Daaglikse Heuningdruppels 2026

 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

Hoeveel keer nog?
 

... voordat jy die Here raaksien?
 

Hoeveel keer moet die Here nog aan jou hart klop en jou vra om vir Hom oop te maak om in jou te kom woon? Daardie dae wat jy weet jy weerstaan hom, maar jy is te bang omdat daar so bietjie vrees is oor wat Hy van jou gaan verwag?

Hoeveel keer moet Hy Homself nóg openbaar in die natuur? Daardie tye wat jy jou verwonder aan die ongelooflike mooi kleure na 'n bui reën, en daar boonop 'n reënboog verskyn wat jou herinner aan sy belofte dat Hy ons nie weer sal uitdelg nie.

Hoeveel keer nog gaan jy Hom as Skepper misken as jy 'n pasgebore babatjie in jou arms hou, daardie onbeskryflike reuk van die poeier op 'n volmaakte wesentjie wie se lewetjie wonderbaarlik tot stand gekom het. Wanneer jy wonder hoe daai kindjie dit regkry om self asem te haal die oomblik na geboorte. Hoe kan dit jou nie in verwondering laat nie?

Hoeveel keer wil jy die Here uit die prentjie laat as 'n byna onverstaanbare wonderwerk op jou pad gekom het? Daardie onverwagse oproep vir 'n nuwe werk wanneer jy dit so bitter nodig het. Daardie hulp wat kom deur iemand van wie jy dit nie verwag nie. Daardie barmhartige Samaritaan wat omgee sonder om jou te ken.

Hoeveel keer nóg gaan die mooiste klanke van musiek by jou verbygaan wat jou emosioneel aanraak wanneer jou ore dit nodig het om dit te hoor? Net 12 note wat in ontelbare patrone gerangskik kan word in eenvoudige melodieë, maar soms ook uiters ingewikkelde patrone wat oor hordes genres span. Musiek waarmee die Here se lof besing word, of musiek wat jou hartsnare roer, musiek waarmee die mooiste liefde vir mekaar besing kan word. Musiek wat deur die mens geskep word, wat nie deur enige dier gerangskik en weergegee kan word nie. Maar, die Here laat tog 'n voëltjie 'n bekende geluid voortbring, elkeen na sy aard, op so 'n manier dat jy hom kan herken sonder dat jy hom sien.

Hoeveel keer gaan jy dit nóg miskyk dat die Here met slegs 26 letters van die alfabet, in menige kombinasies, woorde vorm waardeur Hy Homself aan die mens openbaar? Woorde voortgebring deur vele skrywers, oor meer as 'n duisend jaar, wat oor en oor Sy liefde vir die mens beskryf.

Hoeveel keer gaan jy nog die wonder van tegnologie miskyk wat die lewe van die mens verbeter (ongelukkig nie altyd nie), wat onder andere maak dat elke mens op aarde nou sy Woord kan hoor en lees, selfs in geslote lande.

Hoeveel keer gaan jy dit nog miskyk dat dít wat die Here aan die mens openbaar en laat ontdek, maak dat jou liggaam kan herstel met medikasie, ingenieurswese en innovasie wat enkele jare gelede nie bestaan het nie.

Hoeveel keer gaan jy nog die wonderbaarlike skoonheid van ons eie land en sy mense miskyk omdat jy glo dat die antwoord tot 'n aangename en gelukkige bestaan elders lê?

Hoeveel keer gaan jy nóg die seëninge wat die Here vir jou skenk miskyk, omdat die "Jones next door" se lewe beter lyk as joune? Of dat jy ongemaklik is met jou uiterlike omdat ander beter lyk. Moenie ander se uiterlike met jou innerlike vergelyk nie. Jy is presies só geskape as wat die Here jou beplan het.

En so kan ons aangaan en aangaan om die Here mis te kyk in 'n wêreld waar alles beslis nie volmaak is nie, maar dat die goeie hoofsaaklik oor die slegte seëvier, ás jy lus is om dit raak te sien en nie net vasgevang is in die woorde van die doemprofete wat alles om hulle haat en verag nie.
 

Mag die Here in hierdie dag vir jou uitbundige vrede en vreugde laat ervaar in dít wat reg voor jou oë is, dít wat jy kan voel, hoor, sien en ruik.
 

As jy daarop ingestel is, is dit onmoontlik om Hom mis te kyk.

As jy wil... ~ Willem Botha, 15/03/2026


Ek probeer verstaan

God. ‘n Baie bekende woord, ‘n baie bekende naam, ‘n baie bekende Persoon. Die mees bekende Persoon op aarde, en in die hemele. Mense roep Hom aan, mense het verskillende opinies oor Hom, mense verbind aan Hom uit verskillende verwysingshoeke, ons probeer Hom peil en plot. Sy naam word soms as ‘n skelwoord gebruik, sommiges betwyfel Sy bestaan, ander word kwaad vir Hom. party soek hulle lewe lank na Hom, en kry Hom nooit. Ander beweer Hy het Hom aan hulle openbaar, hulle kry drome waarin Hy met hulle praat .... maar ek nooit. Waar kom Hy vandaan? Hoe lyk sy woonplek?

Job 23:1-17

Toe het Job weer gepraat: “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie. As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie. Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai nie af nie. Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes. Hy bly dieselfde, wie kan Hom teenstaan? Wat Hy wil, doen Hy. Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my ook al is. Daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees. God het my weerstand afgebreek, die Almagtige het my met angs vervul. Maar in hierdie donkerte het ek nie stilgebly nie, in hierdie duisternis wat my oorval het.”

Dis Job se woorde; en so voel ek ook. Ek praat oor Hom en bedien mense op verskeie plekke; ek was jare lank betrokke met evangelisasiewerk, waar ek die evangelie met baie mense gedeel het; daar is vrug op ons werk .... maar as jy my vandag vra om Hom te verduidelik, Sy weë uit te pluis, Hom op ‘n manier in ‘n boks te plaas sodat Hy en wat Hy doen kan sinmaak, dan kan ek nie. Want ek verstaan Hom nie. Ek verstaan tonne dinge wat Hy doen en toelaat net eenvoudig glad nie. Soos Job sê: “Ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees”. Maar nogtans kan ek onomwonde sê: ek is werklik lief vir Hom.

Hoe baie probeer ons nie om in ons eie menslikheid formules aan Hom toe te ken en Hom te probeer verduidelik nie. E=mc2 is Einstein se formule. Dit verduidelik die son wat skyn, en hoe ‘n atoombom groot verwoesting laat plaasvind. ‘n Klein bietjie massa word vernietig en onbeskryflik baie energie word vrygestel. Ek verstaan die formule ... soort van. Maar watter formule beskryf die Here? God = , God is gelyk aan wat?

Eks 3:13-14

Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

“Ek is..”. Ek is wie? Ek is wat? Dié beskrywing beskryf nie in verstaanbare taal wie Hy regtig is nie.

Verstaan jy Sy werke? Ek bely vandag dat ek nie verstaan nie. Jy sien, dit is hierdie ding van “on-verstaan”, wat maak dat ongelowiges vir Christene uitlag. Want, ek moet self sê ek verstaan nie hoekom ek glo nie.

Heb 11:1

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

... dit maak net eenvoudig nie sin nie. Ek verstaan nie hoekom ek onwrikbaar glo in die maagdelike geboorte, die kruisiging en opstanding en hemelvaart van Jesus nie. Ek verstaan nie, maar ek GLO dit! Hoe maak dit sin....?

Hoekom leef ons so goed in Suid-Afrika, in hierdie lieflike sonskynland? Maar ‘n paar duisend kilometer Noord gaan kinders dood van die honger. Hy is tog sekerlik net so lief vir daardie mense as vir ons, of hoe? Hoekom raak ‘n wonderlike, wedergebore egpaar se kind verslaaf aan dwelms, maar my kinders nie? Hoekom bid ons intensief, in volle afhanklikheid van God, vir ‘n kind met kanker en dan gaan daardie kind dood? Intussen sit ‘n boemelaar, so vuil dat jy nie met ‘n tang aan hom kan vat nie, op die sypaadjie en bedel; dalk voel hy niks eers vir die Here nie. Al sy organe werk perfek - dit kan tog seker eerder vir iemand anders, ‘n goeie mens, aangewend word? Hoekom word mense gestremd gebore? God wat die mensdom dan so volmaak geskep het. Maak Hy dan so nou en dan ‘n ou foutjie?

Maar... om een of ander onverklaarbare rede, hou hierdie siekes, en gestremdes, en getraumatiseerdes, hierdie mense wat soms so gebroke is, onwrikbaar vas aan hulle geloof in God. So asof hulle hierdie “magic” formule ken, wat ek nog nie ontdek het nie. Hoekom draai hulle nie hulle rug op Hom nie? Nee, hulle vlug juis na Hom toe! En kry ongekende vertroosting. Ek verstaan nie...?

Uiteindelik kom ek toe tot hierdie besef; en ek stel dit in ‘n vraag: sê nou maar ek hét Hom verstaan, en ek hét Sy formule geken, sou Hy dan nog steeds ‘n God vir my gewees het? Sou Hy nog majestueus en soewerein gewees het? Belangrikste van alles: sou ek nog geloof nodig gehad het? Kom ek sê nou reguit hoe ek voel: Ek kies honderd persent om nie te verstaan nie, maar om te glo. Nie andersom nie. So weet ek dat die Heilige Gees in my woon. So verstaan ek dat Jesus se kruisdood my heil is, en dan kan ek glo in ‘n ewige lewe saam met Hom.

As ek hom verstaan het, sou ek deurgaans kon eis vir verduidelikings; Hy sou altyd moes “please explain” vir dinge wat Hy toelaat. Hy skuld my niks, maar tog oorlaai Hy my met genade. Ek verdien niks, en tog leef ek in oorvloed. Wil Hy nie dalk hê dat ek net so bietjie moet deel van hierdie oorvloed nie? Goddank, Hy vat nie alles weg waaroor ek soms so kla nie. Sê nou maar net ek het vandag nét dit gehad waarvoor ek gister dankie gesê het? Sê nou net Hy vat jou kinders weg oor wie jy so kla? Of jou werk wat jy so swaarmoedig doen? Of jou wederhelf wat net nooit goed genoeg is nie? Of jou huis wat te klein geword het omdat jou goed so baie geword het? Of jou gesondheid wat jy dalk opmors? Maar dit lyk my Hy doen dit nie sommer nie.... en DIT verstaan ek regtig ook nie. Soms mors ek met Sy genade, maar Hy onttrek dit nie.

.... daarom staan ek vreesbevange voor Hom, ek probeer verstaan, maar ek bly Hom vrees. ~ Willem Botha, 08/03/2026


Ek dink so pas aan hierdie welbekende teks in Jeremia, maar ek haal net die tweede deel van die teks aan.
Jer. 29:11b "... Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"
Toe dink ek nou aan die Here se belofte oor 'n toekoms, en ek besef dat as ek Hom kan glo en sy Woord kan glo, kan ek met volle vertroue die volgende sê: Ek laaik more! ~ Willem Botha, 23/02/2026


Waarheid

Jy kan niks meer glo nie, absoluut niks. Definitief nie een woord wat uit 'n politikus se mond kom nie. En o wee, alles wat op sosiale media opgedis word, moet jy maar met 'n knippie sout vat. Definitief as daar 'n mooi foto geplaas word, is dit dalk met AI geskep, videos word so gemanipuleer dat jy nie kan agterkom dis "fake" nie, en jy kan selfs vir Trump laat Hansie slim sing.

Wat is waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid, en niks anders as die waarheid nie? Is die volle waarheid van elke saak moontlik om te meet? Hoekom hou ons nie altyd van die volle waarheid nie? Ja jitte, leuens is ’n lelike ding. Onwaarheid, lieg, verswyging van feite, jok, wit leuens. Wit leuentjie? Is dit lieg? Dis mos sommer so 'n onskuldige storietjie; dis darem nie te erg as ons dit kwytraak nie, of hoe? Las so vier duim by die vis aan wat ons gevang het. Sny so 'n paar honderd rand af van die geld wat ons gesteel het. Het jy ook onlangs gelieg? Hoeveel keer hierdie jaar? Gister, dalk vanoggend? Gelieg by die werk, vir die werk, oor die werk, op jou verlofvorm? Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig! Wie van ons kan sê dat ons altyd, onomwonde in die waarheid wandel?

Spr. 6:12-13: "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee."

Hoe wonderlik sou dit nie wees as elke mens op aarde aan die volle waarheid kon vashou en dit uitleef nie? Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, en daar sou baie meer vrede wees as wat daar nou is. Maar o wee, toe besef ek iets anders. As ek vir vroulief sou vra of ek dik lyk, sou sy moes sê: Ja, maggies man, as jy jou kop intrek kan jy rol! Nou ja, ek weet nie wat om met daardie een te maak nie.

Dit lyk my in sommige beroepe word die waarheid maar dun gesmeer, anders werk dinge nie mooi uit nie. Ek het eendag gewonder hoekom geen mans, jonk of oud, en geen jonger dames dan ooit motors besit nie, want elke tweedehandse motor wat jy wil aanskaf het aan 'n ou tannie behoort! En terloops, sy het saans die motor se deure oop gelos sodat die rubbers nie hard word nie.

Sê 'n advokaat eendag tong in die kies: Jy is onskuldig tot jou geld op is...

Ja ons spot met sommige beroepe, maar daar is nie een enkele beroep wat vry van leuens is nie, want hoe op aarde kan 'n beroep jok? Dis die mens wat jok.

Ongelukkig jok ons vir die Here ook. Ek dink ons (laat ek eerder net van myself praat), jok daagliks vir die Here, en dis maklik want niemand anders hoor dit nie. Mag Hy ons ook dit vergewe. ~ Willem Botha, 04/02/2026


Kom, glimlag 'n bietjie.

Hierdie foto is deur die James Webb teleskoop geneem en dit wat jy hier sien is nie sterre nie, dis galaksies met miljarde sterre in elke blink kolletjie..

Volgens wetenskaplikes is daar meer sterre in die heelal as al die sandkorrels op aarde. Dink aan 'n emmertjie sand op die strand en probeer raai hoeveel sandkorrels daarin is en jy sal besef dis onmoontlik. Neem ál die sandkorrels op die hele aarde (ja ook daardie paar miljard wat in jou tuin lê) en dink hoeveel sterre daar moet wees. Dis ondenkbaar. Dan lees jy nou hierdie teks 'n keer of wat deur.

“Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” (Ps. 147:4)

Nie "Hy hét hulle name gegee nie", dit sê Hy géé hulle name, want daar vorm miljoene nuwe sterre op hierdie oomblik. En Hy hardloop nie uit name uit nie.

Hoe voel jy vandag? Bietjie af, so asof die Here jou en jou probleme miskyk? So asof Hy jou vergeet het?

Lees die volgende teks sommer 'n paar keer deur en deurdink dit noukeurig: "Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – wat is 'n mens dan dat U aan hom dink, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk? U het hom net minder as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon." (PS. 8:4-6 AFR20)

Besluit nou of jy die sinnelose goed glo wat die wêreld vir jou opdis, en of is jy bereid om te glo wat die Here vandág vir jou sê? Daar is mos net één keuse en één waarheid, of hoe? ~ Willem Botha, 29/01/2026


Hoe gaan dit vandag met jou? Gelukkig? Bekommerd? Vrolik? Terneergedruk?

Almal geniet voorspoed, en net so haat almal teëspoed. En so glo ons dat ons God se seën ervaar in voorspoed, en as daar swaar dae kom, is die Here kwaad vir ons. Dan soek ons tekens om die redes vir hierdie teëspoed te verklaar. En dan sê ons vir mekaar dat die Here ons toets, sodat Hy kan sien hoe ons op hierdie dinge gaan reageer.

Kortom, voorspoed kom van die Here af en teëspoed kom óf van die Here se toorn af, óf van die bose af. So glo ons. Ons is nou al 'n paar dae in die nuwe jaar in, en reeds begin die jaar se dinge aan ons hakskene knibbel, en die rustigheid en optimisme van die Kerstyd is klaar iets van die verlede. Dink saam met my, sal jy graag wil weet wat hierdie jaar vir jou inhou? As die Here jou sou vra of jy wil weet of nie, wat sal jy kies? Ek sal vir seker nie wil weet nie, ek sal net graag kan vrede maak met wat hierdie jaar ookal vir my en my gesin inhou.

Ek lees vanaand hierdie ongelooflike paar woorde in Prediker.

Pred. 7:14 AFR20

"As dit die dag goed gaan, geniet die voorspoed, maar as dit die dag sleg gaan, besef: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie een; gevolglik kan die mens nie enigiets ontdek wat in die toekoms wag nie."

Dis vir my so mooi gestel; geniet dit as dit goed gaan, en aanvaar dit as daar slegte dae kom, want dit kom albei van die Here af, en moenie in die toekoms probeer inkyk nie.

Ek het eendag so gedink oor hierdie dinge en tot die volgende slotsom gekom; moenie dink as dit goed gaan, dit gaan vir altyd goed gaan nie. Die lewe werk nie so nie. Maar net so, moenie dink as dit nou sleg gaan, dit gaan vir altyd sleg gaan nie. Daar kom altyd weer beter dae.

Hoe moet ek dan deur die lewe gaan? Leef dag vir dag, as die Here se heerlike warm sonstrale op jou skyn, geniet dit en dank Hom. En as daar onweerswolke om jou saampak, gaan skuil by Hom, Hy kan 'n storm in 'n oogwink laat bedaar. Soms doen Hy dit en soms nie, soms moet ons wag en soms skommel daai boot woes, maar bly naby Hom. Prys Hom in goed én sleg, want jy weet nie wat in die toekoms wag nie. Weet net dat Hy soewerein is, en Hy doen soos Hy goeddink. ~ Willem Botha, 14/01/2026


In 'n ander Lig...

Het 'n Christen regtig enige voordeel bo iemand wat nie glo nie? Word Christene meer gesond wanneer vir hulle gebid word? Leef ons langer, ryker, gesonder, meer geseënd en met minder kommer as ander? Is dit regtig nodig om te bid voor jy eet? Wat beteken "nodig"? Is daar minder egskeidings onder Christene? Is christene se kinders ouliker as ander? Maak dit regtig saak of jy elke dag die Bybel lees of nie? Of wat van kennis van die Bybel?

Ek is doodseker dat jy ook hieroor wonder, en ook vasgevra word oor hierdie dinge. En as jy vir my 'n opinie vra, gaan ek sê ek weet nie.

Maar, ek weet een ding, Christene sien dinge in 'n ander lig. Of nee wag, korreksie, Christene sien dinge in 'n ander Lig. Lig met 'n hoofletter, Lig soos in Jesus die Lig.

Maar kom ons dink bietjie oor gebed. Die ongelowige kan vir jou sê hy is ook wonderbaarlik genees, sonder gebed, maar wie sê die Here se genade was nie ook op hom nie? Dalk het die Here daar ook ingegryp. My seun is uit die aard van sy werk gereeld op die langpad, en ons bid sonder ophou vir sy veiligheid. Wie sê die Here het nie élke keer ons gebede verhoor nie? Ek kan nie bewys dat die Here ingryp nie, maar net so kan niemand bewys dat Hy nié ingryp nie. Daarom sien ek hierdie dinge in 'n ander Lig.

Maar wat dan as die slegste wel gebeur, en iemand sterf aan kanker, of in 'n ongeluk, of 'n baba verdrink? Wat van mense wat met gestremdhede gebore word? Was die Here dan teen hulle?

Nee, wanneer die ergste van die ergste gebeur, sien Christene bykans altyd dinge in 'n ander Lig. Nie almal spring trauma vry nie, maar ek gaan baie eerder deur dit mét die Lig as sónder die Lig. Die lewe is definitief nie net 'n speelparkie nie, en die Bybel sê definitief nie dat dit is nie, en die Bybel is vol van mense wat deur erge teëspoed is, maar die Bybel praat van ongekende, bonatuurlike troos as jy deur 'n ander Lig na dinge kyk. Terloops, onthou jy dat Johannes die doper se kop sinneloos afgekap is? Ja, daardie Johannes wie vir Jesus gedoop het. Ek het al soveel kere die voordeel beleef as ek na dinge in 'n ander Lig kyk. Soveel so dat selfs die slegste dinge op 'n manier sin gemaak het.

As ek op hierdie manier na die wêreld kyk, maak dit hoegenaamd nie meer saak of Christenskap méér voordelig is nie, en ek vergelyk glad nie die Christelike lewe met 'n lewe sonder Hom nie.

En daarom vriend, sê ek onophoudelik dankie vir die guns van die Here. Of ander mense dieselfde as ek glo al dan nie, maak nie saak nie, want Christenskap sal altyd vir my voordeel inhou. En as iemand dit nie verstaan nie, sien hulle nie dinge in dieselfde lig nie. Daarom lees ek die Bybel, daarom bid ek, daarom probeer ek om die goeie boodskap te verkondig en daarom hou ek vas aan dít wat vir vele mense nie sin maak nie.

Om dinge in 'n ander Lig te sien, word die bril waardeur jy kyk totaal in fokus gebring, al dink andere jy sien net dinge in jou verbeelding. Ek glo wat ek glo, want ek wéét wat ek wéét. Wanneer word 'n gebed in elk geval verhoor? Net as dinge altyd perfek gebeur soos wat ek daarvoor vra? Nee, want die Here antwoord gebede met "Ja, Ek sal dít wat jy vra laat gebeur", of soms "Nee, dis nie die regte uitkoms nie", en dan die moeilikste een wat sê "wag, nog nie, nie nou nie, wees geduldig". En as jy al hierdie dinge kan aanvaar, sien jy dinge in 'n ander Lig. ~ Willem Botha, 08/01/2026


Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)