|
|
Daaglikse Heuningdruppels
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
“Die Seun van die mens sal sy engele stuur en hulle sal
uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val” (Matt.
13:41) As ek dit lees dan besef ek watter groot verantwoordelikheid ons as
Christene het. Ons moet ’n voorbeeld stel van toewyding en van ’n
onberispelike lewenstyl, ons moet soos Paulus kan sê: “Volg my voorbeeld,
soos ek die voorbeeld van Christus volg.” (1 Kor. 11:1) Ons optrede moenie
ander mense laat struikel in hulle geloof, hulle in sonde laat val of hulle
oë van die Here laat wegkyk nie. Ons moet vir die mense om ons rigtingwysers
wees wat hulle help, ons moet nooit mense verlei en mislei om verkeerde
paaie te vat nie. Ons moet versigtig wees as ons ander wil leer dat ons nie
die waarheid verdraai of dalk nét verkondig wat mense graag wil hoor nie.
Ons moet seker maak dat wat ons sê en hoe ons optree nie mekaar weerspreek
nie, sodat mense wat swak is in geloof nie na ons kyk en sê: ek wil liewer
nie ’n Christen wees nie. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My
glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteun
aan sy nek in die diepsee verdrink. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar
dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee
die mens deur wie dit kom.” (Matt. 18:6-7) ~ Wilna Botha, 30/09/2015 |
|
Veg!!!
Hemel ons leef in 'n
veglustige, magmal wêreld! Almal wil net veg. Een ou skiet 'n ander
morsdood in padwoede insidente, politieke teenstanders skiet mekaar dood
net omdat hulle verskil van opinies. Ek sien vanaand op die nuus hoe die
taxi ouens die wit waks uit mekaar skiet, hoekom op aarde weet ek nie! Nie
eers te praat van bende geweld in die Kaap nie! Mense vermoor ander vir 'n
selfoon of 'n beursie en in die Midde-ooste is die oorlog buite beheer.
Amerika het 'n enorme verdedigings begroting, maar hulle veg ander mense se
oorloë en verloor derduisende van hulle eie soldate, en troos dan die ouers
met hierdie belaglike woorde: "Hy het vir 'n goeie saak gesterf". Watter
saak Mnr Die president? Wie se saak?
Absolute magmalheid!
Maar kom ons kyk sommer net op Facebook. Het jy al gesien hoe (oënskynlike)
opgevoede mense mekaar kan slegsê dat die see hulle nie kan afwas nie? Sies!
Ons het mal geword!
Ons kan maar net bid
dat die volgende vir ons waar sal word:
Miga 4:1-4
"Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende
plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Die volke
sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons
optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat
Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die
openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen
baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal
nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om
oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder
sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê."
Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre.
Mag ons leef om dit te sien! Vergewe ons Here. ~ Willem Botha, 29/09/2015 |
|
Ek lees dié nou die
dag op ’n vriend se Facebook-wall: “When God measures man, He places a
measuring tape on his heart, not his head.” Wat in jou hart aangaan is vir
die Here belangrik. Of jou hart aan Hom behoort, of jou klip hart vervang is
met ’n hart van vleis, is wat tel op die Here se maatband. Vir die Here is
jou hart belangriker as jou kennis. Partykeer wil mense té veel redeneer en
té veel probeer om God en sy weë uit te pluis en te verduidelik, terwyl dit
net nodig is om die deur van jou hart oop te maak en Hom in kinderlike
geloof in te nooi. “Daar staan tog geskrywe: Die wysheid van die wyses sal
Ek vernietig en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” (1
Kor. 1:19). As die Here vandag jou hart meet en jou lewe weeg, sal Hy sê:
“geweeg en te lig bevind” soos vir koning Belsasar in Daniël se tyd, omdat
daar nie eerbied vir die Here in sy hart was nie, of sal die Here ’n hart
vol liefde en deernis vind, ’n onverdeelde, opregte hart waar Hy alleen die
Koning is? ~Wilna Botha, 28/09/2015 |
|
Christen … is JY 'n Christen? As iemand jou sou vra oor jou
geloofsoortuiging, sê jy sekerlik ook dat jy 'n Christen is. Dit beskryf tog
sekerlik iets van dit waarin in jy glo, of wát jy glo.
Ek het al die vraag gehoor: "Was Jesus 'n Christen?" Ek dink dit is 'n
sinnelose vraag. As jy vra: "Willem, is jy 'n stoeier?", dan kan ek sê:
"Nee, want ek stoei nie". As ek vir 'n Mercedes vra: "Is jy 'n kar?", dan is
die vraag mos sinneloos, want wat anders kan die Mercedes dan wees? So,
was Jesus 'n Christen? Natuurlik, want Hy gee definisie aan die term. As ek
en jy dan vra: "Is ek 'n Christen?", dan moet ek seker op die een of ander
manier kwalifiseer om dié status te kan "verdien". Die antwoord sal
natuurlik ook afhang van die definisie van wat 'n Christen is.
So, is ek dan of is ek nie?
Vra my 'n paar vrae:
Willem, sukkel jy met sondes? Ja, baie
Willem, het jy al die Here verloën? Ja, ongelukkig
Willem, is jy baie getrou aan die dinge wat die Here verwag? Nee, ongelukkig
nie
Willem, het hy al aan die bestaan van God getwyfel? Ja, ongelukkig gebeur
dit steeds
Willem, bekommer jy jou terwyl die Here sê jy moet Hom vertrou? Ja, daagliks
Willem, is jy skeinheilig? Ja, dit beskryf my perfek
Sjoe, nou
hoe nou?
Ek sê: "Ek is 'n Christen", juis omdat ek te swak is, en Jesus in my
lewe nodig het.
Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat ek besef dat ek nie die wet kan
onderhou nie, en daarom bitter afhanklik is van Jesus se verlossingswerk.
Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat Jesus my anker is in tye van
benoudheid, kommer en angs, en Hy my dan vertroos deur my te herinner
aan soveel tye wat Hy my deur moeilike tye gebring het.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan bely ek dat Jesus my Saligmaker is,
en dat Hy my enigste weg tot saligheid is.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan besef ek my saligheid hang nie af van
hoe goed ander Christene presteer nie. Ek moet self kies.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dit is ongelooflik lekker en
aangenaam om aan Jesus verbind te wees, en aan talle van Sy feilbare
kinders". Ook om te weet dat ek 'n plek in Sy Koninkryk het, ja, selfs
ten spyte van die negatiewe goed wat ek aanvang.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dankie Jesus, dat ek in U oë
volmaak is" ~Willem Botha, 25/09/2015
|
|
“... die bruilof van die Lam het aangebreek en sy bruid
het haar daarvoor gereed gemaak. God het haar dit vergun om fyn, helder
blink klere aan te trek. Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die
gelowiges.” (Openb. 19:7-8) Wanneer mens hierdie teks lees dan klink dit of
ons, as Christus se bruid, hard moet werk om ons bruilofskleed gereed te kry.
En ons moet ook. Ons moet ons kleed versier met dade van liefde, met volkome
toewyding aan die Here, met Gees-vrugte wat ander kan opbou, met
verkondiging van die evangelie met geloof en volharding. Maar tog weet ons
dat Jes. 64:6 sê dat ons beste dade maar soos vuil klere is en as ons op
onsself staatmaak, gaan ons bruilofskleed dalk lelike vlekke ophê. Dis vir
my so mooi dat die teks sê: God het haar “vergun” - God sélf gee vir sy
bruid die vermoë om dié spierwit, volmaakte trourok te maak, Hy stel ons in
staat om die regverdige dade te doen wat Hy verwag, Hy gee ons Sy Gees wat
ons help en lei en leer en beheer oorneem van ons sondige natuur sodat ons
dade goed en vol liefde is. Dis was Sy genade doen ... ~ Wilna Botha,
24/09/2015 |
|
Die Here aan die werk.
So tien dae gelede raak ek in 'n ernstige skermutseling met
'n "angle grinder" betrokke en beland in die hospitaal met my erg beseerde
hand. Grinder 1, Willempie 0. Teater toe, skade reggemaak en toegewerk en ek
gaan huistoe met 'n vet kontrepsie om die hand, en 'n opvolg afspraak vir 'n
paar dae later. Hopelik is die steke eersdaags uit. Nou ja, dit was die deel
wat die mediese wetenskap kon doen.
Een van die dae sal daar dalk 'n letsel oorbly, maar ek sal
gesond wees. Wie is daarvoor verantwoordelik? Sommer self gebeur? Toevallig?
Alles sommer net vanself toegegroei? Nuwe aartjies sommer net chop chop
gevorm? Vel heg omdat dit so hoort?
Nee my vriend, die Here het aan die werk gespring die oomblik
toe die ongeluk gebeur, en elke oomblik van toe af was die Here aan die werk,
dag en nag, selfs toe ek slaap. Soos wat Hy elke oomblik aan die werk is met
teenliggaampies in jou lyf wat jou immuniteit stelsel aan die gang hou.
Die punt is: die Here genees my en jou elke enkele oomblik,
maar nie net Sy kinders nie, vir almal! Ja, soms loop dinge anders en
ongeneeslike siektes kom op ons pad wat ons nie verstaan nie, maar ook
daarin is Hy besig met ons. Hy is elke dag besig om stukkende harte heel te
maak van mense wat swaarkry, Hy vertroos elke dag waar mense seergekry het.
Hy is my en jou groot geneser en ook jou emosionele wonde sal mettertyd
genees.
Intussen kan ons maar gerus elke dag dankie sê vir Sy
wonderwerke in ons lewens. Onthou jy die tien melaatses wat genees is? Net
een het kom dankie sê. Kom ons sê sommer nou gou vir Hom dankie.
Luk 17:15 "En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees
is, omgedraai en God hardop geprys" ~ Willem Botha, 23/09/2015 |
|
“Maar ons is burgers van die hemel.” (Fil. 3:20) Wie is
“ons” waarvan Paulus hier praat? Dis almal van ons wat Jesus aangeneem het
as Verlosser, ons almal wat Hom dien en volg en wat Hom as “paspoort” het –
óns is almal burgers van die hemel. Ons word dit nie eers eendag nie, ons
is dit nou alreeds. Dit beteken dat slegs hemelse dinge vir ons saak maak,
dat ons ons gedagtes rig op dinge wat vir God belangrik is en nie ons aandag
fokus op aardse, tydelike, onbelangrike dinge nie (soos wat Kol 3:2 ook sê).
Ons is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie en daarom is dit te
verstane dat jy partykeer soos ’n vreemdeling of ’n uitlander voel tussen
ander mense. Ons moet juis anders wees en anders optree sodat ons ware
burgerskap duidelik kan wys. Ons moenie teleurgesteld en bang word as dinge
in die wêreld skeefloop, of onregverdig en buite beheer lyk nie; as burgers
van die hemel leef ons met ’n konstante hoop op ons Ewige Koning en dit
gee vir ons nuwe perspektief en nuwe vasbyt. ~ Wilna Botha, 22/09/2015 |
|
Die beste met wat jy het
Ons wil almal GROOT dinge doen vir die Here. 'n Groot verskil
maak en die wêreld omdop, want ons lees die groot opdragte in die Bybel en
word geteister deur skuldgevoel as ons nie 'n groot verskil maak nie. Baie
mense wil graag soos Joyce Meyer of Billy Graham die wêreld ingaan en siele
wen, of vrede bewerkstellig of soos Paulus alles opoffer.
Maar hierdie gelykenis vertel vir jou presies wat die Here
van ons verwag en nie verwag nie.
Matt 25:14-15
“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het
sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het
hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het
aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. “
Jy ken die uiteinde hiervan. God het nie van die persoon wat
slegs een muntstuk gekry het verwag om dit vyfvoudig te vermeerder nie. Hy
het net van hom verwag om dit na die beste van sy vermoë te gebruik en dit
nie begrawe nie. Almal kan nie preek nie, almal het nie al die verskillende
gawes nie, maar almal het iets. Doen net die beste met daai "iets" wat jy
kan. Dis goed genoeg vir Hom. ~ Willem Botha, 18/09/2015 |
|
“Here, help ons reg, maar werk sag met ons.” (Jer.
10:24) Is dit nou nie ’n wonderlike gebed nie? As jy ook sê: “Here, help my
reg”, is dit ’n gewilligheid om jouself onder die Here se leiding te plaas,
’n openheid dat Hy jou deur Sy Gees reghelp en terugbring op die regte pad
en ’n bereidheid om te verander om te wees en te doen wat Hy van jou verwag.
As jy ook sê: “Werk sag met my”, sal Hy juis dít doen. Jesus sê in Matt.
11:29 dat Hy sagmoedig en nederig van hart is. Sy genade is groot, sy liefde
oneindig. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy weet hoe swak ons is, daarom sal
Hy ons nie vernietig nie, maar sag en genadig met ons werk. Sy vergifnis is
meer en groter as enige fout wat ons kan begaan, sy genade dieper as enige
donker gat waarin ons kan val. Onthou die Here is aan jou kant – hy sal
sagkens met jou werk! ~ Wilna Botha, 17/09/2015 |
|
"Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê
in wat hulle aan die lig bring." (Spr 25:2)
Hoe maklik sou die lewe nie wees as ons net geweet het nie!
Die mens se nuuskierigheid maak dat hy naarstiglik soek na sy verlede, om
sodoende sy toekoms te kan peil. Die dag as ek in die hemel kom sal ek graag
saam met die Here wil sit en luister hoe Hy hierdie heelal van ons geskep
het. Ek sou ook wou weet hoekom die mens so swaar moet kry in sy laaste dae.
En ook hoekom ek
nie 'n sterwende kind is in 'n land van bitterlike armoede nie. Wat het ek
gedoen om te hê wat ek het?
En dan, die toekoms. Waarheen Here? Hoe gee ek my kinders hoop vir ons land?
Watter keuses sou beter keuses wees? Gaan ek siek word en 'n las vir hulle
of my vrou word?
Maar dan sê hierdie teks: "Die eer van God lê in wat Hy verborge hou..." SY
EER! Sy soewereiniteit, Sy almag en Sy alwetendheid.
Dit vra van my en jou absolute vertroue, want as ek Hom onvoorwaardelik
vertrou, kan ek Hom blindelings volg en weet alles sal okay wees. En, al
gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, Hy is met my, in goeie en slegte
omstandighede. ~ Willem Botha, 16/09/2015 |
|
“Ek weet, Here, ’n
mens hou nie jou lewe in jou eie hande nie. Niemand het beheer oor wat in
die lewe met hom gaan gebeur nie.” (Jer. 10:23, Die Boodskap) Ons maak
planne, ons dink ons is in beheer, ons dink ons kan ons eie koers bepaal,
maar tog weet ons glad nie wat die volgende oomblik vir ons inhou nie, ons
weet nie watse struikelblokke of ompaaie op ons wag nie. Nie die sterkste,
slimste, rykste, beste mens het beheer oor wat met hom gebeur nie Ek het dit
die afgelope paar dae maar net weer van vooraf besef toe ’n paar dinge heel
anders uitgedraai het as wat ek dit voorsien het. Dit is geensins ’n
fatalistiese uitkyk nie, dis ’n waarheid waarmee ons moet saamleef. Net die
Here weet wat wat met ons gaan gebeur en daarom moet ons vertrou dat wat ook
al oor ons pad kom, nie buite sy beheer is nie. As ons planne maak, moet
dit altyd in potlood ingeskryf word en die uitveër naby wees vir ingeval die
lewe ander draaie maak. As jy jou planne in permanente ink skryf en sê dis
beslis wat en hoe ek dit gaan doen, kan jy dalk ’n verassing kry. Net die
Here ken die toekoms en daarom kan ons oorgegee aan Hom lewe en in
afhanklikheid Sy pad stap. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons
lewe en sal ons dit of dat doen.” (Jak. 4:15) ~ Wilna Botha, 15/09/2015 |
|
Die laaste woord.
Ek ontmoet 'n man op 'n mannekamp en ons gesels oor vergifnis.
Die man vertel vir my dat hy en sy suster vir baie lank nie meer met mekaar
praat nie, maar hulle ry daagliks by mekaar verby op pad werk toe en dan kyk
albei anderpad. Hulle woon enkele kilometers van mekaar af. Toe ek hom vra
hoekom hulle vir mekaar kwaad is het hy vir my gesê dat hy eerlikwaar nie
meer weet hoekom nie. Bid jou dit aan! Punt is, iewers het iemand die laaste
woord ingekry. 'n Kwetsende woord wat die ander een lekker seergemaak het,
en daar was "oorwinning". Regtig? Oorwinning? Wat 'n sieklike geveg om te
wen. Die Sondag op die kamp het hy besluit om direk na die kamp na sy suster
te ry om te gaan reg maak. Is dit nie ware oorwinning nie?
Hoeveel verhoudings is nie al vernietig deur hierdie
kwetsende laaste woord nie. Die enigste manier om dit te herstel is deur 'n
nuwe "laaste woord". "Ek is jammer", of "ek vergewe jou", haal die steek uit
bykans elke slegte verhouding. Dit vra net die moed en durf om dit te sê.
Moenie dat die tong se aaklige gewoontes jou lewe misrabel
maak nie.
JAKOBUS 3:6
"Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die
deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van
die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die
hel aan die brand gesteek." ~ Willem Botha, 14/09/2015 |
|
’n Wagkamer is nie ’n lekker plek nie en dit is nogal geneig om jou geduld
te toets en die slegste in jou uit te bring, nie waar nie? Dink nou maar as
mens in die dokter se spreekkamer wag, of in die tou by die lisensiekantoor
– kort-kort maak jy seker hulle het nie van jou vergeet nie; die wag voel
soos ure, al is daar net 15 minute verby; soms raak ons sommer lekker
ongeskik as ons voel ons het nou te lang gewag, of ons staan op ons regte as
belangrike persoon wat nóú gehelp moet word; dit voel soos ’n mors van tyd
om so te wag; soms is die waggery net só lank dat jy moed opgee en huis toe
gaan. En ons almal weet dit gaan dikwels ook só met die waggery in ons
Geestelike lewe ... Wanneer Here? Hoe lank nog, Here? Maak gou, Here! Nóú
Here! is vrae en uitroepe wat ons maar te goed ken.
In die Afrikaanse Bybel word “wag op die Here” vertaal met vertrou op die
Here, hoop op die Here, smag na die Here, soek na die Here, kom tot rus by
die Here. Om op die Here te wag is dus nie net daai passiewe sit en wag soos
by die dokter nie, dis ’n bewustelike fokus op die Here, ’n aktiewe soeke na
meer van Hom in jou lewe, ’n oorgee aan Hom, ’n rus in wie Hy is, ’n vaste
geloof dat Hy in beheer is en ’n tevrede wees dat Sý tyd die regte tyd is.
“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die
Here!” (Ps. 27:14) ~ Wilna Botha, 11/09/2015 |
|
Uitkamp
Op 6 Julie 1977 beland ek in Potchefstroom vir my diensplig en binne die
eerste uur kom jy agter dat daai plek nie vir sissies is nie. Behalwe vir 'n
klomp mal korporaals sien ek dat my huis waarin ek vir twee jaar gaan bly
van seil gemaak is, geensins stofdig is nie en ook nie altyd waterdig is nie,
en Potch se koue deur daai flappe sny soos 'n skerp mes. Boonop gaan ek daai
klein vertrek met 5 ander mense deel, of ek van hulle hou of nie.
Daar was regtig swaar tye
in daai tent met baie blootstelling aan die elemente, maar dit was darem 'n
dak oor die kop. Ek kon dit uithou, want ek het geweet ek gaan binne twee
jaar terug na my heerlike ouerhuis toe.
Net so vergelyk Paulus hierdie lewe met 'n tentlewe, wat in die hiernamaals
vervang sal word met 'n vaste struktuur, en dan moedig hy ons aan om vas te
byt, want die swaar van hierdie lewe sal plek maak vir die wonderlikste van
wonderlike lewe.
2 Kor 4:16
– 17
"Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om
te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in
hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op
'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly."
Kan jy sien dat Paulus erken dat hierdie lewe vol swaarkry is? Ja, ons
moet baie verduur en die lewe raak swaarder soos ons ouer word, maar die
swaar van hierdie lewe is tydelik.
2 Kor 5:1
Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek
word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur
mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. ~ Willem
Botha, 10/09/2015
|
|
Ek hoor nou die dag hierdie woorde in ’n liedjie: “Stop
die wêreld ek het seergekry; alles draai net om my.” Daar is baie van ons
wat al seergekry het, wat groot verlies gely het, wat terminaal siek is, wat
al ’n groot hoop slegte nuus gekry het. En is dit nie só dat dit dan voel of
alles tot stilstand gekom het in jou wêreld terwyl almal rondom jou nog
hulle gewone gang gaan, nog hulle normale dinge doen? Dis dan wanneer jy
dalk ook net wil uitskree: stop die wêreld! Jy wil hê alles moet op “hold”
wees en vir jou wag. So baie keer raak ons in sulke tye vreeslik
selfgesentreerd en wil hê dat almal ons moet jammer kry, almal moet die hele
tyd aan ons aandag gee en na ons toe uitreik. Dink bietjie vir ’n slag só
daaraan dat jou krisis jou weer kan “voorberei” om iemand anders te bemoedig,
om vir iemand anders raad te gee, om iemand anders se laste te help dra.
Moenie so in jou krisis-kokon toegespin word dat jy geleenthede mis waar jý
weer vir iemand anders iets kan beteken nie. Onthou: wanneer jy ’n lig vir
iemand anders aansteek, sal dit jou pad ook verlig. “Hy (Jesus) staan by ons
en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos
wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as
wat God met ons gedeel het.” (2 Kor. 1:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
09/09/2015 |
|
In Matt. 14:28-32 lees ons hoedat Petrus so graag op
die water saam met Jesus wou loop. Hy kry dié onmoontlikheid reg, maar net
totdat hy bang word vir die sterk wind en die hoë golwe. Twyfel slaan toe en
hy begin sink. Sy ongeloof laat hom sink, maar sy geloof laat Hom uitroep na
Jesus: Here red my! Die Here het hom nie geïgnoreer of verwyt oor sy
kleingeloof nie, Hy het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp, hom uit
die diep water getrek en verder langs Hom laat loop . As jy voel jy sink,
of jou voete gly, of jou arms raak lam, of jou gedagtes raak ’n warboel,
onthou dat dít juis die tyd is om uit te roep na die Here. Sink-tyd, val-tyd,
gly-tyd is bidtyd. Dít is die tye wanneer die Here jou ongeloof verstaan en
Sy hand na jou uitsteek om jou te red. “Toe ek gedink het my voete gly, het
U troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste
sit, het U vertroosting my tot rus gebring.” (Ps 94:18-19) ~ Wilna Botha,
08/09/2015 |
|
Reseppies
Ek het 'n heerlike sjokoladekoek resep wat ek graag bak en hy
flop net eenvoudig nooit, en as jy op die skakel hieronder klik kan jy hom
gerus probeer. En ek daag die manne uit om hom te bak, dis VREESLIK maklik
en hy is 'n wenner. Solank jy die resep volg!
Ons lewe in 'n gebroke wêreld waar mense regtig sukkel om te
"cope", en dan is almal om jou dadelik by met 'n reseppie of twee. Doen dit
of dat en jou probleem is opgelos. So het prokureurs oplossings vir jou
regsprobleme, makelaars met jou geld probleme, en al wat 'n buurvrou is met
jou huweliksprobleme. Doen dit of dat en alles is reg. Ongelukkig is daar
ook mense wie se raad geweldige skade doen. Ek het al gesien hoe ouers
geknak word deur hulle kinders se beraders wat vir hulle vertel dat hulle
opvoeding die skuld moet kry vir hulle verkeerde keuses. Terwyl die ander
kinders in dieselfde gesin normaal funksioneer. Tot die kerk bied soms
reseppies aan wat lidmate moet volg en alles is in 'n oogwink reg. Maar die
lewe werk nie altyd so nie want hierdie lewe is ver te kompleks vir goedkoop
reseppies, en selfs die Bybel probeer nie vir elke ding 'n kitsoplossing
voor te stel nie.
Maar, daar is een teks wat jy maar gerus kan probeer, hoewel
die bedoeling nie noodwendig is dat alles nou volmaak sal wees nie.
Matt 11:28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee."
Soms wil iemand in 'n moeilike wedloop net 'n rukkie asemskep,
en so bied die Here vir jou soms 'n hawe om net bietjie jou kragte te herwin. ~
Willem Botha, 07/09/2015
Hier
is jou lekker sjokoladekoek resep. Volg die resep en smul. Klik hier >> |
|
Lente bring lewe
Soos ek hier sit en skryf val die eerste lentereën daarbuite en dis HEERLIK!
Die dor grond sien met verwagting uit na dit wat hierdie reën gaan
voortbring. Die grasperk is betyds voorberei met 'n bolaag met voedsel en
die reën is die laaste komponent wat moes by kom. Soos wat die reën op
hierdie oomblik op die grond val jubel potensiële lewe onder die grond en
binnekort sal die wêreld totaal anders lyk as 'n paar dae gelede.
Maar hoe dit gebeur weet ons nie.
Ons kan die proses beskryf, maar presies wat op mikroskopiese vlak gebeur is
bo my verstand. Dit gebeur net. Maar een ding weet ek: dis nie vanself nie
en dis nie toevallig nie, daar is 'n Skepper aan die werk.
Net so
bring die Gees nuwe lewe. Die mens kan dit nie verstaan nie, maar tog
vind wedergeboorte plaas by mense wat hulle harte vir die Here gee.
Nikodemus het gesukkel om hierdie wedergeboorte ding te verstaan, want
Hy kon nie die misterieuse werk van die Heilige Gees in die prentjie
inpas nie. Die punt is : Ons hoef dit nie te verstaan nie, ons kan dit
maar net waarneem. Net soos op die grasperk wanneer nuwe lewe deurbreek.
Ons hoef maar net die saad te saai, en die Here sal die res doen. Net so
beskryf Paulus sy Geestelike werk.
1 KORINTIËRS 3:6
"Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei"
~ Willem Botha, 04/09/2015
|
|
“If you cannot do great things, do small things in a
great way.” So het iemand eendag gesê. Ek sien baie keer dat mense graag
belangrike, groot bedienings in die kerk wil doen. Hulle wil báie mense
bereik en ’n gróót impak in die wêreld maak. Hulle wil groot gehore
toespreek, een-ton-trokke vol goed uitdeel en duisende mense na die Here toe
lei. Dis natuurlik nodig en daar ís mense vir die Here daardie werk gee,
maar die meeste van ons sal nie sulke asemrowende goeters bereik waaroor
almal praat en waaroor daar in tydskrifte en op TV berig word nie. Die
meeste van ons se name sal nie op almal se lippe wees nie. Wat wel belangrik
is, is dat ons dít wat ons doen met uitnemendheid sal doen, met oorgawe,
met ywer, voluit, sonder om beloning te soek en erkenning te verwag. Doen
jou klein dingetjies daar in die stilte, waar niemand sien nie, doen met
vreugde wat jou hand vind om te doen, maak ’n verskil vir een of vyf mense,
hou daarmee vol en die Here sal jou daarvoor beloon. “Oor min was jy getrou,
oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt. 25:21) ~
Wilna Botha, 03/09/2015 |
|
Wat is die slaap 'n wondersoete ding...
'n Bekende gedig deur D. F. Malherbe. Slaap, die beloning na 'n goeie dag se
werk.
Na 'n dag se geswoeg en sweet met allerlei moeilikhede is dit darem lekker
om net so in die vergetelheid weg te sak. As jy so gelukkig is soos ek slaap
jy voor jou kop die kussing raak, maar dis nie vir almal beskore nie.
Sommige mense rol rond oor bekommernis oor hulle eie sake, en party mense
rol rond oor dinge wat dalk nie eers hulle eie probleem is
nie.
Dan is daar nog ander wat wakker lê oor verkeerde dinge waarmee hulle besig
is, dalk dinge wat by die werk onder verdenking is, of sommer 'n lewenswyse
wat net op kwaad uit is. Hulle slaap sleg.
Maar as jy dinge doen soos jy moet, hard werk en 'n aanwins vir jou
werkgewer is, en jou huishouding en sake alles goed en eerlik hanteer, slaap
jy goed. Ek hoop dis vir jou waar, want dan is hierdie teks net vir jou.
Ps 4:9 "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want,
Here, U alleen laat my veilig woon... " ~ Willem Botha, 02/09/2015 |
|
In Matt. 22:1-14 lees ons die
gelykenis van die bruilofsmaal. Die koning het vir sy seun ’n bruilofsfees
voorberei. Toe alles gereed is, is die gaste laat roep, maar almal het die
een of ander verskoning gehad. Daarna het die koning sy slawe die strate
ingestuur om almal wat hulle sou teenkom uit te nooi, slegtes sowel as
goeies. Sjoe, dankie tog, dis hier waar ek en jy ook die uitnodiging na die
hemelse bruilof ontvang het. Dié wat dit aangeneem het, het by hulle aankoms
’n lieflike bruilofskleed ontvang, ’n fees-kleed, ’n uitrusting wat wys dat
jy as gas aanvaar is, maak nie saak of jy van die straathoek af gekom het,
of ’n “slegte” mens is nie. Daar was egter iemand wat gedink het dat hy kan
inglip sonder dié kleed aan. Waarskynlik was hy genooi, maar wou nie openlik
die uitnodiging aanvaar nie, hy wou nie erken dat hy ’n vriend van die
koning is nie. Sy hande en voete is vasgebind en hy is uitgegooi in die
diepste duisternis. God nooi ons uit na die hemelse bruilofsfees en Hy vergun
ons om “fyn, helder blink klere aan te trek” (sien Openb. 19:8), Hy gee vir
ons ’n volmaakte en silwerskoon bruilofskleed, ’n genade-kleed gewas in
Jesus se bloed, ’n gratis kleed wat al ons swakheid en sonde en skande
verberg. Aanvaar Sy uitnodiging en vier saam fees. ~ Wilna Botha, 01/09/2015 |
|
Spore
Ons almal laat spore agter ons in ons lewens. Party mense
trap diep spore in die samelewing en sommiges ploeter net voort. Party mense
se spore loop na al wat 'n verkeerde plek is toe en soms wil ons ons spore
doodvee, want dit sê so baie van ons karakter en gewoontes.
Die veldkenners kry sommer 'n klomp inligting uit 'n bok se
spoor: die ouderdom van die spoor, die rigting wat die bok beweeg, die tipe
bok, die spoed waarmee hy beweeg het, en nog heelwat meer inligting.
Die bok se spoor laat ook 'n reuk agter.
Nou ja, die harde realiteit is dat jou kinders jou spore sal volg, ook as jy
verkeerde paaie gevolg het, en dis bykans onmoontlik om dit altyd dood te
vee. Dus moet jy maar mooi loop. Mense loop so graag agter ander mense aan
deur vir hulle "idols" bymekaar te maak., maar dit hou nie lank nie.
So het mense in die lewe diep spore getrap, maar nie een soos Jesus Christus
nie. Sy spore het gehou en elke enkele toets en uitdaging van die tyd
deurstaan. En hy vra vir my en jou om in Sy spore te volg.
MATTEUS 16:24
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën, sy kruis opneem en My volg".
Nie een mens op aarde wat hierdie besluit geneem het, was ooit spyt nie. En
jy en ek sal ook nie wees nie. ~ Willem Botha, 31/08/2015 |
|
“Die Here dink aan ons: Hy seën ...” (Ps. 115:12) Ons
wil almal hê dat die Here ons moet seën. As ons Paulus se briewe lees, sien
mens dat dit altyd eindig altyd met ’n seëngroet. Dis elke keer ’n gebed dat
die Here die leser sal seën met vrede, geloof, liefde en Sy teenwoordigheid.
Élke keer word genade as seën afgebid, bv. “Die genade van ons Here Jesus
Christus sal by julle almal wees!” (2 Tess 3:18) As die Here ons met Sy
genade geseën het, is dit genoeg! Baie keer seën Hy ons egter ook met
besittings, finansies, gebedsverhoring, gehoorsame kinders, wonderlike
vriende, gesondheid, ens. Onthou, ’n groot reënbui begin altyd met ’n enkele
reëndruppel. So is dit ook met die Here se seën – om strome daarvan te
ervaar en raak te sien, moet ons druppel vir druppel raaksien, ontvang en
waardeer. Daar is ’n ou liedjie wat so lui: “Strome
van seën, gee van U volheid ons weer, reeds val die druppels gedurig; skenk
ons die strome, o Heer!” Mag die Here jou seën! ~ Wilna Botha, 28/08/2015 |
|
Glory game
Ons het gisteraand die fliek "Glory game" gaan kyk. Dis die
dokumentêre film van Joost van der Westhuizen en sy siekte genaamd Motor
Neuron siekte. 'n Skitterende fliek van hoop, veg, oorlewing en dan ook die
hartseer kant van tyd wat uitloop. In 2011 het die dokters hom twee jaar
gegee, maar hy veg steeds voort na vier jaar.
Die kern van die film vir my was die harde realiteit dat mens
soms deur 'n traumatiese gebeurtenis moet gaan om te besef hoe kosbaar LEWE
is. LEWE, nie net bestaan nie. Asemhaal is maklik, LEWE is 'n kuns.
Een van Joost se begeertes is om sy kinders te sien grootword,
maar ons weet nie wat hom beskore sal wees nie. Maar ek, sover ek weet, is
vir nou okay. Maar wat maak ek daarmee? Maak ek 'n verskil in ander se
lewens? Is ek iets werd vir die Here in terme van Koninkrykswerk? Gee my
lewe vir ander hoop? Vir wie beteken ek die meeste?
Wel, hier is 'n toets :
Wie "score" die meeste uit jou lewe? Jou gesin en familie?
Die Here? Of dalk jou baas?
Ek vrees oor die antwoord!
En as jou Glory Game se einde dalk wink, wie sal dan voorkeur
kry? Ek dink ek ken daai antwoord. Lewe vandag vir dit wat die belangrikste
is, solank jy dit het. Ons lewe so 29000 dae as ons 80 jaar sou bereik, maak
soveel moontlik van dit wat oor is.
CARPE DIEM! ~ Willem Botha, 26/08/2015 |
|
Probeer altyd om verby jou omstandighede na die Here te
kyk en nie déúr jou omstandighede nie. Jou omstandighede is geneig om die
beeld van die Here te vertroebel en te buig. As jy deur jou probleme kyk,
gaan hulle groter lyk as wat hulle regtig is, gaan hulle jou oorweldig en
jou paniekbevange en bang maak. As jy egter direk na die Here kyk sal jy
sien dat Hy altyd teenwoordig is, dat hy getrou en regverdig is, dat Hy
genadig en liefdevol is, dat Hy uitkoms gee, dat Hy vir jou sorg, dat Hy jou
na groen weivelde dra, dat Hy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Daar
is mos ’n uitdrukking wat sê: moenie vir die Here vertel hoe groot jou
probleem is nie, sê vir jou probleem hoe groot jou God is. Niks wat vandag
met jou gebeur sal vir die Here ’n verrassing wees of Hom onkant vang nie –
Hy is reeds dáár en Hy ís groter as enige struikelblok waarvoor jy te staan
kan kom. Leef met hierdie sekerheid in jou hart en hou jou oë op Hom. “Turn
your eyes upon Jesus, look full in His wonderful face, and the things of
earth will go strangely dim, in the light of His glory and grace.” ~ Wilna
Botha, 26/08/2015 |
|
Segen Vader segen
sop...
Hoe gereeld bid jy
die volgende: “Seën hierdie voedsel aan ons liggame Vader, en maak ons opreg
dankbaar daarvoor. Amen.”
Lekker kort gebed, werk elke keer, chop chop afgerammel. Maar wat beteken
dit regtig? En dan daarby : seën die hande... Net 'n gewoonte? Moontlik
ja, maar ten minste 'n goeie gewoonte.
Maar kom ons probeer
vandag, al is dit net een dag, om te dink wat dit beteken om daardie bord
kos voor jou te hê en ons bid seën af op meer rolspelers.
Here, seën asb:
Die mense in die supermark wat my bedien het. Die rakpakkers wat vir my
bitter min geld werk en die tellers wat BAIE laat by die huis kom omdat ek
tot 8 uur vanaand wil koop.
Die trokdrywers wat my so frustreer op die pad omdat ek vinniger wil ry,
maar hulle ry die kos na die winkels toe aan.
Die werkers wat die kos in fabrieke verwerk, nagte deur dat dit vars
verkoop kan word, dikwels onder haglike omstandighede.
Die plaaswerkers wat swoeg in die warm son en vir 'n karige minimum loon
werk.
Die boer wat met geweldige risiko's worstel, wat afhanklik is van die regte
weer en wie se lewe minder werd is as sy bakkie of selfoon. Hy wat wakker
lê omdat dit bitter moeilik raak om winsgewend te boer, en boonop is sy
eiendom deesdae in gedrang.
Die maatskappye wat saad en kunsmis verskaf.
Die universiteite waar jong boere opgelei word.
Ja, so kan ons aangaan, die voedselketting is lank en BAIE meer mense werk
aan jou bord kos as net jyself. Sê so bietjie vir die Here dankie vir al
hierdie mense, en sommer vir jou (dalk goor?), baas ook.
Lekker smul! ~ Willem
Botha, 24/08/2015 |
|
“Gratitude. It turns what we have into enough.” Dis wat
vandag onderaan my dagboekbladsy staan en wat my diep laat dink! Gratitude
is mos om dankbaar te wees, om erkenning te gee, om waardering te hê vir
iets en waardering te betoon aan iemand. Die Here verwag ook van ons om
dankbaar te wees: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God
in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess. 5:18) Ons moet onsself daaraan
herinner en onsself inspan om dankbaar te wees, nie net teenoor die Here nie,
maar ook teenoor jou man, jou kinders, jou baas, jou vriende, jou tuinwerker
ens. Ek dink dit sal help om te fokus op wat jy het en daarvoor dankbaar te
wees – hopelik sal jy dan sien hoe gelukkig, bevoorreg en welaf jy is. As jy
sit en tob oor wat jy nié het nie, gaan jy onvergenoegd en negatief voel en
gaan jy dalk ’n ondankbare suurknol word. Sien die Here se genade in
alledaagse dinge raak en spreek jou waardering daarvoor uit. Jy sal vind dat
Sy genade genoeg is. As jy dálk voel jy het niks om voor dankbaar te wees
vandag nie, wees dan ten minste dankbaar vir die suurstof wat jy op die
oomblik inasem! ~ Wilna Botha, 24/08/2015 |
|
The truth, the whole truth, and nothing but the Facebook
truth...
Facebook is amazing! Dit laat mense die snaaksste dinge sien
en glo! Ek verstom my oor die nonsens wat mense so goedsmoeds vir soetkoek
opeet, glo en met almal deel, sonder om vir 'n oomblik te dink of dit waar
is en sonder om die "feite" te toets. Die share knoppie wys soms so ietsie
van ons goedgelowigheid.
Maar tog ook verstommend hoe mense sukkel om die Woord van God te glo. Die
Bybel het tot vandag toe
elke enkele aanslag deurstaan, en tussen al die duisende elemente en feite
kon nog geen enkele iets verkeerd bewys word nie.
Ek het lank gewonder hoekom dit so is, totdat ek besef het dat dit iets
persoonlik vra om die Bybel se inhoud te glo. Dit vra dat ons 'n keuse maak,
om iets agter te laat en iets nuuts aan te pak. Dit vra vir 'n verhouding,
dit vra dat ons elke dag moet verander. Ons moet egter net vasstaan in ons
geloof.
2 Tim 3:14
"Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. " ~ Willem Botha,
20/08/2015 |
|
Ek
het verlede week ’n bos blomme by my seun gekry (gelukkige ek – oulike seun!)
Na ’n dag of drie het dié lelies begin oopmaak en ’n lieflike prentjie
gemaak. As ek so vir hulle kyk, wonder ek by myself, hoe kan daar soveel
mooi binne-in daai bleek knop skuil en hoe kan daai ongelooflike
transformasie in enkele ure plaasvind? Dit het my laat dink dat mense ook
maar so is en ons hulle partykeer net as die bleek knop sien, onbewus van
die potensiaal wat daar dalk opgesluit lê binne-in hulle. Ek wil myself
sommer net weer herinner dat daar in almal iets mooi en iets goed móét wees
en dat ek geduldig moet wees totdat die bleek knop oopgaan en die ware
binnekant sigbaar word. Die Here het elkeen van ons aanmekaar geweef,
volmaak geskep tot in die fynste detail – nóg baie meer as hierdie pragtige
lelie. Lees Ps. 139:13-14 en vervang “my” met die naam van iemand met wie jy
dalk al wil opgee en bid dat hy sal ontluik en sy volle potensiaal sal
bereik. “Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder
het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen
wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.” ~ Wilna Botha,
20/08/2015 |
|
Na waters waar rus is...
Ps 23:2
"Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is,
lei Hy my heen."
Ek dink jy ken hierdie BAIE bekende woorde uit Ps 23 in die
1953 vertaling baie goed, en dalk laat net hierdie enkele teks vir jou ook
sommer rustig voel na 'n moeilike dag. Die wêreld van vandag is 'n harde
plek, die meeste mense werk nie lekker nie, en huistoekomtyd het soms ook sy
eie uitdagings. En dan voel mens soms jy wil net so bietjie wegvlug.
Dis die Here se uitnodiging vir jou, en dalk het jy dit nou
baie nodig. Lê so bietjie terug in Sy arms, sluit net jou kop af vir 'n
rukkie, en herinner jouself daaraan dat die Here sommer baie lief is vir jou.
Rus in sy arms en sê vir jouself : Alles gaan okay wees. ~ Willem Botha,
19/08/2015 |
|
Na aanleiding van die stukkie wat ek gister geskryf
het, nl. dat Jesus alreeds die vyand oorwin het en ons nie hoef te veg in
die Geestelike oorlog nie, maar slegs weerstand moet bied, het ek weer
gedink oor Ef. 6:10-17 waar mens lees van die wapenrusting wat ons as
Christene moet aantrek. Daar lees ons ook dat ons op ons pos moet bly (naby
aan die Here, volhard in geloof) en weerstand moet bied teen die vyand. Die
dele van die wapenrusting wat genoem word, dui na Jesus en wat Hy rééds
gedoen het: die sekerheid dat Hy vir ons sonde betaal het, die wete dat ek
vrygespreek is en die redding wat Hy uit genade vir ons gee. Ons geloof in
hierdie waarheid en in die Woord van God is dié dinge wat ons laat vasstaan
en weerstand bied in enige aanval wat die vyand op ons kan hê. “Wees nugter,
wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu ...
Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.” (1 Pet. 5:8) Deur ons
geloof in die oorwinning wat Jesus reeds behaal het, kan ons weerstand bied
– Sy oorwinning is afgehandel en voldoende! ~ Wilna Botha, 18/08/2015 |
|
In Openb. 19 lees ons van die Ruiter op die wit perd,
die Een met baie heerserskrone, die Getroue en Betroubare, die Koning van
die konings, die Here van die heersers, die Een wie se klere met bloed
deurweek is. Dit is Jesus van wie hier gepraat word. Sy klere is met bloed
deurweek, Sý bloed waardeur Hy die oorwinning behaal het oor die vyand. Dit
is reeds gedoen, klaar afgehandel. Geeneen van Sy volgelinge se klere is met
bloed deurweek nie, want Hy het in ons plek geveg en gewen. Ons hoef nie
self te veg teen die vyand nie. Wanneer ons die wapenrusting aantrek is dit
nie om te veg nie, maar net om weerstand te bied. Ons hoef nie deel te neem
aan die Geestelike oorlog nie, ons hoef net op ons pos te bly, getrou aan
die Here bly, te volhard in ons geloof, seker te wees van ons verlossing in
Jesus en vasstaan op Sy Woord. “... die oog gevestig op Jesus, die Begin en
Voleinder van die geloof.” (Heb 12:2) ~ Wilna Botha, 17/08/2015 |
|
So ietsie vir die manne...
Ek hoor eendag hierdie pragtige beeld: Die man is
die spieël waarin sy vrou haarself sien.
Dit het my nogal aangeraak, want ek het besef dat
my woorde, lyftaal, reaksies en kommunikasie met my vrou, bepaal wat sy van
haarself dink. Sjoe!
Dis nie net negatiewe woorde wat afbreek nie, 'n
totale gebrek aan woorde kan soms nog erger wees, want om iemand te ignoreer
beteken vir daardie persoon dat daar niks in die spieël reflekteer nie en sy
nie eers bestaan nie. Ons mans weet presies hoe om kwetsend te wees met
woorde, vernaam as ons die uiterlike aanval, soms onder die vaandel van 'n
grappie. Maar boeta, ons maak seer met woorde, maar vanaand wonder ons
hoekom vroulief so effe koel voorkom en alweer hoofpyn het.
Die teendeel het egter 'n wonderlike effek. Hoe
meer 'n vrou hoor sy is mooi vir haar man, en hoe meer sy hoor sy is die
beste, hoe mooier word sy, want dis lekker om voor daai "spieël" te staan.
Die woorde : "Ek is lief vir jou", beteken BAIE meer as die bloesie wat sy
maar mag koop.
Soek jy woorde meneer? Gebruik sommer hierdie uit die Bybel uit :
Hooglied 6:4 "My liefling, jy is so mooi
soos Tirsa, so aantreklik soos Jerusalem, so indrukwekkend soos 'n afdeling
vaandeldraers." ~ Willem Botha, 13/08/2015 |
|
Selfkastyding
Ek is oortuig daarvan dat jy ook al SO spyt en
platgeslaan was oor jou eie foute (en sondes) dat jy net nie oor dit kan kom
nie. Dinge wat jy aangevang het, of gesê het of wat net gebeur het wat jou
laat glo dat die Here dit net nooit sal vergewe nie, want jy kan jouself nie
vergewe nie.
En dan probeer ons met nog en nog vergifnis-vra, of deur allerhande dinge te
doen, om die saak ongedaan te maak. Nie eers te praat van die selfkastyding
nie. Wel my vriend,
moenie glo dat die Here aan die "swakheid" van onvergewensgesindheid ly,
omdat ek en jy daaraan ly nie.
Die Here het die laaste woord hieroor, so, ons kan dit net
sowel aanvaar en aangaan met die lewe. En as jy weer en weer val? Dan staan
jy weer en weer op en probeer weer en weer.
Hebr 10 : 17 - 18
Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal
Ek nooit meer dink nie. Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor
meer nodig nie." ~ Willem Botha, 12/08/2015 |
|
Ons
het gisteroggend op hierdie baie mistige paadjie beland en hoe vêrder ons
geloop het, hoe digter het die mis om ons saamgepak. As jy voor jou kyk,
sien jy glad nie waarheen jy op pad is nie, maar as jy vir jou voete kyk,
sien jy heeltemal genoeg van die paadjie om die volgende paar tree te gee.
’n Entjie terug was daar darem ’n bordjie wat gewys het dat die dorp in dié
rigting lê waarheen ons op pad was, maar van die dorp was daar níks in sig
nie, al het ons geweet dit is daar. Dit het my onwillekeurig laat dink dat
die lewe ons ook soms op so ’n paadjie laat beland waar ons nie eintlik kan
sien waarheen ons op pad is nie, ons weet nie waar dit gaan eindig nie, ons
weet nie hoe vêr ons nog só in die mistigheid moet sukkel nie. Die beste is
dan mos maar om net hier rondom jou te kyk waar daar genoeg lig en genoeg
sekerheid is om die volgende tree of drie te gee en daarmee vol te hou
totdat jy by die eindpunt is. Vertrou dat die Here altyd vir jou genoeg lig
en genoeg wysheid en genoeg deursettingsvermoë sal gee vir die volgende
tree. Al sien jy nog nie einde van vandag se donker pad nie, is daar ’n
einde en is die Here daar om jou te help. Hier is die Here se belofte: “Ek
laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol
slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die
steek laat nie.” (Jes. 42:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 11/08/2015 |
|
Ek is ook partykeer soos die
Fariseërs wat dink dat daar sekere mense is wat nie die Here se genade werd
is nie. Hulle was mos verontwaardig omdat Jesus saam met tollenaars en
prostitute, sondaars en slegte mense gekuier en geëet het. Hulle kyk net na
die uiterlike en besef nie hoe groot die Here se genade en liefde is nie ...
dalk omdat hulle self nie sy genade en liefde ken nie. Ek kyk ook dikwels na
mense en dink: nee wat, jy is té sleg, té vêr weg, té vuil, jy het té veel
kere die Here gevloek, té veel sonde gedoen, daar kan nie meer genade vir
jóú wees nie. En tog glo ek as Jesus nou op aarde was, is dit die plekke
waar ons Hom sou sien – tussen die wat deur ons afgeskryf word, tussen die
wat Sy genade baie nodig het. Jesus sê in Luk. 15 dat Hy nege en negentig
skape sal los om een verlore en verdwaalde skaap te gaan soek en dat daar
groot blydskap in die hemel sal wees oor die een sondaar wat bekeer het. Hoe
belangrik is dit vir jóú dat verlore skape gevind word? Breek dit jou hart
as jy dink dat iemand dalk sonder die Here kan sterf? Maak dit jou bang om
te dink dat daar van Sy skape is wat nog buite in die koue is, sonder die
Herder se liefde, sonder sy redding, verlore vir ewig? Kom ons wees weer
vrygewig met genade, kom ons deel weer die boodskap van Jesus se liefde en
vergifnis met nuwe ywer. ~ Wilna Botha, 07/08/2015 |
|
Plant 'n boom
'n Klompie jare gelede wys 'n vriend van my vir my
'n klein boompie wat hy op sy plaas geplant het. Die boom groei verskriklik
stadig en ek het vir hom gevra hoekom hy so 'n boom plant, want hy gaan hom
nooit in sy lewe groot sien nie. Sy antwoord het my absoluut verras. Hy het
gesê : "Willem, ek het genoeg vertroue in die Here dat hy hierdie land van
ons sal seën, en ek glo my kinders en kleinkinders sal hierdie boom se
skaduwee geniet."
Het jy genoeg vertroue in die Here dat Hy hierdie
volgende teks waar sal maak in Suid-Afrika?
Jer 29:11-13
"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed
nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My
aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my
wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. "
Plant 'n boom, al gaan jy nooit die eindresultaat sien nie. Dis ware geloof!
~ Willem Botha, 06/08/2015 |
|
Ek sien baie keer dat wanneer iemand in ’n krisistyd is
of die een of ander trauma beleef het, dit sy karakter verander. Iemand wat
altyd so opgewek was en ná ’n egskeiding so verbitterd is, so negatief is
dat sy mondhoeke heeltyd ondertoe kyk. Iemand wat altyd hoopvol en positief
was en na die een of ander verlies sommer net moedeloos is en nie kans sien
vir die lewe nie. Iemand wat altyd selfversekerd en tevrede was en na ’n
huisbraak of kaping vreesagtig en haatdraend word. Ek wil vandag by jou
pleit: moenie dat jou probleme jou persoonlikheid verander nie, tensy dit
ten goede is. As jou swaarkry jou karakter verander, laat dit dan wees hoe
die Here jou vorm in hierdie tyd, hoe jy meer op Hom vertrou, hoe jou
dankbaarheid groei, hoe jou geloof toeneem. Daar word mos gesê: “Give God
your pain en let Him turn it into gain “ en “Make a message out of your
mess.” Rom 5:3-4 uit die Boodskap lees: “Al kry ons nou baie swaar, vat dit
glad nie ons blydskap weg nie. Alles behalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons
vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op
God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm.” ~
Wilna Botha, 05/08/2015 |
|
Waar was jy?
Ons as mensdom kan onsself darem maar vreeslik slim hou. Ons
maak so maklik Geestelike uitsprake, ons sê vir mekaar hoe die Here oor sake
dink, ons praat soms sommer namens die Here met ander en ons profeteer selfs
oor ander, sonder om seker te wees dat daardie woorde regtig van die Here af
kom. En meer nog, ons is regtig soms sommer uitdagend teenoor die Here.
So het Job hom ook vasgeloop in 'n redenasie met God.
Job 38 : 1 - 10 " Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n
stormwind uit: Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met
woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek
sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê
het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie
het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al
die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel
het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom
perke gestel, hom agter slot en grendel gesit."
Ek dink die Here sal sommer dadelik my onverdeelde aandag kry
as Hy my so konfronteer. In hierdie gedeelte kom ek net weereens tot die
besef dat God 'n soewereine God is.
Hy hoef my nie te antwoord nie, maar tog doen Hy dit.
Ons is biljoene mense op aarde, maar tog ken Hy my naam.
Al verdwaal ek soms, kom haal Hy my weer.
Hy wil my by Hom hê, al hol ek weg soos Jona.
Al klink dit heeltemal absurd, was my lewe meer vir Hom werd
as Sy enigste Seun s'n. ~ Willem Botha, 03/08/2015 |
|
“En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus
wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in
die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
(Gal 2:20) Ek kan maar net glo en vertrou op wat die Here bereid en in staat
is om vír my te doen en nie op wat ek bereid en in staat is om vir Hom te
doen nie. My beste dade is eintlik nooit goed genoeg nie. My eie krag en eie
wysheid en eie vermoëns is onvolmaak en nie noodwendig iets om op trots te
wees nie. Omdat Christus ín my lewe, word Sy karakter deel van my, word Sy
woorde deel van my, word Sy krag en Sy oorwinning deel van my en het ek ’n
heel nuwe plan waarvolgens ek dinge doen, ’n heel nuwe doel waarvoor ek lewe
... meer van Hom, minder van my. ~ Wilna Botha, 03/08/2015 |
|
Fed-up!
Was / is jy dalk ook al op tyd in jou lewe dat jy net op gesukkel is? Niks
wil werk nie, jy het alles probeer maar dit bly 'n gemors. Ek is seker die
meeste mense kan daarvan getuig. Vernaam as die besigheid nie wil werk nie,
of jou CV al na soveel plekke toe gestuur is en niks gebeur nie.
Na Jesus se kruisiging gaan die dissipels terug na hulle visvang lewe, en
hulle was dalk erg ontnugter omdat drie goue jare van hoop en verwagting
skielik tot stilstand kom. Dan lees
ons in Joh 21:1- 11 dat die dissipels gaan visvang en niks gebeur nie, nie
een vis beland in die nette nie. Dan verskyn Jesus aan hulle, maar hulle
herken Hom nie, wanneer Hy vra : Het julle al iets gevang? Nee, antwoord
hulle. Dan maak Hy hierdie vreemde voorstel : Gooi die net aan die anderkant
uit, en daar vang hulle so baie visse dat die nette wil skeur. 153 groot
visse!
Ek sien so
paar dinge in hierdie gedeelte:
1) Moenie ophou glo nie. Die Here kan enige situasie in 'n oogwink
verander. Jou huwelik, werk situasie, gesondheid, finansies.
2) Walk by faith, not by sight. Geloof beteken om te glo en vertrou
sonder om te sien.
3) Gooi die net aan die anderkant uit. Die afstand van die een kant vd
boot tot die anderkant was 'n paar meter. Dalk is jou oplossing nie ver
nie, dalk nie iets drasties nie, net 'n weer probeer.
4) Kry die net in die water. Met die net in die boot vang mens niks!
Weer probeer, hard probeer, vasbyt, uithou en aanhou.
Sterkte! ~Willem Botha, 31/07/2015
|
|
“Trust is like a sticker. Once it is removed, it may
stick again, but not as strong as it holds when you first applied
it.” Dié aanhaling is tog só waar! As iemand eers een maal vir jou
gejok het, dan wantrou jy hom maklik. As iemand jou eers eenmaal in
die steek gelaat het, sal jy nie sommer weer op hom staatmaak nie.
As iemand ’n fout gemaak het, dan sal jy volgende keer dubbel seker
maak van die akkuraatheid van sy werk. As jy iemand eenmaal
uitgevang het op ’n misstap, dan gaan jy hom in die toekoms met
valkoë dophou. Laat ons mekaar tog maar vergewe en weer vir daai
“sticker” bietjie ekstra gom opsit om hom te laat plak. Aan die
ander kant wil ek só leef dat my ja ja is en my nee nee, sodat ek
mense om my se vertroue kan behou en hulle nie teleurstel nie, sodat
die “trust sticker” wat my naam op het sal bly sit. ~ Wilna Botha,
30/07/2015 |
|
Iemand sê nou die dag dat wanhoop, woede en wetteloosheid aan die
orde van die dag is ons tyd. Ek het aanhou dink oor dié drie w’s.
Waarom sou mense se hoop verdwyn het? Is dit dalk omdat hulle op die
verkeerde dinge hoop? Hoop hulle dalk net op wat hulle vir hulleself
kan bewerk met hulle eie verstand en hulle eie sterk hande? Waarom
is daar so baie woede wat oorgaan in skree en skel en klap, waarom
word verskille nie rustig aangespreek en opgelos nie? Is dit dalk
omdat innerlike vrede ontbreek? Is dit dalk omdat die eie ek so
groot en sterk is dat ék alleen reg is? Is dit omdat mense weier om
die minste te wees en mekaar te vergewe? Waarom word reëls en wette
links en regs geïgnoreer? Is dit dalk omdat ons nie meer respek het
vir gesag nie? Is dit dalk omdat mense dink hulle is verhewe bo
reëls en mag maar maak soos hulle wil? Is dit dalk omdat mense nie
meer omgee vir ander se lewens en ander se besittings nie? Ek
wonder: is dié drie w’s dalk aan die orde van die dag omdat ons ons
rug op die Here en sy woord gedraai het? “Kom terug na die Here
julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy
is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is
bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe.” (Joël 2:13) ~
Wilna Botha, 29/07/2015 |
|
God's not dead...
Of is Hy / hy?
Richard Dawkins, waarskynlik DIE aarts-ateis van alle tye, het in 2008 'n
veldtog geloods teen Christenskap met die volgende slagspreuk op busse in
Londen :
"There's probably no god. Now stop worrying and enjoy your life"
Goeiste, het jy al sulke twyfel by SO 'n invloedryke ateïs
gesien? PROBABLY??? Is jy ernstig Mnr Dawkins? Kon hy rêrig nie sê:" Relax,
there is no god" nie? Hy wat boeke soos "The god delusion" en vele ander,
geskryf het. Ek sien 'n interessante ding gebeur by die nuwe, hedendaags
bewegings wat hulleself so openlik teen Christenskap uitspreek: Hulle
spandeer ONGELOOFLIK baie tyd aan iets waaraan hulle klaarblyklik nie glo
nie! Ek verstaan dit hoegenaamd nie!
Ons het 'n skitterende fliek gaan kyk met die titel "God's not dead". 'n
Uitstekende fliek oor Christenskap, wat nogal deur Ster Kinekor vertoon word
in gewone teaters. Dit gaan oor 'n professor in Filosofie ('n ateïs) wat 'n
jong Christen student uitdaag om te bewys dat daar 'n God is, en hoe die
studente self moet besluit of God dood is of nie. Regtig die moeite werd om
te sien!
Wat sê jy? Is God regtig nog lewendig, vir jou? Twyfel jy soms, soos ek vele
kere al het? Maar weet jy, net EEN uitroep na Hom en Hy sal Homself weereens
aan jou openbaar.
GOD'S NOT DEAD!!! ~ Willem Botha, 28/07/2015 |
|
Vriende
Ons sien onlangs 'n baie goeie fliek oor 'n paar vriende wat
'n miljoenêr ontvoer vir 'n losprys, maar vinnig-vinnig versuur
dinge toe die geld in die prentjie kom.
Die ryk man wat ontvoer is sê toe 'n baie waar ding vir die
leier van die groep :
"There are a few ways to be rich; you can either have a lot
of money, or you can have good friends, but you can't have both ".
Baie waar woorde.
Die Bybel gee vir ons 'n paar tekste wat dinge mooi opsom.
Spr 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is
daar met die oog op jou nood"
Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was,
verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie. 'n
Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is."
Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."
Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat
nader is as 'n broer."
Spr 22 : 11 "Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te
praat, het selfs die koning tot vriend."
Ek dank die Here vir vriende wat aan al hierdie dinge voldoen. En
nog meer, dat my vrou en kinders my beste vriende is. ~ Willem
Botha, 27/07/2015 |
|
Sien ek nou die dag in ’n winkel ’n Ferrari
modelkar, seker so 50 cm lank. Raai teen watse prys? ’n Hele
R100 000,00! Ja, eenhonderd duisend rand! Vir daai bedrag wil ek
sommer ’n groot kar koop wat regtig kan ry! Ek het toe gewonder ...
wie betaal nou so ’n bedrag geld vir iets wat op ’n rak gaan staan?
En hoekom sal hy dit doen? Ek wonder toe ook ... hoeveel vakansies
in ’n jaar is genoeg? Hoeveel pare skoene? Hoeveel vleis in die
vrieskas? Is dit regtig nodig dat daar ’n sekere naam op jou
horlosie of op jou hempsak of onder jou borde moet staan? Wanneer is
genoeg genoeg en wanneer word die grens oorgesteek na oordadigheid?
Gulsigheid en gierigheid is dinge waarteen die Bybel waarsku. Die
gejaag om meer en meer geld en goeters te bekom, oordadigheid,
opgaar, materialisme, uitspattige weelde en luuksheid kan gevaarlik
wees. Dit kan verhoudings vernietig, jou laat neerkyk op ander en
jou dalk hoogmoedig maak. Die probleem hiermee is verder dat dit
nooit volledige bevrediging bring nie, dat jy altyd na meer sal smag,
dat jy kan dink dat jy die Here nie meer nodig het nie, dat dit jou
gesondheid onder druk plaas en uiteindelik kan lei tot
selfvernietiging. Natuurlik kan dit alles ook in ’n oogwink
vernietig word. Vra maar vir die ryk dwaas wat nog en nog skure
gebou het vir al sy graan en toe dood is voordat hy alles kon geniet
en benut (Luk. 12:16-21). Of vra vir Prediker. Hy het bymekaargemaak
totdat hy die rykste was en toe besef het dat alles maar net ’n
gejaag na wind is, dat niks in hierdie wêreld bevredig nie. (Sien
Pred. 2:11) Jesus sê in Luk. 12:15: “Pas op en wees op julle hoede
vir elke vorm van gierigheid, want ’n mense se lewe is nie afhanklik
van die oorvloed van sy besitting nie.” Wat is vir jóú die
belangrikste? ~Wilna Botha, 24/07/2015 |
|
Super judges
Wat maak 'n goeie regter? Ek neem aan dis as die regter die
wet op die punte van sy vingers ken, heeltemal onpartydig is en as
hy nie toelaat dat emosies sy besluite beïnvloed nie. Wanneer
uitspraak in 'n regstryd gemaak word, is die wet en die toepassing
daarvan seker die heel belangrikste.
Matt 7 : 1 - 2
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle
geoordeel word, en met dieselfde
maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word."
Hierdie is 'n baie ernstige teks in die Bybel, en ek oortree elke
dag van my lewe. ELKE DAG!
Dis net gelowiges wat oordeel, want gelowiges het 'n wet waarteen
hulle kan meet, terwyl ons hierdie genoemde in die Bybel teks het,
wat ons juis daarteen waarsku. Wanneer 'n regter in 'n hof 'n
uitspraak maak, kan hy nie die liefde vir die mensdom in ag neem nie,
die wet kom eerste. Wanneer God aan die werk is kom die liefde voor
die wet.
En dis net hier wat ek vou. Ek oordeel op grond van die wet, die wet
wat ek die minste van almal kan onderhou. Wanneer ek dus met liefde
na mense kyk soos ek veronderstel is om te doen, sal die drang om te
oordeel verdwyn. ~Willem Botha, 23/07/2015 |
|
Ek lees nou die dag hierdie mooi woorde: “To
walk faithfully with God will always bring a person to experience
God’s laying His heart over his. He lays his heart over our heart
and holds us tenderly, loving us as we trust Him for what we cannot
see.” Mens kom baie keer in ’n probleem-tydperk, swaarkry-tydperk,
onseker-tydperk, pyn-tydperk waar jy net kan vashou aan die hoop dat
die Here in beheer is en dat Hy weer vir jou uitkoms sal bring, dat
Hy soos vir Abraham en Isak, ’n ram op die regte tyd sal voorsien.
Wanneer ons bly vertrou en glo dat God die pad saam met ons stap,
wanneer ons bly hoop en glo dat alles vir ons ten goede sal meewerk,
al kan ons nog nie die uitkoms sien nie, sal ons hierdie ervaring hê
dat Hy ons innerlik sterk maak, dat Hy beheer neem van ons emosies
en aan ons Sy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Mag jy
vandag troos ervaar wanneer jy voel hoedat die Here se hart oor jou
hart kom lê. ~ Wilna Botha, 22/07/2015 |
|
Vergewe my
".. en vergeef ons oortredings, soos ons die vergewe wat teen ons oortree"
Bekende woorde uit die Onse Vader gebed. Met hierdie woorde leer Jesus Sy
dissipels om vergifnis te vra, maar ook om te vergewe. Maar hoekom moet ons
vergewe, of vergewe word?
Kom ek vra 'n moeilike vraag : Kan iemand wat
selfmoord pleeg in die hemel kom? Ongelukkig is daar mense wat uitsprake
maak wat nie waar is en geweldige pyn veroorsaak na so 'n tragedie. Die
gedagte is dan dat jynie
tyd gehad het om vergifnis te vra nadat die "moord" gepleeg is nie. Nou vra
ek jou, is jou vergifnis - vra op datum, of het jy dalk iets vergeet? Of is
daar onbewustelike sondes?
Jy sien, mense verwar vergifnis vra met bekering. Wanneer ons tot bekering
kom is ons sondes wat was, is en wat kom vergewe. Ons LEEF in Jesus se
vergifnis omdat Sy bloed ons skoongewas het. Ons sondes diskwalifiseer ons
nie van die hemel nie en sondeloosheid gee nie vir ons toegang daartoe nie.
Net so kom ons nie van vooraf tot bekering as ons vergifnis vra nie.
Nou, hoekom dan vergifnis vra? Kom ons sê ek het my vrou kwaad gemaak of
benadeel, beteken dit dan dat ons nou skielik nie getroud is nie? Is daardie
lewenslange kontrak nou tot niet? Nee, verseker nie, ek is steeds getroud!
Is my kindskap van God tot niet as ek sonde doen? Nee, verseker nie!
Maar, as ek vir my vrou vir vergifnis vra is die verhouding herstel. Ek
erken dat ek verkeerd was en alles is weer reg. So ook met die Here, ek
erken my fout sodat ek more weer probeer en dit begin oorwin.
LEEF in Jesus se vergifnis! ~ Willem Botha, 21/07/2015 |
|
“Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie
uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so
julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (Joh. 15:4) Soms voel dit
vir my of dit ’n sukkelende stryd is om die “regte” dinge te doen,
om die Here te behaag, om my medemens te dien, om goeie, Christelike
vrugte te dra. Daar het vir my ’n nuwe lig opgegaan, ’n verligting
het oor my gekom toe ek Joh. 15 in die Engelse vertaling lees
waar dit sê: “abide in Me”. Dit het so ’n oorgee en rustig-wees en
laat-alles-aan-Hom-oor betekenis vir my. Die wingerdstok verskaf mos
aan die loot alles wat hy nodig het om vrug te dra. Jesus is die
wáre wynstok! Hy is die wortel en die stam en die takke, Hy voorsien
die voedsel, sonskyn, water en suurstof sodat die loot spontaan kan
bloei en die vrug kan gee wat hy moet. Ek hoef nie te spartel om
vrug te dra nie, ék hoef nie die werk te doen nie, ek hoef net
vasgemaak, ingeplant in die wingerdstok te bly. ~ Wilna Botha,
20/07/2015 |
|
Kry vir jou 'n label...
Die blondine was beswaard omdat 'n bottel sjampoe haar net een was gehou
het. Want die etiket het gesê: Was, spoel af, herhaal... of was dit dalk 'n
blonde man? Die blondine (ou) het gedoen wat die etiket sê, maar toe gaan hy/sy
in 'n “loop”. Was, spoel af, herhaal... Was, spoel af, herhaal... Was, spoel
af, herhaal...
Kyk, dit maklikste manier om iemand sleg by te
kom is om 'n "label" op hom/haar te plak, Soos wat ek pas op blondines
geplak het. Oeps skuus!
Die Bybel is baie uitgesproke daaroor :
Spr 18:8 "Skinderstories word gretig verslind, mense sluk dit so maklik"
Ek is seker jy het ook al deurgeloop, of soos ek, kwistig labels op ander
geplak. Elke maatskappy het so 'n uiters effektiewe etiketmasjien, daardie
een wat daar buite staan waar mense gereeld gaan bene rek of 'n dampie vang.
Kyk, daar word etikette vinnig vervaardig en op mense geplak wat nie daar by
die "masjien" staan nie. Ongevraagd, onverdiend, ongeregverdig en gewoonlik
onwaar.
Weet jy hoekom? Spr 26:22 “'n Geskinder is soos lekker kos...” (dink ek nou
aan 'n lekker hammie en chips)
Maar hoe voel die Here daaroor?
Spr 6:16-17 “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe dinge waaraan Hy 'n
afsku het. Oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed
bevlek is...” ens. ~ Willem Botha, 17/07/2015 |
|
In Openbaring 14:1-5 word beskryf hoedat al die
gereddes, dié wat hulle klere gewas het in die bloed van die Lam,
dié wat gemerk is as eiendom van die Here, dié wat losgekoop is
deur Jesus, ’n nuwe lied voor die troon van God sing. Hierdie lied
klink soos die gedruis van ’n groot waterval en soos die gedreun van
swaar donderweer. Net dié wat aan God behoort, kon die lied leer.
Net dié wat onberispelik, rein, skoon en afgesonder vir die Here is,
dié wat Jesus bly volg, ongeag die omstandighede, net dié wat by
die waarheid bly, kon saamsing. Dit laat my weer besef dat al is ons
vrygespreek en al het ons Jesus se verlossing en God se genade as ’n
geskenk ontvang, dit steeds ook belangrik is om heilig, skoon en
rein te wees in ons lewenstyl en onberispelik in ons optrede. Kan
jy saamsing? ~ Wilna Botha, 15/07/2015 |
|
Die grootste oorlog
Wat is die grootste oorlog waarvan jy weet? En wat die
langste aangehou het? En die meeste mense geaffekteer het? Tweede
wêreld oorlog? Viëtnam ? Die grootste oorlog, ooit, wat die langste
aanhou en een wat elkeen van ons affekteer, is natuurlik 'n
geestelike oorlog. Nou, as ek vir jou vra om 'n teks aan hierdie
gedagte te koppel, sal jy waarskynlik dink aan Ef 6 : 12. "Ons stryd
is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen
elke gees wat
heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug".
Dus, nie 'n stryd teen vlees en bloed nie. Hierdie oorlog wat hier
in my binneste woed, is wreed, dit vreet my op en ek voel myself die
hele tyd aan die verloorkant, hierdie stryd tussen myself en my
sondige natuur.
Paulus beskryf dit beter as wat ek kan droom om dit te doen.
Romeinse 7:15 "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil
doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek."
Paulus - so lyk dit - het hierdie oorlog goed geken, en dit voel of
ek elke dag hierdie woorde van Paulus wil uitskree. Jy sien, my
probleem is dat ek die hele tyd voel of EK hierdie oorlog moet wen,
terwyl dit lankal reeds gewen is.
Rom 7 : 24 - 25a
"Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan
God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here."
Maar ek sal bly voortveg, nie meer om die stryd teen die bose te wen
nie, maar omdat dit goed is om die sonde te oorwin. ~ Willem Botha,
15/07/2015 |
|
“A loving person lives in a loving world. A hostile
person lives in a hostile world. Everyone you meet is your mirror.”
Probeer bietjie om vir iemand te glimlag, of vriendelik te groet, of
’n gunsie te doen, ’n kompliment te gee, behulpsaam te wees,
toegeeflik te wees en hulle sal dieselfde gesindheid na jou toe
weerkaats. Wys vinger vir iemand wat na jou mening swak bestuur,
skree op die petroljoggie wat nie vinnig genoeg is nie, wees
oneerlik met jou werkgewer, wees geïrriteerd met jou man , ignoreer
’n familielid en jy gaan daai selfde houding sien weerkaats na jou
toe. Dis seker maar hoekom die Bybel juis vir ons aanbeveel om aan
ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Ja, ek weet dis nie
maklik nie en ek is meeste van die tyd ook nie lus om sommer net
vriendelik en goedhartig en mededeelsaam te wees nie. Ek wil egter
beslis in ’n liefdevolle wêreld lewe, aanvaarding in die spieël van
die lewe sien, daarom kies ek weer dié lewensreël: “vra julle af hoe
julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan
voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op.” (Luk. 6:31, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 14/07/0215 |
|
Elke knie sal buig
Hoeveel ongelowige mense dink jy is in die hel? Wel, mens se reaksie is
sekerlik maar gewoonlik : Almal. Maar dis inderdaad nie korrek nie, elke
enkele mens wat dit tot daar gemaak het na afsterwe is gelowig, en meer as
gelowig!
Luk 16: 22 - 28
“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die
ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in
die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in
die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor
my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek
en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham sê:
‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus
die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En
buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat
hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook
nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom
tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan
waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
Dit lyk my jou
knie sal buig, of jy wil of nie. Geseënd is diegene wie se knieg buig in
hierdie lewe, want hulle sal gered wees.
Fil 2 : 9 - 11
"Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat
bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op
die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader." ~ Willem Botha,
13/07/2015 |
|
“If we’re in Christ, our lives are in His hands, and
nothing can touch us that hasn’t first been filtered through His
fingers of love” - Nancy Leigh DeMoss. Ek glo met my hele hart dat
niks wat met ons gebeur buite die Here se beheer is nie, Hy weet van
alles wat ek en jy vandag moet hanteer, Hy het dit vir ons uitgekies
en dit toegelaat. Sekere dinge wat jy dalk vandag moet deurmaak mag
sleg of negatief of moeilik wees, maar onthou dat jy in Sy hand is,
onder Sy vleuels, binne Sy beskerming, toegevou in Sy liefde. “Selfs
wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant
toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U
is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my
veilig voel.” (Ps. 23:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 10/07/2015 |
|
Rasputin vs Jesus
Tussen 1869 to 1916 leef Grigory Rasputin in Rusland. Rasputin was eerder
berug as beroemd, en het die vermoë gehad om almal op hol te jaag. Rasputin
was nie noodwendig bekend as ‘n misdadiger nie, maar eerder iemand wat vol
streke was, wie jy nooit kon vertrou nie, en hy het die eienaardigste goed
aangevang. Hy het selfs 'n verhouding met die koningin gehad, en later het
die mense hom vermoor. Rasputin was ‘n gure kárakter! Hy was veelbesproke,
en Boney M het ‘n treffer gehad het met die liedjie “Rasputin”.
Die woord "karakter"
word op twee maniere gebruik: In ou Rasputin se geval sê ons die ou is 'n
gure karakter, maar iemand met 'n goeie reputasie staan bekend as 'n persoon
van karakter.
Soos Jesus natuurlik
, want Jesus se karakter was onbesproke, Hy het niemand benadeel nie, het
vir ander geleef, en uiteindelik ook vir ander gesterf, en Hy het presies
gedoen wat Hy gesê het.
Hy het gesê Hy gaan gekruisig word, en dit het gebeur, Hy het gesê Hy gaan
opstaan uit die dood en Hy het, hy het gesê dat Hy gaan opvaar na die Hemel
om vir ons plek te berei en Hy het. Hy sê ook dat Hy ons sondes vergewe en
dat ons gered is as ons Hom aanneem en ek glo Hom. Hy het ook gesê Hy gaan
weer kom en ek glo Hy gaan, want dit is Sy karakter. ~ Willem Botha,
09/07/2015 |
|
Spr. 11:23 sê: “Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges
se drome lei tot frustrasie en ellende.” Die rede hiervoor is
sekerlik dat gelowiges se hoop ’n vaste, veilige, onbeweegbare anker
is. Ons hoop is op die Here wat alreeds alles gedoen het om vir ons
’n toekoms en ’n verwagting te verseker. Ons hoop is nie gesetel in
iets wat dálk sal gebeur nie, ons hoop is nie net ’n wens of ’n
droom nie, dis gesetel in die sekere wete dat God is wie Hy sê Hy
is, dat Hy sal doen wat Hy belowe het om te doen. As jou hoop op
geld of goeters, ’n ander mens, jou eie krag of gesondheid, jou werk
of selfs jou kerk is, kan daar frustrasie, ontnugtering en ellende
wag, want niks hiervan is standhoudend en betroubaar nie. Mag jou
hoop vandag weer opvlam omdat jy wéét dat die Here se liefde
onwankelbaar is en Sy genade groot, sonder voorwaarde en sonder
einde is. “Yet hope
returns when I remember this one thing: The Lord's unfailing love
and mercy still continue.” (Klaagliedere 3:21-22) ~ Wilna Botha,
08/07/2015 |
|
Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig
en bly wees. (Ps 118 : 24)
Wat hou hierdie dag vir jou in? Waarna sien jy uit vir vandag?
Is daar léwe in vandag? Ek maak 'n stelling, ons het die kuns
verloor om vir vandag te lewe. Iemand noem vir my hierdie aanhaling:
"Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a
blessing." Hoe moeilik is dit nie vir ons arme mensdom om vandag
voluit te leef nie. Ek het die vraag gevra: wat hou vandag vir jou
in? Vir
jou, as individu. Vir die meeste mense is dit of niks, of spanning,
of harde werk, of sommer net 'n totale leegheid. So asof ons soms
sommer net opgee om te leef.
Ag, waar is die goeie ou dae? Als was so eenvoudig en
ongekompliseerd en die spanning was niks teen vandag nie. Die
politiek was beter, die finansies het minder geknyp, misdaad was min
en SA was lekker plek. Jy kan sê wat jy wil, dit was baie lekkerder.
Maar dis verby. Punt. Ons het nou wat ons het, die vraag is net:
Definieer die omstandighede jou, of kan jy ten spyte daarvan nog
beter leef as vroeër?
Pred 7 : 10 "Moenie sê die ou dae was beter as nou nie. Dit is nie
uit wysheid dat 'n mens so sê nie."
Daar het jy dit. Hou op verskonings maak en leef! Voluit! ~ Willem
Botha, 07/07/2015 |
|
“Voor ek nog kon kies, kon vra, het U seun my vloek
gedra. Ek kon vind: U’t my gekry voor ek nog my skuld bely.” Dis die
pragtige woorde van Gesang 10, wat ons al só lankal sing en bely; dit
het my egter opnuut diep getref toe ek besef hoe groot die Here se
genade vir ons is. Ons verdien heeltemal niks van Sy goedheid nie,
ons kon hoegenaamd niks gedoen het om sy vryspraak en vergifnis te
ontvang nie. Ons het nog nie eens geweet dat ons dit nodig het nie,
ons kon nog nie eens sien dat ons sondig en verlore voor God is nie,
toe het Jesus reeds die prys vir ons betaal. Ons het nog in die
sonde gesit, ons kon nog nie ’n keuse maak teen sonde, of vra vir
die Here se vergifnis nie, toe het Jesus alreeds gesê: dit is
volbring! “Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek
doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.” (Rom 5:8,
Die Boodskap) Ek sing weer uit volle bors die Gesang: “Grote God,
aan U die eer!” ~ Wilna Botha, 06/07/2015 |
|
Werk toe!
Seker nie altyd lekker woorde nie, of hoe? Geniet jy jou werk
of is dit net 'n straf vir jou? Ongelukkig lyk die statistiek oor
werksbevrediging nie te goed nie, met slegs 2% mense wat ten volle
gelukkig is in hulle werk.
Gen 3 : 17 - 19
Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou
geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het
om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal
jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe
lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy
sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy
terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy,
en jy sal weer stof word.”
Arme Eva, op grond van hierdie teks word sy beskuldig dat haar sonde
verantwoordelik is daarvoor dat ons so hard moet werk. Maar dis nie
waar nie, dit opdrag dat ons moet werk is aan die mens gegee direk
na sy skepping.
Gen 2 :15
"Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en
op te pas."
Niks te doen met Eva se vrug - lus nie...
Die vraag is net, hoe gelukkig is jy daar waar jy die meeste van jou
tyd deurbring?
Ps 37 : 3
" Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk
rustig voort "
Skitterende raad. Moenie op mense vertrou nie, doen jou werk rustig
en doen wat goed is. Dit was geensins Adam en Eva se skuld nie. Dus,
gaan doen dit sodat jy 'n verskil kan maak aan ander se lewens, ook
sodat dit 'n verskil in jou eie lewe kan maak. Gee eer aan die Here
vir Sy genade. Lekker werk! ~ Willem Botha, 03/07/2015 |
|
Toe ons nou die dag weer die liedjie “Blessed be Your
Name” sing, het ek bietjie daaroor nagedink wat dit beteken om die
Here te “bless”. Dit beteken mos om die Naam van die Here groot te
maak, om Hom te prys, te loof en te eer. Dit beteken om Hom voor Hom
te buig, Hom te aanbid, Hom te bewonder en liefde te bewys met alles
wat in my is.
"Bless the LORD, O my soul,
and all that is within me, bless his holy name!” (Ps. 103:1) Die lied sê so mooi dat ons die Here moet prys wanneer dinge
goed verloop en alles goed gaan met ons: where streams of abundance
flow, when the sun’s shining down on me, when the world’s all as it
should be. Maar, dit sê ook dat ons die Here moet loof en eer selfs
wanneer dinge donker raak: though I walk through the wildernis, when
the darkness closes in, on the road mark with suffering. Wat jou
omstandighede ook al is, kan en moet jy steeds kies om die Here te
loof ... “my heart will choose to say Lord, blessed be Your Name”,
of soos wat Job gesê het: “Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21) ~ Wilna Botha, 02/07/2015 |
|
Die Woord vir vandag.
Ons hoor so baie dat mense die Bybel se gesag half probeer
onderdruk deur te beweer dat die Bybel lank terug, vir lank terug
geskryf is. Ons, daarenteen, wat die Bybel se gesag onvoorwaardelik
aanvaar, pas alles gemaklik dag vir dag toe.
2 Tim 3:16
"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde
om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg
te stel en 'n regte lewenswyse te kweek".
So sê die Bybel. Wel, ek glo dit
maklik, maar die ongelowige nie. Die boek Spreuke kan deur enige
life couch gebruik word as 'n handboek van die lewe, want dit bevat
die wonderlikste raad vir ons dag tot dag lewens. Daar is soveel
tekste wat hoop gee, daar is vertroosting vir mense wat deur
moeilike tye gaan, daar is raad vir die huwelik en kinderopvoeding,
werkgewers kry riglyne en kinders leer van respek.
Daar was nog nooit enige boek in die lewe wat so 'n wye inpak maak,
oor so lang tydperk nie, en dit sal vir altyd so wees. Lees, leer en
leef! ~ Willem Botha, 01/07/2015 |
|
“’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai
word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewe.” (Spr. 12:14,
Die Boodskap) Hierdie is een van die tekste wat my net laat besef
hoe ’n groot invloed ons woorde het, nie net vir onsself nie, maar
ook vir dié wat aan die ontvangkant daarvan is. Aan die een kant is
dit skrikwekkend om te dink dat die vrot en slegte vrugte wat in die
mense om ons se lewens te sien is, dalk deur óns toedoen is, die
gevolg van die negatiewe saad wat ons rondgestrooi het met ons
woorde – woorde wat afbreek, vernietig, verkleineer, veroordeel en
vloek. Aan die ander kant is dit wonderlik om te sien dat mense
groei en positief beïnvloed word deur ons wyse woord-saad wat in
hulle lewens geval het – woorde van aanmoediging en bemoediging,
eerlike komplimente en aanprysing, goeie raad en sinvolle advies. Ek
bid maar net weer in die woorde van Ps. 141:3: “Here, stel ’n wag
voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” ~ Wilna Botha,
29/06/2015 |
|
LOL!
... wat natuurlik die afkorting is vir "Laughing Out Loud". Facebook taal.
Iemand stuur vir my onlangs iets wat sê dat ons as Christene nie dit mag
gebruik nie want dit beteken "Lucifer Our Lord". Elke keer wat ons dus LOL
tik sê ons dat Satan ons god is.
Wel, ek glo regtig dat daar goeie bedoeling agter dit is en dat ons die Here
eerste in ons lewe moet stel, en nie die duiwel eer moet gee nie. Maar kry
ons nie juis die teendeel reg nie? Hierdie afkorting bestaan nog nie
100 jaar nie en is nie deur Satan of sataniste uitgedink nie. Dit lyk of dit
wat eintlik onskuldig is, gekaap word en dan teen ons gebruik word, en ek
wonder wie doen dit. Die bose, of dalk sommer onsself?
Weet jy, ek dink ons vervlak so maklik ons Geestelike lewens tot die dikte
van 'n stukkie papier, waarop ons slagspreuke skryf en onsself toelaat om
weer te verval in wettiese en godsdienstige reëls. Dan glo ons ons reinig
daarmee ons lewens. Het Jesus nie aan die kruis gesterf met bitter duur
bloed, juis om ons vry te maak van hierdie godsdienste goetertjies nie?
Satan is verslaan my vriend, ons moet op geen manier vir hom enige eer gee
nie!
'n
Verhouding met Jesus is BAIE dieper as oppervlakkige doktrines. Kom ons
geniet hierdie verhouding met Jesus en hou op om nuttelose, ondraaglike
laste op mekaar te plaas. ~Willem Botha, 29/06/2015
|
|
“ ... and in Him all things hold together.” (Kol 1:17)
Voor alles het Jesus bestaan, deur Hom het alles tot stand gekom, Hy
is die oorsprong van alles en deur Hom bly alles aanmekaar. Jesus is
die fondasie, die boublokke en die sement van alles in die heelal.
Hy hou die grootste hemelliggaam en die kleinste atoom op sy plek.
Alles het sin en waarde omdat Hy bestaan en omdat Hy alles in stand
hou en sorg dat dit nie in duie stort nie. So ook is Jesus die kern
en die gom in my lewe. Hy hou alles bymekaar, Hy gee sin en rigting
aan my bestaan. Hy weet alles en Hy sorg vir alles. Dit vul ’n mens
mos nou met bewondering en met vrede wat alle verstand te bowe gaan!
~ Wilna Botha, 26/06/2015 |
|
NET die Een of die ander
Die wet van Moses (of liewer, die Here se wet soos aan Moses
gegee) is 'n wonderlike "dokument" en is goed in sy totaliteit.
Moenie steel nie, moord pleeg nie, egbreuk pleeg nie, ens is
wonderlike opdragte en sal vir ewig groot waarde hê. Die probleem is
dat ons aanhoudend teruggryp na die wet om die Here te behaag sodat
ons nie verlore gaan nie. Die punt is, die wet kan nie red nie! Dis
óf Christus, óf die wet wanneer dit by ons Saligheid kom.
Gal 5 : 1-3
"Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas
in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat
indwing nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat
besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer
nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele
wet van Moses te onderhou."
Paulus is baie uitgesproke hieroor wanneer hy praat oor die vryheid
in Christus. Ek dink sy probleem was dat mense aanhoudend teruggryp
na die dinge "voor Christus". Mense wil hulle besny, rituele uitvoer,
allerhande reëls navolg, dinge op sekere maniere vier en besig bly
met onbenullighede, terwyl dit Christus en Christus alleen is. So
asof die Here een of ander teenprestasie moet lewer as ons goeie
dinge doen.
Nee wat my vriend, doen die goeie dinge, maar doen dit net uit
dankbaarheid vir Sy kruisdood. ~ Willem Botha, 25/06/2015 |
|
“Deur al die gevaar het U u kinders veilig beskerm.
Deur die grootste krisis het U hulle gelei. U het dit op U eie
manier gedoen.” (Ps. 77:20 Die Boodskap) Die uitkoms en redding wat
die Here vir ons voorsien is altyd volgens Sy plan en Sy
alwetendheid. Ek probeer te veel kere om vir die Here voor te skryf
hoe Hy in my situasie moet ingryp. Hy alleen sien die hele prentjie
van hier tot in die toekoms en ek moet myself oorgee aan Hom en hoe
Hy op sy eie manier in my lewe kan werk. Leun vandag terug in die
Here arms, gee oor en laat Hy jou op Sý manier en op Sý tyd deur jou
krisis lei. ~ Wilna Botha, 23/06/2015 |
|
Waarheid
Kom jy agter hoe moeilik dit is om by die waarheid, die volle waarheid en
niks anders as die waarheid nie, te bly? Dit voel vir my so asof dit
makliker was in die "goeie ou dae". Of liewer, lieg raak so die norm, dat
mens net mooi niemand se integriteit meer kan vertrou nie, selfs dalk nie
eers jou eie nie. Professionele mense word selfs opgelei om die waarheid so
te verdraai dat dit so reg klink, dat mens dag vir dag mislei word met
leuens (of dalk net halwe waarhede)
sonder dat die ander persoon 'n oog knip. En boeta, dit raak wild as jou
geld gevat word in die proses.
Die vraag is net, is ek self nie ook al daar nie? Ek weet egter een ding,
die Here haat dit!
Spr 6 : 12 - 13 "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg
is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te
beduie, met die vingers tekens te gee."
Dalk is
dit tyd vir 'n nuwe besluit hiervoor.
Ps 49 : 4 "My mond gaan suiwer wysheid praat, wat ek gaan sê, sal van
insig getuig."
Spr 8 : 7 "Ek praat net die waarheid, ek het 'n afsku van wat verkeerd
is."
Ek wonder of ek net een dag sal hou... ~ Willem Botha (22/06/2015)
|
|
“Ek het nie tyd nie”, is ’n sinnetjie wat ons almal
baie gebruik ... en hoeveel keer is dit dalk ’n leuen? Ons het almal
tog ewe veel tyd – 24 uur elke dag, 1 440 minute elke dag, 86 400
sekondes elke dag. Ons sê: ek het nie tyd nie, maar eintlik bedoel
ons: dis nie belangrik genoeg vir my om tyd daaraan te spandeer nie.
Of dalk: dis nie dringend genoeg nie. Of dalk: ek heg nie waarde
daaraan nie. Of dalk: ek wíl dit nie doen nie. Of dalk: ek wil nie
skuldig voel omdat ek iets nie gedoen het nie. Baie keer as ek sê:
ek het nie tyd nie, dan beteken dit maar net dat ek iets anders met
my tyd gedoen het. Ek kan byvoorbeeld sê: ek het nie tyd om Bybel te
lees nie. Inderwaarheid het ek maar net al die ander dinge bokant
Bybellees gestel – ek het TV gekyk, winkels toe gegaan, op Facebook
rondgeblaai, ens. i.p.v. Bybellees. Dit waaraan ons tyd bestee is
dit wat werklik vir ons prioriteit is (ons kon die woord dalk eerder
priorityd gespel het!) Vandag was mos die korste dag van die jaar -
waarvoor het jy vandag tyd gehad en tyd gemaak? “Our
people should learn to spend their time doing something useful and
worthwhile.” (Tit 3:14) ~ Wilna Botha, 21/06/2015 |
|
Jy en jou Ventertjie
As mens die pad vat Kaap toe met 'n sleepwaentjie agter die motor
kyk jy kort-kort in die spieël of Ventertjie nog kom. Daai waentjie
is gelaai met alles wat jy nodig het, en slegs wat jy nodig het,
want spasie is skaars. Maar gaan nou op toer met hierdie waentjie en
jy laai in elke dorp goetertjies by, totdat jy naderhand onnodig
swaar trek. So is dit in die lewe ook, dag vir dag laai jy "bagasie"
by, totdat daardie waentjie 'n reuse las is. Daar is
hordes dinge wat gemors in jou waentjie pak, jou verlede, dalk jou
ouers, swak selfbeeld en baie ander dinge.
Maar daardie bagasie maak dood. Naderhand sleep jy nie meer die
waentjie nie, hy stoot jou! En hy stoot jou net waar hy jou wil hê.
Soms moet mens egter maar net stop en die ding afpak en kyk of daar
nie 'n paar dinge uitgesmyt moet word nie. Die lewe is te swaar om
nog gemors ook saam te sleep. Paulus het net die regte antwoord in
Fil 3:13
"Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een
ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat
voor is." ~ Willem Botha, 21/06/2015 |
|
So rukkie gelede het iemand die heuning-teks in Op
10:10 weer onder my aandag gebring: “Ek het toe die boekie uit die
hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet
soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” Ek
het bly wonder hoekom iets wat soet in jou mond is, later ’n bitter
uitwerking sou hê. Toe hierdie gedeelte ter sprake gekom het in ons
Bybelstudiegroep, het ek geleer dat die boekie wat Johannes van die
engel ontvang het, die boodskap van die evangelie simboliseer. Hy
moes dit sy eie maak deur dit te eet en daarna moes hy die boodskap
gaan verkondig het aan alle volke en nasies. Dit was soet soos
heuning, want dis ’n wonderlike boodskap om te hoor en die
verkondiging daarvan was ook soet. Die gevolg was egter verwerping,
vervolging en lyding ter wille van die evangelie, wat die soet
bitter laat word, het. Nou vra ek myself af of ek bereid is om saam
met die heuning-soet van die Evangelie-boodskap, ook die bitter te
verduur? Is ek bereid om die pad enduit te stap, al staar ek ook
vervolging en lyding in die gesig, al word ek ook gespot en verwerp?
“Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste
heuning.” (Ps. 119:103, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/06/2015 |
|
Vir wie sloof jy jou af?
Prediker 4 : 8 "Daar was 'n man wat alleen was, sonder seun
of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was
hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: "Vir wie sloof
ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?" Ook hier kom dit tot
niks. Dit bly 'n harde saak."
Vir wie sloof ek my so af? Nogal 'n goeie vraag of hoe? Werk
toe en terug dag na dag, geen tyd vir jouself nie, geen geld vir
lekker dinge nie, ploeter net voort. Hierdie teks vat dit so goed
raak, want die gejaag na rykdom, of goedere, oorheers alles in ons
lewens. Sê nou maar net dit raak op? Miskien word ons deur vrees
gedryf, of dalk hebsug, of dalk onvervulde drome.
Ek dink nie hier is 'n maklike antwoord nie, maar ek weet een
ding, ek wil die beste maak van hierdie lewe. Daar is veel meer
lekker dinge in hierdie lewe as slegte dinge, die son skyn meer as
wat dit onweer is. Daar is meer rede om te lag as om te huil, daar
is meer vrede as oorlog. Ek neem opnuut die besluit om eerder die
positiewe as die negatiewe raak te sien en om my "af te sloof" met
'n glimlag op die gesig. Wat kies jy? ~ Willem Botha, 17/06/2015 |
|
Aangesien dit jeugdag is, het ek bietjie aan die
jongmense gedink wat ek ken. Daar is só baie in hierdie wêreld
waaraan hulle blootgestel is, soveel keuses wat daagliks voor hulle
is, soveel groot besluite om te neem terwyl hulle min ervaring en
insig van die lewe het, daar is soveel verleidings na dinge wat
lekker en goed lyk, maar wat nié heilsaam is nie. In 2 Tim 2:22 is
dié raad te vind: “Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar kan
bring.” Die Ou Vertaling stel dit nóg sterker as dit sê: “Vlug weg
van die begeerlikhede van die jonkheid”. Van watse begeertes word
hier gepraat? Ek dink dis nie net seksuele, liggaamlike begeertes
nie, dis ook ongesonde begeerte na mag, rykdom, status en sukses.
Dit mag ook verband hou met oormatige trots, met ongebalanseerde
selfgerigtheid en hooghartigheid, met ’n kompeterende ingesteldheid
wat oorvloei in afguns en jaloesie. Ek vra saam met die Psalm-skrywer:
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur te streef na opregtheid,
geloof, liefde en vrede, sê 2 Tim 2:22. My gebed is dat jongmense
nie bang sal wees om anders te wees of om stroom-op te swem nie, dat
hulle sal vasstaan by beginsels en sal wegvlug van dit wat hulle
lewenspad kan besoedel. ~ Wilna Botha, 16/06/2015 |
|
“In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was
nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed
te maak nie.” (Joh. 14:2) Soos wat dit tydelik is om in ’n tent
vakansie te hou, so is ons verblyf op aarde ook tydelik. Êrens pak
jy weer daai tent op en skuif aan na ’n meer permanente, geriefliker,
veiliger woonplek. Dis vir my wonderlik om te dink dat Jesus besig
is om vir ons plek gereed te maak in die hemel, dat Hy sorg daarvoor
dat ons ’n ewige blyplek in die huis van die Vader het. Hoe daai
blyplek lyk, weet ek nie, wat ek wel weet, is dat dit ’n werklikheid
is, dat geloof in Jesus die padkaart daarheen is, dat daar baie en
genoeg plek is, dat dit onbeskryflik wonderlik gaan wees, dat dit in
die volle teenwoordigheid van God gaan wees en dat dit vir altyd en
ewig gaan wees. Moet dus nie net werk en hoop en bou vir hier en nou
nie – dis tydelik, dit gaan verby. Jesus belowe dat Hy vir ons plek
gereedmaak en wanneer dit gereed is, kom Hy ons haal – glo jy dit?
Sien jy uit daarna? Is jy gereed daarvoor? ~ Wilna Botha, 15/06/2015 |
|
Jy is okay, weet jy?
Het jy ook al gesien hoe mense meer en meer sukkel met hulle
selfbeeld? Mense het eenvoudig net nie meer selfliefde nie. Die
wêreld bombardeer ons met negatiwiteit sonder dat ons dit agterkom,
deur altyd net die volmaakte vir ons voor te hou. Die sepiesterre is
mooi en maer, die suksesvolles haal die nuus, die rykes versier die
tydskrifte se voorblaaie en die topsportmanne word die helde van die
dag.
En so gaan ons dunk van onsself by die dag verder
agteruit. En o ja, daai skindertonge by die werk verwoes jou lewe so
dat alles sommer net misrabel word.
Wel, die goeie nuus is dat dit wat ander van jou dink, en selfs dit
wat jy van jouself dink, baie minder belangrik is as dit wat die
Here van jou dink. Dalk glo jy dit nie altyd nie, maar jy kan niks
doen om dit te verander nie. Besluit maar self wat jy van hierdie
teks dink.
Sefanja 3 : 17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat
red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy
jubel en juig oor jou" ~ Willem Botha, 12/06/2015 |
|
Ps. 103:14 praat daarvan dat ons van stof gemaak is. Dit
impliseer dat ons nietig en swak is, dat ons fisies amper niks werd
is nie. Ons is maar ’n klompie koolstof, waterstof, suurstof,
stikstof en het ook ’n bietjie yster, koper, magnesium, swael, ens.
in ons samestelling. Iemand het eendag gesê dat ons chemies omtrent
dieselfde is as ’n klein sakkie houtskool, ‘n paar emmers water en
’n sakkie kalk met net genoeg yster vir een spyker, genoeg swael vir
’n vuurhoutjie of twee,
genoeg vet vir ’n paar koekies seep – nie veel werd nie, nè! Maar,
as lewende wese, met God se asem in ons, het ons Sy krag in ons, is
ons die kroon van Sy skepping en is ons oneindig kosbaar en
waardevol vir die Here. Dit laat my dink aan die woorde van ’n
liedjie wat ons sing: “I’ve got the life of God in me, I’ve got His
power, His nature and His ability, I’ve got the life of God in me.”
Al is ons net stof ... ~ Wilna Botha (11/06/2015) |
|
Moeggewag
Jy het seker ook al by tye gekom wat jy moeg gewag is vir die Here
om 'n gebed te vehoor, of hoe? Hy gee tog vir ons die versekering
dat Hy vir jou sal gee wat jy vra, as jy net reg vra.
Matt 7:8-9 "Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry,
en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle
sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis
vra?”
Ek dink hierdie teks word dikwels verkeerd gebruik en aangehaal,
vernaam
as ons iets regtig nodig het. Wel, die vraag is of ons regtig die
Here kan vertrou om die regte uitkoms te gee vir dit wat ons vra.
Ek glo die Here antwoord ons gebede op een van drie maniere : Ja,
Nee, of Wag.
"Ja" is lekker en seker die mees gewilde een. "Nee" is glad nie
aanvaarbaar nie, en Wag is uiters frustrerend! Hoe sou dit wees as
jy net altyd "ja" gesê het as jou eie kinders iets vra? Dit sou 'n
ramp wees, want soms dink hulle hulle vra 'n vis maar hulle vra
eintlik 'n slang. Nee is dikwels die regte antwoord.
Maar "Wag"? Ai, weet die Here dan nie hoe kritiek my situasie is nie?
Jy sien, soms loop" Wag " op 'n "Ja" uit, maar ander dinge moet eers
in plek val, en ons moet geduldig wees.
Dus, ons sal maar op die Here moet vertrou, Hy was nog nooit
verkeerd nie. ~ Willem Botha (10/06/2015) |
|
Onthou volgende keer wanneer jy in die een of ander
nood is, of voel dinge raak net te veel, of probleme druk te swaar
en jy weet nie watter kant toe nie, dat jy nie die enigste persoon
in so ’n situasie is nie. Die skrywer van Psalm 77 was ook daar! “Ek
is baie omgekrap. Ek het nie woorde om te sê hoe omgekrap ek is nie.”
(Ps. 77:5, Die Boodskap) Ek leer só baie uit sy “resep” om hierdie
omgekraptheid te verwerk. Hy roep na die Here, bid dag en nag, soek
na Hom, sug voor Hom. Wanneer dit lyk of daar nie uitkoms of
antwoorde is nie, raak hy effe opstandig, vra vrae oor die Here en
stoei met Hom in sy gedagtes. Dan dink hy bietjie terug aan die Here
se wonderdade van redding en voorsiening wat hy al in die verlede
beleef het. Dit vloei summier oor in ’n lofprysing waarin hy die
Here se genade, mag, krag, grootheid en heiligheid besing. Hierna
volg vrede wat alle verstand te bowe gaan, kalmte,
tevredenheid en rus in die Here se teenwoordigheid. ~ Wilna Botha,
09/06/2015 |
|
Is ons dan alleen reg?
Jy het sekerlik ook al baie die vraag gehoor(en gewonder) of ons Christelike
geloof dan die enigste geloof is wat kan lei tot Saligheid, en dus vir ons
die Ewige lewe kan bring. Wel, indien nie, kan ek nie verder op die Bybel as
die Woord van God staatmaak nie, want die Bybel is baie duidelik daaroor dat
Jesus die enigste weg tot Saligheid is.
Joh10 : 7 - 9 Toe het Jesus verder gesê: "Dít verseker Ek
julle: Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor
My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister
nie. Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal
in en uit gaan en weiding kry."
Een God, met 'n Seun met die naam van Jesus Christus. Geloof in Hom deur Hom
as saligmaker aan te neem, en niks anders nie. Volgens die Bybel is dit al
wat "reg" is. Geen ander "geloof" aanvaar hierdie voorwaardes nie. Slegs
diegene wat dit aanvaar pas in die voorskrifte van die Bybel. ~ Willem
Botha, 08/06/2015 |
|
“Maar
die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?””
Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en dié sondelas het gemaak dat
hulle vir Hom weggekruip het. Dit het hulle verhouding en openheid
met God vertroebel, dit het ’n muur tussen hulle en Hom gemaak en ’n
kloof van skuldgevoelens gevorm. Die Here vra nie “waar is jy” omdat
Hy nie weet waar hulle is nie, Hy vra dit omdat Hy wil hê dat hulle
na Hom toe moet draai. Hy vra dit nie omdat Hy hulle wil veroordeel
nie, hy vra dit omdat Hy genade aan hulle wil bewys en hulle wil
help deur vir hulle klere van vel te maal. Waar is jý vandag in jou
verhouding met die Here? “Daar is geen enkele mens wat so diep
verlore is dat God hom of haar nie kan vind en red nie.” (Andrew
Murray) Moenie langer wegkruip nie, die Here roep jou vandag op jou
naam: “Waar is jy?" ~ Wilna Botha, 05/06/2015 |
|
Ek was nou die dag in die geselskap van ’n klomp
kerkmense wat almal hulle godsdienstige dinge op dieselfde manier
doen. Ek het die gevoel gekry dat hulle my oordeel omdat ek nie die
Here volgens dieselfde resep as hulle dien nie, omdat dieselfde
geestelike dinge wat vir hulle belangrik is, nie noodwendig vir my
belangrik is nie. Ek het dit maar net weer vir myself uitgemaak dat
dit nie gaan oor hoe hard jy sing, hoe hoog jy jou hande opsteek,
hoe lank jy op jou knieë staan, hoeveel keer jy al die Bybel
deurgelees het of watter vertaling van die Bybel jy lees nie. Die
Here kyk altyd na jou hart, nie of jy die regte geestelike taal
praat, die regte kerk besoek, elke kolletjie van die wet nakom,
nooit ’n fout maak en of jy R20 of R200 in die kollektebordjie gooi
nie. Die Here het ons elkeen uniek gemaak en daarom kan en moet ons
Hom dien en aanbid volgens ons eie styl en unieke persoonlikheid,
met jou hele hart, siel en verstand. “There is no
‘one-size-fits-all’ approach to worship and friendship with God. One
thing is certain: You don’t bring glory to God by trying to be
someone He never intended you to be. God wants you to be yourself.”
(uit: Purpose Driven Life) ~ Wilna Botha, 03/06/2015 |
|
Die volmaakte moord
Ek dink by verre die meeste mense wat al moord gepleeg het, het geglo hulle
kon daarmee wegkom en baie het al planne beraam om die volmaakte moord te
pleeg. Wel, die maklikste manier om hierdie volmaakte moord te pleeg is met
woorde. Kwetsende woorde, slegsê, om mense te verneder en dan sommer net ons
geliefde stokperdjie: Skinder.
Dis so maklik om mense se lewens te verwoes met woorde, jy
verdraai hulle woorde sommer net bietjie, of jy vertel leuens wat hulle
skade aandoen. Elke mens op aarde wat emosionele letsels het, het dit
opgedoen deur woorde. En weet jy wat is die ergste? Jy kom weg met moord!
Spr 16 : 28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak
twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende."
Spr 20 : 19 "Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand
wat baie praat."
Lev 19 : 16 "Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe
in gevaar stel nie. Ek is die Here"
Ek glo Here haat dit! Nee, moenie dit doen nie.
Doen liewer die volgende :
Spreuke 16 : 24 "Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die
mens." ~ Willem Botha, 02/06/2015 |
|
“Alles gebeur op sy tyd. Die windpomp gaan soek nie die
wind nie”, so lees ek nou die dag. Daar is net só baie dinge wat
buite ons beheer is, dinge wat gebeur waarvoor ons nie gesoek of
gevra of verwag het nie, dinge waaraan ons hoegenaamd niks kan doen
nie. ’n Windpomp het ’n bepaalde doel, ’n belangrike taak om water
uit die grond te pomp, maar hy kan niks doen as die wind nie waai
nie. Moenie krag en energie en vrede mors deur te kerm en te sug en
te skree oor dinge wat gebeur waaroor jy nie beheer het nie. “Go
with the flow” en glo dat die Here in beheer is van elke detail van
jou lewe. Sien raak dat Hy die wind laat waai op die regte tyd, dat
Hy die regte deur op die regte tyd sal oop of toemaak. Wees geduldig
met jouself en met die Here, want “Elke ding het sy vaste tyd, elke
ding in hierdie wêreld het sy tyd.” (Pred. 3:1) ~ Wilna Botha,
01/06/2015 |
|
Het jy ook al gehoor dat mense na ’n persoon
verwys as ’n “groot Christen”? Wie onder ons is nou eintlik ’n groot
Christen? Die een wat uiterlik heilig en onberispelik voorkom? Die
een wat skynbaar hiper-gedissiplineerd is met kerkbywoning en
stiltetyd? Die een wat mooi en lank bid en hard sing in die kerk,
wat die bedelaars en die armes help? ... of is dit dalk dié een wat
wat weet hoe swak hy is en hoe nodig hy die Here het, of is dit dalk
dié een wat sê: “as ek swak is, is ek sterk” en wat bedroef op sy
bors slaan en roep: “O God, wees my, sondaar, genadig”? (Luk. 18:13)
~ Wilna Botha, 29/05/2015 |
|
Achilles Heel
In die Griekse mitologie is daar ‘n verhaal van ‘n karakter genaamd Achillis.
Achillis was ‘n Griekse held in die Trojaanse oorlog, en die ou was
letterlik onaantasbaar – niemand kon niks aan hom doen nie. Daar was egter
een plek op sy liggaam wat nie beskerm was nie, en dit was in sy hakskeen.
Volgens die mite was die rede hiervoor dat sy ma hom as baba in die Styx
rivier gedruk het. Sy het dit gedoen sodat hy onsterflik sou wees. Maar waar
sy ma hom aan die hakskeen vagehou het met haar twee vingers, was daardie
twee kolle op sy hakskeen nie beskerm nie, en dit het die swak plek in sy
liggaam gebly. En toe kom iemand en skiet hom met ‘n giftige pyl, presies
deur daardie twee plekke op sy skeenvel, en hy sterf…So gaan die mite.
Ek dink ons het elkeen so 'n swakheid wat ons so bietjie
kwesbaar maak. Dalk 'n siekte, of iets uit jou verlede, dalk
huweliksprobleme of probleme met ons kinders, selfbeeld probleme of slegte
werkomstandighede. Dis normaal, die vraag is: hoe gaan jy daarmee om in jou
lewe?
Paulus het ook 'n Achilles Heel gehad.
2 Kor 12:7b - 9
"Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in
die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie
maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy
antwoord was: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle
werking wanneer jy swak is."
Paulus sê hy het net 3 maal gebid, en toe die Here se wil
aanvaar. Soms moet ons maar met iets saamleef en God se genade aanvaar, al
is dit hoe moeilik. Mag die Here jou Achilles Heel draaglik maak. ~ Willem
Botha, 28/05/2015 |
|
In Hag.
2:4-5 sê die Here vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep
vir die groot taak om die bouwerk aan die tempel te doen. Hy gee 4
redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by
hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle
wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang
te wees nie.
Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien nie, omdat
die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, skryf jou naam
in hierdie teks en skep moed vir die taak wat voor jou lê: “Maar
nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van
Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die
land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by
julle, sê die Here die Almagtige.”
(Hag. 2:4) ~ Wilna Botha, 27/05/2015 |
|
Solank as wat ek kan onthou was ons gesin kjêrkmense en was
Christenskap deel van ons lewe. Ek het nie 'n spesifieke
bekeringsdatum nie en is as kind gedoop, en nie weer nie. Ek het al
baie gewonder hoekom ek aan die Here bly vashou, want ek weet nie of
ek ryker is, gesonder is, vrygestel van trauma is, slimmer kinders
het, of enige spesifieke voordeel het deur 'n Christen te wees nie.
En voorts is ek ook nie immuun teen sondes of droogmaak nie.
Die mense wat glad nie in
God glo nie vra ons maklik vas oor ons geloof en redeneer ons maklik
uit die gesprek uit, want min van ons kan regtig verduidelik wat die
"voordeel" is. Wel, die vraag is natuurlik of daar wel 'n voordeel
is, of moet wees. Hoe sal jy dit verduidelik?
1 Pet 3 : 15b "Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen
wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe."
Die hoop wat in my lewe is nie vir aardse dinge nie, dis gerig op
die ewigheid. Maar intussen, ten spyte van slegte dinge, weet ek
verseker, God is aan my kant. Nie ten koste van ander nie, nie tot
aardse voordeel van myself nie, maar ek weet God is aan my kant.
Daarom kan ek in Sy arms in vlug in moeilike tye en Hy sal saam met
my wees in goeie en slegte tye. Hy is die beste raadgewer, vriend en
mentor. Waar Jesus loop kan ek ook maar loop.
En dan is daar hierdie teks wat alles verduidelik wat ek behoort te
weet :
1Kor 15:19
"As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense."
Nou ja, of dit die "wortel" is van die ewige lewe, of nie, ek sal
aanhou om aan Jesus vas te hou. Want ek kan(en wil) nie anders nie.
! Willem Botha, 26/05/2015 |
|
Ek lees hierdie aanhaling nou die dag êrens: “We don’t
have to like our circumstances, but we do have to trust that God is
loving us in them.” Baie keer dink (en verkondig) mense dat
Christene net oorvloed, voorspoed, geluk en gesondheid moet beleef.
Wanneer dit dan nié gebeur nie, is mense ontmoedig en teleurgesteld,
hulle bevraagteken die Here se liefde en goedheid en draai dalk
selfs hulle rug op Hom. Die waarheid is: God se liefde bly vasstaan,
ongeag die omstandighede. Sy liefde dra jou deur jou probleme en
moeilike tye, Sy liefde hou jou regop wanneer dinge onuithoubaar
word. Onthou en glo Rom 8:35: “Wat kan ons nou nog skei van Christus
se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n
tekort aan klere, gevare of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge
nie!” ~ Wilna Botha, 25/05/2015 |
|
Ek sien nou die dag so ’n stukkie van die TV-program:
“Air crash investigation”. Toe die passasiers besef daar is groot
moeilikheid en hulle mag dalk nie die onvermydelike vliegramp
oorleef nie, het hulle vinnig briefies vir hulle geliefdes geskryf
waarin hulle hul liefde verklaar, vergifnis vra, dankie sê ens. Dit
het my nogal laat wonder ... sê nou maar jy weet dis jóú laaste
oomblikke, vir wie sou jy nog iets wou sê? Wat sou jy wou hê dat jou
geliefdes van jou af moet hoor? Jy weet nie wanneer dit jou tyd is
of wanneer een van jou geliefdes iets kan oorkom nie. Skryf daarom
vandag daai briefie, maak daai oproep, stuur daai SMS, gee daai
geskenkie, doen daai gunsie, bring daai besoek, want daar kan dalk
nie later weer ’n geleentheid wees daarvoor nie.
“Because I've lost loved ones in my life
Who never knew how much I loved them
Now I live with the regret
That my true feelings for them never were revealed
So I made a promise to myself
To say each day how much she means to me
And avoid that circumstance
Where there's no second chance to tell her how I feel”
(uit die liedjie: If tomorrow never comes) ~ Wilna Botha, 21/05/2015 |
|
“Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe
is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min
liefde.” (Luk. 7:47) As ons maar besef hoeveel die Here ons vergewe het en
steeds vergewe, dan sal ons ook soos die Lukas 7-vrou, die beste wat ons het
vir die Here wil gee, dan sal ons ook onsself minder ag en nie omgee oor wat
ander van ons sal dink nie. Dan sal ons ook ons lewe as ’n reukoffer voor
Hom uitgiet, sy voete soen en voor Hom buig. Dan sal ons ook oorloop van
liefde vir die Here en liefde vir ons naaste. Dan sal ons liefde ook in dade
uiting vind – nie omdat ons vir ons vergifnis moet betaal nie, maar omdat
ons dankbare harte nie anders kán nie! ~ Wilna Botha, 21/05/2015 |
|
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (Joh.
14:1) As mens hierdie teks lees, is dit duidelik dat geloof die
teenvoeter vir bekommernis, vrees en angstigheid kan wees. Om Jesus
ten volle te vertrou sal vir jou troos en moed gee wanneer jy
verward, omgekrap en bang is, want dit sal jou gedagtes draai om
raak te sien dat Hy in beheer is, dat Hy by jou is, dat Hy vír jou
is en dat niks jou van Sy liefde kan skei of jou uit Sy hand kan ruk
nie. As ek werklik op die Here vertrou, behoort my bekommernisse
kleiner te word, want ek weet dat Hy vir my sorg, ek glo dat die
hare op my kop getel is, ek weet dat Hy na elke behoefte van my sal
omsien. Jy is vir die Here oneindig kosbaar, jy is nie net ’n nommer
of een van die duisende name op sy lys nie – word rustig en plaas
jou vertroue bewustelik op Hom! ~ Wilna Botha, 20/05/2015 |
|
Vertrou jy nog?
Maak mense jou nie ook moedeloos nie? Oeps ja ek is ook 'n mens en ek maak
verseker ook ander mense moedeloos. Man, en as jy nou moedeloos in sy ergste
vorm wil sien, vat jy aan 'n man se sak. Weet jy hoe om 'n ander ou se sak
leeg te tap? Jy skep by hom vrees, of jy werk aan sy gierigheid, of jy speel
hom en sy besittings af teen ander mense, of jy wys vir hom mooi dinge wat
sy ego streel. En as jy weer kyk staan jou beursie lekker boepens.
Nou vra ek jou: Wie
kan jy nog vertrou? Amper bring ek nou nog politici ook hier in! Daar is so
baie wanvoorstelling, leuens, gebrek aan inligting, uitbuiting,
selfverryking en sommer openlike oneerlikheid. G'n wonder niemand vertrou
niemand meer nie, lyk my dis normaal.
Kyk wat sê
die Bybel daaroor:
JESAJA 2:22
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem
uit. Hulle is min werd."
Ps 37:1 - 3
"Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle
sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk
rustig voort."
Daar het jy dit. ~ Willem Botha, 19/05/2015
|
|
“Dra my soos 'n seëlring
op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die
dood.” (Hooglied 8:6) Dit is die woorde van ’n vrou wat smag na haar
geliefde se teenwoordigheid, sy liefde en versorging. Dit is ook die
uitroep van God se kinders dat Hy ons name op Sy hart en op Sy hande
sal graveer. Net soos die profete van ouds ’n borsplaat gedra het
met edelstene waarop die name van God se volk gegraveer was (Eks
39:14), so dra ons Hoëpriester, Jesus, ook ons name op sy bors, in
Sy hart en in Sy gedagtes. Hy ken ons, Hy dink aan ons, Hy verseël
sy liefde vir ons met Sy bloed. Net soos wat ’n seëlring gegraveer
word met die naam van ’n geliefde, net so is ons name ook op sy
hande gegraveer, as teken van Sy ewige liefde, as teken dat Sy hand
van redding, Sy hand van hulp, Sy hand van versorging altyd
uitgesteek is na Sy kinders. “Oh, let me know, my Lord, that I am
Yours, bound to Your heart, and let me know that I am Yours,
protected and preserved by Your arm!” (Charles Spurgeon) ~ Wilna
Botha, 18/05/2015 |
|
In Gen. 16 lees ons van Abram, Sarai en hulle slavin,
Hagar, wat op aandrang van Sarai en met goedkeuring van Abram
instaan om vir Abram ’n kind te gee. Sy is, sonder dat sy dit
verdien, geminag en sleg behandel deur haar eienares en het
weggeloop. Die Engel van die Here het haar by die fontein in die
woestyn ontmoet en vir haar gesê om haar kind Ismael te noem. Dit
beteken “God hoor”. Sy het God aangeroep en gesê: “U is ’n God wat
my sien”. Ons kan ook elke oomblik seker wees dat God ons sien en
dat Hy ons hoor! God is teenwoordig in elke situasie van jou
lewe, elke verwerping, slegte behandeling, onregverdigheid, elke
woestyn en elke plek waar jy verlore en alleen voel. Hy is nie
afwesig, weg, aan die slaap of op langverlof nie. Hy sién jou trane,
Hy sién jou nood. Hy sién jou oorwinnings en jou vreugdes. Hy hoor
alles – jou uitroep in nood, jou sagte sug wanneer jy nie woorde het
nie; Hy hoor jou lofliedere en jubelsange. “Die Here het sy oë oral
op die aarde sodat hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom
vertrou” (2 Kron. 16:9); “Die Here is op sy troon in die hemel. Sy
oë is oop” (Ps. 11:4) ~ Wilna Botha (14/05/2015) |
|
'n Een sin preek
Lank gelede het ons 'n dominee gehad wat vreeslik kort
gepreek het. Ons het op 'n tyd ook 'n dominee gehad wat
vreeslik in metafore gepreek het en ons kon niks
verstaan nie. Sommige predikers preek vreeslik lank en
ander preek vreeslik diep en met gevoel.
So gee God vir Jona 'n opdrag om Nineve toe te gaan,
maar sy pad loop eers ander draaie. Eventueel beland hy
in Nineve en preek net een sin, woorde wat die Here vir
hom gee.
Jona3:4
Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar
rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en
Nineve word verwoes"
Net dit, en daar was resultate. Soms voel
ons ook om vir iemand iets te sê of 'n boodskap oor te
dra en soms is een sin genoeg. Wees ingestel op die
Here, Hy gee dalk net die regte woorde, of 'n
teksgedeelte, wat op daardie oomblik nommerpas is. Iets
soos:
Daar is hoop in Jesus, glo dit.
Jou swaarkry gaan nie vir ewig aanhou nie
Die Here se genade is vir jou genoeg
Die Here sal selfs DAARDIE sonde vergewe
Die Here vergeet nooit Sy beloftes nie
Jesus sal jou aanneem, of jy dit glo of nie, as jy hom
vra.
Dalk maak dit nie vir jou sin om hierdie
een sin te "preek" nie, maar dalk is dit al wat nodig
is. ~ Willem Botha, 13/05/2015 |
|
“Some people throw stones in your path. It
depends on what you make with them – a wall or a bridge.” Ek het dié
nou die dag êrens gelees en gewonder watse klippe dit is wat mense
na my toe kan gooi wat my pad kan versper, wat my wil laat struikel,
wat my wil keer om met vrymoedigheid vorentoe te stap. Ek dink dis
meestal klippe van kritiek, foutvind, vingerwys en veroordeel – soos
die Fariseërs wat die owerspelige vrou voor Jesus kom veroordeel het
(Joh. 8). Hulle wou haar met klippe doodgooi, maar Jesus spreek haar
vry, Jesus bou vir haar ’n brug met daardie klippe. Wat maak ek
vandag met mense se kritiek-klippe? Ek gaan die beste daaruit haal.
Ek gaan ’n brug daarmee bou en vorentoe loop, ek gaan nie ’n muur
daarmee bou en myself isoleer nie. Ek gaan onthou dat die
vingerwysers en klipgooiers nie my hele storie ken nie en nie in my
skoene gestap het nie. Ek gaan in my geestesoog sien dat Jesus in
die sand skryf en sê: Ek maak jou vry. ~ Wilna Botha, 12/05/2015 |
|
Jesus word in Heb. 13:20 die “groot
Herder van sy kudde” genoem. Ai hoe gelukkig is ons nie om te weet
ons het ’n Herder wat vir ons sorg met lieflike weivelde en strome
vars water en vrede wat alle verstand te bowe gaan nie. Hy is die
goeie Herder wat ons ken en ons op ons name roep en voor ons uitstap
(Joh. 10:3, 14) sodat ons Hom met volle vertroue kan volg. Wanneer
ons verdwaal en ons eie koers vat, kom soek Hy ons. Wanneer ons
seerkry, kom haal Hy ons en dra ons terug op sy skouers. Ons Herder
het tot die uiterste vir ons gegaan en sy lewe gegee sodat ons gered
kan wees. “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek
bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van
sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal
toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh. 10:11, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 11/05/2015 |
|
Toe kap hulle sy kop af...
Matt 11:11
“Dit verseker Ek julle: Onder die mense
op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie,
en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy."
Niemand is groter as Johannes die Doper
nie. Sjoe, nogal iets groots om van iemand te sê, of hoe? En dit
nogal by monde van die Koning van Konings! Johannes het vir Jesus
gedoop en dit op sigself was 'n groot moment in ons geskiedenis en
dis dalk die rede hoekom
hy so groot in Jesus se oë was. Iemand na aan Sy hart.
En toe kap hulle sy kop af. Jip, reg gehoor, Johannes
word deur Herodus onthoof, oor die mees belaglike, sinnelose rede
denkbaar, sommer net vir sommer.
Hoe op aarde kon Jesus dit toelaat? Nee my vriend ek
weet nie, maar dit lyk my dis die lewe. Slegte, sinnelose, onnodige
goed gebeur. Dink jy dat ek en jy alle slegte goed sal vryspring net
omdat ons glo? Dink jy Jesus se kinders kan aanspraak maak op 'n
volmaakte, probleemvrye lewe? Nee ons kan nie. Dit werk nie so nie,
maar weet verseker dat God by ons is, in elke goeie en slegte
omstandigheid. ~ Willem Botha, 07/05/2015 |
|
“Van buite sal dit lyk of hulle
kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees,
sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af.” (2 Tim
3:5) Sjoe, ongelukkig is dit so dat hierdie “tipe” mense bestaan.
Dit is mense wat net maak asof hulle Christene is, wat geestelike
praatjies maak en selfs ’n klomp goeie dinge doen en elke Sondag
kerk toe gaan, maar hulle harte is vêr van die Here af, hulle hou
die deur van hulle hart gesluit vir die Gees se werking. Dis hierdie
tipe mense vir wie Jesus witgeverfde grafte genoem het – mooi aan
die buitekant, maar binne vol ongeregtigheid, gierigheid, haat,
leuens en huigelary. Al is ’n graf hoe mooi versier met ’n grafsteen
en blomme is die inhoud steeds net dooie bene. Kom ons wys nie
vinger na hierdie “tipe” nie, maar sorg eerder dat ons eie binnekant
skoon en bruikbaar is, dat dit beskikbaar is as woonplek vir die
Here en as werkplek vir Sy Gees. ~ Wilna Botha, 07/05/2015 |
|
Sê wie?
Iemand sê eendag tereg dat mens deesdae
al hoe meer onderskeiding aan die dag moet lê. Die internet wemel
van opinies en Geestelike boeke verskyn by die dag, maar nie alles
is iets werd nie. Die Bybel waarsku ernstig teen vals profete want
dis 'n gruwel in die oë van die Here.
Jer 14 : 14 "Die Here het vir my gesê:
Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle
nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie.
Dit is gesigte wat nie
bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat
hulle vir julle aanbied as woorde van profete."
Inderdaad 'n ernstige vermaning. Mens hoor so maklik
"Die Here het vir my gesê..." (Ja, die Here het ook al vir my gesê),
maar ek is so bang dis net my eie versinsels. Mens hoor ook dikwels
:" Die Here het vir my die volgende oor jou gesê... " Ons verval so
maklik in die ding dat die Here aardse voorspoed oor ons wil
uitspreek deur ander se monde.
Hoe weet ek of dit wat ek hoor van die Here af kom? Wel,
ons moet maar self by hom gaan hoor. Ons eerste lyn van gebed is
onsself, en so sal die Here sekerlik eerder self met ons wil praat
as ons net wil luister. Stel jou ore fyn in vir op Sy stem, Hy praat
met almal wat luister. ~ Willem Botha, 06/05/2015 |
|
Ek lees nou die dag dié mooi
dingetjie: “One day someone is going to hug you so tight that all
your broken pieces will stick back together.” Om ons is baie mense
wat so stukkend is van verwerping, wat so geskeur is deur swaarkry,
wat so gekraak is deur minderwaardigheid, wat so gebreek is deur
siekte en probleme. Dit is mense wat behoefte het aan aandag,
aanvaarding en aanraking. Jesus was nie bang om aan mense te raak
nie – Hy het Hom nie gesteur aan grense, gewoontes en aan wat mense
daarvan sou dink nie. Hy het aan siekes, onreines en verwerptes
geraak, Hy het selfs sy dissipels se vuil voete gewas! Dalk moet ek
ook bietjie buite my gemak- en veiligheidsgrense gaan, voorbehoude
eenkant toe skuif, verby die uiterlike kyk en iemand ’n drukkie gee.
’n Drukkie wat ’n universele, taal-lose uitdrukking is om te sê: ek
gee om vir jou, ek voel jammer vir jou, ek hou van jou, ek is hier
vir jou, ens. Dalk, dalk, dalk ... kan so ’n drukkie bydra om
gebreekte stukkies van iemand se lewe weer aanmekaar te plak. ~
Wilna Botha, 04/05/2015 |
|
“As julle vir ander mense omgee
sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die
Allerhoogste.” ( Luk. 6:35, Die Boodskap) Vir vandag se lewe
klink hierdie só teenstrydig. Ons doen mos niks waarvoor ons nie
vergoed word nie. Niemand werk verniet nie. Tyd is geld. Vir elke
dingetjie wat ek doen, vir elke uur wat ek spandeer eis ek
vergoeding. Dís die meeste mense se natuurlike ingesteldheid – myne
ook. Hierdie teks fokus weer my aandag daarop dat Jesus sy navolgers
geleer het om anders op te tree as wat die natuurlike mens wil, om
die wêreld te verras met ons barmhartigheid. Hy leer ons bv. om
ander eerste te stel, om ander te behandel soos jy self behandel te
word, om die ander wang te draai, om die ekstra myl te loop, om goed
te doen aan mense wat jou haat, om iemand wat jou vloek met ’n seën
te antwoord, ens. As ons die hele tyd iets terugverwag, dan doen ons
besigheid. As ons iets doen sonder om iets terug te verwag, dan doen
ons barmhartigheid. Jesus is in die barmhartigheid-besigheid en ons
behoort ook te wees. ~ Wilna Botha, 04/05/2015 |
|
Aangesien dit Werkersdag is vandag, het ek so bietjie oor werk
gedink. Is jou werk vir jou ’n seën of ’n straf? Dit wil my lyk of
daar mense is wat dink werk is ’n straf. Hulle sê dit is die gevolg
van Adam en Eva se ge-etery daar in die paradys dat ons moet werk.
Die Here het egter al vóór die sondeval vir die mens die opdrag
gegee om te werk (Gen. 1:28). Miskien het die sondeval net
meegebring dat ons werk nou met meer moeite en swaarkry en
inspanning gepaard sal gaan? Vir baie mense is hulle werk egter ’n
seën en hulle sien dit as ’n gawe wat God aan hulle gee, daarom doen
hulle hul werk met vreugde. Vir my help dit om te glo dat ek my werk
(of dit nou wasgoed stryk en skottelgoed was is, of kliënte bedien,
of groot en ingewikkelde goeters is) vir die Here doen en nie vir
mense nie. Dán doen ek dit so goed as wat ek kan en ek geniet dit.
“...doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.”
(Ef. 6:7) ~ Wilna Botha, 01/05/2015 |
|
Mors 'n bietjie tyd.
Pred 3:1 "Elke ding het sy vaste tyd,
elke ding in hierdie wêreld het sy tyd..."
So sê die Prediker. Maar vir jou en my is
dit gewoonlik nie waar nie, want ons spandeer te veel tyd aan
OORLEEF , en te min aan LEEF. Daar is 'n verhaal van 'n man wat
vertel dat die beste dag in sy lewe was toe sy afwesige pa hom as
tjokkertjie geneem het om te gaan visvang. Baie later jare het hulle
op sy pa se ou dagboek afgekom op die volgende inskrywing : "Another
day wasted, went fishing with Johnny."
So tragies. Weet jy vriend, elke dag wat
jy verloor het om iets lekkers saam met jou geliefdes te doen, is
verlore, vermorste tyd. Jy kan daardie dag se geleenthede nooit weer
terugkry nie.
Gaan "mors" 'n bietjie tyd. Gaan fliek,
gaan 'n naweek weg (al is jy brandarm), gaan drink 'n koffie in 'n
koffiewinkel, gaan loop in 'n parkie, gaan op 'n foto uitstappie, al
is dit met 'n selfoon, gaan asem bietjie vroegoggend lug in. Gaan
mors daai tyd, voordat dit heeltemal vermors is. ~ Willem Botha,
20/04/2015 |
|
Hoe
sou dit gewees het as ’n herfsboom geweier het om sy dooie blare af
te gooi? Hoe sou dit gewees het as hy vasgeklou het aan dít wat nie
meer nodig is nie, dít wat hom sou terughou om weer te groei en weer
mooi en kleurvol te word? Dis tog ondenkbaar. Miskien werk dit dalk
so in die lewe ook. Miskien kom daar herfs- en wintertye waarin ons
maar keuses moet maak om ou dinge agter te laat, waarin ons eers
kaal, gestroop en leeg moet word sodat ons weer kan groei en weer
mooi en waardevol kan wees. Daar is ’n uitdrukking wat sê: letting
go lets us grow. Miskien is dit nou tyd om ou koeie van die verlede
finaal te begrawe, om die minste te wees en iemand te vergewe, al
verdien hulle dit nie. Miskien is dit nou tyd om te leer uit die
foute van die verlede en met nuwe hoop en vars moed die toekoms aan
te durf. “...een ding
doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor
is.” (Fil. 3:13) ~ Wilna Botha, 29/04/2015 |
|
Here vergewe my asb vir hierdie massiewe balk in my oog! Ek
weet dis net ek self wat hom kan uithaal. ~ Willem Botha, 28/04/2015 |
|
Wanneer die nood die ergste is, is
God Almagtig die sterkste teenwoordig. So skryf iemand nou die dag.
Ons is geneig om moeilike omstandighede en probleme oombliklik
opgelos te wil hê. Ons sit gebedskettings aan die gang en wens die
situasie weg. Het jy al daaraan gedink dat die Here jou dalk
daardeur iets wil leer, jou meer op Hom wil laat vertrou, of dat Hy
jou wil laat besef dat Hy teenwoordig is dáár in jou nood-situasie?
Sien Hom raak, sien Sy helpende hand en beskermende arm om jou raak.
Wanneer jy weer in die een of ander beproewing kom, raak bewus van
die Here se buitengewone teenwoordigheid by jou. Hy sê in Jes.
43:2-3: “As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees ... Ek
is mos die Here jou God wat vir jou sorg.” ~Wilna Botha,
24/04/2015 |
|
“My liewe vriende, ek vra julle
baie mooi: neem tog asseblief die brief ernstig op ... Ek het dit
spesiaal geskryf om julle moed in te praat.” (Heb. 13:22, Die
Boodskap) Een van die groot redes waarom ons ons na die Bybel moet
wend, waarom ons dit elke dag moet lees, waarom ons dit moet oordink
en memoriseer, is om daardeur bemoedig te word. Wanneer ons die
Woord van God lees, dan skep ons weer moed, dan word ons geloof en
hoop weer bevestig. Daar is honderde beloftes en tekste van troos en
bemoediging. Merk dit in jou Bybel. Neem dit ter harte. Dis bedoel
om jou moed in te praat en te laat deurdruk en volhard. ~ Wilna
Botha, 23/04/2015 |
|
Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe...
Het jy al gesien hoe vernietigend die
geskrewe woord kan wees? Die goue reël sê mos dat jy versigtig moet
wees wat jy skryf, veral as jy kwaad is, want jy kan dit nooit weer
vernietig nie, veral as dit op sosiale media beland, of op 'n epos.
Jy moet baie seker wees dat jou woorde jou opregte bedoeling
weerspieël. Met Jesus se kruisiging het Pilatus die volgende woorde
op die kruis laat aanbring nadat hy Jesus onskuldig bevind het, maar
hom tog laat kruisig het.
Joh15 : 21-22 Die priesterhoofde van die Jode het toe
vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie,
maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”Pilatus het
vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
Wat het hier met Pilatus gebeur? Het hy nie tog dalk tot
ander insigte gekom ? Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe ...
Indien wel het hy 'n baie dapper ding gedoen. Ons ken vandag hierdie
stukkie geskiedenis want dis geskrywe in woorde, nie net oorvertel
nie.
Mag jou geskrewe en gesproke woord jou oortuiging
weerspieël en die toets van die tyd deurstaan. ~ Willem Botha,
22/04/2015 |
|
“Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy
krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem,
daarin roem dat hy insig het en My ken.” (Jer. 9:23-24) Ons moet
maar altyd bewus bly daarvan dat ons sonder die Here nie veel werd
is nie. Ons moenie dink ons is so slim en sterk, ons kan dit en dat
vermag en hoë dinge bereik nie. Ons moenie dink ons het hard gewerk
vir ons geld, ons kan koop wat ons hart begeer nie. Ons moet alles
wat ons doen en beplan in afhanklikheid van die Here doen, ons moet
leef vanuit die besef dat wysheid, krag en rykdom ’n genade-geskenk
van Hóm af is en dat dit enige oomblik kan verdwyn. Sal jy nog
gelukkig en tevrede wees as jy Alzheimer siekte kry en jou
slimmigheid jou niks meer baat nie? Sal jy nog die Here dien as jy
al jou besittings in die een of ander ramp verloor? Sal jy nog die
Here liefhê as jy die gebruik van ’n ledemaat verloor en nie meer
selfstandig jou dinge kan doen nie? Besef maar net weer vandag dat
om die Here te ken en te dien die heel belangrikste is en dat dit
genoeg is! Moenie toelaat dat jou kennis, jou krag of jou rykdom vir
jou belangriker word as die Here nie. ~ Wilna Botha, 21/04/2015 |
|
Luk 17:17-18
Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is
nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat
omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers
'n Jood is nie?”
Ek dink hierdie teks is baie bekend aan ons almal. 10
melaatses word genees maar net een kom sê dankie.
Een koel aand lê ek en vroulief snoesig in die bed met
'n warm kombers tot oor die neuse getrek. Skielik kom die skokkende
besef oor my dat hierdie 3 vierkante meter
waarop ek lê, 'n voorreg is wat BAIE minder as die helfte van die
wêreldbevolking geniet. Net 3 vierkante meter! Nie te praat van die
res van die huis, die motors, 'n onderneming, kos in die koskaste,
gesondheid en soveel meer nie.
Hoe blasé het ons nie al geword nie, hoeveel kan ons
minderbevoorregtes kritiseer en miskyk, maar daar slaap hoeveel
mense op sypaadjies. 3 vierkante meter van HEMEL, vir so min beskore.
"HERE, DANKIE DAT U NIE VIR MY NET DIT GEE WAARVOOR EK
DANKIE SÊ NIE." ~ Willem Botha, 20/04/2015 |
|
We want to see Jesus lifted high, a
banner that flies across the land, that all men might see the truth
and know: He is the way to heaven ... so lui die woorde van ’n
liedjie wat beaam wat die Woord sê in Jes. 62:10: “Steek ’n banier
op dat die volke dit kan sien.” Kom ons steek ons baniere en
vaandels op en swaai ons vlae wat verkondig dat daar goeie nuus is,
nuus wat vertel van hoop en ’n toekoms in Christus, nuus van vryheid
en vrede en verlossing, nuus wat sê dat Jesus lewe en dat ons deur
Hom die ewige lewe kan hê. Ons kan dit natuurlik fisies doen deur
die boodskap aan te bring op groot advertensieborde, baniere teen
geboue of op lamppale, soos wat mens dit nogal deesdae sien. Ons kan
met die boodskap op ’n “bumper sticker” rondry, ons kan dit op ons
voordeur of hek aanbring, ons kan dit op ’n T-hemp dra of ons kan
daaroor sing en praat. Ons moet natuurlik ook nie nalaat om ’n
lewende banier wees nie! Ons lewe, ons woorde en dade moet die
boodskap wat ons verkondig onderstreep, dit moet bevestig dat daar
hoop en lewe in Hom is ... a banner that flies across the land. ~
Wilna Botha, 16/04/2015 |
|
“Moenie in belaglike argumente betrokke raak en
met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle aan die
baklei raak.” (2 Tim 2:23, Die Boodskap) Ai, hoe waar is hierdie
woorde nie. Ek sien en hoor so dikwels dat Christene in hierdie
strik trap om met mekaar aan die stry te raak oor geestelike sake,
oor interpretasies van die Bybel, oor wat reg en verkeerd is, oor
godsdienstige gebruike en gelofies. Boonop doen hulle dit heel
dikwels sommer nog op Facebook ook! Meeste van die tyd lyk dit vir
my regtig na mors van tyd, mors van woorde en van asem, want die een
kry nie die ander een oortuig nie en die uiteinde is dat hulle
mekaar beledig, sarkasties raak, negatiewe uitlatings en
veralgemenings maak. Ek wil maar altyd probeer om Kol 3:6 ingedagte
te hou: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak
getuig.” ~ Wilna Botha, 15/04/2015 |
|
Mark 15: 37 "Daarna het Jesus hard uitgeroep en die
laaste asem uitgeblaas.Die voorhangsel in die tempel het van bo tot
onder middeldeur geskeur."
'n Absolute merkwaardige gebeurtenis wat op die oomblik
van Jesus se dood plaasvind. Mens kan eintlik sê dis dié grootste
gebeurtenis van die hele geskiedenis van die mensdom. Jesus oorwin
die ewige dood vir jou en my, maar saam met dit kom daar iets wat
ons dalk nie genoeg oordink nie. Die voorhangsel in die tempel skeur
van bo na
onder middeldeur en 'n hele nuwe bedeling breek aan. Voor die
insident tree die Hoëpriester op as "middelman" om namens die mens
by God in te tree. Na die skeuring is die deur heeltemal oop.
Nou kan ek en jy vrylik in Sy troonkamer instap, enige
tyd, net wanneer ons wil. Nou het God 'n "oopdeur beleid", Hy
verlang na ons, Hy begeer dat ons gereeld by Hom kuier en wil graag
konstante interaksie met ons hê. Stap in, kuier saam met Hom en
geniet Sy geselskap. ~ Willem Botha, 14/04/2015 |
|
1 Kor 16:22(a) : "As iemand die Here nie
liefhet nie – vervloek is hy..."
Sjoe! Toe ek hierdie woorde nou die dag raaklees was ek
geskok! Wat op aarde beteken dit? Wat beteken dit as God
jou vervloek? Ek dink God is baie ernstig met hierdie
teks en dis sekerlik vir Christene en nie-Christene ewe
waar, en ek dink ons almal sukkel maar daarmee.
Wat beteken dit om waarlik lief te wees
vir die Here? Seker om Sy wil te doen, Sy Woord te
verkondig, in 'n verhouding met hom te staan en om met
Hom besig te wees.
As jy iets (of iemand)
vervloek beteken dit om jou te distansieer, uit jou mond
te spuug, te verwerp en te laat staan. Dis verskriklike
harde woorde as jy vir iemand sê "ek vervloek jou". Mens
sal dit tog nie vir jou vriend of broer sê nie, of hoe?
Maar tog sê die Here dit in hierdie teks. Dit laat my
net weereens besef hoe ernstig die Here is oor 'n
verhouding met Hom. Ek wil verseker nie hê die Here moet
my vervloek nie. Ek wil my daarop toespits om Hom elke
dag meer en meer lief te hê. ~ Willem Botha, 14/04/2015 |
|
“A bend is not the end of the road,
unless you fail to make the turn,” is ’n aanhaling wat ek al
meermale gehoor het. Jy het ’n keuse hoe jy probleme en kronkels in
jou lewenspad hanteer. Jy kan óf negatief wees, tou opgooi, skree en
skop en verbitterd raak. Óf jy kan sê: ek sál hierdeur kom,
een tree op ’n slag. Baie keer werk dinge nie uit soos wat jy gedink
het dit moet nie. Moenie omgekrap raak as die pad nie net reguit en
maklik is nie, want ná die kronkeling in die pad lê daar dalk ’n
wonderlike uitsig, of ‘n rusplek, of ’n padstal met lafenis. Druk
deur, hou aan, volg die pad, al is daar ’n onvoorsiene draai in jou
lewenspad. Jy sal anderkant uitkom, jy sal sien dat daar ’n doel was
met die kronkels, jy sal sien dat die uiteinde ten goede meewerk in
God se plan vir jou lewe. ~Wilna Botha, 13/04/2015 |
|
“He brought me to the banqueting house, and his
banner over me was love.” (Hooglied 2:4) Die teks laat mens dink aan
Ps. 23 wat sê dat die Here vir ons ’n feesmaal voorberei, ons soos
’n eregas ontvang en ons oorlaai met hartlikheid en goedheid. Sien
in jou geestesoog hoedat jy saam met die Here aansit vir dié
feesmaal, sien dat daar ’n groot banier hang waarop staan hoe lief
Hy jou het. Die Woord sê sy liefde is onbeperk, onverdiend, oneindig,
onvoorwaardelik en onbeskryflik. Sy liefde is ewig, volmaak en
omvattend. Die Here se banier van liefde sê: “My liefde vir jou sal
nooit verdwyn nie.” (Jes. 54:10) ~ Wilna Botha, 10/04/2015 |
|
Heb11:1 "Om te glo, is om seker te wees
van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons
nie sien nie."
Hebreërs 11 is 'n wonderlike getuienis
van 'n klompie van die bekende figure deur die Bybel geskiedenis wat
onwrikbaar geglo het in 'n God wat hulle nie gesien het nie. Ons vat
dit dalk vanselfsprekend dat hierdie mense sou glo, want hulle was
immers "Bybel figure" en omdat hulle name in die Bybel opgeteken is
behoort hulle sekerlik te glo. Die realiteit
was egter nie so maklik nie. Abraham, Noag, Henog, Isak, Jakob en
vele meer het sekerlik by tye alle rede gehad om dit maar op te gee,
maar hulle het nie. Hulle vasbyt in hulle geloof is nie beloon met
wonderlike lewensomstandighede, rykdom of welvaart nie. Inteendeel,
sommige van hulle het bitter swaar gekry.
Hulle onwrikbare geloof het egter een groot ding in
gemeen. Hulle het nie die Here gesien nie, maar hulle het Sy werke
gesien. Die werking van die Gees van God in hulle lewens het vir
hulle hoop gegee en die oortuiging gebring dat daar iets moet wees
in die onsienlike. So het hulle almal in 'n verhouding met God
gestaan en die werklike LEWE ontdek.
Ek verstaan so baie dinge glad nie, ek ek was ook 'n
paar keer teleurgesteld omdat my geloof nie die opbrengs gegee het
wat ek sou wou sien nie, maar ek het telkens gesien dat geloof in
God nie net tot my eie aardse voordeel kan strek nie. Om 'n pad met
die Here te stap, tot in die hiernamaals, is baie meer werd as die
hier en nou.
"Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons
hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." ~
Willem Botha, 08/04/2015 |
|
Na Jesus se lyding aan die kruis
het oorwinning gevolg. Daardie oorwinning is ook óns oorwinning.
Oorwinning oor die sonde en die dood, oorwinning oor Satan en die
hel. Ons moet onthou dat ons nou enige lyding kan verduur omdat ons
weet dat dit uiteindelik ook tot oorwinning sal lei. Hierdie gedagte
kan ons deurdra en sterk maak om moeilike tye die hoof te bied. Die
swaarkry wat ons hier en nou beleef is tydelik, dit gaan verby en
die uiteinde daarvan is ’n onverganklike oorwinnaarskroon. “Ons
swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop
vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig
bly.” (2 Kor. 4:17) ~ Wilna Botha, 07/04/2015 |
|
Paasfees is verby. Jesus het
opgestaan, Hy het waarlik opgestaan! En nou? Kan ek nou net weer
gewoon voortgaan met my lewe? Nee! Want elke ontmoeting met die
kruis, elke oordenking van die kruisgebeure, elke nuwe besef van God
se genade en liefde wat daardeur vir my bewys is, elke verwondering
oor die leë graf, laat my geloof groeispronge maak. Dit laat my
verdiep in my verhouding met my Here. Dit herskep my hele wese. Dit
gee my “nuwe woorde” vir my getuienis. Dit maak my hande en my hart
oop vir my medemens. “Na die kruis van Jesus, hoe sal ons kan
hande vou en swyg .... want daar was ’n houtkruis, ja, ’n Redder aan
’n houtkruis vasgeslaan” ~ Wilna Botha, 06/04/2015 |
|
Ja, dis waar! Die steen is weggerol,
Jesus het opgestaan, die graf is leeg, Hy leef! Soos die vroue voor
die leë graf gryp ek ook Sy voete en aanbid Hom (Matt. 28:10). Glo
jý dat Hy lewe? Of wil jy ook soos Tomas eers ’n teken sien? Jesus
sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh.
20:29) Jesus leef, God het Sy bloed-offer vir elkeen van ons se
sonde aanvaar. Nou kan ons ook lééf in vryheid en oorwinning. ~
Wilna Botha, 05/04/2015 |
|
Matt 27:38 "Saam met Hom het hulle ook twee rowers
gekruisig, een regs en die ander een links van Hom."
Drie kruise. 'n Redder in die middel en twee
rowers aan weerskante. Twee deur die regstelsel skuldig
bevind, maar Jesus na Sy dood gestuur omdat
Pontius Pilatus bang was vir die mense. Een van die
rowers spot Hom en vra smalend dat Jesus hulle van die
kruis (en die dood) moet red, die ander een
berispe hom en vra iets heeltemal anders.
Luk 23 : 42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U
in u koninkryk kom.”
Hy het die ware Redding begeer en Jesus gee dit vir hom
onmiddellik en onvoorwaardelik.
Is ons nie soms ook maar soos die een wat aan Jesus wil
vasklou vir die voordele van die hier en nou nie? Jesus
wil hê dat elke mens saam met Hom in die Koninkryk sal
wees. Dis net een uitroep weg, en dieselfde belofte sal
vir elkeen waar wees wat daarna vra.
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die
paradys wees.” ~ Willem Botha, 02/04/2015 |
|
Mark 15:25 "Dit was nege-uur die môre toe hulle
Hom gekruisig het."
In hierdie Paastyd herdenk ons die kruisiging van Jesus
Christus, en ons weet dis ter wille van ons redding wat Hy moes
sterf. Maar ek dink ons is onwillekeurig ook kwaad vir die wrede
soldate wat as laksmanne moes optree. Hoe kon hulle? Dink net so
bietjie saam met my: As ek of jy die enigste mens op die aarde wees,
sou Jesus steeds moes kom, en dan sou ek of jy die een wees wat Hom
aan die kruis sou vasspyker, en Hy sou daardie sonde (om Hom te
vermoor) ook vergewe het, anders het Hy mos totaal onnodig gesterf,
of hoe? Kom ons wees opnuut bewus van die feit dat geen sonde te
groot is vir vergifnis nie, en kom ons herdenk dit met dankbaarheid
in hierdie Paastyd. ~ Willem Botha, 02/04/2015 |
|
As
Jesus aan die kruis sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie
wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34), dan beklemtoon dit vir my dat die
kruis oor vergifnis gaan. Jesus bid nie net vir diegene wat Hom
kruisig nie, Hy bid vir elkeen van ons, want dis óns sonde waarvoor
Hy daar ly, sterf en betaal. Ons het vergifnis nodig, want ons het
almal gesondig en daar is ’n kloof tussen ons en God wat ons nie op
ons eie kan oorsteek nie. Die kruis het vir ons die brug van
vergifnis geword. Jesus het die prys kom betaal met sy lewe, met sy
liggaam en sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding
met God herstel kan wees. “Hy het die skuldbewys met sy eise teen
ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit
vir goed weggeneem.” (Kol 2:14) ~ Wilna Botha, 1 April 2015 |
|
Maartmaand is Kosmos tyd. Asof uit die niet verskyn
pragtige lappe kosmos en ander veldblomme en hulle groei
net. Nie hulle, of die mens het iets gedoen dat dit
gebeur nie, dis net daar.
Dit laat my dink aan Jesus wat veldlelies gebruik om ons
te leer om Hom onvoorwaardelik te vertrou en op te hou
om ons te bekommer.
Matt 6:28-31
"En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei
die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere
nie. Maar Ek sê
vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee
soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld,
wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier,
hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle
kleingelowiges?“Julle
moet julle dus nie bekommer en vra:‘Wat
moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons
aantrek?’
nie."
Ek glo een van die moeilikste tekste in die Bybel is:
"Moet jou nie bekommer nie..." Dis SO deel van ons
menswees, dis bykans onmoontlik om dit nie te doen nie,
maar steeds gee die Here vir ons die opdrag.
Kyk bietjie terug in tyd, het die kosmos blommetjies
jaar na jaar teruggekom? Jip, verseker. Kyk ook terug in
jou lewe, het die Here elke keer weer betyds gehelp?
Waarskynlik. Nou hoekom bekommer ek my dan steeds? Ek
weet nie, maar ek wil probeer om dit nie te doen nie. ~
Willem Botha, 31/03/2015 |
|
In laaste reëltjie van hierdie
kwartaal se Bybelstudie, skryf die dominee: “Ons mag dalk moed
verloor as gevolg van omstandighede, maar ons mag nooit geloof
verloor dat God regverdig is en in beheer is nie.” Ek het dié
reëltjie oor en oor bedink en in my hart rondgerol. Ek wil hê dat
dit in my gedagtes moet bly sit, sodat ek in enige omstandighede sal
kan bly staan op my geloof, dat ek nooit die Here se weë sal
betwyfel nie, dat ek altyd sal weet dat geen moeilikheid my sal
onderkry nie. Ek wil dit deel van my lewensmotto maak sodat ek
voluit op die Here kan vertrou, ongeag van swaarkry of onsekerheid
of pyn. “... want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding
kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” (Rom
5:3-4) ~ Wilna Botha, 30/03/2015 |
|
Die dag toe Jesus gehuil het.
Ons lees so iets van Jesus se emosies in die Bybel waar
ons Sy "menswees" raaksien . Ons ken die deel baie goed waar Hy die
mense uit die tempel geboender het met 'n sweep en baie kwaad geword
het. Maar ook waar Hy bloed gesweet het die nag voor Sy kruisiging
en gevrees het vir Sy lewe.
Dan is daar ook die insident waar Hy gehuil het met sy
vriend Lasarus se dood.
Joh 11 : 33 - 35 "Toe Jesus sien dat Maria huil en dat
die Jode wat saam met haar
gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.
Hy vra toe: Waar het julle hom begrawe? Hulle het vir Hom gesê:
Here, kom kyk.
Jesus het gehuil."
Aangrypende verhaal van Iemand wat net soos ek en jy
bedroef is met die dood van 'n geliefde, of 'n ander terugslag wat
ons tref.
Ek glo dat Jesus ook vandag saam met ons swaarkry en
huil in tye waar dinge te veel raak of trauma oor ons pad kom. Ek
dink Jesus se droefheid ken geen einde as Sy kinders worstel met
moeilike dinge nie. Hy het wel vir Lasarus uit die dood opgewek, en
sulke dinge gebeur selde in vandag se tyd, maar Sy hart is sekerlik
vandag saam met joune seer as jy swaarkry. Hoekom vat Hy nie net die
pyn en swaar weg nie? Ek weet nie, maar Hy is nie 'n afsydige God
nie. Hy gee om, en omdat Hy ook daardie emosies beleef, kan en sal
Hy jou vertroos. Laat Hom toe om Sy arms om jou te slaan en jou vas
te druk as jy nie meer kan nie. Ek glo Hy wil dit doen. ~ Willem
Botha, 27/03/2015 |
|
“U is die bron van die lewe.” (Ps. 36:10) Alle
lewe begin by die Here. Ek en jy het ook ons ontstaan aan Hom te
danke. Ons het lewende wesens geword deurdat Hy Sy lewensasem in ons
neus geblaas het, soos vir Adam. (Gen. 2:7) Het jy dalk drooggemaak,
jou lewe opgemors en weggedraai van die Here en sy weë af? Die Here
is steeds die bron van die lewe en by Hom is vergifnis, nuwe begin
en nuwe lewe. Asem die ou lewe uit en ontvang opnuut weer Sy
lewensasem. Daar is ’n liedjie wat dit so mooi sê: “Here,
U’s die bron van die lewe, U bepaal die sin en die rede, U is die
outeur van die mensverhaal, U’s die argitek van die groot heelal...”
~ Wilna Botha, 25/03/2015 |
|
Wag op die Here.
Weet jy hoe lank is 'n nanosekonde? Dis die tyd wat
verloop vandat die robot vir jou groen slaan en die ou
agter jou toet.
Ons het nie tyd nie en niks kan vinnig genoeg gebeur nie.
Ons is bereid om die slegste hamburger denkbaar te eet
solank ek nie uit my motor hoef te klim nie. Vinnige
internet, kitskos, kits poeding, kits kits kits. En kits
reaksie van die Here. Kits gebede word "opgestuur",
reguit in die plafon vas en dan twyfel ons of die Here
ons hoor.
Die Here se tyd is egter nie ons tyd nie. Abraham moes
baie lank wag op die Here se beloftes en eers toe hy
moedeloos gewag was het die Here Sy beloftes nagekom.
Die Israeliete het 40 jaar deur die woestyn geswerf
voordat hulle by die beloofde land aangekom het. Ou Job
moes Job se geduld hê...
Maar die wag was die moeite werd vir almal wat gewag
het.
Gen 21:1-2 "Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof
het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger
geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die
wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir
Abraham beloof het."
Ek glo dat die Here altyd ons gebede
aanhoor, maar Sy antwoorde is soms anders as wat ons wil
hoor. Soms sê Hy "ja", soms sê Hy "nee", en soms sê hy
"wag". Wag is die moeilikste een want ons wil aan beweeg,
en dan is ons sommer bereid om daai slegte "hamburger"
te verorber.
Kan jy nog 'n nanosekonde wag? Of 'n dag, of week, of
maand of jaar? Wat van nog 10 jaar? Sjoe dit klink
ondenkbaar, of hoe? Goeie dinge vat tyd, maar dis dalk
die moeite werd. ~Willem Botha, 24/03/2015 |
|
Klaagliedere 5:1-5
"Slaan tog ag op wat oor ons gekom het,
Here, kyk tog en sien self hoe ons verneder is. Ons besittings is
gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan uitlanders.Ons het
weeskinders geword, daar is nie vaders nie, ons moeders is soos
weduwees. Ons moet ons eie drinkwater koop, vir ons eie hout moet
ons betaal. Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput,
ons word geen rus gegun nie."
Klink hierdie gedeelte nie of dit perfek
by ons omstandighede vandag
pas nie? Ek dink jy wonder ook soos ek wat van die lewe gaan word,
en ook of die Here Sy hand van ons af weggetrek het. Waar gaan alles
heen? Ek weet nie, maar ek weet dat die Here nie weggegaan het nie.
Dis egter waar dat ons op baie plekke in die Bybel lees dat die Here
omstandighede soos hierdie gebruik, om die mens aan te spoor om
terug te draai na Hom toe. Hierdie deel motiveer ons dan ook om weer
die Here se aangesig te soek en om ons tot Hom te bekeer.
Klaagliedere 5:21 sê dit dan ook in soveel woorde.
"Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee
ons weer die bestaan van vroeër."
Ek wil vandag ook weer my eie lewe ondersoek en kyk of
die Here my nie ook deur omstandighede wil aanpor om Hom opnuut te
ontdek nie. ~ Willem Botha, 23/03/2015 |
|
In Openbaring 8:3-4 lees mens van
’n wonderlike prentjie wat in die hemel, voor God se troon, afspeel.
Dit gebeur onophoudelik, dag en nag. Die gebede van al die gelowiges
word opgevang in ’n wierookbak en voor die troon van God geoffer.
Die gebede styg saam met die wierook op voor God. Het jy al gedink
dis nutteloos om te bid? Het jy al gevoel jou gebede kom nie by God
uit nie? Het jy al gedink jou gebede is nie mooi en goed genoeg nie?
Het jy dalk al opgehou om te bid? Moenie ophou bid en smeek en
uitroep voor die Here nie. Op hiérdie oomblik word jou gebed in die
wierookbak voor God uitgehou - Hy sien dit, Hy hoor dit, die
geur daarvan vul Sy troonkamer. Volhard in gebed! ~ Wilna Botha,
20/03/2015 |
|
Ek lees in Gen. 39 dat, ten spyte
van die feit dat Josef deur sy broers in ’n put gegooi is, as slaaf
verkoop is en onskuldig in die tronk beland het, die Here by hom
was. Ek lees dat dit goed gegaan het met hom (:2), dat hy die Here
se troue liefde ondervind het (:21), dat die Here alles wat hy
aangepak het laat slaag het (:23). Dit klink amper so teenstrydig.
Hy bevind hom in slegte omstandighede, hy word verwerp, vals
beskuldig, onregverdig behandel, maar nogtans is die Here by hom,
seën hom, voorsien en versorg hom; nogtans het die Here ’n plan met
sy lewe en werk alles ten goede mee. Onthou asb. vandag ook dat die
Here jou liefhet en besig is om Sy planne in jou lewe te laat
uitwerk, al sien jy dit nie vandag nie, al voel jy nie positief oor
die toekoms nie, al lyk dinge donker en buite beheer. Byt vas en
beur vorentoe. ~ Wilna Botha, 19/03/2015 |
|
In die liedjie “Agter elke man”,
hoor ek dié reëltjie: “Daar’s net regtig rykdom as daar goud is in
jou hart.” Toe wonder ek: hoe lyk ’n hart van goud? Miskien is dit
’n hart wat ryk is aan goedheid, liefde, omgee en mededeelsaamheid.
Miskien is dit ’n hart sonder selfsug, sonder afguns, sonder
hoogmoed. Miskien is dit ’n hart wat vol geloof, waarheid en goeie
waardes is. Miskien is dit ’n hart waar Jesus die middelpunt is,
waar Hy alleen op die troon is, waar Hy die Koning is. Ek strewe na
hiérdie soort rykdom en vra vandag die Here vir goud in my hart. ~
Wilna Botha, 18/03/2015 |
|
Die Here gee vir ons belofte op
belofte in Sy Woord. Party mense het dit al probeer tel en kom op
met meer as 3000. Ander sê 6000 of selfs 8000. Iets wat my net weer
opnuut opgeval het, is dat baie van die beloftes wat in die Bybel
gegee word, voorafgegaan word deur ’n voorwaarde. Wanneer jy enige
van God se beloftes vir jouself toeëien dink ek dis belangrik om te
kyk wat jy van jou kant af moet bydra tot die belofte. Baie beloftes
in die Bybel word voorafgegaan met “As julle ... dan sal Ek ...” Kom
ek gee ’n paar voorbeelde. Ons vat graag die belofte : “Vra net wat
julle wil en julle sal dit kry,” sonder om die voorwaarde te
lees en te doen: “As julle in My bly en My woorde in julle ...” (Joh.
15:7). Ons weet daar is ’n belofte dat die Here ons op die regte pad
sal lei, maar vergeet van ons verantwoordelikheid om Hom in alles te
ken wat ons doen (Spr. 3:6). Ons glo die belofte dat ons sterk sal
wees, soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein wat nooit sal
opdroog nie (Jes. 58: 11), maar ons doen nie die “as”-gedeelte van
die belofte nie. (Lees gerus die voorwaardes in Jes. 58:9-10). Ons
hou van Ps. 91:14 se beloftes: die Here sal jou red, die Here
sal jou beskerm, die Here sal jou gebed verhoor. Maar het jy al
raakgesien dat elkeen hiervan ook ’n voorwaarde het? Iets wat jý
moet dóén? Hou aan om God se beloftes te glo, herinner Hom
daaraan, maar moenie vergeet om jou kant van die belofte te doen nie.
~ Wilna Botha, 17/03/2015 |
|
"Use by date..."
Ons
sien hierdie woorde op alle bederfbare produkte wat ons koop en dis
goed, want dit gee vir ons ’n idee van die varsheid van die produk.
"Sell by date...", "Use by date...", "Best by date..."
Nou
ja, aangesien die mens ook "bederfbaar" is (jy weet mos, stof tot
stof) het ons ook ’n "Use by date...".
PSALMS
90:10
"Ons lewe maar
sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol
swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe."
Dit kan
maar redelik negatief klink en dit word verder versterk deur Pred.
12:1 :-
"Dink
aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie.”
Dit
hang af na watter deel van die teks jy kyk, die eerste of die tweede
deel. Die tweede deel van beide tekste klink nie te vrolik nie, maar
Pred. 12:1 se eerste deel is vir my die kruks van alles.
"Dink
aan jou Skepper in jou jong dae..."
Enige
deurwinterde Christen sal vir jou sê dat sy beste jare die tyd saam
met die Here was. Begin vroeg om die pad saam met die Here te stap,
dis goed, heilsaam, lekker en sinvol. En dit neem jou in elk geval
na die beste plek denkbaar toe. ~ Willem Botha, 16/03/2015 |
|
In 2 Tim. 2:4 word ons diens aan
die Here vergelyk met ’n soldaat se toewyding ten spyte van die
ontberings wat hy moet verduur. Soos ’n soldaat sy onverdeelde
aandag aan sy bevelvoerder gee en hom te alle tye gehoorsaam en
tevrede stel, moet ons ook voluit op Jesus fokus en nie verstrengel
en oorweldig word deur die bekommernisse en sleurwerk van die
alledaagse lewe nie. As Jesus se soldaat moet ons nie in ons eie
krag roem nie, maar in ons kennis van Hom, in ons verhouding met Hom.
As Jesus se soldaat moet ons altyd op ons pos wees - wakker,
waaksaam en geklee in ons geestelike wapenrusting. Het jy al
aangemeld? Mag die Here jou gewillig en bekwaam maak om ’n soldaat
in Sy weermag te wees. ~ Wilna Botha, 13/03/2015 |
|
“Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle
noukeurig gaan doen.” (Joh. 2:5, NLV) Dis wat die dissipels moes
doen om die wonderwerk te beleef van water wat wyn word. As ons wil
ervaar hoedat die Here in en deur ons werk, as ons wonderwerke wil
sien, Sy krag wil beleef, moet ons luister na Sy opdragte. Ons hoor
baie keer dat die Here met ons praat oor iets, dat Hy ons aanspreek
oor dinge wat moet verander, of Hy gee vir ons ’n opdrag en dan
ignoreer ons dit. Ons moenie net begeer om die Here se stem te hoor
sodat Hy ons kan paai en troos nie; ons moet ook bereid wees om
noukeurig te dóén wat Hy vir ons sê. Dit mag dalk op daardie
oomblik sinneloos en onbenullig lyk, maar dit kan uiteindelik seën
inhou vir jouself en vir ander. “Pas op, moet Hom wat met julle
praat, nie afwys nie.” (Heb. 12:25) ~ Wilna Botha, 11/03/2015 |
|
“Whenever we’re sick and in bed,
God becomes our nurse, nurses us back to health.” (Ps. 41:3, The
Message). Miskien is jy vandag dié een wat siek in die bed lê, of
dalk staan jy langs ’n hospitaalbed en weet nie hoe om die sieke te
bemoedig nie. Wel, hierdie teks help vir my, want ek visualiseer
hoedat die Here die een is wat my sélf verpleeg, wat aandag gee aan
hoe ek voel, wat salf aansit en pille aangee. Ek ervaar hoedat dit
die Here is wat my moeë gees streel en wat my bekommernis laat
verdwyn omdat ek wéét dat Hy die beste Dokter is. Hy is die een wat
elke been, spier, gewrig en orgaan ken, wat weet waar daar ’n fout
of ’n pyn is. Hy is die een wat vir die hele liggaam sorg (so sê dit
in Ps. 34:21) Mag die Here jou help en jou gesondheid herstel. ~
Wilna Botha, 10/03/2015 |
|
Word jou brood ook soms bonatuurlik
vermeerder?
Joh 6:9-11
“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies;
maar wat is dit vir so baie mense? Toe sê Jesus: “Laat
die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek
en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent
vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God
daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar
gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle
wou hê."
Ons ken hierdie deel baie goed waar Jesus
die brood vermeerder en mens wonder dalk soms of dit
regtig gebeur het. Dink jy dis 'n wonderwerk wat beperk
was tot daardie tyd of gebeur dit dalk vandag nog? Wel,
ek gaan jou wys hoe dit al in jou eie lewe gebeur het.
Was jy ook al met tye onder geweldige finansiële druk en
jy het nie geweet waar die geld vandaan gaan kom nie?
Ons almal het verseker al. Maar dink bietjie oor hierdie
stelling : 'n Brood kos ongeveer R12. Maar het jy nie
ook al gevoel dat R12 soms net 'n halwe brood koop en
jou geld van jou weghol nie? Maar soms, op bonatuurlik
wyse, is daar maar net elke keer tog genoeg en voel dit
of R12 drie of vier brode koop. Daardie tye waar die
somme net nie uitwerk nie, maar daar is maar net weer en
weer genoeg. Wel, ek glo dis die tye wat die Here die
brood vir jou vermeerder en dis dan net so bonatuurlik
as toe Jesus destyds daardie wonderwerk gedoen het.
Vertrou maar net op Hom, Hy gaan vir jou sorg. ~ Willem
Botha, 10/03/2015 |
|
“Voor die skepping was alles
eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose
dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die
waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: ‘Laat daar lig
wees.’” (Gen. 1:2-3, Die Boodskap) Toe ek vandag weer dié eerste
verse van die Bybel lees, het dit my getref hoedat God se
teenwoordigheid, Sy woorde, Sy lig, omstandighede kan verander. Deur
Sy teenwoordigheid het daar orde in die chaos gekom, het daar ritme
gekom, het daar skoonheid gekom, het daar nuwe lewe gekom. Is
jy eensaam, voel jy verlate en alleen? Voel dit of die angswekkende
donkerte jou vasdruk? Is die put waarin jy is diep en bodemloos?
Waai die stormwinde en slaan die lewensgolwe om jou? God is ook daar
by jou en Hy sê: laat daar lig wees. “Die Here sal vir jou ’n
ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jes. 60:20) ~ Wilna
Botha, 09/03/2015 |
|
Spreuke 6:12-15
"Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd
reg is om te lieg , om te bedrieg deur met die oog te knik, met die
voet te beduie, met die vingers tekens te gee, wat altyd met 'n
skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid
waar hy gaan. So 'n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen,
en daar is nie herstel nie."
Wat is waarheid, wat is onvoorwaardelike eerlikheid, wat
is absolute volmaakte opregtheid? Kry jy dit reg of het jy
soos ek ook maar voete van klei? Sjoe, ek moet nie te veel hieroor
dink nie, want dan sien ek my eie ware kleure raak. Ek word so vies
as ek die nuus luister en hoor hoe daar tot op die hoogste vlakke in
die samelewing geswendel word, maar ek kan self nie hierdie
eenvoudige teks in Spreuke se toets slaag nie.
My gebed is dat die Here vir my sal bewus maak van elke
aksie en gedagte wat nie binne Sy wil is nie. ~ Willem Botha,
06/03/2015 |
|
“U sal hoor as ek soggens vroeg met
U praat. Soggens sal ek my hart oopmaak en wag op U antwoord.” (Ps.
5:4, Die Boodskap) Ek dink ek het vandag dié teks vir die eerste
keer raakgelees! Klink dit nie soos ’n vroeg-oggend stiltetyd nie?
’n Stilword saam met die Here voordat die dag begin, ’n tydjie wat
jy jou hart oopmaak voor die Here en jou nood en behoeftes en
begeertes voor Hom uitstort. ’n Paar minute waarin jy wag op die
Here se antwoord, waarin jy sy stem hoor wat jou bemoedig vir die
dag en jou verseker van sy liefde en sy voorsiening vir die dag wag
voorlê. ’n Paar minute waarin jy met oop hande Sy seën ontvang. Wees
stil en weet ... ~ Wilna Botha, 05/03/2015 |
|
Dit wat die Here van ons verwag,
die lewenswyse wat Hom sal behaag, die keuses en daaglikse fokus wat
volgens Sy wil sal wees, lyk partykeer vir ons so moeilik en
onmoontlik om te bereik. Die Here se riglyne is egter nie te moeilik
nie, want Hy gee ons Sy Gees wat in ons werk, wat ons lei en dring
om God se wil te doen. Dit mag onmoontlik lyk as jy op jou eie
probeer om die regte dinge te doen. Onthou om op die Here te leun en
staat te maak op sy genade, deernis en hulp – Hy sal nie iets van
jou verwag waartoe jy nie in staat is nie. “Wat ek julle vandag
beveel om te doen, is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En
julle kan dit ook doen. Wat die Here van julle vra, is nie so
moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te
verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en
vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie.
Wat die Here van jou vra, kan jy doen .. Jy kán lewe soos die Here
van jou verwag.” (Deut. 30:11-13, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
04/03/2015 |
|
Slangetjies en leertjies.
Ek is seker jy het hierdie bordspeletjie
hordes kere as kind gespeel. Die doel van die speletjie is om eerste
by die eindpunt uit te kom, maar soms is jy gelukkig en jou
merkertjie beland gereeld op 'n leertjie en jy vorder vinnig tot by
die eindpunt. Maar o wee, met my geluk beland ek kort kort op 'n
slangetjie en dan is ek maar weer net waar ek begin het.
Is die lewe nie ook maar so nie? Party
mense tref net altyd die goeie geluk, maar ander nie. Die
lewe is op en af, en soms gaan dit vir jare klopdisselboom, en dan
eendag, uit die bloute tref 'n tragedie of slegte omstandighede jou
en dan voel dit of jy reg van voor af moet begin. Dit lyk my ons het
nie altyd al die keuses nie, maar dat buite faktore 'n groot rol
speel.
PREDIKER 9:11
"Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die
vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog
wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges
wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid."
Dit sê verseker nie dat God nie in beheer is nie. Maar
ek lees hierin raak dat die Bybel voorsiening maak daarvoor dat
omstandighede 'n rol speel in ons daaglikse lewe. Die vraag is nie
of slegte dinge op jou pad gaan kom of nie, maar of jy bereid is om
verder te speel en weer op te staan as jy platgeslaan is. Saam met
God kan jy altyd weer begin, as jy wil. ~ Willem Botha, 03/03/2015 |
|
“Dit
gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here .” (Ps.
119:1) Insig en wysheid, leiding en rigting, vrede en geluk, troos
en bemoediging – dís wat die Woord van die Here jou bied. Dis
vrylik tot jou beskikking, gebruik dit, bestudeer dit, bêre dit in
jou hart, volg dit, gehoorsaam dit. “U woorde is soos die mooiste
musiek in my ore, al kry ek baie swaar.” (Ps. 119:54, Die Boodskap)
~Wilna Botha, 02/03/2015 |
|
“... hou by die reëls soos ’n
atleet, anders word jy gediskwalifiseer.” (2 Tim 2:4, NLV) Ons
Christelike lewe word op ’n paar plekke in die Bybel vergelyk met ’n
wedloop. Ons, as atlete in hierdie wedloop, moet gedissiplineerd
wees, hard oefen en enduit volhard. Ons moet dié dinge wat ons kan
pootjie of afrem agterlaat – moenie hardloop met ’n rugsak vol
griewe, onafgehandelde sake en geraamtes, vooroordele, haatgedagtes,
negatiwiteit ens. op jou rug nie. Hou by al die reëls van die
wedloop, anders mag jy dalk by die eindpunt hoor dat jy
gediskwalifiseer is. As atleet in die lewenswedloop moet ons ons
oog op die wenpaal hou en op ons afrigter, Jesus, wat ons aanmoedig
en by die eindstreep wag met die oorwinnaarskroon is Sy hand. Druk
deur, jou beloning sal groot wees! ~ Wilna Botha, 27/02/2015 |
|
Gee vir my 'n teken...
MATTEUS 12:39
Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en
afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee
word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
MATTEUS 16:1
"Die Fariseërs en die Sadduseërs het
gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir
hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen."
Tekens.
Ek dink ons almal soek maar heimlik tekens by God om
seker te maak dat ons op die regte pad is. Ons glo dit gaan vir ons
help om die regte keuses te maak en om op so 'n manier op te tree
dat dit die Here sal behaag.
Ons soek soms ook tekens om God se bestaan te bewys,
vernaam in tye waar dit swaar gaan en ons uitkoms vir nood soek.
Laastens soek ons tekens wanneer ons besluite wil maak
wat maar uit en uit vir ons eie gewin is, hetsy vir finansiële
voordeel, maar soms ook om blatant ons sondige besluite te regverdig.
Mense sal selfs tekens soek om 'n buite-egtelike verhouding te
regverdig of selfs om bedrog te pleeg. Ons soek gewoonlik ook net
tekens vir dinge wat tot ons eie voordeel sal wees, en siedaar, daar
kry ons dit in die Bybel. Maar dis baie baie gevaarlik! As ek aan
hierdie dinge dink besef ek hoekom die Here so ernstig vermaan teen
die soeke na tekens.
Ons het nie tekens nodig nie, net geloof. ~ Willem
Botha, 26/02/2015 |
|
Het jy ook al soos Dawid in Ps. 6:4
gesê: “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms
gee?” Miskien is jy op die oomblik só moedeloos en só desperaat.
Daar is ’n belofte wat die Here by herhaling vir Sy mense gee:
“Nogtans sal daardie tyd van donkerte en wanhoop nie vir altyd
aanhou nie...” (Jes. 8:23, NLV) Neem dit asseblief vandag vir jou
ook as ’n persoonlike belofte. Swaarkry gaan verby, die son kom weer
uit, die storm hou nie vir altyd aan nie, die hartseer word minder,
die alleenheid word draagliker. Die Here sê: “Ek sal hulle droefheid
in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee; Ek sal hulle bly
maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” (Jer. 31:13) Ek hoop
regtig dat jy binnekort sal kan getuig: die uitkoms is hier! ~ Wilna
Botha, 25/02/2015 |
|
Wanneer is genoeg genoeg?
Die slim mense sê ons almal het so min of
meer 10% meer nodig, ongeag wat ons verdien. Ons ken ook almal vir
Mammon en weet wat dit beteken om geld liewer te hê as vir God. Maar
dit bly moeilik om dit te kwantifiseer, want min vir een is baie vir
ander. Ek persoonlik sukkel vreeslik hiermee want ek wil net meer en
meer hê, terwyl ek leef met die witbrood (met DIK jam) onder die
arm. Ek struikel toe eendag oor hierdie teks in Spreuke, en dit gee
toe vir
my iets konkreet om teen te meet.
Spr 30 : 8 - 9 "moenie toelaat dat ek vals is en lieg
nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek
nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: Wie is die
Here? nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer
aandoen nie."
Dit bly steeds moeilik om die balans te hou, maar ek
hoef myself elke dag net twee goed af te vra:
1) Besteel ek ander (op hordes maniere) om meer te hê?
2) Maak my welvaart dat ek glo ek nie meer die Here
nodig het nie? ~ Willem Botha, 24/02/2015 |
|
Dis nogal opvallend dat daar by
sekere kerkbyeenkomste oorvol sale is. Dis gewoonlik dié waar daar
iets buitengewoon, of opwindend gebeur, waar daar ’n dinamiese
spreker is of ’n gratis ete aangebied word. Dis by dié geleenthede
waar jy net ’n toeskouer is en nie iets van jouself hoef te gee nie.
Dan is daar weer geleenthede waar daar niks “glamorous” gebeur nie,
waar daar gewerk en gebid word en meeste van die tyd is die
belangstelling hier maar flouerig. Ek sien in die Bybel dat daar in
Jesus se tyd ook sulke tendense was. Toe daar ’n interessante preek,
deur ’n “nuwe” prediker gelewer word en daar boon-op ’n
wonderwerk gebeur en almal gratis kos kry, was daar 5000 mans en
hulle gesinne teenwoordig. (Matt. 14:21) Wow, wat ’n opkoms! Op ’n
ander keer toe daar ’n gebedsbyeenkoms is, daag net 120 gelowiges
op (Hand 1:15). Toe Jesus ’n groepie kies wat deur dik en dun saam
met Hom moet stap, kies Hy slegs 12 toegewyde manne wat bereid is om
alles te los om Hom te volg. In die tuin van Getsemane het net 3
dissipels saam met Jesus gegaan en hulle kon nie eens wakker bly nie
(Matt. 26:37). Hulle het almal weggehardloop toe die moeilikheid kom.
Uiteindelik by die kruis, was Johannes die enigste een wat getuie
was van die groot offer wat Jesus betaal het. Iemand het eenmaal
gesê:
As jy wil
weet hoe gewild die kerk is, kyk na die bywoning van die oggenddiens;
as jy wil weet hoe gewild die dominee is, kyk na die bywoning van
die aanddiens, en as jy wil weet hoe gewild die Here is, kyk na die
bywoning van die gebedsbyeenkoms. ~ Wilna Botha, 23/02/2015 |
|
Spyt kom altyd te laat.
Het jy ook al gewonder of Judas 'n slagoffer was? So
asof die noodlot hom 'n streep getrek het. Die arme ou
wat die een moes wees om Jesus te verraai en toe
wreedaardig moes sterf. Hy was immers 'n dissipel en hy
het vir drie jaar saam met Jesus geleef, en toe vaar die
bose in hom in en hy veraai vir Jesus, en toe pleeg hy
selfmoord.
LUKAS 22:3 "Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem
is en een van die twaalf was, ingevaar ."
Ons lees egter ook van
Petrus wat vir Jesus verloën het. En dit nogal nadat
Jesus hom gewaarsku het daaroor.
MATTEUS 26:75
En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val
dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan
kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe
gegaan en bitterlik gehuil.
Twee dissipels wat beide hulle rug op Jesus gedraai het.
En toe gaan pleeg Judas selfmoord en Petrus word die
rots waarop Jesus die kerk sou bou. Wat op aarde was die
verskil?
Judas het SPYT gekry en Petrus het BEROU gehad, en dis
dit!
Judas se storie : MATTEUS 27:3
Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood
veroordeel is, het hy spyt gekry.
Petrus se storie : JOHANNES 21:15
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus:
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as
hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek
U liefhet.”
Sien jy die verskil? Daar is vergifnis vir berou,
maar spyt kom te laat.
En daar is geen sonde te groot vir vergifnis nie.
~ Willem Botha, 20/02/2015
|
|
“Die Here se diensknegte moenie
twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees ... en geduldig
met moeilike mense.” (2 Tim 2:24, NLV) Ai, wat ’n moeilike teks om
te oordink en te verwerk en te dóén. As ek myself dienskneg en
navolger van Jesus noem, sal ek meer van hierdie goedgesindheid en
geduld in my lewenstyl moet nastreef. E k sal myself moet
programmeer om anders teenoor moeilike mense op te tree as wat my
natuurlike self sou wou doen. Ek sal moet leer en oefen om rustiger
en sagter te praat met mense wat my verkeerd opvryf of my irriteer.
Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek bid dat die Heilige Gees
hierdie vrug in my lewe sal laat groei tot eer van die Here. ~
Wilna Botha, 19/02/2015 |
|
Al sou die vyeboom nie bot nie.
Habakuk 3:17-18 "Al
sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde
wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die
beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal
ek juig in God, my Redder."
Ek dink ons almal ken hierdie gedeelte
uit Habakuk 3 baie goed, en ons sing die liedjie na hartelus saam.
Ek dink egter dis een van die liedjies
wat lekker sing maar moeilik doen. Habakuk sing hierdie lied as 'n
klaaglied want dit lyk my hy skryf hierdie woorde in 'n tyd waar dit
werklik swaar gaan.
Hoekom sou hy juig en jubel?
Vir my lê die antwoord in die eerste klomp verse van
hierdie gedeelte. As jy dit lees sien jy hoe hy God se almag en
grootheid raaksien en Hom daarvoor vereer.
Vers 2 :
"Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul
met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u
dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn."
Hy blameer nie die Here vir die swaarkry nie, hy noem
slegs die feit dat God groter is as enige probleme. Ek en jy kan dus
ook vandag uitroep : Nogtans sal ek in die Here jubel... ~Willem
Botha, 18/02/2015 |
|
In Jes. 61:3 lees ons van drie
“uitruilings” wat die Here vir Sy kinders moontlik maak. Een daarvan
is dat Hy vir ons “the garment of praise in stead of a spirit of
heaviness” gee. ’n Ander Engelse vertaling praat van ’n “
praising heart in stead of a languid spirit”. Wanneer jou binnekant
swak, flou, traag, lusteloos, dooierig, kwynend, moeg en hartseer
is, wanneer jy sonder hoop en smagtend na die een of ander uitkoms
is, wanneer die lewe swaar druk op jou, kom nader sodat die Here vir
jou ’n mantel van blydskap, vreugde, dankbaarheid en eer kan omhang.
Hy stel jou in staat om ten spyte van jou omstandighede ’n loflied
te sing, steeds te juig oor jou verlossing in Jesus, opnuut te bely
dat Hy almagtig en genadig en in beheer is. Hy stel jou in staat om
weer die mooi en waardevolle dinge om jou raak te sien en te
waardeer. Ek hoop jy kan hierdie uitruiling in geloof aanvaar en
beleef. ~ Wilna Botha, 17/02/2015 |
|
“Ek wil op my uitkyktoring gaan
staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te
verneem wat die Here vir my sal sê ... “(Hab. 2:1) Om te hoor wat
die Here vir jou persoonlik of vir jou familie of gemeente wil sê,
vra inspanning en opoffering; dit vra afsondering, stilword en
geduldig wees; dit vra fokus op die Here en afskakel van dinge wat
jou aandag kan wegtrek; dit vra wag totdat jy hoor. Op die
“uitkyktoring” kan jy tyd bestee om om jou rond te kyk, om op te kyk,
om binne-in jouself te kyk. Onthou die Here kan met jou praat deur
Sy Woord, deur jou eie gedagtes of indrukke, deur omstandighede,
deur ’n preek of deur iemand anders se getuienis. Word stil en gaan
staan in geloof op jou uitkyktoring – glo en verwag dat die Here met
jou sal praat. ~ Wilna Botha, 16/02/2015 |
|
“Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op
kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan
lees.” (Hab. 2:2) Ek dink dit is altyd ’n goeie idee om
dit wat die Here vir jou duidelik gemaak het, of ’n
opdrag wat jy van Hom ontvang het, of ’n belofte wat jy
raakgelees het neer te skryf. Wanneer ek dit neerskryf,
help dit my om my gedagtes daaroor te orden en help dit
my om dit te onthou. Ek kan weer terugkyk daarna en sien
hoedat die Here by herhaling oor dieselfde tema met my
gepraat het om my te lei of te bemoedig of ’n opdrag te
gee. Wanneer ek moedeloos voel, kan ek terugkyk en weer
die beloftes sien wat die Here gemaak het. Wanneer ek
geestelik lui en lou raak of teruggly, dan kan ek
terugkyk en weer onthou hoe die Here my geroep en gered
en gesalf het. Wanneer dit neergeskryf is, kan ek dit
ook maklik met iemand anders deel. Dis deesdae so maklik
met al die elektroniese “gadgets” tot ons beskikking: jy
kan notas op jou selfoon, tablet of rekenaar maak, of
sommer net ’n klein notaboek in die handsak of hempsak
saamdra – jy hoef dit gelukkig nie op ’n groot
kleitablet te skryf soos Habakuk nie! ~ Wilna
Botha, 13/02/2015 |
|
GRYP DIE DAG
Prediker 5 : 17 "Ek het ook iets gesien wat goed is: dit
is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet
onder al die geswoeg op hierdie wêreld."
So 'n lekker teks om te lees, dit val so lekker op die
tong, klink na so 'n goeie idee, maar boeta laat ons net
na een nuusberig luister dan waai hy by die deur uit.
Eet en drink en die lewe geniet, maar daar is soms net
nie tyd nie want werk en verpligtinge vreet net
eenvoudig elke oomblik van die dag op. Het jy soms
bietjie "me-time", of no time at all?
Kom ons vat dit bietjie verder. Wie op aarde kan die
lewe geniet as ons daagliks met soveel negatiwiteit
gebombardeer word?
Soek jy 'n antwoord? Wel, ek kan jou help hiermee. Mense
wat kies om bokant hierdie dinge uit te styg is die
beste daaraan toe. Ek hoor 'n oulike spreekwoord die
ander dag: "Not my monkeys, not my circus".
Ek sukkel vreeslik hiermee, maar ek sal 'n besluit of
twee moet neem. As ek nie kies om gelukkig te wees nie,
gaan ek saam met die doemprofete ongelukkig wees. Swoeg
moet ek swoeg, maar ek gaan dit met 'n glimlag doen. En
soms te veel en lekker eet. Die lewe is te kort... ~
Willem Botha, 11/02/2015 |
|
Die Here se goedheid en genade kan
die slegste, hardkoppigste, onverstandigste,
ongehoorsaamste mens verander. Sy genade kan oor enige
iemand spoel en hom silwerskoon en nuut maak. Dis
omtrent soos hierdie “extreme make-over” stories wat
mens op TV sien. As jy die “before” and “after” sien,
kan jy nie glo dis dieselfde persoon nie. Die Here se
make-over verander nie net die hart en gedagtes nie, dit
maak ook die uiterlike sag en mooi. Die Here trek vir
die persoon fyn, wit klere aan, gewas in die bloed van
die lam, Hy kroon hom met liefde en ontferming, eer en
aansien. Moenie jouself of iemand anders afskryf nie –
by die Here is daar altyd weer ’n kans op ’n make-over!
“Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy
’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine.
Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan
is die nuwe lewe hier!” (2 Kor. 5:17, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 10/02/2015 |
|
“Voordat die berge gebore is en U
die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.”
(Ps. 90:2) Met ons beperkte begrip van tyd, is dit effe moeilik om
God se ewigheid te verstaan of te probeer verduidelik. In die
Message lees Ps. 90:2 as volg: “... from "once upon a time" to
"kingdom come" - you are God.” Hy het geen begin nie en geen einde
nie. Hy bestaan van altyd af en sal nooit ophou bestaan nie. Hy is
die Een wat is en wat was en wat kom, van altyd af is sy Naam: ons
Verlosser (Jes. 63:16). Van altyd en altyd af is Hy die ware God,
Sy jare kan nie bereken word nie (Job 36:26). Wie anders as dié
ewige Getroue, ewige Volmaakte, ewige Redder kan ons vertrou , glo
en volg? ~ Wilna Botha, 09/02/2015 |
|
“Hulle sal moeg en honger wees. En
omdat hulle honger is, sal hulle hulle vuis teen die hemel oplig en
hulle God vloek.” (Jes. 8:21-22, NLV) Te veel kere hoor mens hoedat
iemand wat swaarkry, wat tekort het aan aardse besittings, wat siek
is, wat alles verloor het, hulle rug op die Here draai. Hulle sê
maklik: waar is die Here as ek Hom nodig het? Hy doen dan niks vir
my nie. Is dít nou ’n God van liefde? Hulle maak soos wat Job se
vrou wou hê hy moes doen toe hy alles verloor het en daar op die
ashoop gesit het. Sy het gesê: “Hoekom hou jy aan om die Here te
dien? Vloek God en sterf.” (Job 2:9) Ek wil leer uit Job se antwoord,
ek wil myself herinner om dieselfde uitkyk te hê as hy. “As ons die
goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
(Job 2:10) Ek wil ook soos Job, ten spyte van omstandighede, nie
sondig nie en nie vir God verwyt nie. (Job 1:22) ~ Wilna
Botha, 06/02/2015 |
|
Wat
het jy vandag nodig? Daar is net soveel goed wat ons nié in die
wêreld kan kry nie, al het ons ’n sak vol geld om mee te koop, al
ken ons hoë mense wat vir ons toutjies kan trek. Ek dink die Here
laat daardie soort behoeftes in ons lewens toe sodat ons na Hom toe
sal hardloop daarvoor, omdat dit nêrens anders te vinde is nie. Ek
dink aan ons behoefte aan goed soos liefde, genade, hoop, vergifnis,
aanvaarding, ens. Die Here het ’n stoorkamer vol hiervan waaruit Hy
in elke behoefte van ons kan en sal voorsien. In Sy stoorkamer is
daar altyd genoeg van alles. Jy kan weer en weer terugkom en
voorraad kom haal. Daar sal nooit ’n kennisgewing op die deur wees
wat sê “uit voorraad” of “discontinued” nie! As jy aanvaarding soek,
weet dat die Here jou aanneem as Sy kind. As jy liefde soek, God ís
liefde en stort dit oorvloedig op ons uit. As jy hoop nodig het,
weet dat God die bron is van alle hoop. As jy moed kort, kan jy by
Hom kom moed skep. As jy meer geloof nodig het, weet dat die Gees
reeds besig is om groter geloof in jou hart te kweek van die klein
saadjies wat reeds daar is. As jy vergifnis nodig het, weet dat God
se genade verniet en genoeg is. “En my God sal in elke behoefte van
julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus
Jesus.” (Fil. 4:19) ... kom haal wat jy nodig het. ~ Wilna Botha,
05/02/2015 |
|
Ps 37 : 1 - 3
1 Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke
nie,
2 want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid
verdwyn hulle sommer.
3 Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon
en werk rustig voort.
Miskien voel jy ook
soms of jy net wil weghol, of dinge nie weer beter
sal gaan nie en of ons ou volkie verdoem is. Ja die
pers bombardeer ons met slegte nuus, maar vir die
Here is dit niks nuuts nie, dit kom sommer van die
vroegste dae af. In hierdie Psalm sien ons dat dit
in Dawid se tyd maar dieselfde was en hulle ook maar
moes keer dat dit bars. Die Here gee nie hier 'n
waarborg dat alles net voor die wind sal gaan nie,
maar Hy sê drie dinge wat alles anders laat lyk:
Moet jou nie ontstel nie... Dit help in elk geval
nie.
Vertrou op die Here... Want Hy is steeds in beheer
Woon en werk rustig voort... Doen jy maar net jou
deel, Hy sal Sy deel doen. ~ Willem Botha,
04/02/2015
|
|
Wat het ons oor U gesê? Julle het
gesê: “Dit is nutteloos om God te dien” (Maleagi
3:13-14)
Het ons oor die Here gepraat vandag, gister, verlede
week? Wat het ons oor Hom gesê? Het ons ook gesê dis nie
meer die moeite werd om Hom te dien nie? Het ons sy
bestaan ontken? Het ons gesê Hy is onregverdig,
onmagtig en vêr? Of het ons sy naam grootgemaak en
geprys? Het ons sy eer verdedig? Het ons vertel van sy
goedheid en sy liefde? Het ons erken en bely dat Hy
waarlik God is en in beheer van alles? Sê vandag iéts.
Sê iets soos:
“Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die
Een wat na die wêreld toe moes kom” (Joh. 11:27). Sê
iets soos: “Die Here is my rots, my skuilplek en
my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en
sterk verlosser, my veilige vesting.”( Ps. 18:3) ~ Wilna
Botha, 02/02/2015 |
|
Wat kry jy soggens in saam met jou
ontbyt? Lees jy koerant , luister nuus en kyk na die
politieke ontleders se relase op TV? Laat dit jou, soos
vir my, dikwels met ’n wrang en bitter nasmaak waarmee
jy jou dag ingaan? Laat dit jou met ’n hol, onversadigde
kol op jou maag? Ja, ek weet, ons moet ingelig wees en
ons moet weet wat om ons aangaan, maar partykeer voel
dit vir my of dit net so ’n negatiewe golf is wat my wil
saamsleep en verdrink. Ek wil sommer net hierdie week
ingaan met vars, nuwe gedagtes. Gedagtes wat opbouend,
goed en positief is, gedagtes wat lig en vrolik is. Ek
bid dat die Here my gedagtes gevange sal neem, op Hom
sal rig en op “alles wat waar is, alles wat edel is,
alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is,
alles wat prysenswaardig is ... ” (Fil. 4:8) Dís mos nou
dinge wat mens versadig en tevrede kan laat voel! ~
Wilna Botha, 02/02/2015 |
|
Kyk nou net hierdie wonderlike
belofte waarvan Jesus in Matt. 11:30 praat: “Keep
company with Me, and you will learn to live freely and
lightly.” As ons in in ’n persoonlike verhouding met die
Here is en in Sy teenwoordigheid lewe, dan belowe Hy vir
ons iets wat ons almal begeer: om vry te wees en die
lewe te geniet. Dit ís moontlik om elke dag te sê: die
lewe is lekker. In die Here se teenwoordigheid is daar
liefde en genade, is daar vrede en tevredenheid, is daar
rus en rustigheid. In Sy teenwoordigheid sal ons krag
vir elke dag ontvang, moed vir elke probleem, hoop vir
die toekoms. In Sy teenwoordigheid is daar ’n skaduwee
waar ons kan skuil, waar ons verkwik en verfris kan word
al is die lewe ook hoe warm en ongenaakbaar. “Die Here
is my herder, ek kom niks kort nie ....” ~ Wilna Botha,
29/01/2015 |
|
In Matt. 11:30 vra Jesus: “Keep
company with Me ...” Hy nooi ons uit om by Hom te kom
sit, om alleen tyd saam met Hom deur te bring, om in Sy
geselskap te wees. Hy wíl graag in ’n intieme,
persoonlike vriendskapsverhouding met jou wees. Hoe kan
jy dit prakties doen? Dink aan die Here – vul jou
gedagtes met wie Hy is; lees en oordink die Woord; praat
met Hom in gebed; skryf vir Hom ’n brief of ’n gedig wat
verwoord hoe jy oor Hom voel; luister na geestelike
musiek, ’n preek of voorlesings uit die Bybel; woon
kerkdienste, Bybelstudie en ander byeenkomste by waar
daar oor Jesus gepraat en geleer word; neem deel aan die
nagmaal; kyk in stilte op na die sterre, die berge,
riviere en ervaar só Sy teenwoordigheid in die natuur.
Om tyd saam met die Here deur te bring moenie ’n
inspanning wees nie, dit moenie vir jou ’n plig of harde
werk wees nie, dit moet ’n uitvloeisel wees van jou
natuurlike behoefte en verlange na Hom en liefde vir Hom.
“Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe ... “ (Mark
6:31) ~ Wilna Botha, 29/01/2015 |
|
“In die nag vloei die trane, maar
in die oggend is daar vreugde.” (Ps. 30:6, NLV) Die
Bybel sê daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te
treur, ’n tyd om hartseer te wees, maar daar moet ook ’n
tyd kom om te lag en van vreugde te dans. Wanneer mens
verlies ervaar het en in ’n treurtyd is, is dit nodig om
hartseer te wees, om te rou en te huil. Maar, daar móét
egter ook ’n tyd kom wat jy die hartseer en pyn
agterlaat en begin om vorentoe te beur. As jy dit nie
doen nie, gaan die verlede jou toekomstige vreugde
steel. Moenie die res van jou lewe rou oor iets wat jy
verloor het nie. Koester die herinneringe, maar beweeg
aan en vertrou die Here om jou roukleed uit te trek en
vir jou “vreugde in plaas van droefheid, blydskap in
plaas van hartseer” te gee (sien Jes. 61:3) ~ Wilna
Botha, 28/01/2015 |
|
“Gaan terug na wat die Here gesê
het! As julle julle nie daaraan steur nie, is daar geen
toekoms vir julle nie.” (Jes. 8:20, NLV) As mens vandag
se dae om jou kyk, sien jy orals hoe mense net doen wat
hulle wil. Wetteloosheid is aan die orde van die dag,
mense ignoreer reëls, verontagsaam gesag, steur hulle
nie aan wat reg en verkeerd is nie. Soveel te meer word
God se voorskrifte, riglyne en aanbevelings geïgnoreer
en verwerp. Die Bybel word verontagsaam, nie gelees en
nie geglo nie. As ons só lewe, kan ons niks goeds te
wagte wees nie. As ons daarmee volhou sal ons lewens op
’n ramp afstuur. Die Here roep ons altyd om terug te
keer na Hom, na Sy Woord, na Sy wet. Luister na wat Hy
sê, dóén dit, anders is jy dalk soos die dwase man wat
sy huis op sand gebou het, sonder toekoms, sonder
rigting en sonder vrede. ~ Wilna Botha, 27/01/2015 |
|
“I won’t lay
anything heavy or ill-fitting on you,” sê Jesus in
Matt. 11:29. “My juk is sag en my las is lig.” Wat ’n
wonderlike belofte is hierdie nie vir iemand wat in ’n
moeilike situasie is of ’n gewigtige besluit moet neem
nie. As die lewe soos ’n donker tonnel voor jou uitstrek,
as die berg voor jou hoog en onmoontlik lyk, as die reus
voor jou sterk lyk en goed gewapen is, herinner jouself
aan hierdie belofte: die las sal nie té swaar wees vir
jou om te dra nie, jy sál daardeur kom, jy sál sterker
word daardeur, die Here is by jou, Hy laat jou nie
alleen deur jou moeilike tye gaan nie.
“... die krag
wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. “In
alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk
nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons
word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die
grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” (2
Kor. 4:7-9) Hou moed en wees sterk. ~ Wilna Botha,
26/01/2015 |
|
Baie keer sê
mens: die Here is goed vir my want ek is gesond, want ek
het oorvloed om van te leef, want ek het goeie kinders,
want ek kon ’n nuwe kar koop, want ek het my eksamen
deurgekom ens. Ons sê: die Here het my geseën met my
finansies, ’n werk, wonderlike huwelik, ’n mooi huis,
ens. Toe wonder ek nou: as jy nié gesond is nie, nié
werk het nie, nié geld in die bank het nie, as jy pas ’n
geliefde aan die dood afgestaan het of deur ’n
egskeiding is, of as jy dalk gestrem is, beteken dit dan
dat die Here nié goed is vir jou nie? Nee, honderd maal
nee! Sy goedheid en sy seën lê in sy teenwoordigheid, in
die krag en vrede wat jy ontvang, in die lig wat daar
voor jou in die donker tonnel brand. Vat Sy hand en stap
saam met Hom deur jou moeilike tye. Hy is goed, ongeag
jou omstandighede of hoe jy voel. “Die Here dink aan ons,
Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot.”
(Ps. 115:12-13) ~ Wilna Botha, 23/01/2015 |
|
“Watch how I do it,” sê Jesus in Matt. 11:28. Ja, ons
kan maar weer in die gewoonte kom om te vra: Wat sou
Jesus doen? Kyk na Hom en volg sy voorbeeld in alles. Hy
is sagmoedig en nederig van hart, vol genade en
waarheid, barmhartigheid en liefde vloei uit Hom – dit
is die gesindheid waarmee ons ook deur die lewe moet
gaan. Hoe doen Jesus dit? Hy stop by siekes, Hy onderrig
mense, Hy kuier by sondaars, Hy deel kos uit, Hy bid vir
mense, Hy stel belang in hulle nood en behoeftes, Hy
vergewe, Hy bly gehoorsaam aan die Vader tot die dood.
“Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God
wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie;
om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy
agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.” (Matt.
11:29-30, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 21/01/2015 |
|
“Walk with Me and work with Me - watch
how I do it.” (Matt. 11:29). Work with Me, sê Jesus. Ons
moet saam met die Here werk, saam met Hom “ingespan”
word. Sien in jou geestesoog hoedat jy in jou alledaagse werk onder
dieselfde juk sáám met die Here trek aan jou werkslas.
Kla minder, stres minder, doen jou werk met oorgawe en
vreugde, doen dit goed asof jy dit vir Hom doen. Besef
dat Hy langs jou is, saam met jou werk en jou help
wanneer jy ’n moeilike taak het om te doen. Besef dat Hy
langs jou is met raad en wysheid as jy in ’n
doodloopstraat is. Werk vandag saam met die Here. ~
Wilna Botha, 20/01/2015 |
|
Ek het hierdie aanhaling nou die
dag gesien: “God gives, gives and forgives. But the
human gets, gets and forgets.” Dink bietjie aan alles
wat die Here verniet vir jou gegee het, sonder dat jy
dit verdien, nét omdat Hy jou liefhet en omdat Hy God
is. Onthou vir ’n slag wat jy alles ontvang het: genade
op genade, volkome vergifnis, lewe in oorvloed, die
Heilige Gees wat in jou kom woon het, vrede wat alle
verstand te bowe gaan, die reg om God se kind te wees,
die ewige lewe. Moenie vergeet wat jy uit God se hand
ontvang het nie, wees dankbaar en gaan gee, gee, gee ook
iets van die Here se liefde en genade aan die mense om
jou. “Wat ek ontvang het, kom alles van U af. ’n
Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang
het, is vir my mooi.” (Ps. 16:6) ~ Wilna Botha,
19/01/2015 |
|
Ons lees in Eks. 16 dat die Here
vir Sy mense manna gegee om van te lewe in die woestyn.
Vir veertig jaar het hulle elke dag genoeg gehad vir
daardie dag. Hulle moes nie opgaar en bêre vir die
toekoms nie, die Here het elke dag vir hulle ’n vars
porsie gegee. Wanneer hulle te veel opgetel het as wat
hulle vir een dag nodig gehad het, het dit in elk geval
vrot geword. So sal die Here vandag nog vir Sy kinders
sorg met wat hulle vandag nodig het. Dis vir my maar
baie moeilik om met daardie een-dag-op-‘n-slag vertroue
te leef. Ons wil mos seker wees van ’n hele week, ’n
hele jaar of tien se inkomste. Bekommernis en stres gaan
gewoonlik nie oor vandag se brood nie. Dis die toekoms
waaroor ons ons dood bekommer. Dis om meer en groter en
beter goeters te hê wat ons laat wakker lê. Ons gaar op,
sit weg, belê, neem polisse uit, maak planne – terwyl
Jesus ons leer om te bid: Gee ons vandag ons daaglikse
brood. Vertrou die Here vir vandag en glo dat Hy môre
ook betyds sal wees met sy manna. ~ Wilna Botha,
19/01/2015 |
|
Toe die Israeliete in die woestyn
was, het hulle vreeslik gekla en gekerm oor hulle
omstandighede. Hulle het voortdurend terugverlang na die
kospotte van Egipte. Hulle het die hele tyd vir Moses
blameer en die Here die skuld gegee vir hulle
omstandighede. Dié gekerm en gekla en blameer was een
van die redes waarom hulle vir 40 jaar in die woestyn
rondgeswerf het, terwyl hulle melk en heuning kon geniet
in die beloofde land. Die les wat ek hieruit leer is: ek
moet my eie foute en mislukkings erken, ek moet
verantwoordelikheid neem vir my eie besluite, ek moenie
iemand anders blameer of vir God verwyt oor die posisie
waarin ek myself mag bevind nie. Hou op kerm en kla en
blameer, aanvaar wat ek nie kan verander nie, leef
daarmee saam en “go with the flow” – kort voor lank is
die beloofde land dalk in sig! ~ Wilna Botha, 16/01/2015 |
|
“Jy moet onthou hoe die Here jou
God jou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy
het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op
die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy
sy gebooie sal gehoorsaam of nie.” (Deut. 8:2) As dinge
bietjie moeilik raak vir jou, as dit voel of die sorge
van die lewe jou vasdruk en probleme jou oorweldig, as
dit voel of jy verdwaal is in die woestyn van die lewe,
moenie opstandig of arrogant raak nie, moenie die Here
verwyt of jou rug op Hom draai nie, moenie twyfel en
dink jou geloof is nikswerd nie. Dink daaraan dat die
Here ’n doel het met wat Hy toelaat in jou lewe. Sien
raak dat Hy by jou is en jou deur die woestyn sal lei
met sy wolkkolom en sy vuurkolom en vir jou sal sorg met
manna en kwartels. Kalmeer en laat jou hart rustig word,
terwyl jy al jou vertrou opnuut in Hom plaas. ~ Wilna
Botha, 14/01/2015 |
|
Op my verjaardag
verlede week, het ek daaraan gedink dat indien ek die
“mooi ouderdom” van 75 gaan haal, dit beteken dat ek nog
net sowat 1000 weke oor het om te lewe... nét 1000
Maandae, nét 1000 naweke! Dit het my laat dink aan die
storie wat ek eenmaal gelees het van die man wat ook
1000 weke oorgehad het en toe 1000 albasters in ’n groot
bottel gegooi het. Hy het elke Saterdagoggend een
albaster uitgehaal en dit weggegooi. Toe hy sien hoe die
bottel al hoe leër word, het hy besef hoe vinnig tyd
verbygaan en hoe kosbaar die beskikbare Saterdae is. Dit
het hom gemotiveer om prioriteite in plek te kry en
seker te maak dat hy die tyd uitkoop. Ek het dié week
vir my ook ’n klomp albasters gaan koop en in ’n bottel
gegooi! Ek wil hê dié bottel op my rak moet my herinner
om te fokus op dinge wat regtig belangrik is: geloof,
hoop en liefde; geduld, dankbaarheid, goedhartigheid en
vergifnis; ek wil hê dié bottel op my rak moet my
herinner om te droom en nuwe dinge te ontdek, om te
sing, te lag, te speel, om geluk te vind in eenvoudige
dinge en tevrede te wees met wat ek het; ek wil hê dié
bottel op my rak moet my herinner om my geliefdes te
koester, te troetel en te waardeer. Ek wil hê dié bottel
op my rak moet my herinner dat 1000 albasters vrek min
is en dat ek elke dag ten volle moet benut. “Die mens,
sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n
veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai,
is dit weg en sy plek vir altyd leeg.” (Ps. 103:15-16) ~Wilna
Botha, 14/01/2015 |
 |
|
Ek hoor onlangs hoe twee jong dames
gesels oor hulle werksomstandighede en hulle praat van die "one up"-beginsel.
Was vir my nogal vreemd maar ek het gou besef dat dit 'n eeu oue
beginsel is wat geld in die werksplek, sowel as die sake wêreld. Dis
eenvoudig, wees almal anders een stap voor en jy sal werk hê.
Daarmee is daar verseker niks fout nie, maar ek het gou besef dat
dit verder as dit gaan. Om kundig en opgelei te wees is nie meer al
wat tel nie, daar word nou veel meer van jou verwag as in die
verlede. Jou hele persoonlikheid moet inpas in meer as wat die
basiese verwagting van jou posbeskrywing is. Of jy 'n bemarker is of
nie, jy moet die “skills” hê en gebruik anders word jy vervang met
iemand wat "one up" is op jou. En ja, jy moet gereeld gratis oortyd
werk. Kyk, werk moet jy werk en 'n lewe moet jy maak, maar die druk
word ondraaglik in die werksplek en ons moet al hoe beter presteer,
of ons sit op straat. Dit gebeur ook in die arbeidsmark en jy moet
bo bly...
lees meer >> ~Willem
Botha, 13/01/2014 |
|
“Walk with me and work with me - watch how I do it,” só nooi Jesus
ons uit in Matt. 11:19. Waar het Jesus geloop? Deur die tempel,
verby die siekes, prostitute, verwerptes en verlorenes; verby
bloedsweet in Getsémané, deur vervolging en verwerping, swaarkry en
lyding tot by die kruis. Is ons bereid om saam te loop waar Hy loop?
Is ons bereid om ons kruis op te neem en saam met Hom te stap? Is
ons bereid om vervolg en gespot te word omdat ons saam met Hom
wandel? Is ons bereid om ons geld en ons goed, status en posisie op
te gee sodat ons Hom kan volg? “As iemand agter My aan wil kom, moet
hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” (Matt 16:24) . Stap
saam met Jesus die nuwe week in ... ~ Wilna Botha, 12/01/2015 |
|
“Life can only be
understood backwards; but it must be lived forwards” – so lui ’n
aanhaling wat ek nou die dag gelees het. Dis waar dat ’n mens baie
meer perspektief en verstaan het van dinge wat gebeur het as dit
eers verby is en mens kan rustig terugkyk daarop. Baie keer kan mens
eers met die terugkyk slag sê: dit was moeilik, maar dit was goed en
nodig. Soms is dit ook nodig om terug te kyk sodat jy kan sien hoe
jy gevorder en gegroei het. Ek kyk ook bietjie terug in die verlede
om te sien hoedat die Here voorsien, gesorg en my gedra het en met
die sekuriteit wat dít my gee, het ek moed en vrymoedigheid om my
uit te strek na wat voor my lê. Ek kyk met verwagting en vrede in my
hart vooruit na vandag en die res van die jaar sonder om terug te
verlang en vas te klou aan gister en die ander “goeie ou dae”. Leer
uit gister en lééf voluit vorentoe. ~ Wilna Botha, 09/01/2015 |
|
Ek het weer deur Ps. 119 gelees en opnuut die wonderlikheid van God
se Woord besef. Dit gee vir ons die sekerheid dat ons op die regte
pad is (:165), dit bring bevryding en redding (:123), dit verskaf
plesier en vreugde (:24), dit gee troos en hoop in moeilike tye
(:49-50), dit gee wysheid en kennis (:66), lig waar dit donker is
(:105). Dis meer kosbaar as al die rykdom (:14), meer werd as die
wonderlikste skat (:162), beter as goud (:127), soeter as heuning
(:103). Werd om te lees, te glo en te gehoorsaam! “A Bible that’s
falling apart usually belongs to someone who isn’t.”― Charles H.
Spurgeon ~ Wilna Botha, 07/01/2014 |
|
Nou ja, teen hierdie tyd is jy
seker ook al gewoond aan die idee dat ons die lyn gekruis
het na ’n nuwe jaar. Die oue is opgepak en afgehandel. Die
nuwe dagboek lê kraakvars op die lessenaar. Die 2015 almanak
het reeds die ou een uit sy plek uitgestoot. Voorraadopname
van die ou jaar is gemaak, die nuwe lysies van voorneme en
doelwitte is gemaak. In 2015 wil ek saam met die Here stap
en werk, ek gaan Hom dophou en volg; ek gaan Hom deel maak
van elke dag, elke gedagte en elke besluit; ek wil myself
oopstel om Sy genade te ontvang en te beleef en te deel; ek
wil vry en tevrede voel omdat ek weet dat Hy in beheer is;
ek wil minder angstig en gespanne wees omdat ek weet dat my
waarde nie deur prestasie of ander se standaarde en
goedkeuring bepaal word nie. Ek gaan dié teks glo en volg:
“Walk with Me and work with Me - watch how I do it. Learn
the unforced rhythms of grace. I won't lay anything heavy or
ill-fitting on you. Keep company with Me and you'll learn to
live freely and lightly." (Matt. 11:29-30, The Message)
~ Wilna Botha, 06/01/2015 |
|
So stap ons die nuwe jaar in ... vorentoe
met hoop, bewus van die Here se genade en liefde, die oog gerig op
Jesus wat alles weer nuut en vars sal maak. So stap ons die nuwe
jaar in, gevul met vrede en verwagting op ’n goeie toekoms. So stap
ons die nuwe jaar in met vertroue op die Here wat almagtig, goed en
groot is. So stap ons die nuwe jaar in met die leiding van die Woord
wat betroubaar en waar is. So stap ons die nuwe jaar in, al wag daar
dalk moeilike tye van swaarkry en onsekerheid. Ek hoop 2015 sal vir
jou ’n goeie en geseënde jaar wees en dat jy die pad enduit sal
stap saam met die Here ~ Wilna Botha, 05/01/2015 |
|
Kersfees is ’n tyd wat my altyd met verwondering vervul.
Ek is verwonderd oor die maagd wat ’n kind kon gekry het, ek is verwonderd
oor die herbergier wat nie kon plek maak vir die Koning se geboorte nie, ek
is verwonderd oor die engele se koorsang in die veld, ek is verwonderd oor
die ster wat die wyse manne gelei het na die stal, ek is verwonderd oor die
eenvoudige skaapwagters wat onvoorwaardelik geglo en gedoen het. Ek is
verwonderd dat God mens geword het, ek is verwonderd oor Sy onvoorwaardelike
liefde en sy onmeetlike genade, ek is verwonderd dat Jesus se koms ’n nuwe
era van genade en verlossing aangekondig het. Ek is verwonderd dat dit vir
mý persoonlik is. Mag jy ’n geseënde Kersfees hê, gevul met verwondering en
liefde. ~ Wilna Botha, 24/12/2014 |
|
Die sterrekykers waarvan ons in Matt. 2:11 lees was die
eerste mense wat voor Jesus gebuig het om hulde aan Hom te bewys. Hulle het
daad by die woord gevoeg en Hom ook geëer met hulle geskenke van goud,
wierook en mirre. Miskien kan ons ook in aanbidding buig en ons goud, ons
kosbaarste, ons lewe, ons hart as offer voor Hom neersit. Miskien kan ons
ook in aanbidding buig en ons wierook, die aangename geur wat ons as kinders
van God versprei, die liefde wat ons aan ons naaste betoon, as offer voor
Hom neersit. Miskien kan ons ook in aanbidding buig en ons mirre, die
salwingsolie waarmee ons Hom as Koning van ons lewe aanneem en aanstel, as
offer voor Hom neersit. Ek wil dit hierdie Kersfees doen en elke dag wat
daarop volg! “Kom buig daar in aanbidding, kom buig daar in aanbidding, kom
buig daar in aanbidding, voor Jesus die Heer.” ~ Wilna Botha, 23/12/2014 |
|
Ek was bietjie in die winkels (wou nie, maar ek móés)
en die enigste musiek wat jy hoor is Kersfeesmusiek. Nie net “Jingle Bells”
en “Santa Claus is coming to town” nie, nee, dis Christelike musiek. Dis dié
woorde wat vertel van die Engele koor wat sing: eer aan God in die hoogste
hemel en vrede op aarde, van die herders en wyse manne wat die boodskap
gehoor het en hulde aan die Jesus kind gaan bring het, van die vervulling
van profesieë, van Josef en die maagd Maria, van die wonder van die geboorte
van die Koning, die Lig vir die wêreld, die Goddelik kind, die Prins van
vrede. Dis dié woorde wat sê: Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar...
en ek sing saam en bely en erken dat ek álles glo oor die Kind wat gebore
is, oor die Verlosser wat gekom het; dat ek álles glo oor Sy kruisiging, Sy
opstanding, Sy hemelvaart, dat ek álles glo oor die vergifnis wat ek ontvang
en die ewige lewe wat Hy vir my belowe. Ek sing saam! ~ Wilna Botha,
22/12/2014 |
|
Mens hoor deesdae van mense wat
teësinnig is om Kersfees te vier. Dis dan kwansuis ’n heidense fees, dis nie
werklik die datum van Jesus se geboorte nie, dis ’n geldmakery van die
wêreld, die simbole van liggies, bome en versiersels dui na afgodsdiens, ens.
Die Bybel sê nie of ons Kersfees moet of nie moet vier nie, daarom dink ek
dis elke gelowige se keuse of hy dit wil vier of nie. As jy dit vier omdat
jy Jesus se geboorte wil herdenk is dit na my mening goed. Ek kies om
Kersfees te vier. Vir my is Kersfees ’n Christusfees, ’n jubelfees
oor my Verlosser en my verlossing, ’n gesinsfees, ‘n getuienisfees. Hierdie
teks in Luk. 2:10-11 uit Die Boodskap oortuig my juis weer dat ek dit wíl vier:
“Ek het baie goeie nuus vir julle; nuus waaroor julle
nog baie lank gaan feesvier... vandag is die Redder in die stad van Dawid
gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal
vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.” ~ Wilna Botha, 19/12/2014 |
|
Die hoop van die wêreld, deur eeue verwag ... so sing
ons oor Jesus se geboorte in een van die bekende Kersfeesliedjies. Wat is
jou hoop-wens vir hierdie Kersfees? Hoop jy vir deurbrake in jou of jou
gesin se lewe? Hoop jy op groter sukses en voorspoed? Hoop jy op genesing?
Dalk hoop jy dat een van jou geliefdes sal bekeer en Jesus sal volg? Miskien
het die realiteite van die lewe jou hoop vernietig, maar kyk verby dit na
Jesus. Die anker van hoop is Jesus en daardie hoop is ’n lewende hoop. Die
hoop wat Jesus gee, is ’n hoop wat vasstaan ten spyte van omstandighede. Al
lyk alles onmoontlik, beteken Kersfeeshoop dat God se moontlikheid nog ’n
hoop is. Hou daaraan vas, al kan jy dit nie nou al sien nie. “We must hold
tightly to the hope that we say is ours. After all, we can trust the One who
made the agreement with us.” (Heb 10:23) ~ Wilna Botha, 18/12/2014 |
|
Al die Kersfeesliggies waarmee mense hulle huise
versier in hierdie tyd is vir my so mooi omdat dit ’n sigbare simbool is van
Jesus wat as Lig na die wêreld gekom het. As ek my verlustig in al die blink
liggies, dink ek doelbewus aan Jesus wat die ware lig is wat alle donker
verdryf, wat die duisternis van sonde en verlorenheid kom wegneem het. Waar
Jesus se lig skyn kom daar helder hoop, oorvloedige lewe, ’n verligte pad en
duidelike rigting. Waar Jesus se lig skyn, vlug die satan wat homself
probeer voordoen as die lig. Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My
volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe
gee.” (Joh. 8:12) ~ Wilna Botha, 17/12/2014 |
|
'n Mens kan
altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê
vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe” (Klaagl. 3:23-24). So seker as wat jy vanoggend wakker
geword het en suurstof gehad het om in te asem, só werklik
is die Here en só seker is Hy by jou. Sit jou hoop daarop
dat Hy nooit sal ophou om vir jou om te gee nie.
~ Wilna Botha, 15/12/14 |
|
“Joy to the world...”. Dis een van die vrolike
Kersfeesliedjies wat ons nou baie hoor. Daar is ’n reëltjie in dié liedjie
wat my elke keer aangryp en dit is: “... let every heart prepare Him room.”
Toe Jesus gebore is, was daar nêrens vir Hom plek nie en moes sy ouers
hulle heenkome vind in ’n stal. As jy hierdie jaar Kersfees vier, is die
vraag of jy plek vir Jesus gemaak het in jou hart? Hy het al soveel keer
geklop aan jou hart se deur. Hy het geklop deur alles wat hierdie jaar oor
jou pad gekom het, deur al die preke wat jy gehoor het, al die mooi
boodskappe wat iemand vir jou aangestuur het. Miskien is dit nóú tyd om oop
te maak sodat Hy hierdie Kersfees in jou hart gebore kan word. Miskien is
dit nóú tyd om opnuut weer die dinge wat die Koning se plek in jou hart
ingeneem het, eenkant toe te stoot, sodat die “Spesiale Raadsman, God wat
sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede” die beheer kan oorneem. ~ Wilna
Botha, 12/12/14 |
|
“Stop allowing yourselves to be agitated and disturbed;
and do not permit yourselves to be fearful and intimidated and cowardly
unsettled.” (Joh. 14:27, The Amplified Bible) Ons moenie toelaat dat ons
binnekant ontsteld, onrustig, opgewerk en omgekrap word nie. Ons moenie
toestemming gee vir ons gedagtes om bang, bevrees en benoud te raak nie.
Nee, gee toestemming vir God se vrede om oor jou gedagtes en hart wag te hou.
Jesus het sy vrede vir ons nagelaat, vrede wat alle verstand te bowe gaan.
Hy ís die ontwerper van vrede, die hoof van vrede, die Vredevors. Maak ’n
keuse teen onrus in jou gemoed, gee voorkeur aan God se vrede. ~ Wilna
Botha, 11/12/14 |
|
Ek
het nóg ’n Bybel gekoop. Dié een is só klein dat mens dit nie eintlik kan
lees nie. Nogtans kon ek die kern van die Bybel vind toe ek dit oopmaak en
hierdie prentjie sien en dié woorde daaronder kon uitmaak : “Christ Jesus
came into the world to save sinners.” (1 Tim 1:15) Maak nie saak hoe klein,
oud, nuut, gehawend, luuks of duur jou Bybel is nie, hierdie woord is die
waarheid, dis betroubaar, dis werd om deur almal gelees, aanvaar en geglo te
word! “Oor U woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande
gekry het.” (Ps. 199:162) |
|
As Christen is ek só bewus daarvan dat ek vrugte moet
dra wat bewys dat ek bekeer is (soos Matt. 3:8 sê), dat die vrug van die
Gees sigbaar moet wees in my lewe en nie die vrug van die sondige natuur nie
(soos Gal 5:22 sê). Ai en hoe sukkel ek nie daarmee nie ... maar toe lees ek
die opskrif van Joh. 15 in die Nuwe Lewende Vertaling wat sê: “Die geheim
van vrug dra.” Die geheim is dat ek nie op my eie enige vrug kan dra nie .
Die geheim is dat ek aan Jesus verbind moet bly, soos takkies wat aan die
druiwestok vasgroei is. Die geheim is dat ek van Hom afhanklik moet bly. Die
geheim is dat daar snoeiwerk nodig is en dat die Woord die snoeiskêr is. Die
geheim is dat ons hulp kan vra by die Here en seker kan wees dat Hy ons sal
help: “Julle kan maar in gebed vra wat julle nodig het om goeie, vrugbare
takkies te wees, want julle sal dit kry.” (Joh. 15:7, Die Boodskap) Ons kán
gesonde, voedsame, vars, mooi vrugte produseer! ~ Wilna Botha, 09/12/14 |
|
“Mag dié wat vir U liefhet, wees soos die son wat in sy
volle krag skyn.” (Rigters 5:31) Mag ons wat die Here liefhet voortdurend
lig, energie en warmte uitstraal soos die son. Mag ons elke dag op ons pos
wees; sigbaar, getrou en onwankelbaar. Mag ons elke dag dít doen waarvoor
die Here ons gemaak het, op die plek waar Hy ons geplaas het. Mag ons krag
en invloed hê waar ons beweeg en ’n heilsame uitwerking hê op almal met wie
ons in aanraking kom. Gaan die week in en skyn helder! ~ Wilna Botha,
08/12/14 |
|
Ek het weer gedink oor Nehemia se gebed ... Hy het nie
net gebid en agteroor gesit en gewag vir iets om te gebeur nie. Hy het gebid
en was dadelik gereed om Jerusalem toe te gaan om die stadsmure te herbou.
Hy het sélf deelgeneem aan die bouwerk. Partykeer bid mens so lank en so
baie oor ’n saak, maar jy rol nie jou moue op om tot aksie oor te gaan nie.
Ons moet natuurlik bid oor alles, maar ons moet ook dóén wat ons kan. As jy
bv. ’n pap band het en jy bid dat die Here jou moet help, kan jy tog nie net
langs jou motor gaan sit en wag nie. Jy moet seker die spaarwiel en die
domkrag uithaal en begin met die werk. As jy bid vir iemand se redding, is
dit seker logies dat jy geleenthede sal soek om met daardie persoon oor
Jesus te praat. As jy bid vir jou eensame buurvrou, is die volgende stap
seker dat jy haar sal gaan besoek. Daar is ’n punt waar God se bonatuurlike
voorsiening en my eie verantwoordelikheid bymekaar aansluit, daarom is dit
belangrik dat ons gebede ook oorgaan in dade. ~ Wilna Botha, 05/12/2014 |
|
Baie keer hoor ek dat mense sê jy moet net een maal oor
’n saak bid, want die Here is nie doof nie, Hy het jou die eerste keer
gehoor. Of hulle meen dat jy nie met genoeg geloof bid as jy oor en oor by
die Here pleit oor dieselfde ding nie. In die Bybel lees ek van ’n hele paar
mense wat aanhou bid het oor dieselfde saak. Nehemia is een van hulle.
“Luister na die gebed wat ek dag en nag tot U bid sonder om moeg te word.”
(Neh. 1:6) Hy het opgehou eet en gehuil en gesmeek by die Here. In die
Psalms lees mens ook dat mense in nood dag en nag aanhou bid het - lees bv.
Ps. 88:2 en Ps. 77:3. Dan is daar ook Jesus wie in die tuin van Getsémané
drie maal teruggegaan het en in sweet en doodsangs by die Vader gepleit
het. (Matt. 26:39-46). Jesus het in Luk. 18:1-8 die gelykenis vertel van
die weduwee en die regter met dié doel om ons aan te moedig om aan te hou
bid sonder om moedeloos te word. Het jy moeg en moedeloos geword in jou
gebedslewe? Luister hierna: “Hy luister na almal wat dag en nag tot Hom
bid. Hy sal uitkoms gee. En gou ook! Hou maar net aan om te bid.” (Luk.
18:8, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 04/12/2014 |
|
Uit Nehemia se gebed in Neh. 1:5-11 kry ek riglyne vir
my eie gebedslewe. Ek sien dat sy gebed uit ses elemente bestaan: hy roep
God aan, hy prys Hom en bring eer aan Hom, hy pleit en smeek by die Here, hy
bely sy eie, sy familie en sy volk se sondes, hy herinner God aan sy
beloftes en dán eers praat hy met die Here oor sy eie persoonlike behoeftes.
Baie keer as ek bid dan val ek sommer weg en gee vir die Here my wens-lysie
en kerm ek net oor my eie, selfsugtige behoeftes en begeertes. Ek vergeet
dat Jak 4:3 sê: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid:
julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ek onthou dat ek
eenmaal hierdie sinvolle aanhaling gelees het: “The purpose of prayer is not
to inform God of our needs, but to invite Him to rule our lives.” Dis dan
wat ons maar net kan bid: laat U wil geskied! ~ Wilna Botha, 03/12/2014 |
|
Wanneer mens die boek Nehemia lees, dan vind jy ’n stuk
of tien gebede wat Nehemia bid. Dit wissel van ’n kort skietgebed in Neh.
2:4 tot seker een van die langste gebede in die Bybel in Neh. 9. Wat vir my
mooi is en waaruit ek baie leer oor gebed, is dat hy sy gebed begin met ’n
lofprysing, ’n opnoem van God se karaktereienskappe, ’n eerbetoon oor wie
God is. Kyk bv. Neh. 1:4: “Ag, Here, God van die hemel, groot en
ontsagwekkende God wat U verbond en U trou handhaaf teenoor dié wat vir U
liefhet en U gebooie gehoorsaam.” Wanneer ons die Here se Naam só grootmaak
in ons gebed, dan help dit ons om te fokus op wie God ís; dit laat ons
geloof sterker word, dit gee vir ons versekering dat Hy in staat is om meer
te doen as wat ons kan bid of dink. Roep die Naam van die Here só aan en
weet verseker dat die krag van jou gebed nie bepaal word deur die een wat
bid nie, maar deur die Een wat daarna luister. ~ Wilna Botha, 02/12/2014 |
|
Ons het so pas die boek Titus stukkie vir stukkie
deurgewerk by ’n Bybelstudiegroep. Ek was so verbaas om te sien hoeveel sake
aangespreek word in dié twee en ’n halwe Bybel-bladsye. Dit gee praktiese
riglyne vir die lewe, spoor ons aan tot goeie dade, motiveer ons om ’n goeie
dag se werk in te sit, gee riglyne vir geestelike leiers, hulp om dwaling te
herken en aan te spreek en nog meer. Een van die hoogtepunt-verse vir my is
Tit. 2:14 wat die hele Evangelie in ’n enkele vers gee. Dit sê so duidelik
wat Jesus vir ons kom doen het: Hy het Homself geoffer, Hy het ons sonde
vergewe en ons kom vrymaak van die verkeerde dinge in ons lewe, Hy het ons
onvolmaaktheid kom ophef. Hy het ons deel van God se volk gemaak – ons is
nou ook uitverkorenes. Nou help Hy ons om gehoorsaam aan Hom te wees en maak
Hy ons boon-op nog ywerig ook om goeie dinge te doen en vrug te dra wat Hom
sal verheerlik. Ek glo en bely dít alles weer van vooraf! ~ Wilna Botha,
01/12/2014 |
|
“Being the richest man in the cemetery doesn’t matter
to me. Going to bed at night saying we’ve done something wonderful, that’s
what matters to me.” Só het Steve Jobs blykbaar gesê. Nou ja, ons weet hy
het beide kante geken - hy was ryk én hy het groot en belangrike goed
gedoen. Tog het hy gereken dat daar groter vreugde en beloning is in die
wete dat jy vir iemand ’n verskil gemaak het, as wat daar in rykdom is. Wat
kan ek en jy vandag doen wat “something wonderful” is? Ons is nie noodwendig
uitvinders, groot besigheids mense, dokters of sendelinge nie, maar, ons kan
sinvolle goed doen wat vir mense voordelig kan wees. Ons kan tyd spandeer
saam met ’n eensame persoon, ons kan iemand van Jesus se liefde vertel, ons
kan ons dienste verniet aanbied vir iemand wat dit nie kan bekostig nie, ons
kan hulp verleen aan iemand wat die nie verwag of iets vir jou terug kan
doen nie, ons kan goed wees vir iemand al dink jy dalk dat hulle dit nie
verdien nie. “... sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie
werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense.” (Tit. 3:8) ~
Wilna Botha, 28/11/2014 |
|
Volgens Tit. 2:11-12 help God se genade ons om die
“goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar.” Sy genade leer
ons wat die regte dinge is om te doen, maak ons ywerig om Hom te gehoorsaam
en stel ons in staat om goeie dinge te doen. Wanneer ons egter faal, is sy
genade steeds aan die werk om ons los te knoop van die sonde en oortredinge.
Wanneer ons versuim om die goeie te doen, is sy genade aan die werk om ons
te vergewe. Sy genade is verniet. Sy genade is genoeg. Sy genade het aan
almal verskyn – dis ook vir jou! Aanvaar dit en lééf daaruit. ~ Wilna Botha,
27/11/2014 |
|
Mens hoor dikwels hoedat mense met die Here wil
onderhandel oor ’n situasie in hulle lewens. Hulle sal bv. sê: “As U my
gesond maak, dan sal ek vrywillige werk in die hospitaal gaan doen,” of: “As
U vir my werk gee, dan sal ek my tiende elke maand vir die kerk gee,” of:
“As U my kind red, dan sal ek voltyds vir U werk.” Nadat ek die verhaal van
Jefta in Rigters 11:30-40 gelees het, het ek net weer besef hoe ernstig en
gevaarlik sulke geloftes kan wees. Jefta se ooreenkoms met die Here het vir
hom tragiese gevolge ingehou. Voordat jy só met die Here onderhandel, vra
jouself af of jy werklik jou kant van die ooreenkoms sal kan uitvoer en of
jy dit end-uit sal volhou. Voordat jy só ’n ultimatum aan die Here stel,
vra jouself af of dit reg en nodig is om die Here se arm te probeer draai
net om jóú sin te kry, net om jóú behoeftes bevredig te kry. Voordat jy só
’n gelofte sluit, vra jouself af of jy nie liewers net blindelings moet
vertrou dat die Here in beheer is van jou omstandighede en alles in elk
geval volgens Sy plan sal laat uitwerk nie. Dink mooi voor jy onderhandel
... ~ Wilna Botha, 26/11/2014 |
|
“Love and compassion are necessities, not luxuries.
Without them humanity cannot survive.” Dis ’n aanhaling wat ek nou die dag
êrens raaklees. Dit kon net sowel Jesus self gewees het wat dít gesê het,
want vir Hom is liefde, medelye, deernis en barmhartigheid belangrik. Hy sê
van Homself: “... Ek is sagmoedig en nederig van hart.” (Matt. 11:28). Hy
staan stil by mense in nood, Hy raak aan melaatses, Hy voed honger skares,
Hy huil saam met dié wat treur, Hy bemoedig dié wat hartseer is, Hy gee
aandag aan die uitgeworpenes. Sulke medelye en deernis verwag Hy ook van ons.
Hy sê: “ Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie...” (Matt. 9:13) Mense
het liefde en omgee, aandag en deernis nodig om te oorleef en ons kan dit
vir hulle gee – sodoende kan ons mos Jesus se hande en voete wees! ~ Wilna
Botha, 25/11/2014 |
|
“En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die
boodskap van die onverdiende goedheid wat Hy aan ons mense bewys. Dié
boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat
deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.” (Hand 20:32, NLV)
Ek aanvaar hierdie teks as my hoop en moed, voorspoed en seën vir die week
wat voorlê. Ek is veilig in God se hand, oorlaai met sy goedheid en guns,
verseker van my verlossing. Só sien ek kans vir die pad vorentoe - ek hoop
jy ook? ~ Wilna Botha, 24/11/2014 |
|
Dis vir my altyd baie lekker om langs ’n rivier te sit
en te luister na die rustige gekabbel van die water, die varsheid te ruik en
die skoonheid te beleef; om te sien hoe die water net aanhou en aanhou vloei.
Jy kan diep asemhaal, rustig raak en voel hoe die vrede oor jou spoel. Die
Bybel sê in Jes. 48:18 dat iemand wat die Here se pad loop, altyd sulke
vrede in hulle lewens sal hê. “If only you had listened to My commands! Your
peace would be like a river that never runs dry.” Die rivier van vrede wat
die Here vir sy kinders gee bring vir hulle ’n bewustheid van sy
teenwoordigheid, ’n stroom van sy goedheid en liefde, ervaring van sy
versorging, sekerheid van sy vergifnis. Dis mos dié soort vrede wat alle
verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 21/11/2014 |
|
“Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Só sê Jesus vir sy
dissipels in Mark 6:38. Met die 5 brode en 2 vissies wat hulle gebring het,
kon 5000 mans en hulle gesinne meer as genoeg kry om te eet. Ons dink
gewoonlik dat die bietjie wat ons kan aanbied nie eintlik iets werd is nie.
Maar wanneer ons dit na die Here toe bring en Hy sy seën daaroor uitgiet,
kan Hy dit laat vermeerder sodat dit ’n groot verskil kan maak en ’n menigte
kan help. Gaan kyk bietjie vandag wat het jy in die koskas, in jou beursie,
in jou hangkas, op jou boekrak ... ~ Wilna Botha, 20/11/2014 |
|
Daar is mense wat sulke interessante goed doen, so
inspirerend is, wat sulke waarhede kwytraak, dat as jy in hulle geselskap
was, voel jy opgebou, gemotiveer en positief. Jy sien sommer uit daarna om
weer by hulle te wees. Dan is daar ook mense wat jou uitput en depressief
laat voel, wat jou aftrek en van wie se geselskap jy nie gou genoeg kan
ontvlug nie, mense wat net oor hulleself praat en jou onbelangrik laat voel.
Nadat ek nou die dag weer in só persoon se geselskap was, het ek myself
afgevra: hoe voel mense as hulle in my geselskap was? Hoe kan ek seker maak
ek val nie in die tweede kategorie nie? Na baie wonder het ek besluit dat
die belangrikste is dat ek net myself moet wees, dat ek altyd met
integriteit moet optree, net die waarheid moet praat, eerlik moet wees met
my opmerkings en komplimente, dat ek met aandag en meelewing moet luister,
dat ek nie selfgerig moet wees nie, positief moet praat en beslis nie moet
skinder of ander mense en hulle sienings moet afkraak nie. Ek gaan Kol 4:6
probeer navolg: “Dit moet ook altyd vir mense lekker wees om met julle te
gesels. Na elke gesprek moet hulle voel dat dit die moeite werd was. So ’n
ingesteldheid sal julle help om te weet in watter rigting om gesprekke te
stuur en wat om volgende te sê.” (Kol 4:6, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
19/11/2014 |
|
Ek sien in die Nuwe Lewende Vertaling staan dié opskrif
bo-aan 1 Joh. 2:12-14: “Leef volgens jou Christen-identiteit.” Vandat ek ’n
Christen geword het, geld ’n klomp nuwe goed in my lewe, ook in my karakter
en persoonlikheid. Dis so asof ek ’n nuwe ID-boekie gekry het met ’n nuwe
nommer en ’n mooi foto! Daar staan nou geskryf: jou sondes is vergewe, jy
leef in ’n persoonlike verhouding met die Here, jy het die bose oorwin, jy
is sterk en vol krag, die woord van God is deel van jou bestaan. Dis wie ek
nou ís - dit móét mos ’n groot verskil maak aan my optrede en gesindheid,
my drome, begeertes en my toekoms! ~ Wilna Botha, 18/11/2014 |
|
“... begeerte vir alles wat die oog sien en die valse
roem op besittings, kom nie van die Vader nie, maar het sy oorsprong in die
wêreld.” (1 Joh. 2:16) “Dit borrel op uit die fontein van die wêreld”, sê
dit in Die Boodskap. Sjoe, hierdie teks spreek my só aan. Dit laat my besef
dat goeters en wat ander van my besittings dink, heel dikwels net té
belangrik is in my lewe. Die Bybel sê ook elders dat mens se geluk nie
afhang van hoeveel geld jy het nie. (Luk. 12:15) Nee, ’n lewe van oorvloed
is een waarin jy geluk kan vind in jou verhouding met die Here, een waarin
jy vervulling kan vind in dit wat jy vir iemand anders gratis kan doen, een
waarin jy tevredenheid kan vind in jou werk, een waarin jy liefde kan ervaar
en kan gee in jou gesinslewe, ongeag van hoeveel en watse besittings jy het.
Ek wil graag soos Paulus sê: “Al daardie dinge wat eers vir my so belangrik
was, is nou vir my minder as niks werd, want Jesus het vir my alles geword.
Hy is nou vir my belangriker as alle ander dinge tesame.” (Fil. 3:8, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 17/11/2014 |
|
Terwyl ek gister dié Bybelgedeelte oordink het waar die
Here die eenvoudige kierie wat Moses in sy hand gehad het, gebruik het om
vele wonderwerke te doen, het ek ook weer die gedeelte in Num. 20 gelees.
Die Here het weer die kierie gebruik, maar dié keer as ’n “toets”. Hy sê vir
Moses en Aäron om die kierie te vat en in die teenwoordigheid van die volk
met die rots te praat sodat daar water sal uitkom (anders as in Eks. 17:6
waar hy die rots moes slaan met die kierie). Maar wat doen Moses? Hy is so
omgekrap en vies vir sy mense se rusies en geneulery, dat hy nie mooi
geluister het na die Here se opdrag nie, dat hy sommer dink hy kan self ’n
wonderwerk doen, dat hy die eer vir homself wil vat. Hy sê: “Moet ons vir
julle water uit hierdie rots laat kom?” (Num. 20:10) – let wel, “ons”, nie
“die Here” nie! Nadat Moses die rots twee keer geslaan het, het daar
weliswaar baie water uitgekom, maar met baie ernstige gevolge vir homself.
Omdat hy God nie erken het en nie gehoorsaam was nie, sou hy en Aäron nie
die beloofde land sien nie. Ons moet dus baie versigtig wees met die gawes,
talente en goeters wat ons het – ons moet dit verantwoordelik en in
afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Here gebruik en nie vir eie gewin of
eie eer nie. ~ Wilna Botha, 14/11/2014 |
|
Toe die Here vir Moses geroep het om die Israeliete uit
Egipte uit te lei, het hy allerlei vrese en verskonings gehad, maar vir
elkeen daarvan het die Here vir hom ’n antwoord en raad gehad. Hoe lui daai
spreekwoord? God needs availability, not ability. In Eks 4:2 vra die Here
vir Moses: “Wat het jy in jou hand?” Dit was natuurlik sy kierie. Die
eenvoudige, alledaagse wat hy op daardie oomblik in sy hand gehad het, het
die Here gebruik om vele wonderwerke te doen. Die kierie het in ’n slang
verander, hy het die water in die Nyl in bloed laat verander daarmee, hy het
op die water geslaan sodat die rivier kon opdroog en die Israeliete op droë
grond kon deurgaan, met die kierie het hy water uit ’n rots laat kom, ens.
Die Here kan dalk vandag vir my en jou ook vra: Wat het jy in jou hand?
Watter gawes, watter middele is tot jou beskikking wat die Here kan gebruik
om Sy werk deur jou te doen. Net dit wat jy nóú, op die oomblik beskikbaar
het, hoe eenvoudig of nutteloos dit ook al vir jou mag lyk, kan God gebruik.
Dit hoef maar net ’n eenvoudige kierie te wees, die Here kan iets groot
daarmee doen! Wat het jy? Gebruik dit! ~ 13/11/2014 |
|
In Luk. 13:6-9 lees ons die gelykenis van die
onvrugbare vyeboom wat vir drie jaar geen vrugte opgelewer het nie. Die
eienaar was gereed om hom uit te kap, maar die tuinier tree in en pleit om
genade vir die boom: “Meneer, gee dit nog een kans. Los hom nog ’n jaar en
ek sal besondere aandag aan hom gee en baie bemesting. As ons volgende jaar
vye kry, goed. So nie, kan u dit uitkap.” God is die eienaar, ek die
onvrugbare vyeboom, terwyl Jesus die Middelaar is wat voortdurend vir my by
die Vader intree vir my tekortkominge en my gebrek aan vrugte. Hy belowe om
besondere aandag en versorging aan my te gee, ekstra moeite te doen om my
geestelik te voed met lewende water. Jesus, die genadige Tuinier, sien ons
potensiaal raak en pleit vir nog ’n kans. Hy help en beskerm ons totdat ons
weer rigting kry en ’n sinvolle lewe begin lei wat vrug dra en God
verheerlik. ~ Wilna Botha, 12/11/2014 |
|
“Wees stil en weet Ek is die Here.” (Ps. 46:10) Wat
beteken dít vandag vir my? Dit beteken dat ek stil en rustig kan wees en
weet dat ek spesiaal is vir die Here, dat Hy langs my is, my hand vashou, my
troos en bemoedig, dat Hy my wegsteek onder sy vleuels en my veilig laat
voel. Dit beteken dat ek stil kan raak en weet dat Hy in beheer is, dat Hy
sy beloftes hou, dat Hy my hoop is. Dit beteken dat ek kan stil wees en Hom
kan volg na die groen weivelde en waters waar daar vrede is, dat Hy my sal
lei en my sal dra waar dit te moeilik is vir my om te loop. Dit beteken dat
ek kan stil raak en kan “let go” want sy arms is altyd onder my. Dit beteken
dat ek kan stil raak en sy ware rus kan ervaar. Wees stil en weet ... ~
Wilna Botha, 11/11/2014 |
|
Die Bybel sê: “God is téén mense wat te veel van
hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee
Hy sy onverdiende goedheid.” (Jak 4:6, NLV) Wanneer ons, soos ’n bedelaar,
met leë hande na God toe kom, met niks wat ons sélf vir Hom kan aanbied nie,
kan ons staatmaak op Sy genade, Sy goedheid, Sy vergifnis, Sy redding, Sy
sorg. Wanneer mens egter dink dat jy sterk, slim, goed of heilig is, gaan jy
moeilik tot die besef kom dat jy die Here nodig het. Wanneer jy op jou eie
krag, eie insig, eie vermoëns reken, kan jy dalk uitmis op die onverdiende
goedheid waarmee die Here jou wil oorspoel. “Geseënd is dié wat weet hoe
afhanklik hulle van God is...” (Matt. 5:3) ~ Wilna Botha, 10/11/2014 |
|
“Julle is in goeie hande. Die Here self pas julle op.
En Hy is altyd op sy pos. Hy los julle nooit alleen nie, nie eens vir ’n
enkele sekonde nie. God sal julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen
Satan se aanvalle beskerm.” (2 Tess 3:3, Die Boodskap) – mag hierdie vers
jou vandag help om die Here se genade en liefde vir jóú persoonlik aan te
neem, mag dit jou troos, mag dit jou bemoedig, mag dit jou moed en hoop gee
vir jou lewe. |
|
“Wie sê julle is Ek?” vra Jesus vir sy dissipels in
Matt. 16:15. Wat sou jý sê as Jesus vir jou hierdie vraag sou vra, of as
iemand by die werk vir jou sou vra wie Jesus is? Sou jy met ’n mond vol
tande staan, sou jy die vraag wegpraat omdat jy nie ’n antwoord het nie? Of
sou jy ook onomwonde, soos Petrus, kon bely dat Jesus jou Verlosser, jou
Redder, jou Saligmaker, jou Here is? Sou jy met volle geloof kon sê dat Hy
die Seun van God is? As jy dít kan sê, is dit nie omdat jy dit net by iemand
gehoor het, of dit êrens gelees het nie, dit is omdat God dit deur Sy Gees
aan jou geopenbaar het en jy dit met jou hele hart glo. “As iemand egter sê:
“Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê.” (1 Kor.
12:3) ~ Wilna Botha, 06/11/2014 |
|
Ek het die fliek, “Liar Liar” baie geniet en al ’n paar
keer gekyk. Dis nou Jim Carrey op sy beste. Hy is ’n prokureur wat op leuens
floreer en nie eens die beloftes wat hy aan sy seuntjie maak kan nakom nie.
Wat so oulik is, is dat sy seuntjie, met die uitblaas van sy
verjaardagkersies, ’n wens maak dat sy pa vir ’n dag lank nie moet jok nie,
met skreeusnaakse gevolge. Dit leer hom vinnig om die waarheid te begin
praat. Ai, as ek maar só ’n wens kon maak vir die mensdom! As almal (ek ook)
maar net die waarheid sal praat, sal daar soveel minder ongelukkigheid,
soveel minder misverstande, soveel minder probleme wees, soveel minder skewe
verwagtinge wees. As almal maar net by die basiese reëls van die samelewing
kan hou sal dinge soveel minder gekompliseerd wees. As almal hulle beloftes
kan nakom sal verhoudinge wonderlik wees, sal probleme in die werkplek
makliker opgelos kan word. Spreuke 4:24 en 6:17 sê dat jy jou moet weerhou
van leuens want die Here haat ’n tong wat lieg! “One thing you can give and
still keep ... is your word.”
~ Wilna Botha, 05/11/2014 |
|
“Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in gebed
nie.” (Rom 12:12, NLV) Wanneer jy deur moeilike tye gaan, voor uitdagings te
staan kom, verlies ervaar, bang is vir die toekoms, wanneer jou gemoed vol
vrae en onsekerhede is, moenie jou rug op die Here draai nie, moenie twyfel
dat Hy daar is en dat Hy vir jou lief is nie. In sulke tye moet ons volhard
in geloof, in sulke tye moet ons roep na God, moet ons ons begeertes aan Hom
bekend maak. In sulke tye moet ons ons bekommernisse op Hom werp, sodat Sy
vrede ons gedagtes kan kom oorneem en ons harte rustig kan raak; dán sal Hy
ons weer moedig, sterk en standvastig maak. “Neem al die dinge waaroor julle
julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat
vir julle sorg.” (1 Pet. 5:7, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 04/11/2014 |
|
“Mag ons wonderlike God en ons Here Jesus Christus so
goed vir julle almal wees dat julle altyd op die regte pad sal bly stap.” (2
Tess 1:12 (b), Die Boodskap) Dis vir my só ’n mooi seënwens om vir iemand te
gee. Dis ’n gebed dat die Here die persoon sal help om altyd regop te tree,
in alles eerlik en opreg en bo verdenking te wees, die regte keuses te maak
en ’n lewe te lei wat Hom sal verheerlik. Dis ’n sekerheid dat die krag en
die wysheid om reg te lewe van God sélf af kom. Mag die Here vandag vir ons
almal goed wees op hierdie manier. “Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om
volgens sy wil te lewe.” (Ps. 23:3, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
03/11/2014 |
|
“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook
moes rondtas om Hom te vind.” (Hand 17:27) Kyk ’n bietjie vandag na die
mense rondom jou – daar is beslis van hulle wie se oë versluier is, wat in
die donker rond ploeter en soos blindes rondtas omdat hulle op soek is na
die sin van die lewe, op soek is na vrede, op soek is na iets of iemand
groter as hulleself. Die Here het die mens gemaak om Hom te soek, om ’n
verhouding met Hom te begeer. As jy so iemand raakloop, vertel hom van
Jesus, vertel hom wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het en wat Hy vir
jou beteken. Miskien kan jy vandag ’n soekende help om die Here te vind ...
trek die skoene van bereidheid aan en gaan vertel. ~ Wilna Botha, 31/10/2014 |
|
“The most effective way to do it, is to do it.” So lui
’n aanhaling wat ek nou die dag lees. Partykeer bly mens besig met bid,
droom en beplanning oor ’n saak, maar kom nooit by die uitvoering daarvan
uit nie. ’n Effektiewe lewenstyl is een waarin jy nie net uitvind wat die
Here se wil is nie, maar dit ook dóén. Ons praat nie hier noodwendig van
groot goed nie, nie van die oplos van wêreldprobleme nie, nie om herlewing
aan die gang te sit, ’n stad te red of ’n groot kerk te stig nie. Dit gaan
oor die gee van ’n beker koue water, besoek aan ’n sieke of gestremde, iets
te ete aan ’n behoeftige, praktiese hulp aan ’n bejaarde, vriendelikheid aan
’n vreemdeling, ens. Moenie wag vir jou kerk om iets te organiseer nie, gaan
uit en doen wat jou hand vind om te doen. Moenie net dink daaroor nie, doen
dit! ~ Wilna Botha, 30/10/2014 |
|
“Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en
ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig ek
hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees en dit altyd my sorg en
liefde sal geniet.” (2 Kron. 7:15-16 ) Die Here praat nie net hier oor die
tempel wat Salomo gebou het of oor die kerkgebou of gebedskapel nie. As die
Bybel sê dat ons liggaam die tempel van die Heilige Gees is, dan weet ons
dat ons ook gekies, geheilig en afgesonder is vir die Here en dat Hy altyd
sélf by ons sal wees. Ons sal voortdurend sy sorg en liefde ondervind en Hy
sál luister na elke gebed en versugting wat uit ons hart na Hom toe gerig
word. ~ Wilna Botha, 29/10/2014 |
|
Ons almal het die behoefte aan liefde en aanvaarding en om
ander se omgee te ervaar. Ons staan graag aan die ontvangkant hiervan, maar
is tog dikwels baie traag om liefde, omgee en aanvaarding uit te deel. Om
mekaar lief te hê met ’n liefde wat in dade bewys word, is God se opdrag aan
ons. Laat God se liefde vandag deur jou skyn, kyk uit vir ander se behoeftes
en verras iemand met ’n “random act of kindness”. Laat jou liefde prakties
word in vriendelikheid, geduld, goedhartigheid, nederigheid en
mededeelsaamheid. “My children, our love should not be just words and talk;
it must be true love, which shows itself in action.” (1 Joh. 3:18, Good News
Bible) ~ Wilna Botha, 28/10/2014 |
|
“All of these lines across my face, tell me the story
of who I am...” – só klink die woorde uit die liedjie: “The Story”. As jy
vandag bietjie in die vergroting spieël kyk, watter soort lyne sal jy sien?
Lyne wat bewyse is van baie lag, of fronslyne van frustrasie, bitter
plooitjies om die mond of diep lyne van onvergenoegdheid op die voorkop?
Watter verhaal vertel die lyne op jou gesig? Vertel dit dalk ’n verhaal
bekommernis en swaarkry, van pyn, probleme en hartseer? Vertel dit ’n
verhaal van harde werk en aanhoudende inspanning of dalk van baie trane en
slapelose nagte? Dalk lyk die lyne op jou gesig nie baie mooi nie, dan kan
jy na die Here toe kom vir ’n “face-lift”. Jes. 61:3 sê dat die Here “eer
gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas
van hartseer.” Mag dít deel word van jou storie. ~ Wilna Botha, 27/10/2014 |
|
2 Kor. 4:7-15 sê dat ons
soos kleipotte is wat maklik breek, maar dat daar ’n skat ín ons is. Dié
skat is die krag wat van God af kom en alles oortref. Dit is daardie krag
wat ons in staat stel om te sê: ek
sal nie platgedruk word nie, ek sal nie vernietig word nie, ek sal nie
moedeloos word nie, ek sal nie opgee nie. Dit is daardie krag wat jou
verseker dat die Here jou nooit sal verlaat nie, dat jy enige oomblik oor
kan begin, dat jy weer kan opstaan, weer kan probeer. Dit is daardie krag
wat jou bemoedig sodat jy weet dat jy nie alleen is nie, dat die Here se
beskerming en sorg daar is vir jou, dat uitkoms en hulp naby is. Soms is dit
eers wanneer die kleipot kraak en breek dat ons bewus word van hierdie groot
krag. Die Here sê: “My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak
en hulpeloos is” (2 Kor. 12:9, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 24/10 /2014 |
|
Josef se lewensstorie is ’n voorbeeld
van iemand wat in die put begin het en in die paleis
geëindig het. Dit was egter nie net een sprong van put na
paleis nie; die pad het gepaard gegaan met ’n reeks “goeie
nuus” – en “slegte nuus” – tye. Wat ek egter by Josef leer
is om in put-tye positief te bly, te besluit teen bitterheid,
om die Here te bly vertrou, om nie jouself te bejammer nie,
om nie ander te verwyt vir die situasie waarin jy is nie (al
is dit hulle skuld dat jy in die put beland het), om met
selfvertroue te sê: ek kán hier uitkom, om te wéét dat daar
’n hoër, Goddelik doel is met jou put-ervaring. Dit maak
nooit saak of jy in die put begin nie, dit maak saak waar jy
gaan eindig . “Die Here was by Josef en dit het baie goed
gegaan met hom” (Gen. 39:2) ~ Wilna Botha, 22/10/2014 |
|
Gen. 6:9 - “Hier volg die verhaal van
Noag. Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy
onberispelik en hy het naby aan God geleef.” Elke mens het
’n storie en hierdie is die inspirerende storie van Noag se
lewe. Ek wil graag dié storielyn aanneem vir die verhaal van
my lewe – ek wil ’n goeie mens wees wat die regte dinge doen,
wat naby aan die Here leef en net gehoorsaam is. Ek wil
enduit volhard en my storie met ’n mooi einde klaarmaak. Ek
weet ek sal daai oorwinning behaal want die Here is aan my
kant, ek is ook, soos Noag, deur Hom begenadig. Hy red my
van my “sondvloed” en gee my die ewige lewe. ~ Wilna Botha,
21/10/2014 |
|
Nou ja, ons is terug na 2 ongelooflike
dae saam met ’n inspirerende groep gestremde persone, ’n toegewyde en
ywerige ondersteuningspan en hartlike gashere, geborg deur vrygewige
weldoeners . Ons het lewensstories gedeel van moed en deursettingsvermoë,
van seer en swaarkry, van oorlewing en wonderwerke. Ons het stories gehoor
van die Here se goedheid en getrouheid, van Sy vergifnis en nuwe lewe. Ons
het saam gedroom oor ’n toekoms van hoop en oorwinning, van ’n lewensverhaal
wat goed sal eindig. Dit was 2 dae waarin ons baie pret gehad het, waarin
ons onvoorwaardelike liefde beleef het, onverwagse drukkies gekry het,
waarin ons net weer in dankbaarheid kon besin oor ons eie voorregte en
seëninge. Ons dank die Here vir hierdie voorreg. ~ Wilna Botha,
20/10/2014 |
|
“Elke mens het ’n
storie” is ’n uitdrukking wat mens deesdae nogal baie hoor,
iemand sing dit ook in ’n bekende liedjie! Ons hét almal ’n
storie wat êrens begin het, ’n storie wat verander soos wat
die draaie van my lewe loop en soos wat ander mense probeer
saamskryf aan die storie. Ek weet egter dat die Here die
outeur is van my lewensstorie , Hy bepaal die intriges en
dramas, die vreugdes en hoogtepunte, Hy verweef die drade
na ’n eenheid wat oploop na ’n “happy ending”, ’n volmaakte
einde wat vir my voorlê. Intussen speel ek met oorgawe saam
in vandag se episode van dié vervolgverhaal!
Hierdie naweek hou
ons ons 13e kamp vir gestremdes met die tema “Elke mens het
’n storie.” Ons gaan luister na mekaar se stories, leer uit
mekaar se verhale en mekaar aanmoedig vir elke dag se
episode! Daarmee saam gaan ons ’n groot porsie pret en
speletjies hê, uitbundig lag en heerlik eet. Ons gaan beslis
versterk word om ons lewensstorie weer met nuwe moed en
groter hoop aan te pak. ~ Wilna Botha, 17/10/2014 |
|
“Julle is in goeie hande. Die Here self
pas julle op. En Hy is altyd op sy pos. Hy los julle nooit
alleen nie, nie eens vir ’n enkele sekonde nie. God sal
julle geloof sterk maak. Hy sal julle ook teen Satan se
aanvalle beskerm.” (2 Tess 3:3) Die Bybel sê mos ook in die
Ps. 121 die Here sluimer of slaap nie, Hy kyk nie weg nie,
Hy is nie te besig nie, Hy gaan nie met verlof nie. Hy is
altyd en oral teenwoordig, altyd gereed om ons te beskerm,
altyd gereed om te keer dat ons nie val nie. Hy is altyd
daar om ons óm die struikelblokke te lei, altyd daar om vir
ons die lig in die donker aan te skakel. Jy is vandag ook in
goeie hande – hande vol genade en liefde! ~Wilna
Botha, 16/10/2014 |
|
“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié
wat daaraan bou tevergeefs.” (Ps. 127:1) As die Here nie
deel is van ons alledaagse werk, deel is van ons huis en
gesinslewe nie, kan ons ons dalk morsdood werk en op die ou
einde vind dat dit alles verniet was. Sonder die Here sal
ons bouwerk swak wees asof ons soos 2 van die 3 varkies met
strooi, stoppels en stokkies gebou het. Die bouwerk kan dalk
makliker wees, en aanvanklik mooi lyk, maar dit sal geen
ewige waarde hê nie. As die Here Jesus egter die fondament
is, dan bou Hy self ons lewenshuis met goud, silwer en
edelstene. Dit sal sterk, mooi en duursaam wees en alle
toetse en storms kan deurstaan. Moenie tydmors met nuttelose
bouwerk wat jy uit jou eie krag probeer doen nie, moenie
halfpad ophou nie, druk deur en bou tot eer van die Here.
Mag die Here se seën vandag op jou bouwerk rus. ~ Wilna
Botha, 15/10/2014 |
|
Voel jy dalk ook gedaan gejaag om deadlines te haal, suf
planne gemaak om die skedules te laat uitwerk, moeg
geskarrel om almal se grille te bevredig? Dis soos Tetris
speel en die blokkies wil nie pas nie en val deur sonder dat
jy punte kry! Of soos om daai borde op die stokke te laat
balanseer en dit val die een na die ander in skerwe. Wel,
lees bietjie hier: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek
toe en rus ’n bietjie” (Mark 6:31). Is dit nie ’n
fantastiese uitnodiging van Jesus nie? Hy weet ons het nodig
om bietjie tot stilstand te kom, bietjie te stop met al die
gejaag, bietjie te sit, bietjie te rus en asem te skep. En
waar beter as by Hóm? Hy sê ook: “Kom na My toe, almal wat
uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee” (Matt.
11:28). Dis as ons gaan stilsit by Hom, as ons oorgee en
terugleun in sy arms, dat ons regtig verfris en vernuwe
word, dat ons weer die “jeugdige krag van ’n arend” kry. Ek
het ook hierdie gelees in die Message: “I'll contemplate his
beauty; I'll study at his feet. That's the only quiet,
secure place in a noisy world, the perfect getaway, far from
the buzz of traffic”. (Ps 27:4-5). Hoe gaan jy dit vandag
prakties doen?
~ Wilna Botha, 14/10/2014 |
|
“... die woord van die Here hou vir
ewig. En hierdie woord is as Goeie Nuus aan julle verkondig.”
(1 Pet. 1:25, NLV) Ons noem mos die Bybel die “Woord van
God”, “Goeie Nuus”, “Blye Boodskap” ens., maar God se woord
is meer as nét ’n boek. God se woord is wie Hy is en wat Hy
sê en wat Hy doen. Wat God sê, is waar en betroubaar en wat
Hy sê sal Hy doen. Wat Hy sê geld vir altyd en in alle
omstandighede. Die Goeie Nuus, wat altyd opwindend en vars
sal wees, is dat God ons liefhet, dat Hy genade aan ons
betoon, dat Hy goedhartig en getrou is, dat Hy sondes
vergewe en ons die ewige lewe as gratis geskenk gee – dié
woord is ewig en betroubaar. ~ Wilna Botha, 13/10/2014 |
|
Ek het hierdie foto Sondag in
Johannesburg se botaniese tuine geneem. Dit het my laat dink
aan wat Jesus in Joh. 4:14 sê: “... wie van die water
gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit
dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom
’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige
lewe gee.” Jesus ís die lewende water en Sy uitnodiging is:
“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh.
7:37) Kom drink, kom gee jouself oor, kom verfris jouself,
kom “doop” jouself in die lewende water sodat jou sonde, jou
pyn, jou hartseer, jou teleurstellings, jou verwerping, jou
vernedering weggewas kan word in die strome van Sy genade. ~
Wilna Botha, 10/10/2014 |
|
Hou jy ook van brood? Lekker tuisgebakte wit
brood met dik botter en dan 'n smeersel van jou keuse, saam
met heerlike vars koffie. Sommige mense sal seker nou
inmekaarkrimp en dink hoe vet dit maak, maar ander (soos ek)
se smaakkliere word sommer dadelik geprikkel. Brood is
stapelvoedsel, vullend, lekker en relatief goedkoop, en dit
kom van laaaank laaaank gelede, sommer vroeg in die Ou
Testament. Dalk is dit hoekom daar soveel gelykenisse (vergelykings)
getref word tussen Jesus
en brood. Wel, as jy vir 'n klomp maande net brood het om te
eet sal jy verseker aan die lewe bly. 'n Dokter sal dalk vir
jou sê: Dis al wat jy nodig het om NOU aan die lewe te bly.
En dan kom hierdie vergelykings in die Bybel en sê in Joh
6:48:- "Ek is die brood wat lewe gee."
Jesus is AL wat jy vandag nodig het, om EWIG
aan die lewe te bly. ~ Willem Botha, 09/10/2014 |
|
Ek hoor ’n advertensie wat vra: “How
much is enough?” en dan word dit gekoppel aan die produknaam
“ ... wealth”. Toe wonder ek nou mos ook hoeveel is genoeg.
Hoeveel koffiebekers in my kas is genoeg? Hoeveel vleis in
die vrieskas? Hoeveel skoene? Hoeveel oorbelle? Hoeveel
vakansies per jaar? Hoeveel geld in die bank? Hoeveel
pensioen vir die ou dag? Hoeveel is genoeg? Hoeveel sal my
tevrede maak? Hoeveel sal my waardig laat voel? Hoeveel het
ek nodig om nie af te steek teen die “Joneses next door” nie?
Wel, in die Bybel het ek twee antwoorde gesien: (1)
Spr. 30:8-9:
“... moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos
wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en
sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en
steel en my God se Naam oneer aandoen nie.” (2) 1 Tim 6:8:
“As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.”
Is dit genoeg vir jou? ~ Wilna Botha, 08/10/2014 |
|
Ek lees iemand sê: “Tomorrow starts
today.” Dis seker nie verkeerd om solank aan môre te dink en
vooruit te beplan nie, maar té veel kere berei ek só voor
vir môre, dat vandag eintlik vermors word, of bekommer ek só
oor môre dat ek vandag se seëninge miskyk, of droom ek só
oor môre dat ek vandag se vreugde mis. Ek wil ’n punt
daarvan maak om nie meer môre in vandag in te trek nie.
Jesus leer ons ook in Matt. 6:34 : “Moet julle daarom nie
oor môre bekommer nie. Môre sal sy eie bekommernisse (en ek
voeg by: seëninge, plesier, geleenthede...) bring. Vandag se
moeilikhede is vir een dag heeltemal genoeg.” ~ Wilna Botha,
07/10/2014 |
|
“Start your day with a smile, a happy thought
and a grateful heart.” Ek het gedink hierdie aanhaling kan
nogal help vir ’n Maandagoggend! Vul jou hart en gedagtes
met mooi en opbouende goed, skuif die negatiewe gedagtes
eenkant toe, gee die bekommernisse vir die Here. Dink
daaraan dat God jou gemaak het en Sy lewensasem in jou
ingeblaas het. Wees dankbaar teenoor die Here vir klein
dingetjies, wees dankbaar dat jy lewe! Hopelik sal jou hart
dan met vreugde gevul word en sal jy ’n huppel in jou stap
en ’n glimlag op jou gesig hê! Mag jy 'n kleurvolle dag hê!
“Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor
juig en bly wees.” (Ps 118:24) ~ Wilna Botha, 06/10/2014 |
|
“Ek het ’n ooreenkoms met die dag en
die nag om op vaste tye te begin. As julle dit kan regkry om
hierdie ooreenkoms verbreek te kry, dan en dan alleen, sal
My ooreenkoms met Dawid wat in My diens was, verbreek kan
word.” (Jer. 33:20-21, Die Boodskap) Vandat ons vriend, Oom
Jan Tromp, my nou die dag van dié vers vertel het, is ek nóg
meer verwonderd oor elke sonsopkoms en sonsondergang. As die
son in die oggend op die horison verskyn dan wéét ek God se
beloftes aan Dawid het bly staan EN sal Sy beloftes aan mý
ook bly staan. Niemand kan keer dat die son opkom nie,
daarom kan niemand keer dat God alles vir my ten goede sal
laat uitwerk nie. Dis son is op – die Here ís getrou. ~
Wilna Botha, 03/10/2014 |
|
Het
jy al bietjie om jou rondgekyk die afgelope paar weke en
raakgesien hoedat alles groener, mooier en helderder word?
Die Jakarandas begin blom en een van die dae is dit net pers
waar jy kyk ... en tot nou toe het dit alles hier in ons
omgewing gebeur sonder water, sonder bemesting, sonder
spesiale aandag. Dit het gebeur nét omdat God ’n tyd vir
alles bepaal het, nét omdat somer en winter die werk van Sy
hand is, nét omdat Hy seisoene geskep het (lees Ps. 74:17) Ons beleef hoedat die Here alles in die natuur nuut maak. Hy
doen dít ook in ons lewens. Wat eers dood en donker, grys en
vaal was maak Hy weer nuut en vars. Wat vol sonde was, maak
Hy skoon en heel. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n
nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles
is die werk van God.” (2 Kor. 5:17) Mag Oktobermaand in jou
lewe aanbreek! ~ Wilna Botha,02/10/2014
“Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier
vir ewig in die hemel
Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme,
as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier
of heerliker verwag?
Wat kan jy beter, mooier
of heerliker verwag?
Wat gee ek om die winter?
Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later
weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober, die
mooiste, mooiste maand,
met elke dag so helder, so
pragtig elke aand!
Met elke dag so helder, so
pragtig elke aand!” ~ C. Louis Leipoldt |
|
“Dit gaan goed met elkeen wat die Here
dien .... Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is
gerus, hy vertrou op die Here.” (Ps. 112:1,7) Die teks sê
nie dat ons wat die Here dien nooit slegte nuus sal ontvang
nie. Ons sal ook moeilike omstandighede op ons pad kry, maar
ons sal dit kan hanteer omdat ons weet dat God in beheer is,
omdat ons weet dat God aan ons kant is, omdat ons weet dat
niks ons van Sy liefde kan skei nie. Ons sal slegte nuus kan
hanteer sonder om beangs en paniekerig te wees omdat ons
weet dat die Here saam met ons is, dat Sy liefde ons regop
hou, dat Sy genade vir ons genoeg is. Slegte nuus behoort
ons nie te ontstel nie, dit behoort ons nie bang te maak nie,
dit behoort ons in die arms van die Here te laat vlug. ~
Wilna Botha, 01/10/2014 |
|
“Julle mag nie ’n ander god vereer nie,
want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem
hulle My: Die God wat onverdeelde trou eis.” (Eks 34:14) Dis
die opdrag wat God se volk moes hoor. Dis egter net soveel
op ons van toepassing. Ons kan dink ons maak mos nie
allerhande beelde waarvoor ons buig nie, maar ’n afgod is
nie net ’n fisiese ding nie. Vir ons kan dit eie vermoëns,
eie genot, gemak en geluk wees wat in God se plek in ons
harte inskuif. Dit kan enige iets of iemand wees waarop ons
meer vertrou as op God self. Ons kan onsself miskien afvra:
Waaraan dink ek die meeste? Wat sal die grootste verlies in
my lewe wees? Wat laat my veilig voel? Wat bepaal my
identiteit? Die antwoorde hierop kan dalk vir jou uitwys dat
daar afgode is wat jou tyd, aandag en toewyding steel wat jy
aan God verskuldig is. Maak weer ’n nuwe keuse, want God
vereis dat ons geheel en al aan Hom toegewy is. ~ Wilna
Botha, 30/09/2014 |
|
Ek het geskrik toe ek weer die
gelykenis van die ryk dwaas in Luk. 12:13-21 lees. Dit klink
soos baie mense wat ek ken, om die waarheid te sê ek is self
in baie opsigte net soos daai dwaas. Hy jaag verkeerde
prioriteite na en spog oor wat hy bereik het. Hy glo sy
aardse besittings behoort aan hom - hy dink nie eens daaraan
dat dit God is wat hom die krag , kennis en gesondheid gegee
het om sy rykdom te bekom nie, of dat dit God is wat die
reën laat val het op sy landerye nie. Hy dink sy besittings
sal vir altyd hou. Hy lewe asof die hier en nou al is wat
saak maak, asof eet, drink en partytjie hou die lewe die
moeite werk maak. “Weet julle, so gaan dit met almal wat die
verkeerde skatte bymekaarmaak. Die doderyk is die enigste
beloning vir al hulle harde werk. Gee julle lewe eerder aan
God. Maak vir julle skatte by Hom bymekaar. Dan wag daar ’n
splinternuwe lewe op julle.” (Luk. 12:21, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 29/09/2014 |
|
Wanneer ons lofliedere tot eer van die
Here sing, dan skuif ons fokus van onsself en ons probleme
na God en Sy grootheid. Wanneer ons met oorgawe sing dan
word ons harte lig en warm van liefde vir die Here en ons
voel so naby aan Hom. In Ps. 69:33 en Ps. 34:3 lees ek van
nóg iets wat gebeur wanneer ons dank- en prysliedere sing:
dié wat swaarkry, wat verdruk en bedruk is, wat gebroke en
verlore is, wat siek is, sal daarna luister, hulle sal bly
wees daaroor en weer nuwe moed skep. “Sing saam met my oor
die grootheid van die Here... dié wat swaar kry sal dit hoor
en daaroor bly wees.” (Ps. 34:3) ~ Wilna Botha, 26/09/2014 |
|
“I will not in any way fail you nor
give you up nor leave you without support. I will not, I
will not, I will not in any degree leave you helpless nor
forsake nor let you down (relax my hold on you)! Assuredly
not!” (Heb. 13:5, Amplified Bible) Dit is die Almagtige God
sélf wat dit vir jou sê. Dit is jou Vader wat vir jou omgee
wat só met jou praat vandag. Dit is die Skepper van die
heelal wat jou op hierdie oomblik Sy versekering gee dat Hy
jou nie in die steek sal laat nie. Hy sorg vir alles en Hy
sal ook vandag vir my en jou sorg. Wees rustig, wees tevrede,
moenie bang of beangs wees nie. Mag Sy woorde jou troos en
aanmoedig vir dit wat jy vandag moet doen. ~ Wilna Botha,
25/09/2014 |
|
Ek lees hierdie aanhaling wat my sterk
aanspreek: “Don’t judge my path if you haven’t walked my
journey.” Ons kan so maklik oordeel en veroordeel op grond
van mense se uiterlike, op grond van hulle foute en
mislukkings, op grond van hulle tekortkominge, terwyl ons
glad nie weet waarvandaan hulle kom en watter paaie hulle al
gestap het, of hoe vêr hulle al gevorder het op hulle pad
nie. Miskien was jyself al aan die ontvangkant van sulke
veroordeling deur mense wat glad nie jou storie en jou
agtergrond ken nie. Kom ons wees meer verdraagsaam en toon
groter begrip en genade aan mense wat anders lyk, anders
dink en anders optree as ons. Jesus sê in Joh. 7:24: “Moenie
op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” ~ Wilna
Botha, 23/09/2014 |
|
Miskien is jy of een van jou geliefdes
siek of in die hospitaal vir ’n operasie vandag of êrens
gedurende hierdie week. Die Bybel sê in Ps. 34:21: “Die Here
sorg vir die hele liggaam.” Vir my is hierdie teks ’n troos
en versekering dat die Here weet van die siekte, dat Hy dit
sien en daarvoor sorg. Die hare op ons kop is getel, geen
been van ons is vir die Here verborge nie, ons is die appel
van Sy oog, Sy kind, Sy ewige arms is onder ons, niks kan
ons uit Sy hand ruk nie. Sy guns, Sy versorging, Sy genesing
is dáár vir ons en ons geliefdes. Kom ons breek ’n stukkie
brood saam in die gedagtes en drink saam uit die beker en
bely: “Deur Sy wonde is julle genees.” (1 Pet. 2:24) ~ Wilna
Botha, 22/09/2014 |
|
In Gen. 3 word vertel hoedat Adam en
Eva toegegee het aan die verleiding van die satan en geëet
het van die boom waarvan God hulle belet het om te eet. Die
gevolg van hulle ongehoorsaamheid was o.a. dat hulle besef
het dat hulle kaal was, hulle was skaam en het vir hulle
klere van vyeblare gemaak. Hulle het self probeer om hulle
sonde toe te maak. Maar , getrou aan wie God is, bewys Hy
meegevoel en genade aan hulle, laat Hy bloed vloei sodat
hulle sonde toegemaak kan word: “God het Adam en Eva later
jammer gekry en vir albei klere van vel gemaak. Hy het self
vir hulle die klere aangetrek.” (Gen. 3:21, Die Boodskap)
Hoe verstommend is dit nie dat daar in die eerste bladsye
van die Bybel alreeds versoening vir die mens kom nie! Dat
dit van God se kant af kom, dat Hy Sy hand uitsteek na die
mens en dit terwyl die mens dit nie verdien nie. Die res van
die Bybel is die verhaal van God se genade en die volkome
versoening en verlossing wat Hy uiteindelik vir ons bewerk
het deur Sy Seun, Jesus Christus. Is dit nou nie goeie nuus
nie? |
|
Ek sien hierdie drie woorde buite op
die muur van ’n kerkie: lewe, hoop, vrede. Dís wat ons moet
hê wanneer ons by die kerk se deur uitstap die wêreld in:
lewe in oorvloed omdat Jesus se bloed ons nuut en vry gemaak
het (Joh. 10:10), hoop as ’n geestelik anker wat ons
vastigheid en sekerheid gee (Heb 6:19), vrede wat alle
verstand te bowe gaan omdat ons weet God is in beheer en Hy
sal in al ons behoeftes voorsien (Fil. 4:7 en Fil. 4:19). Ek
neem hierdie drie woorde vandag as die slagspreuk van my
lewe. |
|
“Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Ek
het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig
en verstand enige werk kan doen.” (Eks 31:2-3) As jy vandag
vaardigheid, insig en kennis nodig het om jou werk te doen,
om nuwe dinge uit te dink en groot planne te maak, glo ek
dat die Here dit vir jou sal gee, soos vir Besaleël. Gebruik
die vaardigheid en talente wat die Here vir jou gee en doen
jou werk goed en met oorgawe, asof jy dit vir die Here doen,
doen dit sonder om te kla en te mor. Sodoende sal Sy Naam
geëer word, maak nie saak of dit geestelike werk of sekulêre
werk is nie. Geniet jou werk! |
|
“Everything
is going to be alright. Maybe not today, but eventually.”
Wees verseker dat die moeilike tyd waarin jy nou is, die
onsekerheid van jou situasie, die bekommernis oor jou
gesondheid, die vrees vir die toekoms, die onvrede wat in
jou gemoed is, uiteindelik sal verbeter. Miskien stap jy op
die oomblik ’n eensame woestyn pad, of daar is dalk ’n groot
storm aan die woed rondom jou, dalk is alles besig om te
verander en dinge voel buite beheer... die Here sê vir jou:
“Moenie bang wees nie...
As jy deur water moet gaan, is Ek by
jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy
deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme
sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God.” (Jes.
43:1-2) |
|
God se formule
Ek wonder hoeveel van ons verstaan werklik die weë van die
Here. Verstaan jy hoekom daar soveel swaarkry en armoede
moet bestaan, hoekom goeie mense skielik deur rampe getref
word, terwyl roekelose mense oënskynlik floreer?
Dit laat my dink aan Einstein se formule E=MC2 en
vele ander formules. 'n Formule verklaar 'n stelling en maak
dat 'n probleem opgelos kan word.
Maar wat is God se formule? God= wat? Of God = wie? Watter
stel wiskundige reëls kan Hom genoegsaam beskryf?
Wel, in Gen 3:14 gee Hy vir Moses 'n kykie na 'n moontlike
formule as Hy sê: Ek is...
Dus kan ons aflei God =... IS . Maar o weë, Ek = wat? Of Ek
= wie?
Miskien sê hierdie formule dan juis iets soos: God =
barmhartigheid. God = genade. God = alomteenwoordig. God =
soewerein.
In 1 Joh 4 : 16b lees ons. "God is liefde; wie in die liefde
bly, bly in God en God bly in hom."
Wel dit lyk my ons het hier 'n formule wat perfek werk: GOD
= LIEFDE
Kan
dit vandag vir jou genoeg wees?
~Willem |
|
“We don’t meet people by accident. They
are meant to cross our path for a reason,” – so word gesê.
Dink bietjie daaroor wanneer jy vandag met mense te doen kry.
Miskien die petroljoggie, die ou wat jou winkeltrollie wil
stoot of die karopasser. Dalk jou baas of kollega, ’n kliënt
of verskaffer. Dalk ’n familielid of intieme vriend. Vra
jouself af wat die rede is dat jou pad met hulle s’n kruis
en hoekom juis vandag. Gebruik die geleentheid wat jy het om
jou lig te laat skyn, om opbouend te praat, positief en
vriendelik te wees. “Gebruik elke oomblik om ’n positiewe
invloed op hulle uit te oefen. Dit moet ook altyd vir mense
lekker wees om met julle te gesels. Na elke gesprek moet
hulle voel dat dit die moeite werd was.” (Kol 4:5-6, Die
Boodskap) |
|
In die middel van die paradys het die
boom van lewe gestaan. Dié boom was die simbool van lewe,
geluk en voorspoed, van ’n plek waar alles volmaak en perfek
is, van ewigdurende saligheid en onsterflikheid. Adam en Eva
was vry om hiervan te eet, maar hulle het nie. Hulle kies om
die verbode vrugte te eet van die boom van kennis van goed
en kwaad. Sodoende verloor hulle toegang tot die boom van
die lewe. Openb. 22:14 sê dat dié wat hulle klere was in die
bloed van die Lam die reg het op die boom van die lewe.
(lees ook Openb.2:7 en 7:14) Deur Jesus se bloed het ons het
weer toegang tot die boom van die lewe. Dis nou ons
geleentheid om reg te kies – van watter boom eet jy? |
|
“Besef julle nie dat julle almal saam
die tempel van God uitmaak en dat die Gees van God in julle
as Sy tempel woon nie?” (1 Kor. 3:16 NLV) Toe ek hierdie
teks in die Nuwe Lewende Vertaling lees het dit vir my
beklemtoon dat ons SAAM die tempel van God uitmaak. Ons is
almal deel van die liggaam van Christus, daarom moet ons
baie meer respek vir mekaar hê, baie meer verdraagsaam wees
teenoor medegelowiges. Ons moet minder veroordelend en meer
genadig wees, minder afkraak en meer opbou, minder uitskel
en meer liefdevol wees. Behandel vandag almal wie jou pad
kruis asof die Gees van God in hulle is. |
|
Ek lees hierdie aanhaling êrens: There
are always two choices. Two paths to take, one is easy and
its only reward is that it’s easy. Die Bybel praat ook
duidelik oor die twee moontlike paaie wat ons kan vat: God
se pad wat nou en moeilik is en opofferings vra, maar wat
uitloop op die ewige lewe saam met God of die breë en
maklike pad, die pad van die meerderheid, die pad wat weg
van God af is en in die hel eindig. Die enigste voordeel
van dié pad is dat dit maklik is. “Die pad wat na God se
nuwe wêreld toe lei, is baie moeilik en ook bitter smal. Min
mense loop daarop omdat dit groot opofferings vra. Aan die
ander kant is die pad wat na die hel toe lei, maklik om op
te loop en baie breed. Baie mense loop daarop. Span julle
daarom in om op God se smal pad te bly stap.” (Matt. 7:14,
Die Boodskap) |
|
Eks 33:17: “Ek is jou goedgesind en Ek
ken jou op jou naam.” Hierdie woorde beskryf ’n intieme
verhouding tussen God en Moses. Jesus het dit vir ons kom
moontlik maak om ook in dieselfde intieme en persoonlike
verhouding met God te staan. Ons kan Hom met ons hele hart
liefhê, ons kan met vrymoedigheid na Hom toe gaan, ons kan
ons sorge en laste enige tyd by Sy voete gaan neersit. Hy
sal dan Sy hand van genade na ons uitsteek en ons verseker
van Sy goedgesindheid, van Sy omgee, van Sy liefde, van Sy
meegevoel met ons. Hy kén jou regtig. Hy ken jou naam, Hy
weet wie jy is en waarmee jy vandag sukkel. Mag dit jou
bemoedig en troos! |
|
Soms is dit baie lekker as mens vir die
laaste keer iets doen, soos bv. jou laaste eksamenvraestel
skryf, jou laaste dosis antibiotika afsluk, jou laaste
slapie voor jy met vakansie vertrek ens. Ander kere weer kan
’n laaste keer hartseer wees, met trane gepaard gaan, jou
leeg of nutteloos laat voel. Hoeveel kere doen mens nie iets
vir die laaste keer sonder dat jy besef dis die laaste keer
nie. Ek het gister ’n laaste keer gehad toe my dogter, ná 5
jaar en ongeveer 1000 sessies wat ons saam geoefen het, dit
vir die laaste keer saam met my gedoen het. Sy het nou
aangesluit by ’n ander klub. Ons het ons laaste work-out
saam “gevier” – teruggedink aan al die pret, saam-sweet,
wedersydse aanmoediging en lekker tye wat ons saam gedeel
het. Dis toe dat ek sommer net weer besef: water loop
onderdeur die brug, die sand loop deur die uurglas en ons
kan dit nie keer nie. Geleenthede kom en gaan en ek wil ’n
punt daarvan maak om hulle almal ten beste te benut. Doen
vandag iets asof jy dit vir die laaste keer doen, beleef
iets asof dit die laaste keer is, maak ’n viering daarvan
asof dit nooit weer gaan gebeur nie. |
|
Wanneer ons alles in die stryd werp om
mense goed te behandel, hulle te aanvaar vir wie hulle is en
poog om goed met hulle oor die weg te kom, doen ons presies
wat die Here van ons verwag. Wanneer ons werk aan versoening,
vergifnis en eensgesindheid doen ons wat Jesus sou doen.
Wanneer ons vrede maak, stryery en bakleiery vermy dan maak
ons die Here se hart bly. “ Moenie gedurig met mekaar stry
en baklei nie. Konsentreer liewers op die dinge waaroor
julle saamstem. Wees lojaal teenoor mekaar. Voel saam,
streef saam, doen saam. As julle dit doen, sal julle my
regtig baie bly maak.” (Fil. 2:2, Die Boodskap) |
|
“Ons moet leer uit wat al lank gelede
reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die
bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons
toekomsverwagting te bly vashou.” (Rom 15:4 NLV) Ons is so
bevoorreg om die Bybel as die bron van kennis tot ons
beskikking te hê. Dit is beslis vandag nog van toepassing en
daarom kan ons dit bestudeer, dit ter harte neem en dit in
ons lewens as rigtingwyser volg. Dit sal sekerheid en standvastigheid
in ons lewens gee. God se beloftes in die Woord is steeds
van krag, dit kan ons van oomblik tot oomblik bemoedig, dit
gee ons hoop en is ’n anker waaraan ons kan vashou in
onseker, stormagtige tye. Stof daai Boek weer af en gebruik
hom! |
|
Dis die moeite werd om op die nou
paadjie te stap. Dit is goed om die regte keuses te maak.
Dis voordelig om altyd die regte dinge te doen. Dis aan te
bevele om in alle opsigte by die reëls te hou. Dis die
moeite werd om altyd jóú kant skoon te hou. Die wins wat dit
vir jou sal inhou is rustigheid en sekerheid. Jy sal in
vrede met almal kan saamleef, jy sal nie altyd oor jou
skouer hoef te kyk nie, jy sal nie bang wees jy word
uitgevang nie. “Wie regdoen sal vrede hê. Wie volhard in
regdoen sal vir altyd rus en sekerheid hê.” (Jes. 32:17);
“Wie na reg en liefde strewe, aan hom word ’n vol lewe en
eer geskenk.” (Spr. 21:21) |
|
“Toe het die Here gevra: Moet Ek self
saamgaan en vir jou vrede gee?” (Eks 33:14) Sjoe, wat ’n
wonderlike aanbod het die Here hier vir Moses gemaak. Ek glo
Hy bied dit ook vandag vir my en vir jou aan. Mag Hy saam
met ons hierdie dag ingaan, voor ons uitgaan en die pad vir
ons gelykmaak en in al ons behoeftes voorsien. Mag Hy elke
tree saam met ons stap en vir ons wysheid gee vir die
besluite wat ons moet neem, geduld vir elke situasie, moed
vir elke probleem en vrede wat alle verstand te bowe gaan.
|
|
Ek is baie keer soos Jona. Ek is
bevooroordeeld teenoor ander, ek beoordeel die wêreld en
besluit sommer self wie die Here se genade en vergifnis werd
is. Partykeer is ek ook kwaad as dit vir my lyk of die Here
iemand wil red wat dit nie verdien nie, iemand wat só
goddeloos leef, só sy eie sondige pad loop. Baie keer is ek
teësinnig om God se boodskap van redding te deel, ek kyk
liewer ander pad, klim op ’n ander skip, gaan ’n ander koers.
Wat ek net weer besef het uit die boek Jona, is dat God
besorg is oor alle mense, Hy stel sy genade beskikbaar vir
almal en Hy gebruik mense om die boodskap uit te stuur, Hy
buig natuurwette en bewerk wonders om mense te red. Ek erken
nou ook, soos Jona: “Ek het voor my siel geweet U is die God
wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met
hulle en gee vir hulle om.” (Jona 4:3, Die Boodskap) |
|
“Welgeluksalig
is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en
nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die
kring van die spotters nie” (Ps. 1:1, Ou Afr. Vertaling). Jy
is welgeluksalig, gelukkig, geseënd as jy hierdie dinge NIE
doen nie. Moenie die raad volg van mense wat God nie ken en
dien nie – moenie dat hulle jou hart en gedagtes beïnvloed
nie, dit sal jou op ’n sonde-pad bring – waar jy kort voor
lank dalk saamsit, saamdoen en saampraat, en uiteindelik sal
jy ook, net soos hulle, met God spot en Hom verloën. Moenie
loop waar hulle loop nie, moenie staan waar hulle staan nie,
moenie in hulle kring sit nie. Kies saam met wie jy wil wees,
wees versigtig aan wie se invloed jy jou blootstel, dink
mooi oor die gesprekke waaraan jy deelneem. “Want die Here
waak oor die pad van die gelowiges; maar die paaie van die
goddeloses lei tot ondergang.” (Ps. 1:6) |
|
Voel jy miskien vuil en weggegooi?
Is jy stukkend en misbruik? Voel jy nutteloos en verwerp? Is
jy vasgevang in die donker maalkolke van die lewe? Die
belofte van God vir Sy kinders is dat Hy ons van die ashoop
kan optel, ons uit die stof kan laat opstaan, dat Hy ons
weer nuut en mooi kan maak, dat Hy ons wonde kan verbind en
ons trane kan afdroog. “Maar vir dié van julle wat My
liefhet en aan My gehoorsaam is, sal My verlossing soos die
son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee
lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word
dit vinnig gesond. So sal Ek nuwe lewe oor julle laat kom.”
(Mal 4:2, Die Boodskap) Mag God se son van redding vandag
oor jou skyn. |
|
Ons het almal die een of ander
uitdaging voor ons, die een of ander probleem wat hanteer
moet word, die een of ander berg wat ons moet oor. Hoe
benader jy die probleem voor jou? Met ’n gesug en gekla, ’n
gesteun en gekerm, of pak jy die bul by die horings, werk
met ’n plan, bly gefokus en verheug jou oor jou vordering?
Kyk jy vas in die probleem, of kyk jy deur die probleem en
sien ’n oplossing? Is jy een van dié mense wat die glas
altyd halfleeg en nooit halfvol sien nie? Ek lees hierdie
aanhaling van Victor Frankl: “The problem is not the
problem; the problem is your attitude about the problem.” Ek
gaan maar weer bietjie werk aan daai attitude! |
|
In Matt. 21:28-31 lees ons die
gelykenis van die twee seuns vir wie hulle pa ’n opdrag
gegee het. Die een seun het geweier om dit te doen, later
spyt gekry daaroor en toe tog gaan doen wat sy pa gevra het.
Die ander seun het gesê hy sal doen wat sy pa gevra het,
maar hy het dit toe nooit gaan doen nie. Dit het my laat
wonder oor my eie gesindheid wanneer die Here vir my ’n
opdrag gee – ek is baie keer soos die eerste seun:
aanvanklik teësinnig, maar wanneer ek eers bietjie daaroor
gedink het, dan doen ek dit tog maar. Dikwels is ek soos die
tweede seun: ek neem my voor om goeie dinge te doen, uit te
reik na iemand, hulp te verleen êrens en dan raak ek lui of
bang of vasgedraai in my eie dinge en ek kom nooit daarby
uit nie. Die ideale seun sal met ’n gesindheid van respek en
gehoorsaamheid sy pa se opdragte aanvaar en uitvoer. Die
ideale seun se beloftes sal uitvloei in sy gewilligheid en
in sy dade. Ek wil weer probeer om daai “ideale seun” te
wees. |
|
“’n Riet wat geknak is, sal Hy nie
afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie.” (Matt.
12:20) Wanneer ons dink ons (of iemand anders) is so
nutteloos, swak en onbruikbaar soos ’n geknakte riet, of
soos ’n kers wat dof brand, dan kom maak die Here ons weer
nuut en rig Hy ons weer op. Dan begin Hy weer voor met ons
en het Hy steeds ’n doel en ’n plan met ons. Hy skryf
niemand af nie. By Hom is daar altyd weer ’n tweede kans. Hy
doen dit vir ’n tollenaar, vir ’n owerspelige vrou, vir ’n
moordenaar, ’n duiwelbesetene en ’n verraaier. Hy doen dit
vir siekes, melaatses, ongelowiges en twyfelaars. Hy sál dit
ook vir my en vir jou doen. |
|
Ek vind goeie raad in hierdie aanhaling
wat ek gelees het: Tune into positive experiences and never
take a single moment for granted. Ek moet myself instel om
die goeie raak te sien, ek moet oefen om positiewe dinge oor
mense te sê, ek moet myself doelbewus besig hou met dinge
wat die moeite werd is - dinge wat God sal sê goed is. Ek
moet myself dissiplineer om elke oomblik te benut en ek wil
daarop konsentreer om goeie herinneringe op te stapel. “Wees
baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat
God van ’n sinvolle lewe verwag...” (Ef. 4:15, Die Boodskap) |
|
Luister ’n bietjie hoe dikwels hoor jy
iemand sug, of hoeveel keer gee jyself so ’n lang,
uitgerekte, diep sug. Wanneer sug jy? Wanneer jy moeg en
moedeloos is of met iets sukkel. Wanneer jy swaarkry,
teleurgesteld of siek is. Of dalk wanneer jy verlig is of ’n
noue ontkoming gehad het. Waaroor jou sug vandag ook al gaan,
kan jy weet dit val nie op dowe ore nie. Die Bybel sê dat
die Heilige Gees namens ons by God sug, Hy dra ons sug aan
God oor, Hy vertaal en verduidelik aan die Vader waaroor ons
sug gaan. Ontspan – God hoor jou sug en Hy sal jou te hulp
kom. “Hy (die Heilige Gees) vertaal al ons swaarkry in
hemelse taal. Hy gaan sug en kla names ons daar by God.”
(Rom 8:27, Die Boodskap) |
|
Die woorde van Jes. 64:6, “... ons
beste dade is soos vuil klere,” het my net weer laat besef
dat niks wat ek doen vir die Here goed genoeg is nie. Ek sal
altyd weer te kort skiet, ek sal altyd weer val en sondig,
ek sal altyd weer versuim om goed te doen. My beste is nie
goed genoeg nie. My beste lyk soos vuil wasgoed. Die goeie
nuus is egter dat die Here se genade, sy onverdiende guns,
sy gratis goedheid elke dag vars op my wag. Die goeie nuus
is dat ek my vuil klere kan was en dit spierwit kan maak in
die bloed van die Lam, Jesus Christus. (lees Openb. 7:14)
Die beste nuus is dat ek deur Jesus se versoeningswerk goed
genoeg is. |
|
By ons Bybelstudie oor Filippense moet
elkeen vandag sy gunsteling vers uit dié boek deel. Ek het
toe heen-en-weer- gewonder oor watter een dit vir my sal
wees ... dalk dié een oor Jesus wat aan mense gelyk geword
het sodat Hy in ons plek aan die kruis sou sterf, dalk dié
een oor elke knie wat sal buig en elke tong erken dat Jesus
die Here is, dalk dié een wat my aanmoedig om in alle
omstandighede bly te wees, dalk dié een wat sê dat ek nie
bekommerd hoef te wees nie, dat ek al my begeertes in gebed
voor God kan bring, dalk dié een wat sê dat God in elke
behoefte ryklik sal voorsien of dalk: ek is tot alles in
staat... ? Ek het egter besluit op Fil. 2:13 : “Dit is God
wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Vir my is dit wonderlik om te weet dat die Here self my
hart, my begeertes, my wil en gedagtes verander sodat ek sal
wil doen wat Hy wil hê. Hy laat my nie aan myself oor om Sy
wil te doen nie, nee, Hy kom bly in my deur Sy Gees. Sy Gees
werk in my om te wil leef soos God verwag en terselfdertyd
leer en wys en lei Hy my om dit te doen. Ek wil, want Hy wil,
ek kan, want Hy kan. |
|
Die verhaal van
die genesing van die siek, gestremde man by die bad van
Betesda (Joh. 5:1-17) het sommer vir my nuwe betekenis gekry
toe ek lees dat Betesda “huis van genade” beteken. Die man
van wie hier vertel word, was al vir 38 jaar siek. Niemand
het hom voorheen gehelp nie en hy het seker ook nie veel
hoop gehad dat enige iemand hom sou kon help nie. Tog het hy
bly wag by die “huis van genade”. En toe kom Jesus genade
betoon by Betesda. Hy wéét wat is die man se behoeftes, Hy
sien hom raak tussen al die baie ander mense, Hy bied sy
genade en Sy genesing vrywillig en verniet aan. Het jy
vandag die Here se aanraking nodig? Het jy genesing nodig?
Het jy hulp nodig? Het jy vergifnis nodig? Jesus voel jammer
vir jou, Hy weet van jou behoefte, Hy wil en sal genade aan
jou betoon en jou aanraak met Sy hand van liefde. Ek bid dat
jy dít sal ervaar. |
|
Ons het so pas begin met ’n Bybelstudie
oor Filippense. Toe ek in my Bybel sien dat die skets by
Filippense ’n helder lig is, het ek besef dat dit iets met
die inhoud van die boek te doen moet hê. Nou ja, dit ís toe
ook so, want in Fil. 2:15 staan daar dat ons ligdraers moet
wees. Ons moet God se lig die wêreld indra, Sy goeie nuus
versprei. Die lig is natuurlik die nodigste waar dit die
donkerste is, daarom kan ons nie onsself isoleer en verwyder
uit die wêreld uit nie. As ons die sout vir die aarde is,
dan kan die sout nie in die soutpot bly nie, dan moet ons
dit waag daar waar die sout en die lig nodig is. “... al bly
julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is. Juis
tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker
wêreld skyn.” (Fil. 2:15) |
|
“Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd.
Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem.” (Openb.
19:11) Dit is natuurlik Jesus van wie hier gepraat word, dis
Jesus wie se naam die Getroue en die Betroubare is. Hoe
wonderlik is dit nie om só iemand as Vriend te hê nie.
Iemand wat altyd dieselfde is, wat altyd jou belange op die
hart dra, wat altyd Sy woord hou en Sy beloftes nakom. Hoe
wonderlik om só iemand te hê wat jou versorg. Iemand wat
altyd betyds is, standvastig en onveranderlik. Hoe wonderlik
om só iemand te hê wat jy kan vertrou vir alles. Iemand wat
jy altyd kan glo, altyd kan volg, altyd kan liefhê! Iemand
wat vir jou dié Ruiter op die wit perd is, vir ewig en ewig.
|
|
Paulus skryf in baie van sy briewe
hierdie seëngroet: “genade en vrede vir julle.” (bv. Fil.
1:2, Gal 1:3. Ef. 2, ens.) Dit is ook hierdie groet waarmee
ons gewoonlik in ’n kerkdiens gegroet word. As jy weer
daardie seëngroet hoor, besef dan dat wanneer jy genade en
vrede ontvang het, jy alles het wat jy nodig het. As jy die
Here se genade ontvang, ontvang jy ’n volledige porsie van
Sy goedheid. As jy Sy genade ontvang, maak Hy jou sy kind,
vergewe Hy jou sondes, verlos Hy jou uit die boosheid van
die wêreld en vul Hy jou met Sy Heilige Gees wat jou lei en
help. Wanneer Jesus jou in die regte verhouding met die
Vader bring is daar geen groter vrede wat jy kan beleef nie.
Genade en vrede vir jou vir vandag en vir die res van jou
lewe! |
|
My oog val op hierdie aanhaling
onderaan Maandag se dagboek bladsy: “When you respect your
own “NO!” then others will too.” Dis altyd vir my
interessant om te sien dat wêreldse aanhalings en sê-goed,
soos dié een, eintlik uit die Bybel “geleen” word. Die
Bybel sê mos: Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle
‘nee’, ‘nee’. (Matt. 5:37) Sê ja as jy wil en hou daarby.
Moenie teruggaan op jou woord nie, moenie beloftes verbreek
nie, dan sal almal weet dat jy betroubaar is en jy sal hulle
respek wen. Onthou: jy mag nee ook sê en vir baie dinge móét
jy nee sê. As jy nee gesê het, hou daarby en jy sal daarvoor
gerespekteer word en almal sal weet waar hulle met jou staan.
Laat jou woord altyd jou eer wees. |
|
Een of ander slim ou het gesê: “Life is
the art of drawing without an eraser.” Sjoe ek besef maar
net hoe belangrik dit is dat ons elke oomblik die regte
dinge moet doen, mooi dinge moet sê, goeie dinge moet dink,
regte keuses moet maak, want wat ons gedoen het, kan nie
weer ongedaan gemaak word nie, wat ons gesê het, kan nie
weer teruggetrek word nie. Maar Goddank! Daar is ook ’n
ander kant. God het in sy genade vir ons ’n uitveër voorsien.
Jesus se bloed vee ons verkeerde dade, woorde en gedagtes
uit; al hierdie verkeerde dinge word gekanselleer aan die
kruis, in die diepsee gegooi waar dit nie weer uitgevis kan
word nie. Die Here se uitveër is beskikbaar vir jou, niks is
te groot of sleg of swart vir hom nie. Hy sê: “Ek het jou
oortredinge, jou sonde, uitgewis.” (Jes. 44:22) Deur Jesus
kan ons skoon en nuwe mense wees wat elke dag weer ’n skoon
bladsy voor ons het om ons lewensprentjie op te teken.
|
|
In Gen. 3 lees ek dat Adam en Eva vir
God weggekruip het omdat hulle kaal, skaam en skuldig voor
God gevoel het. Hulle was skuldig en hulle oortreding het
gemaak dat hulle Sy teenwoordigheid probeer vermy het en dit
het ’n kloof tussen hulle en God veroorsaak. Ons sonde
beïnvloed ook ons verhouding met die Here, dit maak ’n muur
tussen ons en Hom (lees Jes. 59:1-2), dit vervreem ons van
Hom. God steek egter sy hand uit na ons om weer die
verhouding te herstel en Hy doen dit deur Jesus Christus. Hy
vergewe sonde, Hy maak ons verhouding met Hom weer heel en
nuut, Hy tel ons weer op en was ons skoon. Ons hoef nie weg
te kruip vir God nie, ons hoef nie skaam te wees oor ons
sonde nie. Kom soos jy is – die bloed van Jesus reinig, God
spreek jou vry en veroordeel jou nie meer. |
|
“Dit wat in hierdie boek geskryf is, is
met ’n spesifieke doel gedoen. Dit is geskryf sodat julle
geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die
Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En
hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan
leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.” Wow,
wat ’n ongelooflike opsomming gee Joh. 20:31 (volgens Die
Boodskap) van dít waaroor die Johannes evangelie gaan, sowel
as die hele Bybel. Die boodskap van die Bybel is eenvoudig
genoeg dat selfs kinders dit kan verstaan. Terselfdertyd is
dit so diep dat sommige teoloë daarin verdrink en die totale
prentjie mis. Ek aanvaar die inhoud volledig en glo dit met
my hele hart en beaam: “Hoe aangenaam is U Woord, soeter as
heuning die mond.” (Ps. 119:103) |
|
Ek lees nou die dag dié teen ’n
koffiewinkel se muur: Faith is when you close your eyes and
open your heart. Ek het dit dadelik neergeskryf want dit het
my herinner dat geloof in Jesus vra dat ek my vertroue in
Hom sal stel sonder dat ek Hom kan sien, dat ek sal glo dat
Hy vir my sonde aan die kruis gesterf het, al was ek nie
daar nie en al het ek nie my vinger in die merke van die
spykers gesteek nie, dat ek sal glo dat ek die ewige lewe
het al kan ek nou nog niks daarvan sien nie. Geloof vra toe
oë maar ’n oop hart. Geloof vra ’n oop hart wat vir Jesus
innooi, wat plek maak vir die Heilige Gees om ’n tempel op
te sit. Geloof vra ’n oop hart wat medemense kan inlaat en
bedien. Maak oop, al kan jy nie sien nie! |
|
’n Vriendin gebruik nou die dag dié
uitdrukking: “"Life is
what happens
while you
are busy making
other plans."
Hoe baie gebeur dit nie dat onvoorsiene omstandighede jou
beplanning in die wiele ry en jou afspraakboek deurmekaar
krap nie. Die Bybel praat ook daarvan: “’n Mens kan sy
voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die
Here af.” (Spreuke 16:1) Ek dink nie dit beteken dat ons nie
vooruit mag en moet beplan nie, ek dink net ons moet onthou
dat ons planne nie noodwendig sal uitwerk soos wat ons
gedink het nie en dan moet ons nie omgekrap of opstandig of
ontevrede daaroor wees nie. As dinge nie uitwerk soos wat
ons dit wou hê nie, moet ons daarin berus dat die Here ’n
plan daarmee het, moet ons erken dat Hy wel in beheer is.
Kom ons onthou om in ons beplanning sê: “As ons môre nog
leef, sal ons dit of dat doen. Maar dit hang eintlik alles
maar van die Here af.” (Jak 4:15, Die Boodskap) |
|
In Mark 4:39 lees ons hoedat Jesus die
storm aanspreek en dan gaan die wind lê en alles word stil.
Die Amplified Bible sê: “...and there was a great calm (a
perfect peacefulness).” Ons kan dikwels nie die storms om
ons hanteer nie, omdat daar storms binne-in ons woed, omdat
ware vrede afwesig is in ons harte en gedagtes. Hoe kan ek
daardie vrede kry? Miskien deur meer tevrede te wees met wie
ek is en wat ek het. Miskien deur meer op die Here te
vertrou, my twyfel en vrees te vervang met geloof in God wat
alles weet en alles kan doen en alles ten goede sal laat
uitwerk. Mag Jesus vandag jou storms laat bedaar en mag jy
vandag vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan. |
|
“Be kinder than necessary because
everyone you meet is fighting some kind of battle.” Ek het
nou die dag dié aanhaling in ’n winkel gelees en sommer daar
en dan besluit dat ek dit gaan toepas teenoor diegene met
wie ek in aanraking kom. Ek gaan probeer verstaan hoekom
mense optree soos hulle doen, ek gaan my in hulle situasie
probeer indink en poog om hulle kant van die storie in te
sien. Die Here wil hê dat ons medelye moet hê en met sagte
oë en harte vol deernis na mense sal kyk, Hy wil hê dat
geduld, vriendelikheid en goedhartigheid in ons lewens sal
seëvier. Ek bid dat die Here my daarmee sal help. |
|
“Kinders is ’n wonderlike geskenk van
die Here, hulle kom direk uit die Here se hand. Kinders in
’n huis maak dit vol vreugde, dit maak ouerharte vol
blydskap! Hoe gelukkig is elke pa en ma en wie se huis die
vrolikheid van kinderstemme ken!” (Ps. 127:3-5, Die Boodskap)
Hierdie teks het sommer weer my hart geroer en warm gemaak
van dankbaarheid teenoor die Here vir die voorreg wat ek het
om die vrolikheid van kinderstemme in my huis te ken. Al is
hulle nou groot, hou ek steeds aan om vir hulle te bid en
hoop ek steeds om ’n goeie ma en vriendin te wees wat vir
hulle ’n voorbeeld kan stel van toewyding en deugsaamheid.
|
|
“Moenie jou tyd mors nie. Maak die
beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry.” (Ef. 5:16)
Toe ek hierdie teks vanoggend lees, het ek gewonder waarmee
ek dalk vandag my tyd sou mors. Dalk met onnodige getob oor
dinge? Dalk met te veel kletspraatjies of skinder? Dalk met
te veel rondsit. Dalk met te veel facebook? Ek het verder
gewonder hoe ek die tyd tot my beskikking die beste kan
benut. Dalk moet ek bietjie beter beplan, dalk moet ek
eerder prioriteit gee aan dit wat werklik belangrik is en
nie net dit wat dringend is nie. Ek dink ook dit sal ’n
goeie idee wees om tyd te maak om iets vir iemand anders te
doen, om bietjie by iemand stil te staan en werklik belang
te stel in sy wel en weë, te luister na wat hy te sê het.
Dit sal beslis ook ’n goeie idee wees om iets lekkers te
doen en die lewe te geniet. Ek wil die beste gebruik maak
van vandag. |
|
“... I’ll give you a long life, give
you a long drink of salvation.” (Ps. 91:15, the Message) Die
Bybel sê dat elkeen wat die Naam van die Here aanroep gered
sal word, niemand sal teleurgestel word nie, want die Here
seën almal wat Hom aanroep (lees Rom 10:10-13) As jy jou
lewe vir die Here gee en jou hart vir Hom oopmaak, sal Hy
inkom en saam met jou ’n feesmaal hou (lees Openb. 3:20),
sal Hy jou ontvang soos ’n eregas, vir jou ’n feestafel dek
en jou oorlaai met sy goedheid, liefde en hartlikheid. (Lees
Ps. 23:5) As jy jou geloof en vertroue in Hom plaas, sal Hy
vir jou die ewige lewe gee en jou lewensbeker tot oorlopens
toe volmaak. As jy vir Hom kies, sal jy vir altyd drink uit
die fontein van Sy redding ... a long drink of salvation. |
|
“Word wakker, jy wat slaap en staan op
uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.” ( Ef. 5:14)
Die koms van Jesus het die duisternis, die donker van die
sonde kom verdryf. Aan die kruis het Hy die prys vir alle
sonde betaal, ook myne en joune, ook dié wat ons nog vandag
en môre gaan doen. Jesus het as Lig na die wêreld toe gekom
om aan te kondig dat dit dag geword het vir ons. Dit is tyd
om wakker te word en Hom te sien en te erken dat Hy God en
Verlosser is. Ons kan opstaan, die Lig verwelkom en die
lewe wat voor ons lê met oorgawe geniet. |
|
“... mense wie se denke en dade in die
greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken die ware lewe
en vrede.” (Rom 8:6, Die Boodskap) Ek wil vandag die Heilige
Gees toelaat om my dade en gedagtes oor te neem, sodat ek
meer positief kan wees, vriendeliker kan wees, groter
wysheid kan hê, meer liefde en genade kan betoon, geduldiger
en rustiger kan wees, meer tevrede kan wees. Ek wil dinge
dink en doen wat vir God saak maak, wat vir Hom goed en reg
is. Ek vra die Here om my gees en gedagtes nuut te maak
sodat ek ’n sinvolle lewe kan lei en vrede kan hê. |
|
Ek hoor nou die dag in ’n film dat ’n
onderwyser aan sy klas sê dat hy hulle aan Dickens wil
voorstel. Die kinders vra: maar waar is Dickens? As antwoord
wys die onderwyser toe na ’n boek wat Dickens geskryf het.
Dis mos wat ons ook kan doen om mense aan die Here voor te
stel. Ons kan hulle verwys na dié boek wat Hy geskryf het en
wat oor Hom gaan. Dié verhaal van Sy liefde en Sy genade wat
ons wil red en aan ons ’n nuwe, ewige lewe wil skenk. Dié
woorde van wysheid wat ons wil leer hoe om te lewe. Dié boek
wat ons wil bemoedig en hoop gee in elke situasie. “Alles
wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te
leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan.” (Rom
15:4, Die Boodskap) Soek na geleenthede om mense voor te
stel aan die Skrywer van die Groot Boek. |
|
Ek sien vandag ’n
groot bord langs die pad met ’n sjokolade advertensie. Dit
sê: free the joy. Hulle reken seker dat as jy daai omhulsel
van die sjokolade oopskeur gaan daar vreugde uitkom, as jy
dit proe gaan dit sorg vir ’n glimlag. Ai, ek is só lief vir
sjokolade en so ou blokkie sál joy bring. Dit het my laat
dink dat ons as Christene binne-in ons verpakking ook mos
sulke blydskap en vreugde het, vreugde wat vrygelaat kan (en
moet) word. Ons kan gerus meer glimlag, meer oorborrel van
vreugde, meer uitbundig lag, meer pret veroorsaak waar ons
kom. Ons hét vreugde binne-in ons wat die Here vir ons gee.
“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is ... vreugde” (Gal
5:22) Ek het bietjie ge-google en sien toe dat die einste
sjokolade mense ook “unwrap joy” en “share the joy” al as
slagspreuke gebruik het. Nou ja, dis vandag my boodskap aan
myself: unwrap, free en share dié joy wat van die Here af
kom. |
|
“Met blydskap sal julle water skep uit
die fonteine van redding.” (Jes. 12:3) Die redding wat Jesus
uit sy genade aan elkeen van ons skenk is soos ’n fontein
wat nooit ooit sal opdroog nie. Sy genade hou aan opborrel
en ons kan elke dag ’n vars emmer daarvan skep. Die water
uit dié fontein van redding kan jou vuil verlede wegwas en
jou silwerskoon maak, dit kan jou genees, verfris, vernuwe
en opkikker. Kom drink vandag weer by die fontein van
redding, skep die lewende water wat Jesus vir jou aanbied,
proe ware blydskap en word vervul met diep dankbaarheid en
vrede. |
|
Ons probeer baie keer om ’n hofsaak met
die Here te voer. Dan sit ons Hom in die beskuldigde bank en
stook Hom met vrae soos: Hoekom? Wanneer? Hoe? Hoe lank?
Verduidelik dit en verduidelik dat ... ens. Ek dink dis heel
menslik om dit te doen, maar ek besef ook ons is dan soos ’n
byl wat die een wat hom vashou om te kap wil voorsê, of soos
’n saag wat dink hy weet meer as die een wat met hom saag,
of soos ’n lat wat die een wil rondswaai wat hom wil gebruik,
of soos ’n kierie wat dink hy kan op sy eie opstaan en loop,
of soos ’n stuk klei wat vir die pottebakker wil verwyt oor
wat hy gemaak het. (kyk Jes. 10:15, 29:16) Rom 9:20 sê:
“Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil
redeneer?” Al wil ons, kan ons nie met Hom redeneer of vir
Hom voorskryf nie. Al dink ons ons het alle rede en reg, God
weet altyd beter, God is altyd in beheer, God weet wat Hy
doen, God sien die groter prentjie waarvan ons niks weet nie.
As jy dít kan erken en daarby kan berus, sal daar ’n groter
vrede oor jou kom, sal daar ’n dieper tevredenheid in jou
hart kom lê, sal jy jou saak teen Hom laat vaar en sê: “U is
my lewe. Ek wil niks anders as U hê nie.” (Ps. 73:25, Die
Boodskap) |
|
Ek het
steeds bly dink oor die woord Hallelujah. Ek het gelees dat
dit blykbaar ’n samestelling is van twee Hebreeuse woorde:
Hallel en Jah. Jah is die verkorting van Jehovah, dié Naam
van God wat sê dat Hy die groot, ewige, almagtige God is.
Hallel beteken om te prys, om eer te betoon, om te juig, om
lof te bring, om iemand groot te maak, om ’n ophef van
iemand te maak, om ’n huldeblyk aan iemand te bring.
Hallelujah beteken dus letterlik vertaal: “prys die Here”.
Dit beteken: bring eer aan die ewige God, verhoog die Naam
van die Almagtige, juig oor Sy grootheid, loof Hom vir wie
Hy is, bring hulde aan Hom as God. Ons het rede om sê: “ ...
nothing on my tongue but Hallelujah!” “...
maar óns, ons prys die Here, nou en vir altyd! Prys die
Here!” (Ps. 115:18) |
|
“And even
though it all went wrong, I’ll stand before the Lord of
song, with nothing on my tongue but Hallelujah.” So gaan die
woorde van daardie bekende Hallelujah-liedjie van Leonard
Cohen. Ek wil myself ook voorneem om ten spyte van
omstandighede, al gaan alles verkeerd, al lyk dinge donker,
steeds die Here te prys, Sy Naam groot te maak, net
Hallelujah op my lippe te hê. Deur my lofprysing bely ek dat
Hy almagtig, ewig en in beheer is. Deur my lofprysing gee
ek erkenning dat Hy bewus is van my omstandighede, dat Hy
steeds langs my staan, dat Hy my deurdra, dat Hy my regop
hou. Deur my lofprysing verkondig ek dat Hy sal voorsien,
dat Hy sal uitkoms gee, dat Hy alles ten goede sal laat
meewerk. So het Paulus en Silas in die tronk, al was hulle
amper doodgeslaan, Hallelujah op hulle lippe gehad en die
tronkdeure het oopgegaan (lees Hand 4:25-26). So het Habakuk
bly jubel, al was tye onseker en al het uitkoms onmoontlik
gelyk en die Here het vir hom krag gegee (lees Hab.
3:17-19). So het Jona, terwyl hy in die diep, donker golwe
was ’n loflied gesing en bely dat hulp net van die Here af
kom en die Here het tot sy redding gekom (lees Jona 2:7-10).
“Prys
die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is
daar geen einde nie!” (Ps. 106:1) |
|
Ek hou baie daarvan om Sudoku’s te
doen en ek verkies dat hulle lekker moeilik moet wees! Baie
keer dan dink ek om ’n Sudoku op te los is soos om deur die
lewe te gaan. Jy krap kop, dink dié kant toe en dáárdie kant
toe, oorweeg al die moontlikhede en heel dikwels, net
voordat jy moed opgee en dink dinge gaan nie uitwerk nie,
kom één dingetjie reg en al die res val in plek en skielik
werk alles uit. Ander kere maak mens miskien ’n ou foutjie
en is jy gereed om handdoek in te gooi, ’n streep deur alles
te trek; as jy egter so ’n paar stappe agteruitgaan en hier
en daar ietsie uitvee en oordoen, behaal jy tog uiteindelik
sukses.... selfs al moet mens by geleentheid álles uitvee en
oor begin. Dit gebeur soms dat mens regtig vas is en geen
oplossing meer sien nie en dan loer jy agterin die boekie by
die antwoorde om ’n wenk te kry – in Sudoku is dit ’n skande,
maar in die lewe is dit wysheid om raad en hulp in te win
wanneer jy voel jy is teen ’n muur en jy weet nie meer
watter kant toe nie. Moenie moed opgee met die lewe nie, die
lig sál weer deurbreek, al lyk dinge hoe donker. |
|
“Jy sal ’n stem hoor sê: Hier is die regte pad. Draai
om en loop hierlangs.” (Jes. 30:21) Vir baie Christene is dit een van die
belangrikste, maar moeilikste dinge om die Here se stem te hoor. Ons wil
hoor wat Hy sê wanneer ons keuses moet maak, wanneer ons by doodloopstrate
kom, wanneer ons bemoediging of aanmoediging nodig het; ons wil hoor wat Hy
van ons verwag in lewenssituasies, wat Sy opdragte en roeping vir ons is.
Die Here praat met ons deur die Woord, deur prediking, deur mede-Christene,
maar in die meeste gevalle praat die Here maar net stilweg met ons deur die
stem van ons gewete – daardie sagte, klein stemmetjie in ons binnekant wat
vir ons die besef gee van wat reg en verkeerd is. God se Gees woon in ons en
sê vir ons gees wat die Here wil hê dat ons moet doen. Sodoende word ons
verstand verlig en ons hart gewillig om Sy stem te hoor en te volg en te
gehoorsaam. Word stil en luister na die stem van jou Herder wat jou roep.
Volg Hom en vind vrede in jou gemoed. |
|
Een van die maniere waarop ons die Here se stem kan
hoor en Sy wil vir ons lewens kan onderskei, is deur Sy geskrewe Woord, die
Bybel. Die meeste van ons het sommer ’n paar Bybels is die huis -
verskillende tipes en verskillende vertalings. Jak 1:25 sê as ons ons
verdiep in Sy Woord, daarna luister en doen wat dit sê, kan ons seën verwag
op dit wat ons doen. Om jou te verdiep in die Woord beteken dat jy tyd moet
spandeer daarmee, dit moet lees, oordink, bestudeer, memoriseer en in jou
hart bêre. Dit beteken dat jy jou daarin moet verlustig, vreugde daarin moet
vind en moet verlang en uitsien om daarmee besig te wees. Om jou te verdiep
in die Woord beteken dat jy die inhoud onvoorwaardelik moet glo en jou lewe
daarop moet bou. “Elkeen wat na My woorde luister en daarvolgens handel, is
soos ’n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is.” (Matt.
7:24) |
|
Ons het so pas aan die einde gekom van ’n wonderlike,
inspirerende, treetjie-vir-treetjie Bybelstudie-reis deur Romeine. Wat vir
my uitstaan in Romeine is dat die Evangelie so duidelik maar tog ook so
eenvoudig uitgelê word. Sonde word reguit aangespreek, maar met die goeie
nuus dat die wonderlike genade en vergifnis van die Here veel groter as my
stapel sonde is. Jesus het alle mure kom afbreek tussen Jood en nie-Jood en
ek, as wilde olyf, het die voorreg om op die mak olyf geënt te wees en deel
te hê aan sy lewensap, omdat ek glo. Die sekerheid is daar dat niemand wat
in Jesus glo, teleurgestel sal word nie en dat elkeen wat Sy Naam aanroep
gered sal word. Romeine gee praktiese riglyne vir die alledaagse lewe,
moedig ons aan tot eensgesindheid, nederigheid en Geesvervulde diensbaarheid.
Boonop is daar ’n hele sak padkos om ons aan die gang te hou op die reis na
die ewige lewe, bv.: God is vír my; niks kan my skei van Sy liefde nie;
Jesus pleit op hierdie oomblik vir my by God; ek is meer as oorwinnaar; Hy
sal alles ten goede laat meewerk vir my; God se oordeel is verby; niemand
kan my aankla nie; ek is vry en vergewe. Ek kan nou elke dag hoopvol aanpak
en lewe met die vooruitsig van ’n ewige toekoms saam met Jesus! |
|
Ek lees in Matt. 28:16 die volgende: “Die elf dissipels
het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te
gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het.”
Ek is eintlik heel verbaas om te lees dat selfs van Jesus se getroue
volgelinge, die elf dissipels, op ’n punt gekom het waar hulle getwyfel
het. Het hulle dalk getwyfel of dit werklik Jesus, die Messias was? Het
hulle dalk getwyfel of Hy húlle werklik uitgekies het? Het hulle dalk
getwyfel dat Hy waarlik God is? Het hulle dalk getwyfel dat Sy kruisdood ook
vir húlle vryspraak en vergifnis bewerk het? Het hulle dalk getwyfel dat
daar vir hulle ’n ewige toekoms wag? As hulle, wat saam met Jesus geleef het
en al die wonderwerke, genesings en lering van Jesus eerstehands beleef het,
kon twyfel, dan is dit seker nie so ongewoon dat ek en jy ook soms twyfel
nie. Ek leer hieruit dat twyfel normaal is, maar dat ons nie by die twyfel
moet bly stilstaan nie; werk daardeur, bid daardeur en weet dat twyfel
dikwels ’n groeipunt in jou lewe kan wees, dat ’n dieper en vaster geloof
die uiteinde kan wees. Ek leer hieruit dat ons ten spyte van ons twyfel kan
en moet voortgaan om die Here te loof en te aanbid. Jesus sê: “Gelukkig is
dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh. 20:29) |
|
Wat geloofsake aanbetref kan ons nie op ons gevoelens
staatmaak nie. Ons emosies is altyd aan die verander, dit word bepaal deur
omstandighede, deur hoe ander ons behandel, deur hoe ons alledaagse lewe
verloop, deur wat ons verwagtinge van onsself en van die Here is. Ons moet
egter by ’n punt kom waar ons nie gevoelens en emosies vertrou nie, maar ons
geloof bou op waarheid en wysheid wat die Heilige Gees gee en wat ons vind
in God se Woord. “Daar kom egter ’n tyd en dit het reeds aangebreek, wanneer
die egte aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid, want die Vader
verkies dat die mense Hom só aanbid.” (Joh. 4:23) |
|
Leonard Cohen sing in sy liedjie “Suzanne” : “ ... and
He spent a long time watching from His lonely wooden tower, and He new for
certain only drowning men could see Him.” Dis nie ’n geestelike liedjie nie,
maar hy sing beslis hier van Jesus. Die eensame houttoring verwys na die
kruis, waar Jesus, van God verlate, gestry en gely en gesterf het vir die
“drowning men” van hierdie wêreld. Dié drenkelinge wat weet dat hulle nie
hulleself kan red nie, dat hulle ’n Verlosser nodig het. Jesus sê dat Hy
gekom het om dié te soek en te red wat verlore is (Luk. 19:10) Hy het nie
gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars. (Mark
2:17) Hy het gekom vir die “men and women of doubtful reputation,” vir die
moordenaars, die verloënaars, die swakkes, die verwerptes, die blindes,
lammes, dié wat weet hoe afhanklik hulle van Hom is ... only drowning men
could see Him. |
|
“Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle
beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in gebed nie.” (Rom
12:12, NLV) As kind van God is ek en jy verseker van ’n ewige, hemelse
toekoms. Ons lewenspad daarheen is nie noodwendig glad en sonder voorvalle
of nood of trauma nie. Ons moet egter volhard in ons geloof en die oog op
die Here hou en vasgeanker wees in ons verhouding met Hom. Wanneer jy hulp
en raad nodig het vir hierdie pad, bid en vra vir wysheid en uitkoms en weet
dat alles volgens God se plan en wil, sal uitwerk. Wat Hy vir ons toekoms
beplan is meer en groter en heerliker as enige iets waaraan ons kan dink of
waarvan ons kan droom. Volhard – ’n wonderlike toekoms is aan die kom! |
|
“My mond gaan suiwer wysheid praat; wat ek gaan sê, sal
van insig getuig, want ek hoor ’n woord wat my wysheid gee en terwyl ek op
die lier speel, wil ek ’n geheimenis verklaar.” (Ps. 49:4-5) Toe ek hierdie
lees het ek gewonder oor die verband tussen musiek wat tot eer van die Here
gespeel word en die openbaring van Sy geheimenisse; die verband tussen
musiek en om die stem van die Here te hoor en wysheid en insig te ontvang.
Is dit met jou ook so dat wanneer jy ’n aanbiddingslied sing / luister / op
’n instrument speel, dat jou gedagtes soveel op die Here fokus dat jy só
naby aan Hom voel, dat jy intens bewus raak van wie Hy is en wat Hy wil hê
dat jy vir Hom moet doen? Is dit met jou ook so dat dit voel of jou hart en
jou gedagtes “vrykom” wanneer jy besig is met geestelike musiek? Is dit met
jou ook so dat geestelike musiek jou ligter laat voel en jou help om jou
probleme in ’n ander lig te sien? Dit het vir Dawid gewerk, dit kan vir ons
ook werk: “I solve life’s riddle with the help of a harp.” (Ps. 49:4, The
Message) |
|
Ek lees in Eksodus 5 die gedeelte waar Moses en Aaron
toestemming by die Farao vra dat die Israeliete ’n fees tot eer van die Here
kan gaan vier. Sy skokkende antwoord is dat hulle dit nie mag doen nie,
omdat dit hulle van hulle slawe-werk sal weghou. Om te verseker dat hulle
beslis nie tyd en energie sal hê vir ’n fees en offers aan God nie, word
hulle werklas aansienlik verhoog. Hulle moet nou sommer self die strooi gaan
bymekaarmaak om die bakstene te maak en boonop moet hulle nog steeds
dieselfde hoeveelheid bakstene per dag produseer. Wanneer hulle nie die
teikens haal nie, word hulle geslaan en as lui uitgeskel. Ai, ek moet sê,
dit klink vir my so bekend. Is dit nie wat met baie van ons ook gebeur nie?
Die baas word ’n slawedrywer wat al hoe meer produksie verwag, wat al hoe
meer verantwoordelikhede op die skouers van die werkers laai, met al hoe
minder hulp tot hulle beskikking en selfs al hoe minder beloning. “Die werk
moet vir die manne so swaar wees en hulle so besig hou ...” (Eks 5:9) Ons
werksdruk word al hoe groter en dit ten koste van ons gesondheid, ons
gesinne en veral ten koste van ons verhouding met die Here. Dit is nie ’n
nuwe probleem nie, maar ek dink ons moet nuwe prioriteite bepaal, nuwe perke
stel, nuwe onderskeidingsvermoë aan die dag lê, sodat die Here steeds eerste
plek in ons lewens sal hê, sodat ons tyd opsy kan sit vir spesiale tye saam
met Hom. Sterkte vir jou werkweek en die besluite wat jy moet neem! |
|
Vandag is ek net so onder die indruk van alles wat die
Here vir my is en beteken en doen. Ek besef dat alles ’n gawe uit Sy hand
is. Ek erken dat niks wat ek is en het en kan doen uit my eie krag is nie.
Ek wil nie soos die 9 melaatse ouens wees wat dít wat die Here vir my doen
sommer as vanselfsprekend aanneem nie, ek wil omdraai, terug loop en sê:
dankie Here! “Een van die mans was so bly daaroor dat hy dadelik omgedraai
het. Hy het hardop begin bid en God se Naam grootgemaak. Die man het tot by
Jesus gehardloop, voor Hom in die stof neergeval en vir Hom dankie gesê.” (Luk.
17:15-16, Die Boodskap) Ek wil vandag ’n dankbaarheid-klip neersit en sê:
Eben-Haeser, tot so vêr het die Here my gehelp, dankie Here! |
|
As jy dalk op ’n punt in jou lewe is waar jy nie weet
wat om verder te doen, wat die volgende stap moet wees, hoe jy moet optree
of wat jy moet besluit nie, vra God in ’n eenvoudige gebed om vir jou
wysheid te gee. Hy sál dit gee. Maak Hom deel van elke stukkie van jou lewe,
praat met Hom oor keuses wat jy moet maak. Of jy moet besluit oor ’n paar
skoene wat jy moet koop, oor wat jy vir aandete moet maak of oor hoe jy ’n
sake transaksie moet benader of ’n vergadering moet toespreek, vra Hóm vir
wysheid en insig. Ook as jy wysheid kort om geestelike sake te verstaan en
uit te pluis, vra Hom en Hy sal jou die wysheid gee om dit uit te lê. Hy het
al die wysheid en wil hê dat jy Hom in elke situasie, hoe eenvoudig ook al,
sal raadpleeg. “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en
Hy sal dit aan hom gee.” (Jak 1:5) Mag jy die wysheid ontvang wat jy vandag
nodig het. |
|
Toe ek 1 Kor. 6:12-20 lees, het ek
maar net weer besef dat Christenskap nie dieselfde is as godsdienstigheid
nie. Vir my gaan Christenskap nie oor speletjies, goetertjies en praatjies
nie, nie oor wonderwerke en groot dinge wat gebeur nie, dit gaan nie oor
wette en nimmereindigende reëls nie. Christenskap gaan oor ’n verhouding met
Jesus, ’n eenvoudige, opregte liefdesverhouding met Hom. Dit gaan oor ’n
totale oorgawe aan Hom. My verhouding met Jesus het begin toe Hy my gekoop
en met Sy lewe betaal het en my silwerskoon gewas het. Die verhouding
bestaan daarin dat ek nou aan Hom behoort en my liggaam as blyplek vir die
Heilige Gees beskikbaar stel en dat ek Hóm al die reg in my lewe gee. Die
verhouding groei en verdiep deurdat ek die Woord bestudeer, deurdat ek
gehoorsaam is, deurdat ek tyd met die Here en saam met ander gelowiges
spandeer. “Ons verhouding is nie soos die een tussen ’n werker en sy baas
nie. Die werker ken mos normaalweg nie die baas persoonlik so goed dat hy
alles weet wat die baas dink of beplan nie. Nee, ons verhouding is baie
anders. Ons is soos vriende onder mekaar.” (Joh. 15:15, Die Boodskap) |
|
Met Vadersdag laas Sondag het ek nogal daaraan gedink
dat daar baie pa’s is wat te kort skiet as dit kom by versorging van hulle
kinders, om hulle veiligheid te verseker, om dáár te wees vir hulle, om
hulle onvoorwaardelik lief te hê, ens. ens. Dan is daar ook nog ’n klomp van
ons wat nie meer ’n pa het wat hierdie dinge vir jou kan doen nie. Toe lees
ek Ps 91:14-16 in die Message oor die volmaakte Pa, dié een wat altyd daar
is, wat nooit teleurstel nie, wat sy beloftes sal waarmaak, wat álles vir my
en jou kan wees. Hou vas aan Hom, ken Hom, vertrou op Hom, vier fees saam
met Hóm. Hier is Sy onfeilbare belofte: “If you'll hold on to Me for dear
life," says God, "I'll get you out of any trouble. I'll give you the best of
care if you'll only get to know and trust me. Call me and I'll answer, be at
your side in bad times; I'll rescue you, then throw you a party. I'll give
you a long life, give you a long drink of salvation!" |
|
Op hierdie jeugdag dra ek die jongelinge in my huis op
aan die Here en bid vir Sy seën oor hulle en hulle toekoms en hulle nageslag.
Ek bid dat hulle altyd aan die Here sal behoort en aan Hom toegewy sal lewe
en Sy pad sal stap. Ek bid dat hulle Sy Gees en Sy krag sal hê, dat hulle
wortels in Sy liefde sal bly. Vir hulle en vir al die jongmense om ons bid
ek dié seën uit Jes. 44:3-5 : “Ek sal My Gees uitgiet op jou kinders, my
seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos
wilgerbome langs waterlope. Die een sê: Ek behoort aan die Here ..., die
ander sal op sy hand skryf: die Here s’n.” |
|
As jy dalk bietjie swak en uitgeput voel, of voel jy
kom nie bokant jou probleme uit nie, of die pad voor jou vernou ’n bietjie;
as mense na jou kyk en daai “loser”- teken vir jou wys, of as jy self voel
jy gaan nooit ’n wenner word nie, is hier vir jou bietjie medisyne uit die
Woord om jou beter te laat voel, jou op te bou en jou gestel sterker te maak.
Vat dit en glo dit: “Maar vir my gee U krag soos dié van ’n buffel, U laat
my ’n oorwinningsfees vier.” (Ps. 92:11) |
|
“A righteous person lives on the
basis of his integrity.” (Spreuke 20:7) Integriteit vra bestendigheid,
onkreukbare eerlikheid en opregtheid. Dit spreek van sterk morele beginsels,
getrouheid en deugsaamheid. Dit eis dat jy altyd volgens dieselfde stel
waardes sal optree en oordeel. As Christen behoort ek te lewe op grond van my
integriteit. As Christen moet ek volgens hoër standaarde as die res van die
wêreld leef. Ek moet bereid wees om die ekstra myl te loop, die ander wang
te draai, ander hoër te ag as myself, altyd die waarheid praat, al kos dit
wat. Ek moet altyd die regte dinge kies en doen, al kyk niemand nie. Jesus
het vir ons die standaard vir integriteit gestel en ons moet dit navolg
sodat ons weer vir die wêreld kan demonstreer hoe Jesus is. Ek moet myself
maar weer in elke situasie afvra: wat sou Jesus doen? |
|
“Ek is veral ook daarvan oortuig
dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit
sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil. 1:6) Die Here
weet waarvoor Hy elkeen van ons gemaak het en wat Hy vir ons beplan het. Hy
ken die potensiaal wat daar in ons is, daarom is Hy elke dag besig om ons te
vorm soos ’n pottebakker klei vorm om die beste en mooiste in ons na vore te
bring. Daarom is Hy elke dag weer bereid om ons sonde te vergewe en Sy
genade oor ons uit te giet. Daarom gee Hy elke dag weer vir ons Sy Gees om
ons te lei en te leer en te help. God kyk nie na jou net soos jy nou is nie,
maar sien jou soos wat jy kan word. Hy het die goeie werk in ons begin en
sal dit klaarmaak. Ek sien vandag uit daarna om meer te word soos God my wil
hê. |
|
Ef. 6:14-15 noem vryspraak as die borsharnas van ons
geestelike wapenrusting wat ons elke dag moet aantrek. Die wete dat God my
vergewe het en Jesus die prys vir my oortredings betaal het, moet elke dag
my hart en my wese en my lewe beskerm soos ’n borsharnas dit sou doen. Die
sekerheid dat die Here my goedkeur en tevrede is met my, moet soos ’n
kledingstuk die heeldag aan my bly sit. Wanneer ek my borsharnas aantrek,
gee die vreugde om ’n vriend van God te wees vir my selfvertroue en ’n
positiewe gesindheid vir my dag. |
|
“Verder my liewe broers en susters, wees bly oor alles
wat die Here vir julle beteken.” (Fil. 3:1, NLV) Vandag wil ek bly wees oor
wie die Here is en oor dít wat Hy vir my beteken. Ek het toe sommer so langs
die alfabet afgedink: Hy is Alomteenwoordig, altyd by my; Betroubaar, ek kan
Hom vertrou en glo; Christus, die gestuurde en gesalfde, enigste Seun van
God; Dierbare vriend, sy hand is altyd uitgestrek om my te help; Ewige
Vader; Fenomenaal, daar is niemand soos Hy nie; Goed en vol Genade vir my;
Hy gee my Hoop al gebeur wat ook al om my; Immanuel, God by my; Jahweh Jireh,
God wat in alles voorsien; Koning van my hart en lewe; Liefdevolle versorger;
Middelaar; Naby; Onverganklik, gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid;
Perfek, daar is niemand so volmaak soos Hy nie; Regverdige; Skild wat my
beskerm teen aanslae en toemaak teen pyle wat teen my afgevuur word; Toevlug
en Trooster; Uniek, daar is niemand soos Hy; Verlosser wat my vrymaak van
sonde, swakheid en verlede; Weg en Waarheid. Ek hoop jy kan vandag saam met
my bly wees ... |
|
Wanneer jy bang, onseker, magteloos of alleen voel, kan
jy met vrymoedigheid op die Rots, Jesus Christus kom staan. Daar kan jy vas
en stewig staan, daar kan jy veilig voel en sekerheid en kalmte ervaar, al
skud die wêreld om jou, al rol probleme en gevare na jou toe aan soos golwe.
Ps 27:5 sê: Op die dag van gevaar sal die Here my hoog op ’n rots laat staan.
Die staanplek by Hom is hoog en verwyder van die druk om jou, daarom is dit
die ideale plek om weer perspektief en wysheid te kry. “Die Here het verder
gesê: “Maar hier by My is ’n plek waar jy op die rots kan staan.” (Eks
33:21) |
|
“In
die kraal sal hy sy skape bymekaarmaak. Hy sal hulle op hulle name roep en
hulle sal kom. Dan sal hy hulle uit die kraal lei. Hy sal voor hulle uitstap
weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem ... Ek is vir
Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek bedoel is dit: die herder is
bereid om alles te gee ter wille van sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewer
self doodgaan as dat hy sal toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh.
10:3,4,11, Die Boodskap) Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie! |
|
Ons was die naweek op ’n skaapplaas in die Vrystaat
waar hulle met so 1000 skape boer. Dit was vir my interessant hoedat elke
skaap ’n anderste blêr het. Sommige mêêê so uitgerek, ander se mê het so ’n
vibrasie in, ander mê op ’n hoë noot, so hier en daar mê een bietjie vals
ook. Die kleintjies hou so aan met mê-mê-mê soos ’n regte baba. Dan is daar
dié wat baah blêr – so diep, kortaf baah, of so ’n manlike ba, ’n ba met
gesag, ’n ba wat sê moenie met my moeilikheid soek nie. Die klomp skape het
my laat dink daaraan dat die Here dikwels na ons as sy skape verwys waarvan
Hy die Herder is. As die hele klomp skape so saam begin blêr is dit nogals
’n temerige, treurige gesanik. Ek dink dis hoe ons partykeer vir die Here
moet klink wanneer ons so aanhoudend mor en kla en neul, elkeen op sy eie
trant. Dis seker hoekom die Bybel sê dat ons eensgesind uit een mond lof aan
God moet bring (Rom 15:6). Lof is altyd ’n mooi, eenvormige klank; dit sal
’n aanvaarbare offer voor God wees en lieflik op Sy oor val. Kom ons loof
meer en mor bietjie minder. “... take joy my King in what You hear, let it
be a sweet, sweet sound in your ear.” |
|
“Our shattered dreams are never random. They are always
a piece in a larger puzzle, a chapter in a larger story,” so sê Larry Crabb
in die boek Shattered Dreams. Ons beleef gewoonlik die pyn en hartseer van
dinge wat nie uitwerk in ons lewens as ’n tragedie. Dis egter nie nét ’n
tragedie nie, want vir ’n Christen bring dit altyd ’n groei-pad, ’n nader
beweeg aan die Here, ’n dieper kennis van Sy liefde en versorging, ’n
wonderlike ontdekking van die groter prentjie, ’n groter vreugde wanneer
ons beleef dat Hy waarlik alles ten goede laat meewerk. “Ons kan nou van
een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewe gebeur om Sy doel
te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit.” (Rom
8:28, Die Boodskap) |
|
“In the midst of the sorrows is consolation, in the
midst of the darkness is light, in the midst of the despair is hope ...”
(Henry Nouwen) Die uitdrukking wat sê dat elke donker wolk ’n silwer
randjie het, hou beslis waarheid in. Te midde van wanhoop, troosteloosheid,
twyfel en desperaatheid is daar altyd weer ’n flikkering van hoop, ’n
verwagting en vertroue dat dinge beter sal word. Te midde van radeloosheid
en terneergedruktheid het ons steeds God se krag in ons en kan ons hoopvol
uitroep: “Troubles are round us on every side, but we are not shut in;
things are hard for us, but we see a way out of them.” ( 2Kor 4:8) |
|
“Neem in ag dat God vol goedheid, maar terselfdertyd
ook streng is. Hy is streng teenoor hulle wat van Hom weggedwaal het, maar
vol goedheid teenoor jou – mits jy op sy goedheid bly staatmaak.” (Rom
11:22, NLV) Ons kan en mag nooit God se genade en ons verlossing as
vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moenie Sy goedheid vertrap of goedkoop maak
of oorvereenvoudig nie. Ons moenie op onsself roem of hoogmoedig en meewarig
wees omdat ons gered is en God se genade ontvang het nie. Hou aan om nét op
Jesus staat te maak, plaas jou vertroue honderd persent op Hom. “Moenie dink
jy is wonderlik nie, maar wees liewer baie klein v oor God.” (Rom 11:20) |
|
“As jy jou goud as nikswerd beskou, sal die Almagtige
jou goud wees, jou skat aan silwer. Dan sal jy jou in die Almagtige
verlustig en jou weer tot God wend.” (Job 22:23-26) Wat ’n herinnering om
niks in hierdie lewe belangriker te ag as die Here nie! ’n Herinnering om
níks in Sy plek te stel nie, om nie my goed, my geld, my mense, my werk, my
ideale, my vermoëns te verafgod nie, om my nie te verlustig in aarde dinge
en eie begeertes voorop te stel nie. ’n Herinnering om soos Paulus sê: “...
ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here te ken,
oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8) Laat die Almagtige jou goud wees. |
|
Voel jy dalk partykeer soos
daardie spreekwoordelike swart skaap? Niemand hou van jou nie, jy voel
onbelangrik, nutteloos, mense kyk op jou neer, spot jou, verafsku jou,
misbruik jou. Jy word oor die hoof gesien, verag, misken en verwerp. Dalk
word jy sleg behandel, selfs geslaan of op gespoeg. Selfs jou familie en
vriende draai die rug op jou en gee nie om wat van jou word nie. Die troos
wat daar vir jou is, is dat Jesus weet hoe jy voel. Volgens Jes. 53 het Hy
self ook elkeen van daardie emosies beleef op Sy lydingspad en die waarheid
daarvan is dat Hy ook elkeen van daardie emosies in jou plek na die kruis
toe geneem het. Hy het daarvoor gely en betaal en ín Hom kan jy ’n nuwe
skepsel wees, vry van dít wat ander van jou sê of van jou dink. “He took on
his own shoulders the sin of the many, He took up the cause of all the black
sheep.” (Jes. 53:12, Message) |
|
“Van bo af kom net goeie, ja volmaakte gawes.” (Jak
1:17 NLV) In Ps. 16:5 staan daar ook: “n Pragtige deel is vir my afgemeet,
ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi.” God is goed en Hy wil jou seën met
Sy goedheid en guns. Hy het vir jou geskenke van liefde, deernis en genade
afgemeet en opsy gesit en wil dit vir jou gee. Moenie uitmis op die goedheid
van die Here nie, maak jou hart en arms oop om Sy geskenke te aanvaar – dis
vir jóú persoonlik bedoel. |
|
“Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die
aand kwaad bly en die duiwel so ’n houvas gee nie.” (Ef. 4:26-27, NLV) Ons
almal sukkel maar een of ander tyd met kwaad-word en woede. Dit begin
gewoonlik as ’n gevoel en vind spoedig uiting in harde woorde en onbeheersde
dade. Dit ontstel jou, plaas jou onder druk, maak jou dalk skaam en dit gaan
lê in die lyne van jou gesig. Hoe langer jy kwaad bly, hoe meer skade rig
dit aan in verhoudings met dié om jou, in jou gebedslewe, in jou
gedagtewêreld en in jou gemoedstoestand en hoe groter maak jy die deur oop
vir die duiwel om in te loer in jou siel. Dit sal goed wees om altyd ’n
keuse te maak dat jou kwaad-word beperk en matig bly. Dit sal goed wees om
altyd sake vinnig uit te praat, bitterheid en wrokke opsy te skuif en nie
jou dag kwaad af te sluit nie. |
|
Ek het hierdie aanhaling van Eric Liddell gelees: “Our
broken lives are not lost or useless. God’s love is still working. He comes
in an takes the calamity and uses it victoriously, working out His wonderful
plan of love.” Dit voel dalk nie nou vir jou so nie, maar geen situasie kan
té verlore en donker, of té groot gemors wees vir die Here om in te tree en
uitkoms te bring nie. Dit mag dalk langer neem as wat jy gehoop het, dit mag
dalk op ’n ander manier uitwerk as wat jy verwag het, maar onthou dat die
Here jou nie sal los nie. Onthou dat die son weer sal skyn en dat die Here
weer jou trane sal afdroog en jou smarte met vreugde sal vervang. “Kyk maar:
iemand kan nog een aand hartseer wees en huil, maar die volgende oggend is
hy vol blydskap. Dis net die Here wat so iets laat gebeur.” (Ps. 30:6, Die
Boodskap) |
|
“Sal die Regter van die hele aarde dan nie reg laat
geskied nie?” (Gen. 18:25) Daar sal altyd onbeantwoorde vrae in ons lewens
opduik. Hoekom en waarom en hoekom ek? Wanneer Here? Waarheen nou? Ons sal
almal een of ander tyd in ’n situasie kom waar ons sal wil sê: die lewe is
onregverdig. Ons God en Vader, ons Rots en Skuilplek, die soewereine Regter
van die hele aarde bly egter in beheer. Wanneer dit vrae-tyd in jou lewe is,
onthou dat Hý nie beperk is deur ons gebrekkige verstaan van die lewe of van
ons kortsigtige perspektief of ons gebrek aan geloof nie; onthou dat Hý
langs jou stap en jou ondersteun en met jou op pad is om Sy doel met jou
lewe te bereik. Vertrou Hom. Hy is die Regter van die hele aarde. |
|
“As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op
om aan die eenkant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle
sondes aan te gaan. Gee net vir God plek in julle lewe.” (Jak 4:7, Die
Boodskap) Ek vat vandag hierdie as ’n waarskuwing om nie gemaklik te raak en
verkeerde dinge geleidelik ’n vatplek in my lewe te gee nie. Verkeerde
gedagtes, skewe woorde, opvlieënde gedrag, kritiese ingesteldheid, jaloerse
neigings, selfsugtige begeertes is alles dinge wat ek moet teenstaan, moet
beveg en uitroei sodat ek net vir God plek kan gee in my lewe. Jesus het die
owerspelige vrou nie veroordeel of gestraf vir haar sonde nie, maar wel vir
haar gesê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Joh.
8:11) Ek glo dis wat Hy van ons ook verwag. |
|
“Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die
sonde van dié wat uit U volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie.
U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon. Hy sal ons sonde tot niet
maak. U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.” (Miga 7:18) Ja, wie is ’n
God soos ons God? Sy genade hou nooit op nie, Hy sit elke dag weer ’n vars
porsie daarvan voor jou neer om te aanvaar of te verwerp. Sy genade is so
groot dat Hy nie net ons sonde vergewe nie, Hy vat dit ook weg én Hy vergeet
daarvan. Geen sonde wat jy ooit gedoen het of kan doen, is té groot dat Sy
genade dit nie sal kan bedek en uitvee nie. Nou hoef jy dit net te bely en
dan kan jy ook nou maar eens en vir altyd van daai ou sonde vergeet! |
|
So baie van ons kom dikwels in ’n situasie van groot
onsekerheid, van twyfel, van hartseer, van verwerping of mismoedigheid, van
berge probleme of donker drukgange. Ons kan egter vandag hierdie sekerheid
in ons harte en gedagtes ingraveer: die slegte tye en swaarkry sal weer
verbygaan. Die Here sál weer uitkoms en verlossing vir jou laat deurbreek.
“ ... sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die
oorwinning gee” (Miga 7:9) |
|
“Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here
se grootheid prys.” (Ps. 103:1) Dit is mos sommer ’n natuurlike
ingesteldheid by ons om die Here te wil dank en prys vir alles wat Hy vir
ons gee, vir alles wat so mooi uitwerk in ons lewens, vir al die geskenke
wat ons so mildelik uit Sy hand ontvang. Wanneer dinge egter nie so
voorspoedig loop nie en ons steeds in finansiële moeilikheid is, of nog
steeds siek bly, steeds nie ’n werk kry nie, steeds in ’n donker tonnel
inkyk, steeds hierdie berge uitdagings voor ons sien, steeds geen voelbare
seën beleef nie, dan moet ons met ’n bo-natuurlike ingesteldheid uitbars in
lofprysing. So ’n lofprysing is ’n teken van geloofsvertroue, van ’n sekere
wete dat God wel sal voorsien, dat daar wel ’n uitkoms sal wees, dat Hy wel
in beheer is. Dan kan ons soos Habakuk sing: “... nogtans sal ek in my Here
jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Hab. 3:18) |
|
Ek het nogal agtergekom dat eenvoudige dinge vir mense
meer vreugde, groter opwinding en dieper vrede verskaf, terwyl komplekse
sake jou uitput, angstig maak en jou vreugde blokkeer. Dit is dieselfde met
godsdienstige sake. Dit is altyd beter om terug te gaan na die basiese dinge
en op ’n eenvoudige manier te glo en God te aanbid, eerder as om verstrengel
te raak in allerlei hogere, teologiese kwessies en onder-onsies. Benader die
lewe met ’n kinderlike geloof en vertroue en ’n kinderlike gesindheid van
liefde, afhanklikheid en vergewensgesindheid. Ek dink dít is wat die Here
van ons vra in Matt. 18:2 – “As julle nie verander en soos kindertjies word
nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie
homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die
koninkryk van die hemel.” |
|
“U Naam is soos balsem uitgegiet,” – dis die refrein
van ’n lied wat ons nou die dag in die kerk gesing het. Is dit nie pragtig
gestel nie? Daar ís krag in die Naam van Jesus. Waar Jesus se Naam
aangeroep en uitgeroep word, volg redding, genesing, vrede, vryheid,
oorwinning en lewe. Waar Jesus se Naam geëer en geprys, bely en vertrou
word, word Sy krag en teenwoordigheid uitgegiet soos blasemolie met ’n
aangename geur, soos salf wat droefheid versag, pyn verlig en wonde genees,
soos salwingsolie wat ons reinig en vir God afsonder. Eer vandag sy Naam,
roem Sy Naam, prys Sy Naam, bely Sy Naam, besing Sy Naam, vertrou Sy Naam.
|
|
Aan die einde Goeie Vrydag besef ek dat daar op daardie
dag van Jesus se kruisiging ’n hele paar mense was wat tot die oortuiging
moes kom dat Hy waarlik die Seun van God is, waarlik die Verlosser is,
waarlik die Koning is. Mense wat dit nie vroeër sou herken nie, mense wat
vroeër die rug op Hom gedraai het, Hom gespot het, Hom verraai het, Hom
veroordeel het. Ek dink bv. aan Judas wat met spyt besef het dat hy ’n fout
gemaak het om Jesus te verraai. “Ek het gesondig. Ek het ’n onskuldige man
verraai,” bely hy in Matt. 27:4. Vir hom is dit egter te laat en hy het
homself gaan ophang. Ek dink ook aan Malgus wie se oor Petrus afgekap het
toe die soldate Jesus in hegtenis kom neem het. Jesus het hom daar en dan
aangeraak en genees (volgens Luk. 22:51) – ek glo dit het hom laat besef wie
Jesus regtig is; dit moes eenvoudig die res van sy lewe verander het. Dan is
daar Pilatus wat nie skuld in Jesus kon vind nie. “Wat is waarheid?” wil hy
van Jesus weet – hy het sekerlik tóé alreeds besef dat Jesus waarlik die
Koning is, die Weg, die Waarheid, die Lewe. Dan is daar Barabbas, ’n Joodse
terroris (volgens Joh. 18:40, Die Boodskap) wie vrygelaat word toe die mense
kon kies tussen hom en Jesus. Hy het direk beleef dat hy vrygekom het ten
koste van die onskuldige Jesus. Jesus is ook in sý plek gestraf en gekruisig.
Dit móés sy lewe verander het. Wat nog van Simon van Sirene? Hy is sommer
deur die soldate uit die skare gegryp om te kom help dra aan Jesus se kruis
(volgens Luk. 23:26). Hy moes letterlik saam met Jesus die kruispad stap. Hy
moes die trane en die bloed en die pyn deel. Jesus se kruisiging kon hom nie
onaangeraak gelaat het nie! Ek dink ook aan die misdadiger wat langs Jesus
aan ’n kruis hang en na Hom uitroep vir genade. Hy kry by Jesus die
versekering: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43)
Sy ontmoeting met Jesus was vir hom betyds! Dan is daar ook nog die offisier
en sy soldate wat saam met hom voor die kruis was. Op die oomblik toe Jesus
sterf en alles donker word en daar ’n aardbewing is en rotse uitmekaar bars,
grafte oopgaan en dooies opstaan, kon hulle net stamel: “Hierdie Man was
werklik die Seun van God.” (Matt. 27:54) Jesus se kruisiging het hulle tot
geloof gebring. Ek dink ook aan die Hoëpriester Kajafas. Wat moes hy dink
toe die drie verdieping hoë voorhangsel middeldeur skeur toe Jesus sterf?
Nét hy was toegelaat om deur hierdie gordyn in die Allerheiligste van die
tempel in te gaan, nét hy kon daar versoening gaan doen vir die volk se
sondes. Nou was dit oop vir almal. Dit moes hom laat besef het dat Jesus die
enigste, ware Hoëpriester is, wat eens en vir altyd Homself as offer gegee
het vir die wêreld. (Heb 7:27) Ek hoop dit het sy lewe verander.
Wat het jý beleef by die kruis op hierdie Goeie Vrydag? Mag dit jou geloof
versterk, mag dit vir jou sekerheid gee, mag dit jou vul met diep
dankbaarheid, mag dit jou vir altyd verander. |
|
“Smaak en sien dat die Here goed is.” (Ps. 34:9) Die
aand voordat Jesus gekruisig is, het Hy brood en wyn met sy dissipels gedeel
en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis
... Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik
dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” (1 Kor. 11:24) Op
die vooraand van Paasfees gaan baie van ons weer só saam met medegelowiges
brood eet en wyn drink. Wanneer jy dit fisies sien en proe, is dit ’n bewys
dat God goed is en dat Hy sy liefde en verlossing vir jou aanbied. Wanneer
jy dit openlik in jou mond sit is dit ’n verklaring dat jy in sy goedheid
glo en sy verlossing aanvaar. Wanneer jy dit afsluk het jy die sekerheid dat
jy Christus deel maak van jouself. Wanneer jy dit aangee vir die persoon
langs jou is dit met die hoop dat hy ook sal smaak en sien dat die Here goed
is. |
|
Wanneer Jesus aan die kruis hang en sê: “Ek is dors,” (Joh.
19:28) beklemtoon dit vir my die intense lyding waardeur Hy moes gaan. Al
was Hy ten volle God, was Hy ook ten volle mens en het Hy die vernedering,
marteling, wonde en pyn fisies beleef. Ek probeer my indink hoe erg en
traumaties dit moes wees om dié pad van smarte te stap. Hy het die nag
vantevore in die tuin van Getsémané bely: “The sorrow in my heart is so
great that it almost crushes Me.” (Matt. 26:39). Hoewel Hy vooruit geweet
het watter lyding vir Hom voorlê het Hy nie teruggedeins nie en was Hy
bereid en gewillig om dit vir my en jou toe doen en die pad enduit te stap.
“Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar.” (Jes. 53:4) Dankie
Jesus! |
|
By die Paasfees-kruis is daar
beslis weer vir ons elkeen:
·
afwassing van elke sonde van die verlede, hede
en toekoms, met totale vergifnis uit God se hand
·
sekerheid van die ewige lewe saam met God
·
aanvaarding as kind van God, deel word van Sy
familie en volk
·
volkome vryheid en volmaakte oorwinning
·
vernuwing van hart, gesindheid en lewensdoel
·
genesing
·
verligting van die laste wat ons moet dra
“Dit is volbring!” (Joh. 19:30) |
|
“Jesus in my plek.” Dit is vir my die Evangelie in 4
woorde, Paasfees in een sin. Ek kan nie myself red nie, ek kan nie self van
my sonde ontslae raak nie, ek kan nie self skoon kom van my verlede nie. Ek
kan nie self in die regte verhouding met God kom nie. Ek kan nie self die
pad vind hemel toe nie, ek kan nie self die ware lewe vind nie. Met Paasfees
voor die deur kan ek opnuut in dankbaarheid uitbasuin: ek kan nie, maar
Jesus kan! Hy het dit alles namens my en in my plek kom doen. “... God het
Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus,
deur God vrygespreek kan wees.” (2 Kor. 5:21) |
|
“Eers as die Seun julle vrygemaak het, sal julle
werklik vry wees.” (Joh. 8:36) As jy toelaat dat sorge, omstandighede of
mense jou beheer, of dat jou gedagtes, gevoelens, gewoontes, verslawings jou
beheer, kan jy nie werklik vry wees nie. Ware vryheid is net in Jesus te
vinde. Dié vryheid is iets wat jy in geloof moet aanvaar en bely en uitleef.
Iemand wat werklik vry is, is spontaan, nie bang nie, nie ingeperk deur
omstandighede nie, nie verknog aan aardse dinge nie. Iemand wat werklik vry
is sien die groter prentjie, kyk verby die tydelike dinge en het ’n
ewigheidsperspektief. Is jý werklik vry? |
|
“Prayer
opens the windows of heaven and touches the heart of God ... prayer is often
the difference between confusion and clarity, hurt an healing, defeat and
victory, and even between life and death.” (Joyce Meyer) Gebruik vandag jou
voorreg om met God te praat deur gebed. Roep uit na Hom. Maak jou begeertes
aan Hom bekend. Bespreek jou probleme met Hom. Huil by Hom. Hou aan daarmee
sonder om moedeloos te word. Glo dat Hy bestaan en dat Hy jou gebed sal
verhoor. “Daarom
moet ons nie bang wees om tot God te bid nie, God wat op sy troon sit, God
wat genadig is. Ons moet na Hom toe gaan sodat Hy jammer kan wees vir ons en
genadig kan wees vir ons, en sodat Hy vir ons kan help wanneer ons Hom nodig
het.” (Heb 4:16, Die Bybel vir Almal) |
|
“The Lord ... has given peace and rest to His people.”
(1 Kron. 23:25) Die Here weet ons tempo is partykeer te vinnig, ons het te
veel hooi op ons vurk, ons kan nie al die balle in die lug hou nie, ons
dagboek is té lank vooruit vol, ons werklys té oorlaai. Hy verstaan dat ons
aan die eise van die tyd en omstandighede blootgestel en onderwerp is. Hy
weet ons verantwoordelikhede rus partykeer net té swaar op ons skouers en
ons verpligtinge kry ons dikwels onder. Hy het altyd medelye met ons en
daarom wil Hy hê dat ons gereeld ’n stil tydjie alleen saam met Hom
deurbring sodat Hy ons weer kan vernuwe, verfris, en verkwik. Mag jy vandag
daardie rus en vrede in Sy teenwoordigheid vind. |
|
“... die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap,”
so lees ek in Pred. 5:11. Is dit nie dalk so dat hoe meer goeters ’n mens
het, hoe meer gekompliseerd is jou lewe nie? In ons lewe is dit dikwels waar
dat meer beter is, dat ons jaag en werskaf en stoei om nóg meer bymekaar te
maak. Ons maak dinge vir onsself al meer gekompliseerd sodat ons op die ou
einde moeg, sonder energie en onvergenoegd voel. Ek kies opnuut om af te
skaal, eenvoudiger en stadiger te leef en meer te fokus op dié dinge wat
werklik belangrik is en ewigheidswaarde het. |
|
Mens lees op ’n klompie plekke
in die Nuwe Testament van die “geheimenis van God”, die “geheimenis van die
Evangelie”, die “geheimenis wat eeue en geslagte ’n geheim gebly het”. ’n
Geheim is iets wat slegs aan een of ’n paar persone bekend is, wat verborge
is, duister is en waaroor daar nie gepraat word nie. Die geheim van die
Evangelie is egter nou bekend en ons wil en mag nie meer daaroor stilbly nie.
“Die geheim is dit: Christus is vir almal, ook vir julle. Op Hom kan julle
met vertroue staatmaak. Hy sal vir julle die wonderlike dinge gee wat ’n
mense net by God kan kry.” (Kol 1:27, Die Boodskap) ... ja, jy mag maar
hierdie geheim gaan verklap! |
|
“... be humble toward one another, always considering
others better than yourselves.” (Fil. 2:3) Dis mos nou ’n moeilike opdrag,
of hoe? Hier is ’n paar idees om dit reg te kry:
·
Dink bietjie minder van en aan jouself en meer
van ander
·
Vergewe vinnig en gereeld
·
Moenie gou aanstoot neem nie
·
Wees vrygewig met genade en geduld
·
Help jou medemens
·
Erken en respekteer die reg van ander om van jou
te verskil
·
Moenie dat eerste wees, voor staan, die beste
wees, veroorsaak dat jy op ander trap nie
·
... put on the apron of humility, to serve one
another (1 Pet. 5:5) |
|
“U is my rots en my vesting. Lei my, wees vir my ’n
gids ter wille van U Naam.” (Ps. 31:4 NLV) Ek het mos nou niks meer as dit
nodig vir die dag nie. Ek kan die sekerheid hê dat ek nie sal struikel, val
of moedeloos raak nie, want ek staan op ’n Rots. Ek het ’n lekker knus en
veilige wegkruipplek as dinge moeilik of oorweldigend raak. Ek het ’n Gids
wat my alles sal wys wat die moeite werd is om van te weet, wat my sal neem
na die wonderlikste plekke op die mooiste en vinnigste paaie. Die Here sál
dit vir my en jou wees, dis wie Hy is. |
|
“Buig laag voor die Here. Sê dat
jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in
oorgawe voor Hom buig en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat
staan.” (Jak 4:1, Die Boodskap) Moenie uitstel nie. Aanvaar Jesus as die
middelpunt van jou lewe. Moenie net jou hart vir Hom gee nie, gee alles.
Laat Hom toe om die bestuurder van jou lewenskarretjie te wees; skuif oor na
die passasiersitplek en vertrou Hom om jou te neem na die lewe en
geleenthede wat Hý vir jou bestem het. Gee oor en gaan saam. |
|
As Jak 4:8 sê: nader tot God, kan mens vra: hoe nader
ek tot God? Wel, as jy verder lees in dieselfde teks gee die Bybel eintlik
self die antwoord. Om tot God te nader moet jy eers jouself aan Hom
onderwerp. Jy moet jou eie swakheid erken, jy moet besef hoe klein jy voor
Hom is, sodat jy in nederigheid na Hom toe kan kom. Wanneer jy tot God nader
moet jy erken dat jy Sy genade nodig het en jy moet gewillig wees om Hom te
volg. Jy moet sorg dat jou lewe skoon is en opregte berou toon oor jou sonde.
Verder moet jy ook nie toelaat dat die duiwel jou verlei of bangmaak nie.
Jesus het hom reeds verslaan, daarom sal hy van jou af wegvlug. Jy is vry om
tot God te nader. Weet verseker dat Hy ook tot jou sal nader. |
|
“Nader tot God en Hy sal tot jou
nader.” (Jak 4:8) Hierdie teks bied vir my altyd soveel troos en bemoediging.
Hoe wonderlik om te weet dat ek, nes ek is, enige tyd, enige plek, in enige
situasie na God toe kan draai en Hy sál daar wees. As ek uitreik na Hom, is
Sy hand alreeds daar vir my. As ek na Hom roep, is Hy alreeds gereed om my
te antwoord. As ek my eie pad geloop het en na Hom toe terug wil draai, wag
Hy alreeds met oop arms vir my. As ek wil sê ek is jammer, is Hy alreeds
gereed om my te vergewe. Say a quiet yes to God, and He’ll be there in no
time. (The Message). |
|
“... julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe
totaal verander: sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in sy
spesiale span vir hierdie wêreld gesit.” (1 Joh. 2:27) Ons wat kinders van
die Here is, het die teenwoordigheid en krag van die Heilige Gees as ’n
kosbare skat ín ons. Die Gees gee vir jou wysheid en insig, raad en sterkte,
kennis en eerbied vir die Here (volgens Jes. 11:1) Besef dit en laat dit ’n
verskil in jou daaglikse lewe maak. Laat die Gees goeie vrug voortbring,
laat die Gees leiding en rigting in jou lewe gee, jou help om situasies reg
op te som en die regte besluite te neem ... jy is immers nou in God se
spesiale span. |
|
“’n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed
vir die lewe. Mooi woorde verloor nooit hulle krag nie.” (Spr. 12:18-19, Die
Boodskap). Probeer om vandag net mooi goed te sê. Bly kalm, dink voor jy
praat, wees versigtig met jou kritiek. Gebruik eerder mooi, opbouende,
positiewe woorde om sodoende ander op te lig en moed te gee. Wees vir ’n
slag vrygewig met jou komplimente. Spreek jou dankbaarheid uit vir wat mense
vir jou doen en wat hulle vir jou beteken. Daai soort mooi woorde het krag
en sal ’n verskil maak. |
|
“God stuur die storm óf om te straf, óf om vir die
aarde te sorg, óf om sy liefde te toon.” (Job 37:13) Al die reën en
oorstromings van die afgelope tyd het my weer by hierdie teks uitgebring.
Dit sê vir my dat die Here altyd ’n doel het met ekstreme weersomstandighede.
Soos in die tyd van Noag, kan ’n storm daar wees om te straf en mense tot
stilstand te bring. Meestal is dit om te wys Hy sorg vir mens en dier en
plante en bring ’n reënbui vreugde en blydskap en opwinding. Deur ’n storm
wys Hy ook sy liefde aan ons en wil Hy ons seën met water wat lewe en
verfrissing bring. Soms laat ’n storm ons ook besef hoe nietig ons is en
erken ons opnuut ons afhanklikheid van die Here. Heel dikwels dwing dit ons
om aan Hom erkenning te gee vir sy mag en sy beheer oor die skepping. Met
elke storm bereik Hy egter sy doel, nie net ’n fisiese storm van reën en
wind en blitse nie, maar ook elke lewensstorm waarin ons onsself mag bevind.
|
|
As jy dalk in ’n bodemlose
depressie put is, of dalk deur ’n ernstige siekte bedreig word, of dalk wag
om deur jou baas ingeroep te word om daai gevreesde afdankingsgesprek te kry,
of dalk ’n skeibrief verwag, bid ek dat die sekerheid van God se hulp wat
betyds sal opdaag vir jou só werklik sal wees soos vir Miga: “Maar ek sal
vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed
verhoor.” (Miga 7:7) |
|
Ons sou die afgelope naweek ons kamp vir gestremdes hou.
Toe dit onophoudelik reën en die weervoorspellers boonop ’n nat prentjie
skilder vir die naweek, moes ons verlede week die besluit neem om die kamp
uit te stel. Natuurlik het dit gepaardgegaan met groot teleurstelling,
ekstra moeite en dubbel beplanning. Ek het bietjie opstandig gewonder:
hoekom moet dit juis nóú reën? Na die lees van Job 37 moes ek maar net weer
besef en erken dat God in beheer is van elke wind, elke wolk, elke storm,
elke weerlig en ook elke reëndruppel en dat Hy ’n doel het met alles wat in
die natuur gebeur. “Hy doen groot dade en ons begryp dit nie. Hy beveel die
sneeu om op die aarde te val, die reëns val, die stortreën wat getuig van sy
krag ... Hy laat die wolke swaar word van vog ...Hy laat die wolke in die
rondte maal... Hy laat alle mensewerk tot stilstand kom sodat alle mense Sy
werk kan ken ...” (Job 37:5-7) Hy het ons planne tot stilstand laat kom en
ek wéét dat Hy ’n doel daarmee het, al sien ons dit nie en al verstaan ons
dit nie. Nou kan ons maar net weer in afhanklikheid en met nuwe ywer beplan
en uitsien na die kamp wat met ’n paar weke uitgestel is.
Ek lees vanoggend dié kostelike aanhaling wat iemand
gebruik: The best thing one can do when it’s raining, is to let it rain.
|
|
“You worked hard and deserve all you’ve got coming.
Enjoy the blessing! Revel in goodness!” (Ps. 128:2, The Message) As dit goed
gaan met jou en jy het alles wat jy nodig het, weet dat dit die Here is wat
al daardie goeie dinge vir jou gee. Besef dat dit Hy is wat jou krag en
wysheid gegee het om jou werk suksesvol te doen, jou besigheid slim te
bestuur en die regte besluite op die regte tyd te neem. Gee aan Hom die eer
en erkenning en geniet dit wat jy het. Vier fees, wees uitgelate, verlustig
jou in die goeie dinge, geniet die lewe, skep behae in die seëninge wat God
nóú vir jou gegee het. |
|
“God wil ons lewe, wat Hy vir ons gegee het, heeltemal
vir Homself hê ... God wil niks met die mense te doen hê wat dink hulle kan
op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir mense wat weet hulle is niks
sonder God nie, is God baie, baie goed – meer as wat hulle ooit verdien.” (Jak
4:5-6, Die Boodskap) God wil hê dat ons volledig aan Hom sal behoort, dat
ons ons afhanklikheid van Hom sal besef en erken. Toe my dogter baie klein
was, het sy eendag ’n baie wyse ding kwytgeraak. Sy het gesê: “Ek weet
hoekom die Here mense gemaak het. Hy het hulle gemaak omdat Hy eensaam was
en maatjies gesoek het.” Hy het ons gemaak vir Homself, Hy het Sy asem in
ons geblaas, ons is Syne. Hy wil my vir Homself hê, Hy wil my versorg soos
’n Pa sy kinders versorg, Hy wil elke tree van my dag saam met my loop, Hy
wil met my praat soos met ’n vriend, Hy wil sy liefde en Sy rykdomme op my
uitstort ... laat Hom vandag só in jou lewe toe. |
|
“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die
groot dinge betroubaar.” (Luk. 16:10) Die toets vir hoe ons gaan vaar met
groot dinge, lê in hoe ons die klein dingetjies hanteer. As jy eerlik is oor
’n paar sent, sal jy vertrou kan word met groot bedrae geld. As jy
eenvoudige sleurwerk deeglik en goed doen, sal jy belangrike take ook
suksesvol kan doen. As jy arm mense wat sonder aansien is met respek en
liefde hanteer, sal jy ook gemaklik met deftige, hooggeplaastes kan omgaan.
As jy bereid is om ’n beker koue water in die Naam van die Here vir iemand
aan te bied, sal jy ook groot goed vir die Here se Koninkryk kan doen. Begin
klein en eenvoudig en die groot dinge sal natuurlik volg. |
|
My song
will keep Your fame alive forever, and everyone will praise You for all time
to come. (Ps 45:17)
Mag ons lied en ons lewe die Here se Naam bekend maak , mag dit voortdurend
die Here belangrik maak en Hom op die voorgrond bring. Mag dit vertel van
Sy grootheid, Sy aansien, Sy waarde, Sy besondersheid. Mag dit Hom eer, Hom
verhoog en eerste stel . Mag ons lofprysing gevul wees met verwondering en
bewondering vir Hom as enigste, ware, liefdevolle God. Moenie ophou om
lofliedere te sing nie ... let’s keep His fame alive forever! |
|
As jy dalk vandag minderwaardig voel, jouself
onbelangrik ag, of dink jy is swak, dom, lelik, onbekwaam, eenvoudig of
watter negatiewe beskrywing ook al, onthou asb. wat die Here van jou sê in
Ps. 8:6. Hy behandel jou soos ’n koning en sit ’n kroon op jou kop. Die
kroon is “aansien en eer” (glory and honour). Jy is kosbaar vir God, in Sy
koninkryk het jy ’n hoë rang, en word jy belangrik geag. Moenie in jou
alledaagse leef wêreld aan jou eiewaarde twyfel nie, die kroon van aansien
en eer het hier ook sy volle waarde. Hou jou kop hoog vandag en dra jou
kroon met trots. |
|
“Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry
wees.” (Joh. 8:36) Toe jy Jesus aangeneem het as Verlosser en Here van jou
lewe het Hy alle bande van sonde en skuld en veroordeling losgesny en
afgebreek. Jy is vry. Jy is vry van onderdrukking, beheer en manipulasie,
vry van kompetisie en oordeel van mense, vry van vrees en minderwaardigheid,
vry van mensgemaakte reëls en voorskrifte. Jy is vry om jouself te wees, vry
om die Here te aanbid. “Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter
wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van
hulle skewe sienings maak nie.” (Gal 5:1, Die Boodskap) |
|
Ek het weer Luk. 17 gelees van die 10 melaatses wie
Jesus genees het en net een het teruggekom om te kom dankie sê. Ek dink
Jesus praat van my ook as Hy sê: “Is daar niemand anders wat omgedraai het
om God die eer te gee nie?” (vers 18) Ek is so tevrede en in my skik as
dinge vlot verloop en in plek val, dat ek nie eers omdraai en Hom eer, prys
en dank nie. “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in
Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess 5:18). Daar is dit nou duidelik
gesê: God verwag dankbaarheid in elke situasie. Ek het sommer weer besluit
om in elke situasie en in elke dag iets uit te sonder waaroor ek vir God kan
dankie sê. Dis nie moeilik nie, want daar is baie om Hom voor te prys. Op
dié manier draai ’n mens se gesindheid sommer vinnig positief en word jy gou
’n optimis! |
|
For God did not give us a spirit of timidity (of
cowardice of craven and cringing and fawning fear), but He has given us a
spirit of power and of love and of calm and well-balanced mind and
discipline and self-control. (2 Tim 1:7, Amplified Bible) Voel jy ook soms
dat niks in die wêreld om jou sin maak nie? Voel jy ook soms dat dinge buite
beheer is? Voel jy ook soms bang, onseker en vreesagtig oor die toekoms?
Voel jy ook soms of moeilikheid aanhoudend oor jou neerreën? Voel jy ook
soms of die dag nooit gaan aanbreek nie? Ek dink dis deel van die lewe, maar
glo vandag hierdie teks en glo vandag dat jy alles binne-in jou het om deur
te druk en dit te máák deur die donker tye. Die Heilige Gees ín jou gee krag
en moed en vrede. Sy krag is beskikbaar wanneer jy swak voel. Sy vrede bring
jou tot rus. God kan en sal al die stukkies van jou lewenslegkaart bymekaar
laat inpas volgens Sy plan en doel. Vertrou dat Hy aan die werk is in jou
tot jou beswil. |
|
“Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se
knieë knik, sê vir dié wat moed verloor het: Wees sterk, moenie bang wees
nie, julle God is hier.” (Jes. 35:3-4) Ons kan mense wat moed verloor het,
wat neerslagtig en negatief is op hierdie manier moed inpraat. Ons opregte
woorde van aanmoediging en bemoediging kan vandag vir mense ’n verskil maak.
Dit kan hulle weer moed gee, dit kan hulle met nuwe oë na die toekoms laat
kyk, dit kan hulle opbou, dit kan hulle seën. Ons woorde kan soos sagte
salf wees wat verligting bring vir ’n seer gemoed of ’n gebreekte hart.
Vertrou die Heilige Gees om vir jou die regte woorde op die regte tyd te
gee. |
|
“Hulle weet nie wat die regte
godsdiens is nie, want hulle ken nie die Een om wie alle godsdiens draai nie.”
(Kol 2:19, Die Boodskap) Die Een om wie die ware godsdiens draai is Jesus
Christus. Sonder Hom is godsdiens dooie rituele, ’n stel reëls en gebruike,
vals lippetaal, iets wat jou dalk goed en belangrik kan laat lyk maar wat
vir die Here niks beteken nie. Ware godsdiens volg uit ’n verhouding met
Jesus waar ek lief is vir Hom, waar ek myself is en Hy my hart ken. Dit is
’n verhouding waar ek my bes doen, waar ek my foute en tekortkominge erken
en bely en Hy my onvoorwaardelik vergewe en aanvaar. Hou op met lippetaal en
soek weer na daardie intieme, persoonlike konneksie met Jesus. |
|
In Eks 3:3-5 lees ons dat die Here uit die brandende
bos met Moses praat en vir hom sê om sy skoene uit te trek want die grond is
heilige grond. Minute tevore was dit maar net gewone grond en ’n gewone bos,
maar God se teenwoordigheid maak dit heilig. Ons is nou Sy tempel waarin Hy
sy blyplek maak en dit maak my liggaam heilige grond. Waar ek gaan, gaan Hy
saam en word elke plek waar ek kom as’t ware heilige grond. Of ek by die
werk is, in die winkel, op die straathoek, in die fliek of waar ook al moet
my teenwoordigheid ’n verskil maak omdat ek God in daardie plek indra. Mense
moet God se heiligheid in my optrede kan sien en in in my teenwoordigheid
kan aanvoel ... “die plek waar jy op staan, is heilige grond.” |
|
“... moenie bewe nie, moenie bang wees nie, moenie
vreesbevange wees nie, moenie vir hulle skrik nie. Die Here julle God gaan
saam met julle ...” (Deut. 20:3-4) Let not your minds and hearts faint sê
die Amplified Bible by hierdie teks. Daar is deesdae so baie omstandighede
en gebeure wat ons vreesagtig maak. So baie dinge wat ons vrees, wat ons
verlam, waaroor ons wil opgee en wegvlug. Dinge soos misdaad en
verkragtings, soos siekte en dood, soos werkloosheid en onsekerheid oor die
toekoms. Kom ons sê vandag vir onsself: moenie bewe nie, want die almagtige
God is saam met my. Ek kán oor enige muur spring saam met Hom, ek ís tot
alles in staat omdat Hy my sterk maak, ek sien kans vir enige iets, niemand
kan iets aan my doen nie, my voete staan vas op dié Rots, die Alfa en Omega
hou my hand vas, die Koning van die konings gaan saam met my ... sélfs al
gaan ek deur die dal van doodskaduwee. |
|
“’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy
loop.” (Spr. 16:9) Soms kom ’n mens op ’n punt in jou lewe waar jy eers ’n
tree vorentoe moet gee voordat jy weet of jy in die regte rigting beweeg.
Ons sê mos baie keer dat die Here vir ons die koers aanwys deur die oop en
toemaak van deure. Wel, dink bietjie aan daai soort deure wat outomaties
oopmaak as mens nader kom. As jy stilstaan voor die deur, gaan hy toe bly.
Dis eers as jy ’n tree vorentoe gee, dat dit die meganisme afsit wat die
deur oopmaak. Miskien moet jy ook vandag so ’n tree in geloof gee, met die
verwagting dat die Here die deur voor jou sal oopmaak. Moenie passief voor
die deur staan en wag nie. Neem aksie en gee daardie geloofstree. |
|
“Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van
God.” (2 Tess 3:5) Is dit nie ’n wonderlike seënwens wat ons vir mekaar kan
toebid nie. As ons voortdurend aan God se onvoorwaardelike en onbeperkte
liefde vir ons kan dink, sal ons oorloop van dankbaarheid en verwondering
teenoor Hom. As ons heeltyd dink hoe wyd en diep en hoog Sy liefde vir ons
is, sal ons so tevrede en beskerm voel. As ons gereeld dink dat niks ons van
Sy liefde kan skei nie, sal ons veilig en versorg voel in enige
omstandighede. God is liefde. Hy het jou oneindig lief en jy kan niks
daaraan verander nie! Oordink dit vandag. |
|
“Trust in, lean on, rely on, and have confidence in Him
at all times.” (Ps. 62:8) Wanneer jy in ’n situasie is waar dit voel of niks
sin maak nie, glo en vertrou dat die Here in beheer is. Wanneer jy in ’n
posisie is waar daar net die antwoorde op jou vrae is nie, leun op die Here
en volg Sy leiding tree vir tree. Wanneer jy in omstandighede is waar jy
bang en onseker is, pak jou hart uit voor die Here, huil by Hom en skuil by
Hom. Staan in en op jou geloof in goeie en slegte tye. |
|
Ter aanvulling wat ek gister geskryf het oor gebed,
moet ons mekaar daaraan herinner dat om te bid ’n opdrag van die Here is. Al
weet die Here reeds wat jy nodig het en wat die versugtinge en behoeftes van
jou hart is, móét ons steeds bid, ons moet die woorde uiter. Jes. 30:19 sê
“Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp. Hy sal jou gebed
verhoor sodra Hy dit hoor.” Dit laat my besef dat Hy ons gebed wil hóór.
Wanneer jy bid, sal Hy hoor en verhoor. By herhaling lees ons: bid gedurig,
volhard in gebed, wees waaksaam en bid gedurig (Ef. 6:18, 1 Tess 5:17, Rom
12:12, Kol 4:2) Moenie moeg en moedeloos en traag word in jou gebedslewe nie.
“As jy bid, gaan dan na ’n stil plek toe waar niemand jou kan sien nie. Trek
die deur agter jou toe en praat daar eenkant opreg met jou Hemelse Vader.”
(Matt. 6:6, Die Boodskap) |
|
Mense sê baie keer dat dit voel of hulle gebede teen
die plafon vasslaan, dit voel of God vêr is, doof is, of net nie luister nie.
Dit gebeur met my ook. Dan twyfel ek wanneer ek bid, of ek bid al hoe
minder, of glad nie ... totdat ek weer Matt. 6:8 lees: “Onthou: jou Vader in
die hemel weet presies wat jy nodig het. Nog voordat jy bid, weet Hy al
lankal wat in jou kop aangaan.” Hy weet rééds wat jy nodig het, Hy weet
rééds waaroor jy met Hom wou praat in jou gebed, Hy weet rééds wat in jou
kop en in jou hart en in jou lewe aangaan. Die Bybel sê vêrder in Rom 8:26
as ons nie weet wat om te bid nie of hoe om te bid nie, as die woorde opraak
en die plafon naby is, die Gees namens ons bid. “Hy vertaal al ons swaarkry
in hemelse taal,” en bring ons diepste, woordelose behoeftes voor God. Die
plafon kan DIT beslis nie keer nie! Ek het hierdie aanhaling êrens gelees:
“If for any reason you cannot pray, relax. The desire to pray is already a
prayer.” |
|
Die Here het lankal bekend gemaak hoe Hy wil hê dat ons
ons moet lewe en hoe ons Hom moet dien. Miga 6:8 gee ’n 3-punt samevatting
daarvan: (1) doen die Here se wil (2) bewys liefde en dien mense (3) leef
versigtig en wees nederig voor die Here. Mag die Here ons van binne af
verander, ons manier van dink verander sodat ons elke dag volgens hierdie 3
punte lojaal en oorgegee aan Hom sal lewe. |
|
“Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help
hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen
julle presies wat Christus van julle verwag ... As julle dink dat julle te
belangrik is om vir ander mense om te gee, begryp julle net mooi niks van
die evangelie nie.” (Gal 6:2-3, Die Boodskap) Sjoe, dis darem maar reguit
gesê, nè? Ek moet bely dat ek so baie keer gebrekkig is met my omgee, dat ek
so stadig is met hulp aanbied en onwillig is om saam te dra aan probleme van
mense wat my pad kruis. Mag die Here my oë oopmaak, my hart sag en gewillig
maak en my hande bereid maak om my deel te doen. |
|
As kind van God, verlos deur die bloed van Jesus, gevul
met die Heilige Gees, kan ek ook soos Miga sê dat ek baie krag het, dat ek
wysheid het, dat ek onderskeidingsvermoë het, dat ek die moed het om met
mense te praat oor die Here en oor hulle lewenswyse. (Miga 3:8) “Die
Heilige Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy
elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen.” (Gal
5:25, Die Boodskap) Gee oor en gaan voluit vir Jesus! |
|
As jy ’n kind van God is, hoort die volgende nie in jou
lewe nie: slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, twis, bedrog,
kwaadwilligheid, skinder, kwaadpraat, hooghartigheid, verwaandheid,
onverstandigheid, onbetroubaarheid, liefdeloosheid, hardvogtigheid. (Rom
1:29-31) Lees die lysie weer stadig deur en dink wat elkeen van die woorde
beteken. As mens vinnig daaroor kyk kan jy dalk dink dat dit net dinge is
wat goddeloses aanvang, maar as jy dieper delf sal jy dalk, soos ek, geskok
wees hoeveel hiervan wel in jou lewe heers. Maak ’n bewuste keuse teen
gevoelens, gedagtes en optrede wat enige van hierdie moenies ’n vatkans in
jou lewe kan gee. Laat die Gees van God elke oomblik jou gedrag bepaal.
“Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit
hoogty in hulle lewe voer nie.” (Gal 5:22, Die Boodskap) |
|
“Die Here sorg vir almal wat
seerkry. Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U
versorg elkeen op die regte tyd.” (Ps. 145:14-15, Die Boodskap) Glo hierdie
waarheid en skryf dit op jou hart. Ons dien ’n God van liefde wat medelye en
innige meelewing het met ons. “U weet deur hoeveel pyn en hartseer ek al is.
My trane sal ’n dam volmaak. U het daarvan boek gehou, U weet.” (Ps. 56:9) |
|
“Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van
gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1
Sam 15:29) Wat God belowe sal Hy deurvoer. Wat God sê, sal gebeur. Hy is
gister, vandag en môre dieselfde. “Ek, die Here, het nie verander nie.” (Mal
3:6) Daar word gesê dat daar meer as 3000 beloftes van God in die Bybel is (sommige
mense maal dit nog met 10!). Dit beteken dat daar amper 10 beloftes vir elke
dag van die jaar is. Baie daarvan het ’n voorwaarde, maar die meeste daarvan
is net God se opregte beloftes van sorg, voorsiening, liefde, genade,
redding, verlossing, vertroosting vir ons as Sy kinders. Maak oop jou Bybel
en soek daai één belofte wat vir jou vir vandag bedoel is en glo dit, want
God sál Sy beloftes waar maak. |
|
“Sorg daarenteen dat julle toeneem in die genade en
kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” (2 Pet. 3:18) Genade is
God se krag, liefde en guns wat in jou situasie inkom en vir jou doen wat jy
nie vir jouself kan doen nie. Die teksvers sê ons moet toeneem in genade.
Dit beteken dat ons meer en meer moet leer hoe om dit in elke lewenssituasie
te ontvang. Ons neem toe in genade namate ons die Here meer vertrou en ons
geloof sterker in Hom vestig. His grace will meet the need. Mag jy vandag Sy
genade ontvang in situasies wat moeilik is of onmoontlik lyk vir jou, sodat
jy kan toeneem in genade en kennis van Jesus. |
|
Ek was bevoorreg om verlede jaar ’n intensiewe
Bybelstudie oor die boek, Miga, mee te maak. Ek het só baie geleer oor wie
God is. Ek het geleer dat ek met diep ontsag en opregte eerbied teenoor Hom
moet lewe. Hy het sy opdragte gegee en Hy verwag van my om Hom in alles te
gehoorsaam – volle oorgawe, geen kompromie. God is regverdig en getrou – Hy
sál oordeel oor dié wat lou en koud is teenoor Hom, MAAR Hy is altyd gereed
om genade te betoon en Sy uitnodiging: “Draai terug, kom na My toe,” bly
vasstaan en word aan elke mens gerig. Vir dié wat op Hom vertrou sal daar
weer oorwinning wees, sal daar altyd weer lig wees. |
|
As ons na mense opkyk om vir ons rolmodelle te soek,
dan kyk ons mos maar gewoonlik na beroemde mense, suksesvolle mense, mooi
mense, talentvolle mense, slim mense, ryk mense, invloedryke mense wat ons
tog so ontoereikend, minderwaardig en ellendig kan laat voel. Die goeie nuus
is: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na
die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Sam 16:7) Die Here sien
’n ander, dieper potensiaal in ons as wat onsself of ander in ons sien. Hy
wéét waartoe ons in staat is as Sy hand die beheer van ons lewens neem.
Niemand word Iemand as die Here intree. Dink maar aan Dawid, Gideon, Ragab,
Petrus ... ek en jy! |
|
“He's got the whole world in His hands ...” – so gaan
die woorde van ’n bekende liedjie. Níks is buite God se beheer, krag en
voorsiening nie. Hy laat die son skyn, Hy gee wolke, Hy laat dit reën, Hy
laat die wind waai. Hy tel die sterre en gee elkeen ’n naam. Hy laat saad
ontkiem en bome vrugte dra. Hy tel die hare op jou kop. Hy bepaal hoe lank
elkeen van ons sal lewe. Hy maak siek en Hy maak gesond. Hy sorg vir die
voëls van die hemel en die gras van die veld. Hy is soewerein, almagtig en
alomteenwoordig. “He's got you and me in His hands!” |
|
“Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming; Hy
het hulle opgetel en hulle altyd gedra.” (Jes. 63:9) Sjoe, dis darem maar
mooi woorde om te hoor. Dis wat die Here vir Sy volk gedoen het, keer op
keer. Dis wat Hy nog altyd vir Sy kinders gedoen het. Dis wat Hy ook weer
vandag en môre vir my en jou sal doen. Glo dit! Onthou dit! Bely dit!
Verkondig dit! Sing ’n lied daaroor! Prys Hom daarvoor! |
|
“Ons moet ... aanhou om te kyk na
Jesus.” (Heb 12:2, Bybel vir almal) Om te volhard in geloof, om moed te
behou ten spyte van omstandighede, om hoopvol te bly wanneer alles eintlik
hooploos lyk, om deur te druk met die wedloop van die lewe, móét al ons
aandag en afhanklikheid net op Jesus gefokus wees. Konsentreer altyd net op
Hom, fokus op wie Hy is, verheug jou in wat Hy vir jou doen. Kyk na Jesus en
die silwer rand om die donker wolk sal verskyn. Kyk na Jesus en jou krag sal
meer word. Kyk na Jesus en jou las sal ligter word. Kyk na Jesus en jou
swakheid sal met selfvertroue vervang word. Kyk na Jesus en vind jou vreugde
in Hom. Kyk na Jesus en kry moed vir die dag. |
|
“Nou moet julle julle sondes laat staan. Kom terug na God toe.” (Hand. 3:19,
Die Boodskap) “Bekeer julle en kom tot inkeer,” sê die ander vertaling. Ons
moet maar altyd weer ons harte, gedagtes en lewens ondersoek en keuses maak
téén sondes, verkeerde gewoontes, korrupte gedagtes, ens. Ons moet die sonde
in ons lewe haat, intense berou hê oor die verkeerde dinge en spyt wees oor
versuim om die regte te doen. Dit moet nie net ’n voorneme bly, of ’n
oppervlakkige “jammer, Here” wees nie. Dit vra as’t ware ’n 180° wegdraai,
’n totale omdraai. Dit behels ’n verandering van hart, gedagtes en wil. Ek
het êrens gelees: “No
man can get right with God unless he is converted, no man is truly converted
if he has not repented, and no man has truly repented unless he is willing
to part with sin.” |
|
“U beskerm my. U pas my op in elke krisis.” (Ps. 32:7)
’n Krisis kom so gou oor ’n mens se pad. Tye van intense probleme, onnodige
moeilikheid, dreigende gevaar, onsekerheid, slegte nuus, ens. kom gewoonlik
onverwags en ongevraagd. Miskien is jy pas deur ’n krisistyd – mag jy dan
getuig dat die Here jou opgepas en beskerm het. Miskien is jy op die oomblik
in so ’n drukgang – moenie bevrees, bekommerd of bedruk wees nie, gryp vas
aan die Here en glo dat hierdie teks waar sal wees in jou krisis. Dalk lê
een of ander krisis nog êrens vir jou voor – programmer jouself nou al met
die woorde van hierdie teks en wéét dat die Here saam met jou sal stap deur
elke donker tyd. Mag hierdie skrif jou end-uit bemoedig. |
|
“U wat die mens deur en deur toets, U is die regverdige
God.” (Ps. 7:10) In die Amplified Bible word dit uitgebrei na: “For You who
try the hearts, emotions and thinking powers ...” Die lewe is vol uitdagings
wat ons deursettingsvermoë, geduld, vertroue en geloof toets. Lewenstoetse
is iets wat wys hoe jy onder druk sal optree, waarheen jy jou sal wend in
moeilike omstandighede, op wie se skouer jy sal huil in hartseer tye. Die
Here gee toetse om ons harte, emosies en gedagtes te toets. Ek vra Hom
vandag vir genade om my toetse te slaag sodat my karakter positief en
sterker daardeur gebou kan word. |
|
“Let us then fearlessly and confidently and boldly draw
near to the throne of grace.” (Heb. 4:16) Danksy die versoening- en
verlossingswerk van Jesus het ons ’n oop deur na God se troon waar Hy genade,
guns en goedheid vir ons wil uitdeel. Jesus is die weg! Ons kan sonder vrees
en met vrymoedigheid die Weg volg en na ons Vader toe gaan. Gebruik dié
voorreg wat jy het! |
|
“There are many truths of which the full meaning
cannot be realized until personal experience has brought it home.” Dis
blykbaar iets wat ene John Stuart Mill gesê het. Na my mening geld dit ook
vir ons verhouding met die Here. Iemand wat nie persoonlike ervaring daarvan
het nie, sal nie kan verstaan hoe jy geloof en vertroue kan hê in ’n
onsigbare God nie. Iemand wat dit nié het nie, sal nie kan verstaan hoe jy
tevrede en gelukkig kan wees ten spyte van probleme om jou nie. Iemand wat
dit nié het nie, sal nie kan verstaan dat jy die Bybel as jou kompas en
padkaart gebruik en alles glo wat daarin staan nie. Iemand wat dit nié het
nie, sal nie kan verstaan dat jy sterk kan wees wanneer almal swak is en
paniekerig raak nie. Niemand kan stry met jou persoonlike ervaring en
getuienis nie! “Kom ondervind en sien sélf dat die Here goed is.” (Ps. 34:9) |
|
“U maak U hand oop en skenk U guns in oorvloed aan al
wat leef.” (Ps. 145:16) In die Here se hand is alles wat ek nodig het, alles
wat my staande kan laat bly, alles wat my geluk, hoop en vrede kan gee. Hy
wil ons seën vandag en Hy sal Sy hand oopmaak en goedheid en genade oor jou
uitstort. “Die Here dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien,
klein en groot.” Ek maak vandag my arms en my hart wyd oop om elke seëning
van Hom af te ontvang. |
|
Ek lees hierdie aanhaling gister onderaan my dagboek se
eerste-werkdag-van-die-jaar - bladsy: “Plenty of people miss their share of
happiness, not because they never found it, but because they didn’t stop to
enjoy it.” Vóórdat ons nou weer soos mal rotte die jaar in begin hardloop,
is dit miskien goed om hierdie aanhaling bietjie te oordink. Dit is nodig en
belangrik om elke dag bietjie te stop en die mooi en goeie dinge wat die
Here so in oorvloed vir ons gee te geniet. Geniet iets mooi in die natuur,
geniet iets kreatief, geniet ’n lekker grappie, geniet ’n “stoute”
eetdingetjie, geniet en waardeer opbouende geselskap van iemand spesiaal,
geniet ’n goeie fliek of boek of musiek... Die Bybel beaam dit sommer ook in
Pred. 6:6 ( The Message) : “Even if someone lived a thousand years – make it
two thousand! – but didn’t enjoy anything, what’s the point?” |
|
Ons het nou die dag die fliek Frozen gaan kyk en die
volgende aanhaling daarin het my aangegryp: “Only true love can thaw a
frozen heart.” Mens verwag dat dit die vurige liefde van ’n prins sal wees
wat die prinses se hart sal laat ontdooi, of dalk selfs die opregte liefde
van ’n eenvoudig man, maar op die ou einde is dit die vergewende,
onvoorwaardelike, egte liefde van ’n suster. Hoe waar is dit nie dat opregte
liefde enige koue, harde hart kan versag, mure kan afbreek en verhoudinge
kan herstel nie. Wat behels daai opregte liefde? “Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie ... is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie
... dit bedek alles, glo alles, verdra alles.” (1 Kor. 13:4-7) Kyk uit vir
mense met “frozen” harte en oorlaai hulle met jou liefde. |
|
“Maar ek is bang dat julle
gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan
Christus.” (2 Kor. 11:3) Hier is ’n waarskuwing dat ons nie verlei en
weggerokkel moet word van die Here nie, dat ons nie in ons toewyding moet
verslap nie. Dit lyk my ons gedagtes is die “probleemarea”. Dis waar die
bederf en verleiding kan intree. Dis waar ons moet waghou. Ons moet kies
waarmee ons gedagtes gevul word. Ons moenie toelaat dat die sorge van die
lewe, die gejaag na wind, die soeke na plesier, die begeerte na meer en
groter ons gedagtes besoedel en wegtrek van die Here af nie. “Rig julle
gedagtes op die dinge wat daarbo is ...” (Kol 3:2). Onverdeelde, suiwer,
toegewyde gedagtes. |
|
“Soos ’n wildsbok smag na
waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God.”
(Ps. 42:2-3) As mens honger is na iets, as jy iets baie graag wil hê, as jy
’n “craving” het na iets, dan oorheers dit jou gedagtes en maak jy allerlei
planne om daai begeerte te bevredig. Op dieselfde manier behoort ons ’n
hunkering en smagting na die Here te hê. Soos wat ’n dorstige persoon in die
woestyn net begaan is daaroor om water in die hande te kry, behoort ons
alles in die stryd te werp om die Here “in die hande te kry”, om meer van
Hom te weet, om ’n dieper belewenis van Sy teenwoordigheid te hê. Wees
honger daarvoor om Hóm die eerste en belangrikste plek in jou gedagtes,
begeertes, planne en keuses te maak. |
|
Van Abraham word daar in Rom 4:20 gesê: “No unbelief or
distrust made him wafer concerning the promise of God, but he grew strong
and was empowered by faith as he gave praise and glory to God. ”Ek het
besluit om hierdie as my 2014 vers aan te neem. Ek sien hierin ’n drie-punt
plan waarvolgens ek die nuwe jaar wil aanpak: (1) bly glo en vertrou God
100% met elke aspek van my lewe, my gesin, my werk en bediening (2) moenie
ophou om God te prys en te eer met woorde, lied en lewenswyse nie (3) laat
my geloof in God drie-enig my krag, sterkte en hoop wees en mag dit elke dag
toeneem. |
|
E-kerk
se Kernkrag vandag:
My ma
het graag gesê:
“Dis nie aldag Kersfees nie.”
Sy was reg. Nou lê daar weer ’n volle 365 dae voor onderweg na die volgende
een. Inderdaad, maar ons het nie regtig 25 Desember nodig om die boodskap
van Kersfees te vier nie. Jesus is die ware inhoud van hierdie dag... en van
elke ander dag wat God ons hier op aarde gun. Ons is nie van amptelike
godsdienstige feesdae afhanklik om God se reddingsdade in herinnering te
bring nie. Anders gestel, Kersfees gebeur ook op 26 Desember, en op elke
ander dag. Jesus is die Kind uit die hemel wat die Here is van elke fees wat
ons aanlê. Ook is Hy aanwesig by elke doodgewone dag in ons lewe. Ons mag
Jesus nie wegpak saam met al die Kersversierings en Kersmusiek tot en met
volgende feesgety nie. Jesus laat Hom in elk geval nie wegpak nie. Hy laat
Homself nie tem of makmaak tot ’n Kersfees-Jesus nie. Hy is die Here. Daarom
is Hy aanwesig by elke dag wat die naam vandag dra. |
|
“Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by
haarself daaroor nagedink.” (Luk. 2:19) Toe ek weer die Kersverhaal in Luk.
2 lees, het hierdie my opgeval. Ek het besluit dis wat ek hierdie Kersfees
wil doen. Alles wat gesing en gesê word oor die geboorte van Jesus, oor die
rede vir sy koms, oor die wonder van sy liefde, ens. wil ek in my hart
bewaar en vir lank nog daaroor nadink. Al die Kersfees wense wat mense vir
my gee, wil ek oordink en bewaar in my gedagtes, sodat dit my die hele jaar
met vreugde en blydskap kan bly vul. |
|
“Jesus
kind, lank verwag ... word uit liefde aan mense gelyk” – mooi woorde uit die
ou bekende Kersfeeslied, Stille Nag. Jesus het mens geword! Hy het sy troon
en sy kroon in die hemel prysgegee en Homself verneder, die gestalte van ’n
slaaf aangeneem, onder ons kom woon, gelyk geword aan ons (vergelyk Fil.
2:6-8). Hy het dit gedoen, sodat Hy in óns plek die straf vir die sonde kon
dra, sodat ons verlos, vrygespreek en vergewe kan wees. Sodat ons die lewe
in oorvloed kan hê, nou en vir ewig. Juig die Redder is dáár! |
|
“Daar is vir ons ’n Kind gebore! Dit is ’n Seun wat aan
ons gegee is! Hy sal oor ons regeer en sy koninklike titels sal wees:
Spesiale Raadsman, God wat sterk is, Ewige Vader, Koning van Vrede. Sy
Koninkryk en mag sal aanhou uitbrei en Hy sal vir altyd vrede bring.” (Jes.
9:5-6, Die Boodskap) Hoe wonderlik is hierdie boodskap nie. ’n Profesie wat
in vervulling gegaan het toe Jesus gebore is. ’n Profesie wat elke Kersfees
opnuut weer ’n realiteit in ons as Christene se lewe word. ’n Waarheid wat
my elke dag van die jaar moed en hoop gee. Daar is vir ons ’n Kind gebore! |
|
Dis amper Kersfees en oral is skitterende liggies wat
ons daaraan herinner. Daai liggies herinner my ook aan Joh. 1:9 wat sê: “Die
ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.” Ja, dis Jesus
se geboorte waarvan hier gepraat word. Die ware Lig het mens geword sodat Sy
strale vir ewig op ons kon val, sodat ons nooit weer in die donker hoef te
wees nie. Die ware Lig het die duisternis finaal kom oorwin. “Voor U ryk
moet die duisternis swig,” sing ons in Stille Nag. “Op ’n ander keer het
Jesus vir die mense gesê: Ek is die lig vir die wêreld, wie My volg, sal
nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh.
8:12) Hy ís nie net die Lig nie, Hy het Sy lig ook vir ons gegee, sodat ons
soos ’n lamp op ’n hoë lampstander in die middel van ’n vertrek kan wees wat
Jesus se lig, warmte en liefde kan uitstraal. “Julle is die lig vir die
wêreld,” sê Jesus in Matt. 5:14. Kom ons skitter saam met die
Kersfeesliggies. |
|
Baie keer beleef mense skuldgevoelens en
selfveroordeling oor sondes en verkeerde besluite van die verlede. Ons hoef
nie perfek te wees om vergewe te wees nie. As jy jou sondes bely en daarvan
wegdraai, sal die Here die res doen. Jesus het reeds die volle prys betaal
en Sy volkome vergifnis maak jou volkome vry. Verruil vandag jou
skuldgevoelens vir Sy onvoorwaardelike liefde en vind totale vryheid en
vrede. “Daarom steur ek my nie meer aan die verlede en al die dinge wat toe
skeef geloop het nie.” (Fil. 3:13, Die Boodskap) |
|
“Ek weet wat ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat
goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle
hoop vir die toekoms moet hê.” (Jer. 29:11, Die Boodskap) Ten spyte van wat
hierdie teks sê, ervaar ons tog in ons lewe dat daar slegte goed met ons
gebeur. Ons hoop moet egter op Jesus Christus gevestig wees dat alles
nogtans vir ons ten goede sal uitwerk. Ons moet vertrou dat Hy in beheer is
van ons lewens. Ons moet glo dat daar met alles wat met ons gebeur wel ’n
hoër, Goddelike doel is. Ons moet met vertrou sê: Here, ek onderwerp my aan
die planne wat U vir my het. |
|
“Ons word al meer verander om aan die beeld van
Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds
toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18) Ai, ontspan tog ’n
slag oor jou tekortkominge, jou foute en gebreke. Die Here het sy werk in
jou begin en Hy sal dit klaarmaak. Sy beeld en Sy heerlikheid sal al hoe
meer uit jou weerkaats word. Wees oorgegee aan Hom, geniet dit om jouself te
wees en vertrou Hom om jou te verander en te vernuwe. |
|
“I will not in any way fail you nor give you up nor
leave you without support.” (Heb. 13:5) So dikwels oorval ’n gevoel van
moedeloosheid, van alleenheid, van swakheid, van vrees ons. Dit gebeur veral
wanneer ons op eie krag staatmaak of na mense kyk vir hulp en uitkoms.
Verskuif opnuut weer jou vertroue na die Almagtige Helper. Hy is daar vir
jou. Wanneer jy nie kan nie, kan Hy. Wanneer jy nie weet hoe nie, weet Hy.
Wanneer jy swak is, is Hy sterk. Wanneer jy raadop is, het Hy die wysheid.
Wanneer jy siek is, is Hy die Geneesheer. Wanneer jy klein en alleen voel
is, is Hy die ewige Vader wat versorg en voorsien. Hy sê: “I will not, I
will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake nor let
you down.” (Heb. 13:5) Ek glo Hom! |
|
“That I may have knowledge of Him.” (Fil. 3:10) Nadat
ek Sondag hierdie teks agterop iemand se T-hemp gesien het, het dit net in
my gedagtes bly maal. Al wat ek wens is om Christus te ken. Een ding wat ek
nou regtig wil hê, is om Christus te ken. Dit behoort my lewensdoel te wees,
alles behoort daarop ingestel te wees om Hom beter, dieper, intiemer, meer
persoonlik te ken. Ek wil ’n groter verstaan hê van die wonderlikheid van
Hom as Persoon, ’n duideliker beeld van Hom as Almagtige God, ’n dankbare
verwondering oor Hom as Verlosser, as Immanuel, as ewige Koning. “... om
Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” (Fil. 3:8) |
|
“... na waters waar rus is” (Ps.
23:2) Ons moet seker maak dat ons dikwels na die rustige waters van die Here
se teenwoordigheid gaan. Ons moet dit as ’n stil rusplek opsoek, sodat ons
die Here daar kan ontmoet, sodat ons daar ál ons aandag net aan Hom kan gee.
Sorg vir stilword-oomblikke deur die dag waarin jy jou gedagtes op die Here
kan rig. Lees miskien ’n Bybelgedeelte of inspirerende stukkie, bid, sing ’n
loflied, luister na ’n mooi aanbiddingslied of sit net in stilte. Só sal jou
siel verkwik word, sal vrede oor jou daal, sal jy wysheid en krag vind vir
die volgende tree van die dag. Iemand het gesê: “Silence can teach us more
in a moment than all the noise in the world ever could.” |
|
Ek het dié vandag op e-kerk gelees:
“Na my man se dood het my lewe geen sin gemaak nie,”
vertel die tannie my. Toe gaan sy voort:
“Later
het ek ophou kosmaak en mooi aantrek. Op ’n dag loop ek deur ’n
winkelsentrum en kyk lusteloos na nuwe stowe wat mense by ’n stalletjie
verkoop. Uit die bloute vra die jong verkoopsman of ek van die stoof hou.
Toe ek begin wegstap, loop hy agter my aan,” vertel sy.
“Tannie,
hierdie stoof is tannie s’n.”
“Hoekom?”
“Tannie,
dit voel of die Here wil hê ek moet dit vir tannie gee,” antwoord hy.
Toe is die dame daar weg met n gratis, peperduur stoof. Asof uit die bloute
het die Here se vreemde genade daardie oggend haar lewe met nuwe hoop gevul.
"Nou lag ek weer," sê sy.
Soms is die lewe so hard soos klip. Dan maak niks meer sin nie. Tog vergeet
die Here nooit sy aardse eiendom nie. Hy ken ons diepste seer en grootste
alleenheid. Dan stuur Hy sy genade in verskillende vorms en verpakkings na
ons toe. Dikwels is ander mense die sigbare uitdrukkings hiervan. Wil jy nie
ook toelaat dat die Here jou as sy lewende noodhulp gebruik nie? Hy wil
graag iemand anders deur jou seën. |
|
“Wees volmaak soos julle Hemelse Vader volmaak is.”
(Matt. 5:48) Hoe hard ek ook al probeer om volmaak te wees, maak ek steeds
die hele tyd foute. Om voortdurend te probeer om God en mense tevrede te
stel is ’n nimmereindigende stryd en kan frustrerend wees. “Teoreties” is ek
volmaak en heilig omdat Jesus vir my sondes gesterf het en ek Sy
volmaaktheid geërf het. Maar ”prakties” is ek nog daagliks op ’n groeipad,
“... growing into complete maturity of godliness in mind and character,”
(Matt. 5:48, The Amplified Bible). Gelukkig stap die Here die pad saam met
my en lei Hy my trappie vir trappie om meer en meer volmaak soos Hy te wees.
|
|
“Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees,
hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op
groen gras” (Miga 5:6) Ons weet hoe verfrissend ’n reënbui kan wees wanneer
alles vaal en vuil en verdor is. Ons weet watter groot verskil ’n lente-reën
aan ons hoëveldse winter-grasperke kan maak. Ons weet hoeveel vreugde ’n
kleurvolle blomtuin kan bring. Net so moet ons as Christene die wêreld om
ons verfris en verfraai en verbly. Ons kán, want ons het die Gees in ons,
die Gees wat ons geduldig, vriendelik, goedhartig, nederig en liefdevol maak
... mag jy vandag soos dou en ’n stortreën wees! |
|
“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot
volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:9) Heel dikwels fokus ons op
ons swakhede en tekortkominge. Dan hou ons sommer nie van onsself nie en
voel minderwaardig, onvergenoeg en kwesbaar. Geen menslike swakheid is egter
vir die Here ’n verassing nie. Die Bybel sê hy weet waarvan ons gemaak is.
Die positiewe ding van ons swakhede is dat dit ons dwing na Christus as
kragbron; dit leer ons om op Sy krag staat te maak en nie op ons eie krag
nie. Dit gee ons ’n nuwe lewens motto: as ek swak is, is ek sterk! |
|
“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal
God sien.” (Matt. 5:8) Jesus was gewillig om die prys te betaal sodat ek
vergewe en vrygemaak en rein kan wees. Is ek nou gewillig om die prys te
betaal, keuses , aanpassings en opofferings te maak om ’n suiwer en rein
hart en opregte lewenswyse na te streef? Dit sál wel uiteindelik ’n seën
inhou. Skep vir my ’n rein hart, o God... |
|
Wees bly op die dag van
voorspoed, en as daar 'n dag van teëspoed kom, sien dit so: soos die een het
God ook die ander gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie
(Pred 7:14) |
|
Rom 8:37 - “Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Baie keer dink mens om oorwinnaar
te wees beteken om allerlei probleme en moeilike omstandighede te omseil, of
om die beste of eerste te wees. Ware oorwinning kom eintlik wanneer jy
stil-tevrede in jou binnekant kan wees te midde van ’n storm wat buite om
jou woed. Wanneer jy ten spyte van siekte, tragedie of terugslag steeds kan
sê: it is well with my soul. Dit is net moontlik as jy op die Here fokus en
nie op jou omstandighede nie. Ons is oorwinnaars “deur Hom”. Laat die Here
toe om jou innerlike te vernuwe en sterk te maak, dan sal jy “al hierdie
dinge” kan trotseer en oorwin. |
|
In Matt. 11:29 sê Jesus dat ons Sy juk op ons moet neem.
Dit beteken dat ons bereid moet wees om langs Hom te loop, om vasgemaak te
wees aan Hom, om oorgegee te wees aan Sy leiding en Sy wil. Dit beteken dat
ons ons eie reg moet prysgee en Hom toelaat om die stuur oor te neem. Kyk
net wat sal die opbrengs vir ons wees as ons dit doen: “... you will find
rest (relief and ease and blesses quiet) for your souls” (Matt. 11:29,
Amplified Bible)Dis beslis die moeite werd! |
|
Ps. 42:9 “U het golf na golf oor my laat slaan. Tog sal
die Here weer op ’n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ’n lied
vir Hom sing, ’n gebed tot die God van my lewe.” Al gaan dit hóé moeilik is
die Here steeds dáár, al lyk dinge hoe donker, is Hy steeds in beheer. Daar
is soveel voorbeelde van mense in die Bybel wat ten spyte van hulle
omstandighede nie opgehou het om lof aan die Here te bring nie. Dink maar
aan Job wat sê: “Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die Naam van
die Here.” Dink aan Paulus en Silas wat half doodgeslaan in die tronk sit en
steeds ’n loflied sing. Of Jona wat in die diepte van die see afgesak het en
terwyl golwe om hom slaan, sing hy ’n loflied tot God (Jona 2:9). Of Habakuk
wat ten spyte van groot onsekerheid sê: nogtans sal ek in die Here jubel!
Kom ons leer by hulle en laat nie toe dat ons omstandighede ons loflied aan
die Here uitdoof nie. Verbly jou in die Here! |
|
“God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook
moes rondtas om Hom te vind.” (Hand 17:27) Alle mense soek God! Hulle weet
daar is ’n Skepper, ’n Mag groter as hulleself, ’n groter rede en doel om
voor te leef. Ongelukkig soek baie mense op die verkeerde plek om hierdie
leemte te vul en beland hulle in vreemde gelowe, aanbid hulle dooie afgode,
maak hulle staat op hulle self of hulle dade om hulle soeke te bevredig.
Hulle tas as’t ware in die duister rond, sonder om God te vind. Kyk vandag
om jou rond wie dit is wat so rondtas om die Here te vind, en stel hulle
voor aan die ware Koning, die ware Verlosser, die liefdevolle Vriend, Jesus.
Help hulle om van hulle blinddoeke ontslae te raak, skakel die lig vir hulle
aan, sodat hulle ware volheid, vrede en rus by Jesus kan vind. |
|
“Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.”
(Hand 17:25) Die Here het ons lewe vooruit beplan, ons liggame
aanmekaargeweef, ons is die werk van Sy hande, Hy het Sy asem in ons geblaas.
Daarom sal Hy ons nie los nie, Hy sal vir ons sorg, Hy sal vir ons voorsien.
Dit is Hy wat elke asemteug voorsien, die daaglikse brood, die krag om te
werk, die lewe! Aanvaar dit vandag uit Sy hand en leef voluit. |
|
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof
met alle vreugde en vrede vervul” (Rom 15:13) Vreugde en vrede is die
uitvloeisel van my verhouding met die Here, ’n noodwendige gevolg van my
geloof. Sy teenwoordigheid in my lewe bring “oorvloedige blydskap”, aldus
Ps. 16:1. Toe ek Jesus aangeneem het as Verlosser en Here van my lewe, het
Hy, as Prins van Vrede, in my kom woon en hou sy vrede wag oor my hart en
gedagtes. Hy belowe in Joh. 14:27: “Vrede laat ek julle na; my vrede gee Ek
julle.” Mag jy vandag vervul wees met dié vrede en vreugde wat alle verstand
te bowe gaan! |
|
“Waarlik, golwe van die dood het my omsluit, strome van
onheil het my verskrik. Bande van die doderyk het my vasgetrek, strikke van
die dood het my bedreig. In my nood roep ek na my God. In sy paleis hoor Hy
my geroep. Ek roep na Hom om hulp en Hy luister na my.” (2 Sam 22:5-7)
Hierdie lys goed wat verkeerd geloop het in Dawid se lewe laat my dink aan
die uitdrukking: it never rains, but it pours. Baie keer voel dit mos vir
mens of alles net skeef loop, die een na die ander probleem duik op en
uiteindelik vole jy só depressief, paniekerig en moedeloos dat jy sommer die
Here begin blameer of bevraagteken. Wanneer ek hierdie loflied van Dawid in
2 Sam 22 lees, dan wéét ek dat ek myself moet “programmeer” om in die
moeilikste omstandighede nie te kla of te mor nie, maar na die Here uit te
roep. Hy sál hoor. Niks is buite Sy beheer nie, Hy sál Sy arms onder my
inskuif sodat ek staande sal bly, Hy sál sorg vir ’n uitkoms, Hy sál my
uitlig uit die “golwe van die dood”. Dan kan ek maar begin om die loflied te
sing... |
|
“Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle
slaap.” (Ps. 127:2) Dit beteken tog seker nie dat ons nie hard hoef te werk
en skouer aan die wiel sit om ons dagtaak verrig te kry nie? Dit beteken tog
seker nie dat ons al slapende kan wag op die Here se voorsiening en seëninge
nie? Ek dink dit beteken eerder dat ons die Here blindelings kan vertrou om
op die regte tyd en die regte plek vir ons te gee wat ons nodig het (LW, wat
ons nodig het en nie wat ons begeer of wat óns dink ons nodig het nie) “Laat
jou lewe aan die Here oor ... Hy sal sorg.” (Ps. 37:5) |
|
“As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat
daaraan bou, tevergeefs.” (Ps. 127:1) Die woord “tevergeefs” word nóg twee
keer in die res van dié Psalm genoem. Dit beklemtoon dat die Here die rede
en die middelpunt van alle aspekte van ons lewe moet wees. Sonder Hom is
alles nutteloos, waardeloos en vrugteloos. Hy moet die spil wees waarom ons
werkslewe, gesinslewe, ons kerk, ons stad, ons sport ens. draai. Ons kan
geen krediet vir ons prestasies en vermoëns vir onsself vat nie – alles wat
ons het en waartoe ons in staat is, is ’n gawe en seën uit Sy hand. Ek erken
vandag weer Sy beheer oor elke aspek van my lewe en wy alles in
afhanklikheid en vertroue aan Hom toe. |
|
Ons is besig met die laaste voorbereidings vir ons 11e
kamp vir gestremdes wat hierdie naweek plaasvind. Ons is baie opgewonde
daaroor en voel so geseënd dat die Here dié geleentheid vir ons gee om
betrokke te wees by persone met gestremdhede. Ons sien uit om weer ’n
klompie nuwe mense te ontmoet, saam met almal te kuier, pret te hê en baie
te lag (... ons sal seker maar weer huil ook!). Ons sien ook uit daarna om
deur ons tema, “Die moed van ’n leeu”, te ervaar dat die Leeu van Juda se
krag in ons teenwoordig is. Ons hoop dat almal weer die lewe met leeue-moed
in die oë sal kyk en ten spyte van tekortkominge of probleme oorwinnaars sal
wees in die daaglikse lewe. Bid asb. vir ons almal se veiligheid en
gesondheid, vir ontvanklikheid en groei. Bid asb. dat al die reëlings-drade
suksesvol bymekaar sal uitkom en dat die Here die kamp sal seën. |
|
Ek het dié vandag op e-kerk gelees:
Die bekende komponis, Joseph Haydn (1732-1809) se orkes was doodmoeg. Hulle
hertog het hulle ’n vakansie beloof, maar hy het dit aanhoudend uitgestel.
Haydn se oplossing was toe om sy bekende Afskeid-Simfonie te skryf in 1792.
Soos wat hierdie musiekstuk ontvou, raak een musiekinstrument na die ander
stil. Haydn het toe vooraf gereël dat elke musikant ’n kers voor hulle
neersit en dit doodblaas en afstap as hulle stukkie musiek klaar gespeel is.
So het dit aangehou totdat die verhoog leeg was. Die hertog het dadelik die
boodskap gekry en hulle vakansieverlof toegestaan. Dit klink vir my al te
veel na Spreuke se soort wysheid. Soms is daar ’n beter manier as woorde om
iets gedoen te kry. Stilbly is beter. Wegstap ook, selfs al weet jy dat jy
reg is. Die grootste oorwinnings wat die Here se kinders behaal is juis om
’n ander wang te draai en ’n tweede myl te loop, soos wat Jesus ons in
Matteus 5 leer. Vra die Here om jou met sy soort wysheid te oorlaai sodat jy
sal weet hoe om in elke situasie reg op te tree. Dan gebeur jou grootste
oorwinnings in Jesus se Naam woordloos, mooi en sag! |
|
“As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg
in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer
sy bes om dit reg te kry.” (2 Kor. 2:11, Die Boodskap) Sjoe, dis darem maar
baie reguit gesê en dit laat my sommer koud word van skrik as ek besef dat
bakleiery in Satan se speelveld hoort. Rusies en verdeeldheid is praktyke
van die sondige natuur, sê Gal 5:20. Bakleiery en onmin pas nie by Christene
nie en dit kan boonop jou verhouding met die Here vertroebel en keer dat Hy
jou gebede beantwoord. “As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe
moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle
nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie.” (1 Tim 2:8) Is dit
nie dalk nou die tyd om te vergewe en die onmin uit die weg te ruim nie? |
|
“Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom. Ons glo in
Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat.” (2 Kor. 4:13, Die
Boodskap) Wanneer ons Jesus leer ken het, wanneer ons sy genade beleef en sy
voorsiening en versorging geproe het, kan ons nie daaroor stilbly nie. Dan
sal lof aan Hom oor ons lippe borrel. Dan sal ons skaamteloos van sy liefde
getuig, tydig en ontydig. Dan sal ons Sy getuies wees, Sy woord verkondig,
Sy storie vertel. Dan sal die Heilige Gees vir ons vrymoedigheid en die
regte woorde gee. Dan is stilbly nie ’n opsie nie ... |
|
Die Bybel praat in 2 Kor. 3:3 daarvan dat ons lewende
briewe van Christus is en dat mense met wie ons elke dag te doen het, dié
brief kan (en moet) lees. Hulle moenie raaksien hoe mooi of kosbaar of duur
die papier is waarop die brief geskryf is nie, hulle moet die woorde en die
Skrywer, Christus, raaklees. Hy kan in elk geval enige verfrommelde
papiertjie vir Sy boodskap gebruik. Dit gaan nie oor ons wat die brief is
nie, maar oor Hom wat die woorde van die brief geskryf het. Mag ons lewe
vandag ’n getuigskrif wees van die Here se liefde en goedheid en mag ons
lewe ’n aanbevelingsbrief wees wat die mense om ons bekend stel aan die
Skrywer, Jesus Christus. |
|
Die dominee sê nou die dag by die Bybelstudie ons, as
volgelinge van Christus, moet dié prentjie van onsself hê: as ons in ’n
plek instap moet dit wees asof die ligte so pas aangegaan het. Dit is só
waar, want die Woord sê tog dat ons die lig van Christus in ons het en dat
ons ’n aangename geur versprei wat mense van Jesus bewus maak. Wanneer ons
in ’n vertrek inkom moet mense ’n verskil ervaar. Ons positiewe woorde,
warmte, vriendelikheid, geduld, nederigheid, deernis, ens. moet soos ’n
helder lig uitstraal en soos ’n wonderlike aroma in die vertrek bly hang. Dis
’n voorreg en ’n opdrag wat ons het ... hoe vaar jy daarmee? “Ons is soos ’n
aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die
wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen
het, weet daarvan...” (2 Kor. 2:15) |
|
“Christus het nooit enige sondes gedoen nie. Maar God
het Hom aan die kruis in ons plek in sonde verander. Hy het al ons sondes
daar op Christus afgelaai sodat ons wat in Hom glo se verhouding met God nou
herstel is” (2 Kor. 5:21, Die Boodskap) Aan die kruis het Jesus hierdie
wonderlike uitruiling bewerk. My sondes is op Hom gestapel, Sy sondeloosheid
het oorgeskuif op my. Hy het sonde geword, ek het rein geword. Hy het
gesterf, ek lewe. Dis mos nou goeie nuus vir dié wat glo! |
|
“Wat julle sê moet altyd vriendelik wees en van goeie
smaak getuig.” (Kol 4:6) Hier is nou ’n duidelike opdrag tot vriendelikheid.
Dit behels nie net ’n vinnige, oppervlakkige glimlag nie. Dit beteken dat
ons hoflik moet wees, ander met respek moet behandel, dat ons liefdevol en
gaaf en gasvry moet wees. Dit beteken dat ons mededeelsaam en toegeeflik
moet wees. Die moeilike toets lê natuurlik daarin dat ons vriendelik sal
wees met vriend én vyand, dat ons hoflik sal wees al word ons sleg behandel,
dat ons gaaf sal wees met mense wat dit nie verdien nie. Ongelukkig moet ek
bely dat ek vêr te kort skiet op vriendelikheid, maar dat ek dit weer as ’n
doel voor my stel en die Heilige Gees vra om my te help daarmee. |
|
Nog iets oor vriendelikheid:
“Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die
koning tot vriend.” (Spreuke 22:11) Mense vermy iemand wat altyd kla en mor
en met ’n lang gesig rondloop. ’n Vriendelike persoon trek mense na hom toe
aan. Mense wíl in sy geselskap wees. Vriendelikheid maak vir jou deure oop
na mense, dit skep vir jou geleenthede om naby aan hulle te kom. Jou
vriendelikheid bring mee dat mense Jesus in jou kan sien en dit sal meewerk
dat hulle ontvanklik sal wees wanneer jy met hulle oor Hom wil praat.
Gebruik elke geleentheid om vriendelik te wees! |
|
“Ons het onberispelik opgetree, met begrip,
verdraagsaamheid en vriendelikheid” (1 Kor. 6:6) Dit is darem maar baie
lekker om aan die ontvangkant hiervan te wees. As ons met met begrip en
verdraagsaamheid hanteer word maak dit die lewe vir ons sommer baie makliker.
As mense ons met vriendelikheid ontvang in hulle huise, kantore of besighede
laat dit ons welkom voel. Kom ons draai dit dan om en doen aan ander soos
wat ons aan onsself gedoen wil hê. Kom ons betoon vandag begrip,
verdraagsaamheid en vriendelikheid – dít is die onberispelike optrede wat
God van ons verlang. |
|
“Meneer, u bewys my ’n guns, u laat my goed voel, u is
vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.” (Rut 2;13) Dit
maak ’n groot verskil aan mens se selfwaarde as iemand vriendelik is met jou
en jou laat goed voel oor jouself. Doen dit bietjie vandag met jou huismense,
kollegas en selfs vreemdelinge en kyk hoe hulle blom. Vriendelikheid word
per slot van rekening in Gal 5:22 genoem as ’n vrug van die Gees – dis seker
dié dat vriendelikheid vir jou deure kan oopmaak na mense se harte – probeer
dit gerus! |
|
Dit gebeur nogal heel dikwels dat Christene van mekaar
verskil oor die betekenis van sekere geloofswoorde of Bybelfrases, of oor
iets wat kwansuis ’n dwaling is al dan nie. Hulle kan dan vir ure in ’n
stryd en rusie gewikkel wees en “is”, “is nie” heen-en-weer slinger. Dikwels
staaf elkeen nog sy mening uit die Bybel uit ook en kraak die ander een
sommer af as on-Christelik omdat hy die saak anders sien. In 2 Tim 2 lees
ek meer as een waarskuwing hieroor. Vers 14 sê bv. dat hierdie soort stryery
einde moet kry omdat dit nêrens heen lei nie en nie opbouend is nie. Vers
16 sê dat sinlose praatjies vermy moet word omdat sulke woorde “sal
voortvreet soos kanker”. Vers 23 weer sê: “moenie in belaglike argumente
betrokke raak en met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle
aan die baklei raak”. ’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie! Kom
ons neem dit ter harte. |
|
My liewe wederhelfte het gister met gróót pyn,
veroorsaak deur ’n niersteen, in die hospitaal beland. Ek glo daaraan om in
elke omstandigheid iets positief te probeer uithaal, daarom het ek vir
myself hierdie 5 “lesse” neergeskryf wat ek geleer het tydens dié storie:
(1) jou planne kan in ’n oogwink omgekrap word – weet dit kan gebeur en maak
vrede daarmee. (2) waardeer elke gesonde dag wat sonder voorvalle verloop
meer intens. (3) wanneer jy in ernstige pyn verkeer, of as jy die een is wat
die sieke se hand moet vashou, ontbreek die krag en woorde om te bid. Hoe
wonderlik om dan te weet jy het vriende en familie wat namens jou bid en wie
se SMS’e jou hande hoog hou en jou gemoed kalmeer. (4) Dokters werk baie
hard, vir baie lang ure en dra groot verantwoordelikheid. Bid meer vir hulle
vir wysheid en krag en bemoedig hulle. (5) Byt vas, die pyn sal wel skiet
gee en dit sal weer beter gaan. Dis met groot dankbaarheid dat ek kan sê
manlief is nou weer tuis en lyk sommer stukke beter! |
|
2 Kor. 5:20 praat daarvan dat ons gesante van Christus
is, sy ambassadeurs, sy verteenwoordigers, sy medewerkers. Paulus sê in
hierdie teks: “Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom.” Die Here wil
Homself aan die wêreld bekendstel deur ons. Ons moet namens Hom praat en
namens Hom doen. Na my mening is die wêreld op soek na iets tasbaar, na
bewyse dat God vir hulle omgee. Mense soek liefde en omgee en dit is op
hierdie praktiese, hande-en-voete-wees-vlak waar ons Sy verteenwoordigers en
medewerkers moet wees. Dink daaraan as jy met mense te doen het vandag.
|
|
Ek het dié gister in
die kerk gehoor: die Here is agter my om die foute, die ongehoorsaamheid,
die versuim van my verlede uit te vee. Hy moedig my aan by die wenstreep met
die oorwinnaarskroon in sy hand. “...laat
ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop” ( Heb 12:1)
|
|
“Moet asseblief nie die genade wat God aan julle bewys,
ignoreer nie. Hoor net wat sê Hy in die Bybel: “Op presies die regte oomblik
het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy my bitter nodig gehad het,
het Ek jou gehelp.” Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding
is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers
laat glip nie.” (2 Kor. 6:1-2, Die Boodskap) God se hand van genade is
uitgesteek, Hy bied dit vandag weer vars aan almal – nou, hier, op hierdie
oomblik. Elkeen wat dit glo en aanvaar en dit nie ignoreer nie, is gered, is
’n kind van God en ontvang die ewige lewe. Dit alles is verniet! Moenie dit
deur jou vingers laat glip nie – vat dit, dis vir jóú! |
|
“Here help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om
versigtig te wees met wat ek sê.” (Ps. 141:3, Die Boodskap) Dis vandag maar
weer my gebed ook, want ek weet woorde wat te vinnig uitborrel kan seermaak,
afbreek, verkleineer of beledig. Ondeurdagte woorde kan negatiewe gevolge
vir jou inhou, of kan verhoudings vertroebel en vriendskappe opbreek. Skerp
woorde kan nie teruggetrek word nie, al is jy hóé spyt daaroor. Wysheid is
om jou woorde te oordink en te weeg voordat jy dit sê. Ons woorde moet ander
bemoedig en opbou. Dit moet hulle beter laat voel. Dit moet hulle laat
glimlag. Dit moet vir hulle vrede bring. Daar is baie geleenthede hiervoor –
sien dit raak en doen dit. Mag die Here ons help! |
|
“Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike
bouwerk op enige ander fondament help niks nie.” (1 Kor. 3:11, Die Boodskap)
Ek wil net weer seker maak dat my geestelike huis op die Rots, Jesus, gebou
is. Dit is die enigste manier om staande te bly wanneer storms, vloedwaters
en winde aankom. Dit is makliker om ’n huis op sand te bou as om hard te
werk om ’n goeie, stewige fondasie te bou. Die huis op die sand sal bly
staan solank die omstandighede goed is, maar die oomblik as daar bietjie
wind van voor is, of as daar ’n storm opsteek, gaan die huis nie bly staan
nie, al was die bouwerk hoe mooi. Wanneer die storms van die lewe opsteek
sal die fondasie van my geloof getoets word. Ek wil nie onkant gevang word
nie ... ek wil soos die wyse man wees, hard werk en my huis op die Rots bou! |
|
Meer en meer soos Jesus – dis baie van ons se begeerte
en strewe in ons Christelike lewe. Wanneer Jesus in Matt. 11:29 sê: “...
leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart”, dan is dit ook
eienskappe waarna ons moet strewe. Om sagmoedig te wees beteken nie dat jy
swak is, of ’n vloermat moet wees nie. Dit beteken dat jy saggeaard, minsaam
en vriendelik sal wees en dat dít respek by ander sal afdwing. Hierdie
aanhaling sê dit vir my so mooi: “Nothing is so strong as gentleness.
Nothing is so gentle as real strength.” Die Bybel sê mos ook: geseënd is die
sagmoediges! |
|
“You can’t calm the storm ... so
stop trying. What you can do is calm yourself. The storm will pass.” So lui
’n aanhaling wat ek nou die dag êrens gelees het. Om kalm te bly in moeilike
tye vra dat jy die Here ten volle moet vertrou, dat jy met alles in jou sal
bly glo dat Hy alles weet en in beheer is, dat jy rustig sal raak ten spyte
van die golwe wat om jou slaan, dat jy jou oë op die Here sal hou en nie op
die storm nie. “Jou krag lê in stilwees en vertroue hê” (Jes. 30:15) |
|
Iemand het hierdie week weer my aandag gevestig op Ps.
116:15. “Vir die Here is die dood van sy getroue dienaars geen geringe saak
nie.” Dit is seker hoekom Jesus gehuil het toe Hy gehoor het van die dood
van sy vriend, Lasarus (Joh. 11:35). Of hoekom Hy Hom gaan afsonder het op
’n stil plek nadat Hy van Johannes die doper se dood gehoor het (Matt.
14:13). Wanneer een van ons geliefdes sterf, is dit nie vir die Here ’n
geringe saak nie. Hy is nie onbetrokke nie, Hy staan nie eenkant nie, Hy
draai nie sy rug nie. Wanneer ons huil en treur oor die dood van iemand, glo
ek die Here huil saam met ons. Hy sien ons trane, Hy weet van ons pyn. Mag
jy ervaar dat die Here saam met jou treur, mag jy ervaar dat Hy jou trane
afdroog, mag jy ervaar dat Hy sy hand na jou uitsteek en jou weer uitlig uit
die donker van jou rou-tyd. |
|
“Niemand kan in ’n geheime plek wegkruip sonder dat Ek
hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die
Here.” (Jer. 23:24) Ek is altyd oorweldig wanneer ek aan God se
alomteenwoordigheid dink. Alles gebeur in Sy teenwoordigheid. Daar is nie ’n
plek so diep of so donker, so vêr of onheilig dat Hy nié daar teenwoordig is
nie. Alles is oop voor Hom, niks kan vir Hom weggesteek word nie. “All of
what He is, can be found in every place,” het iemand dit gestel. Sy krag, Sy
liefde, Sy helpende hand is beskikbaar in elke plek en in elke situasie
waarin jy jou mag bevind. |
|
“Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat en
hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en
nie water hou nie.” (Jer. 2:13). Sonder die Here en sonder die
teenwoordigheid en werking van Sy Gees in ons is ons doelloos en nutteloos,
soos ’n waterbak wat nie water kan hou nie. Draai weer na die Bron van
lewende water, laat toe dat Sy Gees jou volmaak en soos ’n stroom lewende
water uit jou binneste vloei. Here, maak ons soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jes. 58:11) |
|
“He foreordained us (destined us,
planned in love for us) to be adopted as His own children through Jesus
Christ” (Ef. 1:5) “Hy het dit besluit om geen ander rede as dat Hy dit graag
vir ons wou doen nie” (so lees hierdie teks in Die Boodskap). Die Here neem
ons aan as Sy kinders, Hy ontvang ons as lede van Sy familie en Sy huisgesin.
Dit is Sý keuse van altyd af, Hy doen dit omdat Hy wil, Hy doen dit omdat Sy
liefde vir ons oneindig groot is. Jy hoef nooit weer eensaam, alleen of
verwerp te voel nie – jy het ’n ewige plek as een van God se kinders. |
|
Uit 1 Joh. 5:18-20 lees ek hierdie
drie goeie nuus feite: Jesus het gekom, ons behoort aan God, die duiwel kry
nie ’n houvas op ons nie. Ek kies maar net weer vandag om my gedagtes op
hierdie goeie nuus te fokus en nie afgetrek te word deur die wêreld se
slegte nuus nie. Ek kies om myself te programmeer op grond van hierdie goeie
nuus en nie op grond van dit waaroor die koerante skryf en die mense praat
nie. Hierdie is die beste nuus – ek hoop jy vat dit ook vir jou dag, jou
week en jou lewe! |
|
“The 10 commandments are not a multiple choice”, so
lees ek nou die dag êrens. Ons kan nie kies watter van die Here se gebooie
en voorskrifte ons wil nakom nie. Hy vra gehoorsaamheid, Hy vra dat ons ons
rug moet draai op die verkeerde dinge, dat ons sonde moet haat, dit van ons
afgooi, daarteen moet veg, dat ons nie slawe van die sonde moet wees nie.
“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie ... Iemand wat ’n kind
van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly.” (1
Joh. 3:6,9) |
|
Ek lees nou die dag dié aanhaling: “What you think of
yourself is much more important than what others think of you.” Ek dink die
meeste van ons steur ons heeltemal te veel aan ander so opinie van ons. Ek
wil sommer hierdie uitdrukking oorskryf en sê: wat die Here van jou dink is
belangriker as wat jy van jouself dink. Glo eerder wat Hý oor jou sê en hoe
Hý oor jou voel as wat jy ander mense se mening glo of op jou eie gevoel oor
jouself staatmaak. Hier is wat Hy van jou dink: “Hy
is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig
oor jou.” (Sef 3:17). |
|
“Selfs as daar dinge is waaroor ons skuldig of onseker
mag voel, weet ons dat God groter is as al ons skuldgevoelens of onsekerhede”
(1 Joh. 3:20) Gelukkig weet God alles. Hy weet wanneer ek twyfel, of wanneer
my gewete my aankla, Hy weet van die tye wanneer ek voel ek is nie goed
genoeg, of wanneer ek voel dat ek Hom nie lief genoeg het, of gehoorsaam
genoeg is nie. Hy weet natuurlik ook dat Jesus betaal het vir elke
tekortkoming van ons kant af, daarom kan ons rus in die sekerheid dat Hy ons
vergewe het en dat ons aan Hom behoort. Ons kan met vrymoedigheid in sy
teenwoordigheid kan wees, want “daar is dus nou geen veroordeling vir dié
wat in Christus Jesus is nie. “ (Rom 8:1) |
|
“He chose us (actually picked us out for Himself as His
own) in Christ before the foundation of the word.” (Ef. 1:4, Amplified
Bible). Ons is elkeen individueel deur God uitgekies om aan Hom te behoort.
Dit was sy plan reg van die begin af. Nog voor die skepping het Hy my
redding in gedagte gehad, toe al het Hy my gekies om aan Hom te behoort. Hoe
wonderlik is dit nie? Dis alles eintlik net te groot vir my om te verstaan
of te probeer beredeneer. Ek vat dit maar net as ’n waarheid en laat dié
sekerheid in my hart en gedagtes kom lê dat ek spesiaal en belangrik is vir
Hom. As Hy my lankal uitgekies het as sy eiendom, sal Hy my nooit ooit weer
los nie! |
|
Lees bietjie hierdie reguit opdrag / raad wat ons in 1
Pet. 2 vind: “Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie
werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle
verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle
julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is.
Wat regtig saak maak, is dat julle liewers maar hierdie onbillike optrede
van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die
skande gesteek word nie.” (1 Pet. 2:18-19, Die Boodskap). Sjoe, dis nie so
maklik om hierby te hou nie, maar sekerlik tog die moeite werd, want
uiteindelik gaan dit oor God se eer en nie oor ons gevoelens nie. Kom ons
probeer maar weer ... |
|
Die koning het vir Daniël gesê: “Werklik, julle God is
die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar
geheime.” (Dan 2:47) Dit is wat koning Nebukadnesar oor God sê. ’n
Hoogmoedige koning wat God nie ken en aanbid nie, wat God se volk onderdruk,
wat wil oordeel oor lewe en dood, wat mense se Godsdiens wil beheer. Hy eer
God op grond van wat Daniël gedoen en gesê het. Mag ek en jy ook maar so
praat en lewe dat goddeloses sal neerbuig en ons God eer; mag ons ook
gedurig liefde en wysheid uitleef en met sekerheid van ons geloof getuig
sodat dit ’n invloed in ons leefwêreld sal hê. |
|
Ek lees in 1 Pet. 2:17 van vier
dinge wat ons kan doen om die Here bly te maak: (1) behandel almal beleefd
en gemanierd (2) wees liefdevol en lojaal teenoor mede-Christene (3) erken
God as die groot en magtige Heerser (4) respekteer die leier van ons aardse
regering. Dis redelik reguit gesê en vir my is dit nie vier dinge wat sommer
net natuurlik kom nie. Kom ons streef daarna, kom ons vra die Heilige Gees
om ons gedagtes en woorde en optrede te beheer sodat ons elke dag meer en
meer van hierdie vrug sal dra. |
|
“Die Here het ’n plan daarmee as
julle elke dag so positief leef” (1 Pet. 2:15, Die Boodskap) Om positief te
leef beteken nie net dat jy altyd opgeruimd en tevrede is nie. Dit beteken
nie net dat jy die glas as halfvol en nie halfleeg sien nie. Dit beteken ook
nie dat jy jou probleme net ontken en maak of alles net goed is nie. Om
positief te lewe beteken dat jy kies om die regte dinge te doen, al doen
niemand anders dit nie. Om positief te lewe beteken dat jy sal uitstyg bo
jou moeilike omstandighede. Om positief te lewe beteken dat jy die Here se
hand in alles sal raaksien. Om positief te lewe beteken dat jy na die goeie
in elke mens en in elke situasie sal soek. So ’n positiewe lewe sal die Here
se Naam eer en ’n invloed op die mense om jou hê. Ek hoop jou “-“ kan vandag
’n “+” word! |
|
Om die Here te prys beteken om aan Hom bekend te maak
dat ek Hom bewonder en respekteer, om Hom te vertel hoe goed, groot en
wonderlik Hy is, om met dankbaarheid uit te jubel wat Hy vir my beteken en
vir my gedoen het. Dit kan ek doen in gebed, in ’n lied, met ’n gedig, met
’n dans of met ’n sagte versugting. Ek kan dit in stilte doen of met ’n
groot gejuig, met uitroep of die speel van instrumente. Ek kan dit doen met
hande klap, met ’n eerbiedige neerbuig en kniel of in stille verwondering.
Hoe jy ook al vandag kies om dit te doen ... “laat alles wat asemhaal, die
Here prys!” (Ps. 150:6) |
|
“My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder
of keer om God voluit te dien.” (1 Joh. 5:21) Ek bid maar net weer dat die
Heilige Gees my bewus en sensitief sal maak vir dié verkeerde optrede,
gesindhede, gedagtes en dinge wat tussen my en Hom kan kom staan, dat ek
doelbewus daarteen sal kies, dit sal vermy en eerder my gedagtes sal rig op
dít wat waar, edel, reg, rein en mooi is (soos wat Fil. 4:8 sê). |
|
Ek lees hierdie aanhaling: “In the business world, the
rearview mirror is always clearer than the windshield.” Dis blykbaar gesê
deur ene Warren Buffett. Ek dink dis nie net waar in die besigheidswêreld
nie, maar oral in die lewe. Ons kan nie die toekoms voor ons sien nie, maar
ons weet wat in die verlede lê (dis nou as jou geheue jou nie in die steek
laat nie!) en dikwels moet ons krag en wysheid vir die toekoms uit die
verlede put. Dawid het dit ook gedoen in Ps. 143:4-5: “Ek het alle moed
verloor, ek is verslae. Ek dink aan die verre verlede, ek peins ook alles
wat U gedoen het en oor die werk van U hande dink ek na”. Wanneer jy bang,
moedeloos of depressief oor die toekoms voel, dink terug aan die goeie tye
wat jy beleef het, tye toe jy sterk en vol moed was en dinge vir jou
uitgewerk het. Oordink die Here se goedheid, onthou alles wat Hy in die
verlede vir jou gedoen en beteken het. Wanneer jy dít doen, sal hoop weer
opvlam in jou hart en sal jy kans sien om met wysheid en deursettingsvermoë
voort te gaan. |
|
“Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons
in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak
wat ons sien nie... Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God..” (1 Kor. 13:9,
Die Boodskap) Ons almal het al geworstel met onbeantwoorde vrae in ons lewe,
vrae oor God en sy wil en sy weë. Daar is nie fout met jou as dit ook waar
is vir jou nie – 1 Kor. 13:9 bevestig tog dat ons nie alles kán verstaan nie.
So sê Spr. 25:2 ook dat die eer van God lê in wat Hy verborge hou. Al wat
ons kan en moet doen, is om op die Here te vertrou en hierdie vertroue vra
dat ons ten spyte van onbeantwoorde vrae oor die lewe en oor God, steeds ons
harte op Hom sal rig en ons oë op Hom sal hou, Hom steeds sal volg en dien
en steeds doelbewus ons gedagtes met positiewe dinge sal vul. Doen dit – een
dag op ’n slag, een tree op ’n keer. |
|
“He who dwells in the secret place of the Most High
shall remain stable and fixed under the shadow of the Almighty” (Ps. 91:1)
Hierdie “secret place” is in God se teenwoordigheid. Besef dat Hy
alomteenwoordig is. Raak bewus daarvan dat jy by Hom is, só naby dat sy
skaduwee oor jou val. Só naby dat jy jou hand kan uitsteek en genesingskrag
uit Hom kan tap. Só naby dat jy maar net kan fluister: “Here, wees my
sondaar genadig.” Só naby dat Sy liefde oor jou kan spoel. Só naby dat jy sy
hand op jou skouer kan voel en sy sagte, gerusstellende stem kan hoor ...
stable and fixed under the shadow of the Almighty. |
|
Ek het ’n lysie ontdek wat ek ’n paar jaar gelede vir
myself gemaak het om my te help om staande te bly in moeilike omstandighede.
Hier is ’n paar punte daarvan: moenie verbaas wees daaroor nie; hou my oog
op Jesus; luister na en leer uit ander se getuienis oor hoe hulle dit
hanteer het; moenie verbitterd of opstandig word nie; bid en sing soos
Paulus en Silas in die tronk gedoen het; onthou dit sal weer verbygaan;
spandeer tyd met die Here ten spyte van my gevoelens; behou ’n
ewigheidsperspektief. “...as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm
Hy Hom weer, want Sy liefde is groot” (Klaagliedere 3:31) |
|
“Wat julle sê moet
altyd vriendelik wees,” sê Kol 4:6. Dit beteken dat ons met ’n liefdevolle,
sagte, gawe, hoflike stemtoon moet praat. Vriendelikheid is nie net ’n
aangeplakte glimlag nie. Dit is ’n innerlike vrolikheid en jou
gesigsuitdrukking, lyftaal en jou gesindheid moet dit weerspieël. Sjoe, ek
weet dis moeilik en ek is self nie aldag baie goed daarmee nie. Ek vat dit
maar net vandag as ’n opdrag van die Here af en weet dat as ek vriendelik
is, is ek besig om te doen wat die Here wil hê ek moet doen. Daar word mos
gesê: vriendelikheid kos niks ...kom ons probeer dit! |
|
Gretha Wiid skryf
nou die dag die volgende, wat ek graag hier wil deel, want ek stem
heelhartig daarmee saam: God se tyd is altyd perfek, al verstaan ons nie
altyd waarom als nie gebeur soos wat ons dit vra nie. Wat ek wel weet ...
ons gebed bring ons harte nader aan God, gee vir ons berusting en maak ons
geestelike ore ook oop vir dit wat die Heilige Gees aan ons wil sê en
openbaar. Bid daarom sonder ophou ... op Sy tyd sal Hy Sy planne tot uiting
laat kom, maar tot dan sal Hy jou hart verander, beskerm en versag. |
|
“The most wasted of all days is one without laughter”.
Toe ek dié aanhaling lees, het ek begin wonder of dit regtig so is. Ek dink
darem nie dit sal die “most wasted” dag wees as ek nie gelag het nie, maar
dit sal wel ’n droewige dag wees. Dit is tóg lekker om te lag en nog
lekkerder om saam met iemand te lag. Omring jou met vrolike, opgeruimde,
positiewe mense en beleef minder stress en depressiewe gevoelens en meer
vreugde en ’n lekker gevoel oor jouself en jou omstandighede. Spr. 17:22 sê:
“’n Vrolike mens is ’n gesonde mens, ’n neerslagtige mens raak uitgeput.”
Moet tog nou nie so frons en so ernstig wees nie ... lag ’n slag! Onthou:
dis ook nie ’n skande om vir jouself te lag nie :-) |
|
“... die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand
wat in Hom glo.” (2 Kor. 3:14) Mens sien dikwels mense wat deur die lewe
gaan asof hulle geblinddoek is, asof hulle ’n sluier oor hulle gesig het.
Hulle oë is leeg en dof en leweloos. Dit kan bitterheid,
onvergewensgesindheid, bekommernis, selfbejammering, negatiwiteit of ’n
verharde hart wees wat daardie sluier oor hulle oë trek. Agter die sluier is
dit gewoonlik donker, leeg, hooploos en doelloos. Daar ervaar mense vrees,
koue en eensaamheid. Die Woord sê dat Christus daardie sluier wegtrek
wanneer iemand na Hom toe draai. Wanneer die sluier opgelig is, kan jy God
sien en kom daar vernuwing en verandering in jou lewe. Wanneer Jesus die
sluier wegneem, kom daar vrede, lig en hoop in die oë van die wat in Hom glo.
|
|
“In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed:
Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh. 16:33) Ongelukkig is alles in die
lewe nie net maanskyn en rose nie. Alles verloop nie altyd net perfek,
foutloos en glad nie. Rampspoed, bekommernisse, beproewing, frustrasies,
nood, ellende, droefheid, gevaar, ens. is ongelukkig ook dikwels deel van
die gelowige se lewe. Is jy in enige van hierdie situasies? Wel, die beste
wat jy kan doen, is om met alle mag vas te klou aan dié een wat reeds die
oorwinning oor alles behaal het – Jesus Christus. In Hóm is ons ook
oorwinnaars en kan ons rustig raak oor al die moeilikhede wat oor ons pad
mag kom. Bly kalm en vind jou rus en vrede in Hom! |
|
“May Christ, through your faith, dwell (settle down,
abide, make His permanent home) in your hearts.” (Ef. 3:17) Die intieme
binnekant van jou hart, gedagtes, emosies, gemoedstoestand en ingesteldheid
is waar die Here sy intrek in jou lewe wil neem. Hy wil ons binnekant sy
permanente adres kom maak. Hy wil tuis kom by ons. Raak net weer vandag ’n
slag rustig en oordink hierdie groot waarheid. Ek nooi Hom weer vandag
opnuut om Sy intrek by my te kom neem en my binnekant Sy tuiste te maak – ek
hoop jy sal dieselfde doen. |
|
Dit is belangrik vir ons as kinders van die Here om te
waak teen versoekinge en verleidings wat oor ons pad mag kom. Onthou die
satan is ’n verleier en kan ons maklik ’n rat voor die oë draai met dinge
wat reg mag klink en goed mag lyk, maar wat in stryd is met wat God van ons
verwag. Die Bybel sê mos die vyand loop rond soos ’n brullende leeu, altyd
op soek na prooi om te verslind. As jy in sy strik getrap het, of as jy die
deur op ’n skrefie vir hom oop los, sal hy met jou maak wat hy wil. Nee,
vriende, staan die duiwel tee en hy sal van jou wegvlug. “Dan sal hulle weer
tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel, waarmee
hy hulle gevange gehou het om sy wil te gehoorsaam” (2 Tim. 2:26) |
|
Wil jy ook soos Moses, Abraham en Dawid, ’n vriend van
God genoem word? Wel, hier is die “resep” : “Abraham believed in (adhere to,
trusted in, and relied on) God, and this was accounted to him as
righteousness and he was called God’s friend.” (James 2:23, Amplified
Bible). Gee jouself oor aan die Here, nooi Hom in jou lewe, jou hart en jou
kop in. Klou vas aan Hom, bly in Hom, vertrou op Hom, maak staat op Hom, glo
Hom, glo ín Hom – dit is wat jou ’n vriend van God sal maak. Kyk wat sê
Jesus vir jou: “As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles” (Joh.
16:33, Die Boodskap) |
|
Ek het volgende raakgelees wat Max Lucado geskryf het:
Reddende genade red ons van ons sonde. Onderhoudende genade ontmoet ons by
ons behoefte en rus ons toe met moed, wysheid en sterkte. Dit verras ons ...
met oorvloedige geloofshulpbronne. Onderhoudende genade beloof nie die
afwesigheid van worsteling nie, maar die teenwoordigheid van God.
|
|
Dis vir my so kostelik as Spreuke 6:6 sê “Gaan kyk na
die mier ..” Die mier is so klein ou dingetjie (wat ons baie keer nogal
groot frustrasie besorg!) en die Bybel sê ons moet bietjie stilstaan en by
die mier leer. Ons word aangemoedig om self-gemotiveerd en self-gedissiplineerd
te wees. Ons moet doen wat reg en goed is. Ons moet ons dagtaak met ywer en
toewyding doen, nie omdat iemand sien wat jy doen of jou dwing om dit te
doen nie, nie omdat jy ’n beloning of erkenning of applous daarvoor gaan kry
nie, maar omdat dit die regte ding is om te doen. “Gaan kyk na die mier ...
hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy
kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd” (Spr.
6:6-8) |
|
“Wees verstandig wanneer dit by goeie dade kom. Maar
wees dom wanneer dit by sonde kom. Moenie vir die sonde ’n vastrapplek in
julle lewe gee nie”. (Rom 16:19, Die Boodskap). Ons moet ons aandag en
energie fokus op die goeie, die regte, die mooi dinge waarmee ons onsself
kan besig hou. Vind uit wat God se wil is en dóén dit. Aan die ander kant
moet ons ons rug draai op die slegte en die verkeerde dinge wat ons om elke
hoek en draai wil intrek en verlei. Daardie dinge is nie vir God aanvaarbaar
nie en ons moet as’t ware daarvan weghardloop. Staan sterk, sê nee vir sonde.
Wees slim, doen goed. |
|
As jy treur, as jy siek is, dalk in nood verkeer, of
vasgeketting is in die tronk van jou omstandighede of in die donker van
depressie is, kyk op en sien voor jou die die Here as die Geneesheer, die
Trooster, die Bemoediger. Jou Geneesheer is gereed met sy olie om jou
stukkende plekke te behandel. Die Trooster het ’n bos blomme in sy hand om
jou mee te bederf. Die Bemoediger wil jou hart kom aanraak en heelmaak met
sagte woorde. Hy wil vir jou gee: “... flowers in place of their sorrow,
olive oil in place of their tears, joyous praise in place of broken hearts”
(Jes. 61:3, Contemporary English Version) |
|
“Ek sal self my kleinvee se Herder wees ... Ek sal dié soek wat weggeraak
het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat
seergekry het, die swakkes help.” (Eseg. 34:15-16) Hierdie is een van my
gunsteling tekste, want dis altyd vir my ’n troos en ’n aanmoediging om te
weet dat al het ek wát verkeerd gedoen, al het ek hoe vêr afgedwaal, al het
ek my eie koers ingeslaan en hoeveel keer versuim om te glo en te bid, die
Here sal my weer kom soek en op sy skouers terugdra. Hy sal my weer vergewe,
my weer skoonmaak, my weer versorg en vertroetel. Sy genade en vergifnis sal
altyd beskikbaar wees vir my. Ek dank en prys Hom sommer net weer daarvoor. |
|
“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die
oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor. 5:17) Toe ek Jesus aangeneem het
as Verlosser en gekies het om Hom te volg, het ek ’n splinter nuwe mens
geword. Ek het ’n nuwe naam, nuwe hart, nuwe doel, nuwe gesindheid en ’n
nuwe toekoms gekry. Ek het ’n “extreme make-over” gekry – verniet! Ou
gewoontes en lewenswyse het nuut geword, ek kon ’n nuwe blaadjie omslaan,
danksy die Here se genade! “Dit alles is die werk van God!” (2 Kor. 5:18) |
|
“Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding
hardloop ... hou Hom voor oë ... dan sal julle nie geestelike moeg word en
uitsak nie” (Heb. 12:1-3). Om moeg te word, op te gee en uit te sak in die
lewenswedloop is maklik en vereis geen spesiale talent of vermoë nie. Maar,
as Jesus jou afrigter en aanmoediger is, dan stort Hy krag, energie en
uithouvermoë in jou in. Hy keer dat jy tou opgooi wanneer die opdraandes kom
. Maak nie saak hoe moeg jy is, of wat vir jou voorlê nie, hou Hom voor oë
en druk deur. |
|
“Gaan vier fees, eet en drink... Hierdie dag word gewy
aan ons Here. Moenie bedroef wees nie.” (Neh. 8:11) Ons kan en moet ons lewe
geniet en nie die tyd net ongemerk laat verby gly, of opgevreet word deur
die swoeg en sweet van ons werkslewe nie. Al kan jy nie elke dag iets nuuts
of opwindend of buitengewoon doen nie, kan jy steeds alledaagse klein
dingetjies geniet en waardeer. Gee bv. die voëltjies in jou tuin kos en hou
hulle dop; luister musiek en sing of dans saam; deel ’n koppie koffie met
iemand spesiaal; staan vroeg op en verwonder jou aan die sonsopkoms of
wolkformasies; lê ’n paar minute langer in die warm bad, gaan eet vanmiddag
jou toebroodjies in die tuin en nie sommer terwyl jy aanhou werk nie; kyk
deur ou foto-albums ... en so kan die lys aangaan! Joyce Meyer het iewers
gesê: “You are supernaturally equipped with the power of God to live
everyday life in an extraordinary way.” |
|
“Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbygaan.”
(Ex 33:19) Die Here wil iets van sy grootheid en sy goedheid en sy liefde
aan ons vertoon. Hy wil hê dat ons moet sien dat Hy die God is wat mense
help, wat jammer is vir mense en geduldig met hulle is. Hy wil hê ons moet
ervaar dat Hy altyd getrou bly, dat Hy altyd sondes vergewe en vergeet, dat
Hy ons aanvaar en aanneem as sy kinders. ... mag jy Hom vandag só voor jou
sien verbygaan. |
|
“Tot U, Here, rig ek my” (Ps. 25:1). Met hierdie woorde
gee Dawid sy lewe, sy hart, sy gees oor aan die Here. Ek wil dit ook vandag
vir die Here sê en daarmee as’t ware myself na Hom toe oplig. Dit is nie net
’n tydelike draai van my gedagtes en my hart na Hom nie, maar ’n permanente
rig van my hele wese op Hom. Al my fokus is op hom ingezoem, ek stel al my
gawes en talente en tyd tot Sy beskikking, ek plaas my vertroue op Hom, ek
stel my verwagtinge in Hom. Ek tel myself op na die Here toe en ek soek hulp
by Hom, ek leun op Hom, ek reken op Hom en ek bely: “Unto thee, O Lord, do
I lift up my soul.” |
|
“Moet ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?”
So vra die Here vir Moses in Eks 33:14. Asseblief, Here, sou ek antwoord as
Hy dít vir my gevra het vandag. Ek kan nêrens gaan en niks doen as die Here
nie saamgaan nie. As Hy saamgaan, sal ek nie verdwaal nie, sal ek nie val
nie, sal ek nie in die verleentheid kom nie. As Hy saamgaan sal ek nie
honger en dors wees nie, sal ek nie bang te wees nie, sal ek nie alleen wees
nie. As Hy saamgaan sal Hy my help, sal Hy vir my die pad verlig, sal Hy vir
my wysheid gee, sal ek gemoedsrus en vrede hê. Dink vandag doelbewus daaraan
dat die Here oral saam met jou is: as jy bestuur is Hy saam met jou in die
motor, as jy ’n kliënt sien, sit Hy ook daar in die vergadering, as jy
inkopies doen, staan Hy saam met jou in die tou, as jy in die dokter se
spreekkamer sit, hou Hy jou hand vas. Dink doelbewus daaraan en voel hoedat
jou hart rustig word en krag en selfvertroue en hoop jou kom vul. |
|
“Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld
navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat
God beloof het” (Heb 6:12). Ons wil almal so graag deel hê aan al die
beloftes van God waarvan ons in die Bybel lees, of wat Hy persoonlik vir ons
gegee het. Dit is nie altyd vir ons maklik om te gló dat ons werklik sal
ontvang wat God belowe het nie, dis egter nog moeiliker om geduldig daarop
te wag. Hierdie teks beklemtoon vir my dat beloftes, geloof en geduld hand
aan hand loop in ons lewens. Ons moet leer om te wag, ons moet besef dat God
se tyd nie ons tyd is nie, ons moet minder haastig wees vir dinge om in plek
te val. Geduld word in Gal 5:22 genoem as ’n vrug van die Gees en daarom kan
ons die Gees toelaat om groter geduld in ons te bewerk. Ek het hierdie êrens
gelees: “’n Geduldige persoon straal kalmte uit soos een wie se voete stil
is terwyl hy gewillig op God wag om te beweeg” |
|
“Maar hier by My is ’n plek waar
jy op die rots kan staan” (Eks 33:21). Sjoe, wat ’n uitnodiging bied die
Here nie vir ons nie. Hy steek sy hand uit om ons op te lig en ons voete op
’n stewige plek, naby Hom te laat staan. Miskien is jy vandag in ’n situasie
of ’n plek in jou lewe waar dit voel of jou knieë knak, waar jy raad-op voel,
waar jy onseker en onvas op jou voete voel. Kom staan op die Rots. By Hom is
daar sekuriteit, vastigheid en skuiling. Daar is geen rots soos ons God nie!
“U het my ’n ruim vastrapplek gegee, my enkels het nie geswik nie” (Ps.
18:37) |
|
“Do not conform yourselves to the standards of this
world, but let God transform you inwardly by a complete change of your mind.
Then you will be able to know the will of God---what is good and is pleasing
to Him and is perfect.” (Rom 12:2, Good News Bible) Ons moet nie en hoef nie
aan te pas by mense se verwagtinge, eise, standaarde en idees nie. Ons hoef
nie in dieselfde boksie te pas as die res van die wêreld nie. Die Here se
wil is dat ons van binne af vernuwe en verander sal word deur die werking
van die Heilige Gees, sodat ons dít kan dink, doen, sê en leef wat vir Hóm
aanvaarbaar is en vir Hóm plesier verskaf. Transformed, not conformed!
|
|
Ten spyte daarvan dat Samuel van
die Here afgesmeek is en sy ouers toewy was aan die Here en hom op ’n jong
ouderdom gevat het om ’n dienaar in die tempel te wees; ten spyte daarvan
dat hy opgegroei het by die profeet Eli, lees ons in 1 Sam 3:7: “Maar Samuel
het nog nie die Here geken nie.” En ek wonder: “Hoe is dít moontlik?” Is dit
moontlik dat iemand Godsdienstig grootword, een of meer Bybels het, weekliks
kerk toe gaan, die dominee persoonlik ken, werk op die kerkbasaar,
kerk-seminare en kursusse bywoon en nog nie die Here ken nie? Dit is
moontlik, want ek was self lank gelede so iemand, totdat ek ook, soos
Samuel, gehoor het dat die Here my naam roep en ek kon antwoord: “Praat,
Here, U dienaar luister”. Ek het ’n persoonlike ontmoeting met Hom gehad en
ek kon die beheer van my lewe aan Jesus oorgee, hom in my hart innooi as my
Here en as my Verlosser en ek kon vervul word met die Heilige Gees. “Samuel
het grootgeword. Die Here was by hom...” (1 Sam 3:19). Wat van jou? |
|
“Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees” (Jes.
42:21). Hy ís getrou. Dit beteken dat Hy altyd dieselfde is, onwrikbaar,
onveranderlik in sy liefde en genade. Ons kan staatmaak daarop dat Hy sy
beloftes sal hou en nakom, dat Hy nooit van plan sal verander nie. Ons kan
reken daarop dat die woorde van die Getroue ook eg en waar is en
onvoorwaardelik geglo kan word. Sy Naam is die Getroue en Betroubare (aldus
Op 19:11), daarom plaas ek weer al my vertroue op Hom. |
|
“Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” So stel
Jesus in Matt. 14:27 sy dissipels gerus toe Hy in die storm na hulle toe
geloop het op die water. Noudat Hy by hulle opgedaag het, kan hulle ontspan
en die sekerheid hê dat alles okei gaan wees. Die Here sê vandag vir my en
jou ook: “Ék is hier”. Daarom kan jy gerus wees en kalm word. Gister en al
sy probleme kan jy nou maar by die Here los; môre en sy onsekerheid sal die
Here voor sorg. Lééf vandag met oorgawe, geniet die oomblik, ontspan, wees
gerus, want Hý is hier. |
|
“Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam” (Ex
33:17). So het die Here vir Moses gesê. Dit geld egter vir my en vir jou ook
en ons kan dit vandag persoonlik vir onsself vat. Die Here ken my naam! Dit
beteken Hy ken my só goed dat Hy ook weet wat my behoeftes, my verlange,
probleme, vrese en vreugdes is. Hy is my goedgesind, soos vir Moses. Dit
beteken dat Sy liefde en genade op hierdie oomblik om my gevou is. Dit
beteken dat Hy wil my help, optel, red en bemoedig. Dit beteken dat Hy my
hand vashou en saam met my die dag instap om my te lei en te beskerm. |
|
“Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle
werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om
nader aan die Here te leef.” (Jak 1:3, Die Boodskap) Wanneer beproewing,
toetse of swaarkry oor ons pad kom, moet ons vashou aan ons geloof, moet ons
volhard in ons vertroue op die Here. Ons moet bly glo dat Hy in beheer is.
Behou ’n “Godly-attitude”, bly fokus op wie God is en oordink sy karakter
van liefde, genade, barmhartigheid. Moenie ophou glo dat daar ’n hoër doel
is met die moeilike omstandighede waarin jy jou bevind nie en hou vas aan
die wete dat alles ten goede sal uitwerk. “You know that under pressure,
your faith-life is forced into the open and shows its true colours” |
|
“Waarvoor is jy bang? As die bang vanaand kom kuier en die rus jou uitnooi
weier en die ure en sekondes vrees die donkerte se sondes. En in jou swart
komberse, dig die nag sy onheilsverse. En die doemprofetebendes preek van
hartseer en ellendes. En ongeloof se koue steel stuk-stuk jou vertroue.
Waarvoor is jy bang?” Dit is die woorde van ’n Prophet-liedjie. Daar is
duisende gelyste fobies – dinge waarvoor mense bang is. Party daarvan is
werklik, ander is sommer ’n klomp onsin, soos bv. Arachibutyro-phobia, die
vrees dat grondboontjiebotter aan jou verhemelte vasklou! Waarvoor is jy
vandag bang? Watter vrese oorweldig jou? Is jy dalk bang om jou werk te
verloor, om ’n fout te maak, ernstig siek te word, aangerand of verkrag te
word? Of is jy bang vir fisiese pyn, verlies van ’n geliefde, verwerping, of
die dood? Is jy bang vir armoede, alleenheid, of om gespot te word? Onthou,
vrees is ongesond, dit veroorsaak maagsere, migraine en depressie, dit
verlam jou en maak jou onproduktief. Dit is seker hoekom die frase “moenie
bang wees nie” so dikwels in die Bybel voorkom. Raak rustig, haal diep asem
en sê vir jouself:
Moenie bang wees nie, die Here is by my, moenie bekommerd wees nie. Die Here
versterk my, Hy help my, Hy hou my vas, met Sy eie hand red Hy my. (volgens
Jes. 41:10) |
|
Ek lees nou die dag: “Don’t just talk about love, walk
in love.” Liefde is beslis nie net ’n teorie of ’n gevoel of ’n paar mooi
woordjies nie. Liefde is dade. As mens dít besef, is dit bietjie makliker om
jou “naaste” van wie jy dalk nie hou nie, lief te hê. Liefde is om in enige
situasie te doen wat nodig is. Liefde is om ander met respek te behandel, om
geduldig en vriendelik te wees, om ’n helpende hand uit te steek. Liefde is
eenvoudig om goed te wees vir ander. “... let us not love (merely) in theory
or speech, but in deed and in truth (in practice and in sincerity).” 1 Joh.
3:18. Moet sê: ek sukkel nog ... |
|
“Maria het die beste deel gekies en dit sal nie van
haar weggeneem word nie.” (Luk. 10:42). Maria het gekies om by Jesus se
voete te sit en na Sy woorde te luister. Jesus sê dit is die één ding wat
nodig is, die beste plek om te wees. Ek kies ook weer om by Jesus se voete
tot bedaring te kom en perspektief te kry. Ek kom rus weer by sy voete om Sy
liefde en goedheid te ervaar. Ek kom leer weer by sy voete en begeer om
gevul en geïnspireer te word deur Sy Woord. Ek kom kniel weer in aanbidding
by Sy voete en wag op Sy aanraking. “The most important thing a Christian
will ever do is worship Jesus, and the best place to do that is at His feet”
– maak soos Maria! |
|
“As U my dan goedgesind is, maak my U wil bekend, sodat
ek U kan leer ken en kan doen wat U verwag.” (Ex 33:13) Dank die Here vir Sy
Woord wat ons tot ons beskikking het en wat presies dit doen waarvoor Moses
hier in Ex 33 pleit. Die Bybel spel God se wil uit, dit maak Sy
verlossingsplan bekend, dit teken vir ons ’n prentjie van wie Hy is, dit gee
vir ons instruksies vir ons optrede in elke moontlike situasie. “U Woord is
die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.” (Ps. 119:105) Hoe bevoorreg
is ons nie! |
|
“But you shall receive power (ability, efficiency and
might) when the Holy Spirit has come upon you ...” (Hand 1:8). Ability,
efficiency and might! Ek vra weer vandag die Heilige Gees om my vol te maak
en beheer te neem van my lewe, my gedagtes, my woorde en my dade. Ek vra
opnuut vir die krag van die Heilige Gees om my in staat te stel om effektief
te wees in alles wat ek doen, om toegerus te wees vir elke situasie, om met
gesag en outoriteit te optree. Die Woord sê: “Hy sál die Heilige Gees gee
vir dié wat vra.” (Luk. 11:3) |
|
Die nag voordat Jesus gekruisig is, het hy na die tuin
van Getsémané gegaan saam met sy dissipels. Daar het Hy op sy knieë
neergeval en doodsbenoud ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels
geword wat op die grond val, lees ons in die Bybel. Hy het gebid en die
Vader gesmeek vir uitkoms omdat Hy geweet het wat die volgende paar ure vir
Hom voorlê. Tydens Sy gebed het ’n engel gekom om Hom te versterk. Vir Sy
dissipels het Hy gesê: “Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie”.
(Luk. 22:40) Dit is vandag ook vir ons belangrik om te waak en bid. Ons moet
bid dat die Here ons krag sal gee sodat ons dit wat vir ons voorlê kan
hanteer. Ons weet nie wat môre op ons wag nie, ons weet nie watter toetse,
versoekings of probleme môre gaan oplewer nie, daarom moet ons onsself
vandag versterk met die Woord en met gebed. |
|
Luk. 24:13 -35 vertel van die twee volgelinge van Jesus
wat na Sy kruisiging op pad was na Emmaus. Jesus het aan hulle verskyn, maar
hulle kon Hom nie herken nie. Nadat Hy die Skrif vir hulle uitgelê het, het
hulle Hom genooi om saam met hulle oor te bly en saam te eet. Toe Jesus die
brood breek en vir hulle gee om te eet, het hulle oë oopgegaan en het hulle
Hom herken. Dit herinner my aan die nagmaal waar Jesus ook brood gebreek
het, dit herinner my aan Jesus wat gesê het dat Hy die brood is wat lewe
gee. As ons glo, sal ons “eet” en sal ons oë oopgaan om Hom te sien. As ons
“eet” sal ons versadig word. As ons “eet” sal ons lewe! Dit herinner my ook
daaraan dat Jesus die Woord is en as ons die Woord “eet” en bestudeer en
toepas in ons lewens, sal ons oë oopgaan om Hom te herken en te beleef. Hy
sê: “Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig
kan word met die beste wat daar is.” (Jes. 55:2) |
|
“Kom ondervind en sien sélf dat die Here goed is”. (Ps.
34:9) Mense kan vir jou vertel van die Here se goedheid, jy kan daarvan
lees, maar wanneer jy dit sélf ervaar het, dit self gesien en self geproe
het, dan sal jy daardie ware, diep oortuiging hê dat Hy goed is. Ons moet
vir onsself ontdek, ervaar, besef dat Hy goed is, dan sal dit maklik wees om
in alle omstandighede te wéét dat Hy daar is en die beste vir jou wil hê.
“Certainly you have tasted that the Lord is good!” (1 Pet. 2:3) |
|
“... our first duty is to be faithful to the One we
work for” (1 Kor. 4:2). Wanneer jy vir die Here werk, of ’n bedieningstaak
doen, dan verwag Hy betroubaarheid van jou. Hy verwag dat jy die taak
deeglik en met toewyding sal doen. Daar is baie mense wat gou opgee wanneer
dinge moeilik raak, of wanneer hulle dalk bietjie teenkanting ervaar. Party
raak moedeloos en gooi tou op wanneer daar nie gou genoeg resultate is of
wanneer hulle nie genoeg erkenning kry nie. Ander raak weer gou verveeld en
soek na iets meer opwindend om te doen. Nee, wanneer jy in diens van die
Here is, moet jy volhard, vasbyt, deur druk totdat jy in jou hart die
oortuiging het dat die werk afgehandel is en die doel bereik is. “Gee jou
aandag aan die taak wat jy in diens van die Here aanvaar het, sodat jy dit
kan voltooi” (Kol 4:17) |
|
Op ’n paar plekke in die Evangelies lees ek dat
Jesus mense “innig jammer” gekry het. (He was moved with compassion, sê die
Engelse vertalings). Elke keer wanneer Hy mense só jammer gekry het, het
Jesus iets gedoen om hulle nood te verlig. Hy het siekes gesond gemaak
(Matt. 14:14), Hy het skares gevoed (Matt. 15:32), Hy het blindes laat sien
(Matt. 20:34), Hy het hulle onderrig (Mark 6:34), Hy het getroos (Luk.
7:13), Hy het gereinig (Mark 1:40). Hy het nooit weggekyk nie, Hy het nie
omgegee of dit Sabbat was en Hy reëls sou oortree nie, Hy het nie omgegee of
Hy self moeg was nie, Hy was nie bang dat Hy sou “aansteek” of vuil word nie
– nee, elke keer reik Hy uit en raak Hy aan en maak Hy ’n verskil. Vandag
wil en sal Hy nog steeds dieselfde doen vir jou en vir my!
|
|
“Voed jouself met die woorde van die geloof en die
goeie leer” (1 Tim 4:6). Ons het kos nodig om te groei. Gesonde, voedsame,
gereelde etes. Ons kan nie vir ander wag om ons te voed nie, jy moet self
sorg vir jou kos en jy moet jouself voer! So het ons ook die
verantwoordelikheid op geestelike gebied om onsself te voed. Ons dieet moet
“woorde van geloof” insluit: waarheid-woorde uit die Bybel, belofte-woorde
van God, lering-woorde van geestelike boodskappe, Bybelstudies en boeke.
Sulke woorde sal ons laat groei en ons geloof opbou. Dit sal ons krag en
rigting gee vir elke dag. Dis egter belangrik om nie alles wat aan ons
opgedis word vir soetkoek op te eet nie – ons moet altyd toets dat dit
woorde van “die goeie leer” is. Lees die fynskrif op die “Nutritional
Information”-etiket voor jy eet en maak seker van die voedingswaarde en die
krag van dít wat jy inneem. “Die woord van God is lewend en kragtig” (Heb
4:12) – voed jouself daarmee! |
|
Nadat Lasarus dood is en Jesus by sy susters, Maria en
Martha se huis opgedaag het, laat Jesus vir Maria roep. Sy het gou opgestaan,
na Hom toe gegaan, by Sy voete gaan kniel, gehuil en haar hart voor Hom
uitgestort. So lees ons in Joh. 11:17-32. Hierdie is vir my ’n “resep” om na
te volg in hartseer- en swaarkry-tye. Die Here roep jou en wil hê dat jy jou
hart by Hom kom uitstort; jy mag en moet by Hom gaan huil. Die beste plek om
in jou hartseer tyd te wees, is by Sy voete. Ek lees nou die dag dat iemand
dit die “weeping zone” noem. Lees verder vanaf vers 33 en sien Jesus se
reaksie: Hy was aangedaan, sy gemoed het vol geskiet, Hy het gehuil en Hy
het ’n wonderwerk gedoen! Ek weet dat Jesus vandag net soveel medelye en
simpatie met jou het, dat Hy saam huil wanneer jy huil, dat Hy Sy hand op
jou skouer sit en vir jou ’n uitkoms wil voorsien. Ek hoop jy kan dit glo?
|
|
“...casting the whole of your care (all your anxieties,
all your worries, all your concerns, once and for all) on Him, for He cares
for you affectionately and cares about you watchfully” (1 Pet. 5:7,
Amplified Bible). As liefdevolle Vader wat omgee en jammer is vir ons, wil
die Here nie hê dat ons moet swaardra aan bekommernisse en onder spanning
knak nie. Eens en vir altyd kan ons al daai kwellinge, sorge, onrustigheid,
angs en laste op Hom kom afpak. Hy weet wat om daarmee te doen; Hy sal
daarvoor sorg, Hy sal alles tot ons beswil laat uitwerk. |
|
“As draer van daardie naam
(Christen) moet hy God verheerlik.” (1 Pet. 4:16 ) Wanneer ons in die
huisgesin van Jesus inkom, word ons die draer van die familienaam
“Christen”. Om ’n familienaam te dra bring verantwoordelikheid mee. Ek dink
daar is té veel mense wat hulleself Christen noem, maar nie waardige draers
van die Naam is nie. Wat ons doen, dink en sê moet pas by ons naam en moet
God eer. Om die naam “Christen” te hê is ’n voorreg wat ons nooit mag
vergeet nie en nooit mag misbruik nie. |
|
Gisteraand het baie mense van oor die wêreld heen na
die maan opgekyk, dit bewonder en dit gefotografeer omdat dit ’n spesiale,
super, volmaan was, groter en helderder as gewoonlik. Die maan op sigself is
nie ’n ligbron nie en weerkaats maar net die lig vanaf die son. Is dit nie
hoe ons ook is nie? Energieloos, kragteloos, lig-loos as die lig van Jesus
nie op ons skyn nie. Toe ek gisteraand (en vanoggend) so na die maan opkyk
het ek vir die Here gesê dat ek ook ’n super maan wil wees wat Sy lig kan
weerkaats na die wêreld, ’n skitterende maan wat “super” vol is van Sy krag,
Sy lig, Sy glans, Sy skoonheid - “Hy wat ... die maan en sterre beveel om
snags te skitter” (Jer. 31:35) |
|
“Walk straight, act right, tell the truth” (Ps. 15:2).
Drie basiese riglyne vir die lewe. Drie dinge waarna ons moet streef. Drie
dinge wat ons daaglikse besluite en keuses moet beheer en ons gesprekke moet
beïnvloed en ons optrede moet bepaal . Drie dinge wat ons sal onderskei as
volgelinge van Jesus. Drie dinge wat die wêreld ’n beter plek sal maak. Wie
hierdie dinge doen, sal altyd vas bly staan, sê die Woord. |
|
“Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud
aanvaar word: Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te verlos”
(1 Tim 1:15). Hierdie is die heel beste nuus wat daar is. Dit is seker ook
hoekom die Bybel die “goeie nuus” of die “blye boodskap” genoem word! Ons
is vry en vergewe, gewas en geheilig, skoon en nuut gemaak deur Jesus. Ons
moet nie daaraan te twyfel nie, ons hoef nie daaroor te redeneer of te
wonder of te stry nie. Dis nie nodig dat ander boeke of profete dit te
bevestig nie. Dié boodskap is vas en waar en seker. Glo en aanvaar jý dit
sonder voorbehoud? |
|
“He renews your youth – you’re always young in His
presence” (Ps. 103:5 Message). Dit maak nie saak hoe oud jy in jare is nie,
in die Here se teenwoordigheid sal jy vernuwe en versterk word. Hy gee
vermoeides krag, Hy genees gebrokenes van hart, Hy droog trane af, Hy
spesialiseer in tweede kanse, Hy maak alles nuut. Mag jy vandag vernuwe en
jonk voel in Sy teenwoordigheid en met ’n huppel in jou stap die dag aanpak. |
|
The heaviest thing you can carry is a grudge... so lees ek nou die dag êrens.
Miskien is vandag die dag om daardie ou koeie finaal te begrawe, om te
vergewe én te vergeet, om die minste te wees en eerste jou hand uit te steek
na die persoon wat jy nou al so lank vermy. Ek besef dis nie maklik nie en
ek voel self ook nie eintlik lus om dit te doen nie, maar ek besef dit is
tog wat die Here van my verwag. “Moenie met ’n wrok in jou hart teen ’n
ander rondloop nie. Praat die saak met hom uit sodat jy nie oor hom begin
verkeerd doen nie. Moenie loop en kyk hoe jy iemand kan terugkry nie. Moenie
met ’n grief rondloop teen een van jou volksgenote nie. Jy moet net soveel
vir ander omgee as wat jy vir jouself omgee.” (Lev. 19:17-18, Die Boodskap) |
|
“He wraps you in goodness” (Ps. 103:5). Hierdie is vir
my sulke bemoedigende woorde om te lees, dit laat my binnekant so gerus en
warm voel. Hoe ongelooflik om te weet dat die Here se goedheid meer as
genoeg is om my vandag staande te hou, om my deur elke krisis en elke
moeilike keuse te dra. Sy goedheid is vandag soos ’n warm, dik, snoesige
kombers om jou gevou. Trek daai kombers so bietjie hoër op en draai dit so
bietjie stywer om jou sodat jy Sy nabyheid kan beleef en Sy goedheid vir jou
kan vóél. Mag Hy jou seën. |
|
As mens die verhaal van
Manasse lees in 2 Kron. 33, sien jy ’n prentjie van ’n goddelose man, ’n
rebelse koning wat God se volk verlei het met afgode, wat die tempel
ontheilig het met Baäl-altare en ’n naakte Asjera-beeld. Verder hou Manasse
hom op met goëlery, toordery, waarsêery en die oproep van geeste. Hy het
boonop sy eie seuns as offers aan afgode verbrand. Die Bybel sê: “Hy het
gruwelik verkeerd gedoen in die oë van die Here en Hom uitgetart”. Hy is
seker loshande die ou in die Bybel met die langste lys gruwelike sondes teen
hom. Maar wat só wonderlik is, is toe Hy berou betoon en terugdraai na die
Here en tot Hom uitroep en bid vir vergifnis, het God hom gehoor en aan hom
genade bewys. (2 Kron. 33:12-13). Sjoe, hoe genadig is ons God nie. Geen
sonde is te erg of te groot nie, geen sondaar te sondig vir Sy genade nie.
“But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the
aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace wins
hands down”. (Rom 5:20) |
|
Soms dink mens dit is net as jy besig is met geestelike
dinge soos Bybellees, kerkbywoning, of die een of ander bedieningswerk of
sendingwerk dat jy die Naam van die Here eer. Ek het net besef dat my
alledaagse werk, selfs sleurwerk, tot Sy eer kan wees. Dit gebeur wanneer ek
dit met blymoedigheid doen, wanneer ek bewus is daarvan dat Hy daar langs my
is, wanneer ek met Hom praat terwyl ek dit doen en Hom dank vir my vermoëns
om te doen wat ek doen, wanneer ek dit wat ek doen só doen asof ek dit vir
Hóm doen. “Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle
praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe
moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles
doen asof Jesus elke tree saam met julle gee”. (Kol 3:17, Die Boodskap) |
|
“Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke
geleentheid vrygewig te kan wees” (2 Kor. 9:11). Ek glo dat die Here ons
seën met besittings, gawes en vermoëns sodat ons weer vir ander ’n seën kan
wees. Hy maak jou “ryk” sodat jy vrygewig met jou rykdom kan wees. Wat het
jy vandag waarmee jy iemand anders kan seën? Miskien brood of ’n kombers vir
’n arme? Dalk bietjie tyd om ’n sieke te besoek en ’n blommetjie of pot sop
saam te neem? Dalk het jy woorde van aanmoediging vir ’n ryke of bemoediging
vir ’n moeë geestelike werker of dominee? Het jy dalk trooswoorde vir iemand
wat in sak en as is oor die een of ander verlies? Onthou: jy het áltyd iets
wat iemand anders nodig het. Wees vandag op die uitkyk vir geleenthede om
die Here te dien met jou vrygewigheid. |
|
“Die Here julle God gaan voor julle uit ...” (Deut. 1:
30). Hy is ons Voorloper, ons Leidsman, ons Gids. Hy lei en ons kan met
vertroue volg. Jy hoef niks te vrees vandag nie, jy hoef nie bekommerd te
wees vir dit wat dalk vir jou wag nie, vir die probleme, siekte of swaarkry
wat jou dalk kan oorval nie. Die Here ken die toekoms, Hy is reeds dáár, Sy
lig skyn reeds om daai donker kronkel in die pad. Hy gaan voor jou uit, Hy
maak dit pad gelyk, Hy veg vír jou en Hy sê nou vir jou dat jy vol moed kan
wees en met vertroue vorentoe kan gaan. Kyk op na jou Gids en volg Hom. |
|
“As for you, be calm and cool and steady” (2 Tim 4:5).
Ek vra vandag die Here om my te help om hieraan gehoorsaam te wees. Dit
beteken dat ek nie opgewerk sal raak nie, nie onrustig sal wees nie, dat ek
my emosies onder beheer sal hou, dat ek stil en rustig en bedaard sal wees.
Dit beteken dat ek ontspanne sal wees, selfbeheersing aan die dag sal lê en
vreedsaam sal wees. Dit beteken dat ek ordelik, standvastig en gelykmatig
sal wees, dat mense en situasies my nie sal “skud” nie. Ek sal maar vandag
gereeld moet stilbly, diep asemhaal en dié drie woorde kort-kort vir myself
herhaal... ek glo dat my strewe om dit reg te kry wel ’n verskil in my lewe
sal maak. |
|
“Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye
is in u hand” (Ps. 31:15-16). Om die Here te vertrou vir die uitkoms van ’n
saak beteken dat ek nie weet hoe Hy dit gaan doen en wanneer Hy dit gaan
doen nie. Om nie die “hoe” en die “wanneer” te weet nie, maak dinge vir my
moeilik, maar dit strek en toets my geloof. Dit dwing my om in geloof en
afhanklikheid alles oor te gee met “let go.. and let God..”. Ek moet “let
go” van my eie planne, my eie begeertes en ego en ek moet toelaat dat die
Here die stuurwiel van my lewe oorneem. Hy sál my lei, Hy sál vir my wysheid
gee, Hy sál die regte deure vir my laat oopgaan, Sy vrede sál my kom toevou.
|
|
Ek het weer die gedeelte in die Bybel gelees oor die
reiniging van die tempel. Ek sien dat Jesus erg ontsteld was omdat sy huis
’n “rowersnes” en ’n “besigheidsplek” gemaak is, terwyl Hy dit as ’n huis
van gebed bedoel het. My liggaam is mos nou Sy tempel waar Hy deur sy Gees
woon, daarom moet ek sorg dat hierdie tempel ook ’n skoon en heilige plek
is. Ek moet my liggaam, my hart, my gedagtes skoonmaak van geldgierigheid,
van drome wat nie in lyn is met God se wil nie, van gewoontes wat nie pas by
’n kind van God nie, van woorde wat nie opbouend is nie. Mag Jesus vandag
tuis voel in my as sy tempel en mag hierdie tempel ook vandag eerder ’n huis
van gebed wees. |
|
The best care for anger is delay –
’n aanhaling wat ek lees onderaan my dagboek se bladsy. Dis seker nie
verniet dat ons vir ons self sê: tel liewer tot 10, nie! Wanneer mens kwaad
of vies is, verneder is of te nagekom voel, dan is mens geneig om ’n vinnige,
snerpende, woedende antwoord te gee. Jy gryp gou daai selfoon om ’n SMS te
tik, of reageer impulsief met ’n epos wat presies sê hoe jy voel en wat jy
van die ander persoon dink – net om dalk later spyt te wees daaroor, en te
voel jy wil daardie woorde terugtrek. Die slegte nuus is: jy kán nie. Wat
gesê is, is gesê, wat geskryf is, is geskryf. Ek wil myself net weer vandag
herinner om maar my woorde te tel, om die Here te vra om ’n wag voor my mond
te plaas, om te dink voor ek sê, om bietjie te wag voor ek reageer. “Here,
help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek
sê” (Ps. 141:3, Die Boodskap) |
|
Wat doen jý wanneer jy in
vertwyfeling is, wanneer jy wanhopig voel, wanneer jy swak is, wanneer jy in
nood verkeer of in ellende gedompel is en voel of jy vergaan, wanneer jy
vasgedruk en magteloos voel? Gee jy dalk op, verloor jy dalk jou geloof of
draai jy dalk jou rug op die Here? Óf roep jy na die Here, dink jy aan Hom
in sulke tye? Kom ek gee vir jou ’n paar tekste van mense wat uit hulle
vertwyfeling, in hulle wanhoop, onder hulle ellende na die Here geroep het:
Ps. 42:7 Uit my vertwyfeling roep
ek na U ...
Ps. 61:3 ... in wanhoop roep ek na U ...
Jona 2:1 In my nood het ek na die Here geroep ...
Jona 2:7 Toe ek wou vergaan het ek aan die Here gedink ...
Ps. 88:10 My oë is al dof van ellende, die hele dag deur roep ek na U, Here
...
Roep na Hom, want Hy sál luister,
Hy sál jou gebed verhoor, Hy sál antwoord. “Toe ek so magteloos en bang was,
het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het Hom gevra om my asseblief te help
... en my God het my gehoor!” (Ps. 18:6-7, Die Boodskap) |
|
Spiritual maturity isn’t measured by how high you jump in praise, but how
straight you walk in obedience. Ek het hierdie op iemand se Facebook gesien
en toe ek die oorsprong daarvan probeer navolg, het ek agtergekom dis nogal
’n gunsteling sêding op Twitter en as Facebook-status – dit word oor en oor
ge-“share” en ge-“retweet”. Ek het gewonder hoekom so baie mense van dié
uitdrukking hou. Miskien is dit omdat hulle ook moeg is daarvan dat hulle
geestelikheid en verhouding met die Here deur mense beoordeel word op grond
van rituele en goetertjies, van geestelike praatjies en aksies. Al daardie
dinge is niks werd as mens se lewe nie die vrugte dra wat wys dat jy ’n kind
van God is nie, as die liefde, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
selfbeheersing en al daai Gal 5:22-goed nie bewys dat die Heilige Gees in
jou woon nie ... anders is jy tog maar net ’n stuk klinkende metaal.
|
|
Ps. 139 is een van my gunsteling gedeeltes in die Bybel.
Dit is my troos, my hoop, my vrede om daaruit te weet dat die Here alles
sien, alles weet, alles verstaan en alles beheer. Hy is alomteenwoordig,
alwetend en almagtig. Ek is altyd onder sy oog en onder sy hand – Hy is naby,
Hy hou my vas, Hy sorg vir elke aspek van my lewe. Alles wat ek dink en doen,
is bekend aan Hom. “U ken my deur en deur. U beskerm my hele lewe. Ek kan
dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te oorweldigend.” (Ps.
139:4-5, Die Boodskap) |
|
“... as jy
deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie
brand nie, want Ek is die Here jou God” (Jes. 43:2) Daniel se drie vriende
het dít direk beleef toe hulle in die brandende vuuroond gegooi is. Die Here
was as die “vierde man” saam met hulle in die vuur om hulle te beskerm. Daar
staan in Dan. 3 dat die vuur niks aan hulle gedoen het nie, hulle hare het
nie geskroei nie, hulle klere het niks makeer nie, hulle het nie eens na
vuur geruik nie. As ons deur ’n vuurtoets moet gaan vandag, of onsself in ’n
warm, ongemaklike situasie bevind, kan ons troos daarin vind en krag put uit
die wete dat ons nie alleen is nie. Die “vierde man” is by jou om jou te
help en te red, om vir jou wysheid en insig en deursettingsvermoë te gee.
Niks is vir God onmoontlik nie – vertrou dat die “vierde man” sal opdaag in
jou vuuroond. |
|
Daar
word gesê: Of all the things you wear, your expression is the most
important. Watter gesigsuitdrukking het jy vandag “aangetrek”, of opgesit
saam met jou grimering? ’n Kil, afsydige kyk in jou oë, of ’n sagte,
vriendelike kyk? ’n Neus-in-die-lug hooghartigheid, onverbiddelike stywe
lippe of nederige diensbaarheid? ’n Frons of ’n glimlag? Voordat jy ’n frons
opsit, moet jy eers doodseker maak daar is nie dalk ’n glimlag êrens
beskikbaar nie. Die goeie ding van ’n glimlag is: one size fits all! Boonop
is ’n glimlag die goedkoopste manier om jou voorkoms te verander. “Wees
altyd beskeie, vriendelik en geduldig”, sê die Bybel in Ef. 4:2. “You're
never fully dressed without a smile” – ek gaan gou seker maak ek is reg
aangetrek! |
|
Ek lees in Ex 27:20 dat daar in die verbondsark lampe
geplaas is wat gevul was met besondere suiwer olyfolie, sodat die lig
voortdurend daar kon brand as simbool van die Here se teenwoordigheid. Hoe
lyk die olievlakke van jou lewe vandag? Is jy gevul en gesalf met die suiwer
olie van die Heilige Gees, sodat God se lig in en deur jou skyn, sodat God
se teenwoordigheid voltyds sigbaar is in jou optrede, jou woorde en dade?
Steek vandag daai lamp aan vriend, sit dit hoog op ’n lampstander, sodat die
donker uitgedoof kan word en God verheerlik kan word. “Julle is ’n lig vir
die donker wêreld rondom julle” (Matt. 5:14) |
|
Whatever tomorrow may hold, He holds tomorrow. Hoe waar
is dié uitdrukking nie. Die Here ken alreeds môre se probleme en vreugdes.
Sy planne vir môre is reeds gemaak. Daarom kan ons Hóm vertrou vir môre se
wysheid, algehele voorsiening, gesondheid, beskerming, oplossings, ens. As
Hy dit alles vir jou gee, dan weet ons dis ’n seën en genade uit sy hand. As
jy egter nié môre al hierdie dinge ontvang nie, sál Hy jou deur die dag dra
en sál Hy vir jou genoeg genade gee vir die pakkie wat jy moet dra,
inteendeel, Hy sal sy skouer onder jou pakke insit en dit vír jou dra. “Werp
al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. (1 Pet. 5:7) |
|
As jy
in die een of ander stryd gewikkel is, hetsy fisies of emosioneel, neem die
Here vandag as jou skild. Hy is ’n skild wat jou aan alle kante beskerm teen
aanvalle van kritiek, verwerping, sonde, siekte, mislukking, ens. Sy
beskerming is bokant jou, onder jou, voor, agter en binne-in jou. God
beskerm jou nie van vêr af nie. As jou skild is Hy by jou en is jy as’t ware
aan alle kante toegemaak deur sy almagtigheid. ’n Soldaat moet egter sy
skild in sy hand neem en fisies gebruik om die beskerming daarvan te hê. So
moet jy ook in geloof die Here as jou skild aanneem en verklaar: “Die
Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil,
my skild en sterk verlosser, my veilige vesting” (Ps. 18:3). |
|
Don’t confuse your path with your destination, just
because it’s stormy now, doesn’t mean you aren’t headed for sunshine. Ai,
mense kan so vaskyk in vandag se moeilikheid en probleme en dan dink hulle
die hele toekoms is donker en sonder hoop. Probeer verder kyk, vriend, en
glo dat die donker wolke sal opklaar en dat die son weer sal skyn. Die Here
sal vir jou uitkoms gee, jou trane sal afgedroog word, jy sal weer blydskap
ervaar. Hy gee vir jou: “... flowers instead of sorrow, olive oil in place
of tears, joyous praise in place of broken hearts” (Jes. 61:3). Ons swaarkry
in hierdie lewe is maar gering en gaan verby (2 Kor. 4:17) - ek hoop jy kan
dit glo? |
|
Fault finding is like window washing. All the dirt
seems to be on the other side. Toe ek dié aanhaling lees, het ek gedink dis
mos presies wat Jesus vir ons geleer het oor die splinter in my broer se oog.
Ons is tog so gou om mense te oordeel en veroordeel, selfs medegelowiges.
Dit lyk partykeer vir my of mense nie kan wag dat die ander een ’n ou
foutjie maak sodat hy uitgevang kan word nie. Ons kyk met ’n vergrootglas en
snuffel deur ander se lewens en optrede om te kyk of ons ’n sondetjie kan
kry. En die hele tyd sit die die vuil kolle eintlik aan óns kant van die
venster! Jesus sê : “Jou skynheilige! Haal eers die houtstomp uit jou eie
oog uit, dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splintertjie uit
jou vriend se oog te haal” (Matt. 7:15, Die Boodskap). Ek wil minder oordeel,
meer aanvaar, meer toegee en groter liefde betoon. Ek sal liewer konsentreer
om mý kant van die venster skoon te hou. |
|
Dis tog vir ons ou nuus dat ons ons naaste moet liefhê.
Dit kan partykeer net só moeilik wees! Ek dink wat belangrik is, is om te
besef dat liefde nie ’n gevoel is nie, maar ’n keuse om mense se behandel
soos Jesus hulle sou behandel. Hy het gesê: wees lief vir mekaar soos wat ek
julle lief het; vergewe, soos wat Ek julle vergewe; aanvaar mekaar soos wat
Ek julle aanvaar; dien mekaar soos wat Ek julle dien. Liefde is natuurlik
ook net liefde as dit in dade bewys word, so kom ons sit maar daai
voorskootjie aan! “And all of you must put on the apron of humility, to
serve one another” (1 Pet. 5:5) |
|
As jy moeg en moedeloos is, net mooi genoeg gehad het
van al die nonsens om jou, raadop is of hand-in-die-hare sit oor jou
situasie is hierdie boodskap vir jou: “Weet jy dan nie, het jy nog nie
gehoor nie ... Hy gee vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie
... dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes.
40:28-31). Kom uit die vinnige baan uit, stop ’n bietjie by Sy krag-stasie.
Hy belowe om jou te verkwik en te verfris, om jou krag en deursettingsvermoë
te gee vir daai moeilike situasie waarin jy is. Vertrou en wag op die Here
en vlieg met arendsvlerke! |
|
“As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh. 14:14). Kan ek dus
maar net my gebed afsluit met “in die Naam van Jesus” en dan is dit die
waarborg dat ek sal kry wat ek gevra het? Natuurlik nie, want die Woord sê
ook dat ons moet bid volgens God se wil, nie vir ons eie selfsugtige
begeertes nie, ons moet in geloof bid en ons moet deur die krag van die
Heilige Gees bid. As ons in Jesus se Naam bid, dan gebruik ons as’t ware Sy
gesag. Ons kan egter nie sy Naam as “towerwoord” misbruik om te kry wat ons
wil hê nie. Ons moet bid vanuit ’n opregte verhouding met Hom, dan sál ons
volgens Sy wil bid en dan sál ons kry wat ons vra. Sodoende sal Hy die eer
kry en my geloof sal versterk word. “Gebed is eerder bedoel om jou by God
aan te pas, as om God by jou te laat aanpas” (so lees ek in die boek Beleef
God). |
|
“Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat
julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uitgestuur om lewens te
red ... Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God” (Gen.
45:5-8). Dit is hoe die verhaal van Josef eindig. Inplaas daarvan dat hy
kwaad is vir wat sy broers aan hom gedoen het en hulle verwyt of verwerp,
sien hy God se plan met sy lewe, hy erken dat die Here sy slegte
omstandighede ten goede gebruik het, vir Sý doel. Dit klink ook soos die
verhaal van Ester: “Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos
hierdie dat jy koningin geword het” (Ester 4:14). Daar is altyd ’n groter
prentjie as die realiteit waarin jy jou bevind. Die lewe is soos ’n legkaart
wat stukkie vir stukkie gebou word en dit is net God wat die hele prentjie
sien. Vertrou dat Hy in beheer is en dat alles ten goede sál meewerk, al lyk
dit glad nie op die oomblik so nie. |
|
“Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer
van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam
bely”. (Heb. 13:15). Lofprysing is om respek en dankbaarheid te uiter (te sê
of te sing) teenoor die Here. Dit is om Hom te bewonder vir wie Hy is en om
sy eienskappe en sy werke te verkondig; om ons waardering uit te spreek vir
wie Hy is, vir wat Hy gedoen het en wie Hy ons gemaak het. “Ek wil die Here
loof, met alles wat in my is, wil ek Sy heilige Naam loof....” (Ps. 103:1).
Is daar vandag lof vir Hom op jou lippe? |
|
Iemand sê nou die dag:
“Behoefte trek God aan”. Uit die Bybel en uit die lewe weet ek dis ’n waar
stelling. Die Here is altyd aan die kant van die onbelangrikes, dié wat oor
die hoof gesien word, dié wat verwerp word, dié wat nie hulleself kan help
nie. Hy het ’n hart vir die weduwees, weeskinders, armes en verontregtes. Hy
reik uit na die sondaars, siekes en swakkes. Waar daar ‘n nood en ’n
behoefte is, daar steek God sy hand uit. “Hy laat die geringes uit die stof
opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te
laat sit; Hy skenk hulle ’n ereplek” (1 Sam 2:8). As ons ook deur mense se
nood en behoeftes aangetrek word, sal ons God daar in aksie sien! |
|
Ek lees hierdie in ’n boek van Joyce Meyer: "Many
people love things and use people to get them. But God intends for you to
love people and use things to bless them". Ek dink die Here verwag van ons
om dié liefde wat Hy in ons harte sit onvoorwaardelik uit te deel, om dié
vermoëns wat Hy ons gegee het aan te wend om te help, om nie net van ons
goed nie, maar ook van ons tyd en onsself aan ander te gee. Dit hoef nie
groot, georganiseerde bedienings te wees nie, dit kan ook net daardie beker
koue water wees waarvan Jesus praat. Hy sê: “Sê nou ’n vriend van My is dors.
Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie,
omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap
nader met ’n beker houe water in sy hand. Hy gee dit vir My vriend. Saam met
die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As
die dors man vra: “Waarom doen jy dit?” antwoord die ander man: “Omdat jy
Jesus se vriend is.” Wel, vir so iemand sal God ook sorg”. (Matt. 10:42, Die
Boodskap) |
|
Die meeste van ons hardloop elke dag op die “treadmill”
van die lewe. Ons moet uithaal om by te bly en die doelwitte te haal. Jy
word net gemeet aan jou prestasies. As die liggie op die treadmill groen
flikker is jy okei. Indien jy nie die teiken haal nie, of nie die pas kan
volhou nie, voel jy skuldig, ontoereikend, minderwaardig, verwerp en
verneder. Dit is egter nie die plek waar die Here jou wil hê nie. Hy wil hê
dat jy moet goed voel oor jouself, of jy perfek presteer of nie. Hy wil nie
hê dat jy jouself haat oor foute en tekortkominge nie. “Die Here weet hoe
swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is”
(Ps. 103:14). Jou selfvertroue en waarde moet gesetel wees in wie jy in
Christus is en nie in hoe goed jy presteer nie. “Maar in al hierdie dinge is
ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37). |
|
Ek hoor nou die dag ’n liedjie en dié sinnetjie daarin
tref my: “I love my beautiful life”. Die sanger sê haar lewe is wonderlik
oor al die partytjies en plesiere wat sy het, oor die liefde en vryheid wat
sy beleef. Sy sê egter ook dat haar lewe mooi is te midde van elke “high and
low”. Wat maak jóú lewe beautiful? Is dit dalk die gewone, alledaagse dinge,
soos ’n onverwagse glimlag, ’n skaterlag, ’n liefdevolle aanraking ? Of is
dit dalk om die Here se grootheid in Sy Skepping raak te sien? Is jou lewe
mooi omdat jy dit deel met spesiale mense? Is jou lewe mooi omdat jy
suksesvol is en groot drome droom, omdat jy beleef dat alles glad verloop
en elke plan mooi uitwerk? Is jou lewe ook mooi al worstel jy deur swaar tye?
Is jou lewe mooi al is jy siek en alleen? Ek bid dat jy vandag iets sal
raaksien wat jou kan laat sing: I love my beautiful life. “By Hom sal julle
die lewe voluit kan geniet. En dit is lekkerder as enigiets anders, glo My!”
(Joh. 10:10, Die Boodskap) |
|
“But you, o Lord, are a shield to me, my glory and the
lifter of my head” (Ps 3:3). Miskien is jy in ’n situasie waar jy verneder
en verwerp is en dit voel of jy nie jou kop kan oplig om die wêreld in die
oë te kyk nie. Miskien voel jy so minderwaardig dat jy jouself wil isoleer
en eenkant in ’n hoekie wil wegkruip. Dan wil ek jou aanmoedig om krag uit
hierdie teks te put en te wéét dat die Here jou wil en sal beskerm aan alle
kante. Hy plaas ’n skild van aanvaarding rondom jou. Hy sal jou eer en
aansien herstel. Hy ís die “lifter of my head”. |
|
“U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd
gedoen word” (Hab. 1:13). Dit lyk vir my partykeer of ons vergeet dat die
Here heilig is, dat Hy verkeerde dinge haat. Ons dink ons kan maar doen wat
ons wil, soos ons wil. Ons dink ons kan ons eie wet maak van wat reg en
verkeerd is. Dan wonder ons hoekom die Here vêr voel, of hoekom ons nie Sy
seën ervaar nie. Hy draai as’t ware sy kop weg wanneer daar verkeerd gedoen
word, nie omdat Hy dit oorsien nie, maar omdat Hy té heilig is om toe te kyk.
Ons is geroep om heilig te lewe, afgesonder vir God, ánders as die wêreld.
Die Bybel sê: beywer julle vir ’n heilige lewe (Heb 12:14); “Dit is die wil
van God dat julle heilig moet lewe” (1 Tess. 4:3). Ek wil daarna streef .... |
|
“Waar is die Here dan”?, is nogal ’n vraag wat baie
mense vra wanneer dit swaar gaan, wanneer daar nie antwoorde vir die vrae is
nie, wanneer die stormwind sterk is en die golwe vernietigend slaan. Ek lees
in Mark 6:45-51 dat die Here “sien” hoe swaar sy dissipels kry wanneer hulle
teen die stormwind roei. Waarmee is Hy besig? Hy bid eenkant op die berg! Hy
het nie onmiddellik opgedaag om hulle te help nie. Hulle het die hele nag
lank swaar geroei teen die storm in en tóé eers het Jesus op bo-menslike
wyse verskyn en die wind en die golwe aangespreek om te bedaar. Tóé eers het
Hy gesê: Moenie bang wees nie. Vandag weet ek dat Jesus sien wanneer ons
swaarkry, Hy is teenwoordig, Hy kyk, Hy tree in vir ons en Hy sál
uiteindelik oor die golwe na ons toe aankom om ons gerus te stel. Ons sal
nié ondergaan in die storm nie. Hy sê: “Wees stil en weet, Ek is die Heer,
Ek spreek en wind en golwe bedaar, Ek sal ook jou getrou bewaar”. |
|
Joh. 6:47 (Die Boodskap) - “Die ewige lewe behoort aan
daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is”. Hoe word
ek Jesus se vriend? Deurdat ek die deur van my hart vir Hom oopmaak en Hom
innooi in my lewe. Deurdat Hy deel is van my daaglikse bestaan en ek Hóm
vertrou met elke aspek van my lewe. Ek blý ’n vriend van Jesus deur Hom
beter en beter te leer ken, deur na Sy woorde te luister, deur met Hom ’n
opregte verhouding te hê. Hoe word ek ’n volgeling van Jesus? Ek stap in sy
voetspore, ek gaan waar Hy gaan, ek doen wat Hy doen. Jesus sê: “Ek ken
hulle en hulle volg My. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie” (Joh.
10:28, Die Boodskap) |
|
Ek lees so ’n mooi getuigskrif van Filemon, vriend van
Paulus. Daar word in Filemon 1:5-7 van hom gesê dat hy liefde en trou aan
die Here en aan al die gelowiges bewys het. Hy het die harte van die
gelowiges verkwik, hy het hulle in liefde gehelp en hulle moed ingepraat. Hy
was toegewy aan die Here en diensbaar teenoor sy mede-gelowiges. Hy het ’n
verskil gemaak ... ek wil ook so bruikbaar wees. |
|
“My genade is vir jou genoeg” (2 Kor. 12:9). Die Here
se genade is genoeg. Genoeg waarvoor? Dis genoeg om my sonde heeltemal toe
te maak. Dis genoeg om my te beskerm teen gevaar. Dis genoeg om my te help
om te onderskei tussen reg en verkeerd. Dis genoeg om my moed te gee om
voort te beur. Dis genoeg om my in staat te stel om aan Hom vas te hou, al
het ek pyn en probleme. Dis genoeg om vrees en bekommernis teen te werk. Dis
genoeg om my hoop te gee vir môre. Dis genoeg om my naaste mee te bedien.
Mag die Here se genade genoeg wees vir jou. |
|
“Take steps of faith even though you have feelings of
fear”. Woorde wat ek êrens gelees het. Ons moet partykeer loop waar daar nie
genoeg lig is nie, waar daar onsekerheid is oor die volgende tree wat jy
moet gee. Dis soos as mens deur digte mis ry en jy probeer jou oë groter
ooprek, of jy trek dit op skrefies, net om te probeer uitmaak waar die pad
is. Dan ry jy mos stadiger, wring jou hande op die stuurwiel en kyk net hier
reg voor jou. Dis ook soos om met ’n flitslig in die donker te loop. As jy
doer voor in die paadjie lig, gaan jy struikel, want dan is daar nie lig by
jou voete vir die volgende tree nie. Jy kyk dan mos maar net hier voor jou
op die grond, sonder om die res van die pad te sien en loop treetjie vir
treetjie met die bietjie lig wat jy het. Dit vergelyk vir my met die “steps
of faith” van die lewe. Al weet jy nie waarheen die pad lei nie, kan jy in
geloof vandag se treetjie gee met vandag se lig wat die Here vir jou gee,
met vandag se beskerming en voorsiening wat Hy vir jou gee. Êrens sal die
miswolke weer oplig en sal alles weer helder en lig word en sal alles weer
sin maak. Glo dit. |
|
Blessed are all those
who wait for Him
(Jes. 30:18) –
nadat ek gister hierdie teks oordink het, het ek onthou dat ek êrens die
verskillende Hebreeuse woorde gelees het wat almal met “wag” of “vertrou”
vertaal is in die Afrikaanse Bybel. As mens daarna kyk dan maak dit eintlik
vir ’n mens ’n duideliker prentjie van hóé ons op die Here moet wag.
Qavah: to wait hopefully, to wait eagerly. Yachal: to wait in
hope, to trust. Damam:
to be dumb, grow
silent, be still, tarry, rest.
Chakah:
to wait,
tarry, or long for. Chul/Chiyl: to swirl down, to make no progress
for a period of time. So, chill bietjie vandag by die Here! |
|
Blessed are all those who wait for Him, who expect
and look and long for Him (for His victory, His favour, His love, His peace,
His joy, and His matchless, unbroken companionship). (Jes. 30:18, The
Amplified Bible). Wag op die Here, soek na Hom, smag na Sy teenwoordigheid,
dors na die vervulling van die Heilige Gees. Verwag sy guns, sy liefde, sy
vrede, sy teenwoordigheid. As jy daarna soek, dan sal jy dit vind. |
|
Kyk na die kontras in hierdie prentjie: ’n kaal, droë
bossie wat in ’n klipwoestyn groei en nooit water kry nie, teenoor ’n boom
wat by water geplant is, wat nie verwelk as die son fel is nie, wat altyd
groen blare het en voortdurend pragtige vrugte dra, selfs al kom daar ’n
droogte. As jy op mense vertrou sal jy soos daardie kaal bossie wees, as jy
op die Here vertrou sal jy die lieflike boom wees. So sê die Bybel in Jer.
17:5-9. Die Here is dáár vir jou, hardloop altyd eerste na Hom toe vir hulp
en raad, vir beskerming en voorsiening. Hy wil hê dat ons harte só op Hom
gefokus is, dat ons gedagtes só vol van Hom is dat dit vir ons die logiese
eerste plek sal wees om te soek vir krag en raad en uitkoms. “... dit sal
goed gaan met mense wat My vir alles vertrou. Dit gee hulle moed vir die
toekoms”. (Jer. 17:7, Die Boodskap) |
|
Ons is so geneig om net op mense staat te maak vir hulp,
raad, wysheid en leiding. As daar probleme of moeilikheid kom, gaan ons
dikwels eerste na mense toe vir oplossings. As ons ’n nood van die een of
ander aard het, kyk ons na mense om ons te red. Die probleem is dat mense
jou kan en sal teleurstel. Jy sal dalk ’n paar keer geholpe raak wanneer jy
na mense opkyk vir hulp, maar op ’n dag gaan jy met ’n skok agterkom dat
hulle nie betroubaar is nie, dat hulle foute maak, dat hulle jok, dat hulle
nie opreg is nie, dat hulle dalk bybedoelings het, dat hulle die rug op jou
draai. Die Bybel sê keer op keer vir ons om ons vertroue in die éérste plek
op die Here te plaas en waarsku ons dat mense feilbaar is. “Moenie op mense
staatmaak nie; hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd”
(Jes. 2:22) |
|
Ek sien partykeer mense wie se hande so swak en slap
hang. Dit teken ’n prentjie van wanhoop, van terneergedruktheid, van opgee,
van ek-kan-nie-meer-nie. Wat maak daai hande so slap? Ek dink dis miskien
bekommernis of swaarkry of vrees of eensaamheid. Die woord sê vir ons in Sef.
3:17: “Moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou”.
Moenie jou hande moedeloos laat hang nie, lig hulle op na die Here in gebed
– Hy is langs jou. Hy is lief vir jou. Gló dit. Ek het hierdie êrens gelees:
fear makes the hands slack, but faith and hope make them vigorous. Mag jy
vandag “vigorous” hande hê! |
|
“Hy (Moses) het volhard soos iemand wat die onsienlike
God sien”. (Heb. 11:27) Toe ek hierdie teks lees het ek besef dat ek baie
keer twyfel en verflou in my toewyding aan die Here omdat my geloofsoë blind
geword het. Geloof is mos juis om oortuig te wees van dit wat jy nie kan
sien nie. Ek wil opnuut weer vir die Here sê soos die blinde in Mark 10:51:
“Ek wil asseblief graag sien, Meneer”. Ek bid dat my geloofsoë altyd helder
en oop sal wees om die Here in geloof te sien: om te sién dat daar hoop in
Hom is, om die geestelike rykdom te sién wat Hy vir my gee, om Sy krag te
sién werk in my lewe. Ek wil volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. |
|
Het jy ook al in moeilike tye gekom waar jy die Here
bestook met jou vrae. Vrae soos bv. “Gaan die Here my altyd van Hom af
wegstoot? Sal Hy ooit weer vir my goed wees? Gaan Hy sy troue liefde altyd
van my af wegvat? Het sy belofte om sy kinders in hulle swaarkry te help,
nou eens en vir altyd tot ’n einde gekom? Het die Here so kwaad geword dat
Hy sy kinders nooit weer met sy liefde gaan toevou nie?” Jy is nie alleen
nie! Baie voor jou het ook al hierdie vrae gevra – lees maar Ps. 77:8-10!
Miskien kan hierdie teks jou help om rustig te word in daardie vrae-tye:
“When life is heavy and hard to take, go off by yourself. Enter the silence.
Bow in prayer, Don’t ask questions. Wait for hope to appear.” (Lam 3:28-29,
The Message) |
|
“God is liefde”, is die woorde wat
ek as kind herhaaldelik op die kanselkleed in die kerk gelees het. Sulke
mooi, goud geborduurde letters. Ek dink nie ek het toe eintlik verstaan wat
dit beteken nie, ek weet nie of ek dit nou eers regtig kan begryp nie. Die
Bybel sê: “Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie; dit is te groot en
wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is
baie groter as wat ons as mense is” (Ef. 3:18, Die Boodskap). Wat ek wel
weet is dat liefde God se karakter is, dit is nie iets wat Hy het nie, dis
iets wat Hy IS. Hy kan nie anders as om ons lief te hê nie, onvoorwaardelik!
Ons hoef nie eers te presteer of sondeloos te wees voordat Hy ons liefhet
nie. Sy liefde is op Hom gebaseer, nie op jou nie. Daar is geen twyfel nie:
niks kan Sy liefde keer nie. “Letterlik niks in hierdie skepping kan ons
ooit van God se liefde skei nie” (Rom 8:39) |
|
Habakuk 3:17-19 is vir my ’n lied van geloofsvertroue.
Dit impliseer dat al kan ek nog níks sien van die uitkoms nie, kan ek te
midde van enige moeilike omstandighede in geloof jubel en ’n loflied sing.
Ek kan glo dat die Here vir my krag sal gee en dat ek in staat sal wees om
bokant my moeilike omstandighede uit te styg. “Hy maak my voete soos dié van
’n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop”. Nogtans sal ek in die Here
jubel ....
~ Wilna |
|
Hierdie is iemand wat ek as vriend wil hê: “Barnabas
was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en met ’n vaste geloof” (Hand
11:24). In Hand 4:36 lees ek dat hy Barnabas genoem is omdat hy altyd mense
moed ingepraat het. Ons het almal die een of ander tyd ’n Barnabas in ons
lewe nodig. Iemand wat vir jou perspektief kan gee op jou situasie en jou
kan aanmoedig om te volhard, iemand wat net die regte woorde op die regte
tyd vir jou gee. Iemand wat standvastig is, vol wysheid en vol van die
Heilige Gees. Vermy die pessimiste, die kritiese en swartgallige mense en
spandeer liewer tyd in die geselskap van die Barnabasse in jou lewe. Dit sal
jou opbou en versterk. Ek dank die Here vir elke Barnabas!
~ Wilna |
|
Ek leef partykeer so “back to the future” – óf ek haak
vas by gister of ander “goeie ou dae”, óf ek beplan en droom oor toekomstige
dinge. Dis egter onmoontlik vir ons om onsself emosioneel en verstandelik te
verplaas na ’n ander tydperk as die hede. As ons dit voortdurend probeer
doen, is dit verwarrend vir ons binnekant en raak ons paniekerig, moedeloos,
hooploos, uitgeput en verloor ons ons vreugde oor vandag. Ek wil nie meer
die huidige oomblik mis nie, ek wil sin en vreugde in elke “nou” vind en
hierdie oomblik benut, ek wil Ps. 118:24 sing: Dit is die dag wat die Here
gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
~ Wilna |
|
“Die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag
kry. Maar jy moet oor hom heers”. (Gen. 4:7) Ons moet voortdurend stry teen
ons sondige natuur en gewaarsku wees teen ons sondige begeertes. Ons is
egter NIE uitgelewer aan die die mag van die sonde nie en ons kán weerstand
bied. Ons het die Gees van God in ons wat ons in staat stel om ’n einde te
maak aan ons sondige praktyke, wat ons help en leer om te onderskei tussen
reg en verkeerd. Ek bid opnuut weer Ps. 19:14 & 15: Weerhou my van
opsetlike sondes, laat hulle nie oor my heers nie... Mag wat ek sê en wat ek
dink tog vir U aanneemlik wees.
~ Wilna |
|
Om alles te probeer
verstaan en verklaar wat in my lewe gebeur (of in die lewe van ander mense,
of in ons land, of die wêreld), steel dikwels my vrede en my krag. Ek besef
maar net weer, dis nie nodig om so verward soos ’n verkleurmannetjie in ’n
Smartie-boxie te voel nie en daarom sê ek vandag vir myself: laat jou lewe
aan die Here oor, Hy weet wat Hy doen, Hy ís in beheer, vertrou Hom, Hy sál
sorg. “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.
Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid
gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” (Ps. 131:2)
~ Wilna |
|
Tetelestai. Dit is wat Jesus aan die kruis sê
voordat Hy sterf. Vir my is dit die hoogtepunt van die kruisgebeure, want
hiermee sê Jesus dat Hy dít waarvoor Hy gekom het, voltooi het, sy werk is
afgehandel. Hy het met Sy liggaam en Sy bloed betaal vir die sonde van die
mensdom, vir mý! Tetelestai is ’n rekenkundige term wat op ’n rekening
aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit
beteken dat die rekening van opgestapelde sonde wat ons teen God het, nou
deur Jesus ten volle betaal is. Daar is geen skuld meer teen ons nie. “Hy
het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die
kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kol 2:14). Ek glo dit!
~ Wilna |
|
Om die Here te aanbid is ’n baie intieme en persoonlike
saak. Of dit nou met musiek, met my woorde, of met my lewe is, my aanbidding
moet met eerbied en nederigheid geskied, met opregtheid, eerklikheid en
algehele oorgawe aan Hom. “Give worship to the Lord with fear, kissing his
feet and giving him honour” (Ps. 2:11).
~ Wilna |
|
Mag die Here se teenwoordigheid elke dag so ’n
realiteit vir jou wees dat Ps. 17:15 vir jou waar sal wees: “ Ek sal
versadig word met U beeld as ek wakker word”. Beleef Hom elke oggend as ’n
werklike teenwoordigheid wanneer jy jou oë oopmaak, verwelkom Hom opnuut in
jou lewe saam met elke nuwe dag. Versadig jouself met sy beeld, met wie Hy
is, met Sy karakter van liefde, genade, omgee, geduld, barmhartigheid,
regverdigheid en ontferming.
~ Wilna |
|
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” So
sê die Bybel mos in Fil. 4:4. Ek voel nie altyd ewe bly of vrolik nie, maar
ek wéét egter dat ek nie my vreugde en blydskap in omstandighede moet soek
nie, maar dat dit in die Here lê. Om Hom te ken, om sy nabyheid te beleef,
gee “joy”, ongeag my omstandighede. Ek moet doelbewus daardie soort bly-wees
soek en begeer en as ek dit het, moet ek dit uitleef. Iemand het eendag gesê:
as jy bly is, vertel tog jou gesig ook daarvan! So: smile and be happy!
~ Wilna |
|
Die Here vul álles met Sy teenwoordigheid. Dit beteken
dat alles wat Hy IS, in elke plek op die aarde en in die heelal gevind kan
word. Daar bestaan nie iets soos ’n Godverlate plek nie! Dit beteken dat
enige plek waar jy jou mag bevind, al is dit hoe eensaam, donker, leeg ,
verdorwe of vreesaanjaend, gevul is met God se teenwoordigheid. Jy is dus
nooit alleen nie, Hy is altyd langs jou, Sy arms is altyd hier naby om jou
te vang, Sy hand digby om jou te help en lei. Hy weet alles en sien alles.
Hy hoor as jy roep, Hy hoor as jy sug of as jy huil. “U is oral. Daar is nie
’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.... Al kan ek so vinnig soos
lig beweeg of al gaan ek na die vêrste plek toe, U is daar.... Oral hou U my
vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my” (Ps. 139:7-11, Die
Boodskap)
~ Wilna |
|
God is …. incredibly incredible, extravagantly extravagant. He is awesomely
awesome in His awesomeness. He is outrageously outrageous, fantastically
fantastical, amazingly amazing and infinitely infinite. Our God is
indescribably indescribable. God CAN! God IS! God is able to do exceedingly
abundantly beyond all that we ask or think!
~ ek het hierdie woorde by iemand geleen; ek kan ongelukkig nie meer onthou
wie nie! |
|
“Baie dankie Vader, dat U boodskap so duidelik en
eenvoudig is. ’n Mens hoef nie jare op skoolbanke te sit of spesiale
kursusse te loop om dit te verstaan nie. Dankie dat ’n ma die kind op haar
skoot van U kan vertel en dat hy dit kan verstaan. Dankie ook, Vader, dat
die sogenaamde slim mense van die wêreld wat dink hulle weet alles, nie U
boodskap met hulle geleerdheid kan stilmaak nie. Nee, al hulle ingewikkelde
redenasies laat net hulle eie kop draai. Uiteindelik begryp hulle minder van
U boodskap as die kindertjies. Dankie Vader, dat U besluit het om so
duidelik en eenvoudig met ons te praat” (Matt. 11:25-26, Die Boodskap)
Moenie dat jou redenasies, jou verstand en kennis jou blinddoek wanneer jy
die Bybel lees nie. Aanvaar dit met kinderlike openheid en geloof.
~ Wilna |
|
Wanneer mens so deur Ps. 119 lees is dit opvallend dat
die digter God se Woord baie lief het, dit ernstig opneem en daarvolgens
lewe. Hy sê God se woord is vir hom soos ’n lied, soeter as heuning, hy het
dit liewer as goud (selfs baie goud, sê Ps. 19:11); hy is so bly daaroor
soos iemand wat ’n groot skat gekry het. Nou wonder ek of ons dalk té
gewoond is daaraan om ’n Bybel beskikbaar te hê? Meeste van ons het meer as
een Bybel op die rak (ek koop self ook kort-kort weer nóg ’n Bybel). Maak
God se Woord jou nog só opgewonde dat dit vir jou belangriker is as enige
ander besitting? Glo jy nog dat dit God se persoonlike woorde aan jou is? Ek
verklaar dat dit vir my betroubaar en volmaak is, dat dit altyd vasstaan en
lewe en blydskap in my lewe bring, dat dit vir my soos druppels uit ’n
heuningkoek is (Ps. 19:11). Ek sê saam met Ps. 119:131: “In my desire for
your commands I pant with open mouth”
~ Wilna |
|
Miskien het jy vandag ’n groot probleem voor jou. Jy
het dalk jou werk verloor, miskien het jy iemand aan die dood afgestaan,
dalk is jy met ’n groot siekte gediagnoseer, dalk vir ’n egskeiding
gedagvaar, miskien het jy uitgevind jou kind stap op verkeerde paaie of dalk
klop die balju aan jou deur. Jy staan met jou hande in die hare en vra: waar
sal my hulp vandaan kom? Dan bid ek vir jou dat jy jouself sal kan versterk
met die bemoediging en aanmoediging en vrede wat net die Here kan gee. “But
David encouraged and strengthened himself in the Lord his God “ (1 Sam
6:13). Sê vir jouself: die Here se genade sal genoeg wees, môre sal ’n beter
dag wees
~ Wilna |
|
Iemand
het gesê: Faith is the ability not to panic. Geloof is nie die manier om
dinge te laat gebeur wat óns graag wil hê nie, dis ’n oorgawe aan wat God
wil. Geloof is om te erken dat God in beheer is, dat Hy die beste weet en
alles ten goede sal laat meewerk. Geloof vra dat ek die stuurwiel van my
lewenskarretjie aan Jesus sal oorgee en sal oorskuif na die passasiersitplek.
Laat jou
lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps. 37:5)
~ Wilna |
|
Ps. 115:12: “Die Here
dink aan ons: Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot”. Seën is
om God se guns te ontvang, om lewensgeskenke van Hom af te kry, om deur Hom
bederf te word met voorspoed en geluk, om Geestelik te ontvang wat Hy belowe
het. “Hy (Jesus) het ‘n oorvloed van
geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan die goeie
dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.” (Joh. 1:16 Die
Boodskap). Mag die Here jou vandag seën!
~ Wilna |
|
“We do not touch people so lightly that it doesn’t
leave a trace” – ’n aanhaling wat ek gelees het en wat ek glo waar is. Watse
“merk” gaan ons vandag agterlaat in die mense met wie ons in aanraking kom?
Gaan ons skrape en wonde agterlaat omdat ons verneder, verkleineer, haat,
uitskel, mishandel en misbruik, of gaan ons mense opbou met ons glimlag, met
ons vriendelikheid, aanvaarding, behulpsaamheid, positiewe ingesteldheid en
Christelike liefde? Jesus sê in Matt. 25:45 : “As julle een van my vriende,
al lyk hulle vir julle ook hoe onbelangrik, met ’n glas water of ’n stukkie
brood of ’n besoek in nood gehelp het, het julle My so gehelp. Ek herhaal,
wie my vriende help, help My” (Die Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek het een keer iemand hoor sê: Die Here het nog níks
vir my gedoen nie. Sjoe, as jy die Here dien, net sodat Hy iets vir jou moet
doen, dan het jy Hom ernstig misbruik. Baie van ons dien die Here maar ons
kyk net vir sy hand, ons verwagting is net op wat Hy vir ons kan gee. As die
Here net vir my goeters gesorg het, en Hy nog nie vir hart gesorg nie, dan
is ek nog Geestelik leeg. Dien die Here vir wie Hy ís en nie vir wat Hy vir
jou kan doen nie.
~ Wilna |
|
“As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte
daaroor na as jy gaan lê en laat dit daarby” (Ps. 4:5). Is dit nou nie goeie
raad nie? Wanneer mens jou ontstel, of as jy kwaad word vir iemand, is die
natuurlike volgende stap om ’n oorvloed onvleiende woord te laat stroom, om
die persoon sleg te maak, jouself te verontskuldig, om te skree,
haatgedagtes te koester, jy sal miskien selfs vloek. Die raad in Ps. 4 is om
bietjie eenkant toe te gaan, rustig te word (ja, gaan lê bietjie op die
bed!), oordink die situasie en laat dit daarby. “Keep calm and carry on”!
~ Wilna |
|
Voel jy dalk verstoot, verag,
verwerp? Stap jy ’n pad van lyding en swaarkry? Ervaar jy pyn? Vermy mense
jou en draai hulle rug op jou? Is jy dalk mishandel? Miskien voel dit asof
mense niks van jou dink of jou nie ernstig opneem nie. Volgens Jes. 53:3-5
ken Jesus elkeen van daardie emosies; Hy het dit immers sélf ook ervaar op
sy kruispad. Aan die kruis het Hy nie net in ons plek gesterf vir ons sondes
nie, Hy het ook in ons plek gesterf vir elkeen van hierdie emosies. Hy het
die prys betaal wat herstel, heling, vrede en vryheid in elke aspek van ons
lewens kan bring. “Hy is doodgemaak omdat ons sonde gedoen het. Hy moes die
prys betaal wat ons lewe kon herstel. Hy is stukkend geslaan sodat ons weer
gesond kan word.” (Jes. 53:5, Die Boodskap)
~ Wilna |
|
“Peace I leave with you; My (own) peace I now give and
bequeath to you” (Joh. 14:27, Amplified). Kan ons as kinders van God, as
volgelinge van Jesus, ook staatmaak daarop dat Hy hierdie soort vrede vir
ons sal gee? Ja, verseker! Hy gee ons Sy Gees en daarmee saam Sy vrede. Sy
éie vrede, Sý sagmoedigheid, sagtheid, tevredenheid, rustigheid, kalmte wat
alle verstand te bowe gaan. “Bequeath” beteken dat Hy Sy vrede “wetlik” vir
ons as erfporsie gee! Mag Sy vrede vandag oor jou hart en gedagtes waghou
sodat jy oor niks ontsteld of bang sal wees nie.
~ Wilna |
|
“Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar ... “ (Heb
10:24, NLV) Daar is mos ’n uitdrukking wat sê: no man is an island; dit
beteken dat mense nie hulle beste kan wees of bereik as hulle geïsoleer is
van ander mense nie. Ons het mekaar nodig: ons het nodig dat mense tyd en
aandag ons skenk en aan die ander kant het ons het nodig om iets van onsself
aan iemand anders te gee. Dit gee sin en betekenis aan ons lewe. Seker ook
dié dat daar ’n oorvloed “mekaar”- Bybeltekste is. Julle moet mekaar liefhê,
bid vir mekaar, troos mekaar, praat mekaar moed in, wees goedgesind en
hartlik teenoor mekaar, aanvaar mekaar, help mekaar, dra mekaar se laste,
wees ’n voorbeeld vir mekaar, deel met mekaar, dien mekaar, wees geduldig
met mekaar, vergewe mekaar, verdra mekaar, bewys eerbied aan mekaar, wees
eensgesind onder mekaar, leef in vrede met mekaar ... om ’n paar op te noem.
Kom ons gee aandag aan mekaar.
~ Wilna |
|
“Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou
moed!” So sê Paulus in Hand 27:22. Wat is die omstandighede waarvan hy praat?
Daar was ’n klomp manne in ’n skip op ’n stormagtige see. Die skip is
meegesleur deur ’n sterk wind. Die matrose het opgegee en die skip windaf
laat dryf en die vrag oorboord gegooi. Daar staan dat hulle baie swaar gekry
het in die storm, hulle het niks geëet nie, die son en sterre was nie eers
te sien nie. Die storm het 14 dae lank aangehou en hulle het alle hoop laat
vaar. Klink dit dalk soos die lewenstorms waarin ons onsself partykeer
bevind ... storms wat net aanhou en aanhou totdat jy alle hoop en moed
verloor? Ek vind bemoediging in die “raad” wat hier in Hand 27 gegee word.
Onder andere staan daar: moenie bang wees nie, vertrou op God se beloftes /
Sy Woord (ja, glo maar daardie bemoedigende teksversie wat iemand vir jou
SMS), hou moed. En hoor hier: “Niemand van julle sal ’n haar van sy kop
verloor nie” (vers 34). Hou moed ten spyte van die omstandighede.
~ Wilna |
|
In my Bybel is daar voor elke Bybelboek ’n stukkie oor
die agtergrond, kernverse, belangrike stellings en karakters van die boek.
Ek het die volgende gelees by Jesaja en ek is oortuig daarvan dat dit nie
net ’n belangrike stelling in Jesaja is nie, maar ook vandag in ons lewe:
“God loop ’n pad met sy volk. Die pad mag skommel tussen die uiterstes van
oordeel en redding, swaarkry en vreugde, wanhoop en hoop, maar God is by
elke uiterste teenwoordig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee”. Ek glo dit!
~ Wilna |
|
Ek wil nog iets (vir die laaste keer) sê oor “veracity”
(liefde vir die waarheid). Die Bybel sê vir ons dat die duiwel die Vader is
van die leuen, daar is geen waarheid in hom nie, hy was nog altyd téén die
waarheid. Onthou dat die vyand baie keer sy leuens kamoefleer om soos
waarheid te lyk. Wanneer ons die waarheid verdraai en kamoefleer staan ons
aan sy kant. Wanneer ons vir Jesus kies, kies ons die Waarheid, want Hy is “die
Weg en die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6). Ek kies vandag liefde vir die
Waarheid en liefde vir die waarheid.
~ Wilna |
|
Nog iets oor “veracity” (liefde vir die waarheid): Die
Here haat leuens en ons moet dit ook haat. Spreuke 6:16 sê dat die Here ’n
afsku het aan ’n tong wat lieg. Kom ons sit elke oomblik die waarheid as
gordel om die heupe (Ef. 6:14). Mag dié gordel ons weerhou van enige vorm
van leuen wat oor ons lippe mag kom, laat ons vandag kies vir
waarheidsliefde. Êrens het iemand gesê: "You
cannot change the truth, but the truth can change you.”
~ Wilna |
|
Ek dink steeds oor die woord “veracity” (liefde vir die
waarheid). Dis tóg beter om altyd net die waarheid te praat; die waarheid
het ’n manier om uit te kom en partykeer word mens se leuens op die mees
ongeleë tye uitgevang. As jy jok oor iets, moet jy aanhou jok en jy moet
onthou vir wie jy watter storie vertel het. Wanneer iemand eers eenmaal vir
jou gejok het, dan bevraagteken jy daarna alles wat hy sê. Ons almal haat
dit as iemand vir ons jok, of ’n halwe waarheid vertel – laat ons dan nie
dié een wees wat die leuens vertel nie. Leuens laat verhoudings verbrokkel,
leuens breek mense, leuens is onregverdig en wreed, dit mislei en bedrieg
mense. Weerhou altyd jou tong van kwaadpraat en jou lippe van leuens (1
Pet. 3:10)
~ Wilna |
|
Die dominee het nou die dag by ons Bybelstudiegroep vir
ons ’n nuwe woord geleer: veracity. Volgens die woordeboek beteken dit
“adherence to the truth, truthfulness, accuracy, precision, something that
is true”. Dit beteken om ’n liefde vir die waarheid te hê, dit beteken jou
“ja” is “ja” en jou “nee” is “nee”. Ek moes toe maar vir myself vra: hoe
lief het ek die waarheid? Praat ek altyd die waarheid, of is daar partykeer
so ’n sousie om die storie bietjie beter te laat klink? Oordryf ek, of las
dalk ’n stertjie by as ek iets sê? Dalk vertel ek so nou en dan ’n ou
witleuentjie? Miskien word die waarheid partykeer verswyg sodat ek nie
moeilikheid kom nie? Ek besef die Here verwag 100% veracity van my; Hy sê:
“... let false lips be far from you” (Spr. 4:24)
~ Wilna |
|
Ek probeer so dikwels om die Here en sy dade te
verstaan en te verklaar en te verdedig. Tog sê die Bybel dat wat Hy dink en
hoe Hy optree baie vêr is van hoe ons dink en optree. “Kan jy begryp wie God
werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?” (Job 11:7). Die
antwoord is natuurlik nee. So sê Rom 11:33 ook dat ons nie sy planne kan ken
of verstaan nie, ons kan nie sy oordeel bevraagteken nie, ons kan Hom nie
raadgee nie. Dat ek min van God se weë kan verstaan laat my nie uitgelewer
of moedeloos voel nie, inteendeel, dit vervul my met ontsag en verwondering
en ek wil ook uitjubel: “Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God, hoe
magtig hulle almal. As ek hulle sou wou opnoem, hulle is meer as wat daar
sand is en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê”(Ps.
139:17-18)
~ Wilna |
|
As ek in die Bybel lees dat die Here sê: “Wees heilig,
want Ek is heilig”, dan wil ek alles in my vermoë doen om gehoorsaam te wees.
Ek wil hard werk en daarna streef, ek wil my inspan om meer heilig te wees,
om God te behaag, om volgens Sy voorskrifte te lewe, om onberispelik te wees.
Dis egter maar ’n opdraande paadjie! Gelukkig lees ek toe hierdie gebed met
’n belofte daarby in 1 Tess 5:23 - 24: “Mag God julle volkome aan Hom
toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam so bewaar dat
julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.” En
hier kom die belofte: “Hy sal dit ook doen....”. Hý sal my heilig maak, Hý
sal my aan Hom toewy, Hý maak my onberispelik, Hý maak my skoon, Hý maak my
nuut – ek vertrou Hom om my oomblik vir oomblik meer heilig te maak.
~ Wilna |
|
“Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder
hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle
’n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my
bepalings nakom en daarvolgens optree” (Es 11:19-20). ’n Kliphart is
afgestomp en hard en geslote. God se stem kan nie deurdring na so ’n hart
nie. ’n Kliphart luister nie na die Here nie, hy volg sy eie verharde weë.
’n Vleishart is sag, sensitief en ontvanklik vir die aanraking van die Here.
’n Vleishart voel die Here se hartklop en luister na sy sagte, teer stem.
Kom, doop vandag jou hart in die stroom van lewende water by die Here, sodat
dit weer sag kan word.
~ Wilna |
|
“Jy moet die
Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele
verstand en met al jou krag”. (Mark 12:30). Met jou héle siel. Die siel van
die mens word baie keer beskryf as die samevatting van gedagtes, wil en
emosies. Om die Here met my hele siel te dien en lief te hê, vra daaglikse
bekering in al drie hierdie areas van my lewe. Die Bybel sê: “Julle gees en
gedagtes moet nuut word” (Ef. 4:23). Kry nuwe gedagtes wat op God se dinge
gefokus is. My wil moet buig, my eie ek moet uitskuif, sodat ek wil wat God
wil. Ek moet die beheer van my emosies oorgee aan die Heilige Gees, sodat
selfbeheersing, geduld, vreugde, vrede, vriendelikheid, liefde, ens. sal
seëvier oor woede, haat, naywer, jaloesie en alle ander negatiewe emosies.
Ek gee my hele siel.....
~ Wilna |
|
Wat beteken dit om geestelik volwasse te wees? Dit
beteken om alles oor jouself en oor God te weet wat jy behoort te weet; dit
beteken dat jy jou Goddelike doel bereik het (dis die afleiding wat ek maak
wanneer ek Kol 1 :28 in Die Boodskap lees). Is enige een van ons al daar? Ek
glo nie. Die lewe word immers in die Bybel met ’n wedloop vergelyk – die
wenstreep lê nog voor. Ek moet my egter inspan in my deelname aan dié resies.
Dit kan net plaasvind as my wegspringblokke ’n intieme, persoonlike
verhouding met Jesus is. Ek kan net vorder op die pad as ek die Woord as my
basis het, as ek die kennis wat ek daaruit kry in my lewe toepas, as ek my
lewe daarby aanpas en as ek gehoorsaam is aan God se opdragte. Ek kan net
vorder op die pad as die Heilige Gees my lewe só beheer dat Sy
teenwoordigheid sigbaar is in liefde, vrede, vreugde ... ens. Ek sal net by
die wenstreep van geestelike volwassenheid kom as ek volhard. Aanhouer wen!
~ Wilna |
|
... ek kom niks kort nie, sê Ps. 23:1. Nou wonder ek
soms: wat moet ek alles hê om niks kort te kom nie? Kol 2:11 (Die Boodskap)
vra dieselfde vraag: “Maar wat kry julle alles by Hom? Wat gee Hy aan julle
sodat julle niks kortkom nie?” Dis nie ’n lekker nuwe kar nie, nie ’n
pragtige huis nie, nie ’n stewige bankbalans nie, nie ’n meelewende gemeente
nie, nie ’n kragtige bediening nie, nie ’n belangrike posisie nie, nie ’n
eksotiese bord kos nie. Lees ek vêrder in Kol 2:11-17 kry ek hierdie lysie
goed wat ons by Jesus kry en dit is wat maak dat ons waarlik niks kortkom
nie:
Christus neem om sondige natuur weg, Hy gee ons ’n nuwe begin, ons was
geestelik dood, maar nou léwe ons saam met Jesus, Jesus het al ons skuld
weggeneem (ons rekening hang nou aan die kruis), Christus het die geestelike
magte verslaan, ons mag maar vergeet van alle onnodige reëls. Ons het lewe
in oorvloed!
~ Wilna |
|
“Believe in the Lord Jesus Christ (give yourself up to
Him, take yourself out of your own keeping and entrust yourself into His
keeping) and you will be saved.” (Hand 16:31, Amplified Bible). Ek kies
sommer net weer vandag om myself uit my eie sorg uit te haal en my aan die
Here se sorg toe te vertrou. Ek vertrou dat Hy alles ten goede sal laat
meewerk vir my. Ek wéét Sy plan vir elke oomblik van my lewe is beter as my
eie planne. Ek laat my lewe aan Hom oor, Hy sal sorg.
~ Wilna |
|
Jesus groot bo almal...
so begin ’n liedjie wat ons graag sing en vandag is dít ook my lofsang en
eerbetoon aan Hom. Hier is ’n klompie tekste wat daardie waarheid bevestig
en wat my met absolute verwondering laat oor Jesus se grootheid:
Hy is verhewe bo alles (Rom 9:5), Hy het die eerste plek in die heelal (Kol
1:18), sy Naam is bo elke naam (Fil. 2:9), Hy is die Eerste, verhewe bo die
skepping (Kol 1:15), voor alles was Hy al daar (Kol 1:17), alles is deur Hom
en vir Hom geskep (Kol 1:16), Hy is die Koning van die konings en die Here
van die heersers (Op 19:16). “Die
grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan
U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy;
U is bo almal verhewe”. (1 Kron. 29:11).
~ Wilna |
|
“Hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die
opregtes” (Ps. 112:4). As mens in die donker loop, dan rek jy mos sommer jou
oë groter in die hoop om ietsie te kan uitmaak. Ek wil vandag vir jou sê dat
daar nie ’n plek so donker is dat die Here se lig nie daar kan inskyn nie.
Kyk en soek, vriend, daar ís ’n ligstraal om vir jou die pad aan te wys –
miskien verlig dit die pad net vir jou een volgende tree, maar gee daardie
tree in geloof en glo die Here wanneer Hy sê: “Ek verander die donker paaie
voor hulle in lig en Ek maak die ongelyk plekke gelyk” (Jes. 42:16)
~ Wilna |
|
Dit is nie verniet dat die woord “vrede” deel is van
die woord “tevrede” nie. As ek ware vrede in my hart het, sal ek vrede hê
oor my omstandighede, dan sal ek tevrede kan wees met wat ek het, en nie
meer en meer begeer, of onvergenoegd wees oor my lewensomstandighede nie. Ek
sou graag ’n getuienis soos Paulus wou hê hieroor: “Ek is en bly altyd
tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie
kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek
net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir
my is dit eintlik maar om’t ewe. Vir alles in die lewe, die goeie of die
slegte, sien ek kans, omdat Jesus my bron van krag is” (Fil. 4:12-13, Die
Boodskap)
~ Wilna |
|
Ek dink ons almal begeer die een of ander tyd meer
wysheid. Ons wil mos graag weet wat die regte manier is om op te tree en hoe
om die beste besluite te maak; ons wil die lewe verstaan, ons wil mense
verstaan, ons wil die kuns om te lewe bemeester. Spreuke 2 sê dat ons ons
moet inspan om wysheid te bekom. Ek lees dat Einstein gesê het: “Wisdom is
not a product of schooling, but a lifelong attempt to acquire it”. Hy was
reg, want ons kan nie wysheid in ’n boek of universiteitskwalifikasie kry
nie. Ons kan wysheid net by die Here kry – so sê Jak 1:5 “As een van julle
wysheid kortkom moet hy dit van God bid”. Wanneer Goddelike wysheid sy plek
in jou lewe ingeneem het, sal oordeelkundigheid jou vergesel en
verstandigheid sal oor jou wag hou (volgens Spreuke 2:10-11). Dit gaan goed
met die mens wat wysheid gevind het!
~ Wilna |
|
Om sonder die Here te lewe is soos om op ’n dun
draadjie te vertrou, of op ’n spinnerak staat te maak (aldus Job 8:14) –
daar is geen sekuriteit of vastigheid, geen hoop of vooruitgang, geen
verwagting of toekoms. Sonder die Here kan jy nie regop bly nie, sal jy
verskroei in die hitte van die stryd, of verdrink in die lewenstorms. Moenie
van die Here vergeet nie! Dien Hom, volg Hom, loof Hom ....
~ Wilna |
|
Ek is maar net weer vandag diep bewus daarvan dat niks
wat ek besit of kan doen aan myself te danke is nie. Dit is genade en
geskenke van God. Ek kan nie op my eie krag, eie vermoëns, dit wat ek bereik
het, of selfs op my gesondheid roem nie. “Jy kan dalk dink: my krag en my
sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God
nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te
verwerf.” (Deut. 8:17-18), of soos die liedjie se woorde sê : “wat ek is, is
net genade, wat ek het, is net geleen ....”
~ Wilna |
|
Selfs al gaan ek deur donker dieptes .... so sê Ps.
23:4. Ek wil so graag glo dat ons as kinders van die Here nooit deur donker
dieptes hoef te gaan nie, maar die realiteit is tog dat baie van ons wel een
of ander tyd daardie donker dal sien, daardie diep put beleef, daardie
stormwaters teen ons voel slaan. Wat vandag vir my uitstaan in hierdie vers
is dat die donker dieptes slegs ’n deurgang is – miskien iets soos ’n tonnel,
en aan die ander kant is daar beslis lig. Die Here laat NIE sy kinders
alleen deur die donker dieptes gaan nie – weet verseker dat Hy jou daardeur
dra, dat Hy sáám met jou daarin is én dat die moeilike pad weer sal
verbygaan, daar sal ’n einde kom aan die donker tonnel. Hoe sê die
spreekwoord? This too shall pass.
~ Wilna |
|
“Faithful is He who is calling you and utterly
trustworthy” (1 Tess 5:24, Amplified Bible). Wat ’n mooi byvoeglike
naamwoord om te beskryf hoe betroubaar en vertroubaar en vertrouenswaardig
ons Here is: “utterly”. Dit sê Hy is volkome, heeltemal, totaal, absoluut,
voluit, eenhonderd persent, sonder voorbehoud, geheel en al, ten volle, in
oortreffende mate betroubaar. As jy vandag hoor dat Hy jou roep, dan kan jy
heeltemal, eenhonderd persent, sonder voorbehoud jou vertroue in Hom stel en
jouself aan Hom oorgee – Hy sál jou nie teleurstel nie.
~ Wilna |
|
“Open your mouth and taste, open your
eyes and see – how good God is. Blessed are you who run to Him” (Ps. 34:8
The Message). Dié wat in die Here se arms inhardloop, is geseënd en gelukkig,
want dis daar dat jy sy goedheid tasbaar sal beleef. Dis daar waar jy Sy
versorging sal kan proe, waar jy die sagtheid van Sy vaderhart sal voel en
die liefde in Sy oë sal sien. Hardloop self ... proe self ... sien self!
~ Wilna |
|
“Worry often gives a small thing a big shadow” – ek het
dit êrens gelees. Om jou te veel te bekommer oor iets is soos om ’n eierwit te klits. Dit wat min en kleurloos is, word dik, skuimerig en wit. Nou ja,
van opgeklitste eierwit kan jy darem lekker skuimpies bak, maar as jy
opgeklits is van bekommernis raak jy knorrig en depressief, kry jy hoofpyn
of dalk ’n maagseer, dan lyk die skaduwee oor jou probleem groot en donker,
dan raak dit vir jou onmoontlik om enige silwer randjie raak te sien en jy
weier om sê: môre sal die son weer skyn. “... wie van julle kan deur hom te
bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?” (Matt. 6:27) Moenie jou
bekommer nie, want jou Vader in die hemel weet wat jy nodig het, Hy sal sorg.
“Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg” (Ps. 55:23). So eggo
1 Pet. 5:7 en Fil. 4:6 ook. Mag die rus en vrede van die Here vandag oor jou
bekommernis kom lê.
~ Wilna |
|
Ek lees in Ps. 31:10-16 van Dawid se swaarkry. Miskien
voel jy dalk ook soos hy: jou oë is moeg van al die huil, jy is totaal
uitgeput, jy word al hoe maerder van bekommernis, jou krag neem af, jy voel
oud van al die swaarkry wat jy al beleef het, mense spot met jou, mense
vermy jou. Probeer Dawid se raad: stel jou vertroue in die Here, erken dat
Hy jou God is wat in beheer is van alles en bely: My tye is in U hand, U beheer my lewe van kop tot tone. “Wees dus sterk en hou goeie moed, julle
almal wat julle vertroue in die Here stel” (Ps. 31:25)
~ Wilna |
|
"Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag
om ons te red uit die brandende oond en Hy sal ons ook red uit u mag" (Dan
3:17). Dit klink mos soos die onwrikbare geloof van ’n kind van God. Dit is
’n kragtige getuienis oor God se mag en sy reddende krag. Maar ... dan voeg
Daniël by: "selfs as die Here dit NIE doen nie.....". Laat hy dalk so
agterdeurtjie oop vir ingeval God nie opdaag om sy vriende uit die brandende
oond te red nie, vir ingeval God nie sy gebede beantwoord nie, vir ingeval
God nie magtig genoeg is nie? Nee! Hy gee erkenning dat God soewerein is en
dat Hy kan en sal maak wat Hy wil. As die Here nie gaan doen wat Daniel
verwag nie, beïnvloed dit glad nie sy geloof en vertroue in die Here nie,
dit laat hom nie verslap in sy toewyding aan die Here nie. Ek wil ook so in
totale oorgawe vir die Here sê: doen slegs U wil Heer, U Pottebakker, met my
die klei...
~ Wilna |
|
Ek dink nie daar is iemand wat kan sê dat hy nog nooit
’n fout gemaak het nie. Dis nou maar die realiteit van die lewe. Onthou
egter dat jou foute nie bepaal wie jy is nie; wat jy leer uit jou foute, sal
baie meer oor jou karakter sê as die feit dat jy ’n fout gemaak het. Moenie
in sak en as gaan sit en depressief raak oor jou foute nie, erken dit, bely
dit voor die Here. Geen fout is vir die Here ’n verassing of ’n skok nie, Hy
weet reeds daarvan. Dit troos my ook om te weet dat Hy begrip het vir my
foute. “Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net
klein en swak mensies is” (Ps. 103:14, Die Boodskap). Staan maar weer op as
jy geval het, draai maar weer terug as jy verdwaal het, Sy genade sal vir
jou genoeg wees. Jy is ’n wenner as jy een keer meer opstaan as wat jy geval
het.
~ Wilna |
|
“Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al
weer” (Ps. 30:6). Het jy dit ook al ervaar dat dinge saans net te donker lyk
en wanneer jy gaan slaap voel jy bedruk en depressief, maar die volgende
oggend lyk dinge sommer net beter en sien jy weer kans vir die lewe? Dis
asof die Here deur die nag alles kom nuut maak het, asof Hy met opstaantyd
net weer ’n groter porsie genade en liefde op jou kom uitstort het. So sê
Klaagliedere 3:22-23 ook: “Daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is
elke môre nuut”. Mag jy elke dag saam met die nuwe sonsopkoms ervaar dat sy
teenwoordigheid vars en nuut en seker is in jou lewe.
~ Wilna |
|
“In U hande gee ek my lewe oor”, so bely Dawid in Ps.
31:6. So bely ek ook opnuut vandag. Ek kan net my lewe aan die Here oorgee
as ek ten volle op Hom vertrou. Ek kan Hom net vertrou as ek Hom regtig ken.
Ek ken Hom as my rots, my bergvesting, my toevlug; ek ken Hom as ’n getroue
God wat hoor as ek roep, wat my nooit sal teleurstel nie (soos wat Ps.
31:1-6 sê). Ek kan altyd op Hom reken, Sy hand dra my veilig deur ’n krisis,
Sy hand hou my styf vas, Sy hand lei my op die regte pad. Ek kén sy
Vaderhand, daarom gee ek my lewe oor in Sy hande.
~ Wilna |
|
“’n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy
gee, sien Hy” (Spr. 5:21). Wanneer ek hierdie teks lees, voel ek so skaam om
te dink dat die Here alles weet wat ek dink en sê en doen. Hy sien alles wat
ek dalk verkeerd doen, alles wat ek versuim om te doen, al my negatiewe
gedagtes. Dis dán vir my ’n aansporing om ’n heilige lewenswandel na te
streef en te vra: wat sou Jesus doen? Aan die ander kant gee hierdie teks
ook vir my so ’n verligting, want ek weet dat niks wat met my gebeur, niks
wat oor my pad kom vir die Here ’n verrassing is nie. Alles is oop voor Hom,
Hy wéét daarvan, Hy sien dit raak. Ek het die versekering dat Hy sién en dat
sy hand daar is om my te help en te lei en te beskerm.
~ Wilna |
|
Iemand skryf nou die dag dié drie woorde oor die
kinders van die Here: geken, gekies, geweef. Hoe waar is dit nie! Die Here
sê mos dat Hy elkeen van ons se naam ken, Hy roep ons op ons naam, Hy
graveer ons naam op sy handpalms en dan sê Hy dat Hy ons nooit sal kan
vergeet nie. Hy het ons voor ons geboorte al geken, elke stukkie detail,
want dit is Hý wat ons met ’n plan aanmekaar geweef het daar in die
baarmoeder. Dáár het Hy ons al gekies as die kroon van sy skepping, as die
mense oor wie Hy sy liefde en genade wil uitstort, vir wie Hy sy Seun sou
gee, in wie Hy sy Gees sou uitstort. Ai man, glo tog nou dat jý die appel
van Sy oog is!
~ Wilna |
|
Ek het lank gewonder wat dit beteken as Ps. 23:3 sê dat
die Here ons op die regte paaie lei “tot die eer van sy Naam” (for His Name
sake, om Sy Naam ontwil). Ek weet steeds nie, maar ek dink dat ’n lewenswyse
wat volgens die Woord is en wat die vrug van die Gees openbaar, vir die
mense om ons wys wie die Here is. Dit gaan daaroor dat Sy roem en Sy
reputasie (dit wat mense van Hom dink) groter word, wanneer ons die regte
paaie loop. Dat ons die regte pad loop gaan nie oor ons nie, maar oor Hóm.
Daarom wys Hy die pad, Hy leer ons die regte pad, Hy leer ons om die regte
pad te kies.... om Sy Naam ontwil.
~ Wilna |
|
Daar is ’n geheime plek, ’n
wegkruipplek, ’n plek waarvan net God se kinders weet. ’n Plek waar ons
veilig is, waar ons krag ontvang, waar ons gevoed en opgebou word, waar ons
die lewe in oorvloed kan ervaar. ’n Plek waar ons kan tuisgaan en tuis wees.
Daardie plek is by die Here, naby Hom, in Sy teenwoordigheid. Ken jy dié
geheime plek? Maak dit jou permanente blyplek, vriend, want “He who dwells
in the secret place of the Most High, shall remain stable and fixed under
the shadow of the Almighty” (Ps. 91:1).
~ Wilna |
|
“Die Here kyk nie na dieselfde
dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die
innerlike”. (1 Sam 16:7). Wie jy uiterlik is en wat jy uiterlik doen, bepaal
jou goeie naam by mense, maar jou innerlike lewe bepaal jou aansien by die
Here. Mense kyk buite, die Here kyk binne. Wat gaan aan in my binne-lewe? Is
daar afguns en hoogmoed of sagtheid en liefde? Woede en haat of
selfbeheersing en vriendelikheid? Vyandskap en verdeeldheid of geduld en
goedhartigheid? Wat die hart van vol is, sal wel oorloop na die buitekant.
Skep vir my ’n rein hart, o God ....
~ Wilna |
|
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen .... (Jes. 43:19). Glo jy
dat die Here iets nuuts in jou lewe kan doen? Dat Hy droë bene weer lewe kan
laat kry? Dat Hy uit skerwe weer iets mooi kan maak? Dat Hy ’n rivier kan
laat ontspring, affodille kan laat groei in die woestyn van jou lewe? Glo
dit asseblief, want dit ís die waarheid. Kom na Jesus, vertrou Hom; Hy
spesialiseer daarin om nuut te maak, om te vergewe, om skoon te was, om ons
te “reset” en te “restart”. Hy kyk nie terug na jou slegte verlede nie, jy
hoef ook nie! “Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk
van God” (2 Kor. 5:17)
~ Wilna |
|
“Always keep our words soft and sweet, just in case we
have to eat them”. Dis ’n aanhaling wat ek êrens gelees het en toe maar net
weer besef het hoeveel ons regtig moet let op wat ons sê. Ons woorde kan
soos dolksteke wees, dit kan mense afbreek, haat aanwakker, verderf saai. Of
ons woorde kan ’n bruisende stroom wees, ’n bron van wysheid, dit kan soos
heuning wees, soet en geneeskragtig, dit kan lewe en geluk bring, dit kan
soveel werd wees soos die fynste silwer. (Volgens verskillende tekste in
Spreuke). Laat ons maar vandag weer ons woorde tel ....
~ Wilna |
|
My broer se 6-jarige kleindogter sê nou die dag vir hom:
Sjoe, Oupa, jy het al baie blaaie omgeblaai. Dié kostelike wysheid het my
verstom. Dit het vir my so ’n mooi prentjie laat sien van ons lewensboek
waarvan ons elke dag ’n nuwe bladsy kan omblaai, elke jaar ’n nuwe hoofstuk
kan begin. Vandag het ons vandag se bladsy. Wat skryf jý op vandag se bladsy?
Daar is net vandag om vandag se bladsy te skryf. Ons kan nie nou al omblaai
na môre of volgende jaar nie, ons kan nie die storie se einde vooruit lees
nie. Daarom sê ek vir myself: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid”
(Ef. 5:16), skryf vandag wat jy moet skryf, tipex vandag uit wat dalk jou
lewensboek sal ontsier. Dis ’n nuwe jaar, dis ’n nuwe dag, ’n geleentheid om
die volgende hoofstuk mooi te skryf!
~ Wilna |
|
“Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U dra
my deur die lewe.” (Ps. 63:8, Die Boodskap). Dis so dubbel-uitdrukking: ek
klou, Hy dra my. Dit laat my dink aan hoe ’n baba-apie verbete onder aan sy
ma se pens vasklou, maar terselfdertyd tog ook so gemaklik en tevrede daar
kan hang, omdat hy weet hy is veilig en sy sal hom nie laat val nie. Ek kan
met vertroue aan die Here vasklou met dié wete dat Hy my dra. Selfs al sou
my vasklou-greep verswak, sal ek nie val nie, want die ewige God se arms is
onder my, Sy hand ondersteun my.... ALTYD!
~ Wilna |
|
Een van my gunsteling Bybelverse is Matt.
11:28. Dit is die uitnodiging van Jesus om by Hom te kom rus en asem skep.
In die Amplified Bible sê dit: “I will cause you to rest ( I will ease and
relieve and refresh your souls)”. As Hy ons binnekant wil “ease”, dan
beteken dit dat Hy dit wil losmaak, wil laat ontspan, dat Hy ons wil
gerusstel en dinge vir ons wil vergemaklik. As Hy ons wil “relieve”, dan
beteken dit dat Hy ons wil opbeur, wil help en wil ondersteun. As Hy ons wil
“refresh”, dan beteken dit dat Hy ons wil verfris, wil laaf, verkoel en
verkwik. “Kom na My toe .... en Ek sal julle rus gee”. Kom, Sy uitnodiging
is vir jóú ook bedoel.
~ Wilna |
|
Kindness is the language which the deaf can hear and
the blind can see – ’n aanhaling wat ek êrens gelees het. Kindness is mos
barmhartigheid en goedhartigheid, om ’n hand na iemand uit te steek om hom
te help, om met empatie en simpatie te luister na iemand se probleme, om ’n
stukkie brood of ’n glas water te gee, om ’n sieke te besoek, om jou goed en
jou tyd te deel. Jesus sê vir ons in Matt. 9:13: Gaan leer wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie” en in Luk. 6:36: “Wees
barmhartig soos julle Vader barmhartig is”. Hoeveel “kindness” wil jý
ontvang? Dit is hoeveel jy moet gaan uitdeel.
~ Wilna |
|
Dit is nou maar eenmaal ’n feit dat ons as kinders
van God ook in lewenstorms kan beland. Ons het egter die versekering dat ons
nie sal ondergaan in die storm nie, ons skip sal nié sink nie. Ons kan val,
struikel of verdwaal, maar ons het die versekering dat die Here ons altyd
weer sal optel en terugbring. Hier is drie beloftes vir ons:
Ps. 34: 20: “ Al word die regverdige deur hoeveel rampe getref, die Here red
hom uit almal.”
Spr. 10: 25: “ As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die
regverdige bly altyd staan.”
Spr. 24:16: “Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die
goddelose word deur rampe getref.”
~Wilna |
|
Ek het vandag my verjaardag
gevier. Ek was só bevoorreg om hordes SMS’e, telefoonoproepe en
facebook-boodskappe te kry met gebede en goeie wense. Dit sluit in wense vir
strome seëninge, liefde, genade, vrede, vreugde, gesondheid, geluk,
voorspoed en bederf. Dan was daar gebede vir wysheid, goeie besluitneming,
vermeerdering van kennis, geestelike verdieping, groter diensbaarheid en
impak in die lewens van ander. Met soveel opbouende seënwoorde wat oor my
uitgespreek is, gaan ek hierdie nuwe lewensjaar in met groot vrymoedigheid,
baie hoop en ’n buitengewone verwagting. Vir myself is my verjaardaggebed
dat ek die innerlike skoonheid van blywende beskeidenheid en kalmte van gees
sal hê. “Hoe mooi is dit nie as ’n vrou sag en vriendelik optree nie! Of ’n
vrou nou oud of jonk is, hierdie soort mooiheid kan jy nie van haar af
wegvat nie. In God se oë is dit die kosbaarste juwele wat ’n vrou kan dra”
(1 Pet. 3:4, Die Boodskap) .... ek soek van daardie juwele vir my
verjaardag!
~ Wilna |
|
As iemand sê: “Ek het ‘n voëltjie
hoor fluit….”, dan sit ek mos sommer so bietjie vorentoe om te hoor wat is
die nuutste, en ek is dadelik gereed om saam te twiet en tjirp! En so
versprei onnodige stories, onnodige opswepery, onnodige skinder! Ai, wees
maar versigtig as jy saampraat, want: “Loose talk has a way of getting
picked up and spread around. Little birds drop the crumbs of your gossip far
and wide”. (Ecc 10:20, The Message)
~ Wilna |
|
Ek lees hierdie aanhaling op die
eerste bladsy van my nuwe 2013 dagboek: “If you plan for one year, plant
rice. If you plan for ten years, plant trees. If you plan for 100 years,
educate mankind”. Dit klink vir my na ‘n goeie idee om in mense te belê, ‘n
“legacy” na te laat, om ‘n verskil te maak in mense se lewens wat kan
uitkring van geslag tot geslag en dalk vir ’n paar jaar ’n invloed kan hê.
Dis alles goed en wel, maar daar is iets wat nog beter is: as jy wil beplan
aan iets wat ewige waarde het, bring mense by Jesus uit. Vertel hulle van Sy
liefde, vertel hulle van sy genade, vertel hulle van sy uitnodiging, nooi
hulle uit om Hom as Verlosser aan te neem en hulle harte vir Hom oop te maak
– dan sal hulle die ewige lewe hê. Beplan dit en doen dit - tydig en ontydig,
soos wat 2 Tim 2:4 sê.
~ Wilna |
|
“U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook gaan,
is daar oorvloed!” (Ps. 65:12) Ek is oortuig daarvan dat die Here ons elkeen
se jaar ook só sal kroon en dat sy goeie gawes in oorvloed op ons as sy
kinders sal neerreën in hierdie nuwe jaar. Mag jy dit druppel vir druppel
raaksien en op jou vel voel.
~ Wilna |
|
En so kom die wêreld more aan sy einde. 21
Desember 2012 is hierdie lewe iets van die verlede en sal geen mens ooit
weer die lig sien nie. Goodbye cruel world, was lekker om knus hier op aarde
te woon en almal te ken. Gelukkig het ek nog vandag tyd om te groet. Wonder
tog net wat ek met die kersgeskenke sal maak.
Glo jy dit? Onwaarskynlik (dalk nie onmoontlik nie), om die minste te sê,
want die Here hou hierdie stukkie inligting verborge vir jou en my. Ek glo
nie ek en jy wil regtig God se toekomsplanne ken nie. Sê nou maar die Here
maak dit aan jou bekend dat ‘n geliefde (dalk een van jou kinders) op ‘n
spesifieke dag en tyd volgende jaar sou sterf, hoe sou die aftel na daardie
dag wees? Sou jy dit kon hanteer?
Sê nou maar die Here maak aan jou bekend dat jy volgende jaar die Lotto sal
wen. Ek glo jy sal elke sent vooruit spandeer op grond van die “belofte”.
Mmm… los maar liewer in elk geval.
Die lewe sou al sy pret, uitsien, verwagting en drome verloor as ons die
toekoms kon ken.
Ek gaan hierdie jaar uit soos ek hom ingegaan het, en ek gaan volgende jaar
in soos ek hierdie een uitgegaan het. Met volle vertroue dat God in beheer
is.
Spr 25:2 “Die eer van God lê in wat Hy verborge hou…”
~ Willem |
|
Mens lees op ’n hele paar plekke in die Bybel dat daar
een van twee paaie is wat ons kan kies, bv. die breë en die smal weg, die
pad van die regverdige of die pad van die goddelose, die pad van die vlees
of dié van die Gees, die pad van gehoorsaamheid aan God of die pad waar ek
maak wat ek wil, die pad van wysheid of van dwaasheid, God se pad of Mammon
se pad, ens. Kies dan vandag wie julle wil dien, sê Jos 24:15, kies aan
watter kant jy staan, kies na wie jy luister. As jy God se pad kies, val jy
onder die kategorie “regverdige”. Ps. 37 is een van die Bybelgedeeltes wat
so mooi uitspel wat die pad en uiteinde van die regverdige is, teenoor dié
van die goddelose. Dit sê o.a. dat die Here altyd sorg vir die regverdiges,
Hy bepaal hulle koers, Hy ondersteun hulle, as hulle val sal die Here hulle
ophelp, in tye van nood en gebrek sal hulle genoeg hê, hulle sal altyd
behoue bly, God se openbaring is in hulle hart, hulle het wysheid, hulle het
’n toekoms.... dis die pad wat ek kies!
~ Wilna |
|
Noudat dit Kersfeestyd is hoor mens
dikwels slagspreuke soos “Put Christ back into X-mas” en “Jesus is the
reason for the season”. Ek hou daarvan, want dit herinner ons (en die wêreld)
dat Jesus sentraal moet wees in ons Kersfeesvieringe. Toe Jesus gebore is,
was daar nie vir Hom plek in die herberg nie en ek wonder baie keer hoekom
het die herbergier nie maar êrens ‘n ou plekkie gemaak vir die Verlosser,
die Koning, die Vredevors om gebore te word nie? Dalk is dit omdat hy nie
gewéét het dat dit Hy is nie? Maar ons, ons wéét Hy is die Saligmaker, die
Seun van God, Immanuel. Kom ons maak vir Hom plek hierdie Kersfees, plek in
ons harte, plek in ons lewe en in ons huise. Daar is ‘n lied wat ons sing
wat sê: Al word die Seun van God ‘n duisend maal gebore, maar nie in jou nie,
bly jy verlore. Maak plek vir Jesus….
~ Wilna |
|
Maar vir julle sal Hy voed met die beste koring, julle
versadig met heuning uit ’n rots (Ps. 81:17); open you mouth wide, and I
will fill it (Ps 81:11). Kom na die Here toe in verwagting dat Hy vir jou
sal gee wat jy nodig het en dat dit die beste vir jóú sal wees. |
|
Maak met elke Kersgeskenk wat jy oopmaak, ook jou hart
oop vir Jesus – laat Hom toe om volle beheer te neem van jou hele hart,
liggaam en verstand. Hy het die eerste plek in die heelal, Hy is tot die
hoogste eer verhef, Hy sit aan die regterhand van God, Sy Naam is bo elke
naam (lees Fil. 2:9-11) – buig jou knie voor Hom en gee Hom daardie eervolle
plek in jou hart.
~ Wilna |
|
As kind van God het ek en jy ’n kroon ontvang, een wat
niemand kan wegvat nie, een wat jou merk as kosbaar en spesiaal, een wat jou
laat sprankel. Ps. 8:6 sê ons is gekroon met eer en aansien. Ons kroon is
versier met edelstene van oorwinning, van liefde, van God se ontferming en
Jesus se verlossing. Loop mooi regop vandag en dra jou kroon met trots.
~ Wilna |
|
Ek het hierdie êrens op ’n kennisgewing bord gelees:
The joy that you give someone is the joy that comes back to you. Die
uitdrukking: “wat jy saai sal jy maai” het by my opgekom toe ek dit lees.
Gee ’n glimlag en kry een, gee liefde en jy kry liefde, gee vergifnis en jy
kry vergifnis. Dan is dit boonop nog altyd lekkerder om te gee as om te
ontvang. Wat deel ons vandag uit? Bietjie tyd, bietjie liefde, ietsie van
jouself of ietsie van jou goed? Jesus sê in Matt. 11:28 (Die Boodskap):
“Kom luister na wat Ek
vir jou oor jou lewe wil leer. Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd
net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander
mense tyd en liefde oor te hê.”
~ Wilna |
|
Sorg dat julle gewete skoon bly, sê die Bybel in 1 Pet.
3:16. Jou gewete herinner jou om die regte/goeie goed te doen en verkeerde
dinge te vermy, dit help jou om te onderskei tussen reg en verkeerd en om
sake te beoordeel. As jy die regte keuse gedoen het, is jou gewete skoon, as
jy iets verkeerd gedoen het, of nagelaat het om iets te doen, sal jou gewete
jou pla. Wanneer iemand sy lewe aan Jesus oorgee, word hy ’n nuwe mens (2
Kor. 5:17) – dit beteken dat hy ook ’n skoon, nuwe gewete kry, bevry van ou
laste wat op die gewete lê. Heb 9:14: “Die bloed van Christus bevry ons
gewete van die las van die dade wat tot die dood lei”. Laat Jesus se bloed
vandag jou gewete skoon was; laat die Heilige Gees oorneem en elke oomblik
jou gewete lei volgens God se wil en waarheid.
~ Wilna |
|
Spyt kom te laat, berou is betyds. Nadat Judas vir
Jesus verraai het, het spyt gekry, die 30 silwer muntstukke vir die
priesterhoofde en familiehoofde gaan teruggooi en homself gaan ophang (Matt
27:3-5). Sy spyt het hom niks gehelp nie; hy het sonder Jesus gesterf.
Petrus het Jesus verloën en toe hy die haan hoor kraai het hy bitterlik
geween; sy berou het hom gered en sy verhouding met Jesus is herstel. Saul
was spyt oor sy ongehoorsaamheid en het dit so halfhartig probeer regmaak.
Sy spyt het hom egter niks gehelp nie, want die Gees van die Here het hom
verlaat (1 Sam 16:14). Dawid het “groter sondes” as Saul gepleeg, maar na sy
diep berou en verootmoediging word hy genoem ’n man na God se hart (Hand
13:22). Sy berou was betyds. Dan was daar Manasse. Hy was ’n goddelose
koning wat die allervreeslikste dinge aangevang het (lees in 2 Kron. 33
daarvan). Maar “toe dit met hom sleg gaan, het hy die Here sy God om genade
gesmeek en groot berou getoon ”. Sy berou was betyds en die Here was hom
genadig. (2 Kron. 33:12-13). Die misdadiger aan die kruis langs Jesus, het
berouvol uitgeroep na Jesus. Dit was betyds, want Jesus antwoord met:
“Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk. 23:43). Die Here se
genade is genoeg – laat dit vir jou betyds wees.
~ Wilna |
|
You are my hero. You are the poster on my heart,
the picture in my mind, the song that I will sing, You are my hero, my
everything! You are my morning and you are my night. You are my tears and my
delight. You are my twirl, my twist, my turn. You are my wow, in my heart
You burn. You are the one I long for most. You are my pride, You are my
boast. You are my father and my best friend. You are my hero till the end...
Ek sing vandag hierdie woorde uit ’n liedjie van Julius Magan saam en bedoel
regtig dat die Here alles vir my is!
~ Wilna |
|
Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen
wat van julle ’n verduidelik eis oor die hoop wat in julle lewe. (volgens 1
Pet. 3:15). Jy sal dalk vandag een van die volgende vrae moet antwoord:
Hoekom is jy altyd so positief? Hoekom word jy nie kwaad as jy te nagekom
word nie? Hoekom bid jy? Hoekom gaan jy kerk toe? Hoe kan jy nog hoop hê as
dinge om jou so sleg gaan? Hoekom hou jy vas aan die Here terwyl jy
terminaal siek is? Hoekom is jy altyd so eerlik? Ek hoop dat my lewe só sal
wees dat dit sulke vrae sal uitlok... en dat ek met vrymoedigheid sal kan
getuig van die hoop wat ek het omdat ek Jesus ken en liefhet en volg.
~ Wilna |
|
Met Kersfees aan die kom, het ek weer die verhaal
gelees in Luk. 1:26-56 waar die engel aan Maria verskyn het om haar mee te
deel dat sy die ma van Jesus gaan word. Sy hoor o.a. die volgende woorde:
begenadigde, die Here is by jou, moenie bang wees nie, God bewys genade aan
jou, die Heilige Gees sal oor jou kom, niks is vir God onmoontlik nie.
Hierdie is mos beloftes wat ons op meer as een plek in die Bybel by die Here
hoor en die goeie nuus is dat hierdie woorde vir my en jou ook gesê word!
Kom ons glo dit weer. Kom ons gee onsself oor aan die Here en sê soos Maria:
“Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het” (vers
38). Kom ons sing saam met Maria dié loflied: “Ek besing die grootheid van
die Here, ek juig oor God, my Verlosser” (vers 46).
~ Wilna |
|
Ek kom agter dat ek nogal bietjie kompeterend is;
ek wil wen as daar speletjies gespeel word, ek wil hê my werk moet die beste
en vinnigste wees, ek wil die een in die gym wees met die meeste “work-outs”
agter my naam, ek wil die mees toegewyde persoon wees, ens. Die Bybel sê:
“Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met
Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God” (1 Joh. 5:5, die
Boodskap). Wie in Jesus glo, wie naby Hom leef, húlle is eerste, hulle sal
’n onverganklike kroon ontvang, ’n goue medalje, ‘n ewige prys – ek wil só
’n wenner wees!
~ Wilna |
|
Hier is Paulus se drie hoofpunte vir ’n goeie preek: hy
sê hy het vir álmal gepreek dat (1) hulle tot inkeer moet kom (2) hulle moet
bekeer (3) hulle dade moet doen wat bewys dat hulle bekeer is. (lees Hand
26:20). Miskien moet ons ook meer sulke preke hoor / preek wat ons aanmoedig
om weg te draai van die verkeerde dinge, wat ons roep om meer en meer heilig
te lewe; preke wat ons weer en weer oproep om Jesus as die verlossende
Redder aan te neem; preke wat vir ons prakties sê hoe ons moet lewe, sodat
ons nie net “hoor” nie, maar sal “doen” ook.
~ Wilna |
|
Spr 18:22 "Wie 'n vrou kry, vind
geluk en geniet die goedheid van die Here."
Is dit nie wonderlike woorde
nie! En is dit nie so ongelooflik waar nie? Maar ek wens ek kon iets byvoeg
by daardie woorde. Iets soos: "...solank hy daardie kosbare geskenk met sy
lewe oppas". Jy sien, ons as mense is snaakse goed. Ons sal vra vir die Here
vir Sy guns, óf vir finansies, óf werk óf gesondheid, maar sodra ons dit
het, vergeet ons dat dit die Here se geskenk was. Sê nou die Here neem alles
weg wat ons roekeloos hanteer, wat sal jy oorhê na die einde van vandag?
My keuse is om my vrou lief te
hê en te koester, te versorg en te beskerm, want ek weet sy is 'n geskenk
van God.
~ Willem |
|
Welgeluksalig is die mens wat die
Woord van God oordink en dit die riglyn vir sy lewe maak – dis min of meer
wat Ps. 1:1-2 sê. Welgeluksalig beteken om in die hoogste mate gelukkig te
wees. Wel-geluk-salig. As iemand “wel” is, is hy gesond en tevrede, dinge in
sy lewe verloop glad en mooi. As iemand “geluk” beleef, dan is hy geseënd,
vrolik en voorspoedig As iemand “salig” is, stap hy ’n vreedsame, heerlike,
heilige pad wat uitloop op die ewige lewe by God. Bestudeer en oordink die
Woord en wees welgeluksalig!
~ Wilna |
|
Wind, vuur, water – drie simbole wat gebruik word om
die werking van die Heilige Gees in en deur ons te beskryf. Onsigbaar en
misterieus soos die wind, waai die Gees deur ons en kom maak alles vars en
nuut. Soos ’n vuur steek die Heilige Gees ons lewens aan die brand sodat die
vlam in ons harte lig en warmte verskaf rondom ons. Soos ’n fontein wat
opborrel is die Gees se teenwoordigheid en krag in ons lewe –Hy was ons
skoon, Hy les ons dors, Hy bring nuwe lewe, Hy laat ons groei en vrugte dra.
Begeer jy dalk ook die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe? “Hy sal
die Heilige Gees gee vir dié wat vra” (Luk. 11:13)
~ Wilna |
|
“Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat
ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is”.
(Joh 6:68). Dit was Petrus se vraag en belydenis. Dit is vandag myne ook. Ek
weet daar is niemand en niks anders wat ware lewe, lewe in oorvloed, éwige lewe
kan gee nie. Niemand anders wat elke honger kan stil, elke dors kan les,
elke vraag kan antwoord nie. Jesus is die brood, die deur, die weg na die
Vader, die Middelaar – wie in Hom glo, hét die lewe.
~ Wilna |
|
Is jy dalk moeg vir jou ou klerekas? Tyd vir
ietsie nuuts? Iets gepas, iets duursaam, iets wat jou pragtig gaan laat lyk,
wat jou beste bates sal beklemtoon en komplimente uitlok? Hier is dit: So
chosen by God for this new life of love, DRESS in the wardrobe God picked
out for you: compassion, kindness, humility, quiet strength, discipline. Be
even tempered, content with second place, quick to forgive offense.... and
regardless of what else you put on, wear love. It’s your basic, all-purpose
garment. Never be without it. (Kol 3:12-13, The Message)
~ Wilna |
|
Moenie te gou kwaad word nie.
’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. (Jak 1:19-20).
Nou wonder ek of dit dan ’n sonde is om kwaad te word? Daar is darem ’n
ander teks in die Bybel wat vir ons so ’n agterdeurtjie oop los, want dit sê
AS julle kwaad word, moenie sondig nie en moenie ’n dag kwaad afsluit nie (Ef.
4:26). Lyk darem of kwaad word deel van die lewe is en gelukkig lees ons van
’n hele paar Bybel-ouens wat ook kwaad geword het, hoewel daar vir baie van
hulle ’n slegte nadraai was oor hulle kwaad-geit! Ek dink die probleem van
kwaad word is dat dit tot sonde aanleiding kan gee, want as mens kwaad is
kan jy baie keer nie jouself beheer nie. Dan word daar dinge gesê wat vir
ander soos dolksteke is, of jy doen skade aan ’n verhouding, of in die
ergste gee jy dalk iemand ’n klap. Ons weet ook dat woede al moord gepleeg
het. Spr. 29:11 sê dan ook terg: "’n dwaas gee vrye teuels aan sy woede”.
Om kwaad te word is ’n versoeking, wat ons daarná doen, kan óf sonde óf
oorwinning wees. Ek gaan maar probeer om nie kwaad te word nie.....
~ Wilna |
|
If you were convicted of being a Christian, would
there be enough evidence? Sjoe, hoe skrik ek toe ek hierdie aanhaling lees
en ek wonder of “Christen” regtig groot en duidelik oor my geskryf staan; of
almal wat met my te doen het, sal kan sê: sy is ongetwyfeld ’n Christen. Is
dit regtig sigbaar in wat ek doen EN in wat ek sê, nie net in die feit dat
hier ’n klomp Bybels lê, dat die Jabes gebed in so mooi hartjie geskryf is
teen my kantoormuur, dat daar ’n groot kruis by die voordeur is en ’n vissie
agterop my kar nie. Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is, so sê
die Bybel in Matt. 3:8. Die bewyse is nie aldag sigbaar hier by my nie .....
maar danksy Christus kan ek maar weer van vooraf sê: ek is ’n nuwe mens, die
oue is verby die nuwe het gekom.
~ Wilna |
|
Het jy ook al gehoor van lagterapie? Jy dwing jouself
om te lag sodat jy gelukkiger kan voel! Ek sien die fliekmense se slagspreuk
is “your happy place”. As mens om jou kyk dan lyk dit of geluk te vind is in
dinge soos ’n goeie werk, ’n mooi huwelik, slim kinders, gawe vriende, ’n
groot huis, mooi meubels, skoonheid, ontwerpersklere en juwele, sport,
kwalifikasies, roem, bekendheid, oorsese reise, eksotiese vakansies ens. Dit
is sekerlik dinge wat kan bydra dat jy gelukkig voel, maar sal dit jou áltyd
laat lekker voel? Geluk wat van buiteaf aangeplak word, gaan nie lank hou
nie. Ware geluk is dit wat jou hart en gedagtes vul as jy die Here dien.
Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het (Matt. 5:8, Die
Boodskap). Vind jou vreugde in die Here! (Ps. 37:4). Vind jou “happy place”
by die Here.
~ Wilna |
|
SPREUKE 17:28: “As 'n dwaas nie praat nie, kan
selfs hy aangesien word vir 'n wyse, en as hy sy mond toehou, vir 'n
verstandige mens.”
‘n Dwaas word uitgeken aan woorde, meer as aan dade. In Spreuke is daar baie
tekste wat handel oor dwaasheid en Salomo het ‘n kleintjie dood daaraan. Ek
dink nie dwaasheid is noodwendig die teenpool van wysheid nie, want ek dink
selfs wyse mense raak soms ‘n klomp dwaasheid kwyt.
Dalk moet ons maar altyd handel in ooreenstemming met hoe ons geskape is.
Twee ore en een mond – luister twee maal meer as praat.
Boeta, ek kon al menigmaal my tong sluk!
~ Willem |
|
Onthou jy die Lappop lied?
… dis ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen
‘n grammofoon plaat en ‘n kous sonder maat…
Ek dink ons almal sukkel om te verstaan waar
op aarde die “ander” kous altyd beland. Sommer net weg, soms om nooit weer
sy verskyning te maak nie. Dit laat my dink aan egskeiding, wanneer twee
huweliksmaats soms net uitmekaar uit spat en versoening vind net nie plaas
nie.
MALEAGI 2:16 “Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding.
Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers
julle, moenie ontrou wees nie.”
Pas jou kous
mooi op, werk elke dag daaraan om seker te maak dat een nie wegraak nie en
koester mekaar. Ek sal verseker totaal verlore sonder my “kous” wees, sy is
my beste maat, my kollega, my “buddie” en my inspirasie. Ek bid dat die Here
nie my kous sal wegvat nie. Ek sal dit nie maak nie!
~ Willem |
|
Lank gelede het Jesus aan die kruis gesterf en betaal
vir elke sonde wat ek al gedoen het en nog gaan doen. Maar nóú, vandag, op
hierdie oomblik sit Hy aan die regterhand van God en pleit vir my; op
hierdie oomblik staan Hy tussen my en God en as ek sondig, dan herinner Hy
die Vader daaraan dat die betaling reeds gedoen is en pleit Hy dat ek weer
vergewe word. Hy is as’t ware elke oomblik my “aktiewe Verlosser”! Heb
9:24: Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God
te verskyn; Rom 8:34: Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
~ Wilna |
|
Ek het hierdie mooi akroniem vir HOPE gelees: Have Only
Positive Expectations. Met Jesus in my lewe weet ek dat daar altyd hoop is.
Ek moet die hoop as’t ware met my geestesoog voor my “sien”, ek moet dit
vasgryp en myself positief programmeer daarmee. Dié hoop wat die Here ons
gee is ’n veilige en onbeweeglike anker, sê die Bybel in Heb 6:19. Dis nie
iets van ek “hoop” dit reën vanaand nie, of ek “hoop” ek gaan die eksamen
slaag nie. Die hoop-anker wat daar in Jesus is, sal keer dat jy sink of
wegdryf, sal keer dat jy teen die rotse geslaan word as daar ’n storm opkom.
Al is ’n boom afgekap, is daar hoop dat dit weer sal uitloop en dat sy lote
sal aanhou groei. (Job 14;7). Solank daar lewe is, is daar hoop. ’n Hond wat
lewe, is beter as ’n leeu wat dood is. (Pred. 9:4). Ek sal nie hooploos lewe
nie....
~ Wilna |
|
Ons leef in ‘n wêreld waar eerlikheid al so
afgewater is, dat dit eenvoudig deel van ons lewe geword het. Ons almal is
skuldig daaraan dat ons graag vinger wys na bedrog in die regering en
misdaad oor die algemeen. En “menseregte” maak dat die sisteem selfs growwe
oneerlikheid oorsien en die persoon beskerm. Jy word maklik onskuldig bevind
op ‘n tegniese punt, bloot omdat daar nie “bo alle redelike twyfel” bewys
kan word dat jy verkeerd was nie. Indien elke mens op aarde net een honderd
persent eerlik is, was ‘n regstelsel onnodig.
SPREUKE 21:8 “'n Slegte mens loop krom paaie; 'n eerbare mens tree eerlik
op.”
Ek en jy val in een van hierdie twee groepe waarvan Salomo hier praat ... as
ek myself “eerlik” moet ondersoek, dink ek nie ek vaar te goed nie.
~ Willem |
|
Ek het myself nou die dag so verknies omdat iemand
my te nagekom het, omdat ek gevoel het ek is onregverdig behandel, ek het
nie gekry wat my toekom nie .... Ek het die hele dag met hulle gesprekke in
my kop gevoer, my regte probeer eis en my kant van die saak gestel. Toe ek
later in die spieël kyk sien ek my mondhoeke trek sommerso af van die bitter
smaak in my mond. Ag, en toe besef ek maar net weer hoe stupid dit is om oor
so iets aan te hou tob. Dié klomp gaan net lekker aan met hulle lewe en ék
is die een wat ly onder my negatiewe gedagtes, ék is die een wat af voel,
ék is die een wat in ’n hopie sit en myself jammer kry. Ek het toe ’n
besluit geneem om vrede te maak daarmee en die saak uit te vee in my
gedagtes. Natuurlik is ek toe gevul met ’n lekker gevoel van verligtheid en
vrede. “When you hold resentment toward another, you are bound to that
person by an emotional link that is stronger than steel. Forgiveness is the
only way to dissolve that link, and get free.”
~ Wilna |
|
Pred 9:11-12: “Verder het ek in hierdie wêreld
gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes
wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die
verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd
van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang
word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom
skielik oorval”.
Dit lyk my jy hoef nie die vinnigste, sterkste, rykste of slimste te wees om
sukses te behaal nie. Hierdie teks bevat ongelooflike waar woorde, jy hoef
maar net om jou te kyk. Volgens hierdie stukkie gaan dit oor tyd en
geleentheid. Nadat ek lank aan hierdie deel gedink het, het ek besef dat ons
elke denkbare geleentheid wat op ons pad kom moet ondersoek en gebruik. En
dan moet jy besef dat alles verder in God se hande lê. “Die mens ken selfs
nie die tyd van sy dood nie.”
Leef voluit, doen wat jy moet, lewe met hoop en moed en bo alles, geniet dit!
~Willem |
|
Wanneer jy
die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad,
loop hierlangs.” (Jes 30:21) Dit klink mooi, maar wat van daardie dag wat jy
by ‘n kruispad staan en jy wag, maar jy hoor nie daardie duidelike stem om
vir jou te sê watter kant toe nie, wanneer jy voor ‘n keuse staan en vra:
moet ek of moet ek nie? Jy mag dalk sê: ek mag enige iets doen, ek is
volwasse, ek is vry, alles is my geoorloof. In 1 Kor 6:12 en 1 Kor 10:23 is
daar drie vrae wat mens kan help in keuses:
(1) is wat ek wil doen heilsaam (m.a.w. is dit goed vir my, sal dit my
gelukkig maak, is dit werklik nuttig?)
(2) kan dit lei tot verslawing?
(3) is dit werklik opbouend?
As jou antwoorde ja, nee, ja is, kan jy met ‘n geruste hart daardie pad vat
en die Here sal jou seën!
~ Wilna |
|
Die
mens leer ‘n gewoonte vreeslik vinnig aan. Jy hoef ‘n bepaalde ding net ‘n
paar keer te doen en blitsig raak dit ‘n gewoonte. Mens kry goeie en slegte
gewoontes en dit lyk my slegte gewoontes kulmineer baie vinnig na slegter
gewoontes. Jy hoef dit net ‘n paar keer te doen.
Dieselfde is egter waar vir goeie gewoontes en dis nie noodwendig sleg om
goeie dinge maar net uit gewoonte te doen nie, bv. al gaan jy net uit
gewoonte kerk toe, is dit steeds ‘n goeie gewoonte, en het die Here
geleentheid om met jou te werk.
Om vir jou wederhelf en kinders gereeld te sê: “Ek is lief vir jou”, is ‘n
skitterende gewoonte en dit kulmineer ook maklik na meer dinge soos: “Jy is
spesiaal” of “Ek is trots op jou” en “Daar is niemand soos jy nie”. Die
geheim is om dit net te begin doen, en vinnig raak dit makliker en vloei
hierdie lewegewende woorde soos strome water uit jou mond uit. En dit sal
vir geslagte oorvertel en onthou word.
Gaan jy ook begin daarmee?
~ Willem |
|
Ek het hierdie sinnetjie êrens gelees: The tongue is
the only tool that gets sharper with use. Geen wonder dat die Bybel sê ons
moet maar ’n wag voor ons mond sit nie. Ons word gewaarsku dat die tong ’n
verwoestende veldbrand kan aansteek, dat dit ’n oorlog kan begin, of die
hele liggaam kan vergiftig, dat dit nie getem kan word nie, dat dit saad van
bitterheid kan versprei. Ai, ek gaan vandag probeer om sagte, kalmerende,
eerlike, opbouende, aangename woorde te gebruik. Dit sal mý opbeur asook
dié wat daarna moet luister. Aangename woorde is heuning, soet en
geneeskragtig vir die mens. (Spreuke 16:24)
~ Wilna |
|
Ai-oh, ai-oh, and off to work I go…
Jip, soos elke dag is dit maar ons almal se lot. Is dit regtig ‘n “lot”? Wel,
dit hang seker af met watter gesindheid jy hierdie dag aangepak het. Gaan jy
werk toe omdat jy voel jy is iemand se slaaf, of omdat jy glo jy voeg waarde
toe tot Suid Afrika, die ekonomie en ook jou eie menswees? En dit my liewe
vriend, is jou keuse. Werk is nie ‘n uitvloeisel van die sondeval (soos
sommiges dink) nie, want die opdrag om die aarde te bewoon en te bewerk was
vir Adam gegee toe God hom geskep het.
Jy kan jou half dood werk omdat jou werk dit vereis, of jy kan dit ook doen
uit gierigheid. Die Here het net die antwoord vir ons vandag in Ps 37:3
“Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort”.
~ Willem
|
|
“Ons wil met julle saamgaan, want
ons het gehoor God is by julle” (Sag 8:23). My gebed is
vandag dat my lewe só God se teenwoordigheid sal uitstraal
dat dit mense sal aantrek en aanspoor om Hom te volg; dat ek
’n aangename geur sal versprei; dat my lewe ’n brief sal
wees wat Jesus se liefde, genade en aanvaarding sal
verkondig. Ek bid dit vir jou ook!
~ Wilna |
|
Ons het nie woorde of begrip om te
beskryf hoe groot God se liefde vir ons is nie. Dit strek
wyer, verder, hoër en dieper as wat ons ons kan indink. As
mens na ’n baie groot krat van buiteaf kyk kan jy mos nie al
sy dimensies sien nie. As jy aan die voorkant is, sien jy
dalk net hoe wyd en hoog hy is. As jy aan die sykant is sien
jy net hoe breed en hoog hy is, ens. Die enigste plek
waarvandaan jy al sy dimensies sal kan sien, is as jy binne-in
die krat sou staan en rondom jou sou kyk. Só is dit met God
se liefde: wanneer ons binne-in sy liefde staan, “gewortel
en gegrondves”, dan sal ons so ietsie kan beleef van hoe wyd
en vêr en hoog en diep die liefde van Christus is. (Ef.
3:18)
~ Wilna |
|
Ek glo die meeste mense het maar
‘n paar merke van hulle verlede wat saamgedra word. Dit kom
dalk uit jou ouerhuis, of skool of gebroke verhoudinge. Wat
sien jy as jy na joune kyk? Is dit ‘n rofie wat jy elke dag
stukkend krap en aanhoudend daaroor tob, of is dit ‘n wond
wat ten volle genees is, maar steeds ‘n letsel agterlaat.
Om dag na dag daaroor te dink bring geen genesing nie. En
iemand anders kan vir jou pleisters plak tot hulle blou is
in die gesig, maar die genesing hang van jouself af.
Medikasie vir daardie wond is goed, maar soms verlig dit
maar net die simptome.
Paulus het die antwoord in Fil 3:13: Broers, ek verbeel
my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek:
ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor
is.
~ Willem |
|
Openb 14:4-5
praat van die mense in die hemel
wat geen sonde gedoen het nie. Niks! Hulle was in alles
onberispelik. Nou wonder ek hoe het hulle dit gemaak? Kan
daar hoegenaamd enige iemand op die aarde of in die hemel
wees wat geen sonde gedoen het nie? Ek lees toe weer so
bietjie van al die dinge in die Bybel waarvan gesê word
moenie, bly weg, vermy en ook dié wat sê doen die en doen
daai. Ai en ek weet net ek faal keer op keer. Ek weet ek kan
nie, maar ek weet Jesus kan afreken met elke verkeerde ding.
Sy bloed was my silwerskoon, my rekening hang nou aan die
kruis en dit sê afgehandel, klaar betaal. Die Here sê Hy
steur Hom nie meer aan my oortredinge nie, Hy skryf dit af,
Hy gooi dit in die diepsee, Hy vertrap dit onder sy voete,
Hy sit dit aan die ander kant van die aardbol, Hy skeur die
lysie op! En ek kan ook daar in die hemel gaan saamsing saam
met dié wat onberispelik daar staan, want ek is ook
skoongewas in die bloed van die Lam.
~ Wilna |
|
ERFENIS DAG
MATTEUS 19:29 En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien
het van huise of broers of susters of vader of moeder of
kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die
ewige lewe as erfenis kry.
EFESIËRS 1:18 Ek bid
dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet
watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in
die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.
HEBREËRS 9:15 Daarom
is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het
plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder
die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die
beloofde ewige erfenis kan ontvang.
1 PETRUS 1:4 op die
onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in
die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
'n Erfenis word nie
verdien nie. Dis 'n uitvloeisel van dit wat iemand vir 'n
nageslag agterlaat omdat die afgestorwene niks meer met die
goedere kan doen nie. So het Jesus gesterf, nie vir homself
nie maar vir jou en my wat die VOLLE erfenis onverdiend
ontvang. Jesus kan absoluut niks met die Saligheid doen wat
Hy bewerkstellig het nie. Dit behoort aan my en jou en
elkeen wie se naam in die Boek van die lewe (testament)
opgeteken staan.
~ Willem |
|
Ek weet verseker dat die Here my uit sy
genade gered het, dat die prys vir my sonde betaal is, dat
die ewige lewe ’n gratis geskenk is waarvoor ek nie kan werk
nie en wat ek nie verdien nie. Aan die ander kant weet ek
net so seker dat om Hom te volg ’n prys vra. Jesus sê dat
ons bereid moet wees om ons lewe, ons besittings, selfs ons
familie prys te gee wanneer ons Hom wil volg (dis wat ek
lees in Luk. 14:25-33). Om Hom te volg hou nie materiële
beloning in nie, dit vra selfkruisiging; dit vra aanhou tot
die einde. Nou wonder ek: sal ek Hom nog wil volg as ek
weet Hy gaan niks vir my DOEN nie? Ek kies om Hom te volg
vir wie Hy IS en nie vir wat Hy vir my kan aanbied nie.
~ Wilna |
|
Daar is só min dinge
in hierdie lewe wat vas en verseker is. Ons weet nie eens of
ons vanaand die son sal sien sak nie. Enige van ons
omstandighede kan in ’n oogwink verander. Ons kan nie op ons
werk of ons geld reken nie, want dit kan opdroog. Ons kan
nie op mense staatmaak vir hulp of raad of beskerming nie,
want mense verander van plan, mense is onbetroubaar, mense
doen nie wat hulle belowe het nie, mense blaas so maklik
hulle asem uit (so sê die Bybel in Jes. 2:22). Al wat
werklik vas en seker is, is dat God bestaan en dat Sy liefde
vir my en jou onwankelbaar en oneindig is – is DIT genoeg
vir jou? “Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn,
maar My liefde vir jou sal nooit ophou nie... dit is wat die
Here sê wat soveel vir jou omgee” (Jes. 54:10)
~ Wilna |
|
Ps. 91:4: He will cover you with
His feathers, and under His wings you will find refuge. Hoe
lekker is dit nie onder die Here se vlerk nie! Dis warm as
jy koud kry, dis ’n skaduwee as die son fel is, dis waterdig
as daar ’n storm woed. Dan is dit natuurlik ook die
veiligste plek om te wees, want Hy sal nie toelaat dat iets
of iemand jou daar uithaal of aan jou raak nie! Dit is ook
dié plek waar jy regtig onvoorwaardelik welkom is en waar jy
Sy hartklop kan hoor én voel en waar jy kan wéét dat Hy jou
liefhet. Hardloop en kom skuil hier saam met my....
~ Wilna |
|
Die Here laat U-draaie toe. Altyd! As
jy uitvind jy is op die verkeerde pad kan en móét jy omdraai.
Die Here spesialiseer in tweede kanse, Hy gee nooit op met
ons nie. As jy val is Sy hand daar om jou op te help, as jy
in ’n donker gat is, kom Hy soontoe om jou daar te kom haal,
as jy in die varkhok rondploeter, staan Hy met genadige, oop
arms en wag vir jou om terug te kom. “Sal iemand val en nie
opstaan nie, of wegdraai en nie terugdraai nie?” (Jer. 8:4)
Kom terug na die Here julle God toe: Hy is
genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. (Joël
2:13), Hy sál jou weer laat opstaan (Ps 37:34) .
~ Wilna |
|
Miga 6:6 vra: “Wat sal ek saamvat as ek
na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?” Ek
het toe ook gewonder wat ek Hom kan aanbied. Ek weet die
Here sê hy soek nie my goeters as ’n offer nie. Die offer
wat Hy vra is lof (Ps. 50:4), gehoorsaamheid (Ps. 40:7),
verootmoediging (Ps. 51:19), barmhartigheid (Matt. 9:13),
regverdigheid, liefde, trou en bedagsaamheid (Miga 6:8). Ek
glo die offer wat Hy eintlik van my wil hê is myself, my
lewe, my hele ek – en dis wat ek vandag opnuut weer op Sy
altaar kom aanbied. “Gee julleself as lewende en heilige
offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1)
~Wilna |
|
Al ooit gewonder wat
die vissie-simbool, wat Christene gebruik, beteken? Wel, die
Grieks vir “vis” is ICHTYS, en in Grieks lyk dit so: ΙΧΘΥΣ.
Dit is ‘n akroniem wat spel: Jesus Christus, God se seun,
Verlosser. So, plak maar daardie vissie agter op jou kar, of
dra dit op jou sleutelhouer, want só verkondig jy die naam
van Jesus, só verkondig jy dat Hy die enigste Seun van God
is, die Gesalfde van God, ons Verlosser!
~ Wilna |
|
Dit lyk my daar is 'n voortdurende
geveg tussen die mens se hart en verstand. Die verstand wil
redeneer, inligting versamel, verwerk, verstaan en sin maak.
Daarom kan die verstand maklik die muur wees tussen die mens
en God. Die verstand het egter 'n besondere plek. Met my
verstand kan ek dinge rondom my waarneem, die skepping sien
en dikwels tot 'n WOW besef kom.
Die hart werk anders. Dis die sentrum wat aangeraak word
deur emosie en gevoel wanneer ek trane in my oë kry as ek "voel"
hoe God in my werk, as ek sien hoe HY mense verander en hoor
hoe 'n klein kindjie in onskuld Sy Naam aanroep.
Ware bekering is wanneer hart en verstand konnekteer en die
totale prentjie begin vorm.
Mark 12:30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart
en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou
krag.
~Willem |
|
Ek wil nie op
myself, my eie insig en my eie krag staatmaak nie. Ek wil
nie meer sê: “Ek SAL self” nie. Ek KAN nie self nie. Ek HOEF
nie self nie. Ek MOET nie self nie. Ek MAG nie self nie. Ek
sê nou: All my life and all
my needs, all my ways and all my deeds …
I surrender all.
Vertrou volkome op
die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie (Spr
3:5)
~ Wilna |
|
Moed laat mens sy lyding dra,
aldus Spreuke 18:14. Skep moed vriend! Volgens die HAT
beteken “skep” om met ’n holding iets op te neem en oor te
bring (jy weet, soos met ’n lepel uit ’n pot). Dit impliseer
daar moet iets wees waarvan jy kan skep. Daar is baie mense
wat moed verloor het en sonder moed kan hulle nie die lewe
in die oë kyk nie, kan hulle nie hulle probleme en swaarkry
dra nie. Hoe kan ons vir hulle sê: skep moed, vriend, as
daar niks uit waarvan hy kan skep nie? As die pot leeg is,
kan hy nie skep nie! ’n Ander betekenis van skep is
natuurlik om iets uit niks te vorm, om iets voort te bring
wat nie daar was nie (“create”/maak).Miskien moet ons die
moedeloses help om moed te skep ( te “create”) en die
enigste manier is as die Here dit vír jou skep. Kom staan by
die Here, kom skuil is sy skaduwee, kom lê teen sy bors en
Hy sal nuwe moed vir jou skep. “Ek maak die moedeloses weer
vol moed”; so sê die Here in Jer. 31:25.
~ Wilna |
|
Dit was die
bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur
geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God
in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die
wêreld onsin is, dié te red wat glo. 1 Kor. 1:21
Ons wonder soms hoekom van die
slimste mense – wetenskaplikes, professore, selfs ex-predikante
– dan nie glo wat in die Bybel staan nie, en niks van God
wil weet nie. Hierdie teks vertel egter vir ons dat dit
presies is wat ons moet verwag. Sonder dat hierdie
ongelowiges dit besef, bewys hulle dus die Bybel se inhoud
korrek.
Maar nou praat Paulus van “onsin”.
Wel, dit klink absoluut onsinnig dat een Persoon vir die
hele wêreld kan sterf, maar dis waar die geloof inkom en
daarna bevestig die Gees dit in jou hart. Mens kan egter nou
vra of hierdie nie ‘n “hoender eier” situasie is nie.
Miskien wel, maar mense wat die Here as Saligmaker aanneem,
is nooit teleurgesteld nie! Worth a try, of hoe?
~ Willem |
|
Waarom is ek so in vertwyfeling en
waarom kerm ek so? Dit is wat die skrywer van Ps. 43 in vers
5 vir homself vra. Ai, ek kan ook partykeer so aan die kerm
gaan, steen en been kla en wonder of alles die moeite werd
is. Dan vra ek ook hierdie vraag vir myself. Soms vra ek
dieselfde vraag oor ander mense wanneer ek hulle so hoor sug
en kla. Dis vir my só mooi dat die ou van Ps. 43 sommer vir
homself ’n 2-punt plan gee van hoe om uit hierdie gekerm en
put van twyfel te kom: (1) vertrou op God want Hy is dié
Helper en (2) sing vir Hom ’n loflied. Ek hoop jy kan ook
vandag jou vreugde in die Here vind. Mag Hý die bron van jou
tevredenheid wees, die tema van jou loflied.
~ Wilna |
|
Say a quiet yes to God and He'll be there in no time (Jak
4:8, Message). Hoe maklik is dit nie om die Here aan te roep
nie! Geen lang sinne, geen perfekte teologiese samestelling
nie, geen pragtige poëtiese taal nie, geen stortvloed van
woorde nie, net ’n sagte uitroep daar in jou binnekamer, en
Hy sal hoor. Hier is ’n paar voorbeelde uit die Bybel van
sulke kort gebede wat lank genoeg was:
Here red my (Petrus in Matt. 14:30)
Wees my sondaar genadig (Die tollenaar in Luk. 18:13)
Dink aan my wanneer U in u koninkryk kom (Misdadiger langs
Jesus aan die kruis in Luk. 23:42)
Here, as U wil, kan U my gesond maak (Die melaatse in Luk.
5:13)
Jesus seun van Dawid, ontferm U oor my (Die blinde man by
Jerigo in Luk. 18:38)
~ Wilna |
|
"Figure out
what will please Christ, and then do it" (Eph 5:10) Toe ek
hierdie vers in die Message Bybel lees, het ek besef dat dit
seker dié doel en roeping van my lewe moet wees om die Here
te plesier en te behaag, om Hom te laat glimlag. Uit die
Purpose Driven Life – boek onthou ek dat daar 5 goed genoem
is wat die Here oor my sal laat glimlag: as ek Hom boweal
liefhet, as ek Hom met my lewe vertrou, as ek Hom voluit
gehoorsaam, as ek Hom dank en prys met my hele hart en as ek
my vermoëns ten volle benut. Mag ons vandag só leef dat die
Here sal glimlag!
~ Wilna |
|
Here, U kyk of ek eerlik is en
vertrou kan word.
U weet wat gaan hier binne-in my aan.
Ek kan niks wat ek doen vir U wegsteek nie.
Nog voordat ek iets doen, weet U wat dit gaan wees.
Of ek by die huis bly en of ek rondloop, daar is niks wat ek
vir U kan wegsteek nie.
U weet alles wat ek doen.
Al het ek nog nie eens begin praat nie, U weet wat ek gaan
sê. U ken my deur en deur.
U beskerm hy hele lewe.
Ek kan dit glad nie verstaan nie, al probeer ek. Dit is te
oorweldigend.
(Ps 139:1-6 Die Boodskap)
~ Willem
|
|
Ek verkneukel my daarin dat die Bybel
baie keer net mooi die teenoorgestelde sê van wat vir die
wêreld reg en belangrik lyk. Soos bv. wie eerste is, sal
laaste wees (Markus 10:31), as jy swak is, is jy sterk (2
Kor. 12:10), die swakste is eintlik die noodsaaklikste (1
Kor 12:22), die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by
God (1 Kor. 3:18-19), wie dink dat hy staan kan val (1 Kor.
10:12), die hoogmoediges sal verneder word, die nederiges
sal verhoog word (Matt. 23:12), dit wat régtig waardevol is,
is verniet (Op 22:17), antwoord ’n vloek met ’n seën (Luk.
6:28), koop sonder geld (Jes. 55:1), jy kan lewe al het jy
gesterf (Joh 11:25), om te gee is lekkerder as om te ontvang
(Hand 20:35), wat jy nie kan sien nie, is belangriker as wat
jy kan sien (2 Kor. 4:18), wat onmoontlik is, is moontlik
(Mark 10:27). Dis darem maar lekker om in Jesus se span te
wees!
~ Wilna |
|
Een van die eerste mense wat jy vanoggend gesien het was
jouself. Behalwe natuurlik vir manlief of vroulief. As mens
so vars uit die bed klim, voel jy soms allesbehalwe vars,
eerder soos ‘n uitgewaste lap. Dan begin die ritueel voor
die spieël (jip, ons manne ook) en Hooglied 6:5 kom by jou
op “Draai jou oë liewer weg van my af, hulle maak my
onrustig”.
Maar dis natuurlik totaal buite
konteks. Gaan lees gerus die hele hoofstuk en jy sal sien
dat dit iets totaal anders beteken. Dis ‘n liefdeslied waar
‘n man die skoonheid van sy geliefde besing.
Net so voel die Here oor jou as Hy
jou in die oggend “sien”. Sy hart bons van vreugde, Hy
verlustig Hom in jou skoonheid en Hy is versot op elke
plooitjie en merkie. Want dis hoe Hy jou gemaak het.
Dink jy nie dis tyd om weer innig
lief te word vir jouself nie?
So, as jy more oggend voor die
spieël verbykom, gooi so ‘n lekker knik en sê: Howzit
beauty!!
~ Willem |
|
Ek en ’n vriendin het verlede Donderdag
in ’n parkeerterrein gestaan toe ons iemand hartverskeurend
hoor snik. Toe ons omkyk sien ons ’n man met selfoon teen
die oor en hy praat-huil histeries. Ons staan nader om te
hoor of hy okei is. Hy sak op sy knieë en deur die trane
vertel hy dat hy so pas die nuus gekry het dat beide sy
ouers in hulle huis vermoor is. Sjoe, my hart het só na hom
uitgegaan en nog meer toe hy sê: My ma en pa is dood en ek
het nie vrede gemaak met hulle nie. Julle, ons moet regmaak
met dié om ons voor daar nie meer ’n kans is nie, ons moet
sê wat ons wil sê, gee wat ons wil gee, doen wat ons wil
doen, want ons weet nie wanneer dit ons laaste uur is nie.
Begrawe tog nou maar die strydbyl, wees die minste, gaan sê
jammer en jy sal nie spyt wees nie. Buitendien is dit ook
wat die Here van ons verwag. Lees gerus weer Matt 5:21-26
.... gaan maak eers vrede.
~ Wilna |
|
Pred 1:2-3 “Alles kom tot niks, sê
die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy
geswoeg in hierdie wêreld?”
Dit klink nogal negatief, of hoe? Hoekom op aarde so spartel?
Maar jy sal met my saamstem, op ‘n heerlike, sonnige Vrydag
soos vandag is daar sommer so ‘n lekker gevoel in die lug.
Dis dan dat jy besef dat God vir ons ‘n lekker ritme gegee
het om die eentonigheid van die alledaagse lewe te verbreek,
en dan vir twee dae nuwe kragte opbou vir die volgende
rondte.
Gelukkig sê dieselfde Prediker ook die volgende in Prediker
3:13
“Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die
goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God”.
~ Willem |
|
1 Kor. 14:1 sê julle moet die liefde
nastreef. Ek “toets” myself partykeer hieraan deur die woord
“liefde” in 1 Kor. 13:4-6 te vervang met my eie naam. Dit
klink dan min of meer só: Wilna is geduldig, Wilna is
vriendelik; Wilna is nie afgunstig nie, Wilna is nie
grootpraterig nie, Wilna is nie verwaand nie. Wilna handel
nie onwelvoeglik nie, sy soek nie haar eie belang nie. Wilna
is nie liggeraak nie, Wilna hou nie boek van die kwaad nie;
Wilna verbly haar nie oor onreg nie, maar verheug haar oor
die waarheid..... kry ek dit alles reg? Nee, ongelukkig nie,
maar ek besluit nou maar net weer van vooraf om aan te hou
probeer, om my in te span en daarna te
streef.
~ Wilna |
|
Die woord Vitality verwys na
lewendigheid en energiekheid, klink so half na ‘n huppel in
die stap. Iets wat baie mense nie eintlik het in hulle dag
tot dag bestaan nie, want die lewe rem mens maar af.
Daar is ook iets soos Geestelike Vitality. Dis as mens se
Geestelike lewe vir jou ‘n huppel in die stap gee en jou
bedieninge jou “energize”. Iemand het eendag gesê dat dit
die toets is of jy op die regte plek is in jou bediening. As
dit vir jou energie gee, al is jy fisies moeg, is jy besig
met die regte dinge, maar as dit jou dreineer, moet jy dalk
vir die Here vra om vir jou te wys wat moet verander. Wees
eerlik met jouself en neem die regte besluite, voordat jy
uitbrand omdat jy nie optimaal kan funksioneer nie.
~ Willem |
|
Weet jy wat is “mind-control”? Jy
kry mos mense wat alewig vir jou vertel wat jy moet doen. Jy
moet hierdie kos proe(al wil jy nie), jy moet jou hare so
kam, jou klere daar koop, op hierdie plek vakansie hou,
ensovoorts. Ken jy ook sulke mense? Maak mens moeg!!!
So kry jy ook mense wat dieselfde doen oor Geestelike sake.
Doop jou so, glo die eindtyd op hierdie manier, bid met
hierdie reseppie en beoefen jou Christenskap volgens hierdie
plan.
Hierdie tipe “mind-control” maak dat ek my verhouding met
God moet basseer op iemand anders se verhouding. Nee wat,
maak soos die Gees jou lei.
~ Willem |
|
Voetspore in die sand is 'n
wonderlike ding. Ons was die naweek in die bosveld en het
baie spore gesien. Uit die spore kan jy baie inligting kry.
Die tipe bok, die rigting wat hy loop, die snelheid waarteen
hy beweeg, hoe lank terug hy daar was, waar hy vertoef het
en gewei het, en die spoor laat selfs 'n reuk agter.
Ek en jy laat ook spore agter, hoewel dalk nie letterlik nie.
Waar ons aandoen, hoe lank ons daar bly, hoe haastig ons is
en waarheen ons op pad is.
Het jy onlangs bietjie spore agtergelos by jou kinders? Dalk
bietjie gewei by iemand in nood? Miskien jou spore laat
stilstaan om net te rus? Dalk gaan rondtrap by Jesus se
voete?
Of is dit net 'n stofstreep werk toe en terug?
~Willem |
|
1 Sam 25:29: You are safe in the care
of the Lord your God, secure in His treasure pouch. Hierdie
woorde was vir Koning Dawid gesê, maar as kind van God vat
ek dit ook vir my persoonlik. Ek weet Hy sorg vir my, Hy hou
my veilig en ek het die waarborg dat ek vasgemaak is aan Hom,
dat ek kosbaar en belangrik is vir Hom. Daar in sy treasure
pouch is ook alles wat ek nodig mag hê om vandag te oorleef:
al my lewensmiddele, wysheid en kennis, lewenskrag en moed,
gesondheid en toekomsvisie. Daar word my moedeloosheid
opgelig, kry ek raad, gaan die lig weer aan en maak alles
weer sin. Daar kan ek onbekommerd, veilig, gerus en tevrede
wees.
~Wilna |
|
SPREUKE 16:2
"In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here
ondersoek die gesindheid".
In die lewe gaan alles oor gesindheid. Ons kan baie dinge
doen, selfs goeie dinge en selfs groot sukses behaal.
Die Here ondersoek egter die gesindheid van my hart, eerder
as die grootte van die uitkoms. Dis beter om iets klein te
doen met die regte bedoeling as om iets groots te doen met
'n pyn in die hart. Die Here maak iets groots van iets wat
ons dink onbenullig is. Daar was eens op 'n tyd 'n
advertensie met die slagspreuk: Doen iets, dit help beslis.
~ Willem |
|
Ek het vandag, aangesien dit vrouedag
is, gewonder wie my gunsteling vrou in die Bybel is. Dalk
Abigail, van wie daar in 1 Sam 25:3 gesê word dat sy mooi
was en ’n goeie verstand gehad het? Dalk die ou vrou Anna
wat God dag en nag in die tempel aanbid het? Dalk Jesus se
ma Maria, wie sê: Ek is tot beskikking van die Here? Miskien
Debora, want sy was ’n sterk leier, ’n profeet, ’n raadgewer,
instrument in God se hand? Wat van Dorkas wie altyd besig
was om goed te doen en die armes te help? Of Elisabet wat
saam met haar man onberispelik al die Here se gebooie en
voorskrifte nagekom het? Of Febe, ’n ware vriendin en
steunpilaar. Wat van Hanna wat so opreg gebid het of Esther
wat alles gedoen het om die koning te behaag? Dalk die Maria
wat nie omgegee het wat die mense van haar dink toe sy haar
hare losgemaak en kosbare olie op Jesus uitgegiet het, of
dié Maria wat net by Jesus se voete gesit en luister het na
sy leringe? Ek hou ook van Miriam wat op haar tamboeryn
geslaan het en die vroue in lofprysing gelei het. Vergeet
ook nie van Ragab wat ten spyte van haar agtergrond ’n rol
gespeel het in die verloop van die geskiedenis nie. Of is my
gunsteling vrou dié een by die put wat die lewende water wat
Jesus gratis aanbied vat en drink en lewe? Ek weet nie
watter een nie.... maar ek bid dat ek ’n vrou na God se hart
sal wees.
~Wilna |
|
God is vir ons. (Rom 8:31)
GOD – dié een wat alles gemaak het, dié een met alle mag,
dié een wat alles weet en oral teenwoordig is, dié een wat
genees, vergewe, optel en trane afvee. Dit is Hý wat vir ons
is.
IS – Hy was en sal wees, maar vandag IS Hy vir ons. Hy lewe,
Hy bestaan, Hy is werklik God en Hy leef in ons. Hy IS vir
ons.
VIR – Hy is aan ons kant, Hy skree vir ons span, Hy kom op
vir ons, Hy tree in vir ons soos ’n advokaat. As Hy ’n yskas
gehad het, sou Hy jou foto daarop geplak het! Hy is VIR ons.
ONS – Ja, ek en jy! Ons is spesiaal vir Hom, die appel van
sy oog, gekroon met eer en heerlikheid, sy kind! Dis óns vir
wie Hy is.
~Wilna |
|
Ons kom elke dag van ons lewe voor
keuses en ons kies hordes kere tussen 'n paar opsies. So
loop ons lewenspad dag vir dag en ek wonder waar die Here in
die prentjie pas. Maak Hy namens ons keuses, of laat Hy ons
maar net begaan?
Hand 17:26 sê:- "Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en
waar hulle sal woon".
Beteken dit dat Hy al die keuses maak, of beteken dit dat Hy
daar is, ten spyte van ons keuses?
Ek weet nie wat die korrekte antwoord is nie, maar dit is
verseker waar dat ons ons keuses baie verantwoordelik moet
maak. Wie en wat jy is, is nie altyd die Here se skuld nie,
maar dat Hy daar is, ten spyte van swak keuses, is ook waar.
~ Willem |
|
Die
Bybel sê ons moet met toewyding doen wat die hand vind om te
doen. Ek was altyd op soek na “groot” en “belangrike” goed
wat ek kan doen. Soos Petrus en Paulus-hulle wil ek, vol van
die Heilige Gees, preek, mense gesond maak, ens. ek wil
gróót impak maak.... Ek het egter besef dat dit net so
belangrik is om vol van die Heilige Gees my gewone dagtaak
te doen, vol van die Heilige Gees die wasgoed te was, vol
van die Heilige Gees kwotasies vir my kliënte te doen, vol
van die Heilige Gees die telefoon te antwoord, vol van die
Heilige Gees met my man en kinders te praat. Ek gaan dit
vandag weer probeer! Vind uit wat die Here wil hê jy moet
doen en dóén dit (Ef. 5:17, Pred. 9:10)
~ Wilna |
|
'n Dame vertel my netnou dat haar
agterkleinkind eergister oorlede is. Wiegiedood. 'n Pragtige
klein baba dogtertjie wat ons so 'n paar weke gelede vlugtig
gesien het. Onmiddelik kom die groot HOEKOM in my kop op. Ek
kan so baie dinge verstaan, maar hierdie is te veel vir my,
en los my met 'n groot stuk "sadness".
Hoekom laat die Here dit toe? Was dit Sy wil? Wil Hy daarmee
iets doen wat groter as die mensdom is?
En dan begin ek soos 'n wafferse prokureur vir die
verdediging vir Hom opkom, om seker te maak dat die mensdom
nie dink Hy is 'n liefdelose God nie en dat Hy tog in beheer
van dit alles is. En tussendeur hou ek aan om te hunker na
die verstaan toe. Daar moet tog IETS wees wat ons vir die
wêreld kan voorhou ter verdediging van God.
Maar dit werk nie. Ek kan nie 'n saak aanmekaar gesit kry
nie.
Dan besef ek...
* My geloof aan en in Hom was nog nooit
afhanklik van verstaan nie. Inteendeel.
* Ek dink terug aan die dag toe Jesus gehuil het by
Lasarus se graf. HY GEE OM!
* Daar is ook 'n ander kant. Om een of ander rede, vind
mense juis in hierdie tye groot troos by Hom.
~ Willem
|
|
Ek
het al gehoor dat daar gesê word dat Christene die mees
“judgemental” mense is. Kan dit dalk waar wees? Kyk ons na
die uiterlike en sit iemand in ’n boxie daarvolgens? Sê ons
iets oor wie hy is of hoe hy presteer sonder om die hele
prentjie te hê? Is ons krities en uitgesproke en plak ’n
label op mense terwyl ons niks van sy hart of sy verhouding
met die Here weet nie? Maak ons afleidings sonder om
objektief te wees? Ek dink nogal so... veral toe ek sien wat
die “Urban Dictionary” by “judgemental” sê: A way of making
one self feel better, by hurting others. Usually caused by
closed mindedness, and a lack of manners. Being judgemental
will show people how tactless you truly are. Geen wonder
Jesus het gesê: moenie oordeel nie.
~ Wilna |
|
Ek
is genooi! Ek is 'n eregas by die Here se feesmaal. Jippie!
Daar word ek oorlaai met Sy hartlikheid, goedheid en liefde.
By Sy feesmaal is daar elke dag volkome vergifnis, volmaakte
vryheid en blydskap. Natuurlik is daar ook 'n oorvloed goeie
kos (die Brood van die lewe) en geurige wyn (die bloed van
die Lam). JY is ook genooi! Laat die feesmaal begin... (lees
Jes 25:6-8, Ps 23:5-6)
~ Wilna |
|
Is
jy soms op soek na betekenis in jou lewe? Of het jy al ooit
gewonder wat jou skeppingsdoel is?
Ek glo ons almal stoei maar soms daarmee, want ons wil tog
DIT wees wat God bedoel het ons moet wees. Ongelukkig wend
mense hulle te veel na ander mense om daai vraag te antwoord,
selfs na profete of ander geestelikes. Miskien is daar nie
per definisie fout daarmee om dit te doen nie, maar die
antwoord is eintlik baie eenvoudig.
My skeppingsdoel op aarde is om net te wees wie God my
gemaak het, maar die BESTE ek wat daar is. Daar is nie een
soos jy nie, nêrens op aarde nie. Die Here het alles in jou
ingebou om te wees wie JY is. Dis as ons ander mense probeer
wees, dat ons sukkel met skeppingsdoel.
Toe die Here jou gemaak het, het Hy alles ingebou wat Hy in
wou hê.
Wees dus die beste Willem, Wilna, Alice, Dennis, Alice,
Amanda, Desiree, Christa, Rita wat daar is.
Dis wanneer jy jouself ten volle aanvaar, maar ook ten volle
beskikbaar stel, dat die Here Sy doel deur jou kan bereik.
Probeer dit!
~ Willem |
|
Ek
het net weer besef dat dit werlik 'n gawe is om met die Here
'n pad te stap sonder fieterjasies, oordrewe dogma,
allerhande geite oor presies hoe mens moet glo om "reg" te
glo. Dis 'n voorreg as die Here vir jou die kernwaarhede op jou hart skryf, nl die verlossingswerk van Jesus, en dis
goed genoeg.
Ek glo dis wat die Bybel bedoel met "wees soos 'n kind".
Hoe "slim" MOET mens nou wees om die ewige lewe te kry?
~ Willem |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|