Sondagaand vra die dominee in die kerk: "As jy kan kies, sou jy jou
lewe wou oorhê"? Dus, as jy weet wat jy nou weet, sal jy jou lewe
wil oorleef? Sommige mense het gesê ja, en ander was tevrede met
hulle lewens soos wat hulle dit tot nou toe geleef het. Ek het
gewonder wat maak dat die lewe vir mense só onaanvaarbaar is, dat
hulle eerder reg van voor af sal wil begin. Is dit dalk slegte
omstandighede? 'n Slegte verlede? 'n Slegte hede? Of die verwagting
van 'n slegte toekoms? Baie mense gaan onder woeste ellende gebuk.
Pred 6:1-12
1 Ek het in hierdie wêreld ellende gesien wat swaar druk op 'n
mens:
2 God gee aan iemand rykdom, besittings en eer, en so iemand kom
niks kort van wat hy begeer nie, maar God laat hom nie daarvan
geniet nie, en iemand anders gebruik dit. Ook hier kom dit tot niks.
Dit is bitter swaar.
3 'n Man kan honderd kinders hê en baie lank lewe, maar hoe oud hy
ook al word, as hy nie die goeie dinge kan geniet nie en nie eens in
'n graf begrawe word nie, is 'n doodgebore baba beter daaraan toe as
hy.
4 'n Doodgebore baba kom tot niks, dit sien nooit die lig nie en kry
nie eens 'n naam nie.
5 Dit sien nie die son nie en weet niks nie Tog is dit beter daaraan
toe as iemand
6 wat nie die goeie van die lewe kan geniet nie, al leef hy twee
maal duisend jaar. Altwee gaan na dieselfde plek toe.
7 Die mens sloof hom af vir kos, maar sy honger word nooit gestil
nie.
8 Watter voordeel het die man met wysheid bo die dwaas? Wat help dit
die arme om te weet hoe hy hom moet gedra?
9 Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot
niks. Dit is 'n gejaag na wind.
10 Wat 'n mens is, word reeds met die naam mens gesê, dit is bekend
wat hy is: hy is mens. Hy kan nie 'n regstryd voer met die Een wat
sterker as hy is nie.
11 Hoe meer woorde, hoe meer kom dit tot niks. Wat baat dit die mens?
12 Wie weet wat vir die mens goed is in die lewe, in die dae wat tot
niks lei nie, wat hy soos 'n skaduwee deurbring? Wie kan vir 'n mens
sê wat ná hom in hierdie wêreld sal gebeur?
Dis 'n feit: baie mense kry vandag baie swaar. Hoe
gaan dit vandag met jóú? Voel jy dalk ook so effens in 'n put? Nou
ja, as ek vir jou sou vra of jy jou lewe wil oorhê, wat sou jy sê?
Die Engelsman praat van "hindsight". Wat sou jy wou verander? Wat
verhoed jou om dit vorentoe te verander? Jy sien, dit is dalk so dat
jy nie die verlede kan verander nie, en dit is so dat die verlede
hierdie onbeskryflike mag op jou toekoms het, en natuurlik ook op
jou hede. Maar … dalk is dit vandag die tyd vir nuwe besluite.
Miskien net so bietjie voorraad opneem. Dalk 'n bietjie kaste
skoonmaak. Nuut begin.
Vandag se tema is "bagasie". Bagasie is seker dit
grootste doodsteek denkbaar vir mense se geluk en vryheid. Ek glo
elkeen van ons dra een of ander vorm van bagasie. Daar is in elkeen
van ons se lewens iewers 'n plekkie waar hierdie dorings wegkruip.
Party se bagasie is in 'n klein laaitjie êrens, ander het 'n hele
tas vol. Sommiges sleep 'n opgehoopte sleepwa vol gemors van die
verlede saam met hulle. Vir ander is 'n vrag lorrie te klein.
Ongelukkig erf party mense trokke vol gemors van voorgeslagte, wat
geweldige letsels los. Die probleem met hierdie "geërfde" bagasie is
dat mens dit gewoonlik weer vir jou kinders aanhaak. Is dit nie so
nie? Waar kom jou bagasie vandaan? Wie of wat het dit vir jou
opgelaai?
Slegte bagasie, baie bagasie, ongevraagde bagasie…
seer, bitter, swaar, ondraaglik! Die probleem is, as hierdie goed
begin oorneem, is elke enkele spasietjie naderhand vol daarvan. En
ja, dit sou baie roekeloos wees om vir iemand te sê: "Kom, ruk jou
reg, pak af, gaan aan". Dis gewoonlik nie só maklik nie. 'n Gebroke
ouerhuis, byvoorbeeld, los jou met 'n ton bagasie wat jy nie wou hê
nie. Is dit nie vreemd hoe hierdie goed werk nie? As die ouers skei,
verhoog die kinders se kans om ook eendag te skei dramaties. Mens
sou dink dat die teendeel waar moet wees… hoekom dieselfde fout as
jou ouers maak? Maar tog is dit so. Hoe beïnvloed ek en jy vandag
ons kinders se toekomstige huwelike?
Watter bagasie dra jy vandag?
· Dalk dié goed wat jou ouers op jou waentjie oorgepak het? Dis
moeilik om dit af te pak, nê? In plaas daarvan dat dit by die dag
beter gaan, word dit by die dag swaarder.
· Bagasie a.g.v. verkeerde besluite, verkeerde maats, roekelose
aksies.
· Verkeerde gewoontes. Miskien het jy te vroeg, te veel met drankies
geëksperimenteer. Die een ding lei tot die ander, en voor jy weet is
'n verslawing gevestig.
Die vraag is nou: is dit nodig om hierdie bagasie
nog verder te dra, nog verder saam te sleep? Of kan ons dalk sê: "Hoewel
ek nie my lewe kan oorhê nie, kan ek dalk begin om af te pak".
Bietjie vir bietjie. Eers die klein goedjies, dan die groter en
groter bokse, totdat net dit oor is waarmee ek sinvol kan saamleef.
Jy ken seker die verhaal van die albasters? As ons 80 jaar oud word,
sal ons ongeveer 4000 weke geleef het. Hoeveel weke het jy oor?
Verbeel jou dat jy 'n groot bottel vat en vir elke week wat jy nog
oorhet om te leef sit jy 'n albaster in die bottel. Haal van nou af
elke week een albaster uit die bottel uit en gooi dit weg. Soos wat
jy nou die bottel sien leegword, weet jy dat die einde van jou lewe
nader kom, en dit, my vriend, kan jy nie keer nie. Maar … onthou jy
hét 'n invloed op jou lewenskwaliteit. Die lewe hoef nie swaarder te
word nie, dit kan beter word. Moet ouderdom vir jou 'n straf wees,
of kan jy die lewe end-uit geniet?
What can we do to travel light?
· Vergifnis: vergewe diegene wat vir jou bagasie opgelaai het (miskien
ook jyself). Maak klaar met bitterheid, spreek vry (selfs al is die
persoon miskien al dood)
· Konsentreer meer op die toekoms as op die verlede. Jes 43:18 "Maar
moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan
nie"
· Wéét dat die Here met hierdie ondraaglike laste en sorge wat jy
dra kan afreken. Hy het dit al gedoen, Hy kan dit doen, Hy wil en Hy
sal. Ps 55:23 "Laat jou sorge aan die Here oor; Hy sal vir jou
sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie." Glo jy
hierdie belofte? Wag jy al lank dat dit moet waar word? Wag nog 'n
bietjie, dit kom beslis.
· As bekommernis hierdie sleepwa van jou oorvol maak, kom pak dit
maar gerus op Jesus af. 1 Pet 5:7 "Werp al julle bekommernisse op
Hom, want Hy sorg vir julle" . Sien raak dat die teks sê: "Hy
sorg" en nie: "Hy sal sorg nie". Dit is reeds besig om te gebeur. Hy
gee om, Hy hou jou staande.
· 2 Kor. 5:17 " Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom?". 'n Toekoms sonder
bagasie!
Pak af, gee oor, maak leeg en "travel light"!
|