|
|
Daaglikse Heuningdruppels
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Hande - myne en God s'n |
|
Ek is (ongelukkig) die afgelope paar maande
baie bewus van en behep met my hande. Ek het ’n operasie aan my
vinger gehad en na 6 weke en nóg 6 weke het die vinger nie
aangegroei nie. Toe weer ’n operasie en nou is die volgende 6 weke
amper verby. Vier maande met ’n spalkie aan my vinger. Vier maande
met pyn en ongemak en bekommernis dat my vinger nooit weer dieselfde
gaan wees nie. Vier maande wat sekere aktiwiteite ingeperk is. Die
ander hand is nie gevrywaar nie en is lelik en pynlik a.g.v.
artritis. So paar weke gelede het ons gemeente se
WhatsApp-dagstukkies gevra: kyk na jou hande. Ek dink toe by myself:
wat nou, ek kyk in elk geval die hele tyd na mý hande. Ek kan nie
anders nie, want hulle pyn en ek kry myself jammer, ek wil die hele
tyd kyk of daar nie al verbetering is nie, ek bid die hele tyd vir
hulle. En net daar besef ek dat “my probleem” en “my pyn” en “my
bekommernis” besig is om my selfsugtig te maak. Ek kyk toe verby al
daai dinge na my hande en sien hoeveel die Here in my hande gesit
het, hoeveel seëninge, hoeveel materiële middele, hoeveel vermoëns,
hoeveel moontlikhede. Ek kyk toe verby dit wat ek nié het nie nié
kan doen nie en probeer liewer kyk na wat ek wel het en wat ek wel
kan doen. (Hier moet ek in hakies sê: ek probeer! Ek kry dit nie die
hele tyd reg nie!) Dit is waar dat ons eie omstandighede ons fokus
kan wegrokkel van die Here af, dat ons soveel probeer oorleef in ons
eie daaglikse gespartel dat ons diensbaarheid kwyn, dat ons
dankbaarheid kwyn, dat ons lewenspassie en roeping kwyn. Die
dagstukkie het verder gevra: Kyk na jou hande en dink en bid: “Hoe
kan my hande vandag deur God gebruik word? Hoe kan my hande vandag
God dien? Hoe kan my hande vandag ’n verskil maak?” Die Here wil nie
net ons harte hê nie, Hy vra ook ons hande – net soos hulle is. ~
Wilna Botha, 15/08/2023 |
|
Pred. 9:10 : “Doen met toewyding alles wat jou
hand vind om te doen ...” So sê die Bybel op meer as een plek.
Ledigheid is die duiwel se oorkussing het my ma altyd gesê. Kry iets
om te doen, hou jou hande besig. Is dit nie so dat hoe minder mense
doen hoe minder wíl hulle doen nie – hulle word lui, selfsugtig,
afgestomp, verbeeldingloos. Aan die ander kant sê hulle mos as jy iets
gedoen wil hê, vra 'n besige persoon om dit vir jou te doen – hy is
kreatief, hy kan beplan, hy skrik nie vir uitdagings nie, hy is nie
lui nie, hy maak die beste gebruik van sy tyd. Pred. 4:5 sê dis
dwaas om met jou hande gevou te sit en niks te werk nie, want jy sal
van die honger doodgaan. “Nog 'n bietjie verder slaap, nog 'n
bietjie lê en sluimer, nog 'n bietjie hande gevou lê om uit te rus.
Skielik oorval die armoede jou soos ’n struikrower. ’n Tekort aan
kos oorrompel jou soos ’n dief.” (Spr. 6:10, NLV) Ons hande moet
natuurlik nie net besig bly met dít wat vir ons inkomste bring nie,
nee, jou hande kan ook mooi dinge maak, jou hande kan ander help,
jou hande kan jou gesin en jou vriende dien, jou hande kan troos en
trane afdroog en wonde streel, jou hande kan ander hande vashou, jou
hande kan seën. Ai, ek bewonder altyd daai vrou in Spr. 31 wie se
hande vir niks verkeerd staan nie! Ek kyk vandag weer na my hande en
sê vir myself: “ ... doen wat jou hand vind om te doen, want God is
by jou.” (1 Sam 10:7) ~ Wilna Botha, 22/08/2023 |
|
Ek het ongelukkig nog nie goeie nuus oor my
vinger gekry nie en wat ek hier skryf is nie om nóg ’n keer oor my
vinger en my eie hand te praat nie (dié het nou al genoeg “airtime”
opgebruik), maar oor die Here en Sý hand! “Toe sê Hy vir die man
(met die gebreklike hand): ‘Steek jou hand uit.’ Hy het dit gedoen
en sy hand was reg soos die ander een.” (Matt. 12:13). Elke keer as
Willem vir my vinger bid, dan kom hierdie gedeelte by my op en dan
steek ek ook my hand in geloof na die Here uit vir sy aanraking. Ek
lees dat Jesus se hand baie kere betrokke is by die wondergenesings
wat hy doen, dat Hy met sy hand raak aan die persoon. Byvoorbeeld
die melaatse man: “Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê:
Ek wil. Word gesond.” (Matt. 8:3); Petrus se skoonma: “Hy het haar
hand gevat en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom
bedien.” (Matt. 8:15); die dogtertjie van die Joodse raadslid: “Hy
het in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit
die dood opgewek.” (Matt. 9:25); die doofstom man: “Toe het Hy sy
vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer.”
(Mark 7:33) die blinde man: “Hy het die blinde man aan die hand
gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy
hande daarop gesit en vir hom gevra: sien jy al iets?” (Mark 8:23)
Jesus se hand wat genesing bewerk! Ek weet daar is mense wat hier
lees wat baie groter probleme het as ek met my vinger. Kanker.
Amputasies. Kroniese pyn. Hartomledings. Verlamming. Gestremdheid.
Noem maar op. Ek lees in Ps. 34:21 die Here sorg vir die héle
liggaam en in Ps. 129:15 dat geen been van my vir Hom verborge is
nie. So, selfs al ervaar ons nie die genesing van die liggaam soos
wat ons hoop nie, is dit vir my ’n groot troos om te weet Hy wéét en
Hy sién en Hy ráák met sy hand daar waar die pyn en die bekommernis
is. En dan het ek moed om te wag en deur te druk en aan te hou en
weer te bid. “... maar Hy maak weer met sy eie hand gesond.” (Job
5:18) ~ Wilna Botha, 24/08/2023 |
|
Wat het jy in
jou hand? Dalk klou jy vas aan ’n handvol bitterheid en
onvergewensgesindheid? Ek lees vandag dié aanhaling: “All the art of
living lies in a fine mingling of letting go and holding on.” Daar
kom ’n tyd wat ’n mens jou hand moet oopmaak en daai bitterheid laat
gaan. Ons het die naweek in Magoebaskloof in so ’n inheemse woud
gestap. Daar het ek ’n reuse boom gesien wat omgeval het. Mens kon
duidelik die rede sien waarom hy omgeval het – die binnekant van die
stam was uitgehol en opgevreet deur een of ander swam of gogga. Dit
was vir my ’n les van wat met ons kan gebeur as iets soos bitterheid
en onvergewensgesindheid aan ons binnekant bly vreet totdat dit
weggevreet is. “As daar iets onder julle gebeur wat mense ongelukkig
en kwaad maak vir mekaar, moet dit met wortel en tak uitgeroei word.
As dit nie gedoen word nie, word dit soos ’n giftige plant wat
uiteindelik baie mense seermaak.” (Heb. 12:15, Die Boodskap) Ja, ek
weet jy kan vir my sê dat ek nie weet wat aan jou gedoen is nie,
hoeveel leuens, bedrieëry, vernedering, pyn jou aangedoen is nie. Ek
verstaan dit. Ek verstaan dat dit ’n lang en moeilike pad kan wees.
Ek verstaan dat jy nie lus is om te vergewe nie. Ek verstaan dat jy
sê: ek sal jou nooit kan vergewe nie. Ek verstaan dat jy liewer wil
vasklou aan daai wraakgevoelens en die ander een die slegste toewens.
Maar ek verstaan ook dat daar ’n dag moet kom dat jy jou hand
oopmaak en laat gaan ter wille van jouself. Kyk hoe verduidelik
Jesus dit: “Kom Ek verduidelik met ’n voorbeeld wat Ek bedoel: as jy
na die tempel toe gaan om ’n offer aan God te bring en jy onthou
skielik dat ’n vriend of familielid van jou om die een of ander rede
vir jou kwaad is, moet jy jou offer net daar laat staan . Gaan
dadelik terug en maak reg wat verkeerd is tussen julle. Daarna kan
jy terugkom en jou offer aan God bring.” (Matt. 5:23-24, Die
Boodskap) Miskien kan hierdie ’n toets wees: “You will know that
forgiveness has begun when you recall those who hurt you and feel
the power to wish them well.” ( Lewis B Smedes) Mag die Here ons
help om met oop, skoon hande voor Hom te staan. ~ Wilna Botha,
05/09/2023 |
|
Daar is ’n
paar hande in die Bybel in wie se posisie ek glad nie sou wou wees
nie. Kyk bv. na Adam en Eva se hande van ongehoorsaamheid. ’n Hand
wat uitgesteek is om die verbode vrug te neem. ’n Hand wat hulle
uitgesteek het omdat hulle verlei is, terwyl hulle die waarheid
gewéét het. ’n Hand wat hulle uitgesteek het omdat hulle opstandig
was teen God se opdrag om hulle daarvan te weerhou. Daar was immers
baie ander vrugte wat die hand kon pluk, maar nee, die hand doen sy
eie ding en word uit die paradys uitgedryf! “Toe het die Here God
gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan
ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die
boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”” (Gen.
3:22)
Dan is daar Kain se hand. Die hand van afguns wat sy broer om die
lewe gebring het. Die hand wat in woede besluit het die Here is
onregverdig. Die hand wat gewaarsku is: “As jy nie goeddoen nie –
die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy
moet oor hom heers.” (Gen. 4:7) Die hand moes selfbeheersing aan die
dag lê, maar nee, die hand doen sy eie ding en word vervloek!
“Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die
bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het.” (Gen. 4:11)
En dan is daar Judas se hand. Die hand van verraad wat saam met
Jesus se hand brood in die skottel ingesteek het. Die hand wat
wonderwerke gesien het en teenwoordig was by al Jesus se lering,
daai hand was eintlik vir goeie dade bestem. Maar nee, die hand doen
sy eie ding en wys die Messias uit as die een wat gekruisig moet
word. “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met
Myne hier op die tafel.” (Matt. 22:21)
Ai, dis geen wonder dat Jesus gesê het: ““As jou hand jou van My
afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die
lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan,
in die onblusbare vuur.” (Mark 9:43)
Kom ons pas ons hande op! ~ Wilna Botha, 07/09/2023 |
|
En
dan was daar Pilatus se hande. Dié hande wat hy in onskuld kom was
het voor almal, om homself te probeer verontskuldig, om hom te
probeer distansieer van die besluit wat hy gemaak het om Jesus uit
te lewer om gekruisig te word. “Toe Pilatus sien dit help niks nie
en dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water gevat en voor die
skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van
hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.’” (Matt. 27:24) Was
jy ook al kwaad vir Pilatus oor dié handewas? Hoe kón hy dit toelaat
dat die skare hom ompraat om Jesus te laat kruisig! Ek lees hierdie
êrens: “Vir ons skulde, het God lemand gestuur Wie se hande bou,
koester, help, uitdeel, uitnooi, omgee, beskerm en seën. Al die
ander hande het Hom gevat en met ruwe spykers deur sy hande, Hom aan
’n kruis laat hang: Pilatus se hande, soldate se hande, ruwe hande,
Skrifgeleerdes en priesters se hande, verraaiers se hande, ons hande,
my hande ...” Pilatus was sy hande en Jesus word gekruisig. En dis
goed so. Pilatus se handewas het as’t ware God se plan van
verlossing tot sy hoogtepunt gebring: Jesus word in óns plek gestraf,
geslaan, gespoeg, gespot en gekruisig. Jesus vat óns straf. Sy bloed
bring versoening en verlossing vir ons. Pilatus se handewas bring
mee dat óns nou met skoon hande voor God kan staan. “... laat ons
tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons
harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is
gewas met skoon water.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha, 12/09/2023 |
|
“Daarby moet julle altyd geloof as skild in die
hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan
afweer.” (Ef. 6:16). Dis nou iets wat ek graag in my hand wil hê en
waaraan ek verbete wil vasklou. Daai skild van geloof. Die skild wat
na alle kante toe kan keer dat ek versoek, verlei en verneder word.
Die skild wat enige twyfel in God se beloftes en in Jesus se
vergifnis en verlossing sal keer. Die skild wat my sal herinner dat
ek sterker is as wat ek dink, dat ek meer kan verduur en vermag en
verdra as wat ek in my menslike swakheid kan dink. Die skild wat my
sal herinner dat God my eintlike skild is: “Die Here is my rots, my
skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en
sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3). En ás my
geloof-skild my dalk in die steek laat, sal ek, soos Petrus, uitroep:
“Here, red my!” En Jesus sal vir seker sy hand uitsteek en in liefde
en genade my persoonlike geloof-skild word: “Dadelik het Jesus sy
hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom
het jy begin twyfel?” (Matt. 14:31) Dan sal ek Sy hand vasgryp en
saam met Hom op die water loop. ~ Wilna Botha, 21/09/2023 |
|
“All of these lines across my face, tell me the
story of who I am...” – só klink die woorde uit die liedjie: “The
Story”. Vandag wil ek die woorde bietjie verdraai na: all of these
lines across my hands, tell me the story of who I am. As jy vandag
na jou hande kyk, sien jy dalk dat jou hand 27 beentjies, 29
gewrigte, ten minste 123 ligamente, 34 spiertjies, 48 senuwees en 30
are het? Hande wat vertel hoe ongelooflik kompleks ’n mens se
liggaam geskape is. Hande wat vertel dat God hulle aanmekaar geweef
het. Sien jy dalk hande wat mooi versorg is, sonder merkies, sonder
snye, sonder sonskade? Hande wat vertel die lewe was maklik en
sonder terugslae. Of dalk sien jy hande met eelte van harde werk,
hande vol olie, of verf, of meel, of grond? Hande wat vol plooitjies
en are is omdat hulle nie meer jonk is nie, hande wat krom is van
artritis, hande wat letsels het? Hande wat vertel die lewe het sy
draaie gemaak. Dalk lyk die lyne op jou hande nie baie mooi nie en
is jy skaam vir jou hande. Dalk vertel jou hande dat hulle iemand
seergemaak of iets afgebreek het. Watter storie jou hande ook al
vertel, beleef vandag dat die Here sê: “Ek is die Here jou God, Ek
vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.” (Jes.
41:13) Watter storie jou hande ook al vertel, hoor vandag dat die
Here sê: “Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my
versorgende hand ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg.” (Joh. 10:28,
Die Boodskap) Mag dít deel wees van jou hande se storie. ~ Wilna
Botha, 28/09/2023 |
|
“Put your
hand in the hand of the Man who stilled the water; Put your hand in
the hand of the Man who calmed the sea; Take a look at yourself,
and you can look at others differently; Put your hand in the hand of
the Man from Galilee ...” Só klink die refrein van ’n ou bekende
liedjie. Eenvoudige woorde met ’n ongelooflike uitnodiging: kom, sit
jou hand in die Here se hand. Dié Een wat mag het oor die see, dié
Een wat ’n storm kan laat bedaar met net ’n paar woorde: “Hou op!
Bedaar!” (Mark 4:39), dis die Een wat sy hand vandag na ons toe
uitsteek en sê: “Niemand sal julle uit my hand ruk nie.” (Joh.
10:28) Is jy bang? Is jou geloof te klein? Is jy oorweldig? Is die
golwe rondom jou angswekkend? Lyk dit asof die storm al hoe erger
word? Sit jou hand in Sy hand! Net soos Petrus gedoen het toe hy
begin sink het en bang geword het. “Maar toe Petrus sien hoe sterk
is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here,
red my! Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom
gesê: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” (Matt. 14:30-31)
Ek hoop jy het ook die woord “dadelik” raakgesien? “Van bo af het Hy
sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig.”
(Ps. 18:17) Dis die getuienis van baie mense, dit kan jóú getuienis
ook wees. Put you hand in the hand ... ~ Wilna Botha, 18/10/2023 |
|
“Die
een sê: “Ek behoort aan die Here,” ... die ander sal op sy hand
skryf: Die Here S’n ...” (Jes. 44:5) Het jy ook al goed op jou hand
geskryf sodat jy dit nie vergeet nie? ’n Adres, ’n naam, ’n datum,
’n bedrag, of dalk selfs jou inkopielysie? Toe ek op skool was, het
ons sommer ons huiswerk op ons hand geskryf. En dan was jy in die
moeilikheid as jy jou hande was! As ek hierdie teks in Jes. 44:5
lees, wil ek sommer my “permanent marker” gryp en op my hande skryf:
die Here S’n. Net sodat ek die hele tyd daaraan herinner kan word
dat ek aan Hom behoort. Net sodat ek die hele tyd daaraan herinner
kan word dat Hy belangriker is as enige iets. Dat ek nie sonder Hom
’n dag kan ingaan nie. Dat ek nie sonder Hom ’n besluit kan neem nie.
Dat ek sonder Hom nie kans sien vir uitdagings en probleme nie. Ek
wil enige tyd na my hande kan kyk en onthou: Ek behoort aan die
Here. Soms kyk ek egter na my hande en dan staan daar: sondig.
skuldig. alleen. hartseer. raadop. bang. rigtingloos. moeg.
teleurgesteld. Maar dan sien ek die Here se hand bo-oor myne en Hy
sê: “Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms
gegraveer.” (Jes. 49:15-16). Dan sien ek Jesus se hande met
spykermerke en ek wéét: “Deur sý wonde het daar vir ons genesing
gekom.” (Jes. 53:5) Ek is die Here S’n! ~ Wilna Botha , 30/10/2023 |
|
“My God het sy goeie hand oor my gehou ...” (Neh.
2:8) Ai, dit raak my hart en roer aan my binneste as ek hierdie teks
lees en ek wéét ek kan (en mag) dit ook sê en glo! Ek lees dit oor
en oor en breek die sinnetjie vir myself só op: “Mý God” – Hy is
nie ’n God wat vêr is nie; Hy is nie onbetrokke nie; ek is belangrik
vir Hom: Hy sien my, Hy weet van my, Hy ken my. “Sy goeie hand” – Hy
gee vir my die beste, Hy beplan goeie dinge vir my, Hy laat alles
ten goede meewerk vir my; die Bybel sê ook in Ps. 16:11 “uit U hand
kom net wat mooi is.” “Oor my gehou” – sy hand vou my toe; sy
teenwoordigheid is rondom en binne-in my; sy hand oor my beskerm,
voorsien, help, red. “Die Here het my in die skaduwee van sy hand
verberg ...” (Jes. 49:2) Is jy bang vir iets? Dink daaraan dat jou
God se beskermende hand oor jou is en dat Hy jou veilig hou. Is jy
siek? Sien in jou geestesoog dat jou God se hand oor jou is en dat
sy hand genesing bring. Is jy alleen, eensaam, verwerp, uitgestoot,
oor die hoof gesien, onregverdig behandel? Raak rustig en onthou jou
God hou sy goeie hand oor jou, Hy is naby die gebrokenes (Ps.
147:3). Is jy hartseer en dit voel of jy nooit gaan ophou huil nie?
Bedaar en onthou jou God se vertroostende hand is oor jou, Hy droog
jou trane af en sien jou swaarkry. Voel jy moeg en kragteloos? Skep
moed en onthou jou God se goeie hand is oor jou, sy genade is genoeg,
Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die moedelose
weer vol moed.” (Jer. 31:25) ~ Wilna Botha, 23/11/2023 |
|
“Ek het ... jou beskerm in die skaduwee van my
hand.” (Jes. 51:16) Sjoe, hier in Gauteng het ons darem maar vrek
warm gekry die afgelope tyd. Mens soek die hele tyd na ’n skaduwee
om in te skuil en smag na die verfrissing van ’n reënbui. Is dit nie
waar dat mense se lewe ook soms so “warm” en ongemaklik, selfs
onuithoubaar word nie? Jy weet nie waarheen om te hardloop vir
bietjie skuiling en verligting nie, jy smag na koelte en uitkoms.
Dis dan wanneer dit só verkwikkend is om te weet dat die Here se
hand skaduwee gee, beskerming, veiligheid, versorging, redding. Kom
skuil daar totdat daar uitkoms is, totdat sy hand jou lei tot by die
groen weivelde, tot by waters waar daar vrede is, daar waar Hy jou
met nuwe krag vul. “Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters
waar rus is, lei Hy my heen.” (Ps. 23:2) en nog báie meer as dit sê
vers 3: “Hy verkwik my siel”. Hy verfris my binnekant, Hy laaf my
siel, Hy verkwik my gedagtes, Hy maak my nuut en die swaar laste van
die lewe word gelig. “... times of refreshing will stream from the
Lord’s presence.” (Hand 3:19, The Passion Translation) Kom, doop jou
hart in die Here se verfrissende stroom. ~ Wilna Botha, 29/11/2023 |
|
As jy die YouVersion Bybel-app gebruik, sou jy
dalk ook vandag die kennisgewing gekry het: “Vers van die jaar”. Dis
die vers wat blykbaar gedurende 2023 wêreldwyd die meeste gedeel,
gemerk en ge-“bookmark” is op die app. Die afgelope ruk is my tema
“Hande – myne en God s’n” en die vers van die jaar pas só mooi
daarby: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees
nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas,
met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) Met my eie hand red Ek jou!
God se hand versterk, God se hand help, God se hand hou vas, God se
hand red, God se hand dra, God se hand tel op. Daarom hoef ons nie
bang, bekommerd en angstig te wees nie. Dit laat my sommer ook dink
aan die skaapwagters wat groot geskrik het toe daar ’n engel in die
oop veld aan hulle verskyn het. “Toe sê die engel vir hulle: Moenie
bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van
groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir
julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die
Here!” (Luk. 2:10-11) Jesus het gekom. God het ons kom red. Wanneer
jy bang en bekommerd is, sien in jou geestesoog dat God sy hand na
jou uitsteek, dat Hy aan jou raak, jou vashou, jou help, jou lei,
jou red, jou vry maak, jou nuut maak. Kersfees kom. Moenie bang wees
nie, want jou Verlosser, Immanuel, Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors het gekom. Alles gaan nou anders wees! ~
Wilna Botha, 07/12/2023 |
|
“...Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê:
“Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle.”
(Joh. 20:19-20) Ek kan nie my tema oor hande afsluit sonder om oor dié
belangrikste hande te dink nie – Jesus se hande. Dié hande met die merke wat
die kruis se spykers agtergelaat het. Dié hande met die bewys dat Hy die
Verlosser, die Messias is, dié hande wat bewys dat Hy met sy bloed betaal
het vir ons sonde – vir alles, vir altyd, vir elkeen van ons. Tomas kon nie
glo sonder dat hy die merke gesien het nie. Jesus nooi hom uit: “Bring jou
vinger hier en kyk na my hande en bring jou hand en steek hom in my sy; en
moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig ... Gelukkig is dié wat
nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:27, 29) Dit tref my net weer dat
Jesus uit die dood opgestaan het en sy gebreekte bene was heel, die
sweepmerke op sy lyf was weg, die snye van die doringkroon was genees, maar
die merke op sy hande en in sy sy het gebly sodat dit die bewys kon wees dat
die prys betaal is. Dis amper Kersfees en ons hoor weer dié boodskap van die
engele: “Vrede op aarde”. Vrede, want die Lig het na die wêreld gekom,
vrede want God het Mens geword, vrede want Immanuel het tussen ons kom staan,
vrede want Jesus wys vir ons sy hande. Glo jy? Gelukkig is dié wat dit nie
gesien het nie en tog glo. ~ Wilna Botha, 18/12/2023 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|