BROOD

 

Is jy ook lief vir brood? Vars gebakte brood met lekker botter. Een met so lekker krakerige korsie. Goed uitgerys, nog so effens warm, pas uit die oond. Saam met koffie. Sjoe, sal dit nie nou lekker wees nie? Brood, stapelvoedsel, word deur bykans elke mens op aarde geëet, goedkoop kos, voedsame kos. Lekker. Dit word al vir eeue en eeue deur die mens gebak en geniet. Volgens die Bybel konkordansie kom die woord meer as 220 keer in die Bybel voor.

Ons lees in Gen 18 : 5 "U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood vir U gaan haal dat U weer nuwe krag kan kry". Dis Abraham wat drie besoekers gekry het. Toe sê hy vir Sara om 16kg meel se brood te bak. Klink my hulle was éérs lief vir brood. Hy het 'n jong kalf geslag en dit saam met brood en botter vir sy gaste voorgesit om te eet. In Eks 12 lees ons van die instelling van die Paasfees en daar word baie duidelike voorskrifte gegee dat net ongesuurde brood geëet mag word. Dit is pas voordat die volk uit Egipte begin trek het. Dit lyk of brood dus nie net van die begin dae stapelvoedsel was nie, maar dit het ook 'n baie sterk simboliese waarde gehad. In Eks 25 lees ons van die tabernakel wat ingerig word en dan hoe die tafel van doringhout gemaak moet word vir die offerbrode. Brood kom 'n lang pad in die geskiedenis, en word vandag nog net so geniet. 

Die vermeerdering van brode was een van die baie indrukwekkende wonderwerke wat Jesus gedoen het.
Joh 6 : 26 - 35
26 Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.
27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen."
28 Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?"
29 En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het."
30 Hulle sê toe vir Hom: "Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?
31 Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.
32 Jesus het hulle geantwoord: "Dít verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee.
33 Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee."
34 Hulle sê toe vir Hom: "Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood."
35 Maar Jesus sê vir hulle: "Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Jesus sê dat Hy die brood is.
Joh 6 : 47 - 59
47 "Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.
48 Ek is die brood wat lewe gee.
49 Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.
50 Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.
51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe."
52 Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: "Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?"
53 Maar Jesus sê vir hulle: "Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.
54 Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.
55 My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.
56 Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.
57 Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.
58 Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe."
59 Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Hier sien ons die absolute uitvloeisel van die simboliek van brood. "Ek is die brood wat lewe gee". "As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe". Jesus vergelyk brood met Sy lewe. Wie Hom inneem soos brood ingeneem word, sal nooit sterf nie. Jesus sê vir hulle "Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet, en nie sterwe nie." Jesus is die brood van die lewe. As ek en jy vandag ons toebroodjie eet, sal dit ons inderdaad aan die lewe hou, maar nie vir ewig nie. As ons Jesus se liggaam eet, sal ons nooit sterwe nie.

Jesus, die brood wat lewe gee. Ek wil dit so bietjie verder vat na waar Jesus die nagmaal instel.

Matt 26 : 26 - 30
26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: "Neem, eet; dit is my liggaam."
27 Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: "Drink almal daaruit,
28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.
29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink."
30 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

Weereens verwys Jesus na die brood as Sy liggaam en na die wyn as Sy bloed. Ek het baie gewonder - toe Jesus die nagmaal ingestel het, of die brood en wyn spesiaal saamgebring is vir die doel van die nagmaal, en of dit die kos op die tafel was?

Ek lees die volgende kommentaar in die Bybel in Praktyk: "Tydens hierdie laaste Paasfees volgens die Ou Testament, het Jesus een van die sakramente van die Nuwe Testament ingestel. Elke naam wat daarvoor gebruik word, dui op 'n ander aspek van die gebeurtenis. Dit word nagmaal genoem omdat Jesus en sy dissipels dit met die aandmaaltyd verbind het; dit is 'n gemeenskapsmaal omdat ons daardeur gemeenskap het met God en ander gelowiges; dit is 'n gedenk maal omdat ons aan Jesus se lyding en dood vir die gelowiges dink as ons die brood eet en die wyn drink; dit is 'n danksegging omdat ons God daardeur dank vir die werk wat Christus vir ons gedoen het en vir die wonderlike genade wat Hy aan ons bewys het". Mooi nè?

Jesus, die brood wat lewe gee. As jy soos ek is, eet jy omtrent elke dag brood. Ek het vroeër gesê ek weet nie of dit net die gewone kos op die tafel was nie. Ek het 'n klomp mense hieroor gevra en tog tot die slotsom gekom dat dit die gewone maaltyd van die dag was. En Jesus kom gebruik aan tafel die brood en die wyn as simboliek van Sy liggaam.

Brood is volop in omtrent elke huis. Wat van 'n informele "Nagmaal", sommer so saam met jouself, of jou gesin, volgende keer as julle brood eet. In 1 Kor 11 : 26 staan, "Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom."

Elke keer!! As jy nou weer 'n stukkie brood eet, en dit breek, sê vir die Here dankie dat Sy liggaam aan die kruis gebreek is vir jou. En as 'n teken van jou verbintenis met Christus, eet die brood met die simboliek dat jy Sy liggaam eet. En as jy iets daarmee saam drink, dank die Here daarvoor dat Hy jou skoongewas het deur Sy bloed. En weet dat as jy Sy liggaam geëet het, sal jy nooit sterf nie.

Hoe wonderlik is dit, dat ons onsself elke dag etenstyd kan herinner wat Jesus gedoen het toe Hy gesterf het aan die kruis. Jesus se liggaam is vir ons gebreek en Sy bloed het vir ons gevloei. Kom ons herdenk dit die eerste keer as ons weer eet.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)