Ek is my lewe lank al 'n
Christen. Vandat ek kan onthou is ek Sondagskool toe gestuur. My
moeder is 'n diep gelowige Christen en het seker gemaak haar
kinders weet wie God is en dat Hy die middelpunt van ons lewens
is. Ek is gedoop toe ek 19 was en alhoewel ek nooit getwyfel het
dat God bestaan nie het ek ook telkemale afgedwaal, teruggekeer na
God, net om weer af te dwaal.
Ek het altyd teruggekeer na
God, my sondes bely en seker gemaak my kinders weet ook wie God is
en watter rol Hy in ons lewens speel. My kinders het heel goed
uitgedraai en albei studeer tans. Nodeloos om te sê ons is uiters
trots op hulle.
As gevolg van verskeie redes
buite my beheer moes ek 2 jaar gelede my eie besigheid begin. Dit
het maar broekskeur gegaan met ‘n dogter in matriek en ‘n seun in
sy eerste jaar op college. Ek het telkemale op God staat gemaak
vir werk en God het altyd voorsien! Ek het egter ‘n probleem gehad
wat my my hele lewe lank gekelder het om ‘n volkome vrygemaakte
Christen te wees. Ek glo daar is baie mense wat hierdie probleem
het en wat hulle ook keer om ware bloedgewaste, vry Christene te
wees.
“Hoe kan ek sê ek is ‘n
Christen as ek steeds sonde doen?” Hierdie eenvoudige dog kragtige
sinnetjie het my altyd so skuldig laat voel dat my Christenskap my
hele lewe lank al daaronder ly.
Die Augustus 2011 Rippel
Mannekamp was my eerste mannekamp wat ek ooit bygewoon het. Ek het
met ‘n verwagting in my hart kamp toe gegaan en daar was 3
knelpunte waarvoor ek antwoorde moes kry:
·
My toekoms as broodwinner
·
Die voortbestaan van my huwelik
·
Sonde en Christenskap
Saterdag oggend se stiltetyd
sessie was ‘n ervaring wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie. Ek
was op my knieë voor God en in my gebed gevra wat my toekoms
inhou. Ek is 44 en die jare stap aan. Ek het ‘n helder gesig voor
my gesien en geweet dis God wat met my praat. Ek het nie so gou 'n
antwoord verwag nie! Kort en kragtig het Hy vir my gesê ek moet in
die Bediening gaan werk. Ek het op my stoel gaan sit en uitgebars
van die lag. Hier verwag ek dat God vir my gaan sê Hy sal vir my
sorg en ek sal werk inkry en dan roep hy my Bediening toe!! Ek is
steeds uit die veld geslaan maar het reeds met verskeie mense
gesels hieroor.
Ek wou by God toestemming kry
om ‘n einde aan my huwelik maak. Ek het gevoel ek en my vrou het
die einde van ons paadjie bereik. Sondag oggend is ons gevra om
Galasiërs 5 te gaan lees in Stiltetyd. Ek glo steeds ek het my
Bybel daar oopgemaak maar ontdek toe later dat ek by Efesiërs was
en vers 25 sê toe vir my: “Manne, julle moet julle vroue liefhê
soos Ek die gemeente lief gehad het” Is God nie fantasties nie? My
tweede antwoord wat ek onmiddellik gekry het!
Die derde antwoord het ek
gedeeltelik van my kampvriend (Riaan) gekry, maar ek was oortuig
dat ek hierdie probleem finaal kon begrawe toe Willem daaroor
gepraat het op Rippel ongeveer ‘n week na die kamp. Die
wonderlikste ervaring wat ek nou beleef is dat ek heelwat minder
sondig en die wag wat God voor my mond geplaas het doen regtig sy
werk!
Ek het ook mense vergewe
teenoor wie ek wrokke gekoester het. Die Saterdag aand sessie in
die veld het my geheel en al vrygemaak van my ou lewe. Ek het daar
by die vuur op my knieë geval en God geloof en geprys soos nog
nooit tevore.
Pastoor Raymond se erediens
het my finaal laat besluit om my huwelik op te bou. Nou, na ‘n
maand kan ek getuig dat my nuwe benadering tot my vrou ‘n reuse
invloed het oor hoe sy teenoor my ook optree. Loof Koning Jesus!
Manne hou op kritiseer en die fout by ander soek. Kry jou attitude
reg, bid, glo en ervaar God se werke in jou hart. Ek het nog nie
opgehou om God se heerlikheid te ervaar nie. Die ou duiwel probeer
natuurlik sy ding doen maar dan begin ek net bid en skrik hom dan
weer af.
LANK LEWE
RIPPEL MANNEKAMPE! PRYS DIE HERE!
~
Freddy |