| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
					| 
	 |  
					| 
 |  
					| Jona - 
	feit of fiksie O jitte, met die lees van hierdie opskrif staan party mense se hare seker 
	klaar regop! Ons gaan vir die volgende klompie dagstukkies stilstaan by die 
	boek Jona, en ek wil graag by die gedagte kom van hoe ek die boek sien. Ek 
	geniet die boek Jona vreeslik baie omdat ek 'n prentjie kry van 'n koddige 
	mannetjie wat sommer vol draadwerk is en 'n ding teen sy sin gaan doen, deur 
	snaakse situasies worstel, dan tog die regte resultate kry, maar op die einde 
	vies is vir God. Gaan lees groot asb. die boek van voor tot agter deur, dit 
	gaan baie min tyd neem en jy gaan dit regtig geniet.
 Wel, feit of fiksie? Ek dink daar is hoofsaaklik drie groeperinge. Groep een 
	sou sê "God said it, I believe it, that settles it." Dit het so gebeur en 
	basta! Groep twee sê dis nie moontlik nie want hy sou nie kon oorleef in die 
	vis se maag nie, maar God gee vir ons wonderlike lewenslesse deur hierdie 
	boek en ons kan onsself daarmee vereenselwig. Groep drie sê dis alles 
	nonsens, en omdat dit in die Bybel opgeteken is gooi ons sommer die hele 
	Bybel in die asblik.
 Wel, jy wat hier lees is waarskynlik een van hierdie drie, en my pleidooi is 
	dat ons nie ander veroordeel wat anders as ons dink nie. Natuurlik steur ek 
	my nie aan die opinies van groep drie nie, maar binne die eerste twee groepe 
	sal jy wonderlike, opregte, wedergebore Christene vind, wat hopelik nie 
	mekaar sal veroordeel nie.
 Die boek Jona is vol van gebeure wat ons daagliks in ons eie lewens ervaar. 
	Daardie opstand teen God, wegvlug van hom af, weer terugkeer, wonderwerke 
	ervaar maar Hom steeds miskyk, teësinnig ons opdragte uitvoer en dan 
	ongemaklik is met Sy besluite. Jona was maar eenvoudig 'n tipiese wêreldling 
	en het ook maar voete van klei gehad. Soos party van ons.
 Maar tog het hy gedoen wat hy moes, al moes die Here hom so bietjie terug 
	help op die regte pad. En voorts is een van die wonderlikste boodskappe van 
	die boek die feit dat die Here vir jou en my gebruik net soos ons is, al 
	voel ons hoegenaamd nie opgewasse vir die taak nie. Ons moet maar net 
	beskikbaar wees.
 Dus, ek weet nie of dit feit of fiksie is nie, want ek verstaan ook nie hoe 
	hy kon oorleef in die vis se maag nie. Ek verstaan egter ook nie hoe 'n baba 
	in sy ma se baarmoeder in vloeistof leef, dan gebore word en "oorskakel" 
	suurstof toe nie, en onmiddellik 'n bonatuurlike suigaksie uitvoer sodra hy 
	by sy ma se bors kom nie.
 Jona is 'n goeie boek, gaan lees dit en besluit watse betekenis dit vir jou 
	het. ~ Willem Botha, 27/07/2016
 |  
					| 
 |  
					| In Jona 1:1-3 lees ons dat die Here vir Jona 'n opdrag 
	gee waaraan hy hom glad nie steur nie. Om die waarheid te sê hy spring 
	sommer op 'n skip en slaan heeltemal 'n ander rigting in om weg te kom van 
	die Here af.  Die opdrag klink nie vir my té moeilik nie. Hy moet maar net  na 
	Nineve toe gaan en die mense gaan aanspreek oor hulle slegte lewenswyse. O 
	nee wag, dit ís 'n moeilike opdrag. Wie van ons het waagmoed en 
	vrymoedigheid om iemand anders aan te spreek oor hulle sonde, afdwaling en 
	'n lewenswyse wat in stryd is met die Here se Woord en wet? Ons is mos bang 
	hulle sê vir ons: wat preek jy nou weer vir ons, dink jy jý is heilig, wat 
	loop jy nou weer so met die Bybel onder die arm, wie is julle Christene om 
	ons te oordeel? Dis makliker om anderpad te kyk en jou met jou eie sake te 
	bemoei  as om jou gemaksone te verlaat en God se oproep tot bekering te 
	verkondig; dis egter 'n relevante boodskap vir ons tyd en iemand móét dié 
	boodskap uitbasuin.  Is daar dalk 'n opdrag van die Here waarvan jy nog 
	wegvlug? Dalk is dit daai sieke wat jy moet besoek, dalk daai skenking wat 
	jy aan 'n sendingorganisasie moet maak, dalk daai biduur wat jy moet bywoon, 
	dalk daai versoening met jou broer wat jy so lankal uitstel? Jona het gedink 
	dat 'n mens kan wegvlug van die Here af. Mens kan nie. Die Here is oral. Die 
	Here sien alles en weet alles. “Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug? 
	Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die 
	hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg en na die 
	ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my.” (Ps. 
	139:7-10) Moenie uitstel nie, dóén wat jy moet doen. ~ Wilna Botha, 
	28/07/2016 |  
					| 
 |  
					| 'n Sterker God En so vat 
	ou Jona toe die verkeerde skip om weg te kom van die Here af, en hy kry 
	koers Tarsis toe, net om in die mees verwoestende storm te beland wat dreig 
	om die skip te laat vergaan. Die matrose moes van die vrag afgooi, maar Jona 
	besluit hy gaan sommer slaap onder in die skip.
 In Jona 1:6 lees ons die volgende: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? 
	Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie 
	vergaan nie.”
 Absolute paniek 
	en vrees pak daardie mense beet en elkeen van daai matrose roep uit tot sy 
	god, maar dit help nie. Uit desperaatheid beveel die kaptein vir Jona om tot 
	sy God ook te bid, maar vir hom was dit dalk net nog 'n god. Dalk het hy 
	geweet dat Jona die enigste ware God aanbid en dalk nie, maar hulle het 
	besef net ('n?) God kon hulle help.
 Ek sien so iets van ons lewens hier raak. Soms is daar paniek dan wil ons 
	uitroep na ons geld-god om ons te help, of dalk ons eiewaan-god, of ons eie 
	mensgemaakte oplossings-god. Maar daar is net een God wat kan help, en Sy 
	arm is nie te kort om te help nie. So moet ons ook die ware God vir ander 
	mense aanbeveel wat net nie meer die mas kan opkom nie. Dalk moet ons net 
	vir die wat moeg en oorlaai is vertel van die Een wat die wêreld in sy hand 
	het.
 Hoewel Jona so steeks soos 'n donkie was, het hy darem steeds geweet wie die 
	ware God is, hy het steeds sy dinge gedoen soos hy beveel is, al was hy 
	teësinnig en moes hy terug gehelp word op die regte pad. Ai, dit klink net 
	soos ek. ~ Willem Botha, 31/07/2016
 |  
					| 
 |  
					| Wie is 
	jy? Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is 
	jy? Hierdie is seker vrae wat jy ook al moes geantwoord het. Dis nogal 
	logiese vrae wat mens iemand vra wat jy pas ontmoet het en met wie jy 'n 
	gesprek wil aanknoop. Dis dié goed wat mens iets van 'n persoon sal kan sê 
	en jou 'n kykie in sy agtergrond en sy lewe kan gee.  Jona was ook gepeper 
	met hierdie vrae (lees Jona 1:8). Die matrose op die skip was van die 
	oortuiging dat Jona die rede was dat hierdie woesste seestorm hulle getref 
	het, daarom probeer hulle uitvind wie en wat hy is. Hulle het geweet daar is 
	iets “anders” aan hom. Is dit nie so dat wanneer mens met Christene in 
	aanraking kom mens sommer net kan aanvoel dat daar iets anders is wat hulle 
	motiveer, dat hulle iets anders in hulle binnekant het, dat hulle iets 
	anders uitstraal met hulle woorde en dade. Die Bybel sê ons moet gereed wees 
	met 'n antwoord as iemand vir ons vra waarom ons “anders” is. “Wees 
	altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n 
	verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3:15) Kyk wat het Jona gesê: “Ek dien die Here die 
	God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” (Jona 1:9) Ten 
	spyte daarvan dat hy van die Here probeer wegvlug het en al sou sy antwoord 
	hom in die moeilikheid laat beland het, het hy steeds onbeskaamd sy 
	getuienis gegee. Is jy gereed met jou antwoord? ~ Wilna Botha, 01/08/2016 |  
					| 
 |  
					| Vir 
	elke aksie... ... is daar 'n teenoorgestelde reaksie. Jona vlug weg van God af en as 
	gevolg van sy ongehoorsaamheid beland die skip in die moeilikheid en al die 
	matrose se lewens is in gevaar. Jona erken egter wat hy gedoen het.
 Jona 1:11-12 Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer 
	rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. 
	Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm 
	word rondom julle, want 
	ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.”
 As ons teen God se wil optree, is dit nie altyd net ons wat onsself skade 
	aandoen nie, maar soms doen ons ook ander mense skade aan. Buite-egtelike 
	verhoudings, drankmisbruik, dobbel en vele ander dinge het 'n impak op die 
	hele familie en saai verwoesting, soms wyer as wat ons kan dink. Dalk het ek 
	ook al weens 'n roekelose aksie onwetend iemand se dood veroorsaak, en ek 
	weet dalk nie daarvan nie want dit het 'n indirekte invloed.
 Daar is egter 'n ander kant ook. Jare gelede was ek by 'n radiostasie 
	betrokke met 'n geestelike program en 'n man het my gevra om sy seun te bel 
	om hom te ondersteun, maar ek het nie want ek het gevoel hy moet my eerder 
	kontak. Ek het hulle glad nie geken nie. 'n Paar maande later het die seun 
	se ma gebel en gesê dat hy selfmoord gepleeg het, en dat ek dit kon verhoed 
	het en dat ek en die stasie saam skuldig is aan sy dood. Ek het lank 
	gesukkel om dit te verwerk, totdat ek besef het dat elke mens 
	verantwoordelik is vir sy eie wel en weë en dat ek nie almal se probleme kan 
	oplos nie.
 Daar is 'n fyn lyn te trek tussen my eie aksies wat mense skade aanrig, en 
	situasies waar mense ons as Christene beskuldig daarvan dat ons 
	verantwoordelik is vir hulle probleme. Hoe baie het ek gehoor: "Dis 
	Christene wat my al so seergemaak het, en daarom wil ek nie een wees nie." 
	Wat 'n belaglike stelling!
 Ons moet egter bedag wees op ons aksies en dade sodat ons nie ander laat 
	struikel, of hulle benadeel nie.
 Jona het egter sy dade erken en verantwoordelikheid daarvoor gevat en hy was 
	selfs bereid om sy lewe te verloor. Nou ja, ons sal waarskynlik nie so ver 
	hoef te gaan nie, maar laat ons maar eerder dit verhoed en God se wil doen. 
	~ Willem Botha, 03/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| In Jona 1:13 lees ons hoedat die arme matrose 'n rowwe 
	tyd in die seestorm beleef en dit alles net as gevolg van die ongehoorsame 
	profeet, Jona, wat aan boord is omdat hy van die Here probeer wegvlug.  Nou-nou 
	net het hulle vir Jona gevra om tot sý God te bid vir hulp. In vers 14 lees 
	ons hoe hulle nou in benoudheid sommer sélf na die Here uitroep vir redding 
	en hoe hulle erken en bely dat Hy die Here is en dat Hy doen wat Hy wil. Om 
	na die Here uit te roep is so 'n logiese ding om te doen wanneer mens in 'n 
	lewensstorm beur teen die golwe en teen die wind in en jy sien hoedat dinge 
	net al hoe meer buite beheer raak. Dis wanneer mens besef jy kan nie jouself 
	red nie, dis wanneer mens wéét daar is Iemand groter en sterker, Iemand wat 
	alles weet en alles sien, Iemand wat jou sal help al lyk jou situasie ook 
	hoe verlore. Moenie wag totdat jy amper vergaan in die storms van die lewe 
	voordat jy na die Here draai vir hulp en redding nie. Doen dit sommer nóú 
	sodat jy in die storm tye stewig geanker kan wees. Jy kan egter weet, al het 
	jy dalk weggedwaal of weggevlug van die Here af, is Hy altyd net 'n uitroep 
	vêr. “U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed, 
	Here, gee tog ag op my smeekgebed. Op die dag van my nood roep ek na U, U 
	sal my gebed verhoor. Daar is geen god soos U nie, Here.” (Ps. 86:5-8) ~ 
	Wilna Botha |  
					| 
 |  
					| Diep in die vis se maag Jona 1:17 - 2:2 "Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en 
	hy was drie dae en nagte in die vis se maag.Toe bid Jona daar binne-in die 
	vis tot die Here sy God. Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here 
	geroep, en Hy het my gebed verhoor. "
 Jona was die rede dat die skip amper vergaan het en die matrose hom oorboord 
	gegooi het, en hy sak weg in die dieptes van die see. En toe gebeur die ding 
	wat ons nou so laat wonder oor die verhaal 
	van Jona: 'n vis sluk hom in. Wel ek het reeds te kenne gegee dat ek glo dat 
	dit werklik so kon gebeur en dat dit nie net 'n verhaal was nie, maar al was 
	dit net 'n verhaal, dis 'n kosbare verhaal met baie lewenslesse wat direk op 
	ons van toepassing is.
 Soms 
	gooi die Here ons in die spreekwoordelike vis se maag as ons ongehoorsaam 
	is. Soms moet dit maar bietjie ongemaklik wees in ons "vis se maag", soms 
	voel dit of die wêreld ons ingesluk het en ja gewoonlik doen ons dit aan 
	onsself. Maar moenie vir Jona te veel veroordeel nie, Hy is maar soos ons. 
	Die punt is, toe hy in daardie dieptes wegsink, roep hy uit na God toe. En 
	die wonderlikste deel lees ons in vers 2: "... en Hy het my gebed verhoor ."
 Dit 
	klink nogal snaaks dat ons lees hoe hy in opstand kom teen God, Hy dan 
	toegelaat word om in die see gewerp te word deur God, en dan gered word deur 
	dieselfde God. Net so moet ek en jy ook soms bietjie swaarkry, selfs die 
	dood in die oë kyk, en dan weer deur Hom gered te word.
 Dus, 
	al het jy slegte dinge oor jouself gebring en jy dink dalk dat dit jou 
	verdiende loon is, bid steeds tot God vir redding. Hy laat slegte dinge toe 
	en red ons soms dan weer daaruit, juis omdat Hy ons liefhet en ons op 
	hierdie manier leer. ~ Willem Botha.07/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| Daar in die diepste donkerte, toegesluit in die vis se 
	maag, omring deur die watermassa met golwe wat oor hom slaan, het  Jona drie 
	dinge gedoen: Hy het gebid (Jona 2:1), aan die Here gedink (Jona 2:7) en 'n 
	loflied gesing (Jona 2:9). Wat maak jý  wanneer jy in donker en swaar tye 
	is? Raak jy opstandig en bevraagteken jy dalk die Here? Of dink jy dat die 
	Here vêr van jou af is en dat jou gebede teen die plafon vasslaan? Of nog 
	erger, draai jy dalk sommer jou rug op die Here? Onthou asb. dié drie dinge 
	wat Jona gedoen het. Bid en hou aan bid, want die Here hoor en verhoor. Dink 
	aan die Here. Dink aan sy grootheid en krag en almag. Dink aan sy 
	alomteenwoordigheid.  Dink hoedat Hy jou al voorheen gered en gehelp het. 
	Dink aan sy liefde, sy genade en sy beskerming. Dink daaraan dat Hy getrou 
	is. En al voel jy nie so nie, sing! Sing 'n loflied want dit laat jou fokus 
	op die Here en wie Hy ís en dit vul jou hart met vertroue en geloof. Dit gee 
	jou hoop en help jou om weg te kyk van jou onmiddellike swaarkry. So het 
	Paulus en Silas in die tronk, al was hulle amper doodgeslaan, lofliedere 
	gesing en die tronkdeure het oopgegaan (lees Hand 4:25-26). So het Habakuk 
	bly jubel, al was tye onseker en al het uitkoms onmoontlik gelyk en die Here 
	het vir hom krag gegee (lees Hab. 3:17-19). So het Jona, terwyl hy in die 
	diep, donker golwe was ’n loflied gesing en bely dat hulp net van die Here 
	af kom en die Here het tot sy redding gekom (lees Jona 2:7-10) “And even 
	though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing 
	on my tongue but Hallelujah.” ~ Wilna Botha, 08/08/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	'n Een sin preek Wie kan preek? Wie kan die Woord van God verkondig? Wie is goed genoeg 
	toegerus? Of heilig genoeg? Wie kwalifiseer regtig, en wie is waardig genoeg 
	in God se oë? Dalk het jy ook al gewonder of jy dit kan doen. Jona word 
	eventueel op land uitgespoeg, maar ons weet nie waar nie, want hy moes toe 
	weer "klaarmaak" en Nineve toe gaan, wat hy toe wel doen.
 Jona 3:2-4 “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan 
	met die boodskap wat Ek jou sal 
	gee. ”Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel 
	het. Nineve was 'n baie groot stad: 'n mens het drie dae gevat om dit deur 
	te stap. Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar rondgestap en toe 
	roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!"
 
	Ons lees hier dat die Here 
	vir Jona sê Hy sal vir hom die boodskap gee en Jona roep net uit: "Nog net 
	veertig dae en Nineve word verwoes!" 'n Enkel sin preek. Dalk het hy meer 
	goed gesê, hoewel ons dit nie lees nie, maar die hele stad word gered. Weet jy hoeveel enkel sin preke jy kan preek, sonder opleiding of toerusting? 
	Deur net bedag te wees op mense se omstandighede kan ons 'n groot impak maak 
	met sulke gedagtes, bv
 Die Here is lief vir jou
 Moenie bekommerd wees nie, die Here gee uitkoms
 Roep uit tot Hom, Hy sal jou red
 Moenie hierdie ding doen nie, dit gaan jou vernietig
 Byt vas, slegte dinge hou nie vir altyd aan nie
 Hou aan bid, ons moet soms wag vir 'n antwoord
 Die Here is nie weg nie, al voel dit so
 
	Nou ja, Jona se kort 
	boodskap het gemaak dat die Here nie meer die stad vernietig het nie. Ek en 
	jy kan dalk ook so 'n reuse verskil maak. ~ Willem Botha, 09/08/2016 |  
					| 
 |  
					| “Die mense van Nineve het toe in God geglo.” (Jona 3:5) 
	Net een sin, geen wonderwerke, geen verduidelikings, geen teologiese 
	ontledings, geen bespreking en die mense van Nineve glo! Geen groot 
	byeenkoms, geen beroemde evangelis nie, net 'n eenvoudige (ongehoorsame) 
	profeet en die hele stad verander en word gered.  Hulle stel nie eers gou 'n 
	kommissie aan of hou nie eers gou 'n kerkraadsvergadering nie, hulle glo en 
	hulle word bewus van hulle verlore toestand voor die Here.  Vandag is daar 
	groot kerke met wonderlike predikers, honderde Bybelskole, duisende 
	geestelike boeke, groot samekomste, maar so baie mense glo nie meer die 
	eenvoudige boodskap van die evangelie nie, hulle wil nie meer “gewone” preke 
	uit die Bybel hoor nie. Miskien dink ons ons kan onsself red, dalk is ons so 
	tevrede met onsself dat ons dink ons hoef nie voor die Here te buig nie, 
	dalk is ons so vêr weg van die Here dat ons ons glad nie steur aan sy 
	vermanings en sy oproep tot bekering en verootmoediging nie. Dalk maak ons 
	só staat op ons intellek en redenasievermoë dat ons nie meer die eenvoudige 
	Woord wíl aanvaar nie. Luister vandag as die Here jou roep om terug te draai, 
	om verkeerde dinge te laat staan, om berou te hê oor waar jy dalk beland 
	het, om net weer die eenvoud van die evangelie te glo. Die Here se genade is 
	groot en sy vergifnis is beskikbaar vir elkeen wat glo. Draai terug en kies 
	Jesus. ~ Wilna Botha, 10/08/2016 |  
					| 
 |  
					| 'n Hele stad kom tot bekering en word gered. Dis mos 
	goeie nuus, iets om oor fees te vier en dankliedere te sing, maar nee, nie 
	Jona nie! Hy is kwaad vir die Here daaroor, só kwaad dat hy sommer wil 
	doodgaan. (lees Jona 4:1-3) Jona wou nie hê dat die mense van Nineve gered 
	word nie, hy erken nou dis eintlik die rede hoekom hy eerder na Tarsis toe 
	gevlug het. Hy gun nie hierdie volk om die Here se genade, barmhartigheid en 
	liefde te ervaar nie. Hy laat my so bietjie dink aan die oudste broer  van 
	die verlore seun. Hy was ook kwaad vir sy pa wat sommer net so die 
	wegloopkind vergewe en terugverwelkom het met 'n vetgemaakte kalf, 'n nuwe 
	uitrusting en selfs 'n ring.  Is daar dalk iemand wat jy dink nie die Here 
	se genade werd is nie? Iemand wat na jou mening té sleg is om gered te word? 
	Iemand met wie jy nie eens oor die Here wil praat nie? Dalk voel jy so oor 
	gevangenes – moordenaars en misdadigers. Dalk voel jy so oor daai vuil 
	bedelaar of daai skelm wat jou van jou goed beroof het of daai bedrieër wat 
	jou te nagekom het. Ek wil maar net weer probeer om na mense te kyk soos wat 
	die Here na hulle kyk, met jammerte en met bekommernis oor hulle 
	verlorenheid. Ek wil met genadige oë en gewillige hande kyk en almal 'n 
	porsie van die Here se genade gun. ~ Wilna Botha, 11/08/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	Ontevrede Ons het die afgelope ruk deur die boek Jona gewerk en goeie lewenslesse 
	hieruit geleer. Jona, hierdie koddige man wat eers wegvlug van die Here, toe 
	amper verdrink, toe terugkeer nadat hy deur 'n vis ingesluk was, toe tog sy 
	werk gaan doen en 'n hele stad word gered. En toe is hy kwaad vir die Here. 
	G'n mens weet hoekom nie. Hy het net eenvoudig nie die mense gegun om gered 
	te word nie.
 En hier op die einde, in Jona 4 lees ons hoe hy dikbek buite die stad in die 
	son sit en skroei. Die Here laat toe 'n komkommerplant opkom.
 Jona 4:6 
	"Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona 
	gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona 
	was baie bly oor die komkommerplant."
 En toe laat die Here 'n wurm kom wat die plant opvreet en laat vrek, en Jona 
	is briesend!
 Jona 4:9-11 Toe vra God vir Jona: “Het jy rede om kwaad te word oor die 
	komkommerplant?” en Jona antwoord: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te 
	sterf!” Die Here het vir Jona gesê: “Jy is besorg oor die komkommerplant 
	waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag 
	opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot 
	stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend 
	mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
 Dis maar presies hoe ons as mense leef, ons werk nie vir die genade wat God 
	oor ons uitstort nie, maar ons is kwaad as die Here handel volgens Sy eie 
	wil. Ons sien so baie die skadu van die lewe se "komkommerplante" mis, maar 
	is kwaad as dit wegraak. Ons verval so maklik in "U skuld my", ons verval in 
	'n lewe van: As die kerk nie maak soos ek wil hê nie loop ek sommer. Hoekom 
	gun die Here 'n ander persoon ook genade want hy leef nie so mooi soos ek 
	nie, maar intussen werk ek nie saam om daardie genade moontlik te maak nie?
 Vriend, die Here se "komkommerplante" is Sy eie, Hy maak daarmee wat Hy wil, 
	Hy is soewerein en skuld ons nie 'n verduideliking nie. Dus, solank daai 
	komkommerplant vir jou skadu gee, verlustig jou in daardie stuk genade. Dis 
	dalk more weg, maar wees dankbaar elke dag as dit daar is. ~ Willem Botha, 
	14/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |