BANKROTSKAP


Voel jy ook so bietjie bankrot? Is daar iets waarvan jy dalk nie genoeg het nie? Dink so bietjie saam met my aan 'n definisie van bankrotskap. Volgens die HAT is die definisie die volgende:- Iemand wat nie sy geldelike verpligtinge kan nakom nie, insolvent, platsak. Maar ook:- Onmagtig, sonder betekenis. Dus trek dit (so lyk dit) verder as 'n gebrek aan geld. Jy sien, finansieële armoede is soort van meetbaar, want jy kan meet hoe groot gebrek daaraan is - wat dus kortkom. Om sonder geld te wees is 'n groot probleem, want ons kan nie daarsonder leef nie. En daarom hunker ons maar almal graag daarna. En die persepsie is, as ek net 'n bietjie meer gehad het, sal die son weer skyn. Daar is egter ander goed wat 100 maal erger is om aan bankrot te wees. Byvoorbeeld:-

Bankrot aan verhoudings. 'n Gebrek aan goeie verhoudings. Om mense in jou lewenssfeer te hê wat iets beteken. Om daarby aan te sluit, vriendskappe. Het jy vriende op wie jy kan staatmaak? Deur dik en dun?

Bankrot aan vrede. Hoe voel dit in jou vandag? 'n Warboel van emosies wat jou mal dryf? Soos branders wat genadeloos in jou gemoed slaan?

Bankrot aan sekuriteit. Dalk voel jy weerloos, en blootgestel. Nêrens om na te vlug van al hierdie aanslae nie.

Bankrot aan selfwaarde. Jitte, die wêreld kry dit reg om ons selfbeeld, en selfwaarde te vernietig. Dalk is dit die satan self, of jou huweliksmaat, of jou kinders, jou baas, kollegas.

Bankrot aan visie. Geen visie vir die toekoms nie. So asof ons teen 'n muur vasgeloop het en niks meer die moeite werd lyk nie. Dis wat lei tot depressie.

Onthou: geld is maar 'n klein deeltjie van die lewe. Geld is NIE die lewe nie! Jesus is die lewe.

Geldelike bankrotskap is sleg, maar ….. die Here is nogal uitgesproke in die Bybel oor geld. En nie oor geld self nie, want geld kan nie sleg wees nie. Dis net 'n stuk papier. Wat die probleem is, is wat dit aan ons maak. Want geld is mag. Daarom waarsku die Here teen Mammon. Dus, geen geld is sleg, maar baie geld kan slegter wees. (Ek sê nie dit IS nie) Mammon werk deur rykdom én armoede. Tog snaaks dat mense God se seën so knaend in geldwaarde meet. As ons vra "Here, seën my", dan is dit baie dikwels iets hier diep agter wat dit aan besittings koppel, of hoe? Natuurlik is dit seën van God as ek genoeg het, maar wat is genoeg?

Pred 5 : 9 "Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie". Vers 11 "Die slaap van die arbeider is soet, of hy min eet, of baie, maar die oorvloed van die ryke laat hom onrustig slaap".

Iemand sê tereg anderdag in 'n preek "Ons bid vir die Here vir seën; hoekom sal Hy ons dan "seën" met dit waarteen Hy so baie in die Woord waarsku? Dit wat by verre die bron van die meeste en grootste misdaad is; waarvoor mense moor om te sien hoeveel in die ou plat beursie is; wat soveel huweliksonmin veroorsaak. Ek is jammer, maar die Here seën nie met die Lotto nie. Hoekom sal Hy by miljoene armes hulle broodgeld vat om vir my en jou te gee? Dink bietjie hieroor!

Joh 10 : 10b "Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed."

En dit, in die konteks van Joh 10, het niks met geld te doen nie. Die eerste gedeelte van vers 10 sê "'n Dief kom net steel en slag en uitroei!!" Dan sê Jesus, "Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed." Wat is die slotsom oor die eerste gedeelte? Rykdom kan ook bankrotskap wees!

Bankrotskap aan verhoudinge en vriendskap
Sjoe, dit is sekerlik die ergste vorm van bankrotskap, want jy is eensaam, alleen en verstoot.

Spreuke 27 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was, verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie, 'n buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat ver is."

Hoe wonderlik is dit nie, om te kan sê daar is mense op wie jy kan staatmaak nie!!

Pred 4 : 9 - 12 Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. 10 As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. 11 As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? 12 Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Die Here het ons vir mekaar gegee en daarom is Sy grootste gebod, die liefde. Verhoudinge kan net op liefde gebou word.

Bankrot aan vrede.
Fil 4 : 7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus".

Wanneer kom daardie vrede? Vers 6 sê: "Moet oor niks besorg wees nie ……"

Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede". Dit is as ons nie meer tevrede is nie, dat ons oor alles besorg raak! Dit is dan wanneer ons ons eie planne maak, meer en meer begin jaag na wind. Dan raak ons bankrot aan vrede. En dis ook hoekom ons so maklik in onvrede kan leef met alles en almal om ons. Vrede kom van God af! As ons dit vra, sal ons dit kry.

Bankrot aan selfwaarde.
As jy hierdie tipe bankrotskap het, beteken dit dat jy nie meer glo dat God jou spesiaal ag nie. Dat Hy jou afgeskryf het. Miskien voel jy so as gevolg van sonde en gepaardgaande verwydering van Hom. Ag, alles wat die duiwel ook al kan opdis. Ek gee jou net een teks.

Sef 3 : 17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die Krygsman wat red, Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil - tevrede in Sy liefde, Hy jubel en juig oor jou."

Wat sê jy daarvan? Dis wat die Here oor jou sê. Glo dit!

Om saam te vat:-

Bankrotskap strek verder as geld. Baie verder. Geldelike bankrotskap is sleg, maar nie so sleg soos emosionele en  geestelike bankrotskap wat gekenmerk word deur geen selfwaarde, eensaamheid en swak verhoudinge nie. Geld kan nie een van hierdie dinge koop nie! Net die Here kan dit gee, maar ons moet dit kies.

Kom ons gaan soek hierna en word ryk in lewensvreugde. Dit is moontlik!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)