Die
einde van die finansieële jaar is 'n besige tyd vir menige besigheidsmanne. Voorlopige belasting
moet bereken en betaal word, rekenmeesters is besig om flink somme
te maak. En dit alles … om die boeke te laat klop. Inkomste en
uitgawestate, balansstate, aankoopbewyse, boeke, boeke, boeke,
somme, somme … ai tog, wat 'n nagmerrie! Dan kom die gróót
somme - om die Ontvanger sy regmatige deel te gee. Jy weet mos …
as jy 'n lening by die bank wil aangaan, wil jy wys hoe ryk jy is
en as jy by die Ontvanger kom wil jy wys hoe arm jy is! Gee die
Keiser wat die Keiser toekom, hoor! Dis wat die Bybel sê.
Nou ja, die boeke moet klop, en as
daar 'n fout is, soek jy hom tot jy hom kry. Maar … daar is een plek
waar die boeke nie klop nie - en dit maak hoegenaamd nie sin nie! Dit is
die Here se boeke. Daar waar ek en jy in ons lewenstranssaksies met God
betrokke is.
Rom 3:21-31
21 Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete
getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur
die wet te onderhou nie,
22 maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan
almal wat glo.
23 Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,
24 maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade
vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
25-26 Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het
vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het
die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat
bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die
teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek
wat in Jesus glo.
27 Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit.
Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof.
28 Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat
hy die wet onderhou nie.
29 Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja,
ook van die heidennasies,
30 want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die
onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek.
31 Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet
juis tot sy reg kom.
Kan jy sien hoekom mense wat nog
nie tot geloof gekom het, hierdie dinge nie verstaan nie? In menslike
terme klop die boeke eenvoudig nie. Om boeke te laat klop moet
"in" versus "uit" klop. As die geld uit is, moet iets
daarvoor pa-staan - 'n stuk hardeware of soms net 'n dokument. Die
leningsrekening sal op die stelsel lê totdat dit terugbetaal is. Boeke
moet klop, maar in menslike terme klop God se boeke nie.
Jy sien, in die paradys was daar
geen behoefte aan 'n boekhoustelsel nie. Alles het aan God behoort, en
omdat die mense se harte rein en vlekkeloos geskep was, kon niemand vir
iemand anders iets skuld nie. Maar .. toe kom die slang en oortuig die
mens dat hy soos God kan word, en alles kan weet.
Gen 3:1-5
1 Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God
gemaak is en het vir die vrou gevra: "Het God werklik gesê julle mag
van geen boom in die tuin eet nie?"
2 Die vrou het die slang geantwoord: "Ons mag eet van die vrugte van
die bome in die tuin.
3 God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die
middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf
ons."
4 Toe sê die slang vir die vrou: "Julle sal beslis nie sterf nie,
5 maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie
boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken."
En daar begin die moeilikheid, want
met die mens se sondekeuse probeer hy om homself met God gelyk te stel, en
God sê: "Nee, van nou af is jy in die skuld by My. Want Ek sê die
loon van die sonde is die dood, en om dit vry te spring, skuld jy My
iets". Onmiddellik gaan die mens in die rooi - ons "skuld"
die Here iets. Die Here sê jy kan nie maak soos jy wil nie. As jy droog
maak (sonde doen), dan is jy in die rooi. In die ou bedeling kon jy net op
een manier die balansstaat laat klop en dit is om te werk vir jou skuld.
Die probleem met die ou bedeling was dat jy nooit in die groen kon kom
nie. Miskien net vir 'n baie klein rukkie. Slag 'n bees, of 'n lam, doen
dit, doen dat, maak sus, maak so, en die Here aanvaar die strokies wat
aangebied word om die boeke te laat klop. Dit was "offers' genoem. Ag
tog, offer vandag en maak more weer droog. En dan moet jy maar net weer
gaan offer. Die mens moes 'n expert boekhouer wees om die balansstaat
skoon te hou.
So sukkel die mens toe dag vir dag,
en die Here besluit dat die mense te veel sukkel met hierdie boekhou-ding,
en Hy laat breek 'n hele nuwe bedeling aan. Jesus, die beste boekhouer met
die beste boekhoustelsel kom onder ons woon. Geen sakrekenaar, geen
desktop, laptop of wat ookal nie! Jy sien, 'n rekenaar werk met Wiskundige
beginsels, en absolute waardes, en dis nie hoe die Here se boekhoustelsel
werk nie. Wat logies is vir die Here laat die boeke klop; wat logies is
vir ons werk eenvoudig net nie. Een plus een word sommer 8 - hoe meer ons
skuld voor die Here ophoop, hoe meer verdwyn dit in die boeke. Mens sou
amper kon dink Hy hou, soos party maatskappye, so 'n ekstra stel boeke
onder die toonbank aan! Jy weet mos, daardie wat wys dat die onderneming
niks verkoop nie. Nou kom die Satan en slaan daagliks die boeke voor jou
oop om te wys hoe bankrot jy is, en soms probeer hy dit seker vir die Here
ook wys. Maar om die een of ander misterieuse manier wys die boeke heeltyd
'n nul-staat! Dit maak ou sekelstert seker nogal moedeloos.
Jy sien, vriend, God se boeke klop
WEL heeltemal! Elke keer, perfek. Die inskrywings van ons skuld (sonde)
word ingeskryf, maar net deur onsself! Die heeltyd wanneer ons besig is
om God se genade te verwerp, gaan slaan ons die boeke oop en skryf
verwoed. Dan probeer ons ook nog 'n paar aftrekkings inskryf: Here, ek het
só gemaak, dit en dat gedoen, en hierdie sondetjie oorwin, hier en daar
gearbei in U wingerd …. En dan klop dit nie! En ons voel ellendig oor
dit wat op die staat oorbly… daardie deel wat in die rooi is. Dan vat
Satan daardie bedrag, plak dit voor jou neer, sit BTW by en vertel jou jy
is geestelik bankrot. Voel jy miskien só vandag? Wel, die slegte nuus is,
die som is reg! Goeie nuus is, die berekening stop nie daar nie! Weet jy
dat jy jaarliks 'n korting kry by die Ontvanger? 'n Vaste bedrag ongeag
die grootte van jou inkomste? 'n Direkte afskryf van dit wat jy skuld. En
dit is waarmee ons vandag vir Jesus vergelyk: jou korting. Dit is 'n
massiewe syfer. As jy dit van jou skuld afgetrek het, bly NIKS ook nie. En
hoe groter jou skuld, hoe groter die korting. ALTYD - AS jy die
korting-opsie kies. Jy sien, my vriend, jy kan nooit dieper in die rooi
wees as die grootte van die korting nie. Die korting is oneindig.
Mens wil amper sê dit maak nie sin nie …. Maar dit doen!
Rom 8:1-3
1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is
nie.
2 Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou
vrygemaak van die wet van sonde en dood.
3 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige
natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken
deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so
het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.
Dit is wat "tetelestai"
beteken, weet jy? Boeke skoon. Nul-opgawe ingestuur. Skuld betaal. Ons
betaal tog nie skuld wat ons nie het nie, of hoe? Lééf uit God se
genade.
|