|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2025
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Hierdie
reëltjie uit ’n ou gesang draai die afgelope tyd in my kop: “Jesus,
rots vir my geslaan...”. Ek het hom toe gesoek in my her-ontdekte
Psalm-en Gesangeboekie wat ek in 1968 vir my verjaarsdag gekry het,
maar dit lyk my hy het eers in die 1978 weergawe verskyn as Gesang
192 (dit is nou lied 239 in die (ou) nuwe Liedboek). Ons nader
Paasfees en die herdenking van dáárdie Vrydag toe hulle Jesus
geslaan, gespoeg, gespot en gekruisig is. Toe hulle dié Rots, óns
Rots geslaan, gepynig, mishandel, deurboor en verbrysel het. “Hy
is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy
is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.”
(Deut. 32:4) Jesus, die volmaakte een, sonder sonde, sonder gebrek.
Hy word in my plek geslaan en verwerp, in my plek deur God verlaat,
in my plek betaal Hy vir elke oortreding, elke verkeerde daad, elke
onrein gedagte. “En ek self - wat
kan ek doen om my sonde te versoen ?” Niks. Geen goeie daad. Geen
mooi lewe. Geen mooi woorde. Geen kerkbywoning. Op my eie is ek
verlore. Ek het Jesus as Verlosser nodig! Ek het Hom as Rots nodig.
Ek het Hom as Heilsfontein nodig.
Toe Moses in die
woestyn die rots geslaan het, het lewegewende water uitgevloei vir
Israel. Toe Jesus geslaan is, het ons lewende water ontvang wat ons
skoon was, wat ons lewe in oorvloed gee en vir ons die ewige lewe
verseker. Dis Paasfees - Jesus, Rots vir my geslaan...
1. Jesus, rots vir
my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
laat u lyding, sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en mag.
2. En ek self - wat
kan ek doen
om my sonde te versoen?
sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei -
nog gebede, nog geween
kan my red, Heer; u alleen.
3. Leeg, net met my
sondelas,
hou ek u verdienste vas
ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was my, heiland, maak my rein!
4. Heer, my rots,
bo almal groot
staan u vas in elke nood.
trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
eewge rots, u laat ook my
veilig, ewig in u bly!
~ Wilna Botha, 15/04/2025 |
|
Onsin!!!
Ek is seker jy was ook half moedeloos as mense nie verstaan hoekom
jy in God glo en die Bybel vir soetkoek opeet nie. Hoe meer jy
verduidelik hoe minder impak maak dit. Wel, uit die aard van die
saak het die Bybel ook daarop 'n klinkklare antwoord.
1 Kor. 1 : 18 "Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin
vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die
krag van God."
Dis so eenvoudig, as jy nie die Gees van God het nie is dit onsin en
onmoontlik om dit te verstaan. Ek voel 'n mens is heeltemal van sy
sinne beroof as hy met 'n valskerm uit 'n vliegtuig spring, maar dis
net omdat ek dit nog nooit probeer het nie en daarom kan ek dit nie
verstaan nie. Maar dit lyk my ek is dalk verkeerd.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom jy
kan bid tot 'n God wat jy nie kan sien nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe jy kan
bid vir genesing terwyl daar geen hoop meer oor is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoekom
mense gestremd gebore word, en dan boonop die Here dien met hulle
hele harte nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan
dankbaar wees teenoor die Here vir dinge wat in elk geval waar sou
word nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan hoe boere
bid vir reën, terwyl die weerpatrone wys dat dit totaal onmoontlik
is.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy
dinge vir ander doen wat net totaal onlogies is, en wat vir jou geen
voordeel bring nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy
dankbaar kan wees as slegte dinge op jou pad kom nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, verstaan nie hoe jy kan
uitsien na 'n hiernamaals wat onsigbaar is nie.
Mense wat nie die Gees van God het nie, kan nie verstaan dat jy kan
glo in die Woord van God, wat eeue gelede geskryf is deur gewone
mense, en boonop glo dat dit alles vandag nog steeds van toepassing
is.
Jy sien, as daardie reuse voorwaarde van Geesvervulling nog nie
gekom het nie, is geloof net totaal onmoontlik. Maar moet tog nie
die fout maak om mense af te skryf wat dit nie het nie, want Paulus
het ook nie geweet dat hy een goeie dag op pad Damaskus toe die Gees
ongevraag gaan ontvang nie. ~ Willem Botha, 06/04/2025 |
|
Slegte mense!
Ai, hulle bewandel die aarde in hulle duisende, hulle moor, roof,
steel, belieg en bedrieg enigeen wat voor kom. Selfs hulle "eie
mense", ja selfs hulle eie familie en ook hulle eie vriende. Jy kry
hulle in elke enkele beroep op aarde, in die regering (hulle is
volop daar), jy kry hulle in elke land, en ja, selfs in die kerk. Jy
beweeg tussen hulle, daagliks, en dis selde dat jy met een oogopslag
hulle kan opsom as sleg en skelm. Hulle kry mense in 'n oogwink in
hulle mag, vernaam waar geld betrokke is. Of eerder, beloftes van
geld. Ek sien dié titel van 'n boek "The price of God". Dit gaan oor
hoeveel mense bereid is om vir sommige van hierdie teoloë te gee in
ruil vir die guns van die Here. Maar hulle self word skatryk en die
arme donateur word teleurgestel in die Here.
Kyk of jy met my saamstem oor die volgende gedagte. Ek het nog nóóit
iemand ontmoet wat vertel hoe hy sy vennoot besteel en verneuk het
nie. Niemand het nog ooit vertel hoe hy die besigheid se rekeninge
kaalgestroop het nie. Nee, ek het nog altyd net die goeie vennoot
ontmoet, wat vertel hoe die ander ou alles verwoes het.
Ek het nog nóóit iemand ontmoet wat openlik vertel het hoe ontrou hy
(of sy) aan sy huweliksmaat was nie. Nog nooit! Niemand het nog ooit
vertel hoe hy met poppie by die werk skelm besig was sonder dat sy
vrou weet nie. En dan kom die egskeiding, maar dis sy vrou se skuld.
Ek het nog nóóit 'n finansiële raadgewer ontmoet wat erken dat hy
met leuens sy kliënte besteel het vir eie gewin nie. Jy weet mos,
soms hoef jy nie te jok nie, jy verswyg net 'n paar feite.
So kan ek aangaan, en soos jy nou hier lees, het daar waarskynlik
vele name in jou gedagtes opgekom van hierdie skelms wat jou pad
gekruis het.
En boeta, vele van hierdie mense kom met die mooiste geestelike
praatjies en Bybelversies saam met hulle bose woorde.
Ek lees die volgende statistiek raak. Van die hele wêreld bevolking
is omtrent net 5% van die mensdom regtig boos. Dis nou die slegste
van die slegste. Ek is egter redelik seker dat die mense wat ek
hierbo genoem het nié só sleg is soos die 5% in hierdie statistiek
nie. Maar wat van die res van die mensdom? Wel, hier is nog 'n
bietjie van 'n skok. Dieselfde navorsing het gewys dat slegs 5% van
mense in die wêreld in alle opsigte nét goed is. Slegs 5%! Dis mense
wat regtig niks, maar niks verkeerd doen nie. Bestuur nie met die
selfoon op die oor nie, hou presies by die spoedbeperkings, doen net
nooit iets wat hulle hoef weg te steek nie. Ongelukkig moet ek bely
dat ek nie naastenby daar bo in hierdie 5% groep val nie. En die res?
Die ander 90%? Wel, hulle (of dalk eerder ons), probeer hoofsaaklik
om in 'n mindere of meerdere mate die reguit pad te loop. Maar met
'n miljoen uitsonderings.
Daar is net een vraag in hierdie hele affêre. Wat gaan in jou hart
aan? Die Bybel sê dit bepaal jou hele lewe. Hoe gaan jy jou kinders
help om so goed as moontlik te doen? Moet jy nie dalk, soos ek,
eerder verander nie?
What would Jesus do? Jy onthou daardie armbandjies. Ek was te bang
om dit te dra!
Die wêreld is nou maar een maal onvolmaak, maar by verre die meeste
mense is goeie mense. Dis daardie 5% wat só opgeblaas word in die
media dat mense glo almal is sleg. Die goeies word nooit genoem nie,
want sensasie verkoop soos soetkoek.
Bly ons steeds in 'n goeie land? Ja, ek wil nêrens anders woon nie.
SO, pas maar daai hart van jou op.
"Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie
dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn
uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die
mond van oor.” (Luk. 6:45) ~ Willem Botha, 09/04/2025 |
|
Jy kan nie....
Die spreekwoord "tit for tat" laat my dink aan Newton se derde wet
wat sê: "vir elke aksie is daar 'n gelyke, maar teenoorgestelde
reaksie."
Jy kan nie doen wat jy wil, en nie besef daar is 'n reaksie op elke
enkele een van jou aksies nie. Ek dink aan so baie dinge:
Jy kan nie verwag dat ander jou moet liefhê as jy nie vir jouself
lief is nie. Jy kan nie dink mense moet jou respekteer as jy nie
selfrespek het nie. Jy kan nie dink die Here hou nie van jou omdat
jy nie van jouself hou nie. Jy kan nie 'n wenner wees as jy nie aan
die wedloop deelneem nie.
Meneer, jy is die spieël waarin jou vrou haarself sien. Jý bepaal in
'n groot mate haar selfwaarde.
Jy kan nie haar afkraak en goor behandel en verwag sy moet die
volmaakte vrou wees nie. Jy kan nie haar daarop wys dat sy nie meer
so goed lyk as in haar jong dae, en vanaand gunsies soek nie. Jy
weet mos, daardie klein dolkstekies en sarkastiese opmerkings wat so
geweldig seermaak, wat dan met 'n goor laggie gepaardgaan omdat jy
kwansuis net 'n grappie maak. Man, sarkasme is in elk geval siek en
ongevraag. Jy kan nie dit doen nie.
Jy kan nie jou kinders onder geweldige druk sit om jou eie drome vir
hulle uit te leef, en dan verwag dat hulle gelukkige volwasse mense
moet wees nie. Nie almal is gemaak vir eerste span rugby of uiters
suksesvolle korporatiewe reuse met groot salarisse nie, weet jy?
Jy kan nie jou kinders kwalik neem as hulle jou teleurstel terwyl jy
'n uiters swak voorbeeld stel nie. "Maak soos ek sê en nie soos ek
maak nie", is 'n ramp.
Die sondes van die vaders.... Dit laat mens dink né.
Maar, "it takes two to tango". Mevrou, jy kan nie jou man kwalik
neem as hy onmenslike ure werk, terwyl jy ondraaglike finansiële
verwagtings en laste op hom sit nie. Miskien is 'n landgoed leefstyl
nie vir jou beskore nie.
Jy kan ook nie bonatuurlike dinge van die Here verwag as jy nie jou
kant bring nie. Jy kan nie bid vir genesing as jy jou eie liggaam
verwoes nie.
Jy kan nie jouself in die hemel in toi-toi omdat dit na so lekker
plek klink, terwyl jy nie die Here se voorwaardes (wat Hy so
duidelik in die Bybel uitspel) aanvaar nie.
Jy weet mos, mense sê maklik 'n God van liefde sal jou nie in die
hel laat beland nie. Wel, verrassing verrassing, die Bybel stip die
teendeel in detail uit.
Jy kan nie... klink so wetties, maar dis net blote "common sense".
Jy kan eerder streef daarna om goed te doen, en dan kan jy nogal
verwag om 'n gelukkiger mens te wees.
Jy kan baie meer vrede beleef as jy sagtheid uitstraal. Jy kan
verder kom in die lewe deur 'n klomp "jy kan nie" elemente om te
swaai.
Jip, jy kan...
As jy wil. ~ Willem Botha, 06/04/2025 |
|
Verlede week toe al ons kinders en hulle gades weer vir ’n slag om
ons tafel sit en saameet, kom dié woorde (uit my her-ontdekte
Psalms-en-Gesangeboek) by my op: “Soos jong olyfboomplante, wat
uitspruit sterk en fris, so bloei aan alle kante jou kinders om jou
dis. O wie van die getal is, hy wat die Here vrees, vir wie God een
en al is - hy sal geseënd wees.” Dis uit Ps. 128. Interessant genoeg,
is hierdie lied op ons troue gesing (ja, sowaar, in daai dae was
daar samesang op ’n troue!) Dit was seker as ’n seën gesing, want
die laaste vers sê: “Mag ryke seëninge uit Sion jou bedou...”Die
tweede vers sing ook oor die vrou van jou jeug wat vir haar man
volheid gee en vreugde bring in die huis – ek hoop na amper 44 jaar
se getroude lewe sal my man voel dat daai seënwens wat op ons
troudag gesing is, waar geword het. Maar terug na die kinders om die
tafel wat aansit vir die dis wat met liefde voorberei is – ons
“olyfboomplante” – sterk, fris, vol drome, vol verwagtinge en ek bid
(in my hart sing ek dit!) die derde vers van hierdie Psalm oor hulle.
Ek bid dat hulle die Here sal dien, dat hulle sy wil sal navolg, Hom
voor oë sal hou, dat hulle voorspoed en diep vrede sal ervaar, dat
die Here se seën in alle opsigte op hulle sal rus. Ek bid dat ons
olyfboomplante sal blom en vrugte dra. En o ja, moenie vergeet nie,
die laaste vers van die lied sê, “mag jy nog, op jou bede, 'n
nakroosseën verkry” – ons bid en wag nog vir dié seën om ons
kindskinders te mag sien! Hier is die woorde van Psalm 128:
Psalm 128
1. Wie deur Gods vrees bewoë,
trou op die weg wil gaan,
waar hom Gods wil voor oë
en klaar getekend staan -
die arbeid van sy hande
sal hy met vreug geniet
wanneer die koringlande
met seen hul opbrings bied.
2. Soos ons met welgevalle
die wingerdstok aanskou,
en tel die trossetalle
wat ons die blare ontvou
so sal sy in jou lewe,
die huisvrou van jou jeug,
aan jou die volheid gewe
van huiselike vreug.
3. Soos jong olyfboomplante,
wat uitspruit sterk en fris,
so bloei aan alle kante
jou kinders om jou dis.
O wie van die getal is,
hy wat die HERE vrees,
vir wie God een en al is -
hy sal geseënd wees.
4. Mag ryke seëninge
uit Sion jou bedou;
mag jy dié goeie dinge
van Sionstad aanskou!
mag jy nog, op jou bede,
'n nakroosseen verkry!
En, God van alle vrede,
mag Isr'els vrede bly!
~ Wilna
Botha, 02/04/2025 |
|
Pa
Is dit nie skokkend hoeveel enkelouers daar is nie, oftewel hoeveel
kinders net deur een ouer grootgemaak word nie, gewoonlik 'n ma, en
baie dikwels (natuurlik nie altyd nie) die pa wat totaal afwesig
raak. Goeiste, kan ons ons jeug kwalik neem vir al die slegte dinge
wat gebeur? Toe ons eie kinders in die laerskool was het hulle al
vertel dat daar hordes kinders is wat net deur een ouer grootgemaak
word. Sonder om hoegenaamd te veroordeel wil ek sê die wêreld het
siek geword, terminaal siek! Hoekom op aarde trou mense nog met 'n
huweliksbelofte voor God? Wie trou nog binne gemeenskap van goedere?
Want die redenasie is eenvoudig, mense trou met die agterdeur oop,
en begin met 'n gesin binne daardie raamwerk. Ek het baie begrip dat
daar egskeidings plaasvind en wil geensins iemand probeer slegmaak
wat daardeur gaan nie, maar ek pleit dat ouers nie hulle kinders
vernietig nie. Die vet weet, dis 'n slagveld daarbuite!
Kan 'n pa nie maar ten minste 'n goeie pa wees as daar wel skeiding
plaasgevind het nie? Kan bloed nie maar dikker as water wees nie?
Kan die woorde "Ek is lief vir jou" nie maar bedoel word nie?
Ek is seker jy ken hierdie stukkie maar ek deel dit graag weer.
1 Kor 13 vir pa's:
Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW ry,
maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid
nie, dan is ek so waardeloos soos 'n bankkrediet met 'n nulbalans.
Al het ek die gawe van woorde sodat ek 'n direksie met my argumente
kan swaai, of skares na my preke kan laat stroom, en ek het nie die
liefde om na my kinders te luister nie, doen ek meer kwaad as goed.
Al ken ek die geheimenisse van die Beurs en die Reserwebank, en al
besit ek al die kennis van rugby- en krieketreëls, en al het ek al
die geloof dat ons hierdie land met gebed kan verander, maar ek het
nie die liefde om my kinders die gevare van baie geld te leer, langs
die baan te staan as hulle speel of hulle te leer bid nie, dan het
ek niks bereik nie.
Al gee ek 'n dubbele tiende vir die armes, en al beroem ek my dat ek
in elke liefdadigheids raad op my dorp dien en vakansies my
gesondheid opoffer om in malariagebiede sendingwerk te doen, en ek
is te moeg om saans vir my kinders boeke te lees of naweke in die
veld te gaan stap, baat dit my alles absoluut niks.
'n Pa wat liefhet, is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde,
'n Pa se liefde is vriendelik met 'n kind wat nie wil rugby speel
nie,
Hy is nie afgunstig op pa's met slimmer en mooier kinders nie,
Hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie,
'n Pa se liefde handel nie onwelvoeglik met die ma van sy kinders
nie,
Soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie,
Is nie liggeraak en nukkerig as 'n kind bietjie ekstra aandag soek
nie.
'n Pa wat sy kinders liefhet, hou nie boek van hulle foute en peper
hulle nie met verwyte nie.
'n Pa verbly hom nie oor 'n kind se foute met:
"Ek het jou gewaarsku maar jy wou nie luister nie"
Hy is verheug as hy sy kinders die waarheid hoor praat - selfs tot
hulle eie nadeel.
Daarom wil ek my kinders se skandes met liefde bedek,
In hulle glo,
Die beste vir hulle hoop,
En hulle kleredrag, klaery en kritiek verdra.
'n Opregte drukkie en 'n intieme gesprek van 'n ouer bly lank in 'n
kinderhart. Maar die preek of toespraak wat ek liewer in die tyd wou
skryf sal oormôre weer vergeet wees.
Vandag se noterings op die aandelemark is volgende week niks werd
nie.
In die lig van die Volmaakte wat kom, word al my kennis en
besittings gerelativeer.
Toe ek 'n jong man was, was ek gesteld op my voorkoms, my motor en
my geleerdheid,
Maar noudat ek 'n pa geword het, wil ek graag my kinders met liefde,
balans en geloof grootmaak.
Nou kyk ek nog vas teen rebelse tienergesigte,
Maar eendag as hulle groot is,
Sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer,
En wat God ons almal leer.
En nou:
Geduld, aanmoediging en liefde bly,
Maar die waardevolste hiervan is onvoorwaardelike liefde!
~ Willem Botha, 30/03/2025 |
|
Hoe
weet jy jy raak dalk oud? Jy staan in die kerk vir lofprysing en jy
ken nie die wysies en die liedjies nie, elke Sondag s’n klink nuut
en asof jy dit vir die eerste keer hoor en skielik verlang jy terug
na die Psalms-en-Gesange-boekie waarmee jy grootgeword het. Jy
verlang selfs na die trekkerige orrelmusiek! Nee, dalk moet ek nou
maar hier net vir myself praat en nie namens jou ook nie! Kyk,
verstaan my nou mooi: daar is niks fout met nuwerwetse kerkmusiek
nie. Die woorde is wonderlik, die wysies bly draai in jou kop en
daar is ongelooflik baie liedjies en daar kom nog die hele tyd nuwes
by. Maar nogtans verlang ek na vroeër jare se singery, soveel dat ek
my ou Psalms-en-Gesange-boekie gaan uithaal het. My pa se handskrif
voorin: 8 Januarie 1968. Dit was ’n geskenk vir my 8ste verjaarsdag.
Ek kon al mooi lees en ek onthou hoe ek nie kon wag tydens die
kerkdiens dat dit weer tyd is om in my boekie te blaai en uit volle
bors te sing nie. Dat die woorde moeilik was en ek nie eintlik mooi
geweet het wat beteken “O goedheid Gods hier nooit volprese, wie
word daardeur nie diep getref...”, het my nie gepla nie en ek het
ook nie gevra nie! Geen wonder dat daar grappies is oor “oom Bêrend
se sandale”, i.p.v. “Op berge en in dale” nie. Willem het glad
gedink hulle sing vir die dogtertjie “Yvette” in hulle klas, toe
hulle sing “en só U wet bewaar” en hy sing “en só Yvette bewaar”.
“As die lewensstorme woedend om my slaan...” het iemand vertel hulle
het altyd gesing “As die leeu my storm sal ek woedend slaan!” Ons
het egter in daai “ou dae” hierdie liedere daagliks in die skool
gesing en vir Sondagskool moes jy elke week nie net ’n Bybelvers
memoriseer nie, maar ook ’n vers van een van die Psalms of Gesange.
Geen wonder dat dit só diep in my hart ingeskryf is dat ek nou weer
daarna verlang nie! Ek weet daar is mense wat daai woorde as argaïes
beskryf, of hoogdawerend en skynheilig, outyds, aanstellerig en
kansel-Afrikaans en dit wys maar net vir my dat ons almal
verskillende verwagtinge en belewenisse het van ons lofprysing. So,
vir myself moet ek vandag sê: waar en wanneer ek deelneem aan enige
vorm van lofprysing, onthou dat dit nie oor my gaan nie, maar oor
die Here. As ek nie kan saamsing nie, fokus op die woorde. As ek nie
die wysie ken nie, luister net. As ek nie daarvan hou nie, moenie
kla en kerm nie, moenie kritiseer nie, moenie geïrriteerd raak nie,
daar is beslis iemand wat daarvan hou en uit volle bors die Here
loof – gun hom om dit te doen. As ek voel ek het uitgemis op lekker
saamsing in die kerk, gaan huis toe en sing saam met my gunsteling
lofprysingsliedere op YouTube, of vat daai boekie van 1968 en sing
weer soos die agtjarige klein dogtertjie! “Laat voor die Heer ’n
lofsang rys! Hoe goed is dit om God te prys! Hoe lieflik om die lof
te sing. Die lof wat ons aan Hom moet bring!” (Ps. 147), of te wel:
“Prys die Here! Dit is goed om tot lof van ons God te sing, dit is
’n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.” (Ps. 147:1) ~ Wilna
Botha, 24/03/2025 |
|
As jy nie meer lus is vir die Here nie kan jy maar net omdraai en
loop. Dis maklik, jy draai net weg van sy aangesig af en stap net in
'n ander rigting. Jy hoef nie te groet nie, of te verduidelik nie.
Maar o wee vriend, dis nie so maklik nie, jy gaan die heeltyd wéér
in Hom vasloop, oor en oor en oor. Jy sien, Hy is ook op daardie
nuwe pad wat jy begin loop, Hy is in elke hoekie waarin jy gaan
probeer wegkruip, jy gaan sy stem hoor roep, en as jy van die ander
99 af wegbreek gaan Hy jou weer kom haal. Jy gaan Hom méér raaksien
as voordat jy jou rug probeer draai het.
Dink maar aan die koddige Jona, die Here het tot 'n vis gestuur om
hom te gaan haal.
Jona1:1-3 "Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai
gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom
aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na
Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en
daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir
die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis
toe te gaan, weg van die Here af."
Ek loop onlangs verby 'n groot foto op 'n advertensiebord en kyk na
die oë van die persoon op die foto. Jy weet mos, as daardie persoon
vir die kamera gekyk het toe die foto geneem is, sal daardie oë jou
die heeltyd volg, ongeag van die hoek waarteen jy na die foto kyk.
So is dit met die Here, jy kan probeer wegvlug, maar sy sagte oë sal
glimlaggend vir jou kyk, waar jy ook al is. Ongeag van hoe jy oor
Hom voel, sy oë sal liefderik en glimlaggend vir jou kyk. As jy
eenmaal die pad saam met Hom gestap het, sal Hy op elke pad wees
waarop jy probeer om van Hom weg te vlug. Hy is net eenvoudig orals,
jy sal Hom NOOIT weer kan miskyk nie. Hy gaan jou nie los nie, en as
jy soos die verlore seun terugkom, sal sy arms oop wees vir jou.
Altyd. ~ Willem Botha, 13/03/2025 |
|
Sê nou maar net...
Sê nou maar net dit gaan regtig so sleg met ons land
as wat soveel negatiewe mense die heeldag op sosiale media uitblaker.
Sê nou maar net die sogenaamde "nag van die lang messe" het gebeur,
soos wat oom Siener jare gelede voorspel het. Sê nou maar net die
land het toe wel in vlamme opgegaan soos wat ons gevrees het voor
die 1994 verkiesing. Sê nou maar net vigs of Covid het die hele
wêreld bevolking bykans uitgewis.
Sê nou maar net die sogenaamde "gat in die osoonlaag"
het veroorsaak dat ons doodgebrand het van die ultraviolet strale.
Terloops, dit was jare terug SO 'n groot besprekingspunt dat almal
in paniek gegaan het. En toe stop die praatjies heeltemal. Nou is
dit natuurlik aardverwarming. Dalk stop daardie vrese ook eendag. Sê
nou maar net dit gaan só sleg soos wat vele mense wat die land
verlaat het, so graag op elke moontlike platform deel. Sê nou maar
net jy is eendag uit jou huis geboender, en dis vir iemand anders
gegee. Sê nou maar net elke groot onderneming het die land verlaat
en niemand het meer werk nie.
Vriend, hierdie stories word elke liewe dag vir jou
opgedis, en mense glo elke stukkie snert wat hulle op Facebook lees,
en deel hordes van hierdie negatiewe goed met mekaar, en gebruik
elke denkbare stukkie nuus om te vertel hoe sleg die lewe is.
Hou op om deel te neem aan hierdie goed, en sien weer
raak hoe goed die lewe is.
En sê nou maar net die Here het ons ook verlaat en
opgehou om met ons besig te wees. Ek het eendag vir iemand gevra om
op te hou om hierdie negatiewe goed vir my aan te stuur, en toe is
hy briesend vir my. Kan jy dit glo? Ek kan net jou maatjie wees as
ek ook so 'n smartvraat en swartgallig is as jy.
Ag nee regtig! Gelukkig het hy elders in 'n donker
gat gaan kruip.
Ek wonder of ek ooit in staat sal wees om al my
seëninge te tel? En as ek elke dag nét vir die Here sou dankie sê
vir al die mooi van die lewe, sal ek báie besig wees.
Sê nou maar net ek besit nét dit waarvoor ek vandag
vir die Here dankie gesê het? ~ Willem Botha, 05/03/2025 |
|
Wat sal jou gelukkig maak? Kom ons sê jy kan 'n
towerstaf swaai en woep, daar is jy gelukkig, wat sou die inhoud van
daardie wens wees?
Antwoord eers vir jouself baie eerlik of jy regtig
gelukkig is met jou lewe soos wat dit nou is. Ek twyfel of veel
mense onomwonde ja sal sê. So, what would it take?
Dalk iets soos die volgende, en dalk ook min of meer
in hierdie volgorde. Geld, so bietjie meer geld (of dalk báie meer
geld). 'n Ander werk, waar alles net klopdisselboom loop, sonder
enige druk of negatiewe goete. Of dalk minder stress, en minder goed
wat jou woedemeter die heeldag in die rooi indruk. Of dalk is jy nie
meer so gemaklik in jou liggaam nie. Jy weet mos, as jy na 'n foto
van jouself kyk spring jou oog onmiddellik na daardie deel toe wat
vir jou soveel aanstoot gee.
Miskien is jou gesondheid nie soos wat jy dit wil hê
nie. Dalk is verhoudinge nie meer lekker nie, selfs met diegene wat
die heel naaste aan jou is.
Dalk is die Here vêr weg en het Hy jou vergeet (of
liewer, dit voel so).
Ja kyk, daar is baie dinge wat haper in ons lewens.
Nou ja, hou aan lees, ek het ál die antwoorde vir jou
en binne 'n paar minute is alles weer 100% reg. Jy weet mos, 'n
lekker Bybelteks of twee en siedaar, jy glimlag van oor tot oor. Of
dalk moet jy net beter bid, miskien spreek jy nie die probleme reg
aan nie en die duiwel maak dat daar geen deurbrake is nie.
Ai, hoe lekker sou dit wees as die lewe so eenvoudig
was. Wel, goeie nuus het ek inderdaad nie, net 'n wrede realiteit
oor die lewe.
Hier is die kruks van alles. Jy sál teleurgestel
word, dis hoe dit is.
Jy sal teleurgestel word deur mense, elke dag van jou
lewe, want mense is feilbaar. Slegte mense sal jou teleurstel, én
goeie mense sal jou teleurstel.
Jy sal teleurgestel word deur jou wederhelf, want jou
mooi verwagtinge vlieg soms by die agterdeur uit.
Jy sal soms ook teleurgestel word deur jou kinders,
en ook jou ouers, dis nou maar so.
Jy sal teleurgestel word deur die Bybel, want ons
lees mos net die dele wat handel oor voorspoed.
Jy sal teleurgestel word deur die kerk en ander
Christene, want ook hulle is steeds net mense.
Jy sal teleurgestel word deur jou vriende, vernaam as
jy agterkom daar word oor jou geskinder.
Jy sal teleurgestel word deur die regering, want
politici voel NIKS vir jou nie, dit gaan nét oor mag en eie gewin.
Jy sal teleurgestel word deur jouself, want jou goeie
voornemens om beter te lewe val elke dag deur die mat. Het ons nie
VREESLIK baie dinge waaraan ons moet werk in onsself nie? Hoekom
voel ons so maklik ons faal net die hele dag?
En laastens, 'n baie moeilike een.
Jy sal teleurgestel word deur die Here. Dink net baie
eerlik of jy nie dit ook al ervaar het nie. Dit lyk dikwels of Hy
jou nie hoor nie. Dit voel dikwels of Hy altyd laat is. Dit voel
dikwels of Hy net eenvoudig nie jou probleme verstaan nie. Dit voel
dikwels of Hy aan die verkeerde mense se kant is. Dit voel of Hy net
nie omgee nie. Dit voel dikwels of Hy die hele dag jou geloof wil
toets, en jy druip net aanhoudend die toets.
Wel, hier is jou antwoord op al jou probleme.
Die antwoord is eenvoudig, daar IS nie 'n antwoord
nie! En as jy dink jy gaan alles geestelik kan verklaar, of as jy
dink die Bybel kan alles verklaar, gaan jy BAIE teleurgesteld wees.
Miskien verwag ons te veel van mense, of die beloftes van die Bybel.
Wel, die Bybel (en die Here) belowe nie nét voorspoed nie. Die lewe
is hard, verwag dit. Mense is onbetroubaar, verwag dit. Die Here se
planne is anders as joune, verwag dit. Jy sal soms stoksielalleen
deur hierdie oorlog worstel, verwag dit!
Maar... ek volstaan by hierdie volgende punt:
Ek gaan steeds eerder saam met die Here deur hierdie
stryd, as sonder Hom.
Ek veg eerder saam met my mense vir wie ek lief is,
as sonder hulle.
Ek wend my eerder tot die Bybel vir antwoorde, as om
sonder die Bybel te probeer veg.
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik
die laaste asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22)
Maar nie almal is so nie, jy kry ongelooflike goeie
mense, en mense sal dikwels vir jou deur die vuur loop, soms selfs
onbekende mense.
En die Here is elke oomblik daar, en ek dink jy kan
ook getuig dat Hy jou al miljoen keer méér verras het as
teleurgestel het. Stap saam met Hom, deur hierdie moeilike lewe, tot
by die heerlikheid van die lewe hierna. ~ Willem Botha, 26/02/2025 |
|
Wat van die ander gelowe? Wat van dié wat nog nie
gehoor het nie? Hoe kan julle sê julle is alleen reg? Wie sê daar is
net een God? Wie sê Allah en God is nie dieselfde God nie? Hoekom
kan daar nie vele roetes na die hemel toe wees nie? Wat van die
Koran? Is hy nie ook reg nie? Hoekom dink julle die hemel is
eksklusief vir Christene wat gered is?
En so kan ek honderde vrae vra, en jy as Christen is
weerloos teen hierdie vrae as die ongelowige/anders-gelowige/ex-gelowige
vir jou aanval. En woeps, net daar twyfel jy tot op die been in jou
eie geloofslewe.
Kom ek help jou reg, jy is hoegenaamd nie reg as jy
dink jy is weerloos nie, want jy het die kragtigste dokument (die
Bybel) aan jou kant, dié dokument wat jou in detail alles gee wat jy
oor hierdie saak wil weet.
Ek gaan nie in hierdie boodskappie tekste aanhaal nie,
dalk later, want as jy argumenteer met ongelowiges gaan die tekste
nie help nie want hulle verwerp die Bybel in elk geval, en ál waarop
hulle hamer is hulle "is - is nie" taktiek. As jy dink jy het nie
antwoorde op hierdie strydvrae nie, weet net hulle het nog minder
antwoorde.
Maar kom ek sê vir jou waar ek staan rondom hierdie
dinge.
Eerstens, ek aanvaar die Bybel as die Woord van God,
en ek aanvaar hierdie God as die enigste God, want daar word vir
geen alternatiewe "lewende gode" voorsiening gemaak nie.
Hierdie Bybel was in sy totaliteit kant en klaar
afgehandel in sy huidige formaat, 397 na Christus. 40 Skrywers, 3
tale, op drie kontinente geskryf oor 'n tydperk van 1600 jaar.
Die Koran daarenteen, is eers 200 jaar later deur één
mens (Mohammad) geskryf. Bykans al die karakters en verhale van die
ou Testament kom daarin voor, en Maria en Jesus word ook genoem. Nou
wonder ek, wat was sy bron vir die Koran? Die Bybel natuurlik.
Kom ons praat oor die hemel. Die hemel (waarnatoe
Jesus opgevaar het), word in die Bybel beskryf. Maar tog wil ander
gelowe (en selfs ongelowiges) dit kaap om tog net ook deel wees
daarvan, sonder om Jesus (wat die enigste weg is volgens die Bybel)
as Verlosser te aanvaar.
My volgende punt gaan oor ons as Christene se
verhouding met God, deur die werk van die Heilige Gees. Hoekom is ek
en my vrou in 'n verhouding aanmekaar gebind? Net omdat iemand
anders dit eeue terug as 'n huwelik beskryf het? Of omdat daar
geskrifte bestaan oor 'n huwelik? Nee, dis omdat ek haar ken, en
myself permanent aan haar verbind het. Dis persoonlik, dis deel van
my wese. Net so is ons verhouding met die Here. Moenie dit gering
skat nie. Die ongelowige wat nie die Gees het nie wil jou laat
struikel. Die Bybel sê dat dié wat nie die Gees het nie dit nie kan
verstaan nie, dis vir hulle onsin.
Die hemel kan nie gekaap word deur mense wat nie die
hele Bybel wil aanvaar nie. En die feit dat ek nie alles verstaan
nie, maak nie dat ek daaraan moet twyfel nie.
Steeds by die "enigste" Bybel, wat die woord is van
die enigste lewende God. Hierdie Bybel wis alle ander paaie na die
ewige lewe uit, daar word net eenvoudig nie daarvoor voorsiening
gemaak nie. En as ander mense met ander kulture oor die wêreld,
ander gelowe en gebruike wil aanhang, is die "model" van die Bybel
nie vir hulle beskore nie. Maar tog vind jy in elk geval wedergebore
Christene onder al daardie verskeie kulture, dikwels mense wat nog
nooit tevore van die Here gehoor het nie, en tog tot bekering kom.
Dus, as jy die Bybel in twyfel wil trek omdat ander kulture en
groeperinge ander goed aanhang, hoef jy nie vir my te vra "hoekom"
nie, gaan vra dit vir daardie Christene van daardie groeperinge.
Hulle sal vir jou kragtige getuienisse gee, wat jou sal verstom.
Is Allah ook God? Wel, daar is 'n maklike toets. As
hy 'n seun gehad het met die Naam Jesus Christus, is hy inderdaad,
maar die geskrif wat jou van Allah vertel (die Koran) verwerp dit
totaal.
Allah is nie God nie!!!
En nou 'n tameletjie. Wat van dié wat nie gehoor het?
Weereens terug na die Bybel toe. Paulus (en ook die dissipels) het
onder die heidene gaan werk, en daar was duisende wat tot bekering
gekom het. Maar daar staan hoegenaamd nêrens in die Bybel dat álmal
gehoor het nie. Ek kan dus ook nie daardie vraag antwoord nie, maar
vra self vir die Here as jy die dag in die hemel kom. Dalk sien jy
wel vele van dié "wat nie gehoor het nie". Dalk is God se genade
miljoen keer groter as wat ek verstaan.
Moenie dat afvalliges jou laat struikel en twyfel nie,
hulle het in elk geval ook nie antwoorde nie, hou jy net vas aan die
woord van God. Moenie ophou glo nie, lees die Woord en vra die Here
om dinge aan jou te openbaar. En moenie dink jy moet (of sal) alles
verstaan nie. Maar ken Hom, en niks van daardie onbenullige
argumente sal saakmaak nie.
My pa was 'n treindrywer, en het alles van 'n trein
geweet, maar ek het nie. Ek het dus nie saam met hom in die trein
gery omdat ek alles verstaan het nie, ek het saamgery omdat ek my pa
geken en hom vertrou het, en hý alles verstaan het.
Hoekom sal ek my saligheid weggooi oor ander se
strikvrae? As hulle dink ek is 'n dwaas is dit oukei, maar die Bybel
sê pertinent hulle is dwase.
Is ons dus alleen reg? Wel, wat bedoel jy met "reg"?
Mense wil so graag flentertjies uit die Bybel aanhang net in geval
die Bybel waarde het. As jy dit wil doen kan jy maar alles los, want
met die Bybel is dit alles of niks.
Ja, ons is alleen reg, indien die vraag gaan oor dít
wat die Bybel as die waarheid beskryf word. Diegene wat dit nie wil
aanvaar nie moet dan maar op dít staatmaak wat hulle pas, maar
ongelukkig gaan die Woord van God nie daarby aanpas nie.
Ek en jy? Bly by die waarheid, en weet vir seker,
daar is net één waarheid, of andere dit wil aanvaar of nie. Jy hoef
dit nie vir ander te verduidelik nie, want dit gaan nie help nie.
"Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God,
glo ook in My." (Joh. 14:1) ~ Willem Botha, 11/02/2025 |
|
En skielik... , besef jy jy het nou die
ouderdom bereik van ou mense. En dat 15 jaar soos mis voor die son
verdwyn het. Net skielik, en dis onmoontlik om rekenskap te gee
daarvan. Waar is die jare heen? Mense sê ouderdom is net 'n nommer,
maar so 'n hoë nommer is moeilik. Die aantal pille se getal is ook
hoog. So ook die bloeddruk syfer, en die cholesterol syfer, alles
net 'n nommer, maar 'n hoë nommer.
En skielik is jou kinders op 'n nuwe pad in hulle eie lewens, en
dalk is daar skielik pienkvoetjies, maar skielik begin jy kwesbaar
voel as almal wat óm jou was, nou ook vêr kan wees, dalk duisende
kilometers weg. En skielik begin jy besef dat die weersiens miskien
afgetel kan word op 'n hand of twee, en skielik besef jy dat die
gevegte destyds in die huis, nou so sinneloos voel. Was jy dalk te
veel kort van draad? Onnodig? Was die gevegte oor die tandepasta se
doppie regtig só belangrik?
En skielik wonder jy of jy weer so hard sou werk en soveel kere die
werk voor die familie sou stel sal as jy voor kon begin? En skielik
besef jy dat dit absoluut geen langtermyn voordeel ingehou het om
altyd net die baas gelukkig te hou nie, want jou pensioen is steeds
te min.
En skielik besef jy dat mediese sorg onbekostigbaar geword het, juis
nou dat jy dit nodig het, en dalk is jy spyt daaroor dat jy nie
vroeër agter jou gesondheid gekyk het nie, en 'n slegte lewenswyse
nou sy tol eis.
En skielik besef jy ook dat die mense in jou binnekring al hoe
minder word, want daar word nou bome in jou eie bos uitgekap. Maar
dalk moet jy minder tyd mors aan sommige van dié wat wel in jou
binnekring is, wat miskien toksies geword het, en dat sommige van
daardie verhoudinge net een rigting was al die jare, en dat jy
uiteindelik bevry kan word daarvan.
Skielik besef jy ook dat dit goed is om vriende se verhoudinge baie
hoog op prys te stel.
"Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou
broer se huis toe as jy moeilikheid het nie: 'n buurman wat naby is,
is meer werd as 'n broer wat ver is." (Spr. 27:10)
En skielik besef jy dat die jare se vasbyt aan jou geloof, goud werd
is, al het daar dalk tye van twyfel gekom, en waar jy gewonder het
of al hierdie geloof-dinge nie maar net Sondagskool praatjies was
nie. Skielik besef jy (hopelik) dat daar nét een van twee deure kan
wees waardeur jy kan gaan na die ewigheid toe. En eventueel besef jy
dat die streng God van die ou Testament, 'n nuwe Lewe moontlik
gemaak het deur sy Seun Jesus Christus. So dring die besef ook deur
dat jy self die sleutel vir daardie Deur in jou hand hou.
En skielik, werklik oornag, besef jy dat Prediker 12 jou lankal
gewaarsku het oor die tye wat kom, daardie tye wat jy nie gedink het
jou ooit sal tref nie. Lees dit asseblief.
"Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die
jare aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” (Pred
12:1)
Maar dan, hopelik, begin jy besef dat daardie vasbyt aan belangrike
dinge, en jou naastes, elke dag gekoester moet word.
Skielike besef jy ook dat daar soveel mooi in die lewe is wat jy
nooit raakgesien het nie. Die mooi sonsopkoms met wolkies wat
kunstig slegs deur die Groot Kunstenaar geskilder kan word. En die
uniekheid van elke blom wat wonderbaarlik mooi gemaak is, vir jou om
te geniet.
Hoe heerlik om te besef dat nuwe wysheid gekom het saam met die
grysheid, en hoe lekker as jou naastes graag daarvan wil hoor, want
dit laat jou tog besef dat jy steeds 'n doel op aarde het, en dat jy
'n goeie nalatenskap kan oorgee aan die volgende geslag.
“Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare." (Job
12:12)
Elke dag is so ongelooflik kosbaar, maak die beste daarvan. Die
materiële dinge wat jy nalaat, sal blitsig deur ander opgebruik en
vergeet word, maar die liefde wat jy nalaat, sal deur vele
nageslagte onthou word ~ Willem Botha, 18/01/2025 |
|
Die Here sal jou help
Jes. 41:13 "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou:
Moenie bang wees nie, Ék help jou."
Is hierdie nie 'n pragtige belofte van die Here nie? "Ék help jou!"
Wie anders? Ja, ons as mense help mekaar en dis reg so, want die
Here help ons dikwels deur ander mense te gebruik.
Wat beteken dit om te help? As ek vir iemand vra om my te kom help,
dan beteken dit dat ek self doen wat ek kan, en jou hulp gebruik vir
dit wat ek nie alleen kan doen nie. Ek dink dit werk so met die Here
ook, as ek in nood is doen ek alles wat ek kan, en maak dan staat op
die Here se hulp vir dit wat ek nie kan nie. Hierdie teks sê Hy WIL
, en GAAN jou help.
Soms voel dit of die Here net so bietjie te laat gaan opdaag met Sy
hulp, soms voel dit of Hy nie jou hulpkreet hoor nie, en soms dink
ons Hy weet nie hoe om ons te help nie, maar Goddank dis nie waar
nie.
Lees weer die teks: "Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê
vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou." ~ Willem Botha,
16/01/2025 |
|
Vrees
Ek wonder so, wat is die verskil tussen vrees, bekommernis,
besorgdheid en stres (spanning)? Daar is tekste wat oor elkeen van
hierdie dinge praat, soos hierdie een oor bekommernis.
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie
bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Mat
6:34)Weliswaar 'n ongelooflike moeilike teks om na te volg.
Paulus praat ook oor besorgdheid:
"Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die
besorgdheid oor al die gemeentes." (2 Kor. 11:28)
Ek het besef dat ek bekommernis, spanning en besorgdheid kan hanteer,
maar vrees is iets anders.
Ons is nou op daardie ouderdom wat mense in ons ouderdomsgroep soms
net skielik tot sterwe kom en 'n buitengewone vrees oorval my!
DAARDIE tyding, daai een wat so finaal is, daardie een wat jou hele
wese uitmekaar ruk, daardie woorde wat jou hele lewe in 'n oogwink
verander, daardie tyding wat sê dat geen dag OOIT weer dieselfde as
gister sal wees nie. Die dokter wat 'n verdoemende uitspraak maak
oor jou gesondheid, daai dag wat jou laat voel dat alles in 'n
oogwink buite beheer geraak het. Of daardie woorde: "Daar is iemand
anders, ek wil jou nie meer hê nie."
Dan sterf jy in jou binneste. Dan maak teksverse nie meer sin nie,
gebed klink leeg en al die geld in die wêreld is waardeloos.
Maar kommer en vrees is 'n snaakse ding. As daardie gedagtes jou
soms skielik beetpak, glo jy net eenvoudig dat die ergste van die
ergste gaan gebeur, maar nie eers 5% van daardie goed gebeur ooit
nie. Dis net jy wat dit lewendig hou. Jy weet mos, as jy eers begin
met die selfgesprekke, word daardie molshoop 'n reuse berg.
Alles gewoonlik onnodig.
Maar kom ons wees ook realisties, iewers gaan die volstruis tog in
die windpomp invlieg, dis nou maar eenmaal die lewe. Dit help nie om
al die gebeure wat in die toekoms gaan plaasvind nou al te hanteer
en verwerk nie, dis die toekoms se probleem. Maar wanneer dit kom,
weet ons mos darem dat ons dit nie alleen gaan hanteer nie.
Daardie dag bly net die Here oor, daardie dag is dit jou enigste
toevlug, want waar die mens nie meer kan nie, werk die Here.
"God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my
toevlug." (Ps 62:8) ~ Willem Botha, 09/01/2025 |
|
Die trein het
net nou die dag op platform 2024 ingekom, stadig, kruipend, en die
laaste stoom het met 'n sug uit die lokomotief se skoorsteen
uitgeblaas. En daar staan hy toe vir 'n paar dae.
Maar toe begin die Drywer weer om die lokomotief aan die beweeg te
kry. Die kole word in die vuurkas gegooi en die Drywer kry hierdie
kolos weer stadig maar seker aan die gang, en daar gaan hy. Hy vat
lank om op spoed te kom, maar eventueel hoor jy die byna eentonige
ketik-ketik, ketik-ketik soos wat hy op die spore loop.
Ek het heerlike herinneringe van 'n stoomtrein; my pa was 'n
stoomtrein drywer (later elektries) en ons het vele kere trein gery.
En as ons saamgery het as hy langpad gery het (soos Pietersburg
toe), het my pa tussen niks en nêrens die trein gestop, en dan het
ek en my broer saam met hom voor in die lokomotief gery. En ook die
kans gekry om die kabel te trek wat die trein se fluit laat blaas
het. So so kosbaar! Pure nostalgie.
So sien ek in my geestesoog dat die Drywer (die Here) met ons op pad
is na die volgende stasie toe. Ten volle in beheer, weet Hy presies
waar my en jou trein sal aandoen, by watter stasies hy sal stop en
wat langs die pad sal gebeur. 'n Trein het nie 'n stuurwiel waarmee
hy na willekeur kan draai nie, hy ry waar die spore hom vat. En so
is die Drywer van hierdie lewenstrein waarop ons is, ten volle in
beheer, en jy en ek kan óf afklim by een of ander stasie, óf ons kan
Hom vertrou en aanvaar dat Hy die beste weet. Ons kan ons eie
eindbestemming kies deur te swerf tussen al die verkeerde stasies,
of ons kan saam met Hom gaan en die regte eindbestemming behaal.
Oe treinry was lekker, ek onthou nou nog die reuk van die leer
waarmee daardie banke oorgetrek was. My ma het gewoonlik vir ons
padkos ingepak waaraan ons heerlik gesmul het. En kan mens lekkerder
slaap as op 'n trein wat so ritmies wieg?
Ek het altyd ten volle op my pa vertrou as hy daardie kolossale
staal monster beheer het, want hy het presies geweet wat hy moes
doen om sy passasiers veilig by hulle eindbestemming uit te bring.
Ongelooflik om te dink dat die drywers nie geleerde mense was nie,
vele van hulle (soos my pa) het nooit naastenby by matriek uitgekom
nie en standard 6 was 'n algemene kwalifikasie. Maar hulle het
geweet wat hulle doen. My pa was gekwalifiseerd as treindrywer
voordat hy 'n motor lisensie gehad het.
Jesus was (net) 'n timmerman, maar sy Vader het Hom ten volle
toegerus om almal wat kies om op sy trein te klim, by die regte
Bestemming uit te bring.
Vertrou op Hom, want Hy is aan die stuur van hierdie lewenstrein, en
Hy sal jou beskerm op hierdie reis en jou veilig bring waar Hy jou
wil hê.
Ry saam, geniet die rit en ontspan, 'n trein het net een Drywer. ~
Willem Botha, 04/01/2025 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|