ANDERKANT OF DUSKANT DIE VOORHANGSEL?


In 1989 vind een van die grootste gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van die mens plaas. Iets wat vir die mensdom 'n ongelooflike oorwinning te weeg bring. Die ystergordyn val! Die Berlynse muur word afgebreek en die mens se beweging word nie meer beperk nie. Die mensgemaakte skeiding word verwyder, en die mens se toegang word nie meer beheer nie.

Maar, dit is nie die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom dat so 'n gebeurtenis plaasvind nie. Baie lank gelede, in die paradys toe die sondeval plaasvind, kom daar skeiding tussen God en mens. Toe Adam en Eva besluit om van die enigste verbode boom in die tuin te eet word dit wat God beplan vir die mens, bederf deur die hardnekkigheid van die mens. Tipies mens, of hoe?

En so kom daar skeiding. Baie jare later sou daardie skeiding in die vorm van 'n driedubbele gordyn in die tempel, sigbaar word. Die plek waar die verbondsark staan, word die Allerheiligste genoem, en slegs die hoëpriester word toegelaat om eenmaal per jaar, namens die volk te kom offer vir hulle sondes. Daar is selfs 'n tou om sy lyf vasgemaak, sodat die mense hom kon uitsleep as God sou besluit om hom om die lewe te bring. Die mense het die profete nodig gehad om namens hulle met God te kommunikeer, en niemand mag verby die voorhangsel gegaan het nie. En so word Saligheid vir die mensdom bewerkstellig. Die voorhangsel word die fisiese skeiding tussen God en mens.

God se troonkamer is nie bestem vir gewone mense nie, slegs die uitverkorenes kon ingaan, en dan om geen ander rede as boetedoening nie. Die mens vind homself afgesonder, en so te sê "Godloos".

Maar… toe kom die kruisiging van Jesus Christus.

Mark 15 : 33 - 39
Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur.
Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloï, Eloï, lema sabagtani?" Dit beteken: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: "Hoor daar, hy roep vir Elia"
Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: "Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal." 
Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur.
Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: "Hierdie man was werklik die Seun van God."


Die voorhangsel skeur middeldeur, van bo na onder! Nie weggeskuif, of tydelik verwyder nie, dit skeur middeldeur, en word in die proses vernietig. Die doel van die voorhangsel is uitgedien, die hoëpriester word vervang deur Jesus self (volgens die orde van Melgisedek), Hy neem die mens se sonde op Homself, en die voorhangsel word oorbodig. Selfs die profete word oorbodig, want nou het die mens nie meer 'n ander mens nodig as middelaar nie. Die beperking van "een maal per jaar" verval, en die mens kry direkte, vrye toegang tot God in sy troonkamer. God verander die stelsel in 'n oop-deur beleid. Elkeen van ons kan enige tyd, soveel as ons wil, in God se sitkamer gaan kuier. Net daar waar ons ter eniger tyd is, is God. Want, toe die voorhangsel skeur, word die hele aarde vervul met Sy heerlikheid. Nou moet die mens self pa-staan vir sy optredes, en moet hy self gaan vergifnis vra, een tot een met God. Die sonde bring nie meer skeiding nie.

Die vraag is:- Wat hou my en jou nog duskant die voorhangsel?
· Sonde. Ons as mense sukkel om te verstaan dat God sonde nie goedkeur nie. Maar aan die anderkant ook dat ons nie volmaak kan wees nie. Daarom moet ons dit vir Jesus gee sodat Hy ons skoon kan was, en die voorhangsel nie meer nodig is nie.
· Ongeloof. Gebrek aan geloof in die verlossingswerk van God, hou ons duskant, en dus ongered.
· Onwilligheid / hardnekkigheid. Die mens wil nog steeds self probeer, en hou vas aan die genietinge van hierdie wêreld.
· Gebrek aan kennis. Mense weet nie hoe God se genade werk nie, en glo nie diegene wat dit verduidelik nie.
· Vrees. Ons vrees die teenwoordigheid van God, omdat ons nie sy rol as Pa aanvaar nie.
· Wil nie oorgee. Sommige mense glo ons hoef net op nommer 99 in te gee, en alles sal reg wees. So asof Christenskap 'n straf of 'n vloek is.
· Te goed om waar te wees. Kan dit dan regtig so eenvoudig wees?
· Leef in die verlede. Ons bly soms so verknog aan die Ou-Testamentiese gebruike, en wil alles verdien.

Duskant, of anderkant die voorhangsel?
Waar staan jy op hierdie oomblik in jou lewe? Skei jy jouself nog hardnekkig van God? Nogal deur 'n skeiding wat nie eers meer bestaan nie?

Dink bietjie aan hierdie paar punte:-
· Jy kan self, ongeag van wie jy is, by God gaan aanklop. Ryk, arm, ongeleerd, kundige, jonk, oud, elkeen, kan by God in Sy troonkamer instap. Enige tyd, dag of nag, is jy baie baie welkom. Jy het 'n Bybel, en al die kennis wat nodig is om by God te gaan kuier. Jy het nie meer 'n profeet nodig nie, of 'n ander hoëpriester as Jesus nodig nie. Jy het nie nodig om te weet wat in die toekoms gaan gebeur nie, want jy kan vir God onvoorwaardelik vertrou.
· Anderkant die voorhangsel is hoop, vertroosting, bemoediging en 'n skuilplek by God. Jy kan Sy nabyheid ervaar, Sy asem in jou oor voel, Sy sagte stem hoor praat, net met jou. Daar kan jy gaan wag op Hom.

Wat hou jou nog terug?

Los jou sondes duskant, en stap deur. Los jou twyfel, jou eie ek, jou vrese, status, armoede, siektes en moeilike omstandighede, en gaan geniet Sy teenwoordigheid.

Jy sien, anderkant die voorhangsel is almal gelyk, daar is elkeen welkom. Stap in, fier, trots, regop en met vrymoedigheid. Daar is lewe, hoop en genade.

Wat kies jy? Duskant, of anderkant?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)