Terwyl
ons nou aan die begin van 'n nuwe jaar staan, is dit miskien 'n goeie tyd vir 'n bietjie voorraadopname. Bietjie terugdink, herkou, uitsif, regpak, wegpak, weggooi, nuwe
besluite neem. Wat bly agter in die ou jaar en wat gaan saam vorentoe die
nuwe jaar in? Waaroor is jy
spyt? Wat sou jy anders wou hê? Het jy in die afgelope jaar die beste gebruik gemaak
van dit wat jy tot jou beskikking gehad het, die beste gebruik gemaak van
elke geleentheid? En dan, het jy die laaste 365 dae tydsgewys goed
benut, en was daar balans in jou tydbesteding?
Pred 3:1-8
1 Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:
2 daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te
plant, 'n tyd om plante uit te trek,
3 'n tyd om 'n lewe te neem, 'n tyd om 'n lewe te red, 'n tyd om af te
breek, 'n tyd om te bou,
4 'n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van
blydskap te dans,
5 'n tyd om klippe weg te gooi, 'n tyd om hulle bymekaar te maak, 'n tyd
om te omhels, 'n tyd om weg te bly van omhelsing af,
6 'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak, 'n tyd om te spaar, 'n
tyd om weg te gooi,
7 'n tyd om te skeur, 'n tyd om toe te werk, 'n tyd om stil te bly, 'n tyd
om te praat,
8 'n tyd om lief te hê, 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog, 'n tyd vir
vrede.
Pragtige siklusse waarvan ons hier
lees. Dit lyk of Prediker die heeltyd besig is om 'n muntstuk heen en weer
te draai … soms moet dié kant bo lê en dan weer die ander kant.
Balans. Of dit, of dat. Hoe het jou tyd-skaal gebalanseer die afgelope jaar?
Was daar tyd vir alles wat regtig nodig en belangrik was? Het jy tyd
spandeer aan al die fasette van jou lewe? As mens regtig die antwoord
hierop wil hê, help dit nogal partymaal om jou kinders en jou vrou te
vra!
Wat is tyd? Eintlik bestaan daar
nie so iets nie, weet jy? Ons kosmiese horlosie waarmee ons werk, is die
feit dat die aarde om sy eie as draai ten opsigte van die son, en dit gee
vir ons 24 ure, wat ons weer in al hoe kleiner inkremente opdeel. Hoe meer
ons dit opdeel, hoe minder voel dit of ons tyd het. Hoe voel dit vir jou
as die ou voor jou by die verkeerslig net vir 'n sekonde te lank huiwer
nadat die lig reeds groen is …. Ongeduldig? Omgekrap? Warm? Of as die
rekenaar net nie vinnig genoeg reageer nie? Of die persoon net nie vinnig
genoeg sy foon antwoord wanneer jy hom bel nie. Ons is net té haastig!
Weet jy, dertig jaar gelede was dit vir my niks om 'n halfuur te staan en
wag vir die bus nie. Ek kon wag; nou is dit egter 'n ander saak. Prediker
sê daar IS 'n tyd vir alles … maar ons HET nie tyd vir alles nie. Jy
ken mos ook mense wat altyd b-e-e-e-sig is. As jy vir hulle vra hoe dit
met hulle gaan, antwoord hulle altyd: "Besig!"
As ek in Prediker lees oor die tyd,
dan sien ek iets anders as horlosie-tyd, ek sien prioriteit-tyd. Die vraag
is dus nie: "Hoeveel tyd het jy nie?", die vraag is: "Hoe
lyk jou prioriteite?" Waarmee "clutter" ons ons daaglikse
lewe?
Was die afgelope jaar dalk weereens vir jou soos een
groot rotresies? Daardie een wat niemand kan wen nie. Almal hardloop, maar
weet nie waarheen nie - daar is nie 'n wenstreep nie, daar is nie 'n
eindpunt nie.
Kom ons kyk na die positiewe dinge
waarvoor daar tyd moet wees:
· Vers 2: 'n Tyd om te plant. Dit impliseer dat daar tyd moet wees vir
skeppende dinge, dinge wat lewe voortbring. Dinge wat positief is, wat
langwerkend is en wat kreatief is.
· Vers 3: 'n Tyd om 'n lewe te red. Jy sien, tyd saam met jou kinders kan
dalk nét 'n lewe red. Tienerselfmoord het oorweldigend te doen met gebrek
aan tyd tussen ouers en kinders.
· Vers 3 : 'n Tyd om te bou. 'n Tyd om verhoudinge te bou, om iemand se
selfbeeld op te bou, om iemand se karakter te bou. Hierdie bouwerk vra
tyd.
· Vers 4: 'n Tyd om te lag. Lag jy nog? Of is jy al só negatief dat jy
dink daar is niks om voor te lag nie? As jy só dink, lag sommer gou
bietjie vir jouself - doen iets laf … maak die baas skrik as hy met sy
vol koffie koppie sit, of knoop iemand se skoenveters aanmekaar vas!
· Vers 5: 'n Tyd om te omhels. En is dit nie vreeslik terapeuties nie -
'n drukkie op die regte tyd. Ja, man, omhels daardie tienerseun van jou,
al staan hy so styf soos 'n snoekerstok. Ek wed jou sy tone krul om van
lekker, al maak hy of hy dit haat. Moenie jou kind op sy kop
"pat" as jy by die huis kom nie, nee, soengroet en omhels hom.
Mens groet jou brak met 'n "pat" op die kop. Party mense omhels
vir Woefie meer as hulle kinders; hulle praat ook meer met Woefie, hou hom
meer op die skoot en voer hom meer swiets as vir hulle kinders.
· Vers 8: 'n Tyd om lief te hê. Liefde vra tyd. Al gehoor van
kwaliteit-tyd? Dis wanneer mense dink 'n gekonsentreerde 5 minute se
aandag en liefde is genoeg. Dit is nie! Dis soos om die perfekte stukkie
fillet vir ete te kry, maar dit is net so groot soos 'n uitveër! Nee, ons
kan beter doen as dit - neem tyd om liefde te bewys.
· Vers 8: 'n Tyd vir vrede. Hoe lyk dit by jou? Oorlog en onvrede in die
huis, by die werk? Is dit lekker? Laat dit jou met 'n tevrede gevoel?
Slaap jy lekker na 'n baklei-sessie? Nee man, dis mos nou 'n resep vir 'n
aaklige, vrot, goor, mismoedige, ontaarde lewe. Spandeer bietjie tyd om
vrede te bewerk.
Daar is 'n tyd vir alles. Miskien
is dit nou die tyd om bietjie jou lewe reg te pak. My ma het dit altyd
"spring cleaning" genoem. Pak uit die lewenskaste, gooi al die
goor elemente uit (nee, nie jou skoonma nie! - kry liewer die verhouding
reg). Jou probleme kon nie nét ander mense se skuld gewees het nie.
Dit kon ook nie nét slegte omstandighede gewees het nie. En ook nie nét
die regering, en die ekonomie, en die misdaad nie. As ons voorraad opneem,
kom ons herken en erken ons eie aandeel, en werk aan 'n skitterende
toekoms.
Pred 3:9-13
9 Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?
10 Ek het gesien dat God aan die mens 'n taak gegee het om hom mee besig
te hou.
11 God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het
ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens
die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.
12 Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is nie as om
vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.
13 Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan
geniet, ook dit is 'n gawe van God.
Wat kies jy?
|