As
die skoen jou pas, trek hom aan, sê die bekende spreekwoord. Ás hy
jou pas!
Julie 1977 beland Willempie in die
army en na ’n mediese ondersoek, haarsny, rondhardloop, luister na
vloek en skree, beland ons na so twee dae by die stoor vir ons nuwe
“designer outfits”. Sjoe en daardie sersant agter daai toonbank is
kwaad gebore. Jy wil nog sê: “Meneer, ’n no 30 skinny asb.”, toe het
hy jou klaar uitgekyk en opge-size en pak hy reeds ’n hoop goed voor
jou neer. Klere vir 2 jaar. Huh? Hoe weet hy hoe groot moet daardie
boots wees? Twee pare, splinternuut, kliphard, uit die boks uit. Jy
word dubbelpas tent toe gejaag en klim met verwagting in daai
spik-splinternuwe ontwerpersuitrusting in en soek ’n spieël om
jouself te beskou. In ’n tent? Oeps, geen spieël. Inplaas daarvan om
soos Don Juan te lyk, lyk jy soos Sad Sack met skoene wat hééltemal
te klein is. Terug stoor toe! “Meneer ... ag ek bedoel, Sersant,
hierdie stewels....” Toe gebruik hy army-taal om te sê jy moet
weggaan! So begin die verhouding met twee paar stewels wat op die
einde 2 jaar en 8 kampe saamgeloop het en gehardloop het. Na ’n paar
weke in basies het hulle gepas en nét aan my eie twee pote. Perfek
gepas! Saam het ons basies gedoen, PT gedoen, gedril, gehol en baie
vêr geloop. Op die grens moes ek een nag hardloop vir my lewe na ’n
loopgraaf toe; toe die rooi-oog missiele kom, het ek eers my stewels
aangetrek.
Ek en jy loop ons lewenspaaie deur,
met skoene wat vir ons en ons alleen gemaak is. ’n Skoen, jóú skoen,
pas aan jóú voet. As die skoen jou pas, trek hom aan.
Eks 3:5 (Toe die Here aan Moses
verskyn in die brandende bos)
Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou
skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”
God verwag van Moses ’n gebaar van
respek. So asof die Here vir Moses wil stroop van dit wat vir hom
belangrik is . Daai skoene wat amper soos ’n gemaksone is, moes hy
uittrek. Moses, jy het tot hier geloop, maar hier gaan jy nou eers
vir ’n rukkie vertoef. Die mense in daardie tyd het geken van loop.
Die ding wat jou deesdae hoofsaaklik op die pad hou, is jou motor se
bande; in Moses se tyd was dit jou skoene en hulle het seker hulle
skoene vinnig deurgeloop. Behalwe waar die Here hulle op die pad
gelei en versorg het:
Deut. 29:5
Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het
nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend
afgeval van julle voete af nie.
Hoe loop ek en jy deur die lewe?
Waar loop ons? Waarheen neem ons skoene ons, of liewer, waarheen
neem ons ons skoene? Kan ek en jy ’n ander mense se lewenspad
kritiseer en veroordeel as ons nie self daardie pad geloop het nie?
Om die Visrivier te stap is nie vir sissies nie; dit is 86km oor 5
dae van pure vasbyt. Jy kan saampraat as jy al daar was. So ook die
Comrades – het jou tekkies nog nie daardie pad gedoen nie, kan jy
nie eintlik saampraat met dié wat elke tree van die pad afgelê het
nie. Ons het dikwels baie te sê oor mense, maar as ons nie in hulle
skoene was nie, moet ons liefs stilbly. Het jy al ’n ander ou se
lewenspad begeer? Dalk sien jy iemand se welvaart sê: Ja, jou ryk ou
blikskottel! Maar, weet jy watter skoene moes hy dalk deurloop om
uit te kom waar hy nou is? Dan dink ons partykeer so ’n ou skuld ons
iets. Is jou skoene nommerpas vir jou, of begeer jy iemand anders
s’n?
Jesus het geloop om te kom waar
Hy wil wees. Vêr geloop. Hy het Jerusalem en omstreke platgeloop met
net een doel en dit is dat mense hulle moet bekeer. Paulus het vêr
geloop, baie vêr, sodat mense hulle moet bekeer. Weet jy, ek het al
gehoor dat daar groeperinge is wat Paulus se leerstellings verwerp,
maar as hulle nie sy skoene saam met hom deurgeloop het nie, is
hulle gepraat net ’n geblaf in die wind. Die nuwerwetse sogenaamde
vrydenkers wat Jesus verwerp, het seker nog nie een tree geloop waar
dit saakmaak nie. Hulle gepraat is ook ’n geblaf in die wind. As jy
nog nie Golgota toe gestap het met jou eie voete en jou eie kruis op
jou rug nie, weet jy nie wat dit beteken om ’n Verlosser te wees nie.
Daar is mense wat kilometers vêr “loop” terwyl hulle op die rusbank
sit met hulle voete op ’n tafeltjie en Christene kritiseer wat
werklik die pad loop, terwyl hulle self nog nie een geestelike tree
gegee nie. Daar is mense wat al hordes kere deur die Bybel gestap
het, jare saam met God geloop het, wat kritiek kry van mense met ’n
stortvloed van eie opinies. Ek hoor hoe mense tot bekering kom, glo
hulle is vervul met die Heilige Gees en dan ander wil aanvat wat al
dosyne pare geestelike skoene deurgeloop het. Dis net ’n geblaf in
die wind.
Is jy tevrede met die pad wat
jy moet loop? Het jy die regte skoene aan vir jou pad? Mens stap
verseker nie die Visrivier deur met balletskoentjies aan nie. Ons
lewenspaaie is nie dieselfde nie, ons het nie dieselfde doel in die
lewe nie en daarom moet ons nie iemand anders se skoene en lewenspad
begeer nie. Die Here sal ons nie paaie laat loop sonder om vir ons
die gepaste skoene te gee nie. Jy weet, ons loop soms paaie wat ons
nie moet loop nie en ons draf ons skoene deur agter die verkeerde
dinge aan en dit is teen die Here se wil. Gelukkig kan die Here ook
daardie paaie gebruik om ons skoene te vorm om nommerpas vir jóú
voet te sit. As jy soms ’n klippie in die skoen voel, moenie dink
dis altyd straf nie, soms is dit deel van vorming. ’n Blaas wat oor
en oor stukkend geskuur word, word naderhand ’n eelt wat baie loop
kan vat.
Dra jou eie skoene en wees
bereid om lank en vêr saam met die Here te stap, want dit bring
wysheid en kennis.
Jer. 2:25
Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou
keel laat droog word van die dors nie!
’n Baie ernstige waarskuwing; dis mors van goeie skoene en pad.
Loop die reguit pad, jou skoene sal 40 jaar hou as dit die Here se
pad is.
Ef. 6:14-15
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle
heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om
die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.
Dit kos tekkie slaan om by
mense uit te kom met die goeie nuus van die evangelie.
Rom 10:15
En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook
geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie
boodskap bring.”
As die skoen jou pas, trek hom
aan. Hierdie skoene van bereidheid sál jou beslis pas en dit sal
wonderlike voetstappe laat weerklink. Dit sal nie verslyt nie, al
loop jy dat jou voete vol blase is. Ek dink dit is die pad wat
Jesus gestap het, asook Paulus en al die dissipels. Dis hoekom ek en
jy vandag die Here ken. Die goeie boodskap van vrede het deur die
hele wêreld geloop ... te voet! |