself as offer, Hy verlos die
mensdom, Hy versoen mens en God met mekaar. Hy oorwin die wêreld wanneer Hy
uit die dood opstaan, wanneer Hy die heerskappy van die heelal oorneem en
wanneer die Heilige Gees uitgestort word. Omdat Hy oorwin het, maak Hy ons
meer as oorwinnaars. Pak jou uitdagings met moed en durf aan, want jy het
nou Sy mag, Sy krag en Sy geregtigheid in jou! ~Wilna Botha, 02/03/2016 |
|
Keuses
- Genade of die wet?
'n Baie
belangrike keuse waarmee ons hier moet deel. Dis een van die twee, óf jy
kies om God se genade te aanvaar, óf jy bly oor met die nakom van die wet.
Jy sien, in die bedeling voor Jesus se kruisiging, was die mens se saligheid
afhanklik van die nakom van die wet en die bring van offers. Dit was moeilik,
eintlik onmoontlik, maar die mens moes letterlik veg om Geestelik kop bo
water te hou. Maar toe sterf Jesus aan die kruis en Hy bied 'n
wonderlike alternatief aan, maar die mens sukkel om dit te aanvaar. In
hierdie skrifgedeelte stoei Paulus met die Galasiërs.
Galasiërs 3:2 "Net
een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die
wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo?"
Paulus skryf
hierdie gedeelte ná Jesus se kruisiging en dit blyk dat die Galasiërs steeds
nie hiermee kan regkom nie, en dit lyk my ons sukkel ook vandag met presies
dieselfde ding. Ons sukkel om te verstaan dat genade verniet is, en wat
klaar moontlik gemaak is deur Jesus met Sy kruisiging. Die enigste
voorwaarde is om Hom as verlosser aan te neem.
Hoekom is dit dan
so moeilik? Wel, ek dink die grootste probleem is skuldgevoelens oor ons
tekortkominge en sondes en natuurlik veg ons hand en tand teen die sonde.
Voorts is dit onmoontlik om die wet perfek na te volg.
Gal 3:10 Maar
almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek,
want daar staan geskrywe: "Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik
alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.
Daar het jy dit,
jou enigste keuse is genade! Moet tog nie probeer om Saligheid te "verdien"
nie, dis 'n verlore saak. ~ Willem Botha, 01/03/2016 |
|
“Die
allerbeste ding wat met ’n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te
drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur te geniet. Dit is die
mens se enigste erfporsie hier op aarde.” (Pred. 5:17, Die Boodskap) Ai, dis
darem maar lekker om saam met vriende rondom ’n lekker ete te kuier, of ’n
spesiale koppie koffie en ’n soetigheidjie te deel, of saam ’n film te gaan
kyk, of ’n staptog in die natuur te geniet, of saam ’n stokperdjie te doen
of tot laatnag te gesels en filosofeer. Hierdie lekker dinge is ons
“erfporsie hier op aarde”, dis eenvoudige goed wat ons dag opkikker, wat ons
help om verby die swoeg en swaarkry te kyk en vir ons heerlike herinneringe
te bou. Die goeie dinge wat ons in die lewe kan geniet, is altyd ’n geskenk
van God af en wanneer ons dit beleef moet dit gepaard gaan met danksegging
aan Hóm, met eerbetuiging aan Hóm vir dit wat Hy ons gee om te geniet.
Wanneer ons die lekker dinge van die lewe geniet, mag ons dit nooit misbruik
of as vanselfsprekend aanvaar nie.
Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo, sê die Bybel (Jak
1:17) – geniet jou erfporsie! ~ Wilna Botha,
29/02/2016 |
|
Keuses
- micro management
Ek
wil graag vir 'n paar dae 'n paar stukkies deel oor hierdie belangrike
onderwerp. Keuses, sekerlik DIE ding waarmee ons onsself die meeste besig
hou elke dag. Ek wonder of jy besef hoeveel keer jy per dag met die kleinste
dingetjies besig is, waarin jy tussen twee of meer opsies kies. Eers bed
opmaak of eers tande borsel? Wat sit ek op my toebroodjies? Watter klere?
Nie eers te praat van die dinge by die werk nie! Soms maak ons liederlike
verkeerde
besluite deur te vinnig iets te sê wat ons liewer moet los, of soms bly ons
stil toe ons moes praat. Ons leer ook ons kinders keuses maak deur net die
verkeerde dinge voor hulle te sê, bv negatiewe rassistiese of politieke
praatjies. Nee, kies is moeilik, en boonop moet ons binnekort gaan stem!
Wel, ons kan (en moet) die Here ken in al ons keuses, maar ek dink dit gaan
eerder oor 'n lewe waar die Here deel uitmaak van alles, as om insident vir
insident oor 'n saak te bid vir 'n antwoord. Ek glo nie dat die keuse oor
tande borsel op daardie vlak hanteer hoef te word nie, dis totaal
onbelangrik. Ek dink nie die Here wil "micro management" in ons lewens
toepas nie, daarvoor gee Hy vir ons die wysheid om sinvol en met
verantwoordelikheid ons besluite te neem, en dan seën Hy ons in daai
besluite. Soms gebruik ons die gedagte van "ek wag op 'n antwoord", as 'n
verskoning om niks te doen nie. Ons vra lank gelede vir 'n dame om net vir
een aand in 'n gebedspan te wees, toe sê sy sy gaan eers daaroor bid.
Natuurlik is daar niks daarmee verkeerd nie, maar ek het gewonder of die
Here sal dink dat iemand liewer nie moet bid nie. Die punt is, na BAIE jare
is daar steeds nie 'n antwoord nie. Net so het ons iemand gevra om by 'n
bediening betrokke te raak en die gedagte van "ek wil eers daaroor bid",
was voorgehou . Ja, NATUURLIK is dit 'n ernstige saak en mens moet daaroor
bid, maar ek wag ook al baie jare vir die antwoord.
My punt is, soms moet ons net doen. Ek het vir 'n goeie vriend eendag gevra
hoe hy hieroor voel. Sy antwoord was: Willem, as die Here 'n deur oopmaak en
my roep, doen ek dit eers en vra dan vrae, dis 'n beter fout om te maak as
om niks te doen nie. ~Willem Botha, 28/02/2016 |
|
Moet nou nie jaloers wees nie, maar ons kom so pas
terug van ’n kort vakansietjie! Vanuit die vliegtuig op pad Kaap toe het dit
my getref hoe ongerep en “leeg” die grootste gedeelte van die land tussen
Pretoria en Kaapstad is, hoe klein die ontwikkelde gedeeltes werklik is
t.o.v. die res. As mens so 8 of 10 kilometer van bo-af kyk, lyk ’n groot
dorp maar klein, lyk ’n mens maar soos ’n spikkel, lyk sy huis kleiner as ’n
Monopoly huisie en sy kar se kleur en tipe kan nie onderskei word van sy
buurman s’n nie. As mens van daai afstand af kyk, kan jy nie sê of die huis
2 of 5 slaapkamers het en of die buitemure dalk verf kort nie, jy kan nie
uitmaak of die sitkamermeubels van sagte leer is en of die tuin deur ’n
professionele persoon uitgelê is of nie. Ek het met ’n skok besef dat ons
onsself baie groter en belangriker dink en ag as wat ons regtig is. Ons werk
en swoeg en spook en baklei dalk té veel vir dinge wat in die groter
prentjie onbelangrik is. As die Here “afkyk” maak niks van hierdie dinge
saak nie en daarom dink ek ons goeters behoort ons nie so te jaag en te
beheer nie. Ek het maar net daar gesit en af kyk en besluit dat ek meer
tevrede gaan wees, minder gaan meet aan die Joneses next door en meer gaan
“op kyk” na die Here, dat ek meer gaan fokus op dinge met ewige waarde,
minder op dít wat in ’n oogwink kan verdwyn. Ek het maar net daar gesit en
gedink die Prediker is reg ... “Wat het die mens nou eintlik aan alles
waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou? Elke dag
bring vir hom pyn en elke onderneming ergernis; selfs snags kom hy nie tot
rus nie. Ook dit kom tot niks ... dit is ’n gejaag na wind.” (Pred. 2:22-23)
~Wilna Botha, 25/02/2016 |
|
“Dit sê
ek vir julle sodat julle vrede kan vind in My.” (Joh. 16:33) As ons in Jesus
is, soos wat ’n tak aan ’n boom is, sal sy vrede na ons toe vloei. Die Bybel
noem dit nie verniet die vrede wat alle verstand te bowe gaan nie - dis ’n
vrede wat net God se kinders kan ontvang en verstaan. Vrede is die seker
wete dat jy vergewe is; vrede is om ’n stil gewete te hê omdat daar geen
aanklag meer teen jou is nie; vrede is om God se liefde in jou hart te voel
roer. Die vrede wat ons in Jesus vind maak dat ons nie angstig en benoud
raak oor dinge wat om ons aangaan nie, dat ons nie bedreig voel deur mense
nie en nie die toekoms vrees nie. Sy vrede hou wag oor ons hart en gedagtes
– sy vrede beskerm ons teen negatiewe gedagtes en bekommernis. Ons het sy
vrede nodig - dit is nét die Here se vrede wat ons kan bevredig. “Pleasure
is man’s delight, but peace is man’s necessity.”
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! ~ Wilna Botha,
16/02/2016 |
|
My daaglikse brood
Ons werk
vir onsself en soos jy weet maak ons besigheidsmanne baie meer geld as wat
ons kan droom om op te gebruik! Nou ja, dis natuurlik nie waar nie en
hierdie tipe lewe hou jou op jou knieë. Daar kom tye van brood alleen en
soms is daar bietjie jêm op die brood. So kom daar 'n paar jaar gelede 'n
tyd dat selfs die brood skaars is en een aand sit ek in 'n parkeerterrein en
bid ernstig vir bestellings om die pot aan die kook te hou. En in 'n oomblik
kom die
volgende teks in my kop op:
Luk 11:3 "Gee ons elke dag ons daaglikse
brood..."
Daar het 'n skaamte oor my gekom toe ek besef ek
het BAIE meer as dit. Jy sien, hierdie belofte sê dat ons elke dag op brood
kan staatmaak, maar die jêm is 'n groot bederf. Brood is die wêreld se
stapelvoedsel, maar meer as dit is vir min mense beskore. Ongelukkig meet
ons die Here se seën aan die hoogte van die lekkernye wat bo-op geplak word.
Is die basiese nog goed genoeg? Net die basiese? Kry ons dit reg om die
surplus weg te gee vir die wie nie eers die basiese het nie? En indien wel,
hou ons die brood of hou ons die jêm?
As jy weer hierdie woorde bid: "Gee ons elke dag
ons daaglikse brood..", dink net hoeveel het jy regtig. ~ Willem Botha,
15/02/2016 |
|
“Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so
positief leef,” so sê 1 Pet. 2:15 in Die Boodskap. Ai, dié woorde het my
maar net weer getref omdat ekself baie keer so kan gal afgaan oor dinge, so
veroordelend kan wees teenoor mense, so negatief kan wees en net die slegste
verwag, so verbitterd en onvriendelik kan wees. Nee, die Here se verwagting
vir ons is ’n positiewe ingesteldheid. Hy het ’n plan daarmee! Sy plan is
dat ons positiewe houding moet afvryf in die wêreld, dat ons positiewe
woorde mense moet opbou en troos, dat ons positiewe denke hoop moet uitspel
vir dié wat moedeloos is, dat ons positiewe dade vir mense die lewe ligter
sal maak . Wanneer ons positief leef, gaan geluk en tevredenheid sommer ook
in ons eie lewens opdaag en gaan hierdie aanhaling waar word: “Happiness is
a by-product of thinking, feeling and acting in a positive manner.” ~ Wilna
Botha, 14/02/2016 |
|
Goeters
Ek sien 'n interessante tendens by mense, dié mense wat geleer het om met
min dinge klaar te kom, het altyd genoeg. Kom ek herhaal dit: mense wat
geleer het om met min dinge klaar te kom, het altyd genoeg! Dit lyk of hulle
die kuns vervolmaak het om ten spyte van kleiner behoeftes, en minder
goeters, 'n vrede het wat baie ander nie het nie , en dat hulle
lewenskwaliteit het wat baie ander mense begeer. Hulle kry hulle rykdom in
ander goed, en hulle is op die einde
skatryk.
So sien ek aan die ander kant hoe mense met baie besittings, in ongekende
vrees leef dat hulle dit dalk kan verloor! Dit verstom my dat baie mense al
hoe ongelukkiger word hoe meer hulle het. Hoekom is dit so? Wat is ons
bereid om te "betaal" vir hierdie dinge wat baie geld kos maar geen waarde
het nie? En kyk wat doen ons nog: ons dryf ons kinders om die hoogste sporte
te bereik en moedig hulle aan om te leef en werk vir baie geld, maar ons
leer hulle nie hoe om dit te hanteer as hulle dit dalk sal verloor nie. Hoe
verskriklik is dit nie as jy jou dag tog dag bestaan haat ter wille van
goedere wat in 'n oogwink kan verdwyn nie, en wat jy nie tyd het om te
geniet nie.
Mense wat nie materiële goed najaag nie, vind hulle vreugde in LEWE, in tyd
vir hulle geliefdes, tyd om WARE kwaliteit tyd met hulle kinders deur te
bring en ja, ook tyd vir hulleself. Dink bietjie na oor hierdie stelling:
Two things that will define you:
-Your determination when you have nothing
- Your attitude when you have everything ~ Willem Botha |
|
“Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en
loop die reguit pad.” (Heb. 12:12) Hierdie teks is net weer ’n aansporing
vir dié van ons wat voel dat jy spoed verloor het op jou lewensreis en besig
is om uit te sak in jou geestelike wedloop. Die alledaagse lewe eis sy tol,
hoop en geloof bly in die slag en dan voel dit of ons louwarm met slap hande,
lam knieë en sleep voete die Here probeer dien. Kom ons fokus weer op
wat regtig belangrik is, kom ons raak weer entoesiasties en opgewonde oor
ons verhouding met die Here, kom ons pak weer die reguit pad met ywer en nuwe
dissipline aan, kom ons blaas weer die vlam van ons geloof aan sodat “.. wat
lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.” (Heb. 12:13) Die Here se
liefde en genadige hand is daar om ons regop te hou as dit voel of ons voete
gly. Sy Woord is daar om ’n lamp vir jou voet te wees. Moet ook nie vergeet
dat medegelowiges se gebede jou arms hoog kan hou en hulle aanmoediging jou
voetstappe kan rig nie. Staan sterk en volhard enduit! ~ Wilna Botha,
10/02/2016 |
|
Spierpaleise
Jy sal my nou nie glo nie, maar ek het ook baie in my lewe in gimnasiums
rondgehang, al sou g'n mens dit nou dink nie. Gewigte gepomp, gehol op daai
masjiene wat op pad is nêrens heen nie en dan so onderlangs na die spieël
geloer. Ag shame, dis eintlik lagwekkend, maar nou ja, ek was darem daar.
Kyk, jy kry bulle in daai plek, en bullinne, en party is nogal sterk. 'n
Goed toegeruste gimnasium kan 'n mens nogal vinnig transformeer, maar ek
wonder net wat die
nut is as jy daai krag nêrens nuttig aanwend nie.
Wat my laat dink
aan die kerk, 'n "gimnasium" met die wonderlikste toerusting, waar mense
hulle Geestelike spiere woes oefen en waar mense Geestelik baie sterk word.
Mense gaan graag soontoe en die "gimnasium" se toerusting sing soos dit
gebruik word en mense loer onderlangs vir mekaar om te kyk of hulle "spiere"
groter is as ander s'n.
Maar wat maak ons
daarmee? Wat is die nut as ons so geoefen word en sulke massiewe "Geestelike
spiere" ontwikkel, maar ons kyk net vir mekaar en doen niks daarmee nie. Dan
kom ons maar net om in die spieëls te kyk.
1 Kor. 9:23-27 "Dit
alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan
deel kan hê. Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel
almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat
julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself
allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry,
maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel
onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar
ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die
stryd oproep en self nie kwalifiseer nie."
Lyk my ons moet maar bietjie uitkom en aan die werk kom, anders sit daai
spiere net in vet om. En dan is dit soos wat Paulus hier noem:
2 Tim 3:5 "Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die
krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie" ~ Willem Botha, 09/02/2016 |
|
Ek het onlangs twee plekke in die Bybel raakgelees waar
liefde en waarheid in verband met mekaar gebring word. Die waarheid waarvan
daar gepraat word kan, aan die een kant, die waarheid van die Woord en die
waarheid van die Evangelie wees, maar aan die anderkant sekerlik ook die
waarheid wat die gebrek aan leuens en valsheid is. So sê 1 Kor. 13:6 bv.:
Die liefde verheug hom oor die waarheid, of soos dit in die Message
vertaling staan: love takes pleasure in flowering the truth. Wanneer ons
mekaar liefhet, behoort waarheid weelderig te blom. Hoe mooi sal ons
lewenstuin nie wees as ons eerlik, openlik ,opreg en ongeveinsd is met
mekaar nie. Hoe heerlik sal die geur nie wees wat ons versprei wanneer ons
altyd en in alle omstandighede ons lippe van leuens en skinderstories
weerhou nie. Hoe kleurvol sal ons bestaan nie wees as ons “ja” altyd “ja” is
en ons “nee” altyd “nee” is nie. “Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by
die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees.” (Ef.
4:15, NLV) Sit vandag vir jou ’n bos kleurvolle blomme op jou tafel en laat
dít vir jou ’n herinnering wees om die waarheid te laat blom in jou lewe. ~
Wilna Botha, 08/02/2016 |
|
Jy maggie dansie
Jip, so het ons ouer mense grootgeword. Dans was sonde, punt.
En volgens ons een ouderling was fliek ook sonde, en selfs die dra van 'n "klinknaelbroek",
dis nou 'n denim, was nie aan te beveel nie. Mettertyd was dans nie meer so
groot probleem nie, maar op 'n Saterdagaand het die dansbaan op die kop
twaalfuur die nag toegemaak. Mens dans nie op Sondag nie. Daar was baie
ander dinge wat ook taboe was en jongmense het dit erg bevraagteken, maar
weet jy, so
laf as wat dit mag klink, het die Christene so geglo omdat hulle die wil van
God gesoek het en Hom wou behaag. Die mens wat ernstig is in sy verhouding
met die Here probeer tog maar altyd om te doen soos die Here van hom verwag.
Dis egter skrikwekkend hoe ons nou al rasionaliseer, en ons lewe in 'n
wêreld waar ons kan sê: Anything goes. Mense wil al amper vra of sonde enige
relevansie in ons lewe het.
Joh 8:21-24
Verder het Jesus vir hulle gesê: "Ek gaan weg, en julle sal My soek, maar
julle sal in julle sonde sterwe. Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie."
Die Jode het toe gesê: "Gaan hy dalk selfmoord pleeg, dat hy sê: Waar Ek
heen gaan, kan julle nie kom nie?" Toe sê Hy vir hulle: "Julle is van hier
onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie
tot hierdie wêreld nie. Daarom het Ek vir julle gesê julle sal in julle
sondes sterwe, want as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in
julle sondes sterwe."
Jy sien, dink aan twee mense, een 'n wedergebore Christen en die ander nie,
en beide doen dieselfde sonde, sal een in sy sonde sterwe en die ander nie.
Klink dit nie vir jou ook so verkeerd nie? Wel, dis presies wat Jesus in
hierdie teks vir die Jode sê "As jy nie glo dat Ek is wie Ek sê Ek is nie,
sal jy in jou sondes sterwe" Wie sê Hy dan is Hy?
Ek is die weg die waarheid en die lewe. Ek is die deur na die Lewe. Niemand
kom na die Vader behalwe deur My nie. Ek is die brood wat lewe gee.
En DIT is die verskil. Dis wie Hy sê Hy is. Dis die GELOOF daarin wat die
deurslag gee, nie soseer die doen of nie doen nie. Maar, God haat sonde! ~
Willem Botha, 07/02/2016 |
|
“’n Verwagting wat
nie uitkom nie, maak ’n mens mismoedig; ’n begeerte wat vervul word, bring
nuwe lewe.” (Spr. 13:12) As mens hoop op iets wat net nie wil gebeur nie,
kan jy nogal baie gou depressief en neerslagtig voel. Soos bv. daai groot
bestelling of werksaanbod wat net nie realiseer nie, daai siekte wat nie
genees nie, ten spyte van al die beloftes van die mediese wêreld en almal se
gebede, daai huwelik of verhouding met ’n kind wat maar net nie wil regkom
nie, daai swangerskap wat net nie gebeur nie, daai lang wag op “die regte
een” om sy verskyning te maak, daai skip wat net nooit kom nie! Ons word
gebore met ’n hart vol hoop, maar daai hoop sypel so stadigaan uit soos wat
dinge wat ons verwag nie realiseer nie. Nou het ek gewonder: hoekom gee die
Here nie maar net vir ons wat ons hart begeer nie, dan sal ons mos altyd
tevrede en vol nuwe lewe wees? Ek dink die kuns lê daarin om steeds
tevrede te bly, om steeds geloof te behou, om steeds positief te wees, al
kom jou verwagting nie uit soos wat jy gehoop het nie. Wanneer ons
verwagtinge en drome nie waar word nie, kan ons onsself altyd aan die Here
se voorsiening en Sy planne vir ons onderwerp en rus in die feit dat Hy in
beheer is en dat Hy ons ook optel en troos in ons teleurstellings.
Waarop moet ons dan hoop? Op dit wat realisties en binne ons bereik is, op
dit wat van toepassing is op ons leefwêreld, op dit wat die Here vir ons in
gedagte het. Moenie ydele, selfsugtige drome en begeertes nastreef nie, jy
gaan dalk net teleurgestel word.
’n Verwagting waarvan ons wel doodseker kan wees, is dié een op die ewige
lewe ... die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die
hemel vir ons in bewaring gehou word (1 Pet. 1:4) ~Wilna Botha, 04/02/2016 |
|
Boeretroue!
Onthou jy toe jy klein was hoe lekker ‘n troue was? Sjoe, die opgewondenheid
en afwagting weke voor die tyd. Eers in die kerk, waar die bruid en
bruidegom trou aanmekaar beloof het, en dan... die bruilofsonthaal. Daar in
die saal wag almal dat die bruid en bruidegom moet opdaag, en dit vat
heeltemal te lank na ons sin. Ons was teen nou al té lus vir die koeldrank
en lekker eetgoed. Ná die ellelange toesprake en heildronke, het die
lekkerste aangebreek: rondhardloop
op die dansvloer, of al om die stadsaal hardloop en speel saam met die
nefies en niggies. Later as jy doodmoeg was het jy sommer daar voor die
luidsprekers neergeval en net daar geslaap met die doef-doef in jou ore. Die
kar was natuurlik reeds met shoeshine gesmeer en die blikke was vasgemaak
aan die bumper. Lekker né? Die volgende oggend drink almal Eno’s in plaas
van koffie!
En so, met ‘n lekker bruilof vergelyk die Here die Koninkryk van die hemel.
‘n Lekker, aangename gebeurtenis.
Matt 22:1-14 "Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het
gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir
sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die
genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Toe stuur hy
weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg;
my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die
bruilof toe.’ “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die
een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan."
Die mense wil nie kom nie. Die Jode (die
uitverkore volk) wou nie kom nie, selfs mense van sommige ander gelowe
wil nie kom nie, die Fariseërs wou nie kom nie, party teoloë wat hulle
geloof verloor het, wil nie kom nie. Mense wat al die jare aan die
geloof vasgehou het en afvallig geraak nie, wil nie kom nie. Ai, hoe
jammer is dit nie! En ja, soms lyk dit vir my of sommiges nie genooi is
nie, maar dis nie my en jou probleem nie.
Punt is, solank jy lewe, staan die uitnodiging. Jy moet net RSVP en dit
gaan geniet. Doen dit sommer nou. ~Willem Botha, 04/02/2016
|
|
Nadat ons Sondag weer in die kerk geluister het na 1
Kor. 13 het ek net besef hoe karig my liefde maar is. Die Here se liefde vir
óns is egter die volmaakte liefde soos wat dit daar beskryf word ... Sy
liefde bedek alles en verdra alles, Sy liefde is geduldig en hou nie boek
van die kwaad nie, Sy liefde vergaan nooit. Die allerbeste wat ons kan doen,
is om Sy liefde te na-aap. Ons moet Hóm so liefhê soos wat 1 Kor. 13 sê en
ons moet streef om mekaar só lief te hê. Joh. 13:35 sê dat die wêreld sal
weet dat ons volgelinge van Jesus is as ons mekaar lief het en as dit
sigbaar is. Liefde moet met dade bewys word om ware liefde te wees. Liefde
moet ’n werk-woord, ’n doen-woord word; so ook geduld, vriendelikheid,
verdraagsaamheid, nederigheid, vergifnis en aanvaarding. Rom 5:5 sê dat die
Here sy liefde in ons harte uitstort deur die Heilige Gees – dis reeds dáár,
ons kan dit maar net laat oorvloei. Ek lees hierdie aanhaling op my
Februarie-kalender: Love is the greatest refreshment in life – mag ons almal
so ’n vars briesie wees wat opkikkering en lafenis bring vir dié wat dors is
na liefde wat nie verwyt, verwerp en veroordeel nie, vir dié wat smagtend is
na liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra. ~ Wilna
Botha, 02/02/2016 |
|
Opinie 5:2
Ek is seker jy ken hierdie teks uit jou kop uit, soos ek. Ek
kan hom enige tyd, dag of nag opsê sonder om 'n oomblik te dink. Dit is
verseker ook die mees bekende teks, wat deur enige Christen enige tyd woord
vir woord opgesê kan word. Ag kom nou, jy weet tog wat daar staan! En as jy
dalk vergeet het, hier is hy : "Dit wat jou pas, sal vir jou waarheid wees".
Mense gebruik dit graag en haal dit daagliks aan. Jy weet
seker waar dit staan, net na die boek Noag.
So paar boeke voor die boek Apollos.
Ai, ons as mense kan darem vreemd met die Woord van die Here omgaan, so asof
Hy nie ernstig was oor wat Hy geskryf het nie.
Ons leef in 'n tyd waar ons regtig groot onderskeiding aan die dag moet lê,
want ons word behoorlik deur die internet en sosiale media met "feite" en
opinies gebombardeer, en daardeur skep ons vir ons 'n godsdiens, en ook 'n
god, wat by ons opinies pas.
Nee, God is nog al die eeue dieselfde God, die enigste God, en Sy waarhede
staan nog altyd rotsvas, ongeag wat ons as waarheid vir onsself uitgemaak
het. Dinge wat ons uitdink wat nie strook met die Bybel nie, sal altyd
opinies bly, en dit kan baie gevaarlik wees.
Daar is vir my 'n goeie toets in hierdie dinge: wanneer iemand 'n leuen vir
homself as waarheid uitgemaak het, kan jy net sê: Vriend, ek hoor wat jy van
hierdie saak dink, maar ek wonder net wat God van hierdie saak dink.
2 Tim 3:16 "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in
die waarheid te onderrig..."
Die dag as ek hiervan afwyk, kan ek net sowel my Bybel weggooi. ~Willem
Botha, 01/02/2016 |
|
Verlede week moes ons in ons Hebreërs-Bybelstudie die
vraag antwoord: Wat beteken Jesus Christus se koningskap vir jou? “Maar van
sy Seun sê Hy: U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer
laat U reg geskied.” (Heb 1:8) Jesus se koningskap staan vas tot in ewigheid,
dis permanent en niemand kan Hom onttroon nie. Hy regeer vanaf God se
regterhand en het alle mag oor die hele skepping. In Op 17:14 word Hy die
Koning van die konings genoem. Daar is niemand groter, wyser, magtiger,
beter as Hy nie. Hy alleen sit op die troon en dra die kroon. Daar is
niemand sterker as Hy nie en tot in ewigheid sal Hy dié magsposisie beklee.
Die vraag wat ek myself gevra het, is: Is Hy in my lewe ook op die troon? Dra
Hy regtig in my hart ook die kroon? Laat ek Hom toe om te regeer en beheer
uit te oefen in my lewe? Om Jesus aan te neem as Verlosser, impliseer ook
dat ek Hom moet aanneem as Koning en dat ek Sy leiding en beheer in my lewe
moet aanvaar en verwelkom, dat ek sal buig voor Hom en Hom in alle
omstandighede sal eer en aanbid ... anders is ek dalk soos dié wat met spot
en ongeloof ’n doringkroon op sy kop gesit het. ~Wilna Botha, 31/01/2016 |
|
Hou jou bek!
Dit klink seker vreeslik, maar gelukkig praat ek net met Willempie!
Kyk, daardie tekste oor die tong wat so kan kwaadstook, skinder en skade
doen, dis myne daai en nee, ek is nie trots daarop nie! Weet jy, dis net
WOEPS, dan is daai woorde uit en wil ek daardie selfde tong afbyt en
uitspoeg! En stry! Goeiste, ek maak mos nie sommer 'n fout nie, behalwe
anderdag toe ek foutiewelik gedink het ek maak 'n fout.
Ongelukkig ly ek aan daai siekte van baie praat en jy ken seker daardie
toestand se naam, en dit het al baie skade gedoen. Ek ken heelwat mense wat
net stilbly en weet jy, ek ken meesal hierdie mense as wyse mense. Nou
wonder ek hoekom ek dit nie regkry nie.
Wel, hier is twee interessante tekste wat
reg na mekaar opgeteken is.
SPREUKE 26:4
Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie; hy sal
dink jy is soos hy.
SPREUKE 26:5
Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier, anders dink hy hy
het wysheid.
Dit klink of hierdie twee tekste mekaar
weerspreek, maar dit is nie so nie. Dit vra wysheid om met woorde om te
gaan, en om te weet hoe om op te tree in verskillende situasies.
Dus, dis dalk maar beter om minder te praat en meer te luister, jy het
immers een mond en twee ore. ~Willem Botha, 28/01/2016 |
|
My niggie
vertel gister vir my dat sy gesien het dat ons een tante se grafskrif sê:
“Dink aan my met mededoë.” Dit het my sommer hartseer laat voel, want die
tante het nie aldag ’n maklike lewe gelei nie en mens kry so die gevoel dat
sy gehunker het na ander se aanvaarding, simpatie en medelye. Hoe
bemoedigend is dit dan nie om te weet dat ons hierdie versugting enige tyd
na die Here kan uitroep: “dink aan my met medelye, simpatie, barmhartigheid
en vergifnis Here,” en te wéét Hy gee dit vir ons. Hy is genadig en
barmhartig, Hy is sagmoedig, Hy is lankmoedig en vol liefde, Hy vergewe
altyd weer, Hy kroon ons met aansien en eer . Ons lees so baie kere hoedat
Jesus na mense gekyk het en hulle innig jammer gekry het ... ook vir my en
vir jou en ook vir my tante. Kom ons behandel dié vir wie ons teëkom ook met
mededoë sodat hulle waardig en geliefd kan voel en veilig en geborge kan
wees. “Dink
aan my in mededoë, as ek biddend voor u pleit; milde hande,
vriend'like-oë is by U van ewigheid” ~Wilna Botha, 27/01/2016 |
|
Dra mekaar se laste
Maar nie alles nie. Sjoe, dit klink seker vreemd, negatief en selfs onbybels.
Ja, die Bybel is ernstig daaroor dat ons nie net vir onsself leef nie, dat
ons omgee vir ander, ons oorvloed moet deel en sal doen soos Jesus dit sou
doen. Natuurlik is dit waar, maar gun my asb net met hierdie boodskappie 'n
kykie na die ander kant.
GALÁSIËRS
6:2 "Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus".
Dra mekaar se laste... Wat sal die definisie hiervan
wees? Ek dink ons het dit reeds hierbo genoem, maar ons moet ander se laste
nie totaal van hulle eie skouers afhaal en alles op onsself pak nie. Om
iemand se laste te dra beteken soms om net saam met daardie persoon hulle
moeilike pad te stap, vir hulle te bid en sommer net 'n oor te wees.
Wat moet dit nie
insluit nie? Wel, moenie iemand se laste op jou neem, wat glad nie dra aan
hulle eie laste nie. Dit gebeur so baie dat mense hulle laste op ander afpak,
maar geen vinger verroer om hulle probleme uit te sorteer nie. Moet nooit
iemand se finansiële laste dra, wat roekeloos met hulle finansies omgaan nie,
en moet verseker nie hulle laste dra as hulle dit oor hulleself bring met
spandabelrigheid en slegte gewoontes nie. Moet onder geen omstandighede
ander se troetel gewoontes, wat hulle self nie kan bekostig nie, finansier
nie, vernaam as hulle hulleself en hulle gesondheid daardeur benadeel. Dit
help mense net van die wal af in die sloot. Sometimes you have to be cruel
to be kind.
Daar is egter nog iets om aan
te dink. Soms gaan ons deur moeilike tye omdat die Here ons daardeur vorm en
temper. Soms moet mense deur swaarkry gaan omdat dit deel is van God se plan
met hulle lewens, al is dit bitter moeilik om dit te aanskou. Ons moet dit
toelaat.
Rom 5:3 "Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want
ons weet: swaarkry kweek volharding".
Nou ja, kom ons misbruik nie hierdie gedagtes om weg te stap van ons
verantwoordelikheid teenoor ander nie, maar kom ons dra mekaar se laste met
groot verantwoordelikheid ~Willem Botha, 26/01/2016 |
|
“Let no one become like a
bitter plant that grows up and causes many troubles with its poison” / “Sorg
dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak
en baie besmet nie.” (Heb. 12:15) Net so sleg as wat dit is om aan iets
bitter te proe, so sleg is dit om met ’n verbitterde persoon te doen te kry
– hulle is onvergenoeg, kwaad vir die wêreld, wrewelrig en vyandig teenoor
almal en dikwels haatdraend en
onvergewensgesind. Die Bybel vergelyk dit
nie verniet met ’n plant wat wye wortels maak nie – bitterheid versprei
vinnig en besmet jou lewe, jou gesindheid, jou hart, jou verhoudings. Dis ’n
gif wat jou stadig opvreet, wat jou angstig en selfsugtig maak en keer dat
jy die lewe geniet. Ek weet dat bitterheid dikwels die gevolg is van
teleurstellings, verwerping of die een of ander traumatiese ervaring wat nie
jóú skuld was nie, maar ai, is dit nie maar tyd om te detox en daai
bitterheid wortel en tak uit te roei nie? Laat die Gees se vrug van liefde,
vrede, vreugde, selfbeheersing, geduld en vriendelikheid die bitter vrugte
verdryf, laat toe dat die Here se salf jou weer gesond en heel maak. ~ Wilna Botha, 25/01/2016 |
|
Daai bril
Ek gaan nou die dag vir 'n oogtoets vir 'n nuwe leesbril omdat ek nou 'n
meterleser is, enigiets nader as 'n meter is totaal onleesbaar! Ek verwonder
my toe aan hierdie slim masjien wat my help om my sig te verbeter. 'n
Eenvoudige lens voor my oog maak alles in 'n oogwink reg, maar ek kan
natuurlik nie sommer enige ou se bril gebruik nie , hy moet reg wees vir my
oë. Ek kan amper vra: deur watter bril kyk jy? Die regte bril gee die regte
beeld. Wat my laat wonder:
Hoe sien jy die Here, deur watter bril? En hoe dink jy sien die Here jou?
Deur watter bril kyk hy na jou?
Hoe sien
jy die Here?
* 'n Kwaai, genadelose God wat jou wil verwoes oor jou sondige bestaan?
* Soos 'n hardekwas korporaal wat jou die hele tyd wil laat afchop?
* Soos 'n onderwyser wat slegs tevrede is met 100%?
* Soos 'n diktator wat alles uit jou wil uitsuig tot sy eie voordeel?
* Dalk selfs 'n sadis wat behae skep in jou swaarkry?
Hoe dink jy sien Hy jou?
* Iemand wat die hele dag aspris droogmaak?
* 'n Swakkeling wat geen selfbeheersing het nie?
* Iemand wat net een uiteinde verdien, en dis die hel?
Nee my vriend, met Jesus se koms sien ons die Here deur 'n nuwe bril, en
Hy sien ons deur 'n nuwe bril, genaamd Jesus Christus.
Jesus het vir ons die voorhangsel kom opskeur sodat ons 'n genadige
Vader met 'n sagte hart kan leer ken. Een wie medelye het met ons
swakheid en vir ons elke dag 'n nuwe kans gee. God die Vader sien ons as
volmaakte wesens omdat die vlekke van ons sondige bestaan skoongewas is
deur die "bril" Jesus Christus. Nee, ons het verseker nie 'n "blanko
tjek" om te doen wat ons wil nie, maar ons en God sien mekaar deur
hierdie nuwe bril wat van liefde vervaardig is. Hy kan ons nie meer
anders sien nie, want dis nie Sy aard om dit te doen nie. Maar ek en jy
moet besluit hoe ons Hom sien, en daarvoor is geloof nodig.
1 Joh 4:8 “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is
liefde.” ~Willem Botha, 24/01/2016
|
|
Gelowiges is soos pelgrims op pad deur die aardse lewe
na die ewige lewe saam met die Here. Volgens die HAT is ’n pelgrim ’n
persoon wat na ’n heilige plek reis om daar te gaan aanbid. ’n Pelgrim is
eintlik ’n vreemdeling wat net van een plek na ’n ander op reis is met ’n
hoër doel as om net die omgewing te geniet en vakansie te hou; hy is nie ’n
inwoner van die land waardeur hy reis nie – hy is net tydelik daar en maak
hom nie sommer tuis nie. Die dag toe ons Jesus se uitnodiging aangeneem het
om die pad saam met Hom te stap het ons pelgrimsreis begin. Ons het afskeid
geneem van ons ou lewe, die ou plekke waaraan ons gewoond was, die ou manier
van dinge doen. Ons kyk nie, soos die Israeliete, met verlange terug na die
ou lewe of die vleispotte van Egipte nie. Nee, ons hou ons oë op die
beloofde land waarheen ons op pad is. Die pelgrim-pad mag dalk deur breë
riviere, stormwaters of deur die woestyn kronkel, daar mag fisiese ontbering
wees en geestelike aanslae, maar ons moet volhard en deurdruk op die reis en
bly fokus op die beloofde eindbestemming waar alles volmaak en wonderlik sal
wees en waar ons vir altyd in God se teenwoordigheid sal wees om Hom saam
met die engele te aanbid en Sy lof besing. Kom ons hou hande vas as
pelgrimmaats en moedig mekaar aan om te volhard op dié daaglikse reis. ~
Wilna Botha |
|
Geld wat stom is
Ai, jy het seker ook so 10% te min elke maand, of hoe? As die
skip tog net wil inkom! Of daai Lotto nommertjies! En ja, ek sal mos dadelik
10% vir die Here gee, so asof die Here daardie geld wil hê. Terloops, het jy
geweet dat jou kanse 1/14 miljoen is om die boerpot te wen? As jy dus elke
dag een kombinasie van die 6 nommers tussen 1 en 49 speel, sal jy vir
ongeveer 38300 jaar besig wees en dit sal jou so R49 miljoen kos, om dalk R1
miljoen te wen. Eish!
Iemand maak geld, maar nie jy nie! Sponsor the rich? Nee, nie Willempie nie,
ek koop liewer 'n chocolate.
Maar 'n ou ekstratjie sal darem maar lekker wees. Ek woon eendag 'n manne
ontbyt by en die spreker was 'n baie welgestelde man. Hy sê toe dat hy
tussen die rykstes van die rykes beweeg, en hy ken nie EEN enkele een wat
genoeg het nie. Sy raad aan ons was eenvoudig: Leer om tevrede te wees met
wat jy het, en jy sal gelukkiger wees as wat jy dink jy sal wees.
Wat is genoeg? Spr 30 : 8 - 9 moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie;
moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat
ek nie te veel het en U verloën en sê: Wie is die Here? nie, en sodat ek nie
arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.~ Willem Botha,
20/012016 |
|
In die Onse Vader-gebed leer Jesus ons om te bid "laat U wil
geskied." Ek het al baie kere gewonder hoekom ons dan juis moet bid dat God
se wil moet geskied want as almagtige en soewereine God sal Hy mos in elk
geval Sy wil laat geskied. Ps. 115:3 sê juis: "Alles wat Hy wil, doen Hy."
Miskien het Jesus hierdie frase in die gebed ingesluit sodat ons ons
gedagtes en behoeftes ondergeskik sal stel aan die Here se planne vir ons en
vir die wêreld. Dit kom juis vóór die gedeelte
waar ons vra vir ons daaglikse brood. Laat U wil geskied moet dus eintlik
ons belydenis wees dat God se planne belangriker is as ons behoeftes. Hý
weet wat die beste vir ons is en sal voortgaan om Sy wil te laat geskied.
Net voor Jesus gekruisig is het Hy, in bloedsweet en doodsangs, ook só gebid.
Al het Hy geweet dat dit die wil van die Vader was dat Hy gekruisig word,
het Hy nogtans gevra dat Hy dié bitter lyding mag vryspring. Jesus het as't
ware vir ons gedemonstreer hoe om onsself volledig oor te gee en die Here te
vertrou om dinge in ons lewens uit te werk. Sy wil sal in elk geval beter
wees as enige iets wat ons vir onsself kan uitdink of uitwerk. Ek wil opnuut
weer met erns, vertroue en oorgawe bid: laat U wil geskied. ~Wilna Botha,
19/01/2016 |
|
Selfliefde
Hoe stoei ons nie met hierdie gedagte nie! Om lief te wees vir jouself, is
in vandag se dae moeiliker as ooit, want ons word deur die TV en die media
blootgestel aan die mooistes, die rykstes, die slimstes, die mees
suksesvolles en net dié wat in die lewe die toon aangee. En is dit nie
hartseer nie dat ouers (vernaam pa's) hulle kinders onder geweldige druk sit
om top presteerders te wees. Vir wat? Sukses?
Hoe skrikwekkend is dit nie dat mense (tieners sowel as
volwassenes) nie meer kans sien om die lewe in die oë te kyk nie, en dan 'n
einde aan alles maak. Selfliefde is vir soveel mense net nie meer moontlik
nie. Lees hierdie twee tekste so paar keer deur:
EFESIËRS 5:29 "...
want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en
versorg dit, soos Christus met sy kerk doen". Is dit so vir jou?
Luk 10:27 Hy
antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele
siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Skrikwekkend dat
mense hulle eie liggaam kan haat! Te vet, te maar, te dit en te dat! Onvrede
met jouself, hoe sal jy vrede hê met ander? Jou naaste liefhê soos jouself?
Regtig? Gaan jy dan ooit liefhê? Absoluut hartseer dat ons 'n mensdom is wat
nie onsself in hierdie lewe kan vind nie!
Ek het pas die voorwoord
van Randall Wicomb se boek genaamd "Kleur" gelees en vind hierdie woorde
waar hy aangehaal word:
"Ek kan uiteindelik voor my geestesspieël staan en myself groet met: 'Ek het
jou gevind...' "
Hy is nie lank hierna nie oorlede. Ek hoop jy en ek vind onsself ook betyds.
~ Willem Botha, 18/01/2016 |
|
“God is streng. Maar Hy is ook vol liefde. Hy is streng
met almal wat nie na Hom luister nie. Maar Hy is lief vir almal wat in Hom
glo. Jy moet doen wat Hy sê. Anders is daar nie vir jou plek in sy boom
nie.” (Rom 11:22, Die Nuwe Testament vir kinders) God se genade en sy
strengheid lê vir my aan twee kante van dieselfde muntstuk, so ook God se
vergifnis en sy eis vir gehoorsaamheid – dit kan nie van mekaar geskei word nie; die een kan nie sonder die ander nie. God verwag getrouheid en
gehoorsaamheid van Sy kinders, Hy verwag dat ons onsself aan Hom sal
onderwerp en ons eie belange sal prysgee. Aan die ander kant weet ons tog
ook dat sy genade verniet is en dat dit groter is as enige verkeerde daad
wat ons kan doen, of slegte gedagte wat ons kan hê, of enige versuim van ons
kant af om gehoorsaam te wees aan Sy gebooie. Ons kan egter nie sy genade
goedkoop maak deur te leef soos ons wil nie. Ons kan nie sy genade goedkoop
maak deur te bly soos ons is nie. Jesus het gesê dat ons die koste moet
bereken om Hom te volg – dit vra ons lewe, want Hy het sý lewe gegee. Streef
daarom na getrouheid en opregtheid, bly nederig, bly toegewy, bly
gehoorsaam. ~ Wilna Botha, 17/01/2016 |
|
Daar was 'n vraag van iemand wat wou weet hoekom ons as Christene 'n
begrafnis diens hou na die afsterwe van 'n geliefde, en nie net die as
strooi en aangaan sonder 'n seremonie van 'n aard nie. Hier is my mening.
Hoekom hou ons 'n begrafnis in die kerk?
Of liewer, hoekom maak ons 'n Geestelike geleentheid van 'n begrafnis? Wel,
eerstens is dit 'n gebruik wat al vir eeue lank kom en vir baie mense is dit
niks anders as 'n gewoonte nie. Ek het egter al 'n byeenkoms bygewoon na die
afsterwe van 'n ateïs, waar die gestorwene uitdruklik opdrag gegee het dat
daar geen element van Geestelikheid betrokke mag wees. Sy woorde deur sy
seun: "He was vehemently opposed to one person preaching over the soul of
another". Ek het die hele ding as baie hartseer ervaar omdat dit vir my
gevoel het of die saak nie afgehandel was nie, maar dit was sy keuse. Net so
is my een oom, wat ook 'n ateïs was, oorlede en sy roudiens was by die
ondernemers se kapel gehou. Omdat hy nie 'n dominee gehad het nie, het 'n
dominee wat hom nie geken het nie, die diens gehou. Hierdie was een van die
heel treffendste begrafnis dienste wat ek ooit aangehoor het. Hy het begin
deur te sê dat hy nie die gestorwene geken het nie , maar hy het die
begrafnisgangers gekonfronteer met: Waar gaan jy wees as jy sterf? Daardie
diens was ongelooflg kragtig, en nie een persoon kon daar wegry sonder om
daaroor te wonder nie. Nou, hier is 'n paar redes hoekom begrafnisse in die
kerk gehou word.
* Wat is die stand van sake van die wat agterbly? Ek glo menige mense het al
op 'n begrafnis hulle saak met die Here reggemaak.
* Met so geleentheid vereer ons ook die afgestorwe vir sy/haar lewe en wat
die persoon in mense se lewens beteken het.
* Vir die wat agterbly (wat gelowig is) is die dood deel van die lewe. Baie
mense het in die kerk "grootgeword", hulle is daar Geestelik gevorm , daar
gedoop en daar getroud. Dus, van geboorte tot sterwe is Christus sentraal in
al die fasette van mense se lewens.
* Uit die aard van die saak is dit vir mense baie vertroostend dat God se
genade op hulle geliefdes was, en dat die lewe na die dood geen verskrikking
inhou vir die wat gered is nie.
1 Kor 15:55 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?
* Dit is vir baie mense ook 'n geleentheid om te reflekteer oor die feit dat
hierdie lewe op aarde gaan eindig en dat daar geen onafgehandelde sake
behoort te wees nie. Daar is dikwels wrywing tussen familielede, en dit word
by die graf van 'n geliefde uitgesorteer. Dit is natuurlik nie net op
Christene van toepassing nie.
Nou ja, hierdie dinge gebeur outomaties op elke begrafnisdiens, al is dit
nie Geestelik van aard nie, maar daarvoor het mens nodig om so 'n
geleentheid te skep.
Vir my persoonlik is dit belangrik omdat ons met die dood van 'n geliefde
saam voor die Here kom en daar 'n tyd is om as 'n eenheid die gestorwene
voor die Here te bring. Ons kan weliswaar niks aan die gestorwene se
Saligheid doen nie, maar ons kan saam reflekteer oor wat ons glo.
Hierdie is maar my mening, ek hoop dit help. ~ Willem Botha, 16/01/2016 |
|
Kamer 4
Ek lees 'n aangrypende getuienis van 'n predikant wat aktief betrokke is by
sterwensbegeleiding. Hy skryf dat hy bedien by 'n hospice, en die pasiënte
wat in hulle laaste dae is beland in kamer 4, aan die einde van 'n gang.
Daar bid hy vir mense se verhouding met God en daar maak hulle finaal reg
met God, maar ook met hulleself en ander mense. So vertrek vele mense van
kamer 4 af na die hiernamaals toe.
Die dominee vertel dat dit nie altyd net hartseer is nie, maar
dat mense ook met groot vrede vertrek omdat hulle alle sake afhandel wat
afgehandel moet word.
Hierdie mense het
so effe van 'n voordeel omdat hulle eintlik gedwing word om gereed te maak,
teenoor ons wat glo daar is onbeperkte tyd. Maar weet jy vriend, 'n
hartaanval, ongeluk of ander trauma kan maak dat ons kamer 4 heeltemal mis.
En dis so tragies, want mense wie se geliefdes die pad deur kamer 4 geneem
het, het gewoonlik baie vrede oor alles, maar vele ander nie.
Moet ek en jy nie maar
kamer4 se aksies gereeld uitvoer nie?
* Maak seker dat jou saak met die Here reg is.
* Sorg dat ALLE verhoudinge met ander so is dat jy met vrede sonder hulle
deur die lewe kan gaan, of hulle sonder jou.
* Vra vergifnis waar dit nodig is, en vergewe waar jy moet.
* Sorg dat daar geen onafgehandelde sake in jou lewe is nie.
* Vergewe jouself as dit nodig is, en wees tog maar lief vir jouself.
* Laastens, leef elke dag voluit! Daar is nie meer kans daarvoor na kamer 4
nie. ~ Willem Botha, 14/01/2016 |
|
Ek lees nou die dag waar iemand hierdie geskryf het:
“Hierdie lewe is die naaste wat ware Christene ooit aan die hel sal kom. En
hierdie lewe is die naaste wat ongelowiges ooit aan die hemel sal kom.” Ek
dink ons as Christene beleef dikwels aanslae en swaarkry en lyding in die
lewe. Dit lyk baie keer of alles net buite beheer raak en dan verlang ons,
soos Paulus, om liewer saam met Christus in die hemel te wees:
“Ek verlang daarna om heen te
gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.” (Fil. 1:23)
Hy sê in 2 Kor. 4:17: “Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op teen al
die goeie dinge wat op ons wat in God se nuwe wêreld nie. Ek het nie genoeg
woorde om vir julle te beskryf hoe wonderlik dit sal wees nie. Die
grootsheid en heerlikheid daarvan sal absoluut oorweldigend wees.” Ons wéét
vir ons as gelowiges, kinders van God, volgelinge van Jesus, wag daar ’n
ewige, hemelse beloning ná die “hel” wat ons nou dalk mag beleef. Ons is
seker daarvan dat ons die ewige lewe saam met God sal hê. “Wie
in die Seun glo, het die ewige lewe ...”
(Joh. 3:36) Daarteenoor, sien ons in hierdie lewe hoedat ongelowiges ongeërg
lewe, saak het met die Here, Jesus verwerp, spot met Christene en dan lyk
dit asof hulle hemel op aarde het, alles loop net goed vir hulle en hulle
is vooruitstrewend en voorspoedig. Wel, dis die naaste wat hulle aan die
hemel sal kom, want sonder Jesus wat die weg na ware hemel is, wag daar vir
hulle ’n geween en gekners van tande in die diepste duisternis van die hel.
“ ... wie egter aan die Seun ongehoorsaam
is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.” (Joh.
3:36) Vir ons wat in Jesus glo, gee Hy hierdie hemelse nuus: “Vir hulle gee
Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God
wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie.” (Joh. 10:28, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 13/01/2016 |
|
Gelykenis van die rooi Ferrari
Kom ons sê jy kom een oggend by jou huis uit en daar staan 'n
splinternuwe rooi Ferrari met 'n reuse strik op en 'n kaartjie met jou naam
op wat sê : "Joune, met liefde, geniet hom". Gratis, afbetaal, jy skuld niks.
Goeiste, Willempie val net daar flou!
Wel, ek wil dit nou vergelyk met die Ewige lewe, gratis, free
en verniet. Die groot verskil is, 'n nuwe Ferrari kan hoegenaamd nie opweeg
teen hierdie massiewe geskenk wat ons die ewige lewe noem nie,
nie eers te praat van die prys wat DIT gekos het nie!
Ek wil net so 'n bietjie van 'n vergelyking hier tref, kom ons noem dit 'n
gelykenis.
Rom 6:23 "Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God
gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here."
Matt 13:44 "Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in
'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer
toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy
koop daardie land. "
As iemand vir jou hierdie Ferrari GEGEE het, is hy JOUNE, onverdiend, klaar
betaal. Net so is die Ewige lewe 'n geskenk, klaar betaal, joune, verniet,
onverdiend.
Maar... dit kom saam met 'n reuse verantwoordelikheid!
* Dis joune, jy kan dit nie aan iemand anders skenk nie, net so is die Ewige
lewe wat God aan JOU gegee het, net JOUNE.
* Voor jy daardie Italiaanse vuurwa op die pad vat, lees jy sy handleiding
en weet hoe alles werk. Net so moet ek en jy ons in die Woord van God
verdiep, sodat ons ook kan weet wat alles saam met hierdie geskenk kom.
* As jy daardie vuurwa nie diens nie, ry jy hom vinnig tot op die ashoop.
Dis nie onmoontlik om jou Saligheid te verloor nie, weet jy? Baie mense het
al totaal hulle rug op God gedraai en alles prysgegee wat hulle gehad het.
* Die rooi kar het baie vermoëns. Hy is vinnig, en hy het padhou vermoë,
maar moenie hom op die verkeerde plek gebruik nie. ‘n Klein Toyota RAV 4X4
kan op plekke ry waar die Ferrari nie kan nie. Moenie in die gemors gaan
ploeter nie. Luister maar vir sy ingeboude GPS. Ons GPS sê: Jes 30:21 "Wanneer
jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: Hier is die
pad, loop hierlangs".
Nou ja, dis joune, dis betaal, dis lekker. Geniet dit! ~ Willem Botha,
12/01/2016 |
|
Ek dink nogal dat ons as ’n Christene se lewens gevul
behoort te wees met dankbaarheid en met hoop. Ons kan dié twee laat groei in
ons harte en lewens wanneer ons gereeld terugdink aan die Here se getrouheid,
Sy versorging en voorsiening, Sy hulp en raad wat Hy al in die verlede aan
ons bewys het en as ons bid en glo dat Hy weer Sy getrouheid aan ons sal
bewys. Wanneer jy onthou wat Hy in die verlede vir jou gedoen het, sal jy
opnuut weer bly en dankbaar wees daaroor en sal dit jou mos outomaties weer
hoop gee vir die toekoms, vir enige moeilike situasie wat voor jou mag lê,
vir enige berg wat jy dalk in hierdie nuwe jaar kan teëkom. Die Psalm
skrywer het dit ook gedoen: “Here, ek onthou wat wat U gedoen het, U
wonderlike dade van destyds. U dade bly in my gedagtes. Al U werke wil ek
bepeins.” (Ps. 77:12-13) Ek gaan myself gereeld aan hierdie aanhaling
herinner: “Looking back so the view looking forward is even clearer.” ~
Wilna Botha, 11/01/2016 |
|
Met My eie hand red ek jou.
Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie
bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou
vas, met my eie hand red Ek jou."
Ek het hierdie teks net verlede week in 'n dagstukkie gebruik
en ek is baie lief hiervoor omdat dit so 'n wonderlike belofte van God is.
Die volgende middag is ek in die swembad en 'n besie swem
verwoed, maar hy kom nêrens en ek haal hom met my vinger uit en sit hom op
die kant neer, waarna
hy wegvlieg. Op daardie oomblik tref die volle impak van hierdie teks my
soos nog nooit tevore nie. "Met My eie hand red ek jou...."
* Daardie besie kon homself nie red nie. Net so kan ons onsself nie red nie.
Redding is groter as dit waartoe die mens op sy eie in staat is. Dit is 'n
handeling van God, wat deur geen mens uitgevoer kan word nie.
* Ek het nie nodig gehad om die besie uit die water te haal nie. Net so is
God se redding niks anders as genade nie, onverdiend en baie moeilik om te
begryp. Ek weet so goed dat my lewe nie redding verdien nie, maar tog het
God die inisiatief geneem om dit te doen. Dis te groot vir my gedagtes.
* Hoekom was ek op presies die regte tyd in die swembad? Ek weet nie, maar
net so is God se tydsberekening altyd perfek.
Nou ja, hierdie teks het vir my dubbele betekenis : Redding, wat die Ewige
lewe beteken, maar ook redding wanneer ons dag tot dag in nood is. Vertrou
op die Here, met Sy eie hand red Hy jou. ~ Willem Botha, 10/01/2016 |
|
Die naam Josef
beteken “mag die Here vermeerder of byvoeg.” Dis heel gepas as ek dink aan
die twee Josefs van die Bybel. Josef, die dromer met die spesiale oorjassie
wat sy pa vir hom gemaak het, het in ’n donker put beland, word ’n slaaf,
was onskuldig aangekla en in die tronk gegooi en tog het die Here vir Hom
vermeerder en bygevoeg. Hy word aangestel as regeerder oor die hele Egipte,
hy red sy familie en sy volk van hongersnood en daar word van hom gesê: “Die
Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.”
(Gen. 39:23)
Josef, eenvoudige
skrynwerker, beland in ’n skandalige posisie toe sy verloofde swanger word
en tog het die Here vir Hom vermeerder en bygevoeg. Hy word die aardse pa en
versorger van die Verlosser, die Koning van die heelal, die Lig vir die
wêreld!
Ek en jy mag dalk nie
Josef genoem word nie, maar Josef se God is ook ons God en daarom weet ons
dat daar vir ons ook ’n dag sal kom wat ons skande opgehef sal word, wat ons
uit die put gelig sal word, uit die gevangenis-kettings losgemaak sal word
en God vir ons sal vermeerder en byvoeg, wanneer sy genade oorvloedig op ons
uitgestort sal word, wanneer Hy ons juk op Hom sal neem en aan ons vrede sal
gee wat alle verstand te bowe gaan. Hou jou oë op Hom – daardie deurbrake
sal beslis kom. ~ Wilna Botha, 07/01/2016 |
|
Doen wat jy sê
Ek dink jy het waarskynlik dieselfde gedagtes oor mense as ek. Ek hou nie
daarvan as mense vir my jok nie, maar ek hou ook nie daarvan as mense
beloftes maak en dit nie nakom nie (maar as ek eerlik met myself is doen ek
dit ook). Ek wil hê mense moet doen wat hulle sê hulle gaan 'n doen, anders
moet dit liewer nie gesê word nie. DIT is integriteit!
Jesus was werklik 'n man met integriteit, en nie net deur die dinge wat Hy
self gesê het nie, maar ook dit wat reeds
in die Ou Testament genoem is in die vorm van profesieë. Sy koms aarde toe,
die maagdelike geboorte, Sy geboorteplek en vele meer dinge was reeds baie
jare tevore genoem en het presies so waar geword. Ek kan dus met die
grootste vrymoedigheid sê dat ek alles glo wat Hy gesê het. Hier is enkele
gedagtes.
Moenie bang wees nie
Jes 41:10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek
is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand
red Ek jou.
Glo net...
Joh 6:47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.
Hy sal jou versorg en beskerm.
Ps. 121:5-8 Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.
Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad
doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm.
Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.
Jy sal voorspoedig wees.
Deut. 7:13 Hy sal jou liefhê, Hy sal jou voorspoedig maak ...
Dus, glo Hom maar gerus, Hy doen wat Hy sê. Miskien moet ons ook net
meer gereeld doen wat ons sê . ~ Willem Botha, 06/01/2016 |
|
Ek lees nou die dag die volgende op ’n suikerpakkie wat
my nogal laat dink het: “Someone to tell it to is one of the fundamental
needs of human beings.” Ons het mense nodig in ons lewens – “no man is an
island, no man stands alone,” sê die woorde van ’n ou liedjie. As jy bly is
oor goeie nuus, wil jy dit vir iemand vertel sodat hulle saam met jou kan
bly wees en feesvier; as jy hartseer is, wil jy dit deel sodat iemand die
seer saam met jou kan dra, of jou kan troos en moed inpraat. Doen moeite met
die mense om jou, maak tyd vir hulle, wees daar vir hulle, help hulle,
vergewe hulle, kies hulle kant, bid vir hulle. Julle gaan mekaar nodig hê,
jy gaan iemand nodig hê vir wie jy jou stories kan vertel en met wie jy
hartsdinge kan deel. (Nie net op Facebook nie! Persoonlik, een tot een, hart
tot hart!) – maak dus ’n punt daarvan om te bou aan verhoudings met jou
familie, vriende en kollegas. Die Bybel sê: “Sien raak wanneer ander
gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra
dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag.” (Gal
6:2) ~ Wilna Botha, 05/01/2016 |
|
Welkom 2016
Nou ja toe, daar breek die nuwe jaar weereens aan. En soos
altyd glo ek dat ons almal maar 'n paar voornemens het wat ons wil uitleef
en dis ook reg so, want as ons dit nie nou doen nie, gaan ons dit nie deur
die jaar doen nie.
Vir my is hierdie tyd van die jaar 'n tyd van reflekteer oor
verlede jaar, te dink aan al die goeie tye, maar ook die slegte tye (waarvan
daar Goddank bykans niks was nie), en dan te wonder wat hierdie nuwe jaar
sal inhou. Dankbaarheid en verwondering
oor die jaar wat was, maar ook 'n tikkie "vrees" oor wat mag kom.
Wel, gelukkig weet ons die Here is daar, in die goeie en die slegte wat mag
kom, en gelukkig hou Hy die geheime van die toekoms styf in Sy hart
weggebere. Hoe erg moet dit nie wees om te weet wat kom nie! Bv, ek wil nie
datums hê van traumatiese gebeure wat kom nie, en indien daar 'n ou
meevallertjie kom sal ek dit dan seker spandeer voor dit by my uitkom.
Nee wat, kom ons vat elke dag soos dit kom, kom ons vertrou op die Here dat
Hy die beste weet en die beste vir ons in gedagte het, kom ons maak tyd om
Hom beter te leer ken, kom ons plaas ons hoop nie op ons bankbalans nie, of
selfs op daardie vaste betrekking of goeie gesondheid nie. Kom ons werk aan
goeie verhoudinge met ons medemens en familie en kom ons probeer om die
politiek so bietjie mis te kyk.
My gebed vir jou is dat hierdie jaar jou verwagtinge sal oortref en dat daar
deurbrake en wonderwerke sal wees waar dit nodig is. Mag die Here jou
hartsgebede aanhoor, maar dat Sy wil sal geskied en jy dit so kan aanvaar.
Ek glo ons as Christene het so effe van 'n "onregverdige" voordeel as dit by
ons dag tot dag lewenswandel kom, want ons ken die Een wat reeds voor in die
lewenspad staan en wag. Kom ons drentel maar net rustig agter Hom aan. ~
Willem Botha, 04/01/2016 |
|
“Josef is ’n boom wat vrugte dra, ’n vrugteboom by die
fontein, sy takke groei oor die omheining.” (Gen. 49:22) In Gen. 49 lees ons
hoe Jakob sy seuns een vir een geseën het. Aan die begin van die nuwe jaar
neem ek dié seën in vers 22 as ’n persoonlike seën. Ek wil ’n boom wees wat
by waterstrome geplant is, wat my wortels in die Woord van die Here het, ’n
boom waarvan die blare nooit verdroog nie en wat op die regte tyd vrugte dra.
Ek wil sterk staan en ten spyte van winde en storms regop bly. Ek wil my
takke wyer as net my eie belange laat strek – ek wil dit oor die heining
laat groei, sodat dit ook skaduwee en vrugte vir ander kan verskaf. Mag ons
almal in 2016 wees soos regop bome wat die Here geplant het om te wys hoe
groot Hy is. (Jes. 61:3)
Mag die Here die sluise van die hemel oor julle almal ooptrek en julle
oorvloedig seën met Sy goedheid. ~ Wilna Botha, 03/01/2016 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|