|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2021
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
12
April 2021
Is
jy ook lief vir 'n stukkie brood? Ek bak elke naweek van hierdie
ciabatta brode en behalwe dat dit vreeslik maklik is, smaak dit
heerlik. Jy sal ook saam met my 'n lang lys van vorme, smake en
disse van brood kan opnoem. En as jy nou die seuns van die mans wil
skei, laat jy hulle 'n braaibroodjie maak!
"Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe
staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”
Jesus het hulle geantwoord: “Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses
wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my
Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat
God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.
Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”
Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My
toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit
weer dors kry nie." (Joh. 6:31-35)
Inderdaad né, Jesus is ons stapelvoedsel, die brood wat lewe gee,
die brood wat jy elke dag kan eet, die brood wat nooit klaar raak
nie. Jy onthou hoe die brood vermeerder is en hoe duisende dit nie
kon opeet nie. So kan ek en jy ook nie die Brood wat lewe gee, klaar
eet nie. Die "dis" wat jy elke dag maak sal elke dag anders proe, en
jou resepte en idees sal nooit opraak nie, en jy sal elke dag gevoed
word. Jy hoef nooit in jou lewe weer geestelik honger te wees nie,
die spens is oorvol met nuwe kraakvars brood, elke liewe dag, en dis
daar vir jou, verniet. Geniet dit, nuttig dit, en dink elke keer wat
jy 'n stukkie brood eet aan Jesus se liggaam wat vir jou gebreek is.
En vier sommer soms so by jouself nagmaal as jy brood eet. Sommer so
by jouself, of saam met jou gesin. Dalk sommer ook as jy en 'n
vriend tydens etenstyd 'n broodjie nuttig. Wat 'n eenvoudige maaltyd
is 'n toebroodjie nie, en hoe eenvoudig is die evangelie ook nie,
selfs 'n kind kan dit verstaan. Neem daardie Brood wat lewe gee en
maak Hom jou eie. Dis elke dag vars. Geniet dit. ~ Willem Botha,
12/04/2021 |
|
“Het jy my lief?” So het Jesus drie maal vir
Petrus gevra in Joh. 21:15-17. Toe ek vandag oor dié vraag gedink
het en gewonder het wat ék sou antwoord as Jesus dit vir my sou vra,
het ek gedink dat ek, nes Petrus, dadelik sou sê: “Ja, Here, U weet
dat ek U lief het.” Dis mos logies. Dis kan mos nie anders nie. Hy
het my lief en ek het Hom lief. Hy het my eerste liefgehad en daarom
het ek Hom lief. Hy het sy lewe vir my afgelê, daarom het ek Hom
lief. Hy het al die antwoorde en die woorde wat lewe gee, daarom het
ek Hom lief. Hy ken my, daarom het ek Hom lief. Hy versorg, beskerm
en help my, daarom het ek Hom lief. Uitgemaakte saak. Daai ou-ou
liedjie sê mos: Jesus loves me, this I know... Ons sing egter
hierdie mooi versie ook by: I love Jesus, does He know? Have I ever
told Him so? Jesus loves to hear me say, that I love Him every day.
Hy wil ook uit jou mond hoor dat jy Hom lief het. Hy wil ook hoor
dat jy voor ander sê dat jy Hom lief het. En ja, ons weet tog dat
liefde nooit net lippetaal is nie. Dit moet in aksie kom. Dit moet
in dade oorgaan. Liefde sonder dade om dit te bewys is nie liefde
nie. Ek dink ons liefde vir Hom het drie fasette: volg Hom, vertrou
Hom, gehoorsaam Hom. Dit begin met ’n keuse vír Hom, dit behels ’n
neerlê van jou eie begeertes, jou eie ambisie, sodat niks
belangriker is as Hy nie, sodat jy net oë het vir Hóm. As ek Hom
lief het, kan en sal ek Hom vertrou met alles en vir alles. "Om God
lief te hê, beteken om Sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer".
(1 Joh. 5:3) As ons sê dat ons Hom lief het, moet ons doen wat Hy sê.
Dit is ongelukkig só dat as ons die Here Jesus lief het, moet ons
ook sy ander kinders liefhê, al is dit moeilik, al wil ons nie, al
soek ons allerlei verskonings om dit nié te doen nie. Petrus het
vantevore sy liefdes-toets gedop toe Hy Jesus verloën het en selfs
gevloek het en gesweer het dat hy Hom nie ken nie. En ek - hoe diep
lê my liefde? Hoe gou kwyn dit as daar moeilikheid opdaag? Hoe
maklik weier ek om ander lief te hê? Hoe gou stel ek iets anders bo
my Groot Liefde? Ongelukkig moet ek bely dat ek knaend my
liefdes-toets dop. Petrus het weer ’n kans toe Jesus hom drie maal
vra: Het jy my baie lief? “Ja, Here, U weet dat ek U lief het.”
Vanaand het ek en jy ook weer ’n kans. Wat is jou antwoord? ~ Wilna
Botha, 08/04/2021 |
|
Dankie meneer, jy is goed vir my meneer, die
Here sal jou seën meneer. Jip, vir 'n R5 kontantjie kan ek seker
wees van die Here se seën.
Ag mevrou help my groot asseblief (met 'n erg betraande gesiggie),
ek moet medisyne koop vir my kinders mevrou. Nee regtig mevrou, kyk
hier is die voorskrif mevrou, ek het regtig nog net so 'n vyftig
randjies nodig mevrou. Die Here sal jou seën mevrou. Dankie dankie,
dankie mevrou.
Jip, vir R50 kry jy blykbaar baie seën.
Ag master, ek het nog net so R30 nodig vir die taxi master, ek het
kom piece job soek vir die dag maar niks gekry nie, en die drie
kindertjies daar in Limpopo is honger master. Kyk gou hierdie
foto'tjie master , kyk hoe gehawend is hulle master! En die vrou is
weer in die ander tyd master. Daar is net 'n paar patats in die huis
master. Die Groot Man daar bo sal jou bless master. Nee master,
nooit in der ewigheid sal ek loop dop koop met hierdie geldjie nie
master, en nee master ek koop ook nie siegrets nie master, iemand by
die robot het hierdie skyf vir my gegee master. Nee genuine! Die
Here gaan jou groot seën master!
En dan die ietwat verwaarloosde vrou met die blikkie en tafeltjie
voor die Spar: Dalk iets vir ons weeskinders meneer? Die Here sal
jou seën meneer!
Ja jy ken dit, net so goed soos ek. Dis orals, en soms probeer jy op
'n manier wegvlug of net oogkontak vermy. Of spoed verminder voor
die robot om die robot groen te vang nes jy by hom is. By die robot
spring en dans 'n spannetjie met hulle wit geverfde gesigte en Coke
kaste 'n dans wat perfek ge-choreografeer is, en by die
parkeerterrein swaai al wat 'n Jan Rap en sy maat is lap.
Ai, waar los dit ons? Wat verwag die Here van my? Moet ek elke keer
help? Of soms? Of glad nie, want ek help om hierdie kanker van ons
samelewing te onderhou. 'n Klompie tekste kom by my op.
"As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie,
is dit sonde." (Jak. 4:17)
"Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toe kom, terwyl
dit in jou mag is om dit te bewys nie." (Spr. 3:27)
Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As
iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tess. 3:10)
" Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en
vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en
elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word."
(Matt. 7:7-8)
Wat is jou beleid hieroor? Ek vra weer, wat verwag die Here van jou
en my? Ek weet nie, maar as ek dalk vanaand vir jou 'n antwoord gee,
mag daar dalk volgende week 'n ander antwoord wees. Die Here sal jou
seën... ~ Willem Botha, 07/04/2021 |
|
“Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar
loop en bespreek?” (Luk. 24:17) Op die dag van Sy opstanding verskyn
Jesus aan twee dissipels wat op pad is na Emmaus. Hulle was hartseer
en ontnugter oor die veroordeling en dood van hulle Leermeester en
het oor al dié dinge wat gebeur het geloop en praat. Hulle was ook
ontsteld oor die stories dat Jesus uit die dood opgestaan het, omdat
hulle dit glad nie verstaan het nie. Jesus kom nader, stap saam met
hulle en vra: wat bespreek julle so ernstig? What are you talking
about, so sad and gloomy? (volgens The Passion Translation) Net daar
en dan pak hulle alles uit wat hulle so pla en waaroor hulle wonder
en wat hulle so somber en terneergedruk maak. Weet jy, Jesus hét
opgestaan, Hy leef en Hy val vandag ook daar langs jou in op jou
lewenspad om uit te vind waaroor jy praat, waaroor jy kla, waaroor
jy bekommerd is, wat jy nie verstaan nie, wat nie vir jou sin maak
nie, wat vir jou onmoontlik lyk. Jy kan, nes die Emmausgangers, jou
hart uitpak en uitpraat teenoor Jesus. Dan sal Hy, soos vir hulle,
die Skrif oopmaak en sy woord laat lewe kry, dan sal jy antwoorde
vind, rustigheid kry en tevredenheid ervaar. “Moenie oor dinge sit
en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit
met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat
jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan
verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan
verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy
aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.” (Fil. 4:6,
Die Boodskap) “Hulle sê toe vir mekaar: Het ons hart nie warm geword
toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het
nie?” (Luk. 24:32) ~ Wilna Botha, 06/04/2021 |
|
Ek is geen regskenner nie, maar daar is basiese
beginsels in die regstelsel wat eintlik baie logies is. Enige Jan
Rap en sy maat kan jou nie sommer van enige ding beskuldig en aankla
en daarmee wegkom nie. Jy moet getuienis het wat jou saak ondersteun
om jou punt te bewys. Een ding wat egter 'n doodsteek is vir enige
party wat iemand onskuldig wil te na kom, is as jy 'n betroubare
getuie gebruik. Ons weet egter dat die ander party sal probeer om
jou getuie in diskrediet te bring, maar as hy dit nie regkry nie,
sal jou getuie die sterkste element in jou guns wees. Hoeveel
betroubare getuies het jy nodig? Net een natuurlik!
En so staan Jesus op uit die dood en die owerhede versprei leuens
oor Hom, deur te beweer dat sy liggaam gesteel is deur die dissipels.
Die rede hoekom hulle dit so fanaties wou toesmeer, is omdat Jesus
voor baie mense gesê het dat Hy gaan opstaan, en dit sou hulle hele
rede om Hom te vervolg tot niet maak. Maar toe kom daar BAIE getuies
op die toneel.
"Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook
ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens
die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die
Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna
aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is
maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en
toe aan al die apostels." ( 1Kor.15:3-6)
Meer as vyf honderd! Goeiste man, jy het geen kans teen so baie
getuies nie! Hy het aan ander vroue verskyn, aan die twee
Emmaus-gangers en aan die dissipels. Of liewer, die 11 wat oorgebly
het nadat Judas selfmoord gepleeg het. Die owerhede het net
eenvoudig geen kans gehad met hulle leuens nie, en indien hulle so
'n saak hof toe sou neem, sou daardie saak in minute gesneuwel het.
Maar dis nie al nie, soos wat die apostels vervolg is, het hulle
gevlug en die evangelie versprei so ver as wat hulle gegaan het, en
elkeen het gesterf vir hulle saak.
Weet jy dat net Matteus en Johannes dissipels was, en nie Markus en
Lukas wat twee van die evangelies geskryf het nie? Waar pas Lukas
(die dokter) in die prentjie in? Hoekom doen hy die moeite om
hierdie dinge (leuens?) te verkondig? Kom ons laat hom self antwoord.
"Hooggeagte Teofilus! Daar is baie wat onderneem het om 'n verhaal
te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit
opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die
begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. Daarom het ek dit
ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek
en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf.
So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal
betroubaar is." (Luk. 1:1-3)
Daar het jy dit! Is dit vir jou genoeg? Nee wag, nog nie klaar nie.
Paulus, die vervolger van Christene, het op 'n totale ander vlak met
die opgestane Jesus te doen gekry op pad Damaskus toe.
"Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn. Ek is
immers die geringste van die apostels en is nie werd om 'n apostel
genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het." (1 Kor.
15:8)
Ja, dis daardie Paulus wat 13 van die 27 boeke(briewe) van die Nuwe
Testament geskryf het.
Nee geliefde owerhede, julle saak se bodem het nou heeltemal
uitgeval! Met soveel uiters betroubare getuies kan ek net luidkeels
uitroep: Hy het opgestaan, Hy het WAARLIK opgestaan! ~ Willem Botha,
05/04/2021 |
|
Ek het 'n
jaar gelede hierdie boodskap geskryf en deel dit graag weer. Die
predikant het vanoggend in die kerk die spyker op die kop geslaan
toe hy sê: die opstanding is die heel belangrikste dag op ons
kerklike kalender. Hier word jou geloof tot op die been getoets. As
jy nie in die opstanding glo nie, kan jy al die res maar los.
Die
Opstanding - en fopnuus
Ek dink jy is in hierdie tyd net so moeg vir fopnuus soos ek. Dit voel of jy net mooi niks meer kan glo wat jy lees nie en dis
ongelooflik dat mense net eenvoudig nie drie minute sal spandeer om
eers die waarheid te toets nie. Maar daar is een ding wat fopnuus
nie kan teenstaan nie en dis tyd. Met tyd word alle fopnuus ontbloot
as strooi omdat die waarheid altyd seëvier.
Nou ja, wat op aarde het hierdie negatiewe gedagte met die
Opstanding van Jesus te doen? Wel, fopnuus is stokoud en ons lees al
in die Bybel daarvan. 'n Reuse gebeurtenis vind plaas en onmiddellik
word fopnuus daaroor versprei en volgens die Bybel word dit vandag
nog versprei, en ook in die gedeelte wat jy netnou hieroor gaan lees
sal jy sien hoe korrek die Bybel is.
Maar voor ons daarby kom, kom ons lees net eers oor dít wat
plaasgevind het wat mense genoodsaak het om leuens te versprei.
Joh. 20:1-2 "Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom
Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af
weggerol is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander
dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle
het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom
nou begrawe het nie.”
Ja, Jesus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan, net soos Hy gesê
het. Regtig regtig, waarlik, vir seker, sonder twyfel, was die graf
leeg. Ons weet vandag wat alles daarna gebeur het want ons het die
feite in die Bybel. Iets wat 'n onbeskryflike wonderwerk was, was
vir ander 'n totale ramp en wat ten alle koste verswyg moes word!
Kyk, die priesterhoofde en die familiehoofde het 'n bloutjie geloop
soos nog nooit tevore nie. Toe kom hulle met 'n plan vorendag:
Fopnuus!
Matt. 28:11-15 "Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte
in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur
het. Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en
die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate 'n groot som
geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag
gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’ En as die
goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle
nie bekommerd hoef te wees nie.” Die wagte het toe die geld gevat en
gemaak soos hulle voorgesê is. Hierdie storie word tot vandag toe
onder die Jode vertel."
Kyk net hoe akkuraat stel die Bybel dit: tot vandag toe!
Maar fopnuus kon nie die toets van tyd deurstaan nie. Jesus verskyn
aan hordes mense, daar word daaroor geskryf, gepraat, gejubel en
mense kom in duisende tot geloof in Hom en die Heilige Gees word op
duisende (nee miljoene) uitgestort, tot vandag toe. Daardie fopnuus
kon net eenvoudig nie hou nie. As Hy nié opgestaan het nie, het die
hele episode wat 2000+ jare gelede afgespeel het platgeval, alles,
elke ding wat gesê is, geskryf is en gedeel is. Niks sou hou nie.
Maar ek en jy weet vandag dat Jesus leef en werk in mense se harte,
nog net soveel soos altyd. Die grootste enkele ding wat moes gebeur
rondom die kruisiging, is die opstanding. Die "fopnuus" is as leuens
ontbloot, en die waarheid seëvier! Halleluja.
Matt. 28:6(a) : "Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy
gesê het." (1953 vertaling) ~ Willem Botha, 04/04/2021 |
|
“Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?” (Joh.
13:12) So vra Jesus by die Paasfees-tafel vir sy dissipels nadat Hy
die ongewone ding gedoen het om hulle voete te was. Verstaan hulle
dat Hy gekom het om te dien, dat Hy homself nie so belangrik ag, dat
Hy nie bereid is om sy bokleed uit te trek en sy handdoek as
voorskoot om te bind en sy volgelinge se voete te was nie. Verstaan
hulle dat Hy Sy Goddelike bestaan prysgegee het om ’n mens tussen
mense te word, om die pad van vernedering, gehoorsaam enduit te loop
tot by die kruis. (soos wat ons lees in Fil. 2:6-8). As Jesus vandag
op hierdie donker, benoude, bebloede, verlate, verguisde,
verbryselde, mishandelde, deurboorde, kruisiging-Vrydag vir ons sou
vra: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”, sou jy “ja” kon
antwoord? Verstaan jy dat al die lyding en verwerping en pyn wat
Jesus moes verduur namens jóú was? Verstaan jy dat ál jou sonde daar
op die kruis op Hóm afgekom het, dat Hy gesterf het in jóú plek? Dat
Hy jou sondeskuld-rekening betaal het deur dit aan die kruis vas te
spyker? Dat Hy jou sondelas op Hóm geneem het? Verstaan jy dat jy
nou vry, vergewe, skoon en kwytgeskeld is, dat daar geen
veroordeling meer is vir jou nie, dat jy nou die reg het om God se
kind genoem te word, dat daar vir jou genesing gekom het deur Sy
wonde? Verstaan jy dat jy nou die ewige lewe het? Verstaan jy wat Hy
vir jou gedoen het en glo jy dat dit vir jóú persoonlik is? As jou
antwoord “ja” is, dan sal jy ook verstaan hoekom hierdie Vrydag ’n
“Goeie” Vrydag geword het. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor
óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes.
53:5) Verstaan jy wat Hy vir jou gedoen het? ~ Wilna Botha,
02/04/2021 |
|
Daar was drie
kruise op Golgota, daar het drie mense gehang, hulle is saam daar
vasgespyker en hulle gaan saam sterf. Al drie was skuldig aan iets
en al drie het die doodstraf gekry. Die vraag is: was al drie wel
skuldig? Was al drie skuldig bevind?
“Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met
Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen
genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig,
die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur
te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir
God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons
geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons
dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie." Verder sê hy:
"Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom." Jesus antwoord
hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees."”
(Lukas 23:32-33; 39-43)
Ek dink daar kan boeke geskryf word oor dít wat hier afspeel, en
elkeen se situasie is drasties anders as die ander twee s'n.
Die Redder:
In die middel het die Redder gehang, die Een wat ek en jy sê
onskuldig daar gehang het, maar ons maak 'n fout, Hy wás skuldig.
Eerstens skuldig daaraan dat Hy Homself 'n koning genoem het, maar
Pontius Pilatus het Hom egter tog steeds onskuldig bevind en Hom nié
ter dood veroordeel nie, die mense het dit gedoen. Die ek en jy van
hierdie wêreld. Maar Hy wás "skuldig", aan moord, owerspel, kinders
se lewens verwoes, dronkenskap, diefstal, leuens, alles waaraan jy
kan dink. Nee, Hý het niks daarvan gedoen nie, ek en jy het, en
aangesien Hy ons skuld op Hom geneem het, was hy eintlik skuldig aan
elke verfoeilike daad waarmee ons besig is, en nog sal wees. Daarom
was Hy die Redder, sodat ek en jy "onskuldig" bevind word deur die
Vader.
Die verlorene:
Dit was die een wat Hom gespot het en gesê het dat Hy Homself en vir
hulle moet red. Jy sien, daardie woorde het gespruit uit spyt vir
wat hy aangevang het, maar hy wou 'n kortpad na "redding" vat,
redding van die fisiese dood. Hy was egter verlore.
Die geredde:
Dit was die een aan die ander kant en hy het die ander een berispe
en erken dat hulle die doodstraf verdien. Dan roep hy net hierdie
enkele sin uit: “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom”.
Net dit, tien woorde en daar verander sy hele "lewe" tot in lengte
van dae. In die ewigheid saam met Jesus. Jy sien, daar is 'n reuse
verskil tussen die twee, die een was spyt en die ander een het berou
gehad. Daarom is hy gered.
Ek en jy
bevind ons by wyse van spreke op een van hierdie drie kruise.
Kan jy die Redder wees? Sekerlik nie, daardie posisie kan net deur
Jesus beklee word. Ons dink soms egter ons kan ons eie redder wees,
dis wanneer jy nie die genade aanvaar nie en jouself deur werke
probeer red. Nee, daardie kruis is nie vir jou nie en daar bly twee
oor.
Die verlorene? Wel, net jy weet self of jy al daardie laaste stap
geneem het. Ons almal is spyt oor verkeerde dinge, want jy kom in
die moeilikheid daaroor, maar dit red jou nie.
Die geredde? Ek hoop dat daardie spyt al in opregte berou oorgegaan
het, want dis al wanneer jy werklik tot die besef kom dat jy die Man
daar in die middel bitter nodig het. Dis daardie tyd wat ons ook
uitroep: “Jesus, dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom”.
Daardie versoek word NOOIT van die hand gewys nie. Drie kruise, drie
situasies, een keuse. ~ Willem Botha, 31/03/2021 |
|
“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog
geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8) Sê nou maar Jesus vra vandag
vir jou of daar nog geloof in jou hart oor is, wat sou jou antwoord
wees? Dalk kan jy sê ek het geglo toe ek ’n kind was, maar nou laat
my verstand en geleerdheid nie meer ruimte vir geloof nie. Dalk kan
jy sê ek het geglo, maar nadat my kind dood is en ek met kanker
gediagnoseer is, kan ek nie meer glo nie. Dalk kan jy sê ek het
geglo, maar nou voel die Here vêr, ek twyfel of Hy bestaan en ek kan
nie meer bid nie. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar nadat ek my werk
en my huis en al my goed verloor het twyfel ek of die Here my kan
help, my geloof is te min. Dalk kan jy sê ek het geglo, maar die
kerk en ander gelowiges het my seergemaak en my geloof vernietig. Of
dalk kan jy sê ek het geglo, maar ek het alles wat ek nodig het, ek
het hard gewerk, ek is suksesvol, ek het nie meer geloof in ’n
onsienlike God nodig nie. Die Here antwoord ons gebrek aan geloof
met nóg ’n vraag: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
(Matt. 14:31) Petrus het Jesus geglo en kon op die water loop, maar
toe hy na die storm en die omstandighede rondom hom kyk en sy oë van
Jesus afhaal, het hy gesink. Ek herinner myself vanaand daaraan om
nie te begin twyfel en soos ’n brander deur die wind heen en weer
gedryf word nie, soos wat Jak 1:6 sê. Ek herinner myself om te glo
ten spyte van omstandighede, ten spyte van hoe dinge lyk en voel en
klink, om te glo in die Here al is dit ten koste van myself,
vriendskappe of wat ook al. Onthou geloof is “om oortuig te wees
van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:2) Geloof is die
onwrikbare wete en vaste sekerheid dat die Here is wie Hy is en dat
Hy kan en sal doen wat Hy sê. “Wie tot God nader, moet glo dat Hy
bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (Heb. 11:6) Ek pleit
soos die apostels in Luk. 17:5: “Gee ons meer geloof”, of soos die
man in Mark 9:24: “Ek glo ... help my in my ongeloof.” ~ Wilna Botha,
30/03/2021 |
|
Ek het verlede jaar iets geskryf oor die
doodstraf, en dan dít wat met Jesus gebeur het, vir ons. Oor 'n paar
dae van nou af herdenk ons Goeie Vrydag, en dus Jesus se kruisiging.
My gedagtes loop elke jaar in hierdie tyd oor die verskrikking
daarvan, en hoe meer ek daaraan dink, hoe meer word ek met
dankbaarheid gevul.
Jy ken seker die term "death row", dis die aanloop na 'n gevonniste
persoon se finale teregstelling. 'n Skrikwekkende tyd waar jy die
dae, minute en sekondes aftel. In werklikheid is ons almal enige tyd
in ons lewens in dieselfde bootjie, of hoe? Maar by ons is daar geen
skande betrokke nie, en jy weet nie wanneer dit gaan gebeur nie.
En dan, die laaste aand, kan jy kies wat jy wil eet, jou laaste
maaltyd. Wat sal jy eet? Ek wonder maar net.
Dis nie lekker dinge om aan te dink nie. Dit bring my by ’n vraag:
Hoe lank het Jesus geweet Hy is op "death row"? Hy is weliswaar die
aand voor die tyd gevonnis, maar Hy moes tog al baie lank geweet het
dat dít die pad sal wees wat Hy moes loop? Het Hy dit ooit vir sy ma
en vir Josef vertel? Ons lees hoe Hy in doodsweet die aand voor sy
dood voor sy Vader neergeval het en gevra het dat daardie beker by
Hom moet verbygaan. Maar Hy moes dit sekerlik altyd geweet het, want
Hy het dit tog aan sy dissipels bekendgemaak.
Luk. 9:22 “ ... die Seun van die mens moet baie ly, deur die
familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp word, en Hy
moet doodgemaak word, en op die derde dag opgewek word.”
Volledig Mens, asof Hy nooit God was nie, volledig God, asof Hy
nooit mens was nie. Ek kan my nie indink wat deur Jesus se kop moes
gaan nie, behalwe die vrees wat elke mens op "death row" ervaar. Uit
liefde vir ander. Dis nogal iets om te herdenk, of hoe?
Wat sal jou laaste maal wees? Ek wonder maar net. ~ Willem Botha,
29/03/2021 |
|
Ek het onlangs 'n vreeslike oulike kort video
gesien waar 'n persoon 'n klomp lewenswaarhede genoem het. Ek deel
graag 'n paar van daardie punte, en ook 'n paar van my eie gedagtes
wat vir my belangrik is, met jou.
* Maak tyd vir vriende, klasmaats, vriende uit jou verlede en mense
wat jou pad kruis. Die lewe is kort en "ek sal nog" gaan dalk te
laat wees.
* Geniet jou besittings, en jou geld, of dit baie of min is, en
spandeer ietsie op jouself, jy gaan vir baie lank dood wees. Leef
soveel as moontlik in die oomblik.
* Jou kinders sal vir hulle eie welvaart sorg, moenie jouself tekort
doen om jou harde arbeid se opbrengs vir ander na te laat nie.
* Sit genoeg weg vir die toekoms sodat jy nie eendag 'n las vir
ander is nie, maar oppas dat jou raadgewer nie meer uit jou geld
verdien as wat jyself daaruit verdien nie. Die spreekwoord lui dat
dit ideaal is as daar R10 in jou rekening oor is as jy tot sterwe
kom.
* Eet gesond, eet genoeg en eet gereeld dít wat goed is vir jou
liggaam, maar moenie jou totaal van die lekker dinge ontneem nie.
Eet soms koek as jy dit kan bekostig, maar doen alles met matigheid
voor oë, maar ook ... Jy het net een liggaam en een lewe. Die drie
grootste dinge waarmee jy jou gesondheid kan verwoes, gaan deur jou
mond in. Dit is dít wat jy kou en insluk, dit wat jy insuig en dit
wat daar invloei. Jy kan selfmoord pleeg deur hierdie dinge weet jy?
Dit vat soms lank en die gevolge kan jou lewe vir jare versuur.
* Oppas wat by jou mond uitvloei. En ja, dit is woorde. Woorde wat
vloek en skel, woorde wat skinder, woorde wat jok en woorde wat
slegsê, doen jóú meer skade aan as diegene wat dit aanhoor. Woorde
wat van liefde straal, bou almal op.
* Almal gaan deur die fases van geboorte, oudword, siekte en sterwe.
Beleef siekte met optimisme en waardigheid, almal sal deur dit gaan.
* Laat die dokters toe om na jou gesondheid te kyk, maar laat God
jou lewe beheer en neem self verantwoordelik vir jou geluk en
vreugde.
* Maak betyds reg met ander, vernaam met familie, dis te laat as jy
onder die grond is.
* As bekommernis jou siektes genees, of jou lewe verleng, of jou
gelukkig maak, wees dan bekommerd en kyk of dit help. Nee, druk dit
eerder weg, statistieke bewys dat minder as 5% van dinge waaroor jy
jou bekommer, waar sal word.
* Sê meer "nee" vir jou baas as vir jou gesin. Jy kan nie weer na
daardie bulletjie-rugbywedstryd, of balletkonsert van jou kind kyk
na tien jaar nie. Wat verby is, is verby.
* Spandeer báie tyd met jou wederhelf as julle ouer word, daar gaan
eendag een wees wat alleen agterbly. Spog eerder met wat julle saam
gedoen hét, as om te vertel wat julle nog wíl doen.
* Lag gereeld, lag uitbundig, lag saam met jou wederhelf, lag vir
die lawwe politieke kaskenades, lag vir die narre wat jou lewe soms
versuur.
* Glimlag vir mense wat verby jou loop, dit sit jou én hulle in 'n
goeie bui.
* Geniet jou verhouding met God, beoefen jou Christenskap
ongekompliseerd, moenie dat ander jou verstrengel in dogma en hulle
eie gelofies en bygelofies nie, moenie dat ander jou meesleur in
hulle "openbarings" nie, en moenie dat ander laste op jou sit soos
die Fariseërs nie. Bid, lees die Skrif, meng met ander wat soos jy
glo en klets soms sommer lekker met die Here.
* Wat sal jou grafskrif eendag sê?
Myne moet lui: Hy het nie geleef om dood te gaan nie, hy het GELÉÉF
tót hy dood is. ~ Willem Botha, 24/03/2021 |
|
“Wil julle nie ook weggaan nie?” Dis wat Jesus
in Joh. 6:67 vir sy dissipels gevra het, nadat ’n klomp van sy
volgelinge omgedraai en huis toe gegaan het. Hulle het nie gehou van
wat hulle gehoor het nie. Sy lering was nie meer vir hulle opwindend
genoeg nie, dit het nie meer voordeel vir hulle ingehou nie, dalk
het hulle nie meer genoeg wondertekens gesien of genesings beleef
nie, dalk was die nuutjie vir hulle verby. Sy lering het hulle nie
“gepaai” en goed laat voel nie, inteendeel, dit het hulle voor
keuses gebring, dit het iets van hulle gevra. Jesus het gesê: “Wie
My liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe en Ek sal hom
op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (vers 54), “Daar is
party van julle wat nie in My glo nie.” (vers 64), “Skrik dit julle
af...?” (vers 61) Dit het! En hulle het omgedraai en Hom nie meer
gevolg nie. Die wêreld wil ’n “gemaklike” geloof hê wat altyd sin
maak, nie moeilike keuses het nie, min eise stel, onmiddellike
resultate het en net gladde paaie sonder opdraandes of storms het.
Het jy al êrens in jou lewe oorweeg om om te draai en nie meer vir
Jesus te volg nie? Die feit dat Jesus vir die dissipels (en vir ons)
vra: “Wil julle nie ook weggaan nie”, is ’n bewys daarvan dat Hy
niemand dwing om Hom te volg nie, dat ons altyd die keuse het of ons
Hom aanvaar en volg of nie. Ons het ’n keuse of ons bereid is om Hom
ten volle deel te maak van ons bestaan (sy liggaam te eet en sy
bloed te drink). Jesus was nie ontsteld omdat sy volgelinge Hom
verlaat het nie, Hy het dit verwag. Hy het immers van die begin af
geweet dat die poort wat na die lewe lei nou is en die pad daarheen
smal en dié wat dit kry is min. (Matt. 7:14) Dié wat Hom enduit volg,
is dié wat hulle oog op die ewige waarde van ’n verhouding met Jesus
hou en nie op tydelike, selfsugtige, sigbare dinge nie. Dié wat nie
omdraai nie is dié wat weet dat daar nêrens anders is om ware vrede
te kry nie, wat weet dat Hy die woorde het wat ewige lewe gee. Ek
hoop as Jesus vandag vir ons sou vra: “Wil julle nie ook weggaan nie?”,
ek en jy saam met Petrus onomwonde sal antwoord: “Here, na wie toe
sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en
ons weet dat U die Heilige van God is.” (Joh. 6:69) ~ Wilna Botha,
23/03/2021 |
|
Ef. 4:31-32 "Moet nooit verbitter of opvlieënd
wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen
wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en
vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het."
Hoekom is die wêreld se kwaad? Hoekom is ék so kwaad? Hoekom sê ek
so maklik ek haat? Mense, instansies, dalk die regering, belasting
betaal, mense wat klippe gooi, misdadigers...?
Ek hoop werklik, uit my hart my hart uit, dat jy beter
selfbeheersing aan die dag lê as ek. Nee ek is glad nie trots daarop
nie, en daarom vra ek dat jy hierdie sal sien as 'n belydenis. Daar
is soveel "triggers", insidente wat my vreugde in 'n oogwink verwoes.
Waar is daardie sielsalige gevoel wat jare gelede in my binneste
geheers het? Het die wêreld werklik só sleg geword? Weet jy, ek ken
natuurlik al die verskonings in die boek om hierdie optrede van my
te regverdig, maar wat bereik ek daardeur? Ek ken eintlik die
antwoord, dis omdat ek toegelaat het dat hierdie hart van vlees 'n
hart van klip geword het. Gisteraand terwyl ek vleis braai stap ek
'n draai deur die tuin en verlustig my aan ons lewensomstandighede
wat so perfek is. Gesondheid, 'n wonderlike huwelik, wonderlike
kinders, materiële oorvloed en 'n totale gebrek aan onnodige (redes
vir) spanning, maar vanoggend kom daardie snellers en dop daai
vreugdevolle gevoel binnekant buitentoe.
My gebed is dat die Here my sal help om hierdie paar woorde uit die
teks hierbo na te jaag: "Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar,
en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het." Ai,
kan dit so moeilik wees?
Ja Here, ek bid ook dat U hierdie hart van klip sal uitruk en my
weer dít maak wat U vir my bedoel het, en nie dít wat ek geword het
nie. ~ Willem Botha, 22/03/2021 |
|
“Waarom het julle sulke slegte gedagtes in
julle harte?” Ek kry só skaam om te dink dat Jesus net sowel vandag
hierdie vraag vir my kon vra. Of as enige iemand met wie ek vandag
in aanraking was dit vir my sou vra. Daar was veroordeling,
opstandigheid, negatiwiteit, spot, verwensing, ja selfs ’n bietjie
haat – en nog ’n hele klomp ander goed in my gedagtes! Matt. 15:19
vul die lysie aan: “Uit die hart kom slegte gedagtes: moord,
owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery ...”
Mens sê mos maklik: ek kan dink wat ek wil, solank ek dit nie sê of
doen nie. Die ding is net, as mens eers iets dink, beïnvloed dit jou
gesindheid en is dit nou-nou in woorde en kort voor lank word dit
dalk net dade. Die Here ken ons gedagtes, vriend. Ons kan dalk ons
gedagtes vir mekaar wegsteek, maar nie vir Hom nie. Ps. 139:2 sê hy
ken ons gedagtes nog voor dit by ons opkom! Juis hier in Matt. 9:4
sê dit Jesus het gewéét wat die skrifgeleerdes dink, daarom vra Hy
vir hulle: “Waarom het julle sulke slegte gedagtes in julle harte?”
Dis vir my nogal interessant dat Hy praat van slegte gedagtes wat in
hulle “harte” is. Ek sou wou sê die gedagtes is in my kop. Ek dink
hierdie wys net weer dat die hart eintlik die plek is waar alles
begin – goeie voornemens, vernuwing, drome, verlangens, liefde, die
wil om te vergewe begin as ’n gedagte in die hart, maar so ook elke
sonde, elke verkeerde begeerte en negatiewe emosie. Waar die hart
van vol is, loop die mond van oor, sê die Bybel. Daarom moet ons ons
harte en ons gedagtes bewaak en bewaar. As ek Jesus se vraag hoor,
weet ek dis tyd om my ou gedagtes uit te vee en my hart met nuwe
gedagtes te herprogrammeer. “Julle hart en gedagtes moet nuut word”,
sê Ef. 4:23. Hier is ’n moontlike 3-punt plan vir daai vernuwing:
laat God julle verander deur julle denke te vernuwe (Rom 12:2), neem
elke gedagte gevange en maak dit aan Christus gehoorsaam (2 Kor.
10:5), rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is (Kol 3:2). ~
Wilna Botha, 18/03/2021 |
|
Dit het die Here behaag... dat sus of so sterf.
Ek kon nog nooit verstaan hoekom mense dit op 'n begrafnisbrief
gebruik nie, en ek het dit eerder weggelaat toe my ma oorlede is.
Volgens my beteken die woord "behaag" iets soos vreugde, genot,
plesier en lekkerte. Soos wat ek saans behaaglik op die bed neerval.
Gee dit die Here dan plesier as Hy toelaat dat mense sterf? Kyk wat
staan in hierdie volgende teks in verskillende vertalings.
Ps 116:15 (1953 vertaling) "Kosbaar is in die oë van die Here die
dood van sy gunsgenote."
Ps 116:15 (1983 vertaling) "Vir die Here is die dood van sy troue
dienaars geen geringe saak nie."
Ps 116:15 (Die Boodskap) "Sy kinders is vir Hom baie werd, daarom
laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie."
Ps 116:15 (KJV) "Precious in the sight of the LORD is the death of
his saints".
Ek weet nie wat om werklik hiervan te maak nie. Wel, sterf gaan ons
sterf, dis 'n feit van die lewe, maar waar staan die Here in hierdie
prentjie? As die Here 100% betrokke is by jou lewe, is Hy sekerlik
ook 100% betrokke by jou afsterwe, en dan maak hierdie teks meer
sin. Jou en jou geliefdes se dood is geen geringe saak by God nie,
Hy oordink dit, Hy treur saam met dié wat agterbly (ek dink aan
Jesus wat gehuil het toe Lasarus dood is) en Hy laat dit soms teen
sy sin toe. Maar, ek dink ook dat Hy die dood as uitkoms gee wanneer
daar nie meer lewenskwaliteit is nie, al is daar hartseer by
geliefdes. Soms oordink ek en jy dinge wat moet gebeur, ons oorweeg
allerlei opsies, en maak dan tog 'n besluit daaroor. As die dood vir
die Here nie 'n geringe saak is nie, het Hy dit ook oordink en
oorweeg, en laat dan die ongewilde ding (in ons oë) gebeur. Ek moes
ook al dinge wat geen geringe saak is nie oorweeg, en dan 'n besluit
maak, en dan was ek dikwels nie gewild nie.
Wanneer die Here dus ons lewe tot 'n einde laat kom, is Hy tot op
die laaste asemteug by ons betrokke, en staan definitief nie apaties
teenoor dit nie. Inteendeel, Hy verwelkom jou die volgende oomblik
is sy Koninkryk by Hom. Ek dink nogal dat hierdie laaste deel Hom
sou behaag. ~ Willem Botha, 17/03/2021 |
|
“Waarom is julle bang?” (Matt. 8:26) Is dít
dalk ’n vraag wat die Here vandag vir jou en my kan vra? Is daar
bangheid in jou hart? Vrees wat jou verlam? Angs wat jou keel
toedruk en jou in koue sweet laat uitslaan? Ek lees hierdie vers in
The Passion Translation en dit sê: “Why are you gripped with fear?”
Jy ken dit dalk: omknel, vasgedruk, geklem, geboei, uitgemergel deur
vrees. Dikwels is ons bang vir die onbekende en vir dít wat met ons
kan gebeur waaroor ons geen beheer het nie – bang vir ’n ongeluk,
siekte of ramp wat op die dood kan uitloop. Dikwels is ons bang vir
verlies – bang om jou werk te verloor, of jou geld en besittings te
verloor, bang ’n verhouding kan verkrummel of bang om verwerp te
word. Dikwels is ons bang vir iets wat ons moet doen – bang vir ’n
eksamen of werksonderhoud, bang om standpunt in te neem, bang om ’n
moeilike besluit te maak. In Matt. 28 vra Jesus dié vraag vir sy
dissipels toe hulle Hom doodsbenoud wakker maak omdat hulle skuit in
’n hewige storm op die see beland het. Hulle skree: Here, red ons!
Ons vergaan. Hulle het geweet na Wie om te roep in hulle bangheid.
Hulle het geweet dis net Hy wat hulle kan red. Hy was al die tyd
dáár by hulle. As die bang jou vannag wakker hou, of jou maag op ’n
knop laat trek, hardloop na die Here in die geloof dat Hy dáár is en
dat Hy jou sal help. Roep na die Here met die sekerheid dat Hy die
wind en die see en die storm sal aanspreek en jou gemoed sal laat
stil word. Hoor vandag die Here se stem as Hy vir jou sê: “Moenie
bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, ek is jou
God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand
red Ek jou.” (Jes. 41:10) Daar in jou stresvolle oomblik, probeer
in jou geestesoog sien hoe die Here by jou is en jou aanmoedig om te
doen wat jy moet doen. Die beste raad vir vrees en bekommernis is
die wete dat jou God by jou is. Aanvaar dit in geloof. ~ Wilna Botha,
16/03/2021 |
|
Op wie sal jy vertrou as die Here nie daar was
nie? Hoe sou jou lewe wees as jy nie kon "opkyk na die berge" nie?
Teenoor wie is jy dankbaar as jy nie dankbaar is teenoor die Here
nie?
Ons is steeds in die greep van hierdie pandemie, en vele mense het
dit nie gemaak nie, maar BAIE mense het wonderbaarlik goed hiervan
afgekom.
Ek het só hieroor gedink:
As Jesus deur 'n maagd in hierdie wêreld kon kom, is niks mos vir
Hom onmoontlik nie, of hoe?
As Jesus op water kon loop, kan Hy jou keer om nie te "sink" nie, en
kan Hy jou hand vat en jou uithelp waar jy besig is om te verdrink
in jou slegte omstandighede.
As Jesus water in wyn kan verander, kan Hy vir jou wonderbaarlik
voorsien met die geringste middele.
As Jesus 'n mens se sig kon herstel met 'n bietjie modder op sy oë,
kan Hy jou op 'n bykans onmoontlike manier genees.
As die weduwee se kruik net aanhou en aanhou oorloop het, kan Hy jou
ook op 'n vlak ontmoet vêr bo jou verwagtinge.
As Jesus uit die dood kon opstaan, kan Hy jou ook opwek uit die
doodsheid wat jy dalk tans ervaar, daar waar lig ophou skyn het.
As Jesus gravitasie kon oorwin en opvaar na die hemel, voor baie
getuies, kan Hy op dieselfde manier terugkom en ons kom haal vir 'n
ewige lewe saam Hom.
As Hy die Bybel kon saamstel op 'n onbegryplike manier, kan ek en jy
dit gerus lees en krag, hoop en vreugde daaruit put. ~ Willem Botha,
15/03/2021 |
|
“Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik?” –
’n vraag wat Jesus in ’n stadium vir sy dissipels moes vra. Sonder
om te wonder waar in die Bybel dié teks staan en wat die konteks is
of wat die vrou gedoen het, dink gou bietjie waar die Here al vir
ons kon vra: waarom maak jy dit vir dié persoon moeilik? Ek weet ek
sou al by vele geleenthede met ’n mond vol tande moes staan, want ek
sou nie weet wat om die Here te antwoord nie. Ek maak dikwels dinge
vir ander mense moeilik wanneer ek te veel van hulle verwag, wanneer
ek wil hê hulle moet dink soos ek, wanneer ek hulle veroordeel en
beoordeel sonder dat ek hulle hele prentjie verstaan, wanneer ek
meerderwaardig neerkyk op hulle omdat hulle “anders” is, wanneer ek
onnodig kwaad word, wanneer ek lelike dinge vir en van hulle sê,
wanneer ek hulle niks gun nie en jaloers is op wat hulle het,
wanneer ek ongeduldig, ontoegeeflik, hard en liefdeloos is, wanneer
ek weier om genadig teenoor hulle te wees en te vergewe. Dié lys kan
nog lank word en ek is seker jy kan dalk ’n paar dinge byvoeg. Jesus
vra dié vraag in Matt. 26:10. ’n Vrou het ’n hele fles kosbare
reukolie op Jesus se kop uitgegooi. ’n Opofferende liefdesdaad. Sy
het haar beste gebring en dit aan Jesus geoffer. Sy het nie die
koste ontsien van dit wat sy vir Jesus wou aanbied nie. Sy het moed
aan die dag gelê om deur te druk met dié daad wat sy haar voorgeneem
het om te doen, al het sy dalk geweet sy gaan veroordeel word. Die
dissipels was egter verontwaardig en het haar beskuldig van
vermorsing van geld wat armes kon help. “Laat staan haar,” het Jesus
gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik?” (Mark 14:6) As mens
dié teks in Die Boodskap lees, dan sien mens bietjie meer van die
gesindheid waarmee hulle haar aangevat het: “Los haar! Waarom kraak
julle haar so af?” Ek dink die les wat ek uit hierdie vraag leer, is
dat ons elkeen ons eie unieke manier het waarop ons die Here aanbid
en ons moet mekaar die vryheid gun om dit te uit te leef. Ons moenie
verwag dat dieselfde goed vir ons almal belangrik is nie. Moenie
verwag as jý die roeping het om bv. vir armes te sorg, dat almal
dieselfde dringendheid daarvoor moet hê nie. Moenie as dit jóú gawe
is om bv. die evangelie met vreemdes te deel of vir mense te bid,
ander veroordeel wat nie die vrymoedigheid het om dit te doen nie.
Moenie as jý bv. iets goed vir iemand gedoen het ander se toewyding
aan die Here betwyfel as hulle nie sulke goeie dade doen nie. Ek het
ook besef dis belangrik om altyd my hart en motiewe te ondersoek
wanneer ek iets “vir die Here” doen. Jesus sê van dié vrou: wat sy
kon het sy gedoen, sy het ’n goeie daad aan My gedoen. M.a.w. sy het
haarself gegee sáám met die olie. Wat sy gedoen het, was ’n goeie
daad aan Jesus sélf en nie om deur mense gesien te word of mense se
goedkeuring te ontvang nie. Ek wil maar net weer die Bybelse raad
probeer volg wat sê: behandel ander mense soos julle self behandel
wil word.
~ Wilna Botha, 11/03/2021 |
|
'n Stukkie getuienis...
Ps. 121:7-8 (1953 vertaling) "Die Here sal jou bewaar vir elke
onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die Here sal jou uitgang en jou
ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid."
Ons ken hierdie deel so goed, en die opskrif in die Bybel sê: Op
pad, 'n Bedevaartslied. In die 1983 vertaling sê dit: 'n
Pelgrimslied.
Die Here sal jou uitgang en jou ingang bewaar, waar jy gaan, waar jy
is, waar jy reis, waar jy vertoef en waar jy bly.
Ons gesin het die gewoonte om saam te bid in die motor voor ons die
lang pad vat op vakansie, dan bid ons dat die Here ons op die pad
sal beskerm, dat Hy sal help dat ons nie teenspoed optel nie en dat
Hy ons huis en besittings sal beskerm. En ja, dinge gebeur, maar Hy
het ons nie noodwendig altyd téén alles beskerm nie, maar wel altyd
te midde van dinge. So vertrek ons Saterdag Tonteldoos toe (ja daar
is so plek naby Dullstroom) om nog bietjie verder te gaan delf in my
voorouers se voetspore.
Weet jy, dit maak tog net 'n verskil om hierdie dinge aan te pak
onder die Here se beloftes in die Woord, en te weet dat Hy saam met
ons reis. Ons het omtrent "bundu-bashing" gedoen om by familie se
grafte uit te kom, deur bosse baie hoër as my kop, en ek was elke
oomblik bevrees dat ek en 'n slang gaan kopstamp, maar dit het nie
gebeur nie. My dogter se vriend is allergies vir bysteek, en toe
klits 'n by hom. Vol vrees het ons hulp gesoek en gebid, en die baie
slegte grondpad met 'n spoed aangedurf, en hy is toe op die einde
okei. Op pad terug huis toe het 'n band op die motor gelol, maar ons
kon veilig by die huis kom. Na 'n naweek waar baie dinge kon
skeefloop, het ons die krag van Ps. 121 (en natuurlik vele ander
tekste) ervaar. Of nee, eerder die krag van die God van Ps. 121.
Ps. 121:7-8 (1983 vertaling) "Die Here sal jou beskerm teen alle
gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd."
In die 1953 vertaling staan "Jou siel sal Hy bewaar" en die 1983
vertaling sê: Jou léwe sal Hy beskerm. Inderdaad, Hy sal jou ingang
en jou uitgang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
~ Willem Botha, 10/03/2021 |
|
“Toe Jesus omkyk en
sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?”” (Joh.
1:38) Ek het by myself gewonder: ek volg Jesus, sê nou maar Hy kyk
vandag om en vra vir my: Wat soek jy? Wie soek jy? Wat wil jy hê?
Wat sal my antwoord wees? Wat sal jóú antwoord wees? Soek jy ’n
leermeester, iemand wat die Skrif vir jou kan uitlê en kwelvrae
oplos? Soek jy na kennis en wysheid? Soek jy dalk ’n vriend, iemand
wat jou kan help in tye van nood? Soek jy dalk vis en brood en wil
jy wonderwerke beleef? Volg jy Hom omdat almal anders dit doen of
omdat jy so groot geword het, omdat dit die “regte” ding is om te
doen? Soek jy ’n gemaklike lewe, vry van probleme en bekommernisse?
Volg jy Hom sodat Hy in al jou behoeftes kan voorsien en aan al jou
eise kan voldoen en jou gebede verhoor? Volg jy Hom dalk net uit
nuuskierigheid? Of dalk sodat jy kan kyk waar jy Hom kan “uitvang”,
soos ’n Fariseër of Skrifgeleerde? Dié twee waarvan Joh. 1:38 praat,
was volgelinge van Johannes, maar hy het na Jesus gewys en vir hulle
gesê: “dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.”
(Joh. 1:29) Toe hulle dít hoor het hulle Jesus gevolg. Volg jy Hom
omdat jy ’n Verlosser soek, Iemand wat jou sonde kan wegneem, Iemand
wat jou die ewige lewe kan gee? Soek jy God se guns en genade? Soek
jy aanvaarding en ’n nuwe geestelike familie? Volg jy Hom omdat jy
so desperaat is vir Sy aanraking soos die vrou wat net aan die soom
van sy kleed wou raak? Dié twee van Joh. 1:38 se antwoord was: waar
gaan U tuis? Miskien wou hulle nie sommer net so in die verbygaan
met Hom praat nie, hulle wou lang en diep gesprekke met Hom hê,
hulle wou in sy binnekring kom. Jesus nooi hulle uit na sy woonplek
waar hulle sommer ook kon oornag. Dit het my laat dink aan die teks
in Jak 4:8 wat sê: nader tot God en Hy sal tot julle nader. Volg Hom
en Hy sal omdraai en sê: kom bly by My! Dié twee was natuurlik die
eerste dissipels en hulle het nooit opgehou om Hom te volg nie. Om
Jesus te volg vra ’n prys, dit vra opofferings, dit vra toewyding,
dit vra deursettingsvermoë. Jesus sê self in Matt. 16:24: “As mense
my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My
te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis
na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself
wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk
beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy
beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld.” Bereken weer die koste en
besluit of jy Hom enduit sal volg en wat jou antwoord sal wees as Hy
sou vra: Wat soek jy? ~ Wilna Botha, 09/03/2021 |
|
Dis maklik om te twyfel, en dis maklik om
deurmekaar gepraat te raak deur iemand wat nie glo nie. Al wat hulle
doen is om selektief dinge uit die Bybel te kies (en daarop te hamer)
wat so bietjie "vergesog" klink. En ja, ek het al honderde kere
onder dit deurgeloop. Maar hier sit ek nou steeds as 'n gelowige, en
ek het steeds geloofsekerheid en ek glo wat die Bybel sê, al is daar
baie dinge wat ek nie verstaan nie. Kom ons speel bietjie met 'n
gedagte of drie.
Sê nou maar:
*Die skepping was nie in 6 dae afgehandel nie, maar eerder ses "tydperke".
*Daar was nie regtig 'n slang en 'n boom met 'n vrug nie.
* Daar was nie 'n groot vloed en 'n Noag met 'n ark nie.
* Daar was nie 'n groot trek deur die woestyn nie.
* Dawid het nie vir Goliat doodgegooi met 'n klip nie.
* Jona is nie deur 'n vis ingesluk nie.
* Groot weermagte is nie deur 'n paar manne van God verslaan nie.
* Job het nie geleef, alles verloor en weer alles teruggekry nie.
So kan ek aangaan. Sê nou maar hierdie was nie ware gebeure nie, en
eerder amper iets soos 'n "gelykenis" gewees. Sou my geloof skade
kry as daardie goed as slegs 'n storie ontbloot word? Nee my vriend,
dit sou nie, want my geloof in Christus is nie per definisie daarvan
alleen afhanklik nie. Soos gesê, dis hier waar die ongelowige soms
die oorhand kry. Maar daar is iets ongelooflik kragtig, waarteen dié
wat nie glo nie hulle vasloop, en dis waar die Heilige Gees werk.
Die Gees wat jou kom vol maak met iets wat nie beskryf kan word nie,
maar tog word ongelowiges reg deur die wêreld op presies dieselfde
manier getransformeer sonder Sondagskool, of kerk toe gaan.
Daar is egter dinge in die Bybel wat ononderhandelbaar is, nl.:
* Die Maagdelike geboorte.
* Jesus se wonderwerke.
* Jesus se kruisiging.
* Sy opstanding uit die dood.
* Die Hemelvaart.
* Bekering wat ons werklik totaal verander.
* Die geloof dat Hy weer kom.
Hierdie goed, sê die Bybel, kan jy net verstaan (en glo) deur die
werking van die Gees. En daardie dinge gebeur in 'n ander realm as
'n fisiese iets soos 'n ark (wat ek terloops glo bestaan het).
1Kor. 2:14 "Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie
die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit
ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." ~
Willem Botha, 08/03/2021 |
|
“Wil jy gesond word?” Wie van ons sou nie met
ons hele wese ja antwoord op dié vraag wanneer jy siek is, in pyn
verkeer, as behandeling nie vinnig genoeg help nie, as die dokter
self raadop is, as daar geen ander hulp is nie? Hoeveel te meer as
dit Jesus sélf is wat dié vraag vra. Jesus, die Groot Geneesheer,
Wonderwerker, Helper, Redder. In Joh. 5:6 vra Jesus dié vraag aan ’n
man wat al agt en dertig jaar lank siek was en elke dag by die bad
van Betesda saam met vele ander siekes gewag het op genesing. Soms
vind genesing plaas deur ’n wonderwerk, soms gebeur dit terwyl ons
bid, soms gebeur dit wanneer iemand sy hande op jou lê en jou met
olie salf, maar meestal gebeur dit deur die hulp van ’n dokter,
deur ’n operasie, dalk chemoterapie, dalk ’n inspuiting, pilletjie
of stropie, salf of pleister. Ek glo die Here wil ook hê dat ons ons
liggame moet oppas en voorsorg tref om nié siek te word nie, soos bv.
om beskikbare entstowwe te gebruik. Ek weet daar is deesdae lang
debatte en meningsverskille oor die Covid-entstowwe, maar tog
vertrou ek dat dit ’n hulpmiddel uit die Here se hand is. Hoe dit
ook al sy, alle genesing kom áltyd van die Here af, al is dit deur
medisyne of watse mediese hulp ook al. Hou daarom voortdurend jou
oog op die Een wat genees en nie die geneesmiddel nie. Ons lees
dikwels hoedat Jesus mense met die spreek van ’n woord genees het,
maar tog wel ook op ander maniere. So bv. het Hy spoeg aan die
doofstom man se tong gesmeer (Mark 7:33) of klei gemaak van spoeg en
grond om aan ’n blinde se oë te smeer (Joh. 9:6). Heel dikwels het
genesing oombliklik plaasgevind, maar tog het die tien melaatses
eers gesond geword toe hulle op pad is om hulleself aan die
priesters te wys. (Luk. 17:14) Meestal kom genesing nie in ’n
oogwink nie en vereis dit uithouvermoë en geduld van ons kant af.
Dikwels moet ons weer en weer bid en nog ’n keer pleit vir die Here
se aanraking. En ja, soms kom daar nie genesing nie. Ons ken al
almal iemand wat dood is aan kanker of Covid, ons weet almal van
iemand wat met een of ander ongeneeslike siekte saamleef. Ons
verstaan dit nie en ons kan dit nie verklaar nie, dit ís egter ’n
realiteit. Ons rus en troos lê daarin dat ons nie alleen is nie en
dat die Here se arms altyd rondom ons is ... selfs al gaan ek ook in
’n dal van doodskaduwee. Kom altyd na die Here met jou pyn – sy hart
is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien jou desperaatheid. Stort jou
hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir genesing, nog ’n keer vir
Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder
hulle gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Mag Hy dit vir jou ook doen. ~
Wilna Botha, 04/03/2021 |
|
Spr. 9:10 "Wysheid begin met die dien van die
Here; wie die Heilige ken, het werklik insig."
Salomo was 'n wyse man, en het baie oor wysheid geskryf. Jy ken
seker ook mense uit wie se monde bonatuurlike wysheid vloei, ja nie
net ou mense nie, selfs jongmense en kinders. Ek het vanmiddag
gewonder wat ek vir die Here sou vra as ek moes kies tussen welvaart
en wysheid, en baie gou het ek besef dat wysheid die mees besonderse
kwaliteit is wat mens kan hê. 'n Dwaas klink soos 'n leë blik, hy
raas so baie soos een en dwing geen respek af nie, maar 'n wyse man
kan jy onmiddellik tussen duisende ander uitken. Hoe wonderlik sou
dit wees as die regering van 'n land deur wyse mense gelei is, hoe
wonderlik sou dit wees as al jou kliënte wyse mense was, en as jou
baas 'n wyse persoon is. Daar is so baie dinge in 'n wyse persoon se
mondering ingeweef: kennis, integriteit, eerlikheid, regverdigheid
en inbors. Sê nou maar elke pa het net met wysheid opgetree, en dit
by sy kinders ingeplant. Die wêreld sou 'n beter plek wees. Jesus
het nie een woord gespreek wat nie die ene wysheid was nie. Ja, wyse
mense is nie volmaak nie, maar hulle maak 'n verskil. Kyk net wat 'n
wyse man kan vermag:
Spr. 21:22 " 'n Wyse man kan selfs 'n stad vol dapper verdedigers
oorwin en die vesting waarop hulle vertrou, laat val." ~ Willem
Botha, 03/03/2021 |
|
Gen. 1:1 "In die begin het God die hemel en die
aarde geskep."
Gen. 1:20 "Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende
wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”
Gen. 1:31 "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was
baie goed."
Wilna het nou die dag 'n pragtige stukkie geskryf oor 2 mossies vir
'n sent, en dat jy baie meer werd is. 'n Paar maande gelede het ek
geskryf oor die voëltjie wat met my gepraat het. Oftewel, ek het 'n
baie sterk boodskap gekry uit 'n insident wat ons gehad het met 'n
klein Jan Frederik. Sedertdien kry ek dag vir dag die mees kragtige
boodskappe uit hierdie pragtige skepseltjies wat die Here met soveel
sorg gemaak het, en wat vir ons soveel plesier verskaf. Hier in ons
tuin is soggens 'n vreeslike geskarrel van aktiwiteite wanneer ons
die voëls om sesuur voer. Die Here het so 'n iets van 'n klok in
hulle ingebou en hulle wag geduldig vir voertyd. Daar is 'n klompie
voerplekkies waar soggens vrugte en saadjies uitgesit word. Daar is
Wilna se platform, Thinus se restaurant, die ou platform, die huisie,
die vrugtestok en dan die nuutste toevoeging, nl. die skip. Die goed
het nou maar met tyd name gekry sodat ons weet waar om te kyk as 'n
nuwe tipe voël sy opwagting maak. Die duiwe kry op die grond kos
want hulle is effe groot. Hoe wonderlik het die Here hulle nie
gemaak nie, elkeen na sy aard, volgens die Bybel. Suikerbekkie het
onlangs die waterbottel met suikerwater ontdek, en die Here vir hom
'n lang snawel ontwerp om nektar uit plante te suig, die Jan
Frederik sit eerder op die grond, die piepklein Glasogies is ook
nuut hier en verskaf vir ons tonne vreugde want hulle is bondeltjies
energie. Toe gebeur die verstommende ding waarvoor ons so gehoop het,
die Kuifkophoutkapper begin kap aan die sisalstomp wat ons opgehang
het. Hoe weet hy dat hy dit kan doen? Wie anders as 'n Ontwerper kon
dit in hom inbou? Daar is nie veel voëls wat so huisbou nie. Gister
het Kuifkop en die Rooikophoutkapper beide aan dieselfde gat kom kap.
Ek weet nie hoekom nie. Die Here het vir die vinkie die vermoë gegee
om 'n huis te bou met grassies wat hy vleg, net met sy bek. Ek en jy
kan dit net eenvoudig nie doen nie, maak die saak hoeveel vermoëns
ons het nie. Elke kleine voëltjie, die ou groot duif en die reuse
Hadida wat so vreeslik raas kom kuier. Elkeen is anders, elkeen na
sy aard geskape, elkeen sy eie gewoontes, geluide, dieet, alles
uniek, net soos wat die Here in Genesis beskryf. Twee mossies vir 'n
sent, jy is meer werd. Elke voël, hoe hy ook al lyk is uniek en baie
spesiaal vir die Here. Die Here sê hy sal vir ons sorg, net so moet
ons ook vir die natuur sorg. 'n Bietjie saad en vrugte soggens, en
die Here skuif die gordyne oop sodat ons die meeste indrukwekkende
teateropvoering kan sien, elke dag. Kyk hoe wonderlik openbaar die
Here nie sy grootheid aan ons nie. So baie pragtige voëls, elkeen na
sy aard. Nee, nie geëvolueer uit een of ander eensellige dingetjie
nie, nee, elkeen na sy aard. Hoe wens ek ek kon vlieg, maar ek kan
nie, want dis nie wat die Here in gedagte het vir my nie, ek het 'n
ander doel. Die voëltjie maak staat op die Here se versorging, ek en
jy kan ook maar. Hoe geniet ons nie elke dag hierdie klein vlieënde
wonderwerkies nie! Dis die Here se handewerk. Elkeen na sy aard. ~
Willem Botha, 01/03/2021 |
|
“Waar is jy?” (Gen. 3:9) Dis die heel eerste
vraag wat die Here vra. Die Here soek na Adam en Eva, nie omdat Hy
nie weet waar hulle is nie, maar omdat Hy weet dat hulle vir Hom
wegkruip en Hom vermy en Hom eintlik nodig het om hulle te help. As
die Here vandag vir jou vra: Waar is jy? Waar gaan Hy jou kry? Êrens
op jou eie pad? Alleen en verlate? Op plekke waar jy nie
veronderstel is om te wees nie, waar niemand anders mag weet waar jy
is nie? Besig met verkeerde dinge? Of gaan Hy jou vind besig om jou
medemens te help, soos die barmhartige Samaritaan, of besig met jou
eerlike dagtaak soos die vissermanne langs die See van Galilea,
besig om jou gesin te versorg soos Marta, besig om Sy Woord en
liefde te deel soos Petrus? Of gaan Hy jou dalk vind langs die
sterfbed van ’n geliefde, soos Lasarus se familie, of op jou siekbed
in afwagting van ’n wonderwerk, soos die man by die bad van
Bethesda, of uitgewerp soos die besetene in Kapernaum? Of gaan Hy
jou dalk op jou knieë vind waar jy jou hand uitsteek om aan die soom
van sy kleed te raak of in ’n skare gereed sit om te luister na sy
leringe? Weet vir seker dat daar nie ’n plek is waar die Here jou
nie kan raaksien nie. Jy kan nie vir die Here wegkruip nie. Hy sal
jou altyd weer kom soek en kom haal en kom help. Hy sal 99 skape los
om jou te kom roep: waar is jy? Ons is dalk verlore, verdwaal en
skaam soos Adam en Eva oor dit wat ons aangevang het, maar hoor
vanaand dat die Here na jou kom soek en vra: My kind, waar is jy?
“Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op
na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar
lei U hand my, hou u regterhand my vas.” (Ps. 139:7-10) ~ Wilna
Botha, 25/02/2021 |
|
Ek het onlangs met 'n persoon gepraat wat
regtig totaal lewensmoeg is. Niks maak meer sin nie, hy glo die Here
kan nie lief wees vir hom nie, want hy is nie meer lief vir homself
nie. More is net nog 'n donker gat en daar is niks om voor te lewe
nie.
Hierdie is nie 'n uitsondering nie, baie mense voel waarskynlik dat
die lewe nie meer genoeg inhou om vorentoe te beur nie. Vandag wil
die Here vir jou en my uitnooi om net by Hom tot rus te kom, by
waters waar rus is.
Ps 23:2 "Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is,
lei Hy my heen."
Ek dink jy ken hierdie BAIE bekende woorde uit Ps 23 in die 1953
vertaling baie goed, en dalk laat net hierdie enkele teks vir jou
ook sommer rustig voel na 'n moeilike dag. Die wêreld van vandag is
'n harde plek, die meeste mense werk nie lekker nie, en
huistoekomtyd het soms ook sy eie uitdagings. En dan voel mens soms
jy wil net so bietjie wegvlug.
Dis die Here se uitnodiging vir jou, en dalk het jy dit nou baie
nodig. Lê so bietjie terug in Sy arms, sluit net jou kop af vir 'n
rukkie, en herinner jouself daaraan dat die Here sommer baie lief is
vir jou. Rus in sy arms en sê vir jouself : Alles gaan okei wees. ~
Willem Botha, 24/02/2021 |
|
Ons peper mos
graag die Here met vrae: Hoekom Here? Hoe lank nog? Wanneer Here?
Waar is U? Het U my vergeet? Luister u nie meer na my nie? Ek is
seker jy ken dit baie goed. Of ons vra vir mekaar of onsself vrae
oor die Here net soos Asaf in Ps. 77: Sal die Here vir altyd
verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ’n
einde gekom aan sy trou? Geld sy beloftes dan glad nie meer nie? Het
God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming
onttrek? Ek is seker jy ken dít ook maar alte goed. Al hierdie vrae
het my daaraan laat dink dat die Here sekerlik ook vrae het vir ons.
In die Bybel is daar heelwat en ek glo Hy vra daardie selfde vrae
nog steeds vir ons ook en ek is nie altyd gereed of bereid om te
antwoord nie! Ek dink bv. aan Job wat baie vrae gehad het en toe die
Here hom antwoord, toe is dit met ’n rits vrae – moeilike vrae. Lees
dit gerus vanaf Job 37. Job moes die aftog blaas en erken: “Ek is
nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer
stilbly. Ek het gepraat, maar ek kon nie ’n antwoord vind nie, ek
het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly.” (Job 39:37-38) Baie
van die Here se vrae is retoriese vrae. Die antwoord lê reeds in die
vraag, dis voor die hand liggend, Hy vra die vraag, maar verwag nie
eintlik ’n antwoord nie, Hy verwag eerder dat die vraag ons moet
laat dink en besin. Het jy al agtergekom dat Jesus baie keer vrae
wat aan Hom gevra is, met ’n teenvraag geantwoord het? Dit lyk vir
my asof Jesus met Sý vrae ons wil lei om ons harte te ondersoek, om
standpunt in te neem, om ons sondes en foute te besef, om ons te
laat terugdraai na Hom.
As mens die Evangelies lees en bedag is daarop, dan is dit opvallend
hoeveel vrae gevra word. Hulle sê in die Evangelies is daar 307 vrae
wat Jesus gevra het. Ek het dit nie getel nie, ek glo maar wat
“hulle” sê! Iets wat ek nou begin doen het, is om die Evangelies te
lees en elke keer as Jesus ’n vraag stel, dan stop ek daar en
antwoord eers die vraag asof Hy dit nóú vir my persoonlik vra. Die
meeste daarvan ís vrae wat Hy vir ons ook kan vra en wat nóú op ons
van toepassing is. As jy dalk sulke vrae in die Bybel teëkom, laat
toe dat die vraag jou ontmoet waar jy op die oomblik in jou lewe is,
waarmee jy vandag worstel, wat jy nou dadelik nodig het. Antwoord
uit jou hart uit en kyk hoe dit dalk jou ingesteldheid kan verander,
hoe dit jou siening van die Here en van mense kan beïnvloed, hoe dit
jou geloof kan versterk.
Ek het so stuk of 10 vrae uitgekies waaroor ek in die volgende dae
bietjie dieper wil dink en ietsie oor sê wanneer dit my beurt is om
hier te skryf. ~ Wilna Botha, 23/02/2021 |
|
Pred. 11:1 "Werp jou brood op die water, eendag
kry jy dit terug."
2 Kor. 9:6 "Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; wie volop
saai, sal volop oes."
Gal. 6:7(b) "Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes."
Job 4:8 "Ek het dit ondervind; dié wat onreg plant en moeilikheid
saai, oes dit ook."
Hos. 10:12 "Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle sal my liefde
oes."
Gal. 6:9 "Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as
ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel."
Spr. 14:12 & Spr. 16:25 "Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg
kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood."
Hierdie tekste het almal dieselfde strekking: wat jy saai, sal jy
maai.
Ek wil dit uit verskillende hoeke bekyk:
*Iemand met ‘n toe hand kan nie gee nie, en ook nie ontvang nie.
*Sit niks in die grond nie, en jy hoef nie tyd te mors om te probeer
oes nie. ‘n Mielie kan nie groei as jy nie saad in die grond druk
nie.
*Moet niks verwag as jy nie werk nie. (indien jy natuurlik fisies in
staat is om te werk).
*Die lewe wat jy lei, gaan vir jou ‘n opbrengs gee wat by die arbeid
pas.
Die Bybel sê hierdie dinge baie duidelik, maar haal vir 'n oomblik
die Bybel uit die prentjie uit, dan sien jy hoe waar al hierdie
dinge in elk geval is. Jy kan dit dan ook natuurlik buite verband
beskou en eindig by sogenaamde voorspoed-teologie en glo dat jy móét
terugkry OMDAT jy gee, maar ek dink dis gevaarlik, want jy gaan dalk
net probeer om van die Here rekenskap te eis omdat jy vrygewig is.
Maar... Jy sal hierdie beginsel van saai en maai orals sien. Dit
werk maar net so.
Maar kyk net gou verby die materiële opbrengste, en sien weer
hiérdie raak:
Hos. 10:12 "Ek het gesê: Saai volgens My wil, en julle sal my liefde
oes."
Sjoe, is dít nie 'n wonderlike opbrengs nie? God se liefde!
Sien egter ook hierdie volgende teks weer raak, wat twee maal in
Spreuke woord vir woord herhaal word. "Daar is ‘n lewenswyse wat vir
‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood”. Hierdie
teks hou ‘n baie groot waarskuwing in, en verwys baie ernstig na: "Wat
jy saai sal jy maai". Jy sal sterwe soos jy gelewe het, is ‘n
uitdrukking wat mens dikwels hoor.
Kom ons probeer om te alle tye goed te doen, "pay it forward",
bedien mekaar met wat jy het, saai liefde en leef meer vir ander as
vir jouself, en maai God se liefde. ~ Willem Botha, 22/02/2021 |
|
“Nuwe normaal ...” is ’n uitdrukking wat mens
deesdae nogal baie hoor. Ongelukkig nè! Ongelukkig het ons lewe en
ons gewoontes en ons vooruitsigte en ons beplanning verander soos
wat die Corona virus hom in die afgelope jaar in ons lewens kom
tuismaak het. Ek sou graag wou hê dat alles weer moet wees soos wat
dit was. Ek sou graag weer in ’n vol kerk wou sit, wou gaan fliek,
’n teateropvoering bywoon, ’n vakansie beplan, ’n familie byeenkoms
bywoon. Ek sou graag weer sonder ’n masker wou loop, nie wantrouig
kyk na iemand wat hoes nie, nie bang wees ek steek aan nie, nie
hande vol vitamiene drink vir “in geval” nie. Ja, ek verlang terug
na die “goeie ou dae”. Ek hardloop soos ’n graad-1 atleet wat
heeltyd agtertoe kyk. Ek bestuur soos iemand wat die hele tyd in sy
truspieëltjie kyk. Ek kyk terug soos Lot se vrou vir nog ’n kykie na
hoe dinge was omdat ek bang is vir die pad vorentoe. Toe lees ek:
Pred. 7:10 “Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is
nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.” Hoekom nie? Die ou dae het
ook maar hulle eie siekte en probleme en kwellinge gehad, ons het
net daarvan vergeet toe dit weer beter begin gaan het. Die ou dae
het ook maar baie foute gehad en ons het baie foute gemaak in die ou
dae. Maar nou is die ou dae verby. Ons het vandag om te lewe en te
werk en te geniet wat ons uit die Here se hand ontvang. Wat ons wel
kan onthou van die ou dae is dat die Here ons gehelp het, ons gered
het uit ons nood, ons vergewe het, ons gehelp het met ons probleme,
ons gedra het toe ons nie meer kon nie. Hy sal dit weer en weer doen.
Ek lees hierdie aanhaling: “There are better things ahead than what
we leave behind.” En ek onthou een van my 2021 woorde is juis “aanpasbaarheid”.
Pas aan by vandag se omstandighede en kyk vorentoe en verwag dat
daar iets mooi en goed in die toekoms wag en dat daar ’n punt sal
kom waar ek vir myself gaan sê: dis nou beter as wat dit was! Ek
aanvaar die teks in Jes. 43:19 as die Here se belofte vir ons vir
nóú: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te
gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad, Ek
laat in die droë wêreld riviere ontspring.” “We must let go of the
life we have planned, so as to accept the one that is waiting for
us”, sê iemand. Ons planne is nie altyd die Here se planne nie,
daarom kan ons laat gaan van wat ons beplan het en met verwagting
uitsien na wat voorlê. Die Here gaan vir ons ’n pad maak in die
woestyn. Volg Hom daardeur, bly in sy voetspore. Die Here gaan ’n
rivier laat ontspring. Volg Hom daarheen, volg Hom na die groen
weivelde van rus. “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat
agter is en strek my uit na wat voor is.” (Fil. 3:13) ~ Wilna Botha,
18/02/2021 |
|
Vasbyt
Ek gaan weer gelukkig wees, regtig. Ek gaan binnekort weer gelukkig
wees, en daar gaan 'n dag kom wat ek weer hoop het vir die toekoms,
en ek gaan weer drome droom en vir die toekoms beplan en ek gaan
weer daagliks opstaan met 'n lied in my hart. Ek gaan ook dan weer
moed hê, en boonop gaan ek weer glo en vertrou soos op 'n tyd in die
verlede. Ja, hierdie dinge gaan gou weer gebeur en dan gaan ek
heeltemal vergeet van die tyd toe ek nie so goed gevoel het nie.
Jitte, as hierdie pandemie net eers verby is sal my lewe weer 100%
klopdisselboom wees, die virus moet net verbygaan. En boonop gaan
Suid-Afrika weer vir my mooi wees en ek gaan weer lief wees vir al
die mense. Sommer gou-gou, sodra hierdie ding verby is. Nee regtig,
dit kom binnekort.
Wel, ek dink hierdie woorde beskryf nogal 'n paar mense se
gedagtegang, al besef hulle dit nie. Dis hoe dit in die lewe is, as
jy swaarkry verloor jy hoop en moed. In die weermag (ja ons wat daar
was hou nooit op om daaroor te praat nie) het jy baie dinge geleer,
maar die grootste en belangrikste element was vasbyt. Nog net 'n
paar minute met jou "buddy" en julle "kit" op jou maer skouers, dan
gaan dit weer beter. Nog net 'n paar ure van rondhardloop in die
middel van die nag, dan gaan dit weer beter, dan gaan klim jy in jou
koue bed. Nog net 6 maande dan klaar jy uit en 'n nuwe lewe begin.
Vasbyt, beter dae kom. Mense moes vasbyt in die oorlog, vasbyt met
die Groot Trek van ons voorouers, vasbyt deur resessies, vasbyt as
jy jou werk verloor het. Vasbyt vasbyt vasbyt.
Nee vriend, ons gee nie op nie, opgee is nie in ons DNA nie, al tref
die ergste ons. Ek glo jy sal met my saamstem as ek sê swaarkry maak
mens altyd 'n sterker mens. Altyd. Dit staan ook in die Bybel.
Rom. 5:3-5 "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet:
swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof,
en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God
het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy
aan ons gegee het. " ~ Willem Botha, 17/02/2021 |
|
Ek
het nou die dag so ’n wonderlike ervaring gehad. ’n Man (wat ek toe
pas ontmoet het) sit iets klein in my hand, vou my hand toe sê: gaan
lees Matt. 10 en Ps. 8, dan sal jy weet hoe spesiaal jy vir die Here
is. Ek maak my hand oop en sien ’n klein 1c-stuk. Ek ken die teks,
sê ek vir hom. Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie ... en
... wat is die mens dan dat U aan hom dink .... En net daar het ek
weer die fout gemaak wat ek baie keer maak. Ek dink ek ken mos die
verse, ek weet wat daar staan, maar ek “vergeet” dat die Woord van
God lewend en kragtig is en weer en weer met ’n mens se hart praat
en oor en oor bevestig wie God is en wat Hy doen. Gelukkig het ek
besluit om dié twee skrifgedeeltes weer aandagtig te gaan lees en
dié keer in Die Boodskap. “As ek opkyk na alles wat U in die
hemelruim gemaak het, al die planete, Melkwegstelsels en miljoene
sterre, snak ek na my asem as ek sien hoe piepklein die mens regtig
is. En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie!
Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik.” (Ps. 8:4-5)
Daai piepklein, onbenullige, sondige, ongehoorsame mensie is ek! En
dis jy! Die Here laat vaar nie die werk van sy hande nie. Hy los ons
nie alleen nie. Hy draai nooit sy rug op ons nie. Hy omhels,
vertroetel en versorg ons soos die appel van sy oog (so sê Deut.
32:10) Niks wat ek doen of nie doen, sal maak dat Hy ophou om vir my
te sorg nie. As die mens piepklein is teenoor alles in die skepping,
hoeveel te meer die mossies waarvan Matt. 10 en Luk. 12 so mooi
praat. Sal iemand ooit iets vir ’n mossie betaal? Seker nie in ons
tyd nie. Dis een van die tuinvoëltjies wat die meeste voorkom (dalk
wen duiwe in ons tuin!) Matt. 10:29 vra: is twee mossies nie vir ’n
sent te koop nie? In Luk. 12:6 is mossies selfs nóg goedkoper (of
dalk is dit op ’n koop-vier-kry-een-verniet aanbod
😊):
word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Hoe ook al, ’n
mossie is nie baie werd nie, sê die tekste, tóg word geeneen van
hulle deur God vergeet nie. Hy sorg vir hulle. Lees ook maar in
Matt. 6:25-34 hoedat die Here vir die wilde voëls sorg. Is julle nie
meer werd as hulle nie, vra vers 26? “Wat dink julle, vir wie gee
God die meeste om, vir mossies of vir julle? God gee natuurlik
duisend maal meer vir julle om.” (Matt. 10:29-30) Kan ’n mossie se
waarde aan geld gemeet word? Nee! Sal ’n mossie iets kan doen wat
die Here van plan sal laat verander? Nee! Dieselfde geld vir ons. Daar
is natuurlik ook ’n ander kant van dié muntstuk. Kan dit gebeur dat
’n kat ’n mossie vang? Kan dit gebeur dat een of ander outjie die
mossie met sy windbuks klits? Kan dit gebeur dat ’n mossie se eiers
uit die nessie val? Ja, natuurlik. Maar onthou asb. Matt. 10:29: “En
tog sal geeneen van hulle op die grond val sonder die wil van julle
Vader nie.” Dieselfde geld vir ons. As onvoorsiene dinge gebeur, as
probleme opduik, as siekte aan jou deur klop of jou baas jou inroep
met slegte nuus wéét die Here daarvan, is sy sorg steeds dáár vir
jou. Moenie bang wees nie. Jy ís kosbaar vir God. Luk. 12:6-7 (Die
Boodskap): “Wat dink julle sal iemand vir vyf mossies betaal?
Hoogstens ’n paar sent. Hulle is nie veel werd nie. Maar tog gee God
vir hulle om. Weet julle, God gee nog baie meer vir julle om. Van
kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Ja, Hy gee so baie vir
julle om dat Hy elke haar op julle elkeen se kop getel het. Moet
daarom nie bang wees nie. Julle is kosbaar vir God.” Ek het my
1c-stuk vasgeplak waar ek hom gereeld kan sien en waar ek gereeld
herinner kan word aan dié boodskap. En nou kyk ek ’n bietjie anders
na die mossies in ons tuin. ~ Wilna Botha, 16/02/2021 |
|
Dit moes iets verskriklik wees, hierdie
vloedwaters van Genesis 6. Die mense op die aarde versleg en raak
verdorwe en die Here besluit om elke mens op aarde (behalwe Noag en
sy gesin) om die lewe te bring. Elke enkele een, asook die diere en
voëls, met die uitsondering van dié wat Noag in die ark moes neem.
Nadat Noag die detail van die Here ontvang het begin hy die ark bou
van goferhout. Man, en dit was 'n GROOT skip, omtrent 30 meter
langer as 'n rugbyveld! Nou, dink jou in hierdie situasie in: jou
buurman begin bou aan hierdie monstrositeit en hy waarsku jou om
dieselfde te doen anders sterf jy. Sal jy hom dalk spot en uitlag?
Ek dink Noag was die bespotting van die plek, en mense het hom
sekerlik belaglik probeer maak, maar uiteindelik was die ark gebou (dit
was 'n reuse wonderwerk) en Noag en sy mense en diere is daarin, en
die Here het die deur toegemaak. Lees gerus die hele gedeelte in
Genesis 6. Ek glo die spottery van buite af het nog erger geraak toe
hulle almal in die ark in is. Toe begin dit drup, later het reën
geval en dalk hael ook, en toe bars die grootste storm denkbaar los,
en toe begin die mense paniekbevange raak. Ek glo die mense het op
die ark toegesak, aan die deur gehamer en selfs probeer om tot op
die dek te klim, maar dit was bykans vyf verdiepings hoog. Ek hoor
in my gedagtes die mense se angs gille en absolute paniek, en
uiteindelik het daar liggame begin ronddryf nog voordat die waters
die ark begin oplig het. Daar staan in Gen. 6:16 "... en toe het die
Here die ark agter Noag toegesluit." Die mense het sekerlik in die
bome begin opklim, tot by die hoogste toppe, maar uiteindelik het
die storm hulle daar verswelg. Die paniekgille moes verskriklik wees,
en mense het met magteloosheid toegekyk hoe hulle kinders en
geliefdes om hulle verdrink. Dalk het die Here die deur gesluit om
te keer dat Noag die mense uit jammerte sou inlaat. Almal op aarde
het gesterf!
Het mense jou al gespot omdat jy die Here glo as Hy sê daar is 'n
hel? Lag mense jou af as jy hulle waarsku oor die feit dat nie almal
hemel toe gaan nie? Kom jy ook agter dat mense die gedagte van
bekering as belaglik en onnodig beskou, want God is mos liefde? Vind
jy dit ook moeilik om, soos ek, nie soms te twyfel nie? Maak jy ook
dalk vir lang tye nie jou geloof-potlood skerp nie en raak jy ook
blasé oor die Here se waarskuwings oor bekering? Jy sien, toe daai
ark begin lig, het vele dalk probeer om gou dinge reg te maak, maar
dis was te laat. En toe sterf hulle. Dink jy mens kan spyt wees as
jy reeds gesterf het? Hoeveel mense is in die hel wat steeds nie in
God glo nie? Ek dink nie daar is één nie, want daar staan geskrywe:
"Élke knie sal buig en élke tong sal bely..."
In Lukas lees ons van Lasarus en die ryk man, waar Lasarus in die
hemel is en die ryk man verskriklik ly in die vuur van die hel, en
die ryk man roep om hulp tot vader Abraham.
Luk. 16: 25-29 "Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou
leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte? Nou gaan
dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En buitendien is daar
'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil
oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na
ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur
hom tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle
dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van
pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van
Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’"
Ek en jy het ook die wet en die profete (die geskrewe Woord en die
leraars) wat ons waarsku. Toe daai ark se deur toe is, was hy toe.
As ek en jy sterf is daardie deur toe, en jy is binne of buite. Of
jy dit glo of nie. ~ Willem Botha, 15/02/2021 |
|
As jy weet ...
So paar weke gelede is ons seun positief getoets vir COVID-19. Ons
het nogal geskrik vir die uitslag want mens weet nooit hoe dié
siekte kan verloop as mens dit eers opgedoen het nie. Genadiglik het
hy weinig simptome gehad en soos normaalweg voortgegaan, behalwe
natuurlik dat hy hom moes afsonder en vir twee weke binne moes bly
en geen kontak met ander moes hê nie. Omdat ons ’n paar dae tevore
in kontak was met mekaar het dit toe beteken dat ons óók vir ’n
tydperk moes isoleer vir ingeval ons aangesteek het en die virus
weer onwetend na iemand anders kan oordra. Ons het ook, deur die
genade en beskerming van die Here, nié siek geword nie. Hy moes ook
almal met wie hy die vorige paar dae in kontak was in kennis stel,
sodat hulle ook kon let op moontlike simptome. Nou ja, dié is nou
maar deesdae die storie van baie van ons se lewe, nè! Ek het net
besef, as hy homself nie laat toets het nie en nie geweet het dat hy
die virus het nie, sou hy homself nie eenkant gehou het nie en kon
hy ander mense siek gemaak het. En dieselfde vir ons. Omdat jy wéét
rus daar ’n verantwoordelikheid op jou om ooreenkomstig jou
inligting en kennis op te tree. Dit is mos sommer ook ’n geestelike-
en lewens-beginsel. As jy weet van iets, dan word dit as’t ware ’n
realiteit. As jy weet wat die regte ding is om te doen, dan moet jy
dit doen, anders gaan daar gevolge vir jou en vir ander mense wees.
As jy weet wat die regte keuse is om te maak, dan sou dit dom wees
om iets anders te doen. As jy weet wat verkeerd is, wat sonde is,
wat ander gaan seermaak, wat die verkeerde reaksie gaan uitlok, ens.
dan sal jy dit tog vermy, nie waar nie? “Isoleer” jou eie ek, plaas
jou verkeerde gedagtes en woorde en optrede liewers “in kwarantyn”
om sodoende verhoudings te beskerm en ander bo jouself te stel. As
jy iets weet van iemand wat niemand anders moet weet nie, “ontsmet”
liewers jou gedagtes en vee dié kennis uit, sit liewer ’n “masker”
oor jou mond, sodat jy dit nie dalk later deel en sodoende iemand se
lewe vernietig met skinderstories nie. As jy weet van iemand wat
eensaam is, siek is, met iets sukkel of in die een of ander nood is,
dan het jy kennis en inligting wat jy nie kan verontagsaam nie. As
jy iets weet wat iemand anders kan red, kan help of kan beskerm dan
moet jy dit deel. Dink ook bietjie aan die ander kant: as jy weet
dat die Here jou lief het en alles ten goede vir jou sal laat
uitwerk, as jy weet dat Sy Gees in jou is, as jy weet dat Hy altyd
by jou is en jou nooit alleen sal los nie, hoe beïnvloed dit jou
gemoedstoestand en jou hantering van jou alledaagse probleme? Ek het
in die week weer dié gedeelte gelees in 2 Kon. 6 van Elisa se slaaf
wat beangs geword het toe hy die vyand se strydwaens en perde sien.
Elisa het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is
meer as wat hulle is.” (vers 16) Toe het die Here die slaaf se oë
oopgemaak en hy het ’n ander prentjie gesien. As jy wéét die Here se
beskerming is rondom jou, as jy wéét “Die Engel van die Here slaan
sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle”, soos wat Ps.
34:8 sê, dan kan jou vrees bedaar en jou vertroue toeneem en kan jy
gemoedsrus en vrede ervaar. As jy weet ... ~ Wilna Botha, 11/02/2021 |
|
Wag wag wag
Kan jy nog wag? Soos in die ou dae. Wag vir die bus, wag vir 'n
brief in die pos, wag by die dokter se spreekkamer, wag vir die
uitslag (per pos) vir 'n werksaanbod. Wag in die ry by die bank. Kyk,
in die weermag kon jy wag, maar jy het selde geweet waarvoor jy wag!
Nee, niemand kan meer wag nie, jou selfoon is te stadig, jou
internet konneksie is te stadig, die tou in die winkel is te stadig,
alles is te stadig. Ons het nie meer geduld nie, ons kan dit nie
verdra as die ou voor jou by die robot nie onmiddellik wegspring as
dit groen word nie. Selfs ons kitskos bestelling is nie kits genoeg
nie.
Ons kan ook nie meer wag op die Here nie. As Hy nie vinnig genoeg 'n
gebed verhoor nie spring ons op Google en soek 'n gepaste vers in
die Bybel, en neem dan sommer ons eie besluit. Hoe lank het Abraham
en Sara nie gewag vir die Here om sy belofte na te kom nie? En
uiteindelik, toe hulle al moed opgegee het, vervul die Here sy
belofte. Hoe lank wag jy al vir die belofte wat die Here vir jou
gegee het? Hoe lank sal jy vashou aan 'n belofte uit die Woord
voordat jy 'n ander een gaan soek? Gaan besoek jy "profete" om God
se stem te hoor omdat Hy nie vinnig genoeg reageer nie? Of nog meer,
ons gaan soek ander antwoorde as wat ons van God verwag, dan dink
ons Hy besluit nog, maar intussen was daardie ongewilde antwoord sy
wil. Ek gebruik graag hierdie volgende gedagte: Die Here antwoord
met 'n klinkklare ja, nee, of wag. Ek dink egter ons verwag 'n
antwoord vinniger as wat McDonald's jou hamburger kan maak.
Ps. 130: "Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my,
Here, hoor tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem,
Here, wie sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom
word U steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op
Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer
as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die
Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die
verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes."
Kyk hoe mooi stel die Psalm dit: ... ek wag op die vervulling van sy
Woord.
Hoe wonderlik is die Here se Woord nie! Uit dieselfde teks kry
duisende mense verskillende antwoorde op verskillende tye op hulle
eie unieke probleme, asof elkeen voel dat dit nét vir hom geskryf
is. So getrou is die Here met sy beloftes, Hy vergeet dit nooit nie.
Al voel dit stadig vir ons, Hy is altyd op tyd. Wag nog bietjie,
dalk is jou antwoord net om die draai. ~ Willem Botha, 10/02/2021 |
|
Het
jy ook al langs ’n rivier, of op ’n berg gekom en ’n stapel klippe
gesien? Ek wonder altyd wie het die stapel begin en hoekom hou mense
aan om klippe by te pak. Dalk sit hulle ’n klip neer as simbool dat
hulle een of ander las daar onder by die rivier of bo-op die berg
los. Dalk gaan dit gepaard met ’n gebed vir iemand se nood. Dalk sit
hulle die klippe neer uit dankbaarheid vir verhoring van gebede.
Dalk sit hulle ’n klip neer om te wys dat hulle die berg “oorwin”
het. Die klipstapel op die foto het ek onlangs afgeneem bo-op die
Brandwag-rots in Golden Gate. Ek het opgeklim tot bo en ook ’n paar
klippe daar op die hoop neergesit en ek het gedink aan Dawid se vyf
klippe wat hy opgetel het toe hy voor Goliat te staan gekom het. Ek
het een neergesit en gesê: ek sal, ek kan. Net soos ek die taamlike
steil paadjie opgestap het tot bo, weet ek dat geen lewens-berg (of
Goliat) groter sal wees as die krag wat die Here vir my gee om te
volhard en tot bo deur te druk nie. Die pad tot bo-op daai lewens-berg
is steil en moeilik en jou voete kan gly, maar die Here is daar om
my hand te vat, die volgende tree vir my te wys, my op te help as ek
struikel, my selfs te dra tot bo. “Deur U goedheid het U my op ’n
veilige berg laat staan, Here.” (Ps. 30:8) Ek het ’n klip neergesit
en myself herinner om in alle omstandighede kalm te bly en by die
Here te rus, om nie na die donker wolke om my te kyk nie, maar my
fokus te hou op dié dinge wat daarbo is. Ek het geweet die
pandemie-tye wat voorlê is onseker en kan nog lank en moeilik raak,
daarom het ek ’n klip neergesit en gebid vir moed om regop te bly en
nie negatief of depressief te raak en in ’n donker hoek te gaan
wegkruip nie. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr. 18:14.
“Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Vertrou net op
God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my
swaarkry red.” (Ps. 42:6, Die Boodskap) Toe sit ek ’n klip neer en
sê vir myself: Vertrou net op God. Gee alles aan Hom oor. Sit neer
die klippe waaraan jy dra. Let go and let God... Daar op die groot
rots het ek ’n klip neergesit en bely: “Die Here is my rots, my
skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild
en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps. 18:3) en in my hart
het ek gesing: we shall not, we shall not be moved. ~ Wilna Botha,
09/02/2021 |
|
Wie sal vir die bidder bid? Wie sal die berader
beraad? Wie sal uitkyk vir die pastoor en predikant wanneer dinge
net te veel raak? Waar kan die leraars 'n gewillige oor kry as mense
hulle (en die kerk) net beskinder en sleg praat? Daar is soveel
ongelooflike, wonderlike bedienaars wat net altyd daar is, wat altyd
tyd maak, wat altyd 'n oor het om te luister, en 'n skouer het om op
te huil. Jy sien, hoe groter so iemand se hart is, hoe meer trek
hulle ander se probleme aan, en lê snags wakker daaroor. Hoeveel van
hulle val dag en nag voor die Here se voete neer en smeek dat Hy
ander sal help, maar self het hulle nie tyd om vir hulleself te bid
nie? Weet jy hoeveel leraars neem hulle eie lewens omdat dinge te
veel raak? Weet jy hoeveel beraders help mense op bonatuurlike
manier, maar het nie raad vir hulle eie sorge en probleme nie? Wie
sal daar wees vir hulle? Ek hoor van 'n dame wat vir jare mense se
berge probleme op haar skouers gedra het, maar toe self nie meer kon
nie, bykans met katastrofiese gevolge.
Eks. 17:10-13 "Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy
het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die
top van die heuwel uitgeklim. Solank Moses sy hand opgehou het, was
Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete.
Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat
en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit. Aäron en
Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop
gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan."
Ek gebruik dalk hierdie gedagte uit konteks uit, maar dit sê vir my
baie van tye waar mense ondersteuning nodig het om werk vir die Here
te doen, en ander net die steunpilaar moet wees. Weet jy wat maak my
verskriklik hartseer? Dis wanneer mense die goedheid en
groothartigheid van mense wat dien, tot hulle eie voordeel gebruik,
selfs finansieel. Ek het hierdie sêding gehoor: If you're a giver,
know your limits (to what you can give), because the takers don't
have any.
Is dit nie waar nie? ~ Willem Botha, 08/02/2021 |
|
Ek
dink toe Dawid buk om die vyfde klippie op te tel, het hy geweet dat
dié een dodelik sou wees (onthou net – die Bybel sê nie so nie, ek
“sien” dit sommerso in my geestesoog!) Dit moes die grootste,
swaarste klip wees want dit moes klaarspeel met die arrogante,
selfversekerde Filistyn wat Israel verkleineer en met vrees
gevul het. Die klip wat vir Goliat getref het, wat die oorwinning
bewerk het, wat Goliat laat val het en Israel vrede gegee het, was
“Die Rots”. “Dawid sê vir die Filistyn: Jý kom na my toe met ’n dolk
en ’n spies en ’n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die
Here die Almagtige.” (1 Sam. 17:45) Hy kom in die Naam van die Here,
die Naam bo alle name (Fil. 2:9), die Naam waardeur almal gered word
(Rom 10:13). Moses het in Eks. 3:13-14 vir die Here gevra: as hulle
vra wie het my gestuur, wat is Sy Naam, wat moet ek sê? “Ek is” het my
na julle toe gestuur, was die Here se antwoord. As Goliat vir Dawid
sou vra: wie het jou gestuur, sou Dawid kon sê: Die Rots. Die
volmaakte, finale oorwinnaars-klip. Hy sou kon sê: “Hy is die Rots,
sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die
getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar.” (Deut.
32:4). Hy sou kon sê: “... daar is geen rots soos ons God nie” (1
Sam. 2:2) Hy sou kon sê: ek kom na jou toe in die Naam van Die Rots,
my skuilplek en my redder, my skild en sterk verlosser, my veilige
vesting, my toevlug en bevryder (2 Sam. 22:2-3). Staan daar vandag
’n Goliat en grynslag voor jou? Is jy bang en bevrees? Is jou planne
op? Is jou moed weg? Wil jy oorgee? Gaan staan agter jou Rots (en
blý daar!), laat Hy vír jou veg. As jy jou Goliat pak in die Naam
van die Here, beteken dit Hý veg namens jou, beteken dit jy staan
fisies daar, maar Hy bewerk die oorwinning vir jou. Lees weer ’n
keer Dawid se woorde in Ps. 18 en kry moed om jou gevreesde Goliat
aan te pak. Ek haal ’n paar sinne aan: Van bo af het Hy sy hand
uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my
gered van my vyand wat sterk was. Hy het my in vryheid laat uitgaan.
My God gee lig as dit donker is om my. Met U hulp loop ek ’n oormag
storm. Elkeen wat by Hom skuiling soek beskerm Hy. God omgord my met
krag. Hy maak my pad voorspoedig. U regterhand het my ondersteun.
Deur U hulp het ek sterk geword. U het my ruim vastrapplek gegee. U
het my teëstanders voor my laat vlug. Die Here leef! Ek loof Hom wat
my Rots is. ~ Wilna Botha, 04/02/2021 |
|
Gen. 2:4b-5
"Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog
nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige
groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die
aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te
bewerk nie."
Reën, reën lieflike reën, val in die laning val om ons heen... Ai
bring hierdie liedjie nie ongelooflike herinneringe nie? Reën,
wonderlike, lieflike, lewegewende reën, wat gratis bykans oral oor
ons land val. Op so baie plekke het boere gebid, ons damme se vlakke
was laag, en toe skielik, maak die sluise oop. En net een Iemand het
beheer oor daardie sluise, Hy wat dit alles fyn ontwerp het.
God, die Skepper van alles, ook die skepper van reën, het daar in
Genesis 2 (die tweede skeppingsverhaal) reën laat voortkom om lewe
moontlik te maak. Kan jy reën maak? Ken jy iemand wat kan? Het ons
die formule of die toerusting, of is daar 'n handleiding wat dit
beskryf? Nee!
Job 38:25-28 "Wie het vir die stortreën 'n pad oopgekap en vir die
donderwolke hulle koers bepaal sodat dit reën in 'n land waar nie
mense is nie, in 'n woestyn waar niemand woon nie en 'n droë, dor
land deurnat word, sodat daar groen gras uitspruit? Het die reën 'n
vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?"
Hoe mooi verduidelik die Here hierdie konsep vir Job, en ons kan dit
ook verstaan en insien.
Ja, die weerpatrone is in 'n mate voorspelbaar sodat boere kan
voorberei om te plant. En ja, soms is daar droogtes, maar een of
ander tyd reën dit weer. Soos nou.
Lev. 26:3-4 “As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en
daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat
die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra." Daar is
inderdaad ook voorwaardes.
Die dwaas glo dat daar nie 'n God nodig is om reën te bring nie,
maar daardie selfde dwaas geniet die seëning van God, al bid hy nie
daarvoor nie. Die gelowige weet wat die krag van gebed is, en God
antwoord met reën wanneer die mens dit nodig het. En weet jy wat? Ek
glo die Here skep ongelooflike behae daarin as die mens uit
dankbaarheid vir Hom die eer gee. Is dit nie vir jou lekker om iets
vir iemand te gee nie? So vind Hy vreugde wanneer Hy wonderwerke
laat plaasvind, en vir die mens gee wat hy vra. Dalk is hierdie reën
wat tans val ook die Here se manier om te sê dat Hy vir ons sorg,
ten spyte van die moeilike tye waarin ons is. Hy bly in beheer. ~
Willem Botha, 03/02/2021 |
|
“Die
Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook
teen hierdie Filistyn beskerm.” (1 Sam. 17:37) Wanneer Dawid voor
Goliat te staan kom, is dit vir my duidelik dat hy sy vertroue in
die Here plaas en nie in sy slingervel of die klippies in sy sak nie
of sy eie vaardigheid nie. Dawid het geweet om nie op Saul se raad
of oorlogsklere en wapens te vertrou nie. Hy herinner homself aan
die kere in die verlede wat die Here hom gehelp het. Hy bely dat die
Here se krag in hom werk. Uit ervaring wéét hy dat die Here hom nie
alleen sal los nie. Hy weet dat hy alreeds uitgekies en gesalf is as
koning van Israel, al was Saul nog die koning. Hy het die sekerheid
dat die Gees van die Here kragtig in hom werk (1 Sam. 16:13) Ek kan
nie anders as om te dink dat een van die vyf klippies wat Dawid
opgetel het vir “vertroue” was nie. Die Here sê in Jes. 49:23 “...
wie op My vertrou word nie teleurgestel nie.” Dawid het dít ervaar
en ek wil ook vandag daai vertroue-klip optel en koester. Wat
beteken dit vir my om op die Here te vertrou? Ek dink dit vra kennis
van wie Hy is, hoe Hy oor my voel en wat Hy wil en sal en kan doen.
Dit is iets wat mens, soos Dawid, deur ervaring leer, maar beslis
ook uit ander mense se vertroue - en oorwinningsverhale en natuurlik
uit die Woord. Vertroue beteken ’n mens moet jouself bewustelik in
die Here se hande plaas en met geloof oorgee aan sy leiding en sorg.
Vertroue vra dat jy erken en aanvaar en berus dat Hy die beste weet,
dat Hy die beste vir jou in gedagte het. Vertroue kom in aksie
wanneer my eie krag en my eie kennis en my eie insig opgeraak het. Vertroue
is werklik vertroue wanneer jy nog nie die uitkoms kan sien nie,
maar steeds hoop en glo. Vertroue is nie net iets passief nie. Jy
sit nie net agteroor en wag dat die Here iets moet doen nie, nee,
soos Dawid rivier toe gegaan het en gaan klippies optel het, moet
ons iets dóén, ons moet ons kant bring. Wanneer ek daai
vertroue-klippie sien, dan wéét ek vertroue in die Here vat
bekommernis en vrees en angstigheid weg. Dan wéét ek vertroue in die
Here bring vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dan wéét ek
vertroue in die Here bring oorwinning. Dan wéét ek “... wie op My
vertrou word nie teleurgestel nie.” ~ Wilna Botha, 02/02/2021 |
|
Ek ken ook nou 'n paar mense wat aan hierdie
aaklige virus oorlede is, en hulle geliefdes het deur die bank
getuig dat die oorledenes baie lief was vir die Here en tot op die
einde aan Hom vasgehou het en gebid het vir genesing, en hulle
naasbestaandes het ook daarvoor gebid. En tog het die einde
ongevraag gekom. Dalk kan jy ook daarvan getuig. Toe 'n vriend se
dogter onlangs sterf het hy getuig dat net die Here vir hulle die
krag kon gee om deur dit te kom. Maar hoe werk dit? Jy bid en glo
vir genesing, jy proklameer dat God kan genees, jy glo met jou hele
hart dat genesing sal kom, jy verkondig dit en weier om vir die
teendeel voorsiening te maak, en dan gebeur die ergste. Hoekom hou
mense dan nie op glo nie? Ek het nog selde gesien dat mense weggaan
van die Here af as dit gebeur. Ek sien telkens dat die volgende fase
inskop, en dit is dat mense 'n ongekende nabyheid van die Here
ervaar, en soos my vriend te midde van die diepste pyn en smart
getuig dat hulle nie hierdie bitter beker sou kon drink sonder Sy
bystand en hulp nie. Die volgende fase wat ek sien is berusting,
daai gelatenheid waar mense oorgee en sê: Hy weet beter. Dis ook
waar 'n vriend eendag gesê het, ons het die vrede van God gekry wat
alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7). Ek sien dan nog fases waar
mense soveel vrae het, dan later antwoorde kry, dan meganismes
ontwikkel om te "cope" met daardie verlies, dan uitreik na ander wat
in dieselfde bootjie is. En dan, deur die bank, getuig mense dat
hulle NET liefde van die Here ervaar het, en dat NET die Here
daardie vrede kan gee, ten spyte daarvan dat pyn en smart nooit
regtig heeltemal weggaan nie.
Maar dis nooit maklik nie, en soms vat dit lank voor mense weer
begin LEWE, en soms vat dit lank om weer van daardie ashoop af te
klim. Die dood is wreed vir dié wat agterbly, en in my eie selfsug
bid ek dat ek eerder eerste moet gaan in my gesin, maar dis gelukkig
nie my keuse nie. Een ding weet ek, en dis dat dit bitter moeilik is
om hierdie pad sonder Hom te stap. Weet jy dat Jesus gehuil het toe
Lasarus dood is? Onthou jy dat Jesus diep bedroef was toe Johannes
die doper se kop afgekap is? Die dáárdie empatie wat Jesus het met
mense wat swaarkry, en Sy trane vloei sekerlik ook as Sy kinders
sterf. Soms gryp Hy met wonderwerke in, en soms nie, en al verstaan
ek dit nie is ek bereid om eerder saam met Hom te stap as sonder Hom.
Hy is die groot Geneser, Hy is die anker wat ons vashou in storms,
Hy is die fondament wat maak dat ons nie net summier omval nie en Hy
droog trane af, omvou jou in Sy sterk arms en maak die pad weer
gelyk. Hy is wie Hy sê Hy is, Hy is liefde. ~ Willem Botha,
01/02/2021 |
|
“Ek
sal gaan en teen die Filistyn gaan veg.” (1 Sam 17:32) Dalk is een
van Dawid se vyf klippies, wat hy gaan optel het om teen Goliat te
veg, sy bereidheid - “ek sal.” Niemand anders wil nie. Niemand
anders kan nie. Niemand anders sien kans nie. Maar Dawid sê: Ek sal!
Hy weet hy is sterk genoeg. Hy weet hy is nie bang nie. Die vrees
wat almal vir Goliat het, het nie op hom afgevryf nie. Hy is
toegerus met sekere vermoëns en het vertroue in homself. Lees
bietjie in 1 Sam 17:34-36 hoe hy eintlik al lankal “voorberei” was
vir hierdie geveg. Terwyl hy skape opgepas het, moes hy al ’n lam
uit ’n beer of ’n leeu se bek red. “Ek het die leeu en ook die beer
doodgeslaan en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle
word.” (vers 36). Soos wat hy in die verlede kans gesien het om ’n
leeu en ’n beer aan te pak om sy skape te red, so het hy kans gesien
om dié reus aan te pak om Israel te red. Die ander kant van die “ek
sal”-klip is “ek kan”. Is dit nie so in die lewe nie – wanneer jy
bereid is om ’n taak aan te pak, om iets moeilik te gaan doen, dalk
iets wat niemand anders wil doen nie, as jy daai gewillige tree gee,
ontvang mens dikwels buitengewone wysheid, nuwe vermoëns en gawes op
die regte tyd. As jy sê: “ek sal” gee die Here vir jou insig,
wysheid, moed en krag wat jy nodig het vir jou taak. “Die Here het
my ’n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te
doen.” (Jes. 49:5) – dit het gegeld vir Jesaja, dit het gegeld vir
Dawid en dit geld ook vir my en jou. Wees gewillig, wees bereid,
wees beskikbaar en die Here sal jou bekwaam maak vir dit wat jy moet
doen. Wanneer daar ’n moeilike “Goliat”-projek vir jou voorlê, gaan
tel vir jou ’n “ek sal”-klip op en weet dat die Gees van die Here
jou sal toerus, dat die krag en die kennis sal volg. “Ek is tot
alles in staat deur Hom wat my krag gee.” (Fil. 4:13) ~ Wilna Botha,
28/01/2021 |
|
WWJD
'n Klompie jare gelede was die "What Would Jesus Do" armbandjies
baie gewild, en dit het eenvoudig gevra hoe jy sou reageer in
ongemaklike situasies.
'n Vriend stuur vir my 'n video wat vra: Wat kry jy as jy 'n lemoen
uitdruk? Die antwoord is natuurlik voor die hand liggend, jy kry
lemoensap, want dis wat ín hom is. En toe kom die vraag: wat gebeur
as iemand of iets jou en my kassie skud? Wat kom uit jou binneste
uit? Daar kan immers niks anders uit jou kom as wat reeds daar is
nie. Kom daar woede uit? Aggressie? Haat? Of dalk liefde, sagtheid,
vrede of iets anders wat mooi is? Dalk dink jy ook nou onwillekeurig
aan die vrug van die Gees. Ek ken myself baie goed, en ek bely dat
daar nie net mooi goed uit my kom nie, ek dop daardie WWWD toets
elke dag. What Would Willem Do?
Ek as pa sal sekerlik ook eendag na my afsterwe moet pa-staan vir
die voorbeeld wat ek vir my vrou en kinders gestel het. Wat sou my
kinders antwoord as hulle in moeilike tye vra: Wat sou pa doen? En
as my vrou sou vra: Wat sou my man doen? Of 'n vriend vir wie ek
dalk 'n mentor moes wees: wat sou hierdie vriend van my doen? So sou
daar vrae kon wees van kollegas, kliënte, medegelowiges, bure,
vriende en ja, dalk selfs vyande. Die antwoord op hierdie vrae sal
wys wat my nalatenskap is, dis die dinge wat mense sal onthou en dis
die "lemoensap" in my binneste. Hoe sleg sou dit wees as daardie
antwoorde iets sou wees soos: die vuiste sou klap, hy sou na die
bottel gryp, hy sal jou uit jou skoene uit skel, hy sou jou finaal
afskryf en wegstap, hy sou die familie mishandel, hetsy emosioneel
of fisies. Ai, hierdie dinge is só die teenpool van die vrug van die
Gees. Hoe wonderlik sou dit wees as daar net liefde sou uitstroom,
soos daardie lemoensap as die lemoen uitgedruk word. Ek kan dit
ongelukkig nie sê nie, en ek voel sleg daaroor. Jy sien, as mense
blindelings agter jou sou aanloop en jou voorbeeld volg en dit goeie
vrug dra, kan ons die antwoord van WWJD kry.
Joh. 5:19b “... dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie
doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader
ook al doen, doen die Seun ook net so. "
Dít Sou Jesus Doen! ~ Willem Botha, 27/01/2021 |
|
Dawid
kon dit nie verdra dat Goliat die Israeliete so verkleineer en op
hol jaag nie. Daarom het hy homself aangemeld om iets daaraan te
doen. Van Goliat sê hy: “’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie.”
(1 Sam. 17:32) En ek dink: dáár is die tweede klippie wat Dawid in
sy slingersak dra: moed. “Moed laat ’n mens sy lyding dra...” sê Spr.
18:14. Hoe waar is dit nie. As jy moed het, sien jy kans om met die
reus voor jou te veg. As jy moed het, het jy krag om die berg voor
jou te klim. As jy moed het, het jy uithouvermoë om te beur teen die
storms van die lewe. As jy moed het, maak die onbekende jou nie
beangs en paniekerig nie. As jy moed het vlieg jy met arendsvlerke,
ontvang jy vrede wat alle verstand te bowe gaan, kry jy ongekende
wysheid, sien jy reeds die uitkoms en oorwinning in jou geestesoog.
En sê nou maar daar staan vandag ’n reus voor jou wat jou moed in
jou skoene laat sak, wat jou knieë laat swik en jou arms verlam en
jou keel laat toetrek? Hardloop na die Here toe en skep moed by Hom,
vriend. Hy sê: “Ek gee nuwe krag aan dié wat moeg is, Ek maak die
moedeloses weer vol moed.” (Jer. 31:25) In Hag. 2:4-5 is daar so ’n
mooi gedeelte oor moed. Serubbabel kry die opdrag op die tempel
herbou – ’n groot taak, ’n “Goliat” om aan te pak. Die Here sê egter
vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep en dan gee Hy vier
redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by
hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle
wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang
te wees nie. Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien
nie, omdat die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, tel
vir jou ’n moed-klip op en skryf jou naam in hierdie teks en skep
moed vir dit wat voor jou lê: “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê
die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en
julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met
die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” (Hag.
2:4) ~ Wilna Botha, 26/01/2021 |
|
Verbeel jou:
'n Dag sonder politiek en alles wat daarmee saamgaan.
'n Dag sonder misdaad.
'n Dag sonder om die woord "virus" te hoor.
'n Dag sonder werk stress.
'n Dag sonder slegte verhoudinge.
'n Dag sonder angs oor geld.
'n Dag sonder 'n nuwe pyn, of ander gesondheidsprobleme.
'n Dag sonder samesweringsteorieë.
'n Dag sonder vrees vir die toekoms.
'n Dag sonder hooploosheid omdat niks uitwerk nie.
'n Dag sonder liefdeloosheid.
'n Dag sonder 'n gejaag.
'n Dag sonder afstand of afsondering van jou geliefdes.
'n Dag sonder aanvalle op jou karakter, en om onregverdig
swartgesmeer en beskinder te word.
'n Dag sonder dood van geliefdes of vriende.
'n Dag sonder padwoede.
'n Dag sonder jaloesie.
'n Dag sonder magmalheid van die owerhede, of meerderes by die werk.
'n Dag sonder onregverdigheid.
'n Dag sonder ondraaglike moegheid.
'n Dag sonder onaangename herinneringe oor iets in jou verlede.
'n Dag sonder daardie gevoel dat swaarkry jou tot op die nippertjie
van oorgee dryf.
'n Dag wat jy nie meer dink dat die dood beter as lewe is nie.
Ja, verbeel jou dit. Daardie dag kom seker eers as jy jou kop hier
op aarde neerlê, en daarom moet ons seker maak ons eindig daar, in
die hemel, saam met die Here. Dán is die seer, swaarkry, moeilikheid,
teleurstelling en vrees vir altyd verby.
Openb. 21:4-5 Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal
daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer
wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die
troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” ~ Willem Botha, 25/01/2021 |
|
Ek
het bietjie verder gelees oor Dawid in 1 & 2 Samuel en weer gedink
oor die hele Goliat-storie en die vyf klippies wat Dawid opgetel het.
Ek het gewonder hoekom word dit pertinent genoem dat hy vyf klippies
opgetel het. Hoekom het hy vyf klippies uitgesoek as een genoeg was?
Het hy nie vertroue gehad in sy vermoë om te tref nie, dié dat hy
gesorg het vir genoeg klippe? Hy het tog as’t ware net een kans
gehad want as hy met die eerste slinger gemis het, was dit sekerlik
neusie verby met hom. Die antwoord word nie gegee nie, maar soos ek
gelees het deur 1 Sam 17, het daar vir my vyf goed uitgestaan in die
verhaal – een vir elke klippie! Ek beoog om oor die volgende paar
kere, ietsie te deel oor elke klippie – let wel, dis sommer net mý
gedagtes, niks teologies, dogmaties of eksegeties nie. Die eerste
klip is een wat ek self vandag nodig gehad het: kalmte. Saul het
gedink Dawid het hulp en beskerming nodig om teen Goliat te veg want
hy was mos jonk en onervare in vegkuns, hy was immers net ’n
skaapwagter. Daarom laat hy vir Dawid sy eie gevegsuitrusting
aantrek, maar arme Dawid kon nie eens daarmee loop nie. Hy het dit
uitgetrek en met net sy kierie in sy hand het hy rustig afgestap na
die spruit toe en vyf klippies gaan uitsoek. As mens in ’n moeilike
situasie kom is daar mos altyd ’n klomp mense gereed met húlle raad
en voorskrifte van hoe jy jou probleem moet hanteer. Hulle reken wat
vir hulle gewerk het, moet vir jou ook werk. Dis natuurlik goed en
reg so, want ons kan baie leer uit mense se ervaring en opregte raad
– verstaan mooi, ek slaan dit geensins in die wind nie, maar
partykeer kan dit ’n mens juis paniekerig laat rondhardloop agter
oplossings aan, jy gryp hier en los daar en later is jy so
deurmekaar en op-gestres jy weet nie watter kant toe nie en dan maak
jy dalk net die verkeerde besluite. Ek dink dis in sulke tye wat
mens die “geleende gevegsuitrusting” moet uittrek en net rustig raak.
Haal diep asem. Kyk objektief na die situasie. Konsentreer op die
positiewe. Moenie die slegste uitkoms van die situasie verwag nie.
Visualiseer dat alles ten goede gaan uitwerk. Rig jou gedagtes op
die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat hier rondom jou is nie,
sê Kol. 3:2. Gee gehoor aan Jesus se uitnodiging: Kom na My toe ...
en Ek sal julle rus gee (lees Luk. 11:28). Let go and let God, soos
die spreekwoord sê. Gaan dalk fisies na ’n stil plek toe ... dalk af
na die rivier toe waar jy ’n paar klippies kan optel en waar jou
gemoed kalm kan word en die Here vir jou perspektief, kalmte en
vrede kan gee. Dan kan jy, soos Dawid, rustig terugstap en jou
Goliat gaan aandurf. ~ Wilna Botha, 21/01/2021 |
|
Dit was die jaar 1982, pas nadat ek en Wilna
getroud is en in 'n woonstel in Pretoria woon, wat iemand een aand
aan die deur klop. Daardie dae was deur tot deur verkopers volop en
dit was veilig om vreemdes in jou huis toe te laat. Hierdie persoon
het Wêreldspektrum ensiklopedieë verkoop, en sy invalshoek was: het
julle kinders? Nee meneer, ons is pas getroud. Maar julle gaan seker
eendag kinders kry? Ja meneer, hopelik. Wel, jy kan nie jou kinders
die wêreld instuur sonder hierdie stel van 30 volumes nie, want
alles wat daar te wete is in en van die wêreld, is daarin opgeskryf.
En elke jaar sal 'n nuwe jaarboek beskikbaar wees om nuwe kennis in
die stel by te hou. En voorts, as daar iets is wat jy nie daarin kry
nie, stuur jy 'n brief vir ons (epos het nog nie bestaan nie), en
ons sal vir jou die inligting kry. Maar mense, julle sal sien dat
ons vir julle net die bladsynommer sal gee, want jy het dit misgekyk.
Nou ja toe!
Ek glo jou stel Wêreldspektrums is iewers in die Wendyhuis in 'n
boks (met dalk net so twee jaarboeke), en totaal nutteloos. Maar ek
moet egter sê, die kinders het pragtige take daaruit gedoen.
Nou kom ek by die Bybel en ek sit so en wonder oor die Bybel se
inhoud, die kennis wat daarin opgeteken is, en ek wonder hoekom het
die Bybel nie dieselfde pad gestap nie. Of het dit?
Oor 'n tydperk van 1600 jaar geskryf, meer as 40 skrywers, in drie
tale en op drie kontinente. En in die jaar 397 na Christus word die
Bybel saamgestel soos ons hom vandag ken: apokriewe boeke uitgelaat
en die inhoud wat ons vandag sien word saamgestel, insluitende die
volgorde soos ons dit ken. Hoekom bly die Bybel dan staande? Het die
kennis wat ons daar van lees nie ook irrelevant geraak soos die
Wêreldspektrum nie? Is dit nie oudmodies en uitgedien nie? Hoekom
dit hoegenaamd nog lees? Laat mens nogal dink of hoe?
Wel, ek het daardie vraag vir myself as volg geantwoord. Die inhoud
van die Bybel is vas, God is wie Hy is en dis vas, daar hoef niks
weggelaat of bygevoeg te word nie, maar tog bly dit nuut, tog is jy
dikwels verstom oor hoe relevant die Bybel vandag is en bly. Hoe
werk dit? Ek dink die antwoord lê daarin dat die Here bykans elke
dag nuwe dinge aan jou openbaar uit daardie "stokou" Boek. Jy kan 'n
teks lees wat jy al 'n honderd keer gelees het, en dis VANDAG vir
jou nuut. Wanneer die Here vir jou 'n spesifieke boodskap wil gee,
laat Hy nie 'n nuwe "jaarboek" skryf om die Bybel aan te vul nie. Hy
gebruik daardie "ou" Boek, en maak dit splinternuut, vir jóú, vir
vandag, vir jóú omstandighede. 66 boeke in die Bybel is genoeg, dit
dek alles wat gedek moet word, dis allesomvattend, en dit bly waar.
Elke dag. Dus, al het jy die Bybel hoeveel keer deurgelees, sal daar
elke keer meer inligting en kennis aan jou geopenbaar word, hetsy
deur dit net te lees, of ander mense wat die nodige insig het wat
dit met jou deel.
As jy nou die Wêreldspektrum ensiklopedieë lees, is dit oud,
vervelig, meesal inligting wat nie meer van toepassing is nie, en
dus so effe nutteloos. As jy die Bybel lees is dit vars, relevant en
het GROOT waarde.
2 Tim. 3:16 "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot
waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry,
verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek." ~ Willem
Botha, 20/01/2021 |
|
In die Ou Testament lees ons hoedat die
Filistyne en die Israeliete gedurig aan die veg was om dit uit te
spook vir mag en eer en beheer. In 1 Sam 17 lees ons van een so ’n
episode. Dié keer het die Filistyne al hulle vertroue op hulle
baasvegter, Goliat, gesit. Hy was 3 meter lank, gepantser met ’n
bronshelm op sy kop, ’n sewe en vyftig kilogram harnas met skubbe,
bronsskerms voor sy bene en ’n bronsswaard oor sy skouer. Die steel
van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel en die
ysterlem daarvan was sewe kilogram. Dit was vreesaanjaend! En hy was
arrogant en uitdagend. Vir veertig dae lank het hy elke dag teenoor
die Israeliete gaan staan en hulle verkleineer en uitgedaag. En die
Israeliete het geskrik, hulle was mismoedig en bang en het vir hom
gevlug. Stop nou net hier vir ’n oomblik en dink bietjie oor jou
lewe vandag: wat is daar wat jou só bang, mismoedig, moedeloos,
vreesagtig, verneder, verkleineer en oorweldig laat voel? Watter
Goliat staan nou al vir 40 dae (of langer) voor jou en bedreig jou,
spot jou of lag jou uit? Dalk is dit die Corona-pandemie of ’n ander
siekte. Dalk jou finansies of bekommernisse oor jou kinders en hulle
toekoms. Dalk depressie of donker gedagtes. Dalk verslawing of ’n
swak selfbeeld. Dalk mishandeling of misbruik. Dalk boelies, slegte
verhoudings of ’n egskeiding. Dalk politieke kwellinge of skelms.
Dalk slegte nuus. Dalk is dit nou tyd dat die Dawid binne jou
opstaan, rivier toe stap en vyf klippies optel en met vertroue
verklaar: “Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan
verslaan en jou kop van jou lyf afkap.” (1 Sam 17:46) Vandag - nou,
hierdie week, hierdie jaar, binnekort. Sal – dit is ’n gegewe feit.
Die Here - Hy kan, niks is vir Hom onmoontlik nie. Ek kan – wanneer
ek swak is, is ek sterk want God se krag werk in my. Jou verslaan –
oorwin, oorkom, verbreek die greep. Mag die Here ons hiermee help.
Mag Sy vrede van ons besit neem. ~ Wilna Botha, 19/01/2021 |
|
Daar is baie vrae in my gemoed. Ek kom egter
agter dat ek skuldig voel om my moeilike vrae vir die Here te vra,
so asof ek eerder nie as 'n swakkeling wil oorkom nie. Ek het dan
soveel geloof, ek glo dan dat die Here altyd in beheer is en ek durf
Hom nie bevraagteken nie, maar as ek deesdae na die lewe om my kyk
wil wil my kop neig na onsekerheid toe. Ek het vandag nogal so effe
geworstel met negatiewe gedagtes en ek wonder hoekom dit voel of my
vreugde gesteel word deur een of ander onsigbare vyand. Toe besef ek,
ek is ge-"ground", soos 'n vliegtuig. Ek kry nie opgestyg nie en dit
voel of my wiele aan die aanloopbaan vassit.
Hier is 'n storie agter die gevliegery, soos in rêrig rêrig. Ek het
al vir baie jare, male sonder tal, gedroom ek kan vlieg, regtig meer
kere as wat ek kan tel. Soms sou ek my voete oplig en net begin
sweef, en as gevare dreig vlieg ek eenvoudig daarvoor weg. Ek het
ALTYD gedroom ek is die enigste wat dit kan doen, en almal was altyd
verwonderd oor hierdie bonatuurlike vermoë wat ek het. Soms kon ek
net in die lug spring en so hoog opstyg as wat ek wil, en dis die
mees ongelooflike gevoel van vryheid en oorwinning. Maar tans sit ek
op die grond vas, en ek het besef dat daar deesdae te veel
onsekerheid in die lug hang, en dis dalk hoekom ek nie 'n aks kan
beweeg in my drome nie. Ek verlang so na hierdie heerlike ligte
gevoel wat ek gehad het as ek dit droom, maar dit wil net nie gebeur
nie.
Vandag het ek myself egter weer herinner aan iets wat iemand eendag
vir my gesê het, en ek het die volgende boodskap destyds op Heuning
se dagstukkies geplaas. Dit het vandag vir my weer bietjie
perspektief gegee, en ek deel dit graag weer met jou.
En tog skyn de son.
Ek loop 'n paar dae gelede een van my kliënte raak en ons praat oor
die sukkelende ekonomie en die onsekerheid oor alles wat in die land
gebeur en hy sê : Ons Belge het die spreekwoord "En tog skyn de
son". Is dit nie waar nie? Ten spyte van alles, hoe moeilik ookal,
skyn die son steeds oor ons almal.
Dis soveel te meer waar as ons weet wie ons bron van lig en krag is.
Jes. 60 :20 "Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie
en word nie dof nie. Die Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae
van smart is verby."
Tog skyn de son... Die Here jou God sal jou pad verlig, die warmte
wees in koue tye, Hy sal sorg dat jy nie struikel oor die klippe op
die pad nie, Sy warm strale sal jou toevou en jou koester en beskerm.
~ Willem Botha, 18/01/2021 |
|
Jy het seker ook
die afgelope week of twee baie seënwense ontvang en uitgespreek – (ek
nog meer, want ek het boonop nog verjaar ook!). Ons het seënwense
oor mekaar uitgespreek vir ’n nuwe jaar, gebede dat die Here sy
goedheid en guns en genade oor ons sal uitstort. Ons het dít nou
meer as ooit nodig, nie waar nie. Ps. 115:12 is vir my baie kosbaar:
“Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein
en groot”. Hy dink aan ons! Dís die seën wat ons nodig het! Nie
noodwendig om goeie gawes uit sy hand te ontvang nie, nie noodwendig
dat alle slegte goed van ons weerhou sal word nie, nie noodwendig
dat ons lewenspad net glad en met rose besaai sal wees nie, nie
noodwendig dat ons nie hartseertye sal beleef nie, maar dat ons in
Sy gedagtes is. As die Here aan ons dink, weet ek dat ek goeie
dinge sal ontvang al verdien ek dit nie nie, weet ek dat niks wat
met my gebeur vir Hom ’n verrassing is nie, weet ek dat die hare op
my kop getel is, weet ek dat Hy groter is as enige probleem wat mag
opduik, weet ek dat Hy my trane sal afdroog, dat Hy my sal regop hou
al voel dit of my knieë knak en my voete gly, weet ek dat ek tot
alles in staat is, weet ek dat niks my van Sy liefde kan skei nie.
Die Here dink aan jou, vriend en Hy seën jou. ~ Wilna Botha,
14/01/2021 |
|
Jona-sindroom
Ai, dié Jona was 'n koddige knaap, gaan lees gerus die 4 hoofstukke
van Jona. Die Here stuur hom vir 'n taak, hy besluit om weg te vlug
van die Here af en beland op 'n skip, waar hy oorboord gegooi word
omdat die boot amper in 'n storm vergaan het. Dan stuur die Here 'n
vis (ja regtig) wat hom insluk en op die land uitspoeg. Dan doen Hy
tóg waarvoor hy gestuur is, die Here red Nineve en dan is Jona kwaad
en gaan bou 'n skuiling. Die Here laat 'n komkommerplant opkom wat
weer die volgende dag verdroog, en dan wil hy kwansuis eerder sterf.
Hy is kwaad, g'n mens weet hoe hoekom nie, die Here weet ook nie,
aldus hoofstuk 4. Maar vroeër, in Jona 2, nadat die Here hom gered
het, besing Hy die Here se eer met 'n wonderlike loflied.
Jona 2:2 - 10 Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy
God. Jona het gesê: “In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy
het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U,
Here, het my gehoor. U het my die diepte in gegooi, diep in die see,
en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.
Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u
heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water
het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by
die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit.
Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan,
het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige
tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde
aan hulle betoon. Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer
bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.
Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland
uitgespoeg."
Maar o wee, in hoofstuk 4 is hy kwaad, soos ek soms, en dalk jy ook.
Ja Jona, skuif bietjie op man, ek soek ook 'n sitplek onder daai
plant, want ek is ook lus vir kla. Skuif ver op man, ons is baie wat
moet sit kry langs jou. Ek en 'n klompie vriende, nee, ons hele dorp,
nee nee skuif verder, ons hele land moet in. Nee Jona NÓG, ons hele
wêreld soek 'n kla-plekkie!
Ai, eendag is die Here SO goed, en die volgende dag stel Hy teleur.
Die Here red ons vandag van iets erg, ons is baie bly, more is dit
vergete, dan kla ons.
Op die oomblik hang daar so 'n swaar donker kombers oor ons, almal
is onseker, vele mense is ongelukkig, daar is min vreugde in die
lug, die jaar lyk nie te goed nie, en "doom and gloom" is aan die
orde van die dag. Nou klink hierdie storie van Jona nogal bekend.
Verlede jaar, wat nie 'n goeie jaar was vir baie mense nie, het die
Here ons bygestaan, wonderwerke het gebeur en ons was vreeslik
dankbaar vir die genade van 2020, maar nou sit ons weer soos Jona
onder daai komkommerplant. En kla! Ja ek ook. En net soos Jona,
vergeet ons dat die Here die spreekwoordelike vis vir ons gestuur
het om ons te red. Hoe jammer is dit dat ons geheue so kort is! Hoe
sleg is dit nie dat ons die Here STEEDS nie ten volle vertrou nie.
Sy "track record" is so goed, Sy uitkoms so getrou, en ja selfs toe
die ergste gebeur, het Hy 'n komkommerplant laat opkom waaronder ons
kon skuil. Die komkommerplant gaan dalk verdroog, dan kom daar 'n
nuwe een op, dit was nog altyd so. Kom ons onthou die tye onder op
die seebodem, kom ons onthou die wonderwerke, en kom ons loof Hom en
vertrou Hom. Volgende jaar het sy eie woestyne, en die jare daarop
ook, maar daar sal altyd komkommerplante wees. Daar was nog altyd.
Wie anders as die Here kan SO vertrou word? ~ Willem Botha,
13/01/2021 |
|
Aangesien
dit my eerste Heuning-skrywe is vir 2021, wil ek darem ook net vir
almal ’n mooi jaar toebid en vars genade en nuwe hoop vir ons almal
vra by die Here. Aan die einde van 2020 het ek baie mense se
nabetragting en terugskouing oor die jaar gesien en gehoor en dit
was deurspek met woorde soos: vreemd, uitdagend, veeleisend,
vreesaanjaend, moeilik, onstuimig, teleurstellend ens. Ons sou
graag daai woorde in 2020 wou agterlaat nè, maar realisties gesproke
weet ons hulle gaan ongelukkig saam in 2021 in. Ek het my voorgeneem
om egter nie toe te laat dat daai negatiewe, vrees-woorde my gaan
beheer in 2021 nie, daarom het ek vir my 4 nuwe woorde gekies om my
te help positief bly, my gedagtes te fokus op dié Een wat groter,
sterker en beter is as enige iets, om my hulp te soek by dié Een wat
alles ten goede sal laat meewerk. My 2021 woorde is: gerus, tevrede,
vasberade, aanpasbaar. GERUS: As Jesus in Matt. 11:28 sê kom na My
toe, Ek gee rus, dan weet ek ek kan as’t ware terugleun in sy arms
vanwaar ek kan asemskep en dinge in perspektief kan sien. Die woord
sê julle krag lê in stil wees en vertroue hê (sien Jes. 30:15) en
dis presies wat ek wil doen – nie arms swaai en hard skree en
protesteer oor die omstandighede nie, maar stilweg bid en hoop en
vertrou. Wees stil en weet... TEVREDE: Ek gaan werk daaraan om
tevrede te wees met dít wat die Here vir my uitgemeet het – hetsy
goed of sleg, maklik of moeilik, want wanneer ek tevrede is, sal Sý
vrede oor my hart en gedagtes kom waghou. “En die vrede van God wat
alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag
hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:7) VASBERADE: Ek hoor dat die Here
vir my sê, soos vir Josua: Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik
nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral
waar jy gaan. (Jos. 1:9) Ek sal die groter prentjie, die wenpaal
voor oë hou en vasbyt en deurdruk. Ek sal die Here se hand vashou en
vasstaan. AANPASBAAR: Ek gaan bereid wees om aanpasbaar en buigsaam
te wees. As dinge gebeur waaraan ek niks kan doen nie, sal ek berus
en aanvaar. As dinge anders verloop as wat ek gehoop en gedroom en
beplan het, sal ek my verwagting aanpas, sal ek my doelwitte op ys
sit en kyk of die Here nie dalk vir my ’n hoër plan, ’n dieper doel,
’n nuwe droom het nie. “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op
die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die
woestyn 'n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” (Jes.
43:19) Dis dag 12 van die nuwe jaar en ek het alreeds gesukkel met
my vier woorde, maar hulle staan hier op my bordjie voor my – hulle
herinner my en ek sal aanhou probeer ... ~ Wilna Botha, 12/01/2021 |
|
Hy is orals, absoluut orals, hy skuil in jou
huis, in jou kamer, in die televisie, die fliek, in jou
langspeelplate, hy kom maak selfs 'n draai by jou daar waar jy in
die kerk sit, hy skuil in dinge wat jy op jou mure hang, selfs in 'n
lappie wat jou oumagrootjie gehekel het in die jaar toet. Deesdae
skuil hy selfs in selfoontegnologie, in 'n spuitnaald met entstof,
en ja blykbaar ook in karate.
Nou ja, jy is seker net so verward oor hierdie goed soos ek. Ek
praat natuurlik van die bose, ook genoem die duiwel en natuurlik sy
mees bekende en gevreesde naam: Satan.
Ek voel egter om my stelling anders te fraseer. Jy sal hom oral kry
waar jy hom soek. Hy sal vir jou 'n werklikheid word daar waar jy
hom vrees. Die volgende teks is baie bekend, en natuurlik ook baie
waar want dit staan in die Bybel. Jip, hy is inderdaad gevaarlik.
1 Pet. 5:8 "Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop
rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind."
Maar dis 'n nuwe jaar. Gun my egter gou die geleentheid om myself in
die rede te val en effe af te dwaal van my punt af. Hierdie jaar
skop af met geweldige onsekerheid en dit gaan definitief gepaard
gaan met vrees vir die onbekende, en natuurlik ook vir die meer
onlangse, nuwe, aaklige bekende. En soos die mens nou maar is
probeer ons sin maak van hierdie nuwe kalant in ons midde. Nou
gebeur daar snaakse dinge, sommige ontken dit, sommige verval in
samesweringsteorieë, sommige aanvaar dit as deel van die samelewing,
en dan is daar diegene wat die duiwel ook in hierdie dinge soek, en
hom selfs daar kry.
Vriend, in hierdie tye, in hierdie jaar, wil ek my oë gerig hou op
Jesus, Hy wat die bose oorwin het, wat steeds die wêreld met al die
goed én sleg in Sy hand hou. Ek aanvaar dat God my teen hierdie
virus kan beskerm, maar ek aanvaar ook dat Sy kinders daarvan kan
omkom, soos 'n vriend van my verlede week. 'n Uitgesproke,
wedergebore Christen.
Terug na die duiwel toe. Ek gaan myself telkens herinner dat Jesus
hom klaar oorwin het aan die kruis, en ek gaan hom ook daaraan
herinner. Ek gaan myself herinner dat geen aardse "merk", wat deur
die mens geskep is (inenting?) die merk wat God op my plaas kan
vernietig nie. Ek en jy is deur die Here in ons harte gemerk as Sy
eiendom, en ek staan daarop in hierdie jaar. Hoe erg probeer die
duiwel ons nie met vrees oorrompel nie! Hoe hard werk hy nie aan sy
"copycat" tegniek nie! Lees weer daardie eerste teks, hy loop rond
SOOS 'n brullende leeu, maar Jesus IS die Leeu van Juda.
Openb. 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie.
Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het
die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”
Ek weet nie of ek of my familie hierdie jaar gaan deursien nie, maar
ek stap hierdie pad saam met die Here. Ek distansieer my van al die
sinnelose gekwetter wat die rondte doen, en fokus eerder op Hom. Die
Bybel is baie kragtiger as Facebook en ander sosiale media. Dis baie
beter leesstof, gebaseer op feite en die Outeur is altyd in beheer.
Voorspoed vir 2021, mag die Here ons heel anderkant uitbring. ~
Willem Botha, 11/01/2021 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|