DIE HERE SE SKULD? – 11 April 2012 


So ‘n klompie jare gelede begin daar ‘n snaakse term kop uitsteek. ‘n Term wat aangegryp word deur miljoene, omdat dit mense pas. Iets wat, volgens my, baie skade kan doen as dit nie reg aangewend word nie. Dié term is “menseregte”. Dit is iets wat in die regte omstandighede die mens beskerm, en in die verkeerde hande ‘n euwel is. Menseregte is net iets werd as verantwoordelikheid in dieselfde asem, genoem word, anders kry almal wild en wakker die skuld as mense self nie hulle kant bring nie. “Dis nie ek nie”, of “dis nie my skuld nie”, hoor mens nogal baie waar mense nie verantwoordelikheid vir hulle dade wil vat nie. 

Nou wil ek hier sommer ‘n wilde stelling maak: soms loop dinge nie soos ons wil nie, en dan kry die Here die skuld daarvoor. Ons wil staatmaak op ons “menseregte” voor God en blameer Hom as dinge nie na wense uitwerk nie. Ons verstaan sekere dinge van die Here (of liewer, ons dink ons verstaan), en dan trek ons die Here se soewereiniteit in twyfel. Iemand se lewe val uitmekaar, dan sê ons die Here het sy rug gedraai. Ons bid en niks gebeur nie, dan sê ons die Here het doof geword vir ons gebede. Dit raak so erg dat ons onsself luukshede toe-eien, en dan moet die Here vinnig presteer, want dit kom ons mos toe. Mens noem dit voorspoed-teologie: kinders van God kan aanspraak maak op die beste, en eis dat die Here spring as hulle hulle vingers klap.  

Job 40:1-9
Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit: 2“Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. 3Wil jy my beslissing tot niet maak? Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word? 4Het jy die mag wat Ek het? Kan jy jou stem uit die onweer laat hoor soos Ek? 5Tree dan op met jou trots en jou groot mag, handel in jou majesteit en heerlikheid. 6Laat brand dan jou gloeiende toorn, sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek, 7sien elke trotsaard raak en verneder hom, trap die goddeloses plat. 8Begrawe hulle almal, lê hulle weg in die graf. 9Dan sal Ek teenoor jou erken dat jy jou deur jou eie mag kan red.
 

Sjoe, hier vat die Here vir Job ernstig vas. Dink bietjie saam met my aan Job se situasie. Die Here laat toe dat Job alles verloor, selfs sy kinders. Toe Job moedeloos is en in sak en as sit, het die Here nie met mooi woordjies na Job toe gekom nie. Die Here probeer nie Homself en sy besluite regverdig nie. Hy paai nie vir Job met groot beloftes nie, die Here staan net vas op sy besluite. Die Here laat nie toe dat ons Hom die skuld gee vir moeilike tye nie.  

Hier is ‘n paar voorbeelde wat ek al raakgesien het waar die Here die skuld kry vir ons eie dade en verkeerde besluite en keuses: 

- ‘n Man en vrou raak in ‘n buite egtelike verhouding betrokke en is ontrou aan hulle huweliksmaats. Dan kom hulle met hierdie redenasie: ons het nie gevra daarvoor nie. God het liefde geskep en ons is baie lief vir mekaar – daar kan dan seker niks daarmee verkeerd wees nie? Kan dit regtig die Here se skuld wees? Dis waar dat God liefde laat uitvloei uit sy wese uit, want Hy IS liefde. Maar hoekom het jy dan nie jou eie vrou liefgehad nie, meneer? Ons sondes is nie God se skuld nie; wanneer verkeerde dinge vir ons aanloklik raak is Hy nie te blameer nie. Dis ons eie skuld!

- Ons sê so baie die Here praat nie met ons nie. Natuurlik praat Hy met jou, miskien hoor jy dit net nie. Of nog erger, Hy praat maar ons hou nie van wat Hy sê nie, en dan ignoreer ons dit. Ons vra, en die Here hou dalk die deur toe, dan skop ons dit oop. Ons begeer dinge wat die Here van ons weerhou, omdat Hy weet dis nie goed vir jou nie; maar dan gaan eis ons dit vir onsself op, en dan blameer ons Hom as dit boemerang.
Ons gee die Here die skuld as ons nie Sy stem hoor nie. Sy skuld? Nee, lees jou Bybel sodat Hy met jou kan praat. Moenie vir ander vra om vir jou te bid as jy nie self ook bid nie. Het jy dit al ervaar dat jy sommer so tydens jou gebed net ‘n blink openbaring kry oor die saak waaroor jy bid? Of so ‘n stil stemmetjie in jou binneste hoor? Of sommer net skielik wéét wat jou te doen staan? Wel, dis die Here wat so met jou praat. Hoe kan jy dan verwag ander moet namens jou bid, en die stil stem hoor?
Ander kere weer sê die Here vir jou nee, maar jy aanvaar dit nie. Dan is dit Sy skuld as jy koppig voortgaan, en daai selfde kop vol knoppe stamp. Soms sê die Here vir jou jy moet wag, maar jou ongeduld laat jou oorhaastige besluite neem. Dis nie die Here se skuld as die gejaagdheid van hierdie wêreld nie meer plek het vir “wag op die Here” nie.

- Dis nie die Here skuld as jy nie die tekens kry wat jy graag wil sien nie. Nee, Hy sê: “vertrou op My, en nie op tekens nie”. Dis nie Sy skuld as jy dit nie glo nie.

- Dis ook nie die Here se skuld as mense nie hulleself kan vergewe nie. Hy sê: “Ek vergewe jou, en jy kan ander en jouself vergewe”. Dis jou eie skuld as jy dit nie glo nie.

- Mense kan nie aanvaar dat hulle geloofsekerheid kan hê nie. Dis nie die Here se skuld as jy dit nie aanvaar nie. Hy sê: “Wie in My glo, HET die ewige lewe”. Dis jou eie skuld as jy dit nie glo nie. Hy het reeds die betaling gedoen en die belofte gemaak, wat maak jy daarmee?

- Soms kry ons nie deurbrake in ons lewens nie, want ons bedryf ons sake verkeerd. Soms selfs in die Here se Naam. Soms neem ons nie verantwoordelikheid vir ons aksies nie, en dan loop dinge skeef. Dis nie sy skuld nie! Die Here is nie ‘n spaarwiel vir as dinge nie reg loop nie. Dis ons eie skuld as ons Hom as spaarwiel wil gebruik.

- Dis nie die Here se skuld as jy nie meer hoop het nie. Dis ‘n besluit wat jy self neem.

- Dis ook nie die Here se skuld as jy jou ore uitleen vir vals profete nie. Inteendeel, Hy waarsku jou daarteen.

Hier is die goeie nuus: vir dié wat op die Here vertrou, kom deurbrake. Kyk Job se uiteinde: 

Job 42:1-6, 12-17
Daarna het Job vir die Here gesê: 2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. 3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie. 4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat, Ek sal vra, antwoord jy My. 5Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, 6en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.”
 

12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad. 

Ja-nee, lyk my die Here wéét wat Hy doen. Jy kan Hom gerus vertrou.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)