|
|
Daaglikse Heuningdruppels
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
 |
|
“In die aand kan ek gaan slaap sonder om te lê en
rondrol van bekommernis. In die môre word ek rustig wakker, want ek weet die
Here sal my krag gee om my probleme op te los. Ek is nie bang nie, al staan
’n skare mense gereed om my aan te vat.” (Ps. 3:6-7, Die Boodskap) Miskien
staar jy môre so ’n moeilike situasie in die gesig – mense staan gereed om
jou aan te vat en antwoorde van jou te eis, dinge is in ’n doodloopstraat,
jy wag dalk vir daai gevreesde uitslae van die mediese toetse, jou familie
krisis is dalk op sy felste ... Roep so hard as wat jy kan na die Here. Bid,
al weet jy nie wat om te sê nie. Glo dat die Here jou sal help om nie
handdoek in te gooi nie. Kyk, die teks sê nie môre sal al jou probleme weg
wees nie, dit gee jou wel die versekering dat die Here vir jou die krag sal
gee, groot wysheid sal gee, bomenslike moed sal gee, nuwe planne en
strategieë sal gee om die bul by die horings te pak. Mag jy vannag só rustig
slaap as wat die teks sê, sodat jy môreoggend met vertroue kan sê: ek is nie
bang nie. ~ Wilna Botha, 24/07/2017 |
|
“U sal my toelaat om naby U te kom, want ek wil U
aanbid. Omdat U u kinders baie lief het, mag ek na U toe kom. Uit eerbied
mag ek voor U kniel.” (Ps. 5:8) Hoe wonderlik is dit nie dat ons na God toe
kan gaan, hom kan aanbid en in ’n persoonlike verhouding met Hom kan wees
nie, dat ons soos Dawid met Hom praat soos met ’n vriend en raadgewer en
vertroueling. Die Bybel sê ons sondes maak ’n skeidsmuur tussen ons en God,
maar Jesus het daardie muur kom afbreek deur ons sondes op Hom te neem. “My
liewe vriende, ons hoef nou nie meer onseker of bang te wees om na God toe
te gaan waar Hy in die Heiligste deel is nie. Ons kan dit doen omdat Jesus
vir ons gesterf het.” (Heb. 10:19) Ons het nou vrye toegang tot God. Ons kan
naby aan Hom kom. Sy hand is altyd uitgestrek na ons. Dit alles is moontlik
omdat Hy ons lief het en omdat Sy genade groot en verniet is. Prys Hom
daarvoor! ~ Wilna Botha, 26/07/2017 |
|
“... ek word al hoe swakker. U moet my asseblief gesond
maak, Here, want my liggaam is besig om in te gee. Ek is lam van
moedeloosheid ... Hoe lank gaan dit nog so aanhou? Help my, Here! Red my van
hierdie swaarkry! ... Ek kan nie meer huil of kla nie, my kragte is op.
Saans huil ek my kussing nat. My hele bed is later nat van die trane ... Al
die pyn en hartseer maak my gedaan. Ek is moedeloos.” (Ps. 6:3-8, Die
Boodskap) Sjoe, wat ’n uitroep van iemand wat baie swaar kry. Miskien kan jy
met hierdie moedeloosheid, trane en pyn assosieer. Miskien kan dit jou
vandag help om te weet dat Dawid ook deur hierdie emosies is. Miskien kan
dit jou nóg meer help om te weet dat Jesus ook deur hierdie swaarkry is toe
Hy bloed gesweet het in Getsémané , toe Hy gespoeg, geslaan, verneder en
gekruisig is. Miskien kan dit help as jy lees wat Dawid sê: “Die Here
luister na my gebed. Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit.” (Ps.
6:9) Miskien kan dit help as jy soos Jesus bid: “My Vader, as dit moontlik
is, laat hierdie lydensbeker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek
wil nie, maar soos U wil.” (Matt. 26:39) Miskien sal daar dan ’n vrede in
jou kom lê wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 31/07/2017 |
|
“U is die sterkste, U heers oor almal. Daarom kan U die
regte besluite oor elkeen se lewe neem. En daarom kan ek nou by U pleit:
sorg asseblief dat die regte dinge met my gebeur.” (Ps. 7: 8-9, Die Boodskap)
Die Here ís in beheer. Die Bybel sê mos ook elders dat die Here weet as jy
sit of opstaan, dat Hy bepaal of jy reis of oorbly. Jy kan jouself
onderwerp aan God se beheer, of jy kan dit teenstaan. Ek lees nou die dag
dié aanhaling: “Faith is having the courage to let God have control.” Ek
dink egter mens het eintlik baie waagmoed nodig om nié die beheer aan God
oorlaat nie! Dis tog net Hy wat die hele prentjie ken, wat die toekoms in Sy
hand hou. Dis egter nie te sê as mens net gelate oorgee aan die Here se
beheer, dat jy ’n marionet aan ’n toutjie word nie. Neem jou besluite asof
jy alleen verantwoordelik is daarvoor en laat terselfdertyd alles aan die
Here oor asof Hy alleen verantwoordelik is – so sal jou wil in lyn kom met
Sy wil. As jy die Here vra om jou besluite dieselfde as sy besluite te maak,
sal Hy dit doen en kan jy gerus wees dat jy die regte pad sal vat, kan jy
tevrede wees dat niks op daai pad sal wag wat Hy nie toegelaat het nie,
waarvoor Hy jou nie voorberei het nie, waarvoor Hy jou nie die krag sal gee
nie en waarvoor jy nie sal kans sien nie. By elke toe deur, kruispad, hobbel
sal Hy staan om jou deur te help. By elke donker hoekie sal Hy vir jou die
lig aanskakel. Here, sorg asseblief dat die regte dinge met ons gebeur. ~
Wilna Botha, 07/08/2017 |
|
As jy wil weet hoe spesiaal jy vir die Here is, lees
gerus Ps. 8:5-6 “... wat is die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net
’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer
gekroon.” Verskeie Engelse vertalings gebruik die woorde glory and honour,
majesty, beauty, splendour. Besef wie die Here jou gemaak het. Maar ... ons
moet nou nie die hele dag net voor die spieël staan en daai kroon en onsself
bewonder nie, nee, die kroon bring ’n taak en ’n verantwoordelikheid vir dié
wat dit dra. Ons moet die kroon in die wêreld gaan dra, elke dag daar by die
werk of waar jy jou ook al bevind. Dáár moet ons dade en ons woorde by ons
kroon pas. Ons moet wys dat ons aan Hom behoort, ons moet wys hoe groot Hy
is, ons moet Hom eer en terselfdertyd moet ons sorg vir alles wat Hy gemaak
het, moet ons goed wees vir en goed doen aan ons mede-skepsels. Onthou jou
kroon! ~ Wilna Botha, 09/08/2017 |
|
Ek is effens verras toe ek sien Psalm 9 begin met: op
die wysie van “By die dood van die seun,” en dan trek dit weg met: met my
hele hart wil ek U prys .... ek wil vrolik wees ... ek wil my verbly ... U
Naam wil ek besing. Kon dit enigsins ’n vrolike wysie gewees het as dit by
die dood van die seun gesing is? Ek het al gehoor dat mense sê: ek kan nie
nou ’n loflied sing nie, ek kan nie onder hierdie omstandighede bly en
dankbaar en vrolik wees nie. Gisteraand het ek weer geluister na die bekende
Leonard Cohen lied “Hallelujah”, waarin hy sê: “And even though it all went
wrong, I’ll stand before the Lord of song, with nothing on my tongue but
Hallelujah.” Al was hulle in die tronk, lees ons in Hand 4:25-26 dat Paulus
en Silas hallelujah op hulle lippe gehad het. Al was daar niks meer oor en
al het alle hoop verdwyn, het Habakuk ge-hallelujah met: “nogtans sal ek in
die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18) Om die lof van
die Here te besing en Hom te prys, help mens om te fokus op wie Hy is en nie
op wat Hy vir jou kan doen nie. Dit skuif jou gedagtes weg van jou probleme
en vestig dit op Sy krag. Dit help jou om te besef dat Hy almagtig, ewig en
in beheer is. Dit verkondig dat Hy sal voorsien, dat Hy uitkoms sal gee, dat
Hy alles ten goede sal laat meewerk. Dit bely dat jy in vertroue alles aan
Hom oorgee ... ja, selfs al is daai loflied op ’n treurige wysie. Met my
hele hart wil ek U prys ... (Ps. 9:2) ~ Wilna Botha, 14/08/2017 |
|
“Wat die Here sê, dit bedoel Hy. Sy beloftes is eg.
Hulle is soos goud wat in ’n vuurwarm oond skoongebrand is. ’n Mens kan
daarop reken.” (Ps. 12:7, Die Boodskap) Die Bybel sê ook elders dat God nie
lieg nie, Hy is nie soos ’n mens wat van plan kan verander nie, Hy is getrou
aan Sy woord. Daarom kan ons met sekerheid weet dat wat God ookal belowe het
sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Hy is gister, vandag en môre
dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word gesê
dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense maal
dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag van
die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is net
God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding,
verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak oop jou Bybel en soek
daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál Sy
beloftes waar maak. ~ Wilna Botha, 17/08/2017 |
|
“Hoe lank gaan U my nog alleen los, Here? Gaan U my
aanmekaar bly vergeet? As U my nie help nie, voel dit of my swaarkry ’n
ewigheid lank aanhou. Hoe lank gaan U niks aan my krisis doen nie? Hoe lank
moet ek myself uit hierdie moeilikheid probeer kry? Ek is moeg daarvoor om
aanmekaar bekommerd te wees. Hoe lank gaan my probleme my nog teen die
planke vasdruk?” Sjoe, was jy ook al so in ’n hoek gedruk? Het jy ook al so
radeloos en moedeloos en alleen gevoel? Het jy ook al gevoel of die Here
anderpad kyk terwyl jy knak onder jou probleme? Het jy dalk ook al so met
die Here baklei en Hom verkwalik vir jou situasie... en dan báie skuldig
gevoel daaroor? Hierdie woorde kom uit Ps. 13. Dawid se woorde. ’n Man na
God se hart, word hy genoem. Lyk my dis heel “normaal” as kinders van die
Here ook onder allerhande ellendes lei. Lyk my dis heel “normaal” om by die
Here te gaan afpak. Lyk my dis heel “normaal” om soms met Hom te baklei.
Maar ... lees die res van die Psalm en jy sal sien dat Dawid homself weer
vinnig regruk, want hy draai sy oë na dié Een wie se liefde oneindig is, dié
Een wie se genade groot is, dié Een wat uitkoms bring, dié Een op wie hy kan
staatmaak. Hy bely: “Maar ek weet: op U liefde kan ek staatmaak. In my
binneste borrel dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal
die Here se Naam met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!” (Ps.
13:6) ~ Wilna Botha, 22/08/2017 |
|
“Dit is net ’n baie dom mens wat dink God is nie daar
nie.” Dis nie ek wat so sê nie, hoor, dis Ps. 14:1. In een van die Engelse
Bybels sê dit: “the fool has said in his heart: there is no God.” Baie mense
in ons tyd sê dit nie net in hulle harte of gedagtes dat daar nie ’n God is
nie, dit word openlik verklaar, op Facebook uitgebasuin en in boeke geskryf.
Hulle dink hulle het God nie nodig nie. Hulle dink dit is hulle eie vermoëns
wat hulle suksesvol maak. Hulle dink hulle kan doen en sê wat hulle wil en
daarmee wegkom. Hulle hou hulle slim en onafhanklik en arrogant en
onaantasbaar. Hierdie dwaasheid bring mee dat hulle neerkyk op Christene,
dat hulle hoogmoedig en selfvoldaan is, dat hulle baljaar in die sonde, dat
hulle kul en kroek en konkel waar hulle kan, dat hulle God verag, maar ...
as mens mooi kyk sal jy ook sien dat daar uiteindelik ’n groot onvrede,
ontevredenheid, bitterheid en leegheid in hulle harte is. Ek bid maar net
dat ware wysheid vir ons almal sal deurbreek sodat ons God as God sal ken en
bely en dien met ons hele hart. “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die
kwaad te vermy, dit is insig.” (Job 28:28) ~ Wilna Botha, 24/08/2017 |
|
“Here, wie is werd om by U te mag wees? Wie mag in U
huis instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is?” So vra Dawid in Ps. 15:1.
Hy weet die Here is heilig, Sy tempel is heilig en Sy teenwoordigheid moet
versigtig opgesoek word. Hy weet dat daar vir hom eers reinigingsrituele
moet plaasvind en offers gebring moet word, voordat hy in die Here se
teenwoordigheid kan kom. Hy weet wat die Here se voorskrifte behels, daarom
antwoord hy self met: “Iemand wat so optree dat U heeltemal tevrede is met
wat hy doen ... dit is iemand wat nie skinder nie en ook nie sy vriend in
die rug steek nie. Dit is iemand wat nie dinge sê wat iemand anders kan
seermaak nie ... Hy hou sy woord, al kos dit hom soms duur. Hy maak nie
onnodig geld uit ander nie. Hy laat hom ook nie omkoop om verkeerde dinge te
doen nie.” (Ps. 15:2-5, Die Boodskap) Nou ja, gemeet aan hierdie lysie, wie
van ons sal dit kan waag om in die Here se teenwoordigheid te kom? Geen
wonder dat mense buite die kerk soms praat van die skynheiliges in die kerk
nie. Gelukkig lees ek ook in 1 Kor. 6:11 “Maar julle het julle sonde laat
afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here
Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” Ons kan vir Dawid antwoord:
ons is gewas, ons is skoon en heilig, daarom kan ons met vrymoedigheid in
God se teenwoordigheid ingaan. “Ons het dus nou vrye toegang tot die
heiligdom,” sê Heb. 10:19. Kom ons gaan! “Laat ons tot God nader met ’n
opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha,
29/08/2017 |
|
“Here, U is my lewe. U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom
alles van U af. ’n Pragtige deel is vir afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is
vir my mooi.” (Ps. 16: 5-6) ’n Pragtige deel is vir my afgemeet! Wat ek het,
het die Here vir my uitgekies, afgemeet en verniet gegee. Wat ek ontvang
het, of dit nou op Geestelike of materiële vlak is, kom van Hom af. Geskenke
wat Hy sélf vir mý persoonlik uitgekies het. Hoe kan ek ontevrede wees met
wat Hy vir my afgemeet het? Hoe kan ek wat ek uit Sy hand ontvang het
bevraagteken, dit minag, verwerp of dink dis minderwaardig? Dikwels begeer
mens ’n mooier deel, ’n groter deel, ’n lekkerder deel, ’n makliker deel,
maar onthou: die grootste geskenk is die lewe! Die wonderlikste geskenke is
Sy genade, Sy liefde, Sy versorging, Sy nabyheid, Sy troos – daai is die
mooiste dinge in die lewe, daai is die dinge wat mens die gelukkigste maak.
“Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo,” sê Jak 1:16. Ja, wat
ek is, is net genade, wat ek het, is net geleen. Wat ek ontvang het, is vir
my mooi en ek aanvaar dit met dankbaarheid. ~ Wilna Botha, 31/08/2017 |
|
“God, ek bid nou tot U, want U kan my help. Hou my styf
vas. Help my in my nood.” (Ps. 17:5-6) Beskerm my soos die appel van u oog,
steek my weg in die skaduwee van u vleuels, so lees vers 6 verder. Jes.
30:19 sê die Here sal ons gebed verhoor sodra Hy dit hoor. Hy wil dit hoor!
Ons moet bid - Hy sal hoor. Ons moet vra - Hy sal gee. Ek bid want ek weet
die Here kan my help – dit vra geloof en vertroue in die Here, in sy wil en
vermoë om my te help en om in my nood te voorsien. Gebed wérk. Dit werk
veral wanneer jy voel of die Here nie luister nie, as dit voel of jou gebede
nie vêrder as die plafon gaan nie. Dis juis dán dat ons weer ’n keer moet
bid, dat ons moet volhard in gebed. Dis juis dán wanneer ons daar in die
skaduwee van Sy vleuels moet gaan wegkruip totdat Sy vrede jou hart en
gedagtes kom volmaak. “So whenever we are in need, we should come bravely
before the throne of our merciful God. There we will be treated with
undeserved kindness, and we will find help.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha,
05/09/2017 |
|
“O Here, U is die lig in my lewe. As U by my is,
verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm.
Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) Ek het al dikwels mense gesien wat
baie siek is, maar daar is steeds ’n lig in hulle oë, mense wat hartseer is
oor die dood van geliefde, maar daar is steeds ’n glinstering in hulle te
sien, mense wat hulle werk verloor het, maar daar is steeds ’n vonk in hulle
hart – dís die Here se lig in hulle wat daai verskil maak, wat hulle moed
gee vir hulle situasie, wat hulle sterk maak vir die struikelblokke wat voor
hulle lê. In die donker tye van bekommernis, in die diepte van depressie, in
die eensaamheid van gebroke verhoudings, in die dolle duisternis van die
alledaagse probleme – steek jou hand uit na die Ligskakelaar. Die Here is by
jou. Die donker sal verdwyn. Jy sal weer kans sien vir alles. ~ Wilna Botha,
07/09/2017 |
|
“As jy opkyk na die
hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal. Sy eer is
oral in die lug opgeteken. In die blou hemelruim sien jy hoe mooi God se
handewerk alles rondom ons versier. Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe
belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een
nag vir die volgende nag fluister.” (Ps. 19:2-3, Die Boodskap) Alles wat Hy
gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is! ’n Blom eer die Here met sy
blom-wees. Die sterre met hulle ster-wees. Die berge met hulle berg-wees. So
eer alles die Here deur te wees wat Hy hulle gemaak het om te wees. Dit geld
natuurlik vir ons ook. Dis vir my so ’n mooi gedagte dat alles, maar alles
onophoudelik buig en ruis en skitter en sing tot eer van die Here. En soos
die een dag vir die volgende dag herinner dat God in beheer is en alle eer
verdien, soos die een nag dit fluister vir die volgende nag, so moet ons ook
vertel en mekaar herinner aan God se grootheid, Sy almag en Sy belangrikheid
in ons lewens. ~ Wilna Botha, 12/09/2017 |
|
Ps. 19:13 sê so ’n
waar ding: “Ongelukkig sien ’n mens nie altyd die dinge raak wat jy verkeerd
doen nie.” Partykeer raak mens so gewoond aan die verkeerde dinge wat jy
doen, soos bv. jok, skinder, verneuk, vloek, neerkyk op ander,
liefdeloosheid ens. dat jy nie meer agterkom jy doen dit nie. Daai vuil
kolle is so deel van jou, jy sien dit nie eers meer raak nie. Dalk sê jy: ag,
almal doen dit, ek kan netsowel ook. Dalk sê jy: ag, dis nie so erg in
vergelyking met wat sus en so aanvang nie. In die hedendaagse tye raak ons
maklik afgestomp vir die sonde wat in ons lewens heers. Ek vra maar net weer
vandag die Here om deur die Heilige Gees my gewete sensitief te maak, ’n wag
voor my mond te sit, my te weerhou van slegte dinge waaraan ek so maklik kan
meedoen. Ek maak Ps. 19:13-14 vandag my opregte gebed: “Here, vergewe al my
foute waarvan ek nie weet nie. Keer my as ek van plan is om verkeerde dinge
te doen. Moenie dat slegte dinge oor my lewe baasspeel nie. As U my help,
sal ek sonder foute wees.” (Ps. 19:13-14) ~ Wilna Botha, 14/09/2017 |
|
In Ps. 20:2-5 lees ek hierdie baie mooi seëngebed: “Mag
die Here jou gebed verhoor as dit met jou swaar gaan. Mag die God van Jakob
jou beskerm. Mag Hy jou spesiaal help en bystaan. Mag Hy jou gee wat jy
graag wil hê. Mag Hy jou planne suksesvol laat wees.” Ons kan mekaar met
hierdie woorde seën en dit sal ’n bindende seën wees. Die woorde laat my
baie dink aan die priesterlike seën waarvan ons in Num. 6:22-27 lees en daar
sê dit as die priesters die volk só seën, sal die Here hulle seën. As
gelowiges is ons nou priesters en daarom kan ons hierdie seën oor onsself
en oor ons mense bid en met oop arms die seën van die Here verwag. Onthou
ook om jou vyande te seën. Dink net watter verskil dit in daai persoon se
lewe kan maak. Dink net watter verskil dit in jóú lewe kan maak. Dalk net,
kom die seën wat jy in opregtheid uitspreek, ook terug na jou toe. “Moenie
kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel,
antwoord met ’n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën
van God kan verkry.” (1 Pet. 3:9) Mag die Here jou seën! ~ Wilna Botha,
20/09/2017 |
|
“Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So
sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.
Almal sal bymekaarkom en oor die Here se goeie dade met hulle kinders praat.”
(Ps. 22:31-32) Dit is die Here se wil dat ons ’n nageslag moet hê wat Hom
ken en eer en dien. (lees Mal 2:15). Ons geloof moet as’t ware oorgedra word
op ons kinders, dit moet afgee op hulle, hulle moet dit van ons erf. Uit die
aard van die saak moet ons nie net praat oor die Here en vir ons kinders
“preek” nie, ons optrede moet beaam wat ons sê. Kinders van gelowige ouers
is natuurlik nie vanselfsprekend gelowiges nie. Hulle moet sélf kies vir die
Here. Hulle moet sélf ’n persoonlike verhouding met Hom hê. Maar kinders van
gelowige ouers het beslis dié voordeel dat God se seën en beloftes reeds vir
hulle gereed is. “Wat God belowe, is vir julle en vir julle kinders ...”
(Hand 2:39). Sy genade is beskikbaar van geslag tot geslag. Hy sê: “Ek
betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My lief het...” (Eks
20:6) Mag ons kinders opgewonde wees om in Hom te glo. ~ Wilna Botha,
25/09/2017 |
|
“Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas;
ek het niks meer nodig nie.” (Ps. 23:1, Die Boodskap) Wil jy nie maar soos
’n skaap agter Jesus aanloop nie? In volle vertroue dat Hy vir jou sal sorg
op so ’n manier dat jy niks meer nodig het nie. Met volle sekerheid dat Hy
die beste vir jou in gedagte het. Met volle tevredenheid dat Hy jou veilig
sal hou en na groen weivelde sal lei. Met volle gerustheid omdat Hy jou op
jou naam roep, dat Hy jou ken, dat Hy weet waar jy is en waarmee jy sukkel.
Met volle oorgawe omdat Hy die Goeie Herder is wat sy lewe vir jou afgelê
het. Blindelings. Sonder vrae. Sonder voorbehoud. Sonder spyt. As jy dalk
afgedwaal het, kan jy verseker weet dat Hy 99 ander sal los om jou te kom
soek. Hy sal jou op sy skouers terugdra, jou wonde verbind en weer vir jou
vrede gee. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal
het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.” (Eseg.
34:16) ~ Wilna Botha, 27/09/2017 |
|
“Alles wat die Here leer, kan in een sin opgesom word:
Hy wil hê dat almal wat in Hom glo, Hom moet liefhê. Hulle moet Hom dien.
Almal moet dit doen.” (Ps. 25:10, Die Boodskap) Daar het jy nou jou
lewensdoel, jou droom, jou visie in een sin! Daar het jy die Here se wil vir
jou en vir ons almal in een sin! Dis iets waaroor mense baie wonder, waaroor
baie gepreek word en waaroor baie boeke geskryf word: wat is die Here se wil
vir my, of wat is my skeppingsdoel? Sy wil is dat ons Hom moet liefhê, Hom
moet eerste stel, Hom moet dien – met ons hele hart, ons hele verstand en al
ons kragte. Dit laat my onwillekeurig dink aan Matt. 6:33 “Beywer julle
allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God...” Baie keer
dink mens om die Here te dien beteken om allerhande goeie goed te doen, soos
om te bid, kerk toe te gaan, armes te help, geld weg te gee, betrokke te
wees in bedieninge van jou kerk, ens. Al daai dinge is goed en belangrik om
te doen, maar ek het al self ervaar en dit dikwels gesien dat jou bediening
groter kan word as jou liefde vir die Here; dat jou bediening meer plek in
jou gedagtes en in jou dagboek kan inneem as die Here self. Nou wonder ek...
wat sal ek en jy vandag sê as die Here vir ons, soos vir Petrus, vra: “Het
jy My baie lief?” ~ Wilna Botha, 02/10/2017 |
|
Ek is besig om so geleidelik deur Psalms te werk. Dit
val my op hoe dikwels Dawid en die ander skrywers hulle lot bekla, hulle
probleme uitspel, hulle trane voor die Here uitstort. Hulle roep uit na Hom
en smeek vir Sy hulp, vir Sy vergifnis, vir Sy deurbrake. Soms klink dit
heel swartgallig, depressief en sonder hoop. Maar, elke liewe keer eindig
dit met die belydenis van nuwe vertrou in die Here, met erkenning van die
Here se grootheid en sorg en genade, met lofprysinge oor die Here se hulp en
redding. Soos hier in Ps. 27: “Die Here help my deur my donkerste krisis. Sy
hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Omdat Hy my
help, is daar niks waarvoor ek bang is nie. Die Here beskerm my, waarvoor
sal ek dan bang wees?” (Ps. 27:1) en “Dis net my geloof in die Here wat my
staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. Stel al jou hoop op
die Here! Hou moed! Moenie tou opgooi nie; bly glo in die Here!” (Ps.
27:13-14) ~ Wilna Botha, 04/10/2017 |
|
Die stem van die Here is magtig en vol majesteit. So sê
Ps. 29:4. Ons weet dat Hy alles geskep het net met die spreek van ’n woord.
Sy stem was magtig genoeg om alles, ja álles in die skepping tot stand te
bring. As Hy praat, gebeur dinge. As Hy praat gehoorsaam see en wind en
donderweer. “As die Here praat, is dit soos weerlig wat bome van bo tot
onder oopkloof; ja, as Hy praat, laat die dreuning die grootste berge soos
jong bokkies rondhuppel. As Hy iets sê, is dit soos die weerlig wat slaan en
dan bewe die verste woestyne.” (Ps. 29:5-7, Die Boodskap). As God sy stem
laat hoor, smelt die aarde weg, (Ps. 46:7). “Hoor hoe bulder die stem van
God, hoe dreun dit uit sy mond!” (Job 37:2) En dan is daar ’n ander kant.
Die sagte fluistering in die windstilte, waarvan ons in 1 Kon 19:12 lees.
Die sagte fluistering as Hy jou op jou naam roep. Die sagte uitnodiging as
Hy sê: kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus
gee. Die sagte versekering as Hy sê: Ek spreek jou vry. Softly and tenderly
Jesus is calling... en as jy sy stem hoor en oopmaak, sal Hy inkom en saam
met jou ’n feesmaal hou. (Openb. 3:20) ~ Wilna Botha, 09/10/2017 |
|
“Here, my God, ek het gebid dat U my moet help. Toe het
U my gesond gemaak. Here, U het my uit die dood teruggeruk na die lewe toe.
Ek het nie doodgegaan nie.” (Ps. 30:3-4, Die Boodskap) Ai wat ’n getuienis
van die Here se werking as Geneser. Hý is die een wat uitkoms kan bring wat
medici verras. Enige genesing is ’n wonderwerk en kom van die Here af, al is
dit deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of
wat ook al. Enige genesing maak ons dankbaar en laat ons lofliedere en
eerbetuigings teenoor Hom jubel. Maar wat nou as iemand gebid en gesmeek
het, maar genesing kom nie ...? Daai is nou een van die moeilike vrae
waarmee baie van ons worstel. Onthou net daar is nie ’n gebed-resep waarmee
ons God kan afpers of manipuleer om gesond te maak nie. As jy gebid het vir
genesing en jy word nie gesond nie, is daar beslis nie fout met jou gebed of
met jou geloof nie en is die Here beslis nie doof vir jou gebede nie. Dis
nie ons gebed wat iemand genees nie, dis God wat genees. “Besef dit tog: Ek,
Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee
lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond.” (Deut. 32:39) Ons mag en móét bid
vir genesing en aanhou bid en weer bid in afhanklikheid en met ’n verwagting.
En dan moet ons rus in Sy wil, Sy liefde en Sy teenwoordigheid en tevrede
weet dat Sy genade genoeg is. ~ Wilna Botha, 11/10/2017 |
|
“Kyk maar: iemand kan nog een aand hartseer wees en
huil, maar die volgende oggend is hy vol blydskap. Dis net die Here wat so
iets laat gebeur.” (Ps. 30:6) Die sleutel-frase is: dis nét die Here wat so
iets laat gebeur. As mense treur of moedeloos is of siek is sonder die Here
in hulle lewe kan hulle maklik bly vassit in die donker drukgange van die
lewe. Maar ons sal nie treur soos mense sonder hoop nie, want ons het die
Here aan ons kant. Ons sal elke môre nuwe genade en nuwe hoop en nuwe moed
ontvang – op bonatuurlike wyse. “Daar is geen einde aan Sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut.” (Klaagl. 3:23) Jesus het ook so gesê vir sy
dissipels in Joh. 16:20: “Maar julle gaan nie lank hartseer bly nie. Elke
stukkie hartseer sal in ’n stuk blydskap en vreugde verander.” “Vir hulle
wat in Sion sit en treur, gee Hy feesklere in ruil vir begrafnisklere. Hulle
sal ophou treur en baie bly word. Hulle moedeloosheid sal plek maak vir
vrolikheid.” Mag dit vir jou ook so wees! Hou moed, want môre sal die son
weer skyn. ~ Wilna Botha, 16/10/2017 |
|
“Kom laat ek julle iets leer! Ek gaan julle wys hoe om
die Here te dien. Is daar iemand onder julle wat lief is vir die lewe? Wie
wil graag die goeie dinge van die lewe geniet en gelukkig wees? Jy? Pas dan
op om nooit verkeerde dinge te sê nie! Moenie oneerlik wees en ander mense
met leuens verkul nie. Vermy slegte dinge. Doen net goeie dinge aan ander.
Lewe in vrede met mense.” (Ps. 34:12-15, Die Boodskap) As die teks sê: kom
laat ek julle iets leer, voel mens sommer aan dat hier ’n “preek” gaan volg.
En in hierdie geval, ’n 3-punt preek! As jy lief is vir die lewe en goeie
dinge wil beleef en gelukkig wil wees (punt 1), moet jy die Here dien (punt
2), deur goeie dinge te doen, dié dinge wat die Here wil hê jy moet doen,
dié dinge wat Hom sal laat glimlag (punt 3). Punt 1 en 2 is lekker om te
hoor en ons hou sommer baie van sulke preke. Ons wil hoor van genade en
liefde en vergifnis. Ons wil hoor van geluk en ’n lekker lewe. Maar, as dit
kom by punt 3, sluit ons baie keer af, want ons wil nie luister na ’n klomp
moets en moenies nie. Ons wil mos lewe soos ons wil. Ons wil maak soos
almal maak. Ons wil sê wat ons wil. Ons wil vir onsself leef en nie begaan
wees oor ons naaste nie. Miskien moet ek maar liewer die “ons” waarvan ek
praat vervang met “ek”. Ek gaan weer opnuut punt 3 van die preek vandag ter
harte en vra die Here om my daarmee te help: plaas ’n wag voor my mond; laat
my ja ja wees, bly weg van slegte dinge, wees goed vir ander, leef in vrede
met almal. ~ Wilna Botha, 18/10/2017 |
|
“U oorlaai ons met goeie dinge. U liefde vloei soos ’n
rivier oor ons hele lewe. U alleen gee lewe. (Ps. 36:8-9, Die Boodskap) Die
Here se liefdestroom vloei en niks of niemand kan dit keer nie. Hy ís liefde.
Dié nimmereindigende rivier ontspring by Hom. Dit droog nooit op nie. Dit
gee lewe vir dié wat daarin staan. Dit bring vrug voort in die lewe van dié
wat daarvan drink. Dit bring genesing en verfrissing. Dit maak skoon. Dit
maak nuut. Kom en ervaar die rivier van liefde: “... dip your heart in the
stream of life, let your pain and your sorrow be washed away.” ~ Wilna
Botha, 24/10/2017 |
|
“Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Glo in Hom.”
(Ps. 37:5, Die Boodskap) Dis die beste manier om jou dag te begin en om dit
uur vir uur voort te sit. Plaas jouself bewustelik in die Here se hand. En
blý daar! Herinner jouself kort-kort daaraan dat Hy by jou is. Kies om te
glo dat Hy in beheer is van elke detail van jou doen en late. Vertrou dat Hy
jou sal help, soos Hy belowe. Verwag dat Hy vir jou deure sal oopmaak en
geleenthede sal verseker, dat Hy jou voorspoedig sal maak in alles wat jy
aanpak en dat Hy alles ten goede sal laat meewerk. Weet vir seker dat Hy vir
jou sal sorg en jou sal beskerm en jou sal seën. Wees gerus dat jy in
veilige hande is. ~ Wilna Botha, 26/10/2017 |
|
So, het jy toe ook vandag swart gedra om jou
ondersteuning te wys aan die boere in Suid-Afrika? Swart om sê: tot hier toe
en nie vêrder nie. Swart om te sê ons dink aan dié wat hulle lewens verloor
het, dié wat bang is, dié wat al handdoek wil ingooi. Swart om te sê: hou
moed, die Here sien, die Here help. Ek het. Elke keer as ek my swart
weerkaatsing êrens gesien het, het dit gepaard gegaan met ’n skietgebed, ’n
smeekroep, ’n sug na die Here vir hulp en uitkoms en deurbraak. Ek het
gepleit vir Sy liefde, vergifnis en genade – vir ons almal, vir óns liefde,
vergifnis en genade vir mekaar. Ek het gebid: “Gee my weer nuwe moed! Sê
hard en duidelik vir my: “Ek sal jou help.” (Ps. 35:3, Die Boodskap) Ek glo
en hoop: “Al tref duisende rampe mense wat die Here lief het, Hy sal hulle
nooit alleen los nie. Uit elke krisis sal Hy hulle red. Hy beskerm sy
kinders tot in die fynste besonderhede.” (Ps. 34:20, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 30/10/2017 |
|
“Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat God
se kinders ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op die straathoeke en
bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig
om vir ander mense.” (Ps. 37:25, Die Boodskap) Dit klink mos nie reg nie, of
hoe? Hier is iets fout... daar ís kinders van die Here wat eensaam en
verstote is, daar ís kinders van die Here wat op die straathoeke bedel, daar
ís kinders van die Here wat honger gaan slaap. Waar lê die probleem? Lê die
probleem by die Psalm wat nie reg is nie, of by die Here wat nie na sy
kinders kyk nie, of dalk by ons wat anderpad kyk? Ons wat selfsugtig is en
net vir onsself leef? Ons wat vergeet het dat dit beter is om te gee as om
te ontvang? Ons wat nie meer omgee vir die “geringstes” nie? Ja, ek weet in
ons tyd is daar groot maatskaplike uitdagings, werkloosheid, dwelmmisbruik
ens. Ja, ek weet nie almal wat bedel kan en moet gehelp word nie en ja, ek
weet nie almal wat oënskynlik hulp nodig het, is eerlik en opreg met die
aanwending van dít wat jy met hulle deel nie en ja, ek weet dat jy ook al
verkul en misbruik gevoel het wanneer jy iemand gehelp het. Ek wil egter
maar net weer met sagter oë kyk, met ’n oper hand leef en Jesus se woorde
onthou: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die
geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
(Matt. 25:40) ~ Wilna Botha, 01/11/2017 |
|
“Toe het ek vir die Here gevra: Hoe lank sal ek nog
leef? Ek wil weet hoeveel tyd ek nog oorhet!” (Ps. 39:5, Die Boodskap) Wou
jy dalk ook al dié vraag vir die Here gevra het? Hoe lank het ek nog? Ek
dink nie dis ’n vraag wat die Here vir ons sal antwoord nie. Hy het ons tye
in Sy hand en nét Hy bepaal oor lewe en dood. Die Bybel sê ons is vandag nog
hier en môre weg. Ons blaas so maklik die laaste asem uit. Ons is soos 'n
damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Almal is ewe verganklik.
Die Here sê nie hoeveel dae ons nog oor het nie, Hy sê wel dat ons dae maar
relatief min is en dat ons die beste gebruik moet maak van elke geleentheid.
Elke geleentheid vir goed wees en goeddoen moet ons aangryp. Elke
geleentheid vir leer en werk moet ons gebruik. Elke geleentheid vir regmaak
en herstel moet ons benut. Elke geleentheid om te vertel en te getuig moet
ons aangryp. Elke geleentheid vir leef en geniet moet ons omhels. Ons het
vandag. Doen wat jy moet doen, voor dit te laat is. Die lewe is té kort om
nie elke dag ten volle te geniet en met oorgawe te lééf nie! ~ Wilna Botha,
06/11/2017 |
|
“Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het
toe gebeur. Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Toe ek ernstig hulp gevra
het, het die Here my gehelp. .. Hy het my uit die gemors opgetel. Nou is my
lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in
my lewe gegee.” (Ps. 40:2-4, Die Boodskap) Dalk is jy nou ook in een van
daai moeilike tye waar dit voel of daar nie lig aan die einde van die tonnel
is nie, waar dit voel of jy teen ’n muur is, waar dit voel of alles buite
beheer is, waar dit voel of die Here se hulp en uitkoms net nie betyds gaan
wees nie. Hou moed, baie gelowiges was al daar. Baie voor jou is al op die
randjie van die afgrond gered. Die Here se tyd is nie ons tyd nie en Hy sál
betyds daar wees om jou uit die gemors op te tel, weer jou lewe op die regte
koers te plaas, weer nuwe blydskap in jou lewe te gee. Terwyl jy wag: wees
geduldig, hou aan bid, hou aan glo, hou moed, vermy negatiewe gedagtes en
praatjies oor jou situasie, probeer om weg te kyk van jou probleem en op die
Here te fokus, vul jou gedagtes met positiewe en opbouende dinge, trek mooi
aan en sit jou lipstiffie aan, hou aan om te doen wat jy moet doen. “This
too shall pass" en dan sál daar ’n terugkyk-dag kom waarop jy soos Dawid sal
kan getuig: “Ek het vas geglo dat die Here my sou help en dit het toe gebeur.”
~ Wilna Botha, 08/11/2017 |
|
“Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie.
Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my
uit my swaarkry sal red. Hy is my God.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Hierdie
presiese woorde herhaal weer in Ps. 42:12 en Ps. 43:5. Dis asof die skrywer
homself moet oortuig, asof hy homself wil herprogrammeer met “moenie nou
moedeloos word nie.” Die teenvoeter vir daai moedeloosheid oor jou
gesondheid, oor die landsake en politiek, oor jou familie struwelinge, oor
jou baas se onredelike eise, oor jou geldsake, is om op God te vertrou. Om
jou oë na Hom te draai, jou fokus op Sý krag, hulp en uitkoms te plaas.
Begin dan om Hom te loof, om al Sy wonderlike eienskappe te besing, om oor
sy grootheid te jubel. Kyk, die Psalmskrywer maak ’n wilsbesluit om ’n
loflied te sing ten spyte van sy swaarkry; dis as’t ware ’n offer en dit kom
met moeite maar dit sal die wolk van moedeloosheid laat lig. Sien in jou
geestesoog hoedat die Here jou help, hoedat jy weer sterk word, hoedat
verhoudinge herstel word, hoedat jou planne in plek val, hoedat die uitkoms
aanbreek. Moenie hoop verloor nie! Moenie nou moedeloos word nie! ~ Wilna
Botha, 13/11/2017 |
|
“Wees stil en weet Ek is die Here.” (Ps. 46:11, Die
Boodskap) Ek het dié teks in ’n paar ander vertalings ook opgelees. Dit sê
onder andere: Bedaar en erken... Laat staan en weet ... Be at peace ...
Calm down ... Stop fighting. In plaas van skarrel en soos ’n afkophoender
rondhardloop, móét ons bietjie die rem aanslaan en in die stadige baan van
die lewe ry, of nog beter, ons moet stilhou onder ’n koelteboom en by die
Here kom rus. Ons moet afskakel en fokus op wie Hy ís, ons moet rustig raak
sodat Hy sy vrede in ons harte kan deponeer, ons moet stilbly sodat ons sý
stem kan hoor, ons moet ontspan sodat ons kan onderskei wat werklik
belangrik is. Jes. 30:15 sê juis ook: Julle krag lê in stil wees en vertroue
hê. Sit jou eie kennis, eie drome, eie planne bietjie op ys, hou op hardloop
en baklei en streef na hoër, meer en beter en wees tevrede om die Here as
Here van jou lewe te hê. "Step out of the traffic! Take a long, loving look
at me, your High God, above politics, above everything." (Ps. 46:10, The
Message) ~ Wilna Botha, 15/11/2017 |
|
“Sing, maak God groot met elke lied. Ja, sing en moenie
ophou nie, want God is jou koning. Hy heers oor alles. Daarom moet ons
liedere sing wat vertel hoe groot Hy is.” (Ps. 47:7, Die Boodskap) Ons is so
bevoorreg om die mooiste prysliedere te hê wat ons in ons kerke en
geestelike byeenkomste kan sing. Ons het duisende lofliedere wat op CD’s en
DVD’s beskikbaar is. Ons kan letterlik oral en altyd ’n loflied op die lippe
hê. En nee, jy hoef nie mooi te sing of noot te hou nie, dit gaan oor die
woorde en die inhoud van daai lied en die gesindheid van jou hart wanneer jy
dit sing. Mens is soms geneig om maar net saam te sing sonder om op te let
na wat jy sing en wat dit werklik beteken. Partykeer wonder ek of dit nie
dalk ydellike gebruik van die Here se naam is nie ...? Kom ons sing weer ’n
slag uit volle bors en met ons hele hart terwyl ons verstand elke woord
oordink oor die grootheid van ons God. “My song will keep your fame alive
forever ...” (Ps 45:17) ~ Wilna Botha, 20/11/2017 |
|
“... op die maat van musiek praat ek met julle oor God
se geheime.” (Ps. 49:5, Die Boodskap) Het dit ook al met jou gebeur dat die
Here gedurende die lofprysing of terwyl jy geestelike musiek luister ’n nuwe
gedagte in jou hart laat posvat? So asof die Here dán spesiaal met jou praat.
Onder die geklank van die musiek het hierdie Psalmskrywer een van God se
geheime kom ontbloot. Dié geheim is dat geld niks werd is nie, dat God se
guns en genade nie daarmee gekoop kan word nie, dat dit jou nie uit die dood
kan red nie, dat alles wat jy bymekaargemaak het agter bly wanneer jy die
tydelike met die ewige verwissel. “Wat help dit dat hulle die hele wêreld
aan hulle voete het met hulle baie geld? Op die ou end stap hulle met leë
hande uit hierdie wêreld uit.” (Ps. 49:17) En soos Pred. 4:8 sê: “Vir wie
sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?” Ook hier kom dit tot
niks. Dit bly 'n harde saak.” Gejaag na meer en meer geld en goed is ’n
gejaag na wind. Doen wat jou hand vind om te doen en wees tevrede met wat jy
het. As jy kos en klere het, moet jy daarmee tevrede wees sê 1 Tim 6:8. Die
geheim is uit! Maak jou skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes en
diewe dit nie kan bykom nie – dís die tipe belegging wat al ons aandag
behoort te geniet. Die opbrengs daarvan is verseker en dis groot! ~ Wilna
Botha, 28/11/2017 |
|
“Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle
vir My dankie sê deur julle optrede.” (Ps. 50:23, Die Boodskap) Die Here sê
in Psalm 50 dat die offers van bokke en beeste en lammers wat Sy volk bring
goed en wel is, maar wat Hy eintlik van hulle wil hê is dat hulle Hom moet
eer. Hy vra ’n offer van lof. Hy vra danksegging as ’n geskenk aan Hom. Hy
vra dat ons woorde Hom besing en vertel hoe groot en goed en genadig Hy is.
Ons woorde is egter nie genoeg nie. Hy wil hê dat ons optrede en lewenstyl
een van dankbaarheid en eerbetuiging teenoor Hom moet wees. Ons offer van
lof lê eintlik in dit wat ons dóén. Dit help nie daar is danksegging en
lofprysing op ons lippe, maar ons optrede bevestig dit nie. Dit help nie ons
gee vir die Here ’n geskenk wat met mooi papier en linte en strikke
toegedraai is, maar binne-in is daar niks nie. Wat moet die inhoud van ons
geskenk dan wees? Doen altyd wat reg is, wees regverdig, doen goeie dade aan
ander, wees mededeelsaam, sê die Woord. “Laat ons dan onophoudelik deur
Jesus aan God ’n offer van lof bring ... Moenie nalaat om goed te doen en
mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.”
(Heb. 13:15-16); “Die Here verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is
eerder as dat jy offers bring.” ( Spr. 21:3) Is jy gereed met ’n geskenk vir
die Here? ~ Wilna Botha, 30/11/2017 |
|
“Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het
ver van my af weg, Here. Kyk op ’n splinternuwe manier na my. Sien my weer
as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie. Vat alles wat sleg is uit my
lewe uit ... My lewe moet skoon wees soos die witste wol.” (Ps. 51:9, Die
Boodskap) Ek is, net soos Dawid, maar al te bewus van my swakhede en die
berg verkeerde dinge wat ek al gedink, gesê en gedoen het. Ek voel skaam en
jammer dat ek die Here keer op keer teleurstel met die foute wat ek maak.
Hoe wonderlik is dit egter om vir seker te weet dat God my wél sien as
iemand wat niks verkeerds gedoen het nie! Ek ís silwerskoon gewas. My gewete
ís gereinig. Al die verkeerde dinge van lank gelede en van nou-nou net ís
uitgevee en vergete. Dit alles deur God se genade en deur die bloed van
Jesus wat my reinig en heilig. Ai, dis groot! En ja, dis gratis! En nee, ek
verdien dit nie! In 1 Kor. 6:9-10 word heelparty baie slegte goeters genoem
waaraan mens skuldig kan wees en dan sê vers 11 dié wonderwerk: “Maar julle
het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die
Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” God sien my
weer as iemand wat niks verkeerd gedoen het nie, want Hy kyk deur die bloed
van Sy Seun. Ek is skoon soos die witste wol. ~ Wilna Botha, 05/12/2017 |
|
“Al wat U wil hê, is dat iemand laag voor U buig en kom
sê hy is jammer oor sy verkeerde dade. God, U sal nooit iemand wat sleg voel
oor sy sonde van U af wegstoot nie.” (Ps. 51:19, Die Boodskap) Dawid het ’n
taamlike klompie verkeerde dade op sy kerfstok gehad en hy praat sekerlik
hier van ervaring. God se liefde en sy genade staan soos ’n paal bo water en
wat jy ook al verkeerd gedoen het in jou lewe, kan en sal Hy vergewe. Jesus
het reeds die volle prys betaal. “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou
en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle
ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9) Hy ís getrou. Hy sal altyd met oop arms gereed
wees om ’n afgedwaalde weer terug te ontvang, al het hy vêr draaie gemaak in
die modderige varkhokke van die lewe. Maak die besluit. Kom terug. Kom buig
en erken jou foute, soos die verlore seun in Luk. 15: “Ek sal dadelik na my
pa toe teruggaan en vir sê: Pa ek het teen God en teen Pa gesondig.” Jou
hemelse Pa wag alreeds om saam met jou fees te vier. Hy sal jou nooit van
Hom af wegstoot nie. ~ Wilna Botha, 07/12/2017 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|