AS DIT VOEL OF GOD SY RUG GEDRAAI HET


Hoe gaan dit vandag met jou? As ek die vraag sou vra, wat sou jy sê? Dalk die ge-ykte "goed dankie?" En as ek jou vra, "Waarvoor kan ek vir jou bid"? Wat sal jy dan sê? Nee, dit gaan nie altyd net goed nie. Ook nie met die kinders van die Here nie! Die afgelope week het twee mense my gekontak (Rippel luisteraars), wat op die oomblik in 'n drukgang in hulle lewens is, waarvoor hulle nie gevra het nie. Mense wat regtig pyn en hartseer en eensaamheid beleef. En dan op die koop toe kom die gevoel dat God nie meer hulle gebede hoor nie. Het jy ook al so gevoel? Of die Here so ver is, en so stil is, dat ons wonder of die Here besig is om ons te straf. Dis baie sleg, vernaam as vriende en familie dit ook nog moeiliker maak met stellings soos "ek het jou gewaarsku, en jy wou nie hoor nie", of iets soos "jy het dit net oor jouself gebring."

Inderdaad, pyn is nie lekker nie, en eensaamheid is sleg. En om te wag op die Here, klink soms so oppervlakkig.

Klaagliedere 3 : 1 - 13
1 Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan.
2 Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig.
3 Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag.
4 Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek.
5 Hy het my toegebou met 'n muur van gif en ontbering rondom my.
6 Hy maak die donker my tuiste, ek is soos dié wat lankal dood is.
7 Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie, Hy het vir my swaar bronskettings aangesit.
8 Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.
9 Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.
10 Hy is soos 'n beer wat my inwag, soos 'n leeu wat my voorlê,
11 Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê.
12 Hy het sy boog gespan en my 'n teiken vir sy pyle gemaak.
13 Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet.

Klink dit bekend? As dit voel of die Here sy rug gedraai het. Die vraag is "het die Here sy rug gedraai? Hoekom voel dit of my gebede net die plafon tref? Hoekom gaan dit soms so sleg met die Here se kinders?" Wel, slegte goed gebeur met goeie mense. Christene het nie net altyd 'n "raw deal" nie. En as ons sou vra, "hoekom straf die Here my so?" Dan kan ek net sê, ek glo nie dat dit altyd straf is nie. Want die dade en besluite en aksies van ander mense, be-invloed ons verseker. Ander se sondes, en oortredinge, en verkeerde besluite, het dikwels 'n reaksie. As jy deur egskeiding is, of 'n lewensmaat verloor het, sal dit verseker 'n invloed op jou lewe hê. En dis niks nuuts nie.

Ps 79 : 1 - 5
1 Heidene het u land binnegedring, o God, hulle het u heilige tempel ontwy en Jerusalem in puin gelê.
2 Hulle het die lyke van u dienaars aan die voëls gegee om te vreet, die vleis van u troue dienaars aan die wilde diere.
3 Hulle het die bloed van u dienaars rondom Jerusalem laat vloei soos water. Niemand het hulle begrawe nie.
4 Ons het 'n bespotting vir ons buurvolke geword, ons word gespot en uitgejou deur almal rondom ons.
5 Hoe lank sal dit nog aanhou, Here? Sal u toorn dan vir altyd duur, u woede soos 'n vuur bly brand?

En dan, hoeveel kan ons sê oor Job? Hoor sy woorde toe hy hoor dat hy alles verloor het, ook sy kinders.

Job 1 : 21 - 22
21 "Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here."
22 Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.

Sjoe, kan dit wees? Prys die Naam van die Here.

Prys die Naam van die Here. Jy sien, in moeilike tye kan ons maklik vir Job aanhaal as die grootste lyer (lang y) van alle tye. Maar, ons ken die uiteinde. Ons weet dat God vir hom baie meer gegee het as wat hy verloor het. Punt is, toe Job sê, "Prys die Naam van die Here", het hy ook nie die uiteinde geken nie. Hy het net vertrou. En nie vir God verwyt nie. En ons? Kan ons dit doen? Ek dink so, want ons ken Job se uiteinde. En dis dieselfde God waarmee Job te doen gehad het.

Klaagliedere 3 : 21 - 33
21 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.
24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
25 Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra;
26 dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here;
27 dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra.
28 Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het,
29 laat hy hom diep verootmoedig - miskien is daar hoop -
30 laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.
31 Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie;
32 as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot:
33 dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Daar is hoop in die Here, want die God van Job, en die een van Jeremia (wat Klaagliedere geskryf het), is gister, vandag en more, presies dieselfde. Die God wat hoop gegee het vir mense in die ou en nuwe testament, is presies dieselfde God wat vandag vir ons die uitkoms bring. En is net so een stappie beter af. Ons het nog vir Jesus ook as die Voorspraak, die Een wat by God vir ons pleit en intree. En daarom is dit nie 'n moedswillige God wat ons met 'n stok bykom vir alles nie. Goddank. Nee, Sy Seun Jesus is aan ons kant, en Hy pleit by die Vader. En benewens dit, dink ek Jesus huil dikwels saam met ons as slegte goed oor ons pad kom. Al voel dit of hy soms so ver is, en of ons so alleen is.

Hoe kom ons deur swaar tye?

1. Dink aan Job - al gehoor van Job se geduld? Swaarkry gaan nie altyd vir ewig aan nie.
2. Kyk om jou na mense wie ook lank terug in daardie bootjie was - en weet, dis dalk nie meer lank nie.
3. As dit nodig is om professionele hulp te kry, gaan kry dit - op die regte plek.
4. Moenie toelaat dat bitterheid jou vernietig nie. Dis tog net jy wat self daaronder gaan ly. Bitterheid is die kanker van die siel.
5. As jy iemand moet vergewe en vryspreek, doen dit. Vandag nog. Ja, selfs as die persoon wat jou ellende veroorsaak het, al dood is.
6. Gaan vra vergifnis as jy moet. Gaan maak reg, bely, pleit.
7. Aanvaar God se vergifnis as dit nodig is.
8. Omring jou met vriende, moenie die pad alleen probeer stap nie, dis nie nodig nie. Reik uit.
9. Staan ander mense by met wie dit ook sleg gaan, of gaan raak betrokke iewers, dit trek ook die aandag af van jou eie probleme.
10. Wag op die Here!! Wag op die Here. Klaagl. 3 sê "Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie".

Soek die silwer randjie om die donker wolk, of sien dit net raak, dis in elk geval daar. Hou aan die Here vas, Hy sien die hele prentjie. Hy is oneindig lief vir jou. Soos die Ds gisteraand sê: "God is oneindig lief vir jou - en daar is absoluut niks wat jy daaraan kan verander nie."
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)