|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2018
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Kersfees 2018
Geseënde Kersfees, Christusfees, Happy Holidays, Seasons greetings, rustyd,
familietyd, vakansietyd, mal winkels, natgeswete kamma Kersvaders in lawwe
rooi pakkies, opgewonde kinders, hartseer kinders wat geen vreugde vind
hierin nie, mense wat aanstoot neem as andere Kersfees vier, mense wat opreg
Kersfees vier (verkeerde datum en al) omdat hulle bly is oor die geboorte
van Jesus ons Verlosser, groot Kersetes, mense vir wie dit niks beteken nie, mense
vir wie dit 'n hoogtepunt is, mense wat intense hartseer beleef omdat 'n
geliefde intussen weggeval het.
Dis Kersfees 2018 en elke mens in ons land beleef dit op een of ander manier.
Ek self het al vele daarvan beleef, ek het al baie mense se opinies gehoor
en ek respekteer elke enkele mens se mening, en ek hoop die meeste mense
doen dit. Vir my en my gesin bly dit telkens 'n wonderlike viering van hoop
en die liefde van God. Die gedagte dat 'n spesiale Persoon gekom het om my
(van alle mense) te verlos van die ewige dood is elke jaar baie groot in my
lewe. En ja, die lawwe goed wat daarmee geassosieer word in hierdie tyd
sleur my effe mee, maar dit kan nooit die kern van die Christusfees oorheers
nie. Dit bly steeds groter as wat my verstand kan verwerk.
Daarom wens ek en Wilna vir jou 'n werklik geseënde Christusfees toe as jy
kies om dit ook te vier. Mag alles wat jy en jou geliefdes hiervan maak, jou
baie diep in jou hart aanraak en mag Jesus weereens vir jou nuwe betekenis
kry.
Dankie dat jy weer en weer kom saamkuier het op ons groepie hierdie jaar.
Ons hervat ons boodskappe weer op 8 Januarie.
Geseënde Kersfees! ~ Willem Botha, 21/12/2018 |
|
“Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die
volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit
jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê
die Here, nie nou nie en nooit nie.” (Jes. 59:21) Hier is God se ooreenkoms
met ons in een enkele sin. ’n Ooreenkoms wat ewig en ewig vasstaan, ’n
ooreenkoms van genade, ’n ooreenkoms waar Hy sy hand na my en jou én ons
nageslag uitsteek. Kyk, Hy sê nie meer soos vroeër: ás julle dit en dan doen,
dan sal Ek... nie. Hy sê slegs: wat Hom betref gee Hy sy Gees aan ons en sy
woorde in ons hart en in ons mond. Hy gee Homself aan ons, Hy kom woon in
ons deur Sy Gees. Hy verbind Homself aan ons sonder teenprestasie van ons
kant af. Hy verbind Homself aan ons ten spyte van ons sonde. Die
sonde-skeiding waarvan Hy vroeër in Jes. 59 praat is weg. Jesus het dit kom
afbreek aan die kruis. Dink ’n bietjie hieroor na wanneer jy een van die dae
Kersfees vier: Met die koms van Jesus het hierdie ewige verbond van God vir
ons ’n werklikheid geword. Jesus is die bewys! Mag die Gees dit in jou hart
bevestig. ~ Wilna Botha, 19/12/2018 |
|
Tyd
Pred. 3:1 "Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy
tyd..."
Ons ken hierdie gedeelte oor tyd baie goed en ons assosieer ook goed met dit.
Daar is 'n tyd vir alles. So kan ons ook sê dat die meeste van ons nou 'n
rustyd binnegaan. Hoe kosbaar is tyd nie, want elke oomblik wat verby is, is
vir ewig verby. Tyd gaan soos 'n gedagte verby en daarmee saam gaan talle
geleenthede ook verby.
Maar hoe erg is dit nie, dat sommige mense geen respek het vir ander se tyd
nie. Daar is mense wat om die dood nie betyds kan wees nie en wat niks
daarvan dink om ander te laat wag nie. Dis regtig baie selfsugtig!
Nou wonder ek hoe die Here daaroor voel. Jy sien, as ons in nood verkeer, of
moeilikheid op ons pad gekom het, verwag ons van die Here om ONMIDDELLIK te
reageer, terwyl ons self dit net nooit regkry nie. Voorts wonder ek hoekom
ons nooit tyd het vir die dinge wat die Here van ons verwag nie, maar ons
het tyd vir enigiets anders. Kom ek praat nou net namens myself as ek sê dat
ek selde regtig tyd het vir die Here, tyd om net saam met Hom te spandeer en
alles om my te laat wag.
Dit vat partykeer so min tyd om 'n groot verskil aan iemand se lewe te maak,
maar ons het nie tyd nie. Onthou jy die gedeelte wat Jesus sê jy het iets
vir hom gedoen as jy dit vir die geringstes gedoen het? Matt. 25:34-40.
Ons is so belangrik vir die Here, dat Hy AL Sy tyd en aandag aan my en jou
spandeer, dag en nag, en Hy is nooit te besig nie. Ons is inderdaad sy
eerste priori(tyd). ~ Willem Botha, 18/12/2018 |
|
“Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n
tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” (Jes.
58:11) Watter mooi belofte van seën en versorging is hierdie nie. Kom ons
hou daaraan vas. Die Here sal jou lei en vir jou sorg, selfs in moeilike tye
(of dalk moet ons eerder sê: juis in moeilike tye). Hy sal jou vir jou krag
en deursettingsvermoë gee vir elke dag – sy krag kom juis tot volle werking
wanneer jy swak is, sê 2 Kor. 12:9. Sy genade sal oorvloedig wees, sy seën
in jou lewe sal volop wees sodat daar ook genoeg sal wees om oor te stroom
na ander mense. Die fontein van die Here se goedheid en guns sal nooit
opdroog nie. Mag dit jou altyd verfris en voed en mag jou lewenstuin ’n oase
van kleure en lieflike geure wees. ~ Wilna Botha, 13/12/2018 |
|
Woede
Daar is ongelooflik baie woede in hierdie wêreld. Ek begin dink almal haat
mekaar, want een skewe woord ontlok die ergste van woede waaraan jy kan
dink. Broer teen broer, buurman teen buurman, man teen sy vrou, padwoede,
politieke woede, rassehaat, noem dit maar op. Dit lyk my die wêreld is al
soos 'n snaar gespan en kan enige oomblik breek.
Sommer vroeg-vroeg het Kain vir Abel doodgeslaan, die Here se volk was
konstant in oorloë betrokke. Hemel, waar is die vrede? Ek was nog nooit in
my lewe so bang vir hierdie dinge as nou nie. Waar is die vrede? Is daar 'n
land in die wêreld waar dit net goed gaan?
Gal. 5:19 - 21a "Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend:
onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap,
haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap,
uitspattigheid en al dergelike dinge."
Daar is die hele probleem vasgevat, ons leef presies soos hierdie woorde sê.
Ja ek ook.
Kom ons almal (ja, ALMAL) vra vir die Here om vir ons die vrug van die Gees
te gee.
Gal. 5:22 - 23 "Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde,
vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en
selfbeheersing."
Ai, watse wonderlike plek sou die wêreld nie wees nie... ~ Willem Botha,
13/12/2018 |
|
“Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is.”
(Jes. 57:19) Hierdie klink amper net soos die Engelekoor wat Jesus se
geboorte aangekondig het met: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op
aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14) Christus ís ons
vrede, sê Ef. 2:14. Toe Jesus gekom het, het vrede gekom. Vrede vir almal.
Vrede wat mens se verstand te bowe gaan, want dit is nie noodwendig die
afwesigheid van vrede tussen mense en volke nie, dis nie noodwendig die
afwesigheid van oorloë en onmin tussen mense nie, dit is die vrede wat daar
tussen God en ons is omdat Jesus se dood versoening gebring het, dit is die
volkome herstel van die verhouding tussen ons en God. Christus se vrede is
die salige wete dat ons van ons sondes verlos is. Christus se vrede is die
lig wat wat alle donker in ons harte verdryf. Christus se vrede is die
verligte gevoel wat ons kan hê omdat Hy in beheer is van alles. Christus se
vrede is die tevredenheid dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, dat ons
nooit alleen is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Vrede vir julle
almal! ~ Wilna Botha, 11/12/2018 |
|
ONDRAAGLIKE LASTE
Christenskap word soms ‘n komplekse storie. Hoe meer mense, hoe meer opinies.
So word ons as Christene dan ook soms belas met ander se gelowe en gebruike,
tot op ‘n punt waar Christenskap net eenvoudig nie meer lekker is nie. Die
laste word soms eenvoudig net te swaar.
Lukas 11:37-39 "Net toe Jesus klaar gepraat het, het 'n Fariseër Hom
uitgenooi om by hom te kom eet. Hy het toe in sy huis ingegaan en aan tafel
plek ingeneem. Die Fariseër was verwonderd toe hy sien dat Jesus nie die
gebruik nagekom het om voor die ete eers hande te was nie. Maar die Here sê
vir hom: “Ja, julle Fariseërs! Julle maak die buitekant van bekers en borde
skoon, maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid. Daarop
antwoord Hy: “Julle wetgeleerdes! Ellende wag vir julle ook, want julle laai
ondraaglike laste op die mense, en self verroer julle geen vinger om die
laste te dra nie".
Ek sien op Facebook
'n debat wat gevoer word oor tatoeëermerke, en of dit teen God se wil is, al
dan nie. Natuurlik word tekste aangehaal, waarvan die volgende een baie
gewild is.
Lev. 19 : 27 - 28 "Julle mag nie heidense rougebruike navolg deur die hare
voor die ore en die wangbaard te knip of deur snye en tatoeëermerke op julle
liggame te maak nie. Ek is die Here."
Ek sien toe dat die tweede deel graag aangehaal word, maar die eerste deel
word totaal geïgnoreer. Jy mag nie tatoeëermerke aanbring nie, punt. So sê
die Bybel, maar in dieselfde teks sê dit dat jy (seker dan net mans), nie
die wangbaarde mag afskeer nie, punt. Nou wonder ek maar net, ek sien min
mans met wangbaarde. (Terloops, nie ek of enige van my gesin het tattoos nie
en ek redeneer ook nie daaroor nie).
Hoe meer ek toe in Levitikus lees, hoe meer besef ek hoe wreed daardie reëls
is. Ek het egter ook besef dat Jesus ons vry moes kom maak het van hierdie
wettiese en godsdienstige reëls.
Paulus slaan die spyker op die kop met hierdie woorde:-
Gal. 4:9 "Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle
ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige
wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?"
Goddank ons is vry van soveel dinge. ~ Willem Botha, 10/12/2018 |
|
Cul de sac...
Doodloopstraat. As jy by so 'n padteken kom weet jy daar is nêrens heen om
te gaan nie, dis net omdraai of niks. Maar soms kom ons in hierdie lewe in
omstandighede wat maak dat daar nie links, regs, vorentoe of agtertoe gegaan
kan word nie en dis uiters vreesaanjaend. Geldsake, werk verloor, huwelik op
die rotse of sommer net omstandighede wat onhoudbaar geword het.
Dis wat met die Israeliete gebeur het met die uittog uit Egipte toe hulle
voor die Rooi see te staan kom. Daar staan in die Bybel hulle was bevrees,
want die Egiptenare was kort op hulle hakke, maar die Here het reeds 'n plan
gehad.
Exodus 14 : 21 - 22 "Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here
het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die
water oopgekloof en die see daar drooggelê is. Die Israeliete het op droë
grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos 'n
muur gestaan."
Dit wat totaal onmoontlik was, waaraan niemand kon dink nie en wat op
sigself ook vreesaanjaend was, het die Here gedoen. Kan jy dink jy stap deur
die see en die water staan soos mure aan weerskante? Wel, dit is hoe groot
en "onmoontlik" die Here dinge doen.
Dalk staan jy, of iemand wat jy ken so voor die spreekwoordelike Rooi see en
jy weet nie watter kant toe nie, en omdraai is geen opsie nie. Dan moet jy
maar vorentoe! Destyds met die Groot Trek het die boere net vorentoe gebeur,
ten spyt van wat voorgelê het, maar hulle het heel anderkant uitgekom. Moses
en die volk het ook hulle bestemming bereik. So sal ons ook, ons moet net
vorentoe beur, altyd vorentoe.
Die Here is daar, hy wag daar en Hy het reeds die wonderwerke in plek. Ons
kan maar net soos Moses-hulle in geloof voortbeur en wag vir die see om oop
te kloof. ~ Willem Botha, 06/12/2018 |
|
“... Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee
nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.” (Jes.
57:15) Dis dwarsdeur die Bybel duidelik dat swakkes, armes, weduwees,
verlorenes, sondaars, verwerptes, gestremdes vir die Here belangrik is. Kyk
maar by wie het Jesus gaan stilstaan: siekes, tollenaars, prostitute,
melaatses. Dis ook dié dat Hy in Matt. 25: 35-46 praat van die “geringstes”
en Homself as’t ware gelykstel aan hulle: “Vir sovêr julle dit aan een van
die geringste van hierdie broers van My gedoen het , het julle dit aan My
gedoen.” Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van
die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle 'n
ereplek, só sê 1 Sam 2:8. So, ongeag van waar jy jou bevind in die sosiale
spektrum - die Here gee nuwe krag. Die Here herlaai jou binnekant. Die Here
se helpende, reddende hand is dáár waar dinge donker en depressief is. Dáár
waar uitbranding en radeloosheid en hopeloosheid en moedeloosheid ingetree
het, waar uitkoms onmoontlik lyk. Mag jy vandag beleef hoedat die Here se
arms onder jou is, hoedat Hy jou oplig en op ’n hoë Rots neersit. ~ Wilna
Botha, 05/12/2018 |
|
Waarheid
Wat is waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid, en niks anders as
die waarheid nie? Is die volle waarheid van elke saak moontlik om te meet?
Hoekom hou ons nie altyd van die volle waarheid nie? Ja jitte, leuens is ’n
lelike ding. Onwaarheid, lieg, verswyging van feite, jok, wit leuens. Wit
leuentjie? Is dit lieg? Dis mos sommer so 'n onskuldige storietjie; dis
darem nie te erg as ons dit kwytraak nie, of hoe? Las so vier duim by die
vis aan wat ons gevang het. Sny so 'n paar honderd rand af van die geld wat
ons gesteel het. Het jy ook onlangs gelieg? Hoeveel keer hierdie jaar?
Gister, dalk vanoggend? Gelieg by die werk, vir die werk, oor die werk, op
jou verlofvorm? Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig! Wie van ons kan sê
dat ons altyd, onomwonde in die waarheid wandel?
Spr. 6:12-13: "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is
om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie,
met die vingers tekens te gee."
Hoe wonderlik sou dit nie wees as elke mens op aarde aan die volle waarheid
kon vashou en dit uitleef nie? Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, en
daar sou baie meer vrede wees as wat daar nou is. Maar o wee, toe besef ek
iets anders. As ek vir vroulief sou vra of ek dik lyk, sou sy moes sê: Ja,
maggies man, as jy jou kop intrek kan jy rol! Nou ja, ek weet nie wat om met
daardie een te maak nie.
Dit lyk my in sommige beroepe word die waarheid maar dun gesmeer, anders
werk dinge nie mooi uit nie. Ek het eendag gewonder hoekom geen mans, jonk
of oud, en geen jonger dames dan ooit motors besit nie, want elke
tweedehandse motor wat jy wil aanskaf het aan 'n ou tannie behoort! En
terloops, sy het saans die motor se deure oop gelos dat die rubbers nie hard
word nie. Sê 'n advokaat eendag tong in die kies: Jy is onskuldig tot jou
geld op is...
Ja ons spot met sommige beroepe, maar daar is nie een enkele beroep wat vry
van leuens is nie, want hoe op aarde kan 'n beroep jok? Dis die mens wat jok.
Ongelukkig jok ons vir die Here ook. Ek dink ons (laat ek eerder net van
myself praat), jok daagliks vir die Here, en dis maklik want niemand anders
hoor dit nie. Mag Hy ons ook dit vergewe. ~Willem Botha, 04/12/2018 |
|
“’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here
aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie ... Ek
sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die
nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê
en om my dienaars te wees ... na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle
vreugde gee ... hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees.”(Jes.
56:3-7) As jy dalk al ooit gewonder het of al die beloftes wat gemaak word
aan Israel ook vir jou geld en of alles wat die Here oor sy volk sê op jou
van toepassing kan wees, dan is die antwoord in hierdie Bybel gedeelte. Die
“nuwe” Israel, is almal wat die Here dien en sy Naam lief het! Dis ek en jy
ook! Ef. 1:11 sê dat ons deur Christus deel geword het van God se volk. Ons
lees ook in Hand. 10:35 dat God mense uit enige volk, wat Hom vereer en doen
wat reg is, aanneem as Sy volk. Daar word vêrder in die Bybel gepraat van
hoe ons as wilde olyf tussen die ander takke op die mak olyf ingeënt is.
Omdat ons glo, is ons daar ingeënt en is ons deel van die ware Israel. (Lees
Rom 11). “Deur hierdie geloof in Christus Jesus, is julle nou almal kinders
van God ... nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van
God.”(Gal 3:26 & 29) Ek hoop hierdie is vir jou ook goeie nuus! ~Wilna Botha,
03/12/2018 |
|
Ek is lief vir jou...
Ek glo nie daar is vyf kragtiger woorde wat jy agtermekaar kan sit en
uitspreek nie. Ek is ook in my hart oortuig dat daar GEEN mens op aarde is
wat nie dit wil hoor nie. Daar is soveel krag, emosie, gevoel, waarde en
streling in hierdie woorde, dat geen ander woorde dit kan vervang nie.
Hierdie woorde moet elke enkele mens elke dag hoor, en uitspreek. ELKE DAG!
Daar mag nie 'n dag verbygaan wat 'n kind (in besonder), dit nie hoor nie.
Hierdie vyf woorde bring sekuriteit, dit werk diep in 'n hart, dit sê 'n
miljoen keer meer as net dit wat dit sê en dit bring harte baie naby aan
mekaar. Jy kan amper sê dis net so belangrik as kos, want dis voedsaam vir
die siel.
Ek wonder hoekom mense dit so moeilik sê, want die reaksie op daardie woorde
is net so lekker as om dit te sê. Sommige mense sal sê jy sê dit net uit
gewoonte, maar dis een van die beste gewoontes wat mens kan aanleer. Hoeveel
huwelike sou nie net soveel sterker gewees het as hiedie paar woorde gereeld
gesê is nie.
Baie ouers is so afwesig, dat hulle makliker vyf ander woorde gebruik: "Hier
is vir jou geld". Nee, geld kan dit nie koop nie. 'n Jong vrou sê nou die
dag dat haar pa nooit vir haar sê hy is lief vir haar nie. Sy was so
hartseer, en het gesê dat sy net geleer het om daarmee saam te leef. Dit
klink amper soos 'n misdaad.
Dis so maklik, doen dit net eenkeer, dan word dit toenemend makliker. Ek
hoop regtig dat elkeen wat hier lees dit gereeld sê, en hoor. 'n SMS is
makliker, maar ek glo die uitspreek van die woorde is kragtiger.
1Kor. 13:13 "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die
grootste hiervan is die liefde!" ~ Willem Botha, 29/11/2018 |
|
“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit
sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek
gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes. 55:11)
Só is dit! God se woord staan vas. God se woord is waar. God se woord is ’n
lewende woord. God se woord bring verandering. God se woord gee hoop en krag.
Of dit nou die woord is wat die profeet Jesaja verkondig het, of die woorde
in enige vertaling van die Bybel, of die woorde van ’n preek of boodskapper
van die Here, of die woorde wat die Here in jou hart en gedagtes plant – as
dit deur die Gees van die Here geïnspireer is, sal dit doen waarvoor God dit
gestuur het. Dit sal nie net leë woorde wees nie. Dit sal nie onbenullig
wees nie. Dit sal nie in die wind wegwaai nie. Dit sal nie vernietig of
uitgevee kan word nie. God se woord sal altyd vrug oplewer. God se woord sal
altyd krag hê. Vers 10 sê God se woorde is soos reën wat die aarde deurweek
en plante laat bot en vrugte dra, sodat daar weer saad is om te saai en kos
is om te eet. Nou kan ek en jy ook met vrymoedigheid van God se woorde
uitdeel en versprei, met die sekerheid dat God dit op sy tyd sal laat groei
en vrug oplewer in mense se harte. ~ Wilna Botha, 28/11/2018 |
|
Daai strepie
Op my grafsteen sal daar seker so iets staan: "RIP 1959 – 2039. Hier rus
Willem". Dis nou as ek 80 haal. Wat maak jy met jou strepie? Dit is nou
daardie strepie tussen die twee datums op jou grafsteen. Wat staan alles
geskryf in daardie enkele ou strepie? Jy het absoluut geen invloed gehad op
die eerste datum nie, maar jy het wel 'n invloed op die tweede datum,
afhangende van hoe jy leef. Nou, die probleem lê by daardie strepie tussen
die twee datums. Sommige mense werk naarstiglik daaraan om daardie strepie
so lank en sinvol as moontlik te maak, ander leef weer so asof hulle hom so
kort as moontlik wil hê, en baie gee net nie 'n blou duit om nie. Nou ja,
die Bybel sê alles wat jy nodig het om te sorg dat daardie strepie so sinvol
as moontlik sal wees, ongeag van sy lengte.
Spr. 14:12 & Spr. 16:25 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk,
maar die uiteinde daarvan is die dood. " Die lewenswyse van party mense is
duister. Mense leef roekeloos, het geen agting vir die dood nie, gee nie om
wat hulle doen nie, tart selfs die dood. Vele tart sommer die Here ook. Ja,
dit is inderdaad so dat die mens geskep is met die wete dat die dood kom.
Gen 2 : 19b “Stof is jy, en jy sal weer stof word”. God het die mens met ‘n
bepaalde lewensverwagting geskep. Daar staan geskrywe dat jy 70 jaar oud sal
word, en as jy sterk is 80. Almal wat gebore is, sal weer ‘n aardse dood
sterf. Maar wat verwag die Here van ons in hierdie relatiewe kort tyd van
70, 80 jaar? Die volgende bekende woorde kom onwillekeurig by my op: "Wat ek
is, is net genade, wat ek het, is net geleen." So ook die volgende bekende
lied: "Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet...". Ek het al
so baie oor hierdie dinge gedink en ek vra myself die volgende dinge af:-
Leef ek net vir myself? Maak ek 'n verskil aan ander? Wat is my nalatenskap?
Wat sal my gesin sê van hoe ek tydens hierdie strepie geleef het? Het my
lewe hier na die einde toe 'n stippellyn geword? Leef nog net so nou en dan.
Daardie strepie stop nie as ons hier op aarde sterf nie, hy hou aan tot in
ewigheid. Maar die besluit waar daardie strepie sal aanhou voortleef word
voor die laaste datum bepaal, op ons eie keuse. Dit gaan óf baie sleg, óf
baie lekker wees. Ek weet presies waar ek wil wees! ~ Willem Botha |
|
“Kom almal wat dors
is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en
eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk ... Gee
aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe” (Jes. 55:1-3) Hier is
een van die Here se vele uitnodigings aan ons: kom, drink, eet en lewe!
Almal. Verniet. Sonder dat ons dit verdien. |
Wie is uitgenooi? Dié
wat dors en honger is vir die Here se teenwoordigheid in hulle lewe, dié wie
se siel smag na die Here, die wat weet dat hulle afhanklik is van die Here,
dié wat weet dat hulle God se genade nie verdien nie, dié wat geestelik arm
voel, dié wat soos Dawid sug: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek
smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water.” (Ps. 63:2)
Wat word vir ons aangebied in die uitnodiging? Water vir lewe, herstel en
verfrissing, melk vir basiese voeding, wyn vir pret en plesier en om die
lewe te geniet. By die Here is álles wat ons nodig het.
Wat moet ons doen om
dit alles te ontvang? Kom, koop en eet. Kom soos jy is, koop sonder geld
want Jesus het reeds betaal, eet en maak dit alles deel van jou bestaan,
leef in oorwinning en in die Here se oorvloed van geestelike gawes en
seëninge. ~ Wilna Botha, 26/11/2018 |
|
Elkeen wat die oorwinning behaal ...
Ons is almal in hierdie geestelike stryd gewikkel om "die oorwinning" te
behaal, om deur hierdie moeilike wêreld met al sy boosheid en swaarkry te
kom, om tog uiteindelik van aangesig tot aangesig met God te staan, en dan
om ons plekkie in die hemel in te neem. Die Bybel se voorskrifte is duidelik
en eenvoudig, as jy vir Jesus as jou Saligmaker aangeneem het, jou sondes
voor Hom bely en glo dat Hy jou gered het, het jy die oorwinning behaal. Jy
word nie eers gered as jy dood is nie, jy word gered as jy vir Jesus
aangeneem het, daarna is die dood slegs die oorgang van hierdie lewe na die
volgende lewe. Joh. 6:47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die
ewige lewe."
Toe my pa oorlede is in 2004, het hy gesê hy is bang vir die oorgang, want
hy weet nie hoe lyk dit aan die anderkant nie. Ek glo nie hy kon glo wat vir
hom gewag het nie, want Hy het ook die oorwinning behaal. Hy het hierdie
volgende dinge gekry. Lees hierdie volgende tekste oor diegene wat die
oorwinning behaal in Openbaring:
Open, 2:7 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die
boom van die lewe, wat in die paradys van God is."
Open. 2:17 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge
manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam
daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry."
Open. 2:28 "Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal
Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee."
Open. 3:5 "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal
nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader
en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort."
Open. 3:21 "Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon
laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op
sy troon gaan sit het."
Besef jy hoe onbeskryflik groot hierdie beloning is? Is hierdie tekste nie
'n wonderlike beskrywing van dit wat op ons wag nie?
Hierdie is vir my so 'n wonderlike troos as ek dink aan 'n geliefde wat die
Here aangeneem het, en tot sterwe kom. As iemand wat vir jou kosbaar was
hierdie lewe agterlaat is dit vir jou vreeslik sleg, maar om al hierdie
dinge as 'n beloning te kry, moet wonderlik wees. Dis iets om na uit te sien.
~ Willem Botha, 22/11/2018 |
|
“Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde
vir jou sal nooit verdwyn nie ... sê die Here wat jou liefhet” (Jes 54:10)
Hier is weer een van daai verse in Jesaja wat mens net weer en weer wil lees
en diep in jou hart bêre vir daai dae wanneer dit voel of jy alleen staan,
wanneer niks uitwerk nie, wanneer jy hartseer en verlore voel, wanneer die
mat van sekuriteit en geluk onder jou uitgepluk is, wanneer dit voel of God
vêr is. Moenie vergeet nie: niks kan jou van Sy liefde skei nie, sê Rom
8:35. Niks kan Sy liefde uitvee of verminder nie. Nie swaarkry, probleme,
vervolging, hongerpyne, tekort aan enige iets, gevare of geweld nie. Geen
gevoel wat jy het beïnvloed Sý liefde vir jou nie. Geen mening van die
wêreld beïnvloed Sy liefde vir jou nie. Dis die waarheid: God is liefde. ~
Wilna Botha, 21/11/2018 |
|
Kitskos
Daar is 'n lekker hamburgertjie daar by die groot M. Hy wag vir jou, hy is
klaar gereed, dalk vanoggend al gemaak, of gister. Jy het skaars gestop en
hy is reg vir die eerste happie, saam met daai lekker dun chippies. Jy vat
die eerste hap voor jy in tweede rat is, en as jy by vyfde kom is hy
geskiedenis. Hy proe na niks, hy ruik selfs na niks en hy doen ook vir jou
niks, vernaam nie in terme van voedingswaarde nie. Maar dit maak nie saak
nie, by die volgende dorp kry jy sommer nog enetjie. Partykeer is jy
gelukkig dan kry jy sommer 'n speelgoedjie ook.
Jy kry sulke teologie ook, Kitskos-teologie. Gaan vanaand saam, daar praat
'n ou, hy is vol van die Here, en boeta hy gooi net Skrif! Alles reguit uit
die Bybel uit. Kyk, as daai man met jou klaar is seën die Here jou
bonatuurlik. Partykeer blaas hy net op jou dan seën die Here jou, eensklaps.
Hy gooi net Skrif, daai ou. Hy verkoop mooi video's ook, jy moet sommer die
reeks koop. Hy vertel nuwe goed, jy sal verbaas wees.
Dalk voel jy vandag bietjie arm en daar is nie deurbrake in jou besigheid
nie. En voel jy boonop effe olik? Kom ons stap gou deur die huis. Mmm... Hey
ou, hierdie houtbeeld uit Afrika wat daar op die stoep hang is jou probleem.
Die een daar langs daai rolletjie wat aan die dak hang wat die vlieë vang!
Dis daai ding man, hy maak jou arm! En siek. Hy kom uit Afrika uit, dinge
uit Afrika is getoor, en hulle is baie sterk! Sterker as die Here! O koek,
en daai stringetjie dingetjie uit die ooste ook. Dinge uit die ooste is
boos! Maar moenie worry oor jou Toyota nie, en jou LG wasmasjien is ook
okay. Nee wat, jy kan vergeet van seën, jy doen nie die regte dinge nie. Jy
blok die seën, jy weet mos, die Here sê Sy volk gaan ten gronde weens 'n
gebrek aan kennis!
Ai, hoe word ons nie meegesleur deur hierdie tipe goed nie. Wil jy iets
beter eet? Lekker vaste kos, daardie bredie wat jou ma vir die hele dag op
die stoof laat prut, daardie kossie met regte egte vleis in, as jy hom geëet
het weet jy jy het geëet. Die geur hang die hele dag deur die huis, dit het
smaak, dis voedsaam en dit versadig. Dis mos nou kos, maar dit het tyd gevat.
Soos wanneer ons besig is met Geestelike groei, soos wanneer ons besig is
met die Here , elke dag, besig met Sy Woord, besig om Sy stem te leer ken.
Dit vat tyd, jy ontwikkel onderskeidingsvermoë, jy word gevorm, soos die
Pottebakker besig is om jou te verander in 'n bruikbare artikel, en jy hoor
self Sy stem, jy hoef nie dit tweedehands te hoor nie. Met die tyd besef jy
dat seën nie noodwendig 'n klomp geld in die bank beteken nie, jy besef dat
Geestelike deurbrake nie iets te doen het met materiële dinge nie. Met tyd
begin jy dankbaar word vir die klein dingetjies in die lewe, en dat jou
voorspoed nie die belangrikste ding in die lewe is nie , want die lewe
hierna is baie belangriker.
Soek daardie vaste kos, wag vir dit, wees dankbaar vir elke happie want dit
kom jou nie noodwendig toe nie. Maar wie sal Hom kan keer as Hy besluit om
jou te seën?
1 Pet. 2:2 "Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die
suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid
verkry." ~ Willem Botha, 20/11/2018 |
|
“Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het
hy gedra ... oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy
verbrysel ...” (Jes. 53:4-5) As mens Jes. 53 lees kom jy sterk onder die
indruk van die lyding wat Jesus moes verduur in die ure van sy kruisdood.
Dan besef jy met verwondering en dankbaarheid dat Hy dít alles in óns plek
gedoen het – óns lyding, óns siektes, óns sondes. Wat vandag vir my uitstaan
in hierdie hoofstuk is woorde soos: Hy het nie skoonheid of prag gehad nie,
Hy was verag, Hy het lyding en pyn geken, niemand wou eers vir Hom kyk nie,
Hy was verag, misken, mishandel, onregverdig veroordeel en gestraf, as
misdadiger beskou ens. En ek besef dat Hy dít ook alles deurgegaan het in
óns plek. Voel jy verwerp, verstoot of verag, misken of mishandel, of is jy
dalk onregverdig behandel, onnodig gestraf? Jesus het ook hierdie lyding en
emosies van jou op Hom geneem aan die kruis. Hy het al hierdie lyding namens
jou gedra. Daarom kan jy vandag nie net jou sondes en foute nie, maar ook
jou siekte en swaarkry en lyding op Hom kom afpak by die kruis in ruil vir
vrede, vryheid, vergifnis, herstel en genesing. Mag dit vir ons almal ’n
ware werklikheid wees. “Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes
die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons
weer gesond kan word.” (Jes. 53:5, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/11/2018 |
|
Rus en vrede
Ons ken almal hierdie frase: Rus en vrede...
Ek dink ons almal smag soms net na bietjie rus en vrede. Rus en vrede is nie
iets wat natuurlik kom nie, die wêreld deel nie vir jou rus en vrede uit nie,
jou werksomstandighede is nie bevorderlik daarvoor nie en die gejaagdheid
van die lewe werk lynreg teen rus en vrede in. Spanning oorwin elke enkele
dag, in hierdie stryd teen rus en vrede.
Dit lyk egter vir my of hierdie frase reguit uit Ps 23 kom.
PS. 23:2 "Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar
vrede is."
Hier is die geheimsinnige skuilplek van rus en vrede, dis by God en dis
beskikbaar vir elkeen wat daarna smag. As jy dit vir Hom gaan vra, gaan Hy
jou daarheen lei. Hy laat ons rus by groen weivelde, by waters waar daar
vrede is.
Het jy al in die Drakensberge gestap en by 'n kabbelende rivier rustig
geraak? Ek dink jy weet presies hoe dit voel en wat dit aan jou doen.
Gaan haal dit daar, dis daar in oorvloed, daar by die Here. Vlug net so
bietjie weg van hierdie dinge wat so ondraaglik raak, en gaan sit bietjie
rustig by Sy voete, daar by die groen weivelde waar die stroompie so rustig
kabbel. Jy hoef niks te sê nie, gaan sit net daar. ~ Willem Botha,
15/11/2018 |
|
“Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan
hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor
het nie.” (Jes. 52:15) Hier aan die einde van Jes. 52 begin die groot
profesie oor Jesus wat strek tot aan die einde van hoofstuk 53. Jesus is die
“dienaar” van wie hier gepraat word. Hy het gekom vir almal – elke volk en
stam en taal en nasie. Sy genade en vergifnis sluit niemand uit nie – baie
nasies sal die boodskap hoor en opspring van verbasing. Die Bybel sê mos
elke knie sal buig en elke mens sal erken dat Hy die Here is. Almal wat hoor
en glo en Sy verlossing aanvaar sal verstom en verheug wees dat hy ingesluit
is in God se koninkryk, dat hy ’n kind van God geword het – sonder dat hy
dit verdien het. Onthou jy dalk ook dat jy daardie gevoel gehad het toe jy
besef het dat Jesus ook vir jóú sondes aan die kruis gesterf het en dat jy
skoon gewas, vol sekerheid en vol vrede en oorwinning kan lewe? Ek voel
opnuut diep dankbaar (en verbaas!) dat die Here ook mý oë en hart oopgemaak
het en my gered het, my foute vergewe het en my lewe nuutgemaak het. ~ Wilna
Botha, 14/11/2018 |
|
Daardie Rots
Ek is seker daarvan dat jy ook al jou kleintoontjie in die aand in die
donker teen 'n meubelstuk gestamp het. Daardie pyn is regtig onbeskryflik
erg!
Ek lees hierdie volgende deel in 1 Petrus van Jesus wat as hierdie Rots
beskryf word, waarteen mense hulleself dikwels vasloop.
1 Pet. 2:6-8 "Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n
hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit
teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie
glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy
het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens
struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie
aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem."
Ons was onlangs aan die Weskus met vakansie en het net weereens gesien
hoeveel aanslae daardie rotse in die see kan verduur. Branders slaan dag na
dag, vir duisende jare teen daardie rots, maar dit bly eenvoudig staan.
Rotsvas!
So is Jesus hierdie Rots wat dag na dag voor mense te staan kom, en Hy staan
nie 'n duim terug vir diegene wat Hom misken nie. Hierdie teks sê tereg dat
Hy 'n klip is waaroor mense struikel en waarteen hulle stamp.
Hy is oral, Hy verskyn op die mees vreemde plekke, Hy kom staan voor mense
enige tyd van die dag of nag, soms op plekke waar jy Hom glad nie sou verwag
nie. Hy laat mense soms in verwondering, Hy maak sommige mense kwaad, selfs
al beweer hulle dat hulle nie in Hom glo nie. Juis die ongelowiges maak soms
op 'n harde manier met hierdie Klip kennis, Hy laat mense twyfel in hulle
eie ongeloof en Sy teenwoordigheid raak vir baie mense te veel. Hulle stig
selfs groepies en kom bymekaar om oor hulle ongeloof te redeneer.
Vir die gelowiges is Hy die Rots wat die aanslae van die lewe afweer, Hy hou
die branders en die tsunamis weg van Sy kinders af, hierdie Rots bied
skuiling teen dinge wat Sy kinders kan benadeel, en Hy verweer glad nie.
Hierdie Rots is vir almal op hierdie planeet sigbaar, of jy Hom wil raaksien
of nie; sommiges stamp teen Hom en raak kwaad en geïrriteerd , maar ander
gaan skuil teen Hom en geniet Sy beskerming. Dis ons eie keuse wat ons met
hierdie Rots maak. ~ Willem Botha, 13/11/2018 |
|
“Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van
hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding
bring, wat redding aankondig...” (Jes. 52:7) Dis mos wonderlik as die
deurklokkie lui en daar staan iemand wat kom vrede maak, of die foon lui en
die een aan die ander kant het vir jou ’n bemoedigende woord, of jy wag in
jou hospitaalbed en die voetstappe draai by jou kamer in met goeie nuus, of
jy hoor jou baas se voetstappe in die gang met goeie nuus van ’n nuwe
kontrak of salarisverhoging. Goeie nuus is lekker, nè! Ai en partykeer wag
ons vir goeie nuus, maar dit kom nie en ons kan niks daaraan doen nie.
Waaraan ons wél iets kan doen, is om self die boodskapper met goeie nuus te
wees. Miskien kan my voetstappe meer goeie nuus bring, nuus van vrede, ’n
woord van aanmoediging of bemoediging, ’n goeie tyding oor die liefde en
genade van die Here Jesus. Miskien kan my voetstappe ’n paar rand of iets te
ete bring en só die uitkoms wees vir iemand in nood. Miskien kan my
voetstappe belangstelling en geselskap bring en só die lig wees vir ’n
eensame siel êrens. Miskien kan my voetstappe die evangelie van Christus
bring en só die redding wees vir ’n soekende persoon. Kom ons trek die
skoene van bereidheid aan sodat ons voetstappe goeie nuus kan aankondig. ~
Wilna Botha, 12/11/2018 |
|
Facebook geloof...
Ag vergewe my as ek bietjie tong in die kies met die Bybel omgaan... Ek het
lank gevat om die moed bymekaar te skraap om hierdie gedagte te deel, maar
ek moes net, ek hoop nie jy word vies vir my nie.
Luk. 17:6 "Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos 'n
mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek
jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy
sou julle gehoorsaam."
Ek het baie gewonder hoe groot (of klein) is geloof so groot soos 'n
mosterdsaadjie, waarmee kan ek dit vergelyk? Watse tipe geloof is dit? Is
dit werklik amper "roekelose" geloof? Beteken dit dat jy daardie dinge
waarin jy glo nie eers toets nie? Is jou geloof só groot dat jy bereid is om
dit wêreldwyd te deel, onbeskaamd en sonder enige sweem van twyfel?
Hoe wonderlik sou dit nie wees nie. Hoeveel mense sou nie gered kon word nie.
Maar o wee, glo mense regtig nog byna "naïef"? Seker nie.
Maar toe kom sosiale media, en ek sien hoe absoluut naïef, sonder enige
sweempie van twyfel, mense die snaaksste dinge kan glo, en sonder om dit te
toets of dit waar is, sonder om ondersoek in te stel, dit die wêreld vol te
deel. Ai, deel hierdie en 'n kind met kanker gaan $1 kry, "like and share"
en jy kan hierdie reuse bakkie wen! En nie eers te praat van dinge wat mense
op geestelike vlak glo en deel nie! Hoekom? Sodat jy persoonlik baat kan
vind, want dan gaan die Here jou vreeslik seën, dis nou as jy een van die 7%
is, jy weet? O wee, dan kom daardie geestelike afpersing: Share if you are a
child of God... Ek wonder wat die Here van hierdie geloof (en dade) dink.
Nou ja, dit lyk my mense glo nog, dis nou as mens hierdie dinge geloof kan
noem. Maar weet jy, die Bybel het deur eeue heen velle aanslae deurstaan,
maar tog glo mense nie meer die Woord van God nie. Die waarhede van die
Bybel word dag vir dag, oor en oor, korrek en relevant bewys, maar vele
mense glo dit nie. Mens staan soms verstom oor waarmee mense hulleself besig
hou, en met watter ywer hulle hulleself met snaakse dinge ophou. Mag ek dit
sommer snert noem?
Nee wat, lees maar liewer die Bybel, want dit wat die skrywers van die Bybel
"like and share" is regtig waar, want dis getoets en oor en oor as die
waarheid bewys. ~ Willem Botha, 29/10/2018 |
|
“Sy Naam is die Here die Almagtige!”
(Jes. 51:15) Deesdae hoor mens nogal baie daarvan dat gelowiges ’n hele
studie maak van God se verskillende name wat in die Bybel voorkom. Party
gaan weer na die ander kant toe en sê daar is net een naam waarop God genoem
mag word, die ander is net beskrywende titels. Ek het vandag dié prentjie
êrens op Facebook raakgesien en my hart stem saam daarmee. God is groter as
’n naam of die uitspraak daarvan. As jy met jou hele hart na Hom uitroep,
sal Hy hoor en sal Hy tot jou nader. Of jy Hom in ’n intieme oomblik
aanspreek as Vader of Vriend, in afhanklikheid as Redder of Verlosser, in
nood as Helper of Raadsman, in siekte as Geneesheer of Wonderwerker, in
verwondering as Almagtige of Skepper, Hy kén jou en Hy kén jou stem en Hy
reageer. “... Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, sal gered word.” (Rom 10:13) ~ Wilna Botha, 25/10/2018
 |
|
Omkyk
Ek kon nooit vinnig hardloop in die skool nie, en toe ek nou maar
uiteindelik die 100 meter probeer met huissport, het ek maar beroerd gevaar.
Ek het heeltyd omgekyk om te sien wie agter my is en by die wenpaal het die
juffrou gesê ek moet ophou omkyk, want daar is in elk niemand agter my nie!
Niks (en niemand) het my gejaag nie, behalwe my eie vrees.
Dit laat my dink aan Lot se vrou in Genesis, waar die engele vir Lot sê
hulle moet vlug en die omkyk nie, maar sy vrou was ongehoorsaam.
Gen. 19:26 "Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar verander."
Het ons nie maar almal hierdie probleem om toe te laat dat die verlede so
swaar weeg nie? Hoe erg is dit nie dat dit wat in die verlede soveel pyn
veroorsaak het, steeds soveel pyn veroorsaak nie. Die verlede is soms soos
'n groot sleepwa wat saamkom waar al die ongelukkigheid en pyn ingepak is,
en die ding word nie net gesleep nie, soms stoot hy. Boonop pak ons hom
gereeld uit en werk deur al daardie gemors, en pak dit maar net weer knus
terug en sleep hom verder. Ja ek weet daar is baie mense wat regtig sukkel
met dinge van destyds en ek verwys nie ligtelik daarna nie.
Die verlede het sekerlik 'n plek in ons lewens, want as ons terugkyk daarop
kan ons leer daaruit, maar ons moet maar daardie sleepwa afhaak en aanbeweeg.
'n Motor se voorruit is van dik, versterkte glas gemaak, en hy is groot om
goeie visie te hê en hy moet jou beskerm in 'n ongeluk. Die truspieëltjie in
jou motor is egter van dun glas gemaak want dit wat jy daar sien is selde 'n
bedreiging vir jou, behalwe natuurlik as jy hom gebruik om jou grimering aan
te sit teen 120km/h! Hoekom kyk ons dan so baie in daardie truspieël en
hoekom gee ons soveel plek vir die verlede?
Paulus het goeie raad vir hierdie sleepwa probleem.
Fil. 3:13 "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een
ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor
is."
Sulke eenvoudige raad, los agter wat agter is en strek jou uit na wat voor
is. Jy kan tog nie die verlede verander nie, moet dus nie toelaat dat die
verlede jou konstant negatief beïnvloed nie. ~ Willem Botha, 24/10/2018 |
|
“Moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie
skrik as hulle julle beledig nie. Hulle is soos lap wat deur motte gevreet
word.” (Jes. 51:7-8) Die meeste goed wat ons doen, doen ons met ander mense
in gedagte – wat sal die mense daarvan dink, wat sal hulle sê, sal hulle
beïndruk wees met my en my goed, sal hulle opkyk na my, of sal hulle my dalk
uitlag, neerkyk op my of my spot en beledig? Dis nou maar een maal ’n
menslike eienskap om ingestel te wees op die mening van ander. Die Bybel sê
egter ons moet wat ons doen, doen asof ons dit vir die Here doen en nie vir
mense nie. Die Here se siening van ons behoort al te wees wat tel. Die Here
se goedkeuring oor ons gedrag is veel belangriker as mense se goedkeuring. Ons
moet veral nie bang wees vir mense se spot en beledigings omdat ons
Christene is nie, omdat dit vir ons belangrik is om die regte dinge te doen
en goeie keuses te maak nie. Moenie bang wees om “uit” te wees oor jou
beginsels nie. As mense jou spot is dit dalk juis om die aandag van hulle
eie tekortkominge en slegte gewoontes af weg te trek. As iemand jou beledig
oor jou Christelike standpunte is dit dalk juis omdat hy so leeg en
nutteloos voel soos ’n lap wat deur motte gevreet is. Moenie skaam wees dat
jy “anders” is omdat jy die Here dien en Hom wil tevrede stel nie. ~ Wilna
Botha, 23/10/2018 |
|
Klip
Ek het nou die dag op hierdie video afgekom en hierdie 30 sekondes het my
regtig tussen die oë getref. Probeer om dit so 3 keer te kyk voor jy verder
lees.
Klik hier >>
Van alles wat deur my gedagtes gegaan het, was die feit dat my hart so hard
soos klip geword het, die ergste. Hoeveel verskonings om nie veel te voel
vir die swaarkry van die wêreld, het ek nie. Dis nie my skuld nie, hoekom
kry mense wat niks het nie nog en nog kinders, hoe weet ek my bydrae word reg aangewend, ek het probleme van my eie, en soveel meer sinnelose redes.
Hierdie dogtertjie het my kassie goed geskud! Is haar swaarkry haar eie
skuld? Wat is die oplossing? Hoe maak ek 'n verskil?
En weet jy, toe kom die volgende vraag: Waar is die Here? Hoe kan Hy dit
toelaat? En onmiddellik kom die teenvraag: Waar is jy? Wat maak jy met jou
oorvloed? Daardie onverdiende weelde wat Ek vir jou gee. Ek het 'n vreemde
gedagte gekry. Is die Here se hande afgekap as ons nie ons opdragte uitvoer
nie? Ek is te bang om so daaraan te dink.
Sê nou maar net elkeen van ons maak net aan één mens (of kind) 'n verskil?
Net één!
MATTEUS 10:42 "Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water
gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”
MATTEUS 25:45 "En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover
julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit
aan My ook nie gedoen nie.’
Kan dit so maklik wees? Mag die Here vir ons wys wie daardie geringstes is.
~ Willem Botha, 22/10/2018 |
|
“... die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees,
die redding wat Ek bring, sal altyd bly.” (Jes. 51: 6) En só het God sy
woord gehou, want die redding wat vir ons almal gekom het deur Jesus
Christus geld vir altyd en ewig. Sy verlossing vir my en vir jou staan vas
vir eens en vir altyd en vir almal. Sy bloed was die betaling vir alles in
ons verlede, selfs nog voordat ons Hom geken en aanvaar en bely het. Sy
bloed was die betaling vir alles wat ek vandag verkeerd gedoen het of
versuim het om te doen – Hy hou nie boek of telling daarvan nie. Sy bloed
was reeds die betaling vir wat ook al in die toekoms kan gebeur. Die
verlossing en die redding het reeds aangebreek. As God ons vrygespreek het,
dan is ons waarlik vry, dán kan jy nie uit sy hand geruk word nie – nooit
nie. En as jy dit nog nie glo nie, of nog nie beleef het nie, dalk nog nie
die Here aanvaar het in jou lewe of nog nie die deur van jou hart vir Jesus
oopgemaak het nie ... lees vers 5: ““Die redding wat Ek bring, kom baie gou,
die verlossing wat Ek bewerk, is op pad ...” Dalk is vandag dié dag van jou
redding en verlossing. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag
van redding.” (2 Kor. 6:2) “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die
genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte
tyd gered kan word.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 18/10/2018 |
|
Wat kan jy koop met R100? Sommige mense sal sê jy kan
niks koop nie, terwyl ander skatryk sal voel met R100. Vandag kan jy dalk 'n
pakkie kouse koop, maar 41 jaar gelede toe ek begin werk het, was my salaris
minder as twee van hierdie note.
Ek glo dat baie mense totaal waardeloos voel in vandag se lewe, en dit om
uiteenlopende redes. Mense voel waardeloos teenoor ander mense, hulle eie
familie en natuurlik teenoor die Here. As 'n man vandag sy werk verloor, is
hierdie by verre die grootste probleem waarmee hy kan worstel, want as jy
nie die versorger kan wees nie, voel jy totaal nutteloos.
Hier is 'n foto van 'n opgefrommelde R100 en my vraag is, hoeveel waarde het
hy, ten spyte van hoe hy lyk? Natuurlik is die antwoord dat hy steeds R100
se waarde het, al is hy in die grond vertrap, in 'n bak olie gedruk, geskeur
of bitter vuil.
Ons as mense voel egter soms dat ons nutteloos en waardeloos is voor die
wêreld en voor die Here, en dit oor sinnelose redes. Mense voel so oor hulle
uiterlike, hoe hulle liggame vertoon, oor hulle armoede, oor hulle falings
en selfs oor hulle sondes. Nog erger, mense voel waardeloos agv wat ander
mense van hulle dink! Dan voel hulle sommer die Here dink ook hulle is niks
werd nie.
Dis egter so ver van die werklikheid af, want jou waarde word nie daardeur
bepaal nie. Wanneer is hierdie opgefrommelde R100 steeds iets werd? Dis as
hy steeds die regte watermerk dra. Net soos wat my en jou watermerk
gewaarborg word deur Jesus Christus. As jy aan die Here behoort, is jou
watermerk gegraveer in Sy handpalms.
Jes. 49:15-16 "Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die
kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur,
Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in My handpalms gegraveer, Ek
sien jou mure altyd voor my."
Dus kan jy maar gerus beter oor jouself voel. Moenie jou steur oor wat mense
van jou dink nie, steur jou net aan die Here se opinie , en dis baie
duidelik in die Bybel uitgespel. ~ Willem Botha, 17/10/2018 |
|
“Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op
die Here vertrou, moet op sy God steun.” (Jes. 50:10) Soos wat ek deur
Jesaja lees is dit vir my opvallend dat daar hope sulke bemoedigende verse
vol belofte voorkom. Ek onderstreep hierdie verse helder in my Bybel, sodat
ek op moeilike, moeë, moedelose dae nuwe hoop en nuwe versekering van die
Here se hulp en teenwoordigheid hier kan kry. As jy dalk vandag op ’n donker
en alleen pad is, onthou dat God se lig binne-in jou is en al voel dit of
omstandighede die lig heeltemal uitgedoof het, sal daar altyd nog ’n
straaltjie êrens deurbreek om jou pad te verlig. Donker kan nooit wen teen
God se lig nie. Dalk is jou hartseer of jou las so swaar dat jy nie daai lig
kan raaksien nie – steun nogtans op die Here. Hy is naby aan jou. Sy
helpende hand is altyd uitgesteek na jou toe. Onthou ook dat God se lig
binne-in medegelowiges is – vra en aanvaar hulp van die mense om jou. Dalk
gee dit bietjie ekstra lig vir die pad. “O Here, U is die lig in my lewe. As
U by my is, verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele
bende storm. Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) ~ Wilna Botha,
16/10/2018 |
|
Dankie
Luk. 17: 11- 18 "Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens
tussen Samaria en Galilea langs gegaan. Net toe Hy 'n sekere dorpie wou
binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand
staan en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê
Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond
geword. En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God
hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank.
Hierdie man was 'n Samaritaan. Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond
gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat
omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers 'n Jood
is nie?”
Tien melaatses kom vra vir genesing en word gesond gemaak, net een sê dankie.
Ai, hoeveel weerspieël dit nie my eie lewe nie. Ek onthou elke dag om te vra
vir genesing, voorspoed en seën, maar vanaand vergeet ek om dankie te sê.
More raak die lysie langer, want gister het die Here selfs meer gegee as wat
ek gevra het. En hoe ironies is dit nie, die arm persoon in 'n plakkerskamp
vra vir 'n brood, terwyl ek glo dis geregverdig om te vra vir 'n lekker
vakansie of 'n nuwe motor. Daardie arm persoon is waarskynlik baie meer
dankbaar as ek vir die weelde wat ek ontvang.
Is hierdie gebede van my nie dalk net lippetaal nie? Sou ek nie makliker my
oorvloed met die behoeftige deel as ek werklik dankbaar is nie? Hoeveel is
genoeg? Wanneer gaan ek vir die Here sê Hy kan maar ophou om nog te verskaf
want my lewens-spens loop nou oor? Gaan ek ooit besef dat ek maar kan begin
weggee, want daar is nou meer as genoeg?
Dit lyk nie so nie. Dit lyk my ek bou maar net 'n groter spens as hierdie
een vol is. En weet jy, daar is vele mense wat glo gelowiges behoort in
weelde te leef. Daardie teologie het selfs 'n naam. Maar dis so vals.
Mag ons maar net elkeen weer gaan voorraadopname doen in daardie spens en
opreg dankbaar wees.~ Willem Botha, 15/10/2018 |
|
“Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan
nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.”
(Jes. 50:7) Met die Here aan jou kant kan jy kans sien vir enige moeilike
pad en hoef jy geen struikelblokke te vrees nie. Ps. 18:30 sê mos ook dat
mens kan kans sien om in enige moeilike situasie in te storm as God aan jou
kant is, dat jy oor ’n hoë muur kan spring saam met God. Hy is ons Helper en
sy belofte in Heb. 13:5 is dat Hy ons nooit sal los of ons in die steek sal
laat nie. Die Here is aan jou kant, kind van God! Moenie ontsteld of onseker,
rigtingloos of sonder selfvertroue wees nie. Die belofte in die teks is dat
ons nie in verleentheid sal kom nie. Al kom ons onder druk, ons sal nie
verpletter word nie, al voel ons verward, ons sal nie wanhopig raak nie, al
word ons dalk platgeslaan deur omstandighede, ons sal nie vernietig word nie.
“Wat is dan nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vír ons.”
(Rom 8:31) ~ Wilna Botha, 11/10/2018 |
|
Dit het sommer vroeg vroeg in die Tuin begin.
Gen. 2:6-7 "Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin
mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie.
Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
En toe eet hulle, tipies mens, steur hom nie aan opdragte en gesag nie, nie
eers as dit direk van God af kom nie. As dit so lank terug begin het, kan
ons seker verstaan hoekom dit vandag so erg is. Een van die grootste euwels
van ons tyd is menseregte, want as die mens dit toepas, verdamp
verantwoordelikheid soos mis voor die son. Jy mag nie 'n kind is die skool
dissiplineer nie, want jy gaan dit verkeerd doen, en die "reg" is aan sy
kant. Jy kan nie 'n swak werker dissiplineer nie, want dan diskrimineer jy,
wat nog van ontslae raak! Dan word jy gestraf.
Die ergste van alles, jy mag nie eers meer jou EIE KIND 'n pak slae gee nie,
dis teen die wet. Die Bybel sê egter uitdruklik "spaar die roede nie". Dus
word die landswette nou amptelik bo die gesag van die Woord van God gestel,
of jy daarmee saamstem of nie. Die Bybel se gesag word soms selfs van die
kansel af bevraagteken.
Wat is die vrug van al hierdie dinge? Hou dit enigsins iets goed in?
Sakemense koop eerder nog 'n masjien voor iemand aangestel word, onderwysers
verdwyn uit die beroep uit want dit raak onuithoudbaar in die skool. In die
hoogste posisies in die politiek word ons samelewing verwoes want korrupsie
kom wyd voor.
Wanneer gaan die mensdom besef dat AL die antwoorde vir hierdie probleme is
in die Woord van God te vind? Maak integriteit werklik nog saak, of word ons
almal maar dieselfde? Tot op watse mate bly my eie integriteit staande?
Waaraan gee ek ook toe en waaraan neem ek ook deel?
Ek sien selfs dat soveel mense al glo dat hulle hulle plek in die hemel in
kan "demand", sonder om aan die "voorwaardes" gehoor te gee. Selfs mense met
dieselfde geloofsoortuigings as ons begin glo dat mense van ander gelowe die
ewige lewe sal behaal, al glo hulle nie aan die Verlosser nie.
So het die wêreld geword, en dis nie lekker om so daaraan te dink nie. Maar
waar staan ek en jy?
Ek sal tot met my dood aan die volgende teks vashou, al faal ek dag vir dag.
Dit lyk vir my daar is net een van twee keuses.
Jos. 24:15 "Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan
vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het
anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle
woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”
Hier is my keuse; ons sal die Here dien. ~ Willem Botha, 10/10/2018 |
|
“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te
gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.” (Jes. 50:4) Ons weet
maar al te goed hoeveel moeë, moedelose, hopelose, depressiewe mense daar
vandag is. Dalk is hulle by jou werk, in jou vriendekring of selfs in jou
gesin. Hulle is negatief, hulle sien nie meer die silwer randjie om die
donker wolk nie, hulle is pessimisties en kla oor alles. Te veel kere spring
ons in en praat saam en mor saam en kort voor lank is ons almal moeg en op
moedverloor se vlakte. Ons woorde kan só ’n groot invloed hê op mense en ook
op onsself. Daarom bid ek dat die Here vir ons die regte woorde sal leer,
soos die teks sê, sodat ons ’n kalmerende, opbouende, bemoedigende invloed
kan hê. Kom ons help mekaar deur mekaar moed in te praat. “Aangename woorde
is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (Spr. 16:24) en “Kalmerende
woorde bring lewe.” (Spr. 15:4) Mag ons woorde hoop en genesing bring. ~
Wilna Botha, 09/10/2018 |
|
Waar is God?
Baie mense vra hierdie vraag, van die mees gelowige mense, tot die mees
ongelowige mense. Hoekom sien ons Hom nie, hoekom het Hy nie 'n fisiese
gestalte waaraan ons Hom kan uitken nie? Hoeveel meer mense sou nie in Hom
geglo het as ons Hom kon sien nie? Maar tog, op een of ander ontsagwekkende
manier glo Sy kinders sonder 'n sweem van twyfel in Sy bestaan. En in
dieselfde asem kan ek sê dat ongelowiges, selfs volslae ateïste, ongelooflik
baie spandeer om Sy bestaan te weerlê. Hoekom? "Why bother?" Wie is Hy, dat
die hele wêreld van Hom bewus is, in een of ander vorm?
Vir ons as gelowiges is Hy oral, ons sien Hom in wonderwerke, ons sien Sy
almag in die natuur, ons sien Sy wonders in 'n pasgebore baba en ons hoor Sy
stem daagliks. Maar tog is daar baie wat soek en Hom net nie kry nie, en
daar is vele wat Hom nie wil vind nie, nog ander het ophou soek. Die wonderlike hiervan is dat Hý nie ophou soek na ons nie, Hy los die 99 en
gaan soek na daardie verdwaalde een, Hy los die een broer in veiligheid
terwyl Hy die verlore seun uit die varkhok gaan haal. Hy gaan haal mense uit
kroeë en bordele, Hy tref party met 'n verblindende lig, soos vir Paulus, en
by vele klop Hy sag aan die deur van hulle harte soos beskryf in Open. 3:20
"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur
oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam
met My."
Maar die dag as jy Hom raaksien, kyk jy Hom nooit weer mis nie. As jy Sy
liefdevolle hand op jou skouer gevoel het, rus jy vir altyd in Sy sagte
teenwoordigheid. En al twyfel jy soms in Hom, raak Hy nie weg nie, Hy bly
altyd dieselfde en as jy Hom aan die werk sien en jy neem Hom aan, word Hy
JOU God! Vir altyd.
Ps. 68:36 "God wek ontsag wanneer Hy uit sy heiligdom kom. Hy is die God van
Israel, Hy gee krag en sterkte aan sy volk. Aan God kom die lof toe."
Halleluja! ~ Willem Botha, 08/10/2018 |
|
“... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” (Jes.
49:23) Hoe dikwels is ons nie ontnugter wanneer ons op mense staatgemaak het
en hulle nie hulle beloftes nagekom het nie, hulle daag nie op nie, hulle
verander van plan, hulle stel hulle eie belange eerste, om getrou en
toegewyd te wees is nie vir hulle ’n prioriteit nie. Die Bybel sê mos ook
elders dat ons nie op prinse moet vertrou nie, nie op mense nie, want hulle
blaas so maklik hulle asem uit (jy ook, nè!). Plaas jou vertroue op die Here
en jy sal nooit teleurgestel wees nie, sê die teks. Maar wat beteken dit om
die Here te vertrou? Ek dink in die eerste plek vra dit ’n persoonlike
verhouding met Hom. Jy moet Hom regtig ken. Jy moet uit die Woord en deur
ervaring leer en weet wie Hy is, hoe Hy oor jou voel en wat Hy wil en sal
en kan doen. Jy moet volle sekerheid hê van sy krag, sy betroubaarheid, sy
goedheid en sy vermoëns. Dan moet jy bewustelik jouself in Sy hande plaas,
jou oorgee aan Sy sorg en Sy leiding. Jy moet luister na die stem van die
Heilige Gees in jou binneste, in jou gewete en in jou gedagtes. Om op die
Here te vertrou beteken jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet,
dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Om die Here te vertrou is nie net
’n passiewe houding nie, dit beteken nie jy sit net agteroor en wag nie . Jy
kan bv. nie met oogklappe op sê jy vertrou dat die Here vir jou sal sorg vir
’n inkomste, terwyl jy nie wil werk of planne maak nie. Jy kan bv. nie sê jy
vertrou die Here vir goeie gesondheid maar jy doen dinge wat sleg is vir
jou liggaam nie. Jy kan bv. nie sê jy vertrou die Here vir jou veiligheid,
maar jy sluit nie jou deure nie. Om die Here te vertrou beteken nie jy moet
jou blind hou vir feite en realiteite nie, dit beteken jy glo en ervaar dat
die Here teenwoordig is in elke situasie en dat Hy jou daardeur sal dra en
lei. Vertroue vat bekommernis en vrees en angstigheid weg. Vertroue bring
vrede wat alle verstand te bowe gaan. Jy sal nie teleurgestel word nie. ~
Wilna Botha, 04/10/2018 |
|
Christene maak my so seer...
Ek is seker jy het dit al baie gehoor. Ag, as ek dit hoor word ek is sommer
moedeloos, want mense skuil agter dit om nie 'n verhouding met die Here te
hê nie. Ja, ek bely dat ek al baie mense seergemaak het, en ek is nie trots
daarop nie.
Dan hoor jy gereeld: Christene is SO skynheilig, daar met hulle vroom
gesiggies in die kerk, dis hoekom ek nie kerk toe gaan nie. En o ja, jy moet
sien hoe ry hulle op die pad, en sjoe hulle kan skinder! Nie te praat van
hoe hulle hulle vrouens behandel nie, behalwe natuurlik daar waar hulle die
kerkbanke warm broei. En het ek jou gesê (ek wil nou nie skinder nie) maar
daai dominee is ook besig met dinge wat ons nooit van hom sou verwag nie! En
dan preek hy Sondae dat die spoeg spat! Ek wil nou vir jou sê, dis die kerk
wat my uit die kerk hou!
Nou ja, jy hoor ook seker gereeld hierdie gesprekke. Nou wonder ek so by
myself, hoe sou ek die Here leer ken het as ek net na ander mense gekyk het,
en my aan hulle doen en late gesteur het? Waar is daardie perfekte kerk waar
almal soos engeltjies optree? En waar is die perfekte leraar en prediker wat
nie ook maar soms verkeerd trap nie?
Ons woon nou maar eenmaal in 'n deurmekaar wêreld waar min dinge gebeur soos
dit moet, maar ek sê vir jou, ek ken WONDERLIKE sondaars, wat 'n reuse impak
op my lewe gemaak het. Ek het al vele mentors in my lewe gehad wat die Here
voluit dien, ten spyte van hulle foute. Ek het ook al goeie mense gesien wat
die pad byster geraak het, maar wat weer teruggekom het na die Here toe.
As ander mense dus nou kies om na my en jou te kyk, eerder as om na Jesus te
kyk, kan ek nie veel daaraan doen nie. Natuurlik is ons veronderstel om dit
wat ons glo uit te leef, en ons moet streef na 'n goeie lewe, maar as 'n
geredde sondaar is ek nie volmaak in die mens se oë nie. En laat ons ook nie
wegbly van die Here af omdat ons bang is dat ons ander laat struikel nie. My
gebed is egter steeds dat ek so sou leef dat ander die Here in my sien. ~
Willem Botha, 03/10/2018 |
|
“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm
oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon
gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms
gegraveer.” (Jes. 49:15-16) Het jy ook al iets op jou hand geskryf sodat jy
dit moet onthou? Jou hand is mos waar jy dit altyd kan sien, dis soos ’n
notaboek wat nie verlê kan word nie. Só is jou naam permanent geskryf waar
die Here dit altyd sien, naby aan Hom – in sy handpalms. Die spyker merke
aan Jesus se hande is die herinnering dat Hy só lief is vir ons dat Hy sy
lewe gegee het, sodat ons gered en vry kan wees. Ja, daar by die kruis is
ons elkeen se naam op Sy handpalms met Sy eie bloed gegraveer. Hy sal jou
nie vergeet nie, selfs al het jou eie ma of jou eie mense jou vergeet en
verstoot. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy dalk jou rug op Hom
gedraai. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy die grootste sonde
gedoen. Niks sal jou naam kan uitvee nie – daarvoor sal Hy sélf sorg! ~
Wilna Botha, 02/10/2018 |
|
Ontsteltenis
Die lewe in hierdie wêreld van ons raak darem maar baie kompleks, of hoe?
Ongelukkig laat ek toe dat die nuus, en baie alledaagse dinge, my soms
onnodig omkrap en dit steel mens se vreugde. Natuurlik is ek egter dikwels
sommer self verantwoordelik vir my onvergenoegdheid!
In PS. 4 lees ek dat Dawid deur 'n tyd gaan waar dit lyk of dinge hom
onderkry, maar dan besef hy dat die Here steeds in beheer is.
In vers 4 sê hy: "As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte
daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby! Sela"
Sulke eenvoudige raad as daar dinge gebeur wat jou so laat wroeg, dat jy dit
nie meer kan hanteer nie!
En dan wend hy hom na die Here in vers 8: "U het my reeds groter vreugde
laat belewe as wat daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het."
Hoekom jou steur aan mense se opinies? Wat kan mense se woorde regtig aan
jou doen? Hoekom moet jy vir mense probeer plesier gee? Wat maak dit saak as
ander ryker, maerder, mooier of slimmer as jy is? Sal 'n ander se huis in 'n
mooi woonbuurt regtig jou lewe omswaai? Hoekom dink jy jy sal eers gelukkig
wees as jy soos ander is? Of sal jy eers gelukkig wees as jy by die groen
gras anderkant die draad is?
Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede"; jaag eerder tevredenheid
na, dan sal vrede kom.
Vers 9 vat alles baie mooi saam: "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan
die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon." ~ Willem Botha,
01/10/2018 |
|
“Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is, selfs
op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees. Hulle sal nie honger of dors
kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat
Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by
fonteine langs lei. Ek sal al my berge paaie maak, my grootpaaie sal sonder
opdraandes wees.” (Jes. 49:9-12) Dís hoe die Here sy volk lei en help en
versorg. Sal Hy dit vandag nog vir my en vir jou doen? Baie beslis. Op ons
lewenspad kan ons reken op die Here se buitengewone versorging – waar daar
oënskynlik niks hulpbronne oor is nie, sal Hy voorsien, waar daar nie ’n pad
is nie, sal Hy een maak, waar daar opdraandes is, sal Hy dit gelyk en
draaglik maak, waar daar lang tye in die woestyn is, sal Hy Sy skaduwee oor
jou laat val, Hy sal jou altyd weer uitbring by fonteine met Sy lewende
water wat verfris en lawe en krag gee, na waters waar daar rus is, sal Hy
jou bring. Niks wat op die pad met jou gebeur sal jou permanent onderkry of
jou breek of jou totaal moedeloos laat nie, want die Here is langs jou en Sy
belofte is dat alles ten goede sal meewerk. En wanneer jy terugkyk en net
een ry spore sien, sal jy weet Hy het jou nie alleen gelos nie, Hy het jou
gedra! ~ Wilna Botha, 27/09/2018 |
|
Ek het in my lewe baie baie gesprekke met mense gehad
oor bekering en om jou hart vir die Here te gee, uit hoofde daarvan dat jy
Sy genade moet aanvaar. Een van die moeilikste elemente van 'n bekerings
gesprek is juis die konsep van genade.
Ek het met die jare agtergekom ek kan dit maklik verduidelik aan die hand
van Bybel tekste, maar as ek eerlik moet wees, het ek dit self al vele kere
in my lewe bevraagteken en betwyfel. Hoe kan die Here regtig al my sondes
net in 'n oogwink vryspreek? Nie eers te praat van dinge wat ander mense
aanvang nie.
So kom daar toe nou die dag 'n gedagte by my op en ek wonder nogal of genade
ook REGTIG in hierdie situasie sal geld.
Sê nou maar daar is 'n persoon, 'n man of vrou, dalk selfs 'n pa of 'n ma,
en hierdie persoon is in een of ander gesagsposisie waar hy (ons praat nou
maar verder as 'n hy) invloed uitoefen op mense rondom hulle saligheid. Ek
dink spesifiek aan mense wat byvoorbeeld op 'n tyd teoloë was maar hulle
geloof verloor het. Hierdie persoon besluit om sy rug op Jesus as Saligmaker
te draai en sleep in die proses baie mense (insluitende sy kinders) in die
verderf in.
Met die tyd kom van hierdie persone tot sterwe en word nie in die Hemel
toegelaat deur God nie en gaan verlore as gevolg van hulle eie keuse, omdat
hulle agter hierdie ongelowige persoon aangeloop het. (Ja, ongelukkig gebeur
dit so dat ongelowiges in die verderf beland, al is dit deesdae nie meer 'n
gewilde onderwerp nie.) Met die tyd begin hierdie ongelowige persoon egter
twyfel in sy eie ongeloof en keer terug na God toe. Sal God hom dan weer
aanvaar en vryspreek, al het hy vele mense na die verdoemenis gely?
Is dit moontlik dat God se genade so groot kan wees dat Hy hierdie persoon
van alles kwytskeld, insluitende die feit dat vele mense in die hel beland
het deur sy toedoen?
Kom ek wees baie eerlik met jou as ek sê NEE , dis nie reg nie! Kan God dit
alles so toelaat? Is dit regverdig dat Sy genade so groot is? Die antwoord
is natuurlik onomwonde JA!!!
Nou, dis presies wat genade is, dis daardie "onregverdige" genade wat God op
mense uitstort, ongeag wat ek daarvan dink. As ek DIT kan aanvaar, moet ek
noodgedwonge aanvaar dat die Here se guns op my ook is. Dis bo my verstand.
In Matt. 20:1-16 lees ons van die arbeiders wat in 'n wingerd werk. Sommige
mense het die hele dag gewerk en sommiges net 'n klein rukkie op die einde
van die dag, maar hulle het dieselfde loon gekry, waaroor dié wat die hele
dag gewerk het baie ongelukkig was.
Matt. 20:11-15 "Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê:
‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde
loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ “Maar hy
antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie
met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis
toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie
met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’
Hierdie gedagte maak nie dat ek genade totaal verstaan nie, maar dit laat my
besef dat dit groter as my begrip is. ~ Willem Botha, 26/09/2018 |
|
“So sê die Here: Op
’n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor.” (Jes. 49:8) Op ’n tyd
wat Ek goeddink ... Hierdie is mos nou nie woorde wat ons graag wil hoor nie,
of hoe? Ons wil mos bid en dadelik ontvang. Ons wil nie graag wag vir die
Here se tyd nie. Ons wil onmiddellike reaksie en uitkoms hê wanneer ons bid,
anders sê ons mos ons bid teen die plafon vas, of ons wonder wat het ons
verkeerd gedoen of dat ons dalk nie op die regte manier gebid het nie, of
nog erger, dat die Here nie hoor nie, of nie bestaan nie, dat gebed nie
“werk” nie. Hierdie teks herinner my maar net dat God wel hoor, maar dat Sy
antwoord dikwels nie is wat en wanneer ons dit wil hê nie. Dit herinner my
dat God besig is met ’n groter prentjie waarvan ons nie altyd bewus is nie.
Moet ons aanhou bid? Ja, beslis, sonder ophou, sê die Woord. Ons moet bid
want dan sal die Here se vrede jou hart en jou gedagtes kom volmaak omdat jy
sal weet Hy luister en dat Sy planne vir die verhoring van jou gebed alreeds
in plek is. Hy weet immers wat jy nodig het nog voordat jy gevra het. Wees
geduldig en op die regte tyd sal die Here jou gebed verhoor. ~ Wilna Botha,
25/09/2018 |
|
Ek dink ek ly soms aan erge vergeetagtigheid. Ek
vergeet so maklik hoe die Here getrou was in die verlede (soms so onlangs as
vanoggend) as ek vir Hom iets gevra het. Ek vergeet dat ek vir bestellings
gevra het in stil tye, en Hy in oorvloed voorsien het. Die feit dat ek in 'n
liefdevolle huis grootgeword het is lankal vergete en dit word aanvaar as 'n
gegewe. Ek vergeet dikwels dat die Here my absoluut niks skuld nie, maar tog
sien ek dat Hy uit genade en liefde vir my en my gesin sorg. Ek vergeet so
maklik wat aan die kruis gebeur het toe Jesus vir my Saligheid gesterf het,
en dikwels gaan ek so roekeloos daarmee om.
Ek vergeet dat die Here vir my vir twee jaar in die weermag byna bonatuurlik
beskerm het. Hoeveel keer moes ek van Potchefstroom af ryloop huis toe in
die nag, en dit was elke keer sonder voorval. Toe missiele oor ons koppe
getrek het tydens 'n aanval op die grens, het dit ons rakelings gemis. Ek
het dit eintlik al vergeet. Hoe het ons gebid vir volmaakte kinders, en ons
het dit gekry. Ek onthou dit bykans nooit. Hoe maklik vergeet ek hoe geseënd
ek is met 'n wonderlike lewensmaat, dis soms sommer net iets alledaags. Nie
eers te praat van goeie gesondheid nie!
Hoe maklik vergeet ek van God se beloftes, beide dié wat Hy reeds nagekom
het, én dit wat geld vir die toekoms. Hoe maklik vergeet ek om genoeg dankie
te sê, ek dink dikwels nie eers daaraan nie. Dit lyk my die Here bewys maar
net daagliks vir my dat ek op Hom kan vertrou maar ek vergeet dit.
En dan kwel ek my oor die toekoms! Bid jou dit aan. ~ Willem Botha,
20/09/2018 |
|
“Die Here het my ’n belangrike opdrag gee en my God gee
my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5) Wat het die Here vir jou gegee om
te doen? Dalk is dit om ’n preek te lewer voor ’n groot klomp mense, dalk
moet jy jou getuienis in die kerk of by die werk gee, dalk moet jy ’n
Bybelstudiegroep lei, ’n funksie vir jou gemeente reël, dalk moet jy gaan
bid vir iemand, kos uitdeel of iemand gaan bemoedig. Dalk is dit iets gewoon
soos om vir jou gesin ’n ete voor te berei, huis skoon te maak of jou gewone
dagtaak te verrig. Die Here se opdragte kom altyd saam met toerusting. As jy
moet praat, sal Hy vir jou die regte woorde gee en jou skaamheid en bangheid
vervang met selfvertroue en moed. As jy iemand moet leer of bemoedig, sal
die Here vir jou onderskeiding en wysheid gee om die regte aanslag te hê.
As jy moet bid, sal die Gees jou lei en sáám met jou bid. As jy iets moet
doen, sal die Here jou hande sterk maak en jou genoeg energie gee om die
taak te voltooi. Dis Hý wat ons gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te
voer, sê Fil. 2:13. Vra Hom daarvoor en vertrou Hom om dit te doen.
Sodoende sal dít wat ons vir die Here wil doen ’n blywende resultaat oplewer
en ’n ewige waarde hê. ~ Wilna Botha, 19/09/2018 |
|
Kwaad
Iemand sê nou die aand tereg dat ons in 'n samelewing woon waar almal
deesdae kwaad is. Ons is kwaad vir die regering, ons is kwaad vir die
buurman as sy hond blaf, ons is kwaad vir iemand omdat hy nie van my motor
hou nie, ons is kwaad vir mense op Facebook omdat hulle 'n ander opinie as
ons het. Ons is kwaad vir die kerk omdat dit nie daar gaan soos wat ons dit
graag wil hê nie. Ons is natuurlik sommer al die pad op die snelweg kwaad
vir die taxi's en ander mense wat snaaks ry, ons is kwaad vir die regering
van 30 jaar gelede omdat ons nou in die donkerte gelaat is as gevolg van
hulle besluite destyds. Ag tog, en dan is ek daagliks vir myself kwaad oor
dom dinge wat ek aanvang. Party mense is kwaad vir hulle ouers oor verskeie
dinge, terwyl hulle dalk alreeds oorlede is. En genade, kan families
uitmekaarval omdat iemand kwaad is oor iets wat iemand anders gesê het! Lank
gelede op 'n mannekamp vertel 'n man dat hy en sy suster vir jare nie meer
met mekaar praat nie oor 'n twis wat uitgebreek het. Toe ek vir hom vra
waaroor dit gegaan het, het hy eerlik geantwoord dat hy glad nie meer kan
onthou nie! Hy het haar die volgende dag gebel en hulle het die verhouding
herstel.
Ons word soms ook kwaad vir die Here omdat Hy dinge toelaat waarvan ons nie
hou nie, en wanneer ons nie ons sin kry nie. Ons word sommer kwaad vir ander
gelowiges wat net so effe anders as ons glo.
Wat maak hierdie woede aan ons? En wat help dit? Hoekom is ons velle so dun
en hoekom is ons so kort van draad? Miskien moet ons net 'n oomblik dink
voor ons op iets negatiefs reageer. Dalk sal dit help as ons nie meer nuus
kyk nie, en dit sal verseker help as sosiale media 'n bietjie eenkant toe
geskuif word.
Spr. 15:1 " ’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende
woord laat die toorn opkom."
Ai, ek wens so ek kan net daagliks volgens hierdie teks leef. Ek bid hierdie
volgende teks vir jou en my toe.
Fil. 4:7 "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle
harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus." ~ Willem Botha, 18/09/2018 |
|
“Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil,
wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.” (Jes. 48:17) Die Heilige Gees,
die wet en die Woord van God is altyd daar om vir ons die pad aan te wys, om
ons te stuur in God se rigting, om ons te lei in die keuses en besluite wat
ons moet maak, om ons te help om ’n sinvolle lewe te lei, om ons op ’n pad
van voorspoed en vrede te bring. Dit wat die Here ons leer uit sy Woord, dit
wat ons leer deur die prediking waarna ons luister, deur die boeke wat ons
lees, is natuurlik altyd tot ons beswil, tot ons persoonlike voordeel. Dit
bring jou in die regte verhouding met die Here, dit bring jou by die kruis
en Jesus se vergifnis en vryspraak. Dit versterk jou geloof, dit gee jou
hoop. Dit beskerm jou teen verleiding, dit help jou in verhoudinge, dit gee
wysheid vir elke lewenssituasie, dit maak jou ’n beter mens ... sien, dis
tot jou beswil. Maar, die vraag is: is ons leerbaar? Onderwerp ons onsself
aan God se onderrig? Luister en doen ons, of het jy gister se preek net
aangehoor, sonder dat dit in jou hart gaan lê het en ’n verskil in vandag se
optrede gemaak het? Wie ore het, moet luister, sê die Nuwe Testament
herhaaldelik. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens
handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou
het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen
daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want
die fondament was op rots.” (Matt. 7:24-25) – tot jou beswil! ~ Wilna Botha,
17/09/2018 |
|
So far so good...
'n Vriend deel die volgende gedagte op Facebook:
"So far you've survived 100% of your worst days. You're doing great."
Toe besef ek net hoe genadig die Here is as Hy sê jy moet jou nie oor more
bekommer nie.
Matt. 6:25 "Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat
julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal
aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere
nie?"
Nou kyk, ons sal almal saamstem dat hierdie een van die moeilikste tekste in
die Bybel is om te glo en te aanvaar, maar tot nou toe het die Here 'n 100%
suksessyfer gehad in my en jou lewens. Ek sê nie dat jy nog nooit
moeilikheid of bitter trauma beleef het nie, maar tot nou toe het jy dit
oorleef.
Moeilikheid sal kom, dit wat jy bid sal nie altyd waar word nie, trauma mag
ons dalk tref en dinge kan dalk onhoudbaar sleg wees by tye, maar solank jy
bly lewe het die Here Sy hand oor jou. En ja, selfs die erge dinge gaan
verby, al voel dit net soms of dit nou te lank neem.
Ek weet nie wat more vir my inhou nie, maar ek het besluit om die Here te
vertrou om my te beskerm teen slegte goed, maar as iets my tref, sal ek Hom
vertrou om my deur dit te dra.
Tot dusver was Hy 100% getrou daarmee, want ek leef nog. Ek is innig
dankbaar daarvoor. ~ Willem Botha, 12/09/2018 |
|
“Vandat jy gebore is, het Ek vir jou gesorg. Toe jy ’n
babatjie was, het Ek jou in my arms rondgedra. Selfs al word jy oud, sal Ek
nog daar wees. Ek sal vir jou sorg tot jy grys is. Ek het julle gemaak. Ek
sal vir julle sorg. Ek sal julle dra en julle versorg.” (Jes. 46:3-4, Die
Boodskap) Ja, Hy het ons gemaak en Hy sal ons nooit los nie. Wanneer jy ouer
en swak word, dalk nutteloos voel, dalk oorbodig voel, sal die Here jou dra.
Sy arms bly altyd onder jou. Ek dink sommer onwillekeurig aan die teks in
Prediker 12 wat sê: dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar tye
kom. Kom naby aan die Here wanneer jou verstand en krag nog sterk is, sodat
jy in jou ou-dag veilig en versorg en tevrede in Sy arms sal wees. “Hy bewys
ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer”, sê Luk. 1:50. Van
geslag tot geslag, van die begin tot die einde sal Hy daar wees en ons dra
en versorg. Kyk terug en sien dat die Here jou deur swaarkry en storms, deur
verlies en hartseer gedra het en weet dat Hy dit steeds sal doen totdat jy
grys is en tot jou aardse pad ten einde loop. Behou enduit jou geloof en jou
ywer vir die Here. Wees steeds bereid dat die Here jou kan gebruik. Span jou
ervaring en lewenswysheid in om mense om jou te lei en te leer. Doen alles
in jou vermoë om nie ’n verbitterde, onvergenoegde, knorrige en klaerige
bejaarde te wees of te word nie. Spreuke sê dat ouderdom ’n sierlike kroon
en ’n seën is – dra dit met trots en met die sekere wete dat die Here enduit
saam met jou stap. ~ Wilna Botha, 11/09/2018 |
|
Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie
kry...
Hierdie woorde sal waarskynlik vir die res van my lewe by my bly. 'n Klompie
jaar gelede, tydens 'n diens wat ons by die vroue gevangenes gehou het, kom
staan 'n jong meisie (ongeveer 16 jaar oud) voor my staan en sê hierdie
woorde: Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry? Sy was so klein dat sy in
'n laerskool rokkie sou pas. Ek het haar so inning jammer gekry en, hoewel
ons nie veronderstel was om fisies die mense aan te raak nie, het ek gebuk
en haar 'n stywe druk gegee. Dis al wat sy wou hê, net een oomblik van
koestering en liefdevolle aanraking. Sy was verhoorafwagtend, waarskynlik oor
dwelms.
Waar het sy vandaan gekom? Het sy 'n pa geken? Of dalk baie? Wat het ander
ooms met haar gedoen toe sy dalk net liefdevolle aanraking wou hê? Het sy op
daardie stadium op straat gebly en het sy dalk daardie brose liggaampie
beskikbaar gestel aan gewetenlose mense vir nog 'n dag se oorlewing? Ek ken
ongelukkig nie daardie antwoorde nie. Ek wens so ek kon weet wat van haar
geword het, en of sy ooit uit hierdie ding kon breek. Ek twyfel.
Hierdie ding het lank in my lewe by my gespook, want ek het net besef hoe
verdorwe ons samelewing geword het. Wie het haar versaak? Haar ouers? Die
samelewing? Wie is die samelewing? Ek en jy? In die nege jaar wat ons daar
bedien het, het geen ander situasie my so diep getref nie.
Nog 'n groot vraag wat by my opgekom het, is of Jesus Sy rug op haar sou
draai oor haar lewe, of is Sy genade so groot dat Hy vergewe sonder dat daar
dalk vergifnis gevra word, of dat sy daaruit kon loskom? Ek glo so. Moet ons
as samelewing nie dalk ook vergifnis vra nie?
Ek glo dat die Here saam met ons bedroef is oor die toestand van hierdie
wêreld, maar dat Hy dalk meer van ons verwag, hoe en wat weet ek nie.
Ek vra jou vandag net twee dinge. Wees saam met my uiters dankbaar as jy, of
jou kind nie in daardie toestand verval het nie. En tweedens, wees daar vir
mense wat net 'n drukkie, of bietjie koestering nodig het. ~ Willem Botha,
10/09/2018 |
|
“Kom na My toe dat julle gered kan
word, almal op aarde.” (Jes. 45:22) Is dit nie die wonderlikste uitnodiging
van die Here nie. Sy redding en bevryding, Sy genade en goedheid is vir
almal bedoel. Oorvloedig en gratis. Joh. 3:16 sê mos: “God het die wêreld so
lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie
verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ek sien in beide hierdie
verse ’n voorwaarde – ons moet kom, ons moet glo. Sy reddende hand is
uitgesteek, dit berus by ons om dit te aanvaar. Waarvan verlang jy vandag
bevryding? Dalk skuldgevoelens, geheime sondes of groot foute wat jy begaan
het? Dalk hardkoppigheid en selfgerigtheid wat maak dat jy dink jy het nie
die Here nodig nie? Dalk verwerping en mishandeling waaraan jy onderwerp is
of was? Dalk verslawing van ’n aard? Dalk ’n diep hartseer en droefheid, of
siekte? Die Here nooi jou uit om na Hom toe te kom sodat jy gered en bevry
en gehelp kan word. Hy wil Sy vrede en rus in jou hart en gedagtes kom
deponeer. Nader tot God en Hy sal tot jou nader – belofte! “Ek lê ’n eed af
in my eie Naam, wat Ek sê, is betroubaar, dit is ’n woord wat nie onvervul
sal bly nie.”(Jes. 45:23) ~ Wilna Botha, 06/09/2018 |
|
Lag
... en die wêreld lag saam, huil en jy huil alleen. Ons almal ken hierdie
spreekwoord, maar ek dink nie dis meer waar nie. Die vet weet, sosiale media
floreer absoluut op die negatiewe, veral as dit by politieke kwessies kom.
Hoeveel negatiewe boodskappe kry jy bedags op verskillende platforms? Sommer
sulke nuttelose kommunikasie wat net jou werktyd mors en jou afrem. Ek is
sommige dae sommer lus en haal 'n klomp van hierdie "apps" van my foon af.
Ons is nou maar eenmaal aanmekaargesit om eerder oor die negatiewe te tob as
om die positiewe te fier.
Spr. 17:24 (1953 vertaling) "’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n
verslae gees laat die gebeente uitdroog."
Hierdie vertaling druk dit nogal erg uit, "... 'n verslae gees laat die
gebeente uitdroog."
Kom ek daag jou uit oor hierdie ding van negatiewe inligting. Ek is seker jy
was ook al die afgelope tyd konstant gebombardeer met mense se negatiewe
menings oor baie dinge, en dit het jou lekker opgeklits. My vraag is nou aan
jou: het dit 'n blou duit verskil gemaak aan jou, om jou lewe positief te
verander? Ek glo jy sal saamstem dat dit net mooi niks goeds teweeg gebring
het nie. Dus, of jy hierdie goed gehoor het of nie, kwaad geword het of nie
en of jy saam geskreeu het teen dit of nie, niks het verander nie. Ek het al
op die nuus gesien hoe mense klippe gooi en toi-toi omdat hulle nie huise
het nie. Het een enkele een van hulle 'n huis gekry a.g.v. hierdie optrede?
Nee, hoegenaamd nie! Hierdie goed laat net ons gebeentes uitdroog.
Dit lyk vir my dus of ons maar eerder onsself moet programmeer om met 'n
vrolike hart te leef, want dit bring boonop genesing vir jou liggaam. Ja,
letterlik genesing!
Dus, dis jou keuse, siek gestres oor goed wat jy nie kan verander nie, of
vrolik omdat jy SOVEEL het om voor dankbaar te wees.~ Willem Botha,
05/09/2018 |
|
Hulle sal teenoor jou bely: ”Waarlik,
God is by jou.” (Jes. 45:14) Sjoe, ek sal graag wil hê dat my lewe só sal
wees dat mense dit van my kan sê. Dat hulle kan sien dat die Here deel is
van my lewe. Dat hulle kan beleef dat ek anders is, dat ek nie kwaad word
nie, dat ek nie ongeduldig is nie, dat ek almal kan liefhê en vrygewig is
met my goed en my tyd, dat ek wysheid en raad het in moeilike situasies, dat
ek as’t ware die geur van Christus versprei. Dat ek onverskrokke kan wees in
my geloof en die Here blindelings vertrou. Dat Sy teenwoordigheid, Sy krag
en Sy wonderdade só sigbaar sal wees, dat dit mense sal laat sê: “Waarlik,
God is by jou en daar is geen ander nie, daar is nie nog ’n God nie.”
Ongelukkig is dit baie keer die teendeel en moet ek bely dat my gedrag en
wat ek kwytraak partykeer eerder die wenkbroue sal laat lig as wat dit eer
aan die Here sal gee. Mens hoor mos baie keer dat mense sê: as dít is hoe ’n
Christen optree, dan wil ek nie een wees nie. Ek bid dat dít nie waar sal
wees van een van ons nie! Mag dit vir ons wees soos Daniel en sy vriende wat
ten alle koste getrou gebly het, vasgestaan het in hulle geloof en vir wie
die Here gered het uit die brandende vuur en beskerm het in die leeukuil.
Kyk watter eerbetuiging het die heidense koning aan die Here gebring op
grond daarvan: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal
nie vernietig word nie, sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry,
Hy doen tekens en wonders.” (Daniël 6:28) Waarlik, God is by jou! ~ Wilna
Botha, 04/09/2018 |
|
Bereken die koste
Spr. 16:25 "Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die
uiteinde daarvan is die dood."
Hierdie teks het al vreeslik hard met my gepraat, want hy het my al dikwels
tussen die oë getref. Dit hou 'n geweldige waarskuwing in vir die lewenswyse
wat ons kies. Verkeerde dinge kan so reg lyk, en ons rasionaliseer so maklik,
dat ons naderhand nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie.
Ek het al met vele mense te doen gekry wat vreeslik diep in die moeilikheid
gekom het, omdat hulle dinge gedoen het wat hulle uiteindelik in absolute
wanhoop en armoede gelaat het, en selfs die gevangenis in die oog staar. Van
hierdie mense het vanuit weelde na 'n bankrot bestaan geval. Een van daardie
persone het eendag hierdie woorde gesê: "As jy val, maak dit ten minste die
moeite werd." Uiters gevaarlike woorde, want jy hou nooit op val nie.
Hierdie gedagte is natuurlik nie net beperk tot dinge wat teen die wet is
nie, maar ook in ons daaglikse handel en wandel. 'n Buite-egtelike
verhouding is een van daardie dinge wat SOVEEL lewens vernietig, met
ondenkbare gevolge. Om dinge van mense te sê wat nie waar is nie, bring
skeiding wat nooit herstel kan word nie. Drankmisbruik kan lei tot 'n
onskuldige persoon se dood.
Dan wonder ek net by myself of ons nie maar altyd weer en weer die koste
moet bereken voor ons iets aanvang nie. Soms gee iets vir ons 'n klein
rukkie genot, maar die skade is dalk nimmereindigend.
Ons moet maar so naby as wat ons kant aan Jesus se sy leef, dan behoort ons
veilig te wees. Luister na Sy raad, en eerbiedig ten alle tye die wet.
Pred. 8:5 "Wie 'n bevel gehoorsaam, beland nie in die moeilikheid nie. Wie
wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel~Willem Botha, 03/09/3018 |
|
“Ek maak lig en skep die donker; Ek gee
voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.” (Jes.
45:7) Hierdie is een van die verse in die Bybel wat só duidelik vir my sê
dat die Here in beheer is van alles. Ja, selfs rampe en siektes en swaarkry
en dood is nie buite Sy beheer nie. Vir party mense is dit moeilik om te
aanvaar, want hulle redeneer dat ’n God van liefde nie swaarkry kan of sal
toelaat nie. Vir my is dit egter ’n gerusstelling om te weet dat niks buite
Sy wil en Sy wete en Sy teenwoordigheid is nie. Ek weet ook al vat die lewe
watse draaie, die lig en die voorspoed sal óók weer seëvier, alles sal weer
ten beste saamwerk en uitwerk, want die Woord sê alles sal ten goede meewerk
vir die wat Hom lief het. (Rom 8:28) God is altyd besig met ’n groter
prentjie as dit wat vir ons sigbaar is. Hy is altyd besig met vorm en vou en
slyp en suiwer aan ons almal en dié rondom ons. “Durf die klei vir die een
wat dit vorm sê: “Wat maak jy?” (Jes. 45:9) Nee, natuurlik nie! Vertrou Hom,
want Hy is God! ~ Wilna Botha, 30/08/2018 |
|
Reën
Jy kan bid vir reën tot jy blou word in jou gesig, want as die weerpatrone
nie reg is nie, sal daar nie 'n druppel reën val nie. Dan is jou gebed net
'n mors van tyd.
Ek is oortuig daarvan dat hierdie paar woorde jou sommer onmiddelik ontstel
het! Hierdie woorde was baie jare gelede ge-uiter deur 'n persoon (nogal 'n
ouderling) by 'n wyksbyeenkoms. Natuurlik het 'n paar mense heftig gereageer
en hom herinner aan wat die Bybel sê.
Ek dink elke enkele gelowige boer sal jou vertel van wonderwerke wat God
gedoen het deur reën te gee op die regte tyd (al was dit na lang droogtes).
Reën is een van die sigbare en tasbare dinge wat die Here gee om die mens en
die natuur in stand te hou.
Ek glo elkeen van ons het ook al ervaar dat die Here ons gebede in ons
droogte tye verhoor, selfs al het mens dit glad nie verwag nie, en dat Hy
vir ons versorg op bonatuurlike maniere. Ons dien inderdaad 'n God van
wonders, en wonderwerke is nie net iets wat in die "Bybelse tyd" gebeur het
nie. Die Here doen elke enkele dag wonders wat bo die mans se verstand is.
Ons elkeen kan daarvan getuig, en elkeen van ons kan ook getuig dat gebed "werk",
want die Here hoor die hulpgeroep van Sy kinders, op die regte tyd, en Hy
regeer daarop.
Mal. 3:10 "Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets
te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige.
Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir
julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie."
Sag.10:1 "Wanneer julle reën nodig het, maar dit reën nie, dan moet julle
vir die Here reën vra. Dit is die Here wat die wolke vol water maak sodat
dit hard kan reën. Dit is Hy wat reën gee vir die plante in die veld."
Lev. 26:3-4 "As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en
daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die
lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra."
Hierdie paar tekste sê baie duidelik dat die Here in beheer is van die
natuur en van die mens, en dat ons ons versugtinge aan Hom moet bekend maak.
Vra, en hou aan vra, totdat die Here weer "reën" in jou lewe gee. Hy IS 'n
God van wonders! ~ Willem Botha, 29/08/2018 |
|
“Ek is die Here, daar is geen ander nie,
buiten My is daar geen God nie.” (Jes. 45:5) Hier rondom Jes. 43-46 hoor
mense hierdie woorde oor en oor. Ek het so vinnig getel en by agt keer
uitgekom. Dit kom soos ’n refrein: ... buiten My is daar geen God nie, daar
is geen ander nie. Geen ander Redder nie. Geen ander Verlosser nie. Geen
ander Helper nie. Geen ander Vader nie. Het die volk dit dan nie geglo nie?
Was hulle doof vir hierdie aanspraak wat die Here gemaak het? Of het hulle
hul laat verlei deur ander, dooie, nikswerd afgode? Het hulle gedink hulle
kan meer as een god dien? Het hulle dalk die Here se bestaan en
betrokkenheid en medelye bevraagteken? Ek dink dit is ’n “ja” op elkeen van
hierdie vrae. En hulle is nie alleen nie. Ek raai ons staan vandag maar net
so skuldig en ek vra myself die vraag: is daar dalk iets wat vir my
belangriker is as die Here, is daar iets (of iemand) wat meer van my aandag,
liefde en bewondering ontvang as die Here self? Hy is ’n jaloerse God wat al
ons aandag, lojaliteit en toewyding wil hê, Hy wil nie meeding met ander
gode nie, nie tweede viool speel teenoor ons eie-ek, ons gejaag na kennis,
roem, sukses en besittings nie. Die Here sê: “Ek gee die eer wat My toekom,
aan niemand anders nie.” (Jes. 48:11) Mag hierdie refrein in ons harte en
gedagtes bly sodat ons dit gló en uitleef: daar is géén ander God nie. ~
Wilna Botha, 28/08/2018 |
|
'n Gewone dag
Soos altyd, soos elke ander gewone dag, het hulle (soos gewoonlik), op 'n
vaste tyd wakker geword. Waarskynlik het hulle oor die gewone dinge gepraat
en soos gewoonlik die dag, die naweek en dalk 'n vakansie bespreek. Dalk het
hulle, soos gewoonlik, saam gebid vir die Here se beskerming op hulle en
hulle gesin. Soos gewoonlik het hy gegroet en gaan werk.
'n Paar ure later het die foon gelui en "gewoon" het onherroeplik verander
en daardie definisie van "gewoon" sal NOOIT weer dieselfde wees nie. 'n Paar skrikwekkende woorde: Hy is oorlede aan 'n hartaanval. Hoekom Here, hoe is
dit moontlik? Met wie gebeur dit? Hoe op aarde gaan mens aan met hierdie
nuwe, aaklige lewe? Hierdie dag het so gewoon begin, maar die skok, trauma
en hartseer het 'n gesin se lewens totaal uitmekaar geskeur. Niks sal ooit
weer gewoon wees nie. Waar was U Here?
Dit het die Here behaag... Ons lees dit gereeld op 'n begrafnisbrief. Het
dit? Is dit vir die Here behaaglik? Volgens die HAT verwys dit na "aangenaam"
en "genotvol". Nee, ek hou glad nie van daardie frase nie.
Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die
Here. Selfs al gaan ek deur donker dieptes... In U hande is ek veilig. Waar
anders sal daardie troos vandaan kom?
Die Here dra haar deur hierdie verskriklike nuwe "normaal" en deur Hom kom
die troos en selfs genesing, al heel die wonde nooit weer ten volle nie.
Hy was 'n predikant, 'n baie goeie, Godvresende predikant. ~ Willem Botha,
27/08/2018 |
|
“Ek stel die toekomsvoorspellers aan
die kaak, Ek maak die waarsêers belaglik. Ek weerlê die geleerde mense, Ek
ontmasker hulle kennis as dwaasheid.” (Jes. 44:25) Niemand, behalwe die
Here, weet wat in die toekoms lê nie. Baie mense probeer vooruit kyk en
voorspellings maak, maar hulle kan dit net doen met kennis en inligting wat
hulle vandag het. Hulle voorspellings is niks meer as raaiskote nie. Daar is
selfs mense wat die tyd van die wederkoms probeer voorspel, terwyl die Here
sê dat nét Hy die dag en uur weet. Elders sê die Bybel dat God se eer lê in
dit wat Hy verborge hou (Spr. 25:2) Hy is in beheer en Hy besluit wat sal
gebeur en ons moet erkenning en eer aan Hom gee daarvoor. Jakobus sê mos ook
dat ons nie sommer net kan sê ons sal môre dit of dat doen nie, want ons
weet nie hoe ons lewe môre sal wees nie. Hy sê mense wat dit doen, is te
seker van hulleself en praat groot. Wat ons moet doen, is om alle vertroue
op die Here te plaas vir die toekoms, alle eer en erkenning aan Hom te gee
as die enigste een wat regtig die toekoms ken. Ware wysheid is om oorgegee
aan God te lewe en Hom te vertrou met jou toekoms. Vir my gee dit ’n
kinderlike gerustheid, ’n gemaklike vrede om te erken dat God alles weet en
in beheer is van alles. ~ Wilna Botha, 23/08/2018 |
|
Gaan dit regtig net sleg in hierdie
lewe? Is daar regtig nie meer hoop nie? Is ons regtig net tot verval en
verwoesting verdoem?
Daar is 'n pragtige lied met die naam "Outrageous grace" wat 'n bietjie
balans gee, en toe ek vandag daaraan dink het ek net weer besef dat mens
dalk net weer dinge uit 'n nuwe hoek moet bekyk. Die lirieke van hierdie
lied gaan min of meer soos volg:-
Daar is baie pyn in hierdie wêreld, maar daar is baie meer genesing.
Daar is baie moeilikheid en swaarkry, maar daar is baie meer vrede.
Daar is baie haat, maar daar is baie meer liefde.
Daar is baie sonde, maar daar is baie meer genade.
Daar is baie vrees, maar daar is baie meer vryheid.
Daar is baie donkerte, maar daar is baie meer lig.
Daar is baie donker wolke, maar daar is baie meer visie.
Daar is baie dinge wat vergaan, maar daar is baie meer lewe.
Ek dink hierdie dinge is vir die meeste mense waar, maar nie vir almal nie.
Daar is egter vele mense wat net nie meer die silwer randjie om die donker
wolk kan sien nie, omdat die negatiewe invloede net eenvoudig te groot is.
Hier is die koor gedeelte van hierdie lied:-
"Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Love unfurled by heaven's hand
Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Through my Jesus I can stand"
Inderdaad, deur die genade van Jesus kan ons staande bly. ~ Willem Botha,
22/08/2018 |
|
“So sê die Here jou Verlosser wat jou
in die moederskoot gevorm het: Ek is die Here, Ek het alles geskep.” (Jes.
44:24) Die Here wat alles uit niks geskep het, het jou en my ook geskep. Hy
het jou in die baarmoeder gevorm. Hy was betrokke. Hy het dit sélf gedoen.
Met Sy eie hand. Hy het jou beplan en voor jou geboorte alreeds ’n plan vir
jou lewe gereed gemaak. Ps. 139 sê mos ook hoe die Here beplan, gevorm en
geweef het aan jou waar niemand dit kon sien nie en terwyl jou ma dalk nog
nie eens van jou geweet het nie. Daar in die baarmoeder het sy sorg en
beskerming alreeds begin. “Reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my
beskerm.” (Ps. 71:6) Toe jy nog nie ’n naam gehad nie, het God reeds jou
naam geken - selfs voor iemand van jou bestaan geweet het! “Toe ek nog in
my moeder se liggaam was, het Hy my op my naam genoem.” (Jes. 49:1) Dalk is
daar oor jou gesê dat jy ’n glips of ongewens was – weet egter dat die Here
nie verras was nie, want van die eerste oomblik daar diep in die baarmoeder,
was Hy daar en het Hy jou op jou naam genoem. Gen. 1:31 sê:
“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.”
So kyk Hy elke dag met tevredenheid na my en jou ook en sê: dit is baie goed!
~ Wilna Botha, 21/08/2018 |
|
Uitkoms
Ek dink jy sal saamstem dat die dag tot dag uitdagings in die lewe by die
dag toeneem. Ek is oortuig daarvan dat die lewe van 30 jaar gelede baie
minder gekompliseerd was en dat mense makliker oor die weg gekom het. Vandag
is straathoek bedelaars volop, mense verloor hulle werk in 'n oogwink en ons
hoor baie meer gereeld van mense wat in wanhoop verval.
Waar is die Here in hierdie tye? Is Hy minder daar vir ons? Het Sy hart
verhard teenoor Sy kinders? Draai Hy makliker Sy gesig weg as in die verlede?
Nee, gewis nie. Een ding waaraan ek egter glad nie glo nie, is dat dit nooit
sleg gaan met Christene nie, en dat die Here se kinders nooit siek word nie,
en nooit finansieel sukkel nie. Daardie "teologie" is 'n myl wyd, maar net
'n duim diep, en baie gevaarlik.
Wat egter 'n bewese feit is, is dat die Here DAAR is, juis in moeilike tye,
en ons beskerm en koester IN die slegte tye. Voorts is Hy die een wat
uitkoms gee, al voel dit soms of dit te laat gaan wees. Die Here is altyd
betyds, al begin ons magteloos en moedeloos voel. Hy gee ALTYD uitkoms, al
is die uitkoms anders as waarvoor ons gehoop het. Hier is 'n paar tekste
waaraan ons kan vashou.
JOB 5:11 "Dit is Hy wat die vertraptes weer optel, wat uitkoms gee aan dié
wat ly."
Ps. 9:15 "Dan kan ek van al u roemryke dade vertel, in die poorte van Sion
kan ek juig oor die uitkoms wat U gegee het."
Ps. 12:6 Maar die Here sê: “Die swakkes word mishandel en die armes kla.
Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”
Ps. 13:6 "Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my
hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het."
Ps. 21:6 "Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien, met roem en eer
,
het U hom oorlaai. "
Ps. 85:10 "Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende
mag in ons land openbaar. ~ Willem Botha, 20/08/2018 |
|
“Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander
god behalwe Ek nie.” (Jes. 44:8, Die Boodskap) Enige iemand wat oor ’n saak
wil getuig moet self gesien, self gehoor en direk beleef het en dit dan met
geloofwaardigheid oorvertel. Wat is dit wat jy al self gesien, gehoor en
beleef het en glo oor die Here waaroor jy kan getuig? Het jy al self
ondervind en kan jy met oortuiging sê: Hy is die enigste God, die Almagtige,
die Koning, die Eerste en die Laaste, jou Verlosser (soos Jes. 44:6 sê)?
Ps. 34:9 praat ook van die eie, persoonlike ondervinding wat ons van die
Here se goedheid kan hê. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is.”
Smaak en sien dat die Here goed is, sê die ou Afrikaanse vertaling. As jy
dít beleef het, kan jy daaroor getuig. Dit laat my ook dink aan Tomas vir
wie Jesus gesê het om met sy vinger, sy hand en sy eie oë te ervaar dat Hy
die ware God is: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou
hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees
gelowig. En Tomas sê vir Hom: My Here en my God!” (Joh. 20:27-28) Na die
persoonlike ervaring volg die belydenis en getuienis: My Here en my God! ~
Wilna Botha, 16/08/2018 |
|
Seisoene
Gister roep vroulief my opgewonde om te kom kyk hoe die eerste bloeisels aan
'n boom in die tuin sit. My eerste emosie was een van opgewondenheid en
vreugde, want dit dui die einde van die koue winter aan. Onthou jy die
liedjie "Kyk dis September weer, lente is ons land, kom vier met ons 'n keer,
feesvreugde by die strand..."? September is inderdaad nog 'n paar dae weg,
maar die natuur is besig om die dor en droog van winter af te skud, om plek
te maak vir die prag van lente. Ek het net weereens besef hoe ongelooflik
die skepping is. Daar het nog nie reën geval nie en op die oog af is alles
nog dieselfde as 'n paar dae gelede, maar tog, op 'n wonderbaarlike wyse,
verander alles voor jou oë. God is aan die werk, en Hy verander dinge om
presies te wees soos wat Hy dit geskep het.
GENESIS 1:14 "Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om
dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene,
dae en jare aan te dui."
PSALMS 74:17 "U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en
winter is die werk van u hande."
Twee pragtige tekste wat dinge presies beskryf soos wat ek en jy dit
waarneem.
Ons gaan ook deur seisoene in ons lewens, ons beleef ook die dor en droog
van "winter ", ons kry ook swaar en smag na "beter dae", daardie dae wanneer
die bloeisels die einde van ons slegte omstandighede aandui. Soms glo ons
ons gaan vir altyd in die wintertyd vassit, maar dis selde waar, die Here
bring gewoonlik weer voorspoed, want die punt is, Hy is nie weg in ons
wintertyd nie, dis Hy wat ons warm hou en versorg totdat die bloeisels kom.
As dit goed gaan met jou, moenie dink dit gaan vir altyd net goed gaan nie,
maar as dit sleg gaan met jou, moenie glo dit gaan vir altyd net sleg gaan
nie, dis maar net hoe seisoene werk. Ons moet maar net leer om geduldig te
wag, en hou aan uitkyk vir die bloeisels , hulle kom soms totaal onverwags.
~ Willem Botha, 15/08/2018 |
|
“Ek sal my Gees uitgiet op jou
kinders, my seën op jou nakomelinge ... Die een sal sê: “Ek behoort aan die
Here,” ... die ander sal op sy hand skryf: Die Here s'n.” (Jes. 44:3-5) Hoe
ongelooflik kosbaar is hierdie belofte oor ons kinders en kleinkinders nie.
God het ’n verbond met ons én ons kinders, soos wat Gen. 17:7 sê en wat in
Hand 2:39 bevestig word: “My beloftes aan jou is ook jou kinders s’n. Wat Ek
beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is.” God
steek deur ons verbondenheid aan Hom sy hand uit na ons kinders. In moeilike
tye wanneer dit dalk voel of jou kinders ’n ander pad kies, wanneer hulle
opstandig raak en jy moedeloos en bekommerd is oor hulle kan jy met
vrymoedigheid vasklou aan dié versekering dat die Here hulle nie sal los nie
en dat Hy steeds Sy seën en Sy Gees op hulle sal uitgiet – ongeag hulle
ouderdom. Deur ons voorbeeld, ons gebede en God se getrouheid aan Sy verbond
sál daar ’n dag kom wat hulle gaan bely: Ek behoort aan die Here. Deur ons
as ouers is hulle wortels in die Here en kan ons in ons geestesoog alreeds
sien dat dié woorde op hulle geskryf is: Die Here s’n. ~ Wilna Botha,
14/08/2018 |
|
Restourasie
Ongeveer 33 jaar gelede het ek hierdie sleepwaentjie by iemand gekoop, en jy
kan op die foto sien dat hy absoluut gehawend was. Ek het besluit om hom te
restoureer en na baie harde werk van roes uitsny en wegskuur, panele vervang
en om hom te spuitverf, was hy so goed soos nuut. Min mense kon glo dat hy
eens so sleg gelyk het en splinternuut was na sy "make-over". Mettertyd het
hy egter weer agteruitgegaan en is nog twee keer weer gerestoureer en hy is
vandag steeds padwaardig en gelisensieer. Glo dit of nie, maar dis 'n 1971
Venter waentjie en dus 47 jaar oud. Die vorige eienaar kon moed opgegee het
en hom ashoop toe gesleep het, maar ek het die potensiaal in hom gesien en
baie waarde uit hom gekry.
Nou ja, dalk voel jy vandag soos daardie gehawende sleepwa en voel jy jy is
net reg vir die ashoop, en dalk sien mense net die roeskolle en die
verwering in jou, en dalk het ander mense ook alle hoop laat vaar dat dinge
beter sal gaan, maar dis nie waar nie. Die Here kan ENIGE mens, ongeag van
jou "toestand", splinternuut maak. Daar is nie 'n enkele mens wat nie deur
hierdie stadiums van verval gaan nie, daar is geen mens wie se kop altyd bo
water bly nie, daar is nie een wat nie by tye wil opgee nie, maar een ding
is seker, die Here gee NOOIT met Sy kinders op nie. Daar kan net nie te veel
roeskolle in jou lewe wees wat die Here nie kan uitskuur nie. En ja, soms is
dit baie seer as die Here daarmee besig is , en soms kan ons nie verstaan
hoekom die Here so lank neem met ons restourasie nie, maar Hy weet presies
waarnatoe Hy met ons werk.
Klaagliedere 3:21 - 24 "Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek
hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen
einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê
vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." ~ Willem Botha,
13/08/2018 |
|
“Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou
sondes nie.” (Jes. 43:25) Getrou aan wie Hy ís, getrou aan sy karakter, ís
die Here ’n barmhartige en genadige God. Hy vergewe sondes, Hy wis
oortredinge uit, dit verdwyn soos miswolke ( lees Jes. 44:22), Hy vergeet
daarvan, Hy hou nie boek daarvan nie, Hy verwyder dit so vêr soos die ooste
van die weste is, Hy maak dit tot niet en gooi alles in die diepsee (lees
Miga 7:19), Hy hou Hom blind en doof vir sondes van die verlede - dis wie
Hy is en Hy sal nooit anders optree nie, nooit van plan verander nie, nooit
uitsonderings maak nie. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes, sê
die Woord. Glo dit asb. eens en vir altyd. Jesus het betaal. Jy is vry. Die
skuldlas is weg. “Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n
rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met
ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het
egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die
skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis.
Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.”
(Kol 2:14, Die Boodskap) Mag hierdie woord vir jou, soos vir my, ’n groot
las van jou hart en gedagtes afhaal en jou verlig en vry laat voel. ~ Wilna
Botha, 08/08/2018 |
|
AfriKLAners is (ON)plesierig
Num. 11:1-2 "Dit het sleg gegaan met die volk, en hulle het die Here daaroor
verwyt. Toe die Here dit hoor, het Hy kwaad geword en vuur onder hulle in
gestuur. Dit het 'n deel van die kamp verbrand. Die volk het hulle nood by
Moses gekla, en hy het tot die Here gebid, en die vuur het doodgegaan."
Hier lees ons van die Israeliete se gekla in die woestyn toe hulle verlang
na die vleispotte van Egipte. Ai, klink eintlik of dit ons eie ou nasietjie
is wat daar sit en murmureer. Of nee wag, eintlik skryf ek hierdie net vir
myself, maar jy kan dit ook maar lees as jy wil. Ek ken daai kla-sessies
baie goed, want ek oefen daagliks daaraan.
Maar ek dink nou nie ek is die enigste een nie. Ons hou mos daarvan om ons
lot by ander te gaan bekla, of hoe? Kla oor alles en sien net niks meer goed
in enigiets nie, en dan glo ons boonop ander mense is lus om daarna te
luister! Ek besef nou net, dis eintlik AAKLIG!
Nou sien ek in hierdie deel in Numeri dat die Here Hom vererg het vir die
mense en vuur onder hulle ingestuur het. Dit het nogal mooipraat van Moses
geverg om die Here so ver te kry om die vuur te blus.
Dink ek toe so by myself: Sê nou maar die Here neem die dinge weg waaroor
ons so kla? Kla oor jou werk en more sit jy op straat, kla oor jou
lewensmaat en die Here neem hom/haar weg, kla oor jou kinders en die Here
neem hulle weg, kla oor jou ou motor en more is jy op die agterpote, kla oor
die huis wat nie so mooi soos die vriende se huis is nie en more slaap jy in
die parkie. Kla oor jou liggaam wat nie meer na wense is nie en more verloor
jy jou gesondheid. Jy sien, as jy teenoor iemand anders kla is die Here ook
in die geselskap, en Hy hoor dalk net ons klagtes as ondankbaarheid.
Miskien moet ons net weer bietjie anders kyk na wat ons het. Bly so bietjie
weg van sosiale media en die nuus af, en bly baie ver weg van klakouse wat
jou vreugde steel.
Ja, dis nie ek wat die ekonomie totaal verwoes het nie, en ek ry nie met my
taxi voor ander in nie, en ek werk vir alles wat ek het, en en betaal my
belasting, en ek "demand" nie dinge wat my nie toekom nie. Maar weet jy wat?
Dis ook nie oor my eie toedoen dat ek nie in armoede iewers in Afrika gebore
is nie, en dis ook nie omdat ek so oulik is dat ek nie in 'n plakkershut
grootgemaak is nie, en dis ook nie omdat ek so goed is dat ek met 'n totaal
volmaakte liggaam gebore is nie. Dis alles net genade.
Toe dink ek so by myself: Sê nou net ek besit slegs dít wgoed aarvoor ek
gisteraand dankie gesê het? ~ Willem Botha, 07/08/2018 |
|
“Jy het nie moeite gedoen om my te dien nie...” (Jes.
43:22) Sjoe, dis darem nie woorde wat ek wil hoor van die Here af nie. Die
vraag kom by my op: hoe moet ons die Here dan dien dat Hy tevrede sal wees,
dat Hy nie sal sê: omdat jy lou is, nie warm of koud nie, gaan Ek jou uit my
mond uitspoeg (soos in Openb. 3:16)? Wel, Hy sê self dat ons Hom met ons
hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag moet dien – Hý
moet die belangrikste wees, ons moet altyd eerste aan Hom dink en aan wat Hy
verwag. Ons moet eerlik en opreg wees teenoor die Here – ons diens aan Hom
moenie net lippetaal wees nie. Dit moet uit eerbied en met respek wees . Dit
moet uiting vind in ons volle oorgawe aan Hom, in ons gehoorsaamheid, in ons
alledaagse gesindheid, in ons diens aan ons medemens, in ons lofsange
teenoor Hom. Ons moenie moeg word om te doen nie, nie verslap of lui
word nie (aldus Gal 6:9), ons moet aandag gee aan die geringstes (soos Matt.
25:45 daarvan praat). Ons moenie uitgebrand en moeg raak vir ons
godsdiensbeoefening nie. Ons moet gereeld stop en stilstaan en fokus op wie
God is, ons moet volgemaak word met Sy karakter en veral met Sy liefde en Sy
genade. Ons moet aanhou glo en aanhou hoop. “Moenie vir een enkele oomblik
verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy
krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here
met groot oorgawe.” (Rom 12:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 06/08/2018 |
|
Here moet asseblief nie met my opgee nie...
Ps. 25:7 "Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is."
Ek hoor hier 'n versugting by Dawid as Hy die Here se guns soek. So asof Hy
wil sê: "Here, moet asseblief nie met my opgee nie."
In Romeine vertel Paulus van sy stryd teen die sonde en hy sê
in Rom. 7:19 "Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek
nie wil doen nie, dit doen ek." Sien jy sy stryd?
Rom. 7:24 "Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"
Ek dink Paulus roep ook eintlik uit: "Here, moet asseblief nie met my opgee
nie!"
So dink ek jy voel dalk soms ook om saam met my uit te roep: "Here, moet
asseblief nie met my opgee nie!" Ek wil so graag sê daar is niks meer wat
tussen my en die Here staan nie, maar ek kan dit nie sê nie. En ja, al ken
ek al die tekste oor genade en al glo ek in die algehele vergifnis van sonde,
is daar soveel twyfel in my hart. Ek twyfel nie in God se bestaan nie (o ja
ek het dít ook al gedoen), maar ek is nie seker of ek daardie
allesoorheersende genade altyd vir my neem nie.
Gelukkig kan ek ook saam met jou uitroep: "Here, ons het ook nie opgegee in
ons strewe na die oorwinning oor sonde nie". Dis 'n ewigdurende geveg tussen
die goed en die kwaad in ons, maar ons weet, die Here gee nooit op met Sy
kinders nie, en ons moet net nooit uit moedeloosheid opgee om te stoei teen
dit wat in ons woed nie.
Rom. 4:8 "Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie."
~ Willem Botha, 02/08/2018 |
|
“Maar moenie net aan vroeëre dinge dink en by die
verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt
om te gebeur, julle kan dit al sien kom ...” (Jes. 43:18-19) Die Here wil
nie hê dat ons moet vashaak by die verliese, vernederings en verdriet van
die verlede nie. Ons hoef nie onsself aan te hou verwyt en vas te bind aan
dit wat agter ons lê nie. Ons hoef nie eens meer daaraan te dink nie, sê die
teks. Die Here se genade maak alles nuut – ja, alles! In Hom is ons nuwe
mense met nuwe hoop, nuwe krag, nuwe denke, nuwe drome, nuwe verwagtinge,
nuwe waardes. Daarom is dit nou tyd om los te breek uit daai ou dinge en
vorentoe te kyk en vorentoe te beweeg. Maak jou los van wat agter is en
strek jou uit na wat voor is (soos wat Fil. 3:13 sê). Kyk, die Here sê die
nuwe dinge wat Hy gaan doen, is in sig vir jou. Hou goeie moed en vestig jou
oë op Hom. Hier is ’n paar van die nuwe dinge wat Hy vir jou kan doen: ’n
drank- of dwelmverslaafde kan vrykom, ’n sondaar kan God se kind word, ’n
dodelike siekte kan genees word, trane kan afgedroog word en hartseer kan
plek maak vir hoop, donker kan lig word, bekommernis en angstigheid kan met
vrede vervang word, as jy swak is, kan die Here jou sterk maak. “...dit
staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.” ~ Wilna Botha,
01/08/2018 |
|
Dit is wel met my siel
Ps. 121 (ou vertaling) "’n BEDEVAARTSLIED. Ek slaan my oë op na die berge:
waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE wat hemel en aarde
gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie
sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE is
jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou
bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar
vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou
ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid."
Hoe pragtig is hierdie Psalm nie! Ek het nou die dag dit weer in die ou
vertaling gelees en die een sinnetjie het my hart baie sterk aangeraak: "...
jou siel sal Hy bewaar".
Ek het die volgende beskrywing van die siel in 'n verduideliking van Dr
Jimmy lê Roux gekry. "In die nouste samewerking met ons liggaam, spesifiek
die werking van my brein, senuwees, sintuie en kliere, beleef ek 'n
selfbewussyn, 'n ego, 'n EK".
Dis vir my meer as net die feit dat ek asemhaal en dus lewe, dis vir my die
totaliteit van wie ek is. In Ps. 121: 7 sê dit: jou siel sal Hy bewaar.
Die Here het dus elke enkele deel en faset van jou lewe in Sy hand en Hy
bewaar dit. Hy bewaar dit teen die bose, Hy bewaar dit teen elke aanval wat
op jou mag wees.
Selfs al gaan jy deur die diepste donkerte, Hy sal jou siel bewaar. Selfs al
kry jy hoe swaar, jou siel sal Hy bewaar. Selfs al val alles in jou lewe
uitmekaar, jou siel sal Hy bewaar.
Selfs al twyfel jy in Sy bestaan, sal Hy jou siel bewaar. Al is jy sterwend,
jou siel sal Hy bewaar. Al voel jy dat jy die stryd teen sonde verloor, sal
Hy jou siel bewaar, want die dag toe jy jou lewe vir Hom gegee het, het jy
ALLES - wie en wat jy is - aan Hom toevertrou. Daarom hoef jy met niks te
spartel nie, want Hy bewaar jou siel.
Jy kan met oorgawe die pragtige lied "It is well with my soul" sing, juis in
tye wat jy moedeloos en magteloos is. ~ Willem Botha, 31/07/2018 |
|
“As jy deur water
moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy
deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie
brand nie, want Ek is die Here jou God ... moenie bang wees nie, Ek is by
jou.” (Jes. 43:2) Hierdie teks (en ander) trek beslis ’n streep deur die
gedagte dat ’n kind van die Here nooit deur moeilike tye sal gaan nie, dat
daar slegs mooi weer en gladde waters sal wees as jy ’n Christen is, dat jy
nooit sal swaarkry, siek word of sukkel nie. Die Here sê nie in hierdie teks
dat daar nié storms en gevare sal wees nie, Hy sê egter Hy stap sáám met jou
daardeur, Hy sê die uitdagings van die lewe sal jou nie onderkry nie, dit
sal jou nie oorweldig nie, jy sál weer anderkant uitkom. Ek sê nie rampe en
swaarkry moet net afgelag word nie, natuurlik is dit traumaties en
angswekkend en lewensveranderend. Wat wel waar is, is dat swaarkry-tye altyd
’n hoër geestelike doel het. Deur jou gesukkel groei jy, leer jy hoe sterk
jy is en kom jy áltyd nader aan die Here. Dis in daai tye wat jy meer sal
bid, meer selfondersoek sal doen, meer sal besef dat jy die Here nodig het,
meer sal ervaar hoe goed Hy vir jou is, meer sal beleef hoe die mense om jou
vir jou omgee. Ek het onlangs weer gesien hoedat iemand wat ’n groot
operasie moes kry in elke stap die Here se krag en teenwoordigheid en
voorsiening beleef het en met elke oorwinningstreetjie die Here se goedheid
en wonderwerke besing het ... en die einde van die pad is nog nie eintlik in
sig nie. Gisteraand het ek op TV ’n jong man gesien wat na ’n ongeluk ’n
kwadrupleeg is. Hy sê hy het nie gevoel sy wêreld stort in duie nie, hy het
dadelik gewéét dat hy oukei gaan wees en dat die Here hom deur sy lewe
voorberei het vir daardie dag. Hy sê sy drome is nie verwoes deur die
ongeluk nie, dit het net verander. Vandag is hy ’n ysterman-rekordhouer. Jóú
storie sal ook goed eindig, want die Here sal alles ten goede laat meewerk.~
Wilna Botha, 30/07/2018 |
|
Ek lees nog steeds so
vers vir vers deur Jesaja en het nou by hierdie stukkie goud uitgekom. Een
van die mooiste beloftes. Een van die diepste trooswoorde. Een van die
hoopvolste versekerings. “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op
jou naam geroep.” (Jes. 43:1) Waar jy jou ook al bevind – op of langs ’n
siekbed, hand-in-die-hare omdat jy nie weet hoe om jou situasie te hanteer
nie, moedeloos omdat te veel dinge skeef loop, hartseer omdat ’n geliefde
weg is, bang omdat jy nie weet wat môre gaan inhou nie – weet vir seker dat
die Here jou naam sê. Hy sê jou naam met deernis, met liefde, met meegevoel.
Hoor dit en wees rustig. Al bevind jy jou dalk op afgedwaalde paaie, op
gevaarlike paaie, op ongehoorsame paaie – weet vir seker dat die Here jou
naam sê. Hy sê jou naam met verwagting dat jy sal luister, dat jy sal
terugdraai, dat jy Sy genade sal aanvaar. Hoor dit en kom terug na Hom toe.
Ja, en selfs daai oomblik wanneer jy moet oorstap van hierdie lewe na die
ewige lewe – weet vir seker dat die Here jou naam sal sê en jou by Hom
verwelkom. ~ Wilna Botha, 26/07/2018 |
|
Spr. 4:23 (ou vertaling) "Bewaak jou hart meer as alles
wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe."
Wat 'n ongelooflike kragtige teks! Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar
moet word. Kom ons dink net vir 'n oomblik terug aan 2000 - 3000 jaar gelede
toe die Bybel geskryf is. Wat het die mense van daardie tyd van die anatomie
van die mens geweet? Hoekom staan hier nie: "Bewaak jou verstand" nie? Met
jou verstand kan jy tog dink en redeneer, maar nie met jou hart nie. Hoe
bewaak mens jou hart? Wel, vir my is die hart jou gevoel sentrum. Dis waar
jy emosies ervaar soos 'n gevoel van liefde, of woede. Is dit toevallig dat
te veel woede uitbarstings kan lei tot 'n hartaanval?
Waarvan moet jy dan jou hart bewaak? Ek kan aan baie dinge dink. Moenie dat
bitterheid in jou hart vashouplek kry nie. Oppas vir mense wat met
negatiwiteit jou lewe versuur, want dit kry vastrapplek in jou hart. Moenie
dat ander mense se probleme, wat hulle oor hulleself bring, jou vreugde
steel nie. Moenie dat die probleme van die land jou onderkry nie. Dis dinge
wat jou hart soms inmekaar laat trek.
Nee, maak jou hart oop vir liefde vir jou mense, en hier praat ek van mense
in jou direkte binnekring. Terloops, hoor jou kinders en gade gereeld dat jy
lief is vir hulle? Maak jou hart oop vir die daaglikse vreugdes van die lewe.
Ja, jy sal moet kies om dit raak te sien. Maak jou hart oop vir die Here,
want dis eers as jy Hom in jou hart toelaat, dat daar werklike intimiteit
plaasvind.
Bewaak jou hart... want daaruit is die oorspronge van die lewe. ~ Willem
Botha, 25/07/2015 |
|
“Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing sy lof
oor die hele aarde.” (Jes. 42:10) Sing ’n nuwe lied! Daar is voortdurend
nuwe geestelike liedere wat geskryf word wat die Here se lof weer op ’n nuwe
manier, met ander woorde en verskillende ritmes besing. Ons hoor dit op die
radio, sien dit op YouTube, sing dit in die kerk, ens. Maar ons is nou nie
almal digters en musikante wat ’n nuwe lied vir die Here kan komponeer nie,
so hoe sal ons nou uiting gee aan hierdie teks? Ek dink wat dit dalk beteken
is dat elke lofsang, oud of nuut, se woorde vir ons vars en nuut moet wees
elke keer as ons dit sing. Moenie net daai liedjie uit gewoonte sing sonder
om te luister na die woorde en dit met jou hele hart te sing nie. Fokus elke
keer van nuuts af op die Here se grootheid, getrouheid, genade en almag, op
wie Hy is en wat Hy kan doen. Sing die woorde asof dit die eerste keer is
wat jy dit sing. Wees met elke loflied opnuut vervul met ontsag en
verwondering oor die Here. Buig opnuut in eerbetoon voor Hom asof dit die
eerste keer is wat jy bewus word van Sy heilige teenwoordigheid. En ja,
probeer gerus ook maar om jou eie nuwe lied te sing. Dit hoef nie musikaal
korrek te wees nie, glo wat jy sing en bedoel dit uit jou hart uit. Daar ís
beslis elke dag iets nuuts waarvan ons kan getuig, waaroor ons kan sing,
waarvoor ons die Here kan loof. ~ Wilna Botha, 24/07/2018 |
|
Gee Gee!!!!!
Spr. 30 : 15a "Die bloedsuier het twee dogters, hulle is "Gee" en Gee".
Ons almal weet van die dinge wat in die afgelope paar maande in die
beleggings wêreld gebeur het toe miljarde rande in 'n enkele dag van die
aandelebeurs uitgewis is, deur een persoon wat net eenvoudig nie genoeg kon
kry nie. Op een of ander manier is jy wat hier lees ook daardeur beïnvloed.
Hoe verskriklik is hierdie tendens nie, dat soveel mense wat SO baie besit,
blatant en sonder enige gewete by armes en pensionarisse sal vat, net om
hulleself verder te verryk. Ons het dit vir baie jare ook tot op die heel
hoogste vlak in die regering gesien gebeur, waar dit wat beskikbaar is
gewetenloos in 'n paar mense se sakke beland. Diegene wat deur die arm
massas in die hoogste posisies geplaas word met hulle stemme, is die wat die
ergste deurloop.
Dit lyk of geld en besittings net eenvoudig die oorhand oor mense kry. Die
ergste van alles is dat soveel mense nie dink dat hulle hoegenaamd iets
verkeerd gedoen het nie. Nou ja, soos jy weet het hierdie kalant wat mense
se breine so benewel 'n naam, en hy word selfs 'n god genoem. Dis natuurlik
Mnr. Mammon.
Mnr. Mammon werk op verskeie maniere. Hy maak dat mense blatant ander mense
uit hulle karige inkomste uit belieg en bedrieg. Hy werk op ander maniere
ook, naamlik inhaligheid. Daar is 'n verskil tussen suinig en inhalig.
Suinig beteken jy gee nie geld uit nie, om watter rede ook al. Inhalig is om
dinge van ander te wil hê waarvoor jy veronderstel is om te betaal. Daar is
slinkse maniere wat mense gebruik.
Lank gelede vra iemand vir my dat ek vir hom moet bid omdat dit nie goed
gaan in sy besigheid nie en hy sukkel om sy finansiële verpligtinge na te
kom. Daar is niks verkeerd daarmee om dit vir iemand te vra nie, maar
daardie persoon woon in 'n peperduur landgoed, in een van die grootste huise
wat ek ooit my voete in gesit het, en die kinders is in 'n peperduur
privaatskool. Ek het sommer lekker by myself gegiggel, want ek het nie
geweet hoe om hierdie sakie met die Here aan te roer nie. My huis is maar
net 'n gewone huis in 'n middelklas woonbuurt en my kinders in 'n gewone
skool. Nou hoe op aarde moet ek nou hierdie gebed bid? Ek het dit maar
liewer gelos.
Aan die ander kant kry jy mense wat my nog meer verstom. En dit is mense wat
uit hulle eie armoede ander versorg terwyl hulleself onder geweldige
finansiële druk verkeer. Mense wat hulle laaste bietjie uitdeel sodat ander
ook kan eet. Ek het BAIE om te leer by daardie mense, want hulle verstaan
wat liefde vir hulle medemens is. Mag hierdie volgende teks vir my ook waar
word.
Spr. 30 : 7 - 9 "Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie;
daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie
arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te
veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm
word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie." ~ Willem Botha,
23/07/2018 |
|
Ps. 117
Hierdie is die korste Psalm in die Bybel en strek oor 'n hele twee versies.
Hierdie Psalm is so kort dat 'n klein kindjie dit kan memoriseer, soos wat
ons dogter jare terug inderdaad gedoen het toe sy nog klein was. Toe ek
vandag dink aan die Psalm het ek weer besef hoe kragtig hierdie 30 woorde
is, en hoe ongelooflik mooi dit die Here se karakter opsom.
Ps. 117:1-2 "Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy
liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie!
Prys die Here!
Die woorde "... want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here
is daar geen einde nie" sê alles wat ek en jy nodig het om van die Here te
weet. Hy is onbeskryflik lief vir jou, en Sy getrouheid ken geen einde nie.
Lees dit weer "... want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die
Here is daar geen einde nie."
En daarom is Hy ons lofprysing werd. Prys Hom elke dag, onder ALLE
omstandighede, sien elke dag raak hoe lief Hy ons het en hoe getrou Hy is.
Sien dit raak as jy in 'n warm bed geslaap het, sien Sy getrouheid raak as
jy gesond is, besef dat dit wat jy geëet het, uit Sy hand kom, wees dankbaar
vir gratis suurstof en doen jou werk met vreugde, want Hy is getrou deur dit
alles vir jou te gee. Wees ook so lief vir ander as wat Hy vir jou is. Hy
doen dit alles, want Sy liefde vir jou is sterk. Prys Hom!!! ~ Willem Botha,
19/07/2018 |
|
“Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak
die ongelyk plekke gelyk.” (Jes. 42:16) Die Here praat hier met blindes,
mense wat geestelik blind is, mense wat Hom nie sien nie, Hom nie erken nie,
nie van Hom weet nie, mense wat nie Sy genade verstaan en ervaar nie, mense
wat nie gered is nie. Wanneer jy na die Here toe draai, Hom in jou lewe
innooi, dan gebeur wonderlike dinge: die donker om jou en in jou verander in
lig en die ongelyke, moeilike, rowwe paaie word gelyk, slaggate word opgevul,
struikelblokke word weggerol. Dís Sy genade in praktyk! Jesus is die Lig vir
die wêreld, sê die Nuwe Testament, niks kan Sy lig uitdoof nie. Wanneer Hy
in jou lewe kom, val die skille van jou oë, word die lig aangeskakel en is
jy vry. Jy sien nuwe dinge raak, die lewe het nuwe betekenis, jy het nuwe
perspektief en sien die ongelyk paaie van die lewe in ’n nuwe lig. Kyk die
versekering wat die Here vir ons in die laaste gedeelte van die teks gee:
“Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” ~ Wilna Botha,
18/07/2018 |
|
Op soek na God...
Elke mens op aarde soek na God, sommige kry Hom en ander nie. In elke enkele
kultuur worstel mense daarmee en sommiges vind een of ander 'n god, of die
ware God, op een of ander manier.
Hand 17:23a "Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar
julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n
onbekende god...."
Paulus stap deur Atene en kom op 'n altaar af waarop hierdie woorde staan.
Dit lyk of die Ateners in hulle soeke dalk uit radeloosheid hierdie altaar
opgerig het. As jy die hele hoofstuk lees sien jy dat Paulus dan van die
ware God vir hulle vertel.
Ek dink mense gaan soek God dikwels op verkeerde plekke. Hy is nie in die
dikte van jou beursie te vinde nie, ook nie in volmaakte gesondheid nie en
nie in totale voorspoed nie, hoewel Hy hierdie voorregte op jou uitstort
wanneer Hy wil.
God is egter ook nie weg as dit swaar gaan met jou nie, ook nie wanneer jou
wêreld om jou in duie stort nie. Hy is ook nie weg as ons nie Sy stem hoor
nie, want dalk hoor ons Hom nie omdat ons nie Sy stem ken nie. Hy is egter
altyd te vinde in die Bybel, en ook in jou gebede, en dalk het ons net nodig
om heeltemal stil te word om Sy stem te hoor.
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy uitgeroep "My God, my God,
waarom het U my verlaat? Daarna het die voorhangsel geskeur sodat ons direk
tot Hom toegang het.
Daarom is Hy nie weg nie, Hy wag elke oomblik vir my en jou. ~ Willem Botha,
17/07/2018 |
|
“’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit
wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.” (Jes. 42:3) Hier word in Jesaja
gepraat van Kores, die dienaar wat God aanstel om Sy volk te help en te lei
en te red. Dit verwys natuurlik uiteindelik ook na Jesus , soos wat die
vervulling daarvan in Matt. 12:20 beskryf word. Dit verwys na God se
wonderbaarlike genade. Dit beskryf Jesus se oneindige liefde vir sy
volgelinge. Geen sondaar kan té sleg wees om God se genade te ontvang nie.
Geen verlorene kan té vêr afgedwaal wees om deur God gered te word nie. Geen
hart kan té hard wees om deur die Here vernuwe te word nie. Al is die riet
geknak, die Here sal hom nie afbreek nie en Sy rug draai nie. Sy genade is
altyd daar, Sy liefde wíl en kan en sal weer uitreik na die geknakte riet.
Sy krag sal hom weer regop tel en nuwe lewe in hom bewerk. Al brand die
lamppit van jou lewe hoe dof, die Here sal dit nie uitblaas nie. Hy sal deur
sy omgee en medelye en barmhartigheid die vlam vertroetel en aanblaas totdat
dit weer helder skyn. Kom pak jou onvolmaaktheid op Jesus af – jy sál vir
seker genade op genade ontvang. ~ Wilna Botha, 16/07/2018 |
|
Luister wat sê die Here vir jou: “Moenie bang wees nie,
Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek
help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) En dan
sê Hy dit wéér in vers 13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê
vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou. Moenie bang wees nie.” Drie keer
sê Hy: moenie bang wees nie. So, wat maak jou bang? Waaroor lê jy en
bekommer in die nag? Wat is dit wat jou keel toedruk en jou in koue sweet
laat uitslaan? Wat is dit wat jou die gevoel gee dat alles buite beheer is,
jy kan nie meer uithou nie en jou voete gly? Is jy bang vir die onbekende en
dit waaroor jy geen beheer het nie? Is jy bang jy verloor jou werk of jou
gesondheid of een van jou geliefdes? Is jy dalk bang om standpunt in te neem
en stroomop te swem? Is jy bang vir ’n eksamen, werksonderhoud of
ondervraging wat voor jou lê? Is daar iets wat jy nie kans sien om te doen
nie? Is al jou hulpbronne uitgeput – geen krag, geen geld, geen raad en geen
planne? Hoor vandag die rustige stem van jou Skepper wat sê: moenie bang en
bekommerd wees nie. Kyk waarop kan jy reken: Hy maak jou sterk, Hy help jou,
Hy hou jou vas, Hy vat jou hand, Hy red jou. Daar in jou stresvolle oomblik,
probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te
doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is die wete
dat jou God by jou is. Hy gee nie noodwendig die antwoorde nie, Hy gee
Homself. Aanvaar dit in geloof. ~ Wilna Botha, 12/07/2018 |
|
Ouderdom
Is daar 'n positiewe manier om na ouderdom te kyk? Wel, vir seker, hang net
af van mens se gesindheid.
In dieselfde deel uit Prediker 12 waar die proses van oudword beskryf word,
kom baie goeie raad, en dit in hoofstuk 11.
Pred. 11:7-10 "Hoe mooi is lig nie, en hoe lekker die strale van die son. As
iemand lank leef en oud word moet hy die lewe geniet. Hy moet egter ook aan
die dood dink en onthou dat die tyd na die dood lank gaan duur. Alles is
sinloos. Daar is niks om na uit te sien nie. Jongmens, geniet daarom jou
lewe en wees altyd gelukkig. Gaan oral waar jou hart en jou oë jou lei. Leef
altyd voluit. Doen waarvan jy hou. Maar onthou, God sal jou nog oordeel. Jy
sal aan Hom rekenskap moet gee van alles wat jy doen. Jongmens, verban alle
verdriet en pyn uit jou hart, 'n mens is nie vir altyd jonk nie."
Is dit nie waar nie? Ek hou baie van die woorde: "... verban alle verdriet
en pyn uit jou hart." Ja natuurlik sal daar verdriet en pyn kom wat nie deur
jou eie toedoen is nie, maar soms tob ons te veel oor onnodige dinge.
Ouer word help mens om verby 'n klomp nuttelose dinge te kyk.
Ek veg teen dinge wat in my kop kom nes skrop soos 'n plakker wat nie huur
betaal nie. Mense se negatiewe opinies raak al hoe minder belangrik. Die
mooiste en grootse huis in die buurt beteken niks meer nie. Om dinge te
vergader wat mooier is as die "Jones's next door" se goed, het geen waarde
meer nie. Inteendeel, dit staan in die pad. Daar is nou meer tyd (en dalk
selfs 'n paar rand) as ooit tevore om lekker goedjies te doen, en ons doen
dit. 'n Lekker eet dingetjie op sy tyd gaan my nie nou gouer doodmaak as wat
die ouderdom in elk geval gaan doen nie. En die rotresies? Nee wat, ek het
besef ek is g'n rot nie, en ons leef volgens die teks wat sê: "Woon en werk
rustig voort". So is daar vele dinge wat net nie meer dieselfde waarde het
as wat dit vroeër gehad het nie.
Soveel vir die aardse goed. Op Geestelike vlak hardloop ons nie meer agter "nuwe"
strominge aan nie en staan vas gewortel in ons geloof. Op ons ouderdom word
ons nie meer deur ander se opinies meegesleur nie en draf nie meer agter
mense met nuwe "insigte" aan nie. Ons Geestelik lewe is nou op 'n rustige en
standvastige vlak.
Hoe lyk die toekoms? Mens kies self of die pad voor jou toemaak of oopmaak.
Vandag is die dag wat jy die oudste is as wat jy nog ooit was, en die
jongste van wat voor jou lê. Dit help nie om te leef in die toekoms nie,
leef nou.
Elke dag se kersie word aan die einde van die dag doodgeblaas, en net die
Here weet hoeveel is oor. Ek het geen begeerte om daardie kennis te hê nie.
Soos iemand tereg gesê het: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery,
but today is a blessing."
Mag die Here jou seën met vele "today's". ~ Willem Botha, 11/07/2018 |
|
Ouderdom
Ek het al so baie gewonder hoekom oudword en doodgaan met soveel swaar
gepaard moet gaan. Hoe ouer ons word, hoe moeiliker raak die lewe en die een
wat agterbly in 'n huwelik gaan deur intense verdriet en eensaamheid. Ek
dink soos die jare aanstap begin vrees vir "eendag" aan ons almal kou. As
ons 80 jaar oud word leef ons so 29200 dae, en as jy verby die eerste 20000
dae trek, raak dit nogal moeilik.
Ek het met 'n vorige stukkie 'n teks uit Prediker 12 aangehaal en wil nou
graag die hele deel uit Die Boodskap vir jou gee om te lees.
Pred 12 : 1 - 8 "Dink aan God wat jou geskep het terwyl jy nog jonk is.
Voordat die swaar dae kom en jy sal sê: "Die lewe is nie meer lekker nie."
Dit is daardie tyd in 'n mens se lewe wanneer die son se strale vir jou dof
begin word en jy die maan se lig en die sterre se geflikker in die aand
skaars nog kan sien. Dit is wanneer jou hande begin bewe, die bene moeilik
loop , die tande moeilik kou omdat hulle so min is, en die oë sleg sien, die
ore nie meer die straat se geraas hoor nie, die stem sagter en dowwer word.
En as die voëls vroegoggend begin koer, staan jy op sonder dat jy hulle eens
hoor. Dit is wanneer jy vir steil opdraendes en baie ander dinge bang word
omdat jy te swak geword het. En terwyl die amandelboom bloei, die sprinkaan
hom vol eet en die kapperkruid blom, sterf die mens. In die strate sal hulle
die doodsberig vertel. Dan sal hulle saamkom om hom te begrawe. Dit is soos
'n silwertou wat afbreek by 'n put, soos die goue skepemmer wat breek, soos
die drinkbeker wat stukkend breek en soos die wiel wat by die put inval. Dan
word die mens weer stof soos vroeër , en sy lewensasem gaan terug na God toe
waar dit vandaan gekom het. Die lewe is sinloos. Absoluut sinloos, so sê die
Prediker."
Sjoe, dit klink darem vreeslik neerdrukkend of hoe? Maar ongelukkig is dit
'n realiteit waarmee ons almal sal worstel.
Met my volgende dagstukkie kyk ons op 'n meer positiewe noot hierna. ~
Willem Botha, 10/07/2018 |
|
“Hy gee vermoeides krag, hy versterk dié wat nie meer
kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle
fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle
loop en raak nie afgemat nie.” (Jes. 40:29-31) Hierdie is ook een van daai
goue verse in Jesaja wat seker in almal se Bybels onderstreep is. Wanneer
ons aan die einde van ons krag en vermoëns, ons beskikbare energie en dryf,
ons eie wysheid en raad gekom het, dán raak mens bewus van die bomenslike
krag en herstel wat intree, daai volgende rat wat inskop. En jy weet dit kom
net van die Here af. Dis Hy wat jou voete weer lig maak soos ’n ribbok en
jou op hoë plekke laat loop. En ja, soos die teks sê gebeur dit selfs met
jongmense. Veral in vandag se tye is die druk op jongmense om te presteer en
die leer van die lewe te klim groot. Wanneer jy uitgeput en uitgebrand voel,
draai na die Here - sy juk is sag en sy las is lig. Vertrou op Hom, raak
stil by Hom, vra Hom en Hy sál weer vir jou nuwe krag en arendsvlerke gee.
~ Wilna Botha, 09/07/2018 |
|
"Liewe Jesus het my man kom haal..."
Dis 'n boodskap wat ek vanoggend gekry het nadat 'n vriend verlede nag
oorlede is aan kanker. Dit het my laat terugdink aan 2004 toe my pa oorlede
is. Ons as familie het langs sy sterfbed gestaan toe hy sy laaste asem
uitblaas.
Onmiddellik het my nuuskierige tegniese brein probeer om te verstaan hoe die
Here 'n mens kom haal. Wat het Hy kom haal? Was Hy daar? Die hele tyd? Hoe
verlaat die gees die liggaam en hoe word die gees in die hemel opgeneem? Is
jy onmiddellik daar of is daar 'n wagtydperk totdat Jesus weer kom? Daar is
baie argumente daaroor en ek raak glad nie daarby betrokke nie. Maande het
egter verbygegaan en ek kon geen antwoord kry nie.
En toe, een oggend baie vroeg ry ek in my motor en ek weet ek het nie eers
aan my pa, of die dood gedink nie. Skielik, soos 'n kort video wat in my kop
afspeel kom die volgende "beeld" by my op waar ons almal by my pa staan, en
skielik is daar 'n engel tussen ons wat sy hand na my pa uitsteek en sê: "Kom
Roelf, dit is tyd."
Net dit. En so vinnig as wat die gedagte kom was dit weer weg. Ek onthou dat
ek net geglimlag het en gesê het: Dankie Here. Dit was die antwoord wat die
Here vir my gegee het en dit was genoeg en ek het totaal vrede gekry oor my
vraag. Ek beweer nie dat dit is hoe dit regtig in praktyk werk nie, maar dit
is al wat ek nodig gehad het.
Liewe Jesus het gisteraand my vriend kom haal, en dis al wat ons nodig het
om te weet. Sy saak met die Here was reg en ek weet hy is nou by Hom. Waar,
of hoe dit ook al werk.
Pred 12:6-7 "... die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue
kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put
stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit
was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het." ~ Willem Botha,
05/07/2018 |
|
“Waarom kla jy... die Here sien nie raak wat van my
word nie, my reg gaan by my God verby?” (Jes. 40:27) Die meeste van ons kom
die een of ander tyd in daai situasie waar jy die Here bevraagteken – dinge
gaan nie soos jy gehoop het nie, dit lyk of die Here nie sy belofte gehou
het nie, of Hy nie omgee vir jou noodroep nie, of Hy van jou vergeet het, of
Hy onregverdig optree. Wees maar versigtig, want soos met Job, kan die Here
dalk vir jou sê: “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My....
waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het ... wie het die aarde
afgemeet ... wie het die see opgedam ...” ens. (lees Job 39) Of soos hier in
Jes. 40:28 : “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die
ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie
afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.” Onthou maar net dat al lyk
dinge erg buite beheer en heeltemal hopeloos, God is God en Hy is in beheer
en Hy weet wat Hy doen. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie, Sy tyd is nie
ons tyd nie. Hy weet wat die beste vir ons is en sál alles ten goede laat
meewerk. Hy ken die toekoms en is altyd besig om ons harte en gedagtes te
vorm en te vernuwe om in Sý planne te pas. As jy dít kan glo en jou daaraan
kan onderwerp, sal dit makliker wees om geloof te behou en die lig aan die
einde van die tonnel raak te sien. Dan kan jy soos Job antwoord: “Nou weet
ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” (Job
42:2) ~ Wilna Botha, 04/07/2018 |
|
Ek het vandag net weer besef dat lewe op hierdie aarde
nie altyd maanskyn en rose is nie en dat mense (ja ook kinders van die Here)
bitter swaar kry.
'n Vriend is in 'n geweldige stryd met siekte gewikkel, 'n bekende Gospel
sanger sterf ná 'n kort siekbed en laat sy familie agter, misdaad tref
onskuldige mense en 'n gebrek aan geld veroorsaak beproewing by mense. En
intussen gaan dit met my en my gesin net goed.
Ek het vandag gewonder of dit nie beter sal wees as die Here swaarkry
eweredig kan verdeel tussen alle mense nie, want as ons elkeen 'n bietjie
van hierdie laste dra sal dit steeds oorwegend goed gaan met almal. Dit
staan tog so in die Bybel.
Gal. 6:2 "Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet
van Christus."
Maar wat beteken hierdie teks? Moet elkeen dan 'n bietjie siek wees? Moet ek
my huis verkoop sodat iemand anders syne kan behou? Gaan iemand anders se
huweliksprobleme effe beter wees as ek my huwelik afskeep?
Nee, dis nie wat dit beteken nie. Om iemand se laste te dra beteken nie dat
ek sy juk van hom afhaal en op my sit nie. Dit beteken nie dat ek namens
iemand anders sy pad stap nie. Dis in elk geval iets wat net Jesus kon doen.
Die tweede deel van die teks sê:... "en gee op dié manier uitvoering aan die
wet van Christus."
Die wet sê jy moet die Here liefhê en jy moet ook jou naaste liefhê. Dus,
loop saam met iemand sy pad, loop langs hom, bemoedig hom, bid vir hom en
wees daar vir hom. Wees 'n oor wat luister, maar vermaan ook waar nodig want
soms laai mense ondraaglike laste op hulleself agv verkeerde besluite en
dade. Juis dan kan jy nie daardie las namens iemand dra nie. Soms is daardie
bietjie aanmoediging en bemoediging al wat iemand nodig het om sy las te
verlig. ~ Willem Botha, 04/07/2018 |
|
“Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra
die Heilige.” (Jes. 40:25) Natuurlik wil ons antwoord: met niemand nie, daar
is niemand soos U nie! Ons weet, ons het gehoor, ons het gesien, ons het
beleef hoe groot en hoe wonderlik en hoe almagtig ons God is. Hy het die
waters in die holte van sy hand afgemeet. Hy het met die breedte van sy hand
die hemel bepaal. Hy kan sê hoe swaar die berge weeg. Hy kan sê hoeveel
grond daar op die aarde is ... niemand anders kan nie! En dis met daardie
einste hand wat Hy jóú red. Dis daardie einste hand wat altyd onder jou is
om jou te vang as jy val, wat altyd bo jou is om jou te seën, wat rondom jou
is om jou te beskerm, wat jou vashou in onseker tye, wat jou aanraak om jou
te genees of te troos of jou trane af te vee. Daar is niemand soos Hy nie,
niks om Hom mee te vergelyk nie! Mag jy ook weer vandag, soos ek, vol
verwondering Sy lof besing. ~ Wilna Botha, 02/07/2018 |
|
Hoor God se stem
Het jy al God se stem gehoor? Het jy al ervaar dat God met jou praat? Om vir
jou 'n spesifieke woord, of opdrag, of 'n woord van bemoediging te gee? Ek
is seker dat ons almal sekerlik smag om op een of ander manier God se stem
te hoor. En ek is seker ons almal smag daarna dat die Here spesifiek met ons
praat.
Ek dink baie mense het 'n idee oor hoe en wanneer God met ons praat. En
voorts het ons die probleem dat ons dink God moet net presies sê wat ons wil
hoor. Mense dink ook dis net spesiaal as God op 'n bonatuurlike manier
manier praat, soos met Moses by die brandende braambos.
God praat op heel gewone maniere. Lees jy die Bybel praat God mos direk, in
gewone woorde jou. As ons bid praat Hy soms met jou deur die gedagtes wat by
jou opkom. Soms praat Hy deur situasies en soms self deur ander mense, maar
hier moet mens uiters versigtig wees.
Nie almal wat beweer dat hulle 'n woord van God vir jou ontvang het, spreek
regtig God se woorde nie. En nie al die "profetiese" woorde wat mense
uitspreek kom van God nie.
Jer. 23 : 16 "So sê die Here die Almagtige: Julle moenie luister na wat die
profete sê nie, die profete wat vir julle as profete optree. Hulle wek vals
verwagtings by julle, hulle praat oor visioene wat hulle self uitdink, nie
oor wat die Here sê nie."
Soms moet ons geduldig wees om God se stem te hoor.
Onthou:
1. Soms moet ons wag! Wees geduldig om God se stem te hoor!
2. Mens kan die beste hoor as jy doodstil bly. Wag dikwels in stilte op die
Here.
3. Wees bereid om God se antwoord op 'n versoek te aanvaar. Soms sê Hy nee!
4. Gaan doen wat Hy sê jy moet doen! ~ Willem Botha, 28/06/2018 |
|
“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak
Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors. Hy sorg vir die
lammerooie.” (Jes. 40:11) Ai, hierdie is darem maar net die mooiste beeld
van die Here se liefdevolle versorging vir sy kinders. In sy arms, teen sy
bors – so dra Hy jou, so bewys Hy genade en liefde aan jou, so troos Hy jou,
so hou Hy jou vas – ja, selfs al gaan jy deur ’n dal van doodskaduwee. Hy
sal 99 skape los om die een verlore een terug te bring. Hy soek dié wat
weggeraak het, gaan haal dié wat verdwaal het, Hy versorg die wonde van dié
wat seergekry het, Hy help die swakkes (sien Eseg. 34:16) Hy roep sy skape
op hulle name en lei hulle uit (Joh. 10:3). Hy lei hulle na groen weivelde
waar hy vir hulle die beste versorging, rus en vrede in oorvloed gee. Die
Herder is nooit ver nie. Die Herder is heeltyd betrokke by sy kudde. “Ek is
die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh.
10:11) ~ Wilna Botha, 27/06/2018 |
|
Wierook
Wierook het 'n besondere geur wat 'n kamer vul as jy daaraan blootgestel
word. As jy iewers kom waar wierook brand, kan jy dit nie mis nie. Lees
hierdie teks 'n paar keer deur en kyk watse waarheid hier aangespreek word.
2Kor 2:15 "Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word,
waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan."
Hoe pragtig is die nie? Ons, ek en jy wat gered is, word soos wierook deur
Christus vir God gebrand om 'n wonderlike geur af te gee wat Hom sekerlik
geweldig behaag. Maar dis nie al nie, daardie geur bereik die hele wêreld,
die gereddes sowel as die ongereddes. Jy weet sommer as jy in die geselskap
van 'n kind van God is, want daardie geur bereik jou onmiddellik. Maar
daardie selfde geur bereik ook diegene wat nog nie by God uitgekom het nie.
Vele mense se lewens word daagliks aangeraak deur kinders van God wie se
wierook gebrand word.
Daarom moet ons daardie geur orals versprei waar ons kom, want ons weet nie
of hulle ook wierook gaan word wat deur Christus vir God gebrand gaan word
nie. En wat ook ander gaan bereik, wat 'n kettingreaksie tot gevolg sal hê.
~ Willem Botha, 27/06/2018 |
|
“Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons
God bly vir ewig.” (Jes. 40:8) Geen tyd wat verloop, geen nuwe idees, geen
geleerdheid, geen verdagmakery kan die Woord van die Here vernietig of
oud-modies en uitgedien verklaar nie. Die hele Skrif is deur God geïnspireer
sê 2 Tim. 3:16 – daarom aanvaar ek die Bybel as God se woorde en ek glo dit
met my hele hart. Ek glo in die krag van die Woord. Ek weet dis ’n
tweesnydende swaard wat die brandpyle van die bose kan afweer. Ek weet dis
saad wat honderdvoudige vrug kan oplewer. Ek weet ek kan dit oor en oor lees
en altyd iets nuuts hoor, want dit is woorde wat deur die Gees lewendig
gemaak word vir vandag. Ek weet dis ’n rigtingwyser want dit gee praktiese
raad vir die alledaagse lewe. Ek weet dit bevat honderde beloftes van troos
en bemoediging wat my kan oplig in donker tye. “So sal die woord wat uit my
mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,
maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit
gestuur het.” (Jes. 55:11) ~ Wilna Botha, 25/06/2018 |
|
Almal van ons gaan soms deur swaar tye waar dinge net
te veel word. Dalk het jy ook al gewens jy kan net iewers in 'n grot inkruip
waar niemand naby jou kan kom nie en waar jy net kan wegkruip van hierdie
wêreld. In Ps 5 lees ons dat Dawid so effe beswaard is oor mense se onreg
teenoor hom. Dan kom hy met hierdie woorde vorendag.
Ps. 5:12 "Maar laat almal wat by U skuil, bly wees, laat hulle altyd jubel.
U beskerm dié wat u Naam liefhet, en hulle juig oor U." Dawid kom hier tot
die slotsom dat God die Een is wat hom beskerm, vashou en die enigste
skuiling is wat hy nodig het.
Dus, as jy voel jy wil vlug, vlug in God se arms in, want daar is jy veilig.
~ Willem Botha, 22/06/2018 |
|
“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se
knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees
nie, julle God is hier.” (Jes. 35:3-4) Jy weet seker net so goed soos ek
hoeveel ellende en swaarkry en moedeloosheid daar in ons wêreld is. Mens
voel dikwels so hulpeloos as jy nie almal kan help nie of as jy nie weet wat
om vir só iemand te sê nie. Onthou jou belangstelling en gewillige oor, jou
stilstaan en meegevoel kan vir so ’n persoon alreeds die wêreld beteken.
Dinge wat jy al beleef het of waardeur jy al moes werk, is ervaring wat jy
in aksie kan stel om iemand anders te bemoedig en hulle hande sterk te maak.
Ons kan nie almal se probleme oplos nie, maar ons kan hulle moed inpraat met
die woorde van die teks: Wees sterk, moenie bang wees nie, jou God is hier.
Moenie twyfel dat dit ’n invloed sal hê nie. Dit sál, want dit is God se
woorde. ~ Wilna Botha, 20/06/2018 |
|
Fort genade
As ons sondig, sondig ons teen God, en dis nie wat Hy in gedagte gehad het
met die skepping nie. Die mens se keuse het vir hom die deure na 'n
volmaakte lewe toegemaak. Dis vir my altyd so asof my sondes 'n direkte
aanval op die Here is en dis alles behalwe 'n lekker gedagte.
Ek kry 'n beeld in my kop van 'n reuse weermag wat dag vir dag die fort
aanval waar die Koning gehuisves word, maar die pantser rondom hierdie reuse
fort is absoluut ondeurdringbaar. Hoe hard hierdie bose weermag ook al
probeer om die Koning te benadeel is daar net absoluut geen sukses nie. So
is dit met ons sondes wat net eenvoudig geen hond haaraf maak teen die
skanse van hierdie fort nie. Die Koning het self hierdie skanse ontwerp en
dis net eenvoudig een te veel vir ons sondes. Daardie skans se naam is
GENADE, wat opgerig is deur Jesus Christus, die Seun van die Koning.
Rom 5:20 (The message) "But sin didn’t, and doesn’t, have a chance in
competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it’s sin
versus grace, grace wins hands down."
Kan jy sien dat sonde net eenvoudig geen kans staan teen genade nie? Dis 'n
begrip wat vir my totaal onverstaanbaar is, maar ek moet dit glo want die
Here sê so. Miskien is dit so moeilik om te aanvaar omdat dit gratis is.
Aangesien daar dus geen koopmiddel beskikbaar is om dit te verkry nie, moet
ek maar net staatmaak op my geloof daarin. ~ Willem Botha, 19/06/2018 |
|
“Die woestyn, die dor land sal jubel, die droë wêreld
sal juig, oortrek met affodille, hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en
sing.” (Jes. 35:1-2) Sjoe, hierdie bly vir my een van die mooiste tekste in
Jesaja. Mens sien mos baie keer hoedat iemand begin blom en oorloop van
vreugde as die Here in hulle lewens kom. Klip harte word sag. Fronse verdwyn.
Sleepvoete word lig. Oë straal. Het jy ook al beleef dat iemand baie siek
is, of ’n groot verlies gehad het, maar as hulle van die Here praat dan
straal hulle gesigte en verhelder hulle oë. Mens sien sommer daai affodille
geil staan te midde van die pyn en vernedering. In die Here is daar altyd
nuwe hoop en moed. In die Here het jou lewe altyd sin en betekenis. Dit laat
my ook dink aan die woorde van Jes. 61:3: “He sent me to give them flowers
in place of their sorrow.” Ek hoop as jy jouself dalk vandag in die een of
ander woestyn bevind dat jy verby die dorheid en droogheid sal kan kyk en in
jou geestesoog alreeds die mooiste affodille sal sien blom. Ek hoop dít sal
jou rede gee om te juig en sing. ~ Wilna Botha, 18/06/2018 |
|
Ek kan nie meer nie...
Iemand het 'n ruk terug hierdie woorde vir my gesê. Ek dink daar is baie
mense wat op 'n punt kom waar daar net geen lig in die tonnel oorgebly het
nie, geen hoop en geen vooruitsig vir beter dae nie.
Ek lees hierdie teks in Jeremia.
Jer. 20:14-15 "Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma
my in die wêreld gebring het; mag dié dag altyd sonder seën wees. Vervloek
is die man wat vir my pa die berig gebring het: “Jy het 'n seun,” 'n berig
wat hom baie bly gemaak het."
Wat sê jy vir so
iemand? Was jy ook al in die situasie wat jy nie eers meer weet wat om te
bid nie? Het jy ook al gewonder hoekom die Here se uitkoms net wegbly?
Woorde van troos is so maklik om te spreek, dis so maklik om tekste vir so
'n desperate persoon voor te hou en dis so maklik om te probeer troos as jy
nie self in moeilik omstandighede is nie.
Maar wat bly oor? Menslike woorde het tog geen krag nie en daar is tog niks
wat die mens het om aan te bied nie. Dis dan wat jy besef dat om maar net
weer terug te draai na God toe, die enigste alternatief is. En om dan te wag
vir uitkoms. Wag, wat so bitter moeilik is en minute soos jare voel. Hoeveel
kan die mens hanteer? Niks! Of liewer niks sonder God nie. Gryp Hom weer vas
en moenie Hom los nie, want al voel dit nie so nie, het Hy ons nooit gelos
nie
· Jos. 1:5 "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in
die steek laat nie, jou nie verlaat nie."
· Ps. 91:15 "Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor, in sy nood sal
Ek by hom wees. Ek sal hom red en in sy eer herstel".
· Jes. 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie,
Ek is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand
red Ek jou"
· Deut. 33:26-27 "Die ewige God is 'n skuilplek, Sy arms is altyd onder jou".
~ Willem Botha, 14/06/2018 |
|
“Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van
nood.” (Jes. 33:2) Elke nuwe dag wat jy jou oë oopmaak lê onbekend en
onseker voor jou. Jy kan jou dagboek-planne hê, jou drome en spertye vir die
dag, maar jy weet glad nie wat regtig in die volgende uur kan gebeur wat
alles kan deurmekaar krap nie. Ons weet mos slegte nuus kan enige tyd
aangekondig word, dinge kan skeef loop en groot besluite kan vinnig geneem
moet word en dan moet ons gereed wees om dit te hanteer. Daarom dink ek ’n
gebed soos in Jes. 33:2 moet elke môre ons versugting wees. Wat die dag ook
al kan oplewer, die Here se krag en genade sal dáár wees en genoeg wees vir
jou. Watter slegte hobbel of storm daar ook al kan wag in die volgende 24
uur, die Here is vóór jou daar en Hy sál jou daardeur dra. “Wees ons genadig,
Here, ons vestig ons hoop op U.” ~ Wilna Botha, 13/06/2018 |
|
Onsin!!!
Ek is seker jy was ook half moedeloos as mense nie verstaan hoekom jy in God
glo en die Bybel vir soetkoek opeet nie. Hoe meer jy verduidelik hoe minder
impak maak dit. Wel, uit die aard van die saak het die Bybel ook daarop 'n
klinkklare antwoord.
1 Kor. 1 : 18 "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié
wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God."
Dis so eenvoudig, as jy nie die Gees van God het nie is dit onsin en
onmoontlik om dit te verstaan. Ek voel 'n mens is heeltemal van sy sinne
beroof as hy met 'n valskerm uit 'n vliegtuig spring, maar dis net omdat ek
dit nog nooit probeer het nie en daarom kan ek dit nie verstaan nie. Maar
dit lyk my ek is dalk verkeerd.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom jy kan bid
tot 'n God wat jy nie kan sien nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe jy kan bid vir
genesing terwyl daar geen hoop meer oor is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom mense
gestremd gebore word, en dan boonop die Here dien met hulle hele harte nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan dankbaar
wees teenoor die Here vir dinge wat in elk geval waar sou word nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe boere bid vir
reën, terwyl die weerpatrone wys dat dit totaal onmoontlik is.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy dinge vir
ander doen wat net totaal onlogies is, en wat vir jou geen voordeel bring
nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy dankbaar kan
wees as slegte dinge op jou pad kom nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan uitsien na
'n hiernamaals wat onsigbaar is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy kan glo in
die Woord van God, wat eeue gelede geskryf is deur gewone mense, en boonop
glo dat dit alles vandag nog steeds van toepassing is.
Jy sien, as daardie reuse voorwaarde van Gees vervulling nog nie gekom het
nie, is geloof net totaal onmoontlik. Maar moet tog nie die fout maak om
mense af te skryf wat dit nie het nie, want Paulus het ook nie geweet dat hy
een goeie dag op pad Damaskus toe die Gees ongevraag gaan ontvang nie. ~
Willem Botha, 13/06/2018 |
|
“So sal dit wees
totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word.” (Jes. 32:15) Daar word in
Jes. 32 beskryf hoe sleg dit met die volk gaan. Vers 15 kondig egter die
draaipunt aan na nuwe, beter, wonderbaarlike dinge wat gaan volg wanneer die
Gees van God uitgestort word. Die woestyn sal ’n digte vrugteboord word, die
volk sal in vrede woon en veilig wees, sonder sorge, dit sal goed gaan al is
daar steeds storms. Dís wie die Heilige Gees is. Die Trooster, die Helper,
die Rigtingwyser, die Leermeester, die Vredegewer, die Lewegewer. Joh. 7:38
sê strome lewende water sal uit ons binneste vloei – dis die Heilige Gees!
Ons moenie die krag van die Gees in ons lewens miskyk nie. Ons moenie die
borreling van die Gees in ons onderdruk of ontken nie. Ons moet nooit twyfel
dat ons wel die Gees ontvang het nie! Kyk, Joh. 7:39 sê: “... die mense wat
tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” As jy twyfel of jy die Gees
het, bid en vra die Here om jou te vervul met Sy Gees. Hy sál dit doen. “Vra
en vir julle sal gegee word... Elkeen wat vra, ontvang ... Hy sál die
Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk. 11:9-13) ~ Wilna Botha, 11/06/2018 |
|
Klippe
Gaan haal 'n klip in jou tuin en sit hom op jou lessenaar by die werk neer.
Iemand gaan verseker vir jou vra hoekom die klip daar is. Vra dan vir die
persoon of hy iemand ken wat so 'n klip kan maak (of self kan maak), met sy
eie basiese grondstowwe, nie dié in die natuur nie. Natuurlik is die
antwoord nee. Sê dan vir die persoon dat jy die Persoon ken wat daardie klip
gemaak het. Nie net een soos daardie nie, daardie spesifieke een, met Sy eie
hande. Jy ken daardie Persoon, en Hy ken jou by jou eie naam.
Die klip kon tog nie net self daar gekom het of ontwikkel nie, net so min as
wat jou Bic pen sommer vanself op jou lessenaar beland het en vanself (sonder
'n skepper en ontwerper) gevorm het.
Hoe eenvoudig en waar is hierdie volgende teks in Lukas nie.
LUKAS 19:38 - 40 Hulle het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van
die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” 'n
Paar Fariseërs uit die skare sê toe vir Jesus: “Meneer, maak stil u
volgelinge!” Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die
klippe uitroep."
Die klippe sal dit uitroep en roep dit elke dag uit. Mense stamp daarteen en
val daaroor, dit word gebruik om strukture mee te bou en selfs om mekaar mee
te gooi, maar tog besef die mens nie dat hierdie eenvoudige klip die bestaan
en grootheid van God uitskree nie. Die mens is so nuuskierig om te weet wat
in ons heelal aangaan en mense soek God op die mees vreemde plekke, maar
intussen roep die klippe dit uit. Hulle is volop in die natuur, op jou erf
en dalk op jou tafel, maar mense hoor nie die uitroep van die klippe nie,
want hulle wil nie hoor nie. Maar die klippe hou nie op om te getuig nie.
Ons moet ook nie. ~ Willem Botha, 07/06/2018 |
|
“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou
’n stem hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Ja, ons ken
daai stem. Die stem van die Heilige Gees wat in jou gewete praat en jou hart
roer wanneer jy die regte koers verlaat. Die stem van die Woord wat vir jou
rigting gee wanneer jy na die verkeerde kant toe neig. Die stem van jou
vriende en huismense wat saggies waarsku wanneer jy verkeerde besluite maak.
Die stem van die onvrede in jou binneste wanneer jy die verkeerde afdraai
gevat het. Dit alles is die Here se stem wat jou subtiel die regte pad wil
wys. Dit gee my soveel gemoedsrus om te weet dat die Here my nie op my
afgedwaalde paaie sal los nie, my nie sal los om sélf weer die pad te vind
nie. Nee, Hy is dáár langs my op my pad waar ek elke dag loop. Sy hand, Sy
krag, Sy wysheid lei my op die regte weë. Ek bid net dat ek altyd duidelik
sal hoor en gehoorsaam sal wees wanneer Hy sê: Hier is die pad, loop
hierlangs. ~ Wilna Botha, 06/06/2018 |
|
Die Here sal sorg
Luk. 17:22 - 25 "Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir
julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie,
of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog
belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai
nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle.
Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te
bekommer sy lewe met een uur verleng?"
'n Pragtige teksgedeelte en uiters gewild. As ek nou hier gestop het was
daar baie positiewe reaksie op hierdie boodskap en mense sou met groot
verwagting daaraan vasgeklou het. En ja, natuurlik is dit waar en ek dink
ons elkeen kan getuig dat dit al in sy lewe waar geword het. Die Bybel sê
immers so.
Maar, daar is nog ander teksgedeeltes wat ons nie graag saam met dit wil
lees nie, want dit is nie so gewild nie en haal ons bietjie uit ons
gemaksone uit.
1 Tim. 6 : 8 "As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees."
Geen luukshede nie, geen privaat mediese sorg, of 'n motor, of vakansies,
selfs nie 'n eie huis nie, niks geld in die bank nie geen pensioen om mee af
te tree nie, geen huishulp nie en geen vermaak nie. Wel, as ek so na hierdie
teks kyk, beteken die Here se versorging regtig die mees basiese waaraan jy
kan dink.
Dus, as ons staatmaak op die Here se belofte rondom versorging moet ons nie
meer verwag as dit nie. Maar... dit beteken nie dat ons nie hierdie dinge
kan hê nie, want as die Here vir jou gesondheid gee, is die verpligting op
jouself om vir hierdie dinge te werk. As die Here vir jou krag gee om
voorsiening te maak vir die toekoms, is Hy mos besig om jou te versorg sodat
jy nie 'n las vir ander moet wees nie. Ek sien so baie dat mense voel dat
die Here vir hulle luukshede skuld, selfs al moet dit uit ander se sakke kom.
Nee, die Here se belofte maak voorsiening vir kos en klere, en Sy genade wat
Hy gee vir goeie gesondheid, is al wat ons nodig het vir die ekstras wat ons
graag wil hê. Ons klou graag vas aan voorspoed teologie want dis mos lekker
om dit te glo en te hoop op oorvloed, maar die realiteit is effe anders.
Die vraag is, waarmee is ons tevrede? ~ Willem Botha, 05/06/2018 |
|
“Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.” (Jes.
30:19) Ja, die Here luister as ons na Hom roep. Hy gee ag op ons smeekgebede
en ons skietgebede. Hy verhoor ons gebede. Maar kyk wat word bygevoeg in
hierdie teks: sodra Hy dit hoor. Ons móét bid, al sê die Bybel die Here weet
wat ons nodig het nog voordat ons vra. Hy wil ons gebede hóór! Bid, al is
die sinne skeef en die woorde stamelend. Bid, al het jy nie mooi woorde nie.
Bid, al voel jy jou gebed gaan nie vêrder as die plafon nie. Bid, al twyfel
jy of die Here gaan help. Jesus sê in Luk. 18 ons moet altyd aanhou bid en
nie moedeloos word nie. Op ander plekke sê die Woord: bid gedurig, volhard
in gebed. Bid sélf en moenie net staatmaak op die gebede van ander nie. “Vra
en vir julle sal gegee word ... elkeen wat vra, ontvang.” (Luk. 11:9) ~
Wilna Botha, 04/06/2018 |
|
As iemand vir jou goeie nuus gee sê ons mos graag: "Ek
is bly". So 'n snaakse kort woordjie - bly. Kom van blydskap af. 'n Woord
wat genoegdoening aandui, 'n aangename gevoel wat in jou opwel, vreugde,
vrede, dankbaarheid, lekkerte.
Fil. 4:4 "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!"
As jy nou vir my vra waarvoor ek bly is, kan ek jou vir die res van die dag
besig hou. Ek is bly dat dit vandag bietjie gereën het, ek is bly dat ek met
'n wonderlike vrou getroud is en dat ons twee wonderlike kinders het. Ek is
bly dat die Here ons so seën in ons werksomstandighede en ek is bly dat ek
vanaand 'n heerlike bord kos gaan eet. En in 'n heerlike warm bed met 'n
elektriese onder kombers gaan inkruip na 'n warm bad. Ek kan lank hiermee
aangaan, maar hierdie teks het die bron van blydskap raakgevat. WEES BLY IN
DIE HERE!
Niks van die dinge wat my bly maak kom van myself af nie en dis 'n groot
seën om te besef dat dit ALLES die Here se genade is.
Ongelukkig laat ek egter dikwels toe dat aardse dinge hierdie blydskap by my
steel. Dis die tye wat ek my oë van God af wegvat en in ondankbaarheid
verval. Maar vandag wil ek myself maar net weer herinner dat ek net bly kan
wees in die Here en in Hom alleen. Daar is tog niemand anders om voor dankie
te sê nie.
Dankie Here! ~ Willem Botha, 31/05/2018 |
|
“Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil
Hy Hom oor julle ontferm.” (Jes. 30:18) ’n Teks soos hierdie slaan omtrent
my asem weg. Ten spyte van alles, ten spyte van wie ek is, ten spyte van al
my afdwaal, wegdwaal en verdwaal, ten spyte van al my ongehoorsaamheid,
onwilligheid en onbedagsaamheid sal die Here my nooit los nie. Hy wíl Sy
goedheid oor my uitstort. Hy wíl Sy genade betoon. Hy sál my liefhê. Kyk hoe
reguit sê Rom. 5:20 dit: “But sin didn't, and doesn't, have a chance in
competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin
versus grace, grace wins hands down.” Elke môre as jy wakker word, kan jy
weet die Here se genade en ontferming is opnuut weer beskikbaar vir jou –
verniet en onverdiend. Aanvaar en ontvang dit! Amazing grace ... ~ Wilna
Botha, 30/05/2018 |
|
Woorde ontbreek
Ek het al met mense te doen gehad wat in die uiterste van slegte
omstandighede vasgevang was, en ek dink jy ook, of jy is ook al self deur of
in dit. Daar is mense in my vriendekring wat ernstig worstel met gesondheid,
mense wat dringend werk nodig het en mense wat deur erge finansiële krisis
gaan. Daar is natuurlik baie dinge wat so skeef loop in mense se lewens dat
hulle net alle vorme van hoop verloor.
Was jy ook al dan in die situasie dat jy net nie meer weet wat om vir so
persoon te sê of te doen nie? Wanneer woorde van troos totaal ontbreek en
dat self teksverse leeg klink. Iemand het al eenkeer vir my gesê dat ek maar
die gebede kan los want hy het nie my gebed nodig nie, hy het my (finansiële
) hulp nodig. Nog iemand het eendag gesê dat dit so sleg gaan omdat hy nie
werk kry nie, dat dit voel of 'n olifant op homself sit.
Ek het net besef dat ek as mens dalk nie veel kan doen om iemand se
omstandighede te verbeter nie, maar dat dit baie werd is om net daar te wees
saam met iemand. Al is daar nie meer woorde nie omdat 'n hart stukkend is,
of wanneer daar net eenvoudig nie meer hoop is nie, is dit die tyd om net
daar te wees vir iemand. Ek dink dis nogal erg as iemand eensaam voel en
daar is niemand by jou nie, dalk juis omdat mense wegskram omdat hulle nie
weet wat om te sê nie. Dan is dit die tyd om selfs net in stilte by iemand
te wees en net die basiese dinge vir so 'n persoon te doen.
Ek dink onwillekeurig aan hierdie gedeelte in die Bybel.
Matt 25:37 - 40 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here,
wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te
drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder
klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk
en U besoek?’ En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir
sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen
het, het julle dit aan My gedoen.’ ~ Willem Botha, 29/05/2018 |
|
“Vertrou altyd op die Here,” sê Jes. 26:4 (én vele
ander tekste in die Bybel). As mens bv. sê dat jy vertroue het in medisyne,
dan veronderstel dit dat jy kennis het daarvan, weet waarvoor dit goed is en
dat jy dit al gebruik het. Om vertroue in die Here te hê veronderstel dat Ek
Hom ken, dat ek weet wie Hy is en wat Hy kan doen. Ek kan die Here vertrou
omdat ek in ’n verhouding met Hom is. Ek kan die Here vertrou omdat ek weet
dat niks vir Hom onmoontlik is nie, dat ek altyd veilig by Hom sal wees,
dat Hy in beheer is, dat Hy die beste weet. Vir my gaan vertroue en geloof
hand aan hand – mens kan hulle as’t ware as sinonieme gebruik. Vertroue kom
in aksie wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het.
Vertroue is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie,
maar steeds hoop en glo. Ons aansporing: “Dit gaan goed met elkeen wat op
Hom vertrou.” (Jes. 30:18). Ons beloning: “Gee aan hulle vrede en voorspoed,
Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.” (Jes. 26:3) ~ Wilna Botha,
28/05/2018 |
|
Jou Pa is die Koning
Ek glo jy ken hierdie liedjie van Leon Ferreira waar hy sing dat sy Pa (die
Here), die Koning is, en dit maak van hom 'n prins.
In Engeland is daar onlangs "Royal wedding" gehou en dit was 'n groot affêre.
Daar is ook onlangs in daardie familie 'n nuwe baba gebore wat maak dat
daardie baba in 'n status in gebore word wat geen mens kan wegneem nie.
Prins Charles is die troonopvolger as die koningin tot sterwe kom en hy hoef
absoluut niks te doen om die volgende koning te wees nie. Dit is net
eenvoudig sy status as 1ste troonopvolger.
Net so is ek en jy (op ons eie keuse nogal) volledige erfgename van God, en
geen mens kan dit van jou wegneem nie. Jy is 'n prins of prinses en dis dit!
Rom 8:16-17 "Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God
is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God,
erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons
ook deel hê aan sy heerlikheid."
Besef jy wat dit beteken in jou lewe? Weet jy hoe min mense op aarde op
hierdie status kan aanspraak maak? Baie min! Ek en jy kan staan op hierdie
status sonder om dit te probeer verdien, sonder om daarvoor te werk en
sonder vrees dat ons dit gaan verloor, behalwe as jy so kies. As ek so
daaraan dink is dit soms vir my een te veel. EK, nietige mens (boonop 'n
sondaar), wat niks het om aan te bied nie, kan aanspraak maak op die titel
van 'n prins. Kyk, in wêreldse terme is 'n prins nou nie sommer 'n hierjy
nie, maar ons posisie as prinse en prinsesse is BAIE meer werd as dié van
ons aardse eweknieë. Hulle s'n gaan verby, joune is vir ewig en ewig in plek,
en al besit jy absoluut niks op aarde nie, is hierdie jou grootste besitting.
Geniet dit voluit. ~ Willem Botha, 24/05/2018 |
|
“Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” (Jes.
30:15) Miskien wag jy al lank vir ’n deurbraak in die een of ander aspek van
jou lewe – gesondheid, werk, finansies, verhoudings of dalk bediening. Jy
maak planne, jy raadpleeg mense, jy baklei en smeek en spartel om dinge te
laat werk. Jou krag het al opgeraak en jy is dalk al op die punt om sonder
hoop op te gee. Nee! Neem hierdie teks vandag ter harte. Bedaar. Wees stil.
t
Wag rustig op die Here. Vertrou Hom met alles wat in jou is – in stilte.
Fokus op God se krag – in afhanklikheid. Beleef hoedat Hy by jou is – in
tevredenheid. Ervaar hoe jy gevul word met Sy wysheid – in verwondering.
Voel hoe Sy krag in jou werk – in oorwinning. ~ Wilna Botha, 23/05/2018 |
|
Sê nou maar net...
Luk. 11:9-10 "Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en
julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra,
ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak
word."
Sê nou maar net die Here het elke gebed wat ek met hierdie belofte in
gedagte gehad het, verhoor soos ek dit wou hê? Sê nou maar net Hy het
toegegee aan al my grille en menslike begeertes? Sê nou maar net Hy het my
bo ander bevoordeel toe ek daarvoor gevra het? En ja ek het, bv. met vele
werksonderhoude waarvoor ek gegaan het daarvoor gevra. Sê nou maar net die
Here het dinge gedoen presies hoe en wanneer ek daarvoor gevra het?
Ja, ek het al snaakse goed vir die Here gevra, maar Goddank Hy het dinge
dikwels anders laat uitwerk, en ek was dikwels SO teleurgesteld in Sy
besluite. Sommige dinge moes nooit gebeur het nie en dit het nie, en vandag
verstaan ek dit. Ek moes dikwels lank wag vir 'n antwoord, ek moes dikwels
ervaar dat Hy anders besluit het, ek moes dikwels sien hoe dinge totaal
anders uitdraai as wat ek graag wou hê en dit het dikwels net nie sin gemaak
nie.
Ek kan egter vandag vir jou sê dat ek die Here se hand BAIE gesien het in
"Nee, ek gaan dit nie toelaat nie...". Ek besef vele dinge sou vernietigend
wees. Ek het dikwels gesien dat die Here my gebed baie later verhoor het as
wat ek dit wou hê. Ek besef ook dat die Here se tyd is nie my tyd nie, en Sy
antwoorde is nie altyd die antwoord op my vraag nie.
Het Hy my egter OOIT in my lewe teleurgestel? Nee, verseker nie! Moet ek
ophou bid en vra? Nee, verseker nie!
Soms sê Hy ja, soms is dit nee en soms moet ek wag. Hoe wonderlik om te weet
dat die soewereine God elke oomblik met my "saak" besig is.
"Here, leer vir my asseblief geduld. " ~ Willem Botha, 22/05/2018 |
|
“Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met
wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien my soos mense dit
wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jes. 29:13) Niemand van ons hou daarvan dat
mense een ding sê en ’n ander doen nie. Dit laat mens voel hulle het nie
respek vir jou nie, of hulle ag jou nie belangrik nie, of hulle dink hulle
mooipraatjies gaan jou goed laat voel. Sulke dubbelhartigheid steek ook baie
keer kop uit in ons verhouding met die Here. Weet dit nou: Hy het ’n afkeur
daarin. Om net mooi woorde te praat, ’n geestelike slagspreuk op jou mure
te skryf, dalk geld vir armes te gee en elke Sondag kerk toe te gaan, kan
miskien mooi rituele wees wat mense beïndruk, maar as jou hart en jou lewe
ver van die Here af is, is dit nutteloos. Jesus haal self ook hierdie teks
aan in Mark 7:6 en noem sulke mense huigelaars en skynheiliges. Kyk ook hoe
ernstig spreek Hy die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid wanneer Hy
hulle witgeverfde grafte noem – mooi van buite, maar binne vol doodsbene en
onsuiwerheid. “Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die
grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die
graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat my
aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as
mens bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en
mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.”(Lees Matt. 23:27-28, Die
Boodskap) Mag die Here ons help dat ons Christenskap nie net ’n vertoning
vir ander mense is nie, maar dat ons harte en ons lewens in alle opregtheid
net op Hóm gefokus sal wees. ~ Wilna Botha, 21/05/2018 |
|
Van swaard na ploegskaar
Dis verstommend hoe veglustig die mensdom is. Verskil net van my oor
enigiets dan pluk ek my swaard uit. Verskille oor politiek, godsdiens of
enigiets waar my keuse anders as joune is. Jip, selfs jou keuse oor 'n tipe
motor jaag mense die hoenders in. Ek onthou hoe dit in die weermag was
destyds met diensplig. Mense uit totaal verskillende agtergronde het geleer
om saam te werk teen 'n gemeenskaplike vyand, ongeag van wie jy is of wat
jou agtergrond was, omdat jou lewe op die spel is.
Kyk wat staan hier in Miga 4:2-3 "Kom, laat ons optrek na die berg van die
Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en
ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem
die woord van die Here. Hy sal oordeel tussen baie volke, regspreek oor
sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee
en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen
die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie.
Jitte hierdie is 'n verstommende teks: " Hulle sal van hulle swaarde
ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre."
Kan jy dink hoe ons land sal verander as almal hulle "wapens" omskep in
werktuie? Die woorde "Eendrag maak mag" kom van ver in ons verlede af en dis
sulke waar woorde.
As ons darem maar net die energie wat ons gebruik om met mekaar te baklei
kan inspan om saam te werk, sal dit SO 'n groot verskil maak. Ons moenie die
strydbyl begrawe nie, ons moet hom smelt en 'n werktuig van hom maak. ~
Willem Botha, 17/05/2018 |
|
“Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker
die klei is ... die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: Hy weet nie
wat hy doen nie.” (Jes. 29:16) Ai hierdie agterstevoor-geit is darem maar
baie keer waar van ons ook. Ons wil vir ons Pottebakker voorskryf hoe Hy met
ons moet werk. Of as die pot nou nie lyk soos wat ons dit wil hê nie, dan
verwyt ons die Pottebakker. Of as die vorm-en-vou-werk bietjie pynlik is,
dan neem ons Hom kwalik. Ken jy daai liedjie: Doen slegs U wil Heer, U wil
met my, U Pottebakker met my die klei, vorm my en maak my, net soos U wil,
op U bly wag ek, nederig en stil. As ons dit sing, dan gee ons oor aan die
werk wat die Pottebakker met ons wil doen – in vertroue en afhanklikheid en
stilte. Ja, ons kan dit met vrymoedigheid doen, want Hy is in beheer. Hy ken
die toekoms. Hy is God wat die beste weet en wie se tydsberekening perfek
is. Kan ’n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan ’n saag hom
groot hou teen die een wat met hom saag? Kan ’n stok die een swaai wat hom
optel? (Jes. 10:15) Een ding wat die klei en die byl en die saag en die stok
in gemeen het, is dat hulle in die hand van die Meester is. As ons dit besef,
kan ons met vertroue verder sing: Hou my gewillig onder U hand.... ~
Wilna Botha, 16/05/2018 |
|
Die lewe is te kort vir slegte koffie
Jy ken seker hierdie lawwe stelling. En eintlik is dit so waar van so baie
dinge, want in hierdie paar duisend dae wat ons leef op aarde (so ongeveer
29000) laat ons toe dat net te veel dinge ons onderkry.
Hier is so paar dinge waaraan ek nou kan dink, maar daar is natuurlik vele
meer.
* Die lewe is te kort vir slegte verhoudings. Weet jy wat is "high
maintenance" mense? Dis mense wat jou afrem en moedeloos maak, mense wat
alles van jou verwag en niks teruggee nie. Die lewe is te kort hiervoor, en
almal hoef nie jou vriend te wees nie. Aan die ander kant kan ek egter ook
sê dat slegte verhoudings tussen broers en susters of ouers en kinders baie
erg en onnodig is. Ek het in my eie familie gesien dat iemand ('n ma) moes
sterf voordat die dogters kon vrede maak.
* Die lewe is te kort vir werksomstandighede wat jou lewensvreugde opvreet.
Jy spandeer 30% van jou dag by die werk en as dit onaangenaam is vermors jy
net 'n te groot deel van jou lewe. Daar is twee keuses, of om iets mooi
daarin te soek, of om groener weivelde te gaan soek. Ek dink sommige mense
voel egter heel gemaklik in slegte omstandighede, want dit is beter as die
vrees vir die onbekende. Lees gerus die boekie "Who moved my cheese", dit
verander mens nogal. Eintlik is hierdie boekie verpligtend!
* Die lewe is te kort om voortydig op te hou lewe, terwyl jy nog
springlewendig is. Mense laat toe dat die omstandighede in die land elke
stukkie vreugde uit hulle lewe haal, dan doen hulle niks meer wat lekker is
nie, want hulle kan niks wat mooi is raaksien nie. Dis so jammer.
* Die lewe is te kort vir 'n pad sonder die Here. Want die toekoms na
hierdie lewe sonder die Here is skrikwekkend! Lyk my sommige mense wil net
net betyds tot bekering kom om darem die lewe hierna "op die regte plek"
deur te bring. Intussen is 'n pad in hierdie lewe saam met die Here net so
aangenaam as die lewe hierna.
My vrou deel gister hierdie gedagte met my: "And in the end, it's not the
years in your life that count. It's the life in your years".
En Prediker stem saam in Pred 3 : 12 "Ek het tot die insig gekom dat daar
vir 'n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe
te geniet." ~ Willem Botha, 15/05/2018 |
|
“God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer
bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” (Jes.
12:2) Hierdie is nóg een van daai tekste in Jesaja wat helder onderstreep is
in my Bybel. Ek herinner myself altyd daaraan dat die veiligste plek by die
Here is. Dáár kan jy rus en ontspan en verkwik word. Dáár kan vrede jou
gemoed volmaak en kan jou bekommernisse en spanning en pyn en trauma en
trane verlig word. Skuil onder Sy vleuels, sê ’n ander teks. Hy is
letterlik ’n wegkruipplek vir ons, waar die probleme en die storms van die
dag, die eise en die stress van die lewe buite sal bly. “Die ewige God is 'n
skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” (Deut. 33:27) Sy uitnodiging is vir
nóú: Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is … (en almal wat bang,
eensaam, siek, verstote is) – Hy gee beskerming en nuwe krag. ~ Wilna Botha,
14/05/2018 |
|
Hemelvaart
Die maagdelike geboorte van Jesus, en Sy hemelvaart is van die grootste
wonderwerke wat Hy gedoen het. Ons hoor gereeld van wonderwerke in ons
daaglikse lewe wat reeds uit die Bybelse tyd kom, soos bonatuurlike genesing.
Ek glo elkeen van ons het al iemand ontmoet wat daarvan kan getuig, maar
geeneen van ons ken iemand wat uit 'n maagd gebore is nie, en geeneen van ons
ken iemand wat kan opvaar hemel toe nie.
Hierdie twee ongelooflike kosbare dinge onderskei ons geloof van enige ander
geloof. Die kruisiging en moord van Jesus is 'n historiese feit wat selfs
deur vele ateïste aanvaar word, maar die maagdelike geboorte en die
hemelvaart is vir vele 'n taai toffie.
Ons vier vandag die hemelvaart van Jesus en ek dink ons almal wat dit glo,
is intens dankbaar dat ons Messias se aankoms en vertrek so 'n onbeskryflike
wonderwerk was.
Luk. 24 : 49 -53 "En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle
stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus
is.” Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy
sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af
weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot
blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die
tempel gebly en God geprys."
Dit is WERKLIK aangrypend en ek prys God vandag ook met groot dankbaarheid
vir hierdie gebeurtenis, want daardie dag het Hy vertrek om ook vir my 'n
plek te gaan voorberei.
Joh. 16 : 7 "Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat
Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige
Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe
stuur.”
Geseënd is diegene wat hierdie dinge kan glo en ter harte neem. ~ Willem
Botha, 10/05/2018 |
|
“Die Gees van die Here sal op hom rus; die Gees wat
wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis
verleen en eerbied vir die Here.” (Jes. 11:2) Hierdie teks verwys na ’n
redder wat sou kom vir die volk , ’n afstammeling van Dawid, ’n takkie wat
sal uitspruit en vrugte dra. Natuurlik word dit volbring in die koms van
Jesus, dié een op wie die volle Gees van God rus. Na my mening is dit
natuurlik ook waar van elkeen van ons wat ’n kind van God is, want ons hét
die Heilige Gees ontvang. Die Gees gee vir ons wysheid, insig, raad,
sterkte, kennis en eerbied vir die Here. Die Gees laat ons vrugte dra. Die
Gees stel ons in staat om God se wil te doen. Dié Gees woon in ons! Dink net
hoeveel krag daar in jou beskikbaar is. “Nie met mag en krag sal jy slaag
nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag 4:6). “Ek het hom
toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk
kan doen.” (Eks. 31:3) Ja, my vriend, só is die Gees ook in jou aan die werk
– nie net om groot geestelike werke te doen nie, maar om sommer ook net jou
gewone dagtaak met vaardigheid en insig te doen. Besef dit. Laat die Gees
toe om beheer te neem. ~ Wilna Botha, 09/05/2018 |
|
1 Kor. 13 : 4 - 7 "Die liefde is geduldig, die liefde
is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie
verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie,
is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor
onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles,
hoop alles, verdra alles."
Sê nou maar net hierdie was waar vir ons samelewing? En voor ek voortgaan,
kom ek vra sommer: sê nou maar net hierdie was waar vir myself? Ons woon in
'n samelewing waar die liefde werklik skoonveld is. Weg, onopspoorbaar,
onsigbaar en eintlik geskiedenis. Natuurlik is dit hier en daar sigbaar,
maar ek sien dit regtig nie genoeg in selfs my eie lewe nie. Bykans elke
film, storieboek, sepie of verhoogstuk handel daaroor en dit word so mooi
aangebied, maar intussen word ongelooflik baie kinders in gebroke
huishoudings groot, misdaad gedy en ons mensdom roei mekaar uit. Soos ek
hier sit en skryf voel ek ongelooflik hartseer as ek dink hoe ons die
enigste medisyne vir hierdie gebroke wêreld, in die sand laat wegsyfer. Ek
lees vandag dat 'n hawelose man homself bokant 'n snelweg op 'n brug
opgehang het. Waar is die liefde? Sommige kinders se lewens word deur hulle
eie ouers verwoes. Waar is die liefde? Mense sterf in miljoene aan
hongersnood. Waar is die liefde? Mense moor mekaar uit in burgeroorloë, op
hierdie oomblik wat jy hierdie lees. Waar is die liefde? Miljoene kinders
word deur aborsies vermoor. Waar is die liefde?
Lees weer die vers in die begin van hierdie boodskap, dan sien jy die
volgende dinge wat tekens is van liefdeloosheid.
Ongeduldig, onvriendelik, afguns, grootpraat, verwaandheid, onwelvoeglikheid,
eie belang, liggeraaktheid, hou boek van die kwaad, verbly hom oor onreg, en
verheug hom nie oor die waarheid nie.
Ons wêreld vergaan hieroor. Lees / leef ons dan nie die Bybel nie? ~ Willem
Botha, 08/05/2018 |
|
“Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee
het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op
Sionsberg woon.” (Jes. 8:18) Dié teks laat my ook dink aan wat Josua gesê
het: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ek het juis nou
die dag vir my ’n klip gekoop met hierdie teks op en as ek dit nou sien is
dit vir my ’n herinnering en aansporing dat ons getuies van die Here moet
wees in ons “Israel” – daar waar ons woon en werk en kuier en koop. Ons kan
getuig van Sy goedheid, Sy genade, Sy redding. Ons kan vertel van ons
verhouding met die Here, dat Hy ons gebede verhoor, dat Hy persoonlik by ons
betrokke is. Ons kan maar ook vertel van dié kere wat ons swak is in ons
geloof en sukkel om getrou te bly en voel dat die Here ver is. Ons kan
getuig hoedat Sy genade en liefde ons regop hou in moeilike tye. Ons hoef
nie te preek en Bybelverse uit ons kop te sê nie – ons hoef maar net eerlik
en opreg te vertel van dit wat ons self beleef het. Ek dink nie Jesaja praat
hier nét van sy eie kinders nie – ek dink hy verwys ook na sy volgelinge en
medegelowiges. Só kan ons ook saam met ons gemeente of selgroep aanmeld as
lewende getuies van die Here. My gebed is dat ons al hoe meer vrymoedigheid
sal hê om met oortuiging te vertel! ~ Wilna Botha, 07/05/2018 |
|
Dieng dieng...
Ek dink jy kry seker net so gereeld 'n WhatsApp boodskap soos ek, en die
gewoonte is maar om dadelik te kyk wat wie vir jou wil sê. Die goed beheer
nou maar eenmaal ons lewens tot so 'n mate dat jy nie meer sonder dit kan
klaarkom nie.
So vertel 'n vriend vir my dat hy en sy vrou 'n gesprek het hieroor toe
hulle wonder hoe dit sou wees as die Here heeltyd met ons deur tegnologie
sou kommunikeer.
Jy sê iets verkeerd vir iemand en "dieng dieng" kom die boodskap van die
Here af: "My kind, Ek hou nie hiervan nie, vra asb vir die persoon om
verskoning."
Jy versuim om iets vir iemand te doen of gee en die boodskap kom: "Vriend ek
het jou geseën met genoeg om met ander te deel, doen dit asseblief nou."
In 'n slegte oomblik jak jy jou vrou af en die boodskap kom: "Hierdie is jou
lewensmaat, het jy nie belowe om haar lief te hê nie?"
Daardie aanvallige kollega by die werk kry jou aandag so bietjie te veel en
die boodskap sê: "Onthou jy jou huweliksbelofte? Deur dik en dun..."
Ek wonder hoe my "inbox" elke dag sal lyk, en of ek dalk liewer nie alles
sal lees nie, of dalk daardie boodskappe eerder heeltemal sal blok.
Dis nou alles effe negatief. Maar wat van daardie boodskappe wat kom as jy
deur erge tye van bekommernis gaan: "My kind, Ek het belowe ek sal vir jou
sorg, want jy is vir my kosbaar. Byt vas en vertrou op My."
Of in tye waar skuldgevoelens oor verkeerde dinge wat jy gedoen het jou
verteer en die boodskap sê: " Ek het my Seun ook vir hierdie oortreding laat
sterf, vir JOU. Ek vergewe jou, jy kan nou maar jouself ook vergewe."
Jy sien, al hierdie "boodskappe" van die Here is reeds vir my en jou geskryf,
in die Bybel, en ons moet dit net gaan lees. Nou wonder ek, sal ek graag
daardie Whatsapp boodskappe daagliks wil kry? Ek weet nie so mooi nie.
Wat sê jy? ~ Willem Botha, 04/05/2018 |
|
Ek lees op die oomblik so stukkie vir stukkie deur
Jesaja. Moet sê daar is maar heelwat dingetjies wat ek nie verstaan nie, ek
weet nie heeltyd waar pas wat in nie en sukkel soms om sin te maak uit al
die profesieë. En dan kom ek af op stukkies goud soos Jes. 7:14. “’n Jong
vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel
noem.” Die profesie wat vervul is. Die gebeurtenis wat alles verander het.
Nie sommer net ’n geskiedkundige gebeurtenis nie. Nie net ’n onvervulde
verwagting en leë droom nie. Dit het werklik gebeur. Jesus ís gebore. God
hét mens geword, vlees en bloed, en by ons kom bly. Hy ís Immanuel, God met
ons - nie net vir sy uitverkore volk nie, maar vir elkeen van ons wat plek
maak in ons harte en lewens vir Hom. Ek omhels vandag hierdie gedagte en
ervaar opnuut dat die Here by my is. ~ Wilna Botha, 02/05/2018 |
|
Moeg gewag
Kyk, in die weermag het jy leer wag. Jou haastigheid het daar absoluut niks
beteken nie. Dalk het jy al lank vir 'n bus gewag of gewag dat daar oor 'n
bepaalde ding 'n uitslag bekend gemaak word. Dan voel minute soos weke.
Maar dalk wag jy nou vir die Here vir iets waarvoor jy Hom gevra het. Die
groot fout wat ons maak, is dat ons soms dink God het sy beloftes vergeet.
Maar die Here vergeet nie en Hy is daar tydens ons sukkel en swaarkry, al
voel dit soms of Hy weg is. Het jy dalk krag om nog te wag?
Matt 11:18 (Die Boodskap): "Daarom wil Ek julle uitnooi: voel julle moeg vir
hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede
wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle
geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan
My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek. Kom luister na wat Ek
jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net
vir jouself te leef nie."
Klaagl. 3:21-27 "Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan
sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself:
Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op
die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra."
Wat maak mense wat nie in die Here glo nie? Op wie wag en hoop hulle? Ons
weet ons kan nie juis op mense vertrou nie, daarom is daar net Een oor op
wie ons kan hoop. Saam met Hom hoef ons nooit hooploos of hopeloos te voel
nie. Dit vra soms net bomenslike geduld. ~ Willem Botha, 25/04/2018 |
|
“Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur?” ...
Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”” (Jes. 6:8) Net soos in Jesaja se
tyd, het die Here vandag nog gewillige hande en voete en stemme nodig. Hy is
op soek na mense wat beskikbaar en bereid is. Mense met oop harte en sagte
woorde. Mense wat sy verteenwoordigers van liefde en genade sal wees. Nie
noodwendig bekwame mense nie. Enige iemand, ongeag stand, ouderdom, posisie
of geleerdheid kan aanmeld as die Here vra: wie kan ek stuur? Baie keer is
ons gereed en gewillig net totdat ons sien waarheen of vir watter taak die
Here ons wil stuur. Ons wil mos graag belangrike en groot take vir die Here
doen, nie sommer geringe goedjies wat niemand gaan raaksien nie, of hoe? Ons
kyk gou anderkant toe as die taak is om ’n beker koue water te gee, of as
ons dalk ons hande moet vuilmaak, of as dit so bietjie benede ons
waardigheid en kwalifikasies en status is. Onthou wat Jesus in Matt. 25 gesê
het van die geringstes – dalk stuur Hy jou vandag om vir iemand ’n stukkie
brood te gee, dalk ’n sieke of eensame of gevangene te besoek, dalk ’n
bemoedigende hand na iemand uit te steek of dalk ’n woord van vermaning te
gee. Sy opdrag kan wees om voor duisende te gaan preek – dan moet ons
gewillig wees. Sy opdrag kan wees om ’n geringe daad van liefde te betoon –
dan moet ons gewillig wees. Niks hiervan hoef uit jou eie krag te gebeur nie
– “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om
dit te doen.” (Jes. 49:5); “... want dit is God wat julle gewillig en
bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:13). Waag dit om te sê: Hier is
ek, stuur my! ~ Wilna Botha, 24/04/2018 |
|
Rolmodel
Ek glo die grootste geskenk wat 'n pa vir 'n kind kan gee is om 'n goeie
rolmodel te wees, op so 'n manier dat die kind 'n goeie gebalanseerde
volwasse mens sal wees, om ook sodoende self eendag 'n goeie rolmodel te
wees.
Ons elkeen het 'n pa-storie, maar elkeen se pa-storie is ongelukkig nie ewe
mooi nie. My hart gaan uit na mense wat swaarkry in hulle volwasse lewe
a.g.v. 'n gebrek aan 'n goeie rolmodel.
In die Bybel lees ons egter van 'n wonderlike verhouding tussen Jesus en Sy
Vader, waar God die Vader die volmaakte Rolmodel vir sy Seun Jesus Christus
was.
Joh 5 : 18 "Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle:
Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader
sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so."
Gaan lees daardie gedeelte in Johannes om die konteks te verstaan. Jesus kon
met vrymoedigheid alles doen wat Hy sy Vader sien doen het, en ons kan weer
alles probeer doen wat ons Jesus sien doen het. As ons in Sy voetspore volg,
kan ons geen fout maak nie, as ons ander behandel soos ons gesien het Hy
doen en as ons dieselfde liefde vir ander uitleef as wat Hy het, is Hy vir
ons die volmaakte Rolmodel, en sal ons dus ook 'n goeie rolmodel vir ons
kinders wees.
Mag die Here daardie leemte vul wat 'n negatiewe rolmodel in ons lewens
gelos het. ~ Willem Botha, 23/04/2018 |
|
“Hy het op ’n baie hoë troon gesit en die soom van sy
kleed het die tempel gevul. Om Hom was daar serafs... hulle het oor en weer
vir mekaar geroep: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy
magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek. Hulle het so hard
gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het en die hele
tempel het vol rook geword.” (Jes. 6:1-4) Baie keer in die kerk as ons sing
of bid, dan kom hierdie visioen van Jesaja by my op en raak ek diep bewus
van die heilige, grootse teenwoordigheid van die Here wat alles oorheers en
bedek en wat die hele gebou en die mense daarbinne vul met Sy
teenwoordigheid. Dan sing ek eerbiedig, bewend, maar uit volle bors saam:
heilig, heilig, heilig. Dan ervaar ek, soos Jes. 6:6 sê: “... en nou het ek
met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!” ~ Wilna Botha,
19/04/2018 |
|
Tyd
In Pred. 3 is daardie bekende gedeelte oor tyd. Daar is 'n tyd vir dit en 'n
tyd vir dat, dinge wat teenoor mekaar staan.
Pred. 3 : 1 – 2(a) "Daar is ’n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie
wêreld gebeur op die regte tyd. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd
om te sterf..."
Ek sien hier dat die Here wat tyd geskep het, elke ding wat gebeur in die
lewe in spesifieke tyd zones ingepas het. Lank voordat ek en jy in hierdie
wêreld ingekom het, het die Here reeds bepaal wanneer jy gebore sal word en
wanneer jy tot sterwe sal kom. Hy het vir jou 'n klompie talente en gawes
gegee wat jy binne hierdie tydperk waarin jy lewe, moet gebruik omdat jou
insette in hierdie lewe nou nodig is.
As jy 80 jaar oud word brand jou lewenskersie ongeveer 29200 dae. Dit is
deur die Here bepaal, maar dit kan korter of langer wees en die spesifieke
dag en datum is nie vir jou bekend nie. Goddank! Die plek waar ons gebore is
was Sy keuse, so ook die omstandighede in die land waar jy gebore is, is
deur Hom bepaal. Die feit dat ons nie in 'n oorloggeteisterde land, of 'n
land van erge hongersnood leef nie, het niks met ons eie keuse of vermoëns
te doen nie. Daarvoor kan ons maar net dankbaar wees.
Die Here is in beheer van alles, Hy het die tyd volkome in Sy beheer. Ek het
al gewonder of ek sal wil weet wat die tyd (dag en datum) van my laaste asem
sal wees, maar ek het blitsvinnig besluit dat ek nie wil hê dat Sy weë vir
my bekend moet wees nie.
Ek besef maar net dat Sy tyd nie my tyd is nie, Sy weë is nie my weë nie, en
Sy wil is nie my wil nie, ek gee alles maar net aan Hom oor. ~ Willem Botha,
18/04/2018 |
|
“Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds
gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het
terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?” (Jes. 5:4) Die Here het
álles gedoen vir sy volk (en vir ons) – die wingerd is op ’n vrugbare heuwel,
die grond is omgespit, klippe is verwyder, dis geplant met veredelde
wingerdstokke, daar is ’n wagtoring – so sê vers 2. En tóg lewer dit nie
goeie vrugte nie. Die druiwe is suur. Wat is die rede vir die suur druiwe...
dalk ’n harde hart, miskien het geloofsake nie uitgedraai soos jy gehoop het
nie of die Here het nie na jou pype gedans nie, jy het jou rug op God
gedraai, dalk gevoel dis nie die moeite werd om die Here te dien nie en moeg
geraak vir hierdie geestelike dinge. Miskien het jy vasgedraai geraak in die
alledaagse geswoeg en soeke om eie begeertes te bevredig en toe het jy jou
eie pad begin stap. Suur druiwe is dalk die gevolg van ons hoogmoedigheid,
ons liefdeloosheid, ons eiegeregtigheid. Die Here se wil vir ons is om goeie
vrugte te dra. Matt. 3:18 sê ons moet vrugte dra wat pas by ons bekering.
Jesus sê in Joh. 15 vir ons hoe om baie vrugte te dra – “Wie in My bly en Ek
in hom, dra baie vrugte.” Hy gee ook die Heilige Gees aan ons om daai soet
druiwe in ons voort te bring (Gal 5:22). Boon-op sê Jesus: “... vra dan net
wat julle wil hê en julle sal dit kry.” (Joh. 15:7) – dit wat ons nodig het
om soet druiwe te dra, kan ons van Hom vra en Hy sál dit vir ons gee. Mag
die Here weer genade betoon, nóg bemesting gee, nóg snoeiwerk doen sodat ons
volop lewensvrugte kan voortbring wat Hom
kan eer. ~ Wilna
Botha, 17/04/2018 |
|
DIS nou liefde
Ons het Sondag SO 'n kosbare boodskap by die kerk gehoor. Stefan Joubert was
aan die woord en hy het gepraat van Markus wat vir Jesus 'n paar keer
teleurgestel het (in menslike terme) en hy het dinge genoem wat ek nooit
geweet het of raakgelees het nie.
Hy het egter een ding gesê wat my vir altyd sal bybly, naamlik: "Die Here is
baie liewer vir jou as wat jy vir Hom is".
Dieselfde Markus wat lekker drooggemaak het, is later op 'n besondere manier
deur die Here gebruik. Iemand het ook eendag gesê dat die Here oneindig lief
is vir jou, en jy kan niks doen om dit te verander nie. Hoor jy? NIKS! Ons
probleem is dat ons dink dat die Here op dieselfde manier met ons omgaan as
wat ons medemens met ons omgaan. Ek het al baie mense in my lewe
teleurgestel, ook mense naby aan my, en ek weet ek stel die Here elke enkele
dag van my lewe teleur. Ek dink baie mense skram om daardie rede van my af
weg, maar die Here doen dit nie. Hy is 'n God van tweede kanse, en derdes en
vierdes en en en...
Ek hou hierdie volgende teks nogal styf teen my bors vas.
Sef 3 : 17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol
vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou..."
~ Willem Botha, 16/04/2018 |
|
“Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal
’n skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug
teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) Gisteraand beland ons in ’n erge
reënstorm. Dis donker, dit blits, die reën stort neer en die pad lyk soos ’n
rivier. Ons is skoon benoud, maar besef ons moet deurdruk. By ons bestemming
aangekom sug ons verligting – ons voel weer rustig, veilig, warm, versorg en
ontspanne ... terwyl dit steeds buite storm. Toe dink ek sommer net weer wat
hierdie teks in Jesaja sê oor die Here as ons “skuilplek en toevlug teen
stortbuie en reën”. Ons weet maar te goed dat ons op ons lewenspad die een
of ander tyd in ’n storm of stortbui gaan beland. Ons gaan benoud wees, ons
gaan voel ons wil wegvlug, ons gaan voel ons kan nie vorentoe nie, ons kan
nie sien waar die pad loop nie. Die bemoedigende waarheid is dat die Here
weet van jou storm, dat Hy saam met jou daar is – Sy teenwoordigheid in jou
lewe ís die beskutting. Jy kan die versekering hê dat Hy jou veilig deur
lei en dat Hy sélf vir jou ’n veilige, rustige, vreedsame skuilplek is,
selfs al het die storm buite nie opgehou nie. ~ Wilna Botha, 12/04/2018 |
|
Ken Hom in alles
Spr. 3 : 6 "Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat
loop."
So 'n eenvoudige teks, met soveel waarheid, soveel goeie raad en soveel
wysheid. Ek het die gewoonte om telkens in die dag oor die mees eenvoudige
dinge 'n skietgebedjie te bid, soms sommer net as 'n versugting. Dis 'n
gewoonte wat van kleins af kom, maar as die nie gebeur waarvoor ek bid nie,
aanvaar ek dit maar net gelate en weet dinge moes anders wees.
Maar sê nou maar ek, en elkeen anders, sal hierdie teks getrou navolg, glo
ek ons gaan minder dom dinge aanvang, minder in die moeilikheid kom en
minder ongelukkig wees.
As mens die Here ken in elke handeling wat jy wil uitvoer, sal jy soms twee
keer dink voor jy dit doen. Om Hom te ken in alles wat jy doen, beteken tog
dat jy Hom elke keer moet vra of hierdie die regte handeling is. En dit my
vriend, klink sommer baie moeilik.
Die beloning is egter baie groot, want die teks sê tereg: "... en Hy sal jou
die regte pad laat loop." ~ Willem Botha, 11/04/2018 |
|
“Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik
die laaste asem uit. Hulle is min werd.” (Jes. 2:22) Jammer as dit dalk ’n
bietjie negatief klink, maar ek dink baie van ons het ’n storie oor hoedat
iemand jou al teleurgestel het, nie sy kant gebring het nie, nie sy beloftes
nagekom het, nie lojaal gebly het nie, nie vir jou opgekom het nie, nie jou
belange enduit op die hart gedra het nie. Dan vang mens jouself tóg weer dat
jy op iemand vertrou – iemand wat magtig en belangrik en hooggeplaas is,
maar helaas, selfs húlle sal jou die een of ander tyd teleurstel met hulle
voete van klei. Ja, al is hulle Christene, al is hulle ’n voorbeeld van
stabiliteit en opregtheid. Ek sê nie ons moet elkeen alleen op ons eie
eiland wees nie. Natuurlik het ons ander mense nodig. Natuurlik moet ons glo
in ons naaste se integriteit. Natuurlik is ons afhanklik van ander se
insette in jou lewe. Mens moet egter nie nét op hulle staatmaak vir jou
welstand, versorging en sekuriteit nie en bewus bly van hulle menslikheid en
feilbaarheid. Die Here alleen moet die fokuspunt van ons vertroue en hoop
wees. Dis nét Hy wat gister, vandag en môre dieselfde is. Dis nét Hy wat
onwankelbaar en ewig is. Dis nét Hy wat nie van plan kan verander nie. Dis
nét Hy wat sy beloftes enduit kan en sal hou. “Moenie op magtiges vertrou
nie, nie op ’n mens nie .... sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy
planne is daarmee heen ... Dit gaan goed met die mens wie se hoop gevestig
is op die Here, sy God.”(Ps. 146:3-5) ~ Wilna Botha, 10/04/2018 |
|
In Job 38 en 39 lees
ek 'n aangrypende gesprek tussen God en Job. Dit is regtig die moeite werd
om dit alles te gaan deurlees.
Job 38 : 1 - 13 "Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit:
“Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord
jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die
antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn
oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom
aanmekaargesit, daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die
hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke
gestel, hom agter slot en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy
kom, nie verder nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het jy, Job,
in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom?
Die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses nie in die
donker kan bly skuil nie?"
Hierdie volgende woorde van die Here spreek boekdele! “Wie is dit wat besig
is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het
nie?”
Is dit nie skokkend hoe die mens - dit sluit my in - die Here tot
verantwoording wil roep nie? Ons wil soms in 'n regstryd met Hom gaan, en
dan moet Hy verduidelik hoekom Hy doen wat Hy doen. En ons kan ons nogal
vererg vir Hom as ons nie ons sin kry nie.
Maar in hoofstuk 39 blaas Job die aftog.
Job 39 : 36 - 38 "Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U
nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar
ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek
stilbly.”
Ek het al menigmaal in my lewe eintlik dieselfde gedoen, maar ek het net
besef Hy is soewerein en Hy weet die beste. Ek volstaan ook maar eerder met
Job se woorde:- "... maar nou sal ek stilbly" ~ Willem Botha, 09/04/2018 |
|
“Daar kom ’n tyd dat die berg waarop die huis van die
Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die
heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en
sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die
God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe.” (Jes.
2:2-3) As ek hierdie teks lees dan dink ek dís hoe die Here sy huis - ons
kerke en gemeentes - wil sien. ’n Tuiste, ’n plek wat uitstaan, ’n plek
waarheen mense wíl kom, waar hulle verwelkom word, waar hulle kan leer en
toegerus word vir die lewe. ’n Plek van aanvaarding, waar mense sal sê: ”...
ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” En onthou
tog maar dat die kerk uit mense bestaan. Onvolmaakte mense. Mense wat hulle
beste pogings insit. Mense wat God se mense wil dien. Moenie wegbly nie.
Moenie kritiseer en foutvind nie. Maak jouself tuis in ’n gemeente, neem
deel en maak ’n verskil. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af
wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om
daarheen te gaan.” (Heb. 10:25) ~ Wilna Botha, 05/04/2018 |
|
Pilatus Pilatus
Ons het pas Paasfees gevier. Die aand toe Jesus gevange geneem is nadat Hy
doodsbenoud gebid het, Sy verhoor, Sy kruisiging en toe die opstanding. Hy
het toe aan honderde mense verskyn en eventueel opgevaar hemel toe.
Ek bly egter steeds dink aan Pilatus en sy lafhartige optrede toe hy self
verklaar het dat Jesus onskuldig was, maar Hom tog oorgegee het om gekruisig
te word. Nou wonder ek, wat het hy van hierdie hele ding gemaak? Hoe het hy
gevoel toe Jesus opstaan? Was hy dalk bang en bevrees dat Jesus sou terugkom
vir hom? In Joh 18 : 28 - 40 speel die verhaal af waar hy vir Jesus "verhoor"
het. Hy het vir Jesus 'n paar vrae gevra :-
1) Is jy die Koning van die Jode?
2) Wat is waarheid?
3) Dan is Jy tog 'n koning?
Gaan lees gerus hierdie stukkie in die Bybel. In hierdie gesprek was Jesus
se antwoorde eenvoudig een te veel vir hom. Nou wonder ek: het Pilatus weer
teruggedink aan hierdie gesprek na die opstanding? Het hy dalk tot ander
insigte gekom toe hy hierdie wonderwerke sien afspeel? Is dit moontlik dat
hy dalk ook tot bekering gekom het en sy lewe omgedraai het, of het hy net
soos altyd voortgegaan in sy lewe? Ons sal nooit weet wat sy uiteinde is in
die hiernamaals nie.
Maar Pilatus, jy het die regte vrae gevra. Hier is die antwoorde:
1) Hy IS die Koning van die Jode, en van almal anders.
2) Hy IS die waarheid. Die weg, die waarheid en die lewe.
3) Hy IS inderdaad 'n Koning, die enigste Koning, wat op die troon sit aan
die regterkant van die Vader, en heers oor die heelal, en al wat leef. ~
Willem Botha, 04/04/2018 |
|
“Kom volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van
die Here af kom.”(Jes. 2:5) Toe Jesus aan die kruis gesterf het, was daar
drie ure duisternis – die laaste duisternis, want die Lig het finaal oorwin.
Jesus, die Lig, het afgereken met alle duisternis en deur Sy genade het Hy
ook die lig in elkeen van ons kom aanskakel. Só praat Joh. 3:19 ook van die
Lig wat na die wêreld toe gekom het, maar dat daar mense is wat steeds
eerder die duisternis lief het as die lig, omdat hulle dade sleg is en hulle
bang is God se lig ontbloot dit. Wie hulle is en wat hulle doen word in die
donker weggesteek. As daar ’n vuil kol op jou gesig of op jou klere is, sal
niemand daarvan weet terwyl dit donker is nie, maar soos wat daar meer lig
val sal die vuil kol al meer sigbaar word. As jy dalk, soos ek, skaam is oor
die vuil kolle van jou lewe en dit in die skemerte probeer wegsteek, kan jy
met vrymoedigheid na die Lig toe kom. Geen vuil kolle, geen van die slegste
dade is té groot en té vuil vir Christus se lig nie. Kom ons was opnuut
weer ons klere in die bloed van die Lam, sodat ons silwerskoon kan staan en
waarlik kan léwe in die lig wat van die Here af kom. ~ Wilna Botha,
03/04/2018 |
|
'n Hartklop
Die Vrydag is Jesus gekruisig en Hy was dood. Sy lewelose liggaam is in
doeke toegedraai en Hy is in 'n graf neergelê. 'n Groot klip is voor die
graf gerol en dis bewaak deur wagte. In daardie graf was 'n dooie liggaam,
totaal leweloos, morsdood.
Maar in die doderyk het iets verskriklik gebeur. In ons geloofsbelydenis
praat ons van "ter helle neergedaal", waar Jesus met bonatuurlike kragte
gemaai het onder Satan en sy trawante, en alles oorwin het wat tussen ons en
die ewige lewe staan. Maar steeds, op daardie Saterdag, het die lewelose
liggaam in daardie graf gelê.
En dan, die Sondag oggend gebeur iets wat totaal onmoontlik is. 'n Hartklop,
dan nog een, bloed wat begin pomp deur daardie lewelose liggaam, 'n eerste
asemteug, die borskas wat begin beweeg soos Hy asemhaal en lewe wat
terugkeer. Ek dink onwillekeurig aan die dag toe Adam geskape is en God
lewensasem in daardie liggaam ingeblaas het. Dit was dieselfde toe die lewe
terugkeer in Jesus se liggaam. Sy oë gaan oop en Hy kom regop en Hy het van
die doeke opgerol. Die wonde van twee dae tevore is genees, maar die letsels
het oorgebly wat vir Thomas tot geloof gebring het.
Ons lees in Matt 28 : 2 "Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel
van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip
weggerol en daarop gaan sit."
Dan kom Jesus uit die graf uit. Ek sien in my geestesoog die beeld van Jesus
wat uitkom en sê "Goeie more wêreld, julle het geen idee wat op julle wag
nie!" Wanneer Maria Magdalena en die ander Maria (volgens Matt 28 : 1) daar
kom, kry hulle 'n engel by die graf wat die volgende sê:-
Matt 28 : 6 "Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy
gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het." Hy het
opgestaan, net soos wat Hy gesê het.
Jy sien, om in die historiese Jesus se bestaan te glo vra niks, want selfs
vele ateïste glo dit ook, en selfs Sy kruisiging word maklik geglo. Maar dit
wat daardie Sondagoggend gebeur het is die groot skeiding tussen die
gereddes en die ongereddes. DIT is wat jou toekoms in die hiernamaals bepaal:-
Die opstanding, die dag toe die bande van die wet verbreek is en geloof jou
uiteinde bepaal. DIT is iets om te vier!
HY HET OPGESTAAN, HY HET WAARLIK OPGESTAAN! ~ Willem Botha, 02/04/2018 |
|
Doodsbenoud
Dis die aand voor die kruisiging van Jesus. Hy weet presies wat kom, Hy weet
wat dat Hy die volgende dag gaan sterf, Hy weet ook hoe Hy gaan sterf en Hy
weet beslis hoekom Hy gaan sterf. En, hoewel Hy die Seun van God is, beleef
Hy angs en benoudheid soos wat ek en jy waarskynlik nooit sal ken nie.
Hy neem drie dissipels saam met Hom Getsémané toe om saam met Hom te bid.
Matt 26 : 36 - 38 Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam
Getsémané, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het
vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en
beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam
met My.”
Maar hulle het telkens aan die slaap geraak. En dan lees ons in vers 42: 'n
Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie
by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”
Hierdie is 'n ongelooflike treffende gebed. Hierdie ongelooflike vrees vir
more, vir dit wat gaan kom, vir die pyn en vernedering, maar tog aanvaar Hy
Sy lot.
Ons vier weer Goeie Vrydag, daardie ongelooflik slegte dag wat vir ons
ongelooflike goeie gevolge gehad het. Daardie dag wat God se wil geskied
het. Ons weet dis goed want ons weet van die opstanding, waarsonder alles
totaal sinneloos sou wees.
Mag dit vir jou 'n vreugdevolle Paastyd wees! ~ Willem Botha, 29/03/2018 |
|
In die aanloop tot Goeie Vrydag is ek weereens
aangegryp deur Jesaja 53. Dit is vir my een van die mooiste profesieë oor
Jesus se lydingspad, sy versoeningswerk, sy instaan vir ons, sy voltooiing
van sy aardse roeping. Dit praat van die verwerping, mishandeling, spot,
straf, lyding, pyn en seer wat Hy moes deurmaak sodat ons dit kan vryspring.
Dit sê hoedat Hy as die volmaakte, die sondelose in ons plek gestraf is,
sodat ons vry kan uitstap. Dit sê hoedat Hy gehoorsaam en gewillig, geduldig,
stil en sonder om te kla dié pad gestap het, ter wille van óns. Dit sê
hoedat sý pyn vir ons genesing bring, hoedat Hý gewond, verbrysel en
deurboor is, sodat ons kan lewe. “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor
óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op
Hom, deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) ~ Wilna
Botha, 28/03/2018 |
|
Kruisig Hom!
Ons is in die aanloop na Paastyd toe, toe Jesus gekruisig is, en hier in
Matt 27 lees ons hoe Jesus voor Pilatus gebring is en die mense moes kies
tussen Barabbas en Jesus se vrylating.
Mat 27:20 - 23 "Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die
mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood. Die
goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir
julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet
ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” “Kruisig hom!” skreeu hulle
almal. Hy vra: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle skreeu nog
harder: “Kruisig hom!”
Dit klink of die
mense soos diere geword het toe hulle hierdie woorde uitskree: " KRUISIG HOM
KRUISIG HOM!!"
Ons lees van Pilatus, die lafaard wat sy hande in onskuld was, die mense wat
die wonderwerke van Jesus gesien het, en gehoop het op iemand om hulle te
kom verlos van die Romeinse owerhede, maar skielik omswaai teen Jesus, die
soldate wat moordlustig wag om hierdie wreedaardige moord te pleeg op
Golgota en Jesus wat gedwee hierdie lydingspad stap.
Dit klink totaal onwerklik dat dit so kon wees, maar dit het gebeur. Was
hierdie mense slagoffers van God se plan om hierdie hele ding tot uitvoer te
laat kom? Jesus moes tog sterf, Hy het dit tog self vir Sy dissipels
voorspel, daar is selfs profesieë daaroor in die Ou Testament en dit MOES
net gebeur. Maar tog skok dit my steeds.
Dit los my maar net met die wete dat genade verniet is, maar dis verseker
nie "cheap" nie, dit het met 'n ontsettende prys gekom. ~ Willem Botha,
27/03/2018 |
|
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die
Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18) As mens
Jesaja 1 lees tot hier voor vers 18, klink dit of die Here nogal baie kwaad
is vir sy volk. Hy praat van hulle opstandigheid, Hy noem hulle ’n sondige
nasie, Sodomsleiers, Gomorrasvolk. Hulle het hulle rug op Hom gedraai, hulle
ken en erken Hom nie meer nie. Maar, getrou aan wie Hy ís – genadige,
barmhartige God, nooi Hy hulle weereens uit na Hom toe om hulle saak met Hom
reg te maak. Hy doen dit vir ons ook. Hy het dit tot die uiterste gedoen toe
Hy sy Seun gestuur het om eens en vir altyd te betaal vir ons hardkoppigheid,
ons eiesinnigheid, ons opstandigheid, vir elke liewe sondige begeerte en
gedagte en daad. Hy het dit gedoen toe ons nog sondaars was. Toe ons nog
skarlakenrooi en purperrooi was. Hy het die eerste skuif gemaak, eerste sy
hand uitgesteek. Dís wat ons nou met trane van verligting en blydskap kan
vier hierdie Paastyd. Jesus het gekom. Hy het betaal. Ons saak met God is
uitgemaak. Ons is skoon. Ons is vergewe. Ons het die lewe in oorvloed
ontvang. ~ Wilna Botha, 26/03/2018 |
|
Ek, die skelm
Daar is 'n paar dinge wat jy nooit in jou lewe uit iemand se mond sal hoor
nie.
Eerstens die skelm vennoot. Het jy al ooit gehoor dat iemand vir jou vertel
hoe hy sy vennoot verneuk het? Iets soos:- "Jitte ek het hierdie vennoot van
my rot en kaal besteel. Toe hy weer kyk het ek al die geld uit die rekening
getrek en padgegee. En voorts het ek die heeltyd net lyf weggesteek en al
die werk vir hom gelos." Nee jy sal dit nie hoor nie, die skelm vennoot is
nog nooit gebore nie.
Tweedens, die vark in die huweliksverhaal. "Ek het darem maar my
huweliksmaat lekker onderdeur geloop. Ek het alles wat ek in die hande kon
kry geblaas op myself, haar lekker verkul met ander vroue, en haar op die
koop toe net totaal geïgnoreer. En voorts flirt ek by die werk met al wat
rok dra en kuier tot laatnag rond saam met die pêlle." Nog nooit gesien nie!
Die huwelik wat verbrokkel is altyd die ander party se skuld.
So kan ek aangaan, daar is net eenvoudig mense wat nooit skuldig is in hulle
eie oë nie. Hierdie volgende twee tekste beskryf so ietsie van hierdie
ding.
Spreuke 12:15 "In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het,
luister na raad."
Spreuke 21:2 "In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here
toets die gesindheid."
Ek dink ek is ook so. Van kleins af geleer om te sê: "Dis nie ek nie..."
Hierdie siekte van ons tyd veroorsaak dat daar so baie slegte verhoudings in
die wêreld is. En ja, ons doen dit met die Here ook. ~ Willem Botha,
22/03/2018 |
|
“Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het
Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar en die
boosaardige gees het van hom af padgegee.” (1 Sam 16:23) Toe ek dié teks
vandag gelees het, het ek eers gedink hoe kragtig geesvervulde musiek is.
Salwend en kalmerend vir ’n onstuimige binnekant. Dit bring jou in die
teenwoordigheid van die Here. Dit laat jou weer perspektief kry. Dit help
jou om te fokus op God en nie op jou probleme nie. Ek besef toe later dat
dit egter vir Saul net vir ’n kort rukkie ’n terapie was. Die oorsaak van sy
ontsteltenis was dat God se Gees van hom onttrek het vanweë sy
ongehoorsaamheid, hoogmoedigheid, weerbarstigheid, valsheid en gebrek aan
berou voor God. Die musiek het hom vir ’n rukkie laat beter voel, maar nie
die “probleem” opgelos nie. Ek sien en hoor deesdae ook hoedat mense in
allerlei “ervaringe” en rituele genesing en vrede soek en dat dit nie
permanent verligting en bevrediging gee nie. Gou-gou is hulle op soek na die
volgende foefie. Ons harte kan nie verander word met goetertjies van buiteaf
nie – dit moet binne-in onsself gebeur. Dit moet aangevuur wees deur die
Heilige Gees. Die antwoord lê in ’n heelhartige terugdraai na die Here, om
Hóm te erken as koning van jou lewe, om totaal oorgegee aan Hom te lewe,
gehoorsaam te wees, sterk te staan in jou geloof, om Sy Gees toe te laat om
elke aspek van jou lewe te vul en te beheer. ~ Wilna Botha, 21/03/2018 |
|
Grondsake
Spr. 13:23 "Grond wat die eerste keer geploeg is, lewer genoeg kos vir die
armes, maar waar daar nie wet en orde is nie, word die kos van hulle af
weggevat."
Ek is seker dat hierdie teks by jou presies dieselfde emosie opwek as by my.
Ek glo nie eers ek hoef iets van hierdie teks te probeer verduidelik nie,
want die afgelope paar weke is ons almal vasgevang in vrees en onsekerheid
oor besluite van die regering. Hierdie regering aan wie ons getrou behoort
te bly en aan wie ons moet "gee wat die keiser toekom." Soos jy weet raak
dit by die dag moeiliker.
Maar tog het ek vandag goed geëet, tog het ek baie werk om te doen in ons
onderneming, tog het ek die voorreg om mooi plekke in hierdie land te sien
en tog kan ek veilig iets wegsit vir ons oudag. Ek sien steeds baie goeie
verhoudinge tussen die meeste mense op straat en ten spyte van vrese oor
misdaad, leef ons nie totaal in wanhoop nie. Voorts is ek en jy (teen die
massas gemeet) regtig welaf, eintlik skatryk.
Vir my bly ons mooi land steeds die land van melk en heuning en hier floreer
ek.
Die een ou stukkie grondjie wat niemand egter van my en jou kan wegneem nie,
is die plekkie wat Jesus vir ons gaan voorberei het in die hiernamaals. Ek
en jy het reeds kaart en transport van daardie plek, en dis goed genoeg vir
my. Ek gaan in elk geval niks van hierdie aardse goedere daarheen kan
saamneem nie. Ek dink nogal ek kan met hierdie gedagte saamleef. ~ Willem
Botha, 21/03/2018 |
|
Ek weet die Bybel sê ons moenie oordeel nie. Oordeel is
God se werk. Maar tog lees ek in 1 Kor. 5:12-13 dat ons oor ons "eie mense"
moet oordeel. Ons eie mense kan van toepassing wees op 'n gesin, familie,
omgeegroep, gemeente ens. As ek fouteer sal ek dit waardeer as 'n
medegelowige my reghelp, eerder as wat ek voortploeter en dalk 'n swak
voorbeeld stel, of selfs iemand anders laat struikel. Ek sal graag
tereggewys word, sodat my geloof gesond kan wees (soos Tit. 1:13 sê) Ons het
'n verantwoordelikheid om mekaar reg te help en mekaar te leer en mekaar aan
te moedig om op die regte pad te bly. Dit moet natuurlik versigtig en met
liefde gedoen word, nooit uit 'n hoogmoedige, hoogheilige, meerderwaardige
posisie nie. Ek weet hierdie is seker een van die moeilikste goed om te doen.
Dis nooit lekker om 'n teregwysing te ontvang nie. Self is ek versigtig om
iemand anders op 'n foutiewe gedrag of oortuiging te wys want ek is bang vir
sy reaksie. Bang hy is kwaad vir my, bang hy sê: dink jy jý is heilig? Gal.
6:1 sê mooi vir ons dat reghelp in sagmoedigheid moet geskied én dat ons
altyd ook moet let op die vingers wat terugwys na onsself toe. "Broers, as
iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees
laat lei, so iemand in 'n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan
self ook in versoeking kom." (Gal. 6:1) ~ Wilna Botha, 15/03/2018 |
|
Waarvoor swoeg jy?
Pred 2:22 "Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel
sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?"
Toe ek hierdie teks raaklees het ek besef dis 'n vraag waarmee bykans elke
mens by tye worstel. Gaan slaap saans net sodat jy kan uitrus om more te
gaan werk. Kom van die werk af en storm deur die aand roetine net om uit te
rus sodat jy more weer kan gaan werk. Nimmereindigend.
Vir wat? Of nog meer, vir wie? Vir 'n salaris wat veels te klein is, by 'n
werksplek wat dalk glad nie lekker is nie, vir 'n baas wat jou nie waardeer
nie en kollegas wat die wêreld vir jou onaangenaam maak? Goeiste maar dit
klink nou vir jou neerdrukkend! Maar dis hoe dit is.
Iemand sê eendag dat mense hoofsaaklik vir twee redes werk, en dis uit vrees
of gierigheid. Vrees dat jy jou werk (hoe miserabel ook al) sal verloor, of
gierigheid wat veroorsaak dat jy net nie genoeg geld kan inpalm nie, ten
koste van wat ook al. Daar is 'n derde opsie, maar dis vir min mense waar,
nl dat jy werklik jou werk, en werksomstandighede geniet. Daar is min sulkes.
Wel, werk moet jy werk, of dit lekker is of nie.
Nou goed, ek is seker jy wag nou vir 'n "magic" oplossing wat ek flink uit
die Bybel gaan uitpluk en dan is almal gelukkig. En deur 'n teks of twee
gaan jou lewe verander.
Slegte nuus is, ek gaan nie eers probeer nie! En iemand het voorts tereg
gesê: A slower day comes............. never!
Dus, jy moet maar vir jouself hierdie ding uitmaak en vir jouself vra wat
jou laat voortstrompel deur hierdie moeilike lewe.
Gen 3:19 (1953 vertaling) "In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet
totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy,
en tot stof sal jy terugkeer."
Ek self werk om die
volgende redes:-
Eet moet ek eet.
Ek moet IETS doen deur die dag, so ek kan net sowel werk.
Ek vind plesier in die feit dat my kennis en vermoëns 'n verskil maak.
Ek voel goed oor die gedagte dat ek 'n verskil maak in die samelewing.
Dis vir my 'n voorreg om myself en my gade te onderhou. Ek hoef in niemand
anders se oë te kyk nie.
Ek is dankbaar dat die Here vir my die krag en gesondheid gee om dit te kan
doen.
Ek is dankbaar dat daar so bietjie "jam" op die brood is wat ek kan geniet.
Ek doen my werk met vreugde omdat dit 'n opdrag van God is.
Hoekom werk jy? ~ Willem Botha, 13/03/2018 |
|
Daar
word gesê: Of all the things you wear, your expression is the most
important. Watter gesigsuitdrukking het jy vandag “aangetrek”, of opgesit
saam met jou grimering? ’n Kil, afsydige kyk in jou oë, of ’n sagte,
vriendelike kyk? ’n Neus-in-die-lug hooghartigheid, onverbiddelike stywe
lippe of nederige diensbaarheid? ’n Frons of ’n glimlag? Jou
gesigsuitdrukking kan mense nadertrek en ’n uitnodiging tot ’n gesprek wees
of dit kan mense summier wegstoot. Jou gesigsuitdrukking is baie keer die
spieëlbeeld van wat in jou hart aan die gang is. ’n Negatiewe ingesteldheid,
pessimisme en vreesagtigheid sal ’n groot frons en ’n donker kyk in jou oë
gee. Hoop, tevredenheid en vergenoegdheid sal met ’n glimlag bevestig word.
“Wees
altyd beskeie, vriendelik en geduldig”, sê die Bybel in Ef. 4:2 en ek dink
ons gesigte moet dít beaam. ~ Wilna Botha, 12/03/2018 |
|
Van Gogh
Daar is 'n lekker aktiwiteit wat ons dikwels op ons kampe vir gestremdes
gedoen het, naamlik gesigverf, maar jy verf nie jou eie gesig nie, iemand
anders verf jou gesig vir jou, soos wat hy/sy jou wil laat lyk. Die beste
van als is, jy weet nie hoe jy lyk nie, want jy kan nie jou eie gesig sonder
'n hulpmiddel sien nie. Jy vertoon dus iets wat iemand anders vir jou
aangebring het. Terwyl die persoon besig is om aan jou kunswerk te werk,
weet jy nie wat besig is om met jou te gebeur nie. Nou ja, elke oggend verf
vele dames hulle gesiggies presies soos wat hulle dit wil hê, soms sommer op
die snelweg teen 120km/h! Maar hulle maak dit soos wat hulle daarvan hou.
Maar o wee, soms wil mense nie jou gesiggie uitlos nie, want met lelike
woorde en slegte verhoudings verf ons mekaar se gesigte om soos monsters
(Van Goggas) te lyk, sonder dat ons weet hoe ons vir ander lyk. Hulle noem
dit skinder.
Jy sien, dikwels sien mense jou soos wat ander jou geverf het, en wat nie
die ware jy weerspieël nie. Ek was al dikwels verras as ek mense ontmoet, en
besef hulle lyk (is) totaal anders as wat ander mense hulle vir my geskilder
het. En wat nogal erg is, as mense vir jou vertel hoe koddig ander mense is,
vertel hulle dieselfde van jou agter jou rug.
Hierdie aksies word net deur woorde gepleeg. Ses en twintig (eintlik minder)
letters van die alfabet word ingespan om kwetsende woorde te vorm, wat
iemand se identiteit en aansien verwoes.
SPREUKE 16:28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat
skinder, bring verwydering tussen vriende." ~ Willem Botha, 08/03/2018 |
|
In die Psalms is daar ’n klompie hoofstukke wat as
klaagpsalms bekend staan. Lyk my daar word oor die algemeen gesê dat dit Ps.
44, 60, 74, 79, 80, 85 en 90 is. Hierdie Psalms is ’n uitstort van die
bekommerde hart voor die Here, ’n biddende uitroep in pyn en lyding en
eensaamheid, ’n hulpkreet onder vals beskuldiging en vervolging. Wanneer ek
dit lees, besef ek maar net ons en ons swaarkry en probleme en bekommernis
is nie uniek nie. Dwarsdeur die eeue het Christene tye van swaarkry beleef.
Wat ons leer uit die klaagpsalms is dat dit nooit net by kla en kerm en mor
bly nie. Dwarsdeur spring daar ’n geloofsbelydenis en ’n verklaring van
vertroue in die Here op. Mag ons ook in ons diepste nood en beproewing na
die Here uitroep, en nooit ons geloof verloor of ons rug op die Here draai
nie. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die
steek laat nie.” (Heb. 13:5) Gewoonlik eindig die klaagpsalm met ’n
danksegging, met ’n lofprysing, met ’n bevestiging van God se hulp en seën.
Hy ís God. Hy bly getrou. Hy gee uitkoms en oorwinning. Mag elkeen van jou
persoonlike klaagliedere ook só eindig. “Maar wat my aangaan, dit is vir my
goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug.” (Ps.
73:28) ~ Wilna Botha, 07/03/2018 |
|
Ek ken jou nie
Ek maak onlangs weer die fout om te gaan rondsnuffel op 'n Facebook groep
van sogenaamde "andersdenkendes", waarvan 'n klomp lede daar openlik
verklaar dat hulle nou ateïste is. Van die lede is teoloë en eks-leraars.
Dis uiters ontstellend hoe godslastering openlik gepleeg word, en Christene
(en die Here) bespot en verguis word. Ek het gelukkig gou ophou om daar te
lees.
Toe wonder ek nou net, sê nou so 'n persoon kom in traumatiese omstandighede
(terminale siekte wat op hulle pad kom, hulle of iemand baie naby), en hulle
besluit in daardie absolute verwoestende omstandighede om na God uit te roep,
wat verwag hulle van Hom? Sou jy verwag dat God net eenvoudig in Sy
nimmereindigende liefde Sy helpende hand uitsteek? Kan jy verwag om God se
guns te verkry as jy Hom verwerp en bespot het? Sou dit nie 'n wrede God
wees wat Sy rug draai nie?
Wel, ek kan nie sê nie, want hoekom moet Hy my enigsins genadig wees? Ek kry
egter tog in Matteus 'n teks wat vir my sê dat God baie baie ernstig is oor
ons verhouding met Hom. Dit kom voor in die gelykenis van die 10 meisies, 5
dwases en 5 wyses.
Matt 25 : 11-12 “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer,
Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek
ken julle nie!’
Ek wil nie daardie woorde hoor as ek my heil by God gaan soek nie, en ook
nie wanneer my oordeelsdag aangebreek het nie. Die Here is baie ernstig
daaroor dat ons saak met Hom reg moet wees.
Matt 7 :13-14 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei,
is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar
die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat
dit kry, is min.”
Ek wens dit vir geen mens toe nie. ~ Willem Botha, 06/03/2018 |
|
Ek lees hierdie aanhaling in gister se dagboek-blokkie:
“An eye for an eye only ends up making the whole world blind.” In Lev.
24:19-20 en Ex 21:24 vind ons hierdie Ou-Testamentiese wet dat as iemand
iets verkeerd aan ’n ander gedoen het, moet presies dieselfde aan hom terug
gedoen word. Oog vir ’n oog, tand vir ’n tand! As dit uitgevoer sou moes
word sou ons almal lankal blind gewees het (of haasbek!) want een of ander
tyd hét ons al almal vir iemand anders pyn of seer veroorsaak. Ek is só bly
dat Jesus vergifnis en vryspraak gebring het, nie net tussen ons en God nie,
maar ook vir ons teenoor ons medemens. Jesus het as’t wat hierdie
oog-vir-’n-oog-wet kom ophef, en ‘n nuwe genade-wet ingestel in Matt.
5:38-42. ’n Wet wat staan vir sagte harte teenoor mekaar, vir toegee, vir
inskiklikheid, vir mededeelsaamheid, vir genade en liefde, vir draai die
ander wang, vir loop die ekstra myl, i.p.v. vergelding, i.p.v. boekhou van
kwaad, i.p.v. wraak neem, i.p.v. veroordeel. Dis nie altyd so maklik om dié
reël na te kom nie. Ons kan egter die Here vra om ons daarmee te help en Hy
sál. Die blydskap en vrede wat dit gaan meebring, sal beslis ‘n groot
beloning wees! ~ Wilna Botha, 05/03/2018 |
|
I'll walk with God
... tot die dag wat ek sterf. Ek kry vanmiddag hierdie liedjie in my kop
(Mario Lanza het dit gesing) en dit het sommer net nuwe betekenis vir my
gekry.
"I'll walk with God from this day on
His helping hand I'll lean upon
This is my prayer my humble plea
May the Lord be ever with me
There is no death though eyes grow dim
There is no fear when I'm near to Him
I'll lean on Him forever
And He'll forsake me never..."
Ek wil saam met die
Here stap as enigiets wat sleg is op my pad kom
Ek wil nie sonder die Here stap wanneer 'n geliefde naby aan my sterf nie
Ek wil nie sonder die Here stap as daar aardse probleme op my pad kom nie
Ek wil nie sonder die Here stap as erge siekte my pad kruis nie
Ek wil nie sonder die Here stap as vrees, kommer en depressie oor my pad sou
kom nie
Ek wil verseker nie sonder die Here stap as selfs ongeloof my oorval nie
Ek wil langs Hom wees as dit voel of ek deur doodskaduwees gaan
Maar, ek wil ook by Hom wees wanneer daar groot onverwagse voorspoed op my
pad kom
Ek wil naby Hom wees om vir Hom te kan dankie sê as slegte nuus verander in
goeie nuus
Ek wil Hom langs my hê as daar tye van hooploosheid was en onverwagse
wonderwerke gebeur
Laastens, ek wil onder geen omstandighede sonder Hom wees wanneer ek hierdie
wêreld verruil vir die volgende Lewe nie!
Jy sien, as ek saam met Hom stap, hoef ek niks voor my te sien nie, want Hy
sien en ek stap saam, in volle geloof en volle vertroue op Hom.
2 Cor 5:7 "For we walk by faith, not by sight" ~ Willem Botha, 01/03/2018 |
|
Die laaste G-woord van my 18 G’s vir 2018 is groei. Ek
wil nie graag in sentimeters of kilogramme groei nie, maar ek wil beslis aan
die einde van dié jaar terugkyk op ’n groeipad waar ek geestelik en
emosioneel ’n paar sentimeters gevorder het. Ek wil nie aan die einde van
die jaar geweeg word en te lig bevind word nie. Ek hoop om soos ’n gesonde
boom met sterk wortels, bietjie vir bietjie te groei en my takke verder en
verder uit te sprei. Ek hoop om soos ’n vrugbare boom mooi, lekkerruik
blomme of goeie, bruikbare vrugte op te lewer. Ek wil groei in toewyding aan
die Here, ek wil groei in Woordkennis en Geesvervulling, ek wil groei in
gehoorsaamheid, ek wil groei in diensbaarheid en verdraagsaamheid en geduld,
ek wil groei in vergenoegdheid en tevredenheid. “Streef na opregtheid,
toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid,” sê 1 Tim 6:11.
Nou ja, die jaar het al met 2 maande gevorder, ek dink dis tyd vir ’n meet
en weeg sessie. ~ Wilna Botha, 28/02/2018 |
|
Jy ken sekerlik hierdie masjiene, hulle staan in
winkelsentrums, hospitale en ander plekke rond. Hy werk eenvoudig: hy is
gepak met koeldrank, sjokolade, lekkergoed en aartappelskyfies (sommige
selfs met sigarette) en al wat jy doen is om jou geldjie in te sit, die
regte nommertjie te kies en siedaar! Dan buk jy af, staan bakhand en hy gooi
jou lekkernytjie flink vir jou uit. Dis nou as hy reg werk.
Maar
o wee, soms is hy so steeks soos 'n donkie. Hy vat jou geld maar gee niks terug
nie, of die meganisme wat die lekkerny moet uitgooi steek vas en dan begin
die pret. Eers skud jy die masjien so liggies, en as hy nie werk nie kyk jy
rond of niemand jou sien nie en skud hom minder liggies terwyl jy in (onaanvaarbare)
tale spreek, en dan begin die groot geveg! Wat jy gewoonlik verloor.
So maak ons soms met gebed. Ons gaan staan voor die Here, spreek ons
probleem uit, gee vir die Here die beste moontlik oplossing wat perfek gaan
werk, saam met die ideale tydskaal en wag bakhand. Ongeduldig natuurlik ,
want as ons nou vir Hom gesê het wat sal werk en hoe gou dit moet gebeur is
daar mos geen rede hoekom dit nie NOU moet wees nie! Dan gaan ons soort van
deur dieselfde stappe as met die stomme masjien. Skud, skreeu en raak sommer
lekker aggressief.
More vertel ons vir diegene wat dit wil hoor (en die wat dit nie wil hoor
nie) dat God nie met ons praat nie, en dat ons gebede teen die plafon
vasslaan.
Nee vriend, dit werk nie so nie. Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Sy
uitkomste is nie soos wat ons dit voorskryf nie. Soms is dit ook nie so
ideaal soos wat ons dit wil hê nie, maar wees verseker, dis altyd die beste
vir ons, hoewel dit nie altyd die lekkerste is nie. Soms vra ons 'n
sjokolade maar kry 'n wortel, omdat dit dalk net die beste vir jou is. ~
Willem Botha, 27/02/2018 |
|
Die voorlaaste G van my 18 G’s vir 2018 is “geluk”. As
iemand verjaar sê ons mos: geluk met jou verjaarsdag. So is ek ook van daai
geluk toegewens toe ek nou die dag verjaar het. Ek het toe by myself
gewonder watter soort geluk ek verwag vir my nuwe lewensjaar. Ek weet maar
al te goed dat my geluk nie werklik bepaal kan word deur goeters en
omstandighede nie, want dit is dinge wat enige tyd kan verander. Ek weet ook
dat ek nie van mense afhanklik moet wees om my gelukkig te maak nie. Ek kan
ook nie wag vir geluk om na my toe te kom nie. Ek kan dit ook nie êrens gaan
soek nie. Dit kan nie deur ’n glimlag of ’n giggel aangeplak word nie. Ek
lees anderdag hierdie waar aanhaling: “Happiness is not determined by what’s
happening around you, but rather what’s happening inside you” en die Bybel
beaam dit ook met Matt. 5:8 (Die Boodskap): “Gelukkig is almal wie se lewe
van binne af nuut geword het.” Dis mos iets wat jy nét by die Here kan kry.
Ware geluk is dit wat jou hart en gedagtes vul as jy die Here dien. ’n
Tevredenheid, ’n gerustheid, ’n sekerheid omdat jy weet daar is dinge wat
belangriker is as die hier en nou, dinge wat ’n ewigheidswaarde het,
Goddelike dinge! Vind jou vreugde in die Here, sê Ps. 37:4. Ja, dis dié
soort geluk waarna ek wil streef. ~ Wilna Botha, 26/02/2018 |
|
'n Sierlike kroon
Spr 16:31 "Ouderdom is 'n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg
lewe."
Is hierdie nie 'n pragtige teks met vreeslik baie betekenis nie? Ek dink ons
almal rem teen hierdie genadelose ding wat ons tyd noem, amper soos iemand
wat deur 'n worshond vir 'n stappie gevat word (nee dis nie verkeerd-om
gestel nie, daai brak sleep jou net waar hy jou wil hê). En dan maak mense
die volgende belaglike stelling: "Ek wil tog nie eendag 90 jaar oud word en sukkel
nie." Nee, ouderdom is inderdaad 'n sierlike kroon en diegene wat dit bereik
moet uiters dankbaar wees. Weet jy wie wil 100 jaar oud wees? Die persoon
wat 99 is...
Saam met ouderdom kom wysheid en sagtheid, geduld (meesal, maar ek wonder
oor ons manne) en vreedsaamheid.
Dus, as jy moedeloos raak omdat jy nie meer kan doen wat jy eens op 'n tyd
kon doen nie, wees dankbaar vir n hoë ouderdom, nie baie mense het daai
voorreg nie! ~ Willem Botha, 22/02/2018 |
|
Nóg 'n G-woord wat my toegewens is vir my nuwe
lewensjaar is genade. Mag dit ’n genadejaar wees! Vol van God se genade,
daai wat ek nie verdien nie, maar verniet en in oorvloed kry. Sy genade wat
my vryspreek en oorsien en wat vergewe en vergeet. Sy genade wat voorsiening
maak vir nuwe kanse en vir oor begin. Sy genade wat vars en nuut is elke dag
van elke jaar. Sy genade wat gestalte gevind het in ons Verlosser, Jesus
Christus. Hy sê self in Luk. 4:19 dat Hy gekom het om die genadejaar aan te
kondig. Die nuwe era, die nuwe lewe, die nuwe verhouding met God. Nie net
vir ’n jaar of vir dié tydperk wat Hy op aarde was nie, maar vir ewig.
Genade op genade op genade. Geen wonder dat Hy sê: My genade is vir jou
genoeg. ~ Wilna Botha, 21/02/2018 |
|
Dit was Hy of ek...
Hierdie stelling klink amper soos iemand wat uit selfverdediging iemand
anders gedood het. Kyk na hierdie toneel wat lank gelede op Golgota
afgespeel het.
Luk 23:37 "... “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”
Luk 23:39 "Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster
deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”
Hierdie toneel speel natuurlik tydens die kruisiging van Jesus Christus af,
waar eers die soldate, en dan een van die misdadigers langs hom spottend sê:
As jy dan die Seun van God is, red jouself, en sommer vir ons ook.
Jy sien, dit was Hy of hulle! Dit was ook Hy of ek. As Hy nie gesterf het
nie, het hulle gesterf aan die ewige dood. As Hy homself sou red, en
weggestap het van daardie kruis af, het almal alles verloor, ook ek en jy.
En so ook die misdadiger wat gevra het om saam met Jesus in die paradys te
wees. As dit gebeur het, was ek en jy totaal vasgevang in die Wet, en hoewel
die wet goed is, is dit onmoontlik om dit na te volg.
Jesus moes dus nie "gered" word nie, anders het ek en jy die Ewige lewe
gemis en is ons ook nie gered nie. So swaar as wat daardie pad moes wees,
het Jesus besluit dat Sy "redding" ons verdoemenis sou wees en daarom moes
Hy eenvoudig sterf.
Dis eenvoudig, dit was Hy of ek, en as jy onwrikbaar DAARAAN kan vashou,
begin jy so ietsie van genade verstaan. Ek weet net nie of ek dankbaar
genoeg is vir Sy keuse nie. ~ Willem Botha, 20/02/2018 |
|
Nog ’n paar “lekker” G’s wat ek vir my gevat het vir
2018 is gelyk, glad en gematig. Jip, dis seker hoe ons almal droom ons jaar
moet lyk. Niks hobbels en opdraandes wat ons moet oor nie. Niks hindernisse
en hekkies wat ons kan stuit nie. Niks afgronde wat ons kan bangmaak nie.
Niks probleme, niks vrees, niks teleurstellings, niks trane, niks verlies.
Maar helaas, ons weet maar al te goed dat daar geen waarborg is vir so ’n
gladde en gematigde lewenspad nie. Terwyl ons hoop en glo en vertrou dat
niks slegs op ons wag nie, moet ons egter gereed wees om die trauma en
teleurstellings van die lewe te hanteer. Ons moet op die gladde paaie oefen
om op die Here te vertrou, ons moet in die gematigde tye leer om aan die
Here vas te hou, ons moet op die gelyk vlaktes ons oë oefen om die Here raak
te sien sodat ons in die moeilike tye sal wéét waar ons hulp vandaan sal kom,
sodat ons in die gevaarsones sal wéét dat die Here ons sal deurdra, sodat
ons in die swaarkry sal wéét Sy arms is onder ons, sodat ons in die hartseer
sal wéét Hy sal die trane afdroog. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” (Ps.
23:4) ~ Wilna Botha, 19/02/2018 |
|
Ek het niks verkeerd gedoen nie
Nou ja, niemand kan sê ons het nie die afgelope paar dae opwindende tye
beleef in die politiek nie! Een frase wat seker baie lank in ons gedagtes
sal wees is: "Ek het niks verkeerd gedoen.... Rêrig? Sjoe. Dit het my nogal
met verwondering vervul! Totaal onskuldig! Maar soos jy weet is daar 'n teks
in die Bybel vir elke moontlike scenario in hierdie lewe, en toe ek hierdie
pure onskuld hoor, het ek lekker gegiggel en aan hierdie teks gedink.
Spr 30:20 Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet en vee
haar mond af en sê: “Ek het niks verkeerds gedoen nie.”
Is dit nie SO waar in die lewe nie? Lieg 'n paar keer oor 'n saak en dit
word jou waarheid. As jy eenkeer oor iets drooggemaak het en jy kom daarmee
weg, word dit 'n gewoonte. Naderhand weet jy nie eers meer waaroor jy
vergifnis moet vra vir die Here nie want jy raak totaal afgestomp vir wat
reg en wat verkeerd is. En ja ek praat van myself.
Miskien moet ons maar net weer gaan dink oor ons lewe en goeie introspeksie
hou, anders sê ons ook soos die ontugtige vrou: Ek het niks verkeerd gedoen
nie... ~ Willem Botha, 15/02/2018 |
|
Twee groot en belangrike en heerlike G’s is goedheid en
guns. Hulle kom natuurlik uit Ps. 23:6 wat sê: “Net goedheid en guns sal my
volg al die dae van my lewe.” Ek glo en verwag dat die Here se goedheid en
guns my elke dag sal inwag én dat dit my sal volg. Ek kan nooit daarvan
ontsnap nie! Dis soos wanneer daai frats golf in die see mens partykeer van
voor en van agter tref! Sy goedheid, Sy liefde, Sy genade-golf is daar vir
jou ook! Dit maak ’n pad oop voor jou en as jy omkyk sal jy sien dat dit jou
agtervolg. Hierdie twee G’s moedig my ook aan om nie net aan die ontvangkant
daarvan te wees nie, maar om vrygewig te wees met goedheid en guns. So baie
mense is arm aan liefde, genade en deernis. Kom ons deel bietjie van hierdie
twee G’s uit – met woorde én dade. ~ Wilna Botha, 14/02/2018 |
|
Moenie tot bekering
kom nie...
Okay okay, moet my nou nie verwurg nie. Natuurlik moet jy tot bekering kom,
en om te glo in Jesus as Saligmaker is al wat nodig is. Daar is vele tekste
wat dit vir jou duidelik uitspel. Hier is net een van baie.
Joh 6:35 "Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My
toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer
dors kry nie."
As jy daardie "Brood" aanneem is jy gered, maar daar is natuurlik ander
voorwaardes waarop ons nie nou sal ingaan nie.
Maar, ek sê weer,
moenie tot bekering kom as-
* Jy dink die Here gaan skielik al jou probleme oplos nie
* Jy dink dat geen trauma op jou pad gaan kom nie
* Jou finansies buite beheer geraak het en jy dringend hulp soek nie
* Jy net tydelik 'n reddingsboei nodig het nie
* Jy bang is vir die hel nie, dis wonderlik om nou reeds 'n pad met die Here
te stap
* Mense jou bang praat oor die eindtyd nie
* Omdat jy bang is vir die bose nie. Jy hoef nie in vrees te lewe nie
* Jy dink dis 'n nuwe mode nie
Die Here wil jou by Hom in die paradys hê en dit gaan WONDERLIK wees, maar
dis nou reeds wonderlik om 'n pad met die Here te stap. Bekering het niks te
doen met materiële voorspoed, of die gebrek aan slegte dinge hier en nou nie.
Daar sal steeds net soveel uitdagings op jou pad kom, maar dis baie makliker
om dit saam met Hom te stap. ~ Willem Botha, 13/02/2018 |
|
Hier is nog ’n klompie van my 2018 G’s: genotvol,
grappig en gewaagd. Daarsy! Ek wil beslis sorg dat ek die lewe geniet, dat
ek baie lag en so nou en dan ietsie buitengewoon en anders doen. Kyk, die
Bybel praat tog ook daarvan: “Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter
vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder
al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee.” (Pred.
8:15) Elders in Prediker sê dit ook dat dit ’n gawe van die Here is dat ons
goeie dinge mag geniet. Ja, ek weet ons moet werk. Ja, ek weet die daaglikse
roetine is sieldodend. Ja, ek weet lekker dinge is duur. Ja, ek weet ons
verpligtinge rus swaar op ons. Raak egter bietjie kreatief, waag dit om iets
nuuts te doen. Geniet klein en eenvoudige dingetjies, kyk ’n fliek, lees ’n
grappie boek, kuier saam met iemand wat jou laat ontspan en by wie jy
jouself kan wees, geniet iets in die natuur. Doen vir ’n slag iets anders,
doen gewone dinge maar op ’n nuwe plek, draai die roetine bietjie om. Ek
lees nou die dag dié vraag wat iemand vra: “Wanneer laas het jy iets vir die
eerste keer gedoen?” Daai is nou vir jou ’n toets vir genotvol, grappig en
gewaagd! Waag bietjie om iets vir die eerste keer te doen. Lag en geniet dit!
~ Wilna Botha, 12/02/2018 |
|
Op die regte tyd
Soms lees jy 'n teks raak wat jou so aanraak, en soveel sin maak, dat jy nie
kan glo dat hy nog altyd vir jou wegkruip nie.
2 Kor 6:2 Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag
van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit
die dag van redding.
Ongelooflik! Op die
regte tyd... Nie op my tyd nie, op God se tyd, bring hy redding en uitkoms.
En kyk mooi wat sê Hy: "Op die regte tyd het ek jou gebede verhoor". Word jy
ook soos ek verskriklik ongeduldig en selfs moedeloos as die uitkoms nie
dadelik kom nie? Daai "gebede wat teen die plafon vasslaan" gevoel. Of, die
Here hoor my nie!
Nee, ek lees hier dat die Here ons gebede hoor, maar die tyd is nog nie reg
vir uitkoms nie. Dalk moet daar eers ander dinge in plek val wat 'n invloed
op hierdie uitkoms het. Dalk is ons self nog nie gereed vir uitkoms nie. Ek
dink dit wys juis hoe goed die Here in beheer is, en dat Hy elke oomblik aan
jou dink tydens Projek Uitkoms. Ons moet net leer om geduldig te wag.
En dan kom daardie wonderlike laaste woorde van hierdie teks: "Kyk, nou is
dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding." Uiteindelik! Wonderlik!
Hallelujah! Het jy dit ook al ervaar? Die Here is altyd betyds! Soms ook
maar net, maar dis steeds betyds. Sterkte as jy nog bietjie moet wag! ~
Willem Botha, 08/02/2018 |
|
Dwaasheid
Kyk, as daar nie 'n God is nie, is ons die grootste dwase denkbaar. Hier
spandeer jy nou 'n paar minute om hierdie stukkie te lees, jy lees die Bybel,
gaan kerk toe, praat in jou binnekamer met iemand wat nie bestaan nie, bid
as iemand siek is (en dan sterf die persoon boonop), gee van jou inkomste
vir 'n dwase instansie en glo jy gaan na jou afsterwe na een of ander
hemelse hotel toe. Net om te sterf soos 'n hond. Dis nou die siening van die
ongelowige.
Aan die ander kant sê ons die ongelowige is dwaas. Het niks om aan vas te
hou nie, sien geensins wonderwerke raak nie, leef vir die aardse plesier,
net om dan vir ewig en ewig in 'n aaklige plek deur te bring. Ons glo hulle
mis uit op die heerlikheid van God se teenwoordigheid, weet nie teenoor wie
om dankbaar te wees nie, het geen anker as die stormwinde waai nie en dwaal
eintlik maar doelloos rond. Hulle glo ook alles het toevallig ontstaan en
dat daar niks verstommend is aan lewe, of selfs sterwe nie.
Weet jy, ek en jy sal hulle moeilik oortuig, en daarom noem ons hulle dwase.
God self doen dit ook.
Ps 14 : 1 "Vir die koorleier. Van Dawid. Die dwaas dink daar is geen God nie.
Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is 'n gruwel vir die Here. Daar
is nie een wat goed doen nie." ~ Willem Botha, 07/02/2018 |
|
Hier is nog ’n “G” vir 2018: Genoeg. “Mag jy genoeg hê
“ – so het iemand my toegewens op my verjaardag. Genoeg geld? Genoeg tyd?
Genoeg energie? Genoeg werk? So toe wonder ek: hoeveel sal nou eintlik
genoeg wees? Wil ons nie maar altyd meer van alles hê nie? Nul in die
bankrekening word dikwels ’n ander, hoër bedrag,. Gelykbreek word elke
maand verder gedruk. Genoeg kos in die yskas is eers wanneer die tweede
yskas óók vol is. Genoeg klere is as die spaarkamer kas ook vol is. Genoeg
vakansie is as ek nou alreeds volgende Desember s’n bespreek en betaal het.
Ek weet nie wanneer is genoeg genoeg nie. Kyk, Prediker praat ook daaroor:
“Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie
rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks.” (Pred.
5:9) Ek is bang ons oorvloed en ons gejaag na meer laat uiteindelik ’n
bitter, onvergenoegde smaak in die mond wanneer belangrike dinge afgeskeep
word, wanneer prioriteite skeefgetrek word, wanneer ons nie elke dag
dankbaar is vir die daaglikse brood nie, wanneer ons nie afhanklik is van
die Here vir elke dag se vars porsie genade en goedheid nie. Spreuke sê so
mooi: “Laat my nie ryk of arm wees nie. Gee U my net wat ek elke dag nodig
het, sodat ek nie ryk word en ophou om U lief te hê nie, of arm word en
begin steel en so u wet oortree nie.” (Spreuke 30:9) Ek gaan liewer streef
na genoeg liefde, vrede, geduld, genade; genoeg dankbaarheid vir wat ek is
en wat ek het; genoeg tevredenheid met my omstandighede. “Gratitude
unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough, and more.
It turns denial into acceptance, chaos to order, confusion to clarity. It
can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a
friend.” ~ Wilna Botha, 06/02/2018 |
|
Vuisvoos
Ek is seker jy voel ook soos ek soms voel. Absoluut vuisvoos geslaan deur
die korrupsie, misdaad en algemene onregverdigheid in ons land. Vuisvoos
belasting betaal, moedeloos geslaan deur die wette wat jou totaal onderdruk.
Jy mag eintlik nie werk hê nie, jy mag nie grond besit nie, jy mag nie meer
dit besit waarvoor jy so hard gewerk het nie. Jy mag net belasting betaal.
Hopeloos en hooploos.
Maar is dit al wat waar is? Toe ek my gedagtes bymekaar gesit het om hierdie
stukkie te skryf, het ek besluit ek skryf vandag prontuit die Klaaglied van
Willem. Ek gaan presies sê wat ek voel en basta!
Maar ai, hoe vinnig werk die Here met my gal toe ek besef dat ek onder die
rykste 10% van die wêreldbevolking tel. Ja jy ook, as jy vanaand onder 'n
dak slaap (al is dit nie jou eie dak nie), in 'n badkamer bad of stort, en
nog boonop 'n ryding of drie besit. Nie te praat van kos vir 'n paar dae nie!
Maar tog pla hierdie ander goed my, en daarom wil ek ook bid vir nuwe
deurbrake, nuwe leiers wat nie ons land verwoes nie, misdadigers wat hulle
bose bedrywighede los en vir voorspoed vir ALMAL in ons land!
Maar die Here is nie klaar met my gedagtes nie. Hy herinner my toe sommer
dat ek moet waak om nie ook deel te neem aan verkeerde dinge nie en nie self
verval in praktyke wat teen die wet is nie. Jy weet mos, ons kom weg met
daardie klein, onbenullige goedjies, maar dis net so verkeerd!
"Here maak asb ons land skoon van al hierdie dinge wat ons soveel skade
berokken, en help my om te sorg dat ek presies so leef as wat ek van ander
verwag". ~ Willem Botha, 05/02/2018 |
|
Die volgende “G” wat van groot belang is vir 2018 is “geloof”.
Ek is só bly dat iemand my ’n jaar van groot geloof toegewens het op
Nuwejaarsdag. Ek hoop vir groter geloof. Ek bid vir dieper geloof. Meer van
dié reddende geloof in Jesus Christus se vryspraak en verlossing. Ek wil
glad nie twyfel aan die waarheid van die evangelie en die egtheid van God se
Woord nie. Mag daai geloof elke oomblik soos ’n skild in my hand wees (so Ef.
6:16 sê), soos ’n borsharnas oor my hart om my lewe te beskerm (soos 1 Tess.
5:8 sê). Ek hoop egter ook vir meer vertrou-geloof in wie God is en vaste
sekerheid dat Hy sal doen wat Hy belowe; groter geloof dat Hy in beheer is,
dat Hy by my is, dat Hy alles ten goede sal laat meewerk; sterker vertroue
dat Sy krag my sal regop hou, dat Sy arms altyd onder my sal wees. Dat my
geloof nie op die wysheid van mense gegrond sal wees nie, maar op God se
krag (1 Kor. 2:5). Ek hoop dat my geloof nie bepaal sal word deur dit wat
sigbaar en logies voor my is nie, maar deur my vertroue in en hoop op die
Almagtige God. Ek wil ook graag hoor dat die Here vir my sê: “... wat jy
geglo het, sal gebeur” (Matt. 8:13) of “... jou geloof is groot. Jou wens
word vervul.” (Matt. 15:28). Ek is egter ook maar al te bewus van die feit
dat daar geloof-toetse oor my pad kan kom. Ek bid dat ek sal deurdruk en
sterker ander kant sal uitkom. My versugting tot die Here is altyd: “Ek glo,
Here, kom my ongeloof te hulp!” (Mark 9:24) ~ Wilna Botha, 01/02/2018 |
|
So bang soos die duiwels vir 'n slypsteen...
Hierdie is 'n bekende uitdrukking wat nie juis sin maak nie. Hoekom op aarde
sal die duiwel bang wees vir 'n slypsteen? Natuurlik het oom Google toe 'n
verduideliking gegee wat daarop neerkom dat die spreekwoord iewers uit die
Middeleeue kom, maar dis 'n snaakse storie wat die liewe oom maar self vir
jou moet verduidelik. Wat net vir my vreemd is, is dat so baie mense SO bang
vir die duiwel is, as - wel - "die duiwel vir 'n slypsteen". En dit terwyl
Jesus hom totaal verslaan het aan die kruis. Die duiwel word om elke hoek en
draai gesoek (en blykbaar soms gekry), hy kry die skuld vir baie dinge wat
ek dink maar ons eie skuld is, en sy krag en mag word wyd verkondig! Ek het
al selfs gehoor hoe mense hom bestraf terwyl hulle besig is met 'n gebed tot
God. Ek verstaan nie daai een nie.
Nee wat, sy tande is getrek. O skuus, hoe sê jy nou? Ooooo, daai teks wat sê
dat hy rondloop soos 'n brullende leeu? Natuurlik! Ja dis waar, maar het jy
die woord "soos" gesien in die teks? Soos 'n leeu? Wel, ek ken die Leeu van
Juda, en hy is baie sterker en groter en magtiger as daardie na-aper! Dis
die regte egte LEEU, en Hy is aan jou kant.
Terug na die slypsteen. Ek dink die duiwel sidder nogal oor hierdie teks:-
HEBREËRS 4:12 "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as
enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel
en gees en van gewrigte en murg."
Ek dink as die Here daardie swaard skerpmaak op Sy slypsteen, kan ek nogal
dink die duiwel is so bang vir die Here soos "die duiwel vir 'n slypsteen".
So, jy het daardie swaard in jou hand as jy die Bybel opneem en jy hoef niks
te vrees nie! En as jy dit lees, is jou slypsteen kliphard aan die werk, en
dan is die duiwel nogal bang, soos..... jy weet wat. ~ Willem Botha,
31/01/2018 |
|
Nog ’n belangrike “G” vir 2018 is “gesin”. My gebed is
dat ons almal gesonde gesinne sal hê en dat dít die kern sal vorm van ’n
gesonde gemeenskap. Ek bid dat die Here ons gesinne sal seën, dat ons elke
dag sal hande vat en saam bely: “Wat my en my gesin betref, ons het ons
keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” (Jos. 24:15) Die intieme
kringetjie van ’n gesin is bedoel om die veilige hawe te wees teen die
aanslae en eise van die wêreld en sy dinge. Dis veronderstel om ’n rusplek
te wees waar jy net jouself kan wees, sonder enige voordoen, sonder enige
kompetisie. Dis ’n oefenplek vir die lewe, waar jy jou gedagtes kan toets,
jou drome kan bekend maak, jou vrese kan ontbloot sonder enige vrees vir
veroordeling. Die sekuriteitsgebied van ’n gesin is waar ons vir mekaar
opkom, mekaar beskerm, waar ons ’n span is wat saamstaan. Die gesin is ’n heilige
plek waar ons vir mekaar bid as een swak is, waar ons mekaar ophelp as een
geval het. Die gesin is daai driedubbele tou waarvan Pred. 4:12 praat: “Een
alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou
breek nie maklik nie.” ~ Wilna Botha, 30/01/2018 |
|
Here, streel net my hare
Ons is besig met 'n bediening by 'n ouetehuis in die stad, en na 'n boodskap
sê 'n dame (in trane) vir Wilna dat sy nie hierdie ingewikkelde goed in die
Bybel verstaan nie. Sy sê dat sy net 'n prentjie sien van hoe sy langs Jesus
sit en Hy haar hare streel. En sy vra: Is dit genoeg?
Sjoe, is dit genoeg? Ja, duisend maal ja! Wat my toe laat dink aan die
verhaal in Lukas van Marta en Maria, twee susters by wie Jesus aan huis
gekom het.
Luk 10: 38 - 42 "Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou,
Marta, Hom as gas ontvang het. Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die
voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. Maar Marta was
baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here,
hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom
help!” Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd
oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies,
en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”
Is dit nie 'n kosbare insident wat hier afspeel nie? Dis presies wat hierdie
dame in die ouetehuis ervaar, en die Here sal dit nie van haar wegneem nie.
Net so is ons ook so aan die woel en werskaf, dat ons nie by Jesus se voete
uitkom nie. Ons stoei en stry so oor die dinge van die Here, dat ons daardie
eenvoudige aanraking van Hom mis.
Laat Hom net toe om jou hare te streel, en luister na Sy woorde, soos Maria.
Dis waarskynlik die naaste wat jy aan Hom kan kom. En ja, dis heeltemal
genoeg! ~ Willem Botha, 29/01/2018 |
|
Die volgende “G” in my 2018 lysie is gesondheid. Terwyl
ek die afgelope paar dae olik is en gestrem word deur pyn en nie kan beweeg
soos altyd nie en bietjie afhanklik is van ander om basiese goedjies gedoen
te kry, is ek sommer baie bewus van die belangrikheid van hierdie “G”. Ek
besef ek waardeer nie gesonde dae genoeg nie. Ek besef ek waardeer nie
dokters en toegang tot mediese sorg genoeg nie. Ek besef ek het nie genoeg
simpatie met mense wat siek is nie. Ek besef ons is almal ewe kwesbaar en
ons gesondheidstoestand kan in ’n oogwink verander. Die sekerheid wat ek
egter het, is dat ons kan uitroep na die Here uit ons siekbed, dat ons kan
pleit vir sy aanraking en genesing, dat Hy elke stukkie van ons liggaam ken
en dat niks vir Hom verborge is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is om te
genees nie. Hoekom hy toelaat dat ons siek word, hoekom almal nie gesond
word nie ... daai antwoorde het ek nie. Wat ek wel weet is dat Hy daar by
jou is in jou siekekamer. Ek sien in my geestesoog dat hierdie teks waar
word: “Whenever we’re sick and in bed, God becomes our nurse, nurses us back
to health.” (Ps. 41:3, The Message) en ek kan Hom maar net hoor sê: “My
genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak
is.” (2 Kor. 12:9) ~ Wilna Botha, 25/01/2018 |
|
Wie se land is dit die?
Wel, as jy vir verskillende mense hierdie vraag vra, gaan jy verskillende
antwoorde kry. Almal van ons (ja ek en jy ook), wil hierdie land vir onsself
toe-eien en niemand anders 'n plekkie gun nie. Ek is hier gebore, ek werk
hier en betaal my belasting hier (ek bely dat dit met 'n swaar hart is), en
so ook my pa en nog agt geslagte voor hom.
So kan meer as 50 miljoen mense sê en daarom moet ons vir almal 'n plekkie
gun. In Spreuke is daar 'n teks wat dit anders benader.
Spr 2:20-21 "Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie
van die regverdiges, want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat
onberispelik leef, sal ongehinderd gelaat word".
Hoe wonderlik sou dit wees as ons almal hierdie reguit pad kon loop? Hoe
ongelooflik sou hierdie land nie wees nie? Hoeveel welvaart sou hier nie
wees nie? Hoe lekker as daar nie misdaad was nie?
"... die opregtes sal die land bly bewoon."
Ek wil elke dag daarna streef om in alle opsigte opreg op te tree en te leef,
want dan is hierdie belofte van God vir my ook waar. ~ Willem Botha,
25/01/2018 |
|
My volgende “G” wat vriende my toegewens het vir 2018
is “geseënd”. Mag jy geseënd wees. Nou ja, hierdie wens vat ek met ’n oop
hart en oop arms vir myself en vra die Here dat Hy my elke dag sal seën. Nie
met dié dinge wat ek as seëninge tel nie, nie met seëninge wat ek in ander
se lewens sien nie, maar dié wat Hy vir my persoonlik in sy stoorkamer
gereed het. In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles wat my
staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Vriend,
weet vir seker dat die Here ons vandag wíl seën. Hy sal Sy hand oopmaak en
goedheid en genade oor jou en oor my uitstort. “Die Here dink aan ons: Hy
seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot” (Ps. 115:12) Mag ons elke
dag Sy seëninge raaksien en waardeer en Hom daarvoor eer. ~ Wilna Botha,
23/01/2018 |
|
Die ongelowiges
Die ongelowiges vra my maklik vas. Ek was al in vele gesprekke waar mense
hamer op 'n sensitiewe onderwerp, die vraag: Waar was die Here toe daar
moeilikheid gekom het? Hoekom laat 'n liefdevolle God trauma toe? Hoekom
beskerm Hy nie Sy kinders nie? Hoekom gebeur natuurrampe? Hoekom gebeur niks
sleg met die slegte mense nie, maar Sy kinders wat Hom getrou volg kry
dikwels swaar.
Daar struikel ek maar bietjie want ek het min antwoorde en die ongelowige
kry maklik die oorhand in sulke gesprekke. Ek moet dan maar net erken dat
ons in 'n gebroke wêreld bly.
Maar daar is 'n paar plekke waar die ongelowige geen antwoorde het nie.
Hoekom vlug SOVEEL mense wat platgeslaan word in die lewe, juis in die arms
van die Here in? Hoekom vind soveel mense vertroosting by die Here wanneer
die medemens net geen antwoorde het nie? Hoekom is dit so lekker wanneer
daai vrede wat alle verstand te bowe gaan (volgens Fil 4:7), oor jou kom?
Daardie tyd wat jy sterker is as wat jy ooit gedink het jy kan wees. Wie kan
verklaar hoekom jy soveel vrede ervaar as jy besef dat God se vergifnis
groter is as jou sondes.
En laastens, vir wie sê die ongelowige dankie wanneer daar bonatuurlike
uitkoms gekom het, of genesing gekom het, of finansiële deurbrake gekom het?
Dit lyk my ons wat aan die Here bly vashou, maak maar net eenvoudig die
beste keuse. Ek kan net eenvoudig nie deur die lewe gaan - en die storms
trotseer - sonder die Here nie. ~ Willem Botha, 23/01/2018 |
|
Weer terug by my 18
G’s vir 2018: As mens “G’s” sê, dan sê jy “Gees”. Iemand het my ’n
Geesvervulde jaar toegewens en dis waarvoor ek ook bid en vra en wens en
hoop. Mens kan nie ’n nuwe jaar of ’n nuwe dag of ’n nuwe taak aanpak sonder
die leiding van die Gees binne-in jou nie. Oomblik vir oomblik wil ek bewus
wees van die Here wat hier binne-in my teenwoordig is, wat hier naby my is.
Ek wil met elke asemteug, met elke keuse, met elke besluit Hom binne-in my
ervaar en raadpleeg en gehoorsaam. Ek wil my krag, my leiding, my vrede en
vreugde, my geloof dááruit put. Ek wil voortdurend en bewustelik vol word en
vol bly van die Heilige Gees sodat Sy vrug en Sy gawes sigbaar en bruikbaar
sal wees in my alledaagse lewe. “... let the Spirit fill your life.” (Ef.
5:18) ~ Wilna Botha, 17/01/2018 |
|
Raak Hom aan
Ons almal smag na die Here se aanraking , daardie tye wat jy voel dat die
Here baie naby aan jou kom en dat Sy nabyheid amper tasbaar is. Ek dink ons
almal het dit al op een of ander manier ervaar.
Maar in Luk 8 lees ons dat die rolle omgedraai word wanneer iemand vir Jesus
aanraak, en 'n onbegryplike ding gebeur.
Luk 8:43-46 "Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan
bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee,
maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af
aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik
opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit
hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen
U. ”Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar
krag van My uitgegaan het.”
Die woorde wat vir my hier bokant my begrip is, is "...Ek het agtergekom dat
daar krag van My uitgegaan het". Dan lees ons verder dat Jesus haar in 'n
oomblik genees. Net so kan ons Hom ook daagliks aanraak deur uit te reik na
Hom toe, deur spreekwoordelik aan die soom van Sy kleed te raak. En ja, dit
sal ook so kragtig wees dat daar krag van Hom uitgaan.
Raak Hom aan in tye waar jy moedeloos is en nie meer weet watter kant toe
nie. Raak Hom aan as jy smag na genesing, dalk fisies of dalk op Geestelike
vlak. Raak Hom aan as jy eensaam is en niemand anders het om mee te praat
nie. Raak Hom aan as jy wag op deurbrake en dit lyk of net niks gebeur nie.
Maar raak Hom ook aan as jy tye van intense dankbaarheid beleef. Raak Hom
aan wanneer jy in stilte by Sy voete sit en net rustig teen Hom aanleun.
Raak Hom aan in tye wat jy voel dat Hy Al is wat jy nodig het. Die vrou wat
siek was het haar boeglam geskrik toe Hy wou weet wie aan Hom geraak het,
maar sy het nie verstaan dat Hy gewag het dat sy na Hom toe moes uitreik nie.
Hy het soveel "krag" tot Sy beskikking wat Hy na jou toe wil laat vloei, Hy
wag dalk nou dat jy aan Hom moet raak. Dis net 'n gebed ver. ~ Willem Botha,
16/01/2017 |
|
Nou ja, daar is die derde Maandag van die jaar al amper
verby. Op die eerste Maandag het ons almal vir mekaar allerhande mooi
seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde
ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér
’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval
dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond,
gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe
besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18
G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”. Om te gee, moet dan
seker my eerste G vir die jaar wees. Ek moet bely dat ek nie altyd ewe geneë
is om van my geld of goed of tyd of aandag weg te gee nie, maar ek neem die
besluit om tóg meer vrygewig daarmee te wees – nie net vir dié wat ek voel
dit verdien nie, nie net vir dié wat ek dink vir my óók iets gaan teruggee
nie. Ek sal ook meer vrygewig probeer wees met moeiliker dinge soos om
vriendelikheid, geduld en genade te gee. Om iemand anders die voordeel van
die twyfel te gee. Om iemand sy plekkie in die son te gee. Om meer van
myself te gee as van my geld of goed. Die Bybel sê mos: Om te gee, maak 'n
mens gelukkiger as om te ontvang. (Hand 20:35) Die Bybel sê ook: God het die
blymoedige gewer lief. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem
het. (2 Kor. 9:7) ~ Wilna Botha, 15/01/2018 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|