| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
					| 
	 |  
					| 
 |  
					| “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al 
	my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal.” (Fil. 1:3-4) Dis darem 
	maar lekker as mens hoor iemand bid vir jou, nie waar nie? Dit moet vir ons 
	ook ’n opdrag en vreugde wees om vir medegelowiges te bid. Ek leer hier in 
	Fil. 1:3-11 by Paulus wat ons vir ons geestelike familie kan  bid: bid dat 
	hulle sal volhard, dat hulle onberispelike lewens sal lei wat vir die Here 
	aanneemlik sal wees; bid dat die Heilige Gees meer en meer goddelike liefde 
	in hulle harte sal uitstort sodat hulle ’n verskil in hulle omgewing kan 
	maak; bid dat hulle onderskeidingsvermoë sal hê tussen reg en verkeerd, 
	waarheid en leuen, goed en sleg. Jak 5:16 sê ook dat ons vir mekaar moet bid 
	en gee ons die versekering: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige 
	uitwerking.” Rom 12:12 sê “volhard in gebed” – nie net vir onsself, ons eie 
	behoeftes en begeertes, ons eie mense nie, nee, kom ons volhard ook in gebed 
	vir mekaar. Ek kan jou verseker daar is vandag mense wat jou gebede nodig 
	het en staatmaak op jou voorbidding. Baie keer het hulle nie woorde en 
	innerlike krag om self te bid nie en dit is dan wanneer ons vir hulle kan 
	intree en hulle na die Here kan oplig met ons voorbidding. “Wat is dit met 
	jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou God.” (Jona 1:6) ~ Wilna 
	Botha, 08/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Om te 
	lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins. Paulus uiter hierdie woorde in Fil 1:21 terwyl hy in die tronk is ter wille 
	van die Evangelie van Christus. As jy lees in Fil 1:12 - 26 sien jy sy 
	wroeging omdat hy graag sy Geestelike werk wil voorsit, maar nou is hy 
	opgesluit. Aan die een kant is hy bly want sy gevangeskap het 'n groot 
	getuienis uitgedra omdat almal besef het dat sy geloof in Christus sy "misdaad" 
	was. Aan die ander kant wil hy graag by ander 
	uitkom om verder te getuig oor Christus.
 Maar dan kom hierdie vreemde woorde: "Om te lewe is vir my Christus, en om 
	te sterwe is vir my wins".
 Ek lei af dat Paulus dalk moeg was vir die swaarkry, want hy was in sy tyd 
	opgesluit, hy was 5 keer die gebruikelike 39 houe (195 sweephale op sy lyf) 
	toegedien deur die Romeine, hy was met stokke bygedam deur die Jode, hy het 
	amper op see omgekom, hy het baie baie kilometers gestap en hy is verguis 
	waar hy gekom het. Ek neem hom nie kwalik dat hy gevoel het dat sy werk maar 
	kan stop nie, en dat hy nou maar kan Huistoe gaan.
 Maar dan sê hy in vers 25 dat hy maar eerder sal bly, ter wille van die 
	mense wat moet hoor van Jesus. Ai, wat weet ons van vervolging? Wat weet ons 
	van swaarkry vir ons geloof? Hoekom glo ons dat dit altyd moet goed gaan 
	omdat ons Christene is? Hoekom glo ons dat ons bonatuurlike seën moet geniet, 
	en dit nogal in terme van die materiële? Hoekom het die Here hierdie goed in 
	Paulus se lewe toegelaat, maar hy behoort dit nie nou in ons lewens toe te 
	laat nie? Ek vermoed ek verstaan 'n paar dinge heeltemal verkeerd.
 Here, vergewe my dat ek nie Paulus se passie en deursettingsvermoë het nie. 
	~ Willem Botha, 09/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir 
	Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen.” (Fil. 1:27) Hierdie is 
	nie so ’n maklike opdrag nie en ’n “preek” wat ons dalk nie meer wil hoor 
	nie. Ons kan nie net sê dat ons Christene is sonder dat ons lewenswyse dit 
	bevestig nie, sonder dat ons anders lyk en praat en dink en doen as die res 
	van die wêreld nie. As ek Fil. 1:27-30 reg verstaan lyk dit my dat dit 
	inspanning van ons sal verg en dat dit dikwels ’n stryd sal wees. Ons moet 
	onsself gereeld “toets” of ons in die geloof lewe (2 Kor. 13:5) en of ons 
	vrugte dra wat bewys dat ons bekeer is (Matt. 3:8). Glo jy onwrikbaar in God 
	se genade, glo jy vas dat Jesus vir jou sonde betaal het, glo jy beslis dat 
	jy gered is en die ewige lewe as erfenis het, of word jy maklik van stryk af 
	gebring deur ongelowiges se siening? Begin jy twyfel aan God se goedheid as 
	dinge om jou moeilik gaan? Bevraagteken jy God se bestaan en die waarheid 
	van die woord wanneer sg. geleerdes dit begin betwyfel? As jy volhardend bly 
	glo, as jy met moed en hoop jou oë op die Here hou dán is jy ’n advertensie 
	vir Christus. As jy vrede en vreugde behou ten spyte van moeilike 
	omstandighede dán sal die mense om jou sien dat jy “iets” anders het en dit 
	ook begeer. As jy kan aanhou om die regte dinge te doen, keuses te maak teen 
	sondes en teen ’n leefstyl wat vir die wêreld aanvaarbaar geword het maar 
	wat teen God se woord en wet is, dán sal jy uitstaan as ’n ambassadeur van 
	Christus. Maatskappye doen baie moeite en gaan baie advertensie koste aan om 
	hulle produk te bemark en bekend te laat word. Ons moet ook alles in die 
	stryd werp sodat ons lewenswyse ’n groot advertensiebord vir Christus en vir 
	die evangelie sal wees. ~ Wilna Botha, 12/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Eensgesindheid Kyk, ons 
	boerenasie sukkel met hierdie ding. Soos die mense sê, sit twee van onse 
	manne alleen op 'n eiland en binnekort het jy twee (of meer) politieke parte 
	en kerke. Paulus skryf hierdie woorde aan die Fillipense.
 Fil 2:1-4 "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die 
	aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige 
	meegevoel en meelewing –maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te 
	wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of 
	eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as 
	homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan 
	dié van ander."
 Dink vir 'n oomblik hoe die wêreld sou wees as almal op die hele planeet in 
	eensgesindheid kon leef. Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, geen 
	misdaad, geen konflik in die werkplek, geen oorloë, geen egskeidings en geen 
	armoede. Die wêreld sou werklik 'n volmaakte plek wees. Nou ja, dit is seker 
	'n droom wat net eenvoudig nie waar kan word nie.
 Maar dis 
	nie waarna Paulus verwys nie, hy praat nét met die gemeente in Fillipense, 
	nét met mense wat in liefde saamgebind behoort te wees, en meer nog, hy 
	praat met kinders van die Here! Hoe verskriklik is dit nie dat ons as mense 
	al so selfsugtig geword het nie. Bure teen bure, broer teen broer, Christen 
	teen Christen kan maar net nie die knie voor die ander buig nie!
 Ai, hoe kan ons die wêreld daar buite verander as ons nie eers hierdie 
	eenvoudige beginsel van eensgesindheid kan toepas nie. Mag die Here ons 
	help. ~ Willem Botha, 13/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy 
	gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword.” (Fil. 
	1:7, Die Boodskap) Jesus was bereid om sy status, eer en posisie prys te 
	gee, as’t ware sy kroon neer te sit en sy troon te verlaat om mens te word. 
	“The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood,” sê Joh. 
	1:14. Hy het nie sy Godwees prysgegee nie – Hy was stééds God, maar Hy het 
	Homself beperk tot ’n menslike liggaam, met menslike behoeftes; Hy was 
	beperk t.o.v. tyd en plek.  Hy het Homself verneder om mens te word ter 
	wille van ons, Hy het homself vrywillig aan lyding onderwerp, vrywillig as 
	’n vervloekte aan die kruis gesterf sodat ons kinders van God kan word. Dít 
	was die offer wat Hy as Verlosser vir ons gebring het: vervloekte in ons 
	plek, geslaan in ons plek, gely in ons plek, gesterf in ons plek. “Oor óns 
	oortredings is Hy deurboor, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat 
	vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur Sý wonde het daar vir ons 
	genesing gekom.” (Jes. 53:5) Aanvaar dit. Glo dit. Bely dit. ~ Wilna Botha, 
	14/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Ligdraers Dit is 
	darem maar aaklig om in stikdonkerte te loop, wanneer jy nie jou hand voor 
	jou oë kan sien nie, en destemeer as jy jouself in 'n plek bevind wat jou 
	boonop bang maak, soos 'n grot. O jitte, en wat nog van 'n stappie deur 'n 
	begraafplaas as dit in die donker is. Dis in sulke tye wat jy naarstiglik 
	soek na selfs die kleinste bron van lig. Die oomblik wat lig donkerte 
	verdryf tree kalmte en gemoedsrus in, en dit kan gebeur deur die kleinste 
	klein flitsie, of 'n vuurhoutjie.
 Paulus skryf in Fil 2:12-18 dat die mense gehoorsaam, eerbiedig en 
	onberispelik moet lewe, te midde van ontaarde en korrupte mense. In Fil 2:15 
	- 16 staan "Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld, deur die woord 
	van die lewe uit te dra".
 Jy sien, 
	korrupsie en slegte dinge was al in Paulus se tyd aan die orde van die dag 
	en ons moet dit soveel te meer te wagte wees. As ek en jy meedoen aan 
	verkeerde praktyk, raak ons net soos die wat in die donkerte lewe, en het 
	ons 'n totaal destruktiewe invloed. Maar as ons daardie ligdraers is waarvan 
	Paulus praat, oorwin ons daarmee die donkerte. Onthou, enige plek op aarde 
	is donkerte outomaties aan die orde van die dag, maar 'n klein bietjie lig 
	verander alles en verdryf die donkerste van donker in 'n oogwink. Die draer 
	van lig loop altyd voor, want dan sien almal voor hulle uit. Daardie draer 
	se lig moet 360 grade om hom uitsprei en nie soos 'n laserliggie wees wat 
	net 'n klein kolletjie verlig nie. Daardie vorm van lig beteken nie veel nie. 
	Lig lok mense, kom ek en jy word daardie bron van hoop vir ander, deur die 
	woord van die lewe uit te dra.
 Christus is die Woord, en ek en jy het die taak om die draer van die goeie 
	nuus te wees. ~ Willem Botha, 15/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| In Fil. 2:19-30 lees 
	ons van twee geestelike werkers wat vir Paulus en die gemeentes ondersteun 
	het, nl. Timoteus en Epafroditis. Timoteus was ’n jong man,  ’n getroue 
	werker, hy was nie bang vir vervolging en moeilikhede nie, hy het die 
	belange van die gemeente bo sy eie belange gestel. As jy ’n geestelike werker is, of êrens ’n groep mense bedien met die evangelie of met 
	liefdesdade wéét jy maar al te goed dat dit nie altyd maklik is nie, dat dit 
	baie keer voel of jy nie waardeer word of nie erkenning kry vir wat jy doen 
	nie. Die beste troos is om te onthou dat jy dit vir die Here doen, dat jou 
	eie belange nie tel nie, dat die Here sien wat jy doen en jou daarvoor sal 
	beloon. Gaan voort om te doen wat jou hand vind om te doen, doen dit met 
	liefde en oorgawe en toewyding. “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle 
	werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het 
	deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie.” (Heb. 6:10) 
	Die ander van ons wat aan die ontvangkant staan van ’n geestelike werker se 
	bediening, luister wat Paulus sê: “Ontvang hom met oop arms as ’n broer in 
	die Here en bejeën manne soos hy met agting.” (Fil. 2:29) Sê vir slag dankie 
	vir jou dominee, bid vir hom, bederf hom met ’n ete, verseker hom van jou 
	ondersteuning en aanvaar hom soos wat hy is – nes jy, is hy ook nie volmaak 
	nie, word hy ook moeg, het hy dalk ook probleme met sy kinders en het hy 
	dalk ook bietjie aanmoediging nodig. ~ Wilna Botha, 16/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Al 
	daai fieterjasies Mense hou nou maar eenmaal van goetertjies, goetertjies op die kaggel, 
	goetertjies in 'n glaskas in die sitkamer en goetertjies op vensterbanke. 
	Tot 'n grasperk op die dashboard in die ou dae. En ongelukkig, net so hou 
	mense van goetertjies in hulle geloofslewe. Nuttelose uiterlike dinge wat 
	dikwels gedoen word om ander te beïndruk en om hulle geloofslewe (of sal ek 
	dit eerder godsdiens noem), ten toon te stel. In Fil 3:1-6 waarsku Paulus 
	vir die mense in Fillipi teen dit en noem hierdie aanstigters dwaalleraars 
	wat net loop en kwaad stig. Ek lei af dat die gemeentelede na hierdie mense 
	toe gestroom het om ook aan hierdie dinge blootgestel te word, en Paulus 
	noem dan ook hierdie betekenislose besnydenis by die naam.
 Dan sê hy in vers 4: "Tog sou ek ook op hierdie uiterlike dinge kon vertrou. 
	As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer". Dan 
	vertel hy van sy besnydenis, sy herkoms, sy opleiding in die wet, en selfs 
	dat hy die kerk vervolg het.
 Ons moet regtig baie versigtig wees waaraan ons onsself blootstel, want nie 
	almal wat geestelik voorkom, of klink na kundiges, of so openlik roem op 
	hulle kennis van God, is regtig waardig om na te volg nie. Paulus noem hulle 
	prontuit dwaalleraars en kwaadstigters. En weet jy, die aarde wemel van 
	hulle!
 Luister na hierdie stukkie wysheid van Paulus in vers 3: "Ons het die ware 
	besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Jesus Christus 
	beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie".
 Dis eenvoudig, daar is nie plek vir Jesus én die "aanbidding" van die 
	nuttelose uiterlike dinge in ons lewens nie. ~ Willem Botha, 20/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| Ek voel sommer skaam as ek in Fil. 3:7-16 lees hoedat 
	Paulus sê dat hy geheel en al uitverkoop is aan Jesus en alles opoffer en 
	inspan om Hom te volg en te dien. Hy sê dat alles wat eers vir hom belangrik 
	was, nou heeltemal waardeloos geword het, dat om Jesus te ken nou sy eerste 
	en enigste prioriteit is. Ek vra myself af of dit vir my persoonlik ook my 
	nommer een prioriteit is, of ek voluit daarna streef en my inspan om meer en 
	meer van die Here te leer en meer en meer te word soos wat Hy van my verwag 
	en meer en meer gehoorsaam is en doen wat Hom behaag. Ek weet ek skiet te 
	kort en ek kan saamstem met vers 13: “... ek verbeel my nie dat ek dit alles 
	al het nie.” Maar, ek wil graag probeer: “... ek span my in om dit alles 
	myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (:12) Ek moet 
	doelbewus vorentoe beur en streef en glo dat êrens op daai pad sal die Here 
	my ontmoet en my sleep en trek en my help om die wenpaal te bereik. Hy het 
	my rééds syne gemaak. Hy het rééds sy intrek in my hart geneem. Hy het rééds 
	die begeerte in my geplant om Hom nommer een te maak. Dis genade! ~ Wilna 
	Botha, 22/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Burgers van die hemel Ek het al so baie keer die vraag gehoor: Nou van watter Botha's is jy? Mmm.. 
	wel, sommer net van die Botha's, ons is so baie, dit help nie ek sê van die 
	Vrystaat of van die Transvaal nie, ons wemel orals. Toe ek in die weermag 
	was noem ek dat ek familie het van die een korporaal se tuisdorp en vra toe 
	of hy my klomp neefs ken. Sy antwoord was : O jitte ja die vervlakste klomp 
	messtekers! Sjoe, ek het skaam gekry want dit was so effe waar.
 In Fil 3:18 
	- 4:1 praat Paulus van die vyande van die kruis van Christus, en hy noem dat 
	hulle tuiste eendag die verderf sal wees. In vers 20 sê hy egter: "Maar ons 
	is burgers van die hemel, vanwaar ons ook die Here Jesus Christus as 
	Verlosser verwag".
 Jou 
	herkoms sê iets van jou en baie mense leef tog volgens 'n lewenstyl wat 
	daarmee geassosieer kan word, soos my neefs met hulle vreemde reputasie. 
	Maar ons hoef nie gevangenisse te wees van ons herkoms nie, ons moet eerder 
	'n lewenstyl handhaaf wat pas by ons toekoms. Ons is burgers van die hemel, 
	en mense moet dit in ons manier van lewe sien. Wat 'n wonderlike getuienis 
	is dit nie as iemand van jou sê: "Daardie ou gaan reguit hemel toe". Dan sal 
	dit ander mense ook kan saamsleep.
 Natuurlik 
	is dit nie ons dade wat ons red nie, maar ons dade is immers ons getuienis, 
	en daarom moet ons lewe soos burgers van die hemel. Ons kan, want as ons 
	Christus as Saligmaker aangeneem het, het ons reeds die paspoort ontvang. ~ 
	Willem Botha, 23/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil. 
	4:4) Mense sê dikwels dat dit ’n onmoontlike vers is om te doen. Hoe kan 
	mens altyd net bly wees? Hoe kan mens altyd net positief wees? Ek dink 
	hierdie tipe blydskap is nie iets wat deur omstandighede bepaal word nie, 
	dit word nie bepaal deur jou bui of hoe lekker jou dag is nie. Dit is ’n 
	blydskap wat diep in jou hart lê, ’n blydskap wat jy kies deur ’n 
	wilsbesluit. Dis ’n blydskap wat jy nie kan keer nie, wat opborrel selfs al 
	lyk dinge om jou donker en selfs al is die lewe nie ’n grap nie. Dis ’n 
	blydskap wat spruit uit die Here se teenwoordigheid in jou lewe, wat 
	ontstaan omdat jy weet dat Hy by jou is, wat gesetel is in wie die Here is 
	en nie in wie jy is en wat om jou aangaan nie. Dis nie noodwendig ’n 
	blydskap wat gepaard gaan met ’n skaterlag nie, maar wel met ’n tevredenheid 
	en ’n rustige wete dat God in beheer is. Dis beslis ook ’n aansteeklike 
	blydskap wat sal afvryf op diegene met wie jy in die loop van die dag te 
	doen sal kry. Dis ’n blydskap wat ’n aangename geur in die wêreld sal 
	versprei en ’n positiewe omgewing sal skep waarin mense kan ontspan omdat  hulle 
	hul sorge aan die Here kan oorgee. ~ Wilna Botha, 26/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Ek 
	is tot alles in staat... Hierdie is vir ons as Christene baie bekende woorde en ons haal dit graag 
	aan. Dit kom uit die gedeelte in Fil. 4:10-14 waar Paulus dankbaar is 
	teenoor die gemeente wat hom bystaan. Maar Paulus het regtig swaargekry vir 
	sy bedieningswerk.
 Kyk wat skryf hy in Fil. 4:12-13 "Ek weet wat armoede is en ek weet wat 
	oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel 
	as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek 
	is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee."
 Net soos ons vandag, het Paulus moeilike uitdagings in die gesig gestaar en 
	hy noem dat hy weet van swaarkry en armoede. Soms was dit swaar en ander tye 
	weer beter, want by tye het hy kos gehad en dinge selfs in oorvloed gehad, 
	maar dit het verseker nie altyd goed gegaan nie. Dan sê hy hierdie woorde: "Ek 
	is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee". Wat is hierdie krag wat hy 
	van God ontvang? Dis om vas te byt, voort te beur, uit te hou en aan te hou, 
	totdat die deurbrake weer kom.
 Onthou hierdie stelling: As dit nou goed gaan, moenie dink dit gaan altyd 
	goed gaan nie. Maar aan die ander kant, moenie dink as dit nou sleg gaan, 
	dat dit vir altyd gaan sleg gaan nie. Daar kom weer tye van oorvloed soos 
	vir Paulus, byt net vas.
 Hou ook in jou swaar tye aan hierdie woorde van Paulus vas: Ek is tot alles 
	in staat deur Hom wat my krag gee. Willem Botha, 27/06/2016
 |  
					| 
 |  
					| Het jy dalk ook al êrens langs die pad moeg geword om 
	geldelike bydraes vir die kerk of sendelinge of welsynsorganisasies te gee? 
	Het jy dalk ook al opstandig gevoel as jou dominee nóg ’n keer oor geld 
	preek en jou aanmoedig om vrygewig te wees vir die werk van die Here? 
	Wanneer ek in Fil. 4:17 lees: “Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, 
	maar om die vrug daarvan,” voel ek skaam oor my eie onwilligheid om ’n 
	finansiële bydrae te maak. Ek besef maar net weer dat daar ’n baie groter en 
	hoër doel en nut is vir my rande wat ek bydra. Wat is die vrug daarvan 
	wanneer ons vrygewig is ten bate van geestelike werk?  In die eerste plek is 
	dit natuurlik dat die Woord van die Here versprei en verkondig kan word en 
	mense deel van God se koninkryk kan word. Verder is dit sekerlik ook dat dié 
	wat alles opoffer vir diens aan die Here ’n lewe kan maak. Nog ’n vrug van 
	ons mededeelsaamheid is dat dié wat aan die ontvangkant daarvan is God sal 
	eer en prys en dank (lees 2 Kor. 9:11-13). ’n Vrug waaraan mens nie dikwels 
	dink nie, is een wat hier in Fil. 4:17 genoem word: “... daardeur word julle 
	self ryker.” Hoe kan jy ryker word wanneer jy van jou goed en jou geld 
	weggegee het? Die Bybel sê: “God het die blymoedige gewer lief” en “om te 
	gee is beter as om te ontvang” en “wat jy saai sal jy maai.” Wanneer jy van 
	jou besittings en jou geld weggee, weet jy dat die Here dit as ’n offer 
	aanvaar en dat Hy jou daarvoor sal beloon. Mag die Here ons “altyd in alles 
	ryk genoeg maak om by elke geleentheid vrygewig te wees.” (2 Kor. 9:11) ~ 
	Wilna Botha, 28/06/2016 |  
					| 
 |  
					| “Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle 
	wees,” so groet Paulus aan die einde van sy brief in Fil. 4:23. Om die 
	waarheid te sê ons lees hierdie seëngroet aan die einde van elkeen van sy 
	briewe. Dit is ook hierdie groet waarmee ons gewoonlik uit ’n kerkdiens 
	uitgestuur word. As jy weer hierdie seëngroet hoor, ontvang dit met ’n oop 
	hart en oop hande, want as jy die Here se genade ontvang het, het jy alles 
	wat jy nodig het. As jy die Here se genade ontvang, ontvang jy ’n volledige 
	porsie van Sy goedheid. As jy Sy genade ontvang, maak Hy jou sy kind, 
	vergewe Hy jou sondes, verlos Hy jou uit die boosheid van die wêreld en vul 
	Hy jou met Sy Heilige Gees wat jou lei en help. Onthou Sy genade is genoeg 
	vir jou. Ontvang opnuut Sy genade en ervaar dit diep in jou binneste en in 
	jou daaglikse lewe. ~ Wilna Botha, 29/06/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |