Daaglikse Heuningdruppels 2026

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

Hoe gaan dit vandag met jou? Gelukkig? Bekommerd? Vrolik? Terneergedruk?

Almal geniet voorspoed, en net so haat almal teëspoed. En so glo ons dat ons God se seën ervaar in voorspoed, en as daar swaar dae kom, is die Here kwaad vir ons. Dan soek ons tekens om die redes vir hierdie teëspoed te verklaar. En dan sê ons vir mekaar dat die Here ons toets, sodat Hy kan sien hoe ons op hierdie dinge gaan reageer.

Kortom, voorspoed kom van die Here af en teëspoed kom óf van die Here se toorn af, óf van die bose af. So glo ons. Ons is nou al 'n paar dae in die nuwe jaar in, en reeds begin die jaar se dinge aan ons hakskene knibbel, en die rustigheid en optimisme van die Kerstyd is klaar iets van die verlede. Dink saam met my, sal jy graag wil weet wat hierdie jaar vir jou inhou? As die Here jou sou vra of jy wil weet of nie, wat sal jy kies? Ek sal vir seker nie wil weet nie, ek sal net graag kan vrede maak met wat hierdie jaar ookal vir my en my gesin inhou.

Ek lees vanaand hierdie ongelooflike paar woorde in Prediker.

Pred. 7:14 AFR20

"As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie."

Dis vir my so mooi gestel; geniet dit as dit goed gaan, en aanvaar dit as daar slegte dae kom, want dit kom albei van die Here af, en moenie in die toekoms probeer inkyk nie.

Ek het eendag so gedink oor hierdie dinge en tot die volgende slotsom gekom; moenie dink as dit goed gaan, dit gaan vir altyd goed gaan nie. Die lewe werk nie so nie. Maar net so, moenie dink as dit nou sleg gaan, dit gaan vir altyd sleg gaan nie. Daar kom altyd weer beter dae.

Hoe moet ek dan deur die lewe gaan? Leef dag vir dag, as die Here se heerlike warm sonstrale op jou skyn, geniet dit en dank Hom. En as daar onweerswolke om jou saampak, gaan skuil by Hom, Hy kan 'n storm in 'n oogwink laat bedaar. Soms doen Hy dit en soms nie, soms moet ons wag en soms skommel daai boot woes, maar bly naby Hom. Prys Hom in goed én sleg, want jy weet nie wat in die toekoms wag nie. Weet net dat Hy soewerein is, en Hy doen soos Hy goeddink. ~ Willem Botha, 14/01/2026


In 'n ander Lig...

Het 'n Christen regtig enige voordeel bo iemand wat nie glo nie? Word Christene meer gesond wanneer vir hulle gebid word? Leef ons langer, ryker, gesonder, meer geseënd en met minder kommer as ander? Is dit regtig nodig om te bid voor jy eet? Wat beteken "nodig"? Is daar minder egskeidings onder Christene? Is christene se kinders ouliker as ander? Maak dit regtig saak of jy elke dag die Bybel lees of nie? Of wat van kennis van die Bybel?

Ek is doodseker dat jy ook hieroor wonder, en ook vasgevra word oor hierdie dinge. En as jy vir my 'n opinie vra, gaan ek sê ek weet nie.

Maar, ek weet een ding, Christene sien dinge in 'n ander lig. Of nee wag, korreksie, Christene sien dinge in 'n ander Lig. Lig met 'n hoofletter, Lig soos in Jesus die Lig.

Maar kom ons dink bietjie oor gebed. Die ongelowige kan vir jou sê hy is ook wonderbaarlik genees, sonder gebed, maar wie sê die Here se genade was nie ook op hom nie? Dalk het die Here daar ook ingegryp. My seun is uit die aard van sy werk gereeld op die langpad, en ons bid sonder ophou vir sy veiligheid. Wie sê die Here het nie élke keer ons gebede verhoor nie? Ek kan nie bewys dat die Here ingryp nie, maar net so kan niemand bewys dat Hy nié ingryp nie. Daarom sien ek hierdie dinge in 'n ander Lig.

Maar wat dan as die slegste wel gebeur, en iemand sterf aan kanker, of in 'n ongeluk, of 'n baba verdrink? Wat van mense wat met gestremdhede gebore word? Was die Here dan teen hulle?

Nee, wanneer die ergste van die ergste gebeur, sien Christene bykans altyd dinge in 'n ander Lig. Nie almal spring trauma vry nie, maar ek gaan baie eerder deur dit mét die Lig as sónder die Lig. Die lewe is definitief nie net 'n speelparkie nie, en die Bybel sê definitief nie dat dit is nie, en die Bybel is vol van mense wat deur erge teëspoed is, maar die Bybel praat van ongekende, bonatuurlike troos as jy deur 'n ander Lig na dinge kyk. Terloops, onthou jy dat Johannes die doper se kop sinneloos afgekap is? Ja, daardie Johannes wie vir Jesus gedoop het. Ek het al soveel kere die voordeel beleef as ek na dinge in 'n ander Lig kyk. Soveel so dat selfs die slegste dinge op 'n manier sin gemaak het.

As ek op hierdie manier na die wêreld kyk, maak dit hoegenaamd nie meer saak of Christenskap méér voordelig is nie, en ek vergelyk glad nie die Christelike lewe met 'n lewe sonder Hom nie.

En daarom vriend, sê ek onophoudelik dankie vir die guns van die Here. Of ander mense dieselfde as ek glo al dan nie, maak nie saak nie, want Christenskap sal altyd vir my voordeel inhou. En as iemand dit nie verstaan nie, sien hulle nie dinge in dieselfde lig nie. Daarom lees ek die Bybel, daarom bid ek, daarom probeer ek om die goeie boodskap te verkondig en daarom hou ek vas aan dít wat vir vele mense nie sin maak nie.

Om dinge in 'n ander Lig te sien, word die bril waardeur jy kyk totaal in fokus gebring, al dink andere jy sien net dinge in jou verbeelding. Ek glo wat ek glo, want ek wéét wat ek wéét. Wanneer word 'n gebed in elk geval verhoor? Net as dinge altyd perfek gebeur soos wat ek daarvoor vra? Nee, want die Here antwoord gebede met "Ja, Ek sal dít wat jy vra laat gebeur", of soms "Nee, dis nie die regte uitkoms nie", en dan die moeilikste een wat sê "wag, nog nie, nie nou nie, wees geduldig". En as jy al hierdie dinge kan aanvaar, sien jy dinge in 'n ander Lig. ~ Willem Botha, 08/01/2026


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)