'N OPE BRIEF AAN JUDAS


Judas Iskariot - Wie was hierdie man?

Matt 26 : 14 - 16
14 Toe het een van die twaalf dissipels, die een wat Judas Iskariot genoem is, na die priesterhoofde toe gegaan
15 en gesê: Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom? Hulle het hom toe dertig silwermuntstukke betaal.
16 Van toe af was hy op die uitkyk na 'n geskikte geleentheid om Jesus te verraai.

Matt 26 : 47 - 50
47 Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur.
48 Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!
49 Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: Goeiemôre, Rabbi, en Hom gesoen.
50 Maar Jesus sê vir hom: Vriend, doen wat jy gekom het om te doen! Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange.

'n Ope brief aan Judas:

Hallo Judas,
Dis nou al 2000 jaar dat jy dood is, en al lankal dreig ek om 'n paar sake met jou uit te sorteer. En ja, jy sal nooit hierdie brief kan lees nie. Ek skryf dit egter dan maar vir my eie onthalwe, al is dit net om hierdie ding van my hart af te kry. Jy Judas, wat my Koning Jesus bedrieg en verraai het. Ek wonder so baie keer: hoe kón jy dit doen? Wat het Hy aan jou gedoen dat Hy dit verdien het? Hoe kon jy vir drie jaar 'n pad saam met Hom stap, al die wonderwerke sien, en dan jou rug op Hom draai? Wat het deur jou kop gegaan, en wanneer het hierdie bose gedagtes deur jou begin gaan? Weet jy Judas, ek wonder dikwels hoe jy gelyk het. Miskien het jy so 'n onvergenoegde uitdrukking op jou gesig gehad. Dalk het jy nooit saam met die ander dissipels en Jesus gelag en geskerts nie. Miskien het jy so 'n agteraf houding gehad en kon nie die ander in die oë kyk nie. Miskien het jy jou oë grond toe laat sak as Jesus met jou gepraat het. Het jy ooit vir Jesus raad gaan vra oor goed Judas, of het jy maar altyd jou eie kop gevolg? Was jy verwonderd oor Sy wonderwerke, of was jy dalk jaloers op Hom? En die ander dissipels, Judas, hoe het jy met hulle oor die weg gekom? Ook dalk jaloers op Petrus en Johannes, wat naby aan Jesus was? Ek wonder Judas, hoe was jou Judas-hart?

Judas, ek lees in Joh 12 : 5 dat Jesus jou soveel vertrou het dat jy die beursie gedra het. Toe is jy so suinig toe Maria duur olie op Jesus se kop uitgiet. Maar weet jy Judas, toe dink ek aan myself, hoe suinig ek self dikwels met die Here se geld is. Ek besef dat ek toe ook maar dieselfde probleem het Judas. Hierdie inhaligheid. Om nie vir ander 'n plekkie met 'n bietjie seën te gun nie. En dit nogal met die geld wat alles in elk geval aan Jesus behoort. Ja Judas, ek sukkel ook maar met my eie beursie.

Maar jy was uitgekies as een van die 12 Judas. Jy het 'n spesiale plek in Jesus se span gehad, jy het Hom gesien werk, maar steeds was jy nie opreg nie. Wat meer kon mens vra Judas, om in jou posisie te wees, en tog kon jy nie staande bly nie. Ek lees daar in Matt 26 : 25, Judas, dat Jesus jou planne blatant oopvlek. Hoe het jy gevoel? Wel, ek moet sê, Judas, ek self kan nogal daarmee identifiseer. Hoe dikwels sondig ek nie ook maar en dink ek kan daarmee wegkom nie. Hoe baie goed gaan ook maar in my gemoed om, wat ek probeer wegsteek. Inderdaad Judas, Jesus weet ook maar elke keer waarmee ek besig is, nog voordat ek dit doen, net soos jy. Ek was al so teleurgesteld in jou Judas, jy wat jouself 'n dissipel genoem het, 'n kind van God, totdat ek dink aan myself en dan besef dat Jesus my ook ontbloot, daar met die hand in die skottel. Lyk my ek het ook maar 'n Judas-hart.

Jou grootste fout Judas, het begin toe jy gekonkel het met die Jode. Jy was bereid om vir 30 silwermuntstukke Jesus te verraai. Het jy regtig gedink dat hierdie tydelike plesiertjie die moeite werd gaan wees? Wat het jy gedink gaan dit aan jou verhouding met God doen, Judas? Hoe lank sou hierdie handjie vol geld hou? Jou Jesus verruil vir geld! Maar wie is ek om te praat Judas. Hoe hardloop ek nie maar ook agter Mammon aan nie. Hoe dikwels verruil ek my geestelike lewe nie ook vir die aardse genietinge nie? Jitte, Judas, ek en jy kan nogal lekker saampraat oor verneuk. Geld, Judas, geld. Maar om Jesus te verraai? Dit was een stap te ver. Daar in Matt 26 : 47 lees ek hoe jy saam met hierdie klomp moordenaars reguit op Hom afstap, met hulle stokke en swaarde en al. En wat doen jy? Jy noem Hom Rabbi toe jy Hom groet, en jy soen Hom. Hoe kon jy Judas? Jy moet ernstig sielsiek gewees het! Noem Hom Rabbi, en soen Hom. Ek weet hoe dit is Judas, kom uit die kerk uit en verloën Hom sommer dieselfde dag nog. Soen Hom nou, en misken Hom later. Ek weet, Judas, dat die wêreld mens maar maklik insluk. Ek dink Jesus was al baie bedroef oor my Judas, hierdie tweegesig lewe van my. Dit lyk my, ek ly ook maar ernstig aan my Judas-hart.

En toe kry jy spyt Judas. Ek lees in Matt 27 : 5 hoe jy die geld gaan probeer teruggee toe jy besef dat jy ernstig drooggemaak het. Hoe dikwels kan ek my hare uit my kop uittrek, Judas, as ek dink dat ek vir Jesus en Sy kinders skade gedoen het. Jy het ook seker gedink by jouself, as ek net die tyd kon terugdraai. Ek weet hoe het jy gevoel Judas. As mens besef die loon van die sonde is die dood. Toe gaan hang jy jouself op. Ek kan dink Judas, dat daar 'n punt kom wat mens dink dit was een stap te ver. Ja Judas, die Jode wou toe ook nie die geld terughê nie. Het jy regtig gedink dit gaan alles maar net weer regmaak? Selfs die priesterhoofde het dit bloedgeld genoem. 30 silwermuntstukke vir jou eie lewe. Jy sien Judas, jou grootste fout was toe al die tyd nie om vir Jesus te verraai nie, ook nie om met die vyand te heuel nie. Nee Judas, dit was nie jou grootste fout nie. Jou grootste fout was om nie vir Jesus vergifnis te vra nie. Want jy sien Judas, daardie volgende dag - die dag nadat jy Hom verraai het - het Hy ook vir jóú oortreding gesterf. Jou spyt het nie gehelp nie, maar jou ware berou sou. Wat was erger Judas, jy wat vir Jesus verraai het, of Petrus wat vir Jesus verloën het? 'n Sonde is 'n sonde Judas, alles kon vergewe word, maar dan moes jy daarvoor vra. Kyk wat het Petrus-hulle reggekry na jou dood Judas, hulle is vervul met die Heilige Gees en het groot dinge gedoen. Daar was selfs 'n nuwe dissipel in jou plek gekies. Miskien het jy nie regtig besef wie hierdie Christus was nie, Judas. Jesus het selfs aan die kruis vir die Vader gevra om hulle te vergewe, Judas, want hulle het nie geweet wat hulle doen nie. Soos jy. Jy sien Judas, jou hart was nie waar dit moes wees nie. Jy het ander dinge bo jou Koning gestel, en al Sy heerlikheid gemis. Jy kon met arendsvlerke gesweef het, en groot dinge gedoen het, as jy net reg gekies het.

Maar wie is ek om te praat Judas, ek met my Judas-hart?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)