|

|
|
|
|
Hoe
aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond
Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die
sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van
al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
|
|
|
|
|
|
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
|
8 Januarie 2026
In 'n ander Lig...
Het 'n Christen regtig enige voordeel bo iemand wat nie glo nie?
Word Christene meer gesond wanneer vir hulle gebid word? Leef ons
langer, ryker, gesonder, meer geseënd en met minder kommer as ander?
Is dit regtig nodig om te bid voor jy eet? Wat beteken "nodig"? Is
daar minder egskeidings onder Christene? Is christene se kinders
ouliker as ander? Maak dit regtig saak of jy elke dag die Bybel lees
of nie? Of wat van kennis van die Bybel?
Ek is doodseker dat jy ook hieroor wonder, en ook vasgevra word oor
hierdie dinge. En as jy vir my 'n opinie vra, gaan ek sê ek weet nie.
Maar, ek weet een ding, Christene sien dinge in 'n ander lig. Of nee
wag, korreksie, Christene sien dinge in 'n ander Lig. Lig met 'n
hoofletter, Lig soos in Jesus die Lig.
Maar kom ons dink bietjie oor gebed. Die ongelowige kan vir jou sê
hy is ook wonderbaarlik genees, sonder gebed, maar wie sê die Here
se genade was nie ook op hom nie? Dalk het die Here daar ook
ingegryp. My seun is uit die aard van sy werk gereeld op die langpad,
en ons bid sonder ophou vir sy veiligheid. Wie sê die Here het nie
élke keer ons gebede verhoor nie? Ek kan nie bewys dat die Here
ingryp nie, maar net so kan niemand bewys dat Hy nié ingryp nie.
Daarom sien ek hierdie dinge in 'n ander Lig.
Maar wat dan as die slegste wel gebeur, en iemand sterf aan kanker,
of in 'n ongeluk, of 'n baba verdrink? Wat van mense wat met
gestremdhede gebore word? Was die Here dan teen hulle?
Nee, wanneer die ergste van die ergste gebeur, sien Christene bykans
altyd dinge in 'n ander Lig. Nie almal spring trauma vry nie, maar
ek gaan baie eerder deur dit mét die Lig as sónder die Lig. Die lewe
is definitief nie net 'n speelparkie nie, en die Bybel sê definitief
nie dat dit is nie, en die Bybel is vol van mense wat deur erge
teëspoed is, maar die Bybel praat van ongekende, bonatuurlike troos
as jy deur 'n ander Lig na dinge kyk. Terloops, onthou jy dat
Johannes die doper se kop sinneloos afgekap is? Ja, daardie Johannes
wie vir Jesus gedoop het. Ek het al soveel kere die voordeel beleef
as ek na dinge in 'n ander Lig kyk. Soveel so dat selfs die slegste
dinge op 'n manier sin gemaak het.
As ek op hierdie manier na die wêreld kyk, maak dit hoegenaamd nie
meer saak of Christenskap méér voordelig is nie, en ek vergelyk glad
nie die Christelike lewe met 'n lewe sonder Hom nie.
En daarom vriend, sê ek onophoudelik dankie vir die guns van die
Here. Of ander mense dieselfde as ek glo al dan nie, maak nie saak
nie, want Christenskap sal altyd vir my voordeel inhou. En as iemand
dit nie verstaan nie, sien hulle nie dinge in dieselfde lig nie.
Daarom lees ek die Bybel, daarom bid ek, daarom probeer ek om die
goeie boodskap te verkondig en daarom hou ek vas aan dít wat vir
vele mense nie sin maak nie.
Om dinge in 'n ander Lig te sien, word die bril waardeur jy kyk
totaal in fokus gebring, al dink andere jy sien net dinge in jou
verbeelding. Ek glo wat ek glo, want ek wéét wat ek wéét. Wanneer
word 'n gebed in elk geval verhoor? Net as dinge altyd perfek gebeur
soos wat ek daarvoor vra? Nee, want die Here antwoord gebede met "Ja,
Ek sal dít wat jy vra laat gebeur", of soms "Nee, dis nie die regte
uitkoms nie", en dan die moeilikste een wat sê "wag, nog nie, nie
nou nie, wees geduldig". En as jy al hierdie dinge kan aanvaar, sien
jy dinge in 'n ander Lig. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
31
Desember 2025
Die jaar 2025...
In hierdie jaar het baie gebeur, dit was nogal 'n intense jaar.
In hierdie jaar het ons 'n keer of wat hartseer beleef, 'n broer wat
skielik nie meer met ons is nie, 'n paar vriende wat reuse terugslae
met hulle gesondheid beleef het, en nóg kennisse wie se aardse
uurglas leeggeloop het.
In hierdie jaar het ons gesien dat "voorspoedige nuwe jaar" twaalf
maande gelede, teen alle verwagtinge vir baie mense in 'n aaklige
jaar geëindig het.
In hierdie jaar het dit duidelik geword dat "die goeie ou dae"
totaal tot die verlede behoort, want té veel dinge het rondom ons in
die land inmekaargestort. Dit lyk net eenvoudig of die pap neer reën
grond toe.
In hierdie jaar het ons almal met skok agtergekom dat ons land en sy
leiers meer en meer eenkant toe gestoot word deur die wêreld, en dat
die wil net nie meer bestaan om dinge reg te ruk nie.
In hierdie jaar het ek persoonlik meer as ooit besef dat die mens 'n
sterflike wese is, maar meer nog, dat jou laaste jare met swaarkry
en sukkel geaard gaan, op sóveel gebiede.
In hierdie jaar het ek meer as ooit besef dat jou kinders (en
kleinkinders as jy het) meer werd is as enige aardse skatte wat jy
kan bymekaarmaak. En voorts dat vele ouer mense sonder die fisiese
nabyheid van hulle nageslag moet leef.
In hierdie jaar het ek ontsettend bewus geraak dat tyd teen 'n
geweldige tempo by ons verbysnel.
In hierdie jaar het ek ook besef watse reuse voorreg die mens het om
al hoe nader aan jou Skepper te kom, as jou geloof in Hom die fel
aanslae van opinies, en ander se ongeloof kan weerstaan.
In hierdie jaar het ek besef dat mens mooi moet onderskei tussen
waarheid en leuen, veral deur die kragtige aanslae van sosiale
media.
In hierdie jaar het ek egter meer as ooit besef wat ware
dankbaarheid is. Dankbaar vir voorspoed, te midde van baie teëspoed.
Dankbaar vir veiligheid, terwyl jou kanse só groot is om deur slegte
elemente getref te word. Dankbaar vir gesondheid, ten spyte van die
onvermydelike aftakeling van die liggaam. Dag vir dag, so stadig dat
mens dit nie eintlik agterkom nie, totdat jy besef dat die einde van
2025 reeds baie anders is as die begin van 2025.
In hierdie jaar het ek weereens besef hoe dankbaar mens moet wees as
jou lewenspad nog nie alleen gestap word nie. Vir vele het daardie
voorreg weggeval.
Maar hier staan ons by die einde van hierdie jaar. Daar was baie
hartseer, maar meer vreugde. Daar was baie onsekerheid, maar meer
geloof in die vermoë van ons Skepper. Daar was baie dinge wat lyk of
alles om ons inmekaarval, maar baie meer wonderwerke wat mens opnuut
hoop gee.
Daar was uurglase wat leeggeloop het, maar meer kosbare nuwelinge
wat die eerste lewenslig aanskou het.
In hierdie nuwe jaar moet jy besluit hoe jy hom gaan aanpak, met of
sonder hoop, met of sonder opgewondenheid oor die mooi wat hierdie
jaar dalk kan inhou en die belangrikste, met of sonder die Here. Hý
wat die onmoontlike moontlik kan maak, Hý wat wonderwerke laat
gebeur wat jou gaan verras. Hý wat voor jou uitstap en die Lig vir
jou pad kan wees. Besluit jý, niemand anders kan dit vir jou besluit
nie.
Fluit fluit, die jaar is uit.
Voorspoed vir 2026, van my en Wilna. Dankie dat ons saam met julle
kon stap.
Keep walking! ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
22 Desember 2025
NOG 'n Kersfees
Wat kan nog oor Kersfees geskryf word? Watter woorde daaroor kan so
nuut wees dat mens dit wil hoor of lees? Watter Kersdag preek kan
steeds impak maak en uit watter hoek kan ons daarna kyk sodat ons
steeds in verwondering daaroor staan? Jaar na jaar dieselfde.
Maar tog maak die geboorte van Jesus menige Christene se harte warm.
'n Ongewone kind word gebore uit 'n gewone vrou. 'n Gewone geboorte
uit 'n ongewone swangerskap. 'n Ongewone man wat jare later
wonderwerke in 'n gewone dorpie begin doen. Gewone mense se lewens
neem ongewone wendings as hulle tot bekering kom.
En vandag vier gewone mens steeds hierdie ongewone gebeure van 2000
jaar terug, want die misterie van die ongewone sal nooit ophou om
mense aan te gryp nie. Dit bly steeds n ongewone verhaal in ons
gewone tye. My en jou ervaring daaroor verskil, en dit verskil dalk
selfs jaar na jaar. Dis hoekom ons dit seker vir nog duisende jare
sal vier. Die punt is, Christus verander gewone mense se lewens, en
daarom sal die meeste van ons steeds in verwondering staan oor Sy
geboorte. Dit bly maar spesiaal
Geseënde Christusfees vir jou en jou geliefdes. ~ Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
|
Hande - myne en God s'n
Ek
het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort
stukkies daaroor geskryf:
- my eie hand: pynlik a.g.v
artritis en gevolglike operasies aan my vinger
- doen met toewyding alles wat jou
hand vind om te doen
- Jesus se hand wat genesing bewerk
- wat het jy in jou hand?
- opstandige, ongehoorsame, sondige hande
- Pilatus se hande van onskuld
- die skild van geloof in jou hand
- all of these lines across my hand
- put your hand in the hand of the Man who stilled the water
- skryf op jou hand: die Here s'n
- my God het sy goeie hand oor my gehou
- in die skaduwee van God se hand
- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo
Klik
hier as jy dit wil lees >> |
|
|
So sê die Here, Here

Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue
kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n
groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie!
Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur
sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en
redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde
wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy
sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings,
woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees
...
Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor
hierdie tema te lees >> |
|
|
Breek brood
Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê:
ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd
saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met
iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n
spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term
het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die
brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle
gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk
toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het
aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir
my dat Jesus Homself gegee het. Die Brood wat lewe gee is gebreek
en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy
ook vandag daarvan kan eet ....
Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >> |
|
|
Leer by Nehemia
Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed,
afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie
daarvan neergeskryf.
Klik hier as jy dit wil lees >>
|
|
|
Vrae wat
die Here vra
Ek het êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die
Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel
dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie
gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat
Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot
vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om
dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig
geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en
na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in
verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat
baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor
die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees
(en beantwoord!)
Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek
en oordink wat mense in die Bybel vra.
Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
|
|
|
Musiek en
lofprysing
Ek het in die
laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit
die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor
geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my
opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit
alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die
Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens
die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar
ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd
aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier
bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou
inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer
van die Here.
Klik hier vir alles >> |
|
|
Wie is God
vir jou?
Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45
kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy
genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel
in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap
van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal
die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25
sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web
nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan
deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom
kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan
akkommodeer. Dit was egter vir my ’n leersame en verrykende pad wat
begin het by Eks 3:13
...
lees verder >> |
|
|
Julle moet
mekaar ...
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n
klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar
aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor
mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en
in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra,
mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en
lofliedere saam sing ...
As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te
lees >> |
|
|
Jesus het hulle innig jammer gekry
Ek het vir die
afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie
stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat
mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my
so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige
God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en
hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep
meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my
persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade
is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en
uitkoms is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en
onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol
liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom,
dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons.
Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal
is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg
vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle
hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik
goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde.
(Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
Ek het al die
stukkies hier bymekaargesit –
klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >> |
|
|
Bring die hoop weer terug
Ek het die afgelope tydjie bietjie
gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop
gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes
wat ek neergeskryf het.
Lees hier meer >>
|
|
|
Wonderwerke
van Jesus uit Johannes
Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die
wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die
einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen
het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word,
dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh.
21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien. Ek dink nie
dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net
met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die
Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke
vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo: “Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus
is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke
beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn
verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die
regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof
in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood
vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na
die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is,
het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe
die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om
uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se
wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof
nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig
oor Sy werke in ons lewe nie.
Terwyl ek deur die
wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.
Lees gerus hier meer daaroor >>
|
|
|
Jesaja se Goud - klik hier >>
Die
afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het
maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie
altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al
die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke
hoofstuk, op elke bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud
uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te
onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad
van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat
God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort
boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou
almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja
se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan
versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.
Lees
gerus meer hier >> |
|
|
My 18 G's vir 2018
- klik hier >>
Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi
seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde
ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér
’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval
dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond,
gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe
besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18
G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”. Om te gee, moet dan
seker my eerste G vir die jaar wees ...
lees verder >>
|
|
|
Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>
 |
|
|
Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik
hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>
 |
|
|
Kort
dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>
 |
|
|
Kort dagstukkies
uit Jona -
klik hier >>
 |
|
|
|
Facebook
Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en
waar jy welkom is om saam te gesels.
Klik hier >> |
|
|
|
|
Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met
verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)
|
|
|
|