VERANDERINGE KOM …. ADAPT OR DIE


Al gehoor van die spreekwoord: "A change is as good as a holiday"? 'n Verandering is goed vir jou. Is dit so? Glo jy dat dit vir JOU waar is? Wel, dis sekerlik so dat verandering nuwe uitdagings bring, nuwe kennis, nuwe ondervinding. 'n Nuwe motor is 'n goeie verandering, of om te trek na 'n nuwe huis is lekker … of nog beter, 'n nuwe werk met nuwe geleenthede. Verandering is goed vir 'n mens. Dit haal jou uit 'n groef uit, dit werk dikwels depressie teë, mens ontmoet nuwe mense, nuwe dinge kom op jou pad. Inderdaad! A change is as good as a holiday!

Baie waar woorde, behalwe …. As jy nie gevra het daarvoor nie, as omstandighede buite jou beheer alles om jou verander, wanneer dit ongerief bring, en jy niks daaraan kan doen nie. Soos byvoorbeeld, wanneer dit so "donker" word rondom ons, en ons die land se volkslied wil verander na "Hallo darkness my old friend", as dit voel asof ons net nie meer van "krag" tot "krag" gaan nie! Sulke veranderinge is beslis nie lekker nie, veral nog as daar nie krag is vir die lig aan die einde van die tonnel nie. Een ding is seker: dinge om ons verander, of ons nou wil of nie.

Is a change as good as a holiday? Dit hang seker af van die tipe "holiday"!

As ons Eks 16:1-2 lees, sien ons dat moeilike verandering niks nuuts is nie: Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: "As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.

Die volk trek die woestyn in en toe dit moeilik raak, verset hulle hulle teen Moses en Aäron. Toe dit moeilik raak sê hulle: "As ons maar liewer …". Nou ja, dit kink baie bekend vandag. As ons maar liewer … Dit is so dat die verlede dikwels beter lyk as die toekoms, want die verlede is bekend, en soms lyk die toekoms vir ons maar bietjie donker (Eish-kom!!) Ek praat op geen manier dit wat tans aan die gebeur is met kragonderbrekings en so aan, goed nie. Ek hou ook nie daarvan nie, ek is ontwrig, ge-irriteerd en dit kos my 'n klomp geld. Ek dink dis onnodig en moes nooit gebeur het nie. Nou dink ek ook: "As ons maar liewer …"

Nou kom ek eintlik by my punt: Is ek bereid om te aanvaar dat verandering plaasgevind het? Dat dinge nie weer gaan terugdraai en wees soos dit altyd was nie? Mense praat van die "RTC-sindroom" - "Resistance to change". Weerstand teen verandering. Sukkel jy ook daarmee? Ek dink nie ek en jy en 10 weermagte gaan skielik 'n skakelaar gooi en alles is terug na 20 jaar gelede nie. Dit lyk vir my daar is een van twee dinge wat ons kan doen: om elders in 'n ander land te gaan woon of om aan te pas.

Iemand sê nou die dag 'n baie waar ding: "Die persoon wat die swaarste gaan kry, is die persoon wat die stadigste aanpas" - adapt or die! Het ek en jy die vermoë om aan te pas en uit te hou, soos wat die volk van die Here moes aanpas om 40 jaar deur die woestyn te swerf? Jy sien, ons kan gelate terugsit en sê: "Laat God's water dan nou maar oor God's akker loop", of ons kan aanpas, oorleef en uiteindelik in oorwinning vorentoe gaan.

Pred 9:11-12: Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval.

"Alles word bepaal deur tyd en geleentheid" - kan ek en jy nie dalk in hierdie hele proses van verandering nuwe geleenthede raaksien en aangryp nie? Is dit nie dalk die tyd om te sê: "Met my oog gerig op Jesus, kan ek dit oorwin nie?" Soos Fil 4:13 sê: "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee" … beter krag as Eskom-krag, of hoe?

Kan ek en jy aanpas? Ja, jy kan! Gaan ek en jy aanpas? Dit, kan net JY antwoord. Om die heeldag te kla, werk verseker nie! Ek weet, ek probeer dit nou al vir 'n paar dae. Weet jy, die Here is steeds in beheer. Hy het steeds nie verander nie.

Vir my lê die antwoord in die volgende:
1) Aanvaar dat 'n verandering plaasvind
2) Pas daarby aan, om die lewe so draaglik as moontlik te maak.
3) Sien nuwe geleenthede raak, en gryp dit met albei hande aan.
4) Bly positief, jou gees sal dan nie so maklik knak nie. Jy is baie sterker as wat jy dink.
5) Visualiseer die toekoms anders.

Hierdie is dinge wat ek SELF kan doen, en vir die res ….

Klaagl 3:18-33: Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig - miskien is daar hoop - laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind. Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Vertrou op die Here!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)