Daar
sit Meneer en Mevrou lekker rustig op die stoep... nie veel om te
doen nie; hulle verlustig hulle aan die natuur. Soms loop ‘n bokkie
nuuskierig en versigtig nader; die vrugte hang swaar aan die bome in
die tuin – lekker, ryp, somer vrugte. Manlief strek hom behaaglik
uit op die bamboes stoel en sê: Weet jy Skattebol, hiérdie is die
lewe, ons kon regtig nie vir meer gevra het nie. Ons het regtig
alles wat ons hoegenaamd kan begeer. Mmmm... dink Vroulief by
haarself, ons het regtig amper alles wat ek begeer. Regtig ámper
alles. So stap sy rustig in die tuin in, ver weg van hulle
selfgeboude huis. Dan kom sy by die bron van haar onvervulling – en
sy begeer. Terwyl sy so kyk, hoor sy ‘n stem wat sê: Kry vir jou. Sy
sê: Ek mag nie. En die stem sê: Mag jy dan wérklik niks? Nee, sê sy,
ek mag enige iets, maar hierdie een is taboe, ons sal sterf... En
dan sê die stem:
“Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat
julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet, en dan
sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken”
(Gen 3:4)
Adam en Eva sit op die stoep, en het álles, maar net
die een ding wat taboe is, maak dat hulle alles verloor. Begeerte
het gemaak dat hulle alles verloor. Alles. Duisende, heerlike
vrugtebome, ‘n volmaakte lewe, nie eers té hard gewerk nie. Maar een
boom, nee, eintlik een vrug. Nét een. Net een te veel. Is dit nie
snaaks wat die mens sal prysgee vir ‘n begeerte nie? Nét een taboe
dingetjie, net een keer te veel. Dis wat begeer aan mens maak.
Eks 20:12-17
“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land
wat die Here jou God vir jou gee. "Jy mag nie moord pleeg nie.
“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
"Jy mag nie steel nie.
"Jy mag nie vals getuienis teen 'n ander gee nie.
“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou
begeer nie, ook nie 'n slaaf of slavin, 'n bees of 'n donkie, of
enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
Jy mag nie sy huis begeer nie, nie sy vrou nie, nie
sy bees, donkie, kar, vakansiehuis, ens nie.
Begeer is ‘n snaakse ding, en ek wil ‘n onderskeid
tref tussen verkeerde begeer, en ‘n gesonde hunkering, of ‘n
ambisie, of wat jy verkry deur harde werk, vernuf, kennis, bietjie
risiko neem, ens. Met hierdie dinge is daar niks verkeerd nie. Maar
daardie sieklike begeerte na dinge wat nie vir jou beskore is nie,
of nog meer, waaroor die Here ernstig waarsku, is iets anders.
Ek maak vandag ‘n stelling: dit wat jy so fanaties
begeer, sál jy eventueel kry. Ongeag die prys wat dit jou gaan kos,
of verhoudinge wat in die slag gaan bly, of die selfvernietiging wat
dit gaan meebring – jy sál dit iewers kry.
Daar is ‘n paar goed wat té dikwels begeer word:
geld, ‘n ander vrou/man, besittings en mag. Die meeste goed kan
hieronder geklassifiseer word.
Spr 19:23
‘n Mens wy sy lewe an wat hy begeer, maar dit is beter om arm te bly
as om te bedrieg.
Die mens sal kry wat hy begeer!
Pred. 6:9(a) Wat die mens
het, is beter as wat hy begeer.
Jare gelede het ek na ‘n spreker met die naam van
Brian Stocks (van Stocks & Stocks) geluister by ‘n manne ontbyt. Hy
het gesê: Ek weet nie wat jy besit of wat jou geldelike situasie is
nie, maar leer vandag ‘n les. Ek beweeg tussen die rykstes van die
rykes en het gesien dat daar nie een is wat genoeg het nie. Leer
liewer om tevrede te wees met wat jy het. Dit was waar woorde wat my
nou nog bybly.
Veronderstel iemand sê nou vir jou dat jy oor ‘n
maand R50 000 gaan kry, heeltemal verniet, sommer net so... wat sal
jy daarmee maak? Dit sal nogal ‘n paar gate toestop, né? Wel, glo
my, twee weke voordat jy die geld het, sal dit alreeds te min wees,
en sodra jy dit het, gaan jy alles blaas en dan sit jy in presies
dieselfde bootjie as wat jy nou is. Is jou hoop dalkies op ons
bekende Lotto-speletjie gevestig? Glo jy dat jou geluk binnekort
gaan draai? Het jy al ‘n paar keer jou miljoen in jou kop geblaas?
Of dalk werklik geblaas terwyl jy wag vir jou gelukkie, aangevuur
deur begeerte? Hoe lank is jy bereid om te wag? Kom ek help jou: jou
kans om die Lotto te wen is 1 uit 14 000 000. Dus, as jy elke dag
van jou lewe een maal speel, gaan jy 38 356 jaar wag om te wen! En
daarby gaan dit jou R49 miljoen kos aan die kaartjies. En, o ja,
speel tog net elke dag dieselfde kombinasie, anders vat dit nog
langer!
Begeer ... ai, dis ‘n lelike ding. Jaag dit, en jy
sal dit kry, ongeag die prys. Dan kos dit jou R49 miljoen om R1
miljoen te wen; dan vang jy die buurvrou en verloor jou eie vrou,
familie, gesin, sekuriteit, waardigheid en sommer dalk jou
verhouding met die Here ook.
1 Tim 3:1
Dit is ‘n waar woord; as iemand graag
ouderling wil wees, begeer hy ‘n voortreflike werk.
Ps 40:9
Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U Woord is my hele
lewe.
Hierdie is nou dinge wat jy maar mag begeer! Het jy
‘n verterende hunkering om naby aan die Here te kom? Is jy bereid om
baie prys te gee om hierdie volmaakte verhouding met God te hê? Jy
sien, as mens die verkeerde goed begeer, gaan jy goeie goed moet
prysgee. As jy die goeie goed begeer, gaan jy die verkeerde dinge
moet prysgee. Die een sal altyd in die ander se pad staan. Die goeie
in die pad van die slegte, en andersom.
Moenie geld begeer nie, jy sal in elk geval nooit
genoeg kry nie. Jy mag nie iemand se huis begeer nie, nie sy vrou
nie, nie sy slaaf of slavin nie, sy bees of sy donkie nie ... want
jy sal álles doen om dit te verkry. Begeer die goeie, en jy sál dit
kry. Begeer jy om in die Koninkryk ‘n verskil te maak? Jy sal dit
kry. Begeer jy meer liefde vir Jesus? Jy sal dit kry.
|