Ek het so bietjie
gedink oor groot gebeurtenisse in die wêreld; groot goed wat die wêreld
verander het, wat die mensdom se lewens onherroeplik verander het, dinge
wat in die mense se geheue ingebrand is, wat altyd weer oorvertel word,
dinge wat saakmaak. Dit is ‘n feit dat geskiedenis saakmaak. Iemand het
die volgende stelling gemaak: “He who ignores history, will repeat the
mistakes of yesterday”. Op skool het ek net mooi niks van geskiedenis
gehou nie. Vir my was dit nuttelose, vervelige detail wat ek moes leer,
net om dit weer te vergeet. Min het ek geweet dat dit later tog sou
saakmaak, en interessant sal wees vir my. Hier is 10 dinge waaraan ek so
vinnig kan dink uit die geskiedenis wat saakmaak:
-
die eerste hartoorplanting
-
maanlanding
-
begin van die wêreldoorloë
-
die atoombomme op Hiroshima en Nagasaki
-
Hitler se dood
-
President Kennedy se moord
-
Hendrik Verwoerd se moord
-
Uniewording
-
Bloedrivier
-
die Tsunami in Japan
-
die aanbreek van demokrasie in ons land
Hierdie goed het
saakgemaak, mense se toekoms verander. Daar is daaroor geskryf, films
gemaak, daaroor gefilosofeer, dis ontleed, daar is daaruit geleer. Wat
voor ons tyd gebeur het, sal steeds na ons tyd ‘n invloed hê. Sommige
hiervan herdenk ons en vier ons, van ander wil ons liewers vergeet.
Soweto-dag word deur duisende gevier, terwyl duisende ander daarvan
wegdeins; nogtans kan ons dit nie wegwens nie. Dit is soos ‘n stempel met
onuitwisbare ink wat op ons afgedruk is.
Ek het hierbo ‘n
paar groot gebeurtenisse genoem, en almal weet waarvan ek praat, al het ek
nie een van hierdie gebeurtenisse se datum onthou of genoem nie. Die datum
maak nie saak nie; dit is die gebeurtenis wat saak maak.
Matt 1:18-25
Hier volg nou
die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus. Toe sy moeder Maria
nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat
hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees
gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar
haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem
om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het,
het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef
seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in
haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal 'n Seun in die wêreld
bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle
sondes sal verlos.” Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur
sy profeet gesê het, vervul sou word: “Die maagd sal swanger word en 'n
Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam
beteken God by ons. Toe
Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here
hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad
voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus
genoem.
Hier lees ons van
die heel belangrikste gebeurtenis ooit. Die presiese datum is egter
onbekend. ‘n Gebeurtenis wat aan bykans elke mens op aarde bekend is, aan
biljoene bekend was, en aan biljoene bekend gemaak sal word in die
toekoms. ‘n Gebeurtenis wat so ‘n groot impak gemaak het in die mens se
geskiedenis dat miljoene se lewens nie net verander is nie, maar steeds
verander word. Jesus wat mens kom word op aarde. Gebore uit ‘n maagd – dit
klink onmoontlik. Hy leef en woon vir 33 jaar op aarde, en word toe
gekruisig – dié gebeurtenis wat nie net die mense se toekoms op aarde
verander nie, maar sy toekoms in die ewige, tydlose hiernamaals. Hierdie
gebeurtenis bring mense saam, dit word in flieks weergegee, en is dié
onderwerp waaroor meer geskryf is alle ander onderwerpe op aarde. Dis
gróót! Dis onbeskryflik groot!
Ons weet nie wat
die presiese datum van hierdie gebeurtenis is nie, maar op die 25ste
Desember word dit gevier deur sommiges. En ja, die ongelowige wêreld maak
ook iets daarvan – dalk iets verkeerd; vir gelowiges egter is dit ‘n baie
belangrike dag. Nie almal kies om dit te vier nie, en dis hulle reg. Ek
kies egter om dit te vier; ek het so grootgeword. Dit feit dat die
Heidende dit gekaap het en iets verkeerd daarvan gemaak het, laat my
absoluut koud. Party mense gaan nie kerk toe nie, want die plek is
kwansuis vol huigelaars, maar ek gaan steeds (ek moet gaan, want ek is ook
‘n huigelaar). Nou wil ek vir jou vra, as jy Kersfees vier, moet asb nie
ander veroordeel wat besluit om dit nie te vier nie. Sommige besluit so
uit diep gewortelde geloofsoortuiging. ‘n Goeie vriend sê hulle vier in
hierdie tyd die fees van die ligte, wat ‘n gebruik was in Jesus se tyd, en
hulle vind wonderlike vervulling daarin. Ander mense voel die wêreldse
geharwar maak hulle moeg en daarom vier hulle nie Kersfees nie – en dit is
ook reg. Maar moenie mense veroordeel wat dit wel vier nie. Hulle doen dit
uit diep gewortelde geloofsoortuiging.
Ten spyte van die
“verkeerde” datum is dit vir baie ‘n tyd om op ‘n besondere manier Jesus
se geboorte te herdenk. En ja, die geskenke storie dryf my ook teen die
mure uit en ek probeer om die gewoonte af te skaf buite my gesin, want ons
koop goed wat hierdie jaar in die laai beland, en volgende jaar in die
bediende se huis. Ek haat dit! Maar ai, as iemand vir my ‘n ou boxie
sjokolade gee, is ek maar al te dankbaar. Kom ons respekteer mekaar se
standpunte hieroor, asseblief?
Kom ek vertel jou
hoekom ek Kersfees vier:
-
dit is die begin van die grootste gebeurtenis
in my lewe, wat ek meer nodig het as enige ander gebeurtenis ooit.
Sonder Jesus se geboorte (en sy genade) sou ek nie tot bekering kon kom
nie. Vir my is dit gróót.
-
die wêreld, die hele wêreld, het hierdie
gebeurtenis nodig gehad, selfs al sal meer as die helfte dit nooit hulle
eie maak nie, Hom nooit aanvaar nie, dit nooit glo dat Hy die Messias is
nie. Jesus se geboorte en kruisiging is steeds beskikbaar vir elke mens
wat nou leef, en iewers in die toekoms sal leef. Die wêreld het dit
nodig. Vir die wêreld is dit gróót.
-
hierdie gebeurtenis het net eenkeer gebeur, en
sal nooit weer hoef te herhaal nie. Ongeag of Jesus in Petrus-hulle se tyd
gesterf het, en nie in my tyd nie, maak hoegenaamd geen verskil nie, dis
tydloos. Net eenkeer was genoeg. Mense sal dit vier, vir duisende jare na
ek en jy nie meer daar is nie. Dit is gróót!
-
hierdie gebeurtenis sal vir ewig groot bly,
selfs al het die aarde in sy totaliteit vergaan, en geen lewende wese in
die heelal oorgebly het nie. Dit sal vir altyd gróót bly.
Dus, ek vier
Kersfees! Elke jaar, en ek laat nie toe dat enige iemand ‘n las of ‘n
skuldgevoel daaroor op my plaas nie. Vir my is hierdie gebeurtenis net té
groot om op die viering daarvan uit te mis.
|