Gee 
			vir my van daai rooi goed. Weet jy waarna ek verwys? Jip, dis 
			natuurlik Esau wat sy reg as eersgeborene ruil vir ’n  pot lensiesop. 
			En dit blyk of dit nie eers die hele pot was nie. Het jy ook al moeg 
			van die werk afgekom en dan kan jy nie wag om iets te verslind nie? 
			Dink by jouself: 6 uur vanaand strompel jy by die huis in, doodmoeg, 
			siek en sat vir die baas, probleme en verkeer en op die tafel het 
			vroulief vir jou ’n klompie lekkernye uitgepak. Klein 
			vleispasteitjies, hoenderboudjies, frikkadelletjies, gebakte 
			aartappeltjies, stukkies heerlike boerewors en vars, sagte 
			broodrolletjies met dik botter.  Vroulief sê: “Skattie, eet soveel 
			as jy wil.” Op daardie oomblik kom Jannie ingehol en sê luidkeels: 
			“Pappa, Pappa, kom maak asb. gou my fiets se wiel reg voordat dit 
			donker is”. Dit sou ’n moeilike keuse wees, nè?
			Gen. 25:19-34
			Hier volg besonderhede oor Isak seun van Abraham: Abraham was Isak 
			se pa, en toe Isak veertig jaar oud was, het hy met Rebekka getrou. 
			Sy was die dogter van Betuel, 'n Arameër uit Paddan-Aram, en 'n 
			suster van Laban die Arameër. Isak het tot die Here gebid oor sy 
			vrou, want sy was kinderloos. Die Here het sy gebed verhoor, en sy 
			vrou Rebekka het swanger geword. Die kinders het in haar teen mekaar 
			gestamp, en toe sê sy: “Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe 
			die Here gaan raadpleeg, en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee 
			nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een 
			sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.” Toe 
			Rebekka haar kinders in die wêreld bring, was dit tweelingseuntjies. 
			Die eerste is gebore: rooi, vol hare soos 'n veljas, en hy is Esau 
			genoem. Sy broer is na hom gebore en dié se hand het aan Esau se 
			hakskeen vasgehou. Hy is Jakob genoem. Isak was sestig jaar oud toe 
			hulle gebore is. Die seuns het grootgeword. Esau was 'n ervare 
			jagter, 'n man van die veld; Jakob was 'n rustige mens, hy het tuis 
			gebly. Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildsvleis 
			gehou. Rebekka weer het vir Jakob voorgetrek. Op 'n dag terwyl Jakob 
			lensiesop aan die kook was, kom Esau doodmoeg uit die veld daar aan 
			en sê vir Jakob: “Laat my gou van die rooi goed wegsluk, van daardie 
			rooi goed. Ek is doodmoeg!” Daarom is hy Edom genoem. Toe sê Jakob 
			vir hom: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.” Esau het 
			geantwoord: “Ek gaan tog sterf. Wat baat dit my om die eersgeborene 
			te wees?” Jakob sê toe vir hom: “Beloof my nou met 'n eed dat jy jou 
			reg as eersgeborene aan my oormaak.” Esau het dit gedoen en so sy 
			reg as eersgeborene aan Jakob verkoop. Daarna het hy vir Esau brood 
			en lensiesop gegee, en hy het geëet. Toe hy klaar was, het hy 
			uitgestap. Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as eersgeborene.
			
			’n Vreemde verhaal wat hom hier 
			afspeel tussen twee broers (’n tweeling), wat hemelsbreed van mekaar 
			verskil. Jakob, sy ma se kind, wat rustig by die huis bly en iets 
			lekker maak om te eet; Esau, sy pa se oogappel wat ’n man van die 
			veld was. Esau kom moeg uit die veld uit, bruingebrand en gespierd. 
			Dit klink amper of hy soos Hagar die verskriklike gelyk het. Maar in 
			een onbesonne oomblik gooi hy sy reg as eersgeborene weg vir een 
			enkele ete. “Dit is hoe min Esau gedink het van sy reg as 
			eersgeborene” (vers 34). Storm in, eet hom dik, slaan selfvoldaan op 
			sy maag en stap uit en gaan lê dalk op sy kooi. Hy het ingestap met 
			die reg as eersgeborene, honger. Hy stap uit – lekker geëet, maar  
			verloor iets geweldig kosbaar. 
			Die eersgeborene was nie sommer ’n 
			hierjy storie nie. Hy sou ⅔ van alles van sy pa erf en ook die 
			familie se beheer en bestuur oorneem. Na die pa se afsterwe neem die 
			oudste seun die leiding van die groep oor. Maar jy sien, mens kyk 
			altyd in die voordele vas, maar daar is ’n ander kant en dit is 
			die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. ’n Leier se werk is 
			nie ’n maklike werk nie. Alles wat die pa tot hiertoe reggekry het, 
			land alles op die skouers van die oudste. 
			Mens kan aflei dat Esau al die 
			kwaliteite van ’n goeie leier gehad het. Hy was ’n veld-ou, besig, 
			hardwerkend, bietjie impulsief. Hy kon gesag afgedwing met sy rowwe 
			voorkoms. Sy manlikheid was vir sy pa ’n sieraad en sy pa het hom as 
			’n gebore leier gesien. Jakob word so half as ‘n “softie” uitgebeeld, 
			mamma se seuntjie wat by die huis gebly het en deur sy ma voorgetrek 
			is. Hy was dalk meer berekenend en versigtig, konserwatief in sy 
			uitkyk en het meer langtermyn gedink as om alles net te doen en 
			klaar te kry. Jakob was net enkele minute jonger as Esau en net 
			hierdie enkele minute het hom weggehou van die voordele van die 
			eersgeborene se regte. Was hy ’n sluwe ou? So ’n 
			onder-draai-die-duiwel-rond-karakter? ’n Rukkie later sou hy 
			deelneem aan sy ma se bedrog om sy pa se seën te kry. Sy ma het ’n 
			bokvelletjie vasgemaak aan sy arms sodat sy pa sou dink dis die 
			harige Esau. Toe kom hy met die truuk wat eiendomsagente vandag nog 
			gebruik. Hulle sê mos jy moet uie braai in jou kombuis wanneer 
			voornemende kopers kom huis kyk. Daai lekker huislike reuk beïnvloed 
			hulle dalk! Toe slaan Jakob vir Esau op daai een sagte plekkie waar 
			hy uiters kwesbaar is. Die pad na ’n man se hart loop hoeka deur sy 
			maag! 
			Nou kom ons by ’n vreemde vraag:
			Gen. 25:22-23
			Die kinders het in haar teen mekaar gestamp, en toe sê sy: 
			“Waarom gebeur so iets met my?” Sy het toe die Here gaan raadpleeg, 
			en Hy het vir haar gesê: “Daar is twee nasies in jou, twee volke uit 
			jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, 
			die oudste sal die jongste dien.”            
			Vóór hulle geboorte het die 
			Here vir Rebekka gesê: “Die oudste sal die jongste dien”. Dis vir my 
			baie vreemd, want hier lyk dit of Esau die slagoffer is van God se 
			plan. Hoekom op aarde is Jakob dan nie eerste gebore nie? Dis tog 
			moontlik vir God, of hoe? Of het Esau anders uitgedraai in sy lewe 
			as wat God se plan vir hom as leier was? Hoekom dink ek so 
			onwillekeurig aan Judas Iskariot? Judas het sy saligheid vir 30 
			muntstukke verruil en Esau sy reg as eersgeborene vir ’n pot sop. 
			Mal 1:2-3
			Ek het julle lief, sê die Here. Maar julle vra: “Hoe het U ons lief?” 
			Esau was tog Jakob se broer, sê die Here, en tog het Ek vir Jakob 
			liefgehad en vir Esau gehaat. Ek het sy bergland 'n verlate plek 
			gemaak, sy woongebied vir die woestynjakkalse gegee.   
			Sjoe, dis harde woorde! Hoekom sou 
			die Here vir Esau haat? Dit lyk so half of God nie vir Esau 
			uitverkies het nie, want twee groot insidente vind plaas om Esau met 
			Jakob te vervang. Eers die pot sop-episode, waar Esau willens en 
			wetens afstand doen van ’n reuse nalatenskap en dan later waar Isak 
			bedrieg word, sodat hy vir Jakob die familie-seën gee. Toe Isak 
			agterkom wat gebeur het, moes hy vir Esau sê: “Ek het nie nog ’n 
			seën vir jou nie”. Jitte, ek wonder so by myself of God hierdie ding 
			ge-orkestreer het, of Hy dit net toegelaat het en of dit totaal uit 
			Sy hande was. 
			Vir my gaan een van  die lesse uit 
			hierdie stuk geskiedenis oor keuses. Hoe lyk ons keuses as daai pot 
			lensiesop voor ons neergesit word? Hoeveel is mense nie bereid om 
			prys te gee vir die lekkerte wat gewoonlik van korte duur is nie. 
			Wat is my en jou prys? Die slim mens sê elke mens het ’n prys, ’n 
			“soft spot”, ’n Achilles heel, waar jy maklik uitgehaal word as daar 
			’n draaibal kom. Esau se hele toekoms, en dié van sy nageslag, is in 
			die gedrang gebring deur die een swak besluit wat hy neem toe hy 
			kwesbaar was. Ek glo elkeen van ons het ’n stuk Esau in ons waarmee 
			ons verkeerde besluite maak in ’n oomblik van swakheid. Esau se swak 
			plek was sy hongerte – dit lyk so onskuldig – maar hy het nie aan 
			die konsekwensies gedink nie. Party mense se swak plek is geld, waar 
			’n oomblik se “quick buck” bankrotskap teweegbring. Party mense se 
			kortstondige genot wanneer oor die draad gespring word na die 
			skelmpie, maak dat daardie persoon eendag alleen oud word. Sommige 
			se “pot lensiesop” kom in die vorm van ’n drankbottel, wat maak dat 
			jy te gou sterf weens jou liggaam wat inkonk, om dan ook niemand 
			langs jou bed te hê in jou alleentyd nie. ’n Paar honderd rand word 
			gegaps by die werk, in ruil vir jare in die tronk. Esau se woorde 
			was: “Ek gaan tog sterf, wat baat dit my om die eersgeborene te wees”? 
			Vriend, ek glo nie Esau was ’n “victim” van God se planne nie. God 
			het geweet hoe Esau gaan kies. Net so min is ek en jy slagoffers van 
			God se planne. Daarom werk hierdie verskoning van: “so gemaak en so 
			laat staan” nie. 
			Vandag se keuse kan ’n leeftyd se 
			invloed vir jou hê. Kom ons dink voor ons doen.