|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2023
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Nog 'n jaar is op sy rug.
Dit was goed, in alle opsigte goed, en die Here het weereens ons
lewens besaai met Sy guns, ons is só dankbaar daarvoor.
En weereens is dit Kersfees. 'n Christus-fees, 'n herinnerings-fees,
'n familie-fees en hopelik vir jou ook 'n rustyd. Daar is soveel
"goodwill" tussen mense in hierdie tyd, en ek sien 'n gees van vrede
wat oorheersend tussen mense posvat rondom Kersfees. Ons het dit so
nodig. Vir 'n rukkie is die rotresies op ys gesit en ons almal se
batterye kan herlaai.
Ons wens vir ons Heuning-vriende 'n geseënde Christusfees toe. Mag
die werklikheid van ons Redder se geboorte opnuut betekenis kry en
ek hoop dat jy ook die voorreg het om hierdie tyd saam met jou
geliefdes deur te bring.
"En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle
harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus." (FIL. 4:7)
Ons is die tweede week van Januarie terug. Mooi loop. ~ Willem &
Wilna, 24/12/23 |
|
“...Jesus het tussen hulle gaan staan en vir
hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy
hande en sy sy vir hulle.” (Joh. 20:19-20) Ek kan nie my tema oor
hande afsluit sonder om oor dié belangrikste hande te dink nie –
Jesus se hande. Dié hande met die merke wat die kruis se spykers
agtergelaat het. Dié hande met die bewys dat Hy die Verlosser, die
Messias is, dié hande wat bewys dat Hy met sy bloed betaal het vir
ons sonde – vir alles, vir altyd, vir elkeen van ons. Tomas kon nie
glo sonder dat hy die merke gesien het nie. Jesus nooi hom uit:
“Bring jou vinger hier en kyk na my hande en bring jou hand en steek
hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig
... Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:27,
29) Dit tref my net weer dat Jesus uit die dood opgestaan het en sy
gebreekte bene was heel, die sweepmerke op sy lyf was weg, die snye
van die doringkroon was genees, maar die merke op sy hande en in sy
sy het gebly sodat dit die bewys kon wees dat die prys betaal is.
Dis amper Kersfees en ons hoor weer dié boodskap van die engele:
“Vrede op aarde”. Vrede, want die Lig het na die wêreld gekom,
vrede want God het Mens geword, vrede want Immanuel het tussen ons
kom staan, vrede want Jesus wys vir ons sy hande. Glo jy? Gelukkig
is dié wat dit nie gesien het nie en tog glo. ~ Wilna Botha,
18/12/2023 |
|
Die wêreld hou vir jou net die beste voor, en
ons is dwaas genoeg om te val vir daardie dinge.
Net die mooiste dames neem aan skoonheidskompetisies deel, net die
sterkste manne haal die tydskrifte met hulle bultende spiere. Net
die rykstes se huise word op die leefstyl programme op die televisie
ten toon gestel. Net die vinnigste en duurste motors haal die
programme oor rygoed. Net die beste presteerders haal die televisie
wanneer die matriekuitslae bekend gemaak word. Net die beste
sportsterre haal die sport bulletins op die nuus.
Ek so word ons gebombardeer met dít wat die wêreld as suksesvol
beskou. En ons is dwaas genoeg om daarna te streef, want dis die
kunsmatige mooi groen grasperk anderkant die draad, daar in Mnr. en
Mev. Jones se erf.
Ek lees die afgelope paar dae van twee verskillende dames wat enorme
hoeveelhede geld gesteel het by hulle werkgewers, en ek is verstom
oor mense se "greed". En daar wink die tronk, vir die een 50 jaar
agter tralies.
Ai, ek hoop daai kortstondige rykdom was dit werd. Maar is dit nie
omdat ons so gebombardeer word met die wêreldse gedagte van sukses
nie?
Mense wat streef daarna om eerlik en getrou in hulle geestelike lewe
te leef, word nie vereer nie. Mense wat agter die skerms werk om
andere se lewens te verbeter word nie vereer nie. Ouers wat alles in
hulle vermoë doen om 'n stabiele huis vir hulle gesinne te skep word
nie vereer nie en mense wat getrou volgens die Here se voorskrifte
leef kry geen erkenning nie. Mense wat hulleself tekort doen om
ander onbaatsugtig te dien word nêrens genoem nie.
En dis alles reg so, want dít wat vir die Here gedoen word, word
anders beloon.
“Ek sê vir julle: julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan
hulle. Deel julle besittings met ander sonder om iets terug te
verwag. Dan wag daar ’n groot prys op julle in die hemel. As julle
vir ander mense omgee sonder om enigiets terug te verwag, is julle
regtig kinders van die Allerhoogste." (Luk. 6:35 DB)
Gaan kyk gerus wat die ontsettende duur prys van "fame and fortune"
is.
Hoe dwaas om te streef na dinge wat jou vernietig!
"Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig
voort." (Ps. 37:3) ~ Willem Botha, 14/12/2023 |
|
As jy die YouVersion Bybel-app gebruik, sou jy
dalk ook vandag die kennisgewing gekry het: “Vers van die jaar”. Dis
die vers wat blykbaar gedurende 2023 wêreldwyd die meeste gedeel,
gemerk en ge-“bookmark” is op die app. Die afgelope ruk is my tema
“Hande – myne en God s’n” en die vers van die jaar pas só mooi
daarby: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees
nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) Met my eie hand red Ek jou!
God se hand versterk, God se hand help, God se hand hou vas, God se
hand red, God se hand dra, God se hand tel op. Daarom hoef ons nie
bang, bekommerd en angstig te wees nie. Dit laat my sommer ook dink
aan die skaapwagters wat groot geskrik het toe daar ’n engel in die
oop veld aan hulle verskyn het. “Toe sê die engel vir hulle: Moenie
bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van
groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir
julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die
Here!” (Luk. 2:10-11) Jesus het gekom. God het ons kom red. Wanneer
jy bang en bekommerd is, sien in jou geestesoog dat God sy hand na
jou uitsteek, dat Hy aan jou raak, jou vashou, jou help, jou lei,
jou red, jou vry maak, jou nuut maak. Kersfees kom. Moenie bang wees
nie, want jou Verlosser, Immanuel, Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors het gekom. Alles gaan nou anders wees! ~
Wilna Botha, 07/12/2023 |
|
Ek het 'n klompie jare gelede hierdie stukkie
op Heuning geplaas, en toe ek netnou oor dit struikel het dit my
opnuut weer diep getref. Hoe stukkend is hierdie wêreld nie! Hoe
verskriklik dat kinders ongewens in die wêreld kom en onskuldig die
slagoffers word van ouers vir wie 'n hondjie dalk 'n beter stukkie
lewe sou wees as 'n kind. Kan hierdie verdorwe wêreld reggeruk word?
Ek twyfel. Kan ons 'n verskil maak? Ja, sekerlik, al kan ons nie die
hele wêreld regruk nie.
Hier volg die boodskap:
Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry...
Hierdie woorde sal waarskynlik vir die res van my lewe by my bly. 'n
Klompie jaar gelede, tydens 'n diens wat ons by die vroue gevangenes
gehou het, kom 'n jong meisie (ongeveer 16 jaar oud) voor my staan
en sê hierdie woorde: Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry? Sy
was so klein dat sy in 'n laerskool rokkie sou pas. Ek het haar so
inning jammer gekry en, hoewel ons nie veronderstel was om fisies
die mense aan te raak nie, het ek gebuk en haar 'n stywe druk gegee.
Dis al wat sy wou hê, net een oomblik van koestering en liefdevolle
aanraking. Sy was verhoorafwagtend, waarskynlik oor dwelms.
Waar het sy vandaan gekom? Het sy 'n pa geken? Of dalk baie? Wat het
ander ooms met haar gedoen toe sy dalk net liefdevolle aanraking wou
hê? Het sy op daardie stadium op straat gebly en het sy dalk daardie
brose liggaampie beskikbaar gestel aan gewetenlose mense vir nog 'n
dag se oorlewing? Ek ken ongelukkig nie daardie antwoorde nie. Ek
wens so ek kon weet wat van haar geword het, en of sy ooit uit
hierdie ding kon breek. Ek twyfel.
Hierdie ding het lank in my lewe by my gespook, want ek het net
besef hoe verdorwe ons samelewing geword het. Wie het haar versaak?
Haar ouers? Die samelewing? Wie is die samelewing? Ek en jy? In die
nege jaar wat ons daar bedien het, het geen ander situasie my so
diep getref nie.
Nog 'n groot vraag wat by my opgekom het, is of Jesus Sy rug op haar
sou draai oor haar lewe, of is Sy genade so groot dat Hy vergewe
sonder dat daar dalk vergifnis gevra word, of dat sy daaruit kon
loskom? Ek glo so. Moet ons as samelewing nie dalk ook vergifnis vra
nie?
Ek glo dat die Here saam met ons bedroef is oor die toestand van
hierdie wêreld, maar dat Hy dalk meer van ons verwag, hoe en wat
weet ek nie.
Ek vra jou vandag net twee dinge. Wees saam met my uiters dankbaar
as jy, of jou kind nie in daardie toestand verval het nie. En
tweedens, wees daar vir mense wat net 'n drukkie, of bietjie
koestering nodig het. ~ Willem Botha, 04/12/2023 |
|
“Ek het ... jou beskerm in die skaduwee van my
hand.” (Jes. 51:16) Sjoe, hier in Gauteng het ons darem maar vrek
warm gekry die afgelope tyd. Mens soek die hele tyd na ’n skaduwee
om in te skuil en smag na die verfrissing van ’n reënbui. Is dit nie
waar dat mense se lewe ook soms so “warm” en ongemaklik, selfs
onuithoubaar word nie? Jy weet nie waarheen om te hardloop vir
bietjie skuiling en verligting nie, jy smag na koelte en uitkoms.
Dis dan wanneer dit só verkwikkend is om te weet dat die Here se
hand skaduwee gee, beskerming, veiligheid, versorging, redding. Kom
skuil daar totdat daar uitkoms is, totdat sy hand jou lei tot by die
groen weivelde, tot by waters waar daar vrede is, daar waar Hy jou
met nuwe krag vul. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters
waar rus is, lei Hy my heen.” (Ps. 23:2) en nog báie meer as dit sê
vers 3: “Hy verkwik my siel”. Hy verfris my binnekant, Hy laaf my
siel, Hy verkwik my gedagtes, Hy maak my nuut en die swaar laste van
die lewe word gelig. “... times of refreshing will stream from the
Lord’s presence.” (Hand 3:19, The Passion Translation) Kom, doop jou
hart in die Here se verfrissende stroom. ~ Wilna Botha, 29/11/2023 |
|
Doen goed
Soms sê iemand iets wat groot trefkrag het, en jou denke beïnvloed,
positief of negatief.
'n Rukkie gelede kuier 'n paar oud skoolvriende saam, en een persoon
sê vir my die volgende toe ons ná die kuier mekaar groet. Hy sê: "Gaan
doen dit wat jy moet doen, goed."
Dit het regtig 'n goeie indruk op my gemaak en ek dink nou dikwels
daaraan, en dit het my nogal geïnspireer. Ek het besef hoe wyd
hierdie paar woorde strek, en dat dít (of liewer ek) 'n verskil kan
maak aan ander. Die volgende gedagtes het by my opgekom.
* Gaan doen jou werk goed.
* Gaan doen goed aan jou familie en vriende.
* Gaan doen goed aan mense wat jou pad kruis.
* Gaan doen goed aan die Here.
* Gaan doen goed aan jouself.
Maar toe besef ek dat die twee woorde "doen goed", op nog 'n manier
gebruik kan word.
Eerstens, gaan doen dít wat jy doen, die beste wat jy kan, so goed
as wat jy kan.
Tweedens, dóén goed, dóén dinge, moenie passief wees nie, wees
nuttig.
Jy kan tog nie 'n verskil maak as jy niks doen nie.
"Kom ons hou aan om goed te doen. Dit is presies wat die Here wil hê.
Dan sal ons op die regte tyd ons oes van Hom ontvang." (Gal. 6:9) ~
Willem Botha, 27/11/2023 |
|
“My God het sy goeie hand oor my gehou ...” (Neh.
2:8) Ai, dit raak my hart en roer aan my binneste as ek hierdie teks
lees en ek wéét ek kan (en mag) dit ook sê en glo! Ek lees dit oor
en oor en breek die sinnetjie vir myself só op: “Mý God” – Hy is
nie ’n God wat vêr is nie; Hy is nie onbetrokke nie; ek is belangrik
vir Hom: Hy sien my, Hy weet van my, Hy ken my. “Sy goeie hand” – Hy
gee vir my die beste, Hy beplan goeie dinge vir my, Hy laat alles
ten goede meewerk vir my; die Bybel sê ook in Ps. 16:11 “uit U hand
kom net wat mooi is.” “Oor my gehou” – sy hand vou my toe; sy
teenwoordigheid is rondom en binne-in my; sy hand oor my beskerm,
voorsien, help, red. “Die Here het my in die skaduwee van sy hand
verberg ...” (Jes. 49:2) Is jy bang vir iets? Dink daaraan dat jou
God se beskermende hand oor jou is en dat Hy jou veilig hou. Is jy
siek? Sien in jou geestesoog dat jou God se hand oor jou is en dat
sy hand genesing bring. Is jy alleen, eensaam, verwerp, uitgestoot,
oor die hoof gesien, onregverdig behandel? Raak rustig en onthou jou
God hou sy goeie hand oor jou, Hy is naby die gebrokenes (Ps.
147:3). Is jy hartseer en dit voel of jy nooit gaan ophou huil nie?
Bedaar en onthou jou God se vertroostende hand is oor jou, Hy droog
jou trane af en sien jou swaarkry. Voel jy moeg en kragteloos? Skep
moed en onthou jou God se goeie hand is oor jou, sy genade is genoeg,
Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose
weer vol moed.” (Jer. 31:25) ~ Wilna Botha, 23/11/2023 |
|
Hoe verskil ons van mekaar? Dis nou ons as
Christene. As ek een of ander uitlating sou maak oor sekere goed wat
ek glo, hoe sou jy reageer? Indien ek nou ‘n stelling sou maak, met
watter gesindheid sou jy van my verskil? Aggressief? Militaristies?
Aanvallend? Oor-reageer? Of dalk met liefde, iets soos: ek
respekteer jou mening, maar ek behou my eie mening. Weet jy hoe min
wedergebore Christene kry dit reg? Wanneer dit by ware, egte, vaste
geloofsoortuiging kom, kry min van ons dit reg om die ander se
standpunt te aanvaar.
Ek gaan ‘n paar kwel-situasies noem waaroor ons Christene nogal
skerp kan verskil:
1) Grootdoop vs kleindoop
2) Ses dag skepping vs ‘n ou heelal
3) Die eind tye – sal daar ‘n wegraping wees of nie?
4) Is rockmusiek boos of nie?
5) Wat mag geëet word en wat nie?
6) Sabbats onderhouding op ‘n Saterdag vs geloof viering op ‘n
Sondag?
7) Gebruik van sekere rituele al dan nie
8) Mag ek Kersfees vier of nie?
9) Beeldjies, of dalk ‘n kruis in jou huis – mag dit?
10) Werk en inkopies op ‘n Sondag
11) Onderhouding van Geloftedag of nie?
12) Watter vertaling van die Bybel moet / mag ek lees?
13) Mag vrouens op die kansel kom?
Paulus het alreeds lank gelede hieroor geskryf, omdat hy gesien het
hoe mense kan stry.
"Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te
stry as sy opvatting van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles
eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een
wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en
die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie
veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand
anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy
goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.
Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is
alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig
wees van sy opvatting. Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere
wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen
dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles
eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand
van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie."
(Rom. 14:1-7)
Jip, oor hierdie goed en nog horde meer kan ons mekaar se hare
lekker trek. Nou praat ek nie van verskille tussen gelowiges en
ongelowiges nie, of van Christene en ander gelowe nie, ek praat van
wedergebore Christene wat verskillende sieninge handhaaf...
Kersfees is op pad en ons vier Kersfees met vreugde. Nee, ons aanbid
nie 'n boom nie, en ons soek ook nie 'n god in 'n boom nie, en ons
maak nie 'n heidense fees daarvan nie, maar ons koop vir mekaar
geskenke en ons kuier lekker saam. En ons jubel oor Jesus se koms
aarde toe.
Natuurlik respekteer ek ander wat anders voel en dis reg, want dis
wat Paulus sê in hierdie skrifgedeelte.
Kom ons verskil van mekaar in liefde. Onthou: Al wat van belang is,
is dat ons geloof in liefde oorgaan in dade. ~ Willem Botha,
20/11/2023 |
|
Ek het vanoggend na 'n goeie boodskap van
Stefan Joubert geluister oor die eindtyd, en dit het my net weereens
laat besef hoe roekeloos ons as Christene uitsprake maak sonder om
twee keer te dink.
Daar gebeur mos maar gereeld dinge in die wêreld, en dan haal ons
blitsig tekste aan en sê dinge wat hoegenaamd nie strook met dít
waaroor daardie tekste gaan nie. Ek gaan nou op dun ys loop met
hierdie volgende gedagte, maar dis maar net goed wat my laat dink.
Waar is die Covid profete van twee jaar gelede nou? Die hele idee
dat die inenting die sogenaamde merk van die dier is, het soos mis
voor die son verdwyn. En so ook dat dit die eindtyd sou inlui. Wag
sulke mense nou vir 'n volgende insident om weer van voor af te
begin met sulke uitsprake? Dit klink my die drama in Israel is nou
weer 'n volgende gewilde een, net soos wat vloede en aardbewings
almal opnuut laat voorspel dat die eindtyd nou een of ander dag gaan
aanbreek.
En ja, natuurlik kan dit!
Jy vra vir iemand: Hoe gaan dit met jou? Dan kom die woorde: Sjoe,
die Here seën my ongelooflik, ek is vol dankbaarheid! En Hy hou my
besigheid se deure oop want ek het die besigheid vir Hom gegee.
Ja ek praat ook presies so. Maar dan gebeur daar iets groot in die
wêreld, dan sê van daardie selfde mense dat hulle nie kan wag dat
Jesus weer moet terugkom om ons te verlos uit ons ellende nie. Maar
net vanoggend was ons nog só vreeslik dankbaar!
Hoe dan nou? Moet Jesus eers weer kom voordat ons die Jesus-vreugde
kan ondervind? Is ons nie 'n bietjie ondankbaar met sulke uitsprake
nie? Is die lewe só sleg?
Soms grens die dinge wat ons in die naam van die Here sê dalk so
effens aan geestelike hoogmoed, want ons haal tekste aan en koppel
dit aan gebeure, wat al vir jare oor en oor gebeur.
Die eindtyd is naby! Ja, maar wie wil dit voorspel?
“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die
engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet
dit." (Mat. 24:36)
Wag maar geduldig, Hy kom weer.
En as jy haastig is, help so bietjie. Die Bybel sê almal moet hoor,
so, gaan vertel! Wees gereed en hou daai lampie vol olie, maar moet
dit asseblief nie doen uit vrees nie. Verlustig jou in die gedagte
dat Hy ons nie vergeet het nie, want Hy kom weer. ~ Willem Botha,
13/11/2023 |
|
Waar
sterf die voëltjies?
Het jy ook al gewonder waar die voëls sterf? Mens sien die hele dag
voëls vlieg, in bome sit en jy hoor die vrolike klanke. Hulle sterf
tog iewers, maar waar? Hoekom sien ons nie net soveel dooie voëls
rondlê as wat om ons rondvlieg nie? Of is daar 'n ingebore
waardigheid wat maak dat hulle eenkant gaan as hulle die lewe
verlaat? Dalk is dit deel van die Here se versorging van hierdie
wonderlike gevleuelde vriende van ons. Ek kry net die idee dat die
Here 'n besondere liefde vir hierdie vreedsame spesie het wat Hy
geskep het. Hulle is geklee in soveel prag en hulle gee vir die mens
oneindige plesier.
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van
hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle
is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees
nie. Julle is meer werd as baie mossies." (Mat. 10:29-31)
Is hierdie teks nie pragtig nie? Jesus sê hier pertinent dat hulle
kosbaar vir Hom is, maar jy is meer kosbaar vir Hom. Hou vir jou 'n
ou eensentstuk byderhand as jy nog een kan kry, en herinner jouself
dikwels aan Sy versorging as dit swaar gaan. Kyk gereeld daarna,
speel met dit tussen jou vingers en weet dat God 'n belofte oor jou
gemaak het. ~ Willem Botha, 06/11/2023 |
|
Saag daai saagsels.
Iemand het eendag gesê dat as jy jouself aanhoudend bekommer oor
dieselfde ding, maar niks daaraan doen nie, is dit soos om hout te
saag, dan die saagsels weer op te tel, weer op 'n hoop op die
werkbank gooi, en dit dan verder te saag. Net so is dit om 'n wrok
teen iemand te hou, en net eenvoudig nooit uit daardie drama van die
verlede te breek nie, en elke liewe dag daaroor te wroeg. So loop
ons met ou koeie rond wat keer op keer weer opgegrawe word, en dan
stap jy met die ding om jou nek rond en jy straf net jouself. Ek
sien hoe mense van my ouderdom nog steeds 'n onderwyser van ouds, of
'n korporaal in die weermag, steeds met 'n passie haat. Ai, wat 'n
straf!
Ek het 'n paar jaar gelede hierdie volgende boodskap op Heuning
geplaas, en plaas dit graag weer.
Baie jare gelede het my oorlede ouma haar toon baie seer gestamp en
dit het geweldig gepyn. Sy het bedags haar agterkleinkind opgepas,
en dan as die toon so vreeslik seer is, masseer sy die toon deur hom
op en af te buig. Dan huil sy van die pyn, en die dogtertjie huil
kliphard saam. My ma het eendag haar voet neergesit en aangedring
dat sy my ouma dokter toe neem. Nadat die dokter die toon bevoel en
bekyk het, was sy bevinding eenvoudig. "Tannie, jou toon is gebreek,
en sodra die toon wil aangroei, breek jy hom weer met die gebuigery".
Nodeloos om te sê was die toon vinnig daarna weer reg en pynloos,
toe sy hom net uitlos.
Ek sien hoe mense hierdie selfde goed aan hulleself doen met
bitterheid wat gekoester en vertroetel word. Mense gaan deur die pyn
en vernedering van egskeiding of ander hartseer situasies, en beweeg
net nie weer vorentoe nie. As mens vir ewig die hartseer stories
deel met ander, kan genesing net eenvoudig nie plaasvind nie. Elke
keer wat die stories gedeel word, word daai toon weer gebreek. Dit
alles net deur die persoon self wat alreeds soveel seer beleef. Die
aanhoorders wil gewoonlik in elk geval nie die verhale hoor nie,
want dan moet hulle kant kies, en daar word dan verwag dat hulle die
“skuldige” party moet veroordeel.
Bitterheid is dodelik vir elke enkele party. Dis nie die moeite werd
nie.
“Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat
daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit, moeilikheid
veroorsaak en baie besmet nie." (Heb. 12:15)
Wat 'n mors van tyd om saagsels te saag! ~ Willem Botha, 06/11/2023 |
|
“Die
een sê: “Ek behoort aan die Here,” ... die ander sal op sy hand
skryf: Die Here S’n ...” (Jes. 44:5) Het jy ook al goed op jou hand
geskryf sodat jy dit nie vergeet nie? ’n Adres, ’n naam, ’n datum,
’n bedrag, of dalk selfs jou inkopielysie? Toe ek op skool was, het
ons sommer ons huiswerk op ons hand geskryf. En dan was jy in die
moeilikheid as jy jou hande was! As ek hierdie teks in Jes. 44:5
lees, wil ek sommer my “permanent marker” gryp en op my hande skryf:
die Here S’n. Net sodat ek die hele tyd daaraan herinner kan word
dat ek aan Hom behoort. Net sodat ek die hele tyd daaraan herinner
kan word dat Hy belangriker is as enige iets. Dat ek nie sonder Hom
’n dag kan ingaan nie. Dat ek nie sonder Hom ’n besluit kan neem nie.
Dat ek sonder Hom nie kans sien vir uitdagings en probleme nie. Ek
wil enige tyd na my hande kan kyk en onthou: Ek behoort aan die
Here. Soms kyk ek egter na my hande en dan staan daar: sondig.
skuldig. alleen. hartseer. raadop. bang. rigtingloos. moeg.
teleurgesteld. Maar dan sien ek die Here se hand bo-oor myne en Hy
sê: “Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms
gegraveer.” (Jes. 49:15-16). Dan sien ek Jesus se hande met
spykermerke en ek wéét: “Deur sý wonde het daar vir ons genesing
gekom.” (Jes. 53:5) Ek is die Here S’n! ~ Wilna Botha , 30/10/2023 |
|
"Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie,
is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van
Satan om my met vuiste te slaan." (2 Kor. 12:7)
"Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees
is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God
ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie." (1 Kor. 6:19)
Boks is 'n verskriklike sport, en hoewel ek nogal daarvan hou om
daarna te kyk, besef ek soms dis eintlik barbaars, soos baie ander
kontak sportsoorte. Ouens slaan mekaar in breinskade in, hulle
verwoes mekaar se niere en hulle laat hulle vuiste met soveel geweld
op mekaar neer reën, dat hulle liggame werklik bykans tot stilstand
kom. Hoekom op aarde sal mens dit wil doen, en jouself daaraan
blootstel? As jy na sommige van hierdie destydse kampioene luister,
kan jy hoor dat daar onherstelbare skade is.
En so vertel Paulus dat dit voel of 'n boodskapper van Satan hom met
vuiste slaan. Ons weet nie wat die doring in sy vlees was nie, maar
daar word bespiegel dat dit iets met sy gesondheid te doen het. Hy
verduidelik dat dit voel of hy pap geslaan word.
Ek dink baie mense het 'n soortgelyke doring in die vlees, wat onder
andere verband hou met hulle gesondheid. Toe dink ek so by myself
dat vele van ons (JA EK OOK) vir die Here wil kom vra of Hy nie
hierdie vuishoue kan keer nie. Net om te besef dat die Here dalk vir
ons wil sê dat daar niemand anders saam met ons in hierdie bokskryt
is nie, dis net onsself. Ons het self hierdie handskoene aan en
vernietig onsself met ons eie hande. Ons is ons eie grootste
teenstanders. Ons slaan ons eie liggame pimpel en pers deur dinge te
doen wat ons liggame vernietig. Ons sluk goed in en suig goed in wat
ons eie organe vernietig en doen min dinge om hierdie tempel van die
Heilige Gees te onderhou en in 'n goeie toestand te hou. Hierdie is
ook nie net fisiese goed wat ons inneem nie, dis ook 'n probleem as
onsself (en ja, ons kinders ook), onder geweldige onnodige druk sit.
En dan begin hierdie bose kringloop, want dan sluk ons dinge in wat
die een probleem moet oplos, maar 'n hordes ander word geskep deur
"self inflicted" wonde. 'n Pilletjie vir elke probleem wat nooit
daar moes wees nie.
Toe 'n vriend onlangs aan keelkanker oorlede is, en 'n ander een 'n
baie groot operasie moes ondergaan oor dieselfde onderliggende
probleem, het ek net besef hoe dit een of ander tyd net skielik te
laat is. Dit kom soos 'n dief in die nag. Ons as Christene
veroordeel mekaar so maklik oor allerlei goed, maar in dieselfde
asem is ons skuldig aan baie groter dinge. JA EK OOK!!!
My liggaam is 'n tempel van God, dis die meganisme wat my siel
huisves terwyl ek op aarde is, en dit moet opgepas word. Ons almal
weet wat die regte dinge is om te doen, maar ons doen dit nie.
" As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie,
is dit sonde." (Jak. 4:17) ~ Willem Botha, 25/10/2023 |
|
“Put your
hand in the hand of the Man who stilled the water; Put your hand in
the hand of the Man who calmed the sea; Take a look at yourself,
and you can look at others differently; Put your hand in the hand of
the Man from Galilee ...” Só klink die refrein van ’n ou bekende
liedjie. Eenvoudige woorde met ’n ongelooflike uitnodiging: kom, sit
jou hand in die Here se hand. Dié Een wat mag het oor die see, dié
Een wat ’n storm kan laat bedaar met net ’n paar woorde: “Hou op!
Bedaar!” (Mark 4:39), dis die Een wat sy hand vandag na ons toe
uitsteek en sê: “Niemand sal julle uit my hand ruk nie.” (Joh.
10:28) Is jy bang? Is jou geloof te klein? Is jy oorweldig? Is die
golwe rondom jou angswekkend? Lyk dit asof die storm al hoe erger
word? Sit jou hand in Sy hand! Net soos Petrus gedoen het toe hy
begin sink het en bang geword het. “Maar toe Petrus sien hoe sterk
is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here,
red my! Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom
gesê: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt. 14:30-31)
Ek hoop jy het ook die woord “dadelik” raakgesien? “Van bo af het Hy
sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig.”
(Ps. 18:17) Dis die getuienis van baie mense, dit kan jóú getuienis
ook wees. Put you hand in the hand ... ~ Wilna Botha, 18/10/2023 |
|
My daaglikse brood
Ons werk vir onsself en soos jy weet maak ons besigheidsmanne baie
meer geld as wat ons kan droom om op te gebruik!
Nou ja, dis natuurlik nie waar nie en hierdie tipe lewe hou jou maar
soms op jou knieë. Daar kom tye van brood alleen, maar soms is daar
selfs 'n bietjie jêm op die brood. Ek het al by tye ernstig gebid
vir ons daaglikse brood, soos in die Onse Vader gebed.
Luk 11:3 "Gee ons elke dag ons daaglikse brood..."
Dan het daar skaamte oor my gekom as ek besef ek het BAIE meer het
as net dit. Daar was nog nooit in my lewe nét brood, of nét pampoen,
of nét rys of nét koue water in die huis nie.
Jy sien, hierdie belofte sê dat ons elke dag op brood kan staatmaak
(soos die manna van ouds), maar die jêm is 'n groot bederf. Brood is
die wêreld se stapelvoedsel, maar meer as dít is vir min mense in
die wêreld beskore. Ongelukkig meet ons die Here se seën aan die
hoogte van die lekkernye wat bo-op geplak word. Is die basiese nog
goed genoeg? Net die basiese? Kry ons dit reg om die surplus weg te
gee vir die wie nie eers die basiese het nie? En indien wel, hou ons
die brood of hou ons die jêm?
Hoe dikwels hoor jy nie van hierdie onbesonne predikers (soos vele
van hierdie TV predikers) wat vertel dat ware Christene nie in
armoede leef nie, want dan is jou geloof maar klein. Nogal vreemd
dat hierdie predikers miljoene uit hoopvolle mense wat swaarkry tap,
maar wie se lewe nie dan verander nie, maar dan gee hulle tog maar
gedwee hulle laaste sente. Nee, nie vir die Here nie, vir hierdie
geestelike swendelaars. Ai, wat mense nie sal doen om meer en meer
te kry nie.
Maar dalk sit jy ook vandag met so 'n bietjie te min, en begeer jy
bietjie meer.
As jy weer hierdie woorde bid: "Gee ons elke dag ons daaglikse
brood..", dink net hoeveel het jy regtig. ~ Willem Botha, 16/10/2023 |
|
"Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en
liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so
min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles." (Pred
11:5)
Ai, is ons nie maar almal deurentyd op soek na die betekenis van God
se aksies nie? Ons was die naweek weer by 'n tehuis vir gestremdes
waar ons dienste hou en in die betrokke tehuis is daar mense met
verskillende vorme van gestremdhede. Eendag het ek en my seun
daaroor gepraat en hy vra die volgende vraag: "Wat het ek gedoen om
nie in daardie situasie te wees nie?"
Daar is geen antwoord op daardie vraag nie. Hoekom word goeie mense
siek en soveel "slegtes" leef so goed? Hoekom begin die Kerk van die
Here so sukkel? Hoekom word onskuldige kinders die slagoffers van
gebroke huwelike? Hoekom beleef ek genade wat totaal onverdiend is?
Hierdie teks sê baie duidelik dat ons nie die werk van God verstaan
nie. Ongelukkig is daar soveel mense wat graag vir jou goedkoop en
nuttelose antwoorde gee in tye dat jy verward is. Daar is mense wat
praat asof hulle elke ding wat God doen, verstaan en kan uitpluis.
Daar is selfs mense wat graag in sulke omstandighede wil "profeteer"
daaroor, maar so dikwels kom dit nie van God af nie.
Ek wil eerder maar net aanvaar dat God in beheer is, al lyk dit nie
vir my so nie. As ek terugkyk in my lewe, het die Here nog nie een
enkele fout gemaak nie, alhoewel ek soms so gedink het in daardie
onaangename omstandighede.
Hierdie teks eindig met "Hy doen dit alles.." Dit beteken: Hy is in
beheer. ~ Willem Botha, 09/10/2023 |
|
"Wat maak jy hier?", vra die hoof engel by die
poorte na die hemel vir 'n man.
"Ek weet nie, ek kan nie glo ek is hier nie."
“Het jy ooit getrou Bybelstudie gedoen?”, vra die engel.
"Nee, ek het nie geweet hoe nie en ek het in elk geval nie geweet
waarin om te glo nie."
“Het jy ten minste 'n skoon lewe gelei, en was jy barmhartig teenoor
jou medemens?”, vra die engel.
"Nee, ek was van jonk af rebels en 'n krimineel. Ek het selfs ook
moord gepleeg."
“Het jy jou geloof bely en vir Jesus as jou Saligmaker aangeneem?”,
wil die engel weet.
"Nee, daar was nie tyd nie, ek was sterwend, ek was immers besig om
langs Jesus aan die kruis te sterf."
“Het jy vergifnis vir al jou slagoffers gevra?”, vra die engel.
"Nee, ek het net in my laaste oomblikke besef hoe verlore, leeg en
eensaam ek was. Ek het net gevra dat Hy aan my moet dink as Hy in
die paradys kom".
“Hoekom is jy dan hier, en hoekom dink jy hoort jy hier?”, wil die
engel weet.
"Ek glo nie ek hoort hier nie. Jesus het my hiernatoe gestuur, en ek
het dit hoegenaamd nie verwag nie. Miskien is dít die definisie van
genade". ~ Willem Botha, 05/10/2023 |
|
Teleurgesteld... In God.
As ek vir jou sou vra of jy al ooit teleurgesteld was in God, sou jy
waarskynlik nie die moed hê om dit te erken nie, want dit klink
darem nie reg nie. Maar diep binne jou is dit dalk 'n ander storie.
Daardie sake waaroor jy so lank en ernstig gebid het, of daardie
iets wat jy so begeer het, of daardie tyd toe jy oor 'n siekte
toestand vir jouself, of iemand anders, gebid het, en die Here se
antwoord was nee.
Ons as mense word dikwels deur ons medemens, of lewensmaat of
vriende teleurgestel.
Ons word egter eintlik net teleurgestel omdat iets of iemand (of
Iemand) nie aan ons verwagtinge voldoen nie. As jy vir my sê dat die
regering jou teleurstel, is dit maar eintlik jou eie skuld, want jy
verwag tog nie regtig goeie prestasie van hulle af nie. Jy moet maar
jou verwagtinge so bietjie (afwaarts) aanpas.
Maar die Here is mos maar 'n ander saak, of hoe? Hy is immers God,
en die Bybel wemel van beloftes, en Hy sê tog op vele plekke in die
Bybel dat jy heeltemal veilig is by Hom en dat Hy net die beste vir
jou beplan. Natuurlik is dit waar, maar dis nie al wat waar is nie.
Daardie een persoon wat langs Jesus aan die kruis gehang het, het
vir Jesus herinner dat Hy almagtig is, en hy wou ook so bietjie deel
aan die voorregte wat met die Here se almag saamgaan, maar die Here
se antwoord was nee.
Nou ja, die Bybel skep vir ons goeie verwagtinge oor God se liefde
en sy almag, maar dis wanneer ons dink dat Hy ons iets skuld, dat
teleurstelling ons oorrompel. Voorspoedteologie is 'n groot sondebok
as dit kom by ons verwagtinge van die Here. Dis dodelik! 'n Vriend
vertel lank gelede dat Hy nie verstaan hoekom sulke slegte goed hom
tref nie, want Hy leef voluit vir die Here en doen so baie vir ander.
Hy het selfs 'n motor vir iemand geskenk toe hy 'n ander motor koop.
Hy was werklik teleurgesteld.
Onthou jy wat met Johannes die doper gebeur het? Hulle het sy kop
afgekap en op 'n skinkbord vir Herodes se vrou gebring. Johannes,
dié Johannes wat vir Jesus gedoop het, en wat Jesus se vriend was,
is wreed vermoor en Jesus het dit nie gekeer nie. Moses het nooit
die beloofde land gesien nie, al die dissipels is vir hulle geloof
vermoor, en Jesus self is gekruisig. Dit klink nogal of ons weer
moet dink oor wat ons van die Here verwag. Ons sál soms
teleurgesteld wees in Hom, maar Hy weet beter en is steeds in beheer.
Maar dalk sal jy met my saamstem dat jy al HORDES meer kere in
absoluut verwondering en verbasing gekyk het na waarmee Hy besig is.
Ek was baie, baie meer kere verbaas as teleurgesteld, ek het baie
meer kere gesien dat Hy vir my guns gee wat baie meer was as wat ek
kon bid of dink.
Wat verwag ek van Hom? Om net die almagtige God te wees en handel
soos wat Hy die beste weet.
Dis genoeg. ~ Willem Botha, 02/10/2023 |
|
“All of these lines across my face, tell me the
story of who I am...” – só klink die woorde uit die liedjie: “The
Story”. Vandag wil ek die woorde bietjie verdraai na: all of these
lines across my hands, tell me the story of who I am. As jy vandag
na jou hande kyk, sien jy dalk dat jou hand 27 beentjies, 29
gewrigte, ten minste 123 ligamente, 34 spiertjies, 48 senuwees en 30
are het? Hande wat vertel hoe ongelooflik kompleks ’n mens se
liggaam geskape is. Hande wat vertel dat God hulle aanmekaar geweef
het. Sien jy dalk hande wat mooi versorg is, sonder merkies, sonder
snye, sonder sonskade? Hande wat vertel die lewe was maklik en
sonder terugslae. Of dalk sien jy hande met eelte van harde werk,
hande vol olie, of verf, of meel, of grond? Hande wat vol plooitjies
en are is omdat hulle nie meer jonk is nie, hande wat krom is van
artritis, hande wat letsels het? Hande wat vertel die lewe het sy
draaie gemaak. Dalk lyk die lyne op jou hande nie baie mooi nie en
is jy skaam vir jou hande. Dalk vertel jou hande dat hulle iemand
seergemaak of iets afgebreek het. Watter storie jou hande ook al
vertel, beleef vandag dat die Here sê: “Ek is die Here jou God, Ek
vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.” (Jes.
41:13) Watter storie jou hande ook al vertel, hoor vandag dat die
Here sê: “Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my
versorgende hand ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.” (Joh. 10:28,
Die Boodskap) Mag dít deel wees van jou hande se storie. ~ Wilna
Botha, 28/09/2023 |
|
Mors 'n bietjie tyd.
"Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd..."
(Pred 3:1)
So sê die Prediker. Maar vir jou en my is dit gewoonlik nie waar nie,
want ons spandeer te veel tyd aan OORLEEF, en te min aan LEEF. Weet
jy vriend, elke dag wat jy verloor het om iets lekkers saam met jou
geliefdes te doen, is verlore, vermorste tyd. Jy kan daardie dag se
geleenthede nooit ooit weer terugkry nie.
Gaan "mors" 'n bietjie tyd. Gaan fliek, gaan 'n naweek weg (al is jy
brandarm), gaan drink 'n koffie in 'n koffiewinkel, gaan loop in 'n
parkie, gaan op 'n foto uitstappie, al is dit met 'n selfoon, gaan
asem bietjie vroegoggend lug in. Gaan mors daai tyd, voordat dit
heeltemal vermors is.
Nogal vreemd hoe 'n horlosie werk. As jy sit en kyk na daardie
sekondewyser, wys hy vir jou met eentonige reëlmaat dat elke oomblik
wat verby is, vir EWIG verby is. Jy kan hom nie vashou nie, of
terugdraai nie, of stop nie. Dis eintlik 'n wrede stukkie tegnologie
daai, en jy is hoegenaamd nie opgewasse teen hom nie. Al wat jy kan
doen is om sy funksie optimaal te gebruik. Dus, mors jou "tyd" op
nuttige goed, terwyl jy nog kan. ~ Willem Botha, 25/09/2023 |
|
“Daarby moet julle altyd geloof as skild in die
hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan
afweer.” (Ef. 6:16). Dis nou iets wat ek graag in my hand wil hê en
waaraan ek verbete wil vasklou. Daai skild van geloof. Die skild wat
na alle kante toe kan keer dat ek versoek, verlei en verneder word.
Die skild wat enige twyfel in God se beloftes en in Jesus se
vergifnis en verlossing sal keer. Die skild wat my sal herinner dat
ek sterker is as wat ek dink, dat ek meer kan verduur en vermag en
verdra as wat ek in my menslike swakheid kan dink. Die skild wat my
sal herinner dat God my eintlike skild is: “Die Here is my rots, my
skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en
sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3). En ás my
geloof-skild my dalk in die steek laat, sal ek, soos Petrus, uitroep:
“Here, red my!” En Jesus sal vir seker sy hand uitsteek en in liefde
en genade my persoonlike geloof-skild word: “Dadelik het Jesus sy
hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom
het jy begin twyfel?” (Matt. 14:31) Dan sal ek Sy hand vasgryp en
saam met Hom op die water loop. ~ Wilna Botha, 21/09/2023 |
|
Nou wonder ek, waar op aarde moet die aartappel
nou in die kooi gesit word? By die voete? Onder die kussing? Dit lol
as hy by die voete lê, want as jy omdraai rol hy saam. Maar wat, as
dit werk werk dit. Natuurlik vir seer bene, rustelose bene, en stywe
"joints". En glo my dit werk regtig, maar net solank as jy dit glo.
Ek praat natuurlik van die sogenaamde Afrika-aartappel wat so klomp
jare gelede vir 'n klomp bejaardes reuse verligting gegee het, maar
toe raak die geloof daarin op. Of dalk het die aartappel net vrot
geword. Jiggg...!
Jy het seker al gehoor van die woord "Placebo", oftewel 'n pil of
een of ander medikasie wat hoofsaaklik in die toets van medisyne
gebruik word. Die regte pil word vir een groep gegee en die Placebo
vir 'n kontrole groep, maar niemand weet wat hulle gekry het nie,
dan vergelyk hulle die werking van die medikasie. Baie mense reken
jou vitamiene aanvulling beteken niks, maar dit "werk" vir jou
solank jy dit glo, soos tonne self-help medikasie wat jy deesdae
sommer aanlyn koop. Toe my ouers ouer geword het, het hulle en hulle
vriende flink mekaar se medisyne gedrink want dit werk (blykbaar)
soos 'n bom. Vir 'n rukkie...
Maar ai, my pa was baie ondeund. Hulle huishulp wou kort-kort 'n
hoofpyn pil hê, toe gee my pa vir haar van sy prostaat medikasie, en
dit maak jou urine grasgroen. Sy het sekerlik eensklaps gesond
geword, want sy het nooit weer 'n pil gevra nie.
Nou wonder ek so by myself, kry ons nie ook maar vertroosting, of
hoop, of vrede net omdat ons glo dat dit werk nie? Werk dit regtig?
Sê nou daar is nie 'n God nie, maak dit regtig saak? Want as ons
godsdiens maar net "werk" soos 'n Placebo, dan kan ons dit maar net
gebruik, of selfs misbruik om goed te voel, maar daar is niks
konkreet nie, en ons hoef ook nie bekommerd te wees oor die
konsekwensies van sonde nie. Soos 'n Placebo wat geen werkende
bestanddeel bevat nie.
Dink gou bietjie hieroor, want wat sal jy sê as iemand jou met
hierdie vraag konfronteer? Ons kan mos in elk geval nie bewys dat
die Here bestaan of leef nie. Nou ja, as ek nou hierdie boodskap
hiermee afgesluit het, sal jy seker bitter teleurgesteld wees in dít
wat ek en Wilna doen.
Waar los dit my?
Dis maklik, 'n Placebo werk nie lank nie, en die aartappel beland
seker nie vir altyd in die kooi nie, en 'n Placebo het nie blywende
genesingskrag nie, maar die boodskap van die Bybel het elke enkele
toets en aanslag weerstaan, en geen mens kan die boodskap van die
verlossing deur Jesus verkeerd bewys nie. Dít wat die Heilige Gees
in jou lewe doen, is lewendig en kragtig en daardie werking word oor
en oor wêreldwyd dieselfde ervaar deur mense. Ja, mense verloor
hulle geloof, maar die teendeel is duisend maal meer sigbaar in
mense. As daar nie 'n God is nie, moet ek en jy reuse dwase wees,
maar ons weet, omdat ons weet, dat ons met die Waarheid besig is.
Wil jy bewyse sien dat daar 'n God en 'n Skepper is? Google gerus
beelde van die nuwe James Webb ruimte teleskoop, en as iemand glo
dat daardie prag en volmaaktheid en "splendor" sommer toevallig
ontstaan het, dan sal jy gou agterkom wie regtig die dwaas is.
Ek sluit af met 'n teks waarvan ek sommer baie hou.
" 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak
uitgeput." (Spr. 17:22)
Placebo? Nee, ek het hierdie al oor en oor raakgesien en self beleef.
Positiewe mense se liggame reageer fisies op 'n vrolike gesindheid.
Jy kan dit maar gaan toets. ~ Willem Botha, 13/09/2023 |
|
En
dan was daar Pilatus se hande. Dié hande wat hy in onskuld kom was
het voor almal, om homself te probeer verontskuldig, om hom te
probeer distansieer van die besluit wat hy gemaak het om Jesus uit
te lewer om gekruisig te word. “Toe Pilatus sien dit help niks nie
en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die
skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van
hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.’” (Matt. 27:24) Was
jy ook al kwaad vir Pilatus oor dié handewas? Hoe kón hy dit toelaat
dat die skare hom ompraat om Jesus te laat kruisig! Ek lees hierdie
êrens: “Vir ons skulde, het God lemand gestuur Wie se hande bou,
koester, help, uitdeel, uitnooi, omgee, beskerm en seën. Al die
ander hande het Hom gevat en met ruwe spykers deur sy hande, Hom aan
’n kruis laat hang: Pilatus se hande, soldate se hande, ruwe hande,
Skrifgeleerdes en priesters se hande, verraaiers se hande, ons hande,
my hande ...” Pilatus was sy hande en Jesus word gekruisig. En dis
goed so. Pilatus se handewas het as’t ware God se plan van
verlossing tot sy hoogtepunt gebring: Jesus word in óns plek gestraf,
geslaan, gespoeg, gespot en gekruisig. Jesus vat óns straf. Sy bloed
bring versoening en verlossing vir ons. Pilatus se handewas bring
mee dat óns nou met skoon hande voor God kan staan. “... laat ons
tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons
harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is
gewas met skoon water.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha, 12/09/2023 |
|
If you can't beat them, join them....
Nogal iets wat mens sommer net wil oorweeg, of hoe?
Hoekom die "reguit" pad probeer stap, terwyl dit eintlik maar net
altyd 'n moeilike, opdraande pad is? As jy kyk hoe mense wat mag het
net eenvoudig doen wat hulle wil, lyk die reguit pad sommer net
onsinnig.
As ons vorige "Number One" net mooi niks oorkom na staatskaping en
tonne bedrogsake nie, hoekom moet ek probeer om binne die wet te bly?
Die howe is in so 'n toestand, en soveel mense kom (soms letterlik)
met moord weg, dat ek nie meer vertroue het in die regstelsel nie.
Die inwoners van bykans al die "townships" betaal geen elektrisiteit
nie, maar ek en jy staan daarvoor pa. En waag jy net om 'n week laat
te betaal en jou krag is af! Wat het gebeur met die grootbaas van
Steinhoff, nadat biljoene rande weg is uit mense se pensioenfondse
en ander beleggings? Net mooi niks!
Die reg beskerm die krimineel meer as die eerlike ou, en dit maak
nie sin nie. Hoekom nie ook maar saam deelneem aan alles wat
verkeerd is nie? Wat gebeur met soveel mense wat net eenvoudig nie
hulle werk doen nie, terwyl hulle nie eers daarvoor verantwoordbaar
gehou word nie?
Hoekom sal ek en jy nie ook maar hierdie volgende teks misbruik en
totaal buite sy konteks uitleef nie?
"Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie
as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet." (Pred.
3:12)
Lekker, kom ons gaan jol en baklei en verneuk en maak marakkas en
gooi sommer alles oorboord. Hoekom dan nou nie?
Wel, die antwoord is eenvoudig. Hierdie lewenstyl gaan vir jou geen
greintjie geluk bring nie, want jy is net eenvoudig nie so nie. Jy
is nie so "ge-wire" nie, want diep binne-in jou, is daar waardes
vasgevang en in jou ingebou wat teen hierdie oneerlike, losbandige
lewe veg. En al word jy kwaad omdat ander hiermee wegkom en
oënskynlik die lewe geniet, wil jy nie regtig so leef nie, want jy
kan geen ander ordentlike mens in die oë kyk as jy so laag gedaal
het nie.
En waar pas die Here hierby in? Jy wil, as kind van God, eerder die
Here se seën op jou lewe hê, want daar is groot beloning daarin. Ja,
definitief as jy met 'n ewigheidsperspektief daarna kyk, maar ook as
jy besef dat dit tog beter is as jy probeer om 'n goeie lewe te lei.
Jy wil nie 'n rampokker wees nie, en jy wil mos nie hê mense moet
jou verag nie, en jy wil mos nie skaam voor die Here staan nie.
Natuurlik sukkel ons om sondeloos te leef, maar die Here ken mos ons
harte en wil ons elke dag weer help om ons pad suiwer te hou.
Ons bly in moeilike omstandighede in ons land en die uitdagings raak
al hoe groter, maar dis steeds nie groter as ons Koning nie. Gaan
toets gerus aan watter een van die volgende waardes jy wil vashou,
en jy sal sien die antwoord spreek vanself.
"Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend:
onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery,
vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,
afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek
waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan
sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis
verkry nie.
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en
selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie." (Gal.
5:19-23) ~ Willem Botha, 11/09/2023 |
|
Daar is ’n
paar hande in die Bybel in wie se posisie ek glad nie sou wou wees
nie. Kyk bv. na Adam en Eva se hande van ongehoorsaamheid. ’n Hand
wat uitgesteek is om die verbode vrug te neem. ’n Hand wat hulle
uitgesteek het omdat hulle verlei is, terwyl hulle die waarheid
gewéét het. ’n Hand wat hulle uitgesteek het omdat hulle opstandig
was teen God se opdrag om hulle daarvan te weerhou. Daar was immers
baie ander vrugte wat die hand kon pluk, maar nee, die hand doen sy
eie ding en word uit die paradys uitgedryf! “Toe het die Here God
gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan
ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die
boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”” (Gen.
3:22)
Dan is daar Kain se hand. Die hand van afguns wat sy broer om die
lewe gebring het. Die hand wat in woede besluit het die Here is
onregverdig. Die hand wat gewaarsku is: “As jy nie goeddoen nie –
die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy
moet oor hom heers.” (Gen. 4:7) Die hand moes selfbeheersing aan die
dag lê, maar nee, die hand doen sy eie ding en word vervloek!
“Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die
bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het.” (Gen. 4:11)
En dan is daar Judas se hand. Die hand van verraad wat saam met
Jesus se hand brood in die skottel ingesteek het. Die hand wat
wonderwerke gesien het en teenwoordig was by al Jesus se lering,
daai hand was eintlik vir goeie dade bestem. Maar nee, die hand doen
sy eie ding en wys die Messias uit as die een wat gekruisig moet
word. “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met
Myne hier op die tafel.” (Matt. 22:21)
Ai, dis geen wonder dat Jesus gesê het: ““As jou hand jou van My
afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die
lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan,
in die onblusbare vuur.” (Mark 9:43)
Kom ons pas ons hande op! ~ Wilna Botha, 07/09/2023 |
|
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so
maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22)
Ons word soms baie omgekrap oor dinge wat skeef loop, want ons kyk
mos na mense. Ons is teleurgesteld as iemand vir wie ons vertrou en
lief is, van ons skinder. Want ons kyk mos na mense. Ons staan soms
verstom oor die uiterste swak diens wat ons van mense kry, mense wat
betaal word, maar dikwels totaal onbevoeg is vir hulle werk. Want
ons kyk mos na mense. Ons word teleurgestel deur medegelowiges in
die kerk, en selfs deur leraars. Want ons kyk mos na mense. Ons word
kwaad op die pad vir ander pad gebruikers omdat hulle ons tyd mors
en soos idiote bestuur. Want ons kyk mos na mense. Ons raak
moedeloos vir alles wat in die politiek aan die gang is, en ons sien
hoe alles wegsink in hierdie put van dryfsand. Want ons kyk mos na
mense.
Maar dis nie almal nie, want daar is ook wonderlike mense, maar ons
hou meer daarvan om smartvrate te wees, en dan kyk ons net na die
verkeerde mense.
Daar is polisiemanne wat regtig alles in hulle vermoë doen om jou en
my veilig te hou. Maar ons kyk hulle mis.
Wilna was onlangs in die hospitaal vir 'n prosedure en 'n wonderlike
suster het haar met soveel deernis versorg. Terwyl sy elke aand
bitter laat by die huis kom, met 'n taxi, en daar is vele van hulle.
Maar ons kyk hulle mis.
Daar is soveel mense wat uit hulle pad gaan om vir jou goeie diens
te gee, maar ons konsentreer nie op hulle nie. Ons kyk hulle mis.
Wat my laat wonder wat mense van my dink, en wat sien hulle by my
raak? Hoe lekker sou dit wees as ons vir Jesus in mekaar sou
raaksien.
Ons het maar almal voete van klei, maar ons moet maar probeer.
Dalk, net dalk, as ons elke dag 'n bietjie beter word as die vorige
dag, sal ons 'n verskil maak. ~ Willem Botha, 06/09/2023 |
|
Wat het jy in
jou hand? Dalk klou jy vas aan ’n handvol bitterheid en
onvergewensgesindheid? Ek lees vandag dié aanhaling: “All the art of
living lies in a fine mingling of letting go and holding on.” Daar
kom ’n tyd wat ’n mens jou hand moet oopmaak en daai bitterheid laat
gaan. Ons het die naweek in Magoebaskloof in so ’n inheemse woud
gestap. Daar het ek ’n reuse boom gesien wat omgeval het. Mens kon
duidelik die rede sien waarom hy omgeval het – die binnekant van die
stam was uitgehol en opgevreet deur een of ander swam of gogga. Dit
was vir my ’n les van wat met ons kan gebeur as iets soos bitterheid
en onvergewensgesindheid aan ons binnekant bly vreet totdat dit
weggevreet is. “As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig
en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word.
As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat
uiteindelik baie mense seermaak.” (Heb. 12:15, Die Boodskap) Ja, ek
weet jy kan vir my sê dat ek nie weet wat aan jou gedoen is nie,
hoeveel leuens, bedrieëry, vernedering, pyn jou aangedoen is nie. Ek
verstaan dit. Ek verstaan dat dit ’n lang en moeilike pad kan wees.
Ek verstaan dat jy nie lus is om te vergewe nie. Ek verstaan dat jy
sê: ek sal jou nooit kan vergewe nie. Ek verstaan dat jy liewer wil
vasklou aan daai wraakgevoelens en die ander een die slegste toewens.
Maar ek verstaan ook dat daar ’n dag moet kom dat jy jou hand
oopmaak en laat gaan ter wille van jouself. Kyk hoe verduidelik
Jesus dit: “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy
na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou
skielik dat ’n vriend of familielid van jou om die een of ander rede
vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan . Gaan
dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan
jy terugkom en jou offer aan God bring.” (Matt. 5:23-24, Die
Boodskap) Miskien kan hierdie ’n toets wees: “You will know that
forgiveness has begun when you recall those who hurt you and feel
the power to wish them well.” ( Lewis B Smedes) Mag die Here ons
help om met oop, skoon hande voor Hom te staan. ~ Wilna Botha,
05/09/2023 |
|
Ons is werklik geseënd met 'n klompie goeie
vriende, mense met wie ons 'n baie nou pad stap en wat vir ons baie
kosbaar is. Elkeen van hierdie mense sal letterlik enigiets vir ons
doen as ons in nood is, en ons sal ook enigiets vir hulle doen. So
het ons ook 'n baie goeie verhouding met al ons bure, en in die 40
jaar wat ons hier bly was daar daar nog nooit erge konflik wat die
verhoudinge belemmer het nie.
Ek het net weereens besef hoe belangrik goeie verhoudinge in jou
leefwêreld is, want een of ander tyd gaan jy op ander se hulp moet
staatmaak, en andersom.
In 1 Samuel word vertel van 'n besondere vriendskapsband tussen twee
vriende.
"Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg
geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog
het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy
pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond
gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself." (1 Sam.
18:1-3).
Ons het 'n baie goeie fliek gesien oor 'n paar vriende wat 'n
miljoenêr ontvoer vir 'n losprys, maar vinnig-vinnig versuur dinge
toe die geld in die prentjie kom. Die ryk man wat ontvoer is sê toe
'n baie waar ding vir die leier van die groep:
"There are a few ways to be rich; you can either have a lot of
money, or you can have good friends, but you can't have both ". Baie
waar woorde.
Die Bybel gee vir ons 'n paar tekste wat dinge mooi opsom.
Spr 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is
daar met die oog op jou nood"
Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was,
verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie. 'n
Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is."
Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."
Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat
nader is as 'n broer."
Spr 22 : 11 "Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te
praat, het selfs die koning tot vriend."
Ek dank die Here vir vriende wat aan al hierdie dinge voldoen. En
nog meer, dat my vrou en kinders my beste vriende is.
Ek glo nogal aan die gedagte van: Sien leef en laat leef. Ek het
lank gelede 'n vriend gehad wat konstant konflik gehad het met die
bure oor verskillende dinge, en dan het die hare gewaai. Volgens my
was dit regtig nietige dinge en ek het altyd gewonder of dit regtig
die gevegte werd was.
Hoe eensaam moet 'n mens nie wees wat niemand het om na uit te reik
nie.
Pas daai verhoudinge goed op, want hoe ouer jy word, hoe belangriker
word dit. Dis maar die verloop van die lewe. ~ Willem Botha,
04/09/2023 |
|
"O Heer wil dan U liefde ook deur ons openbaar,
dat ons mekaar mag liefhê, en so U wet bewaar... " (Gesang 262)
Ek onthou vaagweg grepies uit die eerste paar jaar in die laerskool.
Elke oggend voor die klas begin, het die juffrou ons iets laat sing
en dan het sy gebid. So het ons soms hierdie paar woorde van hierdie
Gesang gesing, en ons het dit spesifiek vir Yvette gesing, 'n
dogtertjie in die klas. Ek het nooit gewonder hoekom ons net vir
Yvette gesing het en vir niemand anders nie, maar ek het seker maar
gedink dis hoe dit moet wees.
"... dat ons mekaar mag liefhê, en so Yvette bewaar." Natuurlik in
plaas van "... en so U wet bewaar". Ek is nou nog goed met "misheard
lyrics".
Ek verlang so terug na daardie kinderlike geloof waarmee ons
grootgeword het, sonder om alles te bevraagteken en agter elke nuwe
stroming onder die son aan te hardloop.
Kinderlike geloof, daardie geloof wat voorgehou is in my ouerhuis,
in die kerk en in die skool. Natuurlik het my volwasse jare baie
elemente van soek en ondersoek ingehou en dit gebeur steeds want dis
waar Geestelike groei plaasvind, maar ek is so bly dat ek
grootgemaak is, soos wat ons grootgemaak is in die "goeie ou dae".
Ons het respek vir God gehad, maar ek is nie met vrees-godsdiens
grootgemaak nie. Ek kan glad nie onthou dat my ouers ons ooit
gedreig het met daardie kwaai en onverbiddelike God wat jou gaan
straf as jy nie jou kool eet nie (ek het terloops eers kool begin
eet toe ek vir Wilna ontmoet het). Wys jou net...
Ons is nie eers grootgemaak met die gedagte dat die duiwel jou gaan
kom haal as jy stout is nie. Indien daar so iets was, het dit
definitief nie 'n blywende indruk gelaat nie. Wel, die dominee was
egter baie kwaai, en ek was BAIE banger vir hom as vir die Here en
die duiwel saam.
“Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies
word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom
nie."(Mat. 18:3)
Natuurlik moet ons soek en ontdek, ons moet leer en God se aangesig
elke dag soek, maar wees maar versigtig wáár jy dit soek.
Jy sien, mense hou van nuwe mensgemaakte stories en denkrigtings, en
hierdie sogenaamde leermeesters wat hierdie goed uitdink en
verkondig, hou vreeslik daarvan om 'n gevolg op te bou wat hulle
aanhang. En daar is dikwels selfs finansiële gewin daarin. Jy sien
dit dikwels as hulle so hamer op een ding wat hulle uitgedink het.
En dis dikwels soos 'n vlak rivier, 'n myl wyd maar net 'n duim diep.
Hierdie volgende tekste som dit mooi op:
"Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het,
het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te
hoor nie." (Hand. 17:21)
"Die één ding wat ek wel gevind het, is dit: God het die mense goed
en opreg gemaak, tog het hulle hulle besig gehou met allerlei
slimmighede." (Pred. 7:29)
Daardie teks in Matteus sê nie GLO soos 'n kind nie (ons haal dit
graag so aan), dit sê WORD soos 'n kind.
Ek is uiters dankbaar dat ons van kleins af gevoed is met geloof in
God, en respek vir die Here, want daardie fondament is "rock solid".
Wel, ek hoop die Here bewaar steeds vir Yvette. En al die ander wat
saam in die klas was. ~ Willem Botha, 29/08/2023 |
|
Ek het ongelukkig nog nie goeie nuus oor my
vinger gekry nie en wat ek hier skryf is nie om nóg ’n keer oor my
vinger en my eie hand te praat nie (dié het nou al genoeg “airtime”
opgebruik), maar oor die Here en Sý hand! “Toe sê Hy vir die man
(met die gebreklike hand): ‘Steek jou hand uit.’ Hy het dit gedoen
en sy hand was reg soos die ander een.” (Matt. 12:13). Elke keer as
Willem vir my vinger bid, dan kom hierdie gedeelte by my op en dan
steek ek ook my hand in geloof na die Here uit vir sy aanraking. Ek
lees dat Jesus se hand baie kere betrokke is by die wondergenesings
wat hy doen, dat Hy met sy hand raak aan die persoon. Byvoorbeeld
die melaatse man: “Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê:
Ek wil. Word gesond.” (Matt. 8:3); Petrus se skoonma: “Hy het haar
hand gevat en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom
bedien.” (Matt. 8:15); die dogtertjie van die Joodse raadslid: “Hy
het in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit
die dood opgewek.” (Matt. 9:25); die doofstom man: “Toe het Hy sy
vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer.”
(Mark 7:33) die blinde man: “Hy het die blinde man aan die hand
gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy
hande daarop gesit en vir hom gevra: sien jy al iets?” (Mark 8:23)
Jesus se hand wat genesing bewerk! Ek weet daar is mense wat hier
lees wat baie groter probleme het as ek met my vinger. Kanker.
Amputasies. Kroniese pyn. Hartomledings. Verlamming. Gestremdheid.
Noem maar op. Ek lees in Ps. 34:21 die Here sorg vir die héle
liggaam en in Ps. 129:15 dat geen been van my vir Hom verborge is
nie. So, selfs al ervaar ons nie die genesing van die liggaam soos
wat ons hoop nie, is dit vir my ’n groot troos om te weet Hy wéét en
Hy sién en Hy ráák met sy hand daar waar die pyn en die bekommernis
is. En dan het ek moed om te wag en deur te druk en aan te hou en
weer te bid. “... maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.” (Job
5:18) ~ Wilna Botha, 24/08/2023 |
|
Ons (en jy ook), is al vele kere blootgestel
aan mense se weelderige huise, motors en oorvloed waarvan mens maar
net kan droom. As ek baie eerlik moet wees, moet ek erken dat daar
tog diep binne in my 'n stukkie begeer en selfs afguns is, en dat ek
tog by myself dink dat dit lekker moet wees om regtig enigiets te
kan koop wat my hart begeer. Ek lees netnou 'n berig van iemand wat
R22 miljoen gewen het op die Lotto, wat my vir 'n oomblik laat dink
dat ek dalk net één keer moet probeer, want net dalk... Soos jy kan
aflei het ek dit nog nooit gespeel nie, en nee, ek sal ook nie. Ek
veroordeel niemand wat dit probeer nie, ek dink net jou kans van een
uit veertien miljoen maak dat om 'n sjokolade te koop, 'n beter
opsie is. So bietjie konteks: as jy dit elke dag van jou lewe speel,
behoort jy dit een keer elke 38000 jaar te wen, volgens die wet van
gemiddeldes, indien jy dieselfde kombinasie speel.
Hoekom sukkel ons soms so met hierdie probleem om net sommiges se
rykdom raak te sien, en andere se armoede mis te kyk?
Dan wonder ek by myself of die Here nie moedeloos raak met my nie en
dan te vra: hoeveel is regtig genoeg? Hoeveel wil jy nóg hê? Dit
maak my skaam.
Hierdie teks gee vir my so bietjie nugterheid: "Ek het alles gehaat
waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het,
want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, en wie weet of hy
'n wyse of 'n dwase mens sal wees? Tog sal hy beskik oor alles wat
ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het. Dit kom
dus ook tot niks." (Pred 2 : 18-19)
Ek sien eendag 'n oulike ding waar iemand 'n tydlyn trek wat 80 jaar
aandui. Hy sê die eerste 20 jaar gaan jy skool en studeer jy, en die
laaste 15 jaar, van 65 tot 80, is jy op pensioen. Ons neem aan dis
ons gemiddelde lewensverwagting. Daardie tye is eintlik lekker tye.
Maar tussen 20 en 65 werk en swoeg jy, en vir die meeste mense is
dit nie altyd lekker nie. In daardie tyd maak ons bymekaar om te
leef, maar ook net om goeters te besit. Jy maak naarstiglik bymekaar,
werk jou dood daarvoor en dan vrees jy dat jy dit gaan verloor."
Ek het ook al gesien wat buitensporige oorvloed en materiële dinge
aan mense doen, maar ons kyk dit mis.
Hoekom so veg vir meer? Hierdie volgende woorde behoort jou ook
bietjie aan te raak.
Iemand vra eendag vir 'n familielid van 'n baie welaf afgestorwe
persoon: Wat het hy nagelaat?
Waarop die persoon toe antwoord: ALLES! ~ Willem Botha, 23/08/2023 |
|
Pred. 9:10 : “Doen met toewyding alles wat jou
hand vind om te doen ...” So sê die Bybel op meer as een plek.
Ledigheid is die duiwel se oorkussing het my ma altyd gesê. Kry iets
om te doen, hou jou hande besig. Is dit nie so dat hoe minder mense
doen hoe minder wíl hulle doen nie – hulle word lui, selfsugtig,
afgestomp, verbeeldingloos. Aan die ander kant sê hulle mos as jy iets
gedoen wil hê, vra 'n besige persoon om dit vir jou te doen – hy is
kreatief, hy kan beplan, hy skrik nie vir uitdagings nie, hy is nie
lui nie, hy maak die beste gebruik van sy tyd. Pred. 4:5 sê dis
dwaas om met jou hande gevou te sit en niks te werk nie, want jy sal
van die honger doodgaan. “Nog 'n bietjie verder slaap, nog 'n
bietjie lê en sluimer, nog 'n bietjie hande gevou lê om uit te rus.
Skielik oorval die armoede jou soos ’n struikrower. ’n Tekort aan
kos oorrompel jou soos ’n dief.” (Spr. 6:10, NLV) Ons hande moet
natuurlik nie net besig bly met dít wat vir ons inkomste bring nie,
nee, jou hande kan ook mooi dinge maak, jou hande kan ander help,
jou hande kan jou gesin en jou vriende dien, jou hande kan troos en
trane afdroog en wonde streel, jou hande kan ander hande vashou, jou
hande kan seën. Ai, ek bewonder altyd daai vrou in Spr. 31 wie se
hande vir niks verkeerd staan nie! Ek kyk vandag weer na my hande en
sê vir myself: “ ... doen wat jou hand vind om te doen, want God is
by jou.” (1 Sam 10:7) ~ Wilna Botha, 22/08/2023 |
|
Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart en met jou hele siel, en met jou hele
verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede,
wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”(Mat.
22:37-39)
Ons ken hierdie tweede deel van hierdie teks so goed! Die
skuldgevoel teks, die teks wat sê jy leef nie net vir jouself nie.
Die teks wat soms net te veel vir jou raak. Jy moet jou naaste
liefhê! Ja, dis presies wat die Here van jou en my verwag.
Maar die laaste paar woorde word net nooit beklemtoon nie. Jy moet
jouself liefhê! Kry jy dit reg? Sit jy dalk soms soveel klem op
ander dat jy jouself agterweë laat, en jouself afskeep? Dít is vir
seker nie wat hierdie teks beteken nie. Waar pas jy nog in jou eie
lewe in? Gaan alles in jou lewe net eenvoudig na ander toe omdat jy
dink dit behaag die Here nét as jy ander eerste stel? Daar is mos
plek vir jou ook, of hoe? Ek is seker dat jy ook dikwels deurloop
onder geestelike manipulasie en geestelike afpersing. Die bedelaar
op die hoek se bordjie wat sê: God bless you! Mense (ja selfs
familie) wat aanspraak maak op jou geld en besittings omdat jy nie
die Here se seën op jou lewe mag terughou vir jouself nie. Natuurlik
verwag die Here van jou om te deel, maar oppas vir mense wat jou
oorrompel met skuldgevoelens omdat hulle dalk nie hulle beste doen
om vir hulleself te sorg nie. Het jy gesien hoe maklik mense iets
uit ander kry deur "geestelik te bedel"? Ek het al vele kere gesien
dat mense op hierdie manier iets uit ander kry terwyl hulle dit kan
bekostig om dit self aan te skaf. Jy hoef net die regte woorde te
gebruik.
Jy ken sekerlik hierdie spreekwoord: "If you are a giver, know your
limits, because the askers don't know theirs".
Ek was ook al teleurgesteld as ek gegee het, net om te besef dat
daar nooit eers 'n nood was nie.
Nog 'n belangrike teks in hierdie verband, is: "Behandel ander mense
soos julle self behandel wil word." (Luk 6:31)
Wel, hoe wil jy behandel word? Soos jyself behandel wil word? Dan is
dit dalk tyd dat jy jouself ook goed sal behandel. Dalk moet jy
jouself ook so bietjie bederf soos wat jy ander bederf. Dalk moet jy
jouself eerste stel en goed wees vir jouself. Jy mag maar gerus
sonder skuldgevoelens dít geniet wat jy met harde arbeid
bymekaarmaak.
Hoeveel bid jy vir jouself? Hef jy darem jouself ook soms 'n bietjie
op? Gaan daar darem 'n bietjie van jou harde arbeid in jouself in?
Ons almal voel soms dat ons misbruik word omdat ons goeie Christene
probeer wees. Ja, self met gemeente aktiwiteite, want ook daar word
daar soms meer aanspraak op jou tyd, geld en gawes gemaak as wat
nodig is.
Ons móét bedienaars wees , dis ons Christelike plig, maar ons moet
onsself ook bedien, en nog meer, ander toelaat om ons ook te bedien,
veral op geestelike vlak. Miskien voel ons soms miserabel en
ongelukkig omdat ons die vermoë verloor het om lief te wees vir
onsself.
"En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste
liefhê soos jouself." ~ Willem Botha, 21/08/2023 |
|
Ek is baie lief om goeters
te bak. Brood, vetkoek, beskuit, sjokoladekoek ('n wenner), piesang
muffins, mielie muffins en vele ander lekker goed. Ek glo my resepte
is al so beproef dat dit net eenvoudig nooit flop nie. Behalwe die
dag toe ek my vlak bakpan in die oond sit met my ciabatta brood
daarop, net om later met 'n skok te besef dit was toe nie 'n bakpan
nie, maar 'n plastiek skinkbord. Wat 'n gemors! Daardie plastiek het
oor alles gesmelt en die oond amper verwoes! Maar glo dit of nie,
die brood was perfek!
Ongelukkig is daar nie resepte vir 'n volmaakte lewe nie, en die
Bybel gee ook nie vir elke omstandigheid 'n volmaakte resep nie. Al
sê die Woord pertinent dat jy jou nie hoef te bekommer nie, is ons
menslike wese maar net baie aards bedraad en ons menslike natuur kom
meng in en gooi die appelkar om. Die Bybel sê pertinent jy moenie
vrees nie, maar wie sal dit regkry om nie mal van vrees te word as
jy hoor jou kind is ontvoer nie. Daar is vele sulke dinge wat mens
kan opnoem. Maar daar is nog erger dinge waarteen ons moet waak. 'n
Man vertel dat hulle vir 'n vriend in hulle manne groep gebid het
vir sy stryd met diabetes en toe vol van geloof hom oortuig om sy
medikasie te los. Hy het amper by die dood omgedraai! Iemand het vir
twee jongmense oortuig dat die Here vir hom gesê het dat die twee
moet trou, hoewel hulle mekaar skaars geken het en nie eers in 'n
verhouding was nie. Die huwelik was 'n ramp.
So is daar baie situasies waar mens só graag 'n oplossing wil hê (gewoonlik
'n kits oplossing), en dan is ons teleurgesteld in die Here wanneer
dinge nie uitwerk nie. Ek het ook al hier genoem dat iemand beweer
het dat 'n kankerlyer nie genees word nie want almal bid die
verkeerde woorde.
Ons moet baie versigtig wees om nie ons geestelike lewe so te
vervlak nie.
Nou ja, dalk dink jy nou ek sê dat jou Bybel en gebed geen krag het
nie. Nee, dis hoegenaamd nie waar nie, want die Here se wonderwerke
het (so glo ek) al elkeen van ons verstom. Voorts glo ek dat jy ook
al nee vir 'n antwoord by die Here gekry het, net om later te besef
dat daardie nee 'n groot stuk seën was. Die Bybel gee die
wonderlikste riglyne wat ons kan volg, maar die krag daarvan lê in
wag en op die Here vertrou. Ek sien ongelukkig te veel dat daar nie
meer in nederigheid by die Here gepleit word vir uitkoms nie, maar
eerder vereis word dat die Here sy "beloftes" onmiddellik moet laat
realiseer. Hoe maklik is dit om die Here in die beskuldigingsbank te
plaas en dan antwoorde verwag wat by ons pas.
Ek hou so van hierdie volgende teks, wat op so 'n eenvoudige manier
vir ons sê om op te hou spartel en net alles oor te gee aan Hom.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle
rus gee." (Matt 11:28)
Beproef dit gerus as jy op hierdie oomblik moedeloos voel oor die
situasie waarin jy is en daar geen lig in die tonnel is nie. Sak
terug is sy arms, en geniet sy koestering. ~ Willem Botha,
17/08/2023 |
|
Ek is (ongelukkig) die afgelope paar maande
baie bewus van en behep met my hande. Ek het ’n operasie aan my
vinger gehad en na 6 weke en nóg 6 weke het die vinger nie
aangegroei nie. Toe weer ’n operasie en nou is die volgende 6 weke
amper verby. Vier maande met ’n spalkie aan my vinger. Vier maande
met pyn en ongemak en bekommernis dat my vinger nooit weer dieselfde
gaan wees nie. Vier maande wat sekere aktiwiteite ingeperk is. Die
ander hand is nie gevrywaar nie en is lelik en pynlik a.g.v.
artritis. So paar weke gelede het ons gemeente se
WhatsApp-dagstukkies gevra: kyk na jou hande. Ek dink toe by myself:
wat nou, ek kyk in elk geval die hele tyd na mý hande. Ek kan nie
anders nie, want hulle pyn en ek kry myself jammer, ek wil die hele
tyd kyk of daar nie al verbetering is nie, ek bid die hele tyd vir
hulle. En net daar besef ek dat “my probleem” en “my pyn” en “my
bekommernis” besig is om my selfsugtig te maak. Ek kyk toe verby al
daai dinge na my hande en sien hoeveel die Here in my hande gesit
het, hoeveel seëninge, hoeveel materiële middele, hoeveel vermoëns,
hoeveel moontlikhede. Ek kyk toe verby dit wat ek nié het nie nié
kan doen nie en probeer liewer kyk na wat ek wel het en wat ek wel
kan doen. (Hier moet ek in hakies sê: ek probeer! Ek kry dit nie die
hele tyd reg nie!) Dit is waar dat ons eie omstandighede ons fokus
kan wegrokkel van die Here af, dat ons soveel probeer oorleef in ons
eie daaglikse gespartel dat ons diensbaarheid kwyn, dat ons
dankbaarheid kwyn, dat ons lewenspassie en roeping kwyn. Die
dagstukkie het verder gevra: Kyk na jou hande en dink en bid: “Hoe
kan my hande vandag deur God gebruik word? Hoe kan my hande vandag
God dien? Hoe kan my hande vandag ’n verskil maak?” Die Here wil nie
net ons harte hê nie, Hy vra ook ons hande – net soos hulle is. ~
Wilna Botha, 15/08/2023 |
|
Hoe het die eerste mens, Adam, begin lewe?
Hierdie teks in Genesis 2 gee vir my so effe van 'n prentjie.
"Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en
lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword
het." (Gen. 2:7)
Hierdie teks verduidelik die gedagte van stof tot stof, en dan God
wat die lewensasem (gees) in die mens inblaas.
Maar hoe kom die mens tot sterwe? Wanneer verlaat die siel die
liggaam? Die oomblik as die brein sterf? Begin die "... tot stof"
onmiddellik in werking tree? Ek dink so.
Kyk hoe mooi verduidelik Prediker die laaste oomblikke van 'n mens
se lewe:
"Dit is soos ’n silwer tou wat afbreek by ’n put, soos die goue
skepemmer wat breek, soos die drinkbeker wat stukkend breek en soos
die wiel wat by die put inval. Dan word die mens weer stof soos
vroeër, en sy lewensasem gaan terug na God toe waar dit vandaan
gekom het."(Pred. 12:6-7 DB)
Daar sien jy weer van stof en lewensasem wat lewe laat begin, en dan
weer dieselfde proses waar die mens tot sterwe kom. Stof tot stof,
lewensasem wat gegee en teruggeneem word. Dis eintlik so wonderlik
om dit so raak te lees, mens wil eintlik sê dit gaan "full circle".
My buurman is twee weke gelede oorlede (hy was maar 40 jaar oud)
nadat iets gebeur het waarvoor daar steeds nie klinkklare antwoorde
is nie, en hoewel ons probeer het met noodhulp en hartmassering, is
hy letterlik onder my hande dood. En weereens het die vraag gekom:
wanneer verlaat die siel die liggaam? Waarheen? Hoe nou?
Met die roudiens het ek vir sy skoonpa gevra wat hulle binne hulle
kultuur glo oor die siel wat die liggaam verlaat, en dis eintlik in
breë trekke dieselfde as wat ons glo, hoewel ek nie heeltemal met
alles saamstem nie. Dit daar gelaat. Hulle is ook Christene.
Ek het onder andere vir hom gevra of hulle enigsins in hulle geloof
reïnkarnasie akkommodeer, en sy antwoord was onomwonde: "No, God
does not hand out secondhand souls."
Weereens het ek tot die besef gekom dat lewe en dood 'n gegewe is,
en absoluut natuurlik is.
Maar, natuurlik moet ons dan vir mekaar sê dat die Bybel ook
onomwonde beskryf dat jou siel óf in die hemel, vir ewig by God is,
óf in die verdoemenis sal eindig.
“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe." (Joh.
6:47)
Was my buurman gered? Ek weet nie, maar ek wil tog graag so glo. ~
Willem Botha, 14/08/2023 |
|
Steel; sonde gedoen..., moor; sonde gedoen...,
lieg; sonde gedoen..., vraatsug; sonde gedoen...begeer; sonde gedoen...,
wellus; sonde gedoen..., haat; sonde gedoen..., hoogmoed; sonde
gedoen..., versuim; sonde gedoen...dronkenskap; sonde gedoen...,
luiheid; sonde gedoen..., wraakgierigheid; sonde gedoen...,
liefdeloosheid; sonde gedoen..., trots; sonde gedoen..., skinder;
sonde gedoen..., gierigheid; sonde gedoen..., beloftes verbreek;
sonde gedoen..., vloek; sonde gedoen...Godslastering; sonde gedoen....
Sonde sonde sonde!
Goeiste, dit klink of dit al is wat ek die hele dag doen, en sommer
net in hierdie dag kan ek 'n klomp van hierdie goed aftiek op my
sonde boekie.
Die Here is baie duidelik daaroor dat Hy sonde haat en Hy verwag van
ons om dit te weerstaan.
Geen wonder dat ons as mense so moedeloos raak met onsself nie.
Geen wonder dat ons as mense dink God is 'n kwaai Wese wat ons die
heel dag wil straf nie.
Geen wonder ons as mense gee sommer op met hierdie geveg en gooi
sommer handdoek in nie.
Geen wonder ons as mense wil soms iets kom probeer offer voor sy
voete nie.
Geen wonder dat ons as mense glo dat ons dan sommer klaar verdoem is
nie.
Geen wonder dat ons as mense sukkel om te glo dat Hy wel alles kan
vergewe nie.
Geen wonder dat ons as mense nie kan dink dat Jesus se bloed genoeg
was, en dat Hy letterlik deur sy kruisdood ons kon red van die ewige
verdoemenis.
Geen wonder dat ons as mense dink dat genade net te goed is om waar
te wees nie.
Geen wonder dat ons as mense onsself vir so lank kan kasty oor
skuldgevoelens nie.
"All that passing laws against sin did was produce more lawbreakers.
But sin didn’t, and doesn’t, have a chance in competition with the
aggressive forgiveness we call grace. When it’s sin versus grace,
grace wins hands down. All sin can do is threaten us with death, and
that’s the end of it. Grace, because God is putting everything
together again through the Messiah, invites us into life—a life that
goes on and on and on, world without end." (Rom. 5:20-21)
"When it’s sin versus grace, grace wins hands down." Kragtige woorde
dié! ~ Willem Botha, 10/08/2023 |
|
“So sê die Here: Julle moet na My luister en my
wil doen wat Ek aan julle bekend gemaak het.” (Jer. 26:4) So sê die
Here, Here – luister! Ons wil almal graag die Here hoor praat. Ek
dink dis een van die goed waaroor baie Christene wonder – wat sê die
Here? Wat sê hy vir my persoonlik en wat sê hy oor sekere sake in my
lewe? Ek besef daar is só baie wat die Here reeds gesê het, so baie
wat reeds in die Bybel geopenbaar is, maar ons luister nie
noodwendig daarna nie. Hoekom wil ons die Here se stem hoor as ons
nie gaan dóén wat Hy sê nie? Dit laat my dink aan die staaltjie wat
vertel word van die dominee wat Sondag na Sondag dieselfde preek
gegee het. Na ’n paar keer het die kerkraad hom aangespreek en gesê
hy moet nou bietjie sy werk doen en ’n vars preek voorberei. Sy
antwoord was dat hy ’n nuwe preek sal lewer sodra die gemeente na
die eerste een luister en gehoorsaam is daaraan. Ek dink partykeer
die Here moet ook só voel. Ons wil hoor en heeltyd “nuwe” goed hoor,
maar dit wat Hy alreeds gesê het, het ons nog nie aan aandag gegee
nie. “Sal julle dan nooit leer om na my woord te luister nie? vra
die Here.” (Jer. 35:13) Jesus het ook meermale gesê: “As iemand ore
het en kan hoor, moet hy luister!” Hy het ook vir hulle gesê: “Gee
aandag aan wat julle hoor!” (Mark 4:23-24) want die een wat die Here
se woorde hoor en nié daarvolgens handel nie, kan vergelyk kan met
’n dwaas wat sy huis op sand gebou het en ons weet wat met daai huis
(en lewe) gebeur as die storms hom tref. Maar die een wat hoor en
daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n wyse man wat sy huis op
’n rots gebou het: “Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk en tog het dit
nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” (Matt. 7:25) So
sê die Here, Here ... kom ons gee aandag en luister en doen. ~ Wilna
Botha, 08/08/2023 |
|
Ek plaas
hierdie stukkie weer wat ek 'n paar jaar gelede gebruik het. Die
gedagte vir dié boodskap is na aanleiding van 'n artikel wat ek
vanoggend gelees het, wat handel oor huishulpe wat die enigste
broodwinners is, want die pa loop net weg van sy verpligtinge af. Ek
was geskok oor die statistieke, maar ek sien dat daar soveel pa's is
wat steeds in die huis by sy gesin is, maar ook totaal afwesig is.
Pa
Is dit nie skokkend hoeveel enkelouers daar is nie, oftewel hoeveel
kinders net deur een ouer grootgemaak word nie, gewoonlik 'n ma, en
baie dikwels (natuurlik nie altyd nie) die pa wat totaal afwesig
raak. Goeiste, kan ons ons jeug kwalik neem vir al die slegte dinge
wat gebeur? Toe ons eie kinders in die laerskool was het hulle al
vertel dat daar hordes kinders is wat net deur een ouer grootgemaak
word. Sonder om hoegenaamd te veroordeel wil ek sê die wêreld het
siek geword, terminaal siek! Hoekom op aarde trou mense nog met 'n
huweliksbelofte voor God? Wie trou nog binne gemeenskap van goedere?
Want die redenasie is eenvoudig, mense trou met die agterdeur oop,
en begin met 'n gesin binne daardie raamwerk. Ek het baie begrip dat
daar egskeidings plaasvind en wil geensins iemand probeer slegmaak
wat daardeur gaan nie, maar ek pleit dat ouers nie hulle kinders
vernietig nie. Die vet weet, dis 'n slagveld daarbuite!
Kan 'n pa nie maar ten minste 'n goeie pa wees as daar wel skeiding
plaasgevind het nie? Kan bloed nie maar dikker as water wees nie?
Kan die woorde "Ek is lief vir jou" nie maar bedoel word nie?
Ek is seker jy ken hierdie stukkie, maar ek deel dit graag weer.
1 Kor 13 vir
pa's:
Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry,
maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid
nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente
kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die
liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al
besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al
die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het
nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs
die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het
ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek
in elke liefdadigheids raad op my dorp dien en vakansies my
gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek
is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die
veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel
nie,
Hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders
nie,
Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
Is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek
nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper
hulle nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot
hulle eie nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
In hulle glo,
Die beste vir hulle hoop,
En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n
kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou
skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd
nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en
besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en
my geleerdheid,
Maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
Maar eendag as hulle groot is,
Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
En wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde! ~ Willem
Botha, 07/08/2023 |
|
"Almal sal
bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.
Dit is net die Here wat mense red." (Ps. 22:32 DB)
Mense sal vir hulle kinders vertel hoe goed die Here is. Mense wat
wonderwerke ervaar en dikwels dinge nie kan verklaar nie, weet dat
dit uit die hand van die Here kom. Mense wat in nood is, roep
gewoonlik uit na die Here toe. As mense glad nie meer weet watter
kant toe nie, gaan soek hulle gewoonlik die Here se aangesig. Jy sal
derduisende getuienisse hoor van mense wat sê dat die Here hulle
opgelig het toe hulle in die diepste duisternis vasgevang was.
Wanneer mense wonderbaarlik genees word na erge siekte, sal jy hoor
dat hulle deur die bank die Here prys.
Die Here se lof word elke dag besing, reg oor die wêreld, in bykans
elke uithoek van die aarde. Mense beleef in baie opsigte dieselfde
tipe dinge as die Here oor hulle pad kom en met hulle begin werk. Ek
het voorts nog bitter selde (indien ooit) gesien dat hulle die Here
opsy skuif as hulle gebede nie dadelik verhoor word, of presies
verhoor word soos wat hulle vra nie.
Biljoene mense in die wêreld glo steeds dat God die hoogste gesag
is, en dat sy Woord die enigste ware woord is.
As jy met hierdie dinge kan assosieer, bevind jy jouself in goeie
geselskap. Moenie dat mense jou vertel dat Christene al hoe minder
word en wegdraai van die Here af nie, want dis nie waar nie.
Ek kry hierdie op die internet:
"According to Guinness World Records as of 1995, the Bible is the
best-selling book of all time with an estimated 5 billion copies
sold and distributed."
Die Here leef, die Here is die OPPERGESAG van hierdie wêreld, en
Jesus is steeds die mees invloedryke Wese wat ooit geleef het. Hou
vas aan wat jy glo, jy is op die regte pad. ~ Willem Botha,
31/07/2023 |
|
“So sê die Here, Here” - ek is nou al ’n rukkie
besig met dié tema en dis so lekker bemoedigend en vertroostend en
inspirerend om al die verse in die Bybel te lees en oordink waar die
Here sê: Ek is by jou, Ek is hartstogtelik begaan oor jou, Ek sal
jou gebede verhoor, Ek slaan ag op die mens in nood, vir al jou
swaarkry sal jy vergoed word, moenie bang wees nie, skep moed, niks
is vir My onmoontlik nie ... Die Here sê egter óók goed wat dalk nie
altyd so sag en lekker is om te hoor nie, goed wat ons oproep om ons
lewe reg te maak, om selfondersoek in te stel, om berou te betoon,
om keuses te maak al is dit nie gewilde, maklike keuses nie, om
gehoorsaam te wees, om in beweging te kom en uit te reik na ons
medemens. Kyk bv., Jer. 7:3 “So sê die Here die Almagtige, die God
van Israel: Maak julle lewe en dade reg” en Jer. 22:3 “Handhaaf die
reg en wees regverdig” en Jes. 56:1 “Laat reg geskied, doen reg” en
Sag 1:3 “Bekeer julle tot My” en Jer. 22:29 “Land, land, land,
luister na die Woord van die Here.” Vandag wil ek myself net daaraan
herinner om nié net my gunsteling, goed-voel, paai-verse in die
Bybel uit te soek en die reguit, moeilike verse wat my aanspreek en
oproep tot verandering en aksie verby te blaai nie. Die Woord is ’n
lamp en ’n lig, soeter as heuning, waardevol soos goud, ’n groot
skat, maar dis óók ’n skerp swaard met twee snykante: “Want die
woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende
swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees,
tussen gewrig en murg en beoordeel die hart se voornemens en
gedagtes.” (Heb. 4:12, AFR20) ~ Wilna Botha, 27/07/2023 |
|
119 Biljoen mense. Sjoe dis baie. Volgens
Google is dit min of meer hoeveel mense reeds op hierdie aarde
geleef het, en dié wat op die oomblik leef, is daarby ingesluit. 119
Biljoen, sjoe! Dis 119 000 000 000 as ek reg is.
As jy 80 jaar geleef het was dit 2 524 608 000 sekondes.
Nou ja, die akkuraatheid hiervan is vir my totaal irrelevant want
mense verskil oor die ouderdom van die aarde en van die "intelligente"
mensdom, maar ek argumenteer nie daaroor nie. Ter wille van hierdie
boodskap volstaan ek by hierdie syfer. Wie gee om of dit 50 Biljoen
meer of minder is?
Die punt is, elke enkele een van hierdie mense was en is verskillend!
Dit sluit jou vingerafdrukke en jou DNA in, wat uniek is aan elkeen.
Nommer hoeveel is ek? Wie sal weet? Wie gee om? Wel, Iemand weet, Hy
weet presies, en Hy het elkeen geken en aan elke liggaam 'n siel
toegeken. 119 Biljoen! Dis te groot vir my!
Elkeen van daardie mense bestaan 99% uit: Koolstof, Suurstof,
Stikstof, Waterstof, Kalsium en Fosfor. Dieselfde elemente, tog is
álmal verskillend. Voorts bestaan jy uit atome wat al in biljoene
mense voor jou "gebruik" is en later nog gebruik sal word. Stof tot
Stof, so sê die Woord.
Maar as almal so verskillend, maar tog dieselfde is, wonder ek: Wie
is ek? Wie is jy? Hoe het God met die vroeë geslagte omgegaan wat
nie kon lees of skryf nie, en wat nie 'n Bybel gehad het nie? Adam
en Eva kon nie, maar tog het God kom wandel in die tuin en met hulle
gepraat. 'n Vreemde gedagte het by my opgekom. God praat tog met my
in Afrikaans (dink ek), maar Hy praat met elke ander mens in sy
unieke taal. Het jy geweet God kan Hurrian, Palaic, Akkadian,
Sanskrit, Farsi en Tamil praat? Sien jy hoe onmoontlik dit is om te
weet hoe Hy met verskillende mense werk? En gewerk het? Wie is ons?
Ons is so uniek dat ons kan praat, redeneer, glo en liefhê op 'n
besondere manier. Aangesien ek nie glo aan evolusie oor spesie
grense heen nie, kan ek net aanvaar dat die mens in sy huidige "vorm"
moes bestaan het van die "begin" af. Ek weet nie hoe nie en ek
verstaan dit nie, dis te groot vir my. Maar tog is elke enkele een
van hierdie 119 Biljoen na Sy beeld geskep, en Hy besoek elke enkele
een op 'n unieke en verskillende manier.
Voorts gee Hy vir ons die onbeskryflike vermoë om te glo in Hom, en
Hy openbaar Homself op 'n manier aan elkeen. Maar waarin lê geloof?
Of ons bewussyn? Waarin lê liefde? Tog nie in hierdie ses elemente
wat genoem is nie. Lê dit in ons gees, of ons siel? Waarvan is dít
gemaak? Dis tog onsterflik, want dis juis dít wat oorbly nadat ons
sterf? Hoeveel siele is dan nog in God se stoor? Seker nogal 'n
vreemde vraag. Dis te groot vir my.
Dink jy God werk dieselfde met 119 Biljoen mense? Ek kan dit nie glo
nie. Ek werk nie eers dieselfde met my twee kinders nie.
Maar die volgende is/was waar vir al die 119 Biljoen mense.
"Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder
het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U
doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is
nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is
soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U
vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword
het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U
het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat
U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te
verstaan."(Ps. 139:13-17 DB)
Terloops, daar is ongeveer 200 biljoen triljoen sterre in die heelal,
en volgens die Bybel het Hy vir elkeen 'n naam gegee. Die Here is
groot, onbeskryflik groot. En Hy is lief vir jou! En Hy ken jou naam
en skryf dit in sy handpalm.
Ek is nou skoon moeg gedink. ~ Willem Botha, 26/07/2023 |
|
Ons het die naweek die musiekblyspel genaamd
Joseph and his amazing technicolour dream coat gesien, en dit was
ongelooflik goed. Dit was goed om weer herinner te word aan die
geskiedenis van die Israeliete se aankoms in Egipte tydens 'n groot
hongersnood. Hulle het eventueel slawe geword van die Farao omdat
hulle 'n bedreiging vir die Egiptenare geraak het, en uiteindelik
het hulle weer terug getrek Kanaan toe, waarvandaan hulle baie jare
tevore gekom het. Hulle was 430 jaar in 'n vreemde land.
Ongelukkig is daar vele mense in Suid-Afrika wat voel dat ons
onsself in dieselfde situasie bevind as die Israeliete, en dat ons
moet teruggaan na ons "eie" land toe.
Ek het egter net weer besef dat ons nie in slawerny leef nie, ons is
nie op enige manier onder dwangarbeid nie, ons lewe in vryheid (al
voel dit soms asof die heersers dit probeer wegneem), ons is vir
seker nie in die woestyn nie, en ons land is steeds 'n land van melk
en heuning. Ja natuurlik kry baie mense swaar, maar hier is steeds
wonderlike geleenthede en voorspoed. Ons leef nie van kwartels en
manna nie, maar steeds gee die Here vir ons die spreekwoordelike
vuurkolom en wolkkolom om ons te beskerm.
Natuurlik is die Here hier, net soos in enige plek op aarde, en ons
hoef nie hiervandaan weg te gaan om Hom te gaan soek nie. En voorts
is Sy liefde presies dieselfde vir elke mens in ons land, hoewel
vele mense steeds voel dat ons die "uitverkore volk" is. Nee,
niemand is verhewe bo iemand anders nie.
Ek wil graag die volgende vra:
Is jy bereid om te ploeg en te plant met die hoop dat daar 'n goeie
opbrengs sal wees? Is jy bereid om 'n boom te plant met die
vooruitsig om eendag in sy skadu te sit? Is jy bereid om moue op te
rol en te werk aan 'n goeie toekoms vir ons almal? Kan jy nog 'n
groot klip op die grond neersit en daar skryf: Tot hier het die Here
ons gehelp?
Hierdie volgende teks is vir my baie kosbaar.
"Die Here sal geskille tussen lande en volke oplos. Die gevolg
hiervan sal wees dat hulle hulle swaarde sal smelt en eerder
ploegskare daarvan sal maak. Van hulle spiese sal hulle snoeiskêre
maak. Daar sal ’n einde kom aan oorlog en niemand sal meer opgelei
word om te gaan veg nie. Kom, afstammelinge van Jakob, kom ons leef
soos die Here van ons verwag om te leef."(Jes. 2:4-5 DB)
Nou ja, swaard of ploegskaar, spies of snoeiskêr, dis jou en my
keuse. Veg of werk is vir my 'n eenvoudige besluit. Lees weer
daardie laaste paar woorde van die teksgedeelte: Kom ons leef soos
die Here van ons verwag om te leef... ~ Willem Botha, 24/07/2023 |
|
So sê die
Here, Here: “Ek is hartstogtelik begaan oor Sion ...” (Sag. 8:2) As
die Here sê hy is begaan oor ’n plek, ’n stad, ’n land, dan is Hy
begaan oor die mense van die plek. Ek het gou-gou in die HAT gekyk
wat beteken “begaan”: met medelye en kommer vervul, besorg wees.
Lees dit weer: medelye, kommer, besorg. “Hartstogtelik” beteken: met
vurige liefde, sterk gevoel, passievol. Die Here is hartstogtelik
begaan oor sy mense, oor sy kinders, Hy is hartstogtelik begaan oor
my en jou. Ons lê naby aan sy hart, ons is die appel van sy oog, die
kroon van sy skepping. Hy is passievol oor ons. Hy gee om wat van
ons word, Hy dra ons belange op sy hart, Hy is bekommerd oor ons wel
en wee. Hy het ons lief en niks kan ons van sy liefde skei nie. Hy
het ons só lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het, sy lewe, sy bloed.
Toe ek vandag dié paar woorde van die teksvers lees, het dit my só
geliefd en veilig en spesiaal laat voel. Hy is naby, Hy weet, Hy
verstaan. Hy dra, Hy troos, Hy genees. Hy versorg, Hy voorsien, Hy
beskerm. Hy vergewe, Hy spreek vry, Hy gee vrede. Vandag sê die
Here, Here vir jou: Ek is hartstogtelik begaan oor jou land, oor jou
stad, oor jou huis en Ek is hartstogtelik begaan oor jóú. Ek hoop jy
sal dit glo! ~ Wilna Botha, 20/07/2023 |
|
Rasputin vs
Jesus
Tussen 1869 to 1916 leef Grigory Rasputin in Rusland. Rasputin was
eerder berug as beroemd, en het die vermoë gehad om almal op hol te
jaag. Rasputin was nie noodwendig bekend as ‘n misdadiger nie, maar
eerder iemand wat vol streke was, wie jy nooit kon vertrou nie, en
hy het die eienaardigste goed aangevang. Hy het selfs 'n verhouding
met die koningin gehad, en later het die mense hom vermoor. Rasputin
was ‘n gure karakter! Hy was veelbesproke, en Boney M het ‘n treffer
gehad het met die liedjie “Rasputin”.
Die woord "karakter" word op twee maniere gebruik: In ou Rasputin se
geval sê ons die ou is 'n gure karakter, maar iemand met 'n goeie
reputasie staan bekend as 'n persoon van karakter.
Soos Jesus natuurlik, want Jesus se karakter was onbesproke, Hy het
niemand benadeel nie, het vir ander geleef, en uiteindelik ook vir
ander gesterf, en Hy het presies gedoen wat Hy gesê het.
Hy het gesê Hy gaan gekruisig word, en dit het gebeur, Hy het gesê
Hy gaan opstaan uit die dood en Hy het, hy het gesê dat Hy gaan
opvaar na die Hemel om vir ons plek te berei en Hy het. Hy sê ook
dat Hy ons sondes vergewe en dat ons gered is as ons Hom aanneem en
ek glo Hom. Hy het ook gesê Hy gaan weer kom en ek glo Hy gaan, want
dit is Sy karakter. ~ Willem Botha, 19/07/2023 |
|
So sê die Here, Here: “Ek gaan in Sion ’n klip
neersit, ’n uitgesoekte klip, ’n hoekklip wat fondament aan
fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.” (Jes.
28:16) O, ons weet wie en wat daai klip is, daai rots, daai
fondament, daai hoeksteen van graniet, daai beproefde, onwankelbare
steen! Dis Jesus. Wie op Hom vertrou, wie by Hom skuiling vind, wie
op Hom as hoeksteen bou, hoef nie te vlug nie, hoef nie bang te wees
nie, hoef nie terug te deins nie. “Kom na Hom toe, die lewende steen,
wat deur mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies
is ... wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie” (1 Pet. 2:4, 6)
Dis ’n uitnodiging vir elkeen van ons! Wie op Hom vertrou, hoef nie
te vlug van probleme nie, want Hy is hulle Helper. Wie op Hom
vertrou, hoef nie te vlug van hulle verlede nie, want Hy het die
foute vergewe. Wie op Hom vertrou, hoef nie te vlug van hulle vrese
nie, want Hy is die Redder. Wie op Hom vertrou, hoef nie te vlug van
hulle toekoms nie, want Hy is in beheer, Hy sê Hy beplan vir ons ’n
toekoms waarin ons voorspoed en vrede kan verwag. Wie op Hom vertrou,
hoef nie te vlug van hulle moedeloosheid nie, want Hy sê: Kom na My
toe, almal wat moeg en oorlaai is en ek sal vir julle rus gee. Die
enigste plek waarheen ons kan vlug, is na ons Rots, Jesus, die
uitgesoekte klip, toe. “Wees vir my ’n rots en ’n toevlug, ’n plek
waarheen ek altyd kan vlug. U het reeds my redding bepaal, want U is
my rots en my vesting.” (Ps. 71:3, NLV) ~ Wilna Botha, 18/07/2023 |
|
Dis net mense wat niks in die lewe doen nie,
wat nie foute maak nie. Ek is doodseker dat jy jouself kasty oor
foute wat jy in die lewe gemaak het. Die kanse is baie goed dat elke
mens loop met skuldgevoelens oor dinge van die verlede, en hoe ouer
jy word, hoe meer spook daardie dinge by jou. Die meeste ouers
blameer hulleself vir foute wat hulle kinders maak en dikwels sal
sulke kinders hulle eie tekortkominge probeer goedpraat deur hulle
ouers te blameer. Dit vernietig mense en dis tog in 'n mate te
verstane dat dit gebeur. Jy weet mos, elke familie het "hulle boetie
of sussie" wat die pad byster raak, en dan kasty die ouers hulleself
tot in die graf in.
Dalk is dit ook die rede hoekom ons onsself so kan kasty as ons voel
dat ons die Here diep bedroef met foute wat ons in die verlede
gemaak het, of selfs steeds daagliks maak. Jy sien, die teks wat sê
"Wees heilig want Ek is heilig", is een van daardie bykans
onmoontlike tekste om na te volg. Dink so bietjie terug in jou lewe
en kyk of jy nie ook sulke insidente kan onthou wat jy voel jou
sonde was 'n onvergeetlike sonde nie. Of dat jy 'n fout in die lewe
gemaak het, waarvoor jy jouself nie kan vergewe nie. Ek glo jy gaan
so iets onthou. Dis uiters ongemaklik as daardie goed by mens kom
spook.
Wel, miskien is jou geheue goed genoeg om dit te onthou, maar as die
Here sê Hy het jou vergewe, het Hy dit seer sekerlik vergeet. As
daardie spook- gedagtes by jou opkom, kom dit vir seker nie van die
Here af nie, maar dis nét van die duiwel af, want al houvas wat hy
op jou kan hê, is oor dinge in jou verlede. Jy ken seker die sêding:
As die duiwel jou kom herinner aan jou verlede, herinner hom aan sy
toekoms. Hy het immers die hel gekies en dis waar hy gaan bly. Vir
altyd.
Maar ek en jy het te doen met 'n liefdevolle God wat ons telkens
gerus stel dat Hy jou sondes nooit weer teen jou gaan hou nie.
“Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê
die Here. Ek sal hulle my wette in die hart gee, in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.” Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle
oortredings sal Ek nooit meer dink nie.” Waar die sondes vergewe is,
is geen offer daarvoor meer nodig nie."(Heb. 10:16-18)
Kan jy sien hoe onnodig selfkastyding is? Elke keer wat jy toelaat
dat hierdie ou koeie van die verlede by jou spook, wil jy opnuut op
een of ander manier 'n offer bring om Hom gelukkig te maak. Die heel
beste manier om die Here gelukkig te maak, is om onvoorwaardelik sy
vergifnis te aanvaar. Stap weg van daardie gedagtes af, vir ewig.
En net so met aardse dinge waarmee jy so stoei, is dit tyd om weg te
stap van dit af. As jy vir iemand vergifnis gevra het vir 'n fout
wat jy gemaak het, en hulle aanvaar dit nié, het dit niks meer met
jou te doen nie. Dis nie meer jou probleem nie. En as jy steeds voel
om jammer te sê vir iemand wat reeds oorlede is, doen dit dan in jou
gedagtes en beweeg aan. Die lewe is te kort om toe te laat dat die
verlede so 'n houvas op jou toekoms het. Kom vry, en leef in daardie
vryheid. En ja, die Here weet lankal nie meer van die droogmaak in
jou verlede nie. ~ Willem Botha, 18/07/2023 |
|
Op grond van
Bokkie Carstens se reaksie op my boodskap vroeër die week (op
Facebook) oor
vreemde dinge wat begin posvat in ons hedendaagse "godsdienstige"
lewe, plaas ek weer 'n boodskap van 'n klompie jare gelede. Bokkie
se gedagte is dat ons so wegbeweeg van die "tradisionele" beoefening
van ons geloofslewe, dat die jonger geslagte al hoe meer van die
Here en die kerk af begin weg beweeg.
Ons is grootgemaak met die "spaar nie die roede nie" manier van doen,
en by die skool het ek ook gereeld vir daardie aaklige lat gebuk.
Sommer baie dikwels. En ek was nog een van die soet manne gewees,
maar dissipline is mooi aangehelp met 'n kweperlat, of sommer met
die bordpasser (genade daai ding kon jou "mind change" soos niks
anders nie). Ten spyte van wat baie mense vandag daarvan dink, was
daar orde in die skole, baie meer as vandag. Toe word dit onwettig.
En in my ouerhuis het daardie leerplak gesorg dat my ouers net een
keer gepraat het. Vandag is dit kwansuis onwettig. En kyk hoe verval
'n samelewing waar sogenaamde menseregte maak dat mense nie meer tot
verantwoording geroep word nie.
Nou ja, dit was by die skool.
By die kerk was ek ONGELOOFLIK bang vir die dominee, en ek glo die
duiwel was nog banger vir hom! Maar daar was dissipline, en al het
ek vele keer gevoel ek moes gedwonge kerk en Sondagskool bywoon, was
dit die beste ding wat my ouers kon doen. As jy in vele van die
Ou-Testamentiese boeke lees, sal jy sien dat daar bykans ondraaglike
wette en reëls was, en dit was moeilik om na te kom. Maar dalk het
die Here geweet dat die mens se lewe baie vinnig in chaos verval as
daar nie reëls neergelê word nie. Ek was bitter jonk toe ek die
eerste keer 'n diaken geword het en om te gaan "kollekteer" was nie
altyd lekker nie. Een ou se Rottweiler het my teen 'n muur vasgedruk
en ek het geglo dis nou alles verby, en ou oom Stoffel het my
weggejaag omdat ek oor iets van hom verskil het. Maar in die Bybel
lees ons dat ons huisbesoeke 'n Bybelse konsep is. Dit was nie altyd
lekker nie, maar dit was goed. My punt is, as jy die mens aan sy eie
heil oorlaat en hom nie lei nie, verval hy vinnig. Ek het niks
anders as die tradisionele kerkopset geken nie, maar vir my was dit
goed. En ek verlang soms na die orrel! Iemand het eendag gesê die
kerk hou hom uit die kerk uit, maar nee, ek dink dis net 'n
verskoning om onbetrokke te wees. Gelukkig is daar vir almal 'n
heenkome waar hulle aanklank kan vind, en almal hoef nie op
dieselfde manier hulle geestelike lewe uit te leef nie.
Hier volg die boodskap van 'n paar jaar gelede:
Solank as wat ek kan onthou was ons gesin kjêrkmense en was
Christenskap deel van ons lewe. Ek het nie 'n spesifieke
bekeringsdatum nie en is as kind gedoop, en nie weer nie. Ek het al
baie gewonder hoekom ek aan die Here bly vashou, want ek weet nie of
ek ryker is, gesonder is, vrygestel van trauma is, slimmer kinders
het, of enige spesifieke voordeel het deur 'n Christen te wees nie.
En voorts is ek ook nie immuun teen sondes of droogmaak nie.
Die mense wat glad nie in God glo nie vra ons maklik vas oor ons
geloof en redeneer ons maklik uit die gesprek uit, want min van ons
kan regtig verduidelik wat die "voordeel" is. Wel, die vraag is
natuurlik of daar wel 'n voordeel is, of moet wees. Hoe sal jy dit
verduidelik?
"Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n
verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe." (1 Pet 3 : 15b)
Die hoop wat in my lewe is nie vir aardse dinge nie, dis gerig op
die ewigheid. Maar intussen, ten spyte van slegte dinge, weet ek
verseker, God is aan my kant. Nie ten koste van ander nie, nie tot
aardse voordeel van myself nie, maar ek weet God is aan my kant.
Daarom kan ek in Sy arms in vlug in moeilike tye en Hy sal saam met
my wees in goeie en slegte tye. Hy is die beste raadgewer, vriend en
mentor. Waar Jesus loop kan ek ook maar loop.
En dan is daar hierdie teks wat alles verduidelik wat ek behoort te
weet :
"As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense." (1Kor. 15:19) ~ Willem Botha,
13/07/2023 |
|
So sê
die Here, Here: “My woord is soos vuur, soos ’n hamer waarmee klippe
stukkend gebreek word.” (Jer. 23:29) My woord – dis wat die Here vir
die profete gesê het en wat hulle vir God se volk moes oordra met
die woorde: so sê die Here, Here. My woord – dis wat ons vandag in
die bladsye van ons Bybels lees, woorde op skrif, deur God
geïnspireer: so sê die Here, Here. My woord – dis wat ’n verskil in
mense se lewens en optrede maak, wat hulle roeping en rigting
beïnvloed. My woord – dis soos ’n hamer wat die hardste hart kan
verander, wat ’n rots in stukke kan laat breek. My woord – dis soos
’n vuur wat brand in mense se harte, wat lig gee in donker. My woord
– dis soos ’n veldbrand wat versprei en nie gekeer kan word nie. My
woord – dit kan nie geboei word nie (2 Tim 2:9). My woord – sal nie
onverrigter sake terugkeer nie. (Jes. 55:11) So sê die Here, Here.
Daar is mos dié storie wat vir die waarheid vertel word van die
gevangene wat ’n Bybel in die hande gekry het en die blaaie gebruik
het om sy rookgoedjies in op te rol. Hy het later vir die pastoor
bely: ek het die Bybel gerook, maar toe ek by Johannes kom, toe rook
die Bybel my! Niemand sal kan keer dat die Bybel se inhoud mense
verander nie, niemand sal kan verhinder dat dit verkondig word nie,
niemand sal kan verhoed dat daar nog en nog kopieë gedruk word en
dat dit in al hoe meer tale vertaal word nie. Die woord staan vir
altyd vas, dit sal nie vernietig kan word of ooit ongeldig verklaar
kan word nie, want dis soos ’n vuur, soos ’n hamer waarmee klippe
stukkend gebreek word. ~ Wilna Botha, 11/07/2023 |
|
Dwase se woorde...
"Can I get an amen?"
"Kom ons kyk hoeveel mense sal hierdie boodskap deel, voordat
Facebook dit verwyder."
"The most powerful prayer ever, don't break the chain."
"Click share and God will bless you within the next 24 hours."
"Hierdie en hierdie is nou wáárlik die merk van die dier."
Dis verstommend waaraan Christene so maklik deelneem, dinge wat
regtig net geen Geestelike waarde het nie. Dit verstom my wat mense
deesdae glo en deel op sosiale media, wat net eenvoudig totaal
betekenisloos is. Hoeveel goed lees jy wat sê dat jy voorspoed en
seën sal ontvang as jy die goed "like" en "share" en "amen". Dit
gaan my verstand te bowe. Ons sien bykans daagliks sulke dinge
waarop mense reageer, maar ek het nog nie een enkele keer die
getuienis gelees dat mense toe wel hierdie reuse wonderwerk beleef
het nie.
" 'n Doring in 'n dronk man se hand, so is 'n spreuk in die mond van
'n dwaas." (Spr. 26:9)
Kom ek deel net weer die woorde. " 'n Doring in 'n dronk man se
hand, so is 'n spreuk in die mond van 'n dwaas."
Ons lees in Spreuke dat Salomo pertinent noem dat die spreuke wat
opgeteken is, is woorde van wysheid wat vir ander betekenis moet hê
, maar daar is vandag soveel van hierdie "dorings" waarvan Salomo
praat, en mense besef dit nie.
Mense word so meegesleur deur hierdie selfaangestelde "profete" se
woorde wat na bewering die Woord van die Here verkondig, maar dit
moet baie goed oordink en ondersoek word. Dit gaan ook sonder
uitsondering gepaard met materiële voorspoed vir die persoon wat
hieraan deelneem. Voordat jy blindelings glo wat mense sê, vra eers
die vraag: Sê wie? Miskien kan ons ook 'n spreuk met 'n aanhaling
vergelyk, en daarvan kom daar daagliks vreeslik baie op sosiale
media voor saam met een of ander prentjie, en dan loop dit soos 'n
veldbrand, want dit klink so mooi, maar dit beteken gewoonlik nie
veel nie. Kyk net hoe wyd word dinge versprei as so 'n aanhaling by
die foto van 'n bekende persoon geplaas word, so asof hulle die
wysheid van Salomo het, maar hulle het dit nooit gesê nie.
Nee, daar is 'n beter manier, deel eerder iets wat die Here direk
vir jou gesê het uit die Bybel, of onder gebed, of op 'n tyd toe jy
stilgeraak het, dit het báie waarde want dis 'n eerstehandse
getuienis. Dis 'n waardevolle "spreuk".
Sosiale media is besig om van ons "puppets" te maak wat net agter
ander kan saam piep en ons verloor eintlik 'n stukkie van ons eie
kosbare getuienis. Ek is ten gunste van goeie mentors na wie ek
nogal graag luister en wie se menings my Geestelik vorm. Hulle "spreuke"
beteken baie, maar daardie "doring in 'n dronk man se hand" kan
nogal gevaarlik wees. ~ Willem Botha, 10/07/2023 |
|
'n Goeie vriend het eendag gesê dat jy tyd
gelyk kan stel aan lewe. Dus, lewe = tyd. Jy lewe 29200 dae as jy 80
word, en hopelik laat jy elke oomblik nuttig tel. En nee, rus is vir
seker nie tydmors nie, en net so mag niemand op jou tyd aanspraak
maak sonder dat jy daarvoor toestemming gee nie. As jou werkgewer
jou betaal behoort jou tyd vir daardie ure aan hom, maar hy kan nie
aanspraak maak op tyd waarvoor hy jou nie vergoed nie. Maar
ongelukkig werk dit so dat jou werkgewer soms jou familie se tyd
steel, sonder hulle toestemming. Dis diefstal! Jy ken seker die
storietjie van die kind wat vir sy ma vra wat sy per uur verdien,
want hy wil in sy spaarblikkie kyk of hy nie dalk so bietjie van
haar tyd kan koop nie, want sy werk net die hele tyd. En as jy 'n
afspraak het met mense wat jou laat wag (jy kry mos die alewige
laatkommers), het hulle eintlik 'n stukkie van jou lewe gesteel.
Soos al genoem was my pa 'n treindrywer en dáár kon 'n paar minute
se laat kom jou jou werk kos. Tyd was heilig vir hom! Ek is ook so
bietjie so. En hier is sommer so stukkie wysheid vir mense (nee ek
sal mos NOOIT sê dames nie) wat maak dat manlief ongeduldig toet in
die motor as hulle 'n afspraak het: Die laaste 20 minute voor julle
moet vertrek bestaan nie! Jy kan dus nie daarop staatmaak nie.
En nou sê ons graag ons moet wag op die Here.
" Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die
vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op
die môre wag, wagte op die môre." (Ps. 130:5-6)
Wag op die Here? Kry jy dit reg? Het jy daardie geduld? Ek sukkel
daarmee.
Gestel jy kry jou vriend waar hy op 'n bankie in die parkie sit en
jy vra wat doen hy daar, en hy sê: Ek wag op die Here. Sal vreemd
klink né. Jy sien, ons is te besig met hordes dinge om te wag op die
Here, want sy reaksie moet inpas in jou besige skedule.
Daar word gepraat van Chronos tyd (horlosie tyd) en Kairos tyd (word
ook genoem die Here se tyd).
Ons wil graag hê die Here moet op horlosie tyd op ons behoeftes
reageer, terwyl Hy dit in Chronos tyd doen, want dit word ook
beskryf as 'n belangrike oomblik, iets spesiaals, omtrent iets soos
'n heilige reaksie. Dink aan Moses se gesprek met die Here in die
Braambos.
Sarah het 25 jaar gewag voordat God sy belofte tot vervulling
gebring het en sy het eers op 90 swanger geraak. Dít, my vriend, is
wat wag beteken. Wag vir daardie Kairos oomblik. Ons hou mos nie
daarvan nie of hoe? Na so dag of twee laat vaar jy maar die gebed en
sê graag dat God nie jou gebede verhoor op jou Chronos tyd nie.
Ja nee, mens sal mos maklik sê die lewe is te vinnig om vir die Here
te wag.
Hoe lank wag jy al? Is jou geduld al op? Voel dit of jou gebede teen
die plafon gaan nes skrop het? Of dat God jou vergeet het? Nee
vriend, die Here se tyd is beter as ons tyd.
"So sê die Here: Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede
verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help."(Jes.
49:8a) ~ Willem Botha, 04/07/2023 |
|
Here, dis ondraaglik warm! Here, ek kan nie
meer nie, ek kan nie nog een minuut uithou met hierdie ondraaglike
pyn nie! Here, Here, stuur iemand met 'n druppel water vir my tong!
Ek kan nie Here. Een druppel water, net een druppel! Here dit maak
nie sin nie, almal sê dan U is 'n God van liefde, kon U regtig
toekyk hoe ek hier beland? Here Here, ek weet ek is oor hierdie plek
gewaarsku, Here ek weet U het gesê: "Nie almal wat vir My sê Here
Here nie...". Waar het ek U verloor? Here net Één druppel...!
Hoe kon ek myself so laat mislei deur die een wat gelyk het soos die
engel van die lig? Hoe moes ek weet dat hy elkeen wat hy vir hierdie
vlamme hel werf haat, met die mees intense haat denkbaar? Dit het so
goed gelyk. Die slang, die slang wat alreeds verantwoordelikheid was
vir die sondeval. En nou Here is ek hier. Die owerste van hierdie
plek verwoes my Here! Hoe lank Here? Wanneer kom daar genade? Vir
altyd? Here hoe bedoel U vir altyd? Altyd? Vir ewig? Gaan hierdie
foltering regtig nooit ooit stop nie? Een druppel Here, net een
druppel. Here kan ek nie net nog een kans kry nie? Regtig nie Here?
Here stuur iemand om my broers wat nog lewe te gaan waarsku! Hulle
is ook op pad, dis verskriklik! Absoluut verskriklik! Hulle weet nie
wat wag op hulle nie! Here ek het altyd gedink die praatjies oor
hierdie plek is maar net "gogga maak vir baba bang".
Elke knie sal buig en elke tong sal bely... Here ek wil dit nou so
graag bely, maar waar is U Here? Kan ek nie net één kans kry om voor
U voete neer te val nie? Dis só warm Here! Hoe baie het ek gehoor
"Want so lief het God die wêreld gehad...". Here waar is die Seun?
Hoe verlang ek terug na die tyd wat ek kinderlike geloof gehad het.
Hoe spyt is ek dat ek eerder in die kring van die spotters gaan sit
het. Net één druppel Here! Hoe verlang ek na U.
Elke knie sal buig en elke tong sal bely dat U die Here is. Dis só
ontsettend warm! Net één druppel Here...
Ek is met die sleutel in my hand gebore om die lieflikheid vir ewig
saam met U deur te bring, maar ek is so bitter spyt oor my verkeerde
keuse Here, só bitter spit. Hierdie hitte, hierdie ondraaglike hitte...
“Daar was 'n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag
feestelik en weelderig geleef het. En daar was 'n arm man met die
naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop
dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy
was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na
die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is
begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir
Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net
die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly
verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat
jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte.
Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien
is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat
hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár
is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan,
vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers.
Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie
plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die
woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy
antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na
hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ Maar hy sê vir hom: ‘As
hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig
word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”(Luk.16:19-31) ~
Willem Botha, 28/06/2023 |
|
My foon lui: Goeiemiddag, is dit Mnr. Botha? En
sy gee my volle name en ID nommer. Baie vriendelike
Afrikaanssprekende dame en sy sê sy is van my bank se bedrog en
forensiese afdeling. Het meneer pas hierdie groot bedrag by 'n groot
winkelgroep spandeer? En ook nog drie ander transaksies? Nee dame,
ek het nie, en ek skrik my bykans uitasem. Wees rustig meneer, ons
het die transaksies reeds geblok. Verifieer asseblief net of hierdie
meneer se kaart nommer is, wat sy foutloos vir my gee. Sy vertel in
detail hoe versigtig mens moet wees, klets land en sand oor die
probleme wat die bank met bedrieërs het, vra of al my kaarte geteken
is, en sê dat my tak my die volgende dag sal skakel om 'n nuwe kaart
uit te reik. Ek is uiters beïndruk oor hoe professional hierdie saak
hanteer word. Met al hierdie inligting kan ek sien die bank weet hoe
om hierdie goed te verhoed. Maar toe sy terloops vra vir die "cvv"
nommer agter op die kaart kom al die rooi ligte aan en ek weier,
skakel self die bank, net om te hoor dat daar niks fout is op my
kaart nie.
Jy sien: vriendelik, in my eie taal, met al my eie detail, baie
kundig, kon ek baie geld verloor het. So word ons daagliks deur
skelms gevang omdat alles so "reg" lyk, soos daardie tweedehandse
motor by die handelaar wat vir jou vertel dat 'n ou dame die eerste
en enigste eienaar was. Ja ja, dis mos net bejaarde dames wat motors
ry. Of soos daardie goeie makelaar wat jou dubbeld die bank se
opbrengs verseker. Selfs 'n kerkmens, daai ou. En so word ons
bedrieg. Wat my laat dink aan hierdie volgende teks.
"Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal
groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die
uitverkorenes te mislei." (Mat. 24:24)
Ek is seker jy het ook al só baie van hierdie goed gesien. Soms is
dit nie eers skelm bedoel in hierdie konteks nie, maar dalk moet
mens maar versigtig wees. Soos 'n jong dame van wie ek al hier
vertel het wat al na hóéveel lande op gebedsreise gegaan het, wat
deur ander geborg is. Is dit goeie rentmeesterskap van die Here se
geld?
En vals profete en vals profesieë? Dis volop en gebeur daagliks en
ek het al mense ontmoet wat na elke beskikbare "profeet" toe gaan om
te hoor wat die Here vir hulle sê. Dit raak soos 'n verslawing. So
asof die Here net nooit direk met jou praat nie.
En ons ken ook die sogenaamde "genesings dienste" waar woeste
wonderwerke plaasvind, maar wat later as onwaar en oneerlik bewys
word. Dit gaan natuurlik met groot geldelike bydraes gepaard!
Maar kom ek sê net iets baie duidelik. As ek nie glo in profesie en
Goddelike genesing nie, kan ek maar my Bybel weggooi! Maar ek toets
eerder hierdie uitsprake deeglik, want mense praat so graag in die
Naam van die Here. En wie is ek dan om dit in twyfel te trek? Die
Here het dan duidelik met hulle gepraat! Wel, toets dit maar eerder.
Ons woon in 'n tyd waar mens maar eerder alles moet bevraagteken en
toets.
Daar is baie maniere, luister self fyn wat die Here vir jou sê,
toets uitsprake aan die Bybel, laat tyd verloop voor jy reageer op
goed, want tyd laat dikwels die ware lig op dinge val en toets
hierdie dinge ook by mentors wie jy regtig vertrou.
Nie alles wat jy vir die Here vra gaan nét 'n goeie uiteinde hê nie,
maar die meeste valse profete verkondig nét voorspoed. Oppas
daarvoor.
Laastens, as jy regtig 'n begeerte het om die Here se stem te hoor,
sál Hy self met jou praat, deur jou gebed, of 'n sagte stem in jou
binneste, maar gewoonlik deur die Bybel.
Oppas vir valse leraars en profete, hulle is volop. ~ Willem Botha,
26/06/2023 |
|
“So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou
gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees
nie.” (Jes. 44:2) Ek het so vinnig gekyk en dit lyk my net in die
boek Jesaja alleen kom hierdie trooswoord vyftien keer voor: Moenie
bang wees nie. Soms hoor ek mense sê dis ’n opdrag en dus eintlik ’n
sonde as ons wel bang is. Maar as ek hier in Jesaja lees, dan is dit
’n God wat omgee, wat sagmoedig van hart is, wat ons wil help en
troos en versterk wat sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou,
moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help
jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) En
dan sê Hy dit wéér in vers 13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou
hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou. Moenie bang
wees nie.” So, wat maak jou bang? Waaroor lê jy en bekommer in die
nag? Wat is dit wat jou keel toedruk en jou in koue sweet laat
uitslaan? Wat is dit wat jou die gevoel gee dat alles buite beheer
is, jy kan nie meer uithou nie en jou voete gly? Is jy bang vir die
onbekende en dit waaroor jy geen beheer het nie? Is jy bang jy
verloor jou werk of jou gesondheid of een van jou geliefdes? Is jy
dalk bang om standpunt in te neem en stroomop te swem? Is jy bang
vir ’n eksamen, werksonderhoud of ondervraging wat voor jou lê? Is
daar iets wat jy nie kans sien om te doen nie? Is al jou hulpbronne
uitgeput – geen krag, geen geld, geen raad en geen planne? Hoor
vandag die rustige stem van jou Skepper wat sê: moenie bang en
bekommerd wees nie. So sê die Here, Here: Ek maak jou sterk, Ek help
jou, Ek hou jou vas, Ek vat jou hand, Ek red jou. Daar in jou
stresvolle oomblik, probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by
jou is en jou aanmoedig om te doen wat jy moet doen. Die beste raad
vir vrees en bekommernis is die wete dat jou God by jou is. Hy gee
nie noodwendig die antwoorde nie, Hy gee Homself. Aanvaar dit in
geloof. ~ Wilna Botha, 22/06/2023 |
|
So sê die Here, Here: “Ek sal hulle ontrou
genees. Ek sal hulle van harte liefhê ... Ek sal vir Israel wees
soos die dou. Hy sal bloei soos ’n lelie en hy sal so vas staan soos
die Libanon. Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos ’n
olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon ... Hulle sal
welig groei soos ’n wingerdstok.” (Hos. 14:5-8) Dit gryp my so aan
die hart en “breek my brein” (soos die jonges sê) as ek hier, soos
op tientalle ander plekke in die Bybel, sien hoe groot God se genade
is, hoe Hy sy volk (én vir ons) weer en weer vergewe, weer en weer
na ons uitreik, weer en weer ons terug nooi en terug verwelkom, weer
en weer genees en weer en weer meer gee as wat ons verdien of wat
ons kan bid of dink of droom. Dis amper té groot om te verstaan of
te verduidelik. Dis amper té goed om waar te wees. As jy ’n paar
verse in Hos. 14 terugkyk sal jy sien daar is wel ’n voorwaarde:
“Bely julle sonde en kom terug na die Here toe.” (vers 3) Dit vra ’n
keuse en besluit van ons kant af. Dit vra ’n besef dat jy verlore
is, ’n erkenning dat jy die Here nodig het. Dan het jy die
versekering dat die Here, soos vir Israel, vir jou soos dou sal wees.
Gaan staan in Sý dou, draai jou gesig na die druppels, maak jou hart
en jou hande oop vir die oorvloed van sy genade-dou. Hy sal nuwe
lewe te voorskyn laat kom, Hy sal jou skoon was, Hy sal jou verfris,
Hy sal jou herstel sodat jou lewe ’n aangename geur versprei. Hy sal
jou laat groei en vrug dra. Hy sal jou sterk maak en jou laat
vasstaan! “Daarom sal Israel in veiligheid woon ... waar dou van die
hemel drup.” (Deut. 33:28) ~ Wilna Botha, 20/06/2023 |
|
Die Bybel...
'n Ongelooflike boek met 'n ongelooflike, eenvoudige, verstaanbare
boodskap wat deur 'n kind begryp kan word. Só eenvoudig, so maklik
om die sentrale boodskap te verstaan met sulke bykans bonatuurlike
verduidelikings van hoe om hierdie lewe te leef.
Die Bybel...
Wat 'n ongelooflike komplekse boek, waar dinge op die mees vreemde
maniere inmekaar weef, dinge wat eeue uitmekaar plaasgevind het en
wat in drie verskillende tale, op drie kontinente geskryf is deur
meer as 40 skrywers waarvan by verre die meeste mekaar nie geken het
nie.
Aan die een kant kan jy alles gelate aanvaar met kinderlike geloof,
en aan die ander kant kan jy jou vasdraai in argumente en stryery
oor wat God regtig gesê het, wat nog vandag van toepassing is en wat
nie, en of ons dit ooit reg verstaan het.
Voorts kom die moderne samelewing, met 'n moderne liberale uitkyk en
met sogenaamde "nuwe" insigte, en probeer om die Bybel te laat inpas
in dit wat vir ons gemaklik is.
Jy sien, die Bybel word 'n uiters ongemaklike boek as ons probeer om
God se bedoeling te maak pas in ons samelewing. Ek en Wilna het oor
die naweek onsself bykans moedeloos gepraat omdat ons nie regtig
seker is of dít wat ons skryf, perfek binne God se wil is nie. Ons
het vir onsself gevra of ons nie dalk ook op 'n tyd dinge geskryf
het wat ons nou anders verstaan nie.
"My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle
moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel
sal word." (Jak. 3:1) Ek vrees hierdie teks!
Daar is hordes dinge wat goeie, opregte wedergebore Christene
verskillend glo en interpreteer, waarvan ons eerder wegbly. Ek kan
vir jou sommer gou-gou 'n klomp dinge noem wat Christene warm onder
die kraag maak as jy met hulle verskil. Daarom bly ons liewer weg
van strydvrae af.
Maar waar staan ek ten opsigte van dít wat God in sy woord opgeskryf
het?
* Ek staan vas daarop dat God die heelal in sy totaliteit beplan en
geskep het presies soos wat Hy dit wou hê. En dít deur net te spreek.
* Ek glo dat die groot gebeurtenisse wat opgeteken is werklik gebeur
het, soos die sondvloed en Noag se ark en die tog deur die woestyn
en vele meer.
* Ek glo dat God se volk vir Hom belangrik is, net soos wat ons
vandag vir Hom belangrik is, maar sonder om ander groeperings uit te
sluit.
* Jesus se maagdelike geboorte, sy kruisiging, opstanding uit die
dood en hemelvaart is ononderhandelbaar en kan nié weggeredeneer
word nie. Sonder dit is ons geloof leeg.
* Die weg na die Hemel maak vir geen ander model voorsiening as deur
Jesus as ons Saligmaker nie. Al die paaie loop nié na Rome nie.
* Die Bybel is die enigste Boek wat gesag het en die Woord van God
is.
* En dan 'n baie, baie ongemaklike ding. God noem 'n KLOMP dinge wat
Hy haat, en dit sluit dinge in waaraan ek ook skuldig is. Google
gerus die woorde "Dinge wat God haat". Daar is baie. Maar dít wat Hy
haat, haat Hy, maar Hy haat nie vir my en jou nie, Hy haat wel vele
dinge wat ons doen. Goddank, daar is vergifnis daarvoor. En daarom
moet ek maar elke liewe dag weer voor Hom gaan staan en daardie
vergifnis aanvaar.
Maar kom ek sê jou, ten spyte daarvan dat dít wat soms na 'n
onbegonne taak lyk, dit steeds wonderlik is om eerder daardie soms
moeilike pad te loop, want die beloning daarvoor is nie nét in die
hiernamaals nie, dis ook nou uiters bevredigend. Christenskap is
slegs 'n straf vir diegene wat dit nie beoefen nie, en daarteen
baklei.
Sien jy nou? Die Bybel hoef nie jou kop te breek nie. Glo die Here,
glo wat Hy sê, en leef daarvolgens. ~ Willem Botha, 19/06/2023 |
|
Vadersdag.
Vandag dink ek met diepe dankbaarheid terug aan my ouerhuis en my
standvastige pa, wie ons nooit ooit teleurgestel het op enige manier
nie. Met my heel laaste gesprek met my pa voor hy oorlede is ('n
paar weke later) het ek vir hom gevra of hy bang is vir die dood. Sy
antwoord was "ja, want ek weet nie hoe lyk dit aan die anderkant nie".
Maar nou weet hy, want hy het sy geloof in Jesus as sy Saligmaker
weereens tydens daardie gesprek herhaal en bely. Eers toe ek self 'n
pa geword het, en nog meer, toe ek op my pa se geboortegrond kon
gaan rondloop (wat ek met 'n reuse wonderwerk 4 jaar gelede ontdek
het), het ek werklik my pa begin verstaan.
Op hierdie foto is my pa, Rudolph Johannes Botha (1924-2004). Hy sou
hierdie jaar 99 jaar oud wees. Op die ander foto is die huis in
Tonteldoos (ek twyfel of jy weet waar dit is) waar my pa grootgeword
het, saam met nog 8 ander kinders. Brandarm, met die mees karige
besittings en uiterste swaarkry, is hulle hier gevorm.
Roelfie-toelfie, soos wat sy vriende hom liefderik genoem het, sou
net St. 6 behaal en 'n treindrywer word. Toe ek 'n kind was het ons
nie 'n motor gehad nie, en eers toe ek skooltoe is (ek was die
"baby" en my susters al tieners) het my ma gaan werk sodat my pa sy
eerste motor kon koop, 'n Opel Kapitan (nee jy weet ook nie van
daardie motors nie).
Ek kan tot vandag toe opkyk na my pa en sy voorbeeld, en sy impak op
ons lewens. En ek dink onwillekeurig aan Jesus wat gesê het Hy doen
net wat Hy sy Vader sien doen het. Hoe geseënd was my ouers nie om
te leef in 'n tyd wat vreemde godsdienstige praktyke (waaraan ons
nou daagliks blootgestel word) hulle geloof by hulle kom steel het
nie. Hierdie volgende teks het by my opgekom.
"Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou
ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig,
ook in jou is.” (2 Tim. 1:5)
So, het my ouers se geloof enduit gehou.
“Eer jou vader en jou moeder, soos die Here jou God jou beveel het,
dan sal jy 'n lang lewe hê en sal dit goed gaan met jou in die land
wat die Here jou God vir jou gee."(Deut. 5:16)
Iets om onsself vandag aan te herinner. Dit was maklik om my ouers
te eer. Nie oor wat ek is nie, maar oor wie hulle was. En voorts,
kan ek PRESIES dieselfde van my skoonouers getuig!
Dalk het jy nog die voorreg om jou vader in jou lewe te hê. Jy is
geseënd. En as jy 'n man is, het jy dalk die ongelooflike voorreg om
'n pa te wees, soos wat ek 'n pa is van twee wonderlike kinders, 'n
wonderlike skoonseun en 'n wonderlike (aanstaande) skoondogter. En
hulle is naby ons, en ons is betrokke in mekaar se lewens, wat 'n
blessing!
Miskien het jy nie die voorreg om aangename herinneringe te hê nie,
maar jy kan opkyk na jou Vader wat in die hemel is, en wat deur sy
Gees in jou hart woon. As jy agter Hom aanstap, kan jy geen fout
maak nie. Dalk moet jy vandag vergewe, dalk kan jy jubel oor goeie
herinneringe, maar weet dat Hy sy oë nie een oomblik van jou afvat
nie.
Geniet hierdie Vadersdag as dit vir jou beskore is, maar ook hierdie
Vadersdag omdat Hy jou Vader is. ~ Willem Botha, 18/06/2023 |
|
So sê die Here, Here: “Sal iemand val en nie
opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?” (Jer. 8:4) Die Here
is verbaas oor sy volk wat van Hom af wegdraai en aanhou loop op die
verkeerde pad. Niemand toon berou nie. Niemand is spyt oor hulle
foute nie. Niemand staan op nie. Niemand draai terug nie. “Nee,
hulle hou net aan voortstorm op hierdie verkeerde koers wat hulle
gekies het, soos ’n perd wat in ’n geveg instorm.” (Jer. 8:6) Tog sê
die Here oor en oor: kom terug, draai terug, Ek is begaan oor my
volk, Ek sal help, Ek sal genees, Ek sal wonde verbind, Ek sal weer
vergewe, Ek is genadig en barmhartig, Ek wag met oop arms. Geen
wonder Hy vra daai retoriese vraag nie: “Sal iemand val en nie
opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?” Ek het nou so
gewonder: wie sal val en nie weer opstaan nie? Dalk iemand wat só
beseer is van sy val dat hy nie kán opstaan nie? Dalk iemand wat in
so diep gat geval het dat hy nie kán uitkom nie? Dalk iemand wat só
skaam is omdat hy geval het dat hy sommer net daar bly lê? Vir hulle
almal is daar goeie nuus: die Here se genade is genoeg, die Here se
arm is nie te kort op te help nie, die Here se liefde hou nie op nie,
die Here se genesing maak heel en skoon, die Here se hand tel op.
“Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig
staan as julle na Hom toe terugkom nie.” (2 Kron. 30:9) Ek het
gewonder: wie sal wegdraai en nie terugdraai nie? Dalk iemand wat só
erg verdwaal het dat die pad terug té donker en verlate lyk? Dalk
iemand wat blind geword het en nie meer die terugdraai pad kan kry
nie? Dalk iemand wat graag wil terugdraai maar bang is hy word nie
weer aanvaar nie? Vir hulle almal is daar goeie nuus: “Kom terug,
kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom.” (Jer.
3:14) “Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil 'n einde maak
aan julle afdwaling.” (Jer. 3:22) “Die Seun van die mens het immers
gekom om te soek en te red wat verlore is.” (Luk. 19:10) Die Here se
soektog en genade en redding kom in werking wanneer jy afgedwaal het.
Ja, Hy sal nege-en-negentig skape los en agter die een aangaan wat
weg is en hom soek totdat hy hom kry. Staan op, draai terug – so sê
die Here, Here. ~ Wilna Botha, 14/06/2023 |
|
Oor 'n week van nou af, sal dit 44 jaar gelede
wees wat ek by die weermag uitgeklaar het na twee jaar diensplig. 'n
Paar dae gelede het 'n paar van ons manne wat saam daar was
saamgekuier, soos wat ons nou gereeld doen. Na soveel jaar kom die
gesprekke steeds op van die swaarkry wat daarmee gepaard gegaan het.
Nee, nie die onuithoubare koue in Potch se winter in 'n tent nie,
ook nie die yskoue water waaronder ons elke dag moes stort nie, of
die toilette (longdrops) sonder deure nie, nie die lewensgevaarlike
situasie op die grens nie, nie eers te praat van die uiters
onsmaaklike kos nie. Nee, die grootste hiervan is die bykans
onmenslike behandeling van diegene wat mag oor ons gehad het. Mag as
gevolg van twee strepe op die skouer wat 'n gewone mens in 'n baie
vreemde wese verander het. En voor jy nou dink ons was 'n klomp
sissies wat nie die "punch" kon vat nie, wil ek noem dat dit ons
sterker en beter gemaak het, en dit iets is waarop die meeste mense
met trots kan terugkyk. En ek sou dit weer doen as ek moes. En VIR
SEKER was daar vele (dalk die meeste) van daardie instrukteurs wat
dit alles steeds met waardigheid hanteer het, en hoegenaamd nie
almal was monsters nie. Inteendeel.
Nie almal kan mag hanteer nie, en nie almal wat mag het is 'n goeie
leier nie, en nie almal wat mag het, het dit gekry omdat hulle dit
verdien het nie. Ek dink onwillekeurig aan ons regering, wat dit
regkry om daardie mag te verkry met 'n T-hemp en 'n pakkie wegneem
hoender. Dit maak mens nogal siek.
"Jesus staan toe op en bind ’n handdoek om sy middel vas. Hy maak
toe ’n bak vol water en begin sy volgelinge se voete een vir een
was. Met die handdoek om sy lyf droog Hy hulle voete af." (Joh.
13:4-5 DB)
Jy ken hierdie hoofstuk baie goed.
"Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds
daar. Die Woord was by God en die Woord was God. Voor enigiets nog
gemaak was, was Jesus al by God. Hy het alles in die skepping gemaak.
Niks het op ’n ander manier ontstaan nie. Hy het alles gemaak." (Joh.
1:1-3 DB)
Hy wat alles in die skepping gemaak het, het die dissipels se voete
gewas, Hy het Hom verneder deur 'n skottel te vat en mense se vuil
voete te skrop, Hy wat ALLE mag in Hemel en aarde in sy hand het,
het mense se voete gewas. Hoe verstommend is dit nie om te besef dat
iemand wat soveel mag het, dit nie misbruik het nie, maar daarmee
gedien het. Nee vriend, ek is baie bly die korporaal het nie my
voete gewas nie, en ek is baie bly dat niemand in die parlement my
voete was nie! Maar Jesus het ons geleer (op 'n baie konkrete manier)
hoe ons met mag moet omgaan. Dalk is iemand by jou werk besig om
hulle mag op aaklige maniere te gebruik, maniere wat jou verneder en
verkleineer, maniere wat jou menswaardigheid aantas en wat dalk
daardie mag gebruik om jou te misbruik. Ek het nie 'n antwoord
daarvoor nie, maar weet wel, die wiel draai. Die Here eis rekenskap
van diegene wat oor mense aangestel word, en dis sekerlik nie vir
Hom 'n ligtelike saak nie, maar ook só iemand sal eendag dit verloor
en daarmee moet saamleef. Dit geld natuurlik vir my en jou ook wat
dalk in 'n magsposisie is. Almal sal eendag op iemand, wat dalk
destyds die minste was en vertrap was, moet staatmaak om by 'n trap
opgehelp te word.
Kan jy jou net vir 'n oomblik dink hoe die wêreld sou wees as mense
met soveel mag, eerstens dienaars sou wees en met integriteit hulle
volgelinge (as leiers) sou dien. Dalk gaan jy deur 'n moeilike tyd
as gevolg hiervan, maar hou jou oog eerder op Jesus as op mense.
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste
asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22) ~ Willem Botha, 13/06/2023 |
|
“Die profete in die land pleister alles toe:
hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as
waarsêery en sê: ‘So sê die Here my God,’ terwyl Ek niks gesê het
nie.” ( Eseg. 22:28) Ek het oor die afgelope paar maande ’n klompie
stukkies geskryf oor die tema: “So sê die Here, Here”. As ek egter
verse lees soos dié een in Eseg. 22:28 dan besef ek die een wat sê:
“So sê die Here, Here” het ’n baie groot verantwoordelikheid om nie
haar eie woorde in die Here se mond te lê nie, om nie sê: “So sê die
Here my God” en dan sê die Here dalk: “Ek het niks gesê nie”! Spr.
30:6 waarsku my ook ernstig en ek neem dit biddend ter harte: “Moet
niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf en jy sal
daar staan as ’n leuenaar.” Toe ek ’n kind was, was die Bybel ons
enigste bron van geestelike kennis en inligting en die dominee die
enigste een wat dit vir ons verduidelik het. Dink maar net hóéveel
inligting daar vandag is: honderde boeke in CUM, duisende webblaaie,
tienduisende Facebook groepe en blaaie, vele TV-programme en hordes
leke-predikers. Hoe meer mense daar is wat sê: “So sê die Here,
Here”, hoe meer moet ons toets en ondersoek en bid en dink en vra of
die Here iets gesê het. “Daarom sê die Here: Dit kan julle weet, Ek
is teen hierdie profete wat hulle boodskappe by ander steel en maak
of Ek dit gesê het. Ek is ’n opponent van hierdie
gladdemondboodskappers wat stories vir die mense vertel en sê dit
kom van My af. Hierdie profete se drome is niks anders as hulle
verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense op die verkeerde
pad lei. Ek het hulle nie gestuur nie en Ek het niks vir hulle gesê
om vir julle te sê nie.” (Jer. 23:30-32, Die Boodskap). Hier is my
gebed vir vandag: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van
my hart welbehaaglik wees voor U aangesig, o Here.” (Ps. 19:15, OAV)
~ Wilna Botha, 08/06/2023 |
|
Het jy al ooit vir die Here die volgende gesê:
"Here, baie dankie vir al U bonatuurlike seëninge en dít wat U alles
vir my gee. Maar Here, ek het nou heeltemal genoeg, moet asseblief
nie verder vir my nog meer gee nie, gee eerder vir ander." Miskien
het jy al, maar ek kan nie onthou dat ek al het nie. "Here, ek is
nou heeltemal tevrede met my uiterlike". Nee, dit werk nie so nie.
Of wat van: "Here, sus en so se huis en besittings is báie mooier as
myne, en hulle hou wonderlike vakansies, gee hulle asseblief nog
báie meer en hou dalk 'n bietjie van dít wat na my toe kom terug, en
gee dit vir hulle."
As jy soos bykans elke mens op aarde (ryk ek arm) is, het jy
ongeveer 10% te min. Terwyl my en jou 10% dalk meer is as 'n paar
biljoen mense se totale besittings.
Ek en jy, kry NÓÓIT genoeg nie, en jy kan dit dalk selfs gaan meet
aan dít wat jy graag vir die Here vra. Dis eintlik verskriklik hoe
besittings ons verblind, en hoe ons die "seën" lat aanhoudend hoër
stel. Nooit nooit genoeg nie.
Haai shame, en alles gaan agterbly as jy eendag uit hierdie lewe uit
vertrek.
Hierdie volgende tekste het my vandag tussen die oë getref.
"As jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg het; as jy te veel
eet, word jy naar." (Spr. 25:6)
"Die bloedsuier het twee dogters, hulle is “Gee!” en “Gee!” (Spr.
30:15)
"Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens
vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit
tot niks." (Pred. 5:9)
Mag ek werklik hierdie volgende gebed my eie maak.
"Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna
kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie
arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek
nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat
ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie."(Spr.
30:7-9)
Sjoe, dis lekker warm vanaand hier voor my verwarmer. En nou gaan
ons braai... ~ Willem Botha, 07/06/2023 |
|
So sê die Here, Here: “Ek sal my woord op hulle
harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.” (Jer. 31:33) Ons kyk op
die oomblik ’n TV-reeks waarin daar ’n Joodse familie is. Al die
rituele en gebruike wat hulle volg is opvallend – die klein ronde
kadotjie op die kop, die gekrulde hare aan die kant van die kop, die
Sabbat-viering, handewas-gebruike, raak aan die kosyn voor hulle ’n
huis binnegaan, toutjies onder die klere, ens. Die gebruik om aan
die deurkosyn te raak en dan die vingers te soen wat geraak het kom
uit Deut. 6:9 wat sê dat die wet van die Here op deurkosyne en
stadspoorte geskryf moet word. Dit moet wees waar dit opsigtelik is
sodat dit ’n herinnering kan wees van die wet en wat God van hulle
verwag. Dit kan ’n opgerolde papier wees wat in ’n hout houer is, of
dit kan ’n gegraveerde, versierde paneeltjie wees. Daar is ook vele
reëls hieroor, soos bv. dat dit nie gedruk mag wees nie, maar met
die hand geskryf moet wees deur ’n betroubare “scribe”. Dit moet ook
op ’n spesifieke hoogte aangebring word. ’n Ander gebruik is die
tosseltjies wat onder die klere uithang wat ook dien as ’n
herinnering aan God se gebooie en reëls en wat van hulle verwag
word. Ai, dan is dit vir my só wonderlik om dié teks in Jer. 31:33
te lees. God sê dit sal sy nuwe verbond wees, die nuwe verbond wat
vir ons ’n werklikheid geword het in Jesus: Sy woord en sy wet sal
nou in ons harte en gedagtes wees. Wat God van ons verwag sal in ons
gedagtes wees, in ons gewete; ons sal vanself in ons harte die
aanvoeling hê van wat reg en verkeerd is, want ons het die Heilige
Gees wat in ons woon. Natuurlik moet ons ook steeds die geskrewe
woord lees en bestudeer en daardeur sal die Gees dit in ons harte
skryf en in ons gedagtes openbaar en vir ons ’n lewende woord laat
word. Natuurlik kan ons ook steeds Bybelverse ophang by die voordeur
om ons te herinner aan ’n opdrag, of ’n teks oor God se liefde en
versorging en nabyheid op jou foon se skerm vertoon om jou deur die
dag te dra. En as jy dit lees, sal jy iets in jou binnekant voel
roer, omdat God dit in jou hart skryf. Ons verhouding met God is
innerlik van aard en nie uiterlike nakoming van reëls en rituele nie.
“Lees” daai woord wat in jou hart en gedagtes is, slaan ag daarop,
word versterk daardeur ! ~ Wilna Botha, 06/06/2023 |
|
Die kombuis horlosie tik rustig, dag en nag,
teen presies dieselfde tempo. Tiek tok Tiek tok. As jy mooi luister
kan jy hom hoor in die nag, en daardie tempo bring gewoonlik vir my
'n rustigheid in my gemoed. Tiek tok Tiek tok, sestig keer 'n minuut,
en daardie wyser draai altyd regs om, want dis hoe hy gemaak is. Hy
kan nie terug draai nie, want hy is so gemaak deur die horlosiemaker,
want tyd kan nie terugdraai nie. Elke sekonde wat jy hom gehoor het,
het nóg 'n sekonde van die lewe agter jou in die niet verdwyn, en
daai wyser haas hom om by die volgende sekonde uit te kom. Half
ongeduldig spook hy voort, al in die rondte. Tiek tok, nog 'n paar
sekondes verby vandat jy hierdie sinnetjie begin lees het. Jy moet
wikkel as jy lees, want die tyd wat oor is krimp genadeloos, en
sleep jou vervaard saam na dáár waar jy nog nie wil wees nie. Tiek
tok Tiek tok...
Die lewe is soos 'n toiletrolletjie, hoe nader aan die einde, hoe
vinniger loop hy af.
Ek verjaar eersdaags en dit raak skrikwekkend as ek besef tot waar
die jare aangestap het. Volgens die norme van vandag is ek al heel
verby my middeljare en op pad na bejaard toe. BEJAARD? WAT? IS JY
GEK? Ek? Wat beteken dit? Ver verby halfpad, baie baie ver verby.
Hoeveel is oor? Ons leef 29200 dae as ons tagtig word, en daar is
skrikwekkend min oor.
Dan kom die vrae:
Het ek bereik wat ek wou?
Het 'n genoeg, te veel of te min bymekaarmaak? Wat was die prys
daarvoor? Wat gaan saam?
Het ek genoeg verskil gemaak? Wie het die meeste gebaat by my
daaglikse geswoeg en al my arbeid?
Gaan ek met leë hande, soos ons as kinders gesing het? "Moet ek gaan
met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet, nie een dag aan Hom gewei
nie, niks te offer aan Sy voet. Nie een siel gelei na Jesus..."
Is ek dankbaar genoeg? Hoeveel seëninge het net ongemerk gekom en
gegaan?
Het ek dalk SO baie gekla, dat Hy dalk gewonder het of ek blind
geword het vir Sy goedheid en guns?
Het ek die lewe genoeg geniet en het ek vreugde vir ander gebring?
Laastens, wanneer is mens reg vir die "finale ontmoeting"? Is ek reg
daarvoor of moet ek eers nog 'n klomp goed met Hom regmaak? En dalk
'n klomp goed met ander mense?
Kan ek sê: dit was goed? Alles was goed?
Maar nou ja, dit klink vreeslik negatief en mistroostig, al is dit
'n realiteit!
Begin onmiddellik om elke dag voluit te leef, asof jy nog 'n hele
lewe voor jou het! Stel alles reg wat jy kan, en hou om vadersnaam
op om elke dag die laaste asem uit te blaas. Hou op om die probleme
van die land as 'n verskoning te gebruik om mistroostig weg te kwyn.
"Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is
beter as 'n leeu wat dood is." (Pred. 9:4) ~ Willem Botha,
30/05/2023 |
|
So sê die Here Here: “Wanneer dit alles gebeur
het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense ... In daardie tyd sal
Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.” (Joël
2:28-29) Dis weer Pinkstertyd, die tydperk wanneer ons baie dink en
praat oor die uitstorting van die Heilige Gees, wanneer ons opnuut
verwonderd raak oor ons eie Geesvervulling en weer diep bewus raak
van die werking van die Gees in ons lewens. In hierdie teks in Joël
2 is daar twee dinge wat my hart warm laat voel. Die Here praat hier
in Joël van ’n spesifieke tyd, ’n spesifieke oomblik wanneer Hy sy
Gees op mense sal laat kom – en ek besef daar was vir ons almal ’n
spesifieke oomblik toe die Gees van God by ons kom intrek het, ons
kom vul het, “op” ons gekom het. Dit was daai oomblik toe jy Jesus
in jou lewe aanvaar het, toe jy die boodskap van verlossing gehoor
en geglo het: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê:
Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na
die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die
Gees ontvang.” (Joh. 7:38-39) Miskien voel jy dat jy nog nie só ’n
oomblik beleef het nie. Wel, daai oomblik kan nóú wees. “Ek sê vir
julle: Vra en vir julle sal gegee word. Soek en julle sal kry. Klop
en vir julle sal oopgemaak word ... Hy sal die Heilige Gees gee vir
dié wat vra.” (Luk. 11:9, 13) So sê die Here Here: Vra, soek, klop
in geloof – Hy sal die Heilige Gees gee. Die tweede groot ding wat
die Here in Joël 2 sê is dat Hy sy Gees op álle mense, selfs die wat
nie in aansien is nie, sal laat kom! Dis ek en jy ook. Ons is nie té
jonk, té oud, té sondig, té swak, té dom, té vêr afgedwaal, té diep
in die duisternis om die Heilige Gees te ontvang nie. Moenie dit
weerstaan nie. “Laat die Gees julle vervul.” (Ef. 5:18) So sê die
Here Here: Ek sal my Gees laat kom op al die mense! ~ Wilna Botha,
25/05/2023 |
|
Na aanleiding van my vorige boodskap het ek
hierdie boodskap (wat ek in 2019 geplaas het) gaan opdiep en ek
plaas dit graag weer, omdat dit van toepassing is op die boodskap
oor gebed.
Kleingeloof
Mat. 17:20 "Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof gehad het so
groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: 'Gaan
staan daar eenkant!' en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik
wees nie."
Ek het hierdie ding al probeer en uitgetoets, toe ek 'n klein
seuntjie was. Ek onthou die dag so goed soos gister, ek onthou my
smagting dat ek hierdie geloof mag hê en ek onthou ook die emosies
wat daarmee saamgegaan het. Ek het van daardie plat vuurhoutjie
boksies versamel wat jy soms in hotels en openbare plekke gekry het
wat oop flap, en dan breek jy die vuurhoutjies een vir een af as jy
dit gebruik. My versameling het daardie tyd gegroei tot 'n hele drie
boksies en ek het so begeer om meer te hê! Toe besluit ek om te bid,
want om een of ander rede het ek bogenoemde teks in gedagte gehad.
Ons het in Villieria in Pretoria gewoon langs die treinspoor (aan
die verkeerde kant) en ek kon uitkyk op Pierneef-rif anderkant die
spoor. Dit was vir my 'n reuse berg.
Ek onthou dat ek toe die boksies in 'n laaitjie gesit het en op my
knieë gaan staan langs die bed, en toe bid ek kliphard. Ek het vir
die Here gevra dat die laai vol bokkies moet wees, en op die koop
toe dat die berg sou skuif. Ek wou sien hoe hy beweeg (om een of
ander rede na die linkerkant toe, seker omdat die see die naaste aan
daardie kant is) en dat daar net 'n reuse gelykte oorbly waar hy
gestaan het. Na my amen het ek opgespring, en die laai oop gepluk (vol
geloof soos 'n mosterdsaad) en daar groei my versameling aan na
steeds slegs drie boksies. En die berg het nie 'n voet versit nie!
Toe besluit ek dat ek meer moet glo en nog bid en aanhou probeer,
maar na talle gebede gebeur daar toe niks! Ek onthou dat ek toe maar
gelate berus het by die Here se besluit en dat Hy dalk besig is en
anderdag meer vrygewig sou wees.
Ek het vandag steeds daardie kinderlike geloof, maar ek bid nie meer
om goeters te kry nie. Ek bid ook nooit om geld te kry nie, maar wel
dat die Here vir my sal help om die werk en krag te kry om my
inkomste te verdien.
Daar is vir my baie lewenslesse in hierdie kinderlike geloof van
daardie tyd. Jy sien, ek het nie toe gedink wat sou gebeur as
daardie berg regtig geskuif het nie, want daar sou traumatiese
gevolge gewees het vir die arme mense wat daar gebly het. Vandag
besef ek dat my gebede ook ander kan beïnvloed (dinge waaraan ek nie
eers kan dink nie), en dat my gebede soms selfsugtig en net vir my
eie gewin is. Verder besef ek dat die Here nie materiële ding sommer
so op aanvraag voorsien nie, want die mens weet nie waar om op te
hou vra nie. As die Here daardie dag vir my daardie laai vol
vuurhoutjies gemaak het, sou ek die volgende dag 'n Chopper fiets (daardie
een met die hoë "handles" en die rathefboom) vereis het. En vandag
'n Ford Mustang.
Voorts het ek besef dat die Here nie opgehou het om vir my lief te
wees as Hy nie vir my gee wat ek vra nie. Ek was as 'n klein
seuntjie bewus gewees van die Here se liefde en ek is steeds bewus
daarvan.
Laastens weet ek ook dat ek nie moet ophou vra nie, totdat ek 'n
antwoord gekry het. Ek dink ek sal maar eendag hierdie lewe verlaat
met daardie kinderlike geloof. Ek was so ruk gelede in Villieria en
daardie berg staan steeds, en ek kan vandag bekostig om laaie vol
van daardie vuurhoutjies te koop. Maar ek soek dit nie meer nie. ~
Willem Botha, 24/05/2023 |
|
Werk gebed?
Help dit om te bid, en het jy al klinkklare bewyse daarvan gesien
dat dit "werk"? Sien jy daagliks die uitkomste van jou gebede? Of
het jy ook al kliphard gebid vir 'n posisie waarvoor jy aansoek
gedoen het, net om teleurgesteld te hoor dat jy onsuksesvol was? En
vir siektes? Het jy al saam met hordes mense aan 'n gebedsketting
deelgeneem vir iemand se genesing, toe sterf die persoon? Moet mens
spesifieke woorde bid vir spesifieke siektes, anders het dit geen
effek nie? Ek het dit al gehoor by mense. Hoekom bid ek drie keer
per dag voor 'n ete en nie net sommer vanoggend vir al die etes nie?
Hoekom bid ek gewoonlik nie voor ek 'n beskuitjie in my koffie doop
nie? Moet ek op 'n gebedsreis na 'n spesifieke land toe gaan en daar
gaan bid (teen enorme koste), of kan ek sommer tuis bid? Raak die
gebed se krag minder met afstand? En wat van daai ou bederfie wat ek
graag vir myself wil gun? Mag ek bid vir daardie nuwe vuurwa wat ek
begeer? En wat van Jesus toe Hy in die tuin gaan bid het dat die
Vader daardie bitter beker by Hom moes laat verbygaan? Hy is dan
self God, en Hy het mos geweet hoe die raadsplan uiteengesit was. Is
ons enigsins beter af in die lewe as die ongelowige wat lankal ophou
bid het? Word ons meer gesond as hulle? En wat van hierdie klein
goedjies waarvoor ons bid? Gryp die Here in op mikro-bestuurs vlak?
Reageer Hy elke keer onmiddellik as ek "nitty-gritty" goed vra?
En so sal die ongelowige jou probeer vasvra, en my antwoord is
eenvoudig: ek neem nie deel aan hierdie sinnelose is/is nie
argumente nie. Ek hoef niks aan niemand te bewys nie en ek is
sekerlik nie geïnteresseerd daarin om te kyk wie die meeste punte in
'n argument te behaal nie. Baie van my gebede is dalk net uit
gewoonte, maar dis 'n wonderlike gewoonte. Baie gebede is nie
verhoor soos ek gevra het nie (Goddank), want daar was ander beter
uitkomste. As jy bid maak jy die Here deel van elke faset van jou
lewe, en as jy dankie sê gee jy erkenning aan die hoogste gesag wat
in die heelal bestaan. As Hy besluit om nie my gebede te verhoor
soos ek graag sou wou nie, berus ek baie maklik daarby, want soms sê
Hy ja, soms nee, en soms wag. Daar gebeur bonatuurlike goed in die
geestesrealm as mens bid, en die ongelowiges kan die eenvoudig nie
verstaan nie.
"Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge
van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin." (1Kor.2:14)
Maar het ek al die bonatuurlike werking van gebed gesien? Natuurlik!!!
Male sonder tal, soos jy ook.
"Bid gedurig." (1 Tes.5:17) ~ Willem Botha, 22/05/2023 |
|
So sê die Here Here: “Kyk op na die hemel, kyk
na die aarde hier onder: die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde
sal word soos ou klere, en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos
muggies, maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die
redding wat Ek bring, sal altyd bly.” (Jes. 51:5) Kyk op na die
hemel. Kyk in geloof op en wees verseker van die redding wat God vir
ons gee, ewige verlossing wat vir ons uitloop op ’n plek in die
hemel. Kyk op na die hemel en fokus op die grootheid, genade en
liefde van God. Kyk op na die hemel en weg van jou probleme. Kyk
verby die horison, kyk verby die hier en nou, kyk verby vandag se
pyn en hartseer en wees sterk en vol moed en ontvang vrede wat alle
verstand te bowe gaan. Ek lees hierdie sinnetjie êrens: “The spiral
of life moves upward and heavenward, not downward.” Dis vandag
Hemelvaartdag – ’n goeie dag om saam met die dissipels stip na die
hemel te kyk en in jou hart die vrede te hê dat Jesus die prys
betaal het vir ons ewige verlossing, dat Hy vooruitgegaan het om vir
ons ook plek gereed te maak. Dis ’n goeie dag om saam met die
dissipels stip na die hemel te kyk en God se seën te ontvang:
“Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het
Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy
van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” (Luk.
24:50-51) ~ Wilna Botha, 18/05/2023 |
|
"Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die
hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat
wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is
die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete
en Jebusiete op die oomblik bly. Ek het tot in die hemel gehoor hoe
die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien
hoe die Egiptenaars hulle mishandel. Gaan terug Egipte toe. Ek wil
hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan
uitlei.” (Eks. 3:8-10)
So kry Moses die opdrag om die Israeliete te lei na die beloofde
land.
Ek dink ook onwillekeurig hoe ons voorvaders byna 400 jaar gelede op
soek was na 'n beter heenkome en hierheen gekom het. En nou wil ons
weer vertrek na 'n beter lewe toe. Dit lyk my ons is nou maar
eenmaal swerwers soos die Israelite van ouds, want dit voel of dit
onhoudbaar raak hier. Waarheen? Verder suid? Is ons op pad woestyn
toe? Is ons reeds in die woestyn? Maar wag, kom ons kry eers 'n
moeilike vraag beantwoord. Wie is "ons"? Is "ons" diegene met die
voorvaders wat saam met onse Jan aangekom het? Is dit net "ons" wat
sukkel met die slegte dinge wat gebeur? Nee daar is miljoene wat
baie baie swaarder as "ons" kry, en wie se lewens "ons" woestynpad
soos 'n piekniek laat lyk. Ek het sommer net gewonder hoe dit sou
wees as ons gesaghebbendes by die Here gaan hoor het wat Hý sou wou
hê vir ons pragtige land. En dan kom daar 'n moedswillige vraag by
my op. Hoe sou dit wees as "ons" by die Here gaan hoor hoe óns moet
leef in ons pragtige land?
Maar hier is ons nou. En dan wonder ek: wat nou? Is ons heil elders?
Of moet ons die manna en kwartels opnuut raaksien? En wat van die
Israeliete wie se klere en skoene nie verslyt het nie? Myne kry nie
kans om te verslyt nie, want daar is sommer dikwels nuwes. En nee,
manna en kwartels is nie ons stapelvoedsel nie, dis sommer
braaivleis, bobotie en malvapoeding.
Hoe lank nog voor dit beter raak? Gáán dit beter raak? Wat is die
definisie van "beter"?
Ons woestyn het baie goeie elemente.
* Die Here is hier, by ons.
* Jy kan baie meer hanteer as wat jy dink.
* Hy gee vir jou die wonderlike vermoë om aan te pas en jou eie lewe
te verbeter.
* Hierdie woestyn louter jou en maak jou sterker.
* Hierdie is een van die mooiste "woestyne" op aarde.
* Daar is volop liefde tussen baie mense in hierdie woestyn.
En soos ek hier sit en skryf, besef ek dat ek nét hier wil bly. Daar
is wonderlike eerstewêreld lande waar dit lyk of die Here net nie
meer daar is nie, want voorspoed het gemaak dat die Here oorbodig
raak. Dan eerder hier, waar Hy is. Ek bly nét hier. ~~ Willem Botha,
17/05/2023 |
|
“Ek is die Here die God van al die mense. Is
iets vir My onmoontlik? So sê die Here ...” (Jer. 32:27) Daar is
deesdae só baie goed waarvoor mens sê: dis onmoontlik, dit sal nooit
gebeur nie, dit sal nooit regkom nie, dit sal nooit uitwerk nie, dit
sal vir altyd ’n probleem wees, dis te moeilik, dis onoorbrugbaar,
onuitvoerbaar, ongebonne, dis godsonmoontlik! Ja, daar is sowaar so
’n uitdrukking in Afrikaans: godsonmoontlik. ’n Saak wat vir ons so
onmoontlik lyk dat ons sê nie eers God sal dit kan uitwerk nie. Het
jy dalk ook, soos ek, êrens vandag gesê of gedink: dis onmoontlik!
Dalk het jy dit gedink oor probleme in ons land en regering en Eskom
en misdaad. Dalk het jy dit gedink oor ’n verhoudingsprobleem. Dalk
het jy dit gedink oor ’n siekte of knaende pyn. Dalk het jy dit
gedink oor jou geldsake. Dalk het jy dit gedink oor ’n verlore
familielid wat sy rug op die Here gedraai het. Vir my is dit vandag
iets om aan vas te gryp, iets om biddend voor die Here neer te sit,
iets om my te troos en hoop te gee as die Here sê: is iets vir My
onmoontlik? “Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is
dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”
(Mark 10:27) ~ Wilna Botha |
|
Jy het seker ook al in die veld gestap en
naderhand dors geword vir heerlike koel water. Dan het jy in die
verte 'n stroompie hoor kabbel en dalk so bietjie deur bosse gestap
agter die geluid aan. Jy het deur 'n toegegroeide paadjie gesukkel
en die bosse het jou bene gekrap, maar dan skielik sien jy daardie
stroompie bergwater voor jou. Soms weet jy nie eers waar die
oorsprong van daardie stroompie is nie, maar daardie helder skoon
water is uiters aanloklik. Dan sit jy jou stapsakkie neer, en hurk
by die stroompie. Met jou twee hande vorm jy 'n bakkie en drink
behaaglik van daardie heerlike water. Daar is min dinge so
verfrissend soos dit.
So is die Here se liefde enige tyd beskikbaar vir enige een wat dit
graag wil deel maak van hulle lewe. As jy daarna dors, sal jy daarop
afkom en sal daardie Lewende Water jou verfris en jou dors les. Jy
sal voel hoe Hy deel word van jou binneste, en jy sal voel hoe jou
swaar gemoed lig en plek maak vir vreugde en vrede.
"Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein. Dit maak van jou
’n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning." (Spr.
14:27 DB)
As Hy eers jou dors geles het, sal jy nooit weer na iets anders smag,
of daarvoor dors word nie.
“Wel, elkeen wat van hierdie put se water drink, sal na ’n rukkie
weer dors word, antwoord Jesus. Wie egter van die water drink wat Ek
hom sal gee, sal nooit ooit weer dors word nie. Daar sal iets in
daardie persoon gebeur. Die water wat Ek vir hom sal gee, sal in ’n
fontein binne-in hom verander. Hierdie borrelende, lewende water sal
maak dat hy vir ewig sal lewe.” (Joh. 4:13-14) ~ Willem Botha,
15/05/2023 |
|
Dankie dankie dankie
Vir wie sê jy dankie as uiterste dankbaarheid jou oorval? Natuurlik
sê ons dankie vir mense, ons is mos reg grootgemaak, maar ek praat
van daardie dinge wat bo ons menslike begrip is. Vir wie sê 'n ateïs
dankie? Verwonder die ongelowige hom ook aan dinge wat met groot
genade oor sy pad kom? Of maak die begrip van dankbaarheid en genade
niks saak nie? Ek worstel om dit te verstaan.
"Net toe Hy 'n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans
Hom tegemoet, maar hulle bly op 'n afstand staan en roep hard:
“Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan
wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond
geword. En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is,
omgedraai en God hardop geprys."(Luk. 17 : 12 - 15)
EEN!!! Net een! Net een sê dankie, nadat hy genees is van 'n
verskriklike siekte! Hoe op aarde is dít moontlik? Nét één? Sjoe.
As ek in die aande aan die slaap raak oorspoel dankbaarheid my soms
oor 'n veilige huis met 'n warm bed en 'n warm bad, genoeg inkomste
om goed te leef en 'n yskas vol kos. En dan kom daar gewoonlik 'n
reuse golf van dankbaarheid oor my as ek dink aan my gesin, maar wat
van die dinge wat so vanselfsprekend kom?
In my hele lewe, het ek nog nooit te min suurstof gehad om asem te
haal nie, en daar was altyd genoeg reën, sonskyn en ander natuurlike
elemente wat lewe moontlik maak.
En wat van die feit dat ek elke jaar maar net oor verkoue en griep
kom en dit selfs vryspring?
Raak jy ook uiters gefrustreerd met trokke op die pad as jy jou
jaarlikse (welverdiende) wegbreek neem see toe? Maar was jy al
dankbaar dat mense daardie gevaarlike en ondankbare werk doen, sodat
jy volgende week die inhoud van daardie trok op die winkelrakke sien
en opkoop? Ons braak mos lekker gal oor die polisie, maar was jy al
dankbaar vir die duisende wat daardie gevaarlike, veeleisende werk
na die beste van hulle vermoë doen? Ons spot lekker oor Eskom, maar
was jy al dankbaar vir duisende mense wat regtig alles in hulle
vermoë doen om die ligte aan te hou, ten spyte van moeilike
uitdagings? Was jy al dankbaar vir die mense wat jou asblik kom
leegmaak voor jou huis?
Ek kan SO lank hiermee aangaan, maar ek bely ek is een van daardie
nege wat maar net wegstap sonder om om te kyk en selfs net vir die
Here te knik uit erkenning.
Noodsituasies maak mens kortstondig bewus van die Here se genesende
hand, maar dit hou nie lank nie.
Mag die Here my vergewe daarvoor dat ek alles maar net
vanselfsprekend vat.
Dankie Here! So 'n klein woordjie. Dankie Here! ~ Willem Botha,
11/05/2023 |
|
Wie is U Here?
Ps 160 ('n Psalm van Willem)
1) Wie is U Here? U wat so oneindig misterieus te werk gaan, U wat
onverstaanbaar is, U wat groter is as wat ons ons kan indink.
2) Wie is U Here, U wat soms onsigbaar is terwyl ons U so graag wil
sien, maar wie soms onverwags verskyn en dan so groot is dat ons U
nie kan miskyk nie.
3) Wie is U Here? U wat soms vir dae stil kan wees en nie reageer op
ons vrae nie, maar dan deure oopmaak en al die kaarte in plek laat
val.
4) Wie is U Here, wat soms oordonderend hard kan praat, maar soms
deur 'n sagte oggend bries in ons oor fluister.
5) Wie is U Here, wat deur vele misgekyk word, maar miljoene sien en
hoor U as ons smag na U teenwoordigheid.
6) Wie is U Here, U wat met ons moeite maak, terwyl ons so sondig
is, en U konstant teleurstel.
7) Wie is U Here, wat soms genees en soms nie, U wat soms ons gebede
verhoor en wonderwerke doen, maar tog soms lyk of U, U aangesig van
ons af wegdraai.
8) Wie is U Here, wat dikwels die dood toelaat, en wat dikwels die
ergste laat gebeur, maar dan onmiddellik daar is om te vertroos.
9) Wie is U Here, wat U Seun kon laat sterf, sodat ons nie ook hoef
te sterf nie, U wat op hierdie vreemde manier U liefde bewys.
10) Wie is U Here, wat soms so moeilik is om te verstaan, dat
geleerdes struikel en rondtrap, maar klein kindertjies kan U
raaksien en bonatuurlik glo.
11) Wie is U Here, wat geloof in ons kan laat wortel skiet, geloof
in Iemand wie ons nie kan sien nie.
12) Wie is U Here, wat my waardig genoeg ag om my naam in U
handpalms te graveer, en my naam in die boek van die lewe neerskryf.
13) Wie is U Here, ek verstaan U nie altyd nie, ek is nie heilig
soos ek moet wees nie, maar tog kry ek soms trane as ek aan U dink.
14) Wie is U Here? U sê "Ek is..."
Daarmee kan ek saamleef.
Sela ~ Willem Botha, 08/05/2023 |
|
So sê die Here Here: “Ek verander donker voor
hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan
doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” (Jes. 42:16) Baie kere kyk
ek só vas in vandag se moeilikheid en probleme dat ek dink dis nou
hoe die hele toekoms gaan wees: donker en sonder hoop. Ek lees nou
die dag dié interessante stukkie wat sê behalwe IQ (intelligence
quotient) wat mens se intelligensie en vermoëns weerspieël, is daar
ook ’n EQ (emotional quotient) wat ’n aanduiding is van jou vermoë
om vrede te bewaar, mense ruimte te gee, verdraagsaam, bedagsaam,
opreg te wees teenoor mense, om verantwoordelik op te tree, grense
te respekteer, ens. Dis ’n weerspieëling van jou karakter. Wat
daarby aansluit is ’n SQ (social quotient) wat verklap hoe goed jy
verhoudings kan opbou en hoe jy vriendskap en verwantskap met mense
oor ’n lang tydperk in stand kan hou. Daar word blykbaar deesdae van
’n vierde aspek gepraat, nl. ’n mens se AQ (adversity quotient). Dit
verwys na ’n mens se vermoë om deur ‘n moeilike tyd te gaan en goed
anderkant uit te kom, jou vermoë om deur verlies, swaarkry, siekte,
trauma, ongeluk ens. te werk, om terug te bons ná terugslae en weer
moed te hê om voort te gaan. Nou ja, ek dink as mens ’n goeie
telling kry vir enige van hierdie Q’s is dit maar net die Here se
genade, of hoe? Dié teks in Jes. 42:16 het my laat dink aan die AQ –
die terugbons kwosiënt, die opstaan-en-weer-begin kwosiënt, die
lig-in-die-donker-raaksien kwosiënt. En ook dít kom deur die Here se
genade. Hoe kan mens glo dat die son wel weer sal skyn, hoe sal jy
die lig in die donker tonnel sien, hoe sal jy kan fokus op die
silwer randjie om die donker wolk as jy nie die Here in jou lewe het
nie? Dis net Hý wat donker in lig verander, wat ongelyk, moeilike,
rowwe paaie gelyk maak, slaggate opvul, struikelblokke wegrol, boeie
laat stukkend breek. Kyk hoe mooi sê Job se vriend vir hom: “... kan
jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat
weggeloop het. Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou
donker sal lig word soos die môre. Jy sal gerus wees omdat daar vir
jou vooruitsigte is.” (Job 11:16-18) Mag die Here vir ons ’n hoë AQ
gee! ~ Wilna Botha, 04/05/2023 |
|
Mense beskuldig Christene
graag daarvan dat hulle so vol foute en sondes is, dat dit ander
wegstoot van die Here af. Iemand het eendag gesê dat die kerk die
rede is hoekom hy nie kerk toe gaan nie en mense vertel graag hoe
Christene hulle seergemaak het.
Sommige van hierdie elemente is seker waar, maar dit maak dat ons
dan maar eerder stilbly oor ons geloof en nie ander wil bedien nie.
Kyk net hoe raak vat Dawid dit in hierdie teks.
"U weet hoe sondig ek is, o God, my verkeerde dade kan ek tog nie
vir U wegsteek nie. Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U
vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie. God van Israel,
moenie dat dié wat by U hulp soek, deur my toedoen beskaam word nie."
(Ps. 69:6-7)
Ons kan maar gerus ook hierdie woorde ons eie maak, maar ek wil tog
'n ander hoek ook op hierdie ding sit. Hier is 'n paar punte:
* Moenie dat mense jou as 'n verskoning gebruik omdat hulle nie die
Here wil dien nie.
* Moenie dink jy moet volmaak wees om iets vir die Here te beteken
nie.
* Ja, Christene maak mense seer, maar daardie selfde mense maak
ander ook seer.
* Staan op as jy geval (of teruggegly het) en gaan weer aan met die
goeie werk.
* Jou redding maak hoegenaamd nie van jou 'n volmaakte mens nie.
* Omring jou met mense wat jou opbou, eerder as met mense wat jou
afbreek.
* Jy hoef nie in mense se goeie boekies te kom nie, jy is reeds in
die Here se goeie "boekie".
* Versprei die goeie nuus. Dis al wat jou werk behels, dis die Here
wat die saad laat groei.
* Daar is net twee situasies wanneer jy die Woord van God mag
verkondig. Tydig en ontydig!
"... verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê,
bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee" (2Tim. 4:2)
~ Willem Botha, 03/05/2023 |
|
“Die Here sê: ’n Mens wat wysheid het, moet nie
loop en spog met sy kennis nie. Net so moet iemand wat sterk is, nie
grootpraat oor sy krag nie. Dieselfde geld vir mense wat ryk is;
hulle moet nie dink hulle is beter as ander mense omdat hulle baie
geld en goed het nie. As daar mense is wat tog wil spog, is daar net
een goeie rede en dit is dat hulle insig het en My ken.” (Jer.
9:23-24, DB) So sê die Here Here. Ons het niks waarop onsself kan
trots wees nie, ons het niks gedoen waaroor ons op onsself kan roem
en vir onsself eer toe-eien nie. Al het jy ook hoe hard gewerk om
iets te bereik of te bekom, bly dit nog steeds iets wat die Here jou
vergun het, waarvoor Hy jou toegerus het, waarmee Hy jou gehelp het,
waarvoor Hy jou genade, gesondheid en krag geskenk het. “Jy kan dalk
dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar
jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die
krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:17) Ons ken almal
iemand wat dink hulle is beter as jy omdat hulle kennis en
kwalifikasies het – dalk is dit jy self! Ons ken almal iemand wat
grootpraat oor hulle krag en vermoëns – dalk is dit jy self! Ons ken
almal iemand wat grootkop het en verwaand is omdat hulle ryk is en
wonderlike besittings het – dalk is dit jy self! Ai, ons weet tog
dat enige van daai dinge in ’n oogwink kan verander. Die slimme kan
homself êrens vasloop en ’n fout begaan. Die sterke kan enige
oomblik swak word, sy krag kan hom in die steek laat (dink maar aan
Goliat se vernedering toe hy teen die Dawid te staan gekom het), sy
krag kan van hom weggeneem word deur siekte of ongeluk waaroor hy
nie beheer het nie. Die ryke kan in ’n oogwink sy geld of besittings
verloor, sy skatte kan waardeloos word, deur mot en roes verniel
word (dink maar aan die gelykenis van die ryk dwaas in Luk. 12.
“Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van
jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ So
gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by
God nie.” (Luk. 12:20-21)) Pred. 9:11 vat dit mooi saam: “Verder
het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die
reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié
met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie,
nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.” Kom ons ondersoek
maar weer ons harte en gesindheid en motiewe – wat is regtig
belangrik? So sê die Here Here: As daar mense is wat tog wil spog,
is daar net een goeie rede en dit is dat hulle insig het en My ken.
“Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n splinternuwe
lewe op julle.” (Luk.12:21, DB) ~ Wilna Botha, 02/05/2023 |
|
Amazing grace
how sweet the sound
That saved a wretch like me
I once was lost, but now I'm found
Was blind but now I see
'Twas grace that taught my heart to fear
And grace my fears relieved
How precious did that grace appear
The hour I first believed
Through many dangers, toils, and snares
I have already come
This grace that brought me safe thus far
And grace will lead me home
When we've been here ten thousand years
Bright, shining as the sun
We've no less days to sing God's praise
Than when we first begun
Amazing grace how sweet the sound
That saved a wretch like me
I once was lost, but now I'm found
Was blind but now I see
Hierdie lied
is in 1772 geskryf. Ek glo derduisende mense is al hierdeur verander,
en het vertroosting gevind in moeilike omstandighede as hulle
hierdie kosbare woorde sing.
Sing dit as jy dalk verlore voel. Sing dit as jy twyfel of die Here
vir jou lief is. Sing dit as dit lyk of daar geen lig in die tonnel
is nie. Sing dit as jy net weereens dankbaar voel dat hierdie woorde
vir jou waar is. Sing dit as jy besef dat daar steeds hoop is vir my
en jou. Sing dit as jy sommer net in jou gedagtes alleen met die
Here kuier en in stilte "nagmaal vier". Dis tog die wese van jou
saligheid.
Ek hoop hierdie pragtige lied sal vir 'n rukkie in jou kop draai. ~
Willem Botha, 01/05/2023 |
|
Het jy al in benoudheid uitgeroep na die Here?
Het jy al ook sy Naam aangeroep op 'n tyd wat jy besef dis die heel
hoogste gesag waarna jy kan uitroep? Here, help my. Here, waar is U?
Here, bring vir my troos. Here, dankie dankie dankie vir U guns wat
U op my uitstort. Here, ek eer U vandag omdat ek U vandag opnuut
raaksien in my lewe. Here bevestig asseblief weereens U beloftes aan
my.
Van kleins af het ek grootgeword met die gedagte dat die Here net 'n
uitroep ver was. Hoeveel keer was ek al doodsbenoud, en die Here was
daar toe ek sy Naam aanroep. Of na Hom uitroep. So lees ek vandag
hierdie kosbare teks in Genesis 4 raak.
"Adam het weer met sy vrou gemeenskap gehad, en sy het 'n seun in
die wêreld gebring en hom Set genoem, “want,” het sy gesê, “God het
vir my 'n ander kind gegee in die plek van Abel omdat Kain hom
vermoor het.” Ook vir Set is daar 'n seun gebore, en Set het hom
Enos genoem. In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die
Here aan te roep." (Gen. 4:25-26)
Hoe spesiaal is dít nie?
"In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te
roep."
Besef jy hoe lank terug dit moes wees? Daar was nie kerke of tempels
in daardie tyd nie. Die mense was waarskynlik nogal ongeletterd,
maar hulle het geweet hulle kan net na Hom uitroep. Dit was in die
begin van die begin van die mens se geskiedenis, en die mense het
die Naam van die Here begin aanroep.
So kan ons Hom daagliks aanroep, daagliks vrylik tot Hom bid en
vrylik met Hom gesels.
" Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word." (Rom.
10:13)
Kyk nou net, verlossing is net een uitroep ver, soos die misdadiger
aan die kruis langs Jesus.
"LOOF die Here, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade
bekend."(Ps. 105:1)
Tussen hoeveel mense sal jy jou kind se uitroep herken? Tussen
hoeveel geraas sal jy weet dat jou kind na jou uitroep? Jy ken daai
antwoord baie goed.
Roep die Here aan, Hy sal hoor! ~ Willem Botha, 26/04/2023 |
|
“So sê die Here: Daar rus ’n vloek op die mens
wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense
en van My wegdraai.” (Jer. 17:5) Ons almal stel tóg wel die een of
ander tyd ons vertroue in ’n mens – jou man of ouers, jou baas of
kollega , jou dominee of geestelike vriend. Ons hét mense nodig om
ons te lei en te help en self neem ons ook dikwels daai posisie in
waar ander weer op óns vertrou, nie waar nie? Dit voel nie vir my of
vandag se vers sê ons moet glad nie op mense vertrou nie, ek dink
die waarskuwing wat die Here vir ons gee is dat ons moet besef dat
mense feilbaar is, foute maak, nie betroubaar is nie; dat mense kan
jok, van plan verander en dat hulle hul eie belange bo ons s’n gaan
stel; dat ons nie seker kan wees van hulle motiewe en nie op hulle
integriteit kan peil trek nie. Soos Jes. 2:22 sê: “Moenie op mense
staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is
min werd.” Die groter probleem wanneer ons op mense vertrou, kom
wanneer dit daartoe lei dat ons van die Here af wegdraai (soos die
teks hier bo sê), dat ons vergeet dat Hý die ware Betroubare is, dat
ons Hom nie as die eerste prioriteit in ons lewe plaas nie. “So gaan
dit met hulle wat vir God vergeet... Hy vertrou op ’n dun draadjie,
hy maak op ’n spinnerak staat.” (Job 8:13-14) Hier is my gunsteling
“so sê die Here Here”-vers vir vandag: “Dit gaan goed met die mens
wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here 'n
veilige vesting is; so iemand is soos 'n boom wat by water geplant
is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as
dit kom nie en altyd groen blare het; 'n droë jaar raak hom nie en
hy hou nie op om vrugte te dra nie.” (Jer. 17:7-8) Vertrou in die
Here, julle God en julle sál vasstaan. ~ Wilna Botha, 25/04/2023 |
|
“So sê die Here die Almagtige: Skep moed!” (Sag
8:9) Waarvoor het jy vandag moed nodig? Waarvoor het jy groter
uithouvermoë, nuwe krag en dieper hoop en gerusstelling nodig? Dalk
is dit jou gesondheid waaroor jy bekommerd is. Dalk het jou
finansies ’n laagtepunt bereik. Dalk het jy onlangs op die rooi
tapyt voor die baas gestaan. Dalk het jou beskikbare opsies in ’n
doodloopstraat geëindig. Dalk is alles om jou pikdonker omdat jy ’n
geliefde aan die dood moes afstaan. Dalk werk niks meer uit nie en
al jou planne val plat. Dalk het jou woorde opgeraak om ’n
verhouding te probeer red. Dis nóú dat die Here Here vir ons sê:
skep moed! “Laat julle hande sterk wees,” sê die 1953 vertaling van
Sag 8:9. Wees sterk. As die Here vir ons sê om moed te skep, dan
weet ons Hy gaan ons ophelp. As die Here vir ons sê om moed te skep,
dan weet ons Hy het ’n plan vorentoe. As die Here vir ons sê om
sterk te wees, dan weet ons Hy gaan vir ons nuwe krag gee. Hier is
my gunsteling “so sê die Here Here”-verse vir vandag : “My genade is
vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak
is.” (2 Kor. 12:9) ; “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak
die moedelose weer vol moed.” (Jer. 31:25) ~ Wilna Botha, 20/04/2023 |
|
Aksies en reaksies
Newton se derde wet verklaar : "Vir elke aksie is daar 'n gelyke en
teenoorgestelde reaksie."
Dis so waar in ons lewe, want elke ding wat gebeur, word deur die
teenoorgestelde uitgedaag. En so is dit ook in ons Geestelike lewe.
Probeer iets goed doen en die onaangename dinge probeer inmeng. Dis
nou maar eenmaal so dat min dinge volmaak verloop in die lewe en
soms noem ons dit sommer ou Murphy.
Maar dit lyk my waar die Here werk word so paar natuurwette verander.
1)Lig sal ALTYD donkerte oorwin, want ons kan nie donkerte skep nie,
dis bloot donker weens 'n gebrek aan lig. So oorwin God se lig ook
ALTYD die donker.
2) God se genade sal ALTYD ons sonde oorwin. Sonde het nie 'n kat se
kans teen die "aggressiewe aanslag" van genade nie.
3) God se liefde sal ALTYD groter as Sy toorn wees, want Hy IS
liefde.
4) Al lyk dit nie so in die wêreld nie, sal die kwaad altyd die
goeie oorwin, as ons ons energie op die regte manier aanwend. In ons
eie land is die lewe(vir die meeste van ons) steeds lekkerder as
slegter, of hoe?
5) Daar is baie pyn in die wêreld, maar daar is steeds meer genesing.
6)Daar is baie trane, maar steeds meer lag.
7) Daar is baie oorloë, maar steeds meer vrede.
8) Daar is baie hartseer, maar tog meer vreugde.
Hoe sien jy die lewe se glas? Half-vol of half-leeg? Ek kies
bewustelik om eerder die goeie as die slegte te sien. Dan kom
hierdie opdrag vir ons uit Romeine:
Rom 12:21 "Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin
die kwaad deur die goeie." ~ Willem Botha, 19/04/2023 |
|
Here, dat ek kan sien...
"Jesus het naby Jerigo gekom. Toe 'n blinde man wat daar langs die
pad sit en bedel, die groot menigte mense hoor verbyloop, vra hy wat
aan die gang is. Hulle vertel hom toe: “Jesus van Nasaret gaan hier
verby.” Toe roep hy uit: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
Die mense wat voor geloop het, het hom beveel om stil te bly, maar
hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!”
Jesus gaan toe staan en gee bevel dat hy na Hom toe gebring moet
word. Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir
jou doen?” En hy antwoord: “Here, dat ek kan sien.” Jesus sê vir hom:
“Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered.” En onmiddellik kon hy
sien, en hy het Jesus gevolg en God geprys. Ook al die mense wat dit
gesien het, het aan God die eer gegee." (Luk. 18:35-43)
Dalk het jy ook vandag 'n eenvoudige gebed of versoek vir die Here.
Here, dat ek kan sien...
Here, maak my geeste oë oop dat ek U kan sien...
Here, dat ek genees kan word van hierdie kwaal...
Here, dat ek nie my werk sal verloor nie...
Here, dat my huwelik gered sal word....
Here, dat U my kinders sal bewaar teen slegte invloede...
Here, dat ek weer hoop kan kry vir ons land...
Here, dat ek weer kan glo in 'n blink toekoms...
Here, dat ek sal kan losbreek uit hierdie put van depressie...
Here, dat ek nie meer so baie dinge sal vrees nie...
Here, dat ek bruikbaar sal raak in U Koninkryk...
Here, dat ek 'n verskil kan maak in mense se lewens...
Here, dat U sal voorsien in my daaglikse behoeftes...
Here, dat U my sal heelmaak na hierdie reuse verlies in my lewe...
Here, dat U iemand op my pad sal sit wat hierdie geweldige
eensaamheid kan verlig...
Here, dat ek onderskeidingsvermoë sal hê in moeilike besluite...
Here, dat ek weer nuttig kan voel...
Here, dat ek weer "purpose" in my lewe sal hê...
Here, dat ek sal kan vergewe en vry kom van bitterheid...
Here, dat ek vergewe sal word deur persone wat bitter voel teenoor
my...
Here, dat ek myself sal vergewe...
Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou
doen?”
Moenie moed verloor nie. Die Here is gretig om te help. ~ Willem
Botha, 17/04/2023 |
|
“So sê die Here: Die hemel is my troon en die
aarde die rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle
vir My bou, die plek waar Ek kan woon?” (Jes. 66:1)
Ek was op ‘n stadium so hartseer om te sien dat die “heilige”
kerkgebou, waarin ek grootgeword het en meer as veertig jaar gelede
in getroud is, verkoop is en nou ‘n koepel op het en ‘n moskee
geword het! Dit was dan “die huis van die Here”! Toe ons grootgeword
het het ons nie eens hard gepraat in die kerk nie want dit was ‘n
heilige plek, ons het ons beste klere (en hoede) aangetrek as ons
soontoe gegaan het, want dit was die huis van die Here. Dit was
skoon en blink met mooi houtwerk, blink gevryfde vloere en rooi
matte in die gangetjies, want die Here het daar gewoon. En nou dat
dit ’n moskee geword het, waar woon die Here dan nou? Het God nou
minder heilig geword, of is sy eer aangetas omdat dié spesiale gebou
nou vir iets anders gebruik word? Nee, definitief nie. Na my mening
is die kerk net ‘n gebou van bakstene en sement, dit is eers wanneer
óns daar ingaan en God aanbid dat dit ‘n heilige plek word. Waar
Christene bymekaar kom is die Here in hulle midde, en word dit ‘n
heilige plek, of dit in ‘n sitkamer, onder ‘n boom, in ‘n sel in die
gevangenis, of in die mooiste, sierlikste kerkgebou is. Wat help dit
tog as die kerkgebou heilig is, maar ons wat daar ingaan bied nie
ons lewens en liggame aan God as ‘n heilige, afgesonderde woonplek
nie? Na my mening is laasgenoemde veel belangriker! “Hoe moet die
huis dan wees wat julle vir My bou, die plek waar Ek kan woon?” –
óns is die plek waar Hy wil woon. Hier is my gunsteling “so sê die
Here Here”- vers vir vandag: “Weet julle nie dat julle die tempel
van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? ... die tempel
van God is heilig, en die tempel is julle.” (1 Kor. 3:17) ~ Wilna
Botha, 13/04/2023 |
|
Dis regtig baie maklik om my vas te vra oor
geestelike sake. Dis selfs maklik om my by 'n punt te kry dat ek
twyfel oor baie dinge in die Bybel. En as jy vir my vra om kwelvrae
oor ons Christelike geloof te beantwoord, draai ek baie vinnig vas.
Ek weet nie hoekom die Here swaarkry toelaat nie, ek weet nie of 'n
ongelowige óf gelowige persoon se baba in die hemel is as die kind
gesterf het nie. Ek weet nie hoekom mense bonatuurlik gesond word
van ongeneeslike siektes, maar niemand se ledemate groei aan as dit
geamputeer is nie. Ek weet nog minder hoekom ou mense swaar kry in
hulle laaste dae. En o wee, laat ons nie begin praat oor die
skepping en die twee skeppingsverhale in die Bybel nie. Van die
Bybel gepraat, ek het nie antwoorde as dit lyk of sommige tekste
mekaar weerspreek nie.
Maar ek hoor toe vandag 'n wonderlike vergelyking wat nie in 'n
geestelike konteks gebruik was nie, en daar "drop die pennie" vir my
oor 'n klompie goed.
Gestel daar is 'n legkaart met een miljoen stukke, maar daar word
net drie stukke vir jou gegee, hoe op aarde kan jy 'n prentjie van
die geheel vorm? Maar nou verloop daar tyd en met die tyd kry jy
enkele stukkies by en daar word hier en daar al effe van 'n patroon
gevorm. Gaan jy opgee met die hele legkaart, of gaan jy dalk meer en
verder begin soek? Hierdie is die kruks van die saak, want die mens
is 'n soekende wese. Met die tyd gaan jy baie foute maak oor dít wat
jy as die geheel sien, en jy gaan dit besef en soms 'n nuwe rigting
inslaan. Maar in jou hele lewe, sal jy nóóit weet wat die geheel is
van die lewe nie.
Wat my by die soewereiniteit van die Here uitbring. Ek en jy het
absoluut geen manier om die Here en sy weë in sy totaliteit te
verstaan nie. En in hierdie lewe sal jy dit op geen manier kan
regkry nie, en daarom is hierdie reis en stryd om te verstaan, deel
van ons lewens.
Wat sou gebeur as ek die hele legkaart kon sien? Sou ek nog geloof
nodig hê?
Ek het onwillekeurig aan hierdie volgende teks gedink (en nee ek
verstaan ook nie hierdie teks nie).
Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword
deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en
die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly
lewe nie!” (Gen. 3:22)
Einstein het lank gelede gesê dat hy nie dink dat die Here dinge vir
ons verborge wil hou nie, maar net dat ons verder moet soek. Hoeveel
dinge het die mens nie sedert daardie uitspraak destyds ontdek nie,
maar steeds weet ons nie presies wat in 'n atoom aangaan nie. As ons
nie eers 'n atoom verstaan nie, hoe kan ons die God van die atoom
ten volle verstaan? As ons soek na sogenaamde "dark matter" in die
heelal en dit nie kry of verstaan nie, hoe sal ons die God van "dark
matter" ten volle verstaan? As ons nie verstaan hoe elke sel in ons
liggaam dood is, maar ons lewe nie, hoe sal ons die God wat lewe
moontlik maak ten volle verstaan?
Al wat oorbly is geloof, want soms is daardie drie legkaart stukkies
genoeg om ons te laat glo dat daar Iemand is wat die groot legkaart
in Sy hande hou. Jy en ek is piepklein stukkies van daardie legkaart
en dit laat ons nietig voel. Maar besef jy dat daardie legkaart nie
volledig kan wees sonder jou nie? Ja vriend, ons verskil van mekaar
oor baie dinge, want ons weet SO min, maar solank jy deel is van die
Skepper se plan, is ons almal stukkies van hierdie grootse,
volmaakte geheel waarmee Hy besig is.
Glo, soek en verdra mekaar, en vra Hom om Homself aan jou te
openbaar, en net dalk wys Hy vir jou nog 'n paar stukkies van sy
meesterstuk. ~ Willem Botha 12/04/2023 |
|
So sê die Here Here. “Dit is volbring.” (Joh.
19:30).
“’Nou het Ek alles gedoen wat Ek moes doen.’ Sy kop het vooroor
geval en Hy het sy laaste asem uitgeblaas.” (Joh. 19:30 Die Boodskap)
Tetelestai. Goeie Vrydag en Jesus sê “Tetelestai”.
Vir my is dit die hoogtepunt van die kruisgebeure, want hiermee sê
Jesus dat Hy dít waarvoor Hy gekom het, voltooi het, sy werk is
afgehandel. Hy het met Sy liggaam en Sy bloed betaal vir die sonde
van die mensdom, vir jóú, vir mý! Tetelestai is ’n rekenkundige term
wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening
volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van opgestapelde
sonde wat ons teen God het, nou deur Jesus ten volle betaal is. Daar
is geen skuld meer teen ons nie. “Hy het die skuldbewys met sy eise
teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker het Hy
dit vir goed weggeneem.” (Kol 2:14). Ek glo dit!
Hier is my “so sê die Here Here”-vers vir Paasfees: “Kom tog, laat
ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle
skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle
purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18) ~ Wilna Botha,
06/04/2023 |
|
Ek sit sommer hier en dink aan 'n ou ietsietjie
waarmee ek sukkel, en ek skryf sommer net so 'n paar gedagtes vir
myself neer. Jy kan dit maar lees as jy lus is, maar dalk het jy nie
dieselfde probleem as ek nie. En dis oorreageer, 'n skerp tong, nie
bietjie bedaar en net rustig weer dink oor 'n slegte situasie nie.
"’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense
woedend." (Spr. 15:1)
Jip, jy weet waarvan ek praat, daai ongeduld, harde woorde en vererg
raak oor strooi. Die afgelope paar dae was ek gekonfronteer met 'n
paar situasies waar hierdie slegte streek in my bykans die oorhand
gekry het.
Ek vererg my gister omdat dinge nie vlot verloop by 'n hospitaal nie
(Wilna het vertel dat sy gaan vir 'n prosedure op haar hand), maar
toe alles verby is en ek met 'n saalsuster praat wat toe al vir baie
ure aan diens is, doodmoeg op haar voete is, en laat by die huis
gaan kom by haar drie jong kinders, het my "woede", of eerder
ongeduld plek gemaak vir diep dankbaarheid. Om by 'n privaat
hospitaal baie goeie diens te kry is 'n voorreg wat vir min beskore
is. As ek terugdink aan my ergernis vroeër die dag oorspoel 'n
skaamte my.
Ek was onlangs vies vir iemand wat werk by my huis gedoen het, maar
later het ek besef dat my ongeduld gemaak het dat ek die meesterlike
werk wat die persoon gedoen het, misgekyk het. Ek het toe moeite
gedoen om te wys dat ek dankbaar is, en nou voel ek baie goed
daaroor.
So beland ek onlangs agter 'n klompie fietsryers wat die pad vol ry
en was gereed om daai aggressiewe toeter op hulle los te laat, maar
toe ek besef dat die pad so smal is dat ek eerder agter hulle moet
bly, het ek regtig lekker gevoel toe hulle 'n baie mooi dankie gewys
het omdat ek geduldig was. Soos jy sekerlik kan dink, sou ek kon sê
dat dit regtig minder as 'n minuut van my tyd gemors het. Ek kon óf
baie ergerlik gevoel het daarna, óf lekker dat ek iemand anders 'n
plek in die son gegun het.
'n Vinnige tong en goor reaksie op iets, laat mens nét sleg voel, en
dan sê jy 'n honderd keer jammer agterna oor jou opvlieëndheid. En
hier is so bietjie goeie raad (vir myself natuurlik), moenie iets
lelik vir iemand skryf as jy in 'n slegte situasie was nie, jy kan
daardie woorde nooit weer terugtrek nie. 'n E-pos of WhatsApp bly
vir ewig en altyd 'n herinnering van jou kwade gedrag. Dis so lekker
om met 'n glimlag uit 'n stryd te tree deur met sagte woorde 'n
situasie te hanteer, eerder as om nog vir jare 'n onaangename
selfgesprek aan die gang te hou.
Daar het sekerlik ook 'n keer of wat 'n donkiekar voor Jesus se
donkie ingery, en ek glo dat Hy met 'n vriendelike handgebaar die
donkiekar-taxi se drywer sou seën. Hier is daardie teks weer.
"’n Sagte antwoord laat die woede bedaar. Skerp woorde maak mense
woedend." (Spr. 15:1) ~ Willem Botha, 05/04/2023 |
|
Hierdie
volgende paar dae is 'n baie belangrike tyd in ons geloofslewe. Die
aanloop na Jesus se kruisiging, sy dood en dan sy opstanding. Sommer
'n lekker verhaaltjie wat ons vir die kinders kan vertel, of hoe? Of
is dit dalk 'n tyd wat vir menige mense hoop gee, en iets om aan vas
te hou, al het dit dalk nie regtig gebeur nie? So sê die ongelowiges
mos graag. Iets tot die effek van: As julle fairy tale julle
gelukkig maak is dit seker maar goed.
Nee, ek en jy weet van beter. Maar die vraag is, wie was hierdie Man
regtig? Hoe kon een "mens" soveel invloed op die ganse
wêreldbevolking hê, en daardie invloed neem steeds ná meer as twee
duisend jaar nie af nie (al sê sommiges so).
Kom ons redeneer oor 'n paar goed. Hy het niks, maar niks oor
Homself geskryf nie, inteendeel, ons lees letterlik net van een
insident waar Hy in die sand geskryf het, terwyl ons nie eers weet
wat Hy geskryf het nie. Kon Hy lees? Definitief, want ons lees in
Luk. 4:17
"Toe Hy opstaan om uit die Bybel te lees, het hulle die boekrol van
Jesaja vir Hom gegee. Jesus het dit oopgemaak en begin lees..."
Hy was vir seker nie ongeletterd nie, want Hy was waarskynlik ook as
'n seuntjie onderrig in die Joodse wet. Hy het 'n geweldige wye
kennis gehad van die ou Testament en het dikwels uit dele daarvan
aangehaal, wat Hy dus moes memoriseer.
Toe word die owerhede kwaad vir Hom, kruisig Hom en Hy word in 'n
graf neergelê waar sy liggaam streng bewaak is. Kan jy dink hoeveel
invloed het Hy op daardie tyd gehad? Soveel dat die owerhede vir Hom
bang was! Ai, toe dink hulle hulle het hierdie Man se mag gebreek.
Wie was Hy? Hy wat op water kon loop, water in wyn verander, mense
wonderbaarlik genees, dooies opwek, duisende mense kos gee met 'n
paar brode en vissies.
Vra vir jouself hoe op aarde dit kon gebeur dat hierdie eenvoudige
Man wat waarskynlik net Aramees kon praat, geen boeke geskryf het
nie en sonder enige tegnologie die wêreld kon verander. Ons weet nie
eers hoe Hy gelyk het nie. Hoe dink jy? Watter een van hierdie twee
foto's sou 'n goeie refleksie wees van sy fisiese gelaatstrekke?
So kan ons redeneer tot in die ewigheid in, maar ons sal saamstem
dat daar iéts moes wees wat anders was aan Hom. Iets wat so 'n
geweldige invloed op mense het, wat maak dat mense met mekaar kan
saampraat, asof Hy persoonlik aan elkeen van ons verskyn het.
En dis waar die kruks lê. Hy hét verskyn aan elke wedergebore
Christen, deur die Gees wat ons kom aanraak. Wie of wat anders kon
dít ooit regkry? Geen wêreldleier, geen akteur, geen invloedryke
persoon kon dit regkry nie. Elke enkele een se ster verskiet.
Gaan vier hierdie Paasfees met dankbaarheid vir alles wat Hy gedoen
het, en steeds doen, en wees dankbaar dat jy die voorreg van geloof
het, al "sien" jy nie.
Waarheid of fiksie? Jý sal weet. ~ Willem Botha, 03/04/2023 |
|
“Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is
daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek
en Ek maak gesond. Uit my mag word niemand bevry nie.” (Deut. 32:39)
So sê die Here Here! Daai middelste stuk van die teks is soms vir my
moeilik om te verstaan en vir ’n ongelowige te probeer verduidelik –
die Here kan ook slegte goed laat gebeur. Daar is altyd die ander
kant van die muntstuk ook. Hy gee die een en ook die ander. Hy laat
sleg en goed toe. Job is een persoon wat dít persoonlike ervaar het.
Hy het albei kante aan sy lyf gevoel en tog bely hy: “Die Here het
gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job
1:21) Prys die naam van die Here want bo-oor alles is Hy God, is Hy
in beheer, is Hy groter as enige menslike verstaan van die situasie.
Dis vir my mooi en gerusstellend hoe die Here daai “moeilike”
gedeelte in Deut. 32 toevou met dié twee feite: 1-Ek is die Here,
daar bestaan nie ’n ander God nie. 2-Niks en niemand kan jou uit my
mag bevry nie; sy krag kan nie gebreek word nie, niks kan dit wat Hy
vir jou wil doen stuit nie. “... no one can oppose what I do”, sê
’n Engelse vertaling. As jy dan vandag die goeie óf die slegte
ervaar, onthou jy is in die hand van die Here, onthou sy krag kan
nie gestuit word nie, onthou Hy sal jou deurdra. Vanmiddag het
Willem met iemand gepraat wat vir jare al genees is van kanker.
Iemand wat openlik sê hy is nie ’n “kerkmens” nie. Willem sê toe hy
wonder of die ou besef wie hom genees het. Dis natuurlik God. Hy
maak siek en Hy maak gesond!
Nou ja, ek is op die oomblik daar in die middel van die teks ... ek
moet ’n klein operasie aan ’n klein liggaamsdeel (my vinger)
ondergaan. Dis klein en ja, ek weet op dieselfde dag moet baie ander
mense baie groter operasies ondergaan vir baie groter probleme en
lewensbedreigende siektes, maar ék is bang en ek is nie lus daarvoor
nie. Maar, dit maak my rustig en gee my moed om te weet Wie saam met
my is, Wie gesond maak, Wie in beheer is. Hier is my teks vir vandag:
“Whenever we’re sick and in bed, God becomes our nurse, nurses us
back to health.” (Ps. 41:4, The Message) ~ Wilna Botha, 30/03/2023 |
|
Die wêreld gaan vir jou vertel dat dít wat jy
glo, vals is en outyds is, maar moenie dit glo nie, die geloof in
Christus het elke denkbare toets van die tye deurstaan.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat jy as mens sommer per toeval
gebeur het, maar moenie dit glo nie, jy is fyn deur God beplan,
miljoene jare voor jou geboorte.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat die hele skepping "per ongeluk"
tot stand gekom het, maar moenie dit glo nie, alles is ontwerp deur
'n ongelooflike Ontwerper wat iets tot stand laat kom het wat op
geen manier deur die mens verklaar kan word nie.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat daar nie net een God is nie, en
dat al die gelowe dieselfde god/God aanbid. Moenie dit glo nie, as
Hy nie 'n Seun het met die naam van Jesus Christus nie, is hy 'n
valse god.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat Jesus nie uit 'n maagd gebore is
nie, maar moenie dit glo nie, sonder die maagdelike geboorte was Hy
net 'n gewone mens, en sou mense se geloof in Hom nie die wêreld
verander het nie.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat wetenskaplikes die Christendom
die rug gedraai het, maar moenie dit glo nie, derduisende
wetenskaplikes en medici getuig van wonderwerke wat nie verklaar kan
word nie.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat die Bybel 'n boek is wat deur
mense geskryf is, sonder Goddelike inspraak en nie meer geld vandag
nie, maar moenie dit glo nie, daar bestaan geen boek wat mense se
lewens so verander het soos die Bybel nie, en dit gebeur steeds elke
liewe dag, en sal dit vir ewig doen.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat daar nie 'n hemel is nie en dit
net 'n versinsel is van die mens se brein, maar moenie dit glo nie,
daar is duisende gevalle waar mense 'n "hemelse" ervaring gehad het
waar hulle kortstondig gesterf het en hulle lewens wel gered is, en
die ooreenkomste van hierdie verhale is verstommend.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat daar nie 'n hel is nie, maar
moenie dit glo nie, die Bybel staan baie sterk hierop, moenie die
kans vat nie.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat Christen sakemanne almal skelm is
en net hulle geloof voorhou om jou in te doen, maar moenie dit glo
nie, daar is wonderlike mense vir wie jy met jou lewe kan vertrou.
Daar is egter ook ongelowiges vir wie met jou lewe kan vertrou.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat God van jou vergeet het, maar
moenie dit glo nie, jy is elke oomblik in Sy gedagtes.
Aan die ander kant gaan sommige ander vir jou vertel dat Christene
nie siek word of arm behoort te wees nie, maar moenie dit glo nie,
voorspoedteologie is niks anders as 'n piramide skema nie. Slegte
goed gebeur ook met goeie mense.
Van daardie mense gaan vir jou vertel dat hulle dinge oor jou kan "sien"
wat God aan hulle openbaar, maar moenie dit alles glo nie, daar is
iets soos vals profete, en hulle is baie gevaarlik. Daar is mense
wat vir jou gaan vertel dat jy nie deurbrake beleef nie omdat daar
slegte goed in jou huis is, of dat jou ouers dinge gedoen het wat
maak dat dit sleg gaan, maar moenie dit glo nie, die Here se liefde
vir jou kan nie deur sulke dinge oorheers word nie.
Ons leef in tye waar mense se opinies soos donderweer op jou
neerstort, moenie alles glo nie. Gaan vra vir God wat waar is en wat
nie. ~ Willem Botha, 29/03/2023 |
|
“So sê die Here: Op ’n tyd wat Ek goeddink, sal
Ek jou gebede verhoor.” (Jes. 49:8) Dit voel vir my of die Here twee
goed sê in hierdie vers: 1-Hy sal ons gebede verhoor; 2-Hy sal dit
op die regte tyd doen, die tyd wat Hy weet die beste tyd is. Ai, dis
mos nie maklik om te wag vir die Here se tyd nie nè. Ons is haastig
dat Hy moet hoor, dat Hy moet antwoord, dat Hy moet opdaag met sy
uitkoms. Vandag herinner ek myself daaraan dat daar ’n verskil is
tussen “hoor” en “verhoor”. Die teks sê nié: op ’n tyd wat Ek
goeddink, sal Ek jou gebede hoor nie. Nee! Hy hoor! Hy hoor altyd.
Kyk wat sê Jes. 30:19 : “Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.”
Sien jy, die verhoring van jou gebed begin alreeds wanneer jy dit
bid, wanneer die Here dit hoor en nie eers wanneer jy die Here se
reaksie op jou gebed beleef nie. Só het baie voor ons dit al ervaar
en vandag kan dit vir ons ook ’n realiteit wees. “Toe ek na U geroep
het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.” (Ps. 138:3) “In
my nood het ek na die Here geroep en Hy het my gebed verhoor.” (Ps.
120:1) “Maar God hét geluister, Hy hét my gebed verhoor!” (Ps.
66:19) Bid sonder ophou, “volhard in gebed” is ons opdrag in Kol
4:2. Bid op jou knieë, bid terwyl jy wakker lê in die nag, bid
terwyl jy ry, bid terwyl jy werk, bid met woorde, bid sonder woorde,
sing ’n gebed, lees ’n gebed, bid alleen, bid saam met mense, bid
hardop, bid fluisterend, bid lang gebede, bid een-woord-gebede – hoe
ook al, die Here hóór. Vandag is my gunsteling “so sê die Here
Here”-vers dié een in Ps. 91:15 : “Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy
gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees.” ~ Wilna Botha,
28/03/2023 |
|
In die weermag is jy uitgereik met 'n
spieëltjie wat nie van glas was nie, dit was 'n blink blik plaatjie,
en hy was dalk so 100 x 70mm groot. Jy kan dink dat die weerkaatsing
van daardie stukkie metaal regtig nie veel werd was nie. Gelukkig
het jy jouself meesal herken. Nou ja, 'n spieël wys vir jou presies
wie jy is, maar nie altyd nie. Ons is vreeslik lief vir "maer
spieëls", 'n spieël wat effens gebuig is en jou maerder laat lyk as
wat jy is. Ek dink jy het dalk ook destyds in ons jong dae spieëls
gesien wat jou kort, of lank, of maer of groot, of jou sommer net
heeltemal verwronge laat lyk.
Dis niks lekker om jouself in 'n spieël te bekyk wat jou lelik of
onvleiend laat lyk nie.
En tog doen ons dit bykans daagliks, en dan voel ons sleg oor
onsself omdat dit ons afbreek of verneder. Jy sien, jy en ek
weerkaats ander mense wat deur ons oë na hulleself kyk. Jy kry
uiters nydige mense wat jou baie subtiel in die grond in sal afbreek,
en dit deur woorde. Mense weerkaats 'n lelike beeld van jou terug na
jouself toe, gewoonlik om hulleself beter te laat lyk. Maar nie net
van jouself nie, soms weerkaats mense verwronge beelde van ander
mense na jou toe. Hulle noem dit skinder. Jy en ek het al talle kere
deurgeloop onder 'n skindertong, en jy en ek het was ook al vele
kere skuldig gewees aan presies dieselfde gedrag.
Miskien het jy ook vriende en familie wat jou altyd laat goed voel
oor jouself met mooi en opbouende woorde, woorde wat komplimenteer
en jou beeld opbou. Hou vas aan daardie spieëlbeeld en glo dit, en
verwerp ander se krom spieëls en moenie dit glo nie. Mense se woorde
het al ander se lewens gekos want hulle het daardie verwronge
spieëlbeeld geglo, en aan die ander kant het kinders (selfs met
agterstande) baie groot hoogtes bereik omdat hulle ouers 'n goeie
beeld van hulle na hulle teruggekaats het. Motivering, liefde,
ondersteuning en aanmoediging, is wonderlike spieëls, maar jaloesie,
nydigheid en 'n slegte selfbeeld maak dat mense 'n lelike beeld na
jou toe terugkaats.
Ek het soveel kere gesien dat huweliksmaats die aakligste beelde van
hulle wederhelftes terugkaats en 'n huwelik verwoes. Maar ook hoe
huweliksmaats mekaar daagliks komplimenteer en die beste beeld vir
die ander party skets. Meneer, hoor jou vrou gereeld dat sy vir jou
mooi is, en mooi lyk? Of is dit lekkerder om haar af te breek?
Hier kom die ergste. Omdat mense ander se aaklige gedrag omhels glo
hulle dat die Here hulle ook so sien.
Besluit jy nou vandag vir wie jy gaan glo. Goor mense, of vir die
Here. Kyk wat sê hy vandag vir jou.
"Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder
het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U
doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is
nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is
soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U
vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword
het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U
het besluit wat met my sou gebeur." (Ps. 139:13-16 DB) ~ Willem
Botha, 27/03/2023 |
|
“Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die
Here. (Es 37:14) So sê die Here, HERE! Wat Hy gesê het, is gesê. Dit
bly vasstaan. Sy woorde, sy beloftes, sy troos, sy redding – Hý het
dit gesê en Hy sál dit doen! Ons is maar té gewoond daaraan dat
mense beloftes maak wat hulle nie nakom nie, mense wat sê dat hulle
iets sal doen en dan gebeur dit nooit nie – ek is self ook skuldig
daaraan om van my beloftes nie ernstig op te neem nie. Maar God is
anders. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen – dis sy belofte! “God is
nie 'n mens nie, daarom lieg Hy nie. Hy gaan nooit terug op sy woord
nie. Dink jy God belowe iets en doen dit nie? Het Hy al ooit iets
gesê en nie sy woord gehou nie?” (Num. 23:19) Wat ’n blye
versekering! Ek kan myself oorgee en toevertrou aan my Here wat
betroubaar is, wat doen wat Hy sê. Hy besluit, Hy sê en dit gebeur.
“Die Here die Almagtige het 'n eed afgelê: Soos Ek My voorgeneem het,
so sal dit wees, wat Ek besluit het, sal gebeur.” (Jes. 14:24)
Vandag is my “so sê die Here Here”-vers Ps. 89:35 : “Ek sal my
verbond nie versaak nie, nie een van my beloftes terugtrek nie.” ~
Wilna Botha, 23/03/2023 |
|
Wat
ek is, is net genade, wat ek het is net geleen... Jy ken hierdie
woorde goed, dit kom uit "Gebed" van Koos du Plessis.
Wat "is" ek, en wat "het" ek? Vra gou vir jou dieselfde vraag af.
Wat "is" jy, en wat "het" jy? En sien jy die genade raak? En is jy
dankbaar vir daardie rentevry lening van die Here af?
Wat IS ek?
* Ek is baie baie gesond.
* Ek is gered deur Jesus se kruisiging.
* Ek is uiters gelukkig in 'n huwelik van meer as 41 jaar.
* Ek is baie gelukkig in my werk.
* Ek is van nature 'n positiewe mens.
* Ek is tevrede met ons lewe hier in Suid-Afrika.
* Ek is (oorwegend) lief vir die mensdom.
Wat HET ek?
* Ek het 'n wonderlike vrou en kinders.
* Ek het op enige gegewe dag meer as wat ek kan opgebruik.
* Ek het al die lewensmiddele wat ek nodig het om 'n aangename lewe
te lei.
* Ek het hoop vir die toekoms.
* Ek het reeds my visum en paspoort vir 'n ewige lewe saam met die
Here.
*Ek het vele talente (so glo ek), maar ek moet erken dat ek dit
beter kan inspan.
* Ek het 'n uitmuntende vriendekring.
So kan ek aangaan met wat ek "is", en wat ek "het". Ek kan eintlik
sê my beker loop oor. Kyk na die blikbeker op hierdie foto. Dis 'n
geroeste blikbeker. Die persoon wat baie tevrede is met sy blikbeker
wat oorloop, teenoor iemand wat net gelukkig is as sy Noritake beker
oorloop, is in 'n wonderlike plek in sy lewe.
Ja vriend, wat jy is, is net genade, en wat jy het, is net geleen,
en dis deur God aan jou geleen. En as jy hiervandaan verder reis in
die hiernamaals in, bly daardie geleende goed agter. Hoekom soveel
tyd en energie aan dinge spandeer wat so 'n kort raklewe het? En wat
jou lewenskwaliteit vernietig, jou vrede en vreugde steel en wat jou
"IS" miserabel maak. Kyk wat sê hierdie teks:
"Dit is baie beter om die Here lief te hê en eenvoudig te lewe as om
baie geld te besit, maar tog bekommerd oor jou geld en diep
ongelukkig te wees. Liewer ’n eenvoudige ete saam met mense wat
mekaar liefhet as baie lekker kos waar mense mekaar haat." (Spr.
15:16-17 DB) ~ Willem Botha, 22/03/2023 |
|
“So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil
julle lewe of wil julle sterwe?” (Jer. 21:8) 21 Maart en dis
Menseregtedag. Ek het vandag gewonder oor menseregte. Die
belangrikste reg waarop ’n mens aanspraak kan maak is seker vryheid.
En vryheid lei daartoe om self ’n keuse te mag maak. Dink maar aan
iemand wat in die tronk sit. Hy het nie ’n keuse oor wat hy eet of
wat hy aantrek nie. Hy het nie ’n keuse met wie hy mag praat en wie
hy mag sien nie. Hy het nie ’n keuse waar hy mag beweeg nie. Sy
vryheid is weggevat en so ook sy keuse. Vandag is my “so sê die
Here Here”-vers dié een in Jer. 21:8 waar die Here vir ons die
mensereg van keuse gee: “So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil
julle lewe of wil julle sterwe?” Hier is jou keuse: “Wie die Seun
het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die
lewe nie.” (1 Joh. 5:12) Kies jy Jesus, of nie? As jy Hom kies, kies
jy lewe. Sonder Hom is daar nie vrede nie, is daar nie vryheid nie,
is daar nie sekerheid nie. Sonder Hom is daar nie troos nie, is daar
nie hulp nie, is daar nie ’n veilige vesting nie, is daar nie ’n
raadsman nie. Sonder Hom het jy geen reg nie. “Maar aan almal wat
Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om
kinders van God te word.” (Joh. 1:12) Kies lewe. Kies jou reg – jou
reg om ’n kind van God te wees. ~ Wilna Botha, 21/03/2023 |
|
Ek is alweer by "hoekom". Soos 'n kind van 4
jaar, wat net onophoudelik vra: hoekom?
Hoekom het een van die mees nederige Christen-vriende wat ek ken nou
kanker gekry wat wyd versprei is deur sy liggaam? 'n Man wat
absoluut LEEF vir die Here. Hoekom het my ander vriend Saterdag 'n
beroerte gekry? Hoekom is Jan vermoor (ek het onlangs van hom
geskryf)? Hoekom kry mense so swaar? Hoekom hoekom hoekom?
Hierdie vrae is van toepassing op die hier en nou in my lewe. Maar
daar is nog vele ander vrae. Hoekom sukkel mense so om die werk van
die Here se hande raak te sien? Dis dan so duidelik. Hoekom is daar
sulke snaakse dinge in die Bybel opgeteken? Ek dink aan Jona in die
vis se maag, Lot se vrou wat 'n soutpilaar word, die sondvloed en
die ark met die diere, Job se verhaal en vele ander goed.
Aan die ander kant, hoekom glo ek steeds ten spyte van 'n duisend "hoekoms"?
Gisteraand gaan ek weer half in 'n rebelse toestand en wonder hoekom
moet ek hierdie boodskappe skryf terwyl ek alles behalwe heilig lewe
en 'n "goeie" Christen is?
"My broers, julle moenie almal leermeesters wil wees nie, want julle
moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel
sal word." (Jak. 3:1). Hoekom moet ek myself onder hierdie risiko
van strenger oordeel sit? Die volgende gedagte het onmiddellik in my
kop gekom. As jy dit nie doen nie, sal die klippe dit uitroep.
(Aldus Luk. 19:40)
Ek kan die Here nie plot nie, ek weet gewoonlik nie hoe Hy dink nie,
ek verstaan niks van sy planne nie, en ek sien Hom selfs dikwels nie
eers raak nie.
Maar tog het ek hordes mense voor my oë tot bekering sien kom tydens
uitreike, en tog sien ek hoe my vriende wat nou deur diep waters
gaan, onwrikbaar aan Hom vashou, en tog sien ek hoe gestremdes wat
bitter swaar kry vir die Here prys vir elke stukkie brood.
Maar, móét ek verstaan? Hóéf ek te verstaan? Wat sal gebeur as ek
wel alles verstaan? Sal ek steeds nodig hê om te glo? Toe kom
hierdie volgende teks by my op.
"Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar
uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan jy die werk
van God verstaan. Hy doen dit alles." (Pred. 11:5)
Dan sê ek maar net soos die Engelsman: "I rest my case..." ~ Willem
Botha, 20/03/2023 |
|
Ôk
maar lekker stupid...
So sou Ouboet van Orkney Snorknie destyds gesê het. Ek het hierdie
foto pas van 'n dooie kol op my eie grasperk afgeneem. Dis my eie
grasperk waaraan ek so twee jaar gelede 'n klomp geld (my eie geld)
spandeer het om nuwe gras in te sit, in my eie tuin. Maar die
termiete kom baljaar te lekker, en dan spuit ek die regte gif en die
probleem is opgelos tot hulle weer elders uitkruip. En so neem ek
toe onlangs miergif (wat aan my behoort) en ek spuit my eie gif op
my eie gras, op my eie tyd.
En toe vrek my eie gras wat ek met my eie gif (en my eie spuit)
gespuit het. En nou het ek my eie dooie kol gras midde-in my eie
mooi grasperk, want ek het (my eie) verkeerde gif gebruik. Bossie
gif in plaas van miergif. Ôk maar lekker stupid, sou Ouboet sê.
En nét so vergiftig ons onsself met onvergewensgesindheid,
bitterheid, woede, haat, jaloesie, nydigheid en vele meer dinge wat
ons lewenskwaliteit beïnvloed. Só spuit ons ons eie lowergroen gras
in ons eie lewens morsdood, en nét ons ly skade. En die ander party
gaan lekker en gelukkig aan met sy lewe.
Ja vriend, jy weet seker wat ou Ouboet van Orkney Snorknie hieroor
sou sê... ~ Willem Botha, 16/03/2023 |
|
"Die Here het nog absoluut NIKS vir my gedoen
nie..."
So sê iemand eendag in ons geselskap. Ek was geskok tot in my
diepste wese, want ek het gewonder of hierdie persoon blind is vir
alles wat hy elke dag uit die Here se hand ontvang. Ek het egter
besef dat ons in 'n wêreld leef waar 'n verbruikersmentaliteit aan
die orde van die dag is. Maak 'n pakkie goeters oop, verorber die
inhoud en gooi die verpakking weg, en o wee, laat daardie produk nou
nie 100% aan my verwagtinge voldoen nie, dan is die gort gaar.
En so, besef ek, maak ons met die Here, want Hy moet aan hordes
voorskrifte voldoen voordat ek Hom in my lewe sal toelaat. Die Here
het 'n kommoditeit geword wat ons net sal toelaat in ons lewens as
Hy baie nuttig vir ons geword het. En laat Hy nou net nie in ons
tydskaal inpas nie, dan kla ek dat my gebede teen die plafon
vasslaan. Ek het aan so paar punte gedink:
* Die Here probeer nie jou guns koop deur jou met materiële dinge te
bederf nie. Maar tog kry ons dikwels meer as wat ons verdien.
* Die Here waarborg nie volmaakte gesondheid nie, en daarom kan ons
ook nie Sy bestaan net aan wonderwerke koppel nie. Maar Hy gee
dikwels genesing aan sy kinders, maar selfs mense wat nié aan Hom
glo nie.
* Die Here hoef ons nie te vermaak nie, maar baie mense wil dit
graag sien, selfs in die kerk.
* Die Here reageer nie sommer op dinge wat ons as tekens wil sien
nie. Inteendeel, Hy sê dat ongelowiges tekens wil sien.
* Ons hoef nie die Here te toets en te sien of Hy sy beloftes gaan
nakom nie, maar op sy tyd kom Hy elke enkele belofte na. Ongelukkig
sien ons dit dikwels nie raak nie, want dit pas nie by ons
verwagtinge nie.
* Die Here werk nie deur 'n groot lawaai en met 'n vreeslike geskal
nie, Hy werk sagkens, en op 'n manier dat ons soms eers moet stil
word voor ons sy werke raaksien.
* Die probleem met hierdie wêreld is dat mense dinge van Hom verwag
wat nét gerig is op ons eie voordeel.
* Laastens, mense wil Hom soms voor 'n ultimatum stel, deur te dreig
om van Hom af weg te draai as Hy nie aan ons menslike begeertes
voldoen nie.
Die mens is nie met 'n ketting aan Hom vasgebind nie, jy kan enige
dag loop. Draai weg, gaan soek jou heil elders, gaan kyk of iets of
selfs iemand anders meer geskik is as 'n god.
Maar God is 'n soewereine God, Hy gee meer as wat ons ooit kan droom,
Hy het selfs sy Seun gegee en ons ontvang meer seëninge as wat ons
ooit kan opgebruik, en meesal sonder dat ons daarvoor vra. Sy genade
het nie 'n prys nie, en ook nie 'n waarde wat met enigiets op aarde
vergelyk kan word nie. Ek wonder nogal of ek werklik enige enige
aardse ding eerder as sy genade sou kies. Nee wat, mot en roes
vernietig dit alles, en jy gaan dit alles agterlaat. Sy sagte stem,
sy sagte hart, sy sagte oë en sy onbeskryflike liefde is genoeg.
Dáármee kan ek in hierdie lewe voortleef. ~ Willem Botha, 15/03/2023 |
|
My gedagtes
bly nog by daai spesiale kanselkleed wat ek in Clarens se kerk
gesien het: “So sê die Here HERE”. Toe val hierdie teks my vandag
op: “So sê die Here: Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou
oë kry nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word, sê die Here.” (Jer.
31:16) Prediker 3 sê daar is ’n tyd vir alles – ’n tyd om te huil en
’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur en ’n tyd om van blydskap te
dans. Dalk huil en treur jy vandag oor die een of ander verlies, oor
die een of ander vernedering of skande, oor die een of ander diep
bekommernis of vrees. Dalk huil en treur jy al lankal. Dalk voel dit
of daar nooit ’n einde aan jou hartseer gaan kom nie. Weet vir seker
dat jou trane nie ongemerk by die Here verbygaan nie. Hy weet
daarvan. “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op
my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.” (Ps. 56:9) Weet
ook vir seker dat die Here jou uitnooi om by Hom te kom skuil en by
Hom te kom rus en dat daar ’n dag sal aanbreek dat Hy jou sal troos
met hierdie woorde: bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou
oë kry nie. Die tyd vir blydskap het nou aangebreek! Hier is my
gunsteling “so sê die Here Here”-vers vir vandag: “Ek sal hulle
droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal
hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” (Jer. 31:13) ~
Wilna Botha, 14/03/2023 |
|
Vriend, waarheen hol jy? Hardloop jy deur
hierdie lewe sonder ‘n doel, sonder oefening, sonder ‘n wenstreep,
sonder rigting? Is jy moeg gehol? Almal hardloop. Sommige is nét in
‘n rat race. Ander hardloop so vinnig in die rondte, dat hulle soms
van agter af in hulleself vashardloop! Hulle word net al hoe moeër
en kom nêrens nie. Hoe lyk die lewenswedloop waarin jy jouself tans
bevind? Toe daai skoot vanoggend geklap het, en jy het begin hol.
Het jy ‘n wenstreep waarheen jy op pad is? Of voel jy soos ‘n klomp
muise in ‘n hok wat net heen en weer hol? Of spring jy soms in jou
hamster-wieletjie en hardloop teen ‘n enorme spoed, net om nêrens te
kom nie?
"Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal
hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat
julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê
hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike
oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop
dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos
'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en
bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en
self nie kwalifiseer nie." (1 Kor. 9:24-27)
Het vandag 'n wenstreep gehad? Jy het waarskynlik teen hordes ander
gehardloop. Het ENIGE een daai wenstreep behaal? Voel jy dat die
resies die moeite werd was? Mooi medalje gekry? Op die podium
gestaan in die nommer een posisie?
Ek dink jou antwoord is onomwonde nee! Soos wat my antwoord ook nee
is.
Dalk het jy hard gehardloop vir 'n verhoging, maar jy was net
weereens teleurgesteld gewees.
Die lewe het wreed geword, want jy hardloop nie meer om die resies
te wen nie, jy hardloop net om nóg 'n dag in die resies te blý, om
net weereens nêrens te kom nie. Die baas hoor "ja", die kinders hoor
"nee"! Dalk voel jy ook dat jou insette nie raakgesien word nie, en
nog meer, dat jy sommer soms verneder word omdat jy nie nóg harder
gehardloop het nie.
Al wen jy die rotresies, jy bly steeds 'n rot! Het ek 'n antwoord en
'n oplossing hiervoor? Nee, gewis nie!
Ek het jare gelede by 'n maatskappy gewerk waar ek soms moes weggaan
vir die werk en ek het dit gedoen, want my gesin moes eet, maar toe
die maatskappy begin swaar trek moes ek maar ook stert tussen die
bene die pad vat. Die ergste is dat hierdie gejaag ons op 'n manier
weghou van die Here af, want daar is net nie meer tyd nie. Daar is
nie eers tyd om te bid vir die dag se resies wat voorlê nie, en
daarmee kom die ewige oorwinnaarskroon in die gedrang. En ons
gesinne ly daaronder.
"Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig
voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart
begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal
sorg." (Ps. 37:3-5)
En hier is so stukkie waarheid wat vir sommige van ons waar is. Ons
harte begeer soms dinge wat ons net kan kry as ons onsself verniel
en vernietig om nog méér en méér te besit. Het jy ook al 'n ander
motor gaan koop met jou verhoging, net om nóg armer te wees daarna?
Met wat is ons tevrede? Ek het al vele kere gesien dat mense wat
minder agter aardse goed aanhardloop, beter lewens lei. Natuurlik is
dit nou nie in alle gevalle waar dat almal die aardse dinge najaag
nie, maar dit gebeur baie dikwels. Té dikwels.
So bietjie minder oortyd, so bietjie meer kere "nee" vir die baas en
"ja" vir die kinders. So bietjie minder jaloesie op ander se
posisies, so bietjie minder kompetisie met kollegas, met so bietjie
minder tevrede wees, en so bietjie beter gesindheid, is definitief
goed vir die gesondheid. So bietjie meer op die Here vertrou, so
bietjie meer in Sy arms terugsak as dinge rof raak. En ja, mens kán
op die koop toe jou werk geniet ook. ~ Willem Botha, 13/03/2023 |
|
So sê die Here Here: staan by die kruispaaie en
kyk ... (Jer. 6:16) Ja, dit is dikwels by kruispaaie in ons lewe wat
ons begeer dat die Here met ons moet praat, nie waar nie? Dis
wanneer ons moet kies: links of regs, ja of nee, dié een of dáái een
dat ons graag wil sê: so sê die Here Here. Kom ons lees eers die res
van Jer. 6:16, soos wat dit in Die Boodskap staan: “Die Here sê: As
julle by ’n plek kom waar julle belangrike besluite moet neem,
moenie oorhaastig wees nie. Wag ’n bietjie en kyk eers wat mense
vroeër gedoen het. Doen dan wat die beste is. Julle sal dan weet dat
julle die regte ding gedoen het.” Dan sal julle rus vind vir julle
siel, sê ’n ander vertaling. By die kruispad moet ons stop, ons moet
wag, ons moenie oorhaastig wees nie. By die kruispad moet ons stop en
weer kyk na die padkaart van die Woord, die beproefde paaie wat baie
voor ons al geloop het. By die kruispad moet ons terugkyk na die
verlede en wat die Here tóé gesê het, wat die Here tóé vir ons
gedoen het, wat ons tóé geleer het, hoe dinge tóé uitgewerk het. By
die kruispad moet ons “kyk” voordat ons probeer “hoor” en dan moet
ons doen wat ons glo die beste is. Hoe sal ons dan weet dat ons die
Here hoor praat het? Ons sal sielerus hê, ons sal lig en tevrede
voel, daai vrede wat alle verstand te bowe gaan, sal in jou hart kom
lê. Hier is my gunsteling “so sê die Here Here”-vers vir vandag:
“Wanneer julle die pad byster raak, sal julle sy stem agter julle
hoor sê: “Hier is die regte pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 09/03/2023 |
|
SO vinnig...
... is die mens se lewe op aarde verby.
Ps. 144:4 "n Mens, hoe verganklik is hy tog: sy dae gaan soos 'n
skaduwee verby."
Sjoe, soos wat die jare aanstap besef mens net hoe waar hierdie
woorde is. Dit voel of dit elke tweede dag Vrydag is, jy is verstom
as jy besef dat jare in jou verlede net wegraak. Jy dink jy was
verlede jaar iewers, net om te besef dis al 'n paar jaar gelede. En
voorts is ek geskok oor die aantal mense in my ouderdomsgroep wat
wegval.
As dit so is, hoekom bekommer ek my so oor die toekoms? Hoekom is
soveel onbenullighede dan vir my so belangrik? Hoekom kan ek nie net
oorgee en "God's water oor God's akker laat loop nie"? Waarom laat
ek toe dat die gebeure in die land my so ontstel?
Nee, ek is nie nét so nie, ek sien steeds 'n ander kant. Maar hoekom
verval ek nie net summier in "doom and gloom" nie?
Wel, dis seker omdat ek 'n mens is, 'n mens wat steeds hoop het,
iemand wat steeds lief is vir mense en wat steeds my lewe geniet.
Dalk omdat ek besef dat daar in hierdie moeras waarin ons leef
steeds vreugde en voorspoed is. Miskien omdat ek steeds meer mense
sien wat liefde en vrede najaag, as die wat dit nie doen nie. Dis
vir seker ook omdat ek besef dat God nie opgegee het nie, dat Hy
steeds daagliks wonderwerke doen en dat Hy vir elkeen van ons 'n
taak het om ons mee besig te hou.
Laastens omdat ons tog nie net leef vir hier en nou nie.
1 Kor. 15:19 "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus
vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense." ~ Willem
Botha, 08/03/2023 |
|
Ek het laas vertel van die kanselkleed in die
tagtig jaar oue Clarens-kerk met die woorde: “So sê die Here Here”.
Ek het intussen gewonder waarom die dubbel naam: Here Here? Mens
lees hierdie dubbel uitdrukking van die Here se naam nie in die
1983-vertaling van die Bybel nie. Ek sien dit wel in die
1933/1953-vertaling en dan staan dit so: “So sê die Here HERE”, met
die tweede Here in hoofletters. Ek sien in 2020 direkte vertaling
ook die dubbel Here HERE en dan is dit heel dikwels: “So sê my Heer,
die HERE” – dis so mooi vir my. Dis verpersoonlik. Dis mý Heer wat
praat en Hy ís dié Here! Ek lees ook op baie plekke dat die tweede
Here vervang word met ’n uitgebreide beskrywing van wie die Here is
– ’n beklemtoning van wie Hy is en wat Hy doen, ’n bevestiging van
wie werklik aan die woord is. Byvoorbeeld: “So sê die Here, die
Almagtige ... “ (Sag 1:3); “So sê die Here wat jou gemaak het ... (Jes.
44:2); “So sê die Here, die koning van Israel, sy Verlosser, die
Here die Almagtige.” (Jes. 44:6); “So sê die Here, die Heilige van
Israel ...” (Jes. 45:11); “So sê die Here, Hy wat ’n pad gemaak het
deur die see ...” (Jes. 43:16); “So sê die Here, Hy wat die hemel
geskep het ...” (Jes. 45:18); “So sê die Here, jou Here en jou God
...” (Jes. 51:22) Die Here HERE praat vandag ook met ons – hoor jy
dit? Glo jy wat Hy sê? Hier is my gunsteling “so sê Here, Here”-
vers vir vandag: “So sê God, die Here, Hy wat die hemelkoepel geskep
en dit oopgespan het, Hy wat die aarde gevorm het en alles wat dit
oplewer, Hy wat aan al die mense op aarde die asem gee, die lewe aan
alles wat op die aarde beweeg: Ek is die Here ... Ek hou jou vas, Ek
beskerm jou” (Jes. 42:5) ~ Wilna Botha, 07/03/2023 |
|
Die Here verskyn aan Moses toe Moses die opdrag
kry om met die volk die woestyn aan te pak, op pad na die beloofde
land toe. Onthou net, hulle lewe was baie baie sleg a.g.v. slawerny,
en nou moet hulle nog die dorre, ongenaakbare woestyn aandurf. Min
het hulle geweet dat daardie afstand wat hulle in enkele weke kon
aflê, veertig jaar sou neem! Dan vra Moses vir die Here wie saam met
hulle sou gaan, en die Here antwoord as volg.
“Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here
toe vir Moses. “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self
saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie."
(Eks. 33:14-15 DB)
Laat ons liewer hier bly as U nie saamgaan nie.
Dit voel soms of ons ook nou daardie geloof stap moet neem en die
woestyn aandurf, en gaan kyk of die lewe nie beter gaan wees
anderkant die woestyn nie. Slegter kan dit tog nie gaan as nou nie,
of kan dit? Natuurlik kan dit, dit kan miljoen keer slegter gaan!
Gaan dit in elk geval só sleg? Nee vriend, alles is definitief nie
nét sleg nie. Ek kan definitief nie so ver tel as al die seëninge
wat ek beleef nie. As hierdie lewe 'n woestyn is, is ons steeds by
'n oase.
"’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar." (Klaag.
3:23 DB)
Dit voel wel soms of ons elke dag in die woestyn wakker word, maar
steeds is die Here daar. En elke oggend moet ek en jy besluit: Is
dit vorentoe, agtertoe of bly ons steeds botstil met die tentpenne
ekstra diep in die grond vasgeslaan?
Wel, vir my is daar nét één pad, en dis vorentoe! Altyd vorentoe,
maar nie sonder die Here nie! Hoe op aarde mense die lewenspad
sonder die Here probeer loop, slaan my dronk!
Ek weet nie wat anderkant hierdie woestyn van ons lewe lê nie, maar
vorentoe moet ons vorentoe. En met die Here saam kan ons dit doen,
en kan dit draaglik wees. Bly net aan die beweeg.
En dan dalk, net dalk, stap ons maar net in die rondte, net om te
besef dat ons tog steeds in die beloofde land is.
Die Here maak elke more nuut, miskien moet ons net ons harte en
gesindheid ook elke more nuut maak.
Bly by die Here, bly onder die wolkkolom, en geniet steeds die
vettigheid van die land waarin ons woon. Hierdie woestyn is immers
nie nét dor en sleg nie.
"U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die
groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. Alles is
u werk! U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat
hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. U kroon die
jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Daar is
volop weiding in die woestyn; die bulte juig, die velde wemel van
die kleinvee, die vlaktes staan vol koring; hulle juig en hulle
sing."(Ps. 65:10-14 Afr. 83) ~ Willem Botha, 06/03/2023 |
|
Ons
dogter is so twee weke gelede getroud in die pragtige tagtig jaar
oue sandsteen kerk in Clarens. Die atmosfeer binne-in die kerk is só
spesiaal: die donker houtbanke, die houtvloere wat kraak onder jou
voete, die orrel daar eenkant op sy verhogie en dan dié mooi
kanselkleed wat sê: “So sê die Here, Here.” Mens kry hoendervleis en
’n knop in jou keel en dan het die bruid nog nie eers aan haar pa se
arm verskyn nie! Daai geborduurde woorde op die kanselkleed bly in
my gedagtes: So sê die Here, Here. Hoe kragtig en mooi is dit nie!
Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur
sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en
redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde
wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy
sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings,
woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees.
Hier is my gunsteling “so sê Here, Here”-vers vir vandag: “Luister,
so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het,
Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam
geroep, jy is Myne.” (Jes. 43:1) ~ Wilna Botha, 02/03/2023 |
|
Wie is my naaste? Almal wat leef en beef?
Letterlik elke lewende wese op aarde? Of dalk net medegelowiges, of
mense wat "soos ek is", wat dit ook al mag insluit. Ek worstel jare
met hierdie vraag, want hoe moet ek vir mense lief wees van wie ek
nie eers hou nie? Of wat my te na gekom het? Wat is jou mening? Kry
jy dit reg? En as ek dit nié regkry nie, wat dan? Wat van my
verhouding met die Here?
Wel, gister was ek met hierdie gedagtes uitgedaag, soos wat ek slegs
enkele kere in my lewe uitgedaag was. En hier sit ek met géén
vordering na 'n antwoord toe nie. Kom ek vertel jou. Gister lees ek
in die nuus van 'n man wat Maandag wreed vermoor is op sy kleinhoewe
buite Centurion. Sy vrou is vir dood agtergelaat maar sy het oorleef.
Vir wat? Vir twee selfone!!! NET TWEE SELFONE! Watse monsters doen
dit? Ek het die man vir baie jare geken en ons het mekaar se oproepe
gemis verlede Vrydag, ek is bitter spyt daaroor! Dis nie al nie. In
2012 is hulle dogter voor hulle oë op daardie selfde kleinhoewe
vermoor! Wreed, onnodig. Was dit my naaste wat dit gedoen het?
Kom ek wees 100% eerlik en beskryf die gevoel waarmee ek worstel.
Haat, wrewel, afsku, hartseer, bitterheid, woedend en bo alles sal
ek graag wil wraak neem.
Ja, dis ek, Willem, die sogenaamde Christen, die een wie se
boodskappe jy lees, die een wat probeer hoop gee en wat gewoonlik
positief skryf en opbouend probeer wees.
En ek wonder: is hierdie wesens (skuus ek kan nie die woord mense
skryf nie) my naaste? Moet ek hulle so liefhê soos myself? Of so
lief wees soos vir Jesus? Ek kry géén teks wat my onomwonde oortuig
dat ek vir hulle móét lief wees nie, maar meer nog, ek kry ook geen
teks wat my toelaat om hulle te haat nie! Ek weet nie vriend, ek
weet regtig nie! Wat is die antwoord? Ken jy die antwoord? Nee, nie
'n oppervlakkige "feel-good" antwoord nie, 'n sinvolle antwoord!
Kyk wat het Hy hieroor in Sy Woord geskryf:
"Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie.' Jy moet die Here jou God
liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so
belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys.
Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys
staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ (Matt.
22:37-39 DB)
En toe probeer ek die Here uitdaag in my half gebroke toestand:
Weet U hoe voel dit Here? Weet U hoe voel sy familie en ons as sy
vriende? Here, wil U dalk hierop probeer reageer?
Toe reageer Hy, toe Hy my daaraan herinner dat Johannes die doper (ja
daardie Johannes wat Hom gedoop het), wreed onthoof is in die tronk!
Sinneloos, onnodig, absoluut onnodig! Sy baie, baie spesiale vriend.
Daai gedagte was egter vir my 'n skrale troos, maar toe gee Hy my
nog 'n "curve ball".
Willem, onthou jy dat Ek self wreed en sinneloos vermoor is, sodat
jý kan lewe??? En voor ek sterf het Ek daar aan die kruis gesê:
"Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie."
Vergeef hulle? Is dit wat U van my verwag Here? Moet ek hulle
vergewe? Ai Here, ek is te swak! Kan ek dalk net 'n bietjie tyd kry
om alles te verwerk? Dis bietjie vinnig op my.
Ek weet eerlik nie of ek dít kan regkry nie! Vergewe my Here! Dalk
eendag! ~ Willem Botha, 01/03/2023 |
|
“Die woord van die Here het tot Jeremia gekom:
Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.”
(Jer. 18:1-2) Toe ek vandag hierdie vers raaklees, besef ek maar net
weer dat die Here dikwels sommer net met ons praat deur alledaagse
gebeurtenisse, deur gewone mense wat ons teëkom, ordinêre dinge wat
ons sien en hoor in die gewone gang van sake. Te veel kere wil ek
die Here met my hoor praat op bonatuurlike maniere, in groot
geestelike byeenkomste en so meer dat ek dit nie raaksien as Hy
sommer net deur die alledaagse aktiwiteite praat nie. Jeremia moet
na die pottebakker se huis toe gaan sodat die Here met hom kan praat
deur die beeld van die klei op die pottebakker se wiel. Dalk het die
Here vandag vir jou gesê: gaan werk toe, ek gaan daar met jou praat.
Of dalk: gaan winkel toe, ek gaan daar met jou praat. Of dalk: gaan
stap in jou buurt, ek gaan daar met jou praat. Of dalk: gaan staan
langs jou kind se sportveld, ek gaan daar met jou praat. Dalk het
die Here vandag vir jou ’n gelykenis gewys waardeur Hy wou praat, ’n
beeld gewys waardeur Hy sy krag of sy liefde of sy almag wou
verduidelik, ’n opmerking of ’n emosie laat hoor waardeur Hy jou
hart wou aanraak – het jy dit raakgesien en het jy daarop gereageer?
~ Wilna Botha, 28/02/2023 |
|
Valentynsdag...
Met liefde, uit Hooglied
As ek die woord Hooglied noem, wat is die eerste gedagte wat in jou
kop opkom? Wel, dit hang seker af wie dit vir wie sê, en in watter
omstandighede en konteks. Verskillende mense sal verskillend reageer
as hulle dit hoor.
Jong mannetjies sal waarskynlik begin giggel.
Jong meisies sal dalk bloos.
Jong getroude paartjies sal dalk hulle ogies vir mekaar begin
fladder.
Mans wat 'n paar jaar getroud is sal dalk diep glimlag, die maag
intrek en die bors uitstoot – en daai maagspiere soos 'n wafferse
six-pack bymekaar trek. Dis nou as die six-pack nie plek gemaak het
vir 'n vaatjie nie.
En hulle vrouens sal onmiddellik die nat jammerlappie in die wasbak
doop, dit blitsig op die voorkop plak en kla van 'n allemintige
migraine.
Sommige ouer dominees sal dalk dadelik vertel dat die boek slegs
beeldspraak is van God se liefde vir Sy kerk.
Hooglied is 'n pragtige boek. Een hele boek wat die Here afgestaan
het om op 'n pragtige manier die ware liefde tussen man en vrou te
beskryf. Agt hoofstukke waar respek, agting, trots, verwondering,
bewondering en liefde vir mekaar besing en uitgespreek word. Met
baie detail wys die Here vir die mens dat hulle mekaar nie net
emosioneel kan koester en geniet nie, maar ook fisies. In my
persoonlike verwysingsraamwerk, pas van hierdie elemente net binne
die huwelik, tussen man en vrou.
As jy so deur Hooglied lees, sal jy waarskynlik ook herinneringe en
emosies ervaar wat jy kon oproep van die tye waar daar so flink hof
gemaak is. Nou vra ek jou (as jy getroud is), bestaan dit nog vir
jou na 'n klompie jare van getroude lewe, of het dit in die niet
verdamp?
Hooglied 4:9-15 en 5:10 -16
Hy:- “Jy het my hart gesteel, my beminde bruid, jy het my hart
gesteel met een kyk van jou oë, met een skakel in die ketting om jou
hals. Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid, jou liefkosings
is beter as wyn, jou parfuum ruik lekkerder as al die
lekkerruik-kruie. Jou lippe proe soos heuningstroop, my bruid, jou
tong soos heuning en dikmelk, en jou klere ruik soos die Libanon.
“My beminde bruid is 'n tuin wat toegemaak is, 'n tuin met 'n muur
om, 'n fontein wat afgekamp is. Jou liggaam is 'n lushof,
granaatbome met keurige vrugte, hennastruike saam met nardus, nardus
en saffraan, kalmoes en kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie,
mirre en aalwyn saam met al die beste lekkerruik-kruie. Daar is 'n
fontein in my tuin, 'n put met borrelende water, strome van die
Libanon af.”
Sy: “Die man wat ek liefhet, is blakend gesond en blosend van kleur;
jy kan hom uitken tussen tien duisend ander. Sy voorkop is soos
suiwer goud, sy haarlokke soos dadeltrosse, so swart soos 'n kraai.
Sy oë is soos die duiwe langs die spruite, duiwe wat lyk of hulle in
melk gewas is waar hulle langs die water sit. Sy wange is soos die
kruiebeddings waar lekkerruik-kruie groei. Sy lippe is soos lelies,
hulle drup van mirre. Sy hande is soos stawe goud, met edelstene
ingelê. Sy lyf is soos 'n blok ivoor, met saffiere ingelê. Sy bobene
is soos marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Sy voorkoms is soos
dié van die Libanon, indrukwekkend soos die seders. Sy mond smaak
soet, alles aan hom is begeerlik. So lyk die man wat ek liefhet, so
lyk my lewensmaat, vroue van Jerusalem.”
Hoe klink dit vir jou? Verwondering, respek en liefde. Party dele in
Hooglied is nogal eksplisiet, maar dis eenhonderd persent binne God
se wil. Geskep vir die mens se vreugde en in die mooiste woorde
beskryf.
Weet jy, ek dink Adam het nogal na sy asem gesnak toe die Here hom
uit die narkose laat wakker word en hy sy oë op Eva lê. En andersom.
Onthou jy toe jy vir vroulief by die kerk se deur sien instap het
die dag toe julle getroud is? Hoe verruklik sy gelyk het? Vroulief,
onthou jy hoe goed manlief gelyk het? So asof hy pas van sy wit perd
afgewip het. O wee, moenie dat hy nou probeer afwip nie, hy sal dalk
afvoeter! Arme perd...
Is daai gevoel nog aanwesig in die huwelik? Is daar nog enigsins
romantiek, aanraking, liefkosing, intimiteit, respek, verwondering
en bewondering? Of het dit plek gemaak vir irritasie, verwydering,
afguns en jaloesie? Om nie eens van “name-calling” te praat nie. Ek
glo met my hele hart dat die Here hierdie pragtige boek geskryf het
sodat dit kan werk “till death do us part”. Ongeag van ouderdom of
die verandering van die uiterlike. Meneer/mevrou, laat jou oë toe om
saam met jou wederhelfte oud te word. Skoonheid lê nie in
perfektheid nie.
In 1 Kor 13 kry ons wonderlike riglyne oor hoe om die liefde te laat
hou. Hierdie klein jakkalsies wat die wingerd verwoes, word baie
mooi beskryf. Hierdie klein goedjies wat stadig maar seker die
huwelik infiltreer en verwoesting saai.
1Kor 13:4-7
Die liefde is geduldig... Die slim mense sê dat die dinge wat jou
aanvanklik na mekaar toe aangetrek het, is dit wat jou later
grensloos irriteer. Hierdie teks vra vir eindelose geduld met mekaar.
Want ons verskil van mekaar.
Die liefde is vriendelik... Niks ge-dikbek lopery, stilstuipe,
buierigheid nie. En mekaar met woorde afkraak nie.
Dis nie afgunstig nie... Praat hy dalk van jaloesie? Daai sieklike,
groen jaloesie wat enige gesonde verhouding kan verwoes. Mense wat
mekaar alewig wantrou en mekaar niks gun nie.
Handel nie onwelvoeglik nie... Bly 'n gentleman. Dis nogal aaklig as
een party in die huwelik se gedrag maak dat die ander een in skaamte
gedompel word. Veral as die voggies begin vloei... Hulle sê mos, na
een drankie word jy 'n ander ou, en daai ou kan nogal 'n vark wees.
Hou nie boek van die kwaad nie... Los tog om hemelsnaam die ou koeie
in die sloot! Ai, so 'n ontbinde koei wat so dikwels opgediep word,
is darem maar 'n goor gedierte. Dit dien regtig geen doel nie.
Verbly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.
Spreek nogal vanself, maar kom ons bring vergifnis hier in. Hierdie
ding van “ek sal jou vergewe, maar ek sal dit nooit vergeet nie”,
werk regtig nie. Dis eintlik maar 'n klug, sodat die ou koei maar
weer gereeld herrys.
Hooglied 2:2 “Soos 'n lelie tussen die dorings, so is my liefling
tussen die meisies”.
Sien jy dat hy in die derde persoon praat? Hierdie ou spog met sy
geliefde. Is dit nie mooi nie? Weet jy waar Skinnerstraat is? Nee,
nie die dubbelpad wat deur die middestad loop nie, dis die hoekie
waar almal eenkeer per uur gaan vars lug vir die longe soek. Daar
word lekker stories uitgeruil, en soms kliphard oor manlief /
vroulief geskinder. Maar nie Salomo nie, hy verklaar openlik dat sy
bruid sy hart se punt is.
Vers 16: “Die man wat ek liefhet, is myne en ek is syne.”
Juffrou staan nie en flikflooi met Adoons by die werk nie, sy
verklaar openlik dat sy klaar “ge-dêps” is. “Hands-off” menere, ek
is klaar gevat. En o ja, moenie praatjies met my maak wat jy nie
voor jou vrou sou maak nie.
Hooglied 4:1 “Jy is mooi my liefling, jy is mooi, jou oe is duiwe
agter jou sluier”.
Hoor hoe mooi komplimenteer hy haar. Hy sê sy is ten volle
aanvaarbaar vir hom, net soos sy is, ongeag van die uiterlike. Jy
weet mos, 'n man is soos 'n spieël waarin die vrou haarself sien.
Dit wat hy reflekteer, is wat sy oor haarself glo. Manlief maak 'n
aaklige opmerking, en vroulief glo dit vir die res van haar lewe.
Maar dan kom Adoonsie by die werk en vertel vir haar die teendeel,
en onmiddellik is daar “trouble in paradise”. Nee, as manlief haar
gereeld komplimenteer, dink sy by haarself:- “Ek sien so paar
“flaws” in die spieël, maar vir hom maak dit nie saak nie”.
Hooglied 4:10 “Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid...”
Liefkosing, baie baie belangrik. Dit staan nou nie hier geskryf nie,
maar waarskynlik het meneer homself lekker vars ingeseep, sy harde
baard afgekrap en homself aanvaarbaar gemaak. 'n Man wat sy vrou so
mooi komplimenteer en haar goed behandel, hoef minder hoofpynpille
te koop. Weet jy waarheen lei hierdie goeie gedrag dikwels? Heaven
at eleven, starts at seven. 'n Lekker aangename aanloop...
Hooglied is mooi, dit vra vir mooi en dit beskryf mooi. Dit praat
van innige liefde. ~ Willem Botha, 14/02/2023 |
|
Na aanleiding van gisteraand se boodskap het
iemand vir my 'n vraag gevra wat ek nie weet wat om te antwoord nie.
Lees dit gerus onder die kommentare. Maar toe het 'n klomp gedagtes
vandag rondom dit by my opgekom, terwyl ek myself steeds in 'n
tweestryd bevind oor die toestand waarin ons leef. Is daar uitkoms?
Ek kan ook dít nie antwoord nie. Maar iemand het eendag 'n baie waar
opmerking gemaak. Die persoon wat die beste op die langtermyn gaan
oorleef, is die persoon wat die beste by die slegte dinge aanpas.
Adapt or die. Maar, nie ten koste van jouself nie. Toe het ek 'n
paar dinge bedink wat ek gaan probeer navolg, en moet nou asseblief
nie goed hierin probeer lees wat ek nie hier sê nie.
* Proudly South African. Ten spyte van alles wat dalk uitdagings is,
is ek trots Suid-Afrikaans. Ek is ook trots 'n Afrikaan en 'n
Afrikaner. En ook trots Afrikaans! Niemand sal my dit ontneem nie.
* Hou op in die tonnel kruip, hou op hooploos agteroor sit en kyk
hoe alles vergaan. Ek en jy kan tonne dinge doen in ons eie
leefwêreld om dinge beter te maak, wat tog steeds beter is as om
pateties te wees en maar net Gods water oor Gods akker te laat loop.
Dis duur om voorsiening te maak vir dinge wat net nie meer werk nie,
soos krag en water, maar elke ding wat jy kan bekostig om te doen,
maak die lewe bietjie makliker.
* Hou op skuldig voel oor die verlede. Dis nou hoe dit was, maar ons
hoef nie slawe te wees van dinge wat ons voorouers dalk verkeerd
gedoen het nie. Hou op voel jy skuld almal iets, want jy doen nie!
* Wees trots op wat jy met harde werk versamel het, dis joune, jy
skuld niemand iets daarvan nie. Moenie uit skuldgevoel fooitjies
uitdeel nie, maar doen dit as jy voel dat dit 'n verskil maak. Daar
is uiters professionele bedelaars op straathoeke, en jy neem dalk
deel daaraan om daardie praktyk aan die gang te hou.
* Oorwin die slegte deur in jou leefwêreld 'n verskil te maak, maar
jou gesin is eerste prioriteit.
* Jy kan nie die land se probleme oplos nie. Ek dink niemand kan nie,
maar jy kan dalk die effek daarvan so effe verlig met kreatiewe
denke.
* Hou op om 'n slaaf te wees van haat, ek is so goed daarmee. Weet
jy hoe baie gebruik ek daardie woord? Jy sal geskok wees!
* Christene hoef nie slawe te wees van hulle Christelike herkoms nie.
Mense sal jou wild en wakker beskuldig oor wat Christene al
aangevang het. Wel, en is definitief nie trots op alles wat ek al
gedoen het en kwytgeraak in die Naam van die Here nie. Maar dis
agter ons, gaan steeds vorentoe met 'n nuwe uitkyk.
* Maak 'n verskil met goeie verhoudinge. Ons sien baie rassespanning,
vernaam as jy nuus kyk en daai rooi hoedjie maak sy verskyning. Maar
tog, op straat en in die winkels is daar bykans sonder uitsondering
liefde en aanvaarding tussen mense.
* Hou jou geloof in stand, beoefen jou geestelike lewe soos wat die
Bybel voorskryf en volgens goeie beginsels. Moenie dat die nuwe
strominge van mense wat afvallig word jou pootjie en laat twyfel nie.
* As jy hier gebore is, en jou voorgeslagte ook, is hierdie JOU
land, as jy belasting betaal, staan op vir wat joune is. As jy 'n
boer is, wees trots boer. As jy 'n Engelsman is, wees trots
Engelsman. As jy 'n Zoeloe is, wees trots Zoeloe.
* Jy kan aanpas en die beste van alles maak, of saam met die stroom
swem wat moed opgee en net kla. Dit help niks!
* Laastens, wees trots JY! Want jy is na God se beeld geskep en jy
is al voor geboorte 'n wenner.
Nou ja, daar gaat ons, kom ons LEEF! ~ Willem Botha, 09/02/2023 |
|
God - expat
God is landuit, moeg vir al die strooi, ons net so gelos, en kon nie
Sy beloftes oor ons land nakom nie. Wie kan Hom kwalik neem? Hy het
al soveel keer gewaarsku dat ons moes terugdraai maar ons wou nie,
ons hou aan in ons afvalligheid en sondes en dryf dag vir dag verder
weg. Nou het Hy groener weivelde gaan soek. Waarheen Hy is weet ek
nie!
Dis natuurlik glad nie waar nie, maar ek gaan BAIE BAIE eerlik met
jou wees, daar is dae wat ek presies so voel, en lank terug word ek
gekonfronteer met hierdie vraag toe ek kyk na 'n insetsel op TV van
Louie Giglio, toe hy gevra word of daar nog hoop is vir Suid-Afrika.
Ek kom toe met 'n skok agter dat hy meer hoop het vir ons land as ek,
want as buitestaander sien hy dinge wat ek miskyk en hy noem dinge
wat my verstom laat staan. Jy sien, ek laat te veel toe dat die dag
tot dag dinge in die land my negatief stem en ek wil wil hoop
verloor. Maar God sien die prentjie totaal anders, en sy mening is
vir seker heeltemal anders as myne, want Hy is in beheer, en al lyk
of voel dit nie so, Hy kan die land herstel.
Ek dink egter steeds dat die sleutel hiertoe in ons eie hande lê:
"As My volk oor wie My naam uitgeroep is, berou toon en bid, en vra
na My wil en terugdraai van hulle bose weë af, sal Ek luister uit
die hemel en hulle sonde vergewe, en hulle land herstel." (2 Kron
7:14)
Dit vraag wat ek myself afvra, is wanneer gaan ek hiermee begin? ~
Willem Botha, 09/02/2023 |
|
"Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet
word, want daaruit is die oorspronge van die lewe." (Spr. 4:23) Ou
vertaling.
Wat 'n ongelooflike kragtige teks! Bewaak jou hart meer as alles wat
bewaar moet word. Kom ons dink net vir 'n oomblik terug aan 2000 -
3000 jaar gelede toe die Bybel geskryf is. Wat het die mense van
daardie tyd van die anatomie van die mens geweet? Hoekom staan hier
nie: "Bewaak jou verstand" nie? Met jou verstand kan jy tog dink en
redeneer, maar nie met jou hart nie. Hoe bewaak mens jou hart? Wel,
vir my is die hart jou gevoel sentrum. Dis waar jy emosies ervaar
soos 'n gevoel van liefde, of woede. Is dit toevallig dat te veel
woede uitbarstings kan lei tot 'n hartaanval?
Waarvan moet jy dan jou hart bewaak? Ek kan aan baie dinge dink.
Moenie dat bitterheid in jou hart vashouplek kry nie. Oppas vir
mense wat met negatiwiteit jou lewe versuur, want dit kry
vastrapplek in jou hart. Moenie dat ander mense se probleme, wat
hulle oor hulleself bring, jou vreugde steel nie. Moenie dat die
probleme van die land jou onderkry nie. Dis dinge wat jou hart soms
inmekaar laat trek.
Nee, maak jou hart oop vir liefde vir jou mense, en hier praat ek
van mense in jou direkte binnekring. Terloops, hoor jou kinders en
gade gereeld dat jy lief is vir hulle? Maak jou hart oop vir die
daaglikse vreugdes van die lewe. Ja, jy sal moet kies om dit raak te
sien. Maak jou hart oop vir die Here, want dis eers as jy Hom in jou
hart toelaat, dat daar werklike intimiteit plaasvind.
Bewaak jou hart... want daaruit is die oorspronge van die lewe. ~
Willem Botha, 06/02/2023 |
|
Die sondes van die vaders...
"Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die
derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde
tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie
gehoorsaam." (Deut. 5:9b-10)
Sjoe, hierdie teks herinner my aan 'n baie onaangename waarheid, en
dis dat die sondes van vaders (en moeders) 'n vreeslike slegte las
op kinders nalaat. Foute, gewoontes, verslawings, sondes ens. dra
oor van geslag tot geslag. Dít wat kinders die meeste van hulle
ouers haat, is dikwels juis dit wat hulle aan hulle kinders oordra.
Ek het dit al só baie keer gesien. Maar daar is 'n ander kant ook.
'n Kind loop gewoonlik op hulle ouers se spore, goed of sleg, en
laat dan spore vir hulle kinders om op te loop. Goed of sleg! 'n
Kind wat uit 'n liefdevolle, standvastige gesin kom, sal gewoonlik
mooi spore nalaat.
Ons almal laat spore agter ons in ons lewens. Party mense trap diep
spore in die samelewing en sommiges ploeter net voort. Party mense
se spore loop na al wat 'n verkeerde plek is toe en soms wil ons ons
spore doodvee, want dit sê so baie van ons karakter en gewoontes.
So ietsie oor spore.
Veldkenners kry sommer 'n klomp inligting uit 'n bok se spoor: die
ouderdom van die spoor, die rigting wat die bok beweeg, die tipe bok,
die spoed waarmee hy beweeg het, en nog heelwat meer inligting. Die
bok se spoor laat ook 'n reuk agter.
Nou ja, die harde realiteit is dat jou kinders in jou spore sal volg,
ook as jy verkeerde paaie gevolg het, en dis bykans onmoontlik om
dit altyd dood te vee. Dus moet jy maar mooi trap. Mense loop so
graag agter ander mense aan deur vir hulle "idols" bymekaar te maak,
maar dit hou nie lank nie.
So het mense al in die lewe diep spore getrap, maar nie een soos
Jesus Christus nie. Sy spore het gehou en elke enkele toets en
uitdaging van die tyd deurstaan. En hy vra vir my en jou om in Sy
spore te volg.
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet
hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg". (Matt. 16:24)
Nie een mens op aarde wat hierdie besluit geneem het, was ooit spyt
nie. En jy en ek sal ook nie wees nie. ~ Willem Botha |
|
“Ons wil met julle saamgaan, want ons het
gehoor God is by julle” (Sag 8:23). Toe ek dié teks lees moes ek
myself afvra of my lewe, my woorde én my dade, God se
teenwoordigheid só uitstraal dat dit mense sal aantrek en aanspoor
om Hom te volg. Wat het mense van my gehoor? Het hulle dalk gehoor
dat ek ’n negatiewe mens is, wat kwaadpraat of skinder, iemand wie
se ja nie ja is nie, iemand wat nie tyd het vir ander nie, iemand
wat suinig is en net na my eie belange omsien, iemand wat hardkoppig
haar eie pad volg. Of het hulle dalk gehoor dat die Here by my is,
dat ek Geesvervuld is, dat my woorde sag en vriendelik is, dat ek
selfbeheersing aan die dag lê, dat ek bid en doen, dat my geloof
sterk is en my hoop op God is, dat ek tyd bestee aan bestudering van
die Woord, dat daar altyd lof vir God op my lippe is? O, ek bid maar
net weer dat my lewe mense sal aantrek en nie afstoot nie, dat my
lewe ’n bewys sal wees dat God by my is. Ek bid maar net weer dat ek
’n aangename geur sal versprei; dat my lewe ’n brief sal wees wat
Jesus se liefde, genade en aanvaarding sal verkondig. Ek bid dit vir
jou ook! ~ Wilna Botha, 31/01/2023 |
|
Powered by FORD!
In my kinderdae was daar dikwels sulke groot plakkers aan die
onderkant van die deure van hierdie raserige, blitsige karre geplak.
Aan die agterkant op die "badge" het natuurlik ook Ford gestaan! Was
altyd vreemd, ek het gewonder of jy dan 'n groot Ford met 'n Datsun
enjin sou sien...
Nietemin, die goed was vinnig, want hulle het altyd afdraande geloop,
want die voorwiele was kleiner as die agterwiele. Nou ja, die
kragbron was belangrik, en dis ten toon gestel. Maar kom ons parkeer
die kar nou eers 'n bietjie.
In die wetenskap leer ons dat energie en materie uitruilbaar is, en
jy kan dit nooit vernietig nie, of nuwe materie skep nie. Dit kan
altyd net van een vorm na 'n ander omgeskakel word. Jy, met AL jou
atome, bestaan van die begin van die skepping af, en sal vir altyd
bestaan, net in 'n ander vorm. Stof tot stof is 100% waar. Elke
enkele atoom in jou liggaam kom uit grondstowwe uit, soos elke
enkele ding wat die mens ooit gemaak het, en dit sal weer daarheen
terugkeer. Bakstene, diamante, staal, jou sitkamerbank, jou eetgerei,
jou motor, jou selfoon, alles kom uit grondstowwe uit, en kon NET
deur 'n skepper, of nee wag, dié Skepper gemaak word. Selfs
wetenskaplikes wat nié Christene is nie, stem meesal saam dat daar
'n skepper (van 'n aard) moes wees. Ons noem Hom God.
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep..." (Gen. 1:1)
So het Hy elke atoom wat steeds bestaan, tóé reeds geskep. Vir jou
en my ook. Hy het ook reën gemaak, water, wind en vir ons die
moontlikheid laat ontdek om vuur te maak.
"God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te
heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre."
(Gen. 1:16) Toe maak Hy die son. Ons praat steeds oor 'n kragbron.
Wel, sensitiewe sakie deesdae né, ons wil liewer nie daaroor praat
nie.
Dink saam met my: Ál die steenkool, wat oor duisende jare gevorm is,
is deur Hom gemaak. Dit verskaf vir ons krag. Die wind is sy
handwerk. Dit verskaf vir ons krag. Uraan word uit die grond gehaal.
Dit verskaf vir ons krag. Water word met behulp van gravitasie
aangewend om krag te verskaf. Sonpanele en batterye en omskakelaars
(inverters) word vervaardig uit grondstowwe, waarvan die boustene
van die begin van die skepping af bestaan. Wanneer die son en
daardie toerusting bymekaar uitkom, word krag opgewek. God het die
mens toegelaat en toegerus om hierdie tegnologie te ontwikkel.
Daarom kan jy 'n reuse plakker op jou kragkas, en op jou
kragopwekker, en op 'n wind turbine, en op 'n sonpaneel, en op 'n
kragstasie, en op 'n battery en op hordes ander goed gaan plak, wat
sê:
POWERED BY GOD!!!! ~ Willem Botha, 31/01/2023 |
|
Ek het hierdie mooi akroniem vir HOPE gelees:
Have Only Positive Expectations. Met Jesus in my lewe weet ek dat
daar altyd hoop is. Ek moet die hoop as’t ware met my geestesoog
voor my “sien”, ek moet dit vasgryp en myself positief programmeer
daarmee. Dié hoop wat die Here ons gee is ’n veilige en onbeweeglike
anker, sê die Bybel in Heb 6:19. Dis nie iets van ek “hoop” dit reën
vanaand nie, of ek “hoop” ek gaan die eksamen slaag nie. Die hoop-anker
wat daar in Jesus is, sal keer dat jy sink of wegdryf, sal keer dat
jy teen die rotse geslaan word as daar ’n storm opkom. Al is ’n boom
afgekap, is daar hoop dat dit weer sal uitloop en dat sy lote sal
aanhou groei. (Job 14;7). Solank daar lewe is, is daar hoop. ’n Hond
wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood is. (Pred. 9:4). Ek sal nie
hooploos lewe nie.... ~ Wilna Botha, 25/01/2023 |
|
Kort van
draad
Hoe ongelooflik vinnig verander mens se gemoed nie na die rustige
Kerstyd en ontspan by die huis nie. Ek het probeer om 'n voorneme te
maak om nie toe te laat dat die daaglikse "triggers" van die lewe my
so gou opwerk nie. Maar o wee, "probeer" was 'n grap! Sommer
onmiddellik toe die werk begin het en alles terugkeer na "normaal"
toe, was ek maar my ou self. So, wie is hierdie ou self?
Kom ek steek gou 'n prekie vir myself af. Ongeduld bring jou nêrens
nie. Ek is nie trots op my gedrag as ek alleen is en geïrriteerd
raak met iets nie, en boonop so paar knope los.
“'n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is,
stel sy dwaasheid ten toon.” (Spr. 14:29)
Ek weet dat vroulief onmiddellik vir my bid vir rustigheid as dit
gebeur en dit lyk my daardie gebede werk nogal soms! Dis egter een
ding as dit gebeur as jy by jouself is, maar as jy dit voor ander
doen, of jou frustrasie op ander uithaal, wys dit eintlik maar net
hoe dwaas jy is.
Was jy ook al in iemand se geselskap tydens 'n uiteet uitstappie en
die persoon raak ongeskik met die kelner? Dit plaas mens in 'n
ongelooflike ongemaklike situasie. Ek kan dit net nie hanteer nie,
en sal eerder nooit weer saam met so iemand gaan uiteet nie.
En nie eers te praat van padwoede nie. Nou kyk, hierdie is 'n lelike
ding! Gelukkig spandeer ek min tyd op die pad.
Ek dink Jesus het 'n geweldige sagte gees gehad en mens sien dit
raak as jy lees in die Evangelies waar Hy aan die woord was. Ek glo
hy het selfs die Fariseërs berispe op 'n kalm en bedaarde manier en
dikwels met 'n glimlag. Ek glo ook dat Hy selfs tydens ons eie
uitbarstings met deernis na ons kyk en sê: Rustig vriend, die lewe
is te kort vir hierdie gedrag.
Daardie truuk wat sê jy moet tot 10 tel voor jy negatief reageer
werk goed. Maar kyk, ek hou nie van somme nie. Miskien moet ek iets
byvoeg by my eie tien tellings, nl. om net te bid: “Here, help my om
net vir 'n oomblik kalm te raak". ~ Willem Botha, 24/01/2023 |
|
Welgeluksalig is die mens wat die Woord van God
oordink en dit die riglyn vir sy lewe maak – dis min of meer wat Ps.
1:1-2 sê. Welgeluksalig beteken om in die hoogste mate gelukkig te
wees. Wel-geluk-salig. As iemand “wel” is, is hy gesond en tevrede,
dinge in sy lewe verloop glad en mooi. As iemand “geluk” beleef, dan
is hy geseënd, vrolik en voorspoedig As iemand “salig” is, stap hy
’n vreedsame, heerlike, heilige pad wat uitloop op die ewige lewe by
God. Haal bietjie een van daai baie Bybels in jou kas uit -
bestudeer en oordink dit en wees welgeluksalig! ~Wilna Botha,
19/01/2023 |
|
Paaaa, kan ek 'n nuwe PlayStation kry?
Nee!!!
Hoekom nie Paaaaa?
Sommer nie, want ek sê so!
Nee... is nie altyd 'n gewilde antwoord nie. Vernaam nie as ek
doodseker is dat ek iets binne God se wil vra nie. Ek bid dan nadat
ek dinge goed oordink het, al die konsekwensies goed oorweeg het en
oortuig is dat hierdie die beste uitweg is. Voorts sê die Bybel dat
ek moet vra. "Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry,
en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle
sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis
vra?” (Matt 7:8-9)
Maar hier is die probleem. Ons besef nie dat ons 'n slang vra nie
want soms lyk hy nes 'n vis.
Goddank, die Here weet wanneer Hy ons teen onsself moet beskerm.
Soms gaan ons bietjie moet wag om te verstaan hoekom die Here nee
gesê het en soms gaan ons nooit verstaan nie, en soms kan dit dalk
voel of die Here selfs wreed is.
Die Here antwoord altyd op jou gebed.
Soms sê Hy: Ja.
Soms sê Hy: Nee.
Soms sê Hy: Wag.
Maar... dikwels gaan jy by die punt kom dat jy ongelooflik dankbaar
teenoor die Here gaan wees vir daardie nee. Soos wat ek al menigmaal
was. Dus, leer maar om geduldig te wees, God is altyd in beheer.
Dankie tog! ~ Willem Botha, 18/01/2023 |
|
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy
agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes.
30:21) Dit klink mooi, maar wat van daardie dag wat jy by ‘n
kruispad staan en jy wag, maar jy hoor nie daardie duidelike stem om
vir jou te sê watter kant toe nie? Daardie dag wanneer jy voor ‘n
keuse staan en vra: moet ek of moet ek nie, is dit reg of is dit nie,
maar jy kry nie sekerheid nie? Dis nogal iets wat ek so aan die
begin van die jaar baie oordink – sal ek in elke situasie weet of ek
die regte keuse doen, sal ek weet wanneer ek die regte koers verlaat?
Mens dink mos maklik: ek mag enige iets doen, ek is volwasse, ek is
vry, ek hoef vir niemand te verduidelik nie, alles is my geoorloof,
ens. Ek sien in 1 Kor. 6:12 en 1 Kor. 10:23 drie vrae wat mens dalk
kan help met keuses. Vra jouself af:
(1) is wat ek wil doen heilsaam? (m.a.w. is dit goed vir my, sal dit
my gelukkig maak, is dit werklik nuttig?)
(2) kan dit lei tot verslawing?
(3) is dit werklik opbouend?
As jou antwoorde ja, nee, ja is, dink ek jy kan met ‘n geruste hart
daardie pad vat en net dalkies sal jy die Here saggies hoor sê: Hier
is die pad, loop hierlangs. ~ Wilna Botha, 17/01/2023 |
|
Godverlate....
Dis hoe ek dink baie mense tans voel. Dalk daardie gevoel dat die
Here sy rug op jou gedraai het. Dalk voel dit of Hy jou vergeet het.
Dalk tref jou gebede die plafon. Dalk voel dit of jy nie meer woorde
het om te bid nie. Dalk voel dit selfs of dít wat jy in die Bybel
lees, sy krag verloor het. Miskien voel jy alleen omdat niemand meer
jou probleme wil aanhoor nie. Dalk is die lig in die tonnel
afgeskakel. Dalk voel dit of die lewe net eenvoudig nie meer die
moeite werd is nie. Dalk voel dit of die Here jou straf, maar jy
weet nie eers hoekom nie. Dalk voel dit of Hy sommer verdamp het.
Wel, as jy só voel, is jy definitief nie alleen nie. Ek dink die
lekker rustige gevoel van die Kerstyd het blitsig soos mis voor die
son verdwyn, en alles is erger as verlede jaar.
Het ek vir jou raad? Dalk 'n paar gevleuelde woorde? Is daar dalk
een of ander skakelaar wat ons kan aansit en alles is beter? Nee,
ongelukkig nie.
Maar hierdie "gloom" is niks nuuts nie, want duisende jare gelede
het baie mense so gevoel.
Toe laat die Here hierdie woorde in die Bybel opskryf:
"Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die
liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan
sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir
myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed
vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed
om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens
om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig -
miskien is daar hoop - laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat
hy maar oorvloedig smaad ondervind. Die Here verstoot 'n mens nie
vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy
Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense
in ellende en beproewing bring." (Klaagl. 3 : 21 - 33)
Jy weet mos, die Bybel is vandag nog net so relevant soos toe dit
geskryf is. ~ Willem Botha, 17/01/2023 |
|
“Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U
dra my deur die lewe.” (Ps. 63:8, Die Boodskap). Dis so
dubbel-uitdrukking: ek klou, Hy dra my. Dit laat my dink aan hoe ’n
baba-apie verbete onder aan sy ma se pens vasklou, maar
terselfdertyd tog ook so gemaklik en tevrede daar kan hang, omdat hy
weet hy is veilig en sy sal hom nie laat val nie. Ek kan met
vertroue aan die Here vasklou met dié wete dat Hy my dra. Selfs al
sou my vasklou-greep verswak, sal ek nie val nie, want die ewige God
se arms is onder my, Sy hand ondersteun my.... ALTYD! ONGEAG! ~
Wilna Botha, 12/01/2023 |
|
Ek het eendag gehoor dat iemand sê, dat as jy
'n geel motor koop (of enige spesifieke kleur of spesifieke
fabrikaat), sal dit skielik lyk of daar hordes sulke motors is, want
jy sal oorweldigend daarop fokus, en jy sal verbaas wees dat jy dit
nooit opgelet het nie.
Kyk hoe pragtig stel hierdie teks dit oor die teenwoordigheid van
die Here:
"Oral waar mense in die wêreld is, sal die gevoel hulle oorweldig om
te weet dat die Here daar is." (Hab. 2:14 DB)
'n Kind van die Here kan Hom eenvoudig nie miskyk nie, dis of Hy
orals is, en in alles is, en Hom om elke hoek en draai openbaar. Hoe
hard ek ook al probeer, ek kan Hom nie miskyk nie, want ek sien sy
werke, ek sien Hom in die skepping, ek sien Hom in ander mense en ek
beleef Hom in my diepste wese.
Maar hoekom is daar so baie vir wie dit nie waar is nie? Ek het aan
'n paar punte gedink:
* Mense het toegelaat dat hulle só afgestomp geraak het, dat die
wêreld se genietinge en plesier dit totaal oorheers. Voorts haat die
mensdom dit om aan 'n hoër gesag verantwoording te doen.
* Mense het vir hulle leermeesters bymekaar gemaak wat harder praat
as die stem van die Here.
* Mense gaan soek Hom in voorspoed en in persoonlike gewin, terwyl
Hy dit hoegenaamd nie vir hulle belowe nie.
* Mense het die Gees begin teenstaan, en daarom is dit ONMOONTLIK om
Hom raak te sien.
"Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge
van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin." (1 Kor. 2:14)
* Mense wil nie glo nie omdat hulle nie "sien" nie. Wel, ek kan ook
nie kern reaksies sien nie, ook nie giftige gasse nie, maar ek sien
en ervaar die effek.
* Mense verval in eindelose redenasies en oorval jou met hulle
dwaasheid, en dan begin jy twyfel. Moenie daarin trap nie, want jy
kan hulle nie oortuig nie, want hulle tokkel gewoonlik op een snaar,
maar bied geen alternatiewe aan nie.
Ek is dankbaar dat die geloof wat al jare in my voorouers vasgesteek
het, oorgedra het na ons geslag en ek is seker ook, my nageslag.
"Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou
ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig,
ook in jou is." (2 Tim. 1:5) ~ Willem Botha, 11/01/2023 |
|
"Ek stel voor jy kry vir jou 'n god..."
Klink nogal vreemd op die oor of hoe? 'n Vriend vertel vir my dat
hierdie woorde destyds deur 'n korporaal gebruik is toe hulle in die
weermag kom. Nou ja, die woorde was waarskynlik nie ge-uiter deur
iemand wat bekommerd was oor die troepe se siele nie, maar eerder
dat hy daarmee te kenne gegee het dat hulle nooit deur hierdie
weermag-hel gaan kom sonder hulp nie. Almal wat destyds weermag toe
is, het geweet hulle is in vir 'n "rough ride", en dit was inderdaad
so. Dit was egter net 'n miljoen keer rowwer as wat jy kon dink.
En hier staan ons aan die begin van 'n nuwe jaar, en ek vermoed ons
is in vir 'n "rough ride". En ek stel voor jy kry vir jou die
enigste God, indien jy Hom nie reeds in jou hoek het nie.
Daar is sprake van 'n wêreldwye resessie, Eskom se onvermoë gaan
hordes maatskappye se ondergang beteken en daar gaan werkverliese
wees, die regering het totaal die pap op die grond laat val en die
silwer randjie om die wolk lyk maar yl.
Ek stel voor jy kry vir jou dié enigste God. Dié Een wat altyd daar
is, en jou anderkant uit kan kry, want die vader weet, jy kan op
geen ander hulp staatmaak nie. Definitief nie op mense nie. Maar wat
help dit Hy is in jou hoek? Gaan alles dan net gelyk waters op 'n
gladde oseaan wees? Nee, gewis nie!
Hou vas aan Hom, asof niks wat sleg is jou gaan tref nie.
Maar indien die slegte goed wat jy só vrees jou tref, hou vas aan
Hom tot jy deur die storm is.
En as die storm net eenvoudig nie wil bedaar nie, hou vas aan Hom en
klou verbete aan sy enkels vas, want dis baie beter as enige ander
alternatief.
En as die heel ergste van die ergste jou tref en jou lewe voel of
dit uitmekaar val, hou vas aan Hom totdat Hy die stukke weer opgetel
het en jou weer heel gemaak het.
Kry betyds vir jou dié God, want al word jou lewe hierdie jaar
gekenmerk deur nét ongekende voorspoed, het jy iemand nodig om te
bedank. Wie is groter as Hy? En wie is tot meer in staat as Hy? En
wie anders kan jy bedank? Definitief géén ander god nie! Kies reg,
en kies betyds.
"Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.
Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig."
(Ps. 143:8)
Ek en Wilna wens vir jou en jou geliefdes 'n goeie jaar toe,
uitdagings en al. Mag julle geseënd wees. Dankie ook dat jy deel is
van Heuning. ~ Willem Botha, 09/01/2023 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|