DIE GESEËNDES (DEEL 2)


Ons het reeds gepraat oor "die geseëndes" oftewel die saligsprekinge waarin Jesus wat in Matt 5 vertel wat ware seën beteken.

Matt 5 : 3 - 12 Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.

Hierdie stukkie het eintlik 'n totale nuwe perspektief op seën kom sit. Wil jy graag weet hoe om God se seën te ervaar? Dan is al die antwoorde hier. In die eerste gedeelte het ons gesê jy is geseënd as jy weet hoe afhanklik jy van God is. Geseënd is jy as jy treur. Geseënd is jy as jy sagmoedig is, Geseënd is jy as jy honger en dors na wat reg is, en geseënd is jy as jy barmhartig is. Dit lyk dus vir my jy is geseënd as jy goeie goed doen, en nie baie goed kry nie.

Vers 8 sê: Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Sjoe, wie wil jy eerder sien as vir God. Volgens die Bybel kàn ons nie vir God sien in hierdie wêreld nie, maar wel in die hiernamaals. Dus is hier weereens 'n verwysing na die ewige lewe. Dis al waar ons vir God kan sien. Kom ons maak net een ding eers vas. Volgens die Bybel kan ons net Saligheid verkry as ons vir Jesus as ons Verlosser aanneem en tot bekering kom. Wedergeboorte. Dus is hierdie dinge wat ons in die Saligsprekinge lees, nie ons paspoort na die Ewige lewe nie. Maar, kan ons nie dalk sê dat hierdie die toets is vir ons bekering nie? Jy sien, àl hierdie dinge verwys na 'n goeie lewe. Wat God verwag.

Nou, wat beteken 'n rein hart. Daar staan "wees veral versigtig wat in jou hart aangaan, want dit bepaal jou hele lewe". Om slegte dinge te bedink, mense te beskinder, negatiwiteit, is definitief nie 'n rein hart nie. "Wat jy dink, dit is jy". Jesus het 'n rein hart gehad. Hy het omgegee vir mense, hulle seer verlig, hulle Saligheid was belangrik. Dis 'n rein hart. Miskien moet ons vir ander mense vra of ons 'n rein hart het, dan weet ons.

Hier kom 'n moeilike een - "Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word". Klink dit nie soos Joh 1 : 12 nie? "Maar almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word". Dus, die vredemakers het Hom aangeneem en gló in Hom. Moet wees, want hulle "albei" sal kinders van God genoem word. Vredemaker. Dis 'n aktiewe positiewe aksie en daad, uit ons eie keuse, deur ons self beoefen, met 'n geweldige opbrengs. Dink jy die engele baklei in die hemel? Met God? Verseker nie, maar dit was eens op 'n tyd so. Toe satan in opstand gekom het teen Jesus. Toe besluit God dat Hy nie hierdie onvrede kan toelaat nie. Van watse plek sou dit die hemel maak. Toe werp Hy die satan uit. En daarom, moet ons maar liewer vrede maak. Daar by die werk - hoeveel vrede is daar? Skinder en kwaadpraat maak nie vrede nie. Nee, praat dinge uit, maak reg, vra verskoning, draai die ander wang, wees die minste, buig die knie, "submit", dis vredemakers.

'n Polisieman is nie 'n vredemaker nie, hy is 'n vrederegter. Hy stop die baklei en hou mense uit mekaar se hare uit. 'n Vredemaker tree pro-aktief op.

Vers 10: "Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is", en raai wat is die beloning? "Want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel".

Kan jy sien dat die grootste seën op aarde die hemel hierna is? Word jy vervolg omdat jy doen wat reg is? Ja, die ouens nooi jou "strip club" toe, of kroeg toe vir 'n klomp kappe. En as jy "nee" sê, kom hierdie vervolging in. Jy word sleg gesê, bespot. Of, kom, so bietjie omkoopgeld, slegte transaksies. Nee, die Here sê, vir dit is daar nie plek in die hemel nie. Koop die verkeersman om, "squash" die boete, kom weg met moord. Nee, vat liewer vervolging vir jou regte besluite.

Vers 11: "Geseënd is julle wanneer die mense ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê." Ons ly darem nie regtig vir ons geloof nie, of hoe? Paulus was uitmekaar geslaan, Petrus onderstebo gekruisig, Stefanus was gestenig, en so het omtrent al die apostels vir hulle geloof gesterf. En net so baie mense in ander wêrelddele. Wreedaardig!! En Jesus sê, "Geseënd is julle". Moeilik as iemand God se Naam ydellik gebruik, of die kerk slegsê, of jou spot oor jou geloof. En nog erger, as jy moet opstaan en standpunt inneem oor die Woord van God. Oor wat reg en verkeerd is. Vernaam as jy nie saamstem met hierdie nuwe denkpatrone wat die Bybel irrelevant maak nie. Al gehoor jy is oudmodies, of 'n dweper, of skynheilig, of 'n regte ou "Bybel onder die arm"? Dan sê Jesus, "geseënd is jy"!! Daar waar jy opstaan vir wat reg is, waar jy jou geloof moet verdedig. Wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is, van julle sê.

Jy sien, dis duidelik dat ons as Christene nie van hierdie goed gevrywaar is nie. Inteendeel, ons moet dit verwag.

2 Tim 4 : 1 - 5 Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2 verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, 3 want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. 4 Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5 Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

"Verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie” met die verduideliking in vers 1: "….. met die oog op Sy koms en Koningskap".

Vers 12: "Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle nét so vervolg. Geseënd is jy as jy swaarkry. Hier sê selfs "wees bly en verheug". Dan wonder ek soms: as ek dan nie ly vir my geloof nie, doen ek hoegenaamd iets goed? Is my bediening die moeite werd? Wel, ek is dalk net gelukkig dat daar nie soveel vervolging in ons land is nie. En des te meer moet ons alles doen wat ons kan om die evangelie te verkondig.

Ja, geseënd is jy as jy al hierdie dinge van Matt 5 doen.

Die uitvloeisel - die beloning, is die ewige lewe. Ons swaarkry hier op aarde is van korte duur. Ons meet die materiële as seën, God se seën. Maar dis net krummeltjies. Gemeet teen dit wat kom as ons die ewige lewe behaal, is dit sommer niks.

Wil jy vandag 'n seën vir ander wees? Wees 'n vredemaker, wees sagmoedig, wees rein van hart, honger en dors na wat reg is, vertroos iemand wat hartseer is, leer ander om afhanklik van God te wees. Wil jy geseënd wees omdat jy vervolging moet verdra? Doen dan iets om vervolging uit te lok. Verkondig die evangelie, hou daarmee vol, tydig en ontydig, weerlê, bestraf, bemoedig. Dan sal dit kom.

Nou ja, ek hoop jy kan al hierdie seëninge tel. Kom ons meet die regte goed. Ja, dalk kom daar so 'n ou meevallertjie, dan is dit lekker. Gee dit weg, dan is dit nog lekkerder.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)