Kinders is dikwels in die
nuus, en gewoonlik onder negatiewe omstandighede. Die traumatiese gebeure by 'n skool waar 'n leerling iemand wreed vermoor het, sonder
dat hy iets teen die kind gehad het, het almal geskok. Die Waterkloof-4 is
destyds gevonnis … jong manne, eintlik nog kinders. Die ma van
'n bekende sanger pleit eenmaal in die koerant dat mense nie haar seun
moet verstoot en veroordeel nie … dit, nadat hy te dronk was om 'n
vertoning te doen. Hy is ook kort daarna in hegtenis geneem vir
dronkbestuur. Ons wonder dikwels wat die rede is vir hierdie tipe gedrag. Ons almal soek
naarstigtelik vir antwoorde, en probeer verklaar en verduidelik …. Nou
ja, ek het verseker ook nie die antwoord nie!! Maar ek dink tog dat
kinders geweldig baie spanning by hulle ouers erf, en iewers het dit 'n
negatiewe impak. Daarom wil ek vandag vra: wat kan ons doen om stress by
ons kinders te verminder? Of dalk uit 'n ander hoek: wat doen ons as ouers
om by te dra tot die feit dat ons kinders in hierdie mislike ding genaamd
stress verval? Wat is ons bydrae? Hoeveel van hierdie goed wat kinders
aanvang kon dalk voorkom gewees het? Ek sê verseker nie alles is die
ouers se skuld nie, maar kan ons as ouers dalk iets hiermee te doen hê?
Dis nou maar eenmaal so dat ons ons
eie probleme op ons kinders projekteer. En dan natuurlik, is daar ouers
wat eenvoudig roekeloos is in hulle optrede. Bid jou dit aan: 'n pa reël
3 ontkleedansers vir sy seun se 16de verjaardagpartytjie! Wat verwag hy?
Waar gaan sy kind land? Het die anders kinders wat daar was se ouers
geweet hoe dit daar lyk en wat sou gebeur?
Dan is daar natuurlik ook die
sogenaamde "ratrace". Ons hardloop self soos afkophoenders rond,
en verwag dat die kinders 'n stil en besadigde lewe lei. Wel, net soveel
as wat dié rondhardlopery stress by ons veroorsaak, sal dit stress by ons
kinders veroorsaak. En nog meer … want hulle ly onder óns stress, EN
hulle eie stress. Onthou jy die ou dae toe ons nog bus gery het? Jy was
gewoond daaraan om te wag. Wag vir die bus, wag vir iemand om jou te kom
haal .. wag, wag, wag …. Tyd was in 'n ander lig gesien as vandag. Dit
was niks om iewers vir 'n uur te wag nie. Vandag is ons lewens egter in
sulke klein tydsinkremente ingedeel, dat jy woedend raak as jou rekenaar
'n dokument stadig oopmaak … Tyd word al tot op die sekonde beheer. Met
baie stress wat daardeur veroorsaak word. En ons leer dit vir ons kinders
ook. Ons laai hulle 5 oor op by die een plek en 20 oor af by die volgende
plek vir die volgende aktiwiteit. Kinders bly nie by nie. Selfs etenstyd
word in so 'n klein tydgleuf ingedruk dat jy nie eens jou kos kan fyn kou
nie. Kinders word onder soveel druk geplaas dat daar geen tyd is om die
lewe te geniet en lekker dinge te doen nie. Miskien klink dit vir jou
absurd, maar ons leer ons kinders dat hulle lekker goed móét doen.
Prestasie kom in ons huis nie eerste nie. Om die lekker van die lewe te
ervaar, kom eerste.
Wat laat ons alles in ons huise en
lewens toe? Iemand sê anderdag 'n skokkende, waar ding: dis ongelooflik
hoe die mens genot vind in geweld. Klink dit vreemd? Weet jy dat by verre
die meeste rekenaarspeletjies nét oor geweld gaan? Sommer klein-klein
laat ons ons kinders toe om aan hierdie geweld deel te neem (en genot te
vind daarin). Onthou jy "Pacman"? Dit vreet ander karakters op!
Hoe vinniger en hoe meer hy vreet, hoe beter is hy! In boks, wat ons 'n
sport noem, slaan die ouens mekaar pap, en dis aanvaarbaar…. Hoe harder
jy slaan, hoe beter. Is jy ook verstom om te besef hoeveel plesier mense
kry uit geweld? Meneer, maak jou rekenaar skoon. Verwyder daardie
speletjies …. Jy maak jou kind groot met die idee dat geweld pret is.
Maleagi 3:15-16
15 Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En
waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees, wat Hom eer.
Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af
getroud is nie.
16 Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks
anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie
ontrou wees nie.
Stem jy saam dat egskeiding geweld
is? Stem jy saam dat egskeiding totaal aanvaarbaar is in ons samelewing?
…. Dit bring stress vir ons kinders.
Dan is daar nog vele ander dinge
wat ons toelaat, wat ons vir ons kinders koop, dinge wat ons self beoefen
…. Dan wonder ons hoekom ons kinders se deksels afspring. Gaan dink
bietjie: hoeveel van hierdie stress-oplaaiers is in jou lewe en in jou
huis teenwoordig?
Breek die spanning vir jou kinders.
Ek het 'n waardevolle dokument op die internet raakgeloop met praktiese
punte, geskryf deur ene Tienie Holtzhausen. Ek haal so 'n paar punte vir
jou aan:
1) Werk daaraan om 'n bron van vreugde, eerder as 'n ongenaakbare klakous
te wees.
2) Om altyd perfekte en foutlose gedrag van jou kinders te verwag kweek
maklik 'n gespanne en liefdelose atmosfeer.
3) 'n Fanatiese strewe om jou huishouding soos 'n geoliede masjien te laat
werk, skep spanning. Het jy geweet dat dit 100% normaal is dat 'n
regterbrein dominante kind se kamer altyd deurmekaar sal wees? Dit skep
vir hom 'n "normale" atmosfeer.
4) Jou kind is net 'n mens. Laat hom toe om uiting aan sy emosies te gee.
5) Laat jou kind toe om verantwoordelik dinge te ondersoek, om foute te
maak in die leerproses; leer hom dat probeer nodig is vir sukses.
6) Laat jou kind toe om iemand anders as jy te word.
7) Vergewe hulle, soos jy van Jesus verwag om jou te vergewe.
8) Skep 'n huislike atmosfeer, en nie 'n oorlogsveld nie. Niks is meer
spannend as 'n huis waar 'n kind nie WIL wees nie, en waarheen hy nie sy
vriende kan bring nie.
9) Lag baie, skep elemente van pret, doen dinge saam.
10) Laat jou kind weet dat jy altyd, maar altyd daar is vir hom.
11) Jy mag "nee" sê vir jou kind - dit skep grense, en gee
sekuriteit.
12) Sê elke dag vir jou kind dat jy hom liefhet. Niks, maar niks, neem
spanning en stress meer effektief van jou kind af weg nie.
Breek die stress, skep 'n gelukkige
kind.
|