.... DAN GOOI EK MY BYBEL WEG


Wat is waarheid? Miskien is dit vir jou ’n vreemde vraag. Kan een “feit” meer as een waarheid hê? Is dit moontlik dat ek iets kan glo, en jy glo die teenoorgestelde en tog is dit wat ons glo vir elkeen van ons die waarheid? Jy sien, ek wil hierdie vraag toepas op die Bybel en vra: is dit moontlik dat twee van ons dieselfde Bybel lees en dinge op verskillende maniere interpreteer waarop ons elkeen ’n siening formuleer wat ons as die waarheid voorhou, maar dié twee sieninge is lynreg teenoor mekaar? Hierdie is iets wat mens deesdae al hoe meer sien gebeur. Jy kry ’n paar groeperinge van mense:

1)
      Mense wat die Woord van God woord vir woord neem en dit aanvaar vir wat dit sê.
2)
      Mense wat niks meer glo nie en die Bybel net totaal verwerp.
3)
      Mense wat sê , as jý dit glo is dit goed, maar vir my is dit net ’n goeie boek.
4)
      Mense wat sê: ek glo nie meer soos ’n kind nie, maar ek neem dinge wat my pas, draai dit soos wat dit my pas en maak dinge vir myself waar, leef daarvolgens en basta met diegene wat voel ek is van die spoor af; dis tog in elk geval net deur mense uitgedink.

Daar is seker nog groeperinge, maar ek volstaan nou met dié vier.

Ek het myself die afgelope paar dae hieroor ondersoek en ek moes weer vir myself vra: wat is waarheid vir mý? In watter een van hierdie groepe is ek tuis? Is daar vir my absolute waarhede in die Bybel, of maak ek dalk ook my eie waarheid daarvan?

2 Tim 3:14-2 Tim 4:4
Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.

Jy sien, die Bybel praat van een absolute waarheid, nl. dat die hele Skrif deur God geïnspireer is. Een waarheid, ’n absolute waarheid. Hierdie bg. teks waarsku ernstig teen Opinie 3:5. Mense sal vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat vir hulle sal vertel presies net wat hulle wil hoor, m.a.w. nié die waarheid nie. Daarom wil ek nou onomwonde sê dat ek myself nét kan tuis vind in die eerste groepering. Die Woord van God sê presies wat dit sê en ek aanvaar dit woord vir woord as die waarheid en sê ek vandag as ek dít nie kan aanvaar nie, kan ek maar net sowel my Bybel weggooi.

Ek sien deesdae dat mense so oor die Bybel begin filosofeer dat daar “nuwe” Bybelse waarhede vir hulle begin geld. Skielik raak die Bybel weer vir hulle interessant, daar word nuwe sogenaamde “ontdekkings” gemaak, dit word flink bespreek, boeke geskryf, preke gepreek en gespreksgroepe word op die been gebring. By hierdie groepe kan jy jou sê vrylik sê en jou mening word gerespekteer, want dit is waarheid vir jóú. Maar weet jy wat? Die enigste ding wat by die meeste van hierdie groepe gebeur, is dat God uit die Bybel gehaal word; so ook waarhede soos die maagdelike geboorte van Jesus, die opstanding, hemelvaart en wederkoms. Die hart van Opinie 3:5 is dat wat vir mý waarheid is, is goed genoeg vir my. Dit blaas sommer nuwe “geloof” in ongelowigheid en jy kan sommer preek uit die Bybel sonder om die inhoud te glo. Mag die Here sy woord van my af wegvat as ek op dié punt sou kom.

Wie is God vir jóú? ’n Persoon, ’n werklikheid, ’n lewende wese wat Oppermagtig is? Dalk net ’n goeie idee, ’n konsep, ’n gedagte of ’n ervaring? Daar is mense wat glo dat God vir hulle iets is wat deel van die natuur mag wees, dalk deel van hulleself; dalk net iets wat die naam “god” kan dra. Aggressiewe ateïsme is aan die orde van die dag, dit word algemeen, ’n “mode”.  Wie is God vir jóú?

Eks 3:11-14
Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.” Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

Dís wie God is! As ek nie kan glo dat dit ’n Persoon, ’n Wese is met wie ek ’n verhouding kan hê nie, het my Bybel ’n nuttelose storieboek geword wat geen konkrete waarheid bevat nie. In daardie geval kan ek dan maar net sowel my Bybel in die asblik gooi!

En die Heilige Gees? Dalk ook niks anders as ’n ervaring nie? ’n Goeie idee? ’n Persoonlose “trooster” wie se troos ek kan aan- en afskakel soos dit my pas? Ek hoor van ’n bekende persoon wat die naam van die Heilige Gees verdraai in iets wat ek nooit sou kon sê nie en skielik maak die sinsnede “die sonde teen die Heilige Gees” vir my sin. Vir my is die Heilige Gees deel van die Drie-eenheid wat op ’n besondere manier in my lewe werk. Onsigbaar, ontasbaar, maar ook onmisbaar. As hiérdie waarheid nie vir my ’n absolute waarheid kan wees nie, dan kan ek maar my Bybel weggooi.

En Jesus? Wie is Hy vir jou? ’n Historiese figuur wat 2000 jaar gelede die aarde bewandel het en ’n mooi lewe gelei het, amper soos Moeder Theresa? ’n Persoon wie se lewe so indrukwekkend was dat daar ’n mooi boek oor hom geskryf is? ’n Goeie idee? ’n Goeie konsep? Of is Hy waarlik ’n redder vir jou?

Joh. 3:3
Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Joh. 3:14-15
Moses het die slang in die woestyn hoog op 'n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Daar is ’n groepering wat glo dat God nie so wreed sal wees om mense uit die hemel te hou nie. Klink na ’n goeie idee, ’n skitterende konsep en baie edel, maar, as dít waar sou wees, kan ek my Bybel maar net sowel weggooi. Jesus sê dat jy wedergebore moet word, anders sal jy nie die Koninkryk van God sien nie. Noem dit wreed as jy wil. Noem dit liefde as God sê dat jy deur die werk van Sy Seun vir ewig by Hom kan bly. Noem dit dwaas as mense dít nie kies nie. Omdat die waarheid van die Bybel ’n absolute waarheid is, kan ek daar lees presies hoe om dit reg te kry. Jy sien, daar kán net een waarheid wees en dit is ’n absolute waarheid.

2 Tim 3:16
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig... As ek dit nie kan glo nie, kan ek my Bybel net sowel weggooi.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)