DIE GESEËNDES (DEEL 1)


Het iemand al 'n seën oor jou uitgespreek? Iets soos "Mag die Here jou seën". Hê 'n geseënde dag, of, jy is nogal geseënd, of jy is 'n seën vir ander. Nogal maklik om dit te sê, en ek dink dit is ook 'n wonderlike sê-ding. Dis lekker om dit te hoor, so amper asof jy die Here met jou hoor praat. En dan, is die wonderlikste, as die Here dit self, persoonlik vir jou sê. 

Die vraag is net, wat is ons definisie van seën. Ons sê: die Here het ons geseën met reën, dan voel dit of die Here Sy eie besondere guns op ons uitgestort het, tot ons eie voordeel. Of, die Here het my geseën met 'n goeie lewensmaat, dan gee ons erkenning dat die Here se guns op my is omdat Hy die regte persoon op die regte tyd gestuur het. So seën die Here ons inderdaad op wonderlike maniere, en dis soort van meetbaar en tasbaar. Maar ongelukkig, sien ons soms finansiële voorspoed, of goeie gesondheid, as die enigste uitvloeisels van God se seën. Of anders gestel, as die maer en swaar jare kom, sê ons dikwels dat God Hom aan ons onttrek het. Nog meer, die Here wil my seker iets leer hierdeur en hou Homself tans so bietjie op 'n afstand, of Hy het so bietjie van my vergeet. 

Ons het anderdag gepraat oor bekommernis, en toe gekom by die punt van "tel jou seëninge", en dit het sterk verwys na die materiële en die fisiese. Maar vandag gaan ons kyk na wat Jesus self as seën beskou het. So, as jy vandag God se seën wil voel en besef op jou lewe; ons gaan 'n wonderlike gedeelte lees. Hier is 'n verskil, ek en jy kan àl hierdie seëninge kies, mét 'n groot stuk verdienste ingesluit.

Hier volg seëninge, vars uit Jesus se hand. Is jy reg daarvoor?

Matt 5 : 3 - 12 Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.

Hier is 'n klomp seëninge, net reg vir jou en my. Seëninge om van te kies en te keur.

1. Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Dus, ons kan kies, as ons die koninkryk van die hemel wil beërwe, moet ons net weet hoe afhanklik ons van God is. Amper logies. Wat beteken dit? Ons kan op geen ander manier in die hemel kom as om ons afhanklikheid van God te verstaan nie. Matt 7 sê: "Nie almal wat vir my sê "Here, Here", sal die koninkryk van God beërwe nie. Want hulle is die wat nie weet hoe afhanklik hulle van God is nie." Ons kan nie ons eie redding bewerkstellig nie, ons is totaal van God afhanklik. Dus, die eerste stuk seën. Die grootste stuk seën wat enigeen op aarde kan kry, is die ewige lewe. Hoe kry ons dit? Besef jou afhanklikheid van God, dan kry jy hierdie stuk seën verseker. 
2. Geseënd is diè wat treur, want hulle sal vertroos word. Hierdie een klink nogal teenstrydend. Maar, dit is die belofte. As jy treur, sal God Sy arm om jou sit. Dit sê nie dat niks sal gebeur wat jou laat treur nie. Slegte dinge gebeur met almal, moeilike tye kom, maar die seën van God is Sy vertroosting. Daarom kan ons ons hartseer na God toe bring, enige tyd, onder alle omstandighede. Die tweede stuk seën is God se vertroosting. 
3. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Sjoe, hoe wonderlik is dit nie om sagmoedig te wees nie. Wat is sagmoedigheid? Sagmoedigheid is 'n lewenswyse van toegee, liefdevolheid. En hier kom saligheid weer ter sprake - sal die nuwe aarde ontvang. Lyk my dus daar is nie plek in die hemel vir die opstandiges, bakleiers, moeilikheidmakers nie. My prentjie van 'n engel pas so goed by sagmoedigheid. En God se seën is op sulkes. 
4. Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Reg en geregtigheid. God se seën rus dus op die wat die reguit pad loop, nie besig is met bedrog en onderduimsheid nie. Die wat binne die raamwerk van God se Wet bly, (want dis goed), dit leer ons die regte pad. Om in Jesus se voetspore te bly, is om te honger en dors na wat reg is. Om daardie onder-skeidingsvermoë aan te kweek wat naderhand so fyn op ons gewete en verstand inwerk, dat ons presies weet wat reg en verkeerd is. Geseënd is jy. Want jy sal versadig word. Met wat? Met God se geregtigheid. Met Sy insig, met kennis van wat reg en verkeerd is. En weet jy, ons het nie eers die Bybel nodig om te weet hoeveel seën is daar op die regte pad nie. Dis sommer in elk geval so. Jesus het baie mooi daardie pad gewys, en geloop. Met die oog gevestig op Jesus, kán ons dáárdie stuk seën verkry. Verniet. 
5. Geseënd is diè wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Wat jy saai sal jy maai. What comes around, goes around. Barmhartigheid. Wat 'n wonderlike gebaar, watter seën om dit te kan bewys. Maar so moeilik om dit te doen. Gou so bietjie prakties. Ek sê nie jy moet vir almal op die straathoek geld gee nie. Of vir almal wat jou vra nie. Maar jy weet mos, soms voel jy jy moes eintlik. 'n Paar rand vir iemand in nood, kan soms so 'n seën wees, en voel. Hoeveel geld (presies) is nou in jou beursie? Weet jy? Sal jy R5 mis? Kom ons gaan na jou note toe. Sal jy dalk regtig armer wees van R20? Vir iemand spesifiek. Of dalk in die bank? R100? Maar geld gee is maklik. Soms is barmhartigheid 'n bietjie persoonlike kontak vir iemand wat alleen is. Dalk so 'n bietjie genade, vir jou huisbediende wat so bietjie laat is. Sy bestuur nie die taxi nie, weet jy? En die opbrengs van barmhartigheid? Die seën? Dit sal terugkom na jou toe. Dalk dubbel en dwars. Al gewonder of jy nie dalk ook jou werk kan verloor nie? Dalk sal jy eendag trots moet sluk en iemand anders se barmhartigheid aanvaar. Geseënd is jy as jy barmhartig is. Geseënd!

Sjoe, is dit nie dalk die wáre definisie van seën nie? Seën in die vorm van 'n enorme opbrengs. Gratis, uit God se hand uit. Seën wat kom as gevolg van so 'n bietjie doen en prestasie van ons kant af. Seën wat ons sélf kies. "From dad, to dad".

Kom ons geniet God se seën in oorvloed.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)