|
|
Daaglikse Heuningdruppels - Jesaja
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
JESAJA SE
GOUD |
|
Die afgelope jaar het ek so
stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het maar heelwat goed in Jesaja
gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat pas waar in nie,
en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë en die
oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op elke
bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf - beloftes,
bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep en in my
hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se genade,
vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense optel en
vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort boodskappies uit
Jesaja geskryf wat ek nou almal hier onder bymekaargesit het. Ek noem dit
“Jesaja se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof
kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei ~ Wilna Botha,
07/03/2019 |
|
“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die
Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu.
Al was julle purperrooi julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18) As mens
Jesaja 1 lees tot hier voor vers 18, klink dit of die Here nogal baie kwaad
is vir sy volk. Hy praat van hulle opstandigheid, Hy noem hulle ’n sondige
nasie, Sodomsleiers, Gomorrasvolk. Hulle het hulle rug op Hom gedraai, hulle
ken en erken Hom nie meer nie. Maar, getrou aan wie Hy ís – genadige,
barmhartige God, nooi Hy hulle weereens uit na Hom toe om hulle saak met Hom
reg te maak. Hy doen dit vir ons ook. Hy het dit tot die uiterste gedoen toe
Hy sy Seun gestuur het om eens en vir altyd te betaal vir ons hardkoppigheid,
ons eiesinnigheid, ons opstandigheid, vir elke liewe sondige begeerte en
gedagte en daad. Hy het dit gedoen toe ons nog sondaars was. Toe ons nog
skarlakenrooi en purperrooi was. Hy het die eerste skuif gemaak, eerste sy
hand uitgesteek. Dís wat ons nou met trane van verligting en blydskap kan
vier hierdie Paastyd. Jesus het gekom. Hy het betaal. Ons saak met God is
uitgemaak. Ons is skoon. Ons is vergewe. Ons het die lewe in oorvloed
ontvang. ~ Wilna Botha, 26/03/2018 |
|
In die aanloop tot Goeie Vrydag is ek weereens
aangegryp deur Jesaja 53. Dit is vir my een van die mooiste profesieë oor
Jesus se lydingspad, sy versoeningswerk, sy instaan vir ons, sy voltooiing
van sy aardse roeping. Dit praat van die verwerping, mishandeling, spot,
straf, lyding, pyn en seer wat Hy moes deurmaak sodat ons dit kan vryspring.
Dit sê hoedat Hy as die volmaakte, die sondelose in ons plek gestraf is,
sodat ons vry kan uitstap. Dit sê hoedat Hy gehoorsaam en gewillig, geduldig,
stil en sonder om te kla dié pad gestap het, ter wille van óns. Dit sê
hoedat sý pyn vir ons genesing bring, hoedat Hý gewond, verbrysel en
deurboor is, sodat ons kan lewe. “Oor óns oortredings is Hy deurboor, oor
óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op
Hom, deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5) ~ Wilna
Botha, 28/03/2018 |
|
“Kom volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van
die Here af kom.”(Jes. 2:5) Toe Jesus aan die kruis gesterf het, was daar
drie ure duisternis – die laaste duisternis, want die Lig het finaal oorwin.
Jesus, die Lig, het afgereken met alle duisternis en deur Sy genade het Hy
ook die lig in elkeen van ons kom aanskakel. Só praat Joh. 3:19 ook van die
Lig wat na die wêreld toe gekom het, maar dat daar mense is wat steeds
eerder die duisternis lief het as die lig, omdat hulle dade sleg is en hulle
bang is God se lig ontbloot dit. Wie hulle is en wat hulle doen word in die
donker weggesteek. As daar ’n vuil kol op jou gesig of op jou klere is, sal
niemand daarvan weet terwyl dit donker is nie, maar soos wat daar meer lig
val sal die vuil kol al meer sigbaar word. As jy dalk, soos ek, skaam is oor
die vuil kolle van jou lewe en dit in die skemerte probeer wegsteek, kan jy
met vrymoedigheid na die Lig toe kom. Geen vuil kolle, geen van die slegste
dade is té groot en té vuil vir Christus se lig nie. Kom ons was opnuut
weer ons klere in die bloed van die Lam, sodat ons silwerskoon kan staan en
waarlik kan léwe in die lig wat van die Here af kom. ~ Wilna Botha,
03/04/2018 |
|
“Daar kom ’n tyd dat die berg waarop die huis van die
Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die
heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en
sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die
God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe.” (Jes.
2:2-3) As ek hierdie teks lees dan dink ek dís hoe die Here sy huis - ons
kerke en gemeentes - wil sien. ’n Tuiste, ’n plek wat uitstaan, ’n plek
waarheen mense wíl kom, waar hulle verwelkom word, waar hulle kan leer en
toegerus word vir die lewe. ’n Plek van aanvaarding, waar mense sal sê: ”...
ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” En onthou
tog maar dat die kerk uit mense bestaan. Onvolmaakte mense. Mense wat hulle
beste pogings insit. Mense wat God se mense wil dien. Moenie wegbly nie.
Moenie kritiseer en foutvind nie. Maak jouself tuis in ’n gemeente, neem
deel en maak ’n verskil. “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af
wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om
daarheen te gaan.” (Heb. 10:25) ~ Wilna Botha, 05/04/2018 |
|
“Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik
die laaste asem uit. Hulle is min werd.” (Jes. 2:22) Jammer as dit dalk ’n
bietjie negatief klink, maar ek dink baie van ons het ’n storie oor hoedat
iemand jou al teleurgestel het, nie sy kant gebring het nie, nie sy beloftes
nagekom het, nie lojaal gebly het nie, nie vir jou opgekom het nie, nie jou
belange enduit op die hart gedra het nie. Dan vang mens jouself tóg weer dat
jy op iemand vertrou – iemand wat magtig en belangrik en hooggeplaas is,
maar helaas, selfs húlle sal jou die een of ander tyd teleurstel met hulle
voete van klei. Ja, al is hulle Christene, al is hulle ’n voorbeeld van
stabiliteit en opregtheid. Ek sê nie ons moet elkeen alleen op ons eie
eiland wees nie. Natuurlik het ons ander mense nodig. Natuurlik moet ons glo
in ons naaste se integriteit. Natuurlik is ons afhanklik van ander se
insette in jou lewe. Mens moet egter nie nét op hulle staatmaak vir jou
welstand, versorging en sekuriteit nie en bewus bly van hulle menslikheid en
feilbaarheid. Die Here alleen moet die fokuspunt van ons vertroue en hoop
wees. Dis nét Hy wat gister, vandag en môre dieselfde is. Dis nét Hy wat
onwankelbaar en ewig is. Dis nét Hy wat nie van plan kan verander nie. Dis
nét Hy wat sy beloftes enduit kan en sal hou. “Moenie op magtiges vertrou
nie, nie op ’n mens nie .... sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy
planne is daarmee heen ... Dit gaan goed met die mens wie se hoop gevestig
is op die Here, sy God.”(Ps. 146:3-5) ~ Wilna Botha, 10/04/2018 |
|
“Sy magtige teenwoordigheid sal alles beskut. Daar sal
’n skuiling wees, ’n skaduwee teen die hitte bedags, ’n skuilplek en toevlug
teen stortbuie en reën.” (Jes. 4:6) Gisteraand beland ons in ’n erge
reënstorm. Dis donker, dit blits, die reën stort neer en die pad lyk soos ’n
rivier. Ons is skoon benoud, maar besef ons moet deurdruk. By ons bestemming
aangekom sug ons verligting – ons voel weer rustig, veilig, warm, versorg en
ontspanne ... terwyl dit steeds buite storm. Toe dink ek sommer net weer wat
hierdie teks in Jesaja sê oor die Here as ons “skuilplek en toevlug teen
stortbuie en reën”. Ons weet maar te goed dat ons op ons lewenspad die een
of ander tyd in ’n storm of stortbui gaan beland. Ons gaan benoud wees, ons
gaan voel ons wil wegvlug, ons gaan voel ons kan nie vorentoe nie, ons kan
nie sien waar die pad loop nie. Die bemoedigende waarheid is dat die Here
weet van jou storm, dat Hy saam met jou daar is – Sy teenwoordigheid in jou
lewe ís die beskutting. Jy kan die versekering hê dat Hy jou veilig deur
lei en dat Hy sélf vir jou ’n veilige, rustige, vreedsame skuilplek is,
selfs al het die storm buite nie opgehou nie. ~ Wilna Botha, 12/04/2018 |
|
“Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds
gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het
terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?” (Jes. 5:4) Die Here het
álles gedoen vir sy volk (en vir ons) – die wingerd is op ’n vrugbare heuwel,
die grond is omgespit, klippe is verwyder, dis geplant met veredelde
wingerdstokke, daar is ’n wagtoring – so sê vers 2. En tóg lewer dit nie
goeie vrugte nie. Die druiwe is suur. Wat is die rede vir die suur druiwe...
dalk ’n harde hart, miskien het geloofsake nie uitgedraai soos jy gehoop het
nie of die Here het nie na jou pype gedans nie, jy het jou rug op God
gedraai, dalk gevoel dis nie die moeite werd om die Here te dien nie en moeg
geraak vir hierdie geestelike dinge. Miskien het jy vasgedraai geraak in die
alledaagse geswoeg en soeke om eie begeertes te bevredig en toe het jy jou
eie pad begin stap. Suur druiwe is dalk die gevolg van ons hoogmoedigheid,
ons liefdeloosheid, ons eiegeregtigheid. Die Here se wil vir ons is om goeie
vrugte te dra. Matt. 3:18 sê ons moet vrugte dra wat pas by ons bekering.
Jesus sê in Joh. 15 vir ons hoe om baie vrugte te dra – “Wie in My bly en Ek
in hom, dra baie vrugte.” Hy gee ook die Heilige Gees aan ons om daai soet
druiwe in ons voort te bring (Gal 5:22). Boon-op sê Jesus: “... vra dan net
wat julle wil hê en julle sal dit kry.” (Joh. 15:7) – dit wat ons nodig het
om soet druiwe te dra, kan ons van Hom vra en Hy sál dit vir ons gee. Mag
die Here weer genade betoon, nóg bemesting gee, nóg snoeiwerk doen sodat ons
volop lewensvrugte kan voortbring wat Hom
kan eer. ~ Wilna
Botha, 17/04/2018 |
|
“Hy het op ’n baie hoë troon gesit en die soom van sy
kleed het die tempel gevul. Om Hom was daar serafs... hulle het oor en weer
vir mekaar geroep: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy
magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek. Hulle het so hard
gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het en die hele
tempel het vol rook geword.” (Jes. 6:1-4) Baie keer in die kerk as ons sing
of bid, dan kom hierdie visioen van Jesaja by my op en raak ek diep bewus
van die heilige, grootse teenwoordigheid van die Here wat alles oorheers en
bedek en wat die hele gebou en die mense daarbinne vul met Sy
teenwoordigheid. Dan sing ek eerbiedig, bewend, maar uit volle bors saam:
heilig, heilig, heilig. Dan ervaar ek, soos Jes. 6:6 sê: “... en nou het ek
met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!” ~ Wilna Botha,
19/04/2018 |
|
“Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur?” ...
Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”” (Jes. 6:8) Net soos in Jesaja se
tyd, het die Here vandag nog gewillige hande en voete en stemme nodig. Hy is
op soek na mense wat beskikbaar en bereid is. Mense met oop harte en sagte
woorde. Mense wat sy verteenwoordigers van liefde en genade sal wees. Nie
noodwendig bekwame mense nie. Enige iemand, ongeag stand, ouderdom, posisie
of geleerdheid kan aanmeld as die Here vra: wie kan ek stuur? Baie keer is
ons gereed en gewillig net totdat ons sien waarheen of vir watter taak die
Here ons wil stuur. Ons wil mos graag belangrike en groot take vir die Here
doen, nie sommer geringe goedjies wat niemand gaan raaksien nie, of hoe? Ons
kyk gou anderkant toe as die taak is om ’n beker koue water te gee, of as
ons dalk ons hande moet vuilmaak, of as dit so bietjie benede ons
waardigheid en kwalifikasies en status is. Onthou wat Jesus in Matt. 25 gesê
het van die geringstes – dalk stuur Hy jou vandag om vir iemand ’n stukkie
brood te gee, dalk ’n sieke of eensame of gevangene te besoek, dalk ’n
bemoedigende hand na iemand uit te steek of dalk ’n woord van vermaning te
gee. Sy opdrag kan wees om voor duisende te gaan preek – dan moet ons
gewillig wees. Sy opdrag kan wees om ’n geringe daad van liefde te betoon –
dan moet ons gewillig wees. Niks hiervan hoef uit jou eie krag te gebeur nie
– “Die Here het my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om
dit te doen.” (Jes. 49:5); “... want dit is God wat julle gewillig en
bekwaam maak om sy wil uit te voer.” (Fil. 2:13). Waag dit om te sê: Hier is
ek, stuur my! ~ Wilna Botha, 24/04/2018 |
|
Ek lees op die oomblik so stukkie vir stukkie deur
Jesaja. Moet sê daar is maar heelwat dingetjies wat ek nie verstaan nie, ek
weet nie heeltyd waar pas wat in nie en sukkel soms om sin te maak uit al
die profesieë. En dan kom ek af op stukkies goud soos Jes. 7:14. “’n Jong
vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel
noem.” Die profesie wat vervul is. Die gebeurtenis wat alles verander het.
Nie sommer net ’n geskiedkundige gebeurtenis nie. Nie net ’n onvervulde
verwagting en leë droom nie. Dit het werklik gebeur. Jesus ís gebore. God
hét mens geword, vlees en bloed, en by ons kom bly. Hy ís Immanuel, God met
ons - nie net vir sy uitverkore volk nie, maar vir elkeen van ons wat plek
maak in ons harte en lewens vir Hom. Ek omhels vandag hierdie gedagte en
ervaar opnuut dat die Here by my is. ~ Wilna Botha, 02/05/2018 |
|
“Hier is ek en die kinders wat die Here vir my gegee
het. Ons is in Israel lewende getuies van die Here die Almagtige wat op
Sionsberg woon.” (Jes. 8:18) Dié teks laat my ook dink aan wat Josua gesê
het: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Ek het juis nou
die dag vir my ’n klip gekoop met hierdie teks op en as ek dit nou sien is
dit vir my ’n herinnering en aansporing dat ons getuies van die Here moet
wees in ons “Israel” – daar waar ons woon en werk en kuier en koop. Ons kan
getuig van Sy goedheid, Sy genade, Sy redding. Ons kan vertel van ons
verhouding met die Here, dat Hy ons gebede verhoor, dat Hy persoonlik by ons
betrokke is. Ons kan maar ook vertel van dié kere wat ons swak is in ons
geloof en sukkel om getrou te bly en voel dat die Here ver is. Ons kan
getuig hoedat Sy genade en liefde ons regop hou in moeilike tye. Ons hoef
nie te preek en Bybelverse uit ons kop te sê nie – ons hoef maar net eerlik
en opreg te vertel van dit wat ons self beleef het. Ek dink nie Jesaja praat
hier nét van sy eie kinders nie – ek dink hy verwys ook na sy volgelinge en
medegelowiges. Só kan ons ook saam met ons gemeente of selgroep aanmeld as
lewende getuies van die Here. My gebed is dat ons al hoe meer vrymoedigheid
sal hê om met oortuiging te vertel! ~ Wilna Botha, 07/05/2018 |
|
“Die Gees van die Here sal op hom rus; die Gees wat
wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis
verleen en eerbied vir die Here.” (Jes. 11:2) Hierdie teks verwys na ’n
redder wat sou kom vir die volk , ’n afstammeling van Dawid, ’n takkie wat
sal uitspruit en vrugte dra. Natuurlik word dit volbring in die koms van
Jesus, dié een op wie die volle Gees van God rus. Na my mening is dit
natuurlik ook waar van elkeen van ons wat ’n kind van God is, want ons hét
die Heilige Gees ontvang. Die Gees gee vir ons wysheid, insig, raad,
sterkte, kennis en eerbied vir die Here. Die Gees laat ons vrugte dra. Die
Gees stel ons in staat om God se wil te doen. Dié Gees woon in ons! Dink net
hoeveel krag daar in jou beskikbaar is. “Nie met mag en krag sal jy slaag
nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige” (Sag 4:6). “Ek het hom
toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk
kan doen.” (Eks. 31:3) Ja, my vriend, só is die Gees ook in jou aan die werk
– nie net om groot geestelike werke te doen nie, maar om sommer ook net jou
gewone dagtaak met vaardigheid en insig te doen. Besef dit. Laat die Gees
toe om beheer te neem. ~ Wilna Botha, 09/05/2018 |
|
“God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer
bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.” (Jes.
12:2) Hierdie is nóg een van daai tekste in Jesaja wat helder onderstreep is
in my Bybel. Ek herinner myself altyd daaraan dat die veiligste plek by die
Here is. Dáár kan jy rus en ontspan en verkwik word. Dáár kan vrede jou
gemoed volmaak en kan jou bekommernisse en spanning en pyn en trauma en
trane verlig word. Skuil onder Sy vleuels, sê ’n ander teks. Hy is
letterlik ’n wegkruipplek vir ons, waar die probleme en die storms van die
dag, die eise en die stress van die lewe buite sal bly. “Die ewige God is 'n
skuilplek, sy arms is altyd onder jou.” (Deut. 33:27) Sy uitnodiging is vir
nóú: Kom na My toe almal wat moeg en oorlaai is … (en almal wat bang,
eensaam, siek, verstote is) – Hy gee beskerming en nuwe krag. ~ Wilna Botha,
14/05/2018 |
|
“Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker
die klei is ... die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: Hy weet nie
wat hy doen nie.” (Jes. 29:16) Ai hierdie agterstevoor-geit is darem maar
baie keer waar van ons ook. Ons wil vir ons Pottebakker voorskryf hoe Hy met
ons moet werk. Of as die pot nou nie lyk soos wat ons dit wil hê nie, dan
verwyt ons die Pottebakker. Of as die vorm-en-vou-werk bietjie pynlik is,
dan neem ons Hom kwalik. Ken jy daai liedjie: Doen slegs U wil Heer, U wil
met my, U Pottebakker met my die klei, vorm my en maak my, net soos U wil,
op U bly wag ek, nederig en stil. As ons dit sing, dan gee ons oor aan die
werk wat die Pottebakker met ons wil doen – in vertroue en afhanklikheid en
stilte. Ja, ons kan dit met vrymoedigheid doen, want Hy is in beheer. Hy ken
die toekoms. Hy is God wat die beste weet en wie se tydsberekening perfek
is. Kan ’n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan ’n saag hom
groot hou teen die een wat met hom saag? Kan ’n stok die een swaai wat hom
optel? (Jes. 10:15) Een ding wat die klei en die byl en die saag en die stok
in gemeen het, is dat hulle in die hand van die Meester is. As ons dit besef,
kan ons met vertroue verder sing: Hou my gewillig onder U hand.... ~
Wilna Botha, 16/05/2018 |
|
“Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer My met
wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af, hulle dien my soos mense dit
wil hê, nie soos Ek wil nie.” (Jes. 29:13) Niemand van ons hou daarvan dat
mense een ding sê en ’n ander doen nie. Dit laat mens voel hulle het nie
respek vir jou nie, of hulle ag jou nie belangrik nie, of hulle dink hulle
mooipraatjies gaan jou goed laat voel. Sulke dubbelhartigheid steek ook baie
keer kop uit in ons verhouding met die Here. Weet dit nou: Hy het ’n afkeur
daarin. Om net mooi woorde te praat, ’n geestelike slagspreuk op jou mure
te skryf, dalk geld vir armes te gee en elke Sondag kerk toe te gaan, kan
miskien mooi rituele wees wat mense beïndruk, maar as jou hart en jou lewe
ver van die Here af is, is dit nutteloos. Jesus haal self ook hierdie teks
aan in Mark 7:6 en noem sulke mense huigelaars en skynheiliges. Kyk ook hoe
ernstig spreek Hy die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid wanneer Hy
hulle witgeverfde grafte noem – mooi van buite, maar binne vol doodsbene en
onsuiwerheid. “Julle is soos grafte wat bo-op netjies versorg is. Die
grafsteen is mooi en die blomme op die graf is te pragtig. Maar binne-in die
graf self is daar net ’n klomp dooie bene. Wat ’n kontras! Grafte laat my
aan julle dink. As ’n mens na julle kyk, lyk julle soos engeltjies. Maar as
mens bietjie dieper kyk, lyk die prentjie anders: dan sien jy huigelaars en
mense wat hulle glad nie aan God se wil steur nie.”(Lees Matt. 23:27-28, Die
Boodskap) Mag die Here ons help dat ons Christenskap nie net ’n vertoning
vir ander mense is nie, maar dat ons harte en ons lewens in alle opregtheid
net op Hóm gefokus sal wees. ~ Wilna Botha, 21/05/2018 |
|
“Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.” (Jes.
30:15) Miskien wag jy al lank vir ’n deurbraak in die een of ander aspek van
jou lewe – gesondheid, werk, finansies, verhoudings of dalk bediening. Jy
maak planne, jy raadpleeg mense, jy baklei en smeek en spartel om dinge te
laat werk. Jou krag het al opgeraak en jy is dalk al op die punt om sonder
hoop op te gee. Nee! Neem hierdie teks vandag ter harte. Bedaar. Wees stil.
Wag rustig op die Here. Vertrou Hom met alles wat in jou is – in stilte.
Fokus op God se krag – in afhanklikheid. Beleef hoedat Hy by jou is – in
tevredenheid. Ervaar hoe jy gevul word met Sy wysheid – in verwondering.
Voel hoe Sy krag in jou werk – in oorwinning. ~ Wilna Botha, 23/05/2018 |
|
“Vertrou altyd op die Here,” sê Jes. 26:4 (én vele
ander tekste in die Bybel). As mens bv. sê dat jy vertroue het in medisyne,
dan veronderstel dit dat jy kennis het daarvan, weet waarvoor dit goed is en
dat jy dit al gebruik het. Om vertroue in die Here te hê veronderstel dat Ek
Hom ken, dat ek weet wie Hy is en wat Hy kan doen. Ek kan die Here vertrou
omdat ek in ’n verhouding met Hom is. Ek kan die Here vertrou omdat ek weet
dat niks vir Hom onmoontlik is nie, dat ek altyd veilig by Hom sal wees,
dat Hy in beheer is, dat Hy die beste weet. Vir my gaan vertroue en geloof
hand aan hand – mens kan hulle as’t ware as sinonieme gebruik. Vertroue kom
in aksie wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het.
Vertroue is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie,
maar steeds hoop en glo. Ons aansporing: “Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.” (Jes. 30:18). Ons beloning: “Gee aan hulle vrede en voorspoed,
Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.” (Jes. 26:3) ~ Wilna Botha,
28/05/2018 |
|
“Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil
Hy Hom oor julle ontferm.” (Jes. 30:18) ’n Teks soos hierdie slaan omtrent
my asem weg. Ten spyte van alles, ten spyte van wie ek is, ten spyte van al
my afdwaal, wegdwaal en verdwaal, ten spyte van al my ongehoorsaamheid,
onwilligheid en onbedagsaamheid sal die Here my nooit los nie. Hy wíl Sy
goedheid oor my uitstort. Hy wíl Sy genade betoon. Hy sál my liefhê. Kyk hoe
reguit sê Rom. 5:20 dit: “But sin didn't, and doesn't, have a chance in
competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin
versus grace, grace wins hands down.” Elke môre as jy wakker word, kan jy
weet die Here se genade en ontferming is opnuut weer beskikbaar vir jou –
verniet en onverdiend. Aanvaar en ontvang dit! Amazing grace ... ~ Wilna
Botha, 30/05/2018 |
|
“Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.” (Jes.
30:19) Ja, die Here luister as ons na Hom roep. Hy gee ag op ons smeekgebede
en ons skietgebede. Hy verhoor ons gebede. Maar kyk wat word bygevoeg in
hierdie teks: sodra Hy dit hoor. Ons móét bid, al sê die Bybel die Here weet
wat ons nodig het nog voordat ons vra. Hy wil ons gebede hóór! Bid, al is
die sinne skeef en die woorde stamelend. Bid, al het jy nie mooi woorde nie.
Bid, al voel jy jou gebed gaan nie vêrder as die plafon nie. Bid, al twyfel
jy of die Here gaan help. Jesus sê in Luk. 18 ons moet altyd aanhou bid en
nie moedeloos word nie. Op ander plekke sê die Woord: bid gedurig, volhard
in gebed. Bid sélf en moenie net staatmaak op die gebede van ander nie. “Vra
en vir julle sal gegee word ... elkeen wat vra, ontvang.” (Luk. 11:9) ~
Wilna Botha, 04/06/2018 |
|
“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou
’n stem hoor sê: Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Ja, ons ken
daai stem. Die stem van die Heilige Gees wat in jou gewete praat en jou hart
roer wanneer jy die regte koers verlaat. Die stem van die Woord wat vir jou
rigting gee wanneer jy na die verkeerde kant toe neig. Die stem van jou
vriende en huismense wat saggies waarsku wanneer jy verkeerde besluite maak.
Die stem van die onvrede in jou binneste wanneer jy die verkeerde afdraai
gevat het. Dit alles is die Here se stem wat jou subtiel die regte pad wil
wys. Dit gee my soveel gemoedsrus om te weet dat die Here my nie op my
afgedwaalde paaie sal los nie, my nie sal los om sélf weer die pad te vind
nie. Nee, Hy is dáár langs my op my pad waar ek elke dag loop. Sy hand, Sy
krag, Sy wysheid lei my op die regte weë. Ek bid net dat ek altyd duidelik
sal hoor en gehoorsaam sal wees wanneer Hy sê: Hier is die pad, loop
hierlangs. ~ Wilna Botha, 06/06/2018 |
|
“So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons
uitgestort word.” (Jes. 32:15) Daar word in Jes. 32 beskryf hoe sleg dit met
die volk gaan. Vers 15 kondig egter die draaipunt aan na nuwe, beter,
wonderbaarlike dinge wat gaan volg wanneer die Gees van God uitgestort word.
Die woestyn sal ’n digte vrugteboord word, die volk sal in vrede woon en
veilig wees, sonder sorge, dit sal goed gaan al is daar steeds storms. Dís
wie die Heilige Gees is. Die Trooster, die Helper, die Rigtingwyser, die
Leermeester, die Vredegewer, die Lewegewer. Joh. 7:38 sê strome lewende
water sal uit ons binneste vloei – dis die Heilige Gees! Ons moenie die krag
van die Gees in ons lewens miskyk nie. Ons moenie die borreling van die Gees
in ons onderdruk of ontken nie. Ons moet nooit twyfel dat ons wel die Gees
ontvang het nie! Kyk, Joh. 7:39 sê: “... die mense wat tot geloof in Hom kom,
sou die Gees ontvang.” As jy twyfel of jy die Gees het, bid en vra die Here
om jou te vervul met Sy Gees. Hy sál dit doen. “Vra en vir julle sal gegee
word... Elkeen wat vra, ontvang ... Hy sál die Heilige Gees gee vir dié wat
vra.” (Luk. 11:9-13) ~ Wilna Botha, 11/06/2018 |
|
“Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van
nood.” (Jes. 33:2) Elke nuwe dag wat jy jou oë oopmaak lê onbekend en
onseker voor jou. Jy kan jou dagboek-planne hê, jou drome en spertye vir die
dag, maar jy weet glad nie wat regtig in die volgende uur kan gebeur wat
alles kan deurmekaar krap nie. Ons weet mos slegte nuus kan enige tyd
aangekondig word, dinge kan skeef loop en groot besluite kan vinnig geneem
moet word en dan moet ons gereed wees om dit te hanteer. Daarom dink ek ’n
gebed soos in Jes. 33:2 moet elke môre ons versugting wees. Wat die dag ook
al kan oplewer, die Here se krag en genade sal dáár wees en genoeg wees vir
jou. Watter slegte hobbel of storm daar ook al kan wag in die volgende 24
uur, die Here is vóór jou daar en Hy sál jou daardeur dra. “Wees ons genadig,
Here, ons vestig ons hoop op U.” ~ Wilna Botha, 13/06/2018 |
|
“Die woestyn, die dor land sal jubel, die droë wêreld
sal juig, oortrek met affodille, hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en
sing.” (Jes. 35:1-2) Sjoe, hierdie bly vir my een van die mooiste tekste in
Jesaja. Mens sien mos baie keer hoedat iemand begin blom en oorloop van
vreugde as die Here in hulle lewens kom. Klip harte word sag. Fronse verdwyn.
Sleepvoete word lig. Oë straal. Het jy ook al beleef dat iemand baie siek
is, of ’n groot verlies gehad het, maar as hulle van die Here praat dan
straal hulle gesigte en verhelder hulle oë. Mens sien sommer daai affodille
geil staan te midde van die pyn en vernedering. In die Here is daar altyd
nuwe hoop en moed. In die Here het jou lewe altyd sin en betekenis. Dit laat
my ook dink aan die woorde van Jes. 61:3: “He sent me to give them flowers
in place of their sorrow.” Ek hoop as jy jouself dalk vandag in die een of
ander woestyn bevind dat jy verby die dorheid en droogheid sal kan kyk en in
jou geestesoog alreeds die mooiste affodille sal sien blom. Ek hoop dít sal
jou rede gee om te juig en sing. ~ Wilna Botha, 18/06/2018 |
|
“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se
knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees
nie, julle God is hier.” (Jes. 35:3-4) Jy weet seker net so goed soos ek
hoeveel ellende en swaarkry en moedeloosheid daar in ons wêreld is. Mens
voel dikwels so hulpeloos as jy nie almal kan help nie of as jy nie weet wat
om vir só iemand te sê nie. Onthou jou belangstelling en gewillige oor, jou
stilstaan en meegevoel kan vir so ’n persoon alreeds die wêreld beteken.
Dinge wat jy al beleef het of waardeur jy al moes werk, is ervaring wat jy
in aksie kan stel om iemand anders te bemoedig en hulle hande sterk te maak.
Ons kan nie almal se probleme oplos nie, maar ons kan hulle moed inpraat met
die woorde van die teks: Wees sterk, moenie bang wees nie, jou God is hier.
Moenie twyfel dat dit ’n invloed sal hê nie. Dit sál, want dit is God se
woorde. ~ Wilna Botha, 20/06/2018 |
|
“Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons
God bly vir ewig.” (Jes. 40:8) Geen tyd wat verloop, geen nuwe idees, geen
geleerdheid, geen verdagmakery kan die Woord van die Here vernietig of
oud-modies en uitgedien verklaar nie. Die hele Skrif is deur God geïnspireer
sê 2 Tim. 3:16 – daarom aanvaar ek die Bybel as God se woorde en ek glo dit
met my hele hart. Ek glo in die krag van die Woord. Ek weet dis ’n
tweesnydende swaard wat die brandpyle van die bose kan afweer. Ek weet dis
saad wat honderdvoudige vrug kan oplewer. Ek weet ek kan dit oor en oor lees
en altyd iets nuuts hoor, want dit is woorde wat deur die Gees lewendig
gemaak word vir vandag. Ek weet dis ’n rigtingwyser want dit gee praktiese
raad vir die alledaagse lewe. Ek weet dit bevat honderde beloftes van troos
en bemoediging wat my kan oplig in donker tye. “So sal die woord wat uit my
mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie,
maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit
gestuur het.” (Jes. 55:11) ~ Wilna Botha |
|
“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak
Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors. Hy sorg vir die
lammerooie.” (Jes. 40:11) Ai, hierdie is darem maar net die mooiste beeld
van die Here se liefdevolle versorging vir sy kinders. In sy arms, teen sy
bors – so dra Hy jou, so bewys Hy genade en liefde aan jou, so troos Hy jou,
so hou Hy jou vas – ja, selfs al gaan jy deur ’n dal van doodskaduwee. Hy
sal 99 skape los om die een verlore een terug te bring. Hy soek dié wat
weggeraak het, gaan haal dié wat verdwaal het, Hy versorg die wonde van dié
wat seergekry het, Hy help die swakkes (sien Eseg. 34:16) Hy roep sy skape
op hulle name en lei hulle uit (Joh. 10:3). Hy lei hulle na groen weivelde
waar hy vir hulle die beste versorging, rus en vrede in oorvloed gee. Die
Herder is nooit ver nie. Die Herder is heeltyd betrokke by sy kudde. “Ek is
die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” (Joh.
10:11) ~ Wilna Botha, 27/06/2018 |
|
“Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra
die Heilige.” (Jes. 40:25) Natuurlik wil ons antwoord: met niemand nie, daar
is niemand soos U nie! Ons weet, ons het gehoor, ons het gesien, ons het
beleef hoe groot en hoe wonderlik en hoe almagtig ons God is. Hy het die
waters in die holte van sy hand afgemeet. Hy het met die breedte van sy hand
die hemel bepaal. Hy kan sê hoe swaar die berge weeg. Hy kan sê hoeveel
grond daar op die aarde is ... niemand anders kan nie! En dis met daardie
einste hand wat Hy jóú red. Dis daardie einste hand wat altyd onder jou is
om jou te vang as jy val, wat altyd bo jou is om jou te seën, wat rondom jou
is om jou te beskerm, wat jou vashou in onseker tye, wat jou aanraak om jou
te genees of te troos of jou trane af te vee. Daar is niemand soos Hy nie,
niks om Hom mee te vergelyk nie! Mag jy ook weer vandag, soos ek, vol
verwondering Sy lof besing. ~ Wilna Botha, 02/07/2018 |
|
“Waarom kla jy... die Here sien nie raak wat van my
word nie, my reg gaan by my God verby?” (Jes. 40:27) Die meeste van ons kom
die een of ander tyd in daai situasie waar jy die Here bevraagteken – dinge
gaan nie soos jy gehoop het nie, dit lyk of die Here nie sy belofte gehou
het nie, of Hy nie omgee vir jou noodroep nie, of Hy van jou vergeet het, of
Hy onregverdig optree. Wees maar versigtig, want soos met Job, kan die Here
dalk vir jou sê: “Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My....
waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het ... wie het die aarde
afgemeet ... wie het die see opgedam ...” ens. (lees Job 39) Of soos hier in
Jes. 40:28 : “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die
ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie
afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.” Onthou maar net dat al lyk
dinge erg buite beheer en heeltemal hopeloos, God is God en Hy is in beheer
en Hy weet wat Hy doen. Sy gedagtes is nie ons gedagtes nie, Sy tyd is nie
ons tyd nie. Hy weet wat die beste vir ons is en sál alles ten goede laat
meewerk. Hy ken die toekoms en is altyd besig om ons harte en gedagtes te
vorm en te vernuwe om in Sý planne te pas. As jy dít kan glo en jou daaraan
kan onderwerp, sal dit makliker wees om geloof te behou en die lig aan die
einde van die tonnel raak te sien. Dan kan jy soos Job antwoord: “Nou weet
ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit.” (Job
42:2) ~ Wilna Botha, 04/07/2018 |
|
“Hy gee vermoeides krag, hy versterk dié wat nie meer
kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle
fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle
loop en raak nie afgemat nie.” (Jes. 40:29-31) Hierdie is ook een van daai
goue verse in Jesaja wat seker in almal se Bybels onderstreep is. Wanneer
ons aan die einde van ons krag en vermoëns, ons beskikbare energie en dryf,
ons eie wysheid en raad gekom het, dán raak mens bewus van die bomenslike
krag en herstel wat intree, daai volgende rat wat inskop. En jy weet dit kom
net van die Here af. Dis Hy wat jou voete weer lig maak soos ’n ribbok en
jou op hoë plekke laat loop. En ja, soos die teks sê gebeur dit selfs met
jongmense. Veral in vandag se tye is die druk op jongmense om te presteer en
die leer van die lewe te klim groot. Wanneer jy uitgeput en uitgebrand voel,
draai na die Here - sy juk is sag en sy las is lig. Vertrou op Hom, raak
stil by Hom, vra Hom en Hy sál weer vir jou nuwe krag en arendsvlerke gee.
~ Wilna Botha, 09/07/2018 |
|
Luister wat sê die Here vir jou: “Moenie bang wees nie,
Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou God. Ek versterk jou, Ek
help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” (Jes. 41:10) En dan
sê Hy dit wéér in vers 13: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê
vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou. Moenie bang wees nie.” Drie keer
sê Hy: moenie bang wees nie. So, wat maak jou bang? Waaroor lê jy en
bekommer in die nag? Wat is dit wat jou keel toedruk en jou in koue sweet
laat uitslaan? Wat is dit wat jou die gevoel gee dat alles buite beheer is,
jy kan nie meer uithou nie en jou voete gly? Is jy bang vir die onbekende en
dit waaroor jy geen beheer het nie? Is jy bang jy verloor jou werk of jou
gesondheid of een van jou geliefdes? Is jy dalk bang om standpunt in te neem
en stroomop te swem? Is jy bang vir ’n eksamen, werksonderhoud of
ondervraging wat voor jou lê? Is daar iets wat jy nie kans sien om te doen
nie? Is al jou hulpbronne uitgeput – geen krag, geen geld, geen raad en geen
planne? Hoor vandag die rustige stem van jou Skepper wat sê: moenie bang en
bekommerd wees nie. Kyk waarop kan jy reken: Hy maak jou sterk, Hy help jou,
Hy hou jou vas, Hy vat jou hand, Hy red jou. Daar in jou stresvolle oomblik,
probeer in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te
doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is die wete
dat jou God by jou is. Hy gee nie noodwendig die antwoorde nie, Hy gee
Homself. Aanvaar dit in geloof. ~ Wilna Botha, 12/07/2018 |
|
“’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit
wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.” (Jes. 42:3) Hier word in Jesaja
gepraat van Kores, die dienaar wat God aanstel om Sy volk te help en te lei
en te red. Dit verwys natuurlik uiteindelik ook na Jesus , soos wat die
vervulling daarvan in Matt. 12:20 beskryf word. Dit verwys na God se
wonderbaarlike genade. Dit beskryf Jesus se oneindige liefde vir sy
volgelinge. Geen sondaar kan té sleg wees om God se genade te ontvang nie.
Geen verlorene kan té vêr afgedwaal wees om deur God gered te word nie. Geen
hart kan té hard wees om deur die Here vernuwe te word nie. Al is die riet
geknak, die Here sal hom nie afbreek nie en Sy rug draai nie. Sy genade is
altyd daar, Sy liefde wíl en kan en sal weer uitreik na die geknakte riet.
Sy krag sal hom weer regop tel en nuwe lewe in hom bewerk. Al brand die
lamppit van jou lewe hoe dof, die Here sal dit nie uitblaas nie. Hy sal deur
sy omgee en medelye en barmhartigheid die vlam vertroetel en aanblaas totdat
dit weer helder skyn. Kom pak jou onvolmaaktheid op Jesus af – jy sál vir
seker genade op genade ontvang. ~ Wilna Botha, 16/07/2018 |
|
“Ek verander die donker voor hulle in lig en Ek maak
die ongelyk plekke gelyk.” (Jes. 42:16) Die Here praat hier met blindes,
mense wat geestelik blind is, mense wat Hom nie sien nie, Hom nie erken nie,
nie van Hom weet nie, mense wat nie Sy genade verstaan en ervaar nie, mense
wat nie gered is nie. Wanneer jy na die Here toe draai, Hom in jou lewe
innooi, dan gebeur wonderlike dinge: die donker om jou en in jou verander in
lig en die ongelyke, moeilike, rowwe paaie word gelyk, slaggate word opgevul,
struikelblokke word weggerol. Dís Sy genade in praktyk! Jesus is die Lig vir
die wêreld, sê die Nuwe Testament, niks kan Sy lig uitdoof nie. Wanneer Hy
in jou lewe kom, val die skille van jou oë, word die lig aangeskakel en is
jy vry. Jy sien nuwe dinge raak, die lewe het nuwe betekenis, jy het nuwe
perspektief en sien die ongelyk paaie van die lewe in ’n nuwe lig. Kyk die
versekering wat die Here vir ons in die laaste gedeelte van die teks gee:
“Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” ~ Wilna Botha,
18/07/2018 |
|
“Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing sy lof
oor die hele aarde.” (Jes. 42:10) Sing ’n nuwe lied! Daar is voortdurend
nuwe geestelike liedere wat geskryf word wat die Here se lof weer op ’n nuwe
manier, met ander woorde en verskillende ritmes besing. Ons hoor dit op die
radio, sien dit op YouTube, sing dit in die kerk, ens. Maar ons is nou nie
almal digters en musikante wat ’n nuwe lied vir die Here kan komponeer nie,
so hoe sal ons nou uiting gee aan hierdie teks? Ek dink wat dit dalk beteken
is dat elke lofsang, oud of nuut, se woorde vir ons vars en nuut moet wees
elke keer as ons dit sing. Moenie net daai liedjie uit gewoonte sing sonder
om te luister na die woorde en dit met jou hele hart te sing nie. Fokus elke
keer van nuuts af op die Here se grootheid, getrouheid, genade en almag, op
wie Hy is en wat Hy kan doen. Sing die woorde asof dit die eerste keer is
wat jy dit sing. Wees met elke loflied opnuut vervul met ontsag en
verwondering oor die Here. Buig opnuut in eerbetoon voor Hom asof dit die
eerste keer is wat jy bewus word van Sy heilige teenwoordigheid. En ja,
probeer gerus ook maar om jou eie nuwe lied te sing. Dit hoef nie musikaal
korrek te wees nie, glo wat jy sing en bedoel dit uit jou hart uit. Daar ís
beslis elke dag iets nuuts waarvan ons kan getuig, waaroor ons kan sing,
waarvoor ons die Here kan loof. ~ Wilna Botha, 24/07/2018 |
|
Ek lees nog steeds so vers vir vers deur Jesaja en het
nou by hierdie stukkie goud uitgekom. Een van die mooiste beloftes. Een van
die diepste trooswoorde. Een van die hoopvolste versekerings. “Moenie bang
wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep.” (Jes. 43:1) Waar jy
jou ook al bevind – op of langs ’n siekbed, hand-in-die-hare omdat jy nie
weet hoe om jou situasie te hanteer nie, moedeloos omdat te veel dinge skeef
loop, hartseer omdat ’n geliefde weg is, bang omdat jy nie weet wat môre
gaan inhou nie – weet vir seker dat die Here jou naam sê. Hy sê jou naam met
deernis, met liefde, met meegevoel. Hoor dit en wees rustig. Al bevind jy
jou dalk op afgedwaalde paaie, op gevaarlike paaie, op ongehoorsame paaie –
weet vir seker dat die Here jou naam sê. Hy sê jou naam met verwagting dat
jy sal luister, dat jy sal terugdraai, dat jy Sy genade sal aanvaar. Hoor
dit en kom terug na Hom toe. Ja, en selfs daai oomblik wanneer jy moet
oorstap van hierdie lewe na die ewige lewe – weet vir seker dat die Here jou
naam sal sê en jou by Hom verwelkom. ~ Wilna Botha, 26/07/2018 |
|
“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie
skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God
... moenie bang wees nie, Ek is by jou.” (Jes. 43:2) Hierdie teks (en ander)
trek beslis ’n streep deur die gedagte dat ’n kind van die Here nooit deur
moeilike tye sal gaan nie, dat daar slegs mooi weer en gladde waters sal
wees as jy ’n Christen is, dat jy nooit sal swaarkry, siek word of sukkel
nie. Die Here sê nie in hierdie teks dat daar nié storms en gevare sal wees
nie, Hy sê egter Hy stap sáám met jou daardeur, Hy sê die uitdagings van die
lewe sal jou nie onderkry nie, dit sal jou nie oorweldig nie, jy sál weer
anderkant uitkom. Ek sê nie rampe en swaarkry moet net afgelag word nie,
natuurlik is dit traumaties en angswekkend en lewensveranderend. Wat wel
waar is, is dat swaarkry-tye altyd ’n hoër geestelike doel het. Deur jou
gesukkel groei jy, leer jy hoe sterk jy is en kom jy áltyd nader aan die
Here. Dis in daai tye wat jy meer sal bid, meer selfondersoek sal doen, meer
sal besef dat jy die Here nodig het, meer sal ervaar hoe goed Hy vir jou is,
meer sal beleef hoe die mense om jou vir jou omgee. Ek het onlangs weer
gesien hoedat iemand wat ’n groot operasie moes kry in elke stap die Here se
krag en teenwoordigheid en voorsiening beleef het en met elke
oorwinningstreetjie die Here se goedheid en wonderwerke besing het ... en
die einde van die pad is nog nie eintlik in sig nie. Gisteraand het ek op TV
’n jong man gesien wat na ’n ongeluk ’n kwadrupleeg is. Hy sê hy het nie
gevoel sy wêreld stort in duie nie, hy het dadelik gewéét dat hy oukei gaan
wees en dat die Here hom deur sy lewe voorberei het vir daardie dag. Hy sê
sy drome is nie verwoes deur die ongeluk nie, dit het net verander. Vandag
is hy ’n ysterman-rekordhouer. Jóú storie sal ook goed eindig, want die Here
sal alles ten goede laat meewerk.~ Wilna Botha, 30/07/2018 |
|
“Maar moenie net aan vroeëre dinge dink en by die
verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt
om te gebeur, julle kan dit al sien kom ...” (Jes. 43:18-19) Die Here wil
nie hê dat ons moet vashaak by die verliese, vernederings en verdriet van
die verlede nie. Ons hoef nie onsself aan te hou verwyt en vas te bind aan
dit wat agter ons lê nie. Ons hoef nie eens meer daaraan te dink nie, sê die
teks. Die Here se genade maak alles nuut – ja, alles! In Hom is ons nuwe
mense met nuwe hoop, nuwe krag, nuwe denke, nuwe drome, nuwe verwagtinge,
nuwe waardes. Daarom is dit nou tyd om los te breek uit daai ou dinge en
vorentoe te kyk en vorentoe te beweeg. Maak jou los van wat agter is en
strek jou uit na wat voor is (soos wat Fil. 3:13 sê). Kyk, die Here sê die
nuwe dinge wat Hy gaan doen, is in sig vir jou. Hou goeie moed en vestig jou
oë op Hom. Hier is ’n paar van die nuwe dinge wat Hy vir jou kan doen: ’n
drank- of dwelmverslaafde kan vrykom, ’n sondaar kan God se kind word, ’n
dodelike siekte kan genees word, trane kan afgedroog word en hartseer kan
plek maak vir hoop, donker kan lig word, bekommernis en angstigheid kan met
vrede vervang word, as jy swak is, kan die Here jou sterk maak. “...dit
staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom.” ~ Wilna Botha,
01/08/2018 |
|
“Jy het nie moeite gedoen om my te dien nie...” (Jes.
43:22) Sjoe, dis darem nie woorde wat ek wil hoor van die Here af nie. Die
vraag kom by my op: hoe moet ons die Here dan dien dat Hy tevrede sal wees,
dat Hy nie sal sê: omdat jy lou is, nie warm of koud nie, gaan Ek jou uit my
mond uitspoeg (soos in Openb. 3:16)? Wel, Hy sê self dat ons Hom met ons
hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag moet dien – Hý
moet die belangrikste wees, ons moet altyd eerste aan Hom dink en aan wat Hy
verwag. Ons moet eerlik en opreg wees teenoor die Here – ons diens aan Hom
moenie net lippetaal wees nie. Dit moet uit eerbied en met respek wees . Dit
moet uiting vind in ons volle oorgawe aan Hom, in ons gehoorsaamheid, in ons
alledaagse gesindheid, in ons diens aan ons medemens, in ons lofsange
teenoor Hom. Ons moenie moeg word om goed te doen nie, nie verslap of lui
word nie (aldus Gal 6:9), ons moet aandag gee aan die geringstes (soos Matt.
25:45 daarvan praat). Ons moenie uitgebrand en moeg raak vir ons
godsdiensbeoefening nie. Ons moet gereeld stop en stilstaan en fokus op wie
God is, ons moet volgemaak word met Sy karakter en veral met Sy liefde en Sy
genade. Ons moet aanhou glo en aanhou hoop. “Moenie vir een enkele oomblik
verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy
krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here
met groot oorgawe.” (Rom 12:11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 06/08/2018 |
|
“Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou
sondes nie.” (Jes. 43:25) Getrou aan wie Hy ís, getrou aan sy karakter, ís
die Here ’n barmhartige en genadige God. Hy vergewe sondes, Hy wis
oortredinge uit, dit verdwyn soos miswolke ( lees Jes. 44:22), Hy vergeet
daarvan, Hy hou nie boek daarvan nie, Hy verwyder dit so vêr soos die ooste
van die weste is, Hy maak dit tot niet en gooi alles in die diepsee (lees
Miga 7:19), Hy hou Hom blind en doof vir sondes van die verlede - dis wie
Hy is en Hy sal nooit anders optree nie, nooit van plan verander nie, nooit
uitsonderings maak nie. Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes, sê
die Woord. Glo dit asb. eens en vir altyd. Jesus het betaal. Jy is vry. Die
skuldlas is weg. “Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n
rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met
ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het
egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die
skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis.
Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.”
(Kol 2:14, Die Boodskap) Mag hierdie woord vir jou, soos vir my, ’n groot
las van jou hart en gedagtes afhaal en jou verlig en vry laat voel. ~ Wilna
Botha, 08/08/2018 |
|
“Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou
nakomelinge ... Die een sal sê: “Ek behoort aan die Here,” ... die ander sal
op sy hand skryf: Die Here s'n.” (Jes. 44:3-5) Hoe ongelooflik kosbaar is
hierdie belofte oor ons kinders en kleinkinders nie. God het ’n verbond met
ons én ons kinders, soos wat Gen. 17:7 sê en wat in Hand 2:39 bevestig word:
“My beloftes aan jou is ook jou kinders s’n. Wat Ek beloof het, geld vir
altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is.” God steek deur ons
verbondenheid aan Hom sy hand uit na ons kinders. In moeilike tye wanneer
dit dalk voel of jou kinders ’n ander pad kies, wanneer hulle opstandig raak
en jy moedeloos en bekommerd is oor hulle kan jy met vrymoedigheid vasklou
aan dié versekering dat die Here hulle nie sal los nie en dat Hy steeds Sy
seën en Sy Gees op hulle sal uitgiet – ongeag hulle ouderdom. Deur ons
voorbeeld, ons gebede en God se getrouheid aan Sy verbond sál daar ’n dag
kom wat hulle gaan bely: Ek behoort aan die Here. Deur ons as ouers is hulle
wortels in die Here en kan ons in ons geestesoog alreeds sien dat dié woorde
op hulle geskryf is: Die Here s’n. ~ Wilna Botha, 14/08/2018 |
|
“Julle is my getuies: daar is net eenvoudig geen ander
god behalwe Ek nie.” (Jes. 44:8, Die Boodskap) Enige iemand wat oor ’n saak
wil getuig moet self gesien, self gehoor en direk beleef het en dit dan met
geloofwaardigheid oorvertel. Wat is dit wat jy al self gesien, gehoor en
beleef het en glo oor die Here waaroor jy kan getuig? Het jy al self
ondervind en kan jy met oortuiging sê: Hy is die enigste God, die Almagtige,
die Koning, die Eerste en die Laaste, jou Verlosser (soos Jes. 44:6 sê)?
Ps. 34:9 praat ook van die eie, persoonlike ondervinding wat ons van die
Here se goedheid kan hê. “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is.”
Smaak en sien dat die Here goed is, sê die ou Afrikaanse vertaling. As jy
dít beleef het, kan jy daaroor getuig. Dit laat my ook dink aan Tomas vir
wie Jesus gesê het om met sy vinger, sy hand en sy eie oë te ervaar dat Hy
die ware God is: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou
hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees
gelowig. En Tomas sê vir Hom: My Here en my God!” (Joh. 20:27-28) Na die
persoonlike ervaring volg die belydenis en getuienis: My Here en my God! ~
Wilna Botha, 16/08/2018 |
|
“So sê die Here jou Verlosser wat jou in die
moederskoot gevorm het: Ek is die Here, Ek het alles geskep.” (Jes. 44:24)
Die Here wat alles uit niks geskep het, het jou en my ook geskep. Hy het jou
in die baarmoeder gevorm. Hy was betrokke. Hy het dit sélf gedoen. Met Sy
eie hand. Hy het jou beplan en voor jou geboorte alreeds ’n plan vir jou
lewe gereed gemaak. Ps. 139 sê mos ook hoe die Here beplan, gevorm en geweef
het aan jou waar niemand dit kon sien nie en terwyl jou ma dalk nog nie eens
van jou geweet het nie. Daar in die baarmoeder het sy sorg en beskerming
alreeds begin. “Reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.”
(Ps. 71:6) Toe jy nog nie ’n naam gehad nie, het God reeds jou naam geken -
selfs voor iemand van jou bestaan geweet het! “Toe ek nog in my moeder se
liggaam was, het Hy my op my naam genoem.” (Jes. 49:1) Dalk is daar oor jou
gesê dat jy ’n glips of ongewens was – weet egter dat die Here nie verras
was nie, want van die eerste oomblik daar diep in die baarmoeder, was Hy
daar en het Hy jou op jou naam genoem. Gen. 1:31 sê: “Toe
het God gekyk na alles wat Hy gemaak het en dit was baie goed.” So kyk Hy
elke dag met tevredenheid na my en jou ook en sê: dit is baie goed! ~ Wilna
Botha, 21/08/2018 |
|
“Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak, Ek maak
die waarsêers belaglik. Ek weerlê die geleerde mense, Ek ontmasker hulle
kennis as dwaasheid.” (Jes. 44:25) Niemand, behalwe die Here, weet wat in
die toekoms lê nie. Baie mense probeer vooruit kyk en voorspellings maak,
maar hulle kan dit net doen met kennis en inligting wat hulle vandag het.
Hulle voorspellings is niks meer as raaiskote nie. Daar is selfs mense wat
die tyd van die wederkoms probeer voorspel, terwyl die Here sê dat nét Hy
die dag en uur weet. Elders sê die Bybel dat God se eer lê in dit wat Hy
verborge hou (Spr. 25:2) Hy is in beheer en Hy besluit wat sal gebeur en ons
moet erkenning en eer aan Hom gee daarvoor. Jakobus sê mos ook dat ons nie
sommer net kan sê ons sal môre dit of dat doen nie, want ons weet nie hoe
ons lewe môre sal wees nie. Hy sê mense wat dit doen, is te seker van
hulleself en praat groot. Wat ons moet doen, is om alle vertroue op die Here
te plaas vir die toekoms, alle eer en erkenning aan Hom te gee as die
enigste een wat regtig die toekoms ken. Ware wysheid is om oorgegee aan God
te lewe en Hom te vertrou met jou toekoms. Vir my gee dit ’n kinderlike
gerustheid, ’n gemaklike vrede om te erken dat God alles weet en in beheer
is van alles. ~ Wilna Botha, 23/08/2018 |
|
“Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is
daar geen God nie.” (Jes. 45:5) Hier rondom Jes. 43-46 hoor mense hierdie
woorde oor en oor. Ek het so vinnig getel en by agt keer uitgekom. Dit kom
soos ’n refrein: ... buiten My is daar geen God nie, daar is geen ander nie.
Geen ander Redder nie. Geen ander Verlosser nie. Geen ander Helper nie. Geen
ander Vader nie. Het die volk dit dan nie geglo nie? Was hulle doof vir
hierdie aanspraak wat die Here gemaak het? Of het hulle hul laat verlei deur
ander, dooie, nikswerd afgode? Het hulle gedink hulle kan meer as een god
dien? Het hulle dalk die Here se bestaan en betrokkenheid en medelye
bevraagteken? Ek dink dit is ’n “ja” op elkeen van hierdie vrae. En hulle is
nie alleen nie. Ek raai ons staan vandag maar net so skuldig en ek vra
myself die vraag: is daar dalk iets wat vir my belangriker is as die Here,
is daar iets (of iemand) wat meer van my aandag, liefde en bewondering
ontvang as die Here self? Hy is ’n jaloerse God wat al ons aandag,
lojaliteit en toewyding wil hê, Hy wil nie meeding met ander gode nie, nie
tweede viool speel teenoor ons eie-ek, ons gejaag na kennis, roem, sukses en
besittings nie. Die Here sê: “Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand
anders nie.” (Jes. 48:11) Mag hierdie refrein in ons harte en gedagtes bly
sodat ons dit gló en uitleef: daar is géén ander God nie. ~ Wilna Botha,
28/08/2018 |
|
“Ek maak lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en
skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.” (Jes. 45:7)
Hierdie is een van die verse in die Bybel wat só duidelik vir my sê dat die
Here in beheer is van alles. Ja, selfs rampe en siektes en swaarkry en dood
is nie buite Sy beheer nie. Vir party mense is dit moeilik om te aanvaar,
want hulle redeneer dat ’n God van liefde nie swaarkry kan of sal toelaat
nie. Vir my is dit egter ’n gerusstelling om te weet dat niks buite Sy wil
en Sy wete en Sy teenwoordigheid is nie. Ek weet ook al vat die lewe watse
draaie, die lig en die voorspoed sal óók weer seëvier, alles sal weer ten
beste saamwerk en uitwerk, want die Woord sê alles sal ten goede meewerk vir
die wat Hom lief het. (Rom 8:28) God is altyd besig met ’n groter prentjie
as dit wat vir ons sigbaar is. Hy is altyd besig met vorm en vou en slyp en
suiwer aan ons almal en dié rondom ons. “Durf die klei vir die een wat dit
vorm sê: “Wat maak jy?” (Jes. 45:9) Nee, natuurlik nie! Vertrou Hom, want Hy
is God! ~ Wilna Botha, 30/08/2018 |
|
Hulle sal teenoor jou bely: ”Waarlik, God is by jou.” (Jes.
45:14) Sjoe, ek sal graag wil hê dat my lewe só sal wees dat mense dit van
my kan sê. Dat hulle kan sien dat die Here deel is van my lewe. Dat hulle
kan beleef dat ek anders is, dat ek nie kwaad word nie, dat ek nie
ongeduldig is nie, dat ek almal kan liefhê en vrygewig is met my goed en my
tyd, dat ek wysheid en raad het in moeilike situasies, dat ek as’t ware die
geur van Christus versprei. Dat ek onverskrokke kan wees in my geloof en die
Here blindelings vertrou. Dat Sy teenwoordigheid, Sy krag en Sy wonderdade
só sigbaar sal wees, dat dit mense sal laat sê: “Waarlik, God is by jou en
daar is geen ander nie, daar is nie nog ’n God nie.” Ongelukkig is dit baie
keer die teendeel en moet ek bely dat my gedrag en wat ek kwytraak partykeer
eerder die wenkbroue sal laat lig as wat dit eer aan die Here sal gee. Mens
hoor mos baie keer dat mense sê: as dít is hoe ’n Christen optree, dan wil
ek nie een wees nie. Ek bid dat dít nie waar sal wees van een van ons nie!
Mag dit vir ons wees soos Daniel en sy vriende wat ten alle koste getrou
gebly het, vasgestaan het in hulle geloof en vir wie die Here gered het uit
die brandende vuur en beskerm het in die leeukuil. Kyk watter eerbetuiging
het die heidense koning aan die Here gebring op grond daarvan: “Hy is die
lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie vernietig word nie,
sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry, Hy doen tekens en
wonders.” (Daniël 6:28) Waarlik, God is by jou! ~ Wilna Botha, 04/09/2018 |
|
“Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op aarde.”
(Jes. 45:22) Is dit nie die wonderlikste uitnodiging van die Here nie. Sy
redding en bevryding, Sy genade en goedheid is vir almal bedoel. Oorvloedig
en gratis. Joh. 3:16 sê mos: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy
enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie,
maar die ewige lewe kan hê.” Ek sien in beide hierdie verse ’n voorwaarde –
ons moet kom, ons moet glo. Sy reddende hand is uitgesteek, dit berus by ons
om dit te aanvaar. Waarvan verlang jy vandag bevryding? Dalk skuldgevoelens,
geheime sondes of groot foute wat jy begaan het? Dalk hardkoppigheid en
selfgerigtheid wat maak dat jy dink jy het nie die Here nodig nie? Dalk
verwerping en mishandeling waaraan jy onderwerp is of was? Dalk verslawing
van ’n aard? Dalk ’n diep hartseer en droefheid, of siekte? Die Here nooi
jou uit om na Hom toe te kom sodat jy gered en bevry en gehelp kan word. Hy
wil Sy vrede en rus in jou hart en gedagtes kom deponeer. Nader tot God en
Hy sal tot jou nader – belofte! “Ek lê ’n eed af in my eie Naam, wat Ek sê,
is betroubaar, dit is ’n woord wat nie onvervul sal bly nie.”(Jes. 45:23) ~
Wilna Botha, 06/09/2018 |
|
“Vandat jy gebore is, het Ek vir jou gesorg. Toe jy ’n
babatjie was, het Ek jou in my arms rondgedra. Selfs al word jy oud, sal Ek
nog daar wees. Ek sal vir jou sorg tot jy grys is. Ek het julle gemaak. Ek
sal vir julle sorg. Ek sal julle dra en julle versorg.” (Jes. 46:3-4, Die
Boodskap) Ja, Hy het ons gemaak en Hy sal ons nooit los nie. Wanneer jy ouer
en swak word, dalk nutteloos voel, dalk oorbodig voel, sal die Here jou dra.
Sy arms bly altyd onder jou. Ek dink sommer onwillekeurig aan die teks in
Prediker 12 wat sê: dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar tye
kom. Kom naby aan die Here wanneer jou verstand en krag nog sterk is, sodat
jy in jou ou-dag veilig en versorg en tevrede in Sy arms sal wees. “Hy bewys
ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer”, sê Luk. 1:50. Van
geslag tot geslag, van die begin tot die einde sal Hy daar wees en ons dra
en versorg. Kyk terug en sien dat die Here jou deur swaarkry en storms, deur
verlies en hartseer gedra het en weet dat Hy dit steeds sal doen totdat jy
grys is en tot jou aardse pad ten einde loop. Behou enduit jou geloof en jou
ywer vir die Here. Wees steeds bereid dat die Here jou kan gebruik. Span jou
ervaring en lewenswysheid in om mense om jou te lei en te leer. Doen alles
in jou vermoë om nie ’n verbitterde, onvergenoegde, knorrige en klaerige
bejaarde te wees of te word nie. Spreuke sê dat ouderdom ’n sierlike kroon
en ’n seën is – dra dit met trots en met die sekere wete dat die Here enduit
saam met jou stap. ~ Wilna Botha, 11/09/2018 |
|
“Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil,
wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.” (Jes. 48:17) Die Heilige Gees,
die wet en die Woord van God is altyd daar om vir ons die pad aan te wys, om
ons te stuur in God se rigting, om ons te lei in die keuses en besluite wat
ons moet maak, om ons te help om ’n sinvolle lewe te lei, om ons op ’n pad
van voorspoed en vrede te bring. Dit wat die Here ons leer uit sy Woord, dit
wat ons leer deur die prediking waarna ons luister, deur die boeke wat ons
lees, is natuurlik altyd tot ons beswil, tot ons persoonlike voordeel. Dit
bring jou in die regte verhouding met die Here, dit bring jou by die kruis
en Jesus se vergifnis en vryspraak. Dit versterk jou geloof, dit gee jou
hoop. Dit beskerm jou teen verleiding, dit help jou in verhoudinge, dit gee
wysheid vir elke lewenssituasie, dit maak jou ’n beter mens ... sien, dis
tot jou beswil. Maar, die vraag is: is ons leerbaar? Onderwerp ons onsself
aan God se onderrig? Luister en doen ons, of het jy gister se preek net
aangehoor, sonder dat dit in jou hart gaan lê het en ’n verskil in vandag se
optrede gemaak het? Wie ore het, moet luister, sê die Nuwe Testament
herhaaldelik. “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens
handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou
het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen
daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want
die fondament was op rots.” (Matt. 7:24-25) – tot jou beswil! ~ Wilna Botha,
17/09/2018 |
|
“Die Here het my ’n belangrike opdrag gee en my God gee
my die krag om dit te doen.” (Jes. 49:5) Wat het die Here vir jou gegee om
te doen? Dalk is dit om ’n preek te lewer voor ’n groot klomp mense, dalk
moet jy jou getuienis in die kerk of by die werk gee, dalk moet jy ’n
Bybelstudiegroep lei, ’n funksie vir jou gemeente reël, dalk moet jy gaan
bid vir iemand, kos uitdeel of iemand gaan bemoedig. Dalk is dit iets gewoon
soos om vir jou gesin ’n ete voor te berei, huis skoon te maak of jou gewone
dagtaak te verrig. Die Here se opdragte kom altyd saam met toerusting. As jy
moet praat, sal Hy vir jou die regte woorde gee en jou skaamheid en bangheid
vervang met selfvertroue en moed. As jy iemand moet leer of bemoedig, sal
die Here vir jou onderskeiding en wysheid gee om die regte aanslag te hê.
As jy moet bid, sal die Gees jou lei en sáám met jou bid. As jy iets moet
doen, sal die Here jou hande sterk maak en jou genoeg energie gee om die
taak te voltooi. Dis Hý wat ons gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te
voer, sê Fil. 2:13. Vra Hom daarvoor en vertrou Hom om dit te doen.
Sodoende sal dít wat ons vir die Here wil doen ’n blywende resultaat oplewer
en ’n ewige waarde hê. ~ Wilna Botha, 19/09/2018 |
|
“So sê die Here: Op ’n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou
gebede verhoor.” (Jes. 49:8) Op ’n tyd wat Ek goeddink ... Hierdie is mos
nou nie woorde wat ons graag wil hoor nie, of hoe? Ons wil mos bid en
dadelik ontvang. Ons wil nie graag wag vir die Here se tyd nie. Ons wil
onmiddellike reaksie en uitkoms hê wanneer ons bid, anders sê ons mos ons
bid teen die plafon vas, of ons wonder wat het ons verkeerd gedoen of dat
ons dalk nie op die regte manier gebid het nie, of nog erger, dat die Here
nie hoor nie, of nie bestaan nie, dat gebed nie “werk” nie. Hierdie teks
herinner my maar net dat God wel hoor, maar dat Sy antwoord dikwels nie is
wat en wanneer ons dit wil hê nie. Dit herinner my dat God besig is met ’n
groter prentjie waarvan ons nie altyd bewus is nie. Moet ons aanhou bid? Ja,
beslis, sonder ophou, sê die Woord. Ons moet bid want dan sal die Here se
vrede jou hart en jou gedagtes kom volmaak omdat jy sal weet Hy luister en
dat Sy planne vir die verhoring van jou gebed alreeds in plek is. Hy weet
immers wat jy nodig het nog voordat jy gevra het. Wees geduldig en op die
regte tyd sal die Here jou gebed verhoor. ~ Wilna Botha, 25/09/2018 |
|
“Hulle sal versorg word terwyl hulle op pad is, selfs
op kaal heuwels sal daar vir hulle genoeg wees. Hulle sal nie honger of dors
kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat
Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by
fonteine langs lei. Ek sal al my berge paaie maak, my grootpaaie sal sonder
opdraandes wees.” (Jes. 49:9-12) Dís hoe die Here sy volk lei en help en
versorg. Sal Hy dit vandag nog vir my en vir jou doen? Baie beslis. Op ons
lewenspad kan ons reken op die Here se buitengewone versorging – waar daar
oënskynlik niks hulpbronne oor is nie, sal Hy voorsien, waar daar nie ’n pad
is nie, sal Hy een maak, waar daar opdraandes is, sal Hy dit gelyk en
draaglik maak, waar daar lang tye in die woestyn is, sal Hy Sy skaduwee oor
jou laat val, Hy sal jou altyd weer uitbring by fonteine met Sy lewende
water wat verfris en lawe en krag gee, na waters waar daar rus is, sal Hy
jou bring. Niks wat op die pad met jou gebeur sal jou permanent onderkry of
jou breek of jou totaal moedeloos laat nie, want die Here is langs jou en Sy
belofte is dat alles ten goede sal meewerk. En wanneer jy terugkyk en net
een ry spore sien, sal jy weet Hy het jou nie alleen gelos nie, Hy het jou
gedra! ~ Wilna Botha, 27/09/2018 |
|
“Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm
oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon
gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms
gegraveer.” (Jes. 49:15-16) Het jy ook al iets op jou hand geskryf sodat jy
dit moet onthou? Jou hand is mos waar jy dit altyd kan sien, dis soos ’n
notaboek wat nie verlê kan word nie. Só is jou naam permanent geskryf waar
die Here dit altyd sien, naby aan Hom – in sy handpalms. Die spyker merke
aan Jesus se hande is die herinnering dat Hy só lief is vir ons dat Hy sy
lewe gegee het, sodat ons gered en vry kan wees. Ja, daar by die kruis is
ons elkeen se naam op Sy handpalms met Sy eie bloed gegraveer. Hy sal jou
nie vergeet nie, selfs al het jou eie ma of jou eie mense jou vergeet en
verstoot. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy dalk jou rug op Hom
gedraai. Hy sal jou nie vergeet nie, selfs al het jy die grootste sonde
gedoen. Niks sal jou naam kan uitvee nie – daarvoor sal Hy sélf sorg! ~
Wilna Botha, 02/10/2018 |
|
“... wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” (Jes.
49:23) Hoe dikwels is ons nie ontnugter wanneer ons op mense staatgemaak het
en hulle nie hulle beloftes nagekom het nie, hulle daag nie op nie, hulle
verander van plan, hulle stel hulle eie belange eerste, om getrou en
toegewyd te wees is nie vir hulle ’n prioriteit nie. Die Bybel sê mos ook
elders dat ons nie op prinse moet vertrou nie, nie op mense nie, want hulle
blaas so maklik hulle asem uit (jy ook, nè!). Plaas jou vertroue op die Here
en jy sal nooit teleurgestel wees nie, sê die teks. Maar wat beteken dit om
die Here te vertrou? Ek dink in die eerste plek vra dit ’n persoonlike
verhouding met Hom. Jy moet Hom regtig ken. Jy moet uit die Woord en deur
ervaring leer en weet wie Hy is, hoe Hy oor jou voel en wat Hy wil en sal
en kan doen. Jy moet volle sekerheid hê van sy krag, sy betroubaarheid, sy
goedheid en sy vermoëns. Dan moet jy bewustelik jouself in Sy hande plaas,
jou oorgee aan Sy sorg en Sy leiding. Jy moet luister na die stem van die
Heilige Gees in jou binneste, in jou gewete en in jou gedagtes. Om op die
Here te vertrou beteken jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet,
dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Om die Here te vertrou is nie net
’n passiewe houding nie, dit beteken nie jy sit net agteroor en wag nie . Jy
kan bv. nie met oogklappe op sê jy vertrou dat die Here vir jou sal sorg vir
’n inkomste, terwyl jy nie wil werk of planne maak nie. Jy kan bv. nie sê jy
vertrou die Here vir goeie gesondheid maar jy doen dinge wat sleg is vir
jou liggaam nie. Jy kan bv. nie sê jy vertrou die Here vir jou veiligheid,
maar jy sluit nie jou deure nie. Om die Here te vertrou beteken nie jy moet
jou blind hou vir feite en realiteite nie, dit beteken jy glo en ervaar dat
die Here teenwoordig is in elke situasie en dat Hy jou daardeur sal dra en
lei. Vertroue vat bekommernis en vrees en angstigheid weg. Vertroue bring
vrede wat alle verstand te bowe gaan. Jy sal nie teleurgestel word nie. ~
Wilna Botha, 04/10/2018 |
|
“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te
gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.” (Jes. 50:4) Ons weet
maar al te goed hoeveel moeë, moedelose, hopelose, depressiewe mense daar
vandag is. Dalk is hulle by jou werk, in jou vriendekring of selfs in jou
gesin. Hulle is negatief, hulle sien nie meer die silwer randjie om die
donker wolk nie, hulle is pessimisties en kla oor alles. Te veel kere spring
ons in en praat saam en mor saam en kort voor lank is ons almal moeg en op
moedverloor se vlakte. Ons woorde kan só ’n groot invloed hê op mense en ook
op onsself. Daarom bid ek dat die Here vir ons die regte woorde sal leer,
soos die teks sê, sodat ons ’n kalmerende, opbouende, bemoedigende invloed
kan hê. Kom ons help mekaar deur mekaar moed in te praat. “Aangename woorde
is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens” (Spr. 16:24) en “Kalmerende
woorde bring lewe.” (Spr. 15:4) Mag ons woorde hoop en genesing bring. ~
Wilna Botha, 09/10/2018 |
|
“Die Here my God help my, ek sal nie teleurgestel staan
nie; ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in verleentheid kom nie.”
(Jes. 50:7) Met die Here aan jou kant kan jy kans sien vir enige moeilike
pad en hoef jy geen struikelblokke te vrees nie. Ps. 18:30 sê mos ook dat
mens kan kans sien om in enige moeilike situasie in te storm as God aan jou
kant is, dat jy oor ’n hoë muur kan spring saam met God. Hy is ons Helper en
sy belofte in Heb. 13:5 is dat Hy ons nooit sal los of ons in die steek sal
laat nie. Die Here is aan jou kant, kind van God! Moenie ontsteld of onseker,
rigtingloos of sonder selfvertroue wees nie. Die belofte in die teks is dat
ons nie in verleentheid sal kom nie. Al kom ons onder druk, ons sal nie
verpletter word nie, al voel ons verward, ons sal nie wanhopig raak nie, al
word ons dalk platgeslaan deur omstandighede, ons sal nie vernietig word nie.
“Wat is dan nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vír ons.”
(Rom 8:31) ~ Wilna Botha, 11/10/2018 |
|
“Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op
die Here vertrou, moet op sy God steun.” (Jes. 50:10) Soos wat ek deur
Jesaja lees is dit vir my opvallend dat daar hope sulke bemoedigende verse
vol belofte voorkom. Ek onderstreep hierdie verse helder in my Bybel, sodat
ek op moeilike, moeë, moedelose dae nuwe hoop en nuwe versekering van die
Here se hulp en teenwoordigheid hier kan kry. As jy dalk vandag op ’n donker
en alleen pad is, onthou dat God se lig binne-in jou is en al voel dit of
omstandighede die lig heeltemal uitgedoof het, sal daar altyd nog ’n
straaltjie êrens deurbreek om jou pad te verlig. Donker kan nooit wen teen
God se lig nie. Dalk is jou hartseer of jou las so swaar dat jy nie daai lig
kan raaksien nie – steun nogtans op die Here. Hy is naby aan jou. Sy
helpende hand is altyd uitgesteek na jou toe. Onthou ook dat God se lig
binne-in medegelowiges is – vra en aanvaar hulp van die mense om jou. Dalk
gee dit bietjie ekstra lig vir die pad. “O Here, U is die lig in my lewe. As
U by my is, verdwyn die donker. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele
bende storm. Niks sal my kan keer nie.” (Ps. 18:29) ~ Wilna Botha,
16/10/2018 |
|
“... die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees,
die redding wat Ek bring, sal altyd bly.” (Jes. 51: 6) En só het God sy
woord gehou, want die redding wat vir ons almal gekom het deur Jesus
Christus geld vir altyd en ewig. Sy verlossing vir my en vir jou staan vas
vir eens en vir altyd en vir almal. Sy bloed was die betaling vir alles in
ons verlede, selfs nog voordat ons Hom geken en aanvaar en bely het. Sy
bloed was die betaling vir alles wat ek vandag verkeerd gedoen het of
versuim het om te doen – Hy hou nie boek of telling daarvan nie. Sy bloed
was reeds die betaling vir wat ook al in die toekoms kan gebeur. Die
verlossing en die redding het reeds aangebreek. As God ons vrygespreek het,
dan is ons waarlik vry, dán kan jy nie uit sy hand geruk word nie – nooit
nie. En as jy dit nog nie glo nie, of nog nie beleef het nie, dalk nog nie
die Here aanvaar het in jou lewe of nog nie die deur van jou hart vir Jesus
oopgemaak het nie ... lees vers 5: ““Die redding wat Ek bring, kom baie gou,
die verlossing wat Ek bewerk, is op pad ...” Dalk is vandag dié dag van jou
redding en verlossing. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag
van redding.” (2 Kor. 6:2) “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die
genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte
tyd gered kan word.” (Heb. 4:16) ~ Wilna Botha, 18/10/2018 |
|
“Moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie
skrik as hulle julle beledig nie. Hulle is soos lap wat deur motte gevreet
word.” (Jes. 51:7-8) Die meeste goed wat ons doen, doen ons met ander mense
in gedagte – wat sal die mense daarvan dink, wat sal hulle sê, sal hulle
beïndruk wees met my en my goed, sal hulle opkyk na my, of sal hulle my dalk
uitlag, neerkyk op my of my spot en beledig? Dis nou maar een maal ’n
menslike eienskap om ingestel te wees op die mening van ander. Die Bybel sê
egter ons moet wat ons doen, doen asof ons dit vir die Here doen en nie vir
mense nie. Die Here se siening van ons behoort al te wees wat tel. Die Here
se goedkeuring oor ons gedrag is veel belangriker as mense se goedkeuring. Ons
moet veral nie bang wees vir mense se spot en beledigings omdat ons
Christene is nie, omdat dit vir ons belangrik is om die regte dinge te doen
en goeie keuses te maak nie. Moenie bang wees om “uit” te wees oor jou
beginsels nie. As mense jou spot is dit dalk juis om die aandag van hulle
eie tekortkominge en slegte gewoontes af weg te trek. As iemand jou beledig
oor jou Christelike standpunte is dit dalk juis omdat hy so leeg en
nutteloos voel soos ’n lap wat deur motte gevreet is. Moenie skaam wees dat
jy “anders” is omdat jy die Here dien en Hom wil tevrede stel nie. ~ Wilna
Botha, 23/10/2018 |
|
“Sy Naam is die Here die Almagtige!” (Jes. 51:15)
Deesdae hoor mens nogal baie daarvan dat gelowiges ’n hele studie maak van
God se verskillende name wat in die Bybel voorkom. Party gaan weer na die
ander kant toe en sê daar is net een naam waarop God genoem mag word, die
ander is net beskrywende titels. Ek het vandag dié prentjie êrens op
Facebook raakgesien en my hart stem saam daarmee. God is groter as ’n naam
of die uitspraak daarvan. As jy met jou hele hart na Hom uitroep, sal Hy
hoor en sal Hy tot jou nader. Of jy Hom in ’n intieme oomblik aanspreek as
Vader of Vriend, in afhanklikheid as Redder of Verlosser, in nood as Helper
of Raadsman, in siekte as Geneesheer of Wonderwerker, in verwondering as
Almagtige of Skepper, Hy kén jou en Hy kén jou stem en Hy reageer. “... Hy
seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here
aanroep, sal gered word.” (Rom 10:13) ~ Wilna Botha, 25/10/2018
 |
|
“Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van
hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding
bring, wat redding aankondig...” (Jes. 52:7) Dis mos wonderlik as die
deurklokkie lui en daar staan iemand wat kom vrede maak, of die foon lui en
die een aan die ander kant het vir jou ’n bemoedigende woord, of jy wag in
jou hospitaalbed en die voetstappe draai by jou kamer in met goeie nuus, of
jy hoor jou baas se voetstappe in die gang met goeie nuus van ’n nuwe
kontrak of salarisverhoging. Goeie nuus is lekker, nè! Ai en partykeer wag
ons vir goeie nuus, maar dit kom nie en ons kan niks daaraan doen nie.
Waaraan ons wél iets kan doen, is om self die boodskapper met goeie nuus te
wees. Miskien kan my voetstappe meer goeie nuus bring, nuus van vrede, ’n
woord van aanmoediging of bemoediging, ’n goeie tyding oor die liefde en
genade van die Here Jesus. Miskien kan my voetstappe ’n paar rand of iets te
ete bring en só die uitkoms wees vir iemand in nood. Miskien kan my
voetstappe belangstelling en geselskap bring en só die lig wees vir ’n
eensame siel êrens. Miskien kan my voetstappe die evangelie van Christus
bring en só die redding wees vir ’n soekende persoon. Kom ons trek die
skoene van bereidheid aan sodat ons voetstappe goeie nuus kan aankondig. ~
Wilna Botha, 12/11/2018 |
|
“Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle sal iets sien wat nie aan
hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor
het nie.” (Jes. 52:15) Hier aan die einde van Jes. 52 begin die groot
profesie oor Jesus wat strek tot aan die einde van hoofstuk 53. Jesus is die
“dienaar” van wie hier gepraat word. Hy het gekom vir almal – elke volk en
stam en taal en nasie. Sy genade en vergifnis sluit niemand uit nie – baie
nasies sal die boodskap hoor en opspring van verbasing. Die Bybel sê mos
elke knie sal buig en elke mens sal erken dat Hy die Here is. Almal wat hoor
en glo en Sy verlossing aanvaar sal verstom en verheug wees dat hy ingesluit
is in God se koninkryk, dat hy ’n kind van God geword het – sonder dat hy
dit verdien het. Onthou jy dalk ook dat jy daardie gevoel gehad het toe jy
besef het dat Jesus ook vir jóú sondes aan die kruis gesterf het en dat jy
skoon gewas, vol sekerheid en vol vrede en oorwinning kan lewe? Ek voel
opnuut diep dankbaar (en verbaas!) dat die Here ook mý oë en hart oopgemaak
het en my gered het, my foute vergewe het en my lewe nuutgemaak het. ~ Wilna
Botha, 14/11/2018 |
|
“Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het
hy gedra ... oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy
verbrysel ...” (Jes. 53:4-5) As mens Jes. 53 lees kom jy sterk onder die
indruk van die lyding wat Jesus moes verduur in die ure van sy kruisdood.
Dan besef jy met verwondering en dankbaarheid dat Hy dít alles in óns plek
gedoen het – óns lyding, óns siektes, óns sondes. Wat vandag vir my uitstaan
in hierdie hoofstuk is woorde soos: Hy het nie skoonheid of prag gehad nie,
Hy was verag, Hy het lyding en pyn geken, niemand wou eers vir Hom kyk nie,
Hy was verag, misken, mishandel, onregverdig veroordeel en gestraf, as
misdadiger beskou ens. En ek besef dat Hy dít ook alles deurgegaan het in
óns plek. Voel jy verwerp, verstoot of verag, misken of mishandel, of is jy
dalk onregverdig behandel, onnodig gestraf? Jesus het ook hierdie lyding en
emosies van jou op Hom geneem aan die kruis. Hy het al hierdie lyding namens
jou gedra. Daarom kan jy vandag nie net jou sondes en foute nie, maar ook
jou siekte en swaarkry en lyding op Hom kom afpak by die kruis in ruil vir
vrede, vryheid, vergifnis, herstel en genesing. Mag dit vir ons almal ’n
ware werklikheid wees. “Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes
die prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons
weer gesond kan word.” (Jes. 53:5, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/11/2018 |
|
“Kom almal wat dors
is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en
eet; ja, kom koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk ... Gee
aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe” (Jes. 55:1-3) Hier is
een van die Here se vele uitnodigings aan ons: kom, drink, eet en lewe!
Almal. Verniet. Sonder dat ons dit verdien. |
Wie is uitgenooi? Dié
wat dors en honger is vir die Here se teenwoordigheid in hulle lewe, dié wie
se siel smag na die Here, die wat weet dat hulle afhanklik is van die Here,
dié wat weet dat hulle God se genade nie verdien nie, dié wat geestelik arm
voel, dié wat soos Dawid sug: “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek
smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water.” (Ps. 63:2)
Wat word vir ons aangebied in die uitnodiging? Water vir lewe, herstel en
verfrissing, melk vir basiese voeding, wyn vir pret en plesier en om die
lewe te geniet. By die Here is álles wat ons nodig het.
Wat moet ons doen om
dit alles te ontvang? Kom, koop en eet. Kom soos jy is, koop sonder geld
want Jesus het reeds betaal, eet en maak dit alles deel van jou bestaan,
leef in oorwinning en in die Here se oorvloed van geestelike gawes en
seëninge. ~ Wilna Botha, 26/11/2018 |
|
“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit
sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek
gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (Jes. 55:11)
Só is dit! God se woord staan vas. God se woord is waar. God se woord is ’n
lewende woord. God se woord bring verandering. God se woord gee hoop en krag.
Of dit nou die woord is wat die profeet Jesaja verkondig het, of die woorde
in enige vertaling van die Bybel, of die woorde van ’n preek of boodskapper
van die Here, of die woorde wat die Here in jou hart en gedagtes plant – as
dit deur die Gees van die Here geïnspireer is, sal dit doen waarvoor God dit
gestuur het. Dit sal nie net leë woorde wees nie. Dit sal nie onbenullig
wees nie. Dit sal nie in die wind wegwaai nie. Dit sal nie vernietig of
uitgevee kan word nie. God se woord sal altyd vrug oplewer. God se woord sal
altyd krag hê. Vers 10 sê God se woorde is soos reën wat die aarde deurweek
en plante laat bot en vrugte dra, sodat daar weer saad is om te saai en kos
is om te eet. Nou kan ek en jy ook met vrymoedigheid van God se woorde
uitdeel en versprei, met die sekerheid dat God dit op sy tyd sal laat groei
en vrug oplewer in mense se harte. ~ Wilna Botha, 28/11/2018 |
|
“’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here
aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie ... Ek
sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. Ek sal die
nie-Israeliete wat by my volk aansluit om My te dien, om my Naam lief te hê
en om my dienaars te wees ... na my heilige berg toe bring. Ek sal aan hulle
vreugde gee ... hulle offers op my altaar sal vir My aanneemlik wees.”(Jes.
56:3-7) As jy dalk al ooit gewonder het of al die beloftes wat gemaak word
aan Israel ook vir jou geld en of alles wat die Here oor sy volk sê op jou
van toepassing kan wees, dan is die antwoord in hierdie Bybel gedeelte. Die
“nuwe” Israel, is almal wat die Here dien en sy Naam lief het! Dis ek en jy
ook! Ef. 1:11 sê dat ons deur Christus deel geword het van God se volk. Ons
lees ook in Hand. 10:35 dat God mense uit enige volk, wat Hom vereer en doen
wat reg is, aanneem as Sy volk. Daar word vêrder in die Bybel gepraat van
hoe ons as wilde olyf tussen die ander takke op die mak olyf ingeënt is.
Omdat ons glo, is ons daar ingeënt en is ons deel van die ware Israel. (Lees
Rom 11). “Deur hierdie geloof in Christus Jesus, is julle nou almal kinders
van God ... nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van
God.”(Gal 3:26 & 29) Ek hoop hierdie is vir jou ook goeie nuus! ~Wilna Botha,
03/12/2018 |
|
“... Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee
nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes.” (Jes.
57:15) Dis dwarsdeur die Bybel duidelik dat swakkes, armes, weduwees,
verlorenes, sondaars, verwerptes, gestremdes vir die Here belangrik is. Kyk
maar by wie het Jesus gaan stilstaan: siekes, tollenaars, prostitute,
melaatses. Dis ook dié dat Hy in Matt. 25: 35-46 praat van die “geringstes”
en Homself as’t ware gelykstel aan hulle: “Vir sovêr julle dit aan een van
die geringste van hierdie broers van My gedoen het , het julle dit aan My
gedoen.” Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van
die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle 'n
ereplek, só sê 1 Sam 2:8. So, ongeag van waar jy jou bevind in die sosiale
spektrum - die Here gee nuwe krag. Die Here herlaai jou binnekant. Die Here
se helpende, reddende hand is dáár waar dinge donker en depressief is. Dáár
waar uitbranding en radeloosheid en hopeloosheid en moedeloosheid ingetree
het, waar uitkoms onmoontlik lyk. Mag jy vandag beleef hoedat die Here se
arms onder jou is, hoedat Hy jou oplig en op ’n hoë Rots neersit. ~ Wilna
Botha, 05/12/2018 |
|
“Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is.”
(Jes. 57:19) Hierdie klink amper net soos die Engelekoor wat Jesus se
geboorte aangekondig het met: “Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op
aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.” (Luk. 2:14) Christus ís ons
vrede, sê Ef. 2:14. Toe Jesus gekom het, het vrede gekom. Vrede vir almal.
Vrede wat mens se verstand te bowe gaan, want dit is nie noodwendig die
afwesigheid van vrede tussen mense en volke nie, dis nie noodwendig die
afwesigheid van oorloë en onmin tussen mense nie, dit is die vrede wat daar
tussen God en ons is omdat Jesus se dood versoening gebring het, dit is die
volkome herstel van die verhouding tussen ons en God. Christus se vrede is
die salige wete dat ons van ons sondes verlos is. Christus se vrede is die
lig wat wat alle donker in ons harte verdryf. Christus se vrede is die
verligte gevoel wat ons kan hê omdat Hy in beheer is van alles. Christus se
vrede is die tevredenheid dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, dat ons
nooit alleen is nie, dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Vrede vir julle
almal! ~ Wilna Botha, 11/12/2018 |
|
“Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ’n
tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” (Jes.
58:11) Watter mooi belofte van seën en versorging is hierdie nie. Kom ons
hou daaraan vas. Die Here sal jou lei en vir jou sorg, selfs in moeilike tye
(of dalk moet ons eerder sê: juis in moeilike tye). Hy sal jou vir jou krag
en deursettingsvermoë gee vir elke dag – sy krag kom juis tot volle werking
wanneer jy swak is, sê 2 Kor. 12:9. Sy genade sal oorvloedig wees, sy seën
in jou lewe sal volop wees sodat daar ook genoeg sal wees om oor te stroom
na ander mense. Die fontein van die Here se goedheid en guns sal nooit
opdroog nie. Mag dit jou altyd verfris en voed en mag jou lewenstuin ’n oase
van kleure en lieflike geure wees. ~ Wilna Botha, 13/12/2018 |
|
“Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die
volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit
jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê
die Here, nie nou nie en nooit nie.” (Jes. 59:21) Hier is God se ooreenkoms
met ons in een enkele sin. ’n Ooreenkoms wat ewig en ewig vasstaan, ’n
ooreenkoms van genade, ’n ooreenkoms waar Hy sy hand na my en jou én ons
nageslag uitsteek. Kyk, Hy sê nie meer soos vroeër: ás julle dit en dan doen,
dan sal Ek... nie. Hy sê slegs: wat Hom betref gee Hy sy Gees aan ons en sy
woorde in ons hart en in ons mond. Hy gee Homself aan ons, Hy kom woon in
ons deur Sy Gees. Hy verbind Homself aan ons sonder teenprestasie van ons
kant af. Hy verbind Homself aan ons ten spyte van ons sonde. Die
sonde-skeiding waarvan Hy vroeër in Jes. 59 praat is weg. Jesus het dit kom
afbreek aan die kruis. Dink ’n bietjie hieroor na wanneer jy een van die dae
Kersfees vier: Met die koms van Jesus het hierdie ewige verbond van God vir
ons ’n werklikheid geword. Jesus is die bewys! Mag die Gees dit in jou hart
bevestig. ~ Wilna Botha, 19/12/2018 |
|
“Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid
van die Here het vir jou lig gebring.” (Jes. 60:1) So aan die begin van ’n
nuwe jaar het ons seker almal nuwe hoop dat daar vir ons bietjie meer lig
sal wees om vir ons die pad aan te wys, bietjie meer lig om die donker dae
op te helder, bietjie meer lig om dinge wat in die donker gebeur uit te wys
en uit te wis. Daar is mense wat só moedeloos en sonder hoop is dat hulle
geen lig aan die einde van hulle tonnel sien nie – donker dinge soos siekte,
slegte verhoudings, hartseer, geldprobleme, werksprobleme, eensaamheid ...
noem maar op, oorweldig hulle. Die goeie nuus is: Jesus het gekom. Die Lig
het gekom, die ware Lig wat elke mens verlig – só lees ons in Joh. 1:9 en só
het ons net nou die dag nog gesing in ons Kersfeesliedjies. Vandag, ’n
entjie in die nuwe jaar in, ’n entjie in die donker wêreld in, móét ons dit
glo. Dit is die Here se teenwoordigheid wat vir ons lig bring. Gee vir Hom
plek in jou hart, sodat Sy lig in en deur jou kan skyn. Kyk net hoe mooi
praat verdere tekste in Jes. 60 van die Lig: die Here sal vir jou ’n ewige
lig wees... jou son en maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie
dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.
~ Wilna Botha, 09/01/2019 |
|
Wanneer die Here ingryp in ’n situasie, wanneer Sý
redding en verlossing realiseer, wanneer Sy genade deurbreek, dan verander
dinge op ’n ongelooflike manier, dan vind wonderwerke plaas. Wat vuil was,
word skoon; wat oud was, word nuut; wat uitgedien was, kry weer nuwe lewe;
wat verlore was, word gevind; waar daar trane was, kom weer blydskap; waar
daar moedeloosheid was, kom nuwe hoop; waar daar vernedering was, kom daar
eer en nuwe selfvertroue; waar daar toe deure was, kom weer vryheid; waar
daar bekommernis was, kom nuwe vrede wat alle verstand te bowe gaan. In Jes.
60:17 lees ons van die Here se verlossing, redding en versorging vir sy volk
(en vir ons!) en hoedat Hy vir hulle méér gee as voorheen. Hy sê: “Ek gee
vir jou goud in die plek van brons, silwer in die plek van yster, brons in
die plek van hout, yster in die plek van klip.” Die lys brei uit in Jes.
61:3 met eer in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in
plaas van hartseer. En kyk hoe mooi eggo dié woorde ook in Jer. 31:13: “Ek
sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek
sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” Ek is oortuig
daarvan dat vir ons almal wat al deur ’n moeilike tyd gekom het, hét daar
weer ’n tyd aangebreek waarop ons kon terugkyk en beleef en bely dat die
Here ons deurgedra het en dat die lelik weer mooi geword het, die hartseer
weg is en blydskap en vreugde in die plek daarvan gekom het. En as jy dalk
op die oomblik op ’n plek is waar dit nóg nie gebeur het nie, hou asb. moed!
Die droogte hou nooit vir ewig aan nie, die storm ook nie. ~ Wilna Botha,
14/01/2019 |
|
“Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want
Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.” (Jes. 61:10)
Wanneer die Here vir Israel uitkoms en redding bring, is dit uit Sy
oorvloedige genade. Hy red, Hy vergewe, Hy aanvaar, Hy versorg, Hy maak nuut,
Hy maak skoon, Hy maak mooi. “He has clothed me with the garments of
salvation, He has covered me with the robe of righteousness” sê hierdie teks
in die Engelse Bybel. Ek en jy is ook aan die ontvangkant van hierdie
genade geskenke – oorwinnaarsklere, ’n priesterkroon, juwele. Die Here se
genade is so volmaak en volkome en genoeg, al verdien ons niks daarvan nie.
Ai, dis mos nou meer as genoeg rede om bly en vol vreugde te wees en oor God
te juig. Moenie wag tot Sondag se kerkdiens om ’n prys- en danklied tot eer
van die Here te sing nie. Doen dit sommer nou en laat die refrein oor en oor
in jou hart herhaal: Ek is baie bly oor die Here! ~ Wilna Botha, 16/01/2018 |
|
“Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir
jou gekies het. Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou
God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou ... Jy sal genoem word: “Die
een vir wie die Here lief het.”” (Jes. 62:2-4) Daar is ’n hele paar mense in
die Bybel vir wie die Here nuwe name gegee het. Dink bv. aan Abram wat
Abraham geword het, Sara wat Sarai geword het, Jakob wat Israel geword het,
Saulus wat Paulus geword het, Simon wat Petrus geword het. Dié
naamsverandering het gevolg na ’n spesiale ontmoeting met die Here, of
gepaardgegaan met ’n buitengewone belofte of het uitgeloop op ’n
lewensveranderende opdrag. En ek en jy? Toe ons ’n spesiale ontmoeting met
die Here gehad het daai dag toe jy jouself aan Hom oorgegee en Hom in jou
lewe ingenooi het, het Hy jou naam verander na Kind van God, Koningskind,
Geesvervulde, Verloste, Geliefde. Dalk is jou naam nou Vredemaker, Raadgewer,
Bemoediger, Gestuurde of Boodskapper omdat die Here vir jou ’n spesiale
opdrag gegee het. Wat ons vandag met sekerheid kan weet is dat die nuwe naam
wat die Here vir ons gekies het ook “Die een vir wie die Here lief het” is.
In van die Engelse vertalings sê dit “My delight” of “God is pleased with
her”. Hoe mooi klink jou nuwe naam nie! Aanvaar dit in geloof en sien in jou
geestesoog dat die Here jou soos ’n sierlike kroon of ’n koninklike tulband
vashou en sê: Jy is die een vir wie die Here lief het. ~ Wilna Botha,
21/01/2019 |
|
“Steek ’n banier op dat die volke dit kan sien!” (Jes.
62:10) Ek hou sommer baie van hierdie groot advertensieborde met Bybelverse
of geestelike boodskappe wat mens deesdae langs die paaie sien. Ek het nou
die dag een gesien wat sê: Jesus love you – no terms and conditions. Dis
mooi nè! En dis opvallend. Baie mense lees dit elke dag en dit móét ’n impak
maak. Ons het ’n klip met ’n teks op by ons hek en ’n kruis met ’n boodskap
by ons voordeur en dit het al menige opmerkings en gesprekke uitgelok. Steek
’n banier op, waai ’n vlag, rig ’n teken op, sit ’n klip neer, plak ’n
plakker, dra 'n T-hemp met die boodskap van die evangelie, ’n boodskap van
hoop, ’n boodskap wat sê God is hier, Hy kom om te verlos en te vergewe en
te red, daar is geen einde aan Sy liefde nie. O ja, en onthou om jou lewe,
jou woorde en dade ook soos ’n banier te laat wapper oral waar jy kom - tot
eer van God en tot opbou van dié rondom jou. “We want to see Jesus lifted
high, A banner that flies across the land, That all men might see the truth
and know, He is the way to Heaven ...” ~ Wilna Botha, 23/01/2019 |
|
“Hy self was die
engel wat hulle gered het. Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel en hulle gedra.” (Jes. 63:9) Dis wat die Here gedoen
het vir Sy volk en dis wat Hy vandag vir my en vir jou ook doen. Hy red en
Hy maak vry. Hy het lief en Hy kry jammer. Hy tel op en Hy dra. Ek hoop jy
sien dit elke dag raak, ek hoop jy voel elke dag hoedat hy jou optel en dra
– of daar nou moeilikheid en swaarkry is en of dit goed gaan met jou, of jy
voel Hy is vêr of doof en of jy voel Hy is naby, of jy twyfel en of jy glo,
of jy skaam is oor jou sonde en of jy tevrede is met jou lewe – Hy sélf is
die engel wat by jou staan. Baie keer hoor ek mense vra die Here om ’n engel
te stuur om hulle te beskerm of te help. Ja, Hy kan ’n engel stuur, ja, Hy
kan mense stuur, maar dis altyd die Here sélf wat opdaag om te help en te
versorg en rus en kalmte te gee. Mag dié wete vir jou vrede en sekerheid gee
wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 29/01/2019 |
|
Ek lees in Jes. 63 hoedat die volk na die Here gesoek
het in hulle nood. Hulle het teruggedink aan tye wat dit goed gegaan het en
wat die Here wonderwerke en magtige dade gedoen het. Hulle verlang daarna om
weer Sy teenwoordigheid te beleef en Sy krag, Sy liefde en die werking van
Sy Gees te ervaar. Hulle vra, soos ons ook baie keer maak: waar is die Here?
“Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het saam met hulle
herder? Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het? Waar is Hy wat
sy groot mag saam met Moses laat gaan het, die waters voor sy volk
oopgekloof het? Waar is Hy wat sy volk deur die diep waters gelei het sonder
dat iemand struikel? .... Waar is U brandende liefde, u magtige dade? ...
Ontferm U U nie meer ons ons nie?” (Jes. 63:11-15) Is dit nie tog só dat
moeilike omstandighede ons na die Here laat soek en na Hom laat terugdraai
nie? Is dit nie tog só dat krisistye ons laat besef dat onsself nie
antwoorde het nie en dat ons die Here nodig het nie? Is dit nie tog só dat
die Here hierdie tye in ons lewens gebruik om ons nader aan Hom te bring,
sodat ons weer na Sy teenwoordigheid sal verlang nie? Hoe dit ook al sy, ons
weet vir seker dat ons Hom sal vind wanneer ons na Hom soek en na Hom smag,
ons weet vir seker dat Hy sal antwoord wanneer ons na Hom roep met ons hele
hart. Hier is drie van vele tekste wat dit bevestig – glo dit en bewaar dit
in jou hart: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jak 4:8); “As julle
by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur
julle laat vind.” (2 Kron. 15:2); “Dit was vir hulle ’n vreugde om na die
Here te vra en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle
kante toe.” (2 Kron. 15:15) ~ Wilna Botha, 31/01/2019 |
|
“U, Here, is ons vader, van ouds af is u Naam: Ons
Verlosser.” (Jes. 63:16) Nog altyd, ja, selfs van vóór die skepping af,
bestaan God en is sy Naam: Ons Verlosser. Hy bestaan van ewigheid tot
ewigheid, Hy is die Eerste en die Laaste (Jes. 44:16), vóór Hom was daar
niks en ná Hom is daar niks. “Voordat die berge gebore is, voordat U die
wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!” (Ps. 90:2)
Dit laat my ook dink aan die uitdrukking “Ancient of days” waarvan mens in
Daniel lees en wat verwys na God se ewige bestaan. Dis wie Hy is! Party
mense probeer dit wegredeneer, party ontken dit blatant, ander wil Hom in ’n
tyd-hokkie plaas, nog ander wil Hom in die verlede indruk. Nee, die waarheid
is: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie
vernietig word nie; sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry.”
(Dan 6:27-28) Vir ewig is sy Naam: Ons Verlosser. God is liefde en in sy
genade spesialiseer Hy vir altyd en altyd in verlossing, redding en
bevryding. Dit maak nie saak hoe vêr ons geval het, of hoe sleg en verdorwe
en sondig ons geword het nie, verlossing is beskikbaar by die Here. Laat Hom
toe om jou skoon te was en al daai sonde-kettings los te sny. Mag jy Ons
Verlosser se vrede ervaar. ~ Wilna Botha, 05/02/2019 |
|
“Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons
beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word
deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind.” (Jes. 64:6) Onrein, vuil klere,
verdroogde blare, weggewaai ... ek is maar al te bewus van dié gevoel van
nikswerd, swak, vuil, onbruikbaar, onaansienlik. Vandag het hierdie teks
egter nie my aandag gefokus op my onreinheid en sondigheid en tekortkominge
nie, dit het my met dankbaarheid laat gryp na God se onverdiende genade wat
so vrylik en verniet beskikbaar is, na Jesus se bloed wat vir elke sonde
betaal het en my vuilheid afgewas het en my van binne en buite nuut gemaak
het, na die Heilige Gees wat nuwe lewe in die verdroogde blare blaas sodat
dit jaarin en jaaruit groen is. “Hulle
het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Op
7:14) – dank God, ons het ook dié geleentheid gekry om skoon en heilig te
wees. ~ Wilna Botha, 07/02/2019 |
|
“So sê die Here: Wanneer ’n druiwetros nog sap het, sê
die mense: “Moet dit nie weggooi nie, want dit het nog nut.” So sal Ek doen
ter wille van my dienaars.” (Jes. 65:8) Só is die Here se genade! As daar
nog ietsie oor is, as daar nog ’n geringe kans is, skop Sy genade in en gee
Hy weer en weer vir ons ’n uitnodiging om terug te draai, om gered te word,
om vrugbaar en bruikbaar te wees. God los nooit sy kinders nie. As mens die
res van Jes. 65 lees, sien jy dat hierdie teks in die middel van ’n straf
aankondiging is, in die middel van God se oordeel wat Hy gaan voltrek oor
die volk, maar tog ... as daar êrens bietjie sap is, sal die druiwetros
gered en gebruik word. Dis ek en jy, vriend! Waar daar lewe is, is daar
hoop. Dit herinner ook aan Matt. 12:20 – ’n riet wat geknak is, sal die Here
nie afbreek nie, die lamppit wat rook, sal Hy nie uitdoof nie. Moenie dink
jy is té sleg of té sondig of té vêr afgedwaal nie – onthou Hy sal 99 ander
los, om Sy een verlore skaap te kom haal. Gebruik vandag die geleentheid as
die Here weereens Sy hand na jou uitsteek. Aanvaar Sy genade. Laat Hy jou
nuut maak, jou lewensriet weer regop tel, jou hartsvlam weer aanblaas. ~
Wilna Botha, 12/02/2019 |
|
“... maar aan dié wat Hom dien, gee Hy ’n nuwe toekoms.”
(Jes. 65:15) Die dag toe jy die Here aangeneem het en vir Hom plek in jou
hart en in jou lewe gegee het, het ’n nuwe toekoms vir jou aangebreek. Nee,
dis nie noodwendig ’n rooskleurige, suksesvolle, voorspoedige, probleemvrye
aardse toekoms nie – dié dinge ontbreek dikwels in die lewe van dié wat die
Here dien. Dis wel beslis ’n toekoms gevul met hoop, met verwagtinge, met
sekerheid, met vrede. Dis ’n ewige toekoms waar ons seker kan wees dat ons
die ewige lewe gaan ontvang, ’n ewige blyplek in die hemel, ’n volmaakte
toekoms saam met die Here. “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle
ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh.
10:28) Dís ons toekoms as volgelinge van Christus. Die Here sê: “Ek wil hê
dat julle hoop vir die toekoms moet hê.” (Jer. 29:11, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 14/02/2019 |
|
“Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen
in die Naam van die God wat getrou is.” (Jes. 65:16) Ek wil hier sommer
byvoeg: elkeen in die land wat vir die land om voorspoed bid ...
Miskien moet ons bietjie minder vir ons eie, persoonlike gewin bid, bietjie
minder selfsugtig bid, bietjie minder vir ons eie voorspoed en seëninge by
die Here aanklop. Dalk kan ons ’n slag bietjie vra vir voorspoed vir ander
mense en veral bid vir voorspoed vir ons land. Ons het hierdie versekering:
“As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh. 14:14) In die Naam
van die God wat getrou is, sê die teks hierbo. God, die Almagtige, dié een
vir wie niks onmoontlik is nie, dié een wat getrou is, dié een wat donker
in lig verander. As ons vra, sal Hy gee. Onthou: kla is nie vra nie! Kom ons
bid vir voorspoed: vir terugdraai na die Here toe, vir opregtheid, vir
nederigheid, vir samehorigheid, vir verdraagsaamheid, vir vrede, vir liefde,
vir deursettingsvermoë, vir Goddelike visie ... wat wil jý by die lysie voeg,
in die Naam van die God wat getrou is? ~ Wilna Botha, 19/02/2019 |
|
“So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die
rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die
plek waar Ek kan woon?” (Jes. 66:1) As ek hierdie teks lees, probeer ek vir
my ’n prentjie vorm van God se grootheid ... maar ek kan nie, want Hy is
veel groter as die grootste prentjie wat ek kan uitdink. Dis hoekom Hy hier
sê as Hy só groot is, hoe wil ons Hom in ’n tempel vasvang? Hy is oral
teenwoordig, daar is nie ’n enkele spasietjie waarin Hy nie is nie. En dan
is dit só verstommend dat Hy tog ons liggame kies as ’n tempel, ’n huis waar
Hy wil woon. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees
van God in julle woon nie? ... die tempel van God is heilig en die tempel is
julle.” (1 Kor. 3:17) Ek het eenmaal gelees van die kleintjie wat vir sy ma
gevra het: as die Here só groot is dat die aarde sy voetstoeltjie is én Hy
bly binne-in ons, dan moet Hy seker êrens uitsteek. Ja, Hy móét uitsteek uit
ons liggame uit, Hy móét sigbaar wees – Sy teenwoordigheid moet bepaal wat
by ons monde uitkom, waarna ons oë kyk, waarna ons ore luister, wat ons
hande doen en waarheen ons voete loop. Kyk vandag bietjie in die spieël of
die Here by jou “uitsteek”! ~ Wilna Botha, 21/02/2019 |
|
“Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou
het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.” (Jes. 66:2) Sondaars,
tollenaars, prostitute, uitgeworpenes, swakkes, nederiges – dis mense na
wie die Here omsien. Diegene wat weet hulle het Hom nodig, mense wat lankal
opgegee het om op hulle eie krag en hulle eie wysheid en hulle eie welvaart
staat te maak. Mense wat bely dat die Bybel God se woord is, die lamp wat
hulle nodig het om vir hulle die pad aan te wys. Mense wat gebroke en jammer
is oor die verkeerde paaie wat hulle gevat het en wat met hulle hele hart
begeer om terug te keer na die Here. Mense wat bakhand, soos ’n bedelaar,
wag om God se genade te ontvang. Dit laat my dink aan die teks wat sê
“Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is...” (Matt. 6:3). Die
Here seën diegene wat nederig voor Hom buig, wat hulleself gering ag en Hom
blindelings glo en vertrou en volg. “God wil niks met die mense te doen hê
wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie
mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed – meer
as wat hulle ooit verdien.” (Jak 4:6, Die Boodskap) Dit lyk vir my daar is
twee kante: ek wil vs. God wil, ek kan vs. God kan, ek sal vs. God sal. Dis
weer tyd om my eie hart en my eie gesindheid te ondersoek ... ~ Wilna Botha,
26/02/2019 |
|
“Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek
julle veilig voel ... julle sal dit beleef en julle sal bly wees; julle sal
nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit.” (Jes. 66:13-14) Ja, dis mos
daar in die Here se arms, onder sy vleuels, teen sy bors waar ons rus en
vrede beleef, waar ons weer verkwik en vernuwe word. Dis daar naby aan Hom
waar die vrees vir bedreiging, aanvalle of gevare, die bekommernis oor
probleme, siekte of verlies, die benoudheid oor verwerping, mislukking of
skande al hoe minder en kleiner word totdat dit verdwyn. Dis daar waar Sy
liefde die vrees verdryf, dis daar wat die lam knieë weer sterk gemaak word
en waar ons weer nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit. Moenie dat
vrees jou verlam nie, kom skuil by Hom, kom kruip weg onder sy vlerke. Kom
belééf dit en wees bly. “You are safe in the care of the Lord your God,
secure in His treasure pouch.” (1 Sam 25:29) ~ Wilna Botha, 28/02/2019 |
|
“... die tyd kom dat Ek al die nasies en al die
taalgroepe bymekaar gaan maak. Hulle sal kom en hulle sal sien hoe magtig Ek
is.” (Jes. 66:18) Hierdie waarheid loop soos ’n goue draad deur die Bybel:
God se genade sluit niemand uit nie. Aanvanklik het God sy verbond en sy
beloftes beperk tot die Israeliete, maar deur God se genade en Jesus se
versoening aan die kruis, brei dit uit om mense uit alle volke, tale en
kulture in te sluit. . “ ... en met U bloed mense vir God losgekoop het uit
elke stam en taal en volk en nasie.” (Openb. 5:9) Is dit nie goeie nuus nie!
As dit nie só was nie, het ons nog buite gestaan, vêr van God, sonder Sy
genade, verlore. Deur sy liggaam te gee het Christus Jode en nie-Jode een
gemaak, Hy het die skeidingsmuur wat daar was afgebreek. (so sê Ef. 2:14)
Ons moet waak daarteen om weer skeidingsmure op te rig tussen groepe mense –
nie net tussen rasse en kulture nie, maar ook op ander vlakke, soos
intelligensie verskille, politiese verskille, kerk verskille, finansiële
verskille ens. God se wil is dat almal moet hande vat, dat elke knie voor
Hom buig en alle mense erken en bely dat Hy God is. Die vraag wat ek myself
afvra is: hoe werk ek mee daaraan dat mure afgebreek word, dat die evangelie
by almal uitkom, dat almal kan sien hoe magtig God is? ~ Wilna Botha,
05/03/2019 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|