Ek
hoor onlangs hoe twee jong dames gesels oor hulle werksomstandighede
en hulle praat van die "one up"-beginsel. Was vir my nogal vreemd
maar ek het gou besef dat dit 'n eeu oue beginsel is wat geld in die
werksplek, sowel as die sake wêreld. Dis eenvoudig, wees almal
anders een stap voor en jy sal werk hê. Daarmee is daar verseker
niks fout nie, maar ek het gou besef dat dit verder as dit gaan. Om
kundig en opgelei te wees is nie meer al wat tel nie, daar word nou
veel meer van jou verwag as in die verlede. Jou hele persoonlikheid
moet inpas in meer as wat die basiese verwagting van jou
posbeskrywing is. Of jy 'n bemarker is of nie, jy moet die “skills”
hê en gebruik anders word jy vervang met iemand wat "one up" is op
jou. En ja, jy moet gereeld gratis oortyd werk.
Kyk, werk moet jy
werk en 'n lewe moet jy maak, maar die druk word ondraaglik in die
werksplek en ons moet al hoe beter presteer, of ons sit op straat.
Dit gebeur ook in die arbeidsmark en jy moet bo bly.
Dieselfde gebeur
egter in die sake wêreld. Maatskappye plaas geldig druk op
verskaffers om meer en vinniger te lewer teen al hoe goedkoper pryse,
en dit plaas veral die kleiner besighede in baie moeilike
omstandighede, en hulle sukkel om steeds kompeterend te bly.
Mens wonder maar
net waar gaan dit heen en wat word van mense se persoonlike lewens.
Dit laat my onwillekeurig dink aan die Farao wat woedend geword het
omdat die Israeliete in die woestyn wou gaan bid, toe verhoog hy
hulle werkslas om die lewe vir hulle ondraaglik te maak.
Eksodus 5:1-8
Daarna het Moses
en Aäron na die farao toe gegaan en gesê: “So sê die Here die God
van Israel: Laat my volk gaan om tot my eer 'n fees in die woestyn
te vier.” Maar die farao het geantwoord: “En wie is die Here nogal
dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan? Ek ken die Here
nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie!” Hulle sê toe: “Die God van
die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie
dagreise die woestyn in trek om 'n offer vir ons God, die Here, te
bring, anders tref Hy ons dalk met die pes of die swaard.”
Maar die koning
van Egipte het vir hulle gesê: “Moses en Aäron, waarom hou julle die
volk van hulle werk af weg? Gaan terug na julle werk toe! Julle
mense is alreeds te veel en nou wil julle hulle ook nog laat ophou
werk!” Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk
en hulle opsigters beveel: “Julle mag nie meer soos vroeër vir die
volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan
strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid
stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net
lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan
offer.’ Die werk moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig
hou dat hulle nie hulle ore uitleen vir allerhande leuens nie.”
"One up" or step
down. So maklik soos dit.
Ek glo baie mense
neem vroeg in die nuwe jaar 'n besluit om af te skaal, rustiger te
wees, belangrike dinge te laat tel, maar dit gebeur nie sommer nie.
Iemand het eendag die volgende woorde gesê: "A slower day comes...
never"
Dis algemeen bekend
dat stress dié siekte van die dag is en die hoofoorsaak is van
hartsiektes, wat vele vroeë sterftes teweegbring. Die pad teen die
korporatiewe leer op is steil en swaar en mense vertrap mekaar om bo
die ander een uit te klim. Ek glo ons almal neem hierdie goeie
nuwejaarswens om alles net bietjie stadiger te vat, maar na enkele
weke lyk jy soos ’n resieshoender soos wat jy hol.
"One up". Dis nou
maar so.
Nou ja, op
dieselfde dag dat ek hierdie twee jong dames hoor praat het, het 'n
dominee in dieselfde trant gepraat oor gelukkig wees en die dinge
wat geluk steel. Toe kom hy toevallig op dieselfde vraag uit: Wat is
jy bereid om prys te gee ter wille van jou werk?
Hy lees toe die
volgende uit Gen. 49:14 - 15, waar Jakob sy seuns seën:
“Issaskar is 'n
sterk pakdier, hy gaan lê tussen sy twee saalsakke. Hy sien 'n goeie
woonplek, 'n mooi landstreek, en daarvoor onderwerp hy hom aan
dwangarbeid, doen hy slawewerk."
Ek het hierdie
gedeelte al so baie gelees, maar ek het hierdie teks nog nooit in
hierdie spesifieke konteks gesien nie. Dit lyk of Issaskar deur sy
begeerte na hierdie goeie woonplek kyk en besluit: ek wil dit hê,
dit maak nie saak wat dit my kos nie en al werk ek my vrek.
Ironies hoe ons as
mense te werk gaan. Ons spandeer hope geld op ’n mooi motor (want
dit definieer ons mos) en dan ry ons twee ure per dag met hom en
heel moontlik staan hy dan die hele dag in die son. Nie eens van die
huis te praat nie, die kasarm word met bloedgeld gekoop, maar ons
moet hom hê want ons adres definieer ons mos, en dan spandeer ons
ure tyd by die werk en nog ure oortyd, want ons moet hom nou betaal
kry ... en sien sy binnekant maar min.
...hy sien 'n
goeie woonplek, 'n mooi landstreek, en daarvoor onderwerp hy hom aan
dwangarbeid, doen hy slawewerk...
En hierdie is nou
vir jou ’n lekker sensitiewe een: Ma kan nie self haar kinders
grootmaak nie, want sonder haar salaris kan die kasarm nie betaal
word nie.
...sy sien 'n
goeie woonplek, 'n mooi landstreek, en daarvoor onderwerp sy haar
aan dwangarbeid, doen sy slawewerk...
Natuurlik MOET baie
moeders werk, maar nie almal nie. Hang maar seker af van die
begeertes...
Terug na "One up".
Ons moet "One up" wees by die werk, maar nou moet ons ook "One up"
wees in die buurt waar ons woon. Kom ek vra jou ’n vraag: Sal jy
eerder die kleinste huis in die rykmansbuurt, of die grootse huis in
die arm buurt hê? Net jy sal weet, of hoe? Hoe groter die huis en
hoe ryker die buurt, hoe moeiliker raak die "One up".
O koek en nou kom
die "One up" nog by die familie, die sportklub, die kerk, die
vriendekring en sommer net daar by die Spar waar jy 'n brood koop.
Iemand sê eendag sy verpes dit as mense met ’n sweetpak kafee toe
gaan. Shame, dis seker "one down". "One up" is goed vir ’n goeie
"image". (kyk nou my taalgebruik, dis lekker "One up")
Vra vroulief nou
die dag vir my: is dit regtig nodig om ’n sitkamerstel te koop wat
R60 000 kos, terwyl daar billike meubels vir ’n fraksie van die prys
beskikbaar is. Goeie vraag, want ek kan nie R60 000 bekostig
daarvoor nie, maar wat vra my bediende as sy ons R10 000 se stel
sien? Terwyl hulle op ’n Coke kassie sit in die shack. Sien, daar
draai ek lekker vas.
Ek kom tot die
slotsom dat ons almal maar "One up" is, hang af met wie ons vergelyk.
Die vraag is net wat my sal tevrede stel. Hoeveel is ek bereid om
prys te gee in hierdie jaar as ek stadiger wil hol? Sal ek minder
”crave" na besittings en weelde, soos ’n swanger vrou na peanut-botter
op koolslaai? Sal ek minder oortyd werk en meer tyd aan die gesin
spandeer? Sal ek die begeerte na daardie onnodige nuwe motor op ys
sit? Maar steeds in die goedkoper woonbuurt aanbly? Sal die kinders
maar steeds na ’n gewone skool toe gaan? Of "One up" ons die kinders
al van kleins af?
Nee wat, ons ou
gesinnetjie wil dit stadiger vat. En jip, die huis kort dringende
verf! |