|
|
Daaglikse Heuningdruppels -
Vrae
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Breek brood |
|
Om brood te breek ... Ons kan mos nie saam met
vriende kuier of as familie bymekaarkom sonder dat daar kos (gewoonlik
báie kos) en drinkgoed is nie. In ons gesin is dit beslis so. En as
ons besluit het ons kuier Sondag is die eerste vraag: wat gaan ons
eet? Dis mos so met Kersfees, met Vadersdag, verjaarsdag, troues,
begrafnisse ... noem maar op. Ons kuier met kos, ons vier fees met
kos, ons troos mekaar met kos, ons bederf mekaar met kos, ons sê
dankie met kos. Dan is daar natuurlik ook altyd ietsie te ete by
vergaderings, werksfunksies en gemeente byeenkomste. Vir elke
geleentheid is daar kos en ’n gekuier rondom die tafel. Ons is
gelukkig om ’n groot tafel te hê wat eers my ouers s’n was. Rondom
daai tafel is daar al baie geëet en saam met die kos is daar rondom
daai tafel al baie gepraat, diep dinge en belangrike dinge, daar is
besluite geneem en raad gegee. Daar is baie gelag en daar is al
gehuil langs daai tafel. Daar is vriendskappe gesmee en gebou langs
daai tafel. Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê:
ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd
saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met
iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n
spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term
het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die
brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle
gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk
toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het
aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir
my dat Jesus Homself gegee het. Die Brood wat lewe gee is gebreek
en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy
ook vandag daarvan kan eet. Is daar genoeg sodat jy ook vandag ’n
stukkie brood saam met iemand kan breek? ~ Wilna Botha, 02/06/2022 |
|
As ek die skeppingsverhaal in Gen. 1 lees, dan
besef ek die Here het ons as mens geskep met ’n behoefte na kos. Hy
het die mens geskep en Hy het gesorg dat daar vir hom iets sal wees
om te eet: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op
die hele aarde; ook al die bome wat vrugte en saad gee. Dit sal
julle kos wees.” (Gen. 1:29) Verder sien ek dat die Here nie net
vir ons kos voorsien sodat ons aan die lewe kan bly nie, Hy gee ook
vir ons kos om te geniet. Ons eet mos vir die lekker ook! Daar is so
’n lawwe uitdrukking wat sê: ek eet nie om te lewe nie, ek lewe om
te eet! Of soos Paulus in 1 Kor. 6:13 daarna verwys: “Kos is vir die
maag en die maag vir kos.” (uit verband aangehaal, ek weet!) “Die
Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om
van te eet, uit die grond laat uitspruit.” ( Gen. 2:9) Lekker om van
te eet! Dis interessant dat die enigste voorskrif wat God vir Adam
en Eva gegee het, oor eet gegaan het – van die boom in die middel
van die tuin mag hulle nie geëet het nie. En natuurlik het die
eerste verleiding en oortreding ook met etery te doen gehad, toe die
slang vir Eva uitnooi om van die verbode vrugte te eet. As jy
vanaand lekker kos het om te eet, geniet dit en dank die Here
daarvoor. “Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak
nie?” (Pred. 2:24) “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met
’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.” (Pred.
9:7) ~ Wilna Botha, 07/06/2022 |
|
Segen Vader Segen sop... AMEN
Die mens is 'n unieke wese, en sy bestaan en oorsprong fassineer my
vreeslik. God skep die mens op dag ses, maar ek sukkel om 'n
prentjie te vorm van die gebeure toe God vir Adam gemaak het. Ek glo
die Here het elke spesie na sy aard geskep, maar die mens is baie
spesiaal, want hy is na God se beeld gemaak. Toe ek en 'n vriend
onlangs daaroor praat, vertel hy vir my van iets wat hy in 'n boek
gelees het. Ek was totaal verstom, en dis iets wat ek sekerlik weet
maar nog nooit aan gedink het nie. Ek deel dit graag met jou.
Die mens is die enigste lewende spesie wat voedsel kan verwerk, 'n
resep kan lees, verskeie voedselsoorte bymekaar kan sit en baie
smaaklike etes kan voorberei. Dink net wat is alles nodig om 'n
toebroodjie te maak, van die verwerking van meel, die bak van die
brood, die maak van botter en alles wat jy graag op die toebroodjie
wil sit en jy kan hom selfs rooster. Daardie vermoë het geen ander
spesie nie. 'n Leeu jag 'n bok maar hy maak hom nie gaar nie, miere
sit kos weg vir die winter maar verwerk dit nie, 'n aap pluk 'n
piesang (hy skil hom weliswaar af) en eet hom net so op. Wel, enige
bobbejaan kan dit seker doen, of hoe? Maar die mens maak vuur,
verwerk kos om vir lank te kan hou en kan dit selfs vries.
En dan lees ons in Prediker dat ons dit gerus mag geniet. Ek en
vroulief wonder toe waar in die Bybel ons die eerste keer lees dat
voedsel verwerk word. Wel, Noag het na die sondvloed 'n wingerd
geplant, wyn gemaak en hom dronk gedrink. Ons lees in Genesis 9 dat
Abraham drie besoekers kry en vir Sara opdrag gee om sestien
kilogram meel se roosterkoeke te bak om sy gaste te voed.
En dan, eventueel lees ons dat Jesus sê dat Hy die brood is wat lewe
gee, en dat ons nooit weer geestelik honger hoef te wees nie.
Ons is baie uniek gemaak, meer as al die diere, omdat ons anders is
in vele opsigte. Onder andere dat ons die vermoë het om daardie Een
wat die Brood is wat lewe gee, kan soek, na Hom hunker, Hom ontdek
deurdat ons kan lees, inligting versamel en verwerk, 'n keuse kan
maak en Hom aanbid. Ons is meer as diere, ons is uniek en ons het
ook die vermoë om Hom lief te hê. 'n Dier is anders, en jy en ek
moet 'n bietjie reflekteer oor hierdie gedagte. Neem verwerkte kos
en drank (wyn en brood) en herdenk jou uniekheid met nagmaal. Jy is
deel van die enigste spesie wat dit kan doen. ~ Willem Botha,
13/06/2022 |
|
“Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.”
(Eks. 2:20) Hier is ’n mooi Bybelse voorbeeld hoe ’n ete-uitnodiging,
hoe gasvryheid, hoe saam kuier om ’n tafel, iemand se lewe kan
beïnvloed. Deur iemand in jou spasie toe te laat, iets van jouself
en jou goed met hom te deel kan iemand dalk motiveer, dalk troos,
dalk help met ’n groot besluit, dalk geliefd en belangrik laat voel.
Moses het gevlug uit Egipte na Midian nadat hy ’n Egiptenaar
doodgeslaan het wat een van die Israeliete mishandel en geslaan het.
Daar sit hy en rus by ’n put toe die sewe dogters van ’n priester
van Midian daar aankom. Hy was behulpsaam teenoor die dogters en het
hulle ook beskerm teen veewagters wat hulle wou verhoed om water te
skep. Toe die dogters hul pa hiervan vertel, sê hy: “Waarom het
julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te
kom eet.” En net hier word die verloop van Israel se geskiedenis
beïnvloed. Moses gaan bly by die priester van Midian en trou met sy
dogter Sippora. Daar het Moses vir baie jare gebly en vir sy skoonpa
gewerk deur sy vee op te pas, totdat die Here hom by die brandende
doringbos ontmoet het en hom geroep het om die Israeliete uit Egipte
te bevry. Dit tref my hoedat een uitnodiging na ’n ete die verloop
van Moses se lewe en die hele Israel se toekoms beïnvloed het.
Hoedat dit blyk dat iets wat onbenullig en alledaags is, iets wat
heel toevallig gebeur, deur God se wysheid en almag en
voorsienigheid ontwerp is om sý doel te bereik. “A casual transient
occurrence has sometimes occasioned the greatest and happiest turns
of a man's life”, sê iemand hieroor. Dink net, ’n uitnodiging aan
iemand na ’n eenvoudige ete by jou huis, kan dalk ’n groot invloed
hê. Dit kan moontlik daardie persoon se lewe verander en dit kan
dalk jou lewe verryk. Dit hoef nie ’n vyfgang ete te wees of iets
uit die boeke nie. Iets gewoon en eenvoudig soos ’n beker koue water
is dalk genoeg. Ja, ek weet dis makliker gesê as gedoen! Ek is
gewoonlik bietjie lui vir sulke uitnodigings, bietjie onwillig om
iets op te offer, bietjie traag om ander in my huis in te nooi,
bietjie suinig met my tyd, bietjie onseker oor my kosmaakvermoëns en
so gaan my lys verskonings aan. “Moenie nalaat om gasvry te wees
nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle
dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna
Botha, 14/06/2022 |
|
Na 'n klompie weke in basiese opleiding in die
weermag kon ons ouers die eerste keer vir 'n dag kom kuier. Ek sal
daai dag nooit vergeet nie, want hoewel ek vreeslik na hulle verlang
het, kon ek nie wag vir die kos wat my ma saamgebring het nie. Dit
was uit hierdie wêreld, regte egte heerlike huiskos!
Nou lees ek in die Bybel van 'n man wat so lus was vir lekker kos,
dat hy die mees absurde ding denkbaar aangevang vir 'n lekker bord
kos.
"Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau
doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: Laat my gou van die
rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg! Daarom is
hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: Verkoop eers jou reg as
eersgeborene aan my. Esau het geantwoord: Ek gaan tog sterf. Wat
baat dit my om die eersgeborene te wees? Jakob sê toe vir hom:
Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my
oormaak. Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob
verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het
geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau
gedink het van sy reg as eersgeborene." (Gen. 25:29-34)
Bid jou dit aan, jy verruil jou reg as eersgeborene vir 'n bord sop!
Die eersgeborene was nie sommer ’n hierjy storie nie. Hy sou ⅔ van
alles van sy pa erf en ook die familie se beheer en bestuur oorneem
en ná die pa se afsterwe neem die oudste seun die leiding van die
groep oor. Met daardie paar happe sop en brood verbeur Essau iets
wat baie kosbaar was lewenslank, en dit lei daartoe dat die oudste
die jongste sal dien. Lees Gen. 25 vers 23.
Kan kos, selfs net een enkele ete, so 'n vernietigende uiteinde hê?
Inderdaad, maar ongesonde eetgewoontes kan ook oor 'n baie lang
tydperk 'n mens se lewenskwaliteit totaal tot niet laat gaan en jou
lewe verwoes. Ek wonder of Essau ooit spyt gekry het oor daardie
enkele bord kos. Nou ja, hulle sê mos die pad na 'n man se hart loop
deur sy maag. Wat die hart van vol is, loop die bord van oor... ~
Willem Botha, 15/06/2022 |
|
“Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet.
Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter
kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor
die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks
daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende
môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit
haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie
in die hand. Dit is die paasfees van die Here.” (Eks. 12:8-11) Dit
is die Israeliete se laaste ete in Egipte. ’n Afskeidsete, ’n
afsluiting en klaarmaak met ’n swaar en bitter verlede, ’n
vooruitkyk na verlossing en vryheid, ’n verlange na die beloofde
land van melk en heuning. ’n Afskeidsete, maar gereed en voorbereid
vir ’n nuwe lewe. ’n Volmaakte lam word geslag, die bloed word aan
die bo en sykante op die deurkosyne gesmeer sodat die gesin beskerm
is en die dood nie in hulle huise sal kom om hulle te tref nie.
Hierdie fees sou elke jaar gehou word, die rituele presies dieselfde
om hulle altyd te herinner aan die swaarkry wat geëindig het en die
verlossing wat gekom het. So sou dit wees totdat Jesus, die
volmaakte Offerlam, ’n nuwe Paasfees ingestel het met brood en wyn:
“Vat dit en eet dit ... dit is my liggaam ... Drink dit, almal van
julle. Dit is my bloed wat gaan vloei" (Matt. 26:26-27) “Elke keer
as julle hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle
die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Kor. 11:26) ’n Afskeidsete
van Jesus saam met sy dissipels, ’n afsluiting van sy werk op aarde,
’n belofte van sondevergifnis, ’n vooruitkyk na “die nuwe, hemelse
wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel.” En elke keer
wanneer ons weer die nagmaal vier is dit ons herinnering aan swaar
en bitter tye wat verby is. Ons versekering dat God vír ons is, dat
niks ons uit sy hand sal ruk nie, dat alles ten goede sal meewerk. Ons
herinnering dat ons vrygemaak is, nie meer slawe van sonde, nie meer
vasgebind deur die verlede nie. Ons herinnering dat ons op pad is na
die Beloofde Land. Ons mag nooit verveeld raak met die rituele van
die nagmaal nie. Ons moenie dit oorslaan of gering ag nie. Ons
moenie net eet en drink sonder om terug te dink en met vreugde
vooruit te kyk nie. Ons mag nie net eet en drink en onveranderd
voortgaan met ons lewens nie. Wanneer ons eet en drink, is dit met
skoene aan die voete en kierie in die hand, aangetrek en gereed,
opgewonde vir die reis wat voorlê. Die bloed van Jesus is aan die
kosyne van ons deure gesmeer en gesprinkel in ons harte. Ons is
veilig. Wees gerus en tevrede as jy die brood eet en die wyn drink.
~ Wilna Botha, 21/06/2022 |
|
“As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur
die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en
oorgenoeg kos het om te eet!” (Eks. 16:3) Ai, die liewe klomp
Israeliete! Hulle is so pas op wonderbaarlike wyse bevry uit die
slawerny en swaarkry in Egipte. Hulle het so pas droogvoets deur die
Rietsee gekom en toegekyk hoedat die hele leërmag van die farao in
die water verdwyn. En nou verwyt hulle vir Moses. Hulle honger en
lus laat hulle terugverlang na Egipte. Hulle sê hulle sou liewer
dáár langs die kospotte wou sterf. En dan kom die groot dors ook nog:
“Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en
ons vee van dors te laat omkom?” (Eks. 17:3) Is ons dalk saam met
dié klomp skuldig daaraan om die hele tyd terug te kyk na die goeie
ou dae, te verlang na dié tye toe dinge dalk makliker, goedkoper,
mooier, eenvoudiger was? “Moenie sê in die ou dae was dit beter as
nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.” (Pred. 7:10)
Deur die hele tyd terug te verlang na daai kospotte, kyk jy dalk net
vandag se seëninge mis. Deur vas te haak by die ou dae benut jy dalk
nie vandag se geleenthede nie, besef jy nie vandag gaan oor ’n paar
jaar die “ou dae” wees nie. As jy vandag aanhou kerm en kla en
verwyt oor dit wat jy nie meer het of nie meer kan doen nie, gaan jy
dalk nie besef dat die Here se seëninge en versorging en uitkoms en
wonderwerke reeds op jou drumpel staan nie. “Toe het die Here vir
Moses gesê: Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die
hemel laat reën.” (Eks 16:4) Manna en kwartels - elke dag, genoeg
vir daai dag. Mag ons elke dag ons manna en kwartels sien reën op
ons. Mag ons dit elke dag met blydskap en dankbaarheid optel en eet
en geniet en tevrede voel omdat ons weet dat die Here ons nie
onversorg aan ons eie lot sal oorlaat nie. Onthou die kospotte van
die verlede, maar moenie vandag se manna en kwartels mis nie! En
bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” ~ Wilna Botha, 23/06/2022 |
|
“Jy kan water drink uit die spruit en Ek het
die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:4) “Gaan na
Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag
gegee om vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:9) Hierdie is vir my sprekende
voorbeelde van die Here se voorsiening en versorging vir sy kinders.
Op buitengewone maniere, anders as wat mens sou verwag, effe
onrealisties nie waar nie? Kraaie bedien vir Elia met brood en vleis,
twee keer per dag. Mens sou eerder verwag dat hulle self die vleis
sou opvreet of Elia se oë kom uitpik, maar tog gebruik die Here
hulle om op bonatuurlike wyse vir Elia te voed. Toe die spruit
opdroog, stuur die Here vir Elia na sy volgende onverwagte versorger,
die weduwee van Sarfat. Sy was op die punt om haar laaste meel en
olie te gebruik om vir haar en haar seuntjie kos te maak toe Elia
haar aansê om vir hóm ’n roosterkoek daarmee te maak. Sjoe, weer ’n
keer kom Elia se ete anders as wat mens sou verwag. Dis nie iemand
wat ’n spens vol kos en voorraad het nie. Dis nie iemand wat
mildelik sou kon uitdeel nie. Nee, die Here gebruik die weduwee wat
omtrent niks het nie. Sy is egter gewillig om wat sy het uit te deel,
omdat die Here so sê. Dit laat mens mos dink aan die weduwee wat
haar laaste sente in die offergawekis gegooi het en toe het Jesus
gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi
as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die
offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat
sy gehad het om van te lewe.” (Luk. 21:3-4) Die weduwee van Sarfat
se gehoorsaamheid is mildelik beloon deur die Here. Ons lees in 1
Kon. 17:16 hoedat die meel in die kruik en die olie in die kan nie
minder geword het nie en hoedat sy en haar seuntjie en Elia genoeg
gehad het om te eet totdat die droogte verby was. “Wie hom oor 'n
arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten
volle vergoed”, sê Spr. 19:17. Miskien is jy vanaand dié een vir
wie die Here op bonatuurlike wyse versorg en kan jy getuig van sy
voorsiening vir nog ’n ete op jou tafel. Of dalk is jy vanaand dié
een wat jou laaste roosterkoek moet weggee. Of dalk is jy vanaand
dié een wat een van jou baie roosterkoeke moet uitdeel. Doen wat jy
moet doen en die Here sal jou vergoed. ~ Wilna Botha, 28/06/2022 |
|
“Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom
en sê: “Word wakker! Eet!” (1 Kon. 19:6) En daar kry Elia nóg ’n
keer sy ete op ’n buitengewone, bo-menslike wyse: ’n engel bedien
hom met roosterkoek en water – twee keer na mekaar. Eers het die
kraaie vir hom kos gebring, toe die weduwee van Sarfat en nou die
engel. Elia was benoud en bang en het gevlug vir sy lewe – woestyn
in. Hy het onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood en
sommer vir die Here gesê om sy lewe te neem. Hy sien nie meer kans
nie. Alles is te veel vir hom. Hy is moeg en moedeloos. Hy is gereed
om op te gee. Daar onder die besembos het hy aan die slaap geraak en
daar is hy wakker geskud deur ’n engel wat vir hom kos gebring het.
“Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Toe
staan hy op en hy eet en deur die krag van die kos kon hy veertig
dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.” (1
Kon. 19:8) Was jy al bedien deur ’n “engel”? Het dit ook al met jou
gebeur dat jy moeg, depressief of hartseer was, dat jy verlore en
eensaam gevoel het, of siek was, of oorwerk was en dan het daar ’n
engel verskyn met ’n bord kos, of ’n pot tuisgemaakte sop, of ’n
lekker warm wegneem koffie, of ’n sjokolade? Dit het al met my
gebeur. As ons nie gevoed word met kos nie, sal die pad vir ons te
lank word, sal ons nie krag hê om voort te beur deur die woestyn nie.
Soms is mens net emosioneel só uitgeput dat jy nie kans sien vir
kosmaak nie, of fisies so flou dat jy nie na jouself kan omsien nie.
Dan, op die regte tyd kom die engel met die roosterkoek en die kruik
water en word jy emosioneel en geestelik en fisies versterk deur die
moeite en liefde wat iemand aan jou bewys met iets om te eet. Eet!
Anders sal die pad vir jou te lank word. ~ Wilna Botha, 30/06/2022 |
|
“Daar het hulle vir
Jesus ’n ete gegee.” (Joh. 12:2) As daar nou ’n ete is waar ek ook
’n gas sou wou wees, is dit toe Jesus by Marta en Maria-hulle geëet
het. Lasarus was aan tafel. Slegs ’n paar dae tevore het Jesus hom
uit die dood opgewek. Ek sou vir Lasarus wou sien en hom uitvra oor
sy ondervinding en ek sou wou hoor of hy nou heeltemal genees is van
die siekte wat hy gehad het. As ek daar was, sou ek vir Marta wou
help met huis skoonmaak, kos voorberei, tafel dek, skottelgoed was,
ens. Ek wonder wat het sy gereed gemaak vir die gaste. As ek die
geleentheid gehad het om vir Jesus ’n ete te gee, wonder ek wat sou
ek voorgesit het? Ek sou, soos Marta, ook wou hê alles moet perfek
verloop en ek sou, soos Marta, geskarrel het om alles klaar te kry
en ek dink ek sou, soos Marta, vies gewees het as my suster nie
bietjie handjie bygesit het om te help nie. En tog sê Jesus vir
Marta: “Marta, Marta, jy is besorg oor baie dinge, maar net een ding
is nodig ...” (Luk. 10:41) Marta (en Wilna), moenie só besig wees om
alles perfek te kry, dat jy nie aandag gee aan die gaste aan jou
tafel nie. Moenie só opgeneem wees deur die gejaag en gewerskaf van
elke dag, dat jy nie vir Jesus raaksien en nie tyd maak om net by sy
voete te sit nie. Dan was daar Maria – sy het baie duur olie gebring
en op Jesus se voete uitgegooi en dit met haar hare afgedroog. Ek
sou beslis ook na my asem gesnak het as ek Maria dít sien doen het.
Ek sou dalk ook, soos Judas, gedink het dat dit vermorsing is en dat
daar iets beter met daai geld gedoen kon word. Tog wens ek ek was
Maria, wat nie omgegee het hoeveel ek prysgee om myself aan Jesus te
gee nie, wat nie omgee wat die mense van my sal dink as ek die Here
op my eie unieke manier aanbid nie, wat openlik voor almal kan bewys
dat ek Hom liefhet en dat Hy belangriker is as enige iets anders.
Maria se daad was een van oorvloedige gee, diep liefde en ware
aanbidding en bewondering. Geen wonder dat Jesus gesê het: “Oral
waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook
vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.” (Mark
14:9) ~ Wilna Botha, 05/07/2022 |
|
“U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my
teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word
oorlaai met hartlikheid.” (Ps. 23:5) Daar het jy dit nou! Jy is
genooi! Die Here het ’n feesmaal vir jou voorberei. Om die waarheid
te sê, jý is die eregas. Hy wag vir jou langs die feestafel met
arms vol goedheid, guns en genade. Hy bedien jou met hartlikheid en
aanvaarding en liefde. Daar is blydskap, vrede en vergifnis op die
spyskaart. Die Gasheer het ook troos, hoop en raad voorberei. Hy
skink van Homself totdat jou beker oorloop. Hy salf en seën jou daar
waar jy aansit. Alles is in oorvloed. Dit laat my dink aan die
woorde wat ek soveel keer gehoor het by die bediening van die
nagmaal: “Broers en susters, alles is gereed; kom na die tafel van
die Here. Kom, en word versterk in die geloof.” Alles is gereed vir
jou en my. Kom sit aan by die feesmaal en geniet van alles. Kom en
word versterk vir die lewenspad. ~ Wilna Botha, 07/07/2022 |
|
“Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie,
en begeer nie sy lekker ete nie. Want soos hy in sy siel bereken, so
is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou
vriendelike woorde verspil.” (Spreuke 23:6-8, Afrikaans OV) In ’n
Engelse vertaling lees dié teks so: “Do not take the food of him who
has an evil eye ...” Dit is so dat mens uitgenooi kan word na ’n ete,
maar die gasheer het nie suiwer motiewe met die uitnodiging nie.
Dink maar aan daai besigheidsete waarheen die gasheer jou genooi het,
net om van jou kennis te tap, of om jou om te koop, of om jou te
manipuleer. Eet en drink, nooi hy jou uit, maar sy hart is nie met
jou nie. As jy besef wat aangaan, voel jy verneuk, voel jy dalk
letterlik naar van dit wat jy geëet het en weet jy dat dit ’n
vermorsing van jou vriendelike woorde was! Of dink aan die tipe
“wine and dine”-ete waarheen menige dame al genooi was, net om uit
te vind die gasheer het ’n “evil eye” – hy wou hê dat die ete
uitloop op iets meer. Nou ja, dis genoeg om mens jou kos te laat
uitspuug as jy besef die uitnodiging was eintlik om jou te misbruik.
Of dink aan ’n ete waarheen jy al genooi was en dan het alles dalk
net uitgeloop op ’n geskinder, slegpraat van ander of dalk selfs op
’n rusie – ’n ete sonder enige opbouende, insiggewende, interessante
gesprekke wat die kos so laat dik word in jou keel. Of dink aan ’n
ete waarheen jy al genooi was en dan is die gasheer letterlik
afgunstig op jou, kyk neer op jou of probeer jou minderwaardig laat
voel met sy meewarigheid – ai, wie wil nou aan só ’n tafel eet? Met
’n fyn aanvoeling kan ons dalk onderskei wat die motiewe is van jou
gasheer en kan mens dalk betyds die uitnodiging van die hand wys, nè.
Draai dit ook maar altyd om en ondersoek jou eie motiewe wanneer jy
iemand uitnooi na ’n ete. ’n Ete in opregtheid, waar dit oor
vriendskap en meelewing gaan is so kosbaar dat dit nie saakmaak wat
op die spyskaart is nie! Kyk hoe mooi sê Spreuke dit: “Liewer net ’n
bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby.
(Spreuke 15:17) en “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as
’n huis vol kos met ’n getwis daarby.” (Spreuke 17:1) ~ Wilna Botha,
19/07/2022 |
|
’n Spesiale ete wat sommige van Jesus se
dissipels saam met Hom gehad het, was dié een in Joh. 21 – visbraai
op die strand met lekker vars brood as bygereg. Ná sy opstanding uit
die dood, verskyn Jesus weer aan sy dissipels by die See van
Tiberias. Petrus-hulle het seker besluit om maar terug te gaan na
hulle “ou” werk as vissermanne, of dalk wou hulle net hulle gedagtes
en hande besig hou nadat Jesus gekruisig is, dalk wou hulle net iets
gaan vang om vir die dag te eet. Hoe dit ook al sy, hulle het die
hele nag lank niks visgevang nie. Skielik staan Jesus op die strand
en sê vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi. Hulle het
besef dat dit Jesus was, want Hy het al voorheen ook vir hulle só
vreemde opdrag gegee met ’n wonder-vangs as resultaat. Toe hulle op
die strand kom met hulle nette tot oorlopens toe vol vis, was daar
’n vuurtjie aan die gang met ’n stuk vis op en brood daarby en Jesus
nooi: Kom eet! “Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle
en net so ook die vis.” (Joh. 21:13) Toe hulle moedeloos en moeg
was, rigtingloos en ontnugter, hartseer en sonder hoop, staan Jesus
daar met ’n voorbereide maaltyd en ’n uitnodiging om te rus en saam
te eet. Ons kan ook die versekering hê dat as die nag lank en donker
lyk, as al ons geswoeg niks oplewer nie, as ons moedeloos is en
sommer net doelloos ronddobber, sal Jesus dáár wees, sal Hy jou
aanmoedig om weer te probeer, om die net dalk aan die ander kant uit
te gooi. Hy sal egter ook dáár wees met fisiese versorging. Hy sal
voorsien. Sien jouself vanaand saam met Jesus op jou lewensstrand en
kom haal van die vis en die lewende brood. Mag dít vir jou genoeg
wees. ~ Wilna Botha, 21/07/2022 |
|
“Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir
hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie
spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en
die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk
bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die
verpligting om jou vir ’n ete terug te nooi. En so gaan dit dan
heeltyd aan. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die
volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks
het om te eet nie en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene
wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is. As jy
sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om
vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God
sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit.” (Luk. 14:12-14, Die
Boodskap) Jesus was uitgenooi na die huis van ’n vooraanstaande
Fariseër vir ’n ete. Daar het Hy gesien hoedat almal skarrel om die
voorste en beste plekke aan tafel te kry en hoe die een dink hy is
belangriker as die ander, hoe die bywoning van die ete vir hulle ’n
groot sosiale eer was waarop hulle aanspraak gemaak het. Hy praat
toe met hulle oor nederigheid en om liewer doelbewus die swakste
plek aan tafel uit te kies. Hy gaan toe verder om vir die gasheer
dié raad te gee om volgende keer liewer die minderwaardige,
onbelangrike, sukkelendes in die samelewing uit te nooi, mense wat
werklik ’n ete nodig het, mense wat altyd uitgeskuif en oor die hoof
gesien word. Wie is op jou uitnodiginglys? Iemand wat jou laas maand
uitgenooi het en nou is jy verplig om hulle weer te nooi, al wil jy
nie, al voel jy jy gaan nie so goeie gasheer wees as wat hulle was
nie, al kan jy dit dalk nie bekostig om vir hulle die beste voor te
sit nie, al moet jy dalk spesiaal nuwe eetgerei gaan koop sodat jy
nie afsteek nie? Of iemand vir wie jy wil beïndruk met jou mooi goed
en jou oordadige spyskaart en jou gasvryheid? Ons is betrokke by
gestremde persone en ek kan jou verseker as jy saam met só iemand
aan tafel sit, sien jy eerlikheid, ervaar jy opregtheid . Daar is
geen pretensie nie. What you see is what you get. By so iemand kan
jy ook net jouself wees. Jy hoef nie jou beste voetjie voor te sit
nie. Jy kan die eenvoudigste kos wat jy op jou tafel het deel en dit
sal waardeer word en sonder beoordeling aanvaar en geniet word. As
jy sulke mense uitnooi, is jy ’n gelukkige mens, sê Jesus. ~ Wilna
Botha, 26/07/2022 |
|
“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee
vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (Joh. 6:9) Ons lees in
elkeen van die evangelies van dié etenstyd toe Jesus ’n skare van
vyfduisend mans plus vrouens en kinders kos gegee het. Dit moes ’n
spesiale etenstyd gewees het. Só baie mense bymekaar. Só ’n groot
honger om te luister na Jesus se prediking en om sy aanraking en
genesing te ervaar. Ek wonder baie keer hoekom was net die een
seuntjie voorbereid met sy kosblikkie vol broodjies en vis? Hoekom
het die mense nie almal met hulle kosmandjies opgedaag nie? Dalk het
hulle nie beplan om so lank en so vêr van die huis af weg te wees
nie. Dalk het hulle nie omgegee om honger te ly nie, solank hulle
net by Jesus kon wees. Dalk het hulle gewéét dat Hy sou sorg. Jesus
se hart breek as Hy die menigte honger mense sien. Hy stuur die
dissipels om te kyk hoeveel brood daar is: “Hoeveel brood het julle?
Gaan kyk.” (Mark 6:38) Met dit wat beskikbaar was in sy hand het
Jesus na die hemel opgekyk en die seën gevra en die brood gebreek.
As Jesus brood breek, is daar genoeg vir almal. As Jesus brood breek,
word almal versadig. As Jesus brood breek, is daar oorvloed. As
Jesus brood breek, wéét ons Hy is die brood wat lewe gee. As Jesus
brood breek, verander die wêreld. As Jesus brood breek, hoor ons:
neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit
tot my gedagtenis (1 Kor. 11:24). Kom, eet, dis verniet. Kom, eet en
word versadig. Kom, eet en sien die wonderwerke van God in jou lewe.
~ Wilna Botha, 08/08/2022 |
|
“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem
Hy die brood, vra die seën , breek dit en gee dit vir hulle.” (Luk.
24:30) Só verloop dinge aan die etenstafel in Emmaus waar Jesus ná
sy opstanding saam met twee van sy dissipels eet. Hulle het
Jerusalem verlaat nadat Jesus gekruisig is. Hulle was verslae,
hartseer, ontnugter en teleurgesteld (soos wat mens maar voel ná die
tragiese, ontydige dood van ’n geliefde) en vat toe maar pad na
Emmaus. Terwyl hulle langs die pad loop en tob oor alles wat gebeur
het, val Jesus langs hulle in en vra hulle uit oor hulle gevoelens
en menings. Hy gee vir hulle perspektief, Hy bemoedig hulle deur die
Woord en Hy bly by hulle oor vir die nag. Hulle besef egter eers wié
Hy is toe Hy die brood breek en vir hulle gee. Ek hoop as jy ’n
jouself op ’n moeilike pad bevind waar jy hartseer, verlore en
gebroke is, jy sal ervaar dat Jesus langs jou kom loop, dat sy
woorde en sy troos jou hart warm sal laat word en dat jou binnekant
tot bedaring sal kom as Hy brood breek vir jou. Ek hoop dit sal op
daai oomblik wees dat jy in die brood by die tafel vir Jesus sal
vind. Dat jy in die brood sal raaksien dat Hy vir jou sorg en jou
nie alleen sal los nie. Dat jy in die brood sal sien dat daar
vergifnis en genade is, dat daar vrede en nuwe lewe is. Dat jy die
brood sal neem en sal weet dat dit vir jou persoonlik gebreek is.
Neem, eet ... ~ Wilna Botha, 10/08/2022 |
|
“Julle kan nou maar kom, die tafels staan
gereed met die heerlikste kos. Laat die fees begin. Maar toe gebeur
daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek....
“ (Luk. 14:17-18. In dié gelykenis wat Jesus vertel sien ons die
tafel wat God vir sy volk voorberei het. Alles van die beste is
daarop uitgepak. Oorvloed daarvan. En die Gasheer se uitnodiging is
uitgestuur: Kom, eet, verniet, sonder skuld, sonder voorbehoud. Kom,
daar is plek vir almal. Kom, daar is plek vir jóú ook, ’n plek met
jóú naamkaartjie daarby. Jy hoef nie eers ’n bottel wyn of blomme
saam te bring nie! Kom met leë hande, kom soos jy is, kom net.
Iemand het dit eenmaal só beskryf: Dit is ’n uitnodiging na die
tafel in die middel van die kosmos. Wie sal nou nie dié uitnodiging
aangryp nie? En tog kom die verskonings nou een na die ander: ek het
’n stuk grond gekoop en moet net eers gaan kyk hoe dit lyk; ek het
’n paar osse gekoop en moet net gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan;
ek het pas getrou en kan nie nou kom nie. Ek is te besig, net eers
dit of dat afhandel, net eers my lewe geniet, net eers nog bietjie
geld maak, net eers klaar studeer, net eers huis bou, net eers ...
Moenie die Here se ete-uitnodiging ignoreer nie, moenie verskonings
uitdink nie. Maak soos die verlore seun van Luk. 15 en gaan terug na
jou Pa se huis toe, gaan sit aan by Sy feestafel. Hoor wat sê Hy:
“Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees,
want my seun is terug! Ek het gedink hy is al dood, maar kyk, hy
leef! Hy was weg, maar nou is hy terug waar hy hoort: in sy pa se
huis.”(Luk. 15:24, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/08/2022 |
|
“As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy
iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As
jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.” (Rom 12:20, Die
Boodskap) Ai ja, mens kan mos nou verwag om iets só ongewoon in die
Bybel te lees! Wie wil dít nou doen? Die menslike en natuurlike
optrede teen jou honger vyand sal dalk wees om jou te verlekker in
sy situasie, jy kan dalk dink (en sê!): Jy wil mos! Kry nou vir jou!
Ly nou maar lekker honger, jy wou my mos te na kom. Die Here se
verwagting vir sy kinders is egter om téén die natuurlike gevoel op
te tree. Dalk is dit tyd om die strydbyl te begrawe met daai
familielid en hulle uit te nooi vir ’n ete. Dalk is dit tyd om dinge
uit te sorteer met jou moeilike kollega by die werk – dit sal
makliker wees rondom ’n koffie en ’n lekker skon. Dalk is dit tyd om
dinge reg te stel met jou buurman wat jou te nagekom het – bedien
hom met iets om te eet. Ek dink dis moeilik om nog kwaad te bly vir
iemand wat na jou uitreik met ’n bordjie eetgoed, of saam met jou om
’n tafel sit en eet. Wanneer mens sáám eet, ontlok dit gesprekke.
Wanneer mens sáám rondom ’n tafel is, kom daar dalk ’n nuwe
perspektief en ’n nuwe verstaan en medelye met die ander persoon.
Kyk wat sê die teks sal die uiteinde wees: jou vyand sal skaam kry!
Hy sal selfondersoek doen oor sy houding, hy sal vergewensgesind
wees, hy sal sien dat jy hom respekteer ten spyte van sy optrede of
gevoel teenoor jou. Is dit ’n maklike opdrag? Beslis nie. Is dit
moontlik? Ek dink so. Kom ons gaan probeer dit. “Doen van julle kant
af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat
staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit plas
glad nie by gelowiges nie.” (Rom 12:18-19) ~ Wilna Botha, 23/08/2022 |
|
“Let op! Ek staan by die deur en klop. As
iemand hoor hoe Ek roep en die deur vir My kom oopmaak, sal Ek
instap na hulle toe. Ek sal saam met hulle kom eet. Hulle sal
feesvier saam met My.” (Op 3:20, Die Nuwe Nuwe Testament) Kyk, dis
Jesus Christus, die Seun van God, die Redder, die Verlosser, die
Vredevors wat buite staan. Hy klop. Hy wag om ingenooi te word om
saam met jou te kom eet. Hy wil jou gewone, louwarm lewe in ’n
feesviering kom omskep. Ek het eintlik nog altyd gedink hierdie teks
is van toepassing op daai heel eerste keer toe ek Jesus se klop en
sy roep gehoor het en my hart se deur vir Hom oopgemaak het en Hom
ingenooi het in my lewe. Maar vandag toe sien ek hierdie teks staan
in die gedeelte waar die gemeente van Laodisea aangespreek word oor
hulle louwarm Christenskap. Hulle is verwaand en selfvoldaan. Hulle
dink hulle het niemand en Niemand nodig nie. Hulle sê: “Ons is ryk,
skatryk en ons het niks meer nodig nie.” (Op 3:17), maar intussen is
hulle geestelik brandarm en bankrot, geestelik kaal en verlore,
louwarm. En dis húlle wat moet kyk na die Een wat by die deur staan
klop. Dis húlle wat moet hoor dat Hy roep. Dis húlle wat moet
besluit of hulle oopmaak en of hulle doof bly vir sy klop. Dis húlle
wat moet besluit of daar plek is vir Jesus aan hulle etenstafel, in
hulle gewone dag tot dag lewe, in elke hoekie van hulle gedagtes en
hart. Dalk is ek of jy vandag dié een wat weer die geklop en geroep
moet hoor in ons louwarm bestaan. Kyk, dis Jesus self wat wil inkom,
wat ’n intieme verhouding met jou wil hê, wat saam met jou ’n
feesmaal wil hou. Dalk voel jy daar is niks aan jou lewenstafel om
vir Hom aan te bied nie. Wees verseker dat Hy alles sal saambring
wat nodig is vir ’n feesmaal, vir ’n lewe van oorwinning. Hy bring
vars genade, Hy sit vergifnis voor, Hy dek die tafel met liefde, Hy
meng vrede en troos in, Hy sit vreugde, blydskap en genot op jou
bord. Mag jy vandag saam met Hom feesvier! ~ Wilna Botha, 13/09/2022 |
|
“Een van dié wat saam aan tafel was, het dit
gehoor en vir Hom gesê: Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in
die koninkryk van God kan deelneem.” (Luk. 14:15) Jesus was aan huis
van ’n vooraanstaande Fariseër om daar te gaan eet. Êrens deur die
loop van die kuier, sê iemand wat saam aan tafel was: Gelukkig is
die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.
Ek wonder of dit een van die Fariseërs was? Het hy besef dat daar
eendag ’n groot feesmaal vir al die volke sal wees met die beste om
te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn, ’n feesmaal waar die
Here die dood vir ewig vernietig en die trane op almal se gesigte
afvee? (Jes. 25:6,8) Het hy verlang daarna om een van dié gelukkiges
te wees? Kon hy weet dat hy dalk een van dié sou wees wat te laat
sou besef dat hy net ’n toeskouer by dié feesmaal sou wees, terwyl
God se kinders daar met hartlikheid, goedheid en liefde oorlaai sou
word? (Ps. 23:5-6) Of was dit dalk een van die dissipels wat dit
gevra het? Iemand wat later aan die Paas-tafel saam met Jesus sou
wees en die aand voor sy kruisiging sou hoor: Neem, eet; dis is my
liggaam. Drink almal uit die beker want dit is my bloed wat vir baie
vergiet word tot vergewing van sondes. “Ek sê vir julle: Van nou af
sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek
saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal
drink.” (Matt. 26:29) Of was dit een van Jesus se volgelinge wat dit
gevra hê? Iemand wat na die bruilofsmaal van Lam genooi is, iemand
wat die uitnodiging aanvaar het, iemand wat alreeds kon uitsien om
met witgewaste, fyn, helder blink klere deel te neem aan die maaltyd
in die koninkryk van God? (Op 19:8-9) Gelukkig is die een ...! ~
Wilna Botha, 20/09/2022 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|