Mannekampe

| Terug na HEUNING >> |

MANNEKAMP
HOOFBLAD
KAMP 10
FEB 2015
KAMP 9
FEB 2014
KAMP 8
AUG 2013
KAMP 7
SEPT 2012
KAMP 6
AUG 2011
KAMP 5
OKT 2010
KAMP 4
OKT 2009
KAMP 3
MEI 2009
KAMP 2
NOV 2008
KAMP 1
JUN 2008
MANNEKAMP
FACEBOOK GROEP

KAMP 10:6-8 Februarie 2015

Al wat lekkerder is as 'n mannekamp, is nog 'n mannekamp. En net soos mens dink dat dit nou uitgedien raak, verstom die Here jou met getalle wat jy dink nie moontlik is nie. Die sukses van hierdie afgelope kamp is toe te skryf aan Pierre van Ryneveld Gemeenskapskerk se manne, asook Ds Henk en Ds Jan se bydrae tot die kamp. Wie sou kon dink dat bykans 50 manne sou inskryf vir die kamp?

Ons het besluit om nie 'n spesifieke tema vir die kamp te gebruik nie en die Here vertrou vir leiding, en toe kom die gedagte van vergifnis nogal gereeld op die tafel.

2 Kor 5:17 was 'n teks wat met ons as manne gepraat het. "Wie aan Christus behoort is 'n nuwe mens, die oue is verby, die nuwe het gekom... "

Behalwe vir die Geestelike inhoud was daar natuurlik baie pret. Foefie slide in die dam was 'n hoogtepunt, en voorts was daar 'n klomp fietsryers wat die hitte trotseer het. Die swembad was 'n lafenis wat bitter nodig was en was gereeld volgepak. Christo en Elmar, twee gestremde persone, het ons almal se uitkyk op die lewe so effe verander. Elmar is gesig gestremd, maar hy het geen bang haar op sy kop nie. Spring sommer soos 'n wafferse McGyver van die spring platform af en ry boonop die foefie slide in die water in. Christo, 'n hemipleeg met 'n spraakgebrek, het ons verstom met sy gevleuelde woorde en pragtige gedig wat die kamp perfek opgesom het.

Saterdagaand se veldstap was baie spesiaal en Sondag se nagmaal geleentheid, wat Ds Henk aangebeid het, het die kamp op 'n besondere manier afgesluit. Ek glo die Here het elkeen van ons op 'n besondere manier aangeraak.

Nou ja, wat volgende? Nog 'n kamp natuurlik! Hou hierdie spasie dop vir inligting oor 'n volgende kamp ...

Klik hier om van die manne se terugvoer te lees en foto's te kyk >>


KAMP 9: 21-23 Februarie 2014

Daar is omtrent ge-re-load, re-lax, re-flect en re-fresh op dié kamp. Die kamp is bygewoon deur 29 ouens en was weereens baie inspirerend. Dit het meegewerk dat ons in diepte by die Here kon stilstaan en luister. Pret, speletjies, saamsing en heerlike Kwaggasrus-kos het die prentjie mooi afgerond.

Klik hier om van die manne se terugvoer te lees en foto's te kyk >>


KAMP 8: 16-18 Augustus 2013

Mannekampe “werk” nou maar eenmaal, en niemand wat dit bywoon sal nie saamstem nie. Wat werk? En wat beteken “werk”? Ek glo 29 ouens sal 29 verskillende menings hieroor hê, en ek dink dit kom ook duidelik uit as jy die terugvoer van ouens lees.  

Die naweek van 16 – 18 Augustus was die eerste mannekamp onder die vaandel van Heuning bedieninge, maar steeds aangebied deur die wenspan van die historiese Rippel 90.5 se Geestelike aanbieders, aangevul deur ‘n paar veterane van die destydse Moreleta mannebediening. Die tema van die kamp was “Die moed van ‘n leeu”. 

Daar is nie afgewyk van die suksesresep van ouds nie en die inhoud was steeds gekenmerk deur diep Geestelike sessies en baie speel. Ons het egter ruim tyd gemaak vir saampraat en die kampers het entoesiasties deelgeneem aan gesprekke soos “Wat verstaan jy nie van God nie” en “Wat is die definisie van konflik en hoe hanteer jy dit” en “Gee die stokkie oor”. Daar is besin oor die grootheid van die skepping en ons het ook gepraat oor manne met “guts”.  Saterdagmiddag het lekker dinge gebeur. Party ouens het gaan foefieslide ry, ander het gaan 4 x 4 en party het sommer net lekker gerus en saamgeklets. 

Kwaggasrus se mense het ons weereens bederf met heerlike kos wat in oorvloed beskikbaar was. Die terrein verbeter jaar by jaar teen ‘n tempo wat mens verstom en word elke keer net mooier. Dit is werklik ‘n lushof en die fasiliteite is van die beste wat beskikbaar is. 

Mens word met elke kamp verstom as jy sien wat die Here met manne doen. Die gesprekke het regtig ‘n verandering in ons almal se lewens gebring en mens moet net eenvoudig nuut dink na so ‘n naweek. Ek glo dat ons as manne elke keer opnuut die Here in ons lewens ontdek en weereens die Geestelike batterye laai. Ek glo dis hoekom soveel ouens weer en weer terugkom en daarom glo ek die kampe moet net eenvoudig voortgaan. 

Niemand sal weet wat gebeur ‘n huishoudings na so ‘n naweek nie, maar die getuienisse van die verlede bevestig dat baie vrouens nuwe mans terugkry, en dan manne se verhouding met die Here opnuut herstel en hervat word. 

Die volgende kamp sal plaasvind teen die einde van Februarie 2014.

Klik hier om van die manne se getuienisse te lees en kyk foto's >>


KAMP 7: 7-9 September 2012

Klik hier om van die manne se getuienisse te lees en kyk foto's >>

KAMP 6: 19-21 Aug 2011

Manne wil nou maar eenmaal kamp.... en saam met Rippel het ons dit nou vir die 6de keer gedoenDit klink half ge-yk om weereens te sê dit was wonderlik, skitterend, en geseënd. Maar dit WAS! Hierdie keer was dit 'n kamp met 'n verskil - geen ge-saalsittery nie, dit was 'n avontuurkamp in die ware sin  van die woord. Al ons sessies was buite in die veld gehou en het gepaard gegaan met pret en aktiwiteite. Was dit 'n geestelike kamp? Verseker! Dit was egter gekombineer met hope pret. Ons was verstom oor die aantal inskrywings en met 86 persone was dit een van die grootste Rippel kampe nog. Kwaggasrus het weereens alles moontlik gedoen om dit 'n verrykende ervaring te maak en die fasiliteite verbeter elke jaar. Die kos was nogmaals beter as 5-ster en die weer was wonderlik. Elke man is deur die Here aangeraak en daar is ongetwyfeld groot lewensbesluite gemaak. Heelwat "bagasie" is op Kwaggasrus agtergelaat en manne het teruggekom met nuwe hoop en 'n vars uitkyk op die lewe. Hiermee 'n groot rippel vir Rippel, asook borge wat dit moontlik gemaak het! Ons sien met 'n verwagting uit na die volgende kamp. (kyk foto's en lees een van die manne se getuienis >>)

KAMP 5: 15-17 Oktober 2010

... nog 'n heerlike Rippel kamp met baie pret (kyk foto's >>) en mooi getuienisse ( lees meer >>)

KAMP 4: 16-18 Oktober 2009

As iets lekker is, gaan die tyd nou maar eenmaal vinnig om. Dis nou vir 'n gebeurtenis om aan te breek en dan weer net so vinnig verby te gaan. Dit voel soos nou die dag dat talle manne aangedui het dat hulle die vierde kamp gaan bywoon, toe is hy weer op ons.

Meneer my meneer, hier gaan ons alweer. En alweer. Vir die vierde keer. Natuurlik is Kwaggasrus en Rippel mannekampe nou al sinoniem. Mooiste natuurskoon, wonderlikste mense op die kamp, gasvryheid duisend en dan natuurlik die pad.... deur 'n man se maag!!! Mmm, wat sal ons met daardie ekstra kilo'tjies maak?

Dalk was dit die ekonomie wat die getalle bietjie afgedruk het, maar steeds 'n skaflike groep van sestig het opgeruk Kwaggasrus toe. Waarvan bykans die helfte reeds vorige kampe bygewoon het! Tienie en Johan (span uitgesluit), hou die rekord om tot nou toe al die kampe te kon bywoon. Soos belowe, het van die vorige kampers mense saamgebring om in die pret en Geestelike aktiwiteite te kom deelneem. Jy sien, die motto is hoeka:- “Jy hoef niks”, en daarom kon manne ander mense met vrymoedigheid saambring, omdat Rippel se mannekampe bekend is daarvoor dat ALMAL gemaklik en welkom voel.

Lekker diep Geestelike gesprekke, stiltetyd in die natuur, lofprysing tot laataand en manne wat eenkant gaan saambid het, is algemeen op so 'n naweek. Selfs twee jong bulletjies in matriek het gevoel dat hulle sommer van die eerste oomblik welkom was. Raymond se kwinkslae was natuurlik weereens treffers tydens sy sessies en almal is huistoe met sakke vol pitkos.

As gevolg van 'n gebrek aan reën was die kleilatgat droog. Gelukkig het die manne nie besluit om mekaar met kluite toe te takel nie!!! Die nat foefieslide het egter getrou “sy ding gedoen” en gesorg vir pret so reg uit die kinderdae. Die manne met die vierwielspeelgoed het die ego's op die proef gaan stel op die 4 x 4 baan, terwyl sommiges gaan afkoel het in die swembad.

En toe... die groot rugby. Vasgenael voor die TV (grootskerm), het een en elkeen verras gesien hoe die Cheeta's vir hulle 'n plekkie in die Curriebeker eindstryd teen die Bulle losveg. Wie het dit nou verwag? Inderdaad groot pret. Alles deel van 'n Rippel mannekamp karakter.

Saterdagaand was almal deur die Here gekonfronteer om te besluit waar hulle gaan wees as hulle “flatline”, en die einde van hierdie bedeling aanbreek. Baie het opnuut besluit dat hulle nie sonder Jesus hierdie lewe (en die een hierna), wil aanpak nie. Wat is dan tog beter as om 'n kind van Jesus te wees?

Die naweke van 22 Mei en 16 Oktober 2010 is reeds in die dagboek vasgepen om die Rippel tradisie voort te sit. Maak jou aantekeninge en sit elke maand so ietsie weg vir die volgende kamp. Maak sommer nou al daardie broer of vriende bymekaar en gan bederf hulle met 'n lekker naweek.

Die volgende kamp gaan 'n totaal ander karakter hê. Wag en sien ....

Lees gerus 'n paar manne se getuienis oor die kamp, en kyk na die foto's.


KAMP 3: 29-31 Mei 2009

... en so, met die tyd, raak “Rippel Mannekamp” toe ‘n huishoudelike term!  Die naweek van 29 – 31 Mei het die derde in ‘n reeks van vele Mannekampe plaasgevind, hierdie keer weereens by Kwaggasrus anderkant Brits. Talle manne wat een, of albei, van die vorige kampe bygewoon het, was weereens daar, omdat hulle teen dié tyd weet wat die woord “pret” en “Geestelike verdieping” beteken. 

Die kamp was bygewoon deur 78 manne van oral oor Pretoria, tot so ver as Ellisras en manne wat vorige kampe bygewoon het, het vriende saamgebring wat van ver kom. Lekker om so ‘n verskeidenheid ouens bymekaar te kry wat met een doel voor oë kom, en dit is om ‘n ontmoeting met die Here te beleef.

Hoewel die program nie oorvol in terme van tyd was nie, was daar baie tyd spandeer aan diep geestelike gesprekke, lofprysing, saambid en saampraat. Nogal verbasend hoe vinnig ‘n man sy hart oopmaak as hy besef dat ander mense met dieselfde uitdagings worstel. Dis ook dan wat manne by mekaar raad en troos soek, en so het die naweek dan sy doel ten volle bereik. Franna, Raymond, Kobus en Willem het weereens as fasiliteerders opgetree en die lofprysingspan was die keer 4 man sterk!!! 

Speeltyd het egter ook gebeur, en die ouens het foefieslide gery in elke denkbare posisie en styl. Vet pret!!! Om alles te kroon het die befaamde Super 14 eindstryd plaasgevind en die Bulls-koors het behoorlik hoog geloop tussen die kampers. Wat kan mens meer vra as so ‘n weghol oorwinning? Na die wedstryd is daar behoorlik gekuier om die kospotte.  

En so van kospotte gepraat, Michelle en haar span het weereens net die beste voorgesit, in OORVLOED. Die pad na ‘n man se hart loop mos hoeka deur sy maag!!! Soos die bekende advertensie tereg sê;- “Jou ma se kos”.

Eddy en Michelle se gasvryheid en ywer het gesorg dat almal welkom en goed versorg gevoel het. Vir meer oor Kwaggasrus kan jy gerus gaan loer op www.kwaggasrus.co.za

Elke man op die kamp het geleentheid gehad om diep in sy eie hart te kyk en die Here die kans te gee om beheer te neem van sy lewe. Saterdagaand was baie, baie diep, en talle manne het besluit om radikaal om te draai van sy ou weë en ‘n nuwe koers in te slaan saam met Koning Jesus. 

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na foto's.

Natuurlik gaan ons weer so maak, en sommer gou ook. Die naweek van 16 – 18 Oktober is die volgende kamp, weereens by Kwaggasrus. Selfde plek, selfde styl, maar nuwe inhoud. En natuurlik ook die nat foefieslide… 

Hou jou oor styf teen jou draadlosie op 90.5 FM vir inligting, en sit solank ietsie ekstra in die spaarvarkie. Dis goedkoop, weet jy? Teen ongeveer R390 per persoon kan geen mens bekostig om tuis te bly nie. 

Sien jou daar. 


KAMP 2: 14-16 November 2008

Wat maak 'n kamp besonders? Hoekom gaan mense weer en weer op mannekampe? Ons weet tog almal dat die geestelike 'high" weer verbygaan en dat die daaglikse gestoei van die lewe maar weer die oorhand kry. Dis seker waar, maar een en almal het 'n ervaring gehad wat nie in woorde beskryf kan word nie. Op hierdie kamp het die Here manne diep aangeraak en baie harte van klip uitgeruk en vervang met harte van vlees.

Baie, maar baie manne het met groot hartseer en groot probleme by die kamp aangekom. Miskien was die meeste nie eintlik lus daarvoor nie, want probleme maak mense depressief. Wie is dan nou lus vir 'n klomp "hoogheilige" manne as jou lewe vol moeilikheid is? Wel, almal het baie gou besef dat niemand se lewens volmaak is nie, en dat ons almal maar in dieselfde bootjie sit. Miskien was dit juis dit wat die kamp besonders gemaak het, want manne het gou met mekaar begin gesels en probleme bespreek. 

Die grootste deurbrake het egter op diep Geestelike vlak gebeur, waar die Here een en almal aangeraak het. Die temas was gemik op die hart van die man, die stiltetyd het almal aangeraak, en die vergifnis gedeelte het ouens groot besluite laat neem. Wie sou wegry by Kwaggasrus sonder nuwe besluite? Wie sou onaangeraak vir vroulief (en kinders) vasdruk by die huis?

Soveel vir die ernstige sy.... Miskien was die kleilatgooi en "foefieslide" net wat die manne nodig gehad het om weer kind te wees. Jy sien, niemand kan kleilatgooi én bekommerd wees nie. As jy nie konsentreer nie, kan dit seer wees!!! Nuwe vriendskappe is gesmee rondom speeltyd en die ontspanne atmosfeer was net wat die dokter bestel het.

Almal wil weer gaan kamp, en almal was dit eens dat die plek weer Kwaggasrus sal wees. Wie sal Eddie en Michelle se gasvryheid vergeet? Om nie eers te praat van die oorvloed kos nie!!!

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na foto's.


KAMP 1: 30 Mei - 1 Junie 2008

Die tema was "Manne van die Woord", en aktuele onderwerpe is bespreek, nl:- lofprysing, stiltetyd, manne se emosionele pyn, pa-kind verhoudinge, die huwelik, en die man in die huis. Hoewel die program redelik besig was, was daar genoeg tyd om vriendskappe te bou, en manne hulle probleme, maar ook genietinge, met mekaar kon bespreek.

Hoe kan 'n mens die sukses van so 'n kamp beoordeel? Wel, as manne hulle harte vir die Here gegee het, is daar 'n siele-oes. Dit het gebeur. As manne nuwe besluite geneem het, is daar verandering in hulle lewens. Dit het gebeur. As manne besluit het om dinge by die huis te gaan regmaak, en manne van die Woord te word, is daar gesinnne wat 'n nuwe pa en man terugkry. Dit het ook gebeur.

Hierdie kamp was gekenmerk deur 'n soek na God, na 'n hunkering om in 'n nuwe verhouding met Jesus Christus te staan, en om te weet dat Jesus dié een is waar ons oplossings vir ons probleme kan gaan soek. Almal het versterk huistoe gegaan, en almal het net weereens besef dat Christenskap 'n integrale deel van ons lewensmondering moet wees. Wie sal weet wat in elke huis gebeur het na die naweek? En wie sal weet hoe manne se denke oor God verander, as die Heilige Gees sy intrek geneem het? Ons gebed is dat die Here iets blywend in elkeen van ons kom doen het. 

Lees getuienisse van die kampers, en kyk na
foto's.


~Willem