Daaglikse Heuningdruppels -
Vrae
 


... soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps 119:11)

Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons Facebook-groep. Klik hier:


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


Leer by Nehemia

Ek lees so bietjie deur die boek Nehemia op die oomblik. Dit speel af in die tyd dat die Jode uit ballingskap vrygelaat is en begin terugkeer het na Jerusalem toe. Nadat hy lank gevas en gebid en getreur het, het Nehemia dit gewaag om toestemming te kry om Jerusalem toe te gaan om die mure te herbou en die stad in ere te herstel en te beveilig. Wonder bo wonder het dit uitgewerk en het hulle bouplanne in plek geval en die werk het mooi gevorder. Toe was daar gerugte van klomp vyande wat saamgesweer het om Jerusalem te kom aanval en die werk in die wiele te ry. En op hierdie punt in Neh. 4:9 lees ek: “Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit.” Dit het my só getref dat hulle eerste reaksie op die gevaar was om te bid. Dit doen ons gewoonlik ook as daar een of ander krisis of gevaar opduik, of as slegte nuus aanklop, of as dit lyk of ons planne nie gaan uitwerk nie. Hulle bid egter nie net nie. Hulle bid EN maak dadelik ’n plan om hulleself te beveilig. Hulle bid nie net en wag handegevou vir die Here om te werk nie. Hulle bid en werk mee om hulle gebed te verhoor.  Wagte is dag en nag uitgesit, die helfte van die manne het wag gehou  met spiese, skilde, pyle en boë, terwyl die ander van vroeg tot laat gewerk het aan die bouwerk. Sommige het die werk met een hand gedoen terwyl hulle in die ander hand ’n wapen vasgehou het. Hulle het nie nét gebid nie. Dit beteken natuurlik nie dat hulle nie geglo dat die Here hulle gebed sal verhoor nie. Hulle hét! Maar hulle het ook geweet dat hulle moet doen wat hulle kan in die situasie. Vir my was dit in die afgelope week ook ’n les om te leer. Ek was verlede week in die hospitaal vir ’n operasie. In die aanloop tot dié storie het ek so bang en gespanne geword. Hoe gaan dit wees alleen in die hospitaal? Gaan dit seer wees? Sê nou maar dis nie ’n sukses nie? Hoe lank voor ek weer op die been is? ... en so het ek myself paniekerig “gevra” en “gedink”. So ’n dag voor die tyd bid Willem weer vir my en ek hoor hy vra vir die soveelste keer dat die Here my moet rustig maak. Net daar besef ek: ek sal moet saamwerk om sy gebed te verhoor. Ek kan nie dat my gedagtes met my op loop sit nie, ek moet vertrou dat die Here by my is, ek moet vertrou dat die dokter weet wat hy doen, ek moet die proses een tree op ’n slag vat en op die huidige oomblik fokus. Nou ja, die Here het Willem se gebed verhoor en ek was heel kalm toe hy my groet voor die hospitaaldeur. En ja, ek is terug by die huis en alles het sovêr goed verloop. Nou is dit ’n gebed vir herstel en weereens het ek ’n verantwoordelikheid om mee te werk in die verhoring van die gebed! ~ Wilna Botha, 15/03/2022

Wat my nogal opval van die Nehemia is dat daar ’n gebedsdraad dwarsdeur die boek verweef is. Dit wissel van ’n kort skietgebed in Neh. 2:4 tot een van die langste gebede in die Bybel in Neh. 9. Wat vir my mooi is en waaruit ek baie leer oor gebed, is dat hy sy gebed in Neh. 1:5-11 begin met ’n lofprysing, ’n opnoem van God se karaktereienskappe, ’n eerbetoon oor wie God is, ’n bevestiging van sy getrouheid teenoor dié wat Hom dien.  “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en U trou handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Wanneer ons die Here se Naam só grootmaak in ons gebed, dan help dit ons om te fokus op wie God ís; dit laat ons geloof sterker word; dit gee vir ons versekering dat Hy in staat is om meer te doen as wat ons kan bid of dink. As ek my gebed met so ’n lofprysing begin, inplaas daarvan om sommer net weg te val met my wenslysies en vra-lysies en inkopielysies, dan help dit my om weg te kyk van dit wat Hy vir my kan gee en doen en raak te sien met wie ek praat: God van die hemel, groot en ontsagwekkende God! Roep die Naam van die Here só aan en weet verseker dat die krag van jou gebed nie bepaal word deur die een wat bid nie, maar deur die Een wat daarna luister. ~ Wilna Botha, 17/03/2022

“Sterk tog my hande, o God!” (Neh. 6:9) Nehemia-hulle is besig met die herbou van die muur rondom Jerusalem, maar ondervind groot teenkanting, aanslae en terugslae. Hy laat hom egter nie van stryk bring nie en roep net uit na die Here met dié gebed: “Sterk tog my hande, o God!” Dit voel amper vir my asof hy nie eers opkyk van die werk af nie. Hy gaan sit nie eenkant en kry homself jammer nie. Hy laat nie toe dat die probleme of die hoeveelheid van die werk hom onderkry nie. Hy hou net aan werk en terwyl hy hard werk, bid hy: “Sterk tog my hande, o God!” Ons vind onsself ook baie keer in daai posisie, waar jy oorweldig voel deur jou werksdruk, deur die probleme, deur dinge wat verkeerd loop, deur mense wat jou van stryk wil bring. Dan wil ons moedeloos word, tou opgooi of ander kortpaaie soek. Dit kan geld vir enige geestelike bedieningswerk waarmee jy besig is of natuurlik ook vir jou gewone werkslewe, jou alledaagse “in die sweet van jou aangesig”-bedrywighede. Ek wil vandag by Nehemia leer om net so terwyl ek werk en sweet en sukkel uit te roep: “Sterk tog my hande, o God!” Ek wil myself herinner dat ek alles wat ek doen, moet doen asof ek dit vir die Here doen. Ek wil myself herinner dat my krag en hulp vir my werk van die Here af kom en niks te doen het met my eie krag, my eie intelligensie of my eie vermoëns nie. “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:7) Sterk tog my hande, o God! ~ Wilna Botha, 22/03/2022

“Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van die hemel ...” (Neh. 2:4) Soos ’n pyl uit ’n boog, soos ’n skoot wat afvuur, in ’n nano sekonde, terwyl hy met sy dagtaak as skinker van die koning besig is, stuur Nehemia ’n gebed na die Here toe. Ons weet nie wat die woorde van die gebed was nie, dalk iets soos: Here, help. Here, wat moet ek sê? Here, laat u guns op hierdie saak wees. Here, maak die koning se hart sag. Here, gee vir my moed. Ek weet wat die inhoud van my vele skietgebede is. Here, wat nou? Here, watter kant toe? Here, gee geduld. Here, doen ek die regte ding? Here, gee krag. Here, wat moet ek kies? Soms is dit skietgebede van dankbaarheid of verligting of eer aan die Here. Baie van daai skietgebede (en dalk Nehemia s’n ook), het nie eers woorde nie, dis net ’n gedagte of ’n sug, of ’n asem ophou, of ’n sekonde se afsluit van die dinge om my. Dis darem maar wonderlik om te weet die Here is elke sekonde van die dag, oral by en in my sodat ek op só ’n manier met Hom kan praat. As ek in Nehemia lees, sien ek dat voor hierdie skietgebed-dag, het Nehemia dae lank gehuil en getreur en gevas en lank met die Here gepraat (lees die gebed in Neh. 1: 4-11). Hy het sy en sy gesin en sy volk se sondes bely, hy het die Here herinner aan sy belofte wat hy met hulle gemaak het. Hy het gesmeek en gepleit. Hy het vir God se guns gevra. Hy het die Here se Naam groot gemaak en sy lof besing. En dís wat ek vandag by Nehemia wil leer: my gebedslewe en my gesprekke met die Here kan nie nét uit skietgebede bestaan nie. Die skietgebed moet ’n uitvloeisel wees van lang tye op my knieë, van innige gebede, van die Woord oordink, van lofliedere sing, van selfondersoek doen en van nuwe voornemens maak. As ek só ingestel is, só verbind, só gevul is met die Here, dan kan die skietgebede afgevuur word! ~ Wilna Botha, 24/03/2022

“Ek het toe geweet dat God hom nie gestuur het nie ... Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek ’n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak.” (Neh. 6:12-13) Ek leer vandag by Nehemia om nie oorhaastig op te tree as mense vir jou instruksies gee om iets te doen nie. Neem ’n oomblik en dink oor die implikasies. Neem ’n oomblik en oorweeg die motiewe van die een wat vir jou sê om op ’n sekere manier op te tree. Neem ’n oomblik en luister na die stem van die Heilige Gees in jou binnekant. Bid om die onderskeidingsvermoë te hê om aan te voel wanneer iets reg of verkeerd is. Vertrou jou eie instink, slaan ag op gevaarliggies wat in jou hart opkom, luister na jou verstand wat jou waarsku dat iets dalk nie pluis is nie. Moenie bang wees om anders op te tree as wat mense van jou verwag nie. Moenie iets doen wat mense van jou verwag net omdat dit reg en mooi klink of omdat dit vir ’n goeie saak is nie. Dit mag dalk die regte ding wees om te doen, maar dit mag dalk ook jou fokus wegtrek van dít waaraan jy eintlik jou aandag en jou energie moes spandeer, of dit mag dalk die ongewenste uitkoms hê. Wat Semaja vir Nehemia gesê het om te doen, het goed en reg geklink. Hy het gesê hulle moet in die huis van God, binne-in die tempel ontmoet, dan moet hulle die deure sluit want daar kom mense om Nehemia dood te maak, maar binne-in die tempel sou hy veilig wees (lees Neh. 6:10) Dit klink mos nie na ’n slegte plan nie, maar Nehemia het die voorstel oorweeg en instinktief geweet dat dit ’n lokval is, ’n plan om die Here se werk (die bou van die muur) in die wiele te ry, ’n plan om Nehemia in onguns te bring en sy naam en sy werk sleg te maak. Leer by Nehemia om die “pause”-knoppie te gebruik! ~ Wilna Botha, 07/04/2022

“Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in ’n land van ballingskap! Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie!” (Neh. 4:4-5) Hierdie is nou nogal ’n teks wat vreemd op my oor val. So ook dié in Ps. 58:7-10: “Ruk hulle tande uit hulle mond uit, o God! ... Laat hulle verdwyn soos water wat wegsyfer ... laat hulle wegraak soos slakke wat net slym agterlaat ... laat ’n gloeiende wind hulle wegwaai in die fleur van hulle lewe.” Ook dié in Ps. 69:23-26: “Laat hulle stokblind word ... laat hulle gebreklik word ... Laat hulle blyplekke verwoes word.” Of ook dié in Ps. 71:13 : “Laat dié wat my vals beskuldig, self in ellende beland en vernietig word. Laat oor dié wat my ondergang soek, net skande en mislukking kom.” Ek is geskok om sulke wraakgedagtes en wraakgebede in die Bybel te lees, maar tog, hier stilletjies waar niemand sien of hoor nie, het ek ook partykeer sulke gedagtes. Wanneer mens onreg en korrupsie sien, wanneer mens hoor hoe God verloën word word, hoe Jesus verkleineer word, hoe Christene vervolg en vermoor word, hoe mense misbruik en mishandel word, wil ons ook uitroep na die Here om geregtigheid te laat geskied, om wraak te neem, om te vergeld. Ons het egter vir Jesus as voorbeeld en leermeester. Ons weet ons moet die wraak en oordeel aan Hom oorlaat. Ons weet ons moet nie vergeld nie, ons weet ons moet die ander wang draai. Ons weet ons moet ons vyande seën, ons weet ons moet mekaar vergewe. Jesus het self gesê: “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” So, wat ek wél vandag by Nehemia leer is om uit te roep na die Here as jy gespot word, wysheid te vra wanneer jy vals beskuldig word of verkleineer word, verdraagsaamheid te vra as dit wat jy vir die Here doen geminag word, of as jou gemeente beledig word. Ons kan maar net rustig voortgaan om goed te doen, om die Here te dien, om die evangelie te verkondig, om die muur te bou (soos Nehemia), die Here sal vir ons opkom, ons motiewe sal wel aan die lig kom, ons getrouheid sal wel ’n verskil maak. “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.” (Rom 12:14); “Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.” (Rom 12:19) ~ Wilna Botha, 12/04/2022

Toe ek vanoggend die gordyne ooptrek het ek gesê: wat se mooi dag is dit nie! Dis GOEIE Vrydag. Wat is so goed aan hierdie dag? Is dit nie dié dag waarop ons terugdink aan die doringkroon op Jesus se kop, aan die vernedering aan ’n kruis nie? Dié dag waarop Hy geslaan, gespoeg, gespot en weer geslaan is. Dié dag wat Hy van God verlaat is. Dié dag toe daar drie ure se duisternis was. Dié dag wat die bloed gevloei het. Dié dag waarop Hy gesterf het. Dit ís ’n Goeie Vrydag, want dis dié dag waarop genade vir my en jou ’n werklikheid geword het, waarop vryheid en vergifnis vir ons deurgebreek het. Dis dié dag waarop al ons sonde op Jesus gepak is. Dis dié dag toe die Lam van God vir die sonde van die wêreld geslag is.  Dis dié dag toe die skuld eis vir ons sonde teen die kruis vasgespyker is. Dis dié dag toe geregtigheid en vrede mekaar omhels het. Dis dié dag toe Jesus gesê het: Dit is volbring. Mag jy ’n Goeie Vrydag hê! ~ Wilna Botha, 15/04/2022

Ietsie wat ek by Nehemia leer is dat hy, terwyl hy sy gewone dagtaak doen, die geleentheid raaksien en die kans aangryp om ’n groot verskil te maak in die opbou en herstel van Jerusalem. Hy was die koning se skinker – ’n doodgewone ou met ’n doodgewone werk. Maar tog ook die regte ou op die regte plek, op die regte tyd. As die koning se skinker het hy direkte toegang gehad tot die koning, hy was elke dag in sy teenwoordigheid en hy het hierdie kans gebruik om vir die koning toestemming te vra om Jerusalem toe te gaan en die muur te herbou. Die koning was die saak goedgesind en “My God het sy goeie hand oor my gehou en die koning het my versoek toegestaan.” (Neh. 2:8). En so het iets buitengewoon uit iets gewoon ontstaan. Dit laat my ook dink aan Mordegai wat vir Ester gesê het: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos dié dat jy koningin geword het.” (Ester 4:14) Regte persoon, op die regte tyd op die regte plek. Sy het ook, soos Nehemia, haar gewone omstandighede gebruik om haar volk te red. Toe die geleentheid om voordoen het sy vir die koning gevra: “As die koning my goedgesind is en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe.” (Ester 7:3) Al het ons nie sulke groot geleenthede soos Nehemia en Ester of soos die dominee of ander openbare persoonlikhede of “influencers” nie, kan ons steeds in die alledaagse gang van sake geleenthede raaksien (en benut) waar ons ’n verskil kan maak, waar iets buitengewoon uit iets gewoon kan ontstaan. Die Bybel sê ook elders: doen wat jou hand vind om te doen. Waag bietjie iets anders. Moenie bang wees om iets te sê of te vra nie. Stel belang in die mense met wie jy in aanraking kom se wel en weë. Jy is dalk net die regte ou, op die regte plek, op die regte tyd. Jy is dalk waar jy is, vir ’n tyd soos dié. Bid vir iemand, gee raad, deel die evangelie. Gee ’n beker koue water, wees gasvry en dalk huisves jy ’n engel (soos Heb. 13:2 sê), verras die kelner of karopasser met ’n groot fooitjie, betoon onverwagse liefde, deel iets van jouself, deel van jou goed, bederf jou bure met iets tuisgebak, deel ’n grappie en lag saam met iemand. “... doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou.” (1 Sam 10:7) ~ Wilna Botha, 20/04/2022

“Ons het bly bou aan die muur ... Die mense se hart was in die werk.” (Neh. 4:6) Nehemia het almal só geïnspireer om te bou aan die muur rondom Jerusalem, dat hulle, ondanks gevaar en teenkanting onverpoos bly werk het. Hulle het gedeel in Nehemia se visie en hulle was bereid om hard te werk. “Hulle het gesê: Kom ons bou! En hulle het die goeie werk aangepak.” (Neh. 2:18) Dit gebeur dikwels dat mense ’n besluit neem om iets te doen, om ’n groot taak aan te pak. Iets wat eintlik onmoontlik lyk om gedoen te kry begin hulle met “kom ons bou!”, maar kort voor lank verloor hulle stoom en die belangstelling kwyn en die taak kom nie klaar nie. Dit gebeur met geestelike werk, met bedieninge in ’n kerk, met projekte wat ’n omgeegroep aanpak. Dit gebeur ook in die alledaagse werkplek, of met selfopgelegde take in en om die huis. Wat is Nehemia-hulle se geheim? Hulle hart was in die werk. Hulle het aanhou werk asof hulle dit vir die Here self doen. Hulle doen dit uit eerbied vir God, dit gaan oor Hóm en sy eer. Hulle het die einddoel en die belangrikheid van die taak die hele tyd voor oë gehou. Hulle het ’n leier gehad wat ’n voorbeeld gestel het: “Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur” (Neh. 5:16) Nehemia het nie net die werk uitgedink en toe aangegaan met sy eie dinge nie. Hy het self gebou, self hard gewerk, self betrokke gebly. Ons deins partykeer weg van harde handewerk, daar word dikwels neergekyk op mense wat sulke werk doen. Ons wil graag die baas wees, of die een met die mooi uitrusting wat agter die rekenaar sit of voor ’n groot vergadering staan en praat, of die een wat die groot besluite neem en die papiere onderteken. Nehemia was ’n goewerneur in Israel, tydens die ballingskap was hy die skinker in die paleis en tog kom doen hy die harde werk om die muur te bou. Hy waag as’t ware sy lewe vir hierdie werk. Die bouwerk was nie benede sy waardigheid nie, hy het moue opgerol en gesweet! Terwyl dit môre lekker vakansiedag is en dit eersdaags ook Werkersdag is, is dit dalk ’n geleentheid om bietjie te dink oor jou werk. Met watter gesindheid pak jy elke werksdag aan? Watter voorbeeld stel jy aan jou kollegas? Is jy trots op dit wat jy elke dag doen – nie omdat dit ’n groot impak maak of baie geld inbring nie, maar trots dat jy jou bes gedoen het, trots dat jy met integriteit gewerk het, trots dat jy nie op mense getrap en geskree en hulle misbruik het nie, trots dat jy meegewerk het om ’n probleem op te los? Is jou hart in jou werk? “Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie. Wees eerlik en werk hard omdat die Here altyd vir julle kyk. Julle wil tog die Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die oorgawe waarmee julle julle werk doen... Want die eintlike Baas vir wie julle werk, is mos Christus.” (Kol. 3:23-24, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 26/04/2022

“Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het.” (Neh. 5:19) Toe ek hierdie vers lees, was dit nogal vir my bietjie vreemd. Het Nehemia nou bietjie verwaand en ydel geraak, of matig hy homself nou aan hier by die Here? Het hy die hele tyd net gewerk om raakgesien te word en ’n beloning te ontvang? Ons leer Nehemia ken as iemand met ’n passie vir die Here, vir sy volk en vir die taak wat hy moet doen om die muur om Jerusalem te bou. Ons leer hom ken as iemand wat begeer om die Here se wil te doen en nie terugdeins van gevaar of ontbering of harde werk om dit te doen nie. Die werk wat hy aanpak gaan nie oor homself of sy eie eer en roem nie, dis nie vir sy eie persoonlike gewin nie, hy ontvang nie geldelike beloning daarvoor nie, dit is slegs gerig op die Here se eer en op sy volk se welstand en opbou. Hy het op God vertrou, hy was voortdurend in gesprek met Hom, hy het getrou sy taak waarvoor die Here hom geroep het, in gehoorsaamheid en afhanklikheid uitgevoer. As mens na dié agtergrond kyk, besef mens dit is nie uit verwaandheid dat hy hierdie versoek tot die Here rig nie, maar dit is uit ’n persoonlike verhouding, dit is uit die sekere wete dat hy doen wat die Here van hom verwag. Ons weet wel dat daar ’n beloning wag op dié wat die Here dien. Wat sou die beloning wees? Genade uit die Here se hand, bewustheid van die Here se teenwoordigheid en leiding in jou lewe, vrede dat jy binne die Here se plan vir jou lewe is, tevredenheid wanneer ’n taak goed afgehandel is, vreugde wanneer jy weet dat jy iemand gehelp het. Natuurlik wag daar ook vir ons ’n ewige beloning in die hemel en daarvoor kan ons vra: Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam getoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien en nog dien nie.” (Heb. 6:10) “Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het.” (Ef. 6:8) “Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.” (Rut 2:12) ~ Wilna Botha, 28/04/2022

“Die aandag van die hele gemeente was by die wetboek.” (Neh. 8:4) Toe die muur om Jerusalem herbou is, is die deure gehang en poortwagte is aangestel. Die hele volk het bymekaargekom en vir Esra, die skrifgeleerde, gevra om die wetboek te bring waarin die Here se bevele vir die volk opgeteken is. Almal was daar. Die voorlesing het vanaf ligdag tot in die middel van die dag voortgeduur. Die hele gemeente se aandag was gefokus op die wetboek. Toe Esra die boek oopmaak, het almal opgestaan en hulle het diep gebuig uit eerbied vir die Here se woord. “Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.” (Neh. 8:9) Toe ek hierdie gedeelte lees kon ek nie anders as om vir myself af te vra hoe belangrik is God se Woord en wet regtig vir my. Wanneer laas (indien ooit!) het ek 6 ure bestee om dit te lees? Sou ek só lank soos hierdie ouens in die kerk sit en luister na ’n voorlesing uit die Bybel? Het ek al ooit, soos hulle, gekniel en diep gebuig voor die Here by aanhoor van die wet of voorlesing van die Bybel? Ná die voorlesing is die betekenis van die wet vir die mense verduidelik, sodat dit nie net woorde op papier sou wees nie, maar sodat hulle dit kon toepas in hulle lewens. Dís hoekom ons kerkbyeenkomste en Bybelstudie moet bywoon, sodat die betekenis van die Woord vir ons uitgelê kan word, sodat dit ons kan opbou, rigting kan gee aan ons lewens; sodat dit reg en verkeerd vir ons kan uitwys. “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig.” (Ps. 119:130) Oor u Woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het, ek het u gebooie liewer as goud, dis soeter as heuning in die mond, u Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad – so lees ek in Ps. 119 en beaam ek met my hele hart. “Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie.” (Ps. 199:97-98, Die Boodskap). So paar jaar gelede het ek en Willem al die Bybels in ons huis bymekaargemaak en op dié paadjie gaan uitpak! As ek reg tel is daar 15 in die foto en dit was nie eers alles nie. Sondag het ek sowaar nóg ’n Bybel gekoop! Dis vir my soos ’n groot skat, beter as goud en soeter as heuning! Mag ek dit getrou lees, glo en gehoorsaam. ~ Wilna Botha, 03/05/2022

Ná ’n kwart dag se voorlesing uit die wet en ’n kwart dag se sondebelydenis wat gepaard gegaan het met ’n vasdag, het Nehemia-hulle in Neh. 9:5-37 weggetrek met ’n ellelange, wonderlike, hartroerende lofbetuiging teenoor die Here. Ek sien sommige mense sê dis ’n gebed (nogal een van die langstes in die Bybel!). Ek weet nie of dié lofprysing gebid, gesing, voorgelees of uitgejubel is nie, ek weet wel dat dit my hart só warm maak en my met verwondering laat oor wie God is; ek weet wel dat dit my asem wegslaan en my met dankbaarheid vul oor hoe die Here met sy mense werk, hoe Hy weer en weer uitkoms gee en genade betoon, hoe Hy altyd weer vergewe en red, hoe sy geduld, genade en barmhartigheid nooit opraak nie. As jy woorde soek om die Here mee te prys, as jy woorde soek vir ’n nuwe loflied, lees gerus hierdie gedeelte in Nehemia. Dit begin met ’n oproep om die Here te prys, ’n uitnodiging aan die mense om weg te kyk van hulleself en te fokus op die grootheid van hulle God, ’n opdrag om mee te doen aan ’n gesamentlike loflied ter ere van God: “Kom, prys die Here julle God!” (Neh. 8:5) Die Bybel sê in Rom 15:6 ons moet almal eensgesind, uit een mond lof bring aan God. ’n Hele paar Psalms begin juis ook met dié uitroep en uitnodiging: Prys die Here! “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys.” (Ps. 34:4) “Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met ’n jubelende stem.” (Ps. 47:2) “Kom prys die Here. Bring eer aan die Here. Sing vir Hom ’n lied wat jy spesiaal net vir Hom gemaak het. Sing saam met al sy kinders liedere om vir Hom dankie te sê.” (Ps. 149:1, Die Boodskap) Kom! Prys die Here julle God! ~ Wilna Botha, 10/05/2022

“Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles daarop, die oseane en alles daarin. U laat almal lewe; die hemelse leërmag buig voor U.” (Neh. 9:6) As mens in Nehemia 9 daai lang lofgedig/lofgesang/lofgebed lees, is die eerste ding waaroor die Here geprys word, die skepping. Vir my is dit ook een van dié dinge wat my in verwondering laat staan voor die Here, wat my hart laat warm word, wat my laat besef hoe groot en magtig God is. Ons was nou die dag in Golden Gate en Clarens omgewing en die natuurskoon, die berge en rotsformasies, die herfskleure van die bome, die goue velde het my laat uitroep: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles gemaak! Wanneer jy die maansverduistering van so paar oggende gelede beleef, of asemloos na die sterre kyk, of wanneer jy op ’n hoë berg staan en tot in die verste vêr kan kyk, of na die voortdurende golwe van die see staar, of opkyk na ’n donderende waterval, of verstom staan oor die kleurespel van ’n sonsondergang of ’n reënboog sien dan kan jy nie anders as om uit te roep: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles gemaak! As jy die geritsel van die blare hoor, of sien hoe herfsblare stadig grond toe sweef, of ’n blomme-veld sien waar niemand die saad gesaai het en plantjies natgegooi het nie, dan sal jy stilweg sê: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles gemaak! As jy sien hoe ’n olifant sy ore flap, of in die oë van ’n klein hondjie kyk, of sien hoe ’n kameelperd sy nek strek om hoë blare by te kom, of ’n leeu hoor brul, of die vroegoggend getjirp van die mossies hoor, dan wil jy sing: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles gemaak! As jy boonop besef dat God dit alles geskep het deur net te sê dat dit daar moet wees en dit was daar, as jy besef Hy het alles gemaak uit iets wat ons nie kan sien nie (soos Heb. 11:3 sê) dan sal jy saam met die engele, saam met die son en maan en sterre, saam met die seediere en die oseane, saam met die weerlig, die hael, die sneeu en die miswolke, saam met die berge, al die heuwels, vrugtebome en al die diere, saam met konings, vorste en regeerders, saam met jong manne en meisies, saam met grysaards die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, Sy Majesteit strek oor die aarde en oor die hemel. (Ps. 148) ~ Wilna Botha, 17/05/2022

Iets wat my opval in die lang lofprysing in Neh. 9 is hoedat die Here geprys en gedank en geëer word vir dít wat Hy in die verlede gedoen het. In die loflied vertel hulle weer hoedat die Here hulle voorvaders se nood raakgesien het en hoe Hy hulle hulpgeroep gehoor het. Hulle dink weer terug hoe Hy uitkoms gegee het, hoe Hy gesorg en voorsien het. Daar was ’n wolkkolom om rigting aan te wys, ’n vuurkolom om die pad te verlig in die donker. Daar was manna vir die honger, daar was water vir die dors. “Veertig jaar lank het U vir hulle gesorg, hulle het niks kortgekom in die woestyn nie. Hulle klere het nie verslyt nie, hulle voete het nie geswel nie.” (Neh. 9:21) Dit vul my ook met dankbaarheid en hoop wanneer ek terugkyk na die verlede en onthou. Ek onthou dat daar ’n  tyd was wat die begroting op papier nie uitgewerk het nie, al het ons die sommetjies oor en oor gemaak. En tog was daar genoeg, want die Here het die daaglikse brood voorsien. Ek onthou dat daar ’n tyd van rou was waar die trane nie wou ophou en die verlange al hoe erger geword het. En tog het daar weer vreugde deurgebreek, want die Here het vertroos en trane afgedroog. Ek onthou dat daar ’n tyd van pyn en bekommernis oor gesondheid was. En tog het die Here se genesing en vrede wat alle verstand te bowe gaan gekom. Ek onthou dat daar ’n tyd van vrees en depressiewe gedagtes was toe alles donker gelyk het. En tog het die Here moed en hoop stukkie vir stukkie teruggebring en Sy lig laat deurbreek. Ek onthou dat daar ’n tyd van skaamte en skuldgevoelens was. En tog het die Here sy genade en vergifnis kom uitstort en vryheid gebring. Kyk gereeld terug waar jy was, nie om jouself te bejammer of om te tob en vas te val in die verlede nie, maar om te onthou hoedat die Here jou gedra het, hoedat Hy “eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer” (Jes. 61:3). “... flowers in place of their sorrow, olive oil in place of tears, and joyous praise in place of broken hearts”, soos wat ’n Engelse vertaling dié teks gee. Sing dan ’n lof- en danklied oor sy goedheid, sy genade, sy voorsiening en weet dat Hy alles ten goede laat meewerk het en dat Hy dit weer en weer sal doen. ~ Wilna Botha, 19/05/2022

“Dit is U! U alleen is Here! ... U is die Here wat vir Abram gekies het ... en sy naam Abraham gemaak het. U het met hom ’n verbond gesluit ... en U het u belofte nagekom; U is betroubaar.” (Neh. 9:6-8) Hier is die volgende aspek waarvoor Nehemia-hulle die Here prys en eer in daai lang lofgebed van Nehemia 9: God is betroubaar en wat Hy belowe sal Hy doen. Hy hou altyd sy woord en Hy hou sý kant van die ooreenkoms wat Hy met Abraham gesluit het. Die verbond wat God met Abraham gesluit het, het drie beloftes ingehou: die beloofde land, die belofte van ’n groot nageslag en die belofte van seën. (Gen. 12:1-3 & 7) Die verbond het egter ’n voorwaarde gehad: hulle moes die Here dien en gehoorsaam wees aan Hom, hulle moes die wet nakom, hulle moes Sý pad volg. Met ons het God ’n nuwe verbond gesluit – sy belofte aan ons is vergifnis van sonde, verlossing en vryheid wat lei tot die ewige lewe. Hy belowe dat Hy sy Gees in ons sal gee om ons te help en te lei, dat sy wet op ons hart geskryf sal wees, dat ons Hom persoonlik en intiem kan ken. “Hulle almal, klein en groot, sal My ken. Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” (Heb. 8:11-12) En dit alles sonder ’n voorwaarde. Hy gee dit verniet en gratis aan almal wat glo. Dis sy belofte vir ons. En ons weet wat God belowe sal Hy deurvoer. Wat Hy sê sal gebeur. “Elke belofte van God is betroubaar.” (Spr. 30:5) Elke woord van die Here is waar en suiwer en het die toets van die tyd deurstaan. “Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam 15:29) Hy is gister, vandag en môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal 3:6) Daarom kan ons, net soos Nehemia-hulle dit uitjubel: Dit is U! U alleen is Here! U het ons gekies. U het ’n nuwe verbond met ons gesluit. U kom u beloftes na. U is betroubaar! ~ Wilna Botha, 24/05/2022

“Maar God, U is bereid om te vergewe, U is vol goedheid en ontferming, U tree met deernis en liefde op. Daarom het U hulle nie aan hulle eie lot oorgelaat nie.” (Neh. 9:17, Die Boodskap) “In U barmhartigheid het U hulle gered, keer op keer.” (Neh. 9:31) Ja, keer op keer staan die Here met oop arms gereed om die verlore kind terug te verwelkom. Hy kom ons uit sy genade en jammerte tegemoet, omhels en soen en vergewe ons, trek vir ons nuwe, skoon klere aan en maak ’n fees gereed om ons terugkoms te vier, net soos die pa van die verlore seun. Daar is altyd weer ’n kans om op te staan. Daar is altyd weer ’n kans om terug te draai. Daar is altyd weer  ’n kans om oor te begin. Want ons God is geduldig, genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde. En dis ook hiervoor dat Nehemia-hulle die Here eer in die Neh. 9 lofsang. Die verlore seun het al sy waardes oorboord gegooi, sy rug gedraai op sy pa en tussen die varke beland. Die klomp oor wie Nehemia praat, was opstandig, hulle het hardkoppig hulle rug op die Here gedraai, hulle het geweier om te luister na Hom, hulle het vergeet van die wonderdade wat Hy vir hulle gedoen het, hulle het ’n kalfsbeeld aanbid, skandelike dinge gedoen, hulle was moedswillig en ongehoorsaam – oor en oor! En keer op keer het die Here hulle gered en vergewe en hulle nie aan hulle eie lot oorgelaai nie. My vriend, dís wie God is – genadig, barmhartig, geduldig. Dalk het jy weer geval, nog ’n keer verdwaal, weer jou eie pad gevat, weer geweier om jou lewe aan Hom oor te gee. Kom weer terug! Laat Hy weer jou sondes wegwas. Laat Hy weer jou oortredinge uitvee. Laat Hy weer jou harde hart sagmaak.  Laat Hy weer sy liefde oor en in jou uitstort. “But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins hands down.” (Rom 5:20, The Message) Ek verstaan dit nie. Dit gaan my verstand te bowe. Nogtans is dit die waarheid! ~ Wilna Botha, 26/05/2022

“In u barmhartigheid het U aan hulle redders gegee ...” (Neh. 9:27) “U het u goeie Gees gegee om hulle te onderrig, U het u manna nie van hulle teruggehou nie, u het vir hulle water gegee vir hulle dors.” (Neh. 9:20) Hier is nóg vier dinge waaroor Nehemia-hulle die Here prys in hulle gebed en lofsang. (1) Redders – keer op keer was daar weer ’n nuwe koning, ’n profeet, ’n helper wat vir die volk rigting kom gee het, vir hulle ’n nuwe pad aangewys het, hulle gelei het om hulle vyande te verslaan sodat hulle rus en vrede kon ervaar. O, hoeveel te meer het óns rede om te sing! Dié ware Redder, Jesus Christus het gekom om ons finaal te verlos van ons vyand, om vir ons ’n nuwe pad aan te wys, om vir ons vrede te gee en ons uit te nooi om in Hom te kom rus. “En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.” (1  Joh. 4:14) Het jý die Redder gesien? Het jý die Redder in jou lewe toegelaat? (2) Goeie Gees – die Here se Gees was altyd daar om die volk te lei, maar óns het die Heilige Gees binne-in ons. Ons Trooster, ons Helper, ons Leier, ons Gewete. Het jy die Heilige Gees as gawe ontvang en laat jy Hom toe om jou lewe te beheer of staan jy sy werking tee en hou jy jou dalk doof vir sy stem? Of dalk twyfel jy of jy die Gees in jou het? Wel, lees dan Luk. 11:13 en vra die Vader om sy Gees opnuut in jou uit te stort. “Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (3) Manna - só het die Here vir sy volk gesorg met manna uit die hemel. Elke dag, genoeg vir een dag. Onverklaarbaar en onverdiend en verniet. O, hoeveel te meer het ons rede om te sing! Die Here het vir ons ewige Brood gegee. “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.’”(Joh. 5:35). Kom, eet van dié brood, verniet en onverdiend en mag dit jou siel versadig. (4) Water – die Here het sy volk se dors geles met water uit ’n rots. Onverklaarbaar en onverdiend en verniet. O, hoeveel te meer het ons rede om te sing! Die Here het vir ons lewende Water gegee. “... maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh. 4:14) “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37). Kom, almal wat dors het, kom na die water toe! ~ Wilna Botha, 31/05/2022

Klik hier vir nog meer heuningdruppels >


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za)