DIE BESTE MET WAT JY HET  


Ons het weer die afgelope naweek ‘n kamp vir gestremde persone gehou en was weereens verstom oor die manmoedigheid van hierdie spesiale mense. (loer gerus hier na die foto's >>) Dis mense wat nooit sê: Ek kan nie. Dit bring my by vandag se tema: Die beste met wat jy het. Hoeveel kry jy gedoen met dit wat jy tot jou beskikking het? Ek praat van talente, vermoëns, selfs die materiële. Jy kry mense wat vir elke uitdaging wat verby kom sê: Ek kan nie, ek het te min, ek weet te min, ek is bietjie bang, netnou is dit nie goed genoeg nie.  Daar is ‘n pragtige gelykenis opgeskryf in die Bybel waar die Here van elkeen vra om die beste te doen met wat hy het. Daar staan nie dat elkeen ewe veel ontvang het, en dat die Here van almal dieselfde opbrengs verwag nie. Hy vra net dat ons optimaal moet gebruik wat Hy vir ons gegee het.  

Matt 25:14-29
“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. “Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. “Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’ Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ “Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’ Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.  
 

Hy gee aan elkeen volgens sy bekwaamheid, aldus vers 15. 

Hierdie gelykenis bring my by ‘n belangrike vraag vir vandag: hoeveel doen jy met wat jy het. Nie hoeveel HET jy nie. Nie: “ag shame, arme ekke het niks gekry nie, ek kan niks doen nie. Ek is tot niks in staat nie. As ek maar soos sus en so was, so welsprekend soos die en daai, so slim was, so mooi was, soveel geloof gehad het ...” Hierdie verskonings gaan nie hou in hierdie gelykenis in Matt 25 nie. Wat doen jy met wat jy het? 

Ek staan baie keer verstom as ek sien hoe ver mense met min kom, en hoe mense met baie so min regkry. Het jy al gesien hoe mense met ‘n klein begroting dinge doen wat ander net nie kan regkry nie? Of as so iemand sê sy huis is klaar betaal en hy het pas ‘n tweede eiendom gekoop – en dit met ‘n klein salaris. Dis mense wat baie met min gedoen kry. Ek ken iemand wat balletklasse aangebied het, maar nie soos ‘n ballerina lyk nie. Toe sy sukkel  met die dans-akademie, stig sy sommer haar eie, waarmee sy uiters suksesvol is. En toe word sy sommer ‘n skrywer van romans op die koop toe, en het alreeds ‘n klomp boeke gepubliseer. Mense wat baie gedoen kry met min. Jy sien, dis mense wat nie die woorde: “ek kan nie”, gebruik nie. My pa het altyd gesê: kan nie is dood van kruiwa stoot. As gevolg van “kan nie” is soveel mense totaal passief en lewer hulle nie veel van ‘n bydrae vir die samelewing nie, want “kan nie” is so ‘n lekker  verskoning.

Die gestremdes wat ons ontmoet het, is mense wat net eenvoudig vir niks terug staan nie, en leef asof daar geen sprake van ‘n gebrek is nie. Mense wat tonne meer doen met die bietjie wat hulle kan, as mense wat niks doen met al hulle vermoëns nie. Nogal jammer dat soveel talente in hierdie lewe verlore gaan. “Ek kan nie”, beteken eintlik “ek wil nie”.  

Hoe ver kom jy met jou bietjie? Kom ons gaan terug na die gelykenis in Matt 25. Vers 15: “Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee” Ek dink mens kan ‘n boek skryf oor hierdie vers. Hy het aan elkeen gegee..... Besef jy die impak en waarheid van hierdie vers? God het aan almal iets gegee. Elkeen, ja, aan jou ook! Daar is nie een mens wat oorgeslaan is toe God vermoëns en talente uitgedeel het nie. Maar ... Hy het ook nie aan almal ewe veel gegee nie, wel volgens hulle vermoëns. Hierdie teks maak 100% voorsiening daarvoor dat ons nie op gelyke vlak met dié om ons kan en moet kompeteer nie. Daar sal altyd ‘n prediker wees wat beter is as ‘n ander een. Daar sal altyd mense wees met ‘n groter gawe van gebed, altyd iemand wat makliker met ander oor die Here praat. Altyd iemand beter, maar dis okay, want God het die so gewil dat elkeen volgens sy vermoëns ontvang, en daarom mag ons onsself nooit met ander vergelyk nie, en mag ons ook nooit hierdie verskil as ‘n verskoning gebruik om niks te doen nie. Ons voel mos dikwels ons is ‘n bietjie min werd, want ander lyk so goed en in beheer. As jy hierdie as ‘n verskoning gebruik om niks te doen of nêrens te kom nie, verstaan jy nie die Here se bedoeling nie.  

Kom ons kyk in vers 16 wat vra die Here vir ons en wat is Sy verwagting:

“Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf." 

Die een met die vyf het duidelik ‘n vermoë gehad wat die ander nie gehad het nie, en vyf munte word aan hom toevertrou. Hy verdubbel dit. So doen die een wat net twee gekry het dieselfde. Die eienaar het nie vyf munte verwag van die een wat twee gekry het nie. Hy het net twee terugverwag. Miskien kon mens vra hoekom die een wat vyf gekry het nie nog beter gedoen nie; hy het duidelik buitengewone vermoëns. Dit is egter nie die punt nie – hy het ten minste gedóén.  Toe kom hierdie luiaard, verskoning-uitdinker, nuttelose, slegte slaaf en kan niks aanbied nie. Vol verskonings.... ek gaan nie goed genoeg presteer nie. Ek het te min ontvang, die eienaar het my nie met veel vertrou nie. Ek is bang .... kom ek begrawe dit eerder. Dan sien jy ‘n bitter uiteinde, want hy het niks gedoen met sy bietjie nie. Dit terwyl daar nie verwag was dat hy berge moes versit nie. Doen jy niks in God se Koninkryk nie? Nie eers ‘n bietjie nie? Glo jy werklik jy het geen vermoëns nie? Is jou muntstuk steeds iewers begrawe? Dink jy God is tevrede dat jy dit eendag net so gaan teruggee, soos ‘n ongebruikte geskenk? Die Here verwag nie veel nie .... gaan grawe dit uit wat die Here jou gegee het, stof dit af en gebruik dit. Sê net ietsie van Jesus se liefde as iemand swaarkry. Bedien net ‘n klein bietjie op ‘n plek waar dit nodig is. Maak net ‘n klein verskilletjie – dis genoeg!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)