DEUR WATTER BRIL KYK JY?

Het jy al die Roxette liedjie: “She’s got the look” gehoor? Dit beteken seker iets soos “sy lyk goed” en “haar uiterlike is mooi”. Ek wil dit nou sommer so bietjie verdraai en sê : “Sy het die kyk, die regte manier van kyk”.  Wat beteken “kyk”?  Wat sien jy wanneer jy kyk? Wat sien jy in ander wanneer jy na hulle kyk? Wat sien ander in jou? Wat DINK jy sien ander in jou wanneer hulle na jou kyk? Kom ons vat dit nou bietjie verder en sê: “He’s got the look” en dan praat ons van hóé die Here kyk. Wat sien Hy? Wat dink jy sien die Here as Hy na jou kyk?  

Lense as kyk-instrumente
Mens kry verskillende lense vir verskillende gebruike, bv.

·         Om te vergroot word ’n mikroskoop gebruik

·         Om dinge nader te bring word ’n zoemlens of ’n verkyker gebruik

·         Om dinge verder weg te neem kan ons ’n wyehoek lens op ‘n kamera gebruik

·         Om dinge bietjie makliker te sien, gebruik ons ’n bril wat doelgemaak is vir jou oë, of spesiale kontaklense

·         Om onder die water te kyk, gebruik ons ’n duikbril. Dié lense is plat glas en dien ook as beskerming onder die water

·         ’n Motor se voorruit is ’n neutrale lens maar is van baie, baie sterk glas

·         As jy die beeld wat ’n spieël weerkaats bietjie wil verander, kan jy ’n gebuigde spieël gebruik– dit kan jou maerder of wyer laat lyk

·         Dan is daar ook gekleurde lense wat sekere frekwensies uitfilter en dinge anders laat lyk as wat dit werklik is.

 Elke tipe lens / glas het ‘n bepaalde doel. Die gebruik daarvan is vir ‘n spesifieke doel en kan nie sommer vir enige toepassing gebruik nie. Ek kan nie met ‘n verkyker na ‘n mier se saamgestelde oog kyk nie. ‘n Mikroskoop werk ook nie mooi om na diere in die veld te kyk nie. ‘n Duikbril is selde ‘n goeie leesbril en ‘n kontaklens beteken niks op ‘n duur kamera nie. 

Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “Deur watter bril kyk jy?”

Dié spreekwoord beteken dat ek en jy dinge in die lewe verskillend kan sien omdat ons uit verskillende raamwerke kyk. So kan ‘n negatiewe mens dalk nie iets snaaks in ‘n situasie sien nie want niks is vir hom snaaks nie, terwyl ‘n ander ou rondkruip van die lag oor dieselfde situasie. Iemand wat arm grootgeword het sien besittings in ‘n ander lig as iemand wat in oorvloed grootgeword het. Daarom sal jy dikwels kry dat mense wat min het, baie meer waarde heg aan ‘n klein geskenkie as iemand wat in oorvloed lewe. ‘n Verliefde ou sien ‘n meisie ook anders as iemand wat nie verlief is op haar nie. 

So gaan ons deur die lewe met verskillende sienings omdat ons deur verskillende brille kyk. Ongelukkig bring dit dan ook mee dat mense met ‘n swak selfbeeld glo niemand het agting vir hom nie. Hy het dus ‘n dowwe bril op namens iemand anders, en vorm ‘n mening oor homself. Omdat hy dus glo dat ander nie van hom hou nie, sien hy homself deur ‘n verwronge lens en kan hy homself naderhand ook nie meer verdra nie. 

Hoe kyk jy na jouself? En hoeveel beïnvloed jou mening jou gedrag? As jy met ‘n verkyker probeer diepseeduik sal jy naderhand niks meer van die wonder van die skepping raaksien nie want jy het die verkeerde toerusting. As jy dus objektief na jouself wil kyk moet jy van ‘n paar verkeerde lense ontslae raak. 

Hoe sien jy die Here?

·         As ‘n wrede God wat net wil straf?

·         As ‘n God wat nie kan wag om jou voor die regterstoel te kry nie?

·         ‘n Perfeksionis wat net met 100% tevrede is?

·         ‘n God wat die heeldag jou sondes in Sy swart boekie opskryf?

·         Een wat daarvan hou om ou koeie uit die sloot te grou?

·         ‘n God wat afwesig geraak het soos ‘n afwesige pa?

·         Een wat jou so gemaak het en so laat staan het?

·         ‘n God met ‘n swak geheue wat heeltemal van jou vergeet het?

Ex 32 : 30 – 35  Die volgende dag het Moses vir die volk gesê: “Julle het 'n ernstige sonde gedoen, maar ek klim nou na die Here toe op en miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.” Moses het toe na die Here toe teruggegaan en gesê: “Hierdie volk het 'n ernstige sonde gedoen deur vir hulle 'n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” Maar die Here het hom geantwoord: “Nee, Ek sal hulle wat teen My gesondig het, se name uit my boek uitvee. Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde.” Die Here het die volk met 'n ramp getref oor die kalf wat Aäron op hulle aandrang gemaak het. 

Hierdie klink inderdaad na ‘n moeilike storie van ‘n onverbiddelike God. Sodra jy iets verkeerd doen, sal Hy jou staf. Mense kom sê maklik met roekelose uitsprake soos: “Jy is siek oor onbelyde sondes, of dinge in jou verlede, of sondes van jou voorvaders”. As ons die wet van God lees, lyk dit ook maar moeilik. Luister bv hierna: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.” 

Wel, ons weet dat God heilig is en baie ernstig oor sondes is. Hy kan dit nie aanvaar, of net daarvan vergeet nie nie. Wat is die persentasie van volmaaktheid wat goed genoeg sal wees om jou te kwalifiseer vir die hemel? 10% - 30% - 50% - 70% - 90 % of dalk 100%? God wil 100% hê! Maar hoe nou gemaak, want niemand van ons kan vol punte by God behaal nie? 

Deur watter bril kyk jy na God?
As jy deur ‘n ou Testamentiese bril kyk lyk dit of enige faling jou gaan laat les opsê. Dis óf 100%, óf niks.

Gal 3:10  Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

Eish, dis moeilikheid!  Dit lyk of 100% al is wat gaan werk! Indien dit so is, is ons verdoem! 

Maar, kom ons kyk nou na die Here en wel deur die bril genaamd Jesus Christus. Indien ons dit regkry, lyk die beeld ewe skielik heeltemal anders, want dan sien ons die ware aard van God se liefde.

1 Joh 4:8  “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

Dit lyk dus of ons dalk net die liefdevolle aard van God kan mis as ons deur die verkeerde bril kyk. 

Kom ons sit dus nou die “Jesus-bril” op. As ek my hart vir Jesus gee “lyk” alles skielik heeltemal anders. Skielik verval die erns van die oordeel op grond van Rom 8:1 “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” 

Gal 3:11 “En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Omdat hy GLO en dit is geloof in Jesus!

Gal 3:13  “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” 

Nou is dit maklik om te verstaan. Sonder die Jesus-bril lyk God soos Een wat net wil straf, maar met die Jesus-bril sien ons Sy genade! 

Nou is die vraag, hoe sien God vir jou en my? Hy sien jou ook deur die Jesus-bril. Jesus, as Sy enigste Seun, wat Hy gestuur het vir jou en my, gee jou onmiddellik ‘n 100% punt. Nie omdat jy dit verdien nie, maar omdat Hy dit namens jou verdien het. 

Kan jy sien dat dit ‘n tweerigting glas is? Een wat die effek van sondes volmaak uitfilter, soos wat ‘n donker lens die skadelike strale van die son wegkeer. As jy te lank in die son te kyk, sal jy jou oë beskadig, maar as jy met die regte toerusting kyk,  is die probleem egter opgelos. ‘n Sweiser sweis nie sonder ‘n sweisbril nie, want hy sal sy oë beseer en later sy sig verloor. ‘n Diepsee duiker duik nie sonder sy duikbril nie, want hy wil nie water in sy oë hê as meneer haai nader kom nie. ‘n Wetenskaplike kyk nie deur ‘n verkyker as hy ‘n virus wil isoleer nie. ‘n Jagter soek nie ‘n bok in die vêrte met sy leesbrilletjie op nie. 

God kyk nie na jou met dieselfde bril as waarmee jy na jouself kyk nie. As Hy dit gedoen het, sou Hy jou gesien het soos wat jy jouself sien as jy inmekaargetrek van skuldgevoel sit. Wanneer Hy egter deur die Jesus-bril na jou kyk, sien Hy ‘n volmaakte wese. Jesus neem nie die sonde as sulks weg nie, Hy neem die skadelike effek van die sonde weg, soos wat ‘n sweisbril die skadelike effek van die sterk sweisvlam wegneem. 

Die kuns is om jouself dus op die regte manier te sien. Die punt is net, omdat ons nie vir Jesus kan sien nie, moet ons dus staatmaak op ons geloof, soos wat die volgende teks sê: Heb 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” 

Jesus is die “ultimate” lens waardeur ons na God kan en moet kyk, en waardeur God na ons kyk. Ons sien ’n volmaakte, maar liefdevolle God en Hy sien ‘n volmaakte mens, Sy kind. 

As jy die volle impak hiervan kan verstaan en glo, MOET jou lens verander waardeur jy na jouself, en na ander mense kyk. 

Hier is God se versie vir jou, om te bewys wat Hy sien:|
Sef 3:17 “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou”
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)