BEKOMMERNIS


Ons gesels oor hierdie aaklige ding wat ons bekommernis noem.

As ek nou 'n definisie moet gee vir bekommernis, sou ek sê "Dit is dinge wat vir ons voel of dit buite beheer is". Dinge soos bv. finansies, huwelik, werksituasie, gesondheid, kinders, my gesin se toekoms, ons land se toekoms.

2 Kor 11 : 27 - 28 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.

Paulus se bekommernisse. Dit lyk vir my of ons almal maar met hierdie euwel worstel. Party mense hanteer dit egter anders as ander.

Bekommernis en stres is egter ook nodig. As ek en jy dit totaal wegdruk, sal ons natuurlik nie oorleef nie. Gesonde stres maak dat ons voorsien vir ons gesinne, ons veiligheid beskerm en werk vir oorlewing.

Ek praat nie vandag hiervan nie, ek praat van stres wat ons angstig maak.

'n Paar feite oor bekommernis:-

· Minder as 5% van bekommernisse is werklik 'n probleem.
· Bekommernis is soms net 'n slegte gewoonte. 
· Aan die meeste van die dinge, kan ek niks doen nie.

Vandag is die dag waaroor jy jou gister so bekommer het. Is vandag regtig so sleg, en gister, verlede maand, verlede jaar.

Matt 6 : 25 - 34 Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? 26 Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? 27 Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? 28 En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. 29 Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? 31 Julle moet julle dus nie bekommer en vra: "Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?" nie. 32 Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. 33 Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. 34 Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.

As ek hierdie deel lees, besef ek dat ons bekommernisse dikwels die oorsaak is van ongeloof.

Soms kyk ek so na die voëltjies op my grasperk, dan besef ek hoe die Here vir hulle sorg. Ek het nog nie een gesien wat swaarmoedig loop, op 'n hoop sit of met 'n lang gesig sit nie.

Wat is dan die teenvoeter vir bekommernis?

Fil 4 : 7 sê: "En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus". Die woord "vrede" kom voor in die woord tevrede!

Kom ons doen gou 'n toets - antwoord eerlik.

Is jy tevrede met:-

Jou werksituasie? Pred 2 : 18 Jou vrou of jou man?? Spr 5 : 15 - 21 Jou finansies, kinders, jouself, jou toekoms?

Dikwels is hierdie kommer en stres net as gevolg van my en jou onvergenoegdheid en ontevredenheid.

Wat maak ons met hierdie bekommernisse in ons lewens? 'n Paar praktiese wenke:-

· Kommer het nog nooit 'n probleem opgelos nie.
· Kry al die feite oor die saak - besluit hoeveel kommer dit werd is. 
· Doen wat jy kan van jou kant af om die probleem uit die weg te ruim. 
· Soms is dit goed wat ons op onsself laai - 'n verkeerde verhouding, bedrog, verslawing, ens. 
· Kyk na die rekord - het ek my nie dalk in die verlede onnodig oor dieselfde snert bekommer nie? 
· Moenie saagsels saag nie - los dinge agter jou. 
· Tel jou seëninge, nie jou probleme nie. 
· Verander 'n "-" in 'n "+". Sien dinge as 'n uitdaging. 
· Sien ander se nood raak en raak daarby betrokke - die Ooste/Weste-situasie. 
· Kry al die feite bymekaar wat jy kan, begin om jou deel te doen - moenie toelaat dat dit buite beheer groei nie. 
· Verander wat jy kan en aanvaar wat jy nie kan nie. 
· NB: Gee die saak vir die Here - praat met Hom daaroor - praat ook met ander. Moenie bid oor dinge wat jyself moet doen nie!

Jesus kom nooi jou uit om alles op Sy skouers te kom neersit.

'n Praktiese manier om dit te oorwin:-

1. Wat is die probleem? Bedink al die feite oor die saak voorhande.

2. Wat is die oorsaak van die probleem? Verwoord al die detail wat jy het. 

3. Wat kan ek nou daaraan doen? Miskien kan ek nie nou alles oplos nie, maar die proses aan die gang sit. 

4. Wanneer gaan jy daarmee begin? Maak vandag 'n "commitment" om aandag te gee.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)