|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2017
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Dankie
Ons groet vandag vir die feesseisoen. Soos wat ek hier sit voel ek eintlik
oorweldig oor die goedheid en guns van die Here. Ek dink terug aan
hoogtepunte en laagtepunte, en besef die hoogtepunte oorweldig alles. Ons
het nie hierdie jaar juis laagtepunte gehad nie en ons gee al die eer aan
die Here.
Ek wil sommer net sê dankie, dankie, dankie Jesus!
Dankie dat U ons nooit in die steek gelaat het nie, al het ek soms ander
dinge gekry as wat ek gevra het. Dankie dat U U seën op ons uitgestort het,
net soos ons gevra het. Dankie dat U sommige dinge NIE vir my gegee het nie.
Dankie dat ek vele dinge gekry het waarvoor ek nie eers gevra het nie.
Dankie dat ons genooi is na die feesvieringe van Jesus se geboorte. Dankie
dat ons vir 'n rukkie kan rus.
En dankie vir jou wat hierdie jaar die pad saam met ons gestap het, sonder
jou het hierdie groep en die webblad geen doel gehad nie. Dankie vir die
mooi gesindheid waarmee daar kommentaar gelewer is en dankie vir mense se
bydraes wat ons kon gebruik het. Dankie dat jy saam met ons lief is vir die
Here, en dat jy saam met ons 'n eenheid vorm voor die Here. Ons is een
wonderlike familie! Dankie ook vir mense wat vir ons bid.
Ons wens jou 'n wonderlike en geseënde Christusfees toe. Mag die geboorte
van Jesus hierdie jaar ook 'n besondere betekenis vir jou hê, en mag jy ook
saam met ons met nuwe oë na die krip van Jesus kyk. Ry mooi, rus baie, speel
hard en leef voluit in hierdie tyd.
Groete, Willem en Wilna, 20/12/2017 |
|
Mens sou nie eintlik die
Kersverhaal in Filippense soek nie, maar as ek Fil. 2:6-8 lees, dan sien ek
die nederige geboorte van die Jesus-kind afspeel. Ek lees van God wat mens
word, van die Skepper van die hemel en aarde wat ’n dienskneg word, van die
Koning van die hemel wat onder ons kom woon, saam met sondaars kom eet, in
die stofstrate van die wêreld kom stap, van die Verlosser wat verneder sou
word, sodat ons verhoog kan word, van die Redder wat gebore is sodat ek weer
gebore kan word en ewig kan lewe. “Jesus staan in status op gelyke voet met
God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status
wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad
het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie
genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie
uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink
het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder
geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n
vernedering!” (Fil. 2:6-8) Dan verstaan ek die woorde van die Stille Nag:
“Jesus kind, lank verwag ... word uit liefde aan mense gelyk” en sing ek met
oorgawe: “Heer, gebore vir ons!” en “Juig, die Redder is daar!” ! Wilna
Botha , 19/12/2017 |
|
Lukas in die Bybel was nie 'n dissipel nie. Hy was 'n
mediese dokter wat die evangelie van Lukas aan die einde van die eerste eeu
skryf. Dis baie interessant hoe die boek begin.
Luk. 1:1 - 4 " Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om 'n
verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit
opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af
ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit ook goedgedink
om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal
noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. So kan u te wete kom
dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is." Lukas het
doodseker gemaak dat hy alles 100% noukeurig navors en neerskryf. Dan lees
ons in vers 31 - 32 : "Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring,
en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die
Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader
Dawid gee..." Hier skryf 'n onafhanklike, geleerde persoon die feite neer
wat hy noukeurig nagevors het.
Dis vir my wonderlik dat Lukas SO beïndruk was met die gebeure baie dekades
gelede, dat hy baie moeite gedoen het om dit neer te pen. Ek wonder wat
Lukas sou dink dat ons vandag, bykans 2000 later, steeds hierdie stukkie
navorsing van hom elke jaar vier. Ja, ons weet dit was nie die 25ste
Desember nie, maar maak dit enige afbreek aan hierdie wonderlike verhaal? 'n
Kind is gebore, vir jou en my, en dis al wat tel. As Lukas soveel moeite
gedoen het om alles noukeurig te ondersoek en neer te skryf, kan ek dit ook
gemaklik woord vir woord glo. So ook glo ek dit wat later oor Jesus geskryf
is. Ek is vandag net so aangegryp deur hierdie verhaal wat 2000 jaar gelede
afgespeel het soos Lukas, en daarom vier ek Kersfees. ~ Willem Botha,
18/12/2017 |
|
Het jy ook al gesien dat die Here
dikwels in teenstellings werk? Hy draai dit wat vir die wêreld belangrik is
en wat vir die wêreld sin maak, sommer heeltemal om. Ek sien bv. die
volgende in die Bybel: as jy swak is, is jy sterk; wat vir mense onmoontlik
is, is vir God moontlik; wie eerste is, sal laaste wees; wie dink dat hy
staan kan val; die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God;
hoogmoediges sal verneder word, die nederiges sal verhoog word ; antwoord ’n
vloek met ’n seën en so kan die lysie aangaan. Hierdie jaar tref dit my dat
daar in die Kersverhaal ook ’n klomp sulke teenstellings is. ’n Maagd word
swanger en skenk geboorte. ’n Koning word in ’n stal gebore, lê in ’n
eenvoudige krip, toegedraai in doeke – daar is geen paleis, geen trompette,
geen kroon, geen partytjie. ’n Eenvoudige jong man en nederige vrou word die
ouers vir die Verlosser en Redder van die wêreld. God word mens. Die Lig kom
verdryf die duisternis. Dís Kersfees! Kom ons vier God se teenstellings,
want dit beteken dat ek, sondige mens vergewe en vrygespreek en silwerskoon
word. “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18) ~ Wilna
Botha, 14/12/2017 |
|
Hierdie Bybel..
... vertel van voor tot agter van Jesus Christus. Ons vier een van die dae
Kersfees en dit is vir ons 'n viering van die grootste gebeurtenis in die
mens se geskiedenis. Hierdie Boek het dit lank reeds voorspel en alles het
presies uitgespeel soos wat die Bybel sê. Daar is baie profesieë wat almal
reeds waar geword het, en daarom kan ons ook glo dat dit wat voor ons lê ook
waar sal word, presies soos wat Jesus gesê het. Die belangrikste is: "Ek kom
weer."
Maar kom ons kyk net na enkele tekste.
Gen 1:26 "Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger,
ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug,
die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” Sien
jy die woord "Ons" raak? Dit dui op meervoud wat natuurlik verwys na die
Drie-eenheid. JESUS WAS DAAR.
Joh 1:1-3 "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die
Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot
stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand
gekom nie."
Joh 1:14 "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy
heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader
het, vol genade en waarheid." JESUS DIE SKEPPER
En dan is daar die
profesieë oor Sy geboorte.
Jes 7:14 "Die Here sal daarom self vir julle 'n teken gee: 'n Jong vrou sal
swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem."
Jes 9:5" Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers,
en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader,
Vredevors." JESUS DIE VERLOSSER
Het dit nie presies so gebeur nie? Is dit nie 'n wonderlike Boek oor Jesus
Christus nie?
Dan kry ons hierdie belofte in die laaste boek van die Bybel.
Open 22:7 "Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde
van hierdie profetiese boek ter harte neem.” JESUS GAAN ONS NA HOM TOE NEEM.
Ek vier graag met groot vrymoedigheid Kersfees, want die geboorte van ons
Verlosser is vir my die grootste gebeurtenis ooit! ~ Willem Botha,
13/12/2017 |
|
Terwyl ek weer die Kersverhaal lees, sien ek drie keer
dié sinnetjie raak: moenie bang wees nie. Josef hoor dit in Matt. 1:20. Hy
moenie bang wees om voort te gaan met sy planne nie, want God is in beheer
en beplan ’n uitkoms vêr bo wat Josef kan dink of droom. God se planne het
’n groter, hoër doel al lyk dit vir Josef en sy mense meer soos ’n
verleentheid en ’n skande. Miskien is dít jou Kersfeesboodskap van God af
hierdie jaar: moenie bang wees om jou planne deur te voer nie. Die Here
verander ’n verleentheid in ’n geleentheid. Die Here maak reguit wat krom
lyk. Die Here gebruik gewone mense om Sy goddelike doel te bereik. In Luk.
1:30 hoor Maria ook: moenie bang wees nie. Sy moenie bang wees nie want die
Heilige Gees het oor haar gekom en God het genade aan haar bewys. Sy moenie
bang wees nie, want niks is vir God onmoontlik nie. Al is sy jonk, onseker
en gering gebruik die Here haar as rolspeler in die grootste gebeurtenis
ooit. Miskien is dít jou Kerfeesboodskap van God af hierdie jaar: moenie
bang wees nie, want God bewys genade aan jou en vul jou met Sy krag deur die
Heilige Gees wat in jou woon. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Hy laat alles
ten goede meewerk. In Luk. 2:10 hoor die herders ook hierdie woorde: moenie
bang wees nie. Hulle moenie bang wees nie, want die goeie nuus is dat hulle
Verlosser gekom het. Alles gaan nou nuut wees. Alles gaan nou anders wees,
want God het mens geword. Miskien is dít jou Kersfeesboodskap van God af
hierdie jaar: moenie bang wees nie, want jou Verlosser, Immanuel, Wonderbare
Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors het gekom. Alles gaan nou
anders wees! ~ Wilna Botha, 12/12/2017 |
|
'n God van liefde
Dit is tog hoe ons die Here ken, of hoe? Van Genesis tot Openbaring is dit
die boodskap wat oorgedra word en ek en jy het daarmee grootgeword. Ja dit
is waar dat die Here ons oortredings vergewe, maar ook dat ons die gevolge
van verkeerde besluite moet dra. Maar daardie gevolge maak nie dat ons
ongered is as ons reeds ons harte vir die Here gegee het nie.
Ongelukkig is daar deesdae die mees haarrysende teorieë waarmee mense
vorendag kom. Een van die baie gewildes is dat jou voorouers in dinge
betrokke kon wees wat veroorsaak dat jy sukkel met jou gesondheid, dat jou
finansies nie uitwerk nie, dat jou huweliksbootjie in die riete vassit en
dat jou kinders in gemors betrokke is. Dit verstom my dat hierdie dinge uit
die Bybel gestaaf word deur die aanhangers hiervan.
Straf die Here my dan nou vir my voorouers se oortredinge? Gaan die Here dan
my kinders en kleinkinders straf oor dinge wat ek (dalk selfs onbewustelik)
doen? Ek kry net eenvoudig nie 'n liefdevolle Here in hierdie prentjie
ingepas nie.
Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het,
sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal
hê."
Hy het Sy Seun gestuur vir MY sondes, sodat EK nie verlore gaan oor my eie
sondes nie, hoe sal ek dan swaarkry as gevolg van ander se sondes?
Daar was 'n man in ons buurt wat 'n drankprobleem gehad het en hard geveg
het daarteen. Op 'n stadium het hy sy hart vir die Here gegee, maar
ongelukkig steeds gesukkel met sy verslawing. Hy is toe eendag in 'n ongeluk
oorlede en laat toe sy vrou en dogter agter. Die persoon wat my toe van die
ongeluk vertel maak toe die volgende uitspraak:- "Hy het tot bekering gekom
maar nie sy verslawing gelos nie en nou is hy dood. Die Here laat nie met
Hom speel nie."
Die persoon insinueer toe dat die Here hom op daardie manier gestraf het.
Maar het die Here toe sy vrou en kind ook op die koop toe ook gestraf vir sy
sonde, deur hom weg te neem van hulle? 'n Kind wat haar pa amper aanbid het
en baie lief was vir hom? Dit het my net laat dink dat dit 'n absolute
liefdelose God moet wees wat dit doen.
Indien dit waar sou wees, het niemand van ons 'n kans teen sonde nie, nie
eers jou eie sonde nie, wat nog van die sondes van ander.
DIT is wat my maar net laat verstaan hoekom genade so onverstaanbaar groot
is. ~ Willem Botha, 11/12/2017 |
|
“Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig en kom
sê hy is jammer oor sy verkeerde dade. God, U sal nooit iemand wat sleg voel
oor sy sonde van U af wegstoot nie.” (Ps. 51:19, Die Boodskap) Dawid het ’n
taamlike klompie verkeerde dade op sy kerfstok gehad en hy praat sekerlik
hier van ervaring. God se liefde en sy genade staan soos ’n paal bo water en
wat jy ook al verkeerd gedoen het in jou lewe, kan en sal Hy vergewe. Jesus
het reeds die volle prys betaal. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou
en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle
ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9) Hy ís getrou. Hy sal altyd met oop arms gereed
wees om ’n afgedwaalde weer terug te ontvang, al het hy vêr draaie gemaak in
die modderige varkhokke van die lewe. Maak die besluit. Kom terug. Kom buig
en erken jou foute, soos die verlore seun in Luk. 15: “Ek sal dadelik na my
pa toe teruggaan en vir sê: Pa ek het teen God en teen Pa gesondig.” Jou
hemelse Pa wag alreeds om saam met jou fees te vier. Hy sal jou nooit van
Hom af wegstoot nie. ~ Wilna Botha, 07/12/2017 |
|
'n Vreemde wêreld
Wetenskaplikes probeer verwoed bepaal hoe God se skepping lyk.
Daar word gemeen dat ons galaksie - die Melkweg - moontlik 100 biljoen
sterre bevat. Dis baie! En dat daar dalk 100 biljoen galaksies in die
uitspansel is. Elk met tussen 100 en 300 biljoen sterre. Sjoe, dis oneindig
groot! Die afstand tussen die galaksies is ongelooflik groot, ligjare groot!
Alles in die buitenste ruim is een massiewe vakuum. Sterre en planete is van
verskillende goed gemaak, sommige net van gas.
Voorts is ons so 7.6 biljoen mense, versprei oor die aarde. Is daar nog
lewende wesens (dalk soos ons) elders in die heelal? Sekerlik baie moontlik.
Die mens se lewe is maar beperk tot hierdie stofkorreltjie wat ons planeet
aarde noem. Ons kan nie te ver gaan nie. Die maan is verower en dalk sal ons
nog eendag Mars bereik, maar ons is maar redelik vasgevang op ons stof
korreltjie.
Hoekom is ons hier? Ons klink eintlik so geweldig nietig en tot so min in
staat en ons kan SO baie dinge glad nie vermag nie. Wat my SO laat wonder
oor hierdie teks :
Ps 8 : 5 "... wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na
hom omsien?"
Wat 'n vraag? En ja, Hy dink aan ons, aan jou en my, dag en nag, aanhoudend.
En as jy Hom aanroep sal jy nooit die volgende irriterende boodskap kry nie:
"We currently experience high call volumes, please stay on the line..."
Dit verstom my. Hy is seker baie lief vir my. En vir jou ook. ~ Willem
Botha, 06/12/2017 |
|
“Vat asseblief al die
verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here. Kyk op ’n
splinternuwe manier na my. Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen
het nie. Vat alles wat sleg is uit my lewe uit ... My lewe moet skoon wees
soos die witste wol.” (Ps. 51:9, Die Boodskap) Ek is, net soos Dawid, maar
al te bewus van my swakhede en die berg verkeerde dinge wat ek al gedink,
gesê en gedoen het. Ek voel skaam en jammer dat ek die Here keer op keer
teleurstel met die foute wat ek maak. Hoe wonderlik is dit egter om vir
seker te weet dat God my wél sien as iemand wat niks verkeerds gedoen het
nie! Ek ís silwerskoon gewas. My gewete ís gereinig. Al die verkeerde dinge
van lank gelede en van nou-nou net ís uitgevee en vergete. Dit alles deur
God se genade en deur die bloed van Jesus wat my reinig en heilig. Ai, dis
groot! En ja, dis gratis! En nee, ek verdien dit nie! In 1 Kor. 6:9-10 word
heelparty baie slegte goeters genoem waaraan mens skuldig kan wees en dan sê
vers 11 dié wonderwerk: “Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is
geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en
deur die Gees van ons God.” God sien my weer as iemand wat niks verkeerd
gedoen het nie, want Hy kyk deur die bloed van Sy Seun. Ek is skoon soos die
witste wol. ~ Wilna Botha, 05/12/2017 |
|
Vir wat?
Vir wat jaag ons so agter die materiële dinge aan? Vir wat probeer ons so
naarstiglik bymekaarmaak? Hoekom is ons goeters tog so belangrik vir ons?
Pred 2 : 18-19 "Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met
soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my
kom, en wie weet of hy 'n wyse of 'n dwase mens sal wees? Tog sal hy beskik
oor alles wat ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het.
Dit kom dus ook tot niks."
Ek sien die anderdag 'n oulike ding waar iemand 'n tydlyn trek wat 80 jaar
aandui. Hy sê toe die eerste 20 jaar gaan jy skool en studeer jy, en die
laaste 15 jaar, van 65 tot 80, is jy op pensioen. Ons neem aan dis ons
gemiddelde lewensverwagting. Daardie tye is eintlik lekker tye. Maar tussen
20 en 65 werk en swoeg jy, en vir die meeste mense is dit nie altyd lekker
nie. In daardie tyd maak ons bymekaar om te leef, maar ook net om goeters te
besit.
Toe sê die persoon die volgende:- "jy maak naarstiglik bymekaar, werk jou
dood daarvoor en dan vrees jy dat jy dit gaan verloor."
So vra 'n ander persoon eendag vir die familie van 'n welaf afgestorwe: Wat
het hy nagelaat?
Waarop die persoon toe antwoord: ALLES! ~ Willem Botha, 04/12/2017 |
|
“Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle
vir My dankie sê deur julle optrede.” (Ps. 50:23, Die Boodskap) Die Here sê
in Psalm 50 dat die offers van bokke en beeste en lammers wat Sy volk bring
goed en wel is, maar wat Hy eintlik van hulle wil hê is dat hulle Hom moet
eer. Hy vra ’n offer van lof. Hy vra danksegging as ’n geskenk aan Hom. Hy
vra dat ons woorde Hom besing en vertel hoe groot en goed en genadig Hy is.
Ons woorde is egter nie genoeg nie. Hy wil hê dat ons optrede en lewenstyl
een van dankbaarheid en eerbetuiging teenoor Hom moet wees. Ons offer van
lof lê eintlik in dit wat ons dóén. Dit help nie daar is danksegging en
lofprysing op ons lippe, maar ons optrede bevestig dit nie. Dit help nie ons
gee vir die Here ’n geskenk wat met mooi papier en linte en strikke
toegedraai is, maar binne-in is daar niks nie. Wat moet die inhoud van ons
geskenk dan wees? Doen altyd wat reg is, wees regverdig, doen goeie dade aan
ander, wees mededeelsaam, sê die Woord. “Laat ons dan onophoudelik deur
Jesus aan God ’n offer van lof bring ... Moenie nalaat om goed te doen en
mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”
(Heb. 13:15-16); “Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is
eerder as dat jy offers bring.” ( Spr. 21:3) Is jy gereed met ’n geskenk vir
die Here? ~ Wilna Botha, 30/11/2017 |
|
Die Here sal jou help
Jes. 41:13 "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie
bang wees nie, Ék help jou."
Is hierdie nie 'n pragtige belofte van die Here nie? "Ék help jou!" Wie
anders? Ja, ons as mense help mekaar en dis reg so, want die Here help ons
dikwels deur ander mense te gebruik.
Wat beteken dit om te help? As ek vir iemand vra om my te kom help, dan
beteken dit dat ek self doen wat ek kan, en jou hulp gebruik vir dit wat ek
nie alleen kan doen nie. Ek dink dit werk so met die Here ook, as ek in nood
is doen ek alles wat ek kan, en maak dan staat op die Here se hulp vir dit
wat ek nie kan nie. Hierdie teks sê Hy WIL , en GAAN jou help.
Soms voel dit of die Here net so bietjie te laat gaan opdaag met Sy hulp,
soms voel dit of Hy nie jou hulpkreet hoor nie, en soms dink ons Hy weet nie
hoe om ons te help nie, maar Goddank dis nie waar nie.
Lees weer die teks: "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:
Moenie bang wees nie, Ék help jou." ~ Willem Botha, 29/11/2017 |
|
“... op die maat van musiek praat ek met julle oor God
se geheime.” (Ps. 49:5, Die Boodskap) Het dit ook al met jou gebeur dat die
Here gedurende die lofprysing of terwyl jy geestelike musiek luister ’n nuwe
gedagte in jou hart laat posvat? So asof die Here dán spesiaal met jou praat.
Onder die geklank van die musiek het hierdie Psalmskrywer een van God se
geheime kom ontbloot. Dié geheim is dat geld niks werd is nie, dat God se
guns en genade nie daarmee gekoop kan word nie, dat dit jou nie uit die dood
kan red nie, dat alles wat jy bymekaargemaak het agter bly wanneer jy die
tydelike met die ewige verwissel. “Wat help dit dat hulle die hele wêreld
aan hulle voete het met hulle baie geld? Op die ou end stap hulle met leë
hande uit hierdie wêreld uit.” (Ps. 49:17) En soos Pred. 4:8 sê: “Vir wie
sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?” Ook hier kom dit tot
niks. Dit bly 'n harde saak.” Gejaag na meer en meer geld en goed is ’n
gejaag na wind. Doen wat jou hand vind om te doen en wees tevrede met wat jy
het. As jy kos en klere het, moet jy daarmee tevrede wees sê 1 Tim 6:8. Die
geheim is uit! Maak jou skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes en
diewe dit nie kan bykom nie – dís die tipe belegging wat al ons aandag
behoort te geniet. Die opbrengs daarvan is verseker en dis groot! ~ Wilna
Botha, 28/11/2017 |
|
Gooi die net aan die
anderkant uit
Ek is seker dat jy ook al in jou lewe moedeloos was van probeer en nog en
nog probeer, en die deurbraak wil net nie kom nie. Hetsy dit gaan oor
finansies, of om werk te kry of om verhoudings te herstel. Dis darem maar 'n
moedelose stryd as jy alles gedoen het wat jy kan, en niks wil werk nie.
Lees bietjie hierdie stukkie.
Joh 21:1-6 "Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van
Tiberias. Dit het só gebeur: Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem
is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander
dissipels was daar saam. Simon Petrus sê toe vir hulle: "Ek gaan visvang." "Ons
gaan ook saam met jou," sê hulle vir hom. Hulle het gegaan en in die skuit
geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie. Toe dit al lig was, het
Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit
Hy is nie. Jesus vra toe vir hulle: "Mense, het julle nie iets gevang om te
eet nie?" "Nee," antwoord hulle Hom. Hy sê toe vir hulle: "Gooi die net aan
die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry." Hulle het die net
toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer
intrek nie".
Vir Petrus-hulle was
dit 'n moedelose poging om vis gevang te kry, maar Jesus het verder gekyk.
Hoe ver is dit dan nou van die een kant van die skuit tot die ander kant?
Maar net 'n klompie meters, maar tog het dit 'n reuse verskil gemaak.
Net so moet ek en jy maar net nog 'n keer probeer, en soms is die deurbrake
nie ver weg van waar ons reeds probeer het nie. En ja, gooi daai net NOG 'n
keer uit, probeer weer 'n keer, en vertrou op die Here. Dalk kan jy, net
soos ek, ook getuig dat aanhouer wen. Soms gee ons net te gou op. ~ Willem
Botha, 27/11/2017 |
|
Vorentoe
... is die enigste rigting as daar uitdagings op die pad is. As jy val, is
opstaan en vorentoe die absolute enigste opsie. Ons leef in tye waar ons
terug verlang na wat was, die ekonomiese welvaart, die politieke stabiliteit,
die rustige bestaan en die tye waar daar relatiewe welvaart (hoewel nie vir
almal nie) was. Vorentoe lê net onsekerheid, dalk donkerte en "doom and
gloom", gepaardgaande met min hoop.
Maar weet jy, dis niks nuuts nie, dit kom van die begin van tye af, en dis
net diegene wat vorentoe gebeur het wat oorwinning behaal het. Dis tyd om
dit wat agter is agter ons te los. Daai dae gaan nooit in der ewigheid weer
terugkom nie. "Adapt or die" is al wat vir jou en my oorbly, en net die wat
aanpas gaan 'n toekoms hê.
Pred 7 : 10 "Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie
uit wysheid dat 'n mens so sê nie."
Fil 3 : 13b "... . Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en
strek my uit na wat voor is." ~ Willem Botha, 21/11/2017 |
|
“Sing, maak God groot met elke lied. Ja, sing en moenie
ophou nie, want God is jou koning. Hy heers oor alles. Daarom moet ons
liedere sing wat vertel hoe groot Hy is.” (Ps. 47:7, Die Boodskap) Ons is so
bevoorreg om die mooiste prysliedere te hê wat ons in ons kerke en
geestelike byeenkomste kan sing. Ons het duisende lofliedere wat op CD’s en
DVD’s beskikbaar is. Ons kan letterlik oral en altyd ’n loflied op die lippe
hê. En nee, jy hoef nie mooi te sing of noot te hou nie, dit gaan oor die
woorde en die inhoud van daai lied en die gesindheid van jou hart wanneer jy
dit sing. Mens is soms geneig om maar net saam te sing sonder om op te let
na wat jy sing en wat dit werklik beteken. Partykeer wonder ek of dit nie
dalk ydellike gebruik van die Here se naam is nie ...? Kom ons sing weer ’n
slag uit volle bors en met ons hele hart terwyl ons verstand elke woord
oordink oor die grootheid van ons God. “My song will keep your fame alive
forever ...” (Ps 45:17) ~ Wilna Botha, 20/11/2017 |
|
Ons het ons kinders
grootgemaak volgens die beginsel van "spaar die roede nie". Mmm... blykbaar
is dit vandag onwettig. Maar so is ek grootgemaak en ek is nie een dag spyt
daaroor nie. Ek is nie spyt oor een pak slae wat ek gegee het nie, ek is nie
spyt oor een enkele keer wat die kinders om een of ander rede gestraf is, op
watter manier ook al nie. Ek is nie spyt dat ons hulle nie vol geld gestop
het nie, en ook nie dat hulle baie dinge weerhou is wat hulle maats dalk
gehad het nie. Ek is nie spyt dat ons nie skuld aangegaan het om vir hulle
nuwe motors te koop nie, hulle moes maar gaan met wat ons kon bekostig.
Met al hierdie dinge sal die gemiddelde persoon saamstem en selfs dink ons
het goed gedoen as ouers. Maar daar is een ding waarmee ek sukkel om met
myself vrede te maak, en dis die tong.
Jak 3:6 "Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van
die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die
geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel
aan die brand gesteek."
Ek is so ongelooflik spyt oor dinge wat ek my kinders toegesnou het, oor
afbrekende woorde wat soms so maklik gevloei het. Ek is so spyt dat ek
letsels gelos het met dolksteke wat so onnodig was omdat ek vies was.
Om vergifnis te vra is SO belangrik, maar vandag voel dit maar net of 'n
pleister geplak is op 'n wond wat diep seergemaak het.
Jak 3:8b "... geen mens kan die tong tem nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol
dodelike gif."
Wat meer kan mens sê? ~ Willem Botha, 16/11/2017 |
|
“Wees stil en weet Ek is die Here.” (Ps. 46:11, Die
Boodskap) Ek het dié teks in ’n paar ander vertalings ook opgelees. Dit sê
onder andere: Bedaar en erken... Laat staan en weet ... Be at peace ...
Calm down ... Stop fighting. In plaas van skarrel en soos ’n afkophoender
rondhardloop, móét ons bietjie die rem aanslaan en in die stadige baan van
die lewe ry, of nog beter, ons moet stilhou onder ’n koelteboom en by die
Here kom rus. Ons moet afskakel en fokus op wie Hy ís, ons moet rustig raak
sodat Hy sy vrede in ons harte kan deponeer, ons moet stilbly sodat ons sý
stem kan hoor, ons moet ontspan sodat ons kan onderskei wat werklik
belangrik is. Jes. 30:15 sê juis ook: Julle krag lê in stil wees en vertroue
hê. Sit jou eie kennis, eie drome, eie planne bietjie op ys, hou op hardloop
en baklei en streef na hoër, meer en beter en wees tevrede om die Here as
Here van jou lewe te hê. "Step out of the traffic! Take a long, loving look
at me, your High God, above politics, above everything." (Ps. 46:10, The
Message) ~ Wilna Botha, 15/11/2017 |
|
Alex is huis toe
Alex is 'n gestremde vriend by wie ons so paar jaar betrokke was. Hy was
serebraal gestremd en in 'n rolstoel en het bykans sy hele lewe in tehuise
vir gestremdes gebly. Die afgelope 47 jaar het hy in Johannesburg by een
tehuis gebly. Hy was diep gelowig en het werklik van dankbaarheid teenoor
die Here oorgeloop. As ek gevra het hoe dit gaan het hy altyd gesê: Dit gaan
baie goed dankie, die Here is ongelooflik goed vir my. Hy het nooit gekla
nie. Hy het bykans niks besit nie en geen inkomste gehad nie behalwe klein
skenkings van 'n paar mense.
Einde verlede jaar is Alex met kanker gediagnoseer, aanvanklik melanoom,
maar dit het later versprei na sy longe en toe in sy bloed. Toe die dokters
sê dat hy chemo moet kry, het hy dit onmiddellik geweier en net kort en
kragtig gesê: Ek gaan Huis toe!
Jy sien, Alex het geglo in Joh 6:47 wat sê:- "Dit verseker ek julle, wie in
My glo, het die ewige lewe."
As gevolg van daardie onwrikbare geloof, het hy besluit dat "huis toe gaan"
beter is as om met swaarkry voort te ploeter. Verlede Donderdag het Alex 64
jaar oud geword, en dieselfde nag is Alex huis toe. Hy sien op hierdie
oomblik alles waarin hy onwrikbaar geglo het, en as dit waar is wat ek met
my hele hart glo, huppel hy nou vir die eerste keer sonder sukkel of
swaarkry rond. Alex WEET op hierdie oomblik alles waarin ek en jy nog glo en
vashou. Daar is op hierdie oomblik vir hom net vreugde en genot.
Hy is Huis toe, na sy ewige woning toe, net omdat hy geglo het. ~ Willem
Botha, 14/11/2017 |
|
“Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie.
Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my
uit my swaarkry sal red. Hy is my God.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Hierdie
presiese woorde herhaal weer in Ps. 42:12 en Ps. 43:5. Dis asof die skrywer
homself moet oortuig, asof hy homself wil herprogrammeer met “moenie nou
moedeloos word nie.” Die teenvoeter vir daai moedeloosheid oor jou
gesondheid, oor die landsake en politiek, oor jou familie struwelinge, oor
jou baas se onredelike eise, oor jou geldsake, is om op God te vertrou. Om
jou oë na Hom te draai, jou fokus op Sý krag, hulp en uitkoms te plaas.
Begin dan om Hom te loof, om al Sy wonderlike eienskappe te besing, om oor
sy grootheid te jubel. Kyk, die Psalmskrywer maak ’n wilsbesluit om ’n
loflied te sing ten spyte van sy swaarkry; dis as’t ware ’n offer en dit kom
met moeite maar dit sal die wolk van moedeloosheid laat lig. Sien in jou
geestesoog hoedat die Here jou help, hoedat jy weer sterk word, hoedat
verhoudinge herstel word, hoedat jou planne in plek val, hoedat die uitkoms
aanbreek. Moenie hoop verloor nie! Moenie nou moedeloos word nie! ~ Wilna
Botha, 13/11/2017 |
|
Wees jy net jy...
Hierdie is die titel van 'n oulike liedjie van Leon Ferreira.
"Wees jy net jy, soos die Here jou gemaak het
Wees jy net jy, ja jy mag selfs jou eie smaak hê
Wees jy net jy, want daar's net een van jou, jy's gemaak op 'n bloudruk,
alles is haarfyn beplan
Die ou in jou is nogal oulik, ja wees jy net jy... "
Ongelooflike mens jy, uniek geskep deur 'n wêreldklas Ontwerper, gemaak soos
geen ander een nie, en geen sprake van massaproduksie nie. Ai, as ons dit
maar net wil glo. Want as ek so loer na die persoon hier anderkant, steek ek
sleg af. Nie maer genoeg nie, nie mooi genoeg nie, nie ryk genoeg nie, nie
so 'n persoonlikheid soos daai een nie ens. Ons raak dus sommer maklik
jaloers oor hoe die Here daardie een geskep het, en wil dus ons ontwerp
inruil vir daardie een. Goeiste, is dit nie patentreg skending nie?
Elk geval, hierdie ding werk nie, want as die Here 'n besem en 'n grassnyer
geskep het, is dit mos wat Hy nodig gehad het. Nou wil grassnyer die besem
wees wat heeldag kietsregop in die besemkas staan want die son is te warm
daar waar hy sy skeppingsdoel moet uitleef. En ou besem voel minderwaardig
want mense spot hom omdat hy skoonma se ryding is. Of is dit nou vliegding?
Ons gaan selfs sover as om jaloers te wees op 'n ander se verhouding met die
Here. Nee dit werk nie so nie, moenie in dieselfde verhouding met die Here
as 'n ander wil staan nie, wees in jou eie volmaakte verhouding met die
Here.
As jy jou weer voor die spieël staan, dan maak jy soos ou Trompie van die
Boksom-bende van ouds, as hy so vir homself gekyk en gesê het:- "Jy's darem
maar 'n mooi ou, dis nou maar wors..." ~ Willem Botha, 09/11/2017 |
|
“Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het
toe gebeur. Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Toe ek ernstig hulp gevra
het, het die Here my gehelp. .. Hy het my uit die gemors opgetel. Nou is my
lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in
my lewe gegee.” (Ps. 40:2-4, Die Boodskap) Dalk is jy nou ook in een van
daai moeilike tye waar dit voel of daar nie lig aan die einde van die tonnel
is nie, waar dit voel of jy teen ’n muur is, waar dit voel of alles buite
beheer is, waar dit voel of die Here se hulp en uitkoms net nie betyds gaan
wees nie. Hou moed, baie gelowiges was al daar. Baie voor jou is al op die
randjie van die afgrond gered. Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Hy sál
betyds daar wees om jou uit die gemors op te tel, weer jou lewe op die regte
koers te plaas, weer nuwe blydskap in jou lewe te gee. Terwyl jy wag: wees
geduldig, hou aan bid, hou aan glo, hou moed, vermy negatiewe gedagtes en
praatjies oor jou situasie, probeer om weg te kyk van jou probleem en op die
Here te fokus, vul jou gedagtes met positiewe en opbouende dinge, trek mooi
aan en sit jou lipstiffie aan, hou aan om te doen wat jy moet doen. “This
too shall pass" en dan sál daar ’n terugkyk-dag kom waarop jy soos Dawid sal
kan getuig: “Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur.”
~ Wilna Botha, 08/11/2017 |
|
Heb. 11:1 "Om te glo, is om seker te wees van die dinge
wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."
Die ongelowige wil knaend hê jy moet bewys dat dít wat jy glo waar is. Ek is
verby daardie punt. Ek wil nie meer is/is nie speel nie. Ek het gevolglik
eenkeer in so 'n gesprek vir 'n ongelowige persoon met hierdie gedagte gelos:-
* Daar is 'n lewende God, of jy die glo of nie.
*Jesus Christus het gekom as verlosser, ook vir jou, of jy dit glo of nie.
*Die Bybel is deur God geopenbaar en is ten volle waar, en Hy weerspreek nie
Homself nie, of jy dit glo of nie.
*Die Here is SO lief vir jou dat niks wat jy doen, jou van Hom af kan weghou
nie, of jy dit glo of nie.
*Daar is 'n hemel waar dié wat in Hom glo, saam met Hom sal woon, of jy dit
glo of nie.
*Daar is ook 'n hel, of jy dit glo of nie.
*Daar is ook 'n wese genaamd Satan, of jy dit glo of nie.
*Jy sal daar by hom in die hel op eindig as jy nie jou hart vir die Here
oopmaak nie, of jy dit glo of nie.
* Jy kan NOU, op hierdie oomblik Hom innooi en jy is eensklaps gered, of jy
dit glo of nie.
* En ja, dit is so maklik soos dit, of jy dit glo of nie. ~ Willem Botha,
07/11/2017 |
|
“Toe het ek vir die Here gevra: Hoe lank sal ek nog
leef? Ek wil weet hoeveel tyd ek nog oorhet!” (Ps. 39:5, Die Boodskap) Wou
jy dalk ook al dié vraag vir die Here gevra het? Hoe lank het ek nog? Ek
dink nie dis ’n vraag wat die Here vir ons sal antwoord nie. Hy het ons tye
in Sy hand en nét Hy bepaal oor lewe en dood. Die Bybel sê ons is vandag nog
hier en môre weg. Ons blaas so maklik die laaste asem uit. Ons is soos 'n
damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Almal is ewe verganklik.
Die Here sê nie hoeveel dae ons nog oor het nie, Hy sê wel dat ons dae maar
relatief min is en dat ons die beste gebruik moet maak van elke geleentheid.
Elke geleentheid vir goed wees en goeddoen moet ons aangryp. Elke
geleentheid vir leer en werk moet ons gebruik. Elke geleentheid vir regmaak
en herstel moet ons benut. Elke geleentheid om te vertel en te getuig moet
ons aangryp. Elke geleentheid vir leef en geniet moet ons omhels. Ons het
vandag. Doen wat jy moet doen, voor dit te laat is. Die lewe is té kort om
nie elke dag ten volle te geniet en met oorgawe te lééf nie! ~ Wilna Botha,
06/11/2017 |
|
Jak 5:14 - 15 "As daar iemand van julle is wat siek is,
moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid
en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle
gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond
maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word."
Hierdie is een van die bekende belofte-tekste oor genesing in die Bybel.
Daar is veel meer. Toe 'n vriend jare gelede met kanker gediagnoseer is het
ons ('n klompie vriende) vir hom gaan bid, en aan hierdie teks vasgehou. Die
Here het hom totaal genees. Maar tog hoor ons gereeld dat mense beloftes van
die Here gekry het, en op die einde nie genees is nie. Dit is vir my uiters
verwarrend, want hou die Here dan soms Sy beloftes en soms nie? Of "skep"
ons vir onsself beloftes om aan vas te hou? Tot op watter ouderdom maak
hierdie soeke na beloftes nog saak? Smag ek na hierdie genesing vir 'n hoogs
bejaarde persoon op dieselfde manier as vir my kind?
Ek kan baie antwoorde uitdink om vandag vir iemand hoop te gee, maar dit
gaan dalk maar net leë woorde wees. Daarom bly ek by die feit dat God 'n
soewereine God is en bid ek eerder dat Sy wil sal geskied en dat dit vir my
draaglik sal wees. En dan hou ek met alles wat in my is aan hierdie volgende
teks vas:-
Pred 9:4a “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop... "
Dus, hoop, bid, hou vas aan die Here totdat jy by Hom is. ~ Willem Botha,
02/11/2017 |
|
“Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat God
se kinders ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op die straathoeke en
bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig
om vir ander mense.” (Ps. 37:25, Die Boodskap) Dit klink mos nie reg nie, of
hoe? Hier is iets fout... daar ís kinders van die Here wat eensaam en
verstote is, daar ís kinders van die Here wat op die straathoeke bedel, daar
ís kinders van die Here wat honger gaan slaap. Waar lê die probleem? Lê die
probleem by die Psalm wat nie reg is nie, of by die Here wat nie na sy
kinders kyk nie, of dalk by ons wat anderpad kyk? Ons wat selfsugtig is en
net vir onsself leef? Ons wat vergeet het dat dit beter is om te gee as om
te ontvang? Ons wat nie meer omgee vir die “geringstes” nie? Ja, ek weet in
ons tyd is daar groot maatskaplike uitdagings, werkloosheid, dwelmmisbruik
ens. Ja, ek weet nie almal wat bedel kan en moet gehelp word nie en ja, ek
weet nie almal wat oënskynlik hulp nodig het, is eerlik en opreg met die
aanwending van dít wat jy met hulle deel nie en ja, ek weet dat jy ook al
verkul en misbruik gevoel het wanneer jy iemand gehelp het. Ek wil egter
maar net weer met sagter oë kyk, met ’n oper hand leef en Jesus se woorde
onthou: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die
geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
(Matt. 25:40) ~ Wilna Botha, 01/11/2017 |
|
Gebed
"Here, ek voel regtig soms so magteloos, en moedeloos. Party dae flikker
daar hoop op, ander dae val daar 'n swart kombers oor my gemoed. Gister het
ek gevoel dat ons tog vorentoe gaan, vandag oorweldig die negatiwiteit in
die nuus my weer. Soms voel ek dat die rassespanning net te erg raak, hoewel
ek tog in die winkel sien hoe die mense mekaar met respek behandel. Here ek
sien hoe vriende ongelooflik swaarkry as gevolg van siektes en hoor dat
beloftes waaraan hulle vasgehou het, nie bewaarheid word nie. Hoe werk dit
Here? Ek is SO bekommerd oor my kinders (en moontlike toekomstige
kleinkinders) en weet nie hoe om hulle moed in te praat nie. Ons land is in
SO 'n slegte toestand en dit raak net erger. Hoe gaan my en my vrou se oudag
lyk, gaan ons sinvol kan lewe tot die einde? Here, ek weet ek moet op U
vertrou en aan U beloftes vashou, maar hoekom is dit so moeilik? Maar wat
anders Here, aan wie anders? "
Hierdie gebed kom
vandag werklik uit my hart uit en dis hoe ek op hierdie oomblik voel. Maar
toe herinner die Here my daaraan dat ek nie 'n kind is wat iewers in Afrika
sterf van die honger nie, en dat ons nie in 'n oorlogs geteisterde land woon
nie. En daar is kos (in oorvloed) in die huis. Ons huis. En toe, as 'n bonus
(in my soeke na antwoorde), kom ek op hierdie gedeelte af.
Klaagliedere 3 : 21 - 26 "Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly
ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen
einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê
vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir
wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig
te wag op die hulp van die Here... " ~ Willem Botha, 31/10/2017 |
|
So, het jy toe ook vandag swart gedra om jou
ondersteuning te wys aan die boere in Suid-Afrika? Swart om sê: tot hier toe
en nie vêrder nie. Swart om te sê ons dink aan dié wat hulle lewens verloor
het, dié wat bang is, dié wat al handdoek wil ingooi. Swart om te sê: hou
moed, die Here sien, die Here help. Ek het. Elke keer as ek my swart
weerkaatsing êrens gesien het, het dit gepaard gegaan met ’n skietgebed, ’n
smeekroep, ’n sug na die Here vir hulp en uitkoms en deurbraak. Ek het
gepleit vir Sy liefde, vergifnis en genade – vir ons almal, vir óns liefde,
vergifnis en genade vir mekaar. Ek het gebid: “Gee my weer nuwe moed! Sê
hard en duidelik vir my: “Ek sal jou help.” (Ps. 35:3, Die Boodskap) Ek glo
en hoop: “Al tref duisende rampe mense wat die Here lief het, Hy sal hulle
nooit alleen los nie. Uit elke krisis sal Hy hulle red. Hy beskerm sy
kinders tot in die fynste besonderhede.” (Ps. 34:20, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 30/10/2017 |
|
“Stel jou lewe elke
dag in die Here se hand. Glo in Hom.” (Ps. 37:5, Die Boodskap) Dis die beste
manier om jou dag te begin en om dit uur vir uur voort te sit. Plaas jouself
bewustelik in die Here se hand. En blý daar! Herinner jouself kort-kort
daaraan dat Hy by jou is. Kies om te glo dat Hy in beheer is van elke detail
van jou doen en late. Vertrou dat Hy jou sal help, soos Hy belowe. Verwag
dat Hy vir jou deure sal oopmaak en geleenthede sal verseker, dat Hy jou
voorspoedig sal maak in alles wat jy aanpak en dat Hy alles ten goede sal
laat meewerk. Weet vir seker dat Hy vir jou sal sorg en jou sal beskerm en
jou sal seën. Wees gerus dat jy in veilige hande is. ~ Wilna Botha,
26/10/2017 |
|
Tekens, gebare, verkeerstekens, merkers – dis alles
goed met 'n spesifieke betekenis. Dis orals om ons. Tekens het egter in die
Bybel 'n besondere plek gehad, en die Here het dit regdeur die Bybel gebruik.
Daar was 'n spesifieke plek daarvoor en daar is vandag steeds 'n spesifieke
plek daarvoor. Soms word dit reg gebruik en soms word dit ongelukkig
verkeerd gebruik – of liewer, misbruik. In die Ou Testamentiese tyd het die
Here wondertekens gebruik om mense se geloof in Hom te versterk, soos
byvoorbeeld met Moses se kierie in Eksodus wat in 'n slang verander het, en
met Gideon wat 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer moes sit.
Vandag soek mense steeds tekens en wag daarvoor om groot besluite te maak,
maar SO dikwels sien mense dan dinge raak wat hulle pas, en neem dan die
besluite wat hulle in elk geval wou neem. Soms met katastrofiese gevolge.
Ek dink ons moet verseker in elke besluit die Here se hulp en raad vra, maar
ek twyfel of die Here elke keer 'n klinkklare teken sal gee. Ek lees in Matt
12 hoe die Fariseërs vir Jesus vir 'n teken vra, dan sê Hy die volgende:-
Matt 12:38-39 Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom:
“Meneer, ons wil 'n wonderteken van u sien.” Maar Hy antwoord hulle: “'n
Slegte en afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee
word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
Mens moet versigtig wees om nie van tekens afhanklik te raak om te glo dat
die Here daar is, jou gebede aanhoor en jou versorg nie. Ons hoef nie meer
dinge te sien om te glo nie, Hy is oral, elke dag, in elkeen van ons se
lewens.
So 'n paar praktiese punte om te oordink:
*Die Here werk soms met die oop en toemaak van deure.
*Ons het nie wondertekens nodig vir dinge wat ons weet wat reg of verkeerd
is in God se oë nie. Ons weet in elk geval .
*Soms laat die Here ons toe om met verantwoordelikheid 'n saak self goed te
ondersoek, en dan 'n goeie berekende besluit te neem.
*Moenie niks doen, of nooit 'n besluit neem, omdat die Here nog nie 'n
duidelike teken gegee het nie.
* Oppas vir wie jy vra vir bevestiging van tekens. Mense praat te maklik. ~
Willem Botha, 25/10/2017 |
|
“U oorlaai ons met goeie dinge. U liefde vloei soos ’n
rivier oor ons hele lewe. U alleen gee lewe. (Ps. 36:8-9, Die Boodskap) Die
Here se liefdestroom vloei en niks of niemand kan dit keer nie. Hy ís liefde.
Dié nimmereindigende rivier ontspring by Hom. Dit droog nooit op nie. Dit
gee lewe vir dié wat daarin staan. Dit bring vrug voort in die lewe van dié
wat daarvan drink. Dit bring genesing en verfrissing. Dit maak skoon. Dit
maak nuut. Kom en ervaar die rivier van liefde: “... dip your heart in the
stream of life, let your pain and your sorrow be washed away.” ~ Wilna
Botha, 24/10/2017 |
|
"Abraham was geen Jood nie en geen Christen nie, maar
'n opregte, 'n Moesliem, en hy was nie een van die afgodedienaars nie." So
staan dit geskryf in die Qur'an (ek besit 'n Afrikaanse vertaling).
Maar in die Bybel staan die volgende in Jak 2:23 "So is die Skrif vervul wat
sê: 'Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek', en hy is 'n
vriend van God genoem."
Die Bybel en die Qur'an is sekerlik die twee geskrifte wat die meeste gelees
en aangehaal word in ons godsdienstige wêreld. So vra baie mense (selfs
Christene) "hoe ons kan sê dat ons alleen reg is?" Wel, as jy bietjie gaan
navorsing doen kry jy baie feite wat jy maar self moet beoordeel.
Die Bybel is geskryf oor 'n tydperk van 1600 jaar deur meer as veertig
skrywers en die laaste boek ongeveer 100 na Christus.
Die Qur'an is geskryf deur Mohammed vanaf 610 NA Christus oor 'n tydperk van
so 23 jaar, dus deur een persoon. Die Bybel is in sy huidige vorm (en
volgorde) finaal saamgestel in die jaar 397, dus 200 jaar voor die Qur'an
geskryf is. Mohammed het dus die Bybel as bron gehad en haal talle karakters
en verhale uit die Bybel aan.
Ek gee vir jou ook hierdie aanhalings, dan kies jy self, daar is egter BAIE
kritieke verskille.
Qur'an hoofstuk III afdeling 23: "Die Messias, Jesus, die seun van Maria, is
slegs 'n boodskapper van Allah en van Sy woord wat hy as genadegawe van Hom
aan Maria gegee het. Glo daarom in Allah en Sy boodskappers. En sê nie:
Drie-enige. Maar staak dit, dit is vir julle beter. Allah is 'n enkele God.
Dit is ver van Sy heiligheid dat Hy 'n seun sou hê. "
Maar die Bybel sê :-
John 1:1" In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die
Woord was self God."
John 1:14 "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy
heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader
het, vol genade en waarheid."
Ek los jou met hierdie gedagte. Jesus se Godheid (as een van die Persone van
die drie-eenheid) is dié fondament waarop ons geloof staan. Die Qur'an neem
dit weg. ~ Willem Botha, 23/10/2017 |
|
Fobies
Ons ou mensdom het darem maar 'n klomp sinnelose dinge wat ons bang maak.
Dit word fobies genoem. En dan luister jy nog na oumagrootjie se stories van
afkop-vrouens wat die plaas bewandel het, dan staan tot die hare op jou
tande regop.
Hier is so paar:
Abluto-phobia: Die vrees om jouself te was
Arachibutyro-phobia: Die vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte
vasklou
Noverca-phobia: Die vrees vir ‘n stiefma
Paraskavedekatria-phobia: Die vrees vir Vrydag die 13de
Penthera-phobia: Die vrees vir jou Skoonma
Terato-phobia: Die vrees vir monsters – en om aan een geboorte te skenk
Socera-phobia: Die vrees vir jou skoonouers
Phobo-phobia: Die vrees vir vrees
Telephono-phobia: Die vrees vir telefone
Papa-phobia: Die vrees vir die Pous
Venusta-phobia: Die vrees vir mooi vroue
Daar is nog vele meer
vrese wat name het. Hier volg ‘n klompie met ‘n teenvoeter daarvoor uit die
Woord van God. Maak die vrees toe met God se beloftes. Daar is natuurlik
seker dinge waarvoor ons bang móét wees soos bv. sonde, om kwaad te word,
materialisme, wyn en drank ens. Hierdie fobies en wat die Bybel daaroor sê
is ook in die lys hieronder.
Wat sê die Bybel?
Lygo-phobia: Donkerte - Jes 60:20 "Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan
nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees,
jou dae van smart is verby."
Aero acro-phobia: Hoë plekke - Ps 18:34 "Hy maak my voete soos dié van 'n
ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan."
Acro-phobia: Pyn - Jes 53:5 "Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom"
Allodoxa-phobia: Opinies van ander - Spr 15:22 "Waar daar nie beraadslaging
is nie, slaag planne nie; dit slaag wanneer daar baie raadgewers is"
Anable-phobia: Om op te kyk na hoë plekke - Ps 18 : 30 "Met u hulp loop ek
'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie."
Angiono-phobia: Hartaanval - Ps 147:3 "Hy genees die gebrokenes van hart en
verbind hulle wonde"
Angro-phobia: Om kwaad te word - Jak 1:20 "' n Mens wat kwaad word, doen nie
wat voor God reg is nie."
Atelo-phobia : Onvolmaaktheid - Matt 5:48 "Wees julle dan volmaak soos julle
hemelse Vader volmaak is"
Athaza gora-phobia: Om vergeet te word - Jes 49:15-16 "Kan 'n vrou haar eie
baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het
nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie.Ek het jou
naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure altyd voor my."
Auto-phobia: Eensaamheid - Heb 13:5 "God self het gesê: Ek sal jou nooit
verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."
Choro-phobia: Om te dans - Ps 30:12 "Ek was in die rou, maar U het my van
vreugde laat dans."
Clepto-phobia: Diefstal - Spr 6:30 "'n Dief word verag as hy steel, ook al
steel hy om sy honger te stil."
Dystychi-phobia: Ongelukke - Ps 91:11 – 12 "Hy sal sy engele opdrag gee om
jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat
jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie."
Epistemo-phobia: Kennis - Ps 119:66 "Gee my goeie insig en kennis, want ek
stel my vertroue in u gebooie."
Gelophobia: Lag - Ps 30:6 "Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek
al weer."
Gerasco-phobiaGerasco-phobiab: Ouderdom - Spr 10:27 "Wie die Here dien, lewe
lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min."
Jes 46:4 Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal
Ek julle dra.
Hamarto-phobia: Sonde - Jes 59:2 "Dit is julle oortredinge wat skeiding
gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy
Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie."
Hema-phobia: Bloed - Rom 3:25 "Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed
versoening bewerk het vir dié wat glo."
Hypno-phobia: Slaap - Spr 3:24 "....jy sal nie bang hoef te wees as jy gaan
slaap nie; as jy gaan lê, sal jy rustig slaap."
Klepto-phobia: Diewe en skelms - Ps 37:1-3 "Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos
groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat
goed is, woon en werk rustig voort."
Necro-phobia: Dood - 1 Kor 15: 55 "Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar
is jou angel?"
Ophidio-phobia: Slange - Ps 91:13 "Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en
slange sal jy dood trap."
Penia-phobia: Armoede - Ps 146:7 "Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee
brood aan dié wat honger ly."
Philo-phobia: Liefde - Jes 54:8 "Ek ontferm My oor jou met 'n liefde wat
nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser."
Pluto-phobia: Rykdom - Matt 6 : 20 "Maak vir julle skatte in die hemel
bymekaar"
Pyro-phobia: Vuur - Jes 43:2 "As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie
skroei nie"
Satan om phobia: Satan -
Wees bang:- 1Pet 5:8 "Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel,
loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind."
Moenie bang wees nie:- 1 Joh 4:4 Julle behoort aan God, liewe kinders, en
het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die
duiwel, wat in die wêreld is.
Scelero-phobia: Slegte mense - 2 Tes 3:2 "Bid ook dat ons van verkeerde en
slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie."
Stauro-phobia: Kruisigings en kruise - Gal 6:14 "Mag God verhoed dat ek ooit
oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur
die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld."
Daar is vele fobies
wat ons vreugde steel, maar die Here speel met enigiets klaar. Plaas net jou
vertroue op Hom. ~ Willem Botha, 19/10/2017 |
|
“Kom laat ek julle iets leer! Ek gaan julle wys hoe om
die Here te dien. Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie
wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees? Jy? Pas dan
op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense
met leuens verkul nie. Vermy slegte dinge. Doen net goeie dinge aan ander.
Lewe in vrede met mense.” (Ps. 34:12-15, Die Boodskap) As die teks sê: kom
laat ek julle iets leer, voel mens sommer aan dat hier ’n “preek” gaan volg.
En in hierdie geval, ’n 3-punt preek! As jy lief is vir die lewe en goeie
dinge wil beleef en gelukkig wil wees (punt 1), moet jy die Here dien (punt
2), deur goeie dinge te doen, dié dinge wat die Here wil hê jy moet doen,
dié dinge wat Hom sal laat glimlag (punt 3). Punt 1 en 2 is lekker om te
hoor en ons hou sommer baie van sulke preke. Ons wil hoor van genade en
liefde en vergifnis. Ons wil hoor van geluk en ’n lekker lewe. Maar, as dit
kom by punt 3, sluit ons baie keer af, want ons wil nie luister na ’n klomp
moets en moenies nie. Ons wil mos lewe soos ons wil. Ons wil maak soos
almal maak. Ons wil sê wat ons wil. Ons wil vir onsself leef en nie begaan
wees oor ons naaste nie. Miskien moet ek maar liewer die “ons” waarvan ek
praat vervang met “ek”. Ek gaan weer opnuut punt 3 van die preek vandag ter
harte en vra die Here om my daarmee te help: plaas ’n wag voor my mond; laat
my ja ja wees, bly weg van slegte dinge, wees goed vir ander, leef in vrede
met almal. ~ Wilna Botha, 18/10/2017 |
|
PS 121:1-2 "Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal
daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak
het."
Hoe wonderlik begin hierdie Psalm nie. Iemand wat soekend is na die Here,
wat weet dat daar net een enkele uitweg is, en dis by God. Daar waar daar
ALTYD uitkoms en vertroosting is, daar waar wonde gesalf word, waar
trooswoorde in jou ore gefluister word en daar waar jy kan gaan skuil
wanneer daar net nie meer ander raad is nie.
Wel, waar anders? As dit nie by God is nie kan dit net by mense wees, want
daar is geen ander plek nie. Maar ons weet tog dat dit soms juis mense is
wat jou na wanhoop toe dryf. Ons kan tog ook nie ons lot gaan bekla by 'n
boom, of 'n beeld van iets nie, want 'n beeld is tog dood. So jammer dat soveel ander gelowe NIKS en NIEMAND het wat lewe nie, en dan hulleself tot
'n beeld moet wend. 'n Dooie, nuttelose beeld!
Maar ons God is 'n lewende God, met 'n oor wat altyd luister, met 'n hand
wat altyd help en wat gretig is om 'n pad saam met jou te stap deur die
mynveld waarin ons soms beland.
Hoe gaan mense sonder God deur die lewe? Is dit nie dán wat mense hulle heil
gaan soek in die verkeerde dinge soos alkohol nie?
Geseënd is diegene wat weet dat God altyd daar is. Ek is heilig oortuig dat
jy wat hier lees, al vele kere daardie helpende hand ervaar het. Ek glo
ELKEEN van ons het 'n getuienis daarvan, en as ek jou sou vra om dit te deel,
sal ons die internet by wyse van spreke kraak. Kom ons onthou dit dan as ons
bekommerd is of moeilikheid het. Hy het jou mos al voorheen gehelp, en Hy
sal dit elke keer weer doen. ~ Willem Botha, 17/10/2017 |
|
“Kyk maar: iemand kan nog een aand hartseer wees en
huil, maar die volgende oggend is hy vol blydskap. Dis net die Here wat so
iets laat gebeur.” (Ps. 30:6) Die sleutel-frase is: dis nét die Here wat so
iets laat gebeur. As mense treur of moedeloos is of siek is sonder die Here
in hulle lewe kan hulle maklik bly vassit in die donker drukgange van die
lewe. Maar ons sal nie treur soos mense sonder hoop nie, want ons het die
Here aan ons kant. Ons sal elke môre nuwe genade en nuwe hoop en nuwe moed
ontvang – op bonatuurlike wyse. “Daar is geen einde aan Sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.” (Klaagl. 3:23) Jesus het ook so gesê vir sy
dissipels in Joh. 16:20: “Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke
stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander.” “Vir hulle
wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle
sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir
vrolikheid.” Mag dit vir jou ook so wees! Hou moed, want môre sal die son
weer skyn. ~ Wilna Botha, 16/10/2017 |
|
Die laaste dae.
Ek sê gereeld die woorde "Die wêreld raak mal", as ek sien wat die mensdom
aan mekaar doen. Die sinnelose geweld, oorloë, terreurdade en moord en
doodslag. Dit maak my regtig soms verskriklik bang. En dan, saam met dit
sien ons totaal onbekende natuurverskynsels in die vorm van oorstromings,
siklone en aardbewings. Dan besef ek net dat die Bybel weereens die spyker
op die kop slaan as ons aflei dat die einde nie te ver kan wees nie.
Matt 24:3 "Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels
alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en
wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?”
Jy moet gerus die hele Matt 24 lees. Jesus sê vir hulle dat daar tekens sal
wees, en ek sien die volgende uit hierdie hoofstuk:-
Vers 6: "Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op,
moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie."
Vers 7 "Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk
teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees."
Vers 9 “Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal
julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam
bely."
Vers 10 "In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en
hulle sal mekaar verraai en mekaar haat."
Vers 11“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei." Kan
ek hier byvoeg, sommer openlik uit die kerk uit?
Vers 12 "Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde
by baie verkoel."
Ja, die mensdom praat eeue lank hiervan, maar moet tog net nie dink dat dit
nie gaan gebeur nie. Die Here kom weer, en ons moet maar net sorg dat ons
gereed is. ~ Willem Botha, 12/10/2017 |
|
“Here, my God, ek het gebid dat U my moet help. Toe het
U my gesond gemaak. Here, U het my uit die dood teruggeruk na die lewe toe.
Ek het nie doodgegaan nie.” (Ps. 30:3-4, Die Boodskap) Ai wat ’n getuienis
van die Here se werking as Geneser. Hý is die een wat uitkoms kan bring wat
medici verras. Enige genesing is ’n wonderwerk en kom van die Here af, al is
dit deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of
wat ook al. Enige genesing maak ons dankbaar en laat ons lofliedere en
eerbetuigings teenoor Hom jubel. Maar wat nou as iemand gebid en gesmeek
het, maar genesing kom nie ...? Daai is nou een van die moeilike vrae
waarmee baie van ons worstel. Onthou net daar is nie ’n gebed-resep waarmee
ons God kan afpers of manipuleer om gesond te maak nie. As jy gebid het vir
genesing en jy word nie gesond nie, is daar beslis nie fout met jou gebed of
met jou geloof nie en is die Here beslis nie doof vir jou gebede nie. Dis
nie ons gebed wat iemand genees nie, dis God wat genees. “Besef dit tog: Ek,
Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee
lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond.” (Deut. 32:39) Ons mag en móét bid
vir genesing en aanhou bid en weer bid in afhanklikheid en met ’n verwagting.
En dan moet ons rus in Sy wil, Sy liefde en Sy teenwoordigheid en tevrede
weet dat Sy genade genoeg is. ~ Wilna Botha, 11/10/2017 |
|
Heuning
Heuning is heerlik soet en word in die natuur deur bye gemaak. Daar is 55
teksverse oor heuning in die Bybel en dit kom van Genesis tot Openbaring
voor, met heelwat tekste wat verwys na die land van melk en heuning.
Deurentyd word na heuning verwys oor die heerlike smaak daarvan. Dink maar
aan 'n sny dik, heerlike varsgebakte wit brood met grondboontjiebotter en
heuning. Verruklik!
Dit is dan ook die naam van hierdie bediening en ons het dit gekies omdat
dit hopelik iets weerspieël van dit waarmee ons besig is.
Die volgende woorde beskryf ons webblad:
"www.heuning.co.za is
... 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van
die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus. Ons wil jou uitnooi om rustig
te kuier en weer en weer terug te kom."
Ons haal dan ook die volgende teksverse op ons webblad aan:
Ps 81:17 "Maar vir julle sal Hy ... versadig met heuning uit 'n rots"
Ps 19:12 "Die bepalings van die Here is reg ... soeter as heuning, as
druppels uit 'n heuningkoek"
Deut 32:13 "Die Here het ... hom heuning uit klipskeure laat geniet"
Vandat die webblad in 2008 deur Wilna geskep is, was daar ongeveer 226 000
besoeke en 'n paar jaar later het die Facebook groep die lig gesien en het
tans ongeveer 2500 lede. Die "weeklikse dagstukkies" is oor 'n tydperk van
nege jaar met die hand geskryf en beslaan:-
Ongeveer 1850 A4 bladsye (handgeskryf)
Ongeveer 544 500 woorde (meer as 'n halfmiljoen)
Ongeveer 2.7 miljoen karakters. Hordes penne is oor daardie tyd leeg geskryf!
Daarna het Wilna dit met groot geduld oorgetik en op die webblad geplaas.
Daar is ook 63 Bybelstudie stukkies op Heuning, wat Wilna geskryf het terwyl
ons by die vroue gevangenis in Pretoria betrokke was.
Daar is foto's en getuienisse van mannekampe, sowel as kampe vir gestremdes,
waarmee ons vir 'n klompie jare besig was. Dis 'n bykans onbegonne taak om
al die foto's en getuienisse op die blad te plaas en het vir Wilna baie dae
besig gehou na 'n kamp. Die vreugde wat dit mens verskaf om daarna te kyk
gee mens egter baie vreugde.
Die stukkies wat ons daagliks op die Facebook groep plaas word dan ook deur
Wilna op die webblad geplaas.
Dankie dat jy hierdie pad saam met ons stap en ook op hierdie manier saam
met ons die Here dien. Mag die Here ook hierdeur met jou praat, net soos met
ons, en mag ons almal Hom ook so bietjie beter leer ken. ~ Willem Botha,
10/10/2017 |
|
Die stem van die Here is magtig en vol majesteit. So sê
Ps. 29:4. Ons weet dat Hy alles geskep het net met die spreek van ’n woord.
Sy stem was magtig genoeg om alles, ja álles in die skepping tot stand te
bring. As Hy praat, gebeur dinge. As Hy praat gehoorsaam see en wind en
donderweer. “As die Here praat, is dit soos weerlig wat bome van bo tot
onder oopkloof; ja, as Hy praat, laat die dreuning die grootste berge soos
jong bokkies rondhuppel. As Hy iets sê, is dit soos die weerlig wat slaan en
dan bewe die verste woestyne.” (Ps. 29:5-7, Die Boodskap). As God sy stem
laat hoor, smelt die aarde weg, (Ps. 46:7). “Hoor hoe bulder die stem van
God, hoe dreun dit uit sy mond!” (Job 37:2) En dan is daar ’n ander kant.
Die sagte fluistering in die windstilte, waarvan ons in 1 Kon 19:12 lees.
Die sagte fluistering as Hy jou op jou naam roep. Die sagte uitnodiging as
Hy sê: kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus
gee. Die sagte versekering as Hy sê: Ek spreek jou vry. Softly and tenderly
Jesus is calling... en as jy sy stem hoor en oopmaak, sal Hy inkom en saam
met jou ’n feesmaal hou. (Openb. 3:20) ~ Wilna Botha, 09/10/2017 |
|
Dankie Here
Luk17 : 12 - 15 "Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien
melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan en roep hard:
“Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle
vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword. En een van
hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys."
Net een! Net een sê dankie, nadat hy genees is van 'n verskriklike siekte!
Sjoe.
Twee jaar gelede raak ek in 'n ernstige skermutseling betrokke met 'n
hoekslyp masjien, 'n "angle grinder" en ek verloor ses - nul. My hand amper
verwoes en mis die slagaar in my pols met minder as vyf millimeter.
Onlangs ry ons in die nag met een van ons gesinslede ongevalle toe vir iets
wat ons bekommer. In albei gevalle word ons uiters professioneel gehelp en
alles is opgelos.
Hoeveel keer het ek al by daardie hospitaal verbygery en vir die Here dankie
gesê vir hierdie fasiliteit 10 minute van ons huis af? Nog nooit! En hoeveel
keer het ek al vir die Here dankie gesê vir mediese personeel en spesialiste
wat jare studeer het teen enorme bedrae se studie kostes en deur middernagte
werk om mense soos ek te help? Nog nooit! Het ek al vir die Here dankie gesê
dat ek in staat is om 'n goeie mediese fonds te bekostig? Nie juis nie.
En wat van die feit dat ek elke jaar maar net oor verkoue en griep kom en
dit selfs vryspring? Bitter selde.
Ek is een van daardie nege wat maar net wegstap sonder om om te kyk en selfs
net vir die Here te knik uit erkenning.
Nood situasies maak mens kortstondig bewus van die Here se genesende hand,
maar dit hou nie lank nie. Ek het 'n letsel oorgehou op my hand (wat ten
volle genees is deur die Here) as 'n herinnering. Miskien moet ek net meer
daarna kyk en sê "Dankie Here!" ~ Willem Botha, 05/10/2017 |
|
Ek is besig om so geleidelik deur Psalms te werk. Dit
val my op hoe dikwels Dawid en die ander skrywers hulle lot bekla, hulle
probleme uitspel, hulle trane voor die Here uitstort. Hulle roep uit na Hom
en smeek vir Sy hulp, vir Sy vergifnis, vir Sy deurbrake. Soms klink dit
heel swartgallig, depressief en sonder hoop. Maar, elke liewe keer eindig
dit met die belydenis van nuwe vertrou in die Here, met erkenning van die
Here se grootheid en sorg en genade, met lofprysinge oor die Here se hulp en
redding. Soos hier in Ps. 27: “Die Here help my deur my donkerste krisis. Sy
hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Omdat Hy my
help, is daar niks waarvoor ek bang is nie. Die Here beskerm my, waarvoor
sal ek dan bang wees?” (Ps. 27:1) en “Dis net my geloof in die Here wat my
staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. Stel al jou hoop op
die Here! Hou moed! Moenie tou opgooi nie; bly glo in die Here!” (Ps.
27:13-14) ~ Wilna Botha, 04/10/2017 |
|
Kom!
Dalk stoei jy op die oomblik met goed en daar is net nie deurbrake nie, dan
het ou Petrus net die regte raad vir jou.
Matt 14: 25 - 29 Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle
toe aangeloop gekom. Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle
groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.
Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek.
Moenie bang wees nie.” Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is,
beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die
skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.
Hierdie verhaal van
Petrus wat op die water loop sal my seker vir altyd aangryp. Petrus die
waaghalsige, Petrus die dapper een wat 'n soldaat se oor afkap, maar
dieselfde Petrus wat vir 'n diensmeisie wegvlug toe hy vir Jesus verloën.
Kleurryke karakter.
Daardie water-lopery wys darem baie van Petrus se karakter. Die ander
dissipels skreeu (soos meisies?) vir hierdie "spook", maar Petrus loop Hom
tegemoet, nogal bo-op die water!
Hier is nogal 'n goeie les hierin te leer. Hierdie klink dalk vir jou ook
bekend:
* Here ek kan nie
* Nee, ek wag nog op die Here
* Nee ek bid nog eers oor die saak (ja jy moet bid oor die saak)
* Ek wag nog eers vir 'n teken
* Ek het nog nie die Here se stem gehoor nie
* Ek het nie daardie gawes of talente nie
Nee, soms moet mens maar net ophou met verskonings en doen wat jy kan, en
dan werk die Here bonatuurlik in en deur jou. Verlaat die gemak en
veiligheid van die skuit en loop in geloof. Neem daardie stap wat al so lank
uitgestel word. Stuur die CV uit as jy ongelukkig is, sien 'n berader as die
huwelikskuit in die riete vassit, gaan maak daardie verhouding reg wat
soveel onenigheid veroorsaak, breek die verkeerde verhouding wat jou in die
sop gaan laat beland, vergewe waar nodig en vra vergifnis waar nodig.
As Petrus vir die storm bly kyk het het hy nooit daardie ongelooflike
ervaring gehad nie. Toe Jesus sê "Kom", toe stap hy. Dalk sê die Here vandag
vir jou ook "KOM". ~ Willem Botha, 03/10/2017 |
|
“Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word:
Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom dien.
Almal moet dit doen.” (Ps. 25:10, Die Boodskap) Daar het jy nou jou
lewensdoel, jou droom, jou visie in een sin! Daar het jy die Here se wil vir
jou en vir ons almal in een sin! Dis iets waaroor mense baie wonder, waaroor
baie gepreek word en waaroor baie boeke geskryf word: wat is die Here se wil
vir my, of wat is my skeppingsdoel? Sy wil is dat ons Hom moet liefhê, Hom
moet eerste stel, Hom moet dien – met ons hele hart, ons hele verstand en al
ons kragte. Dit laat my onwillekeurig dink aan Matt. 6:33 “Beywer julle
allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...” Baie keer
dink mens om die Here te dien beteken om allerhande goeie goed te doen, soos
om te bid, kerk toe te gaan, armes te help, geld weg te gee, betrokke te
wees in bedieninge van jou kerk, ens. Al daai dinge is goed en belangrik om
te doen, maar ek het al self ervaar en dit dikwels gesien dat jou bediening
groter kan word as jou liefde vir die Here; dat jou bediening meer plek in
jou gedagtes en in jou dagboek kan inneem as die Here self. Nou wonder ek...
wat sal ek en jy vandag sê as die Here vir ons, soos vir Petrus, vra: “Het
jy My baie lief?” ~ Wilna Botha, 02/10/2017 |
|
Jou vyand
Daar was vandag 'n gewapende roof by die kompleks waar beide my kinders bly.
Goddank was hulle self nie betrokke nie. Maar hoe voel jy as jou kinders so
bedreig word? Kan ek vandag vir jou baie eerlik, uit my hart uit sê, sonder
om doekies om te draai? Die eerste emosie was: ek verag daardie rowers uit
die diepte van my hart uit en vir 'n vlietende oomblik is ek in my gedagtes
40 jaar terug waar ons in die weermag opgelei is om die vyand wat jou mense
bedreig, summier te elimineer. En nee, nie met 'n rustige gesprek oor 'n
koppie koffie nie.
Maar toe kom hierdie teks by my op.
Mat 5:43-44 "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê
en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande
liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg..."
Here regtig? RÊRIG? Kan U dit werklik van ons verwag? Is dit so maklik soos
om 'n paar woorde te lees en siedaar? En wat van die volgende slagoffers
Here?
Toe besef ek, daar is geen reseppies wat hierdie ding kan laat gebeur nie.
Dis net 'n besluit, 'n wilsbesluit wat ons net eenvoudig MOET neem. As ek
nie by daardie "vergifnis" uitkom nie is ek ook 'n slagoffer van daardie
krimineel. Elke keer wat ek met haat aan hulle dink, drink ek gif en hoop
hulle sterf.
Daardie vergifnis beteken nie dat alles okay is nie, en ook nie dat hulle
dade reg is nie. Dis 'n saak tussen hulle en die Here, en hulle moet voor
Hom antwoord.
Heb 10:31 "Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val."
En DIT, wens ek niemand toe nie. Mag hulle betyds tot inkeer kom. ~ Willem
Botha, 28/09/2017 |
|
“Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas;
ek het niks meer nodig nie.” (Ps. 23:1, Die Boodskap) Wil jy nie maar soos
’n skaap agter Jesus aanloop nie? In volle vertroue dat Hy vir jou sal sorg
op so ’n manier dat jy niks meer nodig het nie. Met volle sekerheid dat Hy
die beste vir jou in gedagte het. Met volle tevredenheid dat Hy jou veilig
sal hou en na groen weivelde sal lei. Met volle gerustheid omdat Hy jou op
jou naam roep, dat Hy jou ken, dat Hy weet waar jy is en waarmee jy sukkel.
Met volle oorgawe omdat Hy die Goeie Herder is wat sy lewe vir jou afgelê
het. Blindelings. Sonder vrae. Sonder voorbehoud. Sonder spyt. As jy dalk
afgedwaal het, kan jy verseker weet dat Hy 99 ander sal los om jou te kom
soek. Hy sal jou op sy skouers terugdra, jou wonde verbind en weer vir jou
vrede gee. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal
het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.” (Eseg.
34:16) ~ Wilna Botha, 27/09/2017 |
|
Die wêreld is nou maar eenmaal 'n ongemaklike en moeilike
plek en ons as kinders van God spring hoegenaamd nie die slegte dinge vry
nie. Ek glo jy het ook al in tye waar jy totaal platgeslaan was gewonder
waar die Here is.
Maar wat steeds soos 'n paal bo water staan, is dat Hy liefde
is.
1 John 4:8 "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie,
want God is liefde."
Ons lees hierdie volgende teks in Johannes waar Lasarus
(Jesus se vriend) sterf en Hy by die graf aankom,
vier dae na Lasarus se dood.
John 11:35 "Jesus wept"
Joh 11:35 "Jesus het gehuil"
Enkele woorde wat Sy hele wese beskryf. Woorde wat sê hoeveel Hy omgee as ek
en jy swaarkry, en as 'n geliefde van jou sterf. Sy hart vir Sy kinders wat
deur diep water gaan, én in tye waar die hele wêreld om jou inmekaar tuimel.
Vriend, die Here weet presies waardeur jy gaan, en al vat dit hoe lank om
oor hierdie ding te kom, is Hy saam met jou ontsteld en hartseer. Hy het wel
vir Lasarus uit die dood opgewek, maar dit beteken nie dat jou hartseer in
'n oogwink verdwyn nie, want ons woon maar steeds in 'n gebroke wêreld wat
onvolmaak is.
Die Here is daar en net 'n uitroep ver. Na wie toe anders sal jy gaan? Na
wie toe anders sal jy wil gaan? Wie anders is daar?
Ps 94:18 "Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou,
Here." ~ Willem Botha, 26/09/2017 |
|
“Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So
sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.
Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.”
(Ps. 22:31-32) Dit is die Here se wil dat ons ’n nageslag moet hê wat Hom
ken en eer en dien. (lees Mal 2:15). Ons geloof moet as’t ware oorgedra word
op ons kinders, dit moet afgee op hulle, hulle moet dit van ons erf. Uit die
aard van die saak moet ons nie net praat oor die Here en vir ons kinders
“preek” nie, ons optrede moet beaam wat ons sê. Kinders van gelowige ouers
is natuurlik nie vanselfsprekend gelowiges nie. Hulle moet sélf kies vir die
Here. Hulle moet sélf ’n persoonlike verhouding met Hom hê. Maar kinders van
gelowige ouers het beslis dié voordeel dat God se seën en beloftes reeds vir
hulle gereed is. “Wat God belowe, is vir julle en vir julle kinders ...”
(Hand 2:39). Sy genade is beskikbaar van geslag tot geslag. Hy sê: “Ek
betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My lief het...” (Eks
20:6) Mag ons kinders opgewonde wees om in Hom te glo. ~ Wilna Botha,
25/09/2017 |
|
Kies een
In die Ou Testament word daar baie verwys na afgode, met verskillende name
en wat verskillende dinge doen en verteenwoordig. Dit kom al van die
vroegste tye af en was nog altyd in opposisie met God. Daar word ook verwys
na afgode as daar gepraat word van dinge soos owerspel en ander goed wat die
mens beoefen. 'n Afgod is kortweg iets/iemand wat jy in die plek van God
sit, en dis alledaagse goed wat jy wetend of onwetend doen.
In die Nuwe Testament is daar dan die alombekende Mammon, wat (sover ek
agterkom), die enigste afgod is wat in die Nuwe Testament by die naam genoem
word.
MATTEUS 6:24 “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een
minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een
afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
LUKAS 16:9 “En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle
vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in
die ewige wonings sal ontvang.
LUKAS 16:11 "As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die
oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?"
Hierdie is 'n lelike kalant en ek dink die meeste van ons buig die knie op
een of ander manier voor hom.
Nou is die vraag: Is daar fout met baie geld? Hoeveel is baie? Is dit nie
maar relatief nie? Mag party meer as ander hê? Wat van die wat te lui is om
te werk?
Wel, daar is 'n beter vraag: wat kry Mammon met ons reg? Wat gee ons prys om
hom te bevredig? En dryf hy ons weg van God af?
Dan sê die Here: Jy kan net EEN kies as jou god/God.
LUKAS 16:13 “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy
sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en
die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” ~ Willem
Botha, 21/09/2017 |
|
In Ps. 20:2-5 lees ek hierdie baie mooi seëngebed: “Mag
die Here jou gebed verhoor as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob
jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy
graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.” Ons kan mekaar met
hierdie woorde seën en dit sal ’n bindende seën wees. Die woorde laat my
baie dink aan die priesterlike seën waarvan ons in Num. 6:22-27 lees en daar
sê dit as die priesters die volk só seën, sal die Here hulle seën. As
gelowiges is ons nou priesters en daarom kan ons hierdie seën oor onsself
en oor ons mense bid en met oop arms die seën van die Here verwag. Onthou
ook om jou vyande te seën. Dink net watter verskil dit in daai persoon se
lewe kan maak. Dink net watter verskil dit in jóú lewe kan maak. Dalk net,
kom die seën wat jy in opregtheid uitspreek, ook terug na jou toe. “Moenie
kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel,
antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën
van God kan verkry.” (1 Pet. 3:9) Mag die Here jou seën! ~ Wilna Botha,
20/09/2017 |
|
Yo-yo
Soms voel my gemoed soos 'n klimtol ('n yo-yo vir die wat nie weet nie),
vernaam na 'n Sondag. Jy gaan kerk toe, of lees die Bybel en sien die
wonderlike beloftes van die Here raak. Dan rol jy dit soos 'n toffie in jou
mond rond en daardie klimtol het opgeklim tot bo, maar die oomblik wat jy
jouself aan enige vorm van media blootstel, val daardie klimtol in sekondes
tot onder en jou gemoed is in die grond in.
Dit lyk of daar konstant 'n toutrekkery is tussen God se beloftes, en die
negatiewe dinge van die wêreld. Ons weet tog dat God se beloftes altyd bly
staan, en dat Hy nooit verander nie, maar tog skree die wêreld so hard dat
dit die Here se stem totaal verdoof. Ek lees hierdie sinnetjie in die
Boodskap raak.
Dit kom uit Rom 3:4 "God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en
bedrieg almal op aarde."
Sjoe, stel jouself aan media (radio, nuus, TV, Facebook, koerante) bloot, en
die leuens stroom soos riviere uit almal se monde. Dan begin die toutrekkery
tussen die soete beloftes van die Here en die bose geraas en blaas van die
wêreld. Terloops, sou jy geweet het dit gaan sleg as jy dit nie in die media
lees nie?
Die Here sê in Jer 29: 11 "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:
voorspoed en nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!" Die
wêreld sê: alles is hopeloos en hooploos, ons is op pad om soos Zimbabwe te
word. Dan val daai klimtol soos 'n klip.
Besef jy hoe groot die monster van depressie is? Is dit nie dalk deels omdat
ons ons te veel steur aan die leuens van die leuenaars nie? Moet ons nie
dalk eerder net onsself voer met hoop wat uit God se Woord kom nie?
Ek wil vandag kies vir wie ek glo, en ek weet wat my keuse is. Ek staan by
die Woord van God!
Jos 24:15 " Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” ~ Willem
Botha, 19/09/2017 |
|
Ps. 19:13 sê so ’n
waar ding: “Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd
doen nie.” Partykeer raak mens so gewoond aan die verkeerde dinge wat jy
doen, soos bv. jok, skinder, verneuk, vloek, neerkyk op ander,
liefdeloosheid ens. dat jy nie meer agterkom jy doen dit nie. Daai vuil
kolle is so deel van jou, jy sien dit nie eers meer raak nie. Dalk sê jy: ag,
almal doen dit, ek kan netsowel ook. Dalk sê jy: ag, dis nie so erg in
vergelyking met wat sus en so aanvang nie. In die hedendaagse tye raak ons
maklik afgestomp vir die sonde wat in ons lewens heers. Ek vra maar net weer
vandag die Here om deur die Heilige Gees my gewete sensitief te maak, ’n wag
voor my mond te sit, my te weerhou van slegte dinge waaraan ek so maklik kan
meedoen. Ek maak Ps. 19:13-14 vandag my opregte gebed: “Here, vergewe al my
foute waarvan ek nie weet nie. Keer my as ek van plan is om verkeerde dinge
te doen. Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie. As U my help,
sal ek sonder foute wees.” (Ps. 19:13-14) ~ Wilna Botha, 14/09/2017 |
|
Woede is 'n vreeslike
ding, dit laat mense verskriklike dinge doen waaroor hulle gewoonlik later
spyt is. Ek is oortuig daarvan dat jy jouself ook dalk vandag in 'n ander
bloedgroep in vererg het. En dalk ook woorde gebruik het soos: "Ek kan moord
pleeg...!"
En dis presies wat met Kain gebeur het toe hy vir Abel vermoor het, uit
jaloesie omdat die Here Abel se offer aangeneem het en nie syne nie.
Gen 4:8 "Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was,
het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak."
Woede is natuurlik 'n menslike emosie en selfs Jesus was so kwaad vir die
mense dat Hy die tafels in die tempel omgegooi het. Die probleem is nie die
woede nie, maar die reaksie daarop. In ons samelewing is padwoede so
algemeen soos ontbyt eet, en boeta, as daai manne mekaar langs die pad
beetkry klap die skote sommer vinnig.
Die woord "kwaad" kom 270 keer in die Bybel voor (in verskillende kontekste),
wat maar net sê dis normaal, maar Paulus het nogal iets besonders hieroor te
sê.
Ef 4:26 "As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad
afsluit nie." En dan ook...
Rom12:17 "Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle
mense."
Dus, neem betyds die besluit om maar net op jou tande te byt. 'n Vriend sê
eendag dat hy 'n besluit geneem het. As 'n taxi voor hom in ry, gaan hy net
uitroep : "kyk sulke vernuf..." ~ Willem Botha, 13/09/2017 |
|
“As jy opkyk na die
hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is
oral in die lug opgeteken. In die blou hemelruim sien jy hoe mooi God se
handewerk alles rondom ons versier. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe
belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een
nag vir die volgende nag fluister.” (Ps. 19:2-3, Die Boodskap) Alles wat Hy
gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is! ’n Blom eer die Here met sy
blom-wees. Die sterre met hulle ster-wees. Die berge met hulle berg-wees. So
eer alles die Here deur te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees. Dit geld
natuurlik vir ons ook. Dis vir my so ’n mooi gedagte dat alles, maar alles
onophoudelik buig en ruis en skitter en sing tot eer van die Here. En soos
die een dag vir die volgende dag herinner dat God in beheer is en alle eer
verdien, soos die een nag dit fluister vir die volgende nag, so moet ons ook
vertel en mekaar herinner aan God se grootheid, Sy almag en Sy belangrikheid
in ons lewens. ~ Wilna Botha, 12/09/2017 |
|
Daai groen monster
Bly jy ook langs die familie Jones? Daardie mense wie se huis so bietjie
mooier is, wie se motor so bietjie meer status gee aan hulle lewens, en nie
eers te praat van hulle skrander kinders en die vakansiehuis by die see nie.
Ongelooflik tot watter uiterstes jaloesie mense sal laat gaan. Die Bybel
waarsku dikwels teen begeer en die gevolge daarvan. Kan jy glo, mense raak
selfs jaloers op ander se Geestelike lewens!
Jak. 4:2 "Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle
is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en
dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie."
Jip, selfs moord pleeg. Dis verstommend wat jaloesie aan mense doen. Hoeveel
keer het mens al gesien dat iemand so sieklik jaloers is op sy/haar
lewensmaat, en dan daardie maat vir wie hulle lief is, so valslik beskuldig,
dat hulle daardie persoon op die einde verloor. Jaloesie is destruktief!
Eendag het 'n vrou 'n baie waar woorde gesê. Sy het gesê dat sy sien dat
sommige vrouens (en mans natuurlik), hulle lewensmaat onder geweldige
finansiële druk plaas omdat hulle net die beste wil hê sodat hulle met ander
kan kompeteer. Dit lei dan tot onnodige skuld wat aangegaan moet word en hoë
stresvlakke.
Ai, as ons maar net kan leer om tevrede te wees met wat ons het.
Spr. 15:16-17 "Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis
daaroor. Liewer net 'n bietjie groente en liefde daarby as 'n vetgemaakte os
en haat daarby." ~ Willem Botha, 12/09/2017 |
|
“O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is,
verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm.
Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) Ek het al dikwels mense gesien wat
baie siek is, maar daar is steeds ’n lig in hulle oë, mense wat hartseer is
oor die dood van geliefde, maar daar is steeds ’n glinstering in hulle te
sien, mense wat hulle werk verloor het, maar daar is steeds ’n vonk in hulle
hart – dís die Here se lig in hulle wat daai verskil maak, wat hulle moed
gee vir hulle situasie, wat hulle sterk maak vir die struikelblokke wat voor
hulle lê. In die donker tye van bekommernis, in die diepte van depressie, in
die eensaamheid van gebroke verhoudings, in die dolle duisternis van die
alledaagse probleme – steek jou hand uit na die Ligskakelaar. Die Here is by
jou. Die donker sal verdwyn. Jy sal weer kans sien vir alles. ~ Wilna Botha,
07/09/2017 |
|
Met Sy hande en Sy asem
Ek onthou so goed toe ons kinders baba's wees en dis badtyd. Met jou hande
was jy daardie sagte lyfie, smeer dit room en druk hulle styf teen jou eie
liggaam vas. Daardie onbeskryflike liefde wat ek gevoel het, sal ek nooit
ooit kan vergeet nie. Ek glo dis hoe die Here dit ervaar het toe Hy vir Adam
geskep het.
Ek sien in my geestesoog hoe die Here in die tuin wandel en besluit: vandag
is die dag! Ek gaan iemand skep na My beeld en dit sal die kroon van My
skepping wees. Dan buk Hy af grond toe en begin stof by mekaar skraap en
vorm uit daardie stof iets wat lyk soos 'n mens. Dan buk Hy vooroor, plaas
Sy lippe op die mens se lippe en blaas saggies lewensasem daarin, en die
mens begin lewe. Dis min of meer hoe dit in Genesis geskryf staan.
Gen 2:7 "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en
lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het."
Hierdie is die model wat die Bybel beskryf, en daarom kan ek nie die
ontstaan van die mens anders aanvaar nie. Uniek, spesiaal, volmaak en God se
oogappel.
Ek en jy is anders gevorm, in die moederskoot soos wat Ps 139 dit so mooi
beskryf. En as jy dink dit wat God in die tuin gedoen het is verstommend,
dan is die lewe wat in die skoot van 'n moeder vorm aanneem, presies net so
'n groot wonderwerk. Nie eers om te praat van die geboorte nie.
Vandag kan jy en ek ook gekoester word in God se arms, Hy ervaar dieselfde
emosies as wanneer ons 'n klein babatjie vashou, Hy is so onbeskryflik lief
vir jou dat Hy Sy Seun aan die kruis laat sterf het, en Hy is ook saam met
jou hartseer as jy bedroef is. Moenie jouself gering ag nie, jy is werklik
spesiaal. ~ Willem Botha, 06/09/2017 |
|
“God, ek bid nou tot U, want U kan my help. Hou my styf
vas. Help my in my nood.” (Ps. 17:5-6) Beskerm my soos die appel van u oog,
steek my weg in die skaduwee van u vleuels, so lees vers 6 verder. Jes.
30:19 sê die Here sal ons gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Hy wil dit hoor!
Ons moet bid - Hy sal hoor. Ons moet vra - Hy sal gee. Ek bid want ek weet
die Here kan my help – dit vra geloof en vertroue in die Here, in sy wil en
vermoë om my te help en om in my nood te voorsien. Gebed wérk. Dit werk
veral wanneer jy voel of die Here nie luister nie, as dit voel of jou gebede
nie vêrder as die plafon gaan nie. Dis juis dán dat ons weer ’n keer moet
bid, dat ons moet volhard in gebed. Dis juis dán wanneer ons daar in die
skaduwee van Sy vleuels moet gaan wegkruip totdat Sy vrede jou hart en
gedagtes kom volmaak. “So whenever we are in need, we should come bravely
before the throne of our merciful God. There we will be treated with
undeserved kindness, and we will find help.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha,
05/09/2017 |
|
Little boxes
In 1963 het 'n sangeres met die naam Malvina Reynolds 'n eenvoudige liedjie
geskryf met die naam "Little boxes", wat jy waarskynlik ken. Die liedjie het
gegaan oor mense wat maar net almal konformeer om presies dieselfde te wees
(ek plaas die lirieke aan die einde van die stukkie). Mense leef graag soos
almal anders leef, hulle maak hulle kinders volgens dieselfde resep groot,
werk maar net soos almal anders werk en boet soms hulle eie identiteit in.
Ons noem dit "boksie-mense".
Daar is natuurlik niks daarmee fout nie, maar dis sleg as mense mekaar in
boksies probeer prop wat identies as hulle eie boksies is. En dan, wat baie
erg is, is dat ons ander in Geestelike boksies prop wat soos ons eie lyk. Jy
moet bid soos ek, glo soos ek, "kerk" soos ek, rituele gebruik soos ek dit
doen en dieselfde verhouding as ek met die Here hê, anders is jy dalk
verlore. In daai boksie is dan natuurlik 'n resep wat jy moet navolg, dan is
jou lewe volmaak (soos myne natuurlik).
Nee, dit werk nie so nie. Almal is anders, almal se omstandighede is
verskillend en ek gaan nie in jou boksie pas nie. Natuurlik is die Here
altyd dieselfde, maar elkeen se verhouding met Hom is uniek. Ek en jy kan
maar net wees wie ons is, en soos die Here ons gemaak het.
Little boxes
Little boxes on the
hillside
Little boxes made of ticky tacky
Little boxes, Little boxes
Little boxes all the same
There's a green one and a pink one
And a blue one and a yellow one
And they're all made out of ticky tacky
And they all look just the same
And the people in the
houses all go to the university
Where they all get put in boxes, little boxes all the same
And there's doctors and there's lawyers
And business executives
And they're all made out of ticky tacky and they all look just the same
And they all play on
the golf course and drink their martini dry
And they all have pretty children and the children go to school
And the children go to summer camp
And then to the university
Where they all get put in boxes, and they all come out the same
And the boys go into
business and marry and raise a family
And they all get put in boxes, little boxes all the same
There's a green one, and a pink one
And a blue one and a yellow one
And they're all made out of ticky tacky
And they all look just the same ~ Willem Botha, 04/09/2017 |
|
“Here, U is my lewe. U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom
alles van U af. ’n Pragtige deel is vir afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is
vir my mooi.” (Ps. 16: 5-6) ’n Pragtige deel is vir my afgemeet! Wat ek het,
het die Here vir my uitgekies, afgemeet en verniet gegee. Wat ek ontvang
het, of dit nou op Geestelike of materiële vlak is, kom van Hom af. Geskenke
wat Hy sélf vir mý persoonlik uitgekies het. Hoe kan ek ontevrede wees met
wat Hy vir my afgemeet het? Hoe kan ek wat ek uit Sy hand ontvang het
bevraagteken, dit minag, verwerp of dink dis minderwaardig? Dikwels begeer
mens ’n mooier deel, ’n groter deel, ’n lekkerder deel, ’n makliker deel,
maar onthou: die grootste geskenk is die lewe! Die wonderlikste geskenke is
Sy genade, Sy liefde, Sy versorging, Sy nabyheid, Sy troos – daai is die
mooiste dinge in die lewe, daai is die dinge wat mens die gelukkigste maak.
“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo,” sê Jak 1:16. Ja, wat
ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen. Wat ek ontvang het, is vir
my mooi en ek aanvaar dit met dankbaarheid. ~ Wilna Botha, 31/08/2017 |
|
SO vinnig...
... is die mens se lewe op aarde verby.
Ps144:4 "n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos 'n skaduwee
verby."
Sjoe, soos wat die jare aanstap besef mens net hoe waar hierdie woorde is.
Dit voel of dit elke tweede dag Vrydag is, jy is verstom as jy besef dat
jare in jou verlede net wegraak. Jy dink jy was verlede jaar iewers, net om
te besef dis al 'n paar jaar gelede. En voorts is ek geskok oor die aantal
mense in my ouderdomsgroep wat wegval.
As dit so is, hoekom bekommer ek my so oor die toekoms? Hoekom is soveel
onbenullighede dan vir my so belangrik? Hoekom kan ek nie net oorgee en
"God's water oor God's akker laat loop nie"? Waarom laat ek toe dat die
gebeure in die land my so ontstel?
Nee, ek is nie so nie, ek sien steeds 'n ander kant. Maar hoekom verval ek
nie net summier in" doom and gloom" nie?
Wel, dis seker omdat ek 'n mens is, 'n mens wat steeds hoop het, iemand wat
steeds lief is vir mense en wat steeds my lewe geniet. Dalk omdat ek besef
dat daar in hierdie moeras waarin ons leef steeds vreugde en voorspoed is.
Miskien omdat ek steeds meer mense sien wat liefde en vrede najaag, as die
wat dit nie doen nie. Dis verseker ook omdat ek besef dat God nie opgegee
het nie, dat Hy steeds daagliks wonderwerke doen en dat Hy vir elkeen van
ons 'n taak het om ons mee besig te hou.
Laastens omdat ons tog nie net leef vir hier en nou nie.
1Kor 15:19 "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons
die bejammerenswaardigste van alle mense." ~ Willem Botha, 30/08/2017 |
|
“Here, wie is werd om by U te mag wees? Wie mag in U
huis instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is?” So vra Dawid in Ps. 15:1.
Hy weet die Here is heilig, Sy tempel is heilig en Sy teenwoordigheid moet
versigtig opgesoek word. Hy weet dat daar vir hom eers reinigingsrituele
moet plaasvind en offers gebring moet word, voordat hy in die Here se
teenwoordigheid kan kom. Hy weet wat die Here se voorskrifte behels, daarom
antwoord hy self met: “Iemand wat so optree dat U heeltemal tevrede is met
wat hy doen ... dit is iemand wat nie skinder nie en ook nie sy vriend in
die rug steek nie. Dit is iemand wat nie dinge sê wat iemand anders kan
seermaak nie ... Hy hou sy woord, al kos dit hom soms duur. Hy maak nie
onnodig geld uit ander nie. Hy laat hom ook nie omkoop om verkeerde dinge te
doen nie.” (Ps. 15:2-5, Die Boodskap) Nou ja, gemeet aan hierdie lysie, wie
van ons sal dit kan waag om in die Here se teenwoordigheid te kom? Geen
wonder dat mense buite die kerk soms praat van die skynheiliges in die kerk
nie. Gelukkig lees ek ook in 1 Kor. 6:11 “Maar julle het julle sonde laat
afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here
Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” Ons kan vir Dawid antwoord:
ons is gewas, ons is skoon en heilig, daarom kan ons met vrymoedigheid in
God se teenwoordigheid ingaan. “Ons het dus nou vrye toegang tot die
heiligdom,” sê Heb. 10:19. Kom ons gaan! “Laat ons tot God nader met ’n
opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha,
29/08/2017 |
|
Handbagasie
As jy vlieg kan jy 'n tassie van so 7kg by jou in die vliegtuig neem. Dis
nou waarin jy kosbare dinge sit wat jy nie in die vliegtuig se bagasieruim
wil sit nie. Dis kosbare dinge wat nie ver van jou af moet wees nie. Nou kyk,
party dames het sulke reuse handsakke wat ORALS saamgaan. Groot, bonkig en
volgepak met g'n-mens-weet-wat, dalk selfs 'n mikrogolfoond...
Ai, so het elkeen van ons ook maar so 'n handtassie waarin ons goeters
ronddra wat oor jare ingepak is. Gewoonlik emosionele dinge wat van die
verre verlede af kom, en soms selfs volgepak met goed wat nie veel met ons
te doen het nie. Ons stoei selfs met goed wat ons ouers daarin gepak het,
maar wat niks met ons te doen het nie.
Jy sien, hierdie handtassie is soms 'n gerieflike ding, want ons kan hom die
skuld gee as dinge skeefloop. Ek hoor so baie dat ouers die blaam kry as
mense met goed worstel, en dan word gesê dat pa en ma my so gemaak het. Ja,
dit is verseker waar dat ons verlede ons hede en toekoms bepaal, maar baie
keer is dit eenvoudig nie waar nie. As 'n ouer weet ek nie of ek my kinders
se tassies met negatiewe of positiewe goed vol pak nie, want ek probeer maar
net om die beste te doen met wat ek nou weet.
Hierdie tassie is 'n vreeslik ding, hy het plek vir onvergewensgesindheid,
haat, jaloesie, afguns, blaam en 'n klomp negatiewe dinge. Ons laat selfs
toe dat ander mense dinge in hom pak deur te skinder, sleg te praat en jou
af te breek. Dan knyp ons daai tassie styf onder die arm vas en hou hom
altyd so naby soos die handbagasie in die vliegtuig.
Gooi die vervlaks te ding weg en "travel light", en hou net by jou wat nodig
en nuttig is. Jy het immers net die spreekwoordelike "7kg" om saam te neem.
Want as jou lewe hier op aarde tot 'n einde kom, gaan jou nageslag dalk die
ding uitpak en in hulle eie tassies inpak. Net om ook so te "suffer" met
onnodige gemors. ~ Willem Botha, 28/08/2017 |
|
“Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar
nie.” Dis nie ek wat so sê nie, hoor, dis Ps. 14:1. In een van die Engelse
Bybels sê dit: “the fool has said in his heart: there is no God.” Baie mense
in ons tyd sê dit nie net in hulle harte of gedagtes dat daar nie ’n God is
nie, dit word openlik verklaar, op Facebook uitgebasuin en in boeke geskryf.
Hulle dink hulle het God nie nodig nie. Hulle dink dit is hulle eie vermoëns
wat hulle suksesvol maak. Hulle dink hulle kan doen en sê wat hulle wil en
daarmee wegkom. Hulle hou hulle slim en onafhanklik en arrogant en
onaantasbaar. Hierdie dwaasheid bring mee dat hulle neerkyk op Christene,
dat hulle hoogmoedig en selfvoldaan is, dat hulle baljaar in die sonde, dat
hulle kul en kroek en konkel waar hulle kan, dat hulle God verag, maar ...
as mens mooi kyk sal jy ook sien dat daar uiteindelik ’n groot onvrede,
ontevredenheid, bitterheid en leegheid in hulle harte is. Ek bid maar net
dat ware wysheid vir ons almal sal deurbreek sodat ons God as God sal ken en
bely en dien met ons hele hart. “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die
kwaad te vermy, dit is insig.” (Job 28:28) ~ Wilna Botha, 24/08/2017 |
|
Die klippe sal dit
uitroep
Ken jy iemand wat 'n klip kan maak? Sommer so 'n klein klippie wat jy met 'n
kettie skiet, 'n spoelklippie, 'n rots, 'n boulder. Weet jy waar Klipfabriek
and Company is? Ken jy 'n gekwalifiseerde klipmaker? Miskien ken jy iemand
wat iets met klippe maak, maar wie maak die klippe? Weet jy van navorsing
wat gedoen word op klipvervaardiging? Of dalk 'n BSc Klip-ingenieurswese?
Ja wel, jy sal seker iemand kry wat beskikbare grondstowwe gebruik en onder
die regte druk en temperatuur iets kan optower, maar niemand kan uit niks
iets maak nie.
Behalwe? God natuurlik! Kan iemand regtig glo dat alles waaraan jy kan vat
sommer net uit niks ontspring het, sonder 'n ontwerper? Nee wat, jy het baie
"geloof" nodig om dit te glo!
In Luk. 19 lees ons waar Jesus op die donkie in Jerusalem inry en die skare
vir Jesus uit volle bors prys.
Luk. 19:38-40 Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die
Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” 'n Paar
Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u volgelinge!”
Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”
Sit 'n klip op jou lessenaar by die werk. Ek waarborg jou dat mense jou
daarna gaan uitvra, dan vra jy vir die persoon: Dink jy dat jy iemand in die
wêreld sal kry wat iets so kompleks soos 'n horlosie kan maak? Die antwoord
sal natuurlik dan JA wees. Dan vra jy: Dink jy dat jy iemand op aarde sal
kry wat iets so eenvoudig soos 'n klip kan maak?
Dan hoor jy hoe die klip Sy grootheid uitroep... ~ Willem Botha, 23/08/2017 |
|
“Hoe lank gaan U my nog alleen los, Here? Gaan U my
aanmekaar bly vergeet? As U my nie help nie, voel dit of my swaarkry ’n
ewigheid lank aanhou. Hoe lank gaan U niks aan my krisis doen nie? Hoe lank
moet ek myself uit hierdie moeilikheid probeer kry? Ek is moeg daarvoor om
aanmekaar bekommerd te wees. Hoe lank gaan my probleme my nog teen die
planke vasdruk?” Sjoe, was jy ook al so in ’n hoek gedruk? Het jy ook al so
radeloos en moedeloos en alleen gevoel? Het jy ook al gevoel of die Here
anderpad kyk terwyl jy knak onder jou probleme? Het jy dalk ook al so met
die Here baklei en Hom verkwalik vir jou situasie... en dan báie skuldig
gevoel daaroor? Hierdie woorde kom uit Ps. 13. Dawid se woorde. ’n Man na
God se hart, word hy genoem. Lyk my dis heel “normaal” as kinders van die
Here ook onder allerhande ellendes lei. Lyk my dis heel “normaal” om by die
Here te gaan afpak. Lyk my dis heel “normaal” om soms met Hom te baklei.
Maar ... lees die res van die Psalm en jy sal sien dat Dawid homself weer
vinnig regruk, want hy draai sy oë na dié Een wie se liefde oneindig is, dié
Een wie se genade groot is, dié Een wat uitkoms bring, dié Een op wie hy kan
staatmaak. Hy bely: “Maar ek weet: op U liefde kan ek staatmaak. In my
binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal
die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!” (Ps.
13:6) ~ Wilna Botha, 22/08/2017 |
|
Sing vrolik
SPR 17:22 "'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak
uitgeput."
Ai, die wysheid van ou Salomo! Sien ons nie dit elke dag nie? Hoeveel keer
sien jy nie dat neerslagtigheid en stres selfs jou gesondheid aantas nie.
Nou wonder ek wat is dit wat die vrolikheid so van ons wegrokkel? Is dit
omstandighede, of is dit jou reaksie op omstandighede? Dit kan tog nie net
jou omstandighede wees nie, want jy kry darem maar baie vrolike mense wat
onder aaklige omstandighede leef.
Ons het (weens bedieninge waarin ons betrokke is), met vele gestremde mense
te doen en goeiste, jy kry vrolike mense in hierdie vriendekring van ons!
Dit lyk my ons moet maar vrolikheid kies, ten spyte van omstandighede. Dit
voel darem mos baie lekkerder as om neerslagtig te wees.
En so kom die pragtige Ps 33 vanoggend in my kop toe ek so dink aan
vrolikheid, en ek loop dit sommer net en sing. Lees tog maar gou die woorde
deur en neurie sommer saam. ( ~ Willem Botha, 21/08/2017))
Sing vrolik, hef die
stem na bowe,
Regverdiges, verhef die Heer!
Dit pas opregtes God te lowe
En uit te jubel tot sy eer.
Laat die psalm-gesange
Stem van sterk verlange
Om die Heer te dank
By die smeltend skone
harp- en sitertone
Liefde en lof verklank! |
|
“Wat die Here sê, dit bedoel Hy. Sy beloftes is eg.
Hulle is soos goud wat in ’n vuurwarm oond skoongebrand is. ’n Mens kan
daarop reken.” (Ps. 12:7, Die Boodskap) Die Bybel sê ook elders dat God nie
lieg nie, Hy is nie soos ’n mens wat van plan kan verander nie, Hy is getrou
aan Sy woord. Daarom kan ons met sekerheid weet dat wat God ookal belowe het
sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Hy is gister, vandag en môre
dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word gesê
dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense maal
dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag van
die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is net
God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding,
verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak oop jou Bybel en soek
daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál Sy
beloftes waar maak. ~ Wilna Botha, 17/08/2017 |
|
In swaar tye
Dalk gaan jy tans deur moeilike tye, ontberings, swaarkry, siekte of
hartseer. In hierdie volgende stukkie sien ek iets anders as wat ons
gewoonlik in die Bybel raaklees wanneer ons mekaar bemoedig. Ons lees op so
baie plekke dat die Here sê dat Hy jou versugtinge hoor en jou gaan red uit
jou probleme. Maar kyk wat met Paulus gebeur.
2 Kor 12:7(b)-9(a): "Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar
vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met
vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem
moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis
tot volle werking wanneer jy swak is.”
Daar word baie bespiegel wat Paulus se doring in die vlees sou wees, maar in
vers 10 van hierdie gedeelte praat hy pertinent van swaarkry.
Dan lees ons hierdie woorde van die Here: "My genade is vir jou genoeg." Dis
so asof die Here vir Paulus aanmoedig om sy "lot" te aanvaar, en net te leef
uit Sy genade.
Ons probleme gaan nie altyd weg nie, ons word nie altyd gesond nie, die lewe
is nie altyd maanskyn en rose nie, maar God se genade is ALTYD daar, altyd
in oorvloed beskikbaar, jy is ALTYD in die Here se gedagtes en Hy verlaat
ons nooit nie. Sy genade is vir jou genoeg. ~ Willem Botha, 15/08/2017 |
|
Ek is effens verras toe ek sien Psalm 9 begin met: op
die wysie van “By die dood van die seun,” en dan trek dit weg met: met my
hele hart wil ek U prys .... ek wil vrolik wees ... ek wil my verbly ... U
Naam wil ek besing. Kon dit enigsins ’n vrolike wysie gewees het as dit by
die dood van die seun gesing is? Ek het al gehoor dat mense sê: ek kan nie
nou ’n loflied sing nie, ek kan nie onder hierdie omstandighede bly en
dankbaar en vrolik wees nie. Gisteraand het ek weer geluister na die bekende
Leonard Cohen lied “Hallelujah”, waarin hy sê: “And even though it all went
wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing on my tongue but
Hallelujah.” Al was hulle in die tronk, lees ons in Hand 4:25-26 dat Paulus
en Silas hallelujah op hulle lippe gehad het. Al was daar niks meer oor en
al het alle hoop verdwyn, het Habakuk ge-hallelujah met: “nogtans sal ek in
die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18) Om die lof van
die Here te besing en Hom te prys, help mens om te fokus op wie Hy is en nie
op wat Hy vir jou kan doen nie. Dit skuif jou gedagtes weg van jou probleme
en vestig dit op Sy krag. Dit help jou om te besef dat Hy almagtig, ewig en
in beheer is. Dit verkondig dat Hy sal voorsien, dat Hy uitkoms sal gee, dat
Hy alles ten goede sal laat meewerk. Dit bely dat jy in vertroue alles aan
Hom oorgee ... ja, selfs al is daai loflied op ’n treurige wysie. Met my
hele hart wil ek U prys ... (Ps. 9:2) ~ Wilna Botha, 14/08/2017 |
|
Brood
MATTEUS 14:20 "Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog
twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het"
Hierdie kom uit die bekende deel waar Jesus die brode en vissies vermeerder
het, en toe almal klaar geëet het, was daar nog meer oor as wat daar mee
begin is. 'n Ongelooflike wonderwerk!
Maar weet jy, daardie wonderwerke was nie eenmalig en toe is dit verby nie.
Inteendeel, elkeen van ons kan daarvan getuig. Dalk gaan jy op die oomblik deur 'n tyd waar al jou lewensmiddele maar skraps is, dan wil ek net vir jou
sê, die Here sal dit verder rek as wat dit sin maak. Die weduwee se kruike
het tjok en blok vol geword uit 'n klein kannetjie olie, en Jesus het skares
gevoed met 'n klein bietjie.
Dis verstommend hoe geld werk. In 'n mens se hand koop jy 'n brood vir
R12-00, maar soms gaan dit so beroerd dat dit voel of jy net 'n halwe brood
met R12-00 kan koop. Maar in die Here se hand koop R12-00 vir jou soms twee,
tien of honderd brode. Die Here het my al totaal verstom! Dit voel of ons
ons kinders beide laat studeer het met "R12-00", want ek het nie 'n idee
waar daardie geld vandaan gekom het nie. Daardie "R12-00" het op die koop
toe nog motors ook gekoop.
Dit maak nie sin nie, maar dit hoef nie. Die Here sal jou brood vermeerder
om genoeg te wees vir jou behoeftes, al is dit so moeilik om dit te glo. ~
Willem Botha, 10/08/2017 |
|
As jy wil weet hoe spesiaal jy vir die Here is, lees
gerus Ps. 8:5-6 “... wat is die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net
’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer
gekroon.” Verskeie Engelse vertalings gebruik die woorde glory and honour,
majesty, beauty, splendour. Besef wie die Here jou gemaak het. Maar ... ons
moet nou nie die hele dag net voor die spieël staan en daai kroon en onsself
bewonder nie, nee, die kroon bring ’n taak en ’n verantwoordelikheid vir dié
wat dit dra. Ons moet die kroon in die wêreld gaan dra, elke dag daar by die
werk of waar jy jou ook al bevind. Dáár moet ons dade en ons woorde by ons
kroon pas. Ons moet wys dat ons aan Hom behoort, ons moet wys hoe groot Hy
is, ons moet Hom eer en terselfdertyd moet ons sorg vir alles wat Hy gemaak
het, moet ons goed wees vir en goed doen aan ons mede-skepsels. Onthou jou
kroon! ~ Wilna Botha, 09/08/2017 |
|
Met niks
Job 1:21 “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek
daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die
Here.”
Is dit nie SO waar nie? Met niks in die lewe, met niks daaruit. Wat jy nou
in aardse terme besit beteken absoluut niks. As 'n naakte baba het jy jou
eerste asemteug geneem, en aan die einde van hierdie lewe gaan jy presies
dieselfde hier weg. Wat het jy gehad? Besittings? Ja, maar dis tydelik. Het
jy familie gehad? Ja, maar ook hulle sal dieselfde pad stap. Dalk kan jy sê
jy het talente gehad. Inderdaad, maar net om 'n verskil in hierdie lewe te
maak. Jy mag sê jy het vermoëns (skills) gehad, maar dit was ook net sodat
jy brood op die tafel kon sit en goed bymekaar kon maak. So kan mens aangaan,
maar beteken dit dan dat jy heeltemal niks gehad het nie?
Natuurlik het jy "dinge" gehad, maar het jy die regte waarde daaraan geheg?
Net jy kan sê. Jy het liefde gehad wat jy gegee het en ontvang het, hopelik
genoeg daarvan. Jy het tyd gehad. Het jy dit reg en gebalanseerd aangewend,
of wens jy jy het dit aan meer nuttige dinge spandeer? Jy het dalk
gesondheid gehad. Was jy dankbaar daarvoor? Jy het verhoudinge en vriende
gehad, wat jy hopelik nie versuur het nie.
Jy kon (as jy dit kies), geloofsekerheid hê, wat jou volgende lewe saam met
God verseker. Ek hoop jy het reg gekies.
Daar is egter een ding wat jy nou verseker het, en dit is lewe! Ek hoop
regtig jy LEWE en bestaan nie net nie. Dit beteken dat jy VANDAG nog nuwe
keuses kan maak, sodat dit wat oor is sinvol is. En dit wat kom.
Ek het my grafskrif lankal uitgedink. "Hy het nie geleef om dood te gaan nie,
hy het GELEEF tot hy dood is". ~ Willem Botha, 08/08/2017 |
|
“U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die
regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit:
sorg asseblief dat die regte dinge met my gebeur.” (Ps. 7: 8-9, Die Boodskap)
Die Here ís in beheer. Die Bybel sê mos ook elders dat die Here weet as jy
sit of opstaan, dat Hy bepaal of jy reis of oorbly. Jy kan jouself
onderwerp aan God se beheer, of jy kan dit teenstaan. Ek lees nou die dag
dié aanhaling: “Faith is having the courage to let God have control.” Ek
dink egter mens het eintlik baie waagmoed nodig om nié die beheer aan God
oorlaat nie! Dis tog net Hy wat die hele prentjie ken, wat die toekoms in Sy
hand hou. Dis egter nie te sê as mens net gelate oorgee aan die Here se
beheer, dat jy ’n marionet aan ’n toutjie word nie. Neem jou besluite asof
jy alleen verantwoordelik is daarvoor en laat terselfdertyd alles aan die
Here oor asof Hy alleen verantwoordelik is – so sal jou wil in lyn kom met
Sy wil. As jy die Here vra om jou besluite dieselfde as sy besluite te maak,
sal Hy dit doen en kan jy gerus wees dat jy die regte pad sal vat, kan jy
tevrede wees dat niks op daai pad sal wag wat Hy nie toegelaat het nie,
waarvoor Hy jou nie voorberei het nie, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee
nie en waarvoor jy nie sal kans sien nie. By elke toe deur, kruispad, hobbel
sal Hy staan om jou deur te help. By elke donker hoekie sal Hy vir jou die
lig aanskakel. Here, sorg asseblief dat die regte dinge met ons gebeur. ~
Wilna Botha, 07/08/2017 |
|
Pred 11:5 "Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees
en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan
jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles."
Ai, is ons nie maar almal deurentyd op soek na die betekenis van God se
aksies nie? Ons as gesin was die naweek by 'n tehuis vir gestremdes en in
die betrokke afdeling is die mense baie erg serebraal gestrem. Vandag het ek
en my seun daaroor gepraat en hy vra die volgende vraag: "Wat het ek gedoen
om nie in daardie situasie te wees nie?"
Daar is geen antwoord op daardie vraag nie. Hoekom word goeie mense siek en
soveel "slegtes" leef so goed? Hoekom begin die Kerk van die Here so sukkel?
Hoekom word onskuldige kinders die slagoffers van gebroke huwelike? Hoekom
beleef ek genade wat totaal onverdiend is?
Hierdie teks sê baie duidelik dat ons nie die werk van God verstaan nie.
Ongelukkig is daar soveel mense wat graag vir jou goedkoop en nuttelose
antwoorde gee in tye waar jy verward is. Daar is mense wat praat asof hulle
elke ding wat God doen, verstaan en kan uitpluis. Daar is selfs mense wat
graag in sulke omstandighede wil "profeteer" daaroor, maar so dikwels kom
dit nie van God af nie.
Ek wil eerder maar net aanvaar dat God in beheer is, al lyk dit nie vir my
so nie. As ek terugkyk in my lewe, het die Here nog nie een enkele fout
gemaak nie, alhoewel ek soms so gedink het in daardie onaangename
omstandighede.
Hierdie teks eindig met "Hy doen dit alles.." Dit beteken, Hy is in beheer.
~ Willem Botha, 03/08/2017 |
|
Jy het wat jy het
Pred 6:9 "Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot
niks. Dit is 'n gejaag na wind."
Watter ongelooflike waarheid is hierdie nie. "Wat die mens het, is beter as
wat hy begeer". 'n Baie welaf man het eendag gesê : "Leer om tevrede te wees
met wat jy het, want ek beweeg tussen die rykstes van die rykes, en ek ken
nie een wat genoeg het nie."
Sjoe, ons almal soek meer, maar die Here sê hier baie duidelik dat begeer
niks goeds inhou nie. Oordadige rykdom is nie vir almal beskore nie, en daar
kom ander dinge daarmee saam wat ek en jy nie noodwendig kan hanteer nie.
Diegene wat in tevredenheid kan leef met wat hy het, slaap goed in die nag,
maar die wat altyd meer begeer doen soms verkeerde dinge om daardie
begeertes te bevredig.
Spr. 17:1 "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos
met 'n getwis daarby." ~ Willem Botha, 02/08/2017 |
|
“... ek word al hoe swakker. U moet my asseblief gesond
maak, Here, want my liggaam is besig om in te gee. Ek is lam van
moedeloosheid ... Hoe lank gaan dit nog so aanhou? Help my, Here! Red my van
hierdie swaarkry! ... Ek kan nie meer huil of kla nie, my kragte is op.
Saans huil ek my kussing nat. My hele bed is later nat van die trane ... Al
die pyn en hartseer maak my gedaan. Ek is moedeloos.” (Ps. 6:3-8, Die
Boodskap) Sjoe, wat ’n uitroep van iemand wat baie swaar kry. Miskien kan jy
met hierdie moedeloosheid, trane en pyn assosieer. Miskien kan dit jou
vandag help om te weet dat Dawid ook deur hierdie emosies is. Miskien kan
dit jou nóg meer help om te weet dat Jesus ook deur hierdie swaarkry is toe
Hy bloed gesweet het in Getsémané , toe Hy gespoeg, geslaan, verneder en
gekruisig is. Miskien kan dit help as jy lees wat Dawid sê: “Die Here
luister na my gebed. Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit.” (Ps.
6:9) Miskien kan dit help as jy soos Jesus bid: “My Vader, as dit moontlik
is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek
wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39) Miskien sal daar dan ’n vrede in
jou kom lê wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 31/07/2017 |
|
Daar is 'n video op YouTube van 'n bobbejaan wat 'n
spieëltjie in die hande kry en hom boeglam skrik toe hy in die spieël kyk.
'n Spieël reflekteer dít wat voor hom gehou word. As jy in hom kyk
reflekteer dit jou eie beeld. Maar so sê iemand eendag: die man is die
spieël waarin 'n vrou haarself sien. Wel, dit gaan wyer as dit, ons sien dít
wat ander van ons reflekteer, en die fout wat ons maak is dat ons dink ons
is/lyk soos wat ander van ons dink. Die manier wat ander mense jou beeld
terugkaats na jou, is deur dinge wat hulle sê, skinder, liggaamstaal,
afpraat na jou toe, en soms deur jou eenvoudig te ignoreer.
Die probleem is dat ons dit wat ons in ander se oë sien glo, en dan anders
word as dit wie die Here jou gemaak het. Ai, as ons maar net onsself eerder
deur die Here se oë wil sien! Hoekom op aarde sal jy jouself wil vorm soos
wat ander jou wil hê, net oor simpel dinge soos jaloesie, ander se selfbeeld
probleme, nydigheid en onvergenoegdheid?
Ag nee wat, dis regtig nie die moeite werd nie, wees net wie die Here jou
gemaak het. Hy weet mos presies wat Hy in gedagte gehad het toe Hy jou
aanmekaargeweef het.
ROMEINE 9:21"Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei
iets besonders én iets alledaags te maak nie?" ~ Willem Botha, 27/07/2017 |
|
“U sal my toelaat om naby U te kom,
want ek wil U aanbid. Omdat U u kinders baie lief het, mag ek na U toe kom.
Uit eerbied mag ek voor U kniel.” (Ps. 5:8) Hoe wonderlik is dit nie dat ons
na God toe kan gaan, hom kan aanbid en in ’n persoonlike verhouding met Hom
kan wees nie, dat ons soos Dawid met Hom praat soos met ’n vriend en
raadgewer en vertroueling. Die Bybel sê ons sondes maak ’n skeidsmuur tussen
ons en God, maar Jesus het daardie muur kom afbreek deur ons sondes op Hom
te neem. “My liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om
na God toe te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen
omdat Jesus vir ons gesterf het.” (Heb. 10:19) Ons het nou vrye toegang tot
God. Ons kan naby aan Hom kom. Sy hand is altyd uitgestrek na ons. Dit alles
is moontlik omdat Hy ons lief het en omdat Sy genade groot en verniet is.
Prys Hom daarvoor! ~ Wilna Botha, 26/07/2017 |
|
Daar is geen hel nie
... sê vele mense graag. Selfs sommige Christene. Want, is die redenasie, 'n
liefdevolle God sal dit nie aan sy skepsels doen om hulle in die duisternis
te werp nie. Hoekom sal Hy mense met liefde skep en hulle dan verwerp?
Wel, Hy is inderdaad 'n God van liefde, Hy is inderdaad ongelooflik lief vir
Sy mense. Weet jy hoe lief?
Joh 3:16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het,
sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal
hê."
DIT vriend, is liefde! Sy eniggebore Seun moes sterf, en as ons in Hom GLO,
gaan ons nie verlore nie.
Dink net vir 'n oomblik saam met my. Mense wat kinders (en andere) verkrag
en wreed vermoor, of 'n onskuldige boer wreed vermoor, soms vir 'n selfoon,
of bejaardes se lewens verwoes deur hulle lewensmiddele te verdoesel, en ja
natuur vele ander dinge waaroor die Here baie ernstig is, kan nie genade
verwag nie! Dis mos logies.
Maar ai, is genade nie onbeskryflik nie? Selfs hulle kan tot inkeer kom deur
Jesus as Saligmaker aan te neem. Ek sukkel om dit te verstaan, maar DIS hoe
lief God die mense het.
Maar daardie voorwaarde sal altyd bestaan. ~ Willem Botha, 25/07/2017 |
|
“In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en
rondrol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker, want ek weet die
Here sal my krag gee om my probleme op te los. Ek is nie bang nie, al staan
’n skare mense gereed om my aan te vat.” (Ps. 3:6-7, Die Boodskap) Miskien
staar jy môre so ’n moeilike situasie in die gesig – mense staan gereed om
jou aan te vat en antwoorde van jou te eis, dinge is in ’n doodloopstraat,
jy wag dalk vir daai gevreesde uitslae van die mediese toetse, jou familie
krisis is dalk op sy felste ... Roep so hard as wat jy kan na die Here. Bid,
al weet jy nie wat om te sê nie. Glo dat die Here jou sal help om nie
handdoek in te gooi nie. Kyk, die teks sê nie môre sal al jou probleme weg
wees nie, dit gee jou wel die versekering dat die Here vir jou die krag sal
gee, groot wysheid sal gee, bomenslike moed sal gee, nuwe planne en
strategieë sal gee om die bul by die horings te pak. Mag jy vannag só rustig
slaap as wat die teks sê, sodat jy môreoggend met vertroue kan sê: ek is nie
bang nie. ~ Wilna Botha, 24/07/2017 |
|
Beloftes te koop
Het jy al gedink daaraan dat jy baie baie geld maandeliks spandeer aan die
aankoop van beloftes? Sonder om een enkele ding te sien van jou
swaarverdiende geld, word net beloftes aan jou verkwansel. Beloftes van
toekomstige finansiële voorspoed, of mediese voorspoed, en ja selfs dat jy
heel welgesteld sal wees as jy onverwags tot sterwe kom. En dan natuurlik
dat daar fondse sal wees vir spierwit duifies op jou pragtige begrafnis. Nou
ja, ons moet hierdie dinge maar eenvoudig betaal want sonder dit kan jy
natuurlik nie.
Dan kom daai bose mense natuurlik verby wat brose bejaardes se klein bietjie
geld verduister deur beloftes van reuse opbrengste. Mens wil hulle vreeslike
goed toewens maar ons kjêrkmense behoort dit nie te doen nie. Alles beloftes,
leë beloftes. Soos hulle sê, as dit te goed klink om waar te wees, is dit.
Maar die een plek waar jy beloftes kry wat jy maar kan glo is dit in die
Bybel. Nou kyk, DAAR word dinge darem maar belowe wat te goed klink om waar
te wees! Jesus sterf vir jou, sodat jy nie die ewige sterfte hoef te sterf
nie. Goeiste! En dan boonop sonder om een enkele "paaiement" te betaal, kry
jy vir jou 'n plekkie waarvan daar geen gelyke op hierdie aarde is nie!
Gratis, free en verniet! Klink maar effe vreemd, want al wat jy hoef te doen
om dit te kry is om dit te glo. Dis soos om te glo daar sal vanaand R1m in
jou rekening val en more oggend is dit daar.
Nou ja, hierdie beloftes in die Bybel staan oor eeue vas en niks kon nog
verkeerd bewys word nie.
Joh 6:47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe."
Joh 1:12 "Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy
die reg gegee om kinders van God te word."
Openb 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en
die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en
hy saam met My."
Hierdie beloftes is nie te koop nie, dis daar, net vir jou, verniet. Maar
vriend, dis gratis maar verseker nie cheap nie. Dit het onbetaalbaar duur
bloed gekos, dis so duur dat jy dit in elk geval nooit sou kon terugbetaal
nie. En die Here soek ook nie iets terug nie, want dis uit liefde vir jou
gegee. Jy moet maar net besluit of jy dit wil hê. ~ Willem Botha, 20/07/2017 |
|
Nadat ek vanoggend ’n ou op TV sien praat het wat na ’n
duik ongeluk nou ’n kwadrupleeg is, het ek sommer net weer besef hoe maklik
mens se omstandighede in ’n oogwink kan verander. Ek het dit veral ook
gedink t.o.v. werksomstandighede. Vandag kan jy sterk en gesond wees en slim
besigheidsmetodes toepas, hard werk en ’n goeie inkomste maak en dink: “My
krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf,” en môre kan dinge
anders wees. Nes die ou in die Bybel van wie Jesus in Luk. 12:16 gepraat
het. Hy was so selfvoldaan oor alles wat hy bymekaargemaak het, hy het vir
homself nóg groter skure gebou, homself op die skouer geklop en gesê: “Mooi
so! Jy het nou so baie geld en besittings dat jy dit nooit kan uitleef nie.
Gaan geniet nou die lewe.” (Luk. 12:19, Die Boodskap). Die fout wat hy
gemaak het, was om vir God buite rekening te laat. “Jy kan dalk dink: my
krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die
Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die
rykdom te verwerf.” (Deut. 8:17-18) As ek dus vanaand terugkyk op die dag se
gewoel en gewerskaf, dan sê ek in nederigheid vir die Here dankie dat Hy vir
nóg ’n dag my hande sterk gemaak het, nóg ’n dag se krag gegee het, nóg ’n
dag se planne laat uitwerk het, nóg ’n dag se brood voorsien het. En vir
môre sê ek soos Jak 4:15 ons leer: As die Here wil, sal ons lewe en sal ons
dit of dat doen. ~ Wilna Botha, 19/07/2017 |
|
Hartsake
Baie jare gelede was daar in een of ander koerant hierdie spotprentjies van
twee wurmpies wat veel te sê gehad het oor die sake van die dag. Die een
keer het hulle vir Dr Chris Barnard aangehaal wat na die hart as 'n pomp
verwys het, en toe sing hulle spottenderwys "My pomp verlang na die Boland",
en "My pompie my liefie die son sak weg..."
Die Bybel het baie te sê oor die hart, en baie min in die konteks van die
anatomie. In die 1983 vertaling kom die woord 201 keer voor. Daar is
vreeslik baie verskillende dinge waar die betrokkenheid van die hart beskryf
word. Die nood van die hart, iemand se hart probeer wen, sondige harte,
gebroke harte, om iets diep in die hart te weet, die liefde van die hart,
die hardheid van die hart, die boosheid van die hart, die hart en siel word
beskryf, die gesindheid van die hart, die wense van die hart, die goddelose
hart, die vreugde van die hart, die opregtheid van die hart, die hart wat
ineenkrimp, in die hart vervloek, die reinheid van die hart, die smeking van
die hart, die kommer van die hart, die hart wat gesteel word (liefde), die
hart wat brand, en nog baie baie meer.
Hierdie skrywers wat deur die hele Bybel hiervan skryf, het waarskynlik baie
min van die anatomie geweet, maar hulle het baie akkuraat hierdie gevoel en
emosie beskryf wat in die hart gesetel is. Hulle het nie na enige ander
orgaan verwys nie, en was dus baie bewus van wat hier bo in die borskas
gebeur.
Dit maak dan sin as die Here sê dat Hy hierdie hart van klip uit ons wil
uithaal en vervang met 'n hart van vlees. En dan Hy wil hê dat ons Hom moet
liefhê met hart, siel en verstand.
Nou ja, daar is 'n goeie toets daarvoor: Wat die hart van vol is loop die
mond van oor... ~ Willem Botha, 18/07/2017 |
|
Volgens die Biblegateway webblad se statistieke is die
teks wat die meeste daar opgesoek word Joh. 3:16. Ek sou nogal dink mense
kon dalk eerder die mooi Ps. 23 met sy bemoedigende woorde opsoek of 1 Kor.
13 wat oor die liefde gaan, maar nee, hulle soek juis dié vers op waarop ons
hele Christelike geloof gebou is. Dis die vers met die heel beste nuus. Dis
dié vers wat jou tot stilstand ruk as jy besef hoe groot God se liefde is.
Dis dié vers wat jou herinner dat Sy genade vir die hele wêreld bedoel is –
elke volk en stam en taal. Dis dié vers wat bevestig dat Jesus die enigste
weg en waarheid is, die deur na die ewige lewe. Dis dié vers wat bevestig
dat ons uit die kloue van satan en die greep van die dood geruk is deur ons
Verlosser, Jesus Christus. Dis dié vers wat jou verseker dat Jesus vir jou
sonde en oortredinge betaal het, sodat jy nie hoef nie. Dis dié vers wat vir
ons hoop gee – hoop op ’n ewige toekoms saam met God. Glo jy dié vers? “God
het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat
in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” ~ Wilna
Botha, 17/07/2017 |
|
Al sou die vyeboom nie bot nie...
Ek is seker die liedjie is sommer nou dadelik in jou kop! Ja, een van daai
liedjies wat so lekker sing, uit die hart uit en met volle oorgawe. Maar so
moeilik om dit te bedoel. Geen oes, geen aanwas van die vee, beeskrale leeg...
Dan jubel jy steeds. Regtig? Bedoel jy dit regtig as jy dit sing? Sal jy
rêrig steeds jubel?
Jy sien vriend, ons sing hierdie woorde lekker as dit goed gaan met ons,
maar in moeilike tye sing ons dit eerder nie.
Dit beteken: Al is my bankrekening heeltemal leeg, sal ek jubel. Wanneer ek
my werk verloor, sal ek jubel. Wanneer ek of iemand naby aan my terminaal
siek is, sal ek jubel. Wanneer my huwelik op die rotse is, sal ek jubel.
Klink so effe snaaks of hoe?
Dis nie wat Habakuk 3 bedoel nie. Dit beteken nie dat ek jubel omdat dit
sleg gaan nie, maar omdat die Here my God vir my krag gee om deur dit te kom
(vers 19). Dis omdat ek weet dat geen probleem te groot is vir die Here nie,
en indien daar tog situasies opduik wat jou binneste totaal verwoes soos die
dood van 'n geliefde, gee Hy jou steeds krag om daardeur te kom. Hierdie
gedeelte maak voorsiening daarvoor dat die lewe nie net maanskyn en rose is
nie, en sê inderdaad dat ook die kinders van die Here kan swaarkry, maar ons
het daai voordeel bo ander, dat onse Here vir ons krag gee.
Hab 3:16-19 "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die
wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder
beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my
Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n
ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met
snarespel." ~ Willem Botha, 13/07/2017 |
|
Nommer 2 en 3 op die lys van gunsteling teksverse loop
hand aan hand, die een onderstreep en bevestig die ander, die een uit die Ou
Testament, die ander uit die Nuwe Testament. Rom 8:28 en Jer. 29:11 sê albei
vir my dat God alles wat in ons lewe gebeur gebruik om Sy doel te bereik.
Niks is buite Sy beheer en Sy groter, Goddelike, ewige plan nie. Miskien
weet jy ook dat ’n kronkelende, moeilike, opdraande pad dié een is wat jou
uiteindelik by die mooiste uitsig bring. Miskien het jy al gesien dat die
afdraande pad wat deur die donker klowe lei, waar dinge bietjie buite beheer
voel en jy nie die rem getrap kry nie, dié een is wat jou uiteindelik by die
rivierstroom bring, die groen weivelde waar rus is. Só is dit in die lewe.
Só is dit ook in die Geestelik lewe. Die pad sal kronkel. Die pad sal steil
wees. Die pad sal soms donker en alleen wees. Maar jy sal nie alleen op daai
pad wees nie. God het die uiteinde bepaal. Daar is hoop en daar is ’n
toekoms. ~ Wilna Botha, 11/07/2017 |
|
In die begin...
Gen 1:1 "In die begin het God die hemel en die aarde geskep.."
So begin die Here homself aan die mens openbaar, in die mees unieke boek wat
ooit geskryf is, wat meer mense se lewens dramaties verander het as enige
ander geskrifte wat ooit die lig gesien het, 'n boek wat jy nooit kan klaar
lees en waarvan jy nooit ooit, in jou hele lewe, die volle omvang sal kan
begryp nie. 'n Boek wat deur miljoene mense in twyfel getrek word, maar wat
op GEEN manier ooit verkeerd bewys kon word nie.
Hierdie Boek vertel van die Outeur wat deur vele misken word, wie se bestaan
betwyfel word en wat wild en wakker deur verstandelose mense vertrap word.
Sy grootsheid en almag word verwerp en Sy handewerk word betwyfel.
Maar die Woord begin met: "In die begin het God die hemel en die aarde
geskep." En net hier, sommer in vers 1 van die Bybel, draai die ongelowige
homself vas. Net hier struikel vele wetenskaplikes en ander mense om iets te
maak van hierdie heelal wat SO oorweldigend is, dat jy verskriklik baie "geloof"
nodig het om TEEN God en Sy skeppingswerk te glo. Hoe meer die mens 'n
Skepper misken, hoe meer openbaar die Here kennis aan die mens, wat die mens
nog minder verstaan. Einstein het gesê: "ek glo nie God hou kennis van die
mens weg nie, Hy wil net hê ons moet verder soek".
Dan het die gelowige dit baie maklik as jy net eenvoudig kan glo: "In die
begin het God die hemel en die aarde geskep."
Ek sal dit net nooit ooit NIE kan glo nie, dis eenvoudig net te oorweldigend.
~ Willem Botha, 10/07/2017 |
|
Mens sou verwag dat Fil. 4:13 ’n gunsteling teks vir
baie mense sal wees. Daarom was ek bly om te sien dat hy nr. 4 op die lys is
van dié tekste wat die meeste gelees word. Dit wys dat daar baie mense is
wat wéét dat hulle afhanklik is van die Here, wat wéét dat hulle swak is,
dat hulle êrens ’n doring in die vlees het, dat hulle eie krag nie genoeg is
om deur die moeilikhede van elke dag te kom nie. Hulle stem saam dat hulle
met die Here aan hulle kant oor ’n muur kan spring, dat niks hulle van Sy
liefde kan skei nie, dat hulle meer as oorwinnaars is. Hulle het al ervaar
dat al is hulle ’n kleipot wat maklik breek, God se krag wat alles oortref
binne-in hulle is en juis tot volle werking kom wanneer hulle swak is. Hulle
weet al gaan hulle deur donker dieptes, sal die Herder hulle dra na groen
weivelde en waters van rus en vrede. Hulle weet as dit voel of hulle voete
gly dat die Here se krag hulle regop sal hou, dat Hy hulle uit die stof sal
oplig en vir hulle arendsvlerke sal gee. Ek is tot alles in staat deur Hom
wat my krag gee! ~ Wilna Botha, 06/07/2017 |
|
God met ons
6 Julie 1977 (40 jaar gelede) klim ons die trein Potchefstroom toe vir
diensplig van 'n jaar, wat toe twee jaar geword het, en nog agt maandkampe
het gevolg. Op hierdie foto sit ek voor my huis van seil waar ek die hele
tyd gebly het. Baie mense het vir ons en ons veiligheid gebid en die Here
was getrou, ek het heel huistoe gekom. God was met ons. 23 Augustus 1978
word ons op Katima Mulilo met grofgeskut aangeval en in daardie loopgraaf
het ek kliphard gebid, verlam van vrees met Rooi-oë wat om ons val. 'n
Verskriklike wapen! Een was ongemaklik naby, en daardie geluid vergeet ek in
my hele lewe nooit weer nie. Die Here het ons gebed verhoor. God met ons.
Maar minder as 100 meter weg sterf 11 jong manne daardie nag in hierdie
sinnelose ding wat ons oorlog noem. Maar hulle naasbestaandes is deur die
Here vertroos, soos met baie baie jong manne wat gesterf het in daardie tyd.
Sinneloos!
Ek lees onlangs 'n boek met die naam "Recce", en die skrywer vertel dat 'n
predikant voor elke operasie oor die grens vir hulle nagmaal bedien het.
Want God was aan hulle kant. Maar gedurende een operasie skiet hulle 'n
Swapo terroris dood, en hulle kry 'n klein sakbybeltjie in sy sak. Ook hy
het geglo aan "God met ons".
Ons lees baie van oorlog in die Bybel, waar die volk die Here se nabyheid
amper tasbaar gevoel het. Hy was by Sy mense.
Dit maak egter net nie sin nie en ek het opgehou om hierdie dinge te probeer
verklaar. Al wat ek weet, deur my hele lewe was God daar, ek het ontelbaar
kere Sy beskerming en nabyheid ervaar, ek glo Hy het my lewe vele kere gered.
Van sommige kere weet ek, ander dalk nie. Maar ek kan vandag vir jou sê, hou
vas aan Hom, want Hy is met ons. ~ Willem Botha, 05/07/2017
 |
|
Ek is steeds besig om dié 10 Bybelverse te oordink wat
mense die meeste opsoek, na aanleiding van die statistieke van Bible
Gateway-webblad. Nommer 5 op die lysie is Gen. 1:1. Dáár waar alles begin
het, dáár waar aangekondig word dat God die Skepper van alles is. Gen. 1:1
laat my opnuut besef die Here was nog altyd daar, sal altyd daar wees en is
ook vandag in my lewe besig om te skep en te herskep. Wanneer alles woes en
leeg is, maak die Here ’n nuwe begin en herskep Hy liggaam en gees. Net soos
die Here Sy lewensasem in Adam ingeblaas het, het Hy dit vir ons elkeen
gedoen. As dit voel of jou lewensasem weg is en jou krag op is, laat die
Here toe om nuwe lewe in jou te blaas. Toe my dogter baie klein was, het sy
eendag gesê dat sy weet hoekom die Here vir Adam en Eva gemaak het. Dis
omdat Hy eensaam was en iemand wou hê om mee te praat! Nou ja, uit die mond
van die suigeling... Besef tog hoe spesiaal jy vir die Here is. Besef tog
dat Hy jou gemaak het. Besef tog dat Hy ’n vader, ’n vriend en vennoot in
jou lewe wil wees. God het na alles gekyk wat Hy geskep het en gesê: dit is
baie goed. ~ Wilna Botha, 04/07/2017 |
|
Geloof soos Paulus
Hand 9:1-5 Intussen het Saulus soos 'n besetene voortgegaan om die
volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe
gegaan en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra.
Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry,
mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring. Toe hy
op reis naby Damaskus kom, het daar skielik 'n lig uit die hemel op hom
gestraal. Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul,
Saul, waarom vervolg jy My?” “Wie is U, Here?” vra hy toe. “Ek is Jesus,”
antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg."
As iemand ooit moet wonder of die evangelie van Jesus Christus waar is, kan
hy maar net na Paulus se verhaal gaan kyk. Paulus die Fariseër, die
vervolger van die Christene, die man wat alles in sy vermoë gedoen het om
hierdie "nuwe" beweging tot 'n val te bring.
En hier lees ons hoe hy self letterlik "tot 'n val kom", toe Jesus aan hom
verskyn. Let wel, Jesus Homself, kyk gerus na vers 5.
Paulus se lewe verander so dramaties dat hy ongelooflike lyding deurgaan,
amper sterf vir sy geloof tydens sy bediening, later wel sterf daarvoor en
op die koop toe 13 van die 27 boeke van die Nuwe Testament skryf. Bykans die
helfte!
En weet jy wat meer is? Hy het nie (sover ons weet) ooit vir Jesus een tot
een gesien nie, hy was nie 'n dissipel nie en hy was nie by die kruis, die
opstanding of die hemelvaart nie. Ek het nog nooit van 'n ateïs gehoor wat
die bestaan van die briewe van Paulus in twyfel trek nie, maar wel dat hulle
die Jesus vir wie Paulus aanbid het in twyfel trek. Maar Paulus het
vasgestaan in sy geloof. Laat mens dink né? ~ Willem Botha, 03/07/2017 |
|
Die 6de en 7de plek op die lys van mees opgesoekte
verse in die Bybel behoort aan Spreuke 3:5 en 6. Hoe wys is dit nie om te
wéét dat jy nie op jou eie insigte, jou eie besluite, jou eie pad kan
staatmaak nie. Jou eie pad kan op die oomblik dalk rooskleurig lyk, maar hoe
gemaak as jy uitvind jy het verdwaal? Jou eie pad kan dalk nou mooi geplavei
wees, maar hoe gemaak as dit eindig by ’n hengse afgrond? Jou eie pad kan
dalk nou maklik wees om te stap, maar hoe gemaak as daar struikelblokke wag
om die volgende draai? Jou pad kan dalk oop voor jou lê, maar hoe gemaak as
daar 'n T-aansluiting of ’n Cul-de-sac voor jou opduik? Vertrou liewers die
Here en laat Hý jou koers bepaal. “Die Here bepaal die koers van die mens
met wie se pad Hy tevrede is en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy
nie lê nie, want die Here help hom op” (Ps. 37:23) As jy nie meer weet
watter kant toe nie, raak stil en vertrou die sagte stem van die Here aan
jou binnekant. “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem
hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21) As jy verdwaal of
afgedwaal het van die Here se koers vir jou lewe, onthou: jy kan, soos die
verlore seun, enige tyd terugdraai in die arms van die Here in. As jy
ronddwaal en vasval in die modderpoele van die lewe, roep na die Here en Hy
sal jou kom soek ... “As ek sou ronddwaal soos ’n skaap wat weggeraak het,
soek my dan ....” (Ps. 119:176) ~ Wilna Botha, 29/06/2017 |
|
Hoekom ek Here?
Ek dink vele mense het al hierdie vraag gevra. 'n Vriend het 'n klomp jare
gelede kanker gekry en ook gevra: "Hoekom ek Here?" Sy antwoord het
onmiddellik gekom: "Hoekom nie jy nie? Wie sou jy dan anders kies om hierdie
pad te stap?" Genadiglik het die Here hom genees.
Vandag is dit my beurt om hierdie vraag te vra: "Hoekom EK Here?"
Maar my vraag werk bietjie na die ander kant toe as ek vra: "Why me Lord?"
Why ME - Kris
Kristofferson
Why me Lord what have I ever done.
To deserve even one of the pleasures I've known
Tell me, Lord, what did I ever do
That was worth lovin' you or the kindness you've shown
Lord help me, Jesus,
I've wasted it so
Help me Jesus I know what I am
But now that I know that I've needed you so
Help me, Jesus, my soul's in your hand
Try me, Lord, if you
think there's a way
I can try to repay all I've taken from you
Maybe Lord I can show someone else
What I've been through myself, on my way back to you
Lord help me, Jesus,
I've wasted it so
Help me Jesus I know what I am
But now that I know that I've needed you so
Help me, Jesus, my soul's in your hand ~ Willem Botha (28/06/2017) |
|
Nommer 8 op die lys van teksverse wat mense die meeste
opsoek is Rom 12:2. Ek dink miskien word dié vers so baie gelees omdat mense
wonder oor God se wil vir hulle lewens. Vir baie mense is God se wil ’n
misterie, iets wat net vir ’n uitgesoekte groepie beskore om uit te vind.
Nee, die Bybel sê wanneer ons toelaat dat God ons denke vernuwe, sal ons oë
oopgaan om God se wil te kan onderskei. Ons hoef dit nie sélf te doen, of
hard te werk daarvoor nie. God gee dit vir ons wanneer ons oorgegee aan Hom
lewe en die Gees toelaat om ons te lei. Dan gaan dít wat ons in die woord
lees vir ons sin maak. Dan gaan ons weet wat vir Hom goed en aanneemlik en
volmaak is. Dan gaan sy wet nie meer op kliptafels geskryf wees nie, maar op
die tafel van ons hart. Dan gaan ons wíl wat Hy wil. Dan gaan ons dink soos
Hy dink. Dan gaan wat vir Hom belangrik is, ook vir ons belangrik wees. God
se wil is nie ’n verborge geheim nie, vriend. Dis reeds duidelik vir ons
geopenbaar in die skrif. Dis nie buite ons bereik nie, dis “... baie naby
aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.” (Deut.
30:14) Laat Hy julle manier van dink verander ... ~ Wilna Botha, 26/06/2017 |
|
VerGIFnis
Daardie selfopgelegde straf as jy weier om ander te vergewe, daardie
meulsteen wat jy om jou eie nek hang. Jesus was baie baie ernstig hieroor en
het op heelwat plekke hieroor gepraat, dalk juis omdat hy die mense wou
waarsku dat hulle hulself skade aandoen as hulle hiermee sukkel.
Matt 6:12 "... en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat
teen ons oortree"
Wel, hier kan jy reeds ietsie sien van die erns van die saak, wanneer Jesus
die mense leer om te bid in die "Onse Vader" gebed. Die feit dat Jesus dit
hier noem, wys die belangrikheid van vergifnis.
Maar as jy nou nog twyfel, lees net 'n klein bietjie verder.
Matt 6:14-15 "As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle
hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie,
sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
My vriend, dit lyk of mens met onvergewensgesindheid dobbel met jou
saligheid. Nee wat, dis net eenvoudig nie die moeite werd nie. Kry klaar
sodat jy vrede kan kry. ~ Willem Botha, 22/06/2017 |
|
Ek is nie verras dat Fil. 4:6 nommer 9 op die lys van
die 10 gunsteling Bybelverse is wat mense die meeste opsoek nie. Waarheen
anders as na die Here toe kan ons hardloop met ons probleme en bekommernisse?
Mense gaan stort hulle harte by ander mense, of sielkundiges of beraders uit
en dis ook goed so, want hulle kan ons help met hulle raad en omgee. Ander
probeer hulle bekommernisse verdrink in allerlei verslawings of probeer dit
begrawe onder werk en ander aktiwiteite. Maar as jy jou hart by die Here
uitstort weet jy vir seker Hy verstaan, weet jy Hy huil saam, weet jy Hy sit
sy arms om jou en weet jy dat ongekende, onverklaarbare vrede jou hart en
gedagtes gaan kom oorneem. Bid, smeek en onthou om dankie te sê! “Moenie oor
dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek
dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy
met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en
tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of
wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort,
sal jy nie meer omgekrap voel nie.” (Fil. 4:6, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
21/06/2017 |
|
Gif
Dodelike gif:- neem vyf groot eetlepels drie keer per dag voor ete. Sluk so
vinnig as moontlik af en drink dan 'n glas water. Stook bitterheid soveel as
moontlik in jou gemoed. Hou jouself besig met selfgesprekke, waar jy elke
keer aan die korste ent trek. Doen dit in die nag terwyl jy rondrol, asook
enige tyd van die dag wanneer jy die minste daarvoor lus is. Die haat sal
jou verteer, die seerkry hier diep binne nooit ophou nie, die woede
uitbarstings wanneer jy dit die minste verwag. Daai gedagtes wat maal en
maal en soos 'n plakkerskamp se plakker wat in jou kop plak en geen sent
huur betaal nie. Jy drink die gif en hoop iemand anders kom daarvan om.
So is dit as jy nie
kan vergewe nie!
Hoekom? Waarom dit
aan jouself doen? Dit terwyl die ander persoon dalk salig onbewus is van jou
selfvernietiging. Hoekom 'n slaaf word van iets (of iemand), wat die boeie
vir jou gee en jy sluit jouself daarmee aan daardie persoon vas? Hoekom
toelaat dat iemand vir wie jy kwaad is jou lewensvreugde steel?
Nee vriend, vergewe en gaan aan met jou lewe. Begin vandag met die proses,
al is dit stadig en pynlik, dis net jou keuse. Sluit daai tronkdeur oop, met
daai sleutel wat reeds in jou hand is. En word vry. Dalk is daai skuldige
persoon reeds in die graf, maar dan word jy ten minste vry.
Mat 18:21-22 Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel
keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe
keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs
sewentig maal sewe keer. ~ Willem Botha, 20/06/2017 |
|
In my gewonder oor mense se gunsteling Bybelverse, het
ek afgekom op ’n webblad wat volgens hulle statistieke die top 10 Bybelverse
gee. Dit is dié 10 verse wat mense die meeste opgesoek het op hulle
Bybelblad oor ’n spesifieke tydperk. Ek gaan oor die volgende paar kere
ietsie deel oor elkeen van hierdie verse. Nommer 10 was Matt. 28:19. “Gaan
dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.” Ek was eintlik
verbaas dat hierdie teks so gewild is want dit gee ’n opdrag (en ’n moeilike
een daarby!) en dis mos nou nie altyd so lekker om ’n opdrag te kry nie, nè!
Maar tog wys dit dat die vers vir ons as Christene belangrik is. Die Here
wil nie hê dat wat ons ontvang het net by ons moet bly nie. Ons moet vissers
van mense word. Ons moenie stilbly nie. Ons moenie stilsit nie. Ons moet
tydig en ontydig die woord verkondig. Ons moet gereed wees om te getuig oor
die hoop wat in ons lewe. Ons moet elke dag daai skoene van bereidheid om
die evangelie te verkondig aantrek. Ons moet met ons woorde en dade mense na
Jesus toe trek, hulle bekendstel aan sy genade en liefde en vergifnis. Ons
moet met geduld na alle mense uitreik. Gelukkig is ons nie op ons eie met
hierdie taak nie, want in vers 20 sê Jesus: “Ek is by julle al die dae tot
die voleinding van die wêreld.” Almal moet hoor! So, is Matt. 28:19 onder
jou top 10 verse? ~ Wilna Botha, 19/06/2017 |
|
Doen wat reg is
Ons word elke dag gebombardeer met nuus oor ongeregtigheid van die hoogste
tot die laagste vlakke in die samelewing. Ons hoor van staatskaping,
witboordjie misdaad en soveel mense wat daagliks in die howe staan oor
verkeerde dinge wat hulle aanvang. Wel, dis natuurlik net diegene wat
uitgevang word, maar wat van hulle (of liewer ons) wat nie altyd eerlik
handel in ons daaglikse doen en late nie en daarmee wegkom?
Voorts is daar soveel beroepe en bedrywe wat ook nie eerlik handel nie en
onskuldige mense verloor hulle inkomste omdat hulle goedgelowig mense se
stories glo. En hoewel dit dalk selfs nie eers noodwendig onwettig is nie,
kan dit steeds oneerlik wees.
Pred 8:5 "Wie 'n bevel gehoorsaam, beland nie in die moeilikheid nie. Wie
wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel."
Dit raak deesdae regtig moeilik of hoe? Hoe maklik word mens nie meegesleur
in dinge nie? Op die selfoon praat terwyl jy bestuur word die norm, dit word
nie eers meer as verkeerd gesien nie.
Pred 8:11 "Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense
eenvoudig aan om verkeerd te doen."
Ai, hoe wonderlik sou dit wees as ons almal net reg en eerlik handel. Ek
dink nie daar sal eers 'n regstelsel nodig wees nie, en daar sal waarskynlik
harmonie tussen almal wees.
Klink so half of dit die Here se gedagte was vir die paradys... ~ Willem
Botha, 14/06/2017 |
|
Wat is jóú gunsteling Bybelvers? Is dit een wat jou kan
troos? Is dit een wat jou beter laat voel oor jouself? Is dit een wat vir
jou sê hoe groot en goed God is? Is dit een wat vir jou die versekering gee
dat jy God se kind is? Of is dit dalk een wat iets oor jou sonde sê of een
wat vir jou sê om jou naaste lief te hê soos jouself? Terwyl ek so oor mense
se gunsteling teks wonder, het ek bietjie daaroor ge-google en die uitslag
is dat dit troosverse is wat mense die meeste opsoek. Daai vers wat sê dat
alles ten goede sal meewerk, dat jy tot alles in staat is deur Christus se
krag, dat jy nie bang hoef te wees nie, dat jy nie bekommerd hoef te wees
nie, dat die Here jou sal uithelp, dat God vir jou voorspoed beplan en ’n
toekoms vol hoop wil gee. Dis ook goed en mooi so, want dit lyk my die
mensdom wéét waar hulle hulp vandaan kom in moeilike, onderstebo en
deurmekaar tye. Ons wéét as dit lyk of niks volgens plan verloop nie, het
God steeds ’n plan. Ons wéét as dit lyk of ons gaan vergaan, steek God sy
hand uit en help ons. So, want is jóú gunsteling vers? Memoriseer dit. Plak
dit op jou yskas. Maak vir jou ’n “screen saver” daarmee. Graveer dit op ’n
armband. Wat ook al ... onthou dit en glo dit. ~ Wilna Botha, 12/06/2017 |
|
Ons was pas op vakansie in Knysna, en dinge was amper
ernstig ontwrig met die brande daar, en ons is letterlik omtrent 'n uur daar
weg voor die paaie toegemaak is, en ons het dit nie eers geweet nie. Ons is
uiters dankbaar daarvoor. Hoe moet ons daaroor dink? Was die Here se guns op
'n besondere manier op ons? Natuurlik glo ek dit so, maar was die Here se
guns dan nie op daardie mense wat onder die ramp deurgeloop het nie? Ek kan
maar net tot die slotsom kom dat die Here se weë vir my duister is, en dat
ek nie sal probeer om alles te verstaan nie. Ek aanvaar net dat dit wat die
Here doen bo my verstand is, maar dat ek ALTYD sal bly glo in hierdie God.
Toe ons terugvlieg huis toe sien ek hierdie toneel bo die wolke en ek neem
'n foto. Terwyl daar chaos onder die wolke is, is hierdie wat daarbo aangaan.
Ons wonderlike Skepper se handewerk. ~ Willem Botha, 08/06/2017
 |
|
In die fliek Life of Pi praat Pi oor geloof en amper in
dieselfde asem sê hy die volgende: “Doubt is useful, it keeps faith a living
thing. After all, you cannot know the strength of your faith until it is
tested.” En ek stem saam. Ek dink ons almal beleef tye van twyfel. Dalk
twyfel jy of die Bybel regtig waar is. Dalk twyfel jy of God jou smeekgebede
hoor. Dalk twyfel jy of Hy bestaan. Dalk twyfel jy of daar regtig lewe na
die dood is. Dalk twyfel jy selfs aan God se goedheid en liefde en
vergifnis. Tye van twyfel maak gewoonlik weer plek vir dieper oortuiging van
die waarheid en bevestiging van jou geloof. Moet net nooit verlore raak in
jou twyfel en jou rug op God draai nie. Dan kan jy dalk soos ’n brander word
wat deur die wind heen en weer gedryf word. Dan kan jy dalk sonder koers en
sekerheid word in al jou doen en late, soos wat Jak 1:7 praat van twyfelaars.
Nee, groei deur jou twyfel na groter vertroue op God, na groter sekerheid
van dít waarin en waaraan jy glo. Ervaar hoedat jou twyfel jou geloof
lewendig maak. Ervaar hoedat jou twyfel jou sterker maak. ~ Wilna Botha,
30/05/2017 |
|
Daai pakkie
Kyk, 'n sepie, 'n tydskrif en sommige programme op televisie beeld darem
maar 'n verwronge beeld van die lewe uit. Daar sien jy dikwels net die
mooiste, maerste, rykste en mees suksesvolle mense, en dis net daar waar die
moeilikheid begin.
Hoe swaar is daai pakkie wat jy dra? Daardie swaarkry en sukkel wat soos 'n
reuse boggel op jou rug vasgeplak is en wat al jou lewenskwaliteit wegneem.
Daardie dinge wat jou so afrem dat daar lankal nie meer lig in die tonnel is
nie. Die probleem is dat ons vir onsself so 'n "volmaakte" wese optower
waaroor ons fantaseer, en as ons net in daardie stuk beeldhouwerk kan inklim,
gaan ons gelukkig wees.
Jan se geld, Koos se vrou, Gert se huis, Piet se motor, Daan se gesondheid
en Johan se werk. En natuurlik goeie gesondheid en volmaakte kinders.
Ai, besef mense nie dat ALMAL se pakkies wat hulle dra swaar is nie? Weet
mense dan nie dat daar diep binne in elke mens se hart swaarkry wegkruip nie?
Lê ons almal nie maar oor een of anders iets wakker nie? En dan die grootste
vraag van almal: Dink jy regtig jy gaan dolgelukkig wees as jy jou net eers
knus kan toewikkel in 'n ander ou se lewensomstandighede?
Vriend, as jy nie onder jou eie laste geluk kan vind nie, gaan jy dit ook
nie onder 'n ander ou se laste regkry nie.
Hierdie is my gebed vir jou:-
FIL 4:7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle
harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."
Het jy geweet dat die woord "vrede" deel is van die woord "tevrede"? ~
Willem Botha, 29/05/2017 |
|
Ek het vandag weer die Bybelgedeeltes wat oor Jesus se
hemelvaart handel gelees. Luk. 24:50-51 is vir my besonders: “Daarna het Hy
hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en
hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy
in die hemel opgeneem.” Jesus laat sy volgelinge met ’n seën en met groot
beloftes agter voordat Hy opvaar na die hemel. Daai seën en daai beloftes is
vandag vir ons ook van toepassing. Kyk op na die wolke en weet en glo dat
Jesus weer gaan terugkom en dat Hy sélf elke dag by jou is tot dan (Matt.
28:20). Kyk op na die wolke en weet dat Jesus vir ons ’n Helper, die Heilige
Gees gegee het, dat Hy in jou woon en jou lei en leer. Kyk op na die wolke
en weet dat Jesus vir ons ’n plek in die hemel gaan voorberei het . Hy sê
in die huis van Sy Vader is daar baie wonings – daar is plek vir jou ook!
Kyk op na die wolke en weet dat Hy aan die regterhand van God sit, dat Hy
daar vir ons intree, dat Hy daar vir ons ’n Middelaar is. Kyk op na die woke
en weet dat Hy tot in ewigheid regeer as Koning van die heelal. Kyk op na
die wolke en aanbid en eer en prys Hom! ~ Wilna Botha, 25/05/2017 |
|
My oog vang ’n internet artikel wat vra of dit ’n sonde
is om pret in die kerk te hê. Moet ons net sedig en stil wees en gewyd en
saggies sing, of mag ons maar soms uitbundig en laf ook wees? Wel, ons het
verlede Sondag so ’n kerkdiens by Huis Phyllis Robertson gehou. Die tema was
“Geestelike fiksheid vir die wedloop van die lewe”. Ons het toe sommer
opgedaag in ons oefenklere en almal ’n bietjie oefeninge laat doen. Groot
pret en giggels! Die spreekwoord sê mos ’n gesonde liggaam huisves ’n
gesonde gees, nie waar nie? Albei daai kante is baie belangrik. Soms is
mense fanaties oor ’n gesonde liggaam, maar skeep die geestelike kant af.
Ander mense weer gee nie om oor die liggaam en voorkoms nie en fokus net op
die geestelike. 1 Tim 4:8 sê: “Liggaamlike oefening het wel waarde, maar
geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van
beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende.” Oefen jou liewer om in
toewyding aan God te lewe, lui vers 7. Wat sou daai oefenprogram insluit?
Die regte kos – ja, eet gereeld die Woord en drink die Lewende water. Die
regte klere en toerusting – waarheid as gordel, vryspraak as borsharnas,
skoene van bereidheid, helm van verlossing, geloof as skild. Die insette van
jou afrigter - luister na Sy stem en dóén wat Hy sê. Die aanmoediging van
jou vriende en spanmaats – laat toe dat medegelowiges jou help en ondersteun.
Fokus - los alles agter wat jou kan terughou en afrem en hou jou oog op die
einddoel. Volhard - dis makliker om nié te oefen nie, maar om aan te hou en
deur te druk, selfs in moeilike tye, sal ’n beloning inhou. En as jy faal of
val – staan op en probeer weer. Kom oefen saam! ~ Wilna Botha, 24/05/2017 |
|
Waar was God...
... toe daardie bom gister afgaan by 'n konsert in Engeland? Waar was Hy in
1983 toe die bom in Kerkstraat hordes mense se lewens verwoes? Waar was Hy
op 11 September 2001 toe duisende onskuldige mense in New York sterf? Waar
was Hy toe duisende mense in sinnelose oorloë reg deur die geskiedenis sterf?
Moeilike vraag of hoe? Wel, Hy was op dieselfde plek as waar Hy was toe jy
vandag gesmul het aan 'n lekker bord kos, of toe jy knus in jou warm bed
gelê het. Hy was op dieselfde plek as waar Hy was toe jy jou pasgebore baba
in jou arms hou. En toe jy onverklaarbaar genesing gekry het toe jy siek
was. En waar Hy was toe jy die groot deurbraak gekry het na 'n tyd van
werkloosheid.
Deur al hierdie tyd was Hy steeds in Sy troonkamer, daar waar jy ongenooid
vir Hom kan gaan kuier. Daar waar Hy sekerlik ook hartseer is oor die
gebrokenheid van hierdie wêreld, en saam met jou bly is oor jou voorspoed.
Daar waar Hy die sonde van die wêreld haat, maar innig lief is vir die
sondaars soos ek en jy.
Die Bybel sê nie die lewe is maanskyn en rose nie. ~ Willem Botha,
23/05/2017 |
|
Nou die dag sê ’n kliënt van my sy leef net vir naweke.
Klink dit vir jou bekend? Is jy ook een van daai mense wat nie kan wag vir
Vrydag nie? Die meeste van ons sien mos uit daarna om in en om die huis te
wees, laat te slaap, bietjie in die winkels te gaan rondloop, ’n fliek te
kyk, te kuier saam met vriende ens. Natuurlik is daar niks fout daarmee nie,
maar wat my laat wonder het, is as jy net 2 uit die 7 dae van ’n week regtig
kan geniet, regtig léwe, gaan daar darem baie kosbare tyd verlore. Ek werk
toe gou-gou uit: as ek 80 jaar oud gaan word, dan het ek nog net so 1150
naweke oor! Dis te min. Ek kán nie net vir naweke lewe nie. Ek moet elke dag
lewe. Ek moet elke dag geniet. Ek moet sorg vir iets opwindend en lekker en
inspirerend vir elke dag. Ek moet elke dag ’n verskil maak vir iemand. Ek
moet elke dag iets goed doen. Ek moet ophou wag vir die naweek, vir die
vakansie, vir volgende jaar, vir aftrede, vir eendag. Ek hét vandag. Ek
moet vandag tyd maak vir die belangrike dinge en dit nie uitstel vir eendag
nie. Ek moet vandag my beste gee in alles wat ek doen. Ek moet vandag vir my
geliefdes sê hoe ek oor hulle voel. Ek moet vandag waag om iets nuuts of
iets anders te doen. Ps 118:24 sê: "Dit is die dag wat die Here gemaak het,
laat ons daaroor juig en bly wees.” Jy het vandag as ’n gawe uit die Here se
hand ontvang. Leef dit. Wees bly daaroor. Geniet dit. ~ Wilna Botha,
22/05/2017 |
|
“There is no medicine like hope, no incentive so great,
and no tonic so powerful as expectation of something better tomorrow.” Ek
lees dié aanhaling nou die dag êrens en my hart beaam dit dadelik. Om iets
te hê om na uit te sien kikker mens mos vinnig op en sit sommer ’n huppel in
jou stap. Om te verwag dat dit môre of volgende week of volgende jaar beter
sal gaan, help mens om vandag se las te dra, gee jou moed om deur te druk.
Miskien is jy siek en is jou hoop op daai volgende rondte chemoterapie om
beter te voel. Miskien het jou huwelik skipbreuk gely en is jou hoop op daai
nuwe vriendskap. Miskien het jy jou werk verloor en is jou hoop op daai
onderhoud wat jy môre het. Miskien is jou geld op en jou hoop is op daai
volgende bestelling. Hoop op uitkoms. Hoop op genesing. Hoop op iets beter.
Hoop op God. Glo in God. Geloof bring hoop. Hou vas daaraan, kom wat wil!
“Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle
geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die
groot krag van die Heilige Gees in julle lewe, altyd oorvloedige hoop hê.
Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil.”(Rom 15:13, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/05/2017 |
|
In die sweet van jou aangesig...
So sê die 1953 vertaling in Genesis na die sondeval oor werk. In die1983
vertaling lees dit egter in Gen 3:19 "... net deur harde werk sal jy kan eet,
totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy,
en jy sal weer stof word.”
Hoe verskriklik is dit om te hoor mense sê : Ek haat my werk! Ek dink nie
dis altyd waar nie, daar is vele mense wat eerder moet sê : Ek haat WERK.
Dan vind hulle so bietjie vertroosting in die gedagte dat dit Adam en Eva se
skuld is. Dis verkeerd. Die opdrag om te werk kom reeds voor die sondeval,
en ons lees in Gen 1:28 “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en
bewerk dit."
Soveel mense wroeg hulle lewe dag vir dag om, kom saans onvergenoegd en
ongelukkig tuis en droom elke aand van die dag wat pensioen aanbreek. Net om
dan in depressie te verval weens te min inkomste en eventueel armoede.
Nee vriend, dis nie reg nie. Werk is 'n enorme voorreg, dit gee vir mens 'n
doel (purpose), dit maak 'n verskil aan die ekonomie, dit hou jou liggaam en
brein in stand, dit maak dat jy vir jouself kan sorg en dit kan SOVEEL
vreugde bring as jou ingesteldheid reg is. Iemand het eendag gesê "moet tog
nie iemand anders die voorreg ontneem om vir homself te sorg nie." Ja,
natuurlik kom daar 'n tyd dat dit nie meer moontlik is nie en natuurlik laat
'n werkgewer jou klaarmaak op 'n spesifieke ouderdom, maar as dit moontlik
is, nie te gou nie.
Ek het al gehoor dat mense sê dat entrepreneurs nie ophou werk nie omdat
hulle gierig is agter die geld aan.
Mmm... watter geld? Die meeste van hulle hou aan werk omdat werk 'n plesier
is.
Ek dink sommer onwillekeurig aan hierdie paar tekste.
Ps 37:3 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, WOON EN WERK RUSTIG
VOORT."
Spr 6:10 - 11 "Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie
handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar
oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker."
Spr 6:6 "Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom."
Ek kry mense wat werk haat baie jammer, hulle kry swaar. ~ Willem Botha,
16/05/2017 |
|
In Luk. 1:26-38 lees mens hoedat die engel van die Here
aan Maria verskyn om aan haar mee te deel dat sy die moeder van Jesus gaan
word. Dis vir my net só mooi om alles te lees wat die Here daar vir haar
belowe. Die Here is by jou, moenie bang wees nie, God bewys genade aan jou,
die Heilige Gees sal oor jou kom, die krag van die Allerhoogste sal lewe in
jou wek, niks is vir God onmoontlik nie. Ses beloftes van God af wat ons vir
onsself ook kan neem. Nie net omdat dit hier in Lukas 1 staan nie, maar
omdat dit beloftes is wat by herhaling elders in die Bybel óók voorkom.
“Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar
gesê het!” (Luk. 1:45) Wat het jy vandag nodig? Die Here se teenwoordigheid?
Die Here se beskerming en versorging? ’n Vars porsie genade? Leiding en
wysheid en krag van die Heilige Gees? Het jy nodig dat daar iets nuuts in
jou lewe moet deurbreek? Het jy ’n wonderwerk nodig? Lees weer dié ses
beloftes hierbo met jou eie naam daarin en gló dat dit ook vir jou
persoonlik in vervulling sal gaan. Gelukkig is jy as jy dit glo. ~ Wilna
Botha, 15/05/2017 |
|
Geen keuse
Ek dink elkeen van ons beland soms in die situasie waar ons twyfel oor
genade en God se vergifnis. Daardie dae wat ons dink die Here moet nou
totaal "fedup" met ons wees. My vriend, jy het absoluut GEEN ander keuse as
om daardie vergifnis te aanvaar nie.
Met Jesus se kruisiging het elke ander moontlike deur toegemaak en het geen
alternatief oorgebly nie. As jy die Here aangeneem het, is daar net
eenvoudig geen enkele plek waarheen jy kan vlug vir vergifnis nie. Daar is
nie 'n hokkie waar jy jou sondes by die priester kan gaan bely nie, GEEN "stoor"
waarheen jy 'n offer kan bring nie (dis toegemaak en afgebreek), daar is
geen goeie daad wat jy kan gaan doen in ruil nie, daar is absoluut geen
alternatief nie! Jy moet eenvoudig daardie vergifnis aanvaar as jy voor die
Here jou hart uitgestort het.
Heb 10 : 17 – 18 Dan sê Hy verder: "Aan hulle sondes en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie." Waar die sondes vergewe is, is geen offer
daarvoor meer nodig nie.
Dus, jy sal maar moet jammer sê, hierdie belofte aanvaar en aangaan met jou
lewe. Veg teen sondes, maar moet tog nie jou polse afkou uit skuldgevoelens
nie. Dit het geen doel nie. Ons kan nie wegvlug van die Here as gevolg
daarvan nie, ons moet juis na Hom toe vlug. ~ Willem Botha, 11/05/2017 |
|
Ek sien deesdae dat baie mense versot is op mooi en
inspirerende aanhalings. Hulle skryf dit op mooi prentjies en plak dit op
hulle Facebook-mure of deel dit in WhatsApp groepies. Nóg makliker is om dit
sommer by iemand anders te leen en dit weer en weer met al jou vriende te
deel. So maak hulle ook met mooi Bybelversies. Toe ek weer so een lees,
wonder ek net: watter nut het daai aanhaling of Bybelversie as jy dit nie
werklik gló nie, as dit geen verskil in jou denke en optrede maak nie? As
dit net vir daai oomblik vir jou mooi is, dan het dit maar net woorde gebly.
Maar as jy toelaat dat die woorde jou denke verander en in jou hart neerslag
vind, dán was dit werklik inspirerend en transformerend. Só moet die Woord
van God altyd wees: dit moet ons verander, dit moet ons verbeter, dit moet
ons hoop gee. Letters op papier moet lewende Woord word. Soos Heb. 4:12 sê:
“Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as die
ontleedmes van ’n chirurg. Dit sny diep tot binne-in ons innerlike wese, tot
in ons gewrigte en murg.” Wilna Botha, 10/05/2017 |
|
Jesus se land
Ons het baie om oor te kla, hier aan die Suidpunt van Afrika, want dinge is
nie meer lekker nie. Ons hunker terug na die "goeie ou dae", toe ons
stabiliteit en voorspoed beleef het. Voorts was die Here besonderlik lief
vir ons, want ons was "kjêrkmense" en die Christene was orals waar dit
belangrik was. Ons was 'n goeie nasie, regtig baie goed. Maar o wee, dinge
is nie nou meer lekker hier in ons land deesdae nie.
Maar vriend, daar in Jesus se land, so 2000 jaar gelede, was dit nag. En dit
lyk so half of Jesus se mense maar soms sleg deurgeloop het.
HANDELINGE 7:59 Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here
Jesus, ontvang my gees"
MATTEUS 14:10 "Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof."
Dis nou Johannes die doper.
2 Kor. 11: 23-25 "Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek
van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die
tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal
het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,
drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie
maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop
see deurgebring."
MATTEUS 27:35 "Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot."
Hierdie goed het 2000 jaar gelede gebeur, daar waar Jesus persoonlik beweeg
het, waar Hy self aan die mense bekend was, waar hulle hom gesien en gehoor
het. Daar in Sy land. En al hierdie voorbeelde is van God se mense, goeie
mense, selfs Sy eie Seun.
Gaan dit regtig so sleg hier by ons? ~ Willem Botha, 09/05/2017 |
|
Willem lees vir my hierdie stukkie uit ’n boek waarmee
hy nou besig is: “Baie min samelewings kan die tempo van Suid-Afrika se
elektrisiteit- en watervoorsiening suksesse van die afgelope 20 jaar ewenaar.
Die feit dat dit baie Suid-Afrikaners verbaas, toon presies hoe verwring die
verhaal van ons eerste 20 jaar as ’n demokrasie geword het. Ons het in baie
opsigte ’n land geword wat die slegte nuus vier en die goeie verwerp.” Dit
het my omtrent laat dink oor my suur, pessimistiese “attitude”. As daar nie
nuus en koerante en Facebook was nie, sou jy nog gedink het dit gaan sleg in
ons land? Daar is só baie goeie dinge wat gebeur, só baie inspirerende
verhale, só baie suksesse waarvan ons nie bewus gemaak word nie, want die
slegte nuus is mos meer sensasioneel. En as daar goeie nuus is, dan word dit
sommer weer met ’n ou negatiewe sousie opgedis en afgerond met ’n bitter
kersie. Swartgalligheid en negatiwiteit en bitterheid pas nie by mense wat
met hoop lewe nie. Kom ons snuffel die goeie nuus uit en vier dit ’n slag.
Die Here is aan ons kant! Ons is meer as oorwinnaars! Ons is tot alles in
staat! Niks kan ons uit Sy hand ruk nie! “Versterk daarom die slap hande en
die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak
nie, maar gesond word.” (Heb. 12:12) ~ Wilna Botha, 08/05/2017 |
|
Daai koffie
'n Persoon wat ek ken was destyds pas deur 'n egskeiding en ek nooi hom saam
op 'n mannekamp. Hy was erg geskok en ongelukkig omdat sy vrou van hom
geskei het. Tydens 'n gesprek met die predikant spreek hy sy misnoeë teenoor
sy eks-vrou uit omdat sy so baie wou gaan koffie drink saam met hom in 'n
restaurant. Hy het gevoel dat hy 'n groot blik koffie kan koop vir die
kostes van daardie een uitstappie. Die predikant het hom lank aangekyk en
toe die volgende gesê: "Vriend, nou het jy baie koffie, maar nie meer 'n
vrou nie."
Sjoe, daai stelling het hom totaal onverwags tussen die oë geklits!
Hoeveel gevegte is daar nie in huise oor triviale, onsinnige dinge nie. Is
daardie ligte wat onnodig brand regtig die gevegte werd? Of die warm water
wat te gou opraak? Of die tandepasta proppie wat nie reg opgedraai is nie?
Ja, daar moet orde en dissipline wees, maar verhoudinge word net te veel
vertroebel deur onnodige dinge.
Kol 3:18 - 21 "Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir
hulle bitter maak nie. Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam,
want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. Vaders, moenie gedurig
by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie."
Hierdie deel benadruk maar net hoe belangrik verhoudings in die gesin is.
Gaan drink daai koffie so nou en dan, en koop dan maar lae energie
gloeilampe as die krag rekening jou pla, maar moenie dat onnodige dinge
almal se lewe versuur nie. ~ Willem Botha, 03/05/2017 |
|
“Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe.”
(Matt. 10:16) Dis die opdrag wat Jesus vir sy dissipels gee wanneer Hy hulle
met Sy boodskap uitstuur tussen mense in. Ek kan ook dink dat Hy dit vandag
vir my en vir jou sê. Ons leef en werk tussen mense wat niks van die Here
wil hoor nie of wat dié wat God se boodskap verkondig uitjou, veroordeel en
verkleineer. Ons het te doen met korrupte, negatiewe, wrede, onregverdige
mense wat selfgerig, onvergewensgesind en geldgierig is, wat nie omgee wat
hulle sê of hoe hulle ander behandel nie. Daarom moet ons as Christene
voortdurend hierdie balanseer toertjie doen om aan die een kant so slim, slu
en versigtig te wees soos ’n slang en aan die ander kant so opreg, sag en
onskuldig soos ’n duif te wees. Ons moet gelyktydig voorbarig en sensitief
wees wanneer ons met mense oor die Here wil praat. Ons moet wakker wees en
’n fyn aanvoeling hê om ’n oordeel te maak, maar terselfdertyd ook met
deernis en liefde optree. Soms moet ons stillê en insmelt met die omgewing,
ander kere moet ons ons vlerke klap en uitstyg bo dit wat om ons aangaan.
Partykeer moet ons gereed wees om onsself te verdedig, ander kere moet ons
maar net saggies koer en ander pad kyk. Mag die Here ons help om in ons
alledaagse lewe hierdie balans te vind. ~ Wilna Botha, 02/05/2017 |
|
Jou naam
Hierdie foto is 'n geskenk wat ons gemaak het vir iemand met sy naam op. Ek
dink jy sal saamstem dat dit lekker is om jou eie naam op iets te sien, soos
'n dagboek, 'n hangertjie, 'n armband of een of ander geskenk. Mense hou nie
daarvan om te staan vir 'n foto nie (behalwe 'n selfie natuurlik), maar dis
lekker om jou naam te sien op iets, want dit maak dit persoonlik. Dis jou
eie, dis net joune, dis kosbaar en dit maak dit baie uniek. Jou eie naam!!!
Jes. 49:16 "Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek sien jou mure
altyd voor my."
As jy 'n groot bate aanskaf merk jy dit, om seker te maak dat niemand anders
kan dink dis syne nie. My pa het 'n vibreer pen gehad waarmee jy kan graveer,
en hy het alles gemerk met sy naam daarop. So merk die Here jou ook. Maar om
seker te maak, merk Hy JOU naam in Sy handpalm:
Jes. 49:16 "Ek het jou naam in my handpalms gegraveer ..."
Waaraan dink jy sal die Here dink elke keer as Hy na Sy handpalm kyk? Wat
sal Hy sien? Jou naam, natuurlik. Sy liefde vir jou is só groot dat dit is
asof Hy nét jou naam sien.
Wat 'n ongelooflike gedagte! ~ Willem Botha, 01/05/2017
 |
|
“Die goeie dade van ’n goeie mense sal hom nie red die
dag as hy teen My in opstand kom nie en die slegte dade van ’n goddelose sal
nie teen hom tel die dag as hy hom van sy slegte dade bekeer nie.” (Eseg.
33:12) Die goeie dade wat ons doen, is nooit goed genoeg om ons te red nie.
n
Ons kan nie in die Here se goeie boekies kom daarmee nie. Die Bybel sê dat
ons beste pogings maar soos vuil klere is (kyk Jes. 64:6) en daarom kan ons
nie roem en trots wees op die mooi en goeie dinge wat ons doen nie. Mense
kan partykeer só ’n ophef maak van ’n goeie mens wat wonderlike
liefdadigheidswerk doen, maar as hy nie die Here in sy hart en lewe het nie
en nie daai dade doen in die naam van die Here nie, beteken dit maar min.
Maar kyk die ander kant van dié teks: as jy eers tot bekering kom en Jesus
in jou hart inneem en Hy beheer neem van jou hele lewe, dan maak al die
slegte dinge wat jy gedoen het nie meer saak nie. Die Here vergewe en
vergeet dit. Hy hou dit nie teen jou nie. Hy skryf dit af. Hy was dit af. Hy
vee dit uit. Miskien is dit nou tyd dat jy ophou om jouself te verwyt en te
kasty oor daai slegte dade van vroeër. Vat Sy genade vir jou en kyk vorentoe.
~ Wilna Botha, 26/04/2017 |
|
Sjoe, dis verskriklik hoe onverskrokke sommige mense
die Here tart, sonder om te skroom, sonder om twee keer te dink voor hulle
dit doen. Dit lyk al soos 'n nasionale sport op Facebook, dit gebeur waar
mense kommentaar lewer op media berigte, dit gebeur in daaglikse gesprekke
en dit lyk of mense wedywer oor hoe erg hulle dit kan doen.
Voorts word die kinders van die Here openlik geteiken en sleggesê. Vriend,
weet een ding, dis nie jy wat aangeval word nie, dis die Here wat aangeval
word. Baie kinders van die Here word verag oor hulle geloof, maar dit gaan
nie oor hulle nie, dis die Here word verag word, dis vir mense net maklik om
hulle argwaan op die Here se kinders uit te haal. Mense weet nie wat hulle
doen nie, hulle weet ook nie met wie hulle te doen het nie.
2 Pet 2:12 "Maar hierdie mense praat lasterlik van dinge waarvan hulle niks
verstaan nie. Hulle is soos verstandlose wilde diere wat voortgebring word
om gevang en doodgemaak te word. Soos wilde diere sal hulle ook verdelg
word."
Ek dink dan ook onwillekeurig aan die sonde teen die Heilige Gees.
Mark 3:28-29 “Dit verseker Ek julle: Alles sal die mense vergewe kan word,
al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees
laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie maar bly ewig skuldig aan die
sonde.”
Dis regtig asof daar mense is wat glo hulle is sterker en groter as God, en
dat hulle kan sê net wat hulle wil. Dit gaan my verstand te bowe. Maar die
Here laat dit nie daar nie.
Heb 10:31 "Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val." ~
Willem Botha, 25/04/2017 |
|
“He took on his own shoulders the sin of the many, He
took up the cause of all the black sheep.” (Jes. 53:11, The Message) Hoe
mooi is dit nie! Jesus, die volmaakte Lam van God, het gekom vir al die
swart skape. Jy weet dalk hoe dit voel om die swart skaap van die familie
te wees. Almal kyk neer op jou. Jy word gespot. Almal dink hulle is beter as
jy. Jy staan uit soos ’n seer duim. Jy pas nie in nie. Jy is anders as almal.
Jy word verwerp. As ons enige van daai swart skaap-emosies beleef, kan ons
weet Jesus het meegevoel en deernis daarmee. Hy het dieselfde emosies beleef
en Hy het dit, saam met ons swakhede en sonde, op Sy skouers geneem. Jesus
is in ons plek as skuldige behandel, as swart skaap misken en mishandel,
sodat ons vry, vergewe en verlig kan wees. Aanvaar in geloof wat Heb. 4:15
sê: “Hy is nie iemand wat niks van ons weet en daarom nie simpatie met ons
swakhede sal hê nie. Nee, Hy het al dieselfde pad as ons geloop en is deur
dieselfde versoekings as ons...” Mag die Here Jesus jou weer ’n keer skoon
was en jou so wit soos splinternuwe wol laat lyk. (volgens Jes. 1:18) ~
Wilna Botha, 24/04/2017 |
|
Vrees
Ek wonder so, wat is die verskil tussen vrees, bekommernis, besorgdheid en
stres (spanning)? Daar is tekste wat oor elkeen van hierdie dinge praat,
soos hierdie een oor bekommernis.
MAT 6:34 “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie
bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” Weliswaar 'n
ongelooflike moeilike teks om na te volg.
Paulus praat ook oor besorgdheid:
2 KOR 11:28 "Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die
besorgdheid oor al die gemeentes."
Ek het gister besef dat ek bekommernis, spanning en besorgdheid kan hanteer,
maar vrees is iets anders. Ons kry gister die tyding dat iemand wat ons baie
goed ken, skielik oorlede is aan 'n hartaanval, en 'n buitengewone vrees
oorval my!
DAARDIE tyding, daai een wat so finaal is, daardie een wat jou hele wese
uitmekaar ruk, daardie woorde wat jou hele lewe in 'n oogwink verander,
daardie tyding wat sê dat geen dag OOIT weer dieselfde as gister sal wees
nie. Die dokter wat 'n verdoemende uitspraak maak oor jou gesondheid, daai
dag wat jou laat voel dat alles in 'n oogwink buite beheer geraak het. Of
daardie woorde: "Daar is iemand anders, ek wil jou nie meer hê nie."
Dan sterf jy in jou binneste. Dan maak teksverse nie meer sin nie, gebed
klink leeg en al die geld in die wêreld is waardeloos.
Daardie dag bly net die Here oor, daardie dag is dit jou enigste toevlug,
want waar die mens nie meer kan nie, werk die Here.
Ps 62:8 "God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my
toevlug." ~ Willem Botha, 20/04/2017 |
|
“Weet julle, ons groot God wat in staat is om mense op
te tel wat in die stof lê, het my ook kom optel uit die diep put waarin ek
was, Hy het my bekommernis in ’n oogwink weggevat toe Titus skielik daar
opdaag.” (2 Kor. 7:6, Die Boodskap) Dit is die waarheid! God tel mense wat
moeg is, wat geval het, wat hartseer is, wat oorwerk en gestres is, wat
bekommerd is, wat siek en verlore is uit die stof op. Hy doen dit vir ander,
Hy het dit vir Paulus gedoen en Hy doen dit ook vir my en jou persoonlik –
ons kan dit maar glo en met albei hande vat en vir onsself toe-eien . Wat
egter vandag vir my uitstaan in hierdie teks is hóé die Here dit doen – nie
op bonatuurlike wyse met onverklaarbare ingrype of so iets nie, nee, Hy
doen dit deur ’n doodgewone man. Toe Titus opdaag het sy teenwoordigheid, sy
bemoedigende woorde, sy positiewe ingesteldheid, die goeie nuus wat hy kom
uitlig het vir Paulus opgebeur, uit die bekommernis-put gelig en hom weer
moed gegee. Ons kan mos daai vars briesie wees wat iets positief kom inblaas
in iemand se slegte dag. Met die hoop en geloof wat in ons is, kán ons die
optimis wees wat die positiewe kant van ’n saak kan raaksien en kan uitlig.
Met die insig wat die Gees vir ons gee, kan ons opbouende insette lewer en
bemoedigende, raakvat-woorde gee. Wees vandag dié persoon waarvan Jes.
35:3-4 praat: Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë
knik, sê vir dié wat moed verloor het: “Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier ...” ~ Wilna Botha, 19/04/2017 |
|
Hoor jy My?
Ons stap vanaand verby 'n Wi-Fi ontvanger in ons woonbuurt en besef daar is
ontelbaar baie seine in die lug wat onsigbaar en onhoorbaar is. Selfoonseine,
radio, televisie, Wi-Fi en vele ander wat net gehoor kan word as jy die
regte toerusting gebruik. Kan jy egter die chaos indink as jy alles fisies
kon hoor? Al daardie radiostasies gelyktydig in jou ore, tant Sannie wat van
haar buurvrou skinder op haar foontjie en die liefdes woordjies wat ander
mense vir mekaar koer. Sjoe, dit sou vreeslik wees!
Maar selfs dit wat ons wel kan hoor wat deur ons oë en ore in ons brein
inkom, is te veel. Dinge wat ons hoor en sien, opinies, verkeerde dinge,
negatiewe dinge en sommer net ongevraagde inligting wat ons lewens beheer.
Geen wonder ons sê dat ons nie God se stem hoor nie, of dat ons gebede die
plafon tref. Hoe hard moet God nie soms praat om Homself hoorbaar te maak
nie!
Dis hoekom ons moet stil word, tyd in gebed spandeer, tyd met Sy Woord
deurbring, bewustelik alles om ons afskakel en besluit wat ons toelaat om
ons binne te dring. En net te luister:
JESAJA 30:21 "Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem
hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
God se seine is orals, altyd vir almal beskikbaar om op te vang. Luister...
~ Willem Botha, 19/04/2017 |
|
HY IS NIE HIER NIE!
Wat 'n grootse naweek herdenk ons nie! Ons herdenk dit as Paasnaweek met
Goeie Vrydag, maar eintlik was dit destyds aaklige Vrydag, 'n dag van
verbystering vir die mense wat vir Jesus gevolg het. En ek glo die Saterdag
na die kruisiging was mense in absolute wanhoop gedompel, rigtingloos,
verstom en hooploos. Baie mense, Sy vriende sowel as Sy vyande, het seker
gedink alles was "fake" en dat die lewe net so sonder doel en hoop sal
voortgaan as voordat Hy drie jaar gelede op die toneel verskyn het.
Maar boeta, die volgende dag breek aan en skielik is alles NOG beter, NOG
groter, en NOG meer verstommend as wat iemand kon dink! Kan jy dink hoe dit
op Facebook en Twitter sou gons as dit toe bestaan het? Jy sien, Hy het dit
reeds vir Sy dissipels gesê voor die tyd, maar wie op aarde kon dit glo?
Opstaan uit die dood? ONMOONTLIK!
Mark 16:6 “Moenie skrik nie!” sê hy vir hulle. “Julle soek Jesus van Nasaret,
wat gekruisig is. Hy is uit die dood opgewek. HY IS NIE HIER NIE. Kyk, daar
is die plek waar hulle Hom neergelê het."
Vandag het ons een van twee keuses, en dis of jy glo dat Hy WAARLIK lewendig
geword het, en of dit maar net nog 'n "fairy tale" is. EK persoonlik glo nie
Hy het opgestaan nie, ek WEET dit. Verseker!
En daarom is daar 'n more, 'n toekoms, 'n verwagting en 'n wete dat die "storie"
vir hierdie lewe, en die een hierna, sin maak. ~ Willem Botha, 16/04/2017 |
|
Toe ek vanoggend die gordyne
ooptrek het ek gesê: wat se mooi dag is dit nie! Dis GOEIE Vrydag. Wat is so
goed aan hierdie dag? Is dit nie dié dag waarop ons terugdink aan die
doringkroon op Jesus se kop, aan die vernedering aan ’n kruis nie? Dié dag
waarop Hy geslaan, gespoeg, gespot en weer geslaan is. Dié dag wat Hy van
God verlaat is. Dié dag toe daar drie ure se duisternis was. Dié dag wat die
bloed gevloei het. Dié dag waarop Hy gesterf het. Dit ís ’n Goeie Vrydag,
want dis dié dag waarop genade vir my en jou ’n werklikheid geword het,
waarop vryheid en vergifnis vir ons deurgebreek het. Dis dié dag waarop al
ons sonde op Jesus gepak is. Dis dié dag toe die Lam van God vir die sonde
van die wêreld geslag is. Dis dié dag toe die skuld eis vir ons sonde teen
die kruis vasgespyker is. Dis dié dag toe geregtigheid en vrede mekaar
omhels het. Dis dié dag toe Jesus gesê het: Dit is volbring. Mag jy ’n Goeie
Vrydag hê! ~ Wilna Botha, 14/04/2017 |
|
Doen wat jy moet doen
Ons het onlangs 'n legkaart stukkie as 'n vergelyking gebruik vir
verskillende lewenslesse. In my hand is 'n klompie stukke van 'n legkaart
wat eers betekenis kry as ek hom bou. In stukke beteken hy niks, maar daar
is reeds geweldig baie potensiaal. Ek moet hom net aanmekaarsit.
Ons lewens werk ook so. Die Here gee vir ons al die stukkies wat nodig is,
en verwag van ons om self skouer aan die wiel te sit om sin te gee aan
daardie legkaart.
Ek hoor so baie dat mense sê "ek wag op die Here", en dit is natuurlik reg,
maar daardie is nie 'n passiewe wag nie. Dit sê nie jy moet niks doen totdat
jy duidelikheid oor 'n saak het nie.
Ons sê dikwels "ek wil eers oor 'n saak bid". Wonderlik! Hoe anders? Maar
soms bid mense vir jare, terwyl die Here lankal die stukkies van die
legkaart verskaf het, en dan glo hulle dat die Here nie gehoor het nie. Ons
wil mos ook net in aksie kom as ons die gerieflike antwoord kry, of hoe?
Mense sê dikwels "ek wag vir 'n oop deur", maar besef nie hulle moet net die
handvatsel draai nie. Soms 'n klein handeling, en die legkaart stukkies val
in plek.
Mense sê graag "ek kan nie". Nou ja, my pa het male sonder tal vir my gesê "kannie
is dood van kruiwa stoot". Het jy al probeer? Of wag jy dat ander jou
legkaart bou?
Nee, doen alles wat jy moet doen, probeer elke ding self en jy sal wondere
sien. Die lewe vra soms harde werk, kanse vat en self probeer. Voorts, vra
dat mense saam met jou bid vir uitkoms, maar bid eers vir jouself.
Bou daardie legkaart, moenie verwag die Here moet dit doen nie. Maar Hy sal
vir jou krag en wysheid gee. ~ Willem Botha, 12/04/2017 |
|
Toe Pilatus vir Jesus onder kruisverhoor geneem het, sê
hy: “Het jy miskien vergeet dat ek jou hier vry kan laat uitstap as ek wil?
Of as ek wil, kan ek jou hier buite aan ’n kruis laat ophang tot jy dood
is.” (Joh. 19:10) Wat Jesus hom antwoord is vir my so aangrypend en wys so
duidelik dat Jesus se kruisdood God se verlossingsplan vir die mensdom was.
“Jesus sê toe: Jy sou niks aan My kon doen as God dit nie so wou gehad het
nie.” (Joh. 11:11) God wíl dit so hê. Het Jesus nie enkele ure tevore in die
tuin gebid: “laat U wil geskied” nie? God wíl die sondige mensdom red. Hy
wíl ons met Homself versoen. Hy wíl die muur van sonde wat daar tussen ons
en Hom is afbreek. Hy wíl dit deur Jesus doen. Dit is nie Pilatus wat Jesus
kruis toe gestuur het nie. Dis nie Pilatus wat Hom skuldig bevind het nie.
Dis God. Dit was sy wil. Dit was Sy plan. Dis vir my en jou. “Hy is gewond
as gevolg van ons opstand teen God. Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen
het. Hy moes die prys betaal wat ons lewe kon herstel .... die Here het al
ons sonde op Hom laat neerkom ... die Here wou gehad het dat Hy in ons plek
geslaan moes word en in ons plek seerkry.” (Jes. 53:5-10) Dis waaroor ek in
hierdie Paastyd diep en opreg dankbaar is. ~ Wilna Botha, 11/04/2017 |
|
Hoop
Het jy nog hoop? Die Vader weet, dis iets wat al hoe moeiliker is om aan vas
te hou. Het jy nog genoeg geloof om te glo dat daar REGTIG 'n rooskleurige
toekoms is? Die vraag is seker wat dit beteken? Hoop! Paulus praat baie van
hoop, en dan in die konteks van die ewige lewe. En die woord "hoop" kom
geweldig baie voor in die Ou en Nuwe Testament.
My vraag is vandag aan jou: Het jy nog genoeg hoop in jou medemens, in ons
land, en dan natuurlik hoop in/op God?
Het jy genoeg hoop om 'n boom te gaan plant en te glo dat jy op jou oudag in
sy skaduwee sal sit? Het jy genoeg hoop in die toekoms om te bid vir 'n
kind/kleinkind wat eendag hier in ons land nog 'n nageslag sal voortbring?
Het jy genoeg hoop om 'n nuwe besigheid op die been te bring? Om 'n nuwe
huis te koop waarin jy kan oud word?
Of het jy opgegee?
Wel, tussen al die keuses wat ons dink ons het, is dit net die Here wat vir
ons hoop kan gee. Dis net as ons ons oog gerig kan hou op Jesus, dat ons na
die dag van more kan uitsien.
Het ek en jy as gelowiges nie dalk so effe van 'n voorsprong nie? Op wie
hoop iemand wat nie op God kan hoop nie?
PS146:5 "Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God."
Plant vir jou 'n boom, een wat stadig groei. Gee hom water, voed hom en glo
dat jy steeds voorspoedig sal wees as hy groot is. ~ Willem Botha,
10/04/2017 |
|
Die antwoord in jou hand.
Wilna het onlangs geskryf van die legkaart stukkie wat in die pad gelê het,
en dat dit mens laat dink aan die lewe wat soos 'n onvoltooide legkaart is,
en dat ons nie die hele prentjie sien wat die Here sien nie.
Wel, toe ek gisteraand gaan stap kom ek toe op die einste legkaart stukkie
af en tel dit op. En daar sit ek (die enigste mens op die hele aarde), met
die laaste stukkie wat nodig is om daardie spesifieke legkaart te voltooi.
Maar o wee, al het ek die stukkie by my weet ek nie waar die res van die
legkaart is nie, of hy ooit gebou is nie, en nog minder hoe die prentjie lyk!
En hoe lank ek ook al daarna kyk, ek word niks wyser nie. Maar ek het die
antwoord vir die voltooiing in my hand, al weet ek niks verder nie.
Vriend, net so het jy dikwels die laaste stukkie om iemand se
lewens-legkaart te voltooi, in jou hand. Soms sit die Here daardie stukkie
in jou hand, omdat jy dalk in daardie persoon se lewenssfeer is. Dalk wil
die Here jou gebruik om daardie legkaart se prentjie te laat uitwerk. Jy is
miskien dié persoon om iemand se lewe te red met 'n woord van bemoediging,
of dalk 'n gebed saam met 'n persoon, dalk om fisies hulp te verleen, om
dalk 'n paar rand in iemand se hand te sit (nee ek praat nie van elke
bedelaar by die robot nie), of om dalk net 'n oor te wees vir iemand wat dit
nodig net.
Ons werk so hard aan ons eie legkaarte, dat ons ander se verlore stukkies
miskyk. En nog meer, miskien moet jy ander toelaat om jou nood te help
verlig, en dalk jou trots in jou sak steek en te vra vir hulp as jy dit self
nodig het.
Ons kan nie net vir onsself leef nie, dis nie die Here se bedoeling nie.
SPREUKE 3:27 "Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,
terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie." ~ Willem Botha,
06/04/2017
 |
|
Ek bevind my tans in die ongelukkige situasie dat ’n ou
piepklein bosluisie my gebyt het en met sy klein druppeltjie gif my hele lyf
kom siek maak het! Mens kan amper nie glo dat daai bietjie gif so groot
impak kan hê nie! Wel, dit kan! Soos klein jakkalsies van afguns ’n wingerd
kan vernietig, soos ’n skinder tong ’n veldbrand kan aansteek, soos bietjie
onkruid van sedelike vuilheid en ongeregtigheid ’n hele lewe kan verwoes, soos
bietjie suurdeeg van selfverheffing die hele deeg kan deurtrek, soos bietjie
bitterheid kan wortelskiet en ’n siel kan deurtrek, soos
onvergewensgesindheid wat ewige skade aan verhoudings kan berokken, soos
negatiwiteit wat van Oos na Wes kan uitbrei, soos troetelsondes wat
tentakels in alle rigtings kan uitsteek, so is daai bietjie gif van die
bosluis. Gelukkig is daar medisyne wat vinnig klaarspeel met die gogga en sy
gif en dis sommer baie goedkoop ook! En hoe gouer jy begin met die medisyne,
hoe vinniger voel jy weer jouself. Wat se teenmiddel het jy vandag nodig om
daai gif-verspreiders in jou lewe hok te slaan? Vergewe weer. Vernuwe jou
denke. Vermy verleiding. Kies teen wellus. Leef rein. Weerhou jou van
kwaadpraat. Vul jou gedagtes met mooi en opbouende dinge. Sit ’n wag voor
jou mond. Roei die onkruid uit. Trek jou wapenrusting aan. ~ Wilna Botha,
05/04/2017 |
|
Mense is niks werd...
Sjoe dit klink darem vreeslik om dit te sê, of hoe? Glad nie Bybels korrek
nie, behalwe as jy dit in die regte konteks sê.
Wel, ons land steier steeds na die politieke gebeure wat plaasvind en dit
lyk of almal fanaties soek na uitkoms, en rondtas na 'n nuwe leier om ons te
kom red. Toe kom hierdie teks by my op.
Jes 2:22 "Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste
asem uit. Hulle is min werd."
Is dit nie waar nie? Mense het verskuilde agendas, voete van klei, gebrek
aan integriteit en is soms maar net brose wesens. Ons kan tog nie DAAROP
vertrou nie. Wel, ons ken almal die antwoord, maar dit voel net of dit te
laat gaan kom.
Jes 26:4 "Vertrou altyd op die Here, want die Here God is 'n veilige toevlug."
Vriend, dalk voel jy ook soos ek effe mismoedig, maar ek sê jou, as die Here
die meeste van die land se damme kon laat vol reën in enkele weke, kan Hy
hierdie land in 'n oogwink verander. Ek het gekies op wie ek vertrou, en dis
nie op mense nie. God is 'n veilige toevlug! ~ Willem Botha, 04/04/2017 |
|
Die ander aand toe ons ’n entjie gaan stap, sien ek ’n
enkele legkaartstukkie in die pad lê. Ai, iemand gaan vies wees as hy sy
legkaart nie kan klaar bou en die hele prentjie sien nie. Ek dink toe
daaraan dat dit maar dikwels in die lewe ook so gaan. Ons is vies en
ontevrede as ons nie die voltooide legkaart van die lewe kan sien nie, as ’n
stukkie ontbreek, of as jy sukkel om die regte stukkie te laat pas of as dit
net nie gou genoeg klaar gebou kom nie. Dis nou maar so. Die lewe werk nie
altyd uit nie. Dinge verloop nie altyd ewe glad nie. Planne loop skeef.
Mense stel jou teleur. Ongelukke vind plaas. Siekte tref jou. Geliefdes gaan
dood. Kan jy berus in die feit dat God in beheer is en weet wat Hy doen? Kan
jy daarmee saamleef dat jy nie self al die stukke van die legkaart in jou
eie hand het nie? Kan jy “let go and let God”? “Let go” van die uitkoms wat
jy begeer en van dít waaraan jy niks kan verander nie en “let God” se wil
geskied? Dit beteken nie dat jy net passief wag dat God beweeg nie, nee,
doen wat jy kan om te bou aan jou lewenslegkaart en doen gelyktydig wat jy
kan om jou te onderwerp aan God se bouwerk in jou lewe. “Niemand in die
hemel of op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie is in
staat om sy optrede te verklaar? Wie ken God se planne? Is daar iemand wat
vir Hom kan voorskryf wat om te doen? Van God af kom alles wat bestaan. Hy
hou alles in stand. Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd.” (Rom
11:33-36, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 03/04/2017 |
k
|
In ’n fliek wat ons nou die dag gesien het, sê die
meisie vir die ou: “Remember I have a past.” Ek dink toe by myself: wie van
ons het nie ’n verlede nie? Dalk het daar lank gelede iets gebeur wat jou
nog steeds agtervolg. Dalk het jy iets erg gedoen wat jy nog nooit eers vir
iemand vertel het nie, maar waarmee jy gereeld wroeg. Dalk is jy mishandel,
misbruik of misken of op een of ander manier te nagekom en jy kan nie ophou
om dit te herleef nie. Een van my gunsteling tekste in die Bybel is 2 Kor.
5:17 wat sê: “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens. Die oue is
verby, die nuwe het gekom.” Wat jy ook al aangevang het, in die Here se boek
kan dit uitgevee word. Hy spesialiseer in die vergeet van verkeerde dinge.
“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek
dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jes. 43:25) Wat ook al met jou gebeur
het, die Here spesialiseer in oor begin, optel en regmaak. Kies om weg te
draai van daai slegte herinneringe. Miskien kan jy in geloof Fil. 3:13 sê:
“Een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat
voor is.” “Daarom steur ek my nie meer aan my verlede nie en al die dinge
wat toe skeef geloop het nie.” (Fil. 3:13, Die Boodskap) Moenie vandag se
vreugde en geluk laat sneuwel omdat jy jou nie kan losmaak van die verlede
nie. Doen dit biddend en vertrou dat die Here jou daarmee sal help. ~ Wilna
Botha, 30/03/2017 |
|
Ek het Saterdag gaan Kosmosse afneem en net weereens
diep bewus geraak van God se versorging, en toe aan hierdie teks gedink.
Luk. 12:27-28 "Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie
klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee
soos een van hulle nie.
As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur
gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle
kleingelowiges"
Wil jy nie weer net vandag nuut oor jouself dink nie? Jy is mos baie meer
werd as hierdie veldblommetjies, jy is immers na Sy beeld geskape. ~ Willem
Botha, 29/03/2017 |
 |
|
Vriende van ons het so pas ’n klein seuntjie aangeneem.
Hy was geruime tyd by hulle in pleegsorg en na lang gesukkel, van bakboord
na stuurboord, deur papiere en nogmaals papiere, vergaderings en
beraadslagings en asem ophou het die kinderhof verlede Vrydag die finale
bevel gegee dat hy nou wettiglik hulle seuntjie is. Die “order of adoption” papier is gestempel en onderteken en dit maak alles finaal. Wat ’n
verligting. Wat ’n groot genade. Wat ’n vreugde. Almal is bly en wil lag en
huil en dans tegelyk. Onderaan die papier staan die volgende: “It is ordered
that the family name, Botha, be given to the child.” Hoe mooi is dit nie!
Nou is hy wettiglik deel van die familie. Nou het hy ’n nuwe naam. Nou het
hy ’n nuwe toekoms ongeag sy herkoms. Ek kon nie help om te dink dis mos hoe
ons ook deel van God se familie geword het. Aangeneem as Sy kinders. Daar is
’n “order of adoption” met jou naam op, gestempel en onderteken met Jesus se
bloed. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die
reg gegee om kinders van God te word.” (Joh. 1:12) Dis wettig. Niemand kan
dit ongedaan maak nie. Ons hét nou die familienaam. Ons ís nou kind van God.
Wat ’n verligting. Wat ’n groot genade. Wat ’n vreugde. ~ Wilna Botha,
28/03/2017 |
|
Geloof, getoets tot
in die dood
In Handelinge 6 lees ons van Stefanus wat voor die Joodse raad gebring word
oor die wonders wat hy gedoen het en die mense het nie daarvan gehou nie.
Terwyl hy met die Joodse raad praat sien hulle die volgende:
Hand 6: 15 "Toe al die lede van die Raad stip na Stefanus sit en kyk, sien
hulle dat sy gesig soos dié van 'n engel lyk."
Daarna het Stefanus vir hulle die hele geskiedenis vertel van Abraham tot by
Jesus, en toe kon hulle nie meer nie en stenig hom summier.
Hand 7:59-60 "Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus,
ontvang my gees!” Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here,
moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy
gesterwe."
'n Ongelooflike verhaal van iemand wat tot sterwe kom en weet waarheen hy op
pad is. “Here Jesus, ontvang my gees!”
Ek gesels die naweek met 'n persoon wat vir my vertel van 'n gesprek wat hy
gehad het met 'n mediese suster wat in 'n saal by 'n hospitaal gewerk het
waar terminaal siek pasiënte gelê het vir hulle laaste dae. Sy het vir die
persoon vertel dat daar 'n massiewe verskil is tussen (soos sy dit gestel
het) gelowiges en ongelowiges wat tot sterwe kom. Sy het vertel hoe
ongelowige mense met angs en vrees tot sterwe kom (ja nie altyd in alle
gevalle nie) terwyl gelowiges oor die algemeen met 'n absolute vrede en
rustigheid heengaan.
Net so is daar baie mense wat sterf en dan deur resussitasie weer gered
word, wat vertel dat hulle die hemel of die hel gesien het. Diegene wat die
hemel gesien het, wou deur die bank weer teruggaan, terwyl diegene wat die
hel gesien het in angs en vrees gelewe het. In beide gevalle het mense se
lewens daardeur handomkeer verander. Daar is getuienis van mense wat
dramaties tot bekering gekom het daarna. Die keuse lê by jou en my om dit te
glo of nie. Ek glo dit met my hele hart!
Ek het geen begeerte om daardie pad te stap sonder die Here nie!
Die Bybel is baie
baie duidelik daaroor dat ek en jy vir ewig sal lewe. Elke mens op aarde sal
vir ewig lewe, maar nie op dieselfde plek nie. As jy die verhaal van Lasarus
en die ryk man lees in Lukas 16 kry jy 'n vreesaanjaende prentjie.
Luk. 16:24 ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy
net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly
verskriklik in hierdie vuur.’
Vriend, die realiteit is, hy ly nou nog, en hy sal vir ewig so ly. Moenie
sonder God sterf nie, jy wil REGTIG nie! ~ Willem Botha, 27/03/2017 |
|
“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof
op die aarde vind?” – so vra Jesus in Luk. 18:8 vir sy volgelinge. Miskien
kyk Hy vandag in ons harte en vra weer dieselfde vraag. Daar word dikwels
gesê dat ons in die eindtye leef en dat Jesus se wederkoms naby is. Ons voel
dit aan ons lyf met allerlei booshede en ongeregtighede wat in die wêreld
aan die gang is en wat met groot spronge erger en erger raak. Dis alreeds só
onhoudbaar dat ons soms voel dat ons nou regtig nie kan wag dat Jesus weer
kom sodat daar ’n einde aan al die hartseer kan wees nie. Dit raak só erg
dat baie mense al hulle geloof prysgegee het, dit as’t ware langs die pad
verloor het. Dit raak só moeilik dat ons soms dink die Here het sy rug op
ons gedraai en van ons vergeet en al Sy beloftes laat vaar. Hierdie teks
laat my besef dat hoe later dit word, hoe sterker geloof gaan ons nodig hê,
hoe meer gaan ons moet vashou aan wat die Here sê, hoe meer moet ons die
diepte van Sy liefde en genade beleef, hoe sekerder moet ons wees dat ons
gered is. Dis nie nou die tyd om moeg te word, te verslap in ons toewyding
en uit te sak nie. Mag die Seun van die mens vandag en vir altyd geloof in
jou hart vind sodat jy saam met Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd
gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2 Tim 4:7)
~ Wilna Botha, 23/03/2017 |
|
Dè vat my bril
'n Vriend gebruik hierdie naweek 'n kostelike beeld van 'n bril, wat my toe
aan die dink gesit het.
Nou kyk, in die Botha-huis is baie brille. Clicks-brille, nuwe
voorskrifbrille, ou voorskrifbrille en dan sommer café-brille waardeur jy
net kan sien as jy 'n goeie bril op het! En so kom ek eendag in die bank en
moet 'n dokument teken maar my bril is nie saam bank toe nie. Ewe ongeërg
gee die dame van die bank my haar bril en siedaar, ek kan teken. Ek is mos
hoeka 'n meter-leser en kan net sien as die arm soos 'n lugdraad uitgestoot
word. So meter vêr. Maar party ouens se brille werk net nie vir my nie. Ek
dink juis hulle oë moet goed wees om daardeur te sien!
Maar weet jy, ons
sukkel maar om te verstaan dat ons as Christene net nie deur mekaar se
Geestelike brille kan sien nie, en ons is ook nie veronderstel om dit te kan
doen nie. Alhoewel ons dieselfde Bybel lees, is ons verhouding met God
totaal anders, want selfs my verhouding met my twee kinders is totaal anders.
Ek en vroulief is in 'n volmaakte huweliksverhouding. Net so kan Piet en
Sannie ook in 'n volmaakte huweliksverhouding wees, maar dit beteken mos nou
nie dat ek en Sannie (van Piet) ook in 'n volmaakte verhouding gaan wees nie.
Net so glo ek dat die Here elkeen van ons op 'n baie unieke en besondere
manier hanteer. Die manier wat ek met God praat, en Hy met my, is nommerpas
vir ons. En ek en jy kyk met totaal verskillende brille na alles in die lewe,
ons godsdiensbeoefening, ons verstaan van die wêreld en alles om ons. Daarom
kan ek nie my Geestelike bril op jou oë wil plak en verwag dat dit vir jou
werk nie. Maar dis juis omdat ons dit doen, dat ons so kan stoei met mekaar,
en dis hoekom ons mekaar eintlik selfs veroordeel.
Ja ek het vir seker die Here deur die Bybel leer ken, maar my verstaan van
Hom kom meer deur verhouding as deur kennis. Ek kan dalk 'n hele boek van
duisende bladsye oor my vrou skryf, maar dit gaan absoluut niks help vir 'n
volgende persoon wat haar pad kruis nie.
Daarom, polish maar jou eie bril mooi blink en kyk deur hom na die Here, en
jy sal 'n volmaakte Wese sien, net soos wat Hy na jou kyk en 'n volmaakte
wese (in Sy oë) sien. Moet nie dink 'n ander ou se bril sal vir jou 'n beter
prentjie gee nie, dit sal wees soos 'n raamlose bril sonder glase. ~ Willem
Botha, 21/03/2017 |
|
“Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid
het, het sy onbedaarlik gehuil.”(1 Sam 1:10) So het Hanna haar hart en
emosies voor die Here uitgestort. Dit gebeur mos met ’n mens dat jy
partykeer nie woorde het om te bid nie, dat jou hart so swaar en seer is dat
jy nie weet wat om te bid nie. Dikwels het jy dalk net trane. Wel, die Bybel
sê dat die Here jou trane raaksien en opvang en tel. (kyk Ps. 56:9) Daarom
kan jy rus in die wete dat jou trane voor die Here ’n woordelose gebed is.
Jou gebed hoef nie altyd aan die “reëls van gebed” te voldoen nie. Jou gebed
hoef nie noodwendig “met Skrif deurweef” te wees nie. Jou gebed hoef nie
“die korrekte name van God” te bevat nie. Nee, jou gebed mag soms maar net
’n eerlike, afhanklike, nederige uitstort van trane wees. Die Here sien dit.
Die Here hoor dit. Weet ook dat die Here op sy tyd vir jou ’n uitkoms sal
voorsien, soos vir Hanna: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel
sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” (1 Sam 1:16) ~ Wilna Botha,
20/03/2017 |
|
Doenliefde
2 Kor 11:23-25 "Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van
my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die
tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar.Vyf maal
het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry,
drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie
maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en 'n nag in die oop
see deurgebring. "
Hier is Paulus aan die woord. Goeiste maar die man het swaar gekry! Vyf keer
die gebruiklike 39 houe, gee 195 sweep hale oor sy liggaam. Weet jy hoe dit
lyk? Gaan trek met 'n pen 195 lyne kruis en dwars oor jou lyf en kyk hoe lyk
dit. Drie maal lyfstraf, dis as die Jode jou met stokke bykom, een maal
gestenig, toe nog skipbreuk en talle ander ontberinge.
Hoekom op aarde het hy die gedoen? En hoekom op aarde het God dit toegelaat?
En hoekom op aarde dink ons as Christene dat ons lewens maanskyn en moet
wees?
Nee, Paulus doen dit omdat hy die Here opreg liefgehad het, en mense opreg
liefgehad het, en ons kan onsself maar daarby insluit want Paulus het 'n
toekomsvisie gehad. Weet jy dat Paulus nie vir Jesus ooit in persoon gesien
het nie? En na al hierdie wrede vervolging skryf hy bykans die helfte van
die nuwe testament!
Ons het dit so maklik, ons het soveel middels tot ons beskikking, dis so
lekker om in 'n land met Godsdiensvryheid te bly, en ons het soveel kennis
en inligting tot ons beskikking.
Maar tog gaan mense rondom ons dood van Geestelike dors, en mis mense die
ewige lewe omdat niemand daarvan getuig nie. Ek is bly ek is nie Paulus nie,
want ek weet ek sou nie sy pad stap nie, maar goddank ek hoef nie. Kom ons
deel maar net die goeie nuus van Jesus se verlossing. Dis in elk geval
bykans die enigste goeie nuus wat daar deesdae te hoor is. ~ Willem Botha,
16/03/2017 |
|
Vroeër vandag was ’n vriendin hier by my. Sy het
onlangs gehoor dat sy borskanker het. Môre ondergaan sy ’n lumpektomie. Ek
luister na haar positiewe ingesteldheid en sien haar moed en hoor van haar
geloof en dit inspireer my. Dit laat my toe dink aan die titel van ’n boek
wat ek eenmaal gesien het (maar nie gelees het nie): Don’t waste your
sorrows – finding God’s purpose in the midst of pain. Ek sien hoe hierdie
vrou juis dít doen. Hierdie hartseer en pynlike episode word onmiddellik ’n
groeipad, die Here se genade en teenwoordigheid word ’n groter werklikheid,
haar oorgawe aan en afhanklikheid van Hom al hoe meer sigbaar. Sy weet
alreeds dat sy, wanneer sy hierdeur gekom het, ander mense gaan bystaan en
bemoedig wat dieselfde pad stap. En tog, êrens tussen alles deur, skemer dit
wel deur dat sy bang is vir môre en die dae daarna. En ons kan vir mekaar sê
dis oukei want ons dink aan Jesus wat daar in Getsémané ook beangs en
bedroef en doodsbenoud was en ons weet daai bloedsweet was ook in elkeen van
ons se plek. Ons weet Hy verstaan ons bang wees. Ons weet Hy skuif sy arms
onder ons in en druk ons teen sy bors. En ons hoor: “Moenie bang wees nie,
jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!” (Dan
10:19) ~ Wilna Botha, 15/03/2017 |
|
Yes I do
So begin elke huwelik. Nadat daardie woorde op 'n huwelikseremonie
uitgespreek is, word die egpaar vir ewig saamgevoeg. Of liewer, dis die
veronderstelling. Ek dink elke enkele persoon wat daardie woorde aanhoor, is
in die sewende hemel. En nog meer as dit saamgaan met "Ek is lief vir jou".
Of "jy is my held". "Ek kan nie sonder jou leef nie". En vele meer mooi,
opbouende woorde.
Maar dan verloop tyd, en daardie selfde lippe en stembande wat daardie
liefdeswoorde geuiter het, word 'n verwoestende wapen om die ander een te
vernietig. Ai, hoe verskriklik is dit nie dat mense wat eens met sagtheid in
die oë mekaar kon opbou en mekaar in die mooiste woorde kon baai, mekaar kan
verkleineer, afkraak en slegsê. Dit skreeu te hemele.
Hoe gereeld lê man of vrou in die bed in smart gedompel, deur woorde wat
kragtiger is as 'n atoombom, op die ander een losgelaat is. En nog erger,
dikwels voor die kinders. Wat word van liefde in sommige huwelike? Dink
mense regtig dat hulle liefde aan hulle kinders bewys as hulle die kind se
ander ouer so bykom?
Ek word SO hartseer as ek hierdie goed hoor. So onnodig, so vernietigend,
sulke onomkeerbare skade, so wreed, erger as moord. Die Bybel praat so baie
daarvan. Die tong. Die sarkastiese tong. Die lieg-tong. Die vernietigende
tong. Die moordwapen-tong. Die skel-tong.
Hoe verskriklik is dit nie... ~ Willem Botha, 14/03/2017 |
|
Ek lees in ’n klomp van Paulus se briewe aan individue
en gemeentes dat hy sê hy bid vir hulle. Hy sê vir die Here dankie vir sy
vriende en sy mense. Hy sê hy doen dit elke keer as hy bid. Soos vir
Timoteus: “... wanneer ek onophoudelik dag en dag in my gebede aan jou dink
...” (2 Tim 1:3), of soos vir Filemon: “Elke keer as ek bid, dink ek aan jou
en dank ek my God ...” (Filemon :4) Hy dank God vir sy vriende. Doen ons dit
ooit? Kom ons dink bietjie aan ons vriende se voortreflikhede en sê vir die
Here dankie daarvoor. Skryf sommer vir jou vriend 'n E-pos of WhatsApp en sê
vir hom dat jy vir hom bid. Noem die dinge wat jy vir hom bid en wat jy in
sy lewe raaksien waarvoor jy vir die Here dankie sê. Paulus dank die Here
vir sy vriende se geloof, vir hulle volharding, vir hulle verkondiging van
die evangelie, vir die liefde wat hulle vir mekaar het, vir hulle gawes wat
hulle gebruik tot eer van die Here, vir hulle ywer en deursettingsvermoë ten
spyte van vervolging en swaarkry, vir hulle lojaliteit. Wat beteken jou
vriende vir jou? Bid vir hulle. Sê vir die Here dankie vir hulle. ~ Wilna
Botha, 13/03/2017 |
|
Ons is altyd maar baie versigtig om vir mense hulle
foute of oortredinge uit te wys, want die Bybel sê mos ons mag nie oordeel
nie, die oordeel kom God alleen toe. Ons wil self nie geoordeel word nie en
daarom bly ons maar stil as ons ’n verkeerde lewenswyse of afvalligheid
raaksien. Ons is bang om iets te sê want ons weet mos as een vinger na jou
vriend wys, wys vier ander terug na jou toe. Ons wil mos nie ons broer op ’n
fout wys nie, want ons is bang ons sien die splinter in sy oog maar mis dalk
die balk in ons eie oog. Al hierdie dinge is natuurlik baie waar (en heel
Bybels). Ek sien egter dat die Bybel tog sê daar waar ons in ’n geslote,
veilige groep saam met mede broers en susters is, daar het ons wel ’n
verantwoordelikheid om te oordeel; nie die mens nie, maar die sonde wat hy
doen. As ons nie verkeerde dinge wat in ons kerk, gemeente, omgeegroep,
familie aangaan raaksien en aanspreek en uitroei nie sal dit soos suurdeeg
wees wat “aansteek” en uitbrei en later gekondoneer word en goedgepraat word
en uiteindelik is die hele omgewing aangetas. 1 Kor. 5:12-13 sê duidelik:
“Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te
oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense
oordeel.” Ons moet mekaar vermaan en teregwys waar nodig, maar dit alles
moet met liefde en nederigheid gepaard gaan. Dit moet altyd met ’n
gesindheid van aansporing en aanmoediging wees. “Maar solank daar nog ’n
“vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle
deur die misleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb. 3:13) Kom ons
bewys ook hierdie liefde aan mekaar deur mekaar reg te help en natuurlik ook
deur teregwysing groothartig te aanvaar wanneer jy dalk op ’n dag aan die
ontvangkant moet staan. ~ Wilna Botha, 09/03/2017 |
|
Draai
terug
Ons is tans regtig in 'n baie onaangename situasie
in ons land met misdaad en met baie moeilike politieke omstandighede. En die
uitroep is (natuurlik met GOEIE reg), dat Suid-Afrika moet terugdraai na God
toe. Ja, ons moet, en gou ook. Vergewe my en moet my nie stenig nie, maar ek
dink ons moet egter eers 'n paar dinge self uitsorteer. Ek sien al bykans
daagliks hoe "ons eie mense", mekaar verwoes met slegte verhoudinge. Broer
teen broer, vriend teen vriend en buurman teen buurman is in die mees verwoestende gevegte
gewikkel oor triviale snert! Soms oor redes wat nie een meer kan onthou nie,
maar staan by my punt sal ek mos staan!
Lui hierdie woorde dalk 'n klokkie: Jy moet die Here jou God liefhê... en
jou naaste soos jouself? Ons sê dit maklik op in die kerk. Hoor Paulus se
woorde...
GAL 5:15 "Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie
later heeltemal verslind nie."
Vriend, moet ons nie dalk eers terugdraai na mekaar nie? Ons is begaan oor
die "vyand", maar steek ons broer in die rug. Maar Paulus is nie klaar nie,
hy het dit teen mense wat oor die mees onnodige dinge mekaar hof toe sleep.
Nee nie omdat die ander ou jou motor gesteel het nie, sommer net om te wys
jy kan.
1 Kor 6 : 5 - 6 "Ek sê dit om julle skaam te maak. Is daar dan nie 'n enkele
verstandige mens onder julle wat 'n saak tussen gelowiges kan besleg nie?
Maar gaan een gelowige nou met die ander hof toe, en dit voor ongelowige
regters?
" EK SÊ DIT OM JULLE SKAAM TE MAAK...! " Sjoe
Ek dink die Here wil soms uit die hemele uitroep: "Hou asseblief net op!
Ek was die afgelope tyd baie blootgestel aan situasies waar mense skielik
tot sterwe gekom het, en ek besef net hoe ongelooflik kort (en kosbaar) die
lewe is. Ek wil vandag maar net weer voor my eie deur vee en dink wie ek
moet vergewe, en waar ek moet vergifnis vra, en waar ek verdraagsaam moet
wees. Kom ons draai terug na mekaar toe, dan kan ons met oop harte, saam met
mekaar, terugdraai na God toe. ~ Willem Botha, 07/03/2017 |
|
Gisteraand in die kerk sing ons ’n lied en êrens kom
dié reëltjie voor wat my tref: You are my hope and my stay. Mens maak ’n
baie groot fout as jou hoop op wêreldse goed is, as jou hoop op jou familie
of jou werkgewer is vir versorging, as jou hoop op die regering is vir
veiligheid en ’n goeie toekoms. Net die Here kan vir ons ’n vaste, sekere,
onveranderlike, onwankelbare hoop wees. Hy gee nie net hoop nie, Hy ís dit.
Met my Engels wat maar vrotterig is, het ek nie dadelik besef wat dit kon
beteken dat Jesus “my stay” is nie. Ek het daar gestaan en dit oordink
terwyl almal sing. Ek het gedink dit beteken ek moet in Hom bly en Hy in my
(soos wat Joh. 15:4 mos sê), ek het gedink Hy moet by my en in my kom woon,
ek het gedink ek moet bietjie meer vertoef in sy teenwoordigheid, meer
stiltetyd hou, meer Bybel lees, meer Ps. 46:11 doen: Wees stil en weet ...
Ek het ook gedink dis miskien soos om in ’n gastehuis te “stay” – jy gaan
rus by die Here, jy gaan ontspan, jy gaan vergeet van jou stres
bekommernisse, jy gaan fokus op mooi dinge en jy wil altyd langer bly as wat
jou bespreking is. Toe ek egter by die huis kom en in die woordeboek kyk,
sal ek sien ’n “stay” is ’n versterking, ’n stut, ’n anker. Dis ’n groot,
sterk tou of draad wat die mas van ’n skip ondersteun. Tóé sing ek sommer
weer met nuwe betekenis: You are my stay. Hy is ons veilige vesting, ons
fondasie, ons rots, ons helper wat ons regop hou, ons anker in storms, hy
gee rigting aan ons lewensbootjie. “Ek wil altyd by U kom wegkruip. U het my
nog altyd gehelp. U pas my op. U sorg dat ek veilig is ... Help my
asseblief Here, want ek bou al my hoop op U. Van jongs af vertrou ek net op
U. Van my geboorte af is U ’n steunpilaar vir my.” (Ps. 71:3-6) ~ Wilna
Botha, 06/03/2017 |
|
Nee vriend, dis
sommer jy self...
'n Klomp jare gelede is ons op 'n mannnekamp wat aangebied word deur 'n
klompie ouens van ons mannebediening. Ons sit toe en gesels oor hoe moeilik
die reguit pad is en die een ou sê toe: "Ek struikel gereeld met 'n paar
dinge want die Satan wys vir my goed wat ek nie moet sien nie en dan doen ek
sonde." Sjoe, ek het daai een nie mooi verstaan nie, toe sê ek vir hom: "Vriend,
dis nie die duiwel nie, dis sommer jy self".
Die arme ou was nogal ongemaklik. Wel, waar gaan jy 'n beter "scapegoat" kry
om te blameer as die duiwel? Jy ken mos seker die volgende storie: Adam
blameer vir Eva, Eva blameer die slang, en die arme ding het nie 'n voet om
op te staan nie...
Ja nee kyk, as ons vir ou sekelstert in die prentjie kan inbring, kan ons
met moord wegkom. Die ou het mos BAIE magte hier op aarde, en hy infiltreer
jou brein en siedaar, jy is onskuldig! Shame..
Jak 1:14 "Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en
saamsleep."
Lyk my die duiwel is soms onskuldig... Gelukkig, anders moes hy mos voor God
vergifnis vra vir ONS sondes (want hy het ons mos laat struikel). Nee wat,
ons moet maar self pa-staan vir ons oortredinge.
Nee vriend, dis sommer jy self... ~ Willem Botha, 02/03/2017 |
|
Ek lees vandag hierdie aanhaling: “Courage is ... what
it takes to stand up and speak. Courage is also ... what it takes to sit
down and listen,” en ek onthou die Bybel sê ook in Pred. 3:7 daar is ’n tyd
om stil te bly en ’n tyd om te praat. Wanneer moet jy praat? Wanneer jy oor
die Here kan en moet getuig, wanneer bemoediging en aanmoediging nodig is,
wanneer jy ’n kompliment kan gee, wanneer jy vergifnis uitspreek en liefde
betuig, maar ook wanneer daar onreg gepleeg word of wanneer die Here se naam
skade aangedoen word. Wanneer moet jy stilbly? Wanneer jy die ander een se
kant van die saak wil hoor, wanneer die gepraat aan skinder grens, wanneer
jou gepratery ’n rusie gaan uitlok, wanneer jou woorde skerp dolksteke gaan
wees, wanneer jy iemand gaan afbreek, wanneer jy kritiek gaan lewer, wanneer
jy alreeds genoeg gesê het. Die Boodskap-vertaling sê in Spreuke 10:19:
“Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand
wat sy praatlus beheer, is slim.” Ek dink dit vat baie keer meer moed om
stil te bly of om jou woorde te tel as om net voort te babbel en jou sê te
sê. Lê bietjie moed aan die dag en plaas ’n wag voor jou mond, beheer jou
praatlus, sit ’n slag en luister net, bly soms doodstil, al brand jy om iets
te sê! ~ Wilna Botha, 01/03/2017 |
|
Skoert Satan
Die boek Judas is die tweede laaste boek in die Bybel en dis baie kort, net
een hoofstuk. Die skrywer is natuurlik nie Judas Iskariot wat Jesus verraai
het nie. Dis ook nie duidelik aan wie hy die brief gerig het nie, maar hy
waarsku ernstig teen dwaalleraars wat die gelowiges se kringe binnedring, en
dan noem hy dat hulle eintlik afstootlik is. Hy praat op die man af oor
hierdie mense, en hy lê hulle afskuwelike lewens prontuit bloot.
Dan noem hy 'n interessante ding:
Judas 1: 8-9 "En nou is dit met hierdie mense net so. Vanweë die
droomgesigte wat hulle sien, bevlek hulle hulle eie liggame, verwerp hulle
die gesag van die Here en beledig hulle die hemelwesens. Nie eens die
aartsengel Migael het so iets gedoen nie. Toe hy met die duiwel gestry het
oor die liggaam van Moses, het hy hom dit nie veroorloof om die duiwel te
beledig en te veroordeel nie, maar hy het vir hom gesê: “Die Here sal jou
straf.”"
Ek wonder nou net so bietjie oor vers 9 waar hy sê dat nie eers die
aartsengel Migael die duiwel beledig en veroordeel het nie. Hy sê net vir
Satan "die Here sal jou straf."
Ek het al so baie gehoor hoe mense die duiwel in hulle gebede bestraf, en ja,
sommer terwyl hulle met God praat spreek hulle die duiwel aan. Nou wonder ek
net - aan die hand van hierdie teks - of ons dit hoef te doen. Ja, die Bybel
sê inderdaad hy loop rond soos 'n brullende leeu, maar ons weet tog dat die
Here hom aan die kruis vernietig het.
Ek mors nie te veel tyd met die duiwel nie, want dis nie my werk of vir my
nodig nie. Hy is inderdaad besig hier op aarde, maar ons kan eerder ons tyd
spandeer om die Here te prys, te bid vir Sy hulp en om dankbaar te wees vir
ons verlossing. Sy bloed is meer kragtig as enigiets op aarde. ~ Willem
Botha, 28/02/2017 |
|
Wanneer Paulus vir Filemon ’n brief skryf om hom te
versoek om sy bekeerde slaaf, Onesimus, weer terug te neem, sê hy die
volgende: “As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my
rekening. Hier skryf ek, Paulus, met my hand: “Ek sal betaal.”” (Filemon
:18-19) Paulus was bereid om finansieel in te staan vir die foute van sy
vriend en geestelike kind. Hy staan as’t ware borg vir hom en teken die
kontrak met: Ek sal betaal. Paulus was bereid om genade te betoon en te
help. Net soos die barmhartige Samaritaan wat betaal het vir die versorging
van die beseerde wat hy langs die pad teëgekom het. “Sorg vir hom en as jy
meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.”
(Luk. 10:35) Die Samaritaan was bereid om genade te betoon en te help. Net
soos die pa van die verlore Seun wat gesê het: ek sal betaal. Slag die kalf,
gee vir hom ’n ring, gee vir hom nuwe skoene en klere. Die pa was bereid om
genade te betoon en te help. Net soos Jesus wat gesê het: met My liggaam en
My bloed sal ek vir julle betaal. “Inteendeel, julle is losgekoop met die
kosbare bloed van Christus.” (1 Pet. 1:19) Jesus was bereid om aan elkeen
van ons genade te betoon en te help. Hoe vêr is ons bereid om te help? Die
Bybel sê: “Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl
dit in jou mag is om dit te bewys nie,” (Spr. 3:27) en “Wie hom oor 'n arm
mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”
(Spr. 19:17) Dalk is daar êrens ’n geleentheid waar jy moet sê: Ek sal
betaal. ~ Wilna Botha, 27/02/2017 |
|
“... maar laat God julle verander deur julle denke te
vernuwe.” (Rom 12:2) Dink nuut oor verhoudings, dink nuut oor eetgewoontes,
dink nuut oor oefenprogramme, dink nuut oor kinderopvoeding, dink nuut oor
die land, dink nuut oor vreugde ... dis uitdagings waaroor daar dikwels
geskryf en gedebatteer word. Dink nuut oor Godsdiens, dink nuut oor genade,
dink nuut oor gebed, dink nuut oor diensbaarheid, dink nuut oor sending ...
dis tipiese preekonderwerpe wat mens in die kerk hoor of titels van
geestelike boeke wat mens op die rakke sien. Om nuwe gedagtes te laat posvat
in jou kop en hart het uiteindelik ’n uitwerking in jou optrede, seker dié
dat die “dink nuut”-tema oral voorkom. Dis ook wat die Here vir ons wil hê.
Hy wil hê dat ons verander. Hy wil hê dat ons meer soos Hy moet word. Hy wil
hê dat ons moet groei in ons verhouding met Hom. Hy wil hê dat ons Sy wil
moet onderskei en doen. As ek Rom 12:2 lees voel ek verlig om te weet dat
God hierdie verandering en vernuwing in my doen. Hy maak ons van binne af
nuut en laat ons op ’n nuwe manier dink oor Hom, oor ons lewe en ons wêreld.
Wat ’n genade! Hý doen dit. Ek lees egter tussen die lyne dat ons Hom moet
toelaat om dit te doen, dat ons nie die sagte stem van Sy gees moet
teenstaan nie, dat ons ook ons kant moet bring deur ons gedagtes te rig op
“alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is,
alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is...” (Fil. 4:8) – daar is nou
vir jou iets om oor te dink! ~ Wilna Botha, 23/02/2017 |
|
Olievlak
Jy ken mos die gelykenis van die 10 meisies wat die bruidegom ingewag het,
waar 5 van hulle ekstra olie saamgeneem het vir die lampies, en 5 nie.
e
Matt 25 : 1 - 4 "Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met
tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. Vyf
van hulle was onverstandig en vyf verstandig. Die onverstandiges het hulle
lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, terwyl die
verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het."
Die verstandiges het ekstra olie saamgeneem, die onverstandiges nie. Hierdie
gedeelte begin met die woorde: "Dan sal dit met die koninkryk van die hemel
gaan soos met..."
Voel jy ook die Here kan nou maar kom om ons te red van hierdie miserabele
lewe? Of dink jy ook dit gaan seker nooit gebeur nie, soos die onverstandige
meisies? Wel vriend, my vraag is vandag eenvoudig: Hoe lyk daai olievlak? Jy
ken mos die grappie van ou Maaik? Toe die olie min raak koop hy net 'n
langer dipstick. Nee, dit werk nie so nie.
Ons moet altyd reg wees met genoeg olie in ons lampies, want dit kan enige
dag gebeur. Hou daai altyd olievlak reg deur :
Besig te wees met die regte dinge
Lief te wees vir mekaar, en baie lief vir die Here
Geestelik te groei
Geduldig te wees as dit voel of jy moedeloos word
Gebed, lofprysing, getuig
Laastens, geniet jou verhouding met die Here, Hy het onbeperkte voorraad van
Geestelike olie. ~ Willem Botha, 22/02/2017 |
|
Vroeër vandag toe ons vriend, oom Jan, kom kuier het,
het hy (soos hy altyd doen) opgewonde vir ons vertel oor die Bybel gedeelte
wat hy op die oomblik bestudeer: die boek Filemon. Ek kon nie help om ook
gou weer die boek te lees nie. Dis net voor Hebreërs in die Bybel. ’n Boek
met net 25 verse. ’n Boek met vele boodskappe, net soos enige ander bladsye
in die Bybel. Dit gaan oor Filemon se slaaf, Onesimus wat gedros het en in
die gevangenis beland het. Hier ontmoet hy vir Paulus en kom tot geloof in
Jesus. Paulus stuur vir Onesimus terug na Filemon en vra hom om hom terug te
neem, nie net as slaaf nie, maar as broer. Dit sê vir my iets van
aanvaarding en genade en vergifnis tussen mede-Christene ongeag die sosiale
grense wat daar tussen ons mag wees, dit sê vir my dat niemand té vêr
weggedwaal het dat die Here hom nie kan red nie, dit sê vir my dat die Here
iemand wat eens onbruikbaar was bruikbaar kan maak vir die samelewing, dit
sê vir my dat iemand wat tot geloof gekom het ’n nuwe mens is met ’n nuwe
lewensdoel, selfs al bly hy in dieselfde omstandighede. Kyk hoe mooi skryf
Paulus: “Filemon, my versoek gaan oor Onesimus, een van my nuwe kinders in
die geloof. Weet jy, hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword. Hy
het tot bekering gekom nadat ek met hom oor Christus gepraat het. Is dit nie
wonderlik nie? Natuurlik ken jy Onesimus baie goed. Hy is immers ’n slaaf
van jou. Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles
verander. Onesimus het nou ’n Christen geword. Ek weet dat hy van nou af
sommer baie vir jou gaan beteken.” (Filemon:10-12, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 21/02/2017 |
|
Totsiens vriende
Aan al my vriende:- Ek het ongelukkig die nuus gekry vandag dat ek binne 'n
dag of 2 gaan sterf. My aorta het aan die binnekant geskeur oor 'n baie
groot oppervlakte. Baie dankie vir al julle liefde belangstel omgee en
grappe maak. Dit was vir my altyd lekker om saam julle te kuier. Liefde
Dankie Vader dis nie
vir my waar nie, maar hierdie is 'n boodskap wat ek Saterdag gekry het (woord
vir woord), en die persoon is toe inderdaad Sondag oorlede. Ek het hom nie
baie goed geken nie. 'n Absolute tragiese gebeurtenis wat die naweek
afgespeel het, van 'n wonderlike mens, pa en eggenoot. Dit het my diep
getref en laat besef hoe sterflik die mens is.
Wat my toe net laat wonder oor 'n paar dinge :-
* Dit het nie met my gebeur nie. Hoekom nie ek nie? Kom dit dalk nog? Dit
kan, weet jy? Met jou ook.
* Is ek gereed daarvoor? Is jy?
* Waar moet ek gaan regmaak? Al daaraan gedink?
* Is my saak so reg met die Here, soos wat hierdie man se saak was? Hoe lyk
dit daar by jou?
* Het ek regtig voluit gelewe? Of net bestaan?
Sê nou net jy het nie darem nog die paar ure gehad soos wat hierdie persoon
gehad het nie?
Ons groet jou Fantie,
jy was 'n reus! Die getuienis van mense oor jou lewe is wonderbaarlik. ~
Willem Botha, 20/02/2017 |
|
Handjies klap,
koekies bak...
Soos wat ek nou hier sit en skryf, het ek 'n heerlike baksel beskuit in die
oond (ja, ek Willem) en die reuk hang reeds in die huis. Daarna laat afkoel,
opsny en oornag droog in die oond. Dis maklik om beskuit, of koek, of skons
te bak. Enige iemand kan dit doen (ja jy ook meneer), solank jy 'n resep en
bestanddele het. En o ja, read the instructions...
Nou ja, dis dan seker net so eenvoudig om deur die lewe te gaan, of hoe? Ons
het die resepteboek (die Bybel), ons het die bestanddele (lewe,
lewensmiddele, verhoudings, mense om ons ens) en al wat ons moet doen is
meng en bak. Die Bybel is tog baie duidelik; alles wat jy wil weet is daar,
doen dit net.
Maar o koek (excuse the pun), dit werk nie so nie. My beskuit resep gaan vir
my NET beskuit oplewer, nie sjokoladekoek of frikkadelle nie, want die
bestanddele is verkeerd (verskoon my gou, net gaan kyk hoe die baksel vorder).
Ek weet egter dat meel meel is, sout proe altyd dieselfde, so ook die
karringmelk, All-Bran en Wheatbix. Dis maklik.
Maar die lewe se bestanddele is soms bederf (soos verhoudings) en die oond
van die lewe bak nie so egalig soos ons "thermo-fan" oond nie. Soms is ons
lewens-oond heeltemal te warm, en soms dink ons ons bak 'n heerlike vogtige
sjokolade-koek (jitte ek het 'n lekker resep wat ek bak), maar intussen is
ons besig met 'n skaapnek potjie.
Maar ja, die Bybel gee goeie riglyne, vernaam in Spreuke.
Spr 1:1-3 "Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. Dié spreuke
is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet
wanneer iemand verstandig praat. So sal hulle 'n behoorlike opvoeding
ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid."
Die Resepteboek van
die lewe:-
Sê nie alles gaan heerlik proe nie
Sê nie dat die koek nie soms flop nie
Sê nie ons kan sommer net niks doen en 'n koek kry nie (jy moet bak)
Maar sê dat God die beste vir ons wil hê, selfs in slegte tye as die oond
handuit ruk.
En ja, soms moet daai oond warm wees vir die regte resultaat. ~ Willem
Botha, 16/02/2017 |
|
Ek lees nou die dag iets wat sê hoe belangrik slaap is
en watter voordele dit alles vir jou fisiese en psigiese gesondheid inhou.
Wanneer jy slaap vind herstel en genesing van jou hart en bloedvate plaas,
weefselgroei vind plaas, energie word herstel, hormone wat belangrik is vir
groei en ontwikkeling word vrygestel en so kan die lys aangaan. Voortgaande
slaaploosheid word verbind aan hoër risiko vir hartprobleme, hoë bloeddruk,
diabetes, beroerte, depressie ens. Te min slaap beïnvloed jou normale
funksionering gedurende die dag, versteur hormoonbalans, eetlus en
immuunsisteem. Daar word selfs gesê te min slaap kan jou vet maak! Google
gerus bietjie oor al die interessante navorsing in hierdie verband. Nou ja,
ons hoef nie vreeslike navorsing te doen om te weet hoe knorrig jy is as jy
nie genoeg geslaap het nie en hoe jy sukkel om deur jou dag te kom nie. Maar
wat nou gemaak as jy in die bed klim, maar jy kan nie slaap nie, jy rol rond,
jy bekommer oor dinge en jou probleme lyk al hoe groter hoe vêrder die nag
vorder, jy laat toe dat die dag se gebeure oor en oor in jou kop maal ... en
so gaan dit aan. Kyk bietjie hoe mooi praat die Bybel hieroor: “As ek gaan
lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my.” (Ps.
3:6) en “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want,
Here, U alleen laat my veilig woon.” (Ps. 4:9) Raak rustig voor jy gaan
slaap. Skakel doelbewus die dag se dinge af. Lees jou Bybel. Praat met die
Here. Oordink die Here se goedheid en trou. Sien in jou geestesoog hoe Hy
langs jou bed is. Vul jou gedagtes en jou hart met positiewe dinge. Skryf
een van die tekste hierbo op ’n kaartjie en lees dit weer as jy in die nag
wakker word en glo dit. Lekker slaap! ~ Wilna Botha, 15/02/2017 |
|
NOG 4!!!
...onskuldige mense is vandag op 'n plaas vermoor. NOG 4! Waar gaan dit
eindig? Hoekom? Onskuldige mense wat werk verskaf het, voedsel produseer en
bes moontlik baie goed vir hulle werkers was, en 'n verskil in hulle lewens
gemaak het.
Ek voel verslae, kwaad, tot op die been moeg hiervoor, ek erken dat ek moet
stoei om nie te haat nie en regtig regtig magteloos en moedeloos voel! As
dit net kon sin maak op een of ander manier, ja selfs op Geestelike vlak,
dan sal dit help, maar ek kom maar net tot die slotsom dat die mens 'n
uiters verdorwe wese geword het.
Maar dis niks nuuts nie, dit kom van die begin begin af, met die sondeval.
Die mens kies teen God, met verskriklike gevolge, en word uit die paradys
verdryf. En toe word dit eers erg...
Gen 6 : 5 - 7 "Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op
aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here
bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep
gegrief. Die Here het gesê: Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van
die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is
bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het."
Daarna het die groot waters gekom.
Vriend, Jesus se koms het nie die effek van die sondeval tot niet gemaak nie,
net die weg na Saligheid het "verander". Die wêreld is steeds net so aaklig,
wreed en korrup.
Die vraag waarmee ek oorbly is dit: Hoe gaan ons vorentoe? Dan kan ek maar
net uitroep :
2 Sam 22:30-32 "Want met U loop ek ’n bende storm, met my God spring ek oor
’n muur. Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy
is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. Want wie is God buiten die HERE, en
wie ’n rots buiten onse God?" ~ Willem Botha, 14/02/2017 |
|
“Julle moet nie soos ’n klomp geestelike swakkelinge
leef nie. Wees entoesiasties oor wat julle as Christene doen.” (Heb. 12:12,
Die Boodskap) Sjoe, niemand van ons wil ’n swakkeling genoem word nie, wat
nog ’n geestelike swakkeling. Wat maak van iemand ’n geestelike swakkeling,
het ek gewonder. Miskien is dit as mens lou geraak het in jou toewyding aan
die Here en Hom nie meer so lief het as aan die begin nie, as jy die stem
van die Heilige Gees in jou binnekant al hoe meer onderdruk, as jou
diensbaarheid teenoor jou medemens verflou het. Dalk is dit iemand wat sy
rug op die Here gedraai het en sy genade van die hand gewys het. Dalk is dit
as jy nie meer jou krag by die Here tap nie, as jy nie meer samekomste van
die gemeente bywoon nie, as jy nie meer bid nie. Dalk is dit iemand wat so
vol is van homself dat sy knieë onder hom geknak het. Dalk word die swakheid
veroorsaak deur bitterheid en onvergewensgesindheid wat wortelgeskiet het in
jou hart. Miskien leef jy soos ’n swakkeling omdat jy nie besef hoe kosbaar
jy vir die Here is nie, miskien sien jy nie die kroon op jou kop raak nie.
Wat ek wel weet is dat ek vanaand lank en diep na my eie geestelike lewe wil
kyk, dat ek weer entoesiasties God se pad wil loop en met oorgawe wil doen
wat ’n Christen moet doen. ~ Wilna Botha, 13/02/2017 |
|
Volstruis in die windpomp
Wat is die grootste en goorste krisis wat jou al getref het? Waar in jou
lewe het die onaangenaamste ding denkbaar jou getref? Of is jy vrygestel van
alle vorms van swaarkry, teenspoed of moeilikheid? Ek twyfel. Ek dink ons
elkeen het iewers al in iets sleg beland. Hetsy jy dit oor jouself gebring
het, of dat dit deur iemand anders teweeggebring is. Nou ja, daar is ‘n
goeie spreekwoord daarvoor: wanneer die pawpaw die fan strike, in Afrikaans
vertaal: wanneer die volstruis in die windpomp invlieg. Kan jy daardie dag
onthou? Of dae? Of tydperk? … toe die volstruis in jóú windpomp ingevlieg
het.
Dit is so dat daar vir party mense net 'n muggie in die windpomp vlieg, en
dis die grootste krisis denkbaar, en vir ander vlieg 'n koei deur daai
windpomp en hulle hanteer daardie krisis met 'n innerlike krag wat bokant
mens se verstand is. Ons is nou maar verskillend, en daarom hoef ons nie op
dieselfde manier ons krisisse te hanteer nie. Die punt is, hanteer dit net.
Die een ding wat ons egter weet is dat die Here daar is, in ons klein en
groot uitdagings. Ek dink nie die Here voel dat ons soms te kleinserig of
liggeraak is nie, ons kan met alles na Hom toe gaan.
Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek
is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand
red Ek jou."
So 'n bekende teks, wat so moeilik is om te glo en aan vas te hou, maar dis
wat ons het. Sê nou maar dit het eerder gesê: "Jy wil mos, jy het daarvoor
gesoek, jou sondes maak dat Ek my gesig wegdraai, en moenie by My kom huil
nie..."
Nee, God is daar, en Hy staan by ons deur dik en dun. ~ Willem Botha,
09/02/2017 |
|
“Ek plaas julle almal nou in God se hand. Hy sal vir
julle sorg. Hy sal met sy goedheid elke dag by julle wees. Hy sal julle
geloof in Hom sterk maak.” (Hand 20:32, Die Boodskap) Watter kragtige seën
is dit nie om vir iemand te bid nie. As jy jou mense in God se hand geplaas
het, dan het jy hulle mos aan God toevertrou. Dié almagtige God van die
heelal, dié Ewige Vader. Dan kan jy “let go and let God ...” Dan sal die
Here oorneem en sy genade laat werk. Dan is hulle veilig en versorg, dan
steek Hy hulle weg onder sy vleuels, dan is Hy ’n veilige vesting vir hulle,
’n ewige rots. Dan gee Hy vir hulle meer as wat hulle kan bid of dink, dan
ontvang hulle sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, dan sal niks hulle
uit Sy hand kan ruk nie. Dan sal hulle mosterdsaad-geloof groei na ’n geloof
wat berge versit. My seun verjaar vandag en toe ek vanoggend vir hom gebid
het, het die woorde van Hand 20:32 by my opgekom: nou vertrou ek jou aan God
toe. ~ Wilna Botha, 08/02/2017 |
|
Gebed
... 'n baie spesiale gesprek met die Here. Soms alleen, soms saam met ander,
soms die Here aan die enkels vasgryp en jou hart uitstort tot Hy jou
antwoord, soms 'n stille versugting. Soms 'n smeking uit desperaatheid en
soms net 'n sagte "dankie Here". Party gebede is dalk vir sommiges net uit
gewoonte (soos voor jy eet), maar ten minste is dit 'n goeie gewoonte. Ons
almal kan nog ons kindergebedjies opsê, en ek dink dit is vir die Here baie
spesiaal.
Dan is daar die
Facebook gebede, wat dikwels gepaard gaan met 'n haarrysende foto van 'n
kind wat op sterwe lê, wat jou aanpor om saam te bid met 'n "share" of 'n
amen (gewoonlik stokou foto's). Lewe die arme kind nog? My mening is dat dit
absoluut geen Geestelike waarde het nie! Bid mense vir die saak nadat amen
geklik is?
"Bid asb vir my... ".
Ja natuurlik, ons mag dit doen. Maar die eerste lyn van gebed is altyd jy
self. Hoe lank moet ons dan vir die saak bid? Totdat die Here antwoord. Wat
soms" wag" of "nee" kan wees. Ons sukkel met daardie een.
En dan, 'n moeilike een: Iemand het eendag gesê " Doen eers ALLES wat jy
self moet doen voor jy bid oor 'n saak", wat beteken dat ons soms eers ons
huis in orde moet kry (spreekwoordelik) voordat ons van die Here verwag om
die saak op te los.
Laastens, sê meer dankie as wat jy vra. Sien elke dag God se wonderwerke
raak, maak 'n gewoonte om seëninge te tel, en prys die Here ook vir/in
slegte tye, want soms vat dit lank om God se besluite te verstaan.
Amen ~ Willem Botha , 07/02/2017 |
|
As die Here sê ons moet Hom met ons hele hart, siel en
verstand liefhê en aanbid (Matt. 22:37), of as Hy sê ons moet Hom in
waarheid aanbid (Joh. 4:23) en Hom opreg dien (1 Sam 12:24), dan hoor ek dat
ek eg voor die Here moet wees, dat ek Hom moet aanbid op my eie manier, wat
nie noodwendig dieselfde is as die volgende persoon nie. Opregtheid voor die
Here vereis dat my aanbidding uniek en oorspronklik sal wees, dat ek nie die
ou langs my sal na-aap nie. As die Here vir Moses gesê het om sy skoene uit
te trek, beteken dit nie jy moet ook nie. As Dawid in sy onderklere voor die
Here gedans het, beteken dit nie jy moet ook nie. As die pastoor olie op
mense sit wanneer hy vir hulle bid, beteken dit nie jy moet ook nie. As
almal in die gemeente op hulle knieë staan as hulle bid, of hard skree of in
tale bid beteken dit nie jy moet ook nie. As almal hulle hande in die lug
hou of dans wanneer hulle die Here prys, beteken dit nie noodwendig jy moet
ook nie. Ek sien so baie reëls en gewoontes wat ons vir onsself maak oor hoe
ons die Here aanbid, oor wat ons moet doen om Hom te behaag. Daar is seker
nie noodwendig iets fout daarmee nie, dit pla my maar net as mens sien in
een kerk of in een omgeegroep doen álmal álles op dieselfde manier, die
gebruike en rituele is oorgeërf en “aangesteek” en dan wonder ek of dit
altyd uit ’n eerlike hart kom. Sekere goed moet ons natuurlik ordelik en
volgens bepaalde gebruike doen wanneer ons binne ’n gemeente wil funksioneer,
maar ons moet uiteindelik seker maak dat ons die Here op ons eie unieke
manier dien en aanbid. "It's who you are and the way you live that count
before God. Your worship must engage your spirit in the pursuit of truth.
That's the kind of people the Father is out looking for: those who are
simply and honestly themselves before Him in their worship ... Those who
worship Him must do it out of their very being, their spirits, their true
selves, in adoration." (Joh. 4:23-24, The Message) ~ Wilna Botha, 06/02/2017 |
|
'n Wandeling in die tuin
Gen 3:8 "Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd
dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God
weggekruip tussen die bome van die tuin."
Hierdie verhaal speel af net nadat Adam en Eva sonde gepleeg het en toe bang
was vir die Here. Ek lei af dat die Here dikwels saam met hulle in die tuin
gewandel het, en ek dink hulle het nogal heerlik gesels en gekuier.
Kwaliteit-tyd, maar die sondeval het dit kom beduiwel.
Baie jare gelede was daar twee bejaardes in my wyk by wie ek maandeliks
huisbesoek gedoen het. Oom Koos het glad nie kerk toe gegaan nie en ook nie
kom saamkuier as ek daar aangedoen het nie. Een dag het 'n jong dominee kom
huisbesoek doen saam met my, en ek het vir hom van oom Koos vertel. Oom Koos
het toe wel kom saampraat en die dominee vra toe: Oom Koos, hoe gaan dit met
die geestelike lewe? Waarop hy antwoord: "Ag dominee, as ek daar in die tuin
is, stoei ek maar met die Here."
Die dominee se reaksie was as volg: "Oom Koos, dis reg so, praat met die
Here as julle alleen daar is, vra vir hom vrae, stort jou hart uit en baklei
selfs met Hom as jy dink dis nodig."
Van daardie dag af was oom Koos bykans elke Sondag in die kerk en sy hele
houding teenoor die kerk het verander. Ek het daardie dag besef dat oom Koos
al die jare die regte idee gehad het van 'n verhouding met die Here, terwyl
ek hom in my hart veroordeel het. Toe hy egter besef dat die kerk hom nie
veroordeel nie, het hy die kerk ontdek.
Miskien moet ek en jy ook meer met die Here in die tuin gaan stap, lekker
saam met Hom kuier en klets, ons vrese en opgewondenheid deel en soms dalk
net in stilte saam met Hom in die aandlug wandel. Ons hoef nie weg te kruip
soos Adam en Eva nie, want na die kruisiging het ons direk toegang tot Hom,
en kan ons Hom daar in die tuin ontmoet. Hy wag reeds daar. ~ Willem Botha,
02/02/2017 |
|
Ek het weer gewonder hoekom dit só sensasioneel is vir
die mensdom as iemand geval of gefaal het, hoekom dit aan die groot klok
gehang word as iemand van formaat ’n misstap begaan het, of hoekom mense wat
nie volgens ’n sekere standaard presteer het nie so uitgehaal kan word op
sosiale media. En wees maar eerlik, baie van ons kry lekker as ’n hoë
profiel ou ’n voetjie verkeerd gesit het. Ek het tot die gevolgtrekking
gekom dat dit dalk daarmee te doen het dat dit myself so bietjie beter laat
voel om te weet ander mense is ook nie perfek nie. Ek dink dit is dalk hoe
die Fariseërs gevoel het toe hulle daai vrou van Joh. 8 op owerspel betrap
het. As iemand anders ’n sonde gedoen en uitgevang is en jy maak ’n bohaai
daaroor, dan is die aandag weg van jou eie sonde en tekortkominge, dan sien
mense dalk nie raak dat jy eintlik ’n witgepleisterde graf is nie. Ai, ek
besef maar net dis mos nie ’n gesindheid wat by Christene pas nie. As ons
iemand sien wat gestruikel het, moet dit eintlik meegevoel en diep simpatie
by ons aanwakker. Ons moenie dadelik na die klippe gryp om die ou te stenig
nie, ons moet liewer medelye betoon, liewer vir die skuldige bid, liewer ’n
hand van vergifnis en aanvaarding uitsteek. Ons moenie saam met almal
veroordeel en verdoem nie; onthou daar kán ’n dag kom dat jy dalk aan die
ontvangkant kan staan en dan sou ons ook eerder genade en liefde wou hê.
“Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
(Joh. 8:7) ~ Wilna Botha, 01/02/2017 |
|
Die Voorspraak
Jesus se openbare lewe het oor 'n tydperk van ongeveer drie jaar gestrek. Ek
kan my indink dat die dissipels in hierdie tyd onafskeidbaar van Hom geraak
het. Maar toe gebeur daar dinge wat net eenvoudig ondenkbaar was, dinge wat
Hy vir hulle gesê het, maar wat hulle nie verstaan het nie, en Hy word
gekruisig. Maar toe Hy opstaan uit die graf en aan hulle verskyn, het hulle
vreugde geen perke geken nie, maar ai, toe vind die hemelvaart plaas,
waarvan hy hulle ook vertel het, en hulle was seker weer platgeslaan.
Ek kan my hulle eensaamheid en gevoel van verlorenheid net nie indink nie.
Maar voor Hy weg is, het Hy hierdie vir hulle gesê:
Joh 16:7 "Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek
weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees,
nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur".
Toe word die Heilig
Gees uitgestort, net soos Hy belowe het. Daarna was niks weer dieselfde nie,
want toe gebeur daar bonatuurlike dinge deur hulle. Mense kom by die
duisende tot bekering, en soos hulle vervolg word en die Woord versprei,
hoor die hele wye wêreld van die Here. Alles deur die krag van die Gees.
Ek en jy word vandag deur dieselfde Gees toegerus, met presies dieselfde
krag. Ons is tot presies dieselfde in staat as die dissipels en het ook
presies dieselfde opdrag. Ons KAN die wêreld verander en ons KAN 'n reuse
verskil maak.
As ons maar net dieselfde passie gehad het... Ja, vernaam ek. ~ Willem
Botha, 31/01/2017 |
|
Ek kyk vanmiddag so bietjie rond op my ou skoolvriende
se Facebook-profiele. Dan lei die een kontak mos gou-gou na die ander en ek
geniet dit om te sien hoe lyk hulle nou en waarmee is hulle besig. Iets baie
interessant het my opgeval en dit is dat almal van hulle geestelike
praatjies maak, bemoediging uit die Woord deel, getuienis gee of aan
Christelike groepe behoort – openlik op Facebook. En ek besef: ons het mos
almal uit Christelike huise gekom. Ons was almal in ’n kerk. Die Bybel en
gebed en Christelike waardes was deel van ons skool. Daai dinge was dus toe
al die tyd nie net gewoonte, nie net gebruike en rituele nie, nie net
praatjies nie. Dit het in almal se harte inslag gevind en hulle lewens vir
altyd verander. Ons is dalk so bietjie soos Timoteus vir wie Paulus geskryf
het: “Ek dink nogal baie aan jou en hoe opreg jy op die Here vertrou. Jy
aard so reg na jou ouma Loïs en jou ma Eunice. Ek weet dat jy ook op die
Here vertrou soos hulle.” (2 Tim 1:5) Dit maak jou natuurlik nie ’n Christen
om in ’n Christelik huis groot te word nie, maar dit gee jou beslis ’n
hengse goeie kans. As jy van kleins af van Jesus se liefde leer en die Bybel
inkry saam met moedersmelk, as jy die voorbeeld van jou ouers sien, as hulle
bly bid vir jou, waarom sal jy nié kies om Jesus die Here van jou lewe te
maak nie? So sê Hand 2:39 “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle
kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom
toe sal roep.” ~ Wilna Botha, 30/01/2017 |
|
Yster slyp yster
Spr 27:17 "Yster slyp yster, vriende vorm mekaar."
Ek het ’n vriend saam met wie ek die afgelope 16 jaar elke Vrydagoggend vir
’n uur kuier. Ons deel nie net geestelike gedagtes nie, maar ook algemene
dinge in ons leef wêrelde wat ons werk, gesinne, stokperdjies, bekommernisse,
ons vrese en natuurlik selfs politiek insluit. So het ek verskeie vriende
wie se insette in my lewe vir my baie belangrik is.
Dis egter nie net buitestaanders wat deel is van hierdie vriendekring nie,
maar my vrou en my kinders is verseker my heel beste vriende en hulle
insette in my lewe is van onskatbare waarde.
Al hierdie dinge vorm my en slyp my, presies soos dit in hierdie teks in
Spreuke beskryf word. Daardie slypwerk aan my is nie altyd lekker nie, want
hoe eerliker hierdie vriende van my is, hoe beter word ek gevorm. Ek is
oortuig dat elke enkele een van hierdie mense my verander het na wie en wat
ek vandag is.
Maar net soos wat hierdie vriende naby aan ons is en ons lewens aanraak, is
die Here ook ons Vriend en het Hy dieselfde rol in ons lewens.
Jer 18:6 "Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei
gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand,
so is julle in my hand, Israel."
Selfs die slypwerk wat die Here doen in my lewe is nie noodwendig altyd
lekker nie, maar dit vorm my na iets beter. Die groot geheim is net om oor
te gee en Hom toe te laat. ~ Willem Botha, 26/01/2017 |
|
As mens in die Bybel lees oor die lewe van Jesus, dan
kry mens net nooit die idee dat Hy op enige manier obsessief of kompulsief
opgetree het nie (wel miskien ’n bietjie toe Hy die tafels in die tempel
omgekeer het!). Hy was nooit oorweldig deur verskeidenheid aktiwiteite,
nooit aan die hardloop na sy volgende afspraak of preek nie. Hy is altyd in
beheer, altyd op tyd, altyd volgens plan. Nooit gejaagd, nooit ontsteld nie.
Altyd net besig om die wil van die Vader te doen. Ek dink bv. aan sy rustige
optrede toe Hy gevange geneem word, of ondervra word... “Vir wie soek julle?”,
vra Hy rustig. “Dit is Ek.” “Doen wat jy gekom het om te doen.” Hy het
sommer ook eers rustig sy tyd geneem om die soldaat se oor te genees wat
Petrus in ’n oomblik van woede afgekap het. Toe daar duisende honger mense
opdaag om na Hom te luister, het Hy nie paniekerig rondgehardloop om vir
almal kos te kry nie. “Bring wat julle het,” en God het voorsien. Hoe kan
ons ook daai rustigheid kry? Kyk wat doen Jesus en hoe leer Hy sy dissipels
om te ontvlug in rus en vrede in, om weer hulle “sanity” terug te kry: “Daar
was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels
selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle
alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie. Hulle het met 'n skuit na
'n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees.” (Mark 6:31-32) –
alleen, een kant, sáám met Jesus. Ek hoor hoe Jesus vir ons sê: “Marta,
Marta (lees gerus jou eie naam hier in), jy is besorg oor baie dinge, maar
net een ding is nodig...” (Luk. 10:41– 42) - daai een ding is om naby die
Here te wees. Om te luister na sy stem. Om jou krag by hom te put. Dis
hoekom Hy sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal
julle rus gee ... ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus kry
vir julle gemoed.” (Matt. 11:28-29) ~ Wilna Botha, 25/01/2017 |
|
Onstuimigheid
Ons is nog maar 'n paar dae in die nuwe jaar, en ek is oortuig dat jou vrede
al 'n paar keer gesteel is. Die oomblik toe die werk begin en die nuus weer
oor die radio kom, is die meeste van ons daardeur geraak. En daarby saam kom
bekommernis en onsekerheid by die werk, finansies wat druk en verhoudinge
wat woel.
Kyk wat sê hierdie teks.
Jes 26:1-4 "Daar kom 'n dag wanneer hierdie lied in Juda gesing sal word:
Ons het 'n sterk stad, God beskerm ons met mure, met 'n vesting. Maak oop
die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God
gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here,
want hulle het hulle vertroue op U gestel. Vertrou altyd op die Here, want
die Here God is 'n veilige toevlug."
"Gee aan hulle vrede en voorspoed Here, want hulle het hulle vertroue op U
gestel." Is dit nie 'n wonderlike gedagte om na te jaag nie? As jy bang is,
vertrou op die Here. As jy verlore voel, vertrou op die Here. As jy
ontstuimig voel, vertrou op die Here. As jy lewensmoeg is, vertrou op die
Here. As jy voel of jy in 'n donker gat is, vertrou op die Here. As jy
magteloos en moedeloos is, vertrou op die Here. As jy arm voel, vertrou op
die Here.
Kom ons sê jy het 'n groot bottel yskoue water in jou yskas en jy is
verskriklik dors en uitgeput van die hitte, dan gaan jy mos onmiddelik
daarvan drink, of hoe? Hoekom sal jy nie daardie bron en uitkoms gebruik nie?
Wel, hierdie Bron van krag, hierdie Een wat die uitkoms gee, hierdie Redder
wat vir jou lief is, is altyd daar. Dis werklik net 'n uitroep, of 'n
versugting vêr, en dis boonop 'n uitnodiging, spesifiek aan jou gerig.
Verrtrou op Hom vir daardie vrede waarna jy dalk nou smag.
Fil 4 : 7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor
julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." ~ Willem Botha,
24/01/2017 |
|
Dis al weer Maandag, week 4 van die jaar! Jy is seker
ook al weer goed op dreef met jou werk en jou projekte vir die jaar. Geniet
jy wat jy doen en is jy nog tevrede met die beroep wat jy beoefen? Is jy
opgewonde oor jou dag of is elke werksdag vir jou ’n straf en wens jy die
tyd om tot die volgende naweek? Toe ek nou die dag Joh. 15:5 lees het ek
besef dat dit ook prakties toegepas kan word in my werksomstandighede en nie
net in my geestelike lewe nie. ”Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,
want sonder My kan julle niks doen nie.” Dis waar: sonder die Here kan ons
niks doen nie. Ook nie ons dagtaak nie. As ons Hom saam met ons in ons
werkplek indra, ons klagtes op Sy lysie aanmeld, Hom betrek by ons
vergaderings, krisisse en vrae en Sy hulp kry om daai moeilike kollega of
baas te hanteer, gaan dit baie vrugte oplewer. Goeie vrugte. Sukses vrugte.
Vreugde vrugte. “God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde
doen. Dit is ’n gawe van God.” (Pred. 5:18) Vat Hom saam werk toe! ~ Wilna
Botha, 23/01/2017 |
|
Hoekom gaar mens so baie goed op? Ek dink nie net aan
huisgoed soos bakke, borde en koppies wat nooit gebruik word of ooit gebruik
gaan word nie, ek dink ook aan skroefies en botteltjies en goetertjies op
die garage se rak. O ja en wat van onafgehandelde projekte, half gebreide
truie of half geboude modelvliegtuigies of half geborduurde lappies wat jy
bêre? Dit gebeur selfs op mens se rekenaar of foon – hordes foto’s, files en
ou goeters waarvan jy al lankal vergeet het en onnodige plek opneem. Ek het
nog iets gesien en dis veral by ouer mense – ’n stapel van 3 pakke
toiletpapier, 10 bakkies margarien in die yskas, 10 buise tandepasta, 3
blikkies konfyt ens., so asof hulle bang is hulle hardloop uit voorraad uit.
Dalk gee dit vir hulle sekerheid dat as die swaar tye kom hulle versorg sal
wees, dalk het hulle al in die verlede ’n tekort aan iets van hierdie goed
gehad en voel hulle “ryk” as die kaste vol is. Dalk is dit vir jou moeilik
om afskeid te neem van goeters, dalk hou dit herinneringe in wat jy nie wil
laat gaan nie, dalk is dit iets wat jy van iemand gekry het en dit voel of
jy daai persoon verraai as jy sy geskenk gaan weggee. “Declutter” en “less
is more" het in ons tyd nogal gewilde idees geword en ek ondersteun dit. As
alles te vol en deurmekaar is, lei dit gou tot frustrasie en onnodige
geïrriteerdheid as jy die hele tyd moet soek en krap, gou-gou gebruik jy
skerp taal en nou-nou lei verhoudings en jou gemoedstoestand daaronder. Ek
dink ons laat toe dat ons besittings ons besit en dit kan net goed wees om
daai band te probeer breek. Ek dink ons moet ons innerlike vrede by die Here
en in sy teenwoordigheid in ons lewens vind en nie in goeters nie. Ek dink
ons moet bietjie meer vrygewig wees met ons besittings, dan sal daar minder
wees om op te gaar. Ek dink ons moet met ons hele hart vertrou dat die Here
se voorsiening voldoende is vir ons. Dit laat my dink aan die gelykenis van
die ryk dwaas (Luk. 12:13-21). Hy was só in sy noppies met alles wat hy
bymekaargemaak het. Hy het sommer nog groter skure gebou om alles in op te
gaar en gedink: nóú gaan ek ophou werk en lekker leef en eet en drink. Maar
die Here het ander planne gehad: “Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis
word en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” Ons lewe moet nie
afhanklik wees van die oorvloed van ons besittings nie sê vers 15, ons moet
ryk wees by God, ons moet skatte in die hemel opgaar. ~ Wilna Botha,
19/01/2017 |
|
Nee
... is nie altyd 'n gewilde antwoord nie. Vernaam nie as ek so seker is dat
ek iets binne God se wil vra nie. Ek bid dan nadat ek dinge goed oordink
het, al die konsekwensies goed oorweeg het en oortuig is dat hierdie die
beste uitweg is. Voorts sê die Bybel dan dat ek moet vra.
Matt 7:8-9 "Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry, en vir
elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun
‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra?”
Maar hier is die probleem. Ons besef nie dat ons 'n slang vra nie want soms
lyk hy nes 'n vis.
Goddank, die Here weet wanneer Hy ons teen onsself moet beskerm. Soms gaan
ons bietjie moet wag om te verstaan hoekom die Here nee gesê het en soms
gaan ons nooit verstaan nie, en soms kan dit dalk voel of die Here selfs
wreed is.
Maar... dikwels gaan jy by die punt kom dat jy ongelooflik dankbaar teenoor
die Here gaan wees vir daardie nee. Soos ek al menigmaal was. Dus, leer maar
om geduldig te wees, God is altyd in beheer. Dankie tog! ~ Willem Botha,
19/01/2017 |
|
Nadat ons gistermiddag tuisgekom het van ons
vakansie-wegbreek af, het ons die Here met verligte harte gedank en geprys
vir Sy beskerming en voorsiening op die pad, dat ons veilig aangekom het en
dat alles by ons huis nog net so was as toe ons hier weg is. Ons het Hom
geëer omdat Hy ons gebede verhoor het deur saam met ons te gaan en onheil
van ons te weerhou. Ek kon egter nie anders as om te dink aan mense wat
teenspoed ervaar het tydens hulle vakansie, ander wat siek geword het, ander
wat in ongelukke was, ander wie se huise skade gely het, of nog ander wat
hulle vakansie moes kortknip vanweë een of ander slegte nuus van die huis af.
Hulle het tog seker ook gebid voor hulle weg is? Hulle het tog seker ook
gehoop dat hulle sonder voorval hulle vakansie kon geniet? Ek het skoon
skuldig teenoor hulle gevoel dat die Here ons gebede verhoor het en nie
hulle s’n nie. Hoe kan dit dan werk Here, wou ek weet. Het ons gebede meer
krag gehad? Het ons met groter geloof gevra? Is ons beter mense? Het ons
enige iets gedoen om dit te verdien? Nee, nee, nee en nee! Toe ek later
hoofstuk 38-41 van Job lees het ek maar net weer besef dat ons met ons beste
redenasies en verduidelikings nie die Here kan verduidelik of sy dade ten
volle kan verstaan nie, dat ons maar ons vrae kan vra, maar uiteindelik moet
besef dat niks buite die Here se beheer gebeur nie. “Niemand in die hemel of
op die aarde het soveel wysheid en insig soos God nie. Wie kan dit waag om
God se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar?
Wie ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te
doen? Is daar iemand wat vir God ’n guns bewys het, sodat Hy iets aan Hom
moet terugdoen? Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand.
Alles is daar om sy Naam groot te maak. Vir altyd.” (Rom 11:33-36, Die
Boodskap) Prys Sy Naam. ~ Wilna Botha, 17/01/2017 |
|
In
die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal
onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het
oor die waters gesweef. Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was
lig. God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en
die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. ~ Willem Botha,
15/01/2017 |
|
Ek
sien hierdie plaatjie op die strand met die woorde van Ps. 93:4 daarop:
"Mightier than the thunders of many waves, mightier than the waves of the
sea, the Lord on high is mighty" Om by die see te wees of enige plek in die
natuur maak mens altyd meer bewus van die Here se almag en grootheid, van
die wonder van die skepping, van sy betrokkenheid, van sy beheer en
voorsiening. Om vir die see te kyk, hoe die golwe aanhou rol en breek en
skuim, die getye kom en gaan, en hoe die water binne sy perke bly, laat mens
in verwondering en bevestig dat ons God gróót is. Só groot dat Hy die waters
in die holte van sy hand afgemeet het, die grond van die aarde met 'n
maatbeker afgemeet het en die berge en heuwels met 'n skaal geweeg het (Jes
40:12). Só groot dat Hy jou uit die die golwe en maalkolke en gevare van die
lewe kan oplig en jou in die holte van sy hand vashou. "God is always
greater than all of our troubles" - so is dit gegraveer op die rots. Mag die
Here vandag daai waarheid vir altyd in jou hart graveer. ~ Wilna Botha,
12/01/2017 |
|
Ons is tans by die Suidkus op die
strand en ek kyk na die sand, en ek wonder, hoeveel sandkorrels is in my
hand? Miskien sal ek dit getel kan kry as ek laaaaank daarmee besig bly. En
hoeveel korrels is in ‘n kind se strand emmertjie? Daar is ‘n getal en dit
kan dalk akkuraat getel word. Maar, hoeveel sandkorrels is in ‘n kruiwa, of
op ‘n 1 ton bakkie? Nou begin hierdie syfer enorm groot word. Maar daar ís
‘n akkurate syfer. Daar moet net nie ‘n paar afwaai nie... Soos ek oor die
strand kyk besef ek, hier is ‘n syfer wat “mind boggling” groot raak. Toe
dink ek: die sand op al die strande op aarde, al die duine, onder die see,
tussen jou paveiselstene, alles, alles bymekaargetel, HET ‘n getal. ‘n Baie
akkurate getal. En God ken daardie getal. Hy weet presies hoeveel Hy gemaak
het, tot op die laaste syfer. Daar is ‘n “eindige” getal. Wiskundiges van
die Universiteit van Hawai reken die sand op die strande van die wêreld kan
omtrent 75 X 1017 (dit is 75 met 17 nulle agter!) wees. Dit is ‘n
verskriklike getal! Sewe quintillion vyf quadrillion sandkorrels – en dit
net op die strande. Ons weet nie hoeveel nie.... maar God wéét!
Jy kan bereken hoeveel keer jy al
gaan slaap het in die aand, omtrent hoe ver jy al met ‘n motor gery het,
hoeveel koekies seep jy al opgebruik het, hoeveel happe kos jy al geneem
het, hoeveel keer jou hart al geklop het, ens. ens. Ons kan dit min of meer,
op ‘n gemiddeld probeer uitwerk, maar God weet die presiese getal!
Hy weet alles. Hoeveel hare is op
jou kop? Dis nou as jy nog so gelukkig is om hare te hê! ‘n Gemiddelde mens
het ongeveer 100 000 hare, maar dit kan soveel as 200 000 wees. Rooikoppe
het die minste hare – so 90 000, en blondines soveel as 140 000. Die
hoeveelheid hare wat egter op hierdie oomblik op jou kop is, is ‘n vaste
getal, en God ken daardie getal! “Van julle is selfs die hare op julle kop
almal getel” (Matt 10:36) Hoe hou jy daarvan? Daar is nou op hierdie oomblik
‘n syfer, en God ken daardie syfer, en die oomblik as een uitval, en die
syfer verander, dan weet God dit.
Miskien moet jy net vir 'n oomblik
dink hoe spesiaal jy is. Jesus weet presies vir hoeveel mense Hy aan die
kruis gesterf het. Hy weet presies hoeveel gered sal wees en hoeveel nie.
En... jou naam staan in Sy handpalms gegraveer. Dit sê seker iets, of hoe? ~
Willem Botha, 10/01/2017 |
|
Dis darem maar baie lekker om te verjaar en dít so kort
na Nuwejaar. In die afgelope week het ek die woorde “geluk”, “seën”,
“voorspoed” oor en oor gehoor. Geliefdes, bekendes en selfs effe onbekendes
stuur wense vir goedheid en guns, vrede, vreugde en liefde, goeie gesondheid
en ’n lang lewe, rykdom, wysheid, kleurvolheid, geestelike groei, antwoorde
op gebed, drome wat waar word, feestelikheid, vrolikheid en baie bederfies.
Dan hoop hulle ek sal emmers vol daarvan ontvang, dat dit in dubbele maat,
of in tonne na my toe sal kom, dat dit op my sal neerreën en dat dit my soos
’n kombers sal toevou. Ek glo dis wense wat opreg uitgespreek geword en ek
vat elkeen van daai seëninge as my “kroon” vir die jaar vorentoe. “U kroon
die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed.” (Ps. 65:12)
Ek hoop dat jou jaar ook gekroon sal wees met goeie gawes uit die Here se
hand. ~ Wilna Botha, 08/01/2017 |
|
Ek is nog een van die mense wat ’n dagboek gebruik. Ek
hou daarvan om al die afsprake en take en verjaarsdae neer te skryf en af te
merk as dit afgehandel is. Ek blaai vanoggend so deur die vol geskryfde 2016
een en my oog val op afsprake wat uitstekend afgeloop het, opwindende
uitstappies, heerlike naweekwegbreke, ’n klomp take wat suksesvol afgehandel
is. Ek sien egter ook ’n paar inskrywings wat so ’n koue beklemming om my
hart laat – geleenthede wat hartseer was, afsprake wat sleg uitgedraai het,
so hier en daar ook ’n onafgehandelde taak. Vir ’n oomblik wens ek ek kan
daai bladsye van die dagboek uitskeur maar besef tog dat die herinnering aan
daardie dae my ook herinner dat die Here ons daardeur gedra het, dat Sy
genade en meegevoel, Sy liefde en deernis, Sy vergifnis en vrede bo-oor
daardie bladsye geskryf staan en dat dit ook die rede is waarom ek met
vertroue en hoop kans sien om 2017 se dagboek oop te maak. Ek kies om nie
bang te wees vir die leë bladsye wat voorlê nie. Ek bely dat die Here is
beheer is. Ek sing: op U alleen vertrou ek Heer. Ek hoor Hy sê: “Moenie
bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek
versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes.
41:10) ~ Wilna Botha, 04/01/2017 |
|
2017
Op hierdie dag, 3 Januarie, is 1% van 2017 agter ons. Jy sal saamstem dat
ons werklik niks van hierdie jaar kan sê nie, want sy groot donker onbekende
lê nog voor ons.
So sit ek Oujaarsaand in die kerk en tob oor die jaar wat verby is, en die
jaar wat voorlê. Ek kry toe 'n beeld van 2016 in my kop wat so lyk:
(2016 - besigheid wat goed verloop het, goeie gesondheid vir ons gesin,
aangename vakansie gehad en veranderinge in ons huishouding. Maar ook dood
in die familie, asook die buurvrou, 'n vriend, nog 'n kennis en nog 'n paar
ander mense). Dus, na 365 dae is alles agter ons en daar was 'n mengsel van
goed en sleg.
Maar 2017 lyk net so (2017 - ???). Ja daar is hoop, aspirasies, planne,
verwagtinge, maar ook dalk bekommernis, onsekerheid en vrees.
Nou, sou jy graag die detail van "???" wou weet? Sou jy graag wil hê God
moet dit aan jou openbaar? Wil jy enige van daardie detail ken en SO die
jaar ingaan? Nee my vriend, jy wil nie weet nie, liewer nie.
Daarom, as jy wil weet hoe die jaar lyk, dit lyk as volg:
(2017 - God). Dis al, heeltemal al. Al wat ons hoegenaamd verseker weet is
dat Hy reeds daar is. Hy is in jou moontlike swaarkry, jou onsekerheid, jou
vrese, jou blydskap, jou probleme, jou huwelik en jou werk. Hy is in ALLES,
en deel van ALLES!
Vir my is dit genoeg. Ek is bereid om hierdie onsekerheid binne te gaan en
elke vreugde of probleem saam met Hom aan te pak. Ek is so jammer vir mense
wie se lewe net uit (2017 - ) bestaan. Ek en jy het regtig 'n voorsprong
a.g.v. die feit dat God reeds elke dag van 2017 vir ons wag.
Ek en Wilna wens vir jou en jou mense 'n geseënde en voorspoedige 2017 toe.
Dankie dat ons hierdie pad saam met jou kan stap. ~ Willem Botha, 03/01/2017 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|