BODY BUILDING

Liggaamsbou, spiere pomp, vleispaleis ... jy weet mos, jy kry hierdie mense wat daagliks ure in die gimnasium deurbring in hempies wat te klein lyk, broekies wat styf sit, lywe vol olie gesmeer , hygend onder swaar gewigte, hulle drink spesiale hoë proteïen –skommels, eet 8 rou eiers vir ontbyt en werk hard om daai spiere so groot as moontlik te kry. En hierdie ouens is sterk! Boeta, dis nie ’n muis wat dit regkry nie, dit vra harde werk, deursettingsvermoë, swaarkry, opofferings, maar die beloning daarvoor is groot.

Mens kry ander ouens wat ook sterk is, maar hulle is sulke lang, maer knape wat net vol senings is. Hulle lyk na niks, maar as hulle vat, vat hulle. Ek probeer een keer met so ’n laaitie armdruk, maar goeiste, dit lyk of hy met ’n slap stuk liquorice armdruk. Ek was geskok oor hoe sterk hy is.

Nou vra my vriend, Jan, anderdag vir my hoe ek dink Simson gelyk het. Natuurlik beskryf ek die spierpaleis van hierbo, maar hy reken nee, Simson was waarskynlik eerder so ’n maer knaap met lang hare. Na ’n gesoek in die Bybel oor Simson se uiterlike gee ek op en vra vir ’n verduideliking. Hy reken toe, as Simson ’n spierpaleis was, sou die Filistyne nie gevra hê waar sy krag vandaan gekom het nie, dit sou mos logies gewees het. En toe kom Jan en hy vergelyk dit met die kerk: ons pomp spiere deur lering en kursusse, ons doen groot dinge daar by die gimnasium (die kerk in hierdie gelykenis), ons bou mekaar op, ons lees kommentare en hordes boeke, ons kry oorsese sprekers en hou seminare, ons word toegerus en flex ons geestelike spiere en alles lyk wonderlik. Ons geestelike gimnasium is indrukwekkende geboue met net die beste en duurste fasiliteite en ons word groter en groter en kragtiger en sterker ... totdat ons by die gym uitstap, dan is ons krag skielik weg. En Jan se beeld laat my diep dink.

Nou hoe Simson fisies gelyk het, sal ek nie weet nie, maar kyk wat sê Rigters 14:1-6:
Op 'n keer is Simson na Timna toe en daar het hy 'n vrou gesien. Sy was 'n Filistynse meisie. Hy het teruggegaan en vir sy ouers vertel: “Ek het 'n vrou in Timna gesien, 'n Filistynse meisie. Gaan kry haar vir my as vrou.” Maar sy ouers vra vir hom: “Is daar nie onder jou familie of onder al jou volksgenote 'n vrou nie dat jy na die heidene, die Filistyne, toe moet gaan om te trou?” Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my, want ek hou van haar.” Sy ouers het nie besef dat dit alles van die Here kom nie, want Hy wou 'n geleentheid skep om die Filistyne te straf: in dié tyd het die Filistyne oor Israel geheers. Simson en sy ouers is toe na Timna toe. By die wingerde van Timna het 'n jong leeu brullend op Simson afgestorm. Die Gees van die Here het vir Simson sterk gemaak en hy het die leeu kaalhand uitmekaar geskeur asof dit 'n bokkie was. Simson het nie vir sy ouers vertel wat hy gedoen het nie.

Dit is die Gees van die Here wat vir Simson sterk gemaak het. Ek hou van die beeld van die lang, maer kalant met die lang hare – dit was nie sy eie krag nie, maar die krag van die Here wat in hom gewerk het. Toe verskeur hy ’n leeu kaalhande. Nie met groot spiere nie, want selfs die sterkste, grootste ou kan seker nie ’n leeu kaalhand verskeur nie.

Kom ek vertel jou van nog ’n  sterk tipe persoon. Het jy al die gewig-optel items van die Olimpiese Spele op TV gesien? Dis ongelooflik indrukwekkend. Daar kom hierdie kort, skralerige outjie opgestap, hoegenaamd nie oordrewe gespierd nie, hy vryf sy hande vol kryt en dan vat hy daai stang noukeurig vas, pomp homself met suurstof op en tel met een stoot ’n gewig op wat mens nie kan glo nie. ’n Dame wat 48 kg weeg kom tel sommer 121 kg op en een wat 75 kg weeg tel sommer 188 kg op. Om nie eens te praat van die mans wat sommer tot 260 kg optel. Ons praat hier van tegniek, meer as van krag. Met ons gelykenis van vroeër ingedagte, laat dit my dink aan ’n klein gemeentetjie, of ’n groepie individue, wat vol van die Gees van die Here is en geestelik berge versit. Geoefen, met ’n fokus, ’n visie, ’n doel, ’n droom, ’n eindbestemming – iemand wat wíl!

Die ouens in die gimnasium wat so baie van daai skommeltjies drink, pilletjies sluk en hope proteïen inneem, word vinnig besonder fors. Party lyk mooi, totdat hulle ophou oefen, dan sit daai spiere om in vet. Ek dink dit gebeur nogal ook in die kerk-gimnasium!

1 Kor. 9:23-27
Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê. Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Paulus praat hier van sy werk om die evangelie te versprei. Hy gaan gimnasium toe, hy oefen doelgerig, hy werk gefokus, hy slaan nie soos ’n bokser wat in die lug slaan nie.  Met ’n doel voor oë oefen hy sy liggaam en bring dit onder beheer. Paulus het baie meer tyd in die sendingveld, tussen die heidene deurbring as in die tempel. Sy proteïen spiere het nie in vet omgesit nie; hy het hulle buite die kerk-gimnasium gebruik. Nie net binne opge-“pomp” en toe gaan sit nie. Nee, sy werk was buite – myne en joune ook. Moenie dink ek sê jy moenie kerk toe gaan nie, natuurlik moet jy. Dis ’n goeie plek, en die Here sê in Hebr. 10:25 dat ons nie van die samekomste van die gemeente moet wegbly nie.

Kom ons kyk bietjie hoe lyk iemand wat nét in die gimnasium rondhang.
2 Tim 3:5
Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie

Hier word gepraat van die afvalliges wat ons in “die laaste dae” sal teëkom. Hulle sal nog die uiterlike geestelike skyn hê. Hulle was eens op ‘n tyd okei, maar is nie meer nie. Is ons nie dalk in die laaste dae nie? Die Here sê: kom na die gimnasium toe, pomp daai spiere, maar gaan dan uit en gaan werk met daardie krag. Die Gees van God het vir Simson krag gegee, Hy sal dit vir jou ook gee. Ek het baie kennis in die kerk opgedoen, baie geleer, maar dit moenie net vir myself en my eie persoonlike groei wees nie – ek moet uitgaan en dit deur die krag van die Heilige Gees gaan toepas, gaan gebruik, gaan deel, ter wille van die Here en ter wille van die uitbou van sy koninkryk op aarde. Simson het sy laaste krag gebruik en gesterf vir sy saak – t.w.v. die Here. Jy sien, ons kan in die gimnasium boer en massief grootword en heeldag met mekaar kompeteer met ons groot, geestelike liggame, vol olie gesmeer, al bultende en hygende en geen krag in die wêreld hê nie. Dis nié die Here se bedoeling nie. Ons kry kennis en toerusting binne, maar die werk is buite. Dis waar ons moet sweet.

Die oefenwerk is ook nie nét in die gimnasium nie, dis ook daar in die bo-kamer, die binnekamer, saam met die Here, by sy voete, daar waar die persoonlike ontmoeting met die Here gebeur, daar waar jy sy stem hoor, vir jóú alleen. Moenie vir ander mense gaan vra wat God se bedoeling vir jou lewe is nie, gaan vra Hom self. Paulus sê mos: “ek wil nie ander vir die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie”. Jy kry mos mense wat vir almal wil vertel wat hulle moet gaan doen, maar self doen hulle niks.

In die weermag het ons in die basis geoefen en sterk geword en toe is ons uit grens toe om oorlog te maak. Word gevul met God se krag en gaan uit en gaan werk daarmee!

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)