As jy vir my sou vra hoe maklik dit is om getroud te
wees, sou ek sê: dis die maklikste ding op aarde. Vir my. Meer as dertig jaar van
volmaakte huweliksgeluk met ‘n wonderlike vrou en wonderlike kinders. Dis
maklik om getroud te wees met my sielsgenoot, my beste vriend en my
kollega.
As jy my sou vra hoe maklik dit is om in my eie
onderneming te werk, sou ek sê: baie maklik. Ek verstaan die bedryf, ek
verstaan my kliënte se behoeftes, ek doen dit al vir jare en dit werk.
As jy my sou vra hoe maklik dit is om die lewe te
geniet en voluit te lewe, sou ek sê: dis maklik. Ek geniet alle fasette
van my lewe, ek het pret, ek doen lekker dinge en ek maak alles daarvan
wat ek kan.
Maar... as jy my sou vra of dit maklik is om ‘n
Christen te wees, dan begin daar ‘n tweestryd in my gedagtes. Christenskap
is vir my nie nét maklik nie. Ek sien rondom my mense wie se geestelike
lewens ek werklik begeer. Mense wat in alle opsigte opreg en baie naby aan
die Here lewe. Ek ken mense wie se lewens so gefokus is op God, dat niks
hulle van stryk bring nie. Ek wil hulle eintlik “super-Christene” noem. Ek
bely dat ek nie een is nie en dat ek dit nie regkry om altyd voluit op die
Here te fokus en te vertrou nie. Ek wens soms ek kan so ‘n “before” and
“after” prentjie van myself teken, waar die “before” totaal onherkenbaar
is van die “after”. Jy ken mos die advertensies van die velroompies of die
gewigsverliespilletjies – jy kan nie glo dis dieselfde mens nie!
Is Christenskap vir jou altyd maklik, of stoei jy ook
so bietjie soos ek? En weet jy wat die ergste is? Ek het geen rede om so
te sukkel nie, want bykans alles in my lewe is net gladde waters, “plain
sailing” soos hulle sê.
As Christenskap maklik was, sou ek roekeloos geglo
het. Nie dat ek NIE glo nie, inteendeel, maar dan sou ek nie soms
geestelike dinge in twyfel getrek het nie. Ek sou (verskoon my as dit dalk
verkeerd klink...) alles vir soetkoek opgeëet het. Ek sou dalk elke ding
wat ‘n ander Christen glo, net so vir myself gevat en ook geglo het. Maar
nou is ek ‘n kritiese gelowige.
As Christenskap maklik was, sou ek nooit getwyfel het
nie. Ek twyfel verseker nie aan die bestaan van God nie, en ek twyfel
hoegenaamd nie in die Bybel nie, maar daar is baie dinge waaroor ek soms
wonder, wat nie vir my sin maak nie – miskien omdat ek té hard probeer
verstaan.
As Christenskap maklik was, sou ek my verbly in
swaarkry. Die Here sê dan swaarkry kweek volharding en egtheid van geloof.
Maar dis nie so maklik nie, anders sou ek mos kon sê: Here, skuif nog meer
smart en moeilikheid oor op my skouers. Dit sou eintlik so gevoel van
genoegdoening gee, want dit sou beteken dat die Here meer op my fokus en
meer aandag aan my gee.
As Christenskap maklik was, sou ek nooit bekommerd
wees nie. “Goeie” Christene sê dis sonde om jou te bekommer, want dit
beteken jy twyfel dat God die beste weet. Ons weet tog immers dat Hy geen
las sal toelaat wat te groot is vir my om te dra nie, Hy sal mos alles ten
goede laat meewerk... maar tog is ek dikwels bekommerd, en wens ek
Christenskap was net maklik.
As Christenskap maklik was, sou ek alles gelate kon
aanvaar. Ek sou nie nodig gehad het om oor geestelike sake te wonder en te
tob nie. Ek sou kon sê: laat Gods water oor Gods akker loop, alles sal net
weer regkom, sommer vanself; alles is deel van ‘n groter plan, alles is in
God se beheer, die Here weet wat Hy doen. Maar ek sukkel daarmee, dis nie
vir my maklik nie.
As Christenskap maklik was, sou ek nooit
teleurgesteld gewees het nie. Het jy al iemand aan die dood afgestaan? Ten
spyte daarvan dat jy lank gebid het, profesieë oor daardie persoon
uitgespreek is en skrifgedeeltes die genesing bevestig het, het die
persoon tog gesterf. Het jy al die teleurstelling ervaar van afdanking by
jou werk, van ‘n huweliksmaat wat uitgestap het, van ‘n kind wat in dwelms
verval het, van ‘n siekte wat jou onverwags tref? Dis in sulke tye dat
Christenskap moeilik word.
As Christenskap maklik was, sou ek onvoorwaardelik
kon liefhê. Dis maklik om vir my vriende en familie lief te wees. Ek ken
die opdragte van die Bybel goed, maar tog is ek nie lief vir Mugabe nie,
en vir baie van ons eie leiers ook nie. Ook nie vir die gewapende rowers
wat ons ‘n paar jaar gelede in ons huis aangeval het nie. As ek hierdie
mense in ‘n weegskaal moes sit met liefhê aan die een kant en haat aan die
ander kant, weet ek na watter kant die skaal sou gaan.
As Christenskap maklik was sou ek nie so gesukkel het
met sonde, met verkeerde gedagtes, verkeerde besluite, verkeerde woorde
nie.....
Ek kan vandag sê Christenskap is nie vir my maklik
nie. Maar, wil ek dit regtig anders hê? Ek dink nie so nie, want dit is
juis in tye van worsteling dat ek God se soewereiniteit leer aanvaar het.
Dis is sulke tye dat ek besef het dat God bokant my begrip is. Dis in
sulke tye dat ek besef het God reageer nie op my gesukkel deur weg te raak
en Homself te onttrek nie. Dis in sulke tye dat ek besef God is wie Hy sê
Hy is, en doen wat Hy sê Hy sal doen, dat Hy absoluut betroubaar en
standvastig is. Waar mense ontydig afgesterf het, het die Here
vertroosting gebring. Waar bekommernis my wou oorweldig, het die donker
wolk weer gelig en het dit waaroor ek bekommer het, dikwels nie eers
gebeur nie. In tye van twyfel, het die lig weer vir my aangegaan en God
het Homself op ‘n wonderbaarlike manier kom openbaar. Die wonderlikste van
alles is dat die Heilige Gees harder in my werk, meer van my besit neem in
die tye wanneer ek dit nodig het.
Christenskap is nie maklik nie, maar dis beslis
vervullend. Dis die beste wat ek het; ek wil niks meer hê nie. Môre gaan
ek dalk weer twyfel en bekommer, maar oormôre gaan ek weer terug kyk en
sê: wow!
Intussen hou ek vas:
PSALMS 13:6
Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek
wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.
PSALMS 119:31
Ek hou vas aan u verordeninge, Here, moet tog nie dat my lewe 'n
teleurstelling word nie.
SPREUKE 3:1
My seun, wat ek jou leer moet jy nie vergeet nie, hou vas aan wat ek jou
voorskryf
SPREUKE 4:13
Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want
dit is jou lewe.
SPREUKE 6:20
My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer,
moet jy nie in die wind slaan nie.
ROMEINE 12:9
Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed
is.
2 TESSALONISENSE 2:15
Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle
oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur 'n brief was.
1 TIMOTEUS 1:19
Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete. Omdat sommige hulle
gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely.
DIE OPENBARING 3:11
Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.
|