GENESING

Wat is genesing?  Ek weet nie of ek dit pertinent geloofsgenesing moet noem nie, want ek glo alle genesing kom in elk geval van God af. 

Luk 8 : 40 - 48

Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte.Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom,want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud.Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom.Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: Wie het My aangeraak? Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.Maar Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.Toe sê Hy: Dogter, jou geloof het jou gered Gaan in vrede!

Dogter, jou geloof het jou gered.  Ons lees hier van ‘n vrou wat absoluut desperaat was om genees te word.  Die gedeelte wat my egter baie ernstig opval, is waar Jesus sê: “Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”  Ons lees so baie van “bonatuurlike” genesing in die Bybel, dat daar geen twyfel is dat Jesus op wonderbaarlike maniere kan werk nie.  As jy in die nuwe testament lees, sal jy sien dat elke enkele persoon wat Jesus aangeraak het om hulle te genees, gesond geword het.  Onthou jy: “Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom”  (1 Pet. 2:24).  Ek is ook seker dat jy al baie mense ontmoet het wat bonatuurlik genees is. 

Maar:-  werk dit vandag nog so?  Kan ons per definisie daarop aanspraak maak?  Word almal gesond vir wie daar gebid word?  En wat van die mediese wetenskap? Tot op watter ouderdom sal ons bid dat iemand gesond moet word en wanneer sal ons sê dié persoon is nou oud genoeg om te sterf aan sy siekte? 

Matt 8 : 2

“’n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: ”Here, as U wil, kan U my gesond maak”.  Toe steek Jesus Sy hand uit, raak hom aan en sê, “Ek wil, word gesond”.  En sy melaatsheid was onmiddellik weg.” 

Ons lees in Matt 8 : 14 van Petrus se skoonma se genesing.  In Handelinge lees ons dat as Petrus hulle se skaduwee oor iemand geval het, of as van hulle klere op siekes gelê is, het hulle gesond geword.  Hand 5 : 16 sê:  “hulle is almal gesond  maak!”  Inderdaad wonderlike dinge wat gebeur het. 

Kan ek en jy vandag vir die Here vra vir genesing?  Verseker, maar kom ons kyk na ‘n paar praktiese punte. 

Jak 5 : 14

“As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here”. 

Uit die gedeeltes: 

1.            Die sieke moet wil genees word, en die sieke moet die aksie begin; hy moet “die ouderlinge laat kom”.

2.            Dit is ‘n saak van onwrikbare geloof (soos die vrou met bloedvloeiing)

3.            Ons moet vir die Here vra daarvoor en Hom aanroep.

4.            Jesus het dikwels ‘n aksie gevra, bv.  Mark 3 : 5 “Steek jou hand uit”. Of Hy het ’n aksie gedoen, bv. spoeg op die doofstomme se tong gesmeer (Mark 7:33), of klei op die blind se oë gesit (Joh. 9:6)

5.            Ons lees dikwels dat Jesus eers sê: “jou sondes word vergewe” en “jou geloof het jou gered”, voor Hy genesing laat plaasvind het.  Ons lees dus nie net van fisiese genesing nie, maar ook geestelike genesing.

Maar…

1.            As ons genesing van die Here vra, het ons sekerlik self ook ‘n verantwoordelikheid wat ons moet nakom.  As ons ‘n toestand oor onsself bring wat ons liggaam benadeel, moet ons sekerlik dit stop voor ons vir genesing bid, of hoe?  Ek is seker jy kan dink aan ‘n paar elemente waarna ek nou verwys ...

2.            As kossoorte, alkohol, chemiese middels, of wat ookal, jou siek maak, staak dit!  Dalk het jy rugpyn elke oggend, maar jou bed lyk soos ‘n kano – kry ‘n ander bed!  So is daar seker baie dinge wat ons kan opnoem.

3.            Dalk moet jy vir ‘n operasie gaan om iets te laat herstel, of tandarts toe vir ‘n seer tand.  Doen dit, moenie uitstel nie!  Iemand het gesê, “’n Dokter, of die mediese wetenskap kan jou net help om die liggaam tot sy geskape posisie terug te bring, maar die genesing kom steeds van God af”. 

4.            So, moenie net jou pille weggooi nie, drink dit, maar doen wat jy ook moet doen van jou kant af.  Oefen, dieet, wat ook al nodig is en raak tog van die ewige stres ontslae, dan is jy sommer 50% beter af en gesonder. 

Dit is die een kant van die saak. Die ander kant lyk bietjie anders. 

Hoewel ons hoofsaaklik die suksesverhale in die Bybel lees, is daar ‘n ander harde realiteit in die lewe, waar mense nié genees word nie. 

2 Kor 12:7-10

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is." Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.  

Wat maak ons hiermee?

Ek lees die getuienis van Ds Jimi Le Roux van Padlangs, wie se pa Ds James le Roux, ‘n genesings-bediening gehad het en hordes mense het gesond geword. Mense het van oral gekom en het dan hulle hulpmiddele soos krukke en prosteses daar gelos as hulle gesond geword het. Sy bediening het van krag tot krag gegaan en hy was wyd bekend. Die ironie van dit alles is dat sy eie vrou ‘n baie sieklike mens was wat werklik swaar gekry het en nooit genees is van haar kwale nie, die dokters kon dit ook nie diagnoseer nie. Wat meer is, Dr James Le Roux het self op 53 breinkanker gekry en is twee jaar later oorlede. Baie mense het vir hom gebid, hy het self gebid, maar hy is nooit genees nie. Sy vrou is enkele jare later ook oorlede. 

Ongelukkig is daar mense wat werklik wrede uitsprake oor siektes maak wat baie verwarring saai en mense se geloof ernstig benadeel. Bv. :

  • Jy word nie gesond nie want jou geloof is te swak

  • Jy moet op sekere maniere bid anders sal jy nooit genees word nie

  • Hoe meer mense vir jou bid hoe beter is jou kans (en dan begin mense graag SMS kettings)

  • Jy is siek a.g.v. ‘n onbelyde sonde

  • Daar was ‘n vloek op jou voorouers wat eers gebreek moet word (bloedlynvloeke)

  • Daar is items in jou huis waarop daar ‘n vloek rus en dit maak jou siek

  • God wil jou straf vir een of ander sonde

  • As jy gebid het, los jou medikasie in geloof

Sommige van hierdie dinge mag dalk ‘n element van waarheid inhou, maar ek dink die meeste is nie waar nie. Die Here het al baie wonders in mense se lewens gedoen tydens hulle siekte, maar hulle nie fisies genees nie. Ons leef in ‘n onvolmaakte wêreld na die sondeval en dit sal nooit verander nie omdat die volmaakte bedoeling van die paradys nie meer bestaan nie. 

Die volgende is realiteite:-

  • Goeie mense – gelowige mense, word siek en gaan dood

  • Mense kry swaar in hierdie lewe, en die oudag word by die dag swaarder. (lees Pred 12)

  • Daar is arm mense en ryk mense. Jy kry gelowiges onder beide

  • Party mense word gesond en ander nie. Jy kry gelowiges onder beide

  • Sommiges gaan met swaarkry hulle einde tegemoet en ander sterf “op ‘n genadige manier”. Jy kry gelowiges onder beide

  • Party mense vaar net op gladde waters en ander net op storm waters. Jy kry gelowiges onder beide

  • Sommiges is “met die goue lepel in die mond gebore” en ander drink hulle lewe lank asyn. Jy kry gelowiges onder beide

Hoe dan gemaak met siekte?

  • Hou aan bid en hou aan glo

  • Moenie met God probeer “bargain” nie. Here, as U my genees, dan sal ek …

  • Glo dat God elke gebed hoor, en steeds oneindig lief is vir jou, al word jy nie gesond nie.

  • Doen alles wat jy moet doen van jou kant af en los die res vir die Here.

  • Jou eerste lyn van gebed is jyself.

  • Aanvaar wat jy moet aanvaar en bid vir krag daarvoor.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die webruimte (www.heuning.co.za)