Ek
lees in Genesis en kom af op die verhaal van die verdelging van
Sodom en Gomorra, ’n bekende stuk wat ons van kleins af gehoor het.
Ons gebruik dit ook as ’n uitdrukking as ons na sommige plekke in
ons land verwys as Sodom en Gomorra. Ek wonder nogal watter plekke
sal dan nou gemaklik kan kwalifiseer vir die sogenaamde Sodom en
Gomorra’s van ons land. Soos jy weet het die Here moeg geword vir
die sonde van die klomp in Sodom en Gomorra en het Hy besluit om dit
te verdelg, want hulle sondes was net té groot. Presies wat al die
sondes was word nie in detail bespreek nie, maar ek en jy kan nou
bietjie redeneer hieroor en vir onsself afvra wat dan nou so erg
was. Ons sal dan sekerlik dinge uitdink wat erger is as dit wat ons
daagliks self doen, want ons is tog nie skuldig aan dieselfde
onheilige dinge nie, of hoe? Wat dink jy het in Sodom aangegaan dat
die Here so daadwerklik ingegryp het en alles vernietig het? En aan
hoeveel van hierdie dinge is ons dalk self skuldig? Wat is die norme
en standaarde in vandag se samelewing en hoeveel dinge het maar
aanvaarbaar geword met die tyd? Nou kom daar nog so ’n moedswillige
vragie by my op: is verkeerde dinge nou meer aanvaarbaar omdat Jesus
êrens tussen Genesis en 2013 aarde toe gekom en gesterf het vir ons
sondes? Het dit God, die Vader, se hart so bietjie sagter gemaak en
het Hy nou ’n sonde-filter op Sy oë sodat Hy sekere van ons sondige
dade miskyk?
Kom ons lees nou dié interessante
deel in Gen. 18 en 19 en kyk na die vraag: hoeveel regverdiges is
nodig dat die stad God se oordeel kan vryspring?
Gen. 18:20-33
Toe sê die Here: “Die geroep
teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot! Ek wil
gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot
by My gekom het, gehandel het of nie.” Die mans het weggedraai Sodom
toe, maar die Here het by Abraham bly staan. Abraham het toe nader
gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die
goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad.
Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig
regverdiges daarin nie? U sal tog nie so iets doen en die
regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog
nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter
van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Toe sê die Here:
“As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar
oor hulle.” Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het
ek gewaag om met die Here te praat. Sê nou die regverdiges is vyf
minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?” Hierop
antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar
kry nie.” Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar
veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit
nie doen nie.” Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n
keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die
Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.” Maar
Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar
twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie
verdelg nie.” Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek
wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die
Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”
Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en
Abraham het na sy plek toe teruggegaan.
Net 10 regverdiges sou goed genoeg
gewees het. Net 10! Abraham probeer onderhandel met God en begin by
50, toe 45, 40, 30, 20 en uiteindelik 10. Hy draai as’t ware die
Here se arm en die Here stem in tot by 10 regverdiges en dan sê vers
10: “Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan en
Abraham het na sy plek toe teruggegaan”. En toe vlieg die volstruis
in die windpomp in en die Here verdelg die plek, want daar was nie
eers 10 regverdiges in die dorp nie.
Gen. 19:23-29
Net toe die son opkom, het Lot in Soar aangekom. Toe het die Here
swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en
Gomorra. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle
inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is
uitgeroei. Lot se vrou het omgekyk en sy het in 'n soutpilaar
verander. Daardie oggend het Abraham vroeg opgestaan en na die plek
toe gegaan waar hy in die teenwoordigheid van die Here gestaan het.
Toe Abraham in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele
vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld trek rook op asof dit
'n steenoond is. Toe God die stede in die vlakte verdelg het waar
Lot gewoon het, het God aan Abraham gedink en vir Lot laat wegkom
uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het.
Lot en sy familie word gered, sy
vrou kyk om en verander in ’n soutpilaar. En kan jy glo, Lot en sy 2
dogters gaan bly in die berge, sy dogters maak hom dronk, slaap by
hulle eie pa en raak swanger. Hoe siek kán dit wees? Genugtig, wat
se plek was dit?
Ons leef nou in 2013 en ons kyk so
maklik neer op Sodom en Gomorra, maar ek wonder hoe lyk ons (ja,
myne ook) lewens voor die Here? Wat dink Hy as Hy afkyk op
Suid-Afrika? Behoort ons die vuur en swael vry te spring? Aborsie is
seker een van die grusaamste maniere van moordpleeg en tog is dit
deesdae aanvaarbaar, want ons het mos keuses en ons regstelsel laat
dit toe. Aborsie, moord en doodslag, korrupsie, sameswering, wit-boordjie
bedrog, plaasmoorde, korrupsie in die regering, diefstal by die werk,
versuim om jou boetes te betaal, ’n motor met omkopery deur die
toets sit, praat op jou selfoon terwyl jy bestuur, wanbetaling van
jou rekeninge, jou baas se tyd steel deur hordes e-posse rond te
stuur in werkstyd, meer en langer teebreuke te neem as wat jy
veronderstel is, afskeepwerk doen, siekteverlof neem sonder dat jy
siek is en so kan ons voortgaan met opnoem. Het jy agtergekom dat al
hierdie dinge in een sin staan? Dit begin by baba-moord (wat jou
dalk ook walg) tot by die dingetjies waaraan ons almal maar elke dag
skuldig is. Besef jy dat daar in die oë van God geen verskil is nie?
Weet jy, ek verstom my hoeveel mense skuldig is aan die wanbetaling
van hulle rekeninge. Mense gebruik die dienste van ander en betaal
dan net nie, of betaal alewig laat. Jannie móét ekstra Wiskunde
klasse kry, want hy moet matriek deurkom, maar die arme tannie wat
die klasse by haar huis aanbied sukkel haar vrek om haar geld te kry.
Mense betaal nie hulle huur nie, maar vir die rook- en drinkgoedjies
kan altyd iets afgeknyp word. Weet jy wat? Ons samelewing is niks
beter of anders as Sodom en Gomorra nie. Niks!
Abraham kom en pleit by die Here
vir die stad. Net 50, 45 en so gaan dit af tot 10. En die Here gee
toe en Hy sê: vir 10 regverdiges sal ek die stad red. Uit hierdie
boodskap lees ek vandag twee dinge wat die Here vir ons sê:
1)
Wees die Abraham wat intree vir die
land en tot God bid om sy genade. Gryp die Here vas en smeek Hom vir
Sy genade oor ons mense en ons land, sodat Hy nie sal ingryp en ons
verdelg nie. Ek glo die Here hoor elke gebed en smeekroep aan.
2) Kom
ons streef om die regverdiges te wees. Die Here sou die stad red vir
10 – hoeveel regverdiges is daar in Suid-Afrika?
Maar kan ek en jy dit durf waag om
soos Abraham te bid as ons sélf agter die deur staan? Hoe op aarde
sou dit kon werk? Kan ek en jy onsself “regverdiges” noem? Ek weet
nie van jou nie, maar ek skiet vêr te kort!
Ek dink nie ons moet onsself sus
met die gedagte dat Jesus aarde toe gekom het en betaal het vir ons
sonde en dan gaan ons nog onverskillig voortgaan om te leef soos ons
wil nie. Dan maak ons genade “cheap”. Vir die Here is hierdie tipe
lewe nié okei nie.
Kom ons verootmoedig ons voor die
Here en doen bietjie selfondersoek.
|