Lewe volgens die
Woord van God.
Ek dink ons is in
‘n tyd waar daar groot dinge op Geestelike vlak gebeur. Ons is verseker
midde-in ‘n herlewing, baie mense draai na die Here toe, nuwe geestelike
groeperinge spring op en mense het die vrymoedigheid om gemaklik van
denominasie te verwissel. Ons het regtig ‘n wye keuse van groepe waar
ons gemaklik kan aanbid. Dis goed … so dink ek. Dit bring egter soms
uitdagings op ons pad. Dis opvallend hoe groepe op sekere dinge klem lê,
en dan sterk lering daaroor verkondig. Die probleem is dat mense voel die
konvensionele is nie meer goed genoeg, of “reg” nie. Ek dink ons moet
vir onsself afvra of ons oortuiginge steeds binne die basiese van die
Bybel bly. Die vraag is: “waarop het Jesus klem gelê?” Watter
“dogma” het Hy oorbeklemtoon? Het Hy iets kontroversieël op die tafel
gesit wat al die ander sieninge maar vaal laat lyk het? Kom ons sê Hy sou
nou skielik tussen ons kom woon, hoe sou Sy teologie gelyk het? Anders as
2000 jaar gelede? Ek glo nie. Ek glo Hy sou steeds maar net die basiese
waarhede verkondig het. Ongekompliseerd. Eenvoudig .. straight forward.
Ai, party mense kan mens darem deesdae verwar met hulle vreemde
sieninge, of hoe? Hulle sê graag: “as jy nie sus of so glo nie, of só
en so doen nie, of van dit of dat oortuig is nie, sal jy die Koninkryk van
God nooit sien nie”
‘n Pragtige
deel in die Bybel waar Jesus die mense leer oor die basiese beginsels van
die Christelike lewe is die Bergrede in Matt
5 tot 7.
Matt 5:1-2
Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy
gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en
Hy het hulle geleer
Matt 7:28-29
Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want
Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes
nie.
Jesus se lering
was eenvoudig. Wat het Hy gesê? Kom ons neem saam so ‘n voëlvlug oor
die hele bergrede en sien wat Hy vir die skare geleer het – en vandag
vir ons ook wil leer oor hoe ons moet lewe.
Hy begin in Matt
5 en praat van die geseëndes – hulle is dié wat weet hoe afhanklik
hulle van God is; die wat treur, die wat sagmoedig, barmhartig en rein van
hart is; die vredemakers, ens. Dit wat soms vir ons na moeilike dinge lyk,
dit is juis dié dinge wat Jesus uitwys as dié dinge wat ons eintlik geseënd
maak.
Dan sê Hy vir
ons: “Wees sout vir die aarde, gee smaak, wees iets werd” en “Jy is
‘n lig, gaan skyn tussen mense in”. Wat beteken dit alles? Wel,
eenvoudig dat ons dáár tussen die wêreldlinge moet wees en vir hulle
‘n verskil maak … ons moet smaak gee en ons moet lig wees.
Jesus praat
verder oor die wet. Die wet het nie weggeval nie, want die wet is goed.
Die wet red jou nie, die wet leer jou reg en verkeerd.
Hierna praat Hy
oor versoening. Dis eenvoudig – gaan maak reg waar daar slegte
verhoudings is, dis so onnodig. Gaan maak vrede, moenie kwaad bly vir
mense nie – dis in elk geval nie lekker nie.
Jesus praat
reguit oor kuisheid. Moenie jou ogies laat dwaal
en jou laat struikel nie. En ja, moenie skei nie. Daar is niks
goeds wat daaruit kan kom nie; jou kinders gaan in elke geval baie swaar
kry. Probeer liewer alles in jou vermoë om die huwelik te red.
Verder sê Jesus
dat ons bekend moet wees vir ons integriteit. Moenie dat dit nodig is om
‘n eed af te lê nie. Laat jou ja ja wees, en jou nee nee - so eenvoudig
soos dit. En dan verder … ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n
tand? NEE. Jesus sê draai liewer jou ander wang. Probeer ook om uit die
hof uit te bly; dit bring net moeilikheid. Probeer om dinge buite die hof
uit te sorteer.
Wees sommer lief
vir jou vyand, dan kan jy op die koop toe bietjie ekstra loon verwag. Help
so nou en dan bietjie iemand wat arm is en sukkel, maar moenie daaroor
loop en spog nie. Gee sommer partykeer vir iemand ‘n glas water wat
daarvoor vra. Dan, bid gereeld, maar bid eenvoudig – ook nie ‘n
“shopping list” nie; die Here weet mos reeds wat jy nodig het.
Vra vergifnis, gee vergifnis, praat gereeld met Hom. Vas
so nou en dan, maar nie met ‘n lang gesig nie. Doen dit sommer sonder om
vir enige iemand daarvan te vertel.
Oppas om skatte bymekaar te maak, want waar jou skat is, daar sal jou hart
ook wees …. Netnou netnou is jy liewer vir Mammon as vir die Here.
Wat van
bekommernis? Nee wat, sê Jesus, dis onnodig. Hy sorg dan selfs vir die
wilde voëls; Hy SAL mos vir ons sorg. Bekommernis kan nie maak dat jy een
uur langer sal bly lewe nie, inteendeel, die stress kan jou siek maak!
Moet ook nie
ander veroordeel nie – so leer Jesus ons verder. Kyk maar eers of daar
nie dalk ‘n balk in jou eie oog is nie. Veroordeel en oordeel is nie
deel van ons mandaat nie – laat die oordeel aan God oor.
Het jy dalk iets
nodig? Wel, vra vir die Here. Hy sal vir jou gee wat jy nodig het – so
leer Jesus ons.
Loop op die smal
pad, dit lei na die hemel toe. Nie baie mense loop op daardie pad nie, en
min gaan dit maak – maar maak seker jy loop daar. Oppas ook vir vals
profete, hulle sit vreeslike laste op mense. Doen so, glo so, anders gaan
jy nie hemel toe nie. Nee, moenie vir hulle luister nie. Jesus sê nie
almal wat oor Hom praat, of selfs allerhande wonders in Sy Naam doen is
gered nie … van hulle sal eendag moet hoor: “Ek het jou nooit geken
nie”
Matt
7:24-29
"Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan
vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die
stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis
gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die
fondament was op rots. En
elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan
vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën
het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en
daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes."
Toe Jesus
klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want
Hy het hulle geleer soos 'n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes
nie.
En
nou wil ek amper sê: “I rest my case”. Die dinge waaroor Jesus preek,
is die eenvoudige dinge, dis reguit en maklik om te verstaan. Geen dogma.
Geen hoë teologie nie…. Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag.
|