| 
				
					
						|  |  
						| 
 |  
						| Daaglikse Heuningdruppels
 
 |  
					| 
						... 
						soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 
						119:11)
 
						
						Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons 
						Facebook-groep. Klik hier: 
 
  |  
					| 
 |  
					| Duplisering en 
			verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na 
			die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |  
					| 
 |  
					| 
	 |  
					| 
 |  
					| Ons gaan vir die volgende rukkie bietjie stilstaan by 
	die boek Spreuke. Net soos die res van die Bybel, is die doel van Spreuke om 
	ons te lei en te onderrig in die regte lewenswyse. Dis deur God gegee en 
	deur die Gees geïnspireer. Daar is deesdae so baie selfhelp boeke, mense 
	betaal vir kursusse in lewensvaardighede en spandeer ure aan sessies by 
	“life coaches”. Dit alles is goed, maar vat sommer 'n slag die 31 hoofstukke 
	van Spreuke en werk dit deur (en pas dit toe!) en jy sal verbaas wees oor 
	die lewenswysheid wat jy daar sal vind. Jy sal praktiese moets en moenies 
	vir die lewe vind. Jy sal begelei word in besluitneming. Jy sal 'n 
	aanvoeling ontwikkel vir reg en geregtigheid,  die vermoë ontvang om te 
	onderskei tussen waarheid en leuen.  Jy sal raad kry vir verhoudings. Jy sal 
	selfs 'n paar besigheidsbeginsels teëkom. As jy weet hoe om te lewe en as jy 
	boonop die sekerheid het dat wat jy doen binne die Here se wil is, is die 
	uitvloeisel daarvan geluk en vrede. “Al die Spreuke wil ons wysmaak hoe om 
	te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke 
	moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: dit wil jou die kuns 
	van die lewe aanleer, jou met 'n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil 
	jou insig gee. Dan sal  jy 'n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in 
	elke omstandigheid waarin jy beland.”  (Spreuke 1:2-4, Die Boodskap) ~ Wilna 
	Botha, 16/08/2016 |  
					| 
 |  
					| Luister en leer Spr 1:8 - 9 "My seun, jy moet luister na die onderrig wat jou vader jou gee; 
	moenie wat jou moeder jou leer, verontagsaam nie: dit sal jou lewe versier 
	soos 'n krans jou kop en 'n kettinkie jou hals."
 Salomo het lering gegee oor bykans enige onderwerp 
	waaraan jy kan dink, maar een wat nogal uitstaan is sy passie om jong mense 
	op die regte pad te kry en te hou. In hierdie gedeelte lees ons dat hy 
	kinders aanmoedig om na hulle ouers te luister, om dan later die vrugte 
	daarvan te pluk.
 My mening is dat Salomo van die veronderstelling 
	uitgaan dat ouers wel hulle kinders leer, en dat ouers self so lewe dat 
	hulle lewens navolgenswaardig is. Dit is so hartseer dat mense kinders in 
	die lewe bring, en dan die totale opvoedingstaak in ander se hande oorlaat. 
	Wie se dade, aksies en lering sal 'n kind eerder najaag? Sekerlik die een in 
	wie se geselskap hy/sy die meeste tyd deurbring.
 Ja, dis inderdaad so dat moeders deesdae moet 
	werk om die pot aan die kook te hou, maar verseker nie almal nie. Daar is 
	soveel mense wat nie bereid is om met minder te leef nie, en eerder die 
	gerief en weelde van geld en goed kies as die harde pad om self kinders 
	groot te maak.
 Wel, dis is nou maar eenmaal 'n realiteit, maar 
	die groter probleem kom wanneer die kinders groter word en ouers eerder vir 
	die kinders vol geld stop, net sodat hulle onder die voete kan uitkom, en 
	dis waar die probleme begin. Dis skokkend hoeveel geld party kinders 
	maandeliks as sakgeld kry, waarmee soveel verkeerde dinge gekoop word.
 Nou, terug na die teks wat hierbo aangehaal is. 
	Luister na die onderrig wat jou vader en moeder vir jou gee. Kinders kan tog 
	net luister as hierdie onderrig wel gegee word, as daar tyd daaraan spandeer 
	word, as daar outoriteit van die ouers (vernaam die pa) is, en as die 
	kinders die ouers respekteer. Ons bly in 'n wêreld waar "menseregte" nou al 
	tot so 'n mate toegepas word, dat dit al onwettig raak vir ouers om selfs 
	Bybelse opvoedingsmetodes toe te pas! Bid jou dit aan.
 Wel, ons moet maar besluit wie se voorskrifte 
	ons najaag, die wêreld s'n of die Here s'n. Salomo het baie goeie raad, ons 
	kan dit maar gerus toepas, want dis beproef en dit werk. ~ Willem Botha, 
	17/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| Spreuke 2:2-4 sê hoedat ons na wysheid moet soek en ons 
	moet inspan om te luister na lewenswaarhede. Hierdie wysheid is om te weet 
	hoe om te lewe, hoe om rég te lewe, hoe om die lewe werklik te geniet; 
	hierdie wysheid gaan oor emosionele stabiliteit en oor geestelike kennis en 
	'n verhouding met die Here. Wysheid begin met die dien van die Here, sê 
	 Spr. 9:10. As ek deur die 
	boek Spreuke lees, dan sien ek dat ’n persoon met wysheid God eerste plaas, 
	die Here vertrou, instinktief weet wat reg en verkeerd is en die regte dinge 
	doen. ’n Persoon met wysheid respekteer ander mense en hulle goed, is 
	liefdevol en getrou. ’n Persoon met wysheid aanvaar teregwysing en is bereid 
	om te leer en te groei. Verder sien ek dat persone met wysheid guns by mense 
	geniet, vrede ervaar en gesond en lewenslustig is. Hierdie tipe 
	wysheid  kom nie deur boekekennis, universiteitsgrade en geleerdheid nie, 
	dis insig en kennis wat van die Here afkom, wat ons van Hom moet afbid. 
	“Onthou egter net een saak: wysheid om reg te leef kom net van die Here af. 
	Kennis en insig is net by Hom te kry. Hy gaar arms vol wysheid vir die 
	gelowige op.” (Spr. 2:6-7, Die Boodskap) Daarom sê die Bybel ook: As een van 
	julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee. (Jak 
	1:5) Hy het arms vol daarvan! ~ Wilna Botha, 18/06/2016 |  
					| 
 |  
					| Die reguit pad Hoe moeilik is dit nie om altyd net die reguit pad 
	te stap nie! Ons was vir jare in die vroue gevangenis betrokke met bediening 
	en het baie dinge gehoor en gesien in daardie tyd. Dit ergste was die 
	hartseer van die kinders nadat hulle die ma op 'n Sondag besoek het. Voorts 
	het daardie vroue met die ergste skuldgevoelens denkbaar geleef want hulle 
	gesinne was uitmekaar geskeur oor daardie groot misstap. Ons het dan ook 
	gehoor hoe dit was die dag toe die polisie by 
	die werk of huis die arrestasie kom doen het, en dan daardie verdoemende 
	uitspraak van die regter. Ek vonnis jou tot...
 Spreuke 2 maan 
	ernstig teen die verkeerde paaie, die paaie wat mense se lewens vernietig. 
	Die onwettige plesiertjies van die lewe, die slegte gewoontes en die dade 
	wat selfs net skielik uit woede gepleeg word. Dan is daar die gewoontes wat 
	ons kinders vandag aanleer, wat later rampspoedige gevolge het. Salomo gee 
	die regte raad kort en kragtig.
 Spr 2:20-22 "Loop jy 
	liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges, 
	want die opregtes sal die land bly bewoon, dié wat onberispelik leef, sal 
	ongehinderd gelaat word, maar slegte mense sal weggevee word uit die land, 
	bedrieërs sal uitgeroei word."
 Ons almal weet 
	presies waar ons van die pad afdwaal, almal ken die basiese van die 
	landswette, almal van ons kan onderskei tussen reg en verkeerd, dit vra net 
	om waaksaam te wees. ~ Willem Botha, 21/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| “My seun, behou die takt en oorleg; moet dit nie uit 
	die oog  verloor nie, dit sal vir jou 'n mooi lewe verseker en soos 'n 
	pragtige halssnoer vir jou wees.” (Spr. 3:21-22) Takt en oorleg, (“clear 
	thinking” en “common sense” sê die Message vertaling) is die pêrels waaruit 
	ons lewenshalsnoer moet bestaan. Hoe aangenaam is dit nie as iemand dink 
	voordat hy praat of optree, as hy opbouende opmerkings maak, as hy 'n 
	aanvoeling, begrip en meegevoel het vir jou situasie, as hy weet wat om te 
	doen wanneer daar 'n probleem opduik. Watter plesier is dit nie om met 
	iemand saam te leef of te werk wat jou raadpleeg en jou inlaat op besluite 
	nie.  Watter goeie gevolge het dit nie as iemand vir jou mooi perspektief 
	kan gee in 'n krisistyd en jou kan help om by oplossings uit te kom nie. Só 
	iemand dra takt en oorleg as 'n halssnoer om sy nek en dis mooi! Dis lekker 
	om aan die ontvangkant hiervan te wees, nie waar nie? Kom ons ryg ook vir 
	ons so 'n halssnoer sodat ons dié om ons met takt en oorleg kan bedien. 
	Miskien dink jy: maar dis nie een van my karaktereienskappe nie, ek is nou 
	maar eenmaal nie 'n taktvolle persoon nie, ek wíl my opinie gee wanneer en 
	soos ek wil, ek het nie ander se insette nodig nie, ek is 'n hardekop wat my 
	eie ding wil doen en ek gee nie eintlik om wat ander van my dink nie. Onthou 
	2 Kor. 5:17 sê dat diegene wat aan Christus behoort 'n nuwe mens is – al 
	daai ou gewoontes kan uitgevee word en die Here kan vir jou 'n nuwe 
	halssnoer omhang met die allermooiste pêrels om jou lewe te versier. Vra Hom 
	daarvoor. ~ Wilna Botha, 22/08/2016 |  
					| 
 |  
					| Weldade Is dit vir jou ook lekker as jy iets vir iemand kon doen wat sommer net 
	skielik 'n verskil maak? Daardie "dankie" uit die hart uit , die glimlag of 
	dalk selfs 'n traan wat sê: Jy het 'n verskil in my lewe gemaak! Jy kan 
	seker ook daarvan getuig. En dan meer nog, die lekker as iemand 'n weldaad 
	aan jou bewys het en dit voel of mense nog omgee. Ons as mense is nou maar 
	gemaak om vir mekaar om te gee.
 Spr 3:27 - 28 Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, 
	terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie. Moenie vir iemand sê: “Gaan 
	eers terug en kom môre weer, dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.
 Die spreekwoord "Wat jy saai sal jy maai", word dikwels deur die voorspoed 
	teoloë gebruik om te sê: Hoe meer jy weggee, hoe meer kry jy. Dis nie wat 
	hierdie teks sê nie, hierdie teks sê ons moet gee en doen sonder om terug te 
	verwag, onvoorwaardelik. Eintlik is dit 'n direkte opdrag van die Here af. 
	Maar, hoewel hierdie teks se konteks nie bedoel dat jy moet gee of doen om 
	terug te kry nie, is dit tog 'n universele reël wat op 'n onverklaarbare 
	rede so werk. Mense wat graag gee of doen, sien op een of ander manier die 
	vrugte van hulle arbeid. Dit werk maar net so. Iemand met 'n toe hand, kan 
	net eenvoudig nie ontvang nie, want die hand is toe.
 'n Weldaad maak 'n verskil, soms 'n baie groter verskil as wat jy dink, en 
	soms eers in ons volgende geslag of na 'n lang tydperk. En ja, jy sal 
	verseker BAIE dikwels teleurgestel word, maar, dis nie jou probleem nie. 
	Doen net wat goed is, wys omgee en liefde en geniet ook dan maar daardie 
	lekker gevoel. Jy doen dit tog immers vir die Hom. ~ Willem Botha, 
	23/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| Spreuke 3:33-35 het 'n paar van die tipiese 
	teenstellings wat mens oral in die Spreuke boek vind. Goddeloses vs dié wat 
	die Here dien, hooghartiges vs nederiges, dwase vs wyses. As ek hier lees 
	lyk dit vir my of die Here aan die kant van die nederiges en die wyses is, 
	aan die kant van dié wat Hom dien. Daar word gesê hulle sal geseënd wees, 
	hulle sal die Here se goedheid ontvang en geëer word, terwyl dié aan die 
	ander kant vervloek en gespot  sal word en in die skande sal kom. As mens 
	egter in die wêreld om jou kyk, lyk dit baie keer juis andersom. Die 
	goddeloses leef in weelde, is voorspoedig en gesond. Hulle leef sorgeloos en 
	dit lyk of hulle geen teëspoed ervaar nie, terwyl dié wat die Here dien 
	dikwels swaarkry, sukkel en talle struikelblokke op hulle pad het. Mens voel 
	amper so stilweg jaloers op die goddeloses se voorspoed. Asaf, die skrywer 
	van Ps. 73 het ook daai gevoel gehad en hy sê hy het amper ophou glo omdat 
	dit gevoel het of sy toewyding aan die Here nutteloos is. Die Here het hom 
	egter laat sien wat die uiteinde van die goddeloses is – daar kom 'n dag wat 
	die Here hulle planne laat skeef loop, wanneer hulle lewe in chaos verval, 
	wanneer alles vir hulle inmekaartuimel. Dán sal hulle verneder word, in die 
	skande kom en gespot word, soos wat die Spreuke teks sê. Ons het die Here in 
	ons lewens en dit is al wat tel. Dit is mos veel belangriker as aardse 
	besittings, kortstondige voorspoed en oppervlakkige geluk. “Al is ek 
	afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir 
	altyd... Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.” (Ps. 
	73:26, 287) Ons kan maar net rustig voortgaan om die Here te dien, Hy sal 
	self met die skelms en skurke afreken. ~ Wilna Botha, 24/08/2016 |  
					| 
 |  
					| Iets vir die manne Ai, 'n man is darem maar 'n vreemde wese. My skoonpa het gesê 'n man is 'n 
	jagter en hy sal alles in sy vermoë doen om sy prooi te vang. En ja, dis 
	inderdaad so, ek het ook gesorg dat ek my "prooi" vang, en ek sal alles doen 
	om haar te hou. Die groot probleem kom as 'n man sy "prooi" vang, en dan die 
	vangs verwaarloos en selfs vernietig. En dan is sy eie nie meer goed genoeg 
	nie. Kyk hoe mooi stel Salomo dit.
 Spr 5:15 "Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 
	'n put met water: drink die strome uit jou eie fontein."
 Hoe moeilik is dit? Drink van jou eie strome, 
	dis volop en volmaak. Maar vir baie manne is dit nie en gou gou is die 
	volgende prooi in die oog, en dan dikwels nog en nog en nog. Dis interessant 
	dat die slim mense sê dat dit wat jou in die eerste plek na 'n persoon 
	aantrek, is juis dit wat jou later grensloos irriteer. En ja, hoewel Salomo 
	hier met mans praat, werk dit uit die aard van die saak weerskante toe.
 Maar wat is dan die sukses? Natuurlik is daar 
	miljoene faktore, maar 'n vrou sien haarself soos wat haar man van haar 
	reflekteer, soos 'n spieël. Kritiseer en verkleineer die hele tyd, en dan 
	glo vroulief dit en binnekort verloor sy haar fleur.
 Spr 5:18 "Sing die lof van jou eie fontein, 
	verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n 
	ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm."
 Ongelooflike goeie raad. Besing gereeld jou 
	vrou se skoonheid, verheug jou oor haar, voor haar, voor ander, besing haar 
	lof voor ander en kyk hoe sy blom. En ja sy word ook ouer, laat jou oë ook "ouer" 
	word. Daar is niks wat 'n vrou so laat blom as dat haar man haar skoonheid 
	besing nie. En mag ek effe stout wees? Dan sal daar ook meer liefkosings 
	wees soos wat vers 18 beskryf.
 Jou eie vars, borrelende fontein, wat 'n 
	voorreg. Wel, ek kan spog dat dit in ons huwelik waar is en na 35 jaar raak 
	dit net beter en beter. Probeer dit gerus. ~ Willem Botha, 25/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| “'n 
	Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy.” (Spreuke 
	5:21) Hierdie teks beklemtoon vir my die Here se alomteenwoordigheid en 
	alwetendheid. Niks kan vir Hom weggesteek word nie. Adam en Eva het dit ook 
	uitgevind toe hulle probeer het om  vir die Here weg te kruip nadat hulle 
	oortree het. Ons natuurlike reaksie wanneer ons sonde gedoen het, wanneer 
	ons op plekke is waar ons nie hoort nie, wanneer ons besig is met onheilige 
	dinge, is om dit te probeer wegsteek of met verontskuldiging onder die tafel 
	te probeer invee. Ons kan dit miskien vir mense wegsteek, maar nie vir die 
	Here nie. Ps. 139 beskryf ook die Here se alwetendheid: “Here, U sien 
	dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit.” (vers 1-2)  
	U ken my gedagtes ... U is met al my paaie goed bekend ... of ek reis of 
	oorbly, U bepaal dit. Dis natuurlik nie net asof die Here sit en kyk wat ons 
	verkeerd doen en waar Hy ons kan uitvang nie, sy alomteenwoordigheid en 
	alwetendheid beteken ook dat Hy ons behoeftes, ons vrese en ons probleme 
	sien, dat Hy bewus is van ons pyn, swaarkry en trane. 
	
	Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle 
	hele hart op Hom vertrou, sê  die Woord in 2 Kron. 16:9. Hoe gerusstellend 
	is dít nie? ~Wilna Botha, 28/08/2016 |  
					| 
 |  
					| LuiaardDie Bybel praat vreeslik baie van vrygewigheid, hulp aan ander, dra mekaar 
	se laste en hulpvaardigheid. Maar waarsku ook teen ander wat bedel, uitbuit 
	en jou goedhartigheid misbruik. Ek is seker jy is ook al moeg gevra om jou 
	swaarverdiende geld af te staan aan sommiges wat net eenvoudig te lui is om 
	vir hulleself te sorg. Salomo het ook 'n kleintjie dood aan mense wat in 
	ander se oë kyk terwyl hulle baie lief is vir rondlê.
 Spr 6 :6-11 "Gaan kyk na die mier, luiaard, 
	kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 
	'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy 
	sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy 
	opstaan? Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie 
	handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar 
	oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker."
 Ek word so ruk gelede 
	in een week 'n paar keer gekonfronteer deur mense wat geld wil hê (nie eers 
	leen nie), bloot omdat hulle dink ek het en hulle kort. In een geval 'n 
	persoon wat homself bankrot geleef het deur oordadig weelderig te lewe, en 
	dan een wat net eenvoudig nog nooit geld verdien het deur te werk nie en van 
	bakboord na stuurboord swerf. Dit is verseker nie die Here se wil dat ons hierdie tipe lewenswyse moet "borg" 
	en ondersteun nie. Eers as 'n persoon alles in sy vermoë gedoen het om 
	homself te help, kundig met sy middele omgaan en nie in die moeilikheid 
	beland deur onverantwoordelik te leef nie, of as dit tydelik van aard is 
	deur bv werkverlies, kan ons dit oorweeg om te help.
 Partykeer is daar meer van die Here se geld in jou sak as in 'n ander s'n, 
	en dan moet ons mededeelsaam wees, maar omdat alles eintlik maar aan die 
	Here behoort, moet ons tog ook goeie rentmeesters wees. Gee liewer 'n 
	visstok as 'n vis. ~ Willem Botha, 29/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| Spreuke 6:16-19 noem sewe dinge wat die Here haat, 
	waaraan Hy 'n afsku het. Vêrder aan in Spreuke kom daar nog 'n hele paar 
	ander dinge by. As ek dit lees voel ek skaam, want ek weet daar is van dié 
	goeters wat kop uitsteek in my lewe. Kom ons lees dié sewe sonder om te dink 
	aan Piet en Sannie en hoe hulle skuldig is hieraan; nee, kom ons maak dit 'n 
	selfondersoek, 'n belydenis van ons eie foute en 'n strewe om die Here te 
	behaag met ons lewenswyse. Sewe dinge wat die Here haat, volgens Spreuke 6: 
	 (1) oë wat hoogmoed weerkaats – daai neerkyk op ander, “ek is beter as 
	jy”-gesindheid, “wat het die kat nou weer hier ingesleep” - houding; (2) 'n 
	tong wat leuens vertel – daai alewige verdraai van die waarheid, wit leuens, 
	verneukery; (3) 'n hand wat ander se ondergang bewerk – vernietiging van 
	ander se menswaardigheid deur jou optrede en jou wrede woorde; afbreek van 
	jou huismense of kollegas se selfbeeld; (4) 'n hart wat slegte dinge dink – 
	en dan loop die mond daarvan oor en word dié om jou ook vergiftig met jou 
	negatiewe praatjies, afbrekende kritiek en swak grappies; (5) voete wat 
	haastig na die kwaad toe hardloop – verkeerde prioriteite, geldgierigheid, 
	swak keuses; (6) 'n vals mens wat na elke asemteug net leuens uitasem – 
	iemand wat jy glad nie kan vertrou nie, sy ja is nie ja nie en sy nee is nie 
	nee nie; (7) 'n rusverstoorder wat die liefde tussen mense wegvat – iemand 
	wat stories aandra, wat “stir” en familie rusies laat opvlam. Sjoe, wat 'n 
	lys! Ek wil opnuut kies téén elkeen van hierdie sewe en liewer my “lewe 
	inplant op die terrein van die Heilige Gees.” (Gal 6:8) Mag die Here ons 
	elkeen hiermee help. ~ Wilna Botha, 30/08/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	Oppas!Die wyse Salomo het nou maar eenmaal 'n manier om met woorde te toor, en 
	daar is plekke in Spreuke wat hy dinge ongelooflik raakvat. In Spr 6 en 7 
	waarsku hy ernstig teen owerspel. Hier praat hy van die owerspelige vrou wat 
	met uitlokkende klere en mooi woordjies 'n man in haar strik in verlei en 
	dan sy lewe verwoes. Nou wil ek dit tog duidelik maak dat nie Salomo, of ek, 
	besig is om die vrouegeslag sleg te maak nie, want "It takes two to tango", 
	maar hy waarsku ons 
	as mans om baie versigtig te wees.
 Spr 6 : 
	24-26 "My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou 
	met haar gladde tong wil verlei. Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek 
	nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie. Jy kan 'n prostituut kry vir 'n 
	stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos."
 Ek glo 
	ons het al almal die vernietiging hiervan gesien en my vraag is, hoe sterk 
	is ons? Of ek? Sal ek regtig "daardie dag" kan weerstaan? Kan ek so 
	selfversekerd wees dat ek kan sê "NOOIT NIE"? Ek bid dat dit nooit op my pad 
	sal kom nie!
 Maar dis 
	juis hoekom Salomo hier ernstig waarsku teen omstandighede wat daartoe kan 
	lei. Daardie leë oppervlakkige praatjies met poppie by die werk, daai een 
	dop te veel waar vroulief nie by is nie, maar waar ander vrouliefies 
	teenwoordig is, daardie praatjies met 'n ander vrou wat jou probleme so goed 
	verstaan, want sy gaan ook mos deur dit, jy weet?
 En dan, 
	as poppie se man uitvind! O wee...
 Spr 6: 34 
	- 35 "Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie 
	perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie."
 
	En dan, daai blatante 
	verleiding... Spr 7 : 18 - 20 "Kom ons drink van die liefde tot die môre toe, ons gee ons 
	oor aan die liefdeslus. My man is nie tuis nie, hy is op 'n lang reis; hy is 
	weg met 'n vol beurs en kom eers met volmaan terug.”
 Ek het by 'n maatskappy gewerk waar ons dit eerstehands gesien het, en waar 
	die lyke van hierdie ding gesaai gelê het. En weet jy wat? Niemand het 
	hierdie mense gewaarsku nie! Ek ook nie.
 Mens loop nie sommer net tussen 'n trop leeus in nie, want jy sal sleg 
	tweede kom! En dis waarteen Salomo hier waarsku. Bly liewer weg, los liewer 
	die praatjies, drink uit jou eie fontein soos wat Salomo in Spr 5 : 15 noem. 
	"Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met water: drink die strome 
	uit jou eie fontein." ~ Willem Botha, 31/08/2016
 |  
					| 
 |  
					| In Spreuke 8 is die Wysheid self aan die woord met 'n 
	uitnodiging om meer wysheid te bekom sodat jy die regte raad, kennis en 
	insig vir 'n gelukkige en sinvolle lewe kan hê . Spreuke 8:5 sê: “Dié wat 
	ervaring kortkom, kan verstandig word, dié wat dwaas optree, kan insig kry.” 
	Ons is nie net so gemaak en so gelaat staan nie – ons kán groei, ons kán 
	vorder op ons Geestelike pad, ons kán wysheid bekom en meer insig verkry. Ek 
	lees dat Einstein gesê het: “Wisdom is not a product of schooling, but a 
	lifelong attempt to acquire it”. Hy was reg, want ons kan nie wysheid in ’n 
	boek of universiteitskwalifikasie kry nie. Ons kan wysheid net by die Here 
	kry. Ons kán wysheid bekom, soms gee die Here dit vir mens in jou slaap, 
	ander kere is dit deur ervaring van probeer en misluk, weer probeer en groei, 
	dikwels deur die bestudering van die Bybel en altyd deur die leiding van die 
	Heilige Gees. Meeste van die tyd verg dit doelbewuste inspanning, maar dis 
	altyd die moeite werd, want: “Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind 
	het.” (Spr. 3:13) ~ Wilna Botha, 01/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Reg en 
	verkeerd Is dit nie verskriklik hoe afgestomp die mens al vir reg en verkeerd geword 
	het nie? Om musiek te steel deur kopieë by ander te maak, om onwettige 
	flieks by die robot by straatverkopers te koop, of om gesteelde goedere by 
	iemand te koop, welwetende dat iemand dalk in die proses sy lewe verloor 
	het. Ja ek dink jy dink ook nou by jouself: Ons almal doen dit mos. Maar dis 
	'n gruwel in die oë van die Here.
 Spr 10:2-3 "Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te 
	lewe volgens die wil van God, red 'n mens van die dood. Die Here laat die 
	mens wat reg doen, nie honger ly nie, die Here laat die begeerte van dié wat 
	verkeerd doen, nie bevredig word nie."
 Hierdie voorbeelde spreek dinge aan wat maklik identifiseerbaar is en 
	openlik verkeerd is, maar dit gaan veel verder as dit. Ek dink anderdag aan 
	beroepe wat as totaal aanvaarbaar beoefen word. Ons is dalk self daarin 
	betrokke, of slagoffers daarvan, en sonder om enige beroep te noem, kan jy 
	dink aan die volgende. Beroepe waar jou geld geneem word deur 
	wanvoorstellings van kwaliteit of waarde voor te hou. Daar is beroepe wat 
	geensins beoefen kan word sonder dat daar daagliks blatant gelieg word nie, 
	en gewoonlik ten koste van ander wat verkeerdelik benadeel word. Daar is 
	beroepe waar vals beloftes gemaak word of inligting weerhou word en mense 
	benadeel word sonder om dit te weet. Daar is maniere om mense se 
	swaarverdiende geld in te palm deur mense se vrees, skuldgevoelens of 
	"greed" uit te buit. Fynskrif in kontrakte, omkopery om kontrakte te bekom 
	en dan boonop persoonlik voordeel daaruit te kry, is al meer die reël as die 
	uitsondering.
 Ons kla oor die korrupte regering, maar dit strek veel verder as dit. Die 
	wêreld het 'n lelike plek geword. En wat die ergste is, is dat die eerlike 
	persoon dikwels verwoes word, en die skuldige party deur die wet, of sisteme 
	beskerm word. Dit maak mens siek!
 Dis nie wat die Here wil hê nie. Die Here wil hê ons moet ALLES wat ons doen, 
	met eerlikheid en opregtheid doen. Ek het al baie gewonder hoe slaap mense 
	in die nag. Die ergste is dat mense opgelei word om hierdie dinge uiters 
	effektief oneerlik te doen. Ai, waar gaan ons heen? En ek, waar staan ek in 
	my besigheid? Goeie vraag... ~ Willem Botha, 04/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Van 'n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy 
	dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se harte.” (Spreuke 
	10:7, Die Boodskap) Ons was in die afgelope rukkie by twee begrafnisse in 
	een week. Sleg nè! Daar het ek net weer besef, as mens weg is, is jy weg en 
	het jou geliefdes en vriende en kollegas net herinneringe oor. Dit was 
	lekker om by albei dié begrafnisse die mooi, die inspirerende, die impak wat 
	dié persone gemaak het te oordink, om met 'n traan in die oog te sê: onthou 
	jy sy het altyd .... Die wonderlikste van albei is dat ons kon sê: sy was 'n 
	gelowige. En wat sê Spreuke elders: as sy die Here dien, dán verdien 'n vrou 
	om geprys te word. Daai twee vrouens sal nog lank onthou en gemis word. En 
	ons wat nog lewe? Is ons besig om 'n verskil te maak? Is ons besig om woorde 
	te spreek wat nog lank in mense se harte sal voortlewe? Terwyl jy lewe kan 
	jy nog jou foute regmaak, kan jy slegte gedrag uitvee, kan jy die negatiewe 
	vervang met positiewe, inspirerende dade, kan jy verhoudings herstel en 
	jammer sê. Gebruik die tyd wat jy het – leef en maak 'n verskil. ~ Wilna 
	Botha, 05/09/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	
	Gehoorsaam Kyk, in die weermag is daar een ding waaraan jy voldoen, sonder teëpraat, en 
	dis om bevele te gehoorsaam, hetsy of jy daarmee saamstem of nie. En as jy 
	dit nie doen nie brul jy. Om bevele te gehoorsaam en opdragte uit te voer is 
	die kern van dissipline en selfdissipline. Soms is dit nie lekker nie, maar 
	as die mens versuim om dit te doen, moet hy sy pak vat soos 'n man.
 Spr 10:8 "Die mens met verstand aanvaar bevele. Wie aanhou onsin praat, kom 
	tot 'n val."
 Kort en kragtig, die mens met verstand aanvaar bevele. Punt. Ongelukkig woon 
	ons in 'n samelewing waar menseregte een van die grootste euwels denkbaar 
	geword het, en tot op die hoogste vlak van die leierskap van ons land word 
	dit totaal geminag. Mense het net eenvoudig nie meer respek vir reëls, 
	bevele en 'n waardestelsel nie.
 Hoe ongelooflik is die Bybel nie, want dit gee elke enkele riglyn wat die 
	mens nodig het om 'n sinvolle en mooi lewe te ly. Hoekom sien die mense die 
	Here as die "kwaai Omie daar bo" (dis godslasterlik) terwyl Hy net die beste 
	bedoelinge denkbaar vir ons het?
 Is die nie waar dat basiese waardes tot niet gaan, net omdat jy bykans geen 
	reëls meer op die mens kan afdruk nie. Die riglyne van die Bybel is nie 'n 
	klomp kwaai strafmaatreëls nie, dis riglyne vir 'n goeie lewe. 'n Lewe wat 
	nie net vir God behaag nie, maar ook die beste vir ons in gedagte het. Die 
	Wet is nie 'n stel wrede reëls nie, dis wonderlike riglyne vir 'n goeie lewe.
 Dus, as ons verwag dat ons kinders gehoorsaam moet wees aan ons reëls, moet 
	ons dieselfde doen deur die Bybelse reëls en riglyne na te volg, en ook die 
	land se reëls.
 Ons beste voorbeeld van gehoorsaamheid sien ons in Fil 2:8b "Hy was 
	gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis." ~ Willem Botha, 
	06/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “As die 
	stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd 
	staan.” (Spr. 10:25) Toe ek dié teks (en 'n klomp ander in Spreuke) lees, 
	het ek sommer net weer vir myself gevra: wie is die regverdiges waarvan die 
	Bybel praat, want ek wil seker wees ek is een van hulle, ek wil bly staan in 
	die wind, ek wil 'n anker hê in die lewenstorms, ek wil weet ek gaan 
	anderkant uitkom. Gen. 6:9  gee 'n definisie van iemand wat regverdig is as 
	dit van Noag praat: 'n onberispelike persoon wat naby aan God leef. Hy was 
	eintlik die enigste een wat onberispelik genoem word, al die ander het een 
	of ander sonde of fout gehad, net soos ons vandag. Die Engelse woord help 
	mens bietjie met die betekenis van regverdige  – dit verwys nie na “fair” 
	nie, maar na “righteous”. Iemand wat geregverdig is (lees Rom 8:30 in die 
	1953 Afrikaanse vertaling), is iemand wat in die regte verhouding met God 
	is, iemand wat deur Hom vrygespreek en vergewe is, iemand wat God persoonlik 
	ken, iemand wat homself Sy kind en volgeling noem, iemand wat deur geloof 
	lewe. Toe Jesus, dié sondelose een, dié regverdige een in ons plek gesterf 
	het, het Hy ons sonde op Hom geneem en in ruil Sy regverdigheid vir ons 
	gegee. En lees maar bietjie in Spreuke wat die regverdige as 'n geskenk van 
	God ontvang. Hier is 'n paar: 
 - Spr. 10:6 Die regverdige word geseën.
 - Spr. 10:16 Die regverdige ontvang die lewe as beloning.
 - Spr. 10:13 Die regverdige wankel nooit.
 - Spr. 11:8 Die regverdige word uit sy nood bevry.
 - Spr. 14:32 Die regverdige het 'n toevlug, ook in sy dood.
 - Spr. 18:10 Die Naam van die Here is 'n sterk vesting; die regverdige vind 
	daar skuiling.
 - Spr. 24:16 Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op. ~ Wilna 
	Botha, 07/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| Geweeg 
	en te lig gevind Ek lees vandag hierdie volgende teks in die Bybel raak.
 Spr 11:1 "Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weg nie, net die 
	regte gewig dra sy goedkeuring weg"
 Wel, die Here haat sekerlik nie die skaal nie, Hy haat wel dit wat die mens 
	doen om ander te benadeel deur verkeerd te "weeg". Ek onthou in die ou dae 
	die skaal wat in die winkel gebruik was - daar was 'n groot aluminium 
	skottel aan die een kant om meel of suiker of ander goedere in 
	te plaas om geweeg te word. Aan die ander kant van die skaal is die korrekte 
	gewig geplaas waarteen geweeg is. My een oom het destyds in die Kaap 'n 
	winkel gehad waar alles van die spreekwoordelike muistand tot 'n dooie 
	poliesman verkoop is. Agter in die winkel was groot streepsakke met 
	allerhande goed wat per gewig verkoop was, en daardie skaal het my vreeslik 
	gefassineer.
 Nou ja, 
	die skelm handelaar het met daardie teengewigte gepeuter om jou te verneuk.
 Daar is natuurlik baie in hierdie vergelyking in Spreuke vasgevang en van 
	toepassing in vandag se lewe. Ek dink dit kan nogal goed toegepas word in 
	die ure wat ons daagliks aan ons werkgewers "verkoop". Jy weet mos, pas by 
	die werk gekom dan gaan maak ons eers 'n draai op die stoep, daar waar almal 
	vars lug gaan insuie deur so 'n koddige wit strooitjie. En dan vertel ons 
	vir mekaar hoe pragtig Sannie in haar vreemde rokkie lyk, en hoeveel ons die 
	baas waardeer vir sy goeie behandeling en ruim salaris wat hy ons betaal. 
	Ons herhaal daai oefening sommer 'n paar keer 'n dag.
 In besigheid weeg ons gereeld verkeerd deur nie die waarde te lewer waarvoor 
	ons betaal word nie.
 Dis ook nogal waar in ons Geestelike lewens, waar ons ook die skaal bietjie 
	aanpas as ons God se opdragte uitvoer. Lewer so bietjie minder as dit wat Hy 
	verwag. Ek self is verskriklik skuldig hieraan en dis nie lekker om dit te 
	erken nie. Hierdie teks handel eintlik maar net oor totale eerlikheid, deur 
	presies te lewer wat ons sê ons gaan. Moeilik né? ~ Willem Botha, 08/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| Wanneer mens vir so 'n rukkie besig bly met Spreuke, 
	dan begin dit voel of dit 'n klomp reëls is, moets en moenies, voorskrifte 
	wat sê maak seker jy doen dit en dat en vermy 'n groot klomp ander dinge. In 
	Spreuke 11:20 is daar een van die redes hoekom ons gerus maar hierdie 
	lewensreëls ter harte moet neem; dit sê: “Die Here hou van mense wat 
	onberispelik lewe” en vers 27: “Wie reg leef, verheerlik God.” As volgelinge 
	van die Here behoort dit een van ons diep begeertes te wees om Hom te behaag, 
	om Sy Woord ernstig op te neem en sy voorskrifte in ons daaglikse lewe toe 
	te pas. Dit behoort ons strewe te wees om seker te maak ons gedagtes is 
	suiwer, ons woorde vol lof teenoor Hom en ons dade 'n uitdra van Sy liefde 
	teenoor ander. Dit gaan boonop die lewe vir jou makliker en aangenamer maak 
	as jy weet wat die regte ding is om te doen en jy dóén dit. Dit gaan jou 
	verhoudings baat, jou sosiale vaardighede gee, jou help in jou werkslewe en 
	jou finansies. Luister na die Spreuke en jy gaan die kuns van die lewe ken! 
	~ Wilna Botha, 11/09/2016 |  
					| 
 |  
					| 'n 
	Goeie huishouding Spr. 11: 29 "Wie sy huishouding verwaarloos, sal naderhand net wind oor hê..."
 Ek dink vroulief gaan nou vir die manne sê hoe hulle moet skottelgoed was en 
	Saterdae daai ongemaklike lysies sonder teëpraat wegwerk. Daai takies wat hy 
	so uitstel dat hy naderhand vir haar sê "jy hoef my darem nie elke ses 
	maande te herinner nie...".
 Hierdie kan seker deel van die bedoeling van hierdie teks uitmaak, maar dit 
	gaan veel verder as dit. 'n Klompie jare gelede 
	was ons in verskeie bedieninge betrokke wat my dikwels van die huis af 
	weggeneem het in die aande, en ek het net een dag besef dat jy selfs met 
	Geestelike werk jou huishouding kan afskeep. Die beginsel van "almal in 'n 
	bediening", beteken nie "sommiges in al die bedieninge" nie. Jou huis is tog 
	ook 'n bedieningsveld en deel van die huishouding wat nie verwaarloos moet 
	word nie.
 Om tyd saam 
	met jou gesin te spandeer, is deel van die instandhouding van 'n goeie 
	huishouding, so ook tyd vir jouself om van stres ontslae te raak, maar dan 
	ook tyd saam met die Here, om daai Geestelike waarhede terug te ploeg in die 
	huis in. Dis 'n groot seën om 'n huislike atmosfeer te beleef wat aangenaam 
	is om in te woon. ~ Willem Botha, 12/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| Spreuke praat baie oor ons woorde, die betroubaarheid 
	en die krag daarvan. Hier in Spreuke 12 is 'n hele paar van dié 
	woorde-spreuke. Lees bv. vers 6, 14, 18 en 25.  Vers 17, 19 en 22 het iets 
	te sê oor die egtheid van ons woorde, oor die gevaar van leuens en die 
	belangrikheid van die waarheid. “Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie 
	... Leuentaal is waardeloos.” (Spr. 12:19, Die Boodskap) Die Here haat 
	liegstories en mense ook. Dis mos nie lekker as jy uitvind iemand het vir 
	jou gejok nie, so hoekom jok ons dan vir mense? Dink mooi voor jy die 
	waarheid verdraai, daai witleuentjie vertel of sommer net blatant lieg – dit 
	gaan nou-nou boemerang en jou in die sop laat beland. Wyse mense bring 
	genesing met wat hulle sê, hulle positiewe woorde is soos salf vir mense wat 
	pyn en hartseer beleef, hulle vriendelike woorde bemoedig mense en bring vir 
	hulle hoop, dit vrolik die teneergedruktes op en dáárby kan wyse woorde 
	mense se lewens red omdat dit hulle op die regte pad kan help en by die Here 
	kan uitbring. Weeg jou woorde ... dit kan dolksteke of salf wees. ~ Wilna 
	Botha, 13/09/2016 |  
					| 
 |  
					| A quick 
	buck Spr. 13:11 "Rykdom wat sommerso gekom het, verminder maklik; wie bietjie vir 
	bietjie bymekaarmaak, word ryk."
 Ek is seker dat jy (nes ek en elke mens op aarde) begeer om vinnig 'n 
	miljoen of twee te maak, sonder om daarvoor te werk. Maar o wee, hierdie 
	teks in Spreuke is so skrikwekkend waar en niemand wil daarop ag slaan nie, 
	al sien ons elke dag rondom ons die verskrikking van hierdie stukkie 
	waarheid. Ek is ook doodseker dat jy, nes ek, mense persoonlik ken wat 
	hulle swaarverdiende pensioen of spaargeld vir iemand gaan gee het om dit 
	teen 'n enorme "opbrengs" te gaan belê, net om alles te verloor. Wel, die 
	geld is belê, in die skurk se sak! Maar wie moet blameer word?
 Wel, solank as wat mense met handsakke en skootrekenaars op hulle sitplekke 
	rondry, sal daar mense wees wat dit "smash and grab". En solank mense vir 
	bedelaars by die robot geld gee, sal daar bedelaars by die robot wees. En 
	solank mense so gulsig is na vinnige geld, sal daar "finansiële kenners" 
	wees wat daardie geld vat. Jy sien, dis ons self wat hierdie goor praktyke 
	aan die lewe hou, en dis gewoonlik omdat ons soveel waarskuwings in die 
	Bybel verontagsaam.
 "Eendag is eendag..." Ja jy ken die Lotto advertensie wat vir jou vertel dat 
	jy maar net moet aanhou om jou randjies vir die verkeerde mense te skenk, 
	dan gaan jy iets terugkry. Volgens die Lotto webblad is jou kans een uit 14 
	miljoen om te wen, want dis hoeveel kombinasies daar is. Nou is die som 
	maklik. Indien jy dus dieselfde kombinasie elke enkele dag van die week 
	speel, behoort jy die lotto iewers binne die volgende 39 325 jaar te wen. En 
	dit sal jou R49 miljoen kos, om dalk R1 miljoen te wen.
 Ai, hoekom slaan ons nie maar ag op die Here se voorskrifte nie? Hoeveel 
	verhoudinge is nie tot niet oor gevegte oor erfporsies nie? Hoeveel mense 
	het nie naderhand in misdaad verval oor daai drang na vinnige geld nie? 
	Hoeveel huwelike is nie tot niet oor die spandabelrigheid van een (of albei) 
	van die partye nie?
 Nee wat, hierdie teks sê jy moet maar bietjie vir bietjie bymekaarmaak, deur 
	harde werk. Daarteen het die Bybel niks. ~ Willem Botha, 14/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Die Here se liefde is soos 'n borrelende fontein. Dit 
	maak van jou 'n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning.” (Spreuke 
	14:27, Die Boodskap) Ken jy daai borrelende, bruisende gevoel van die Here 
	se liefde in jou hart? Daai gevoel wat jou nie net hoendervleis gee nie,  wat 
	nie net 'n emosionele ervaring is nie, maar wat ook jou verstand oorneem en 
	jou rustig en tevrede maak, wat jou laat glo dat Hý waarlik God is, dat Hy 
	jou sy kind gemaak het, dat Hy in beheer is. As die Here se liefde soos 'n 
	fontein in jou opborrel, gaan jy nie kan keer dat dit oorborrel nie. Dit 
	gaan van jou 'n sprankelende mens maak wat ook liefde na jou naaste sal laat 
	uitvloei. Met Sy fontein van liefde in jou hart, gaan jy weet Hy is aan jou 
	kant, gaan jy weet Hy sal jou nie alleen los nie, gaan jou angs, spanning en 
	bekommernis vervang word met vrede en rus. Ek hoop die waarheid van hierdie 
	teks sit vandag 'n huppel in jou stap. ~ Wilna Botha, 15/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Kort 
	van draad Ai, kom ek steek gou 'n prekie vir myself af. Ongeduld bring jou nêrens nie. 
	Ek is nie trots op my gedrag as ek alleen is en geïrriteerd raak met iets 
	nie, en boonop so paar knope los.
 Spr 14:29 “'n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, 
	stel sy dwaasheid ten toon.”
 Ek weet dat vroulief onmiddellik vir my bid vir 
	rustigheid as dit gebeur en dit lyk my daardie gebede werk nogal! Dis egter 
	een ding as dit gebeur as jy by jouself is, maar 
	as jy dit voor ander doen, of jou frustrasie op ander uithaal, wys dit 
	eintlik maar net hoe dwaas jy is.
 Was jy ook al in iemand se geselskap tydens 'n 
	uiteet uitstappie en die persoon raak ongeskik met die kelner? Dit plaas 
	mens in 'n ongelooflike ongemaklike situasie. En nie eers te praat van 
	padwoede nie.
 Ek dink Jesus het 'n geweldige sagte gees gehad 
	en mens sien dit raak as jy lees in die Evangelies waar Hy aan die woord 
	was. Ek glo hy het selfs die Fariseërs berispe op 'n kalm en bedaarde manier 
	en dikwels met 'n glimlag. Ek glo ook dat Hy selfs tydens ons eie 
	uitbarstings met deernis na ons kyk en sê: Rustig vriend, die lewe is te 
	kort vir hierdie gedrag.
 Daardie truuk wat sê jy moet tot 10 tel voor jy 
	negatief reageer werk goed. Miskien moet ek iets byvoeg by my eie tien 
	tellings, nl om net te bid “Here, help my om net vir 'n oomblik kalm te raak.” 
	~ Willem Botha, 18/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Kalmte 
	en vrede is baie goed vir jou gesondheid.” (Spr. 14:30, Die Boodskap) Ek 
	geniet dit só om te sien hoe akkuraat en prakties al die gesegdes in Spreuke 
	is. Kyk nou maar dié ene. Ons weet almal dat stres, negatiwiteit, 
	bekommernis en onvrede allerlei skete soos maagsere, hoofpyne, stywe nek en 
	selfs tandpyn (ja, tandpyn want jy kners!) kan veroorsaak, dat argumente en 
	wedywering jou bloeddruk kan laat styg en jou hart ongesond vinniger kan 
	laat klop. Om nie eens te praat van grys hare, frons-plooie en voortydige 
	veroudering nie.  Kalmte en vrede is wat ons moet najaag, ons moet soek na 
	rustigheid – nie net uiterlik nie, nee, veral aan ons binnekant. 1 Pet. 3:4 
	noem dit “kalmte van gees.” As ons hierdie kalmte en vrede aan ons binnekant 
	dra, sal dit ons ook sag en vriendelik laat optree, met deernis en empatie, 
	met groter geduld en verdraagsaamheid. Ek weet die lewe is vinnig en vol 
	druk en spanning, so hoe gaan ons daai kalmte en vrede kry? Ek dink ons moet 
	doelbewus stop, stilhou en die Here laat werk. Hy sê: “Bedaar en erken dat 
	Ek God is....” (Ps. 46:11), “Kom 
	na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” 
	(Matt. 11:28) . Dan 
	kan jy mos  jou bekommernisse op Hom afskuif, dan kan jy jou sorge vir Hom 
	gee – in ruil sal jy Sy vrede ontvang wat alle verstand te bowe gaan. Hy wíl 
	hê dat ons gesond moet wees, dat ons nie moet knak onder al die druk en eise 
	van die lewe nie, daarom sal Hy uiteindelik alles tot ons beswil laat 
	uitwerk. Vertrou Hom daarvoor. ~ Wilna Botha, 19/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Die 
	Here sien oral... Spr 15:3 "Die Here sien oral; Hy hou slegte en goeie mense dop."
 Hierdie teks het my dadelik aangegryp toe ek hom raaklees. Sjoe, aan die een 
	kant is dit skrikwekkend vir jou en my, want dit sê vir ons as Christene dat 
	ons nie maar net kan maak wat ons wil nie want die Here sien letterlik oral, 
	alles en ja ook as ons stoksielalleen is.
 Maar dis nie net ons wat so fyn "dopgehou" word nie, ook die "slegte mense" 
	word dopgehou, al dink die goddelose 
	dat daar nie 'n God is nie en hulle kan doen wat hulle wil. Wel, al glo 
	hulle dit nie, kom nie net die genade wat hulle ontvang steeds uit God se 
	hand nie, maar ook die nagevolge van verkeerde dinge kom uit God se hand.
 Hierdie teks is egter nie net negatief nie, want die Here hou ons ook dop as 
	Hy ons teen gevare beskerm, Hy weer elke enkele dag slegte goed van ons af, 
	en Hy gee ook elke dag vir ons leiding en ons weet dit gewoonlik nie eers 
	nie.
 Ek hou sommer baie van die idee dat God my elke dag dophou want dit stel my 
	gerus dat Sy oog op my is. ~ Willem Botha, 20/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “.. Hy hoor die gebed van die regverdiges.” (Spreuke 
	15:29) As Sy kinders bid, hoor die Here! En Hy hoor nie net nie, Hy luister 
	en Hy antwoord. Hierdie teks klink baie soos die een in Jak 5:16 wat sê: 
	“Die gebed van die gelowige het 'n kragtige uitwerking.” Of daai gebed nou 
	'n stille versugting is, of dit 'n sagte geprewel is, of dit in pragtige 
	woorde geuiter word, of dit met trane gepaard gaan, of met krete van 
	dankbaarheid die Here hoor dit! “Die Here sal julle help as Hy hoor julle 
	roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat 
	Hy dit hoor.” (Jes. 30:19, Die Boodskap) Het jy ook al gedink dis nutteloos 
	om te bid, of gevoel jou gebede kom nie by God uit nie? Bid weer! Hy hoor! ~ 
	Wilna Botha, 21/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Mentors Spr 15:22 "Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie; dit slaag 
	wanneer daar baie raadgewers is."
 Goeie raadgewers is onontbeerlik vir ons in die lewe, en ek maak graag vir 
	my mentors bymekaar. Geestelike mentors, besigheids mentors en ook 
	lewensmentors, en almal is verseker nie ouer as ek nie, maar eerder wyser as 
	ek. Dis vir my baie leersaam as ek sien hoe ander mense dinge doen, en ook 
	hoor wat hulle glo.
 Dis verstommend dat mense deesdae sommer eensklaps 
	nuwe gelofies aanhang. Dinge wat kwansuis aan hulle openbaar is en wat dan 
	boonop saamgaan met tekste uit die Bybel, wat al wat 'n Christen is nog al 
	die jare misgekyk het. Jy sal merk dat dit gewoonlik kom van mense wat jonk 
	in hulle geloofslewe is, en boonop nogal voortvarend in hulle beoefening van 
	hulle geloof is. Daar is nie noodwendig altyd iets daarmee verkeerd nie, 
	maar dis waar ek graag by my mentors gaan aanklop, by mense wat die pad al 
	lank stap, baie naby aan die Here leef en wat goeie lewenservaring het.
 Daar is mense vir wie ek al gesê het dat hulle versigtig moet wees wat hulle 
	sê want ek glo alles wat hulle uitspreek. Dís 'n ware mentor en wie vir mens 
	goeie, sinvolle raad kan gee. Ek glo nie sommer goedsmoeds wat elke Jan Rap 
	en sy maat kwytraak nie, dis eers as my raadgewers vir my insig gee in 'n 
	saak, wat ek dit my eie maak. ~ Willem Botha, 22/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| Die nuwe week lê voor en ons beplan en reël en 
	skeduleer alles wat gedoen moet word. Ons is mos baie tevrede met onsself as 
	ons in beheer van ons dagboeke is. Ons is vies as onvoorsiene omstandighede 
	ons planne kom deurmekaarkrap en dinge nie uitwerk soos ons dit voorsien het 
	nie. Daar is 'n uitdrukking wat sê: “Life is 
	what happens 
	while you 
	are busy making 
	other plans.” Ek besef maar net weer dat ek in my beplanning moet rekening  hou 
	daarmee dat die Here die laaste sê sal hê oor die uitkoms en sukses daarvan. 
	Ek wil Hom meer raadpleeg oor my skedules 
	en my planne aan Hom opdra en Sy seën daaroor vra. Ek wil minder op my eie 
	program fokus en meer op wat die Here vir my beplan. Spreuke 16 praat drie 
	maal hieroor. “'n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit 
	suksesvol sal wees of nie.” (Spr. 16:1); “Ken die Here in alles wat jy wil 
	doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer.” (Spr. 16:3); “Elke mens 
	beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af.” (Spr. 16:9) Die Here ís in 
	beheer, vertrou jou lewe en jou planne aan Hom toe.  ~ Wilna Botha, 
	25/09/2016 |  
					| 
 |  
					| 
	Ou Skollie Ons sien nou die dag die fliek : "Noem my Skollie." 'n Skitterende plaaslike 
	fliek wat ongelooflik goed gemaak is, en wat op 'n eerlike en harde manier 
	die bendegeweld op die Kaapse vlakte uitbeeld. Die fliek het vir my 'n nuwe 
	blik gegee op die lewenswyse daar en die probleme wat met bende bedrywighede 
	gepaard gaan en ek het ook verstaan hoekom kinders daarin betrokke raak. 
	Hulle word groot in haglike omstandighede waar die pa in hierdie wêreld van 
	dwelms betrokke is om kos op die tafel te hou, en dan sit die kinders 
	hierdie lewe maar net voort, met tragiese gevolge. 'n Lewenswyses wat 
	letterlik lei tot die dood.
 
	Kyk wat staan in Spr. 16:25 
	"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde 
	daarvan is die dood." 
	Hierdie voorbeeld van 
	Skollie spreek eintlik vanself, maar daar is so baie mense wat in een of 
	ander lewenswyse vasgevang is wat dalk nie lei tot fisiese dood nie, maar 
	dalk emosionele dood, of Geestelike dood. Dis wanneer die mens stadig maar 
	seker ingetrek word in verkeerde dinge, of dalk 'n huwelik wat stadig maar 
	seker sterf, of selfs verhoudinge met geliefdes wat lei tot die "dood" van 
	verhoudinge. 
	Ek het ook al gesien hoe 
	mense besigheid op die verkeerde manier doen, maar in die proses vernietig 
	hulle nie net hulleself nie, maar ook mense om hulle. Die ergste is dat dit 
	soms diep gelowige mense is wat so perspektief verloor, en steeds glo dat 
	die Here hierdie lewenswyse moet seën. Ek wil vandag weer kyk na my eie lewe en dit meet aan die Woord van God, 
	waar al die antwoorde opgeskryf is. Ek wil kyk na eerlikheid in my besigheid, 
	na my verhoudinge in my gesin en ook met my medemens. Mag die Here my 
	hiermee help.
 Skollie het op 'n stadium weggedraai van hierdie lewe af en sy lewe is 
	letterlik gered, terwyl sy maats op die galg gesterf het. Die fliek is 
	gebaseer op 'n ware verhaal. ~ Willem Botha, 26/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Silwer word in 'n smeltkroes 
	gelouter en goud in 'n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.” 
	(Spr. 17:3) Daar is allerlei toetse wat oor ons pad kom – toetse vir ons 
	geloof, toetse vir ons geduld, toetse vir ons gehoorsaamheid, toetse vir ons 
	deursettingsvermoë, ens. Toe ek hierdie teks in Spreuke lees kon ek nie help 
	om te wonder of dit vandag nog só is dat die Here vir ons toetse gee, ons op 
	die proef stel, soos wat Hy met Abraham gemaak het toe Hy vir Isak moes 
	offer, soos wat Hy met die Israeliete in die woestyn gemaak het, of soos wat 
	Hy toegelaat het dat die duiwel Job se getrouheid aan die Here toets. Die 
	rede vir Sy toetse was om die volk nederig te maak, om te toets of hulle Hom 
	sal gehoorsaam al vra dit 'n prys, te toets of swaarkry hulle van Hom sal 
	laat vergeet, om vas te stel of Sy mense Hom lief het met hart en siel. 
	(lees gerus Deut. 8:2, 8:16, 13:3) Dis vir my moeilik om te oordeel watter 
	dinge sommer net gebeur en watter dinge werklik toetse van die Here af is. 
	Die oorsprong van die toets is eintlik minder belangrik as die uitkoms van 
	die toets. Die vraag in die eksamentyd van die lewe is: gaan ek 'n beter, 
	sterker mens anderkant uitkom, gaan ek groei in afhanklikheid van die Here, 
	gaan ek positiewe geloofstreë  gee, of gaan ek uitmekaarval en dalk selfs my 
	rug op die Here draai. Gaan die uiteinde wees dat daar meer van die vrug van 
	die Heilige Gees in my sigbaar sal wees, of gaan die uiteinde wees dat ek 
	net meer ongeduldig, hoogmoedig, selfgerig, haatdraend, geldgierig, ens. 
	gaan wees? “Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik 
	die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan 
	die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te 
	leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil.” (Jak 
	1:3-4, Die Boodskap)  ~ Wilna Botha, 27/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Die 
	Bybel is darem maar 'n boek vol ongelooflike wyshede en alles wat daarin 
	opgeteken is, word daagliks steeds korrek bewys. Die inhoud van die Bybel 
	weerstaan die toets van die tyd, selfs op mediese gebied. Spr 17:22 raak 'n ongelooflike stukkie waarheid aan as dit sê: " 'n Vrolike 
	mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput." Is dit nie So 
	waar nie? Ons weet dat stress en bekommernis een van die groot oorsake van 
	hartsiektes, beroertes en ander kwale is en deur 
	dit uit te skakel het jou liggaam 'n onmiddelike positiewe reaksie.
 Hierdie teks sê dieselfde, dit sê dat 'n vrolike gemoed 'n positiewe invloed 
	het op jou gesondheid. Ja, inderdaad is mense wat heeldag lag nie gewaarborg 
	om nooit siek te word nie, maar dit lyk tog vir my of vrolike mense net meer 
	immuun is teen ipekonders. Gaan kyk maar hoe gaan dit met mense wat altyd 
	lag en die positiewe in die lewe raaksien, jy hoor hulle net nie kla nie, en 
	boonop het hulle nog 'n goeie invloed op die mense om hulle se gesondheid.
 Dalk het jy ook al vir so iemand gesê: Sjoe, jy is darem maar 'n tonic. Wel, 
	dit is so, iemand wat jou opbeur is tog 'n duisend maal meer werd in jou 
	lewe as iemand wat jou afrem. Daarom, omring jouself met hierdie positiewe 
	mense en jou lewe sal ook baie meer aangenaam wees. 'n Klakous wat net die 
	sleg in alles sien moet maar verby hou, ek is nie lus om 'n pilletjie te 
	drink omdat iemand anders my gesondheid aantas nie. Dus, as jy af voel, kry 
	iets (of iemand) om jou op te beur en jou dag sal sommer baie beter verloop. 
	'n Vrolike mens is 'n gesonde mens... ~ Willem Botha, 28/09/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Hoflikheid bring 'n mens ver. 
	Respek vir ander maak jou gewild.” (Spr. 18:16) As mens hierdie teks lees, 
	kan jy dalk vir jouself sê: dis mos logies, algemene kennis, jou ma het dit 
	vir jou al van kleins af geleer. Dis mos sommer net plein goeie maniere. 
	Maar ai, kyk nou maar net hoe ongeduldig, selfverheffend, eiegeregtig kan 
	sommige van ons nie optree nie, veral as ons voel ons is te nagekom. Luister 
	maar met hoe min respek praat party mense met ondergeskiktes. Kyk net watter 
	aaklige kommentare mense op Facebook kan lewer. Jesus self het vir ons 'n 
	goue lewensreël gegee: Behandel ander mense soos julle self behandel wil 
	word. (Luk. 6:31) Wil jy gewild wees by mense (én by God)? Behandel álle 
	mense met respek, onthou jou maniere, wees beleefd, praat mooi en beskaafd 
	... En nou het ek lekker vir myself gepreek! ~ Wilna Botha, 29/09/2016 |  
					| 
 |  
					| Ek het 
	al baie gesê, as ek my lewe moet oorhê gaan ek standerd 5 uit die skool uit 
	en trou en kry klaar. Mits dit met my vroulief is! Ek dink ek het net te 
	veel tyd gemors aan onbenullighede soos skool, weermag en naskoolse 
	opleiding. Ja wel, dis natuurlik maar net my storietjie omdat vroulief my 
	beste maat, sielsgenoot, kollega in ons besigheid en kameraad is. En 
	natuurlik die ma van ons pragtige kinders. Kyk net hoe mooi som hierdie teks in Spr 18:22 dit op. "Wie 'n vrou kry, 
	vind geluk en geniet die goedheid van die Here ." Ai, hoe wonderlik is dit 
	nie as dit waar is in 'n huwelik nie!
 Ongelukkig is dit nie vir almal waar nie, maar 
	vir diegene wat ook op hierdie manier die huwelik ervaar is dit verseker so 
	dat die Here die huwelik ingestel het, en dat dit Sy bedoeling is dat 'n 
	huwelik so moet wees. Ek glo egter dat dit vir die meeste mense beskore is 
	wat hard daaraan werk.
 Paulus se siening is dat die huwelik nie vir 
	almal beskore is nie en ek sien dat dit so waar is, want liewer alleen deur 
	die lewe gaan as wat mense mekaar vernietig. Maar vir diegene wat hierdie 
	stukkie hemel op aarde beleef is dit die beste van die beste. Dus, as die 
	Here vir jou hierdie voorreg gegun het, sê gereeld vir Hom dankie en geniet 
	mekaar voluit.
 Vir die manne, so stukkie uit Willempie se 
	"huwelik101" :-
 * Sê elke dag vir haar dat jy lief is vir haar
 * Respekteer haar vir wie sy is
 * Sê elke dag vir haar dat sy mooi is, en jy 
	sal sien sy word net by die dag mooier
 * Moet NOOIT kwetsende woorde gebruik of haar 
	verkleineer nie
 * Doen vir haar lekker dingetjies (jip, gaan 
	shop maar soms saam)
 * Dank die Here elke dag vir haar. Dis immers 
	Sy geskenk aan jou. ~ Willem Botha, 02/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Moed laat mens sy lyding dra; as hy moed verloor het, 
	kan niemand hom dit weer gee nie,” aldus Spreuke 18:14. Skep moed vriend! 
	Volgens die HAT beteken “skep” om met ’n holding iets op te neem en oor te 
	bring (jy weet, soos met ’n lepel uit ’n pot). Dit impliseer daar moet iets 
	wees waarvan jy kan skep. Daar is baie mense wat moed verloor het en sonder 
	moed kan hulle nie die lewe in die oë kyk nie, kan hulle nie hulle probleme 
	en swaarkry dra nie. Hoe kan ons vir hulle sê: skep moed, vriend, as daar 
	niks is waarvan hy kan skep nie? As die pot leeg is, kan hy nie skep nie! ’n 
	Ander betekenis van skep is natuurlik om iets uit niks te vorm, om iets 
	voort te bring wat nie daar was nie (“create”/maak).Miskien moet ons die 
	moedeloses help om moed te skep ( te “create”) en die enigste manier is as 
	die Here dit vír hulle skep. Kom staan by die Here, kom skuil is sy skaduwee, 
	kom lê teen sy bors en Hy sal nuwe moed vir jou skep. “Ek maak die 
	moedeloses weer vol moed”; so sê die Here in Jer. 31:25. ~ Wilna Botha, 
	03/10/2016 |  
					| 
 |  
					| 'n 
	Goeie vriend ... is darem maar goud werd, of hoe? Ek is seker jy kan ook aan 'n paar 
	mense dink sonder wie jy nie kan klaarkom nie, al sien jy hulle nie eers 
	gereeld nie. Dawid en Jonathan was so aan mekaar verbind dat jy amper kan sê 
	dat hulle nader aan mekaar was as broers. In Spreuke is etlike tekste 
	daaroor en Salomo het so 'n vebintenis nogal belangrik geag.
 Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na 
	jou broer se huis toe as jy moeilikheid 
	het nie. 'n Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is." 
	Hierdie teks sê nie dat jou broer onbelangrik is nie, dit sê bloot dat 
	iemand naby aan jou dieselfde rol as jou broer kan speel.
 Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend." Hierdie teks is 
	'n toets vir ware vriendskap. Kan jy werklik jou eerlike mening vir 'n 
	vriend gee sonder om bang te wees dat die vriendskap skade sal lei, en 
	daarmee saam, kan jy dit hanteer as 'n vriend jou tereg wys as jy fouteer 
	het? Ek sukkel nogal hiermee, maar hierdie teks maak dit duidelik dat 
	vriende openlik en reguit met mekaar moet kan wees.
 Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat nader is 
	as 'n broer." My ma het altyd teen verkeerde maats gewaarsku, maar hierdie 
	teks praat van onderskeidingsvermoë .
 Spr 27 : 17 "Yster slyp yster, vriende vorm mekaar." Sjoe, hierdie is 'n 
	kosbare teks en sê so verskriklik baie 'n hierdie paar woorde. Hoef dit 
	verduidelik te word?
 Spr 27 : 6 "Op 'n vriend wat jou seermaak, kan jy reken, iemand wat jou haat, 
	is oordadig met sy soene." Hierdie teks vul die een hierbo oor eerlikheid 
	onder vriende mooi aan. Dit kom ook daarop neer dat ware vriendskap gepaard 
	sal gaan met opbouende konflik.
 Vriende is kosbaar, pas daardie verhoudinge mooi op. ~ Willem Botha, 
	04/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| Ek wonder nogal hoekom word humeur en vergewensgesind 
	in een asem genoem in Spr. 19:11? “''n Verstandige mens beteuel sy humeur en 
	stel sy eer daarin om vergewensgesind te wees.” As jy kan vergewe voor jy 
	kwaad word, sal dit nie nodig wees om jou humeur verloor nie. Dis eervol. 
	Dis beter. Dis verstandig. Dis eintlik vernederend om jou humeur te verloor 
	en te kere te gaan, arms te swaai, die deur hard toe te klap en lelike 
	woorde te skreeu en dan moet jy weer jouself nog verder verneder om te gaan 
	jammer sê. 'n Vriend sê nou die dag hy het in sy werkplek 'n reël ingestel: 
	daar is twee goed wat niemand mag verloor nie – hulle humeur en hulle humor. 
	Jy is slim en wys as jy jou humeur in toom kan hou, as jy tot 10 tel en nie 
	ontplof nie. Hoe kry mens dit reg? Wel, ek dink as mens in gedagte hou dat 
	dit is wat die Here van jou verwag, behoort dit makliker te kom; of as jy 
	miskien weer daaraan dink dat die Here óók luister na jou uitbarsting, sal 
	jy dalk volgende keer rustiger kan wees. Hoor hoe klink dié teks in die 
	Engelse vertaling: “If you are sensible, you will control your temper. When 
	someone wrongs you, it is a great virtue to ignore it.” Let’s do it! ~ Wilna 
	Botha, 05/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Planne 
	planne planne Jare gelede verloor ek my werk en ons besluit om 'n klein besigheid te 
	begin, maar o wee, toe die werklikheid inskop dat daar nie meer 'n salaris 
	is nie, is my "geloof" woerts warts by die agterdeur uit. Jy sien, die "Here 
	se versorging", gekombineer met standvastigheid voel lekker, maar wanneer 
	die standvastigheid verdwyn en net die geloof oorbly dat die Here sal 
	versorg, voel daai fondasie nie meer so stewig nie.
 Wel, planne moet ons maak en alles doen wat ons kan. Dis nodig, maar die 
	Here bepaal die uitkoms. Ek wonder egter nogal hoe my lewe sou wees as die 
	Here elke gebed wat ek gebid het sou verhoor. Dit sou 'n ramp wees! Goddank, 
	Hy weet beter en laat die beste vir ons gebeur, al is dit nie altyd die 
	lekkerste nie. Soms, (soos in my geval), vat dit jare om dit te besef.
 Dus: bid, vra, beplan, probeer en gaan vorentoe terwyl jy soms hard 
	neerslaan, maar weet dat die Here die uitkoms bepaal.
 Hierdie volgende woorde is 'n groot deel van my lewens uitkyk: Moenie dink 
	dat as dit nou goed gaan, dat dit altyd goed sal gaan nie. Maar meer nog, 
	moenie dink dat as dit nou sleg gaan, dat dit altyd sleg sal gaan nie. Die 
	Here bly in beheer.
 Spr 19:21 "Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas." ~ 
	Willem Botha, 06/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Iemand wat loop en skinder lap geheime uit ...” (Spr. 
	20:19) Dis nou net mooi die derde keer dat daar in Spreuke iets gesê word 
	oor skinder en nou sal ek ook iets móét sê. Ek wil nie eintlik nie, want ek 
	is self ook maar lekker skuldig daaraan. As iemand sê: het jy gehoor ..., 
	dan sit ek sommer vorentoe op my stoel en spits my ore, want hier kom nou 
	iets sappig, iets wat ek gou-gou weer kan gaan oorvertel en aanbied met my 
	eie gesigsuitdrukking, stemtoon en ander speserye en sousies. Kyk, Spr. 
	26:22 sê nie verniet: “'n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so 
	maklik” nie. Ai, as mens maar net kyk na die gevolge van 'n sappige ou 
	skinderstorie, die dolksteke wat dit kan inhou vir die arme een oor wie daar 
	geskinder word, die vernedering en vernietiging van sy reputasie, dan sal 
	ons twee maal dink en baie meer bid vir 'n wag voor ons mond. As jy in besit 
	is van iemand se geheim, doen die eerbare ding en hou die geheim, moenie dat 
	jou gepraat 'n  veldbrand  laat ontstaan nie. “Loose talk 
	has a way of getting picked up and spread around. Little birds drop the 
	crumbs of your gossip far and wide”. (Pred. 10:20, The Message) ~ Wilna 
	Botha, 10/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Mams 
	en paps Ek verlang deesdae nogal baie na my ouers, wat reeds lankal oorlede is . Ek 
	verlang spesifiek na my ma se stem, en die dinge wat sy altyd kwytgeraak 
	het, en na my pa se manier van dinge doen, want hy het vir my vreeslik baie 
	lewenswaarhede geleer sonder om veel te sê. Gelukkig het ek 'n goeie 
	verhouding met my ouers gehad, maar ek sien sulke lelike goed tussen ouers 
	en kinders gebeur. Die Here plaas so 'n groot klem op hierdie verhouding, 
	dat dit in die Wet opgeneem 
	is. Eer jou vader en jou moeder... Ek vind dit interessant dat daar nie ook 
	staan "Eer jou kinders" nie. My mening is maar net dat ouers baie deurloop 
	onder hulle kinders.
 Spr 20:20 "As jy jou vader en moeder vervloek, is jou lewe daarmee heen en 
	bly net die pikdonker oor." Ai, hoe sleg is dit nie. Op 'n mannekamp vertel 
	'n man my hoe sy seun hom vloek, terwyl hy die volwasse seun totaal onderhou 
	en vir hom selfs 'n motor gekoop het, wat hy ook onderhou. Hoe tragies is 
	dit nie. Maar dit gaan verder.
 Spr 19:26 " 'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot, is skaamteloos en 
	veragtelik." Het jy al gesien hoe kinders hulle ouers op hulle ou dag 
	verstoot? Hoe bejaardes onder hulle kinders se wrede tonge deurloop? Dis 
	inderdaad veragtelik. En voorts het ek al soveel gehoor hoe kinders hulle 
	ouers blameer vir hulle eie tekortkominge. Interessant dat soveel van 
	hierdie mense dan ook uiters slegte verhoudinge het met hulle eie kinders.
 Hoe wonderlik sou dit nie wees as ek my ouers net hierdie EEN aand by my kon 
	hê, en hoe dit sou wees om hulle nog net EEN keer weer te kon vashou, en net 
	weer EEN keer vir hulle te sê dat ek vir hulle lief is, want ek het dit te 
	min gedoen. Ek is voorts so ongelooflik dankbaar dat my kinders nie 
	aspirasies het om die land te verlaat nie, hoewel ek dit vir hulle 100% gun. 
	Ons het hulle by die dag meer en meer nodig in ons lewe, en hulle is vir ons 
	so 'n ongelooflike seën !
 Eer jou vader en jou moeder, as jy hulle nog het. En wees goeie ouers vir 
	jou kinders, as jy hulle nog by jou het. Jy sal nie glo hoe dit is as hulle 
	weg is nie.~ Willem Botha, 11/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Die Here gee aan die mense die lewe. Die Here sien 
	deur die hele mens.” (Spr. 20:27) Iemand het eendag vir my gesê: die Here 
	doen níks vir my nie. Sjoe, dis darem maar harde woorde van 'n verbitterde 
	persoon, iemand wat dink dat sy nie die Here nodig het nie of wat net die 
	Here wil misbruik vir eie gewin. En ek het gedink: wat van jou lewe en die 
	suurstof wat jy inasem? Dat ons lewe is 'n gawe van God af. Dit is Hý  wat 
	sy lewensasem in Adam ingeblaas het en dis Hý  wat sy lewensasem in ons 
	inblaas. Dis Hý wat ons gemaak het en ons kunstig en uniek en in die fynste 
	detail aanmekaar geweef het in die moederskoot, soos wat Ps. 139 sê. Omdat 
	Hy ons gemaak het, hou Hy in gedagte dat ons stof is, dat ons swak en nietig 
	is. Daarom het Hy medelye met ons, daarom ontferm Hy Hom oor ons, daarom 
	help Hy ons, daarom vergewe Hy ons keer op keer. Die Here sien deur die hele 
	mens, sê  die teks. Hy ken jou deur en deur, Hy het selfs die hare op jou 
	kop getel, daarom weet Hy sekerlik wat jy nodig het.  Die Here sorg vir die 
	hele liggaam (Ps. 34:21), geen been is vir Hom verborge nie, daarom weet Hy 
	sekerlik van elke pyn en skeet;  het Hy meegevoel daarmee en kan jou aanraak 
	en genees. Die Here sién jou, vriend. Ek hoop jy sién Hom ook raak in jou 
	lewe.  ~ Wilna Botha, 12/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Shame 
	Salomo Kyk man, Salomo was lief vir vrouens, maar of hy lief was vir sy vrouens 
	soos ek lief is vir my vrou, en of hy "lief was vir vrouens" sal ek nou nie 
	weet nie. Nietemin, hy is 700 keer kansel toe, en of dit nie genoeg was nie, 
	neem hy toe nog 300 byvroue vir homself net om seker te maak dat dit 'n mooi 
	ronde getal is. Maar ai, die arme man neem toe nie in ag dat daar 'n skoonma 
	saam met elkeen kom nie, gratis free en verniet. Shame!
 Anyway, soos wat hy toe nou sy harem geniet het (daar was blykbaar 'n 
	klompie bitter aanvallige dames), het hy saans in sy studeerkamer gaan sit 
	en vir hulle die mooiste goetertjies geskryf en dit toe vir ons in 'n mooi 
	bundel saamgevat. Dis later uitgegee as die boek Hooglied en dis steeds op 
	die winkelrakke. Lekker om te lees, baie romanties en soms effe stout. 
	Elkeen in 'n huwelik moet die boek aanskaf, daar is goeie raad daarin.
 Maar jong, wat toe op een goeie dag (of eerder slegte dag) gebeur het kan 
	ons net oor bespiegel. Ek vermoed maar dit het gegaan soos in elke huwelik 
	as vroulief 'n bietjie druk op manlief plaas, soos wanneer sy dingetjies 
	gedoen wil hê in en om die paleis, en dalk het hy ook maar vergeet (gebeur 
	immers met my ook). Nou ja, die storie loop dat een vroutjie 'n nuwe rakkie 
	in haar kamer soek, 'n ander nuwe gordyntjies, daar was 'n kraan wat gedrup 
	het in 'n ander se stort en nog een het gewag vir 'n lekker rug kielie. En 
	so aan en so aan... Man, maar 'n man het ook 'n net soveel tyd en hy het 
	seker gesê hulle hoef hom nou regtig nie elke ses maande te herinner nie, en 
	die klompie het onder mekaar begin murmereer. Die skoonmoeders klim toe ook 
	op die bandwagon, hulle roep toe 'n samekoms uit en daar sit die arme man se 
	turf. Net 'n getroude man sal weet hoe diep jy in die sop kan wees sonder 
	dat jy weet hoekom. Jy weet mos, jy vra: "Skattie wat is fout?", en sy sê 
	baie beslis: NIKS!!! Eish..
 Salomo het maar net daardie aand moedeloos in sy studeerkamer gaan sit en 
	geskryf:-
 Spr 21:9 "Liewer bo-op 'n dak woon as saam met 'n twisgierige vrou onder een 
	dak."
 Spr 21:19 "Liewer in 'n woestyn woon as by 'n twisgierige vrou wat aanhou 
	neul."
 Spr 27:15 "Die gedrup uit 'n dak wat lek op 'n reëndag, so is 'n vrou wat 
	aanhou kyf."
 Nou ja, ek weet nie of dit presies so gebeur het nie, maar so loop die 
	storie.. ~ Willem Botha, 13/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter. 
	'n Wyse bly ver weg van sulke dinge af.” (Spr. 22:5) Dit sou darem maar 
	lekker wees as mens nooit verkeerde keuses gemaak het nie, die vernedering 
	en pyn van  verkeerde besluite gespaar kon bly. Baie van ons het seker al 
	daai bitter uiteinde van 'n verkeerde optrede, verkeerde besluit geproe en 
	gewens jy het nooit geval vir daai versoeking nie, of gou genoeg omgedraai 
	op daai vernietigende pad. Die Bybel help ons in 1 Kor. 6:12 en 1 Kor. 10:23 
	met drie vrae wat jou kan help om keuses te maak, om te weet wanneer om ver 
	weg te bly van sekere paaie. Stop gereeld waarmee jy besig is en oordink dié 
	drie vrae: (1) is wat ek wil doen heilsaam (m.a.w. is dit goed vir my, sal dit my 
	gelukkig maak, is dit werklik nuttig?)
 (2) kan dit lei tot verslawing?
 (3) is dit werklik opbouend?
 As jou antwoorde ja, nee, ja is, kan jy met ‘n geruste hart daardie pad vat 
	en die Here sal jou seën! Indien nie, weet jy dis ‘n rooi lig en as jy nie 
	daarby stilhou nie, sal die uiteinde bitter wees. ~ Wilna Botha, 16/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| 'n 
	Slaaf van skuld Ek luister na 'n gesprek met Dave Pepler, die bekende natuurkenner wat al 
	verskeie programme op televisie en radio aangebied het. Hierdie man het 'n 
	kostelike manier van praat en ek het nogal baie agting vir die dinge wat hy 
	kwytraak. In een so gesprek op televisie sê hy dat hy bykans niks besit nie, 
	behalwe natuurlik 'n motor en 'n horlosie (sy woorde), en hy woon in 'n 
	skuur (ook sy beskrywing) met drie vertrekke. Voorts het hy gesê hy het vier 
	borde, vier 
	koppies en vier stelle eetgerei, en as een ding breek vervang hy dit. Hy het 
	hierdie gesprek afgesluit met "ek is vry".
 Sjoe, hoe lekker sal dit wees om te kan sê "ek is vry" van 'n skuldlas, en 
	nog meer, van 'n begeerte om mooi dinge soos van my vriende te besit. Dis 
	nogal intimiderend as ek kyk na mense se mooi motors (myne is al 13 jaar oud), 
	en hulle vakansiehuise en addisionele eiendomme. Toe lees ek hierdie teks in 
	Spreuke raak.
 Spr 22:7 "Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by 
	wie hy leen." Ek het spesifiek hierdie tweede gedeelte raakgesien, "... die 
	lener is die slaaf van die een by wie hy leen." Vir hoeveel jare is ek die 
	slaaf van die banke vir wie ek geld skuld, en wie weet hoeveel keer het ek 
	al my huis afbetaal, en ek betaal hom steeds af. Hoe lank het ek aan motors 
	afbetaal wat óf die hele dag in die son staan by die werk, óf die hele dag 
	in die motorhuis staan. Hoeveel mense stres hulle half dood oor die ekstra 
	eiendomme wat betaal moet word in die naam van "belegging", net om uit te 
	vind dat dit al die tyd net 'n enorme las was. Hoeveel mense verloor hulle 
	werk lank voor aftrede, kry nie ander werk nie en word finansieel geknak oor 
	daardie ekstra laste? Hoeveel mense begin met 'n klein onderneming met die 
	oog op finansiële vryheid, maar gaan skaf onmiddelik 'n duur motor aan, net 
	om deur daardie skuld die onderneming te verloor nog voordat hy aan die gang 
	kon kom?
 Die punt is, ja dis lekker om daardie besittings te koop as jy dit regtig 
	kan bekostig, maar as dit op skuld is raak jy onmiddelik die slaaf van 'n 
	ander, want dan moet jy nog harder werk om eers die skuld te betaal voor jy 
	jouself kan betaal.
 As ek my lewe sou oorhê , sou ek totaal minimalisties geleef het en steeds 
	net soveel lewenskwaliteit gehad het. Dalk nog baie meer! Wie se lewe sou ek 
	wou hê? Die mense met die baie besittings , of iemand soos Dave Peper wat 
	kan sê hy is totaal vry?
 Mense verskil, en sal verseker ook van my verskil oor hierdie stukkie, maar 
	mense leef hulle eie lewe met dit wat die lewe vir hulle die moeite werd 
	maak, maar ek sou graag ook "vry" wou wees. Dalk is ek op pad, hang net af 
	watse motor die buurman aanskaf... ~ Willem Botha, 17/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Wees 
	altyd ywerig om die Here te dien; dan sal jy 'n toekoms hê en jou hoop sal 
	jou nie ontneem word nie.” (Spr. 23:17-18) En daar gee Spreuke sommer ook 
	vir ons die belangrikste ding wat ons moet doen, dit waarvoor ons gemaak is, 
	dit wat sin, rigting en hoop in alle aspekte van jou lewe en bestaan kan 
	gee: wees ywerig om die Here te dien. Wat beteken dit om die Here te dien? 
	Dit is beslis nié 'n klomp leë, godsdienstige rituele nie. Om die Here te 
	dien beteken sekerlik in die eerste plek dat jy moet glo dat Hy bestaan, dat 
	jy glo dat Hy is wie Hy sê Hy is en dat jy glo ín Hom. Dit beteken dat jy 
	Hom lief het, eer, respekteer en aanbid. Dat jy Hom eerste stel in alles, 
	dat niks vir jou belangriker is nie. Dit beteken dat jy Hom gehoorsaam en 
	leef volgens sy woord. Dit alles moet jy met oorgawe doen, met jou hele 
	hart, siel en verstand. Die gevolg? Daar wag vir jou 'n ewige toekoms saam 
	met God. Daar is vir jou hoop. “...you 
	won't be left with an armload of nothing,” sê Spr. 23:18 in die Message 
	vertaling! “Moenie 
	vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat 
	die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe.” (Rom 12:11, Die Boodskap) ~ Wilna 
	Botha, 18/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Wonderlike kinders Spr 23:24 " 'n Vader van 'n kind wat reg doen, voel baie gelukkig; 'n wyse 
	seun verskaf sy vader groot vreugde."
 Sjoe, is hierdie nie ongelooflike waar woorde nie? Hierdie woorde is 
	natuurlik waar vir vaders en moeders, van seuns en dogters. Ek glo elke ouer 
	wroeg maar wanneer kinders deur hulle tienerjare stoei en ons almal hoop en 
	bid maar vir die beste.
 Ek het eendag gehoor dat iemand 'n kind se tienerjare vergelyk met iemand 
	wat in sogenaamde "white 
	water" deur woeste stroomversnellings meegesleur word. Soms is die kop bo en 
	soms is die boude bo, en die ouer hardloop langs die rivier af en wil 
	kort-kort inspring om hulle te red. Sy raad was egter die volgende: "Just 
	gently guide them through it, they will most probably grow up to be 
	wonderful, responsible young adults."
 Vir ons kinders het dit absoluut waar geword en ek dank die Here vir kinders 
	wat ons net verskriklik baie plesier gee. Hoe wonderlik is dit dat die 
	wysheid wat jy deur al die jare probeer inbou het, vrug afwerp. Dus, moenie 
	'n jongmens verdoem as hulle deur hulle storm en drang jare gaan nie, lei 
	hulle net kalm daardeur. Dis wonderlik om die vrug van daardie geduld te 
	pluk. ~ Willem Botha, 19/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Moet niks van slegte 
	mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie. 
	Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle sê verskriklike goed.” (Spr. 24:1) 
	Hierdie teks laat my dink aan Ps. 1 wat sê dat dit goed gaan met dié een wat 
	nie met sondaars omgaan en nie goddeloses se raad volg nie. Elders sê die 
	Bybel ook nog dat ons nie saam met ongelowiges in dieselfde juk moet trek 
	nie. Dit lyk vir my of ons ons moet distansieer van Godslasteraars, 
	dronkaards, skindertonge, boewe, boelies en korrupte skelms. Al daai slegte 
	dinge wat hulle doen en sê kan dalk op ons afvryf, hulle sonde kan dalk 
	“aansteek” en ons besmet.  Maar, as ons nie met hulle meng nie, hoe gaan ons 
	'n invloed op hulle uitoefen? Hoe gaan ons hulle wys en sê van Jesus se liefde en genade? Hoe gaan ons hulle kan help as ons nie in hulle kring 
	inbeweeg nie? Jesus sê ons is die sout vir die aarde. Maar hoe kan ons smaak 
	gee aan die wêreld as ons sout in die soutpot bly? Jesus sê ons is die lig 
	vir wêreld. Maar hoe gaan ons skyn as die lig onder 'n emmer neergesit word? 
	 Nee, dit lyk vir my ons moet ons maar begeef tussen die “slegtes”, maar 
	sonder om soos hulle te word, sonder om ons eie waardes en gewoontes prys te 
	gee.  Hier is wat ons moet doen: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en 
	opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte 
	mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld.” (Fil. 2:15) ~ Wilna 
	Botha, 20/10/2016 |  
					| 
 |  
					| “'n Gelowige staan elke keer na 'n terugslag weer op. 
	Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om 
	weer van vooraf te begin nie.” (Spr. 24:16) Om die Here se kind te wees is 
	nie jou vrywaring dat daar nooit terugslae, probleme en krisisse oor jou pad 
	sal kom nie. Om die Here se kind te wees is egter jou versekering dat jy wel 
	déúr die swaar tye sal kom, weer sal opstaan en weer sal aangaan; dat jy 
	moed sal hê om selfs weer van voor af begin. Hoekom is dit so? Omdat jy weet 
	die Here los jou nie alleen nie, omdat jy ervaar Hy gee jou krag, omdat jy 
	voel die Here dra jou deur en lig jou op, omdat jy verder kyk as die hier en 
	nou en jou oog hou op dit wat ewige waarde het. Miskien is jy op die oomblik 
	platgeslaan, weet dan dat jy nié deur God verlaat is nie, dat jy nié 
	vernietig sal word nie. Hou moed. Jy sal dit oorleef. Jy sal weer kan 
	aangaan. This too shall pass! “Ons bietjie swaarkry hier en nou weeg nie op 
	teen al die goeie dinge wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Ons staar 
	ons glad nie blind op alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al 
	ons probleme en teenslae verby. “ (2 Kor. 4:17) ~ Wilna Botha, 23/10/2016 |  
					| 
 |  
					| As jou 
	vyand val Toe ek in die weermag was, was daar 'n sersant wat deur sy troepe gehaat en 
	eintlik verafsku was oor die tipe mens wat hy was, en wat hy aan hulle 
	gedoen het. Hy is egter een naweek in 'n motorfiets ongeluk oorlede en die 
	mense het uit volle bors gejuig oor sy dood. Die ouens se woorde was "ons 
	kan nie wag om vir hom te gaan slow-march nie". Op 'n militêre begrafnis het 
	jy stadig marsjeer uit eerbied vir die afgestorwene en dit is slow-march 
	genoem. Dis skokkend, 
	want die persoon was nie hulle vyand nie, hy het aan dieselfde kant geveg.
 Net so het ek myself al heimlik verheug oor 'n besigheidsman se val wat 
	oneerlik te werk gegaan het en mense ingedoen het. My gevoel is, as jy mense 
	verneuk behoort jy nie in die besigheid wêreld nie. Wel, ek is nie trots 
	hierop nie, want ek wonder of ek self altyd heeltemal eerlik te werk gaan in 
	alles wat ek doen. Nou lees ek die volgende in Spreuke.
 Spr 24:17 "Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie, moenie juig 
	wanneer hy ondergaan nie."
 Toe ek hierdie lees het ek half gewonder hoekom dit so duidelik uitgespel 
	word en ek het dit nie verstaan neie, want wat moet my gesindheid dan wees? 
	Wel, die verse wat daarop volg stel dit duidelik dat dit niks met ons te 
	doen het nie, dis 'n saak tussen daardie persoon en die Here. Hy sal nie 
	slaag in sy verkeerde dade nie, hy sal nie seën beleef nie en hy sal nie 
	vreugde hê nie. Die wêreld is maar 'n verdorwe plek en mense bly maar mense.
 Maar nou ja, nou gaan ek iets skryf wat ek op hierdie oomblik glad nie lus 
	is om te skryf nie, maar ek gaan dit doen, want dit is wat die Here van ons 
	verwag.
 Romeine 12 :20-21 “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy 
	dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom 
	vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar 
	oorwin die kwaad deur die goeie." ~ Willem Botha, 24/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “'n 
	Seer tand, 'n voet wat meegee, so is dit om in gevaar staat te maak op 'n 
	onbetroubare mens.” (Spr. 25:19 ) Dit is verseker so dat mense jou een of 
	ander tyd sal teleurstel. Mense is menslik. Mense maak foute. Mense is 
	feilbaar. Dikwels dink mens iemand is betroubaar, dan word ons erg 
	teleurgestel wanneer hulle nie dáár is as ons hulle nodig het nie, wanneer 
	hulle nie hulle woord hou nie, wanneer hulle nie opdaag as ons 'n krisis het 
	nie, wanneer hulle pleinweg selfsugtig is en altyd hulle eie belange eerste 
	stel. Nou ja, Spreuke sê dis soos op 'n vrot tand of 'n seer voet – jy kan 
	nie op hulle staatmaak nie. Die Bybel sê verder ook: “Moenie 
	op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is 
	min werd.” (Jes. 2:22) en “Moenie 
	op magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem 
	verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen” (Ps. 146:3-4) 
	Maar tog, het ons mense nodig, nie waar nie? Ons moet maar die kans vat en 
	op ons vriende en kolegas en familie staatmaak, maar wees realisties en 
	onthou dat dit moontlik is dat dinge nie kan uitwerk soos jy gehoop het nie. 
	En ons  - hoe betroubaar is ons? Is ons 'n seer tand en 'n swak voet vir ons 
	mense? Kom ons sorg dat ons 
	betroubaar is – in groot en 
	in klein dingetjies. Laat jou ja ja wees en jou nee nee. Doen wat jy beloof. 
	Help as jy gesê het jy gaan . Bid as jy gesê het jy gaan. As iemand op jou 
	staatmaak, sorg dat jy beskikbaar is; wees 'n pilaar in die storm, 'n lig in 
	die donker. Maak só 'n verskil. ~ Wilna Botha, 25/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Dwase se woorde Dis verstommend hoeveel opinies mense van ander deesdae hoor, wat regtig 
	geen waarde het nie. Wat my egter meer verstom, is die dinge wat mense 
	deesdae glo en deel op sosiale media, wat net eenvoudig totaal betekenisloos 
	is. Hoeveel goed lees jy wat sê dat jy voorspoed en seën sal ontvang as jy 
	die goed "like" en "share en amen". Dit gaan my verstand te bowe.
 Spr. 26:9 " 'n Doring in 'n dronk man se hand, so is 'n spreuk in die mond 
	van 'n dwaas." Ons lees in Spreuke dat Salomo pertinent noem dat die spreuke 
	wat opgeteken is, is woorde van wysheid wat vir ander betekenis moet hê , 
	maar daar is soveel van hierdie "dorings" waarvan Salomo praat, maar mense 
	besef dit nie.
 Mense word so meegesleur deur hierdie selfaangestelde "profete" se woorde 
	wat na bewering die Woord van die Here verkondig, maar dit moet baie goed 
	oordink en ondersoek word. Voordat jy blindelings glo wat mense sê, vra eers 
	die vraag: Sê wie? Miskien kan ons ook 'n spreuk met 'n aanhaling vergelyk, 
	en daarvan kom daar daagliks vreeslik baie op sosiale media voor saam met 
	een of ander prentjie , en dan loop dit soos 'n veldbrand want dit klink so 
	mooi, maar dit beteken gewoonlik nie veel nie.
 Nee, daar is 'n beter manier, deel eerder iets wat 
	die Here direk vir jou gesê het uit die Bybel, of onder gebed, of op 'n tyd 
	toe jy stilgeraak het, dit het waarde want dis 'n eerstehandse getuienis. 
	Dis 'n waardevolle "spreuk".
 Sosiale media is besig om van ons "puppets" te maak wat net agter ander kan 
	saampiep en ons verloor eintlik 'n stukkie van ons eie kosbare getuienis. Ek 
	is ten gunste van goeie mentors na wie ek nogal graag luister en wie se 
	menings my Geestelik vorm. Hulle "spreuke" beteken baie, maar daardie "doring 
	in 'n dronk man se hand" kan nogal gevaarlik wees. ~ Willem Botha, 
	26/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Laat dit aan ander oor om jou te prys, moet dit nie 
	self doen nie; laat dit uit 'n ander se mond kom, nie uit joune nie.” (Spr. 
	27:2) Moenie jou eie beuel blaas nie, so sê die spreekwoord mos. Was jy ook 
	al in geselskap waar die ander een net oor homself praat, oor wat hy het, 
	waar hy al oral was, wat hy al alles bereik het? Of nog erger: wat hy alles 
	vir armes doen, op hoeveel uitreike hy al was, hoeveel gebedsgroepe hy 
	bywoon of waarby hy alles in die kerk betrokke is. Baie keer word daai beuel 
	so subtiel geblaas ... die probleem van 'n beuel is, dit maak 'n groot 
	lawaai en kan nie sag geblaas word nie. Hierdie beuelblasery gaan gewoonlik 
	gepaard met selfsug, eiegeregtigheid, beterweterigheid en hoogmoed. Dis mos 
	dinge wat teenoor die vrug van die Gees staan. Dis mos dinge wat, volgens 
	die Bybel, nie pas in die Christen-prentjie nie. As jy werklik goed presteer, 
	gaan dit nie nodig wees om dit uit te basuin nie, mense sal dit weet. As jy 
	werklik lof verdien, gaan jy nie nodig hê om eer by mense te soek nie. En as 
	niemand jou prys of bedank vir wat jy gedoen of bereik het nie, weet 
	verseker dat die Here dit sien en dat Hý  jou daarvoor sal eer en beloon. 
	(Lees maar weer Matt. 6:1-4) ~Wilna Botha, 27/10/2016 |  
					| 
 |  
					| Bederf Spr 27:7 "As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as 
	jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet."
 Sjoe kyk hiervan kan ek getuig. Ek staan in die winkel en wil lekkergoed 
	koop, maar net niks lyk lekker nie. Hoekom op aarde is daar so baie keuses? 
	As daar net twee was om van te kies was dit makliker. Maar toe ek destyds 
	drie dae in die weermag was en SO gesmag het na ietsie lekker, bied 'n 
	vriend gewone droë koekies vir my aan en dit was die lekkerste 
	goed op aarde. So lekker dat ek dit 39 jaar later steeds onthou.
 Dit laat my dink aan Adam en Eva wat SOVEEL pragtige vrugtebome gehad het om 
	van te kies, maar daardie een enkele boom wat buite perke was, was net een 
	te veel. Hulle het gereageer op die hier en nou, en nie dit wat 
	ewigheidswaarde gehad het nie. Die "heuning" waaraan hulle gewoond was, was 
	net nie meer genoeg nie.
 Ek dink ons het dieselfde probleem, ons honger nie meer genoeg na die beste 
	van die beste nie want ons raak so bederf met sinnelose dinge in die 
	Geestelike wêreld. Ons mis daardie intimiteit met God omdat daar te veel "geestelike 
	lekkergoed" beskikbaar is.
 Ek gebruik die woord "ons", maar dit moet eintlik wees "ek". Dis vreeslik 
	hoe afgestomp ek kan raak en hoe krities ek raak teen alles wat net nie meer 
	"geestelik lekker" is nie. Ek hou van geestelike "sweeties", maar die 
	voedsame kos raak afgesaag. Maar weet jy wat? Dis ook nie meer vir my lekker 
	om SO te wees nie! Daardie sweeties smaak ook maar na niks. ~ Willem Botha, 
	30/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| “As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal 
	die Here ‘n afsku hê van so ‘n man se gebed.” (Spr. 28:9) Ai vriende, ons 
	kan nie lewe soos ons wil en verwag die Here moet spring as ons roep nie. 
	Ons kan nie maak soos ons wil en dan sê: “die Bybel sê vra en jy sal kry” 
	nie. As jy onverskillig is teenoor die Here en sy Woord, kan jy niks goeds 
	te wagte wees nie. Gebed is nie die ou noodwieletjie as niks anders werk nie, 
	of die lekkergoedmasjien waar jy ‘n knoppie druk en jy kry wat jy versoek 
	het nie. Nee, die Woord sê ons moet in Jesus bly, sy woorde moet in ons bly, 
	dan kan ons bid en Hy sal antwoord. Gebed is gegrond in ‘n opregte 
	verhouding met die Here. Gebed is die voorreg van God se kinders. Gebed is 
	die uitvloeisel van genade. Gebed is God se geskenk aan ons. Het jy geweet 
	dat daar heelwat “voorwaardes” in die Bybel is vir gebedsverhoring? Hier is 
	‘n paar daarvan: 
 ·        
	As julle geloof het en nie twyfel nie...(Matt.21:21-22).
 ·        
	As julle in My bly en My woorde in julle ... (Joh.15:7).
 ·        
	As ons iets vra volgens Sy  wil...(1 Joh.5:14-15).
 ·        
	As twee of drie in gebed saamstem...(Matt.18:19-20).
 ·        
	As julle iets in My Naam vra... (Joh.14:13-14).
 ·        
	As ons Sy gebooie gehoorsaam en doen wat Hy 
	goedvind ... (1 Joh.3:22)  ~ Wilna Botha, 31/10/2016
 |  
					| 
 |  
					| Die moeilikste teks 'n Vriend het eendag gesê, die moeilikste opdrag in die Bybel 
	om te onderhou is: Moenie jou bekommer nie.
 Maar as daar een ander opdrag is wat onmoontlik is (vir my 
	ten minste), is dit: Laat staan jou sonde! Hoe hard ek ook al probeer het, 
	dit is net bykans onmoontlik!
 Spr. 28:13 "Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte 
	wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang."
 Sjoe, kyk met watter woorde hierdie teks eindig : "Wie sy 
	sonde bely EN DAARVAN AFSIEN, sal genade ontvang!" Die bely gedeelte is baie 
	makilik, ons weet tog wat reg en verkeerd is, maar die AFSIEN...! Ek kan my 
	natuurlik beroep op Paulus se woorde waar hy sê in Rom 7:15 "Ek begryp self 
	nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, 
	juis dit doen ek", maar dis steeds nie 'n goeie verskoning nie. Beteken Spr 
	28:13 dan dat jy eers genade ontvang as jy daarvan afsien? Totaal, heeltemal, 
	vir ewig en onherroeplik?
 Wel, ek stoei met hierdie een, want ons verstaan tog dat ons 
	na bekering in vergifnis leef, onder die vaandel van die nuwe verbond. Dit 
	maak egter nie hierdie teks in Spreuke tot niet nie. Ek verstaan dit dat die 
	stryd teen sonde 'n daaglikse, ewigdurende stryd is. Dit beteken om elke 
	keer weer op te staan as ons geval het, om oorwinning te beleef elke keer 
	wat ons dit kon afweer, al gly ons more weer. Om nooit op te gee in hierdie 
	oorlog nie en om DAN vergifnis met dankbaarheid te aanvaar, al is selfs DIT 
	baie moeilik.
 Onthou net, die Here haat ons nie, Hy haat wel sonde. ~ 
	Willem Botha, 01/11/2016
 |  
					| 
 |  
					| 'n Goddelose regeerder Spr 28:15-16 "'n Brullende leeu, 'n beer wat wil 
	rondstorm, so is 'n goddelose regeerder oor 'n weerlose volk. As 'n heerser 
	verstandigheid kortkom, is daar baie verdrukking; wie uitbuiting haat, lewe 
	lank."
 Spr 29:2 "'n Volk juig as regverdige mense die mag kry; 'n volk sug as 'n 
	goddelose mens regeer."
 Spr 29:4 " 'n Koning wat reg laat geskied, maak 'n land veilig; een wat net 
	belastings oplê, ruïneer 'n land."
 Spr 29:14 "As 'n koning reg aan arm mense 
	laat geskied, sal hy lank regeer."
 Spr 29:16 "As goddelose mense regeer, regeer die sonde ook, maar die mense 
	wat die wil van die Here doen, sal sien hoe die goddeloses ondergaan."
 Dit voel of ek net niks verder hieroor hoef te skryf nie. Hierdie tekste 
	beskryf presies die situasie waarin Suid-Afrika tans vasgevang is en al maak 
	ons HOE mooi praatjies, is dit eenvoudig hoe dit is. Maar voel almal in die 
	land dieselfde? Gewis nie, maar dit staan soos 'n paal bo water dat ons tans 
	in diep waters verkeer en ons moet vinnig daaruit kom! Maar hoe? Dit lyk net 
	onmoontlik!
 Wel, dit is baie duidelik dat hierdie tipe leierskap teen die Here se wil 
	is, en ons mag alles in ons vermoë doen om op 'n wettige manier daarteen te 
	staan deur die regte kanale te gebruik, waarvan die stembus die eerste en 
	belangrikste is. Maar, ons mag steeds nie die landswette verbreek nie, ons 
	moet steeds aan die keiser gee wat hom toekom (hierdie verwys nie na 'n 
	persoon nie maar na 'n bestel) en ons moet steeds aktiewe burgers wees wat 
	werk vir 'n beter lewe vir almal.
 Vriend, al wil ek dit dalk nie raaksien nie, die Here is steeds in beheer. 
	Laat die deurbraak aan Hom oor en bly bid vir die herstel van ons land. 
	Laastens glo ek ook dat die Here wil hê dat ons as land moet terugdraai na 
	Hom toe. Kom ek en jy begin daarmee in ons eie huise. ~ Willem Botha, 
	02/11/2016
 |  
					| 
 |  
					| “Elke belofte van God is betroubaar.” (Spr. 30:5) Wat 
	God belowe sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Elke woord van die Here 
	is waar en suiwer en het die toets van die tyd deurstaan. “Die Ewige van 
	Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens 
	dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam 15:29) Hy is gister, vandag en 
	môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daar word 
	gesê dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige mense 
	maal dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke dag 
	van die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan is 
	net God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade, redding, 
	verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak jou Bybel oop en soek 
	daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want God sál  Sy 
	beloftes waar maak.  ~ Wilna Botha, 03/11/2016 |  
					| 
 |  
					| Genoeg Die "slim" mense reken dat ons almal ongeveer 10% te min inkomste het en dat 
	net daardie klein bietjie meer al my probleme sal oplos. Net 'n ou klein 
	bietjie, en wanneer ons daarby uitgekom het sal ons doodgelukkig wees, niks 
	meer stres of dinge najaag nie en totaal in harmonie leef. Dolgelukkig. Maar 
	nou ja, dis wat "hulle" sê en dis totaal onwaar. Ek hoor eendag 'n praatjie 
	van 'n baie bekende sakeman wat daardie tyd onder die mees welaf mense in 
	Suid-Afrika getel het. Hy is 'n wedergebore Christen en het met 'n klomp 
	manne kom gesels by 'n ontbyt. Hy het vir ons gevra dat mense wat finansieel 
	swaarkry moet opstaan en natuurlik het ons gedink hy gaan daardie "magic" 
	gebed bid wat maak dat ons almal die volgende dag finansieel sterk sal staan. 
	Hy het dit egter glad nie gedoen nie, Hy het bloot die volgende vir ons gesê 
	: "Ek weet nie hoe min of hoeveel jy besit of verdien nie of hoe swaar jy 
	kry nie, maar ek wil vandag vir julle goeie raad gee. Leer om tevrede te 
	wees met wat jy het, al is dit hoe min, want ek beweeg tussen die rykstes 
	van die rykes in die wêreld, en ek ken nie een enkele een wat genoeg het nie."
 Daardie woorde het my geskud, want daardie een sin het realiteite vir my 
	opgebreek wat ek nooit regtig besef het nie, want ons glo nie net ons het 
	meer nodig nie, ons glo sommer dat dit ons toekom. Ons glo mos dat ons alles 
	wat ons in Sy naam vra sal kry, of hoe?
 In Spreuke is daar 'n teks wat hierdie hele gedagte wonderlik opsom, en dis 
	nie Salomo se woorde nie, dis 'n spreuk van Agur.
 Spr 30:7-9 Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; 
	daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie 
	arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te 
	veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm 
	word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.
 Sjoe, kan jy dit doen? Of weet jy dalk (soos ek), nie waar om die streep te 
	trek nie? Ek sukkel daarmee en my 10% te min is eintlik 20% te min, maar ek 
	weet ook dat statistiek bewys dat jy wat hier lees, waarskynlik onder die 
	top 10% van "rykstes" in die wêreld is, bloot as jy vanaand onder 'n dak 
	slaap, 'n goeie bord kos het om te geniet en iets so eenvoudig soos 'n 
	spoeltoilet het.
 Sterkte, ek hoop jy kan ook glo dat jy genoeg het. ~ Willem Botha, 
	06/11/2016
 |  
					| 
 |  
					| Mens lees baie keer in die Bybel hoedat nietige, swak, 
	klein, onbenullige en onbelangrike mense deur die Here gebruik word. Ons kan 
	maar weet dat ons ook elkeen uniek is en op ’n spesiale manier die Here se 
	plan en doel  vir ons kan uitleef – wanneer ons dít doen, word Hy as ons 
	Skepper  verheerlik. Ek sien daai toepassing ook in Spr. 30:24-28 waar vier 
	klein, nietige gediertetjies genoem word as buitengewoon slim en met 
	leefwyses wat ons kan inspireer. Dit is die mier, dassie, sprinkaan en 
	geitjie. Al is hulle klein, swak en dikwels lastig, lééf hulle hul doel uit 
	waarvoor die Here hulle gemaak het. Hulle skuil nie agter hulle swakheid nie, 
	maar gebruik hulle Godgegewe wysheid op ’n besondere manier – wanneer hulle 
	dít doen, word die Here as hulle Skepper verheerlik.  Nou ja, kom ons leer 
	vandag by  die miere oor hard werk en ietsie bêre vir die swaar tye, by die 
	dassies om onwaarskynlike geleenthede gebruik, by die sprinkane oor 
	samewerking en eensgesindheid en by die geitjies om vreesloos enige plek te 
	betree.  ~ Wilna Botha, 07/11/2016 |  
					| 
 |  
					| 'n 
	Gekarring Spr. 30:33 "As jy melk karring, kom daar botter; as jy iemand op die neus 
	slaan, kom daar bloed uit; as jy mense kwaad maak, kom daar rusie."
 Hierdie is baie waar woorde. Ek wonder of hierdie 
	spreekwoord wat sê "hou op om aan my te karring" nie uit hierdie teks kom 
	nie. Is dit nie waar dat 'n skewe woord sommer 'n hele dag bederf nie? Of 
	kyk tot watter uiterstes padwoede mense kan laat gaan, en wat nog van so 
	stukkie skindernuus wat uitlek wat families vir jare van mekaar vervreem.
 Ja kyk, ons as mense is maar fyngevoelig en 
	mens moet maar met mekaar geduldig wees, anders kom daar rusie. Ek dink dis 
	maar net eie aan ons as nasie en ons moet mekaar maar bietjie ruimte gee, 
	want ons nerfies kan maar dun wees.
 Aan die ander kant is 'n strelende woord goud 
	werd en kan maar gereeld gespreek word want dit bou mekaar op. 'n Mooi 
	kompliment laat mense blom en hou verhoudinge aan mekaar, en vriendelikheid 
	kan nie genoeg bewys word nie. G'n wonder die Bybel praat so baie van die 
	tong nie! ~ Willem Botha, 08/11/2016
 |  
					| 
 |  
					| “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.” So 
	sê Spr. 31:10 en dan word daar nou behoorlik uitgebrei oor die wonderlike 
	dade van dié knap vrou. Sjoe, ek is skoon uitgeput net om deur dit alles te 
	lees. Waar kry die vrou die tyd en energie om al daai dinge te doen, wonder 
	ek by myself. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, haar lamp bly die 
	heelnag brand. Sy is ’n steunpilaar vir haar man, sy maak geld, sy verkoop 
	produkte, sy  is doenig met kos,  met eiendom aankoop, met wingerde plant, 
	met  klere maak, met welsynswerk en so gaan die lys aan. Sjoe, ek skiet ver 
	te kort as ek myself met haar probeer vergelyk. Gelukkig kan ek sê: my man 
	bewonder my en my kinders prys my, al het ek nie ’n CV soos dié vrou nie. 
	Dit gaan nie vir hulle oor wat ek vir hulle doen nie, maar oor wie ek is. 
	Net so, vir die Here: “... as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om 
	geprys te word.” (vers 30) So het Jesus ook vir Marta gesê: “My liewe Marta, 
	jy hardloop aanmekaar rond. Jy bekommer jou of alles gereed is. Laat staan 
	dit! Dis mos nie waaroor die lewe gaan nie. Daar is net een ding wat regtig 
	saak maak: om God te ken.” (Luk. 10:41) Natuurlik moet ons vroutjies vlytig 
	wees en doen wat ons hand vind om te doen, natuurlik moet ons ons mans 
	ondersteun en ons gesinne en ons huis versorg, maar ons moet altyd die regte 
	prioriteite voor oë hou. Mag die Here ons hiermee help. ~ Wilna Botha, 
	09/11/2016 |  
					| 
 |  
					| Ons het aan die einde 
	van ons voetpad deur Spreuke gekom en wil sommer net dankie sê dat jy die 
	pad saam met ons gestap het. Hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe 
	akkuraat Salomo (en enkele ander skrywers), hierdie lewenslesse vasgevat het 
	nie. En as jy dink die Bybel is eeue terug geskryf vir die mense van eeue 
	terug, maak jy 'n fout. Elke enkele spreuk is van toepassing vandag. Die 
	Here het darem maar mooi beplan toe Hy mense die Bybel laat skryf het, 
	hierdie kosbare Boek 
	saamgestel het en op 'n bonatuurlike manier vir ons agtergelaat het. Die wyshede wat ons in Spreuke raakgelees het, is baie meer werd as baie "selfhelp" 
	boeke, waarvan vele op winkelrakke pryk. Die raad is meer werd as dié van 
	baie sielkundiges, geleerdes en mentors. Boonop is hierdie raad gratis 
	beskikbaar. Dis interessant dat die Here se naam nie so dikwels gebruik word 
	in Spreuke nie, maar die raad en opdragte kom duidelik van Hom af. Ek twyfel 
	of daar enige situasie in hierdie lewe is waarvoor daar nie antwoorde in 
	Spreuke is nie, en boonop is dit nogal kostelik en humoristies geskryf. Ek 
	dink nou sommer aan "Liewer bo-op dak woon as saam met 'n wispelturige vrou".
 Vat soms die Bybel en blaai sommer deur Spreuke en Prediker, en pas die 
	waarhede toe, dan sal jy baie wysheid bekom en beter lewe. Geniet dit! ~ 
	Willem Botha, 10/11/2016
 |  
					| 
 |  
					| 
	Klik hier vir nog meer 
	heuningdruppels > |  
					| 
 |  
					| Duplisering en verspreiding 
			word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |  
						|   |  |