Christen … is JY 'n Christen? As iemand jou sou
vra oor jou geloofsoortuiging, sê jy sekerlik ook dat jy 'n Christen is.
Dit beskryf tog sekerlik iets van dit waarin in jy glo, of wát jy glo.
Ek het al die vraag gehoor: "Was Jesus 'n
Christen?" Ek dink dit is 'n sinnelose vraag. As jy vra:
"Willem, is jy 'n stoeier?", dan kan ek sê: "Nee, want ek
stoei nie". As ek vir 'n Mercedes vra: "Is jy 'n kar?", dan
is die vraag mos sinneloos, want wat anders kan die Mercedes dan wees? So,
was Jesus 'n Christen? Natuurlik, want Hy gee definisie aan die term. As
ek en jy dan vra: "Is ek 'n Christen?", dan moet ek seker op die
een of ander manier kwalifiseer om dié status te kan "verdien".
Die antwoord sal natuurlik ook afhang van die definisie van wat 'n
Christen is.
Hand 11:19-26: Deur die vervolging wat na Stefanus
se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle
het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord
aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. Onder die vlugtelinge
was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in
Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat
Jesus die Here is, verkondig het. Die Here het die gelowiges gehelp, sodat
daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het. Die
berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir
Barnabas na Antiogië toe gestuur. Toe hy daar kom, was hy bly om te sien
hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal
aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. Barnabas was 'n
goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof. 'n Aansienlike
groep mense is tot geloof in die Here gebring, en Barnabas is na Tarsus
toe om vir Saulus te gaan soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië
toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente
gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste
keer Christene genoem.
In Antiogië is die gelowiges die eerste keer
Christene genoem. Die woord "Christen" kom twee keer in die Nuwe
Testament voor, en die woord "Christene" ook twee keer. In nie
een van hierdie vier tekste word die woord "Christen" per
definisie verklaar nie. Ons moet dit dus op die een of ander manier self
'n definisie aflei en formuleer.
"Ek is 'n Christen" - jy sien, die
wêreld hou nie van hierdie stelling nie, want die oomblik wat jy hierdie
stelling maak, begin die wêreld 'n kraak soek. So het Ghandi gesê hy sou
dalk 'n Christen kon geword het, was dit nie vir die Christene nie. Wel,
mnr Ghandi het iets nie verstaan nie. Sy stelling beteken net mooi niks
nie. Wat bedoel ek hiermee?
1) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek
nie ek is sondeloos nie. Rom 3:23 sê, "Almal het gesondig, en het
nie deel aan die heerlikheid van God nie". Ek is een van die
"almal". Ek kry dit elke dag reg om te sondig, en ek is verseker
nie trots daarop nie. Daar staan "almal", maar Goddank, daar is
ook 'n vers 24: "Maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op
grond van Sy genade vrygespreek, vanweë die verlossing deur Jesus
Christus"
2) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie soos
Petrus vir Jesus sal verloën nie, Ek het al, en ek is nie trots daarop
nie. Ek het al talle kere stilgebly toe ek moes praat. Maar … ek lees in
Handelinge hoe hierdie selfde Petrus deur God gebruik is om 3000 en 5000
mense na Jesus toe te lei. Dis net Satan wat gedink het Petrus is daarmee
heen toe hy vir Jesus verloën het. Vandag is daar talle ongelowiges wat
ook so dink as ons vir Jesus verloën, maar ons, ons ken God se genade.
3) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie soms
twyfel nie. Ek sê verseker nie dat elke oomblik gekenmerk word deur 'n
rotsvaste geloof nie. Goddank daar was iemand soos Thomas. Hy het ook
getwyfel, maar Jesus het vir hom Sy hande en Sy sy gewys … en omdat dit
opgeteken is, kan ek en jy glo. Maar meer as dit - die Here se "track
record" is onfeilbaar. Heb 11:1 "Om te glo, is om seker te wees
van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie
sien nie". Ek dank God dat daar meer geloofsmomente is as tye wanneer ek twyfel.
4) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie dikwels
skynheilig is nie, want ek kry dit gereeld reg. Dalk is ek skynheilig,
maar dalk is dit juis die tye wat ek poog om te doen wat goed is in die
oë van die Here, en die wêreld wil dit dan afspeel teen die tye wat ek
faal. Jy sien, as die kriteria vir diensbaarheid heiligheid is, sal daar
dalk baie min Christene op aarde wees. Almal wat 'n invloed op my
geestelike lewe het, is sondaars, maar in my oë is hulle nie skynheilig
nie. Skynheilig beteken om iets voor te gee wat jy nie is nie. As jy 'n
feilbare mens is, maar steeds diensbaar is in God se koninkryk, is jy
gehoorsaam, en nie skynheilig nie.
5) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek nie dat ek nooit
kommer beleef nie, ek sê nie dat ek nie soms voete van klei het nie. Ek
sê ook nie dat ek soms 'n huigelaar is nie, ook nie dat my lewe totaal
sonder pyn is nie. Nog minder dat my verhouding met God volmaak is.
Nou wat sê ek dan?
1) Ek sê: "Ek is 'n Christen", juis
omdat ek te swak is, en Jesus in my lewe nodig het.
2) Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat ek besef dat ek nie die
wet kan onderhou nie, en daarom bitter afhanklik is van Jesus se
verlossingswerk.
3) Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat Jesus my anker is in tye
van benoudheid, kommer en angs, en Hy my dan vertroos deur my te herinner
aan soveel tye wat Hy my deur moeilike tye gebring het.
4) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan bely ek dat Jesus my
Saligmaker is, en dat Hy my enigste weg tot saligheid is.
5) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan besef ek my saligheid
hang nie af van hoe goed ander Christene presteer nie. Ek moet self kies.
Mnr. Ghandi het probeer om sy saligheid deur ander mense se verdienste te verkry. Ek is
so jammer vir hom.
6) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dit is
ongelooflik lekker en aangenaam om aan Jesus verbind te wees, en aan talle
van Sy feilbare kinders". Ook om te weet dat ek 'n plek in Sy
Koninkryk het, ja, selfs ten spyte van die negatiewe goed wat ek aanvang.
7) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dankie
Jesus, dat ek in U oë volmaak is"
|