KAMP 2 GETUIENISSE

Klik hier om foto's te kyk >>

Ek wil asseblief vanoggend vir al die manne by Rippel wat betrokke was met reëlings en lesings en alles BAIE DANKIE sê.  Manne, met julle hulp en die Genade van Bo, is my gebede van weke verhoor.  My twee seuns het nuwe mense teruggekom van die kamp af.

My een seun het Donderdag aand toe ek vir hom sê: "Geniet die naweek"... toe sê hy vir my: "As ek dit maak, as ek nie dalk my kop wegsksiet van frustrasie voor die tyd nie"... hy was SO verskriklik moedeloos....

Saterdag aand kry ek 'n oproep van hom af: "Ma, DANKIE, dat Ma my op hierdie kamp gestuur het, weet Ma, die Here het my aangeraak hierdie naweek, niks sal ooit weer so moeilik kan lyk soos die afgelope tyd nie".

Dis seker nie nodig om vir julle te vertel hoe ek gehuil het van dankbaarheid nie!!....

DANKIE, Dankie, dankie.... julle en my Hemelse Vader het my kind aan my teruggegee....

Van 'n Ma

Dit was 'n baie aangename naweek by Kwagasrus om saam met ander te kan kuier, speel en te hoor wat die Here wil sê aan sy volgelinge. Dankie aan al die mede aanbieders ook, Kobus se vrou en kinders, Raymond Dye, Frana en Eugene.

Alhoewel die kampe meer gerig is op die getroude man, geniet ek dit geweldig om bietjie weg te breek uit die alledaagse wat so deel van 'n mens se lewe word. Die stilword en om net in die natuur te wees waar dinge in harmonie saam verkeer, beteken baie vir my.

Baie dankie en sien julle weer.

Rudolf Strydom
Hiermee wil ek graag my grootste dank aan Radio Rippel en sy mense wat betrokke was by die reëlings betuig. Dankie aan jou, Kobus, Eugene en Raymond. Ek het baie geleer en julle het my oë weer van voor af oop gemaak. Hou asseblief aan met die goeie werk en mag GOD julle net nog meer en ryker sëen. As julle weer 'n kamp reël, is ek een van die eerstes wat plek sal bespreek, as dit die wil van die HERE is dat ek so lank leef en gesond is.

Alle liefde in CHRISTUS.

Nico Sutton

My naam is Michael Williams en ek was die naweek op die mannekamp saam met Rippel.

Ek het ‘n wonderlike ding beleef die naweek. Ek het my hart vir die Here gegee en dié keer het ek dit reg gekry. Ek sê dit want ek sukkel al ses jaar om dit te doen.

Ek is onlangs gesekwestreer en ek het gevoel ek wil nie meer lewe nie, alles was besig om skeef te loop, my huwelik, en als wat met dit saamgaan. Ek kon dit net nie regkry om my lewe te eindig nie.

Ek het ook amper op straat gesit - as dit nie vir my baas was nie, het ek. My baas het my huis by die bank vir my teruggekoop en gesê ek kan hom weer terugkoop die dag as ek weer op my voete is. Hy het tot my salaris aangepas om die huur te betaal per maand.

Maar ek glo na die naweek gaan ek sommer gou op my voete wees, want ek het nou die Here aan my kant om te help met my huwelik en my kinders en sommer als wat Hy kan doen.

Ek wil ook net se dat ek iets beleef het Saterdagaand wat nooit sal vergeet nie. Elke keer as ek daaraan dink dan kry ek trane in my oë en my hele lyf kry hoendervleis en ek kry so ‘n lekker gevoel in my binnekant.

Ek wil net baie dankie sê vir alles wat julle die naweek gedoen het. My oë het oopgegaan en ek wil hulle graag oophou vir die res van my lewe.  Ek gaan julle beslis weer sien op die volgende kamp.

Groete vir almal wat deel gehad het met die naweek.

Mike Williams  
Ek wil net vir Rippel 90.5 dankie sê vir die geleentheid wat aan my gegun is om die mannekamp te kon bywoon.

Vrydag middag oppad kamp toe, het ek en my vrou 'n geweldige rusie gehad. Ek het kwaad geword en dinge gedoen wat ek later oor spyt was. Voor dit alles het ek 'n groot verwagting gehad, maar nou het ek by die kamp aangekom met 'n hart wat nie regtig daar wou wees nie. My vrou het my afgelaai en ek het ingegaan en my naamkaartjie gaan haal. Daar is aan ons gewys waar ons slaapplek sou wees vir die naweek. Na ons verwelkoming en eerste sessie het ons gaan koffie drink. Ek het by die tafel gesit, alleen. Een van die spanlede, Kobus Rudolph, het by my kom sit en gevra hoe dit gaan. Ek het met 'n sug gesê: "Goed". Ek het toe net gevoel ek moet met iemand praat, en ek het my hart teenoor Kobus oop gemaak, oor alles, oor wat ek gefaal het in my lewe en in my huwelik. Ons het lank gepraat en hy het vir my raad gegee en toe vir my gebid. Later die aand het my oë oopgegaan en ek het tot die besef gekom wat se seer ek in my huwelik ingebring het, maar het nie geweet hoe om te werk te gaan, hoe om dit te nader om te herstel nie. Gedurende die naweek met elke sessie van saampraat, het dinge net vir my helderder en helderder geword. Nog het ek 'n vrees beleef in my hart wat na Vrydag gebeur het oppad kamp toe Ek nie geweet wat om te verwag by die huis met my tuiskoms nie, maar die Here het met my gewerk die naweek, my hart saggemaak en ek het besluit dat ek net in vrede gaan inkom en my gevoelens met my vrou gaan deel. Daar was heelwat negatiwiteit van my vrou se kant af wat verstaanbaar is, en dat sy my meegedeel het dat dit my laaste kans is wat sy my gee om dinge reg te maak, maar ek voel gerus in my hart want saam met die Here kan ek 'n bende storm loop.

Die naweek het vir my baie beteken. Ek het baie geleer, ek het meer gemoedsrus gekry om te praat oor die dinge van die Here en ek wil net vir die span van Rippel 90.5 sê, dat ek glo nie daar is 'n radio-span wat so omgee vir mense soos hulle nie. As ek mag wil ek net een persoon uitsonder, en dit is Kobus Rudolph, wat my die inspirasie gegee het om te sê dat solank as jy asem haal, kan jy dinge nog regmaak en daardie woorde sal my altyd by bly.

Tydens die getuienisse van die manne wat ook op die mannekamp was die naweek, het ek net weereens besef hoe groot God is. Ek wens elke man sterkte toe in alle omstandighede, goed of sleg. Mag die Here Rippel 90.5 uit sy nate seën sodat hulle net 'n nog groter seën vir ander kan wees.

Baie dankie vir die naweek se kamp en ek hoop die volgende kamp gaan uit sy nate bars.

Liefde groete in Jesus.

André Bredenkamp

Ek wil net die span by Radio Rippel bedank vir 'n wonderlike naweek.
Dankie dat julle my gewys wat dit beteken om 'n kind van God te wees.
Dankie dat julle my geleer het hoe bevoorreg ek is vir die gesin wat God aan my gegee het.
Ek het my gesin vertel van die naweek en hulle het met my saam gestem dat ons elke oggend en elke aand die HERE se woord gaan lees en voliut lewe vir Hom.

Die mees spesiaalste ding wat met my gebeur het hierdie naweek is dat my broer en ek weer soos ordentlike mense met mekaar kan praat. Ek weet daar moet nog hard gewerk word maar ons vertrou in God dat hy ons daardie broederlike liefde sal teruggee.

Julle is great en God seën julle almal by die wonderlike radio stasie.

Groete
Cornelius Meyer

Ek wil net weer vir julle baie dankie sê vir ‘n AWSOME naweek, ek weet dat hierdie paar woorde nie die waarde van julle werk, en ons waardering daarvoor kan beskryf nie. Baie dankie.

Groete
Henry

Voor die kamp:
Skryf in maar weet nie regtig hoekom nie, daar's baie tyd so moenie worry.

Kort-kort vra ek myself hoekom wil ek gaan, bly maar liewers, bel en sê ek kom nie meer nie, ek bel nie. 

Die Vrydag van die kamp:

Ek pak maar traag en hoop ek kort iets sodat ek die kamp kan mis, alles is daar.

Na werk ry ek,

                bel huis toe en vra of alles reg is met die hoop dat daar iets is sodat ek moet huis toe kom, geen probleme;

                die verkeer lyk erg, sal maar liewer die pad huis toe vat, nee daar beweeg ons;

                dit begin reën en ek dink dis beter om nie te ry nie, die reën hou op;

                bel werk toe, daar is dalk iets wat nie kan wag nie, of 'n probleem waarna ek moet kyk, alles reg;

                lyk my ek het verdwaal en sal moet omdraai huis toe, daar is die bordjie "Brits";    

                die grondpad lyk vir my 'n bietjie nat , ek sit dalk vas of beskadig die kar, daar is 'n ander pad;

                ek dink ek kan nie van my kind verwag om by 'n skool kamp te bly as dit nie vir hom lekker is nie, en dan self nie deurdruk nie, gaan meld aan;

                lyk my daar was 'n admin fout en daar's nie genoeg plek nie, "Hi, hier's nog baie plek by ons";

                ek kan dalk maak asof iemand gebel het dat ek moet terug, kan nie nou in die donker ry nie, die een voorlig van die kar het net in die week gebreek; 

OK, ek is nou hier, kyk maar wat gebeur, toe gebeur dit - was nog nooit so bly ek "moes" by 'n plek wees nie.

(En die kos was nog lekker ook!) 

Groete
Hans
(MSG, en kleilat gooier van formaat.)

Net ‘n woord van dank aan elke persoon wat die Rippelkamp moontlik gemaak het. Elke persoon wat gemaklik geraak het met sy verhouding met God of sy vrou of sy kinders sal ek aanbeveel om so ‘n kamp te kom meemaak. Ek self het gewoond geraak met die daaglikse toeloop van sake maar met die naweek het ek weereens tot die besef gekom dat daar baie meer vir ons in die lewe is as net die daaglikse opstaan, werk, eet en gaan slaap.

Ek lewe nie nou meer na ‘n punt in my lewe toe nie maar lewe om te lewe.

Groete in Jesus Christus ons verlosser.

Cedric Smith