 |
Glo jy die verhaal
van Noag? En sy ark? Glo jy dat dit regtig gebeur het? Dat hy regtig
in staat was om so 'n reuse skip te bou? Noag was 'n besondere man.
Regtig baie besonders. Hy was net 'n gewone man, soos ek en jy. Een
wat 'n Goddelike opdrag gekry het, verby die onmoontlike gekyk het,
die Here vertrou het, en die opdrag uitgevoer het. Baie gewoon, maar
ook sondig, soos ek en jy, want na sy regatta met sy groot skip,
plant hy 'n wingerd, maak wyn en drink hom dronk, en gaan lê nakend
in sy tent. Gewone man, soos ek en jy. |
Gen 6:9-22
9 Hier volg die verhaal van Noag. Noag was 'n regverdige man. Onder sy
tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.
10 Noag het drie seuns gehad: Sem, Gam en Jafet.
11 Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld;
12 Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was
verrot.
13 Toe sê God vir Noag: "Ek het besluit om 'n einde te maak aan alle
mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan hulle saam
met die aarde verdelg.
14 "Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet vertrekke in die ark
maak en dit binne en buite met pik dig maak.
15 Jy moet dit soos volg maak: die lengte van die ark moet honderd vyf en
dertig meter wees, sy breedte twee en twintig en 'n half meter en sy
hoogte dertien en 'n half meter.
16 Jy moet 'n dak vir die ark maak en sy nok moet jy vyf en veertig
sentimeter hoog maak. Verder moet jy 'n deur aan die kant van die ark
insit en 'n onderste, middelste en boonste verdieping maak.
17 "Ek gaan 'n oorstroming oor die aarde laat kom om al wat daarop
lewe, te verdelg, elke lewende ding onder die hemel. Alles wat op die
aarde is, sal omkom,
18 maar met jou wil Ek 'n verbond sluit. Jy moet in die ark ingaan, jy en
jou seuns en jou vrou en jou skoondogters.
19 Van al wat leef, van al die diere, moet jy twee van elk, manlik en
vroulik, in die ark laat ingaan om saam met jou aan die lewe te bly.
20 Van elke soort voël en dier, ook van dié wat kruip, van almal sal
daar twee na jou toe kom om aan die lewe te bly.
21 Jy moet vir jou kos saamvat, van alles wat geëet kan word, en dit by
jou wegpak. Dit sal jou en die diere se kos wees."
22 Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het.
Noag bou sy ark. Ek weet nie of
Noag dalk 'n bootbouer van beroep was nie...? Hy was beslis nie vandag se
kind nie - 600 jaar oud toe die groot vloed gekom het. Dalk het party ouens
so verby sy werf geloop en hom gespot oor sy boot. Ek wonder nogal of Noag
nie self ook so bietjie skepties was oor hierdie hele storie nie. Hoe op
aarde sal 'n klomp diere sommer vanself aangestap kom vir 'n boot-trippie?
Jy sien, Noag was 'n gelowige, en regverdige man, onberispelik en hy het
naby aan God geleef. Daarom het hy sy projek aangepak.
My vraag vandag aan jou (en aan my)
is, wat is die ark wat ek en jy moet bou? Wat is daardie besondere,
Goddelike opdrag wat dalk só sinneloos lyk, wat ons moet aanpak, deur
nét in geloof na God te kyk? God se opdragte lyk soms groot, miskien
onsinnig, uit verhouding, nie vir my nie, mens kan dalk selfs sê
belaglik. Maar dalk sê die Here vandag vir jou: Gaan bou 'n ark! In
geloof.
Dink jy hierdie verhaal is bietjie
absurd? Kom ons kyk na Anchus Buchan se ark: Die Here het vir hom gesê:
"Ek soek duisende manne bymekaar. Gaan huur die grootste tent in die
wêreld, en laat manne op jou plaas kom bly. En, o ja, gee vir hulle kos.
En nog iets, moenie geld vra nie. Moenie bekommerd wees dat jy nie een
sent begroting het nie." Weet jy wat sou ek doen? Ek sou vir my
vroulief sê: "Bring die Eno's, my kop raas"! Toe Anchus in
geloof sy ark bou, was die grootste tent in die wêreld te klein! … ek
kan nogal Noag se verhaal glo, weet jy?
Noag het in geloof opgetree.
Miskien was die ark op daardie stadium die grootste skip in die wêreld -
maar dis nie waarna die Here gesoek het nie. Het Hy nie dalk gesoek na die
man met die grootste geloof in die wêreld nie?
As die Here vir jou 'n opdrag gee
en sê: "Gaan bou 'n ark", weet Hy verseker wat Hy doen. Ek dink
daar is miljoene verhale oor die wêreld van ouens wat gedink het sy ark
is bietjie van 'n "over kill", maar dan was dit presies wat God
wou hê.
Hoe lyk die ark wat JY moet bou?
Noag het geglo. Punt. Hy moes bou
sonder dat daar sprake was van reën of vloede. Dalk het die weerburo
gesê hy lees die patrone bietjie verkeerd. Jy sien, Noag het nie die
toekoms probeer sien nie, want hy het geweet dat God die toekoms sien. Ek
wonder nogal of hy eers sogenaamde profete gaan raadpleeg het, saam met
iemand met spesiale gawes om 'n tafel gaan sit het en gevra het:
"Hoor hier, wat sê die Here vir jou - wat moet ek
doen?" Nee, Noag het sélf by die Here gehoor. Noag het dalk self
getwyfel, maar die voordeel van die twyfel vir die Here gegee. Hy het ook
nie eers net 'n "dingy" gebou, en gesê hy gaan eers die water
toets nie. Jy weet mos ons maak soms so: pak ons ark so bietjie op klein
skaal aan, ons sit nie alles in nie. As Noag dit gedoen het, sou hy van
waterloop by Petrus moes gaan leer het. Noag het waarskynlik ook nie eers
'n paar e-posse en sms'e aangestuur nie - jy weet mos: "Stuur vir 10
mense, moenie hierdie ketting breek nie, want dan versuip ek". As die
Here 'n opdrag gee, en ons hoor sy stem duidelik, is dit tyd vir pik,
planke en maste. Al is daar nie 'n wolkie so groot soos 'n man se hand
nie. My vriend, Buks Moolman, het eendag vir my gesê: "As ek die
Here se stem hoor, doen ek onmiddellik. Voor ek tyd kry om te dink".
Bou jou ark - begin vandag!
Wat is jou ark? Jy weet mos,
daardie opdrag wat telkens weer opduik. Dalk is jou ark groot, dalk is dit
'n klein dingetjie, maar die Here wil ark-grootte dinge daardeur bereik.
Miskien lyk dit vir jou of jou ark net oor jou gaan, maar Hy weet hoe die
storm gaan lyk.
Miskien moet jy in jou ark klim, en
gaan vrede maak met jou familielid wat besig is om onder te gaan. Nie
wanneer nie - vandag nog! Jy weet nie wat gaan gebeur as die waters eers
gekom het nie. Dit sal te laat wees as die vloed verby is. Trane van spyt
by 'n graf is só onnodig. Dalk is jou ark 'n gesprek met iemand wat jou
laaankal pla. Jip, 'n geestelike gesprek. Dalk is jou ark iets wat geld
kos. Weet nie of die wielebank, of te wel die seiljag-bank vir Noag
finansiering gegee het nie. Ons weet wel dat Noag nie geskrik het vir die
onmoontlike nie. Noag het roekeloos vertrou. En die uiteinde? Wel, was dit
nie vir Noag se geloof nie, was die aarde weer soos daar in Genesis 1 -
woes en leeg.
Bou jou ark. As jy vir God
"ja" sê, gee Hy selfs die mates, elke stukkie detail, die
planne en middele. Alles. Hy vra net 'n ark-bouer. Wat sê jy? Soek jy al
jou hout?
|